Vos, CJA
Universiteit van Pretoria

Psalm 23 as liedteks

ABSTRACT

Psalm 23 as hymn

The publishing of the Liedboek van die Kerk (2001) emphasises the importance of the psalms for liturgy and hymnology. All 150 psalms in the Liedboek were versified by TT Cloete. This article analyses the structure and form of Psalm 23. This leads to a literary and theological evaluation of its versification by Cloete.

1. AKTUALITEIT

Die belangrikheid van die psalms vir die liturgie en himnologie in Suid-Afrika is deur die verskyning van die Liedboek van die Kerk (2001) beklemtoon. In die Liedboek is al 150 psalms deur TT Cloete omgedig. Enkele ander omdigtings van onder andere Lina Spies en Antjie Krog is as alternatiewe omdigtings opgeneem. Dit bring mee dat die psalms as gedigte en as liedere literêr en teologies beoordeel moet word.

2. PROBLEEMSTELLING

Die sentrale vraag wat beantwoord moet word, is in hoe ’n mate die Cloete-omdigting aan eksegetiese, literêre en teologiese eise beantwoord.

Ten einde reg aan die probleemstelling te laat geskied, fokus hierdie artikel op die struktuur en die uitleg van Psalm 23. ’n Literêre en teologiese beoordeling van TT Cloete se omdigting word ook gegee.

3. DIE METAFOOR AS NETWERK

Psalm 23 is ’n voorbeeld van ’n vertrouenspsalm (Zenger 1993:152). God se liefdevolle versorging word deur twee beelde verduidelik: dié van die herder (v 1-4) en dié van die gasheer (v 5).

Ricoeur (1977:44) het daarop gewys dat “die primêre eenheid van betekenis” die sin en nie die woord is nie. As daar na metaforiese taal verwys word, gaan dit nie slegs om ’n funksie van woorde nie, maar ook om die totale ko(n)teks waarbinne woorde (frases) gebruik word. Onder konteks word nie net die literêre aspekte (dws makrostruktuur, diskoers, narratief, ens) verstaan nie, maar ook ander ko-”tekste” soos die benoemde subjek (dws die skrywer of leser/hoorder), wat sy of haar sosiohistoriese agtergrond en literêre kompetensie insluit. Die liturg moet steeds daarvan bewus bly dat talle metafore nie tot ’n enkele geslote konteks beperk is nie, maar oor die ganse geskrif versprei kan wees.

4. DIE STRUKTUUR EN UITLEG VAN PSALM 23

In die metaforiese dinamiek van Psalm 23 speel die herdermotief ’n sleutelrol. Hierdie metafoor kom dikwels in die Ou Testament voor. In talle gedeeltes word Jahwe as die Herder van sy volk voorgestel (vgl bv Ps 80:2; Jes 40:11; 49:9 ev; 63:14; Jer 23:3; Eseg 34:10; vgl ook Ps 74:1; 79:13; Hos 4:16). Die herdermetafoor word in die Ou Testament gebruik om Jahwe as herder van sy kudde of volk voor te stel, maar in Psalm 23 word die metafoor geïndividualiseer. Hier word gepraat van “my” herder.

Rondom die herdermetafoor is daar in Psalm 23 ’n metaforiese netwerk opgebou. Psalm 23 kan struktureel in vier strofes, wat chiasties georden is, verdeel word, naamlik vers 1b-3 – belydenis/getuienis oor Jahwe (Hy-ek); vers 4 – vertrouensgebed tot Jahwe (ek-U); vers 5 – vertrouensgebed tot Jahwe (U-ek), en vers 6 – belydenis/getuienis oor Jahwe (ek-Hy) (Zenger 1993:152).

Hier word aandag gegee aan hoe die herdermetafoor op die weivelde van die eerste strofe voorkom. Die nominale sin “die Here is my herder” (v 1b), lei nie net die volgende stiges waarin die herdermetafoor verder ontvou word voort nie, maar dit geld waarskynlik as opskrif en samevatting van die sentrale tema van die hele psalm (vgl Miller 1986:113; Mittmann 1980:7; Schuman 2002:32). Dit word in die vorm van ’n belydenis aangebied (Van Uchelen 1971:160; Seybold 1996:101). Die oorvloed wat die herder bied (v 1) word uitgewerk in Jahwe se herderskap (v 2-4). In vers 5-6 word die uitspraak “ek kom niks kort nie” uitgewerk (Schuman 2002:32). Die feit dat die Naam Jahwe in hierdie nominale sinskonstruksie, Jahwe is my herder, voorop staan, plaas klem op die subjek, naamlik Jahwe. In die fyn gekomponeerde psalm staan Jahwe nie net aan die begin van die psalm nie, maar ook aan die einde van die psalm (v 6b). Hierdie Godsnaam wat twee keer in die psalm voorkom, vorm dus ’n omraming van die psalm (O’Conner 1984:229; Spieckermann 1989:274). Die inclusio (omraming) word verder versterk deur die alliterasie- patroon van “ek kom niks kort nie” (v 1b) en “en ek sal tuis wees” (v 6b); asook die eerstepersoon- werkwoordvorme “ek kom niks kort nie” (v 1b) en “ek sal tuis wees” (v 6b) (Prinsloo 1991:34).

Die herdermetafoor brei uit na die frase “ek kom niks kort nie”, wat die segging “die Here is my herder” toelig. In die eerste strofe word verder beskryf wat die digter nie sal kortkom nie, naamlik voedsel, veiligheid en ook vreugde (Prinsloo 1991;45; Schuman 2002:46). In vers 2a-3b kom die netwerk van die herdermetafoor duidelik aan die lig.

In die semiwoestyngebied van Palestina is die “groen weivelde” en “waters” skaars. Eintlik is daar net sprake van ’n kolletjie groen gras by ’n fontein. In sulke omstandighede is die kudde van ’n goeie herder afhanklik. Hy is immers vertroud met “groen weivelde” en “waters” waarheen hy sy kudde lei sodat hulle gedurende die warm middaguur daar kan rus (Zenger 1993:153-154); hy lei sy kudde op die regte paaie sodat hulle nie afdwaal of verdwaal nie. Deur die uitdrukking “groen weivelde” en “waters waar daar vrede is” word die oorvloedigheid van die herder se versorging beskryf (Miller 1986:114). In die lig van die konteks en binne die raamwerk van die herdermetafoor impliseer die uitdrukking in vers 3a dat Jahwe “nuwe krag” gee wanneer die digter lewensmoeg is en hom net met moeite kan voortsleep.

In vers 3b word dit duidelik dat die Herder die digter op “die regte paaie” lei sodat hy sy bestemming kan bereik. Die implikasie is dat daar verkeerde paaie of gevaarlike paaie is waarop die digter hom sou kon bevind (Seybold 1996:102). Die herder ken egter die regte paaie en lei sy kudde op dié paaie. Tussen die berge van Juda is daar diep, gevaarlike en donker klowe met baie grotte wat dikwels aan rowers en roofdiere skuilplek gegee het. Die digter gebruik hierdie beeld om aan te toon dat Jahwe, die Herder, ook in “’n dal van donker diepte”, in die grootste gevare, by sy “kudde” is (Schuman 2002:47).

Jahwe lei die digter op “die regte paaie”. Hiermee word nie die regverdige dade van die digter bedoel nie (só Van Uchelen 1971:160). Dit gaan om ’n gelukkige en beskermde wandel onder Jahwe se lewensorg en heilsorg (vgl Schuman 2002:47). Dié paaie lei die digter nie op ’n dwaalspoor en na ongeluk nie, maar na die volheid van die heil (Zenger 1993:154). Jahwe lei die digter op die regte paaie “tot die eer van sy Naam”. Jahwe se Naam staan hier vir geregtigheid en waarheid (Eksodus 34:6 ev) (Seybold 1996:102).

In die struktuur van Psalm 23 is vers 4b die skarnier. Hierdie posisie van vers 4b word bevestig deurdat dit presies die middelste van die nege stiges van die psalm is (Prinsloo 1991;37; Schuman 2002:31, 47). Vers 4b bevestig wat in vers 4a gesê is en gryp ook vooruit na die res van die psalm. Die eerste deel van hierdie versreël is ’n vertrouensuitspraak dat Jahwe teenwoordig is. Sy persoonlike teenwoordigheid word beklemtoon deurdat Hy direk in die tweede persoon aangespreek word én deur die persoonlike voornaamwoord “U” voorop in die sinskonstruksie te stel (Prinsloo 1991:46). Die uitdrukking “U is by my” sluit aan by die vadertradisie (Gen 28:20; 31:5) waarin daar op die teenwoordigheid van die Here gereken word (Seybold 1996:102).

Die tweede deel van vers 4b toon aan dat die teenwoordigheid van Jahwe ook ’n beskermende teenwoordigheid is. Daar is uiteenlopende standpunte oor wat met die uitdrukking “u stok” en “u staf” bedoel word. Volgens Prinsloo (1991:47) is dié twee woorde ’n woordpaar wat in hierdie konteks dieselfde betekenis het en wat in digterlike spreekwyse saam geplaas is. Op dié manier word die omvattende beskerming van Jahwe geteken. Die “stok” en die “staf” is hier as ‘t ware die verlengstuk van Jahwe se handeling. Hiermee word Jahwe se teenwoordigheid beskryf. Op die voetspoor van Seybold (1996:102), Zenger (1997:229) en Schuman (2002:47) sien ek egter die “stok” as ’n wapen wat die herder gebruik het om sy skape teen gevaarlike diere te beskerm. Die “staf” is gebruik om op te leun en om sy skape nader te trek en te lei (vgl ook Van Uchelen 1971; Jüngling 1998:801; Schuman 2002:47).

In vers 5a en 5b word die gedagte van die vorige verse voortgesit. Die verbinding van die herder- en die gasheermetafoor vind ons ook met die oog op die woestyntog in Eksodus in Psalm 78:19 en die daaropvolgende verse en in 78:52 en die daaropvolgende verse (en selfs in Egiptiese tekste oor die songod as die “goeie herder” van mense; Zenger 1993:155; Schuman 2002:42, 48). Vers 5a en 5b is met mekaar verbind: Albei verse beskryf die handeling van Jahwe deur middel van tweedepersoon-werkwoordvorme. Die sintaktiese struktuur van albei versreëls is ook dieselfde, naamlik werkwoord plus bywoordelike frase (Prinsloo 1991:37). Vers 5b spel duideliker uit wat vers 5a vir die digter inhou. Hier val die aandag egter op Jahwe as gasheer (Van der Ploeg 1974:163; Zenger 1993:155). Jahwe is in dié vers die subjek van die werkwoorde. Hierdeur word die klem op Jahwe se handelinge gelê (Prinsloo 1991:47). Die uitdrukking “Jahwe berei die tafel” wys nie op die voorbereiding van die tafel nie, maar ook op die feit dat Jahwe aan die digter gasvryheid gee. Die maaltyd druk beskerming van Jahwe uit (Prinsloo 1991:47; Zenger 1993:155). Jahwe berei die maaltyd “teenoor my teëstanders” wat net magteloos toekyk (Schuman 2002:48-49). Hierdeur kom die spanning wat in vers 4a reeds na vore getree het weer aan die lig. Dit is duidelik dat die digter in die een of ander gevaar verkeer het. Juis daarom het hy ’n behoefte aan Jahwe se beskutting en “herderskap” (Prinsloo 1991:47). Vers 5b teken die negatiewe optrede van Jahwe teenoor die vyande terwyl vers 5b die positiewe, welwillende houding van Jahwe teenoor die digter beskryf (Prinsloo 1991:37). In vers 5b staan daar letterlik: “Hy maak my hoof vet met olie.” Die salwing met olie deur die gasheer by die begin van die maaltyd is ’n besondere verering (Zenger 1993:155; Schuman 2002:48). Dit beteken dat geen gevaar Jahwe kan verhinder om sy oorvloedige seën aan sy gas te gee nie (Prinsloo 1991:47). Olie is ook ’n beeld van vreugde en oorvloed (Van Uchelen 1971:161). Selfs in die skadu van die vyand is daar vreugde as Jahwe die gasheer is. In die slot van vers 5b reik die gedagte na ’n hoogtepunt: “my beker loop oor”. Wyn is ’n beeld van oorvloed en vreugde. As die beker oorloop, is die vreugde en oorvloed onbeperk.

Die derde strofe (v 6ab) vorm die klimaks van die psalm. Hier word by die vorige versreëls aangesluit. In vers 6ab is Jahwe, in teenstelling met die voorafgaande versreëls, nie meer die subjek nie. Daar word ook nie meer direk tot Jahwe gepraat soos in vers 4b-5b nie, maar daar word in die derdepersoon oor Hom (v 6b) gepraat (Prinsloo 1991:38). Die partikel waarmee vers 6a ingelei word, kan met “inderdaad” of “ja” vertaal word. Hiermee word benadruk dat hierdie laaste strofe alles bevestig wat in die voorafgaande strofes gesê is (Prinsloo 1991:38). Vers 6a en 6b eindig albei met sinonieme adverbiale bysinne waarin daar ’n tydsaanduiding gegee word om die gedagte van Jahwe se blywende beskerming te onderstreep (Prinsloo 1991:38). In vers 6a kry ons die woordpaar “goedheid en liefde”. Dit sal die digter letterlik “agtervolg”. Die werkwoord “agtervolg” word gewoonlik in negatiewe sin gebruik. Dit dui op die vyande wat iemand agtervolg. In vers 6a is die agtervolgers egter nie die vyand nie, maar “goedheid en guns” (Prinsloo 1991:47). Hierdie woordpaar wys op die konkrete goedheid en liefde van Jahwe. Sy beskerming word belig (Prinsloo 1991:38).

Die slot van vers 6a sowel as die einde van vers 6b dui aan dat die liefde en beskerming van Jahwe blywend is. Vers 6b sluit by die vorige versreël aan. Die digter sal na die “huis van die Here” terugkeer (Schuman 2002:27-28, 49; vgl ook Seybold 1996:102). Die uitdrukking “huis van die Here” is ’n tegniese term wat die tempel aandui. Dit beteken egter nie noodwendig dat die digter ’n priester of ’n Leviet was of dat hy letterlik in die tempel gebly het nie (Prinsloo 1991:48). Hier gaan dit om die innige en voortdurende gemeenskap en blywende belewing van Jahwe se teenwoordigheid, beskerming en tafelgemeenskap (Zenger 1993:156). Miskien verwys die formulering “tot in lengte van dae” selfs bo die dood uit (Zenger 1993:156). Hiermee vat die strofe die inhoud van die hele psalm saam en word daar ook terugverwys na die begin van die psalm waar Jahwe as die herder beskryf is (Prinsloo 1991:48).

5. TT CLOETE SE OMDIGTING VAN PSALM 23

My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie.

Daar waar dit groen in oorvloed is, daar mag ek wei.

Hy sorg vir my, laat my nooit in die steek nie.

Na waters van die rus word ek deur Hom gelei.

Hy lei my altyd op die regte weë

ter wille van sy Naam volg ek gedweë.

Ek sal die dood se donker dal nie vrees nie.

Ek moet daar deurgaan, maar ek weet U is by my.

Alleen en sonder U sal ek nooit wees nie

en in u hande sal ek altyd veilig bly.

Geen duisternis vrees ek en ook geen kwaad nie

want u vertroosting sal my nooit verlaat nie.

Totdat dit oorloop, Heer, vul U my beker.

’n Feesmaal word vir my as eregas berei.

Van gasvryheid word ek deur U verseker.

U salf my hoof, u tafel is oorlaai vir my.

Ek bly by U, Heer, in u huis van voorspoed

en lewenslank deel ek daar in u oorvloed.

6. ’N LITERÊRE EN TEOLOGIESE BEOORDELING

Die grondteks beslaan vier strofes, naamlik vers 1b-3, 4, 5 en 6. Die Cloete-omdigting daarenteen bestryk drie strofes. Die derde en vierde strofe van die Hebreeuse gedig word in die Cloete- omdigting in een strofe omgedig. Cloete se driedeling doen egter geensins afbreuk aan die grondteks nie. Die rympatroon ababcc word deurgaans gevolg. Op literêre vlak is die Cloete- omdigting van hoë gehalte.

In strofe een van die Cloete-teks kom die belydenisaard van “die Here is my herder” nie sterk genoeg na vore nie. In die grondteks dien hierdie uitspraak ook as opskrif en samevatting van die psalm. Die verdere verloop van die Cloete-teks is getrou aan die grondteks en laat daaraan reg geskied.

In die Hebreeuse gedig is vers 4b die hartklop van die gedig: “U is by my.” Die sorg en beskerming word deur die “stok” en die “staf” uitgedruk. Die “stok” het gedien om die kudde te beskerm, terwyl die “staf” gebruik is om op te leun en die kudde te lei. Die Cloete-teks verklaar op die voetspoor van die Prinsloo-eksegese: “in u hande is ek veilig”. Die betekenisrykdom van die “stok” en die “staf” kom sodoende nie ten volle tot sy reg nie.

In die derde strofe slaag Cloete uitmuntend daarin om die gasheermetafoor poëties te verwoord. Die rojale ontvangs en gasvryheid sluit alle vyande uit (Schuman 2002:143). Die voorspoed en oorvloed kom duidelik aan die lig. Deur hierdie twee begrippe aan die einde van die twee laaste versreëls te plaas slaag Cloete voortreflik daarin om juis hierop te fokus. In die Hebreeuse teks word daar in vers 6ab oor die Here gepraat. Deur dit só te doen word dit wat in die voorafgaande versreëls gesê is, bevestig. By Cloete word daar egter met die Here gepraat.

Schuman (2002:143) wys op die duidelike klimaks in die Cloete-omdigting. Die mens uit die rustige begin van strofe een gaan in die tweede strofe twee maal deur die diepte en ervaar daar twee maal die Here se nabyheid, om dan in die derde strofe ’n gas te wees, selfs ’n eregas, by die Here. Oorspronklik is veral die dubbele gang deur die donker wat lei tot die driedubbele geloofsvertroue: “Alleen en sonder U sal ek nooit wees nie en in u hande sal ek altyd veilig bly.” Schuman (2002:143) wys op sy vermoede dat die laaste segging ’n sinspeling op Psalm 31:6 is, waar die vlugteling sê: In u hande gee ek my lewe oor.

As geheel laat die Cloete-teks die Hebreeuse teks literêr en poëties op ’n uitnemende wyse tot sy reg kom.

7. ’N SLOTNOOT

Die vraag of die Cloete-omdigting reg laat geskied aan die grondpsalm kan slegs beantwoord word indien die struktuur en uitleg van die grondpsalm in ag geneem is. In hierdie artikel is hieraan aandag gegee. Ná ’n analise van die Cloete-omdigting kom dit aan die lig dat, ten spyte van enkele kritiese note, die hoë literêre waarde van dié omdigting vasstaan. Die Cloete-teks is mondvars en verstaanbaar. Hiermee word ’n liedteks gebied wat die himnologiese skat verryk en die gemeente help om haar geloof te verstaan en te ervaar.

BIBLIOGRAFIE

Carstens, JC, Strydom, WMI & Troskie, AJJ (reds) 2001. Liedboek van die Kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Hossfeld, FL & Zenger, E 1993b. Die Psalmen I, Psalm 1-50. Würzburg: Echter Verlag.

Jüngling, HW 1981. Ein Playdoyer für das Koningtum: stilistische Analyse der Tendenzerzahlung Ri 19.1-30a; 21,25. Rome: Biblical Institute.

Jüngling, HW 1988. The International Bible Commentary. Minnesota: Liturgical Press.

Miller, PD 1986. Interpreting the psalms. Philadelphia: Fortress Press.

Mittmann, S 1980. Aufbau und Einheit des Danklieds Psalm 23, in ZThK 77, 1-23.

O’Connor, C 1984. The structure of Psalm 23, in LS 10/3, 206-230.

Prinsloo, WS 1991. Die Psalms leef! Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Ricoeur, P 1977. The role of Metaphor. Multi-disciplinary studies of the creation of meaning in language. Londen: Routledge.

Schuman, N 2002. Pastorale. Psalm 23 in bijbel en liturgie verwoord en uitgebeeld. Zoetermeer: Meinema.

Spieckerman, H 1989. Heilsgegenwart. Eine Theologie der Psalmen. Göttingen: Van den hoeck & Ruprecht.

Seybold, K 1996. Die Psalmen. Tübingen: JCB Mohr.

Van der Ploeg, JPM 1974. Psalmen II (Psalm 76-150). Roermond: Romen & Zonen.

Van Uchelen, NA 1971. Psalmen I. Callenbach: Nijkerk.

Zenger, E 1997. Die nacht wird leuchten wie der Tag. Psalmauslegungen. Akzente: Herder