Van der Watt, JS en Prins, JGM
Universiteit van Stellenbosch

Interpretasieskemas binne jeugpastoraat in ’n postmoderne kultuur: ’n eko-hermeneutiese perspektief 1

ABSTRACT

Schemata of interpretation within pastoral care to the youth in a postmodern culture: an eco-hermeneutical perspective2

The focus of this article is to present an eco-hermeneutical perspective on certain schemata of interpretation, through which young people gain an understanding of their reality, and conceptualise God. The investigation also enquires about the ways in which God-images can be utilised as an integration factor in a fragmented context, where youth identity formation takes shape. Within the deconstructional postmodern paradigm, young people frequently struggle to find significant meaning in life through “orthodox” God-images. Therefore the theme “spirituality” should be understood within the postmodern youth’s existential search for significant and meaningful identity and intimacy. Pastoral care to the youth should give attention to an understanding of God and God-images, which will address the youth’s need in this search so that faith in God ensues out of a practical and experiential spirituality.

INLEIDING

Hulle word genoem Generasie X en Y – Busters, Millennials, The lost generation. Hulle leef in ’n tyd wat genoem word postmodernisme. Postmodernisme is dikwels sinoniem met post-Christelik, om te illustreer dat postmodernisme anderkant die stereotiepe godsdienstigheid bestaan. In hierdie paradigma word die individu deur subjektiwiteit en ervaring bevry en word elke individu toegelaat om sy of haar gevoelens te volg wanneer dit kom by geloofsoortuigings, etiek en lewenservaring. Die dae van dogmatiese absolutismes kwyn ontsettend vinnig. Hoe moet die kerk, en meer spesifiek die pastorale veld van die teologie, nou reageer op hierdie tendense en sentimente?

Hierdie artikel is toegespits op die pastoraat aan die jeug binne hierdie paradigma en leefwêreld. Alhoewel die totale profiel van Suid-Afrika se jongmense onder die soeklig kom, word veral gefokus op die spesifieke profiel van jongmense in die ouderdomsgroep 15-24 wat deur die tradisioneel Afrikaanse Reformatoriese Kerke bedien word. Die doel is om teologies gesproke vanuit ’n eko-hermeneutiese perspektief die hedendaagse jeugproblematiek inleidend te ondersoek ten einde meer lig te werp op sekere interpretasieskemas wat die jeug se gepaardgaande Godskonsepte op verskeie maniere beïnvloed.

PROBLEEMSTELLING

Binne die postmoderne jeugkultuur funksioneer en regeer norme en waardes wat voorgeskryf word deur die filosofiese waardes van die geglobaliseerde wêreldkultuur. Die positivistiese godsdiensparadigma van die modernisme raak uitgedien en is vervreem van postmodernistiese denkskemas, wat onder meer gefundeer is op dekonstruktivisme. In die dinamiek van postmoderne jeug met ’n eksperimentele kultuur, pas ’n godsdiens vanuit hierdie bogenoemde paradigma, met starre (metafisiese) interpretasieskemas, dikwels nie meer nie.

Die probleem wat derhalwe hier ondersoek word, is dat die hedendaagse jeug, in ’n gefragmen- teerde en dekonstruktiewe postmoderne konteks, dikwels nie vervullende sinsontsluiting ondervind binne die raamwerk van bogenoemde, gevestigde godsdiensparadigma nie. Dit gee aanleiding tot ’n geweldige soeke na integrasie in terme van hulle spiritualiteit. Die vraag waarop ons dan ’n antwoord soek, is wat interpretasieskemas se invloed op houding en identiteit is, en op watter wyse dit ’n invloed het op jongmense se selfverstaan en spiritualiteit. Die vraag op watter wyse toepaslike Godskonsepte aangewend kan word om te dien as integrasiefaktor in terme van identiteitsvorming, kom dus bondig ter sprake, maar word nie in hierdie artikel uitvoerig verantwoord nie.

HIPOTESE

Hierdie ondersoek word vanuit ’n eko-hermeneutiese perspektief benader, wat binne die konteks- tuele verbande van jeugpastoraat verheldering en verstaan wil bevorder. Die jeug se behoefte aan identiteit en intimiteit behoort ernstig opgeneem te word, sodat daar bygedra kan word tot ’n positiewe groei van hulle selfverstaan. Die eko-hermeneutiese perspektief op interpretasieskemas van die jeug kan ’n waardevolle bydrae lewer tot die soeke na sinvolle en lewegewende spiritualiteit. Derhalwe die hipotetiese uitgangspunt: Indien daar in die pastorale hermeneutiek meer genuanseerd gekyk word na Godskonsepte, om te dien as integrasiefaktor in die identiteitsvorming van jongmense, behoort sodanige Godskonsepte ’n positiewe ervaring en waardering van die waarde van lewe te fasiliteer en gevolglik geloofsvolwassenheid te stimuleer en te bevorder.

DIE IMPAK VAN POSTMODERNISME OP PASTORALE TEOLOGIE

Die beweging van modernisme na postmodernisme

Die postmoderne paradigma is ’n realiteit wat elke sfeer van die samelewing infiltreer, maar dit bly steeds ’n geweldig moeilike taak om hierdie verskynsel te beskryf. Dit word dit onder meer gekenmerk deur vryheid van keuse, pluralisme, diversiteit en ’n algehele agnostisisme in die absolute mag van rasionalisme. In die kern van postmodernisme lê ’n aversie in presiese, afgebakende definisies en formulerings. In plaas daarvan moet ons lewenservaring (insluitend geloof) ons “goed laat voel”. My geloof moet twyfel kan hanteer, maar om nie antwoorde te hê nie, is ook in orde. “Dit moet net werk” (pragmatisme). Daarom is New Age, smart drugs, ervaring, identiteit in musiek en ervaringsleer so hoog in die mode vir die postmoderne jeug.

Binne die Suid-Afrikaanse Christelike konteks beskryf Hendriks (1998) iets van hierdie wending as volg: “Within Christianity experience once again has taken on a new meaning. People are sceptical about dogmas, creeds and a rational approach to religion.”

Postmodernisme en dekonstruksie

Die kernidee van postmodernisme is dan dat waarheid as ’n objektiewe realiteit nie bestaan nie. Volgens hierdie epistemologie bestaan die realiteit uit ’n verskeidenheid narratiewe wat behandel moet word as oop weerspieëlings van realiteit. Binne hierdie strategie word die grand narrative van een groot storie (waarheid) gefragmenteer in ’n verskeidenheid narratiewe wat voortkom uit “die teks”. Hierdie strategie staan bekend as dekonstruksie. Binne die postmodernistiese paradigma het die strategie van dekonstruksie verskeie implikasies vir die pastorale veld binne die praktiese teologie, en meer spesifiek vir die interpretasieskemas binne jeugpastoraat. Daar is verskeie raakpunte tussen postmodernisme en die eko-hermeneutiese benadering binne die veld van jeugpastoraat.

Postmoderniteit maak juis ’n besondere bydrae deur die klem op die individu en die konteks te laat val, en sekere strategieë wat daardeur gebruik word, soos die narratief en dekonstruksie, kan ’n belangrike bydrae maak tot die veld van pastorale teologie. Sulke strategieë kan sinvol binne die hermeneutiese paradigma geïntegreer word, solank dit nie uitsluitlik vanuit die postmoderne epistemologie figureer nie. Epistemologies gesproke is dit moontlik, eenvoudig omdat ’n strategie soos narratief nie eksklusief is tot die postmoderne paradigma nie. Pastorale teologie kan dus leer en leen van postmoderne strategieë sonder om noodwendig die teenstrydige konflikterende paradigma te aanvaar ten einde die strategieë te kan implementeer. Sulke strategieë kan dus eerder geplaas word binne ’n versoenbare (Christelike) paradigma.3

PASTORALE HERMENEUTIEK BINNE DIE UITDAGINGS VAN GLOBALISERING

Eko-hermeneutiese pastorale sorg

As basisteoretiese vertrekpunt van hierdie artikel gebruik ons ’n sisteembenadering wat na die wêreld kyk in terme van verhoudings en integrasie, dit wil sê meer inklusief en holisties – met ander woorde, ekosistemies.

Deur hierdie benadering tot pastorale sorg te volg word ’n gesonde balans gehandhaaf. Die klem val op heelheid én verstaan, en meer spesifiek op ’n verstaan van heelheid: “Eco- hermeneutical pastoral care is pastoral care which is willing to take the risk of involvement with a system, not to explain it from the outside and even give empathetic advice from the outside, but to become part of the system and experience (and facilitate) the beauty of change. In doing so, it works towards wholeness as an ecosystemic reality and as a biblical goal” (Müller 1994:350).

IDENTITEITSVORMING BINNE JEUGPASTORAAT

Identiteitsvorming as ontwikkelingstaak binne Erikson se agt stadia

Die ontwikkeling van ’n eie persoonlike identiteit vorm volgens Erik Erikson die sentrale opgaaf van die mens se hele lewensontwikkeling. Dit is nie beperk tot adolessensie of jong volwassenheid nie, maar is ’n deurlopende proses van formulering en herformulering, van losmaak en vasmaak, en begin reeds by geboorte. Persoonlike identiteit is vir jongmense vandag nie meer ’n gegewe nie, maar ’n ontwikkelingstaak en prestasie. Erikson verdeel hierdie ontwikkelingsreis in agt stadia van geboorte tot sterfte wat gekenmerk word deur ’n sekere bipolariteit. So beweeg die adolescent tussen identiteit en verwarring en die jong volwassene tussen intimiteit (en distansiëring) en selfabsorbering (isolasie) (Erikson 1974:95-141).

Tydens adolessensie begin somatiese en kognitiewe vorderings om nuwe druk uit te oefen en nuwe moontlikhede te ontsluit vir jongmense. Dit gee nuwe dryfkrag aan die ernstige, reflekterende vraag: “Wie word ek?” Die reeks identifikasies uit die kinderjare moet plek maak vir ’n meer bewustelike proses van identiteitskeuse en identiteitsvorming. ’n Algemene, fundamentele prioriteit van laat adolessensie is dus die strewe na die uitdrukking van ’n gangbare psigososiale identiteit, wat in staat is om ’n lewensperspektief te bied op ’n sinvolle bestaan. Hierdie soeke word baie bemoeilik deur die kompleksiteit van ’n samelewing wat gekenmerk word deur pluralisme, sekularisme en die relativering van waardes, met ander woorde, ’n postmodernistiese tydsgees.

’n Generasie onder druk met stres

Volgens Elkind (1984) is die hoofprobleem van tieners dat hulle nie meer vandag, te midde van die snelle tempo van sosiale veranderinge, ’n bevoorregte posisie gegun word om hierdie belangrike ontwikkelingsfase aan te pak nie. ’n Voortydige volwassenheid word op hulle afge- dwing. Erikson se voorstel dat tieners op die een of ander wyse ’n “moratorium” (periode/ tydsgewrig) vir hulleself moet vind waartydens hulle konstruktief kan besig wees met die taak van identiteitsvorming, word dus nie deur die hedendaagse samelewing geakkommodeer nie. Daar word vandag van tieners verwag om die lewe en die gepaardgaande uitdagings te konfronteer met die volwassenheid wat eens van middeljariges verwag is, sonder tyd vir voorbereiding. Hulle is die media se teiken vir onder meer al die kunste van oorreding en seksuele toespelings wat voorheen net aan volwasse kliënte gerig is. Daar word eerder aanvaar dat tieners ’n tipe volwassene is.

Elkind (1984:5) beskryf tieners se situasie soos volg: “Perhaps the best word to describe the predicament of today’s teenagers is ‘unplaced’ … they are unplaced in the sense that there is no place for a young person who needs a measured and controlled introduction to adulthood … Young people are thus denied the special recognition and protection that society previously accorded to their age group.”

Dit is die spesiale voorreg van pastorale sorg om ’n ankerplek of vaste ruimte te skep waar kwessies met betrekking tot identiteit hanteer kan word, en om altyd rekening te hou met die behoefte aan verbintenis met daardie dieper en meer transendente Andere, wat ons grondbeginsel en uiteindelike waarborg van identiteit is (aldus Erikson).

Aangesien die proses van identiteitsvorming ’n hermeneutiese aangeleentheid met interpretasie as sentrale dinamiek is, noodsaak dit vanselfsprekend ’n hermeneutiese benadering in die jeugpastoraat. Die pastorale hermeneutiek het die taak om die verskillende skemas of raamwerke van interpretasie wat die jeug se kontak met die postmoderne wêreld regeer, te analiseer. Dit verg dus ’n ondersoek na die wêreld waarin tieners leef en die taal wat tieners praat. Vervolgens word ’n bondige eko-hermeneutiese perspektief gebied op die interpretasieskemas waardeur jongmense uitdrukking gee aan hulle verstaan en interpretasie van die werklikheid van ’n postmoderne samelewing.

INTERPRETASIESKEMAS VAN DIE JEUG IN ’N POSTMODERNE JEUGKULTUUR

Dekonstruksie as rigtingwyser – pluralisme en relativisme

Dekonstruksie word verstaan as “the general strategy that exposes, by a thousand tactics, the myth of the fixed, essential, timeless, and naturally accessible structures of any independent reality that the totality of (our) intelligibility networks have ‘found out’” (Margolis, in Janse van Rensburg 2000:10). Die algemene tendens binne die postmoderne jeugkultuur kan eenvoudig beskryf word as: “Enige iets is gangbaar/aanvaarbaar (‘anything goes’).” Daar is geen absolutes nie; alles is relatief. Celek en Zander (1996) beskryf die opset soos volg: “A postmodern person’s attitude might be, ‘Let’s respect each other’s truths. You have your truth; I have my truth. That’s fine for you. Your truth may be radically different from my truth, but since this person values a sense of community above all else, diametrically opposed truths can coexist. It may be a paradox, but that’s okay.’”

Die dekonstruksie van absolute waardes en rasionalisme, en die postmoderne jeug se opstand teen gevestigde gesag, produseer ’n verlies van betekenisvolle samehang en integrasie by jong- mense. Idees hoef nie logies te wees vir hulle om dit te onderskryf nie. Dit is die rede waarom hulle tegelykertyd aan twee oënskynlik paradoksale perspektiewe kan vaskleef. Indien ’n mens ooit gewonder het hoe dit moontlik is dat tieners ywerig is om renosters en selfs bome te red en terselfdertyd aborsie te ondersteun, bied postmodernisme die antwoord. Postmodernisme, met gepaardgaande dekonstruksie, produseer ’n klomp paradokse, en daarom is een van die heden- daagse tieners se gunsteling frases: “Whatever!” volgens Celek en Zander (1996). Postmoder- nisme is dus ’n alternatiewe, subjektiewe, ervaringsmatige wêreldbeskouing, en grondliggend daaraan bestaan ’n diep skeptisisme wat nie glo in morele, absolute of universele waarhede nie.

Dekonstruksie word (hoofsaaklik onopsetlik) deur die postmoderne jongmense as strategie gebruik om hulle realiteitservarings te interpreteer. Binne hulle postmoderne kultuursituasie, onder die invloed van die dekonstruksiefilosofie, is jongmense geneig om hulleself van die gevestigde samelewing te distansieer en te soek na die “in-wees-ervaring” binne groepsverband. Ter wille van hierdie ervaring vind konformering plaas en is die groep ingestel op die informele, die persoonlike ervaring, die eksklusiewe, die belewing van basiese, aardse dinge.

Die hede (nou) is belangriker as die toekoms

Die jeugkultuur is ingestel op belewenisse in die hede (nou) en besit gevolglik pragmatiese en hedonistiese trekke. (Hiervan is die onlangse Suid-Afrikaanse realiteitsprogram [op televisie] Big Brother ’n goeie voorbeeld as uitdrukking van die postmoderne kultuur wat gerig is op oppervlakkige genotsugtigheid en die misbruik en uitbuiting van die sensuele/seksuele.) Die jeug verbind hulle glad nie maklik aan enige institusie wat langtermynlojaliteit vereis nie. Hulle verkies korttermynverbintenisse tot projekte op klein skaal. Hulle belewenisse is ingestel op die ervaring van die hede, sonder enige verdere soeke na betekenis in verband met die toekoms. Hulle is ook baie meer geïnteresseerd in hulle nabye groep van vriende as in die wêreld “daar buite”, en hulle toon min of geen belangstelling in oorsaaklikhede, politieke mag of statusgebaseerde groepaffiliasies. Almal is vry om te kies wat hulle wil … solank niemand seerkry of skade berokken word in die proses nie.

Norme en waardes word gevorm deur ’n nuwe gesagsisteem

Belangrik ten opsigte van die verstaan van die sogenaamde jeugkultuur is dat waardes via persoonlike kommunikasie oorgedra (moet) word, en nie deur ’n outoritêre aankondiging van wat “reg” en “verkeerd” is nie. Niks is vir vandag se jeug belangriker as verhoudings nie (Codrington 1999). Hulle leef egter in ’n wêreld wat toenemend ontdaan is van soliede, betroubare verhoudings. Baie van hulle word groot as kinders van geskeide ouers en hulle soek naarstiglik na intimiteit. Agterlosige, mishandelende, besige, onemosionele en afwesige ouers het geen tyd vir verhoudings nie. Die meeste jongmense het nie werklik ervaring van die tipiese vroegtwintigste- eeuse kerngesin nie (Bill Price et al 1998).

Die oordrag van waardes en norme behoort natuurlik primêr deur die modellering van ouers te geskied, maar as gevolg van die hoë aantal gebroke huwelike en gesinsopset, wend jongmense hulle dikwels tot die kubernetiese 4 wêreld van multimedia en virtuele tegnologie 5 om gedragbepalende norme en waardes te vind en te internaliseer. Tieners se waardes en norme (hulle etiese raamwerke) word dus dikwels nie gevind waar hulle daarvoor soek nie, naamlik deur middel van persoonlike verhoudings. Hulle interpretasieskemas vir waardevorming word dikwels eerder ingekleur deur die bombardering van inligting deur middel van kubertegnologie.6

Sosiale identiteit deur nuwe vorme en style van kommunikasie

Die toegang tot die internet en ander rekenaarnetwerke gee ook aan tieners toegang tot ander mense wat online is. E-pos en kletskamers is die algemene vorm van kommunikasie. In ’n kletskamer op die internet kan adolessente (anoniem) die persoonlikhede aanneem van enige iemand wat hulle verkies om te wees. Ouderdom, geslag, seksuele voorkeur, politieke en etniese agtergrond, ekonomiese status, ensovoorts is alles relatief in ’n kletskamer. Daarbinne word ’n vals en kunsmatige sin van intimiteit geskep. Gesprekke kan intiem, maar geweldig bedrieglik en eintlik oppervlakkig wees.

Die vryheid wat die anonimiteit van die internet moontlik maak, veroorsaak dat tieners dikwels identiteitskrisisse beleef in hulle soeke na die “regte” identiteit. Dit gee verder aan hulle die mag om te verken wie hulle is én wie hulle moontlik kan wees. Tom Beaudoin (1998:1357) sê: “It seems as if cyberspace unlocks the extent to which our identities have always harbored other possibilities, just waiting to get out on their own … the fluidity of identity in cyberspace enables generation X to explore the great degree to which all identities are fluid.”

Hierdie kuberkulturele insig wat toenemend ’n epistemologie word vir die X’ers kan dalk een rede wees waarom hulle so ’n oop ingesteldheid teenoor seksuele diversiteit het. Generasie X beskou sosiale identiteite toenemend as onbepaalbaar, byvoorbeeld die mate waarin geslagsrolle beskou word as sosiaal gekonstrueer, en nie goddelik beskik of biologies bepaal nie.

Konstante verandering word omarm – gefragmenteerde fokus en belewenis gedy

Vir die hedendaagse jeug was die uitdrukking: “The only constant thing in life is change” nog altyd ’n deurlopende tema waarmee hulle grootgeword het. Gevoed deur die melk van populêre kultuur ontwikkel tieners op ’n ywerige wyse die vermoë om betekenis te vind in gefragmenteerde en uiteenlopende popkultuurmomente – van tydskrifadvertensies tot televisiehandelsflitse en style van skoeisel. Betekenis word gevind in ’n reeks eindelose herassosiasies met populêre kultuur- kortstondighede. Tieners beleef die wêreld en hulleself dikwels nie as deurlopend geïntegreer en kongruent nie, maar eerder as gefragmenteer.

Tom Beaudoin (1998:131) ondersoek hierdie psigiese fragmentasie – van die self met verskeie identiteite – as die fragmentasie wat deur die generasie X-popkultuur verken en gepropageer word, spesifiek deur kuberidentiteite (wat ’n “virtuele geloof” skep). Binne die wêreld van virtuele realiteit8 word die lyn van onderskeid tussen dit wat werklik is en dit wat net virtueel is baie dun, en dikwels vind tieners dit moeilik om ’n onderskeid te tref. Dit stel hulle selfs in staat om kuberseks te ervaar. Met die vooruitgang in virtuele realiteit en die ervaring van teledildonics kan individue seks hê sonder ’n maat. Teledildonics stel die individu in staat om ’n virtuele omgewing te betree waar seksuele plesier verskaf word. Die individu dra ’n pak (suit) wat tasbare terugvoer of sensasies verskaf aan die vel, tipies in reaksie tot kontak of ander aksies in die virtuele wêreld (Gerali 1998:45).

Virtuele realiteit laat dus seks sonder ’n maat toe deurdat ’n individu ’n maat kan ontwerp of een toelaat om die virtuele omgewing te betree. Dit is die nuwe wêreld se weergawe van veilige seks – seks sonder kontak en sonder ’n seksmaat. 9Die boodskap wat deur die wêreld (veral vanuit Hollywood) uitgestuur word, is dat liefde gevind word in (gefragmenteerde momente van) seksuele intimiteit (Howe en Strauss 1993:149).

