Plaatjies Van Huffel, Mary-Anne
Universiteit Stellenbosch

Die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1881-1915)

Abctract

The church polity and church governance of the Dutch Reformed Mission

(1881-1915)

One can discern five church polity principles in this article to adjudicate the church polity and church governance of the Dutch Reformed Mission Church (DRMC):

1. The autonomy of the local church,

2. The character of the denominational ties,

3. The character of the power of the major assemblies,

4. The power to discipline church officials,

5. The right to appeal with regarding to the decisions of the major assemblies,

This article deals cursorily with the church polity development of the Dutch Reformed Mission Church (1881-1915). The foundational grounds and main notions on Doleantie Church polity are being drawn upon in this article. The Doleantie did not try to develop a new church polity system, but is rather a regression to a system of church polity as enacted by the National Synod of Dordrecht (1618-1619). The Doleantie church polity (oud kerkrecht) impacted the church polity and the church governance of the DRMC.

INLEIDING

Vyf kerkregtelike beginsels word in die artikel onderskei vir die beoordeling van die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) te wete:

1. Die selfstandigheid van die plaaslike kerk,

2. Die karakter van die kerkverband,

3. Die karakter van die gesag van die meerdere vergadering,

4. Die tugreg ten opsigte van ampsdraers,

5. Die appèlreg ten opsigte van besluite van die meerdere vergadering.

Die artikel handel kursories oor die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1891-1915). In dié artikel word die grondslae en uitgangspunte van die Doleansiekerkreg aangeteken. Die Doleansie beoog nie om ’n nuwe kerkreg te ontwikkel nie, maar gryp terug na die sisteem van kerkregering soos vasgestel deur die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619). Die Doleansiekerkreg (oud kerckrecht) het die kerkreg en kerkregering van die NGSK onmiskenbaar beïnvloed.

DOLEANSIEKERKREG

Die ontwikkeling van die kerkreg in die NGSK kan nie losgemaak word van die kerkhistoriese ontwikkelings in Nederland asook in Suid-Afrika nie. Vanaf 1881 was ’n verbondenheid aan die Nederlandse kerkreg kenmerkend van die NGSK. Vele raak vlakke met die Doleansiekerkreg en/of die gepaardgaande kerkregtelike diskoers die afgelope eeu, kan in die kerkregtelike ontwikkeling van die NGSK onderskei word. Drr A Kuyper en FL Rutgers asook AF de Savornin Lohman word beskou as die hoofeksponente van die Doleansie in Amsterdam. Voor tydens en na die Doleansie is ’n reeks konsepte deur Kuyper en Rutgers ontwikkel wat bekend sou staan as die Doleansiekerkreg. Die Dolererendes onder leiding van Kuyper en Rutgers herinterpreