Conradie, EM
Universiteit van Wes-Kaapland

Op soek na ’n aardse spiritualiteit1

ABSTRACT

In Search of Earthly Spirituality

This contribution offers a constructive contribution to Christian spirituality through an investigation of the notion of an earthly spirituality. The term “earthly spirituality” expresses a dual conviction, namely 1) that one can only speak about a transcendent God through earthly, human categories, and 2) that speaking about God’s transcendence constitutes a way of redescribing and understanding that which is earthly, worldly, bodily, material. The article offers an account of the stimuli behind such a search for an earthly spirituality and describes a number of contours for this quest within the context of Christian spirituality.

INLEIDING

Die uitgangspunt van hierdie bydrae is dat daar tans ’n wydverspreide soeke, ’n groeiende verlange, ’n diepe hunkering, na ’n eg aardse spiritualiteit voorkom. Voordat die betekenis van hierdie begrippe aan die orde kom, is dit belangrik om eers die aard van hierdie verlange te probeer peil.

Ek vermoed dat veral drie faktore hierin ’n rol speel. Al drie hierdie faktore hou verband met ons onrustige pogings om in die reine te kom met die wortels van die moderne leefwêreld:

a) Die soeke na ’n aardse vorm van spiritualiteit het te make met pogings om ’n uitweg te vind uit die skadukant van ’n geïndustrialiseerde samelewing.

Die opkoms van landbou ongeveer twaalf duisend jaar gelede en die industriële omwenteling ongeveer twee honderd jaar gelede het die twee grootste veranderinge in die menslike geskiedenis meegebring (sien Rasmussen 1996:53-74). Dit kan nie ontken word dat die moderne wetenskap, tegnologie en entrepreneurskap vir ten minste sommige onmeetlike voordele ingehou het. Baie is egter ook diep onder die indruk van die lelikheid van beton-oerwoude, industriële gebiede en die verwoesting van talle ekosisteme wat saamgekom het met industrialisasie, verstedeliking en kommersiële landbou. Meer nog, baie mense voel vasgevang in die sleur, tempo en kompleksiteit van ’n geïndustrialiseerde samelewing. Hulle smag na rus en na eenvoud, maar wil tog nie die voordele van industrialisasie prysgee nie. Vir dié wat vasgevang is in die sleurgang van ’n verbruikersamelewing is dit terapeuties en bevrydend om tyd in die natuur deur te bring. Baie soek na God in die natuur en soms juis buite die kerk (vgl Nel 2003). Hulle soek steeds na God, maar elders. Dit is egter juis die tyd wat mense in die natuur deurbring wat hulle herinner aan die kloof tussen kultuur en natuur, aan die kontras tussen die werkweek en naweke of vakansies en aan die spanning tussen die wêreld binne die kerk en dié buite die kerk, aan die gevoel van vervreemding tussen mens en aarde.

Ander is egter die meer direkte slagoffers van die newe-effekte van ’n geïndustrialiseerde ekonomie, van wat Jürgen Moltmann (1999:11-17) “sub-moderniteit” noem. Hieronder tel tipies diegene wat arm, werkloos of dagloners is, ook vroue, kinders en bejaardes, vlugtelinge, haweloses, mense wat nie van Europese afkoms is nie, ensovoorts. Hulle woon in gebiede wat minder aantreklik is juis omdat dit te naby aan industriële gebiede, paaie, lughawens, vuilgoedhope en so meer is. Hulle werk as arbeiders op plase en in fabrieke waar lae lone saamgaan met blootstelling aan besoedeling in talle vorms. Hulle ervaar daarom die impak van die ekologiese krisis alreeds aan hulle eie lyf.

b) Die verlange na ’n “aardse” vorm van spiritualiteit hou ook verband met ’n behoefte aan’n intellektueel geloofwaardige vorm van godsdiens.

Die Aufklärung het vir moderne mense geleer om selfstandig vir hulleself te dink en nie iets bloot op die gesag van andere te aanvaar. “Waag dit om vir jouself te dink,” het Immanuel Kant, die vader van moderniteit, uitgeroep. Hieruit het die moderne klem op kritiese denke, rasionele argumentasie en empiriese ondersoek voortgevloei. Die postmoderne era het mense weliswaar onder die indruk gebring van die grense van ons denke, van die onsekerheid van die kriteria vir ons kritiek, van die gebrekkigheid van ons rasionaliteit, maar sonder om die waarde van kritiese denke te ontken. Die aandrang op kritiese denke is van die begin af ook op godsdienstige oortuigings toegepas. Die probleem is dat die verhouding tussen God en die kosmos sedert die dae van Copernicus en Darwin nie meer vir moderne mense duidelik is nie. As kinders hulle Christen- ouers vra: “Waar is God?” beduie hulle dikwels vaagweg met die vinger na bo – al weet hulle goed dat God nie iewers in die blou lug is nie. Ons weet nie hóé, indien wel, God ons vroom gebede sou kon beantwoord nie. My vermoede is dat die soeke na ’n aardse spiritualiteit ten dele gebore is uit ’n behoefte om die verhouding tussen God en die kosmos (en ons plek binne die kosmos) daardeur te verhelder. Hoe kan Christelike geloofsoortuiging met wetenskaplike kennis in verband gebring word? Of moet die reikwydte van godsdiens liewer ingeperk word tot die sfeer van die private lewe waarin dit ’n mens dalk kan help om met swaarkry klaar te kom? Hoewel sommige mense in ’n gesekulariseerde samelewing die soeke na God gewoon prysgee, keer ’n belangstelling in godsdiens dikwels in ander gedaantes terug.

c) Die soeke na ’n aardse spiritualiteit is tegelyk ook ’n soeke na ’n vorm van godsdiens wat ons kan help om met ons eie gewete saam te leef.

Die Franse Rewolusie het by moderne mense die waardes van vryheid, gelykheid en solidariteit ingeskerp. Hierná het ’n verskeidenheid van bewegings begin pleit vir demokratiese besluitneming, die afskaffing van slawerny, die handhawing van menseregte, die regmatige posisie van vroue in die samelewing, en standpunt ingeneem teen diskriminasie op grond van ras, klas, geslag, seksuele oriëntasie of geloof, en vir ekonomiese geregtigheid, vrede te midde van talle vorms van konflik, ’n volhoubare ekonomiese bestel en ’n beter bestaan vir alle vorms van lewe op aarde. Al hierdie bewegings oefen ’n blywende invloed uit op ons waardestelsels.

Die onderliggende probleem is dat die Christelike tradisie nie verontskuldig kan word van die onreg wat in die verlede gepleeg is nie, soms selfs in die naam van God en met ’n beroep op die Bybel. Die geskiedenis van die Christendom is bevlek met baie bloed – die geskiedenis van kruistogte, imperialisme, die uitwissing van inheemse bevolkings, kolonialisme, slawerny, rassis- me, industriële kapitalisme, apartheid, patriargale stelsels, ekologiese verwoesting, ’n verbruikers-mentaliteit. Die kritiek teen globalisering, geïndustrialiseerde kapitalisme, ekonomiese onge- lykheid en ekologiese verwoesting word ook soms voor die deur van die Christendom gelê. Dit is nie vreemd nie, veral indien ’n mens in gedagte hou dat evangeliese kerke in Amerika, met ’n konserwatiewe politieke agenda, tans die dominante vorm van godsdiens in die wêreld vorm.

Die soeke na ’n aardse spiritualiteit is ten dele gebore uit ’n morele sensitiwiteit, waarin mense bevry wil wees van ’n muwwe moralisme, die skuld van die verlede in die oë wil kyk, en wil help om die geweldige uitdagings van ons tyd die hoof te bied.

Al drie hierdie kenmerke van ’n moderne wêreld het die Suid-Afrikaanse samelewing help vorm. Dit is egter eers sedert 1994 dat ons, amper vir die eerste keer, werklik die betekenis en impak van al hierdie tradisies in en vir die Suid-Afrikaanse konteks begin raaksien het. Terselfdertyd het ons ook diep bewus geword van die dubbelkantigheid van hierdie tradisies. Ons leef op die breuklyn van ’n postmoderne tydsgees wat aan die een kant onrustig is oor die veronderstellings van moderniteit, maar wat aan die ander kant ook nie sonder meer enigeen van hierdie tradisies kan of wil prysgee. Dit het te doen met ons ervaring van die bonte verskeidenheid van kulture, tale en godsdienste in Suid-Afrika; met die skerp kontraste en ekonomiese ongelykheid van ons samelewing; met die talle vorms van konflik en geweld wat daarmee saamhang; met die kontras tussen Suid-Afrika se natuurskoon en ekologiese bedreigings, en met ons voortdurende soeke na ’n blywende tuiste in Afrika.

’N AARDSE SPIRITUALITEIT

Daar bestaan ’n omvangryke literatuur oor ’n Christelike spiritualiteit.2 Die begrip “spiritualiteit”word op soveel verskillende maniere verstaan dat dit hier wenslik is om ’n eie definisie aan te bied eerder as om ’n greep op die debat te probeer verkry. Spiritualiteit kan kortweg verstaan word as die wyse waarop ’n ervaring van transendensie tot uitdrukking gebring word. Anders gestel: Spiritualiteit is ’n bewuswording van God se teenwoordigheid en die wyse waarop mense daarop reageer. Die begrip transendensie verwys na dit wat ons “te bowe gaan”, wat groter is as onsself– groter as ons kennis, ons mag, ons leefwêreld, ons ervarings, ons ruimte, ons tyd, ja, groter as die kosmos self. Sonder só ’n ervaring van transendensie word enige vorm van spiritualiteit gereduseer tot niks meer nie as ’n vorm van sosiale gedrag. Die term “spiritualiteit” het juis ’n modewoord geword omdat die klem hierin val op ervaring. Mense stel nie meer belang in godsdienstige leerstellings wat nie binne hulle eie ervaringswêreld grondvat nie. Spiritualiteit gaan egter nie net oor ervaring nie, maar ook oor mense se reaksies op só ’n ervaring. ’n Ervaring van transendensie kom tipies tot uitdrukking in verhale, gedigte, liedere, dans, kunswerke, spreuke, rituele, morele kodes, institusionele raamwerke, en so meer.

Die begrip “aardse spiritualiteit” bied een sleutel vir die soeke na ’n toereikende vorm van spiritualiteit. ’n “Aardse spiritualiteit” kan voorlopig verstaan as ’n ervaring van God se teen- woordigheid in en deur dit wat aards, natuurlik en liggaamlik is, en hoe so ’n ervaring mense se gedrag en denke beïnvloed.

Daar lê ’n paradoks opgesluit in ’n aardse spiritualiteit. Dit word aan die een kant gebore uit die oortuiging dat ons net op grond van dit waarmee ons heel goed vertroud is, dit wat gewoon, konkreet, natuurlik, alledaags, met ander woorde eg áárds is, op die spoor kan kom van dit wat groter is as onsself. Ons kan God alleen leer ken in en deur dit wat aards is. Ons kan oor dit wat ons te bowe gaan alleen praat in terme van dit waarmee ons hier benede vertroud is. Ons kan God se stem alleen hoor as ons dit inderdaad kan hoor – met ons eie ore, al is dit ook met behulp van metafore.

Aan die ander kant, word ’n aardse spiritualiteit gebore vanuit die oortuiging dat ons die aarde pas na waarde kan skat wanneer ons op die spoor kom van dit wat die aarde te bowe gaan. Ons kan die skepping alleen verstaan vanuit ’n ontmoeting met die Skepper. ’n Mens kan jouself net vind as jy jouself verloor in dit wat groter is as jy self. Die sleutel tot die geheim van ons lewe is geleë in die ewige lewe.

DIE SOEKE NA ’N TOEREIKENDE VORM VAN SPIRITUALITEIT

In die Christelike tradisie word die begrip aardse spiritualiteit op verskillende wyses ingeklee. In die geskiedenis is daar talle voorbeelde van Christelike gemeenskappe wat hulle ervarings met God in en deur die natuur tot uitdrukking gebring het. Voorbeelde hiervan is die spiritualiteit van die Franciskaanse, Benediktynse en Keltiese tradisies. Daar bestaan ook ’n veelkleurige mengelmoes van nuwe godsdienstige bewegings waarin so ’n aardse spiritualiteit na vore kom. Dit blyk uit die omvangryke literatuur hieroor vanuit verskillende kontekste, tale en kulture, van oor die hele wêreld. Sommige bepleit ’n radikale wegbreek van tradisionele vorms van Christenskap. Hulle wil ’n eie spiritualiteit ontwerp wat hulle eie behoeftes bevredig, hulle sin vir moraliteit verteenwoordig, voldoen aan hulle eie verstaan van die werklikheid en gebruik maak van simboliek wat hulle verrykend vind.

Die term “creation spirituality” word algemeen gebruik om hierdie soort spiritualiteit te benoem. Die bekendste voorbeeld hiervan is miskien die lewenswerk van Matthew Fox, die skrywer van invloedryke populêre boeke soos Original blessing (1983) en Creation Spirituality (1992). Fox argumenteer dat die klem op sonde, oordeel en verlossing in die Christelike tradisie gelei het tot ’n eng fokus op die heil van mense. Die skepping, sê hy, is gesien as ’n blote verhoog waarop die drama tussen God en mens afspeel. Fox bevraagteken die onderskeid wat in die Christelike tradisie gemaak is tussen ’n liefdevolle God en ’n gevalle skepping. Hy hou eerder die skepping self voor as deugdelik, aantreklik en vreugdevol. Fox bepleit ’n herwaardering van wat hy die “original blessing” noem, naamlik ’n bewuswording van en verwondering en eerbied vir die goeie gawes van die skepping, en die Skepper se teenwoordigheid in dit wat aards is. Op hierdie wyse hoop Fox om ’n helende gevoel van eenwording tussen God, skepping en mens te bewerkstellig.

Die soort skeppingspiritualiteit van Matthew Fox en andere is besonder invloedryk, maar ook kontroversieel. Uit evangeliese kringe word dit dikwels afgemaak vanweë die “New Age”- konnotasies daarvan. Daar is inderdaad heelwat kritiese vrae wat ’n mens in dié verband kan stel. Dit is byvoorbeeld ’n vraag of die medisyne van ’n skeppingspiritualiteit voldoende is om die siekte van ekologiese verwoesting gesond te dokter. Die analise van die onderliggende probleem is miskien te oppervlakkig. Die probleem is nie net onkunde en gebrekkige insig nie. Dit is nie genoeg om te besef dat die wêreld die mens se enigste woonplek is nie.3 Die idee dat kennis en opvoeding die sleutel is om die wêreld se probleme op te los, berus op ’n tipiese liberale optimisme. Die probleem lê veel dieper. Dit lê in die onderdrukking en ongeregtigheid wat binne die menslike samelewing voorkom en wat daarom ook die mens se omgang met die natuur kenmerk. Ekologiese verwoesting is in hierdie sin een vorm van menslike geweld en van ’n kultuur gekenmerk deur oorheersing in die naam van die verskille van klas, ras, geslag en spesie. Die mens se diepste probleem is nie onkunde nie maar sonde. Die skeppingspiritualiteit van Matthew Fox en andere slaag nie daarin om die ongelykheid wat menslike magsverhoudings kenmerk, te ontleed en bloot te lê nie.

Die soeke na ’n aardse spiritualiteit beteken geensins dat enige vorm van spiritualiteit toereikend is nie. Inteendeel. Vanuit die Christelike tradisie is dit daarom belangrik om na te dink oor die inhoud van enige vorm van spiritualiteit. In die bespreking hieronder maak ek enkele verdere opmerkings oor die soeke na ’n toereikende aardse spiritualiteit.

In die soeke na ’n toepaslike vorm van spiritualiteit word daar tipies klem gelê op die een of die ander aspek van godsdiens. In terme van Ninian Smart se invloedryke bespreking van ses dimensies van godsdiens sou ’n mens in dié verband kon let op die institusionele, die morele, die rituele, die ervaringsmatige, die narratiewe en die lerende aspekte van godsdiens.4

Dit is baie opvallend dat mense – in hulle pogings tot kerkvernuwing, in hulle omgang met sekularisasie, in die soeke na Christelike identiteit en in hulle strewe om aan Christenskap ’n Afrika-inkleding te gee – telkens klem lê op een of meer van hierdie dimensies. Hoewel elkeen van hierdie dimensies ’n mens kan help om iets wesenliks raak te sien, kan hulle ook lei tot ’n vertekening van die Christelike evangelie. Meer nog, hulle slaag nie noodwendig daarin om dit wat eiesoortig aan godsdienstige tradisies is tot uitdrukking te bring nie – juis omdat hulle daartoe geneig is om die aspek van transendensie te onderbeklemtoon.

SPIRITUALITEIT EN DIE GROOT VRAE IN DIE LEWE

Die soeke na ’n toereikende vorm van spiritualiteit kan maklik ontaard in ’n soort afgewaterde spiritualiteit. Dit gebeur wanneer die vraag na dit wat ons bestaan te bowe gaan nie meer gevra word nie. Die soeke na transendensie word so gewoon vermy. Die probleem hiervan is dat die “groot vrae” in die lewe hierdeur nie meer aan die orde gestel word nie. Enkele verdere opmerkings is in hierdie verband belangrik:

Godsdiens help mense om die groot vrae in die lewe vir hulleself te beantwoord. Dit is wat godsdienste so invloedryk maak. Daar is naamlik sekere vrae in die lewe wat ons almal die een of ander tyd aan onsself stel en probeer beantwoord:

Waar kom ek vandaan? Waar kom mense vandaan? Waar kom alles vandaan? Hoekom is daar iets en nie niks nie?

• Wie is ek? Waar pas ek in binne die groter skema van dinge? Waar behoort ek? Wat moet ek hier doen? Wat is my roeping in die lewe? Waarvoor lewe ek?5 Hoekom moet ek goed doen en nie kwaad nie?

• Waar kom die kwaad vandaan? Hoekom moet ek so swaar kry? Hoe kan ek byhou (“cope”) by die eise van die lewe? Hoe kan ek van die kwaad verlos word? Hoe kan ek verlos word van my knaende skuldgevoelens en my werklike skuld van die verlede?

• Waarheen is ek op pad? Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf? Waarheen is die geskiedenis op pad? Waar gaan die verhaal van die aarde en die kosmos uiteindelik eindig?

Ons as mense kan nie anders as om hierdie soort vrae te stel nie. Maar dit is ook so dat ons hierdie vrae nooit werklik bevredigend kan beantwoord nie. Ons weet nie, want ons bly maar sterflike mense met beperkte insigte, en daarom bly die soeke na antwoorde op hierdie vrae altyd ’n bietjie spekulatief. Omdat hierdie vrae nie finaal beantwoord kan word nie, voel baie mense dat hulle hulle nie te veel met hierdie soort vrae wil ophou nie. Hulle skram daarvan weg. Hulle vind dit dalk selfs irriterend. Wat baat dit in elk geval?

Die vrae gaan egter nie sommer weg nie. Die ironie is dat ’n mens oënskynlik nie anders kan as om dit vir jouself te probeer beantwoord nie, al wéét jy dat ons die vrae nooit werklik kan beantwoord nie. Miskien is juis dit die diepste patos van ons menslike bestaan. Meer nog, die antwoorde wat ons wel op hierdie vrae gee, beïnvloed al ons diepste oortuigings en waardes. Dit geld veral van vrae soos “Waar kom alles vandaan?” “Waar pas ons in?” en “Waarheen is alles op pad?” Dit is vrae wat by kinders en by grootmense lewe.

In antwoord op die universele vraag waar alles vandaan kom, word daar in alle godsdienste regoor die wêreld skeppingsverhale oorvertel, gevier en ritueel uitgevoer omdat hulle vir ons verduidelik wie ons is, hoe ons inpas by ’n groter geheel en hoe ons daarvolgens moet leef (Barbour 1989:146). Hulle gee aan ons ’n basiese sin vir identiteit, oriëntasie en orde. Hulle bied vir ons ’n storie waarbinne ons kan leef. Ons kan die storie van ons eie lewe rekonstrueer as ’n deel van hierdie groter storie. Hulle verduidelik vir ons hoe dinge is en hoe dit moet wees. Dit gee vir ons die emosionele energie om die eise van die lewe te kan hanteer. Dit gee ons sin en rigting vir die toekoms. Daar is dus skynbaar ’n onontwykbare verband tussen kosmologie en moraliteit (Rasmussen 1994:178).

Dit is eintlik heel verbasend dat die baasstorievertellers in alle kulture oënskynlik weier om op te hou vertel voordat hulle die verhaal van die kosmos self vertel het – al is dit hóé pretensieus (Rasmussen 1994:176). Skeppingstories mag spekulatief wees, maar daar is tipies ’n soeke om te verstaan wie ons is en waar ons inpas binne die groter skema van dinge. Meer nog, hierdie stories in ingeweef met die morele inkleding van die betrokke samelewing (Barbour 1994:128). Hoewel daar geen noodwendige verband is tussen die orde van dinge in die natuur (kosmos) en die morele orde in die samelewing (polis) nie, probeer alle kulture tog om hierdie twee aspekte te integreer binne ’n enkele “kosmopolis” (Toulmin 1990:67).

Die vraag “Waarheen is alles op pad?” gaan ook nie nét oor die toekoms nie. Dit raak ook die manier waarop ons elke oomblik lewe. Dit help ons om sin te vind in dit wat ons elke dag doen. Ook die vraag: “Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?” lyk uiters spekulatief omdat geen mens ’n antwoord daarop kan gee nie. Niemand weet regtig nie, want niemand het nog ooit uit die dood teruggekeer nie. Ook diegene wat ’n sogenaamde nabydoodse ervaring gehad het, was immers amper, maar nie regtig heeltemal dood nie. Tog kan ons nie anders as om daaroor te dink nie. Die antwoorde wat ons wel daarop probeer gee, maak boonop ’n groot verskil aan die manier waarop ons elke dag lewe. In die Middeleeue was dit vir almal duidelik. ’n Mens kan alleen sinvol lewe as jy ook weet hoe om sinvol te sterwe. Anders sou die dood elke oomblik van jou bestaan bedreig het. Die sleutel tot die kuns om te lewe, hang saam met die kuns om te sterwe.

As ’n mens glo dat jy, wanneer jy sterf, hierdie aardse tranedal verlaat om veilig in die arms van Jesus opgeneem te word in ’n salige hemelse hiernamaals, sal dit die manier waarop jy vandag lewe, beïnvloed. Jy sal dalk geneig wees tot wêreldontvlugting. As jy, daarenteen, glo dat daar absoluut niks met jou gaan gebeur ná jou dood nie, het dit óók groot implikasies vir die manier waarop jy lewe. Vir sommige kan dit lei tot ’n groter sin vir verantwoordelikheid vir hierdie lewe. By ander kan dit egter ook lei tot ’n hedonistiese manier van lewe: “Eet, drink en wees vrolik, want môre sterf ons!” As daar niks vir ons wag “ná” die dood nie, kan ons maar net sowel nou die lewe geniet terwyl ons nog kan. Ons moet elke geleentheid benut wat na ons kant toe kom. Die afwysing van die moontlikheid van lewe ná die dood moedig dus nie noodwendig hoë etiese ideale aan nie. Anders as wat Nietzsche gedink het, help dit ons nie noodwendig om aan die aarde trou te bly nie. Dit kan omkeer in karikature soos hedonisme en ’n verbruikerskultuur.

Die antwoord dat daar “niks” ná die dood is nie, het dikwels ’n meer vreesaanjaende konnotasie. Die “Niks” moet dan eintlik met ’n hoofletter gespel word. Die nietigheid het as ’t ware ’n suigkrag van sy eie. Dit is ’n krag wat alles vernietig soos ’n kosmiese swart kolk. Die Niks bedreig daarom alles wat is. Alles word uiteindelik opgeslurp in die nietigheid. Alles word letterlik ver-niet-ig. Een van die groot vrae in die lewe lui: Hoekom is daar iets en nie niks nie? Die vraag word hier omgedraai na die toekoms toe: Sal daar uiteindelik nog iets wees en nie niks nie? Of het nietigheid en die dood die laaste sê? Laasgenoemde is presies die gevolgtrekking waartoe Bertrand Russel gekom het: “... all the labour of the ages, all the devotion, all the inspiration, all the noonday brightness of human genius is destined to extinction in the vast death of the solar system, and that the whole temple of man’s achievement must inevitably be buried beneath the debris of a universe in ruins … “6

Dit is by uitstek in godsdienstige tradisies waar antwoorde op hierdie groot vrae in die lewe voorgehou word. Weliswaar is die antwoord altyd voorlopig, maar dit word intuïtief so aanvaar omdat ons besef dat ons hier te doen het met die diepste geheimenisse van ons bestaan.Verskillende godsdienste druk iets uit van hierdie misterie7 omdat godsdiens gewoonlik ryk is aan simboliek, soos liedere, gedigte, verhale en rituele.

Sonder aandag aan die groot vrae in die lewe sal al die ander sake waarmee godsdienste hulle besig hou, spoedig afgewater, oppervlakkig en niksseggend word. Die “groot vrae” is juis vrae wat alle ander vrae omvang; dit is sogenaamde lááste vrae oor die Laaste Werklikheid (Ultimate Reality) wat die reikwydte van alle ander vrae oorskry en in ’n nuwe lig aan die orde stel. Anders gestel: as die vraag na God en God se transendensie vermy word, sal só ’n godsdiens uiteindelik leeg en oppervlakkig bly en niemand ten diepste bevredig nie.

Presies dit mag die rede wees waarom mense in ’n gesekulariseerde wêreld hulle belangstelling in godsdiens verloor, waarom hulle op ander plekke gaan soek na antwoord op die groot vrae in die lewe, antwoorde waarvolgens hulle elke dag kan lewe. Daar is baie sulke plaasvervangers vir godsdiens beskikbaar: die wetenskap, politieke partye, sport, kuns, dwelms, die okkulte, ensovoorts. Elkeen van hulle kan ook tipies “godsdienstige” eienskappe ontwikkel. Maar elkeen daarvan kan ook baie maklik weer versand in oppervlakkige, ontoereikende, ongeloofwaardige antwoorde op die mens se groot vrae.

TWEE KANTE VAN ’N AARDSE SPIRITUALITEIT

Die soeke na transendensie word dikwels gekritiseer vanweë die gevaar van wêreldontvlugting. Dit was juis die punt van Nietzsche se wekroep: “God is dood!” Hy het mense gemaan om af te sien van die hoop op lewe ná die dood. Sy kreet was: “Broeders, bly trou aan die aarde!” In sy beroemde boek Also sprach Zarathustra (1883) skryf Nietzsche: “My broers, ek smeek julle: bly trou aan die aarde. Moenie diegene glo wat na julle toe kom met hoop vir ’n ander, beter wêreld nie. Hulle is gifmengers, of hulle dit nou weet of nie. Hulle verafsku die lewe. Hulle is self vergiftig en van binne uit verrot. Die aarde is vir hulle versigtig. Bly uit hulle pad uit!” (eie vertaling). Die hoop op lewe anderkant die dood was dus vir Nietzsche soos gif wat jou lewe besmet. Hierdie lewe is immers die enigste realiteit wat ons ken. Daarom was sy standpunt dat ’n mens hierdie lewe moet beaam, koester en waardeer.

Vanuit hierdie oogpunt lyk dit asof die soeke na ’n aardse spiritualiteit gedoem is tot mislukking. Trouens, die strewe om trou te bly aan die aarde staan lynreg teenoor die soeke na spiritualiteit. Dit is logiese teenstrydighede. Hiervolgens is daar is niks wat verder uitmekaar is as ekologie en spiritualiteit nie.

Hierteenoor wil ek graag aantoon dat die verlange om aan die aarde trou te bly en die soeke na ’n toereikende spiritualiteit tog albei ten nouste met mekaar verband hou. Dit vorm twee kante van dieselfde munt.

a) Daar bo en hier benede

Ons kan oor dit wat ons te bowe gaan alleen praat op grond van dit waarmee ons goed vertroud is. Om kan oor dit wat “daar bo” is alleen praat van “hier benede” af (Harry Kuitert). Ons kan oor die ewigheid slegs vanuit die tyd praat. Ons kan oor God se transendensie net praat op grond van God se immanensie, oftewel op grond van God se teenwoordigheid in die wêreld – volgens die Christelike getuienisse veral in die persoon en werk van Jesus Christus en in die teenwoordigheid van die Gees van God in die geskiedenis en in die kerk.

Dit is ’n eenvoudige, selfs vanselfsprekende insig, maar daar word tog dikwels oor transendensie gepraat op wyses wat dit laat lyk asof iemand dit nie ingesien het nie, of probeer ontken. Die rede hoekom dit ontken word is ook voor die hand liggend: As godsdiens niks meer is nie as ’n sosiale konstruksie, dan maak ons mos vir ons ’n god na ons eie beeld en om by ons behoeftes te pas. Juis daarom dink party mense dat hulle moet aantoon dat hulle siening van God nie bloot die produk van hulle eie verbeelding is nie, maar dat dit van God self afkomstig is, dat dit deur God self aan ons “geopenbaar” is. Daar is egter iets verkeerd met hierdie manier van dink, want selfs al het God dit direk aan ons openbaar, dan het ons slegs daartoe toegang vanuit ons eie ervaring.

Die begrip deursigtigheid (“transparence”) is dalk nuttig om weg te kom uit die valse teenstelling tussen ’n klem op transendensie of op immanensie. Hierdie begrip dui daarop dat ons nie na dit wat die wêreld te bowe gaan moet gaan soek buitekant die wêreld waarmee ons vertroud is nie. Dit is ook moontlik om uitsluitlik op iets binne ons werklikheid te fokus totdat dit deursigtig word, met ander woorde totdat dit onverwags dieptedimensies na vore bring wat jou verwysingsraamwerk te bowe gaan. Die grootste misterie lê dalk in die wonder van dit wat sigbaar, hoorbaar, tasbaar, ruikbaar en proebaar is, en nie in iets wat ons veronderstel is om buite ons sintuie om te ervaar nie. Die grootste misterie is dat daar enigsins iets is, en nie niks nie. Soos Luther tereg ingesien het: “As jy werklik ’n koringkorrel deur en deur bestudeer, kan jy van verwondering sterf” (in Hall 1996:77).

Teilhard de Chardin, die beroemde Jesuïet en paleontoloog, gebruik die begrip “the divine milieu” om die teenwoordigheid van God in die wêreld te verhelder. Hy skryf: “In the divine milieu all the elements of the universe touch each other by that which is most inward and ultimate in them” (De Chardin 1960:114). God se transendensie, sê Teilhard (1960:131), kom na vore in “the incandescence of the inward layers of being (1960:131). Deursigtigheid gaan dus oor die teenwoordigheid van die transendente in die immanente. Vir Teilhard is presies dít die diepste geheim van die vleeswording van Jesus Christus. God se teenwoordigheid straal uit van die mens Jesus van Nasaret. Dit “gloei” of “skyn” in Hom soos wat die Engelse begrippe “radiance” en “translucence” dit duidelik maak. Daarom word die heiliges uitgebeeld met ’n stralekrans. Die grootste misterie van die inkarnasie lê, volgens Teilhard, nie soseer in die verskyning van God (as’t ware van buite af) nie, maar in die deursigtigheid van God binne die kosmos, sodat die hele kosmos gloei van God se teenwoordigheid.

Die teenwoordigheid van die transendente in die immanente verg daarom ’n vorm van sien, maar ook van insien. Dit behels ’n manier van kyk, maar nie net met jou oë nie. Oë is nodig, maar geloofsoë ook. Vanuit die oë van geloof gesien, woon ons nie in ’n geslote huis (oikos) nie, maar in een met vensters wat oopstaan vir die ewigheid: die aarde as ons huis is die woonplek van God. Die vraag is dus of ons dit al raakgesien het. Dit is daar vir almal om raak te sien. Dit is meer as net ’n idee, ’n mooi konstruksie Dit is nie daar net omdat ons dit so insien nie; ons kan dit insien omdat dit dáár is. Wie oë het om te sien, kan maar kom kyk!

b) In die soeke na transendensie gaan dit juis oor ’n herwaardering van die aarde

Die godsdienskritiek van Marx en Nietzsche se oproep om aan die aarde trou te bly, het ons gehelp om die probleem van wêreldontvlugting deeglik raak te sien. Die ekologiese krisis het ons sensitief gemaak vir die omgewing waarbinne ons lewe. Ons verstaan nou veel beter dat ons gewortel is binne dit wat liggaamlik, aards en materieel is.

Hieruit sou ’n mens kon aflei dat, wanneer ’n mens oor die liggaam wil praat, jy liewer nie oor die siel moet praat nie. Of: As jy die aarde wil beklemtoon, moet jy nie in die hemel belangstel nie. As jy jou verantwoordelikheid in die hier en nou wil nakom, moet jy liewer vergeet van enige dagdromery oor die hiernamaals. As jy oor die wêreld wil dink, dan sal gedagtes oor God net jou aandag aflei. Hierdie lewe is veel belangriker as die ewige lewe.

Ek is egter daarvan oortuig dat ons hier met valse teenstellings te make het. Die punt is eenvoudig. Dit gaan oor ’n gebrek aan ’n ruimer visie. ’n Beklemtoning van hierdie lewe lei nie noodwendig tot ’n sin vir verantwoordelikheid vir die aarde nie. Trouens, ’n gebrek aan ’n visie van iets wat groter is as hierdie lewe kan maklik lei tot ’n bekrompe beheptheid met hierdie lewe. Dit kan tot uiting kom in ’n sieklike obsessie met liggaamlikheid en met liggaamlike gesondheid. Dan bly daar min anders vir ons oor as om materiële besittings op te gaar. Ons honger dan maar net naarstiglik na geld, besittings, mag, status, pret en plesier. Ons moet onmiddellike bevrediging, geluk en opwinding ervaar, want môre mag dit dalk te laat wees. Ons moet eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood. Die vrees vir die dood keer so om in ’n gulsige oriëntasie op dit wat hierdie lewe ons kan bied. Die lewe skuld ons immers iets! Op hierdie wyse kan ’n mens alte maklik vasgevang word in die kloue van ’n verbruikerkultuur. Die probleem is: Sonder ’n breër visie verloor ons maklik perspektief op dinge.

Hierteenoor kan die hoop op ’n nuwe aarde ons wel leer om trou te bly aan hierdie aarde. Dit is moontlik, omdat die Christelike hoop ons kan help om hierdie lewe binne ’n groter perspektief te plaas. Sonder ’n visie van dit wat hierdie lewe te bowe gaan, kan ons die betekenis van hierdie lewe heeltemal misverstaan. Sonder ’n ewigheidsperspektief kan ons oormatig vasklou aan die oomblik en die verganklikheid daarvan verwens. Daarenteen kan die hoop op die ewige lewe juis ’n herwaardering van hierdie lewe tot gevolg hê. Die verlange na die hemel kan ons help om dit wat op aarde verkeerd geloop het, raak te sien. ’n Blik op die Laaste Werklikheid kan ons help om die betekenis van die voorlaaste gebeure in die geskiedenis na waarde te skat.

Net so gaan dit in die soeke na spiritualiteit nie daaroor om dit wat aards is te ontken nie, maar juis om die diepste betekenis daarvan te leer waardeer. Die verlange na ’n aardse spiritualiteit is juis vanuit hierdie insig gebore. Die soeke na ’n aardse spiritualiteit veronderstel die insig dat ons toegang tot spiritualiteit alleen moontlik is in en deur dit wat aards en konkreet is. Dit is egter ook ’n soeke om dit wat aards is te leer waardeer, bes moontlik vir die eerste keer. In ons soek na “gees” (spirit-ualiteit), gaan dit juis oor materie. ’n Aardse spiritualiteit is slegs spiritueel wanneer dit eg aards is, en aards slegs wanneer dit spiritueel is.

Anders gestel, in en deur ons betrokkenheid by die wêreld, soek ons juis na God. Omgekeerd, om op God, ja, op God alleen te fokus, kan ons juis help om die nood van die wêreld raak te sien. Dit kan aan ons die inspirasie bied om onreg te beveg en om ons te beywer vir geregtigheid, vrede en die behoud van die skepping.

Calvyn het reeds iets gesnap van hierdie paradoks wat die soeke na ’n aardse spiritualiteit kenmerk. In die beroemde aanvangsin van sy Christelike Institusie skryf hy dat die somtotaal van die Christelike geloofsleer uit twee onskeibare dele bestaan: kennis van God en kennis van onsself. Sy werk maak dit dan duidelik dat ons onsself pas kan leer ken in en deur die openbaring van God in Jesus Christus. Die soeke na ’n aardse spiritualiteit kan daarom vertrek vanuit Calvyn se insig, maar dit juis – in navolging van Calvyn – ook verbreed: Die kennis van God en van ons plek binne die geskiedenis van die aarde is onlosmaaklik verbonde.

SLOTOPMERKINGS

Hiermee is die soeke na ’n aardse spiritualiteit nog nie voltooi nie. Trouens, vanuit die Christelike tradisie bied hierdie opmerkings slegs ’n beginpunt om te begin nadink oor die vraag: Wie is die God wat die wêreld te bowe gaan? En: Wat is God besig om in die wêreld te doen? Die Christelike geloof leef verder vanuit die oortuiging dat ’n mens nie na so ’n aardse spiritualiteit hoef te soek nie, juis omdat God in Jesus Christus na ons kom soek het. Ons hoef nie self ’n aardse spiritualiteit te vind of uit te vind nie, juis omdat God ons reeds gevind het.8

BIBLIOGRAFIE

Barbour, IG 1989. Creation and cosmology. In: Peters, T (ed): Cosmos as creation. Theology and science in consonance. Nashville: Abingdon Press.

Conradie, EM 2000. Waarvoor lewe jy? Nege redes om te lewe. Kaapstad: Lux Verbi.BM.

Conradie, EM 2005. An ecological Christian anthropology: At home on earth? Aldershot: Ashgate.

Conradie, EM 2006. Waar op dees aarde vind mens God? Op soek na ’n aardse spiritualiteit. Wellington: Lux Verbi.BM.

De Chardin, PT 1960. The divine milieu. San Francisco: Harper & Row.

Fox, M 1983. Original blessing. New Mexico: Bear & Co.

Fox, M 1992. Creation spirituality. San Francisco: Harper & Row.

Hall, DJ 1996. Confessing the faith. Christian theology in a North American context.

Kourie, C & Kretzschmar, L 2000. Christian spirituality in South Africa. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Moltmann, J 1999. God for a secular society: The public relevance of theology. Minneapolis: Fortress Press. Nel, A 2003. Op soek na God buite die kerk. Wellington: Lux Verbi.BM.

Rasmussen, LL 1994. Cosmology and ethics. In: Tucker, ME & Grimm, JA (eds): Worldviews and ecology: Religion, philosophy, and the environment. Maryknoll: Orbis Books.

Rasmussen, LL 1996. Earth Community, Earth ethics. Maryknoll: Orbis Books.

Russell, RJ 1997. Cosmology and eschatology: The implications of Tipler’s ‘Omega point’ theory to Pannenberg’s theological programme. In: Albright, Carol & Haugen, J (eds). Beginning with the end. God, science and Wolfhart Pannenberg, 195-216. Chicago & LaSalle, Ill: Open Court.

Smart, N 1969. The religious experience of mankind. New York: Collins.

Smart, N 1973. The phenomenon of religion. London: Mowbrays.

Smart, N 1996. Dimensions of the sacred. Berkeley: University of California Press.

Toulmin, S 1990. Cosmopolis: The hidden agenda of modernity. New York: The Free Press. Van Niekerk, AA 2005. Geloof sonder sekerhede. Wellington: Lux Verbi.BM.

TREFWOORDE

Ekologie, Moderniteit, Godsdiens, Spiritualiteit, Transendensie

KEY WORDS
Ecology, Modernity, Religion, Spirituality, Transcendence

Prof Ernst Conradie

Universiteit van Wes-Kaapland

Departement Godsdienskunde en Teologie

Privaatsak X 17

7535

BELLVILLE

econradie@uwc.ac.za

1 Vir ’n meer breedvoerige bespreking van die soeke na ’n aardse spiritualiteit, sien my Waar op dees aarde vind mens God? (Conradie 2006). In hierdie artikel word die konteks en agtergrond van die tema van hierdie boek bespreek.

2 Een goeie voorbeeld hiervan is die bundel opstelle, Christian spirituality in South Africa (Kourie & Kretzschmar 2000).

3 Die term “at home on earth” word dikwels in titels gebruik om die vervreemding tussen mens en natuur aan te spreek. Vergelyk in hierdie verband my An ecological Christian anthropology: At home on earth? (Conradie 2005) vir ’n uitgebreide polemiek ten opsigte van hierdie soort aksent.

4 Vergelyk die invloedryke definisie van godsdiens soos voorgestel deur Ninian Smart (1973:42-3): “Religion is a six-dimensional organism, typically containing doctrines, myths, ethical teachings, rituals, and social institutions, animated by religious experiences of various kinds. To understand the key ideas of religion, such as God or nirvana, one has to understand the pattern of religious life directed towards those goals.” Vir ’n bespreking van hierdie ses dimensies van godsdienstige tradisies, sien Smart (1969, 1973, 1996). Smart (1996) identifiseer ook ’n sewende dimensie, naamlik ’n materiële of artistiese dimensie. In die Christelike tradisie sou ’n mens in hierdie verband kon dink aan katedrale, ikone, kunsvoorwerpe, liturgiese kleredrag, die liturgiese ruimte, die Bybel, gesangboeke, ensovoorts.

5 Sien my Waarvoor lewe jy? Nege redes om te lewe (Conradie 2000). Ek het hierin probeer aantoon dat daar juis verskillende redes is waarvoor jy kan lewe en dat jy nie alles en vir almal hoef te probeer wees nie.

6 Bertrand Russel, Mysticism and logic, 44-45, aangehaal in Russel (1997:196).

7 Oor die begrip “misterie”, sien Anton van Niekerk (2005) se mooi bespreking in Geloof sonder sekerhede.

8 Vir ’n bespreking hiervan, sien hoofstuk 5 en 6 van my Waar op dees aarde vind mens God? (Conradie 2006: 171-250).