Jongmense verwag seks as deel van die ekstase wat in gefragmenteerde momente beleef moet word en hulle hoop dat dit die leegheid wat hulle binne hulleself ervaar, sal vul. Verder is daar ook geweldig baie seksuele toespelings wat deur die media aan tieners gepropageer word, wat hulle belewenis van die spirituele dimensie van hulle ervaringswêreld beïnvloed.10

Massakommunikasie deur elektroniese media – die kuberwêreld skep nuwe realiteite

Die rol van massakommunikasie (in die algemeen) in die oordrag en skep van jeugkultuur, en derhalwe ook as sterk invloed binne die jeug se interpretasieskemas, kan nie oorbeklemtoon word nie. Die rol van die visuele media is waarskynlik primêr in die verspreiding van idees en style, wat die norme en waardes van die postmoderne jeugkultuur domineer. Dit bring onder meer mee dat die aspek van konseptualisering in morele vorming geproblematiseer word. “Daar het ’n verskuiwing van ’n woordgesentreerde na ’n beeldgesentreerde kultuur plaasgevind. Die kultuur om deur middel van beelde te dink en te kommunikeer, plaas egter ’n beperking op die jeug se vermoë om morele waardes te verstaan en te konseptualiseer, om refleksief te dink en dus ook om verantwoorde besluite te neem” (Prins 1997:42).

Die rol van die musiekopname-industrie, wat die idees van musikante, subkultuurwaardes en die gedeelde vreugde en pyn deur middel van liriek oordra, is ook bepalend ten opsigte van die interpretasieskemas wat jongmense se waardesisteme rig en beïnvloed. Dit bied aan jongmense die emosionele en intellektuele portrette van hulleself, die wyer samelewing en hulle plek daarbinne. Massakommunikasie stel jongmense dus in staat om plaaslike en persoonlike isolasie te transendeer ten einde deel te neem aan een groot nasionale en groeiende internasionale jeuggemeenskap.

Saam met die mediageïnspireerde jeugkultuur kom generasionele diskontinuïteit en ontstaan daar ’n gesagskrisis. In plaas van die ouers bepaal die elektroniese media nou grotendeels die sosialiseringspatrone van die jeug: “Television and film celebrities, rock stars and disk jockeys can become important surrogates or mentors in the lives of adolescents” (Schultze et al 1991:55). Die nuwe kommunikasiemediums isoleer die jeug van die tradisionele wêrelde van vorige generasies, insluitend die daaglikse lewe van hulle ouers.

Elektroniese intimiteit

Jongmense soek spesifiek in die fase van adolessensie en jong volwassenheid na betekenisvolle, intieme verhoudings in die proses van identiteitsvorming en voorbereiding vir volwassenheid. As gevolg van die vooruitgang in klank- en videokwaliteit slaag die elektroniese media oënskynlik toenemend daarin om hierdie sin vir intimiteit te skep en te bevorder. Sodoende word spesiale “verhoudings” met jongmense geskep, ten einde lojaliteit by hulle te kweek. Massakommunikasie skep van nature ’n gevoel van nabyheid – somtyds aangrensend aan intimiteit – tussen die mediaberoemdes en die individuele kykers en luisteraars. Alhoewel die elektroniese media die kapasiteit het om die illusie en gevoel van interpersoonlike verhoudings te skep, kan dit steeds nie ware interpersoonlike verhoudings skep nie. Dit oefen egter as gevolg van jongmense se soeke na sulke verhoudings ’n magtige invloed uit.

Spiritueel honger – “kies en meng” benadering tot spiritualiteit

Generasie X en Y besit ’n intense spirituele honger. Dit beteken nie dat hulle noodwendig soek na die God van die Bybel nie – hulle besef eerder dat daar ’n hoër realiteit en mag is, iets anderkant die natuurlike wêreld waarin ons leef. Die meeste postmoderne jongmense is baie meer ingestel op die ervaring van die mistieke. Hulle toon ’n openheid teenoor die bonatuurlike wêreld, veranderings in bewussyn en mistieke ervarings.

Berger et al (1973:183) het ’n beweging geïdentifiseer wat, op soek na demodernisering, begin het om die metafisiese te verken: “… the resurgence of occultism, magic and mystical religion … from astrology to a revival of Satanism, from fascination with ancient Chinese divination to the revival of faith-healing practices in mainstream Christian denominations”. Hulle noem ook ander vorme van hierdie belangstellings, insluitende ’n hernieude belangstelling in Hindoeïstiese en Boeddhistiese mistisisme – van Zen tot transendentale meditasie.

Die postmoderne jongmens hoef nie oortuig te word dat daar ’n bonatuurlike mag bestaan nie. Hulle wil weet hoekom hulle Christenskap moet kies bo enige ander van die verskeie spirituele opsies wat beskikbaar is. Wat hulle betref, was die Christendom ’n modernistiese eksperiment wat nie aan veel van die kritiese vrae van die postmodernisme kon beantwoord nie.

Adolessente van die 21ste eeu se soeke na ’n verbintenis aan iets bonatuurliks wat hulle sal bemagtig en transformeer en vervulling of sin sal gee aan hulle bestaan, bied groot uitdagings aan die kerk se jeugbediening, en spesifiek ook aan die veld van jeugpastoraat.

’N PASTORALE ASSESSERING VAN DIE POSTMODERNE SPIRITUALITEIT ONDER JONGMENSE

In die lig van bogenoemde interpretasieskemas waarmee die jeug leef, is dit nodig om ’n eko- hermeneutiese assessering van hulle spiritualiteit te doen, ten einde te kan bepaal op watter wyse konstruktiewe Godskonsepte aangewend kan word om te dien as integrasiefaktor binne hulle brose lewensfase en gegewe kultuurkonteks.

Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat ten spyte van die snelle ontwikkeling van sekularisasie die (jong)mens se soeke na ’n transendente faktor en sin nie gesmoor kon word nie. Daar bestaan ’n globale tendens van nuwe belangstelling in die transendente en die spirituele – met ander woorde spiritualiteit. Dit is egter van essensiële belang dat transendensie singewend en prakties van aard moet wees. Die jeug is dringend op soek na die teenwoordigheid en nabyheid van God binne hulle praktiese, postmoderne lewensomstandighede. Hulle soek na ’n vorm van Christelike geloof weg van formalisme en na ’n spontane uitdrukking daarvan binne verhoudings.

Postmoderniteit se soeke na die heelheid en integrasie van menslike identiteit binne relatiwiteit, pluraliteit en ’n gefragmenteerde globale samelewing gee aan die veld van pastorale teologie die geleentheid om nuut te kyk na die saak van menswees – dit wil sê ’n teologiese antropologie – en die rol van ervaring in ’n kenteorie.

Intimiteit en identiteit te midde van disintegrasie

As gevolg van die prosesse van fragmentering, individualisering en pluralisering is die postmoderne jeug dus op soek na heelheid. Een van die kern idees van postmoderniteit is dat die geheel groter is as die som van sy dele. Die oortuiging dat daar geen absolute objektiewe sekerheid bestaan nie en dat daar wegbeweeg moet word van ’n rasionalistiese modus van sekerheid na ’n perspektiwiese modus van sekerheid, dwing die (jeug)pastoraat om (eko-) hermeneuties eerder as metafisies met die werklikheid om te gaan. Die winspunt van postmoderne denke waarby die pastorale teologie aansluiting kan vind, is derhalwe relasionaliteit: “Theology should, after the deconstruction of God, rethink its naming of God in terms of the relational character of all reality” (Louw 1998:236).

Die aksent van postmodernisme op relatiwiteit en relasionaliteit het derhalwe veroorsaak dat die gereformeerde model uitgedaag word om van ’n meer substansiële en ontologiese paradigma te verskuif na ’n meer hermeneutiese paradigma, wat die ervaring binne kulturele en historiese kontekste verdiskonteer. Dit is reeds duidelik gemaak dat spiritualiteit geleef behoort te word binne menslike verhoudings en dat dit wesenlik gaan om geloof midde-in die praktyk van lewenservaring sinvol te beleef. Op hierdie wyse dra spiritualiteit volgens Louw (1997:15) by tot die vorming van ’n Bybelse vroomheid wat geloofsvolwassenheid bevorder.

Vanuit die genoemde perspektiewe op jongmense se interpretasieskemas is dit opvallend dat hulle op ’n baie eiesoortige en genuanseerde wyse uitdrukking gee aan twee van die mees basiese menslike behoeftes, naamlik (die soeke na) identiteit en intimiteit. ’n Meer informele spiritualiteit binne verhoudings kan vorm gee aan hierdie soeke na wie hulle is en wat die sin van die lewe is (identiteit), en aan die wesenlike behoefte om onvoorwaardelik aanvaar te word vir wie hulle is, sonder onsekerheid of angs om verwerp te word (intimiteit).

Op grond hiervan kan dus ’n belangrike gevolgtrekking gemaak word: Die tema spiritualiteit behoort verstaan te word binne die postmoderne jongmens se soeke na singewende identiteit en intimiteit. Binne die jeugpastoraat moet aandag gegee word aan ’n Godsverstaan en Godskonsep(te) wat die jongmens se behoefte binne hierdie soeke so sal aanspreek dat geloof in God ’n deurleefde en praktiese spiritualiteit word.

Voor ons ten slotte kortliks let op die invloed van Godskonsepte op jongmense se spiritualiteit is dit nodig om te wys op die feit dat die eksistensiële lyding van die jeug hulle Godsverstaan wesenlik beïnvloed en rig.

DIE LYDING VAN JONGMENSE SE SOEKE NA SIN

Die postmoderne jeug beleef, soos aangedui, die konstante soeke na sin en betekenis binne hulle gegewe lewenskontekste, in terme van verskeie interpretasieskemas. Die jongmense vra hulle die vraag af: Wie is ek? – die vraag na persoonlike identiteit en die betekenis van menslike eksistensie, en ook Wie is God? – die toepaslikheid van verskillende Godsbeelde of Godskonsepte binne verskillende kontekste, en die bydrae daarvan tot verlossing uit ons menslike nood. Die soeke na betekenis is verbind aan die jongmense se doelstellings en prestasies, en dit openbaar die aard en karakter van hulle daaglikse bestaan en die kwaliteit van hulle gedrag. Hierdie twee vrae na betekenis daag hulle geloofsisteem uit en dit ontsluit (Christen-)jongmense se begrip en konseptualisering van God, sowel as hulle verwagtings en geloofsraamwerke. Dit word verskerp deur hulle ervaring van lyding in die weerlose fases van adolessensie en jong volwassenheid.

Bogenoemde dimensie van lyding wat deur jongmense ervaar word, is die eksistensiële krisis van identiteit, wat uiteindelik uitkristalliseer in ’n krisis van interpretasie. Dit is dié traumatiese lewensfase van identiteitsvorming wat lyding vergestalt in tieners se lewe. Dié fase word gekonstitueer deur psigologiese aspekte met diep ervarings van vrees, twyfel, alleenheid en frustrasie. Dit beïnvloed tieners se disposisies, houdings, norme en waardes. Verder affekteer dit die wyse waarop hulle hulleself deur middel van interpretasieskemas oriënteer teenoor postmoderne realiteite.

Hierdie eksistensiële lyding beïnvloed hulle houding teenoor God, hulleself en hulle medemens, sowel as die kultuurkonteks waarbinne hulle leef. Hulle ervaar hulleself dikwels as mislukkings en koester gevoelens van selfverwyt, wat juis aanleiding gee tot ’n meer akute ervaring van die identiteitskrisis wat hulle hele bestaan beïnvloed. Die belewenis van lyding beïnvloed dus hulle verhouding met God – hulle ervaar God dikwels as afwesig. God se bestaan en regverdigheid word bevraagteken. In die proses van worsteling met sonde en berou, kan lyding volgens Louw (20001:11) die vorm van angs, wanhoop of twyfel (die drie mees basiese en universele belewenisse van die mensdom) aanneem. Dit kan ook verder lei tot ’n verloëning van geloof en ’n fatalistiese lewensingesteldheid. God word dan beskou as ’n sadis of ’n tiran.

Die lyding wat jongmense ervaar in hulle soeke na sin (en implisiet na God), behoort dus teologies geïnterpreteer te word. Dit word gedoen deur middel van ’n pastorale assessering van Godskonsepte binne hulle verstaanswêreld, met behulp van ’n metaforiese teologie. Assessering is deel van die eko-hermeneutiese aanpak in die pastoraat – die doelwit daarvan is insig en helderheid met die oog op ’n beter verstaan en vertolking van die evangelie binne verhoudings en kontekste. Binne die bondige onderstaande raamwerk vir assessering gaan dit dus uiteindelik om die verstaan en vertolking van Christelike geloofsvolwassenheid, sodat geloofsgroei en geloofsontwikkeling tot stand kan kom.

ENKELE SLOTOPMERKINGS OOR GODSKONSEPTE

Godskonsepte (dit kan ook Godvoorstellings/-beelde genoem word) staan in verband met religieuse en kultuurkontekste. Volgens Rizutto (in Louw 1998:239) word konsepte van God gedurende die kinderjare gevorm – as ’n resultaat van die kind se soeke na objekte wat sekuriteit en intimiteit versimboliseer. ’n Negatiewe rolmodel (bv ’n baie streng pa) kan verskeie negatiewe assosiasies vanuit die kinderjare opdiep. Kortom: Die kwaliteit van die ouer-kind-verhouding is bepalend vir die konsep en verstaan van God. Vanselfsprekend dien ouers dan as rolmodelle wat God by die kind verteenwoordig en ’n belangrike funksie in die vaslegging van Godskonsepte speel.

In die soeke na kriteria om Godskonsepte te identifiseer en te evalueer moet daar dus uiters versigtig te werk gegaan word. Dit is duidelik dat Godskonsepte ’n baie komplekse saak is waarbinne kultuuropvattings, kerklike belydenisse en dogmas, lewensbeskoulike vraagstukke, interpretasieskemas en antropologiese voorstellings ’n bepalende rol speel. Daar bestaan geen “suiwer” Godskonsep wat God volledig verstaanbaar en sinvol aan die (jong)mens kan voorstel of kommunikeer nie

In ’n artikel soos hierdie is dit uiteraard nie moontlik om ’n uitgebreide of volledige pastorale assessering van die postmoderne jeugkultuur of postmoderne jongmense se Godskonsepte te maak nie. Ons kon hoogstens ’n bondige analise maak van sommige van die interpretasieskemas van jongmense en die wisselwerking tussen ’n sosiokulturele konteks (die postmoderne jeugkultuur) en ’n verstaan van jongmense se menswees. Daar is egter sekere fundamentele, strukturele komponente wat binne ’n kulturele en sosiale analise gedoen behoort te word. Louw (1999:280 ev) bied ’n baie nuttige diagrammatiese uiteensetting van dié komponente vir die maak van so ’n analise, byvoorbeeld geloofsisteem, dinamika van verhoudings, rituele, filosofie van die lewe, ensovoorts. Die bespreking daarvan val ongelukkig buite die raamwerk van hierdie artikel.

Die jeug in Suid-Afrika beweeg op die breuklyn van ’n vorige wêreldbeeld (wat uit die landelike verstaan van godsdiens kom) en die nuwe, moderne wetenskaplike en tegnologiese wêreldbeeld van die rasionele. Dit het kennelik ’n invloed op hulle Godsbeelde. Jongmense dink anders oor God as in die verlede, en derhalwe behoort daar op nuwe maniere en deur middel van nuwe metafore oor God gepraat te word. Die tradisionele, “ortodokse” metafore waardeur God byvoorbeeld onder meer voorgestel word as Koning, Regter en Vader is dikwels problematies binne die hedendaagse leefwêreld van jongmense. Hulle toon dikwels nie ’n voorkeur daarvoor nie, maar akkommodeer eerder nuwe konsepte wat God voorstel.

Dit is daarom die taak van die pastorale hermeneutiek om hulle te begelei na geloofsvolwassenheid deur geldige assessering van hulle Godsbelewing en konseptualisering te maak, sodat konstruktiewe Skriftuurlike konsepte van God gefasiliteer kan word. Dit beteken nie dat tradisionele metafore nie meer toepassingswaarde het nie, maar daar behoort gekyk te word na ’n verruiming van die bestaande metafore deur nuwe metafore.11

BIBLIOGRAFIE

Beaudoin, T 1998. Virtual Faith: The irreverent spiritual quest of generation X. San Fransisco: Jossey-Bass Publishers.

Berger, PL, Berger, B & Kellner, H 1973. The homeless mind: Modernization and Consciousness. Harmondsworth: Penguin Books.

Bill Price and Associates 1998. Profile of South African Youth and Family. Internet-uittreksel: http://www.youth.co.za.

Capps, D 1984. Pastoral care and hermeneutics. Philadelphia: Fortress Press.

Celek, T & Zander, D 1996. Inside the Soul of a New Generation. Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House.

Codrington, GT 1998. Multi-generational ministries in the context of a local church. MTh Dissertation, University of South Africa, Pretoria.

Codrington, GT 1999. 12 sentences that define generation X. Internet-uittreksel: http://www.youth.co.za.

Codrington, GT & Swartz, S 1999. Challenges facing youth ministry in the 21st century. The South African Baptist Journal of Theology 8, 120-133.

Elkind, D 1984. All grown up and no place to go: Teenagers in crisis. New York: Addison-Wesley.

Erikson, EH 1974. Identity, youth and crisis. Londen: Faber & Faber.

Gerali, SP 1998. The reshaping of adolescence in the twenty-first century and its effect on global ministry, in Borgman, D & Cook, C. Agenda for youth ministry. Londen: Triangle.

Hendriks, HJ 1998. Ministry in a new dispensation. Internet-uittreksel.

Howe, N & Strauss, W 1993. 13th generation: abort, retry, ignore, fail? New York: Vintage Books.

Janse van Rensburg, J 2000. The paradigm shift: Postmodern thougt and its implication for theology. Pretoria: Van Schaik.

Louw, DJ 1997. ’n Diagnostiese model vir die assessering van spiritualiteit met die oog op geloofsontwikkeling in die pastorale bediening. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 12(2), 11-25.

Louw, DJ 1998. “God as friend”: Metaphoric theology in Pastoral care. Pastoral Pscychology, Vol 46, No 4, 233-242.

Louw, DJ 1999. A mature faith. Louvain: Peeters Press. Louw, DJ 2000. Meaning in suffering. Frankfurt: Peter Lang.

Müller, JC 1994. An eco-hermeneutical perspective on inter-cultural counselling. Skrif en Kerk 15/2, 345-355.

Prins, JMG 1997. Postmoderniteit en jeugbediening – enkele aspekte van ’n paradigmaverskuiwing en die implikasies daarvan vir kerklike jeugbediening. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 12(2), 38-47.

Schultze, QJ & Anker, RM 1991. Dancing in the dark: Youth, popular culture and the electronic media. Michigan: Eerdmans.

Van der Watt, JS 2001. Interpretasieskemas binne jeugpastoraat in ’n postmoderne kultuur: ’n Eko- hermeneutiese perspektief. Lisensiaatskripsie, Universiteit van Stellenbosch.

1 Gebaseer op ’n lisensiaatskripsie wat, onder studieleiding van dr JMG Prins en prof DJ Louw, by die Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Universiteit van Stellenbosch ingedien is.

2 This perspective is implied throughout, although its broader implications will not be deconstructed explicitly, because of the limited scope of this article (for a detailed discussion, see Van der Watt 2001).

3 In sy boek Pastoral care and Hermeneutics (1984) maak Donald Capps ’n baie sinvolle bydrae tot die integrasie van ’n interpretasieteorie in pastorale sorg en teologie. Hy pleit vir ’n hermeneutiese model vir pastorale sorg wat pastorale aksies kontekstueel interpreteer. Capps slaan dus die brug tussen hermeneutiek en die prakties-teologiese area van pastorale sorg.

4 Kubernetika verwys hier na die studie van die kommunikasie- en beheerprosesse wat dikwels gebruik word om ’n konseptuele verbintenis tot (of beheer deur) rekenaars aan te dui.

5 Virtuele realiteit is die sin van plek en behoort wat bestaan binne die kuberruimte.

6 Kubertegnologie verwys na die hele wêreld van satelliettelevisie (multichoice DSTV), digitale videoskywe (DVD’s), CD’s, die internet of Worldwide Web information superhighway, ensovoorts.

7 Beaudoin (1998) se ondersoek na die populêre kultuur ontsluit vier temas wat die teologie van generasie X deurgrond. Eerstens, alle institusies is onder verdenking, veral georganiseerde godsdiens. Hulle het ’n weersin in waargeneemde huigelary, maar is uitgehonger vir spirituele ervarings – daarom neem hulle godsdiens in hulle eie hande. Tweedens, persoonlike ervaring is alles: Hulle wil alles self ontdek en elke vorm van intense persoonlike ervaring – insluitend seks – is potensieel spiritueel. Verder is lyding ook vir hulle geestelik: Beelde van ’n lydende Jesus het ’n persoonlike betekenis vir hierdie generasie wat dit nie vir hulle ouers gehad het nie. Laastens beskou hulle dubbelsinnigheid (ambiguity) as ’n sentrale element van geloof. Hulle omarm twyfel eerder as om daarvan terug te deins.

8 Os Guiness (in Gerali 1998:44) beskryf dit soos volg: “Technically ‘virtual reality’ signifies an event or experience that is real in effect but not in fact. Virtual reality, in other words, is a humanly constructed technological world that combines two things: a high degree of realism in simulation and a high degree of interaction that amounts to total immersion. The term ‘virtual reality’ was chosen … because of its powerful metaphysical promise.”

9 Dit bring vanselfsprekend geweldig baie moreel-etiese vrae na vore, maar die verdere bespreking daarvan val buite die raamwerk van hierdie werkstuk.

10 Vergelyk Beaudoin (1998: 80-84) oor die verband tussen spiritualiteit en sensualiteit, vir ’n baie insiggewende analise van die media en musiekbedryf se verskuilde aanbieding van die seksuele deur middel van die spirituele (om jongmense te lok).

11 Vir ’n meer gedetailleerde beskouing hiervan, vgl Van der Watt (2001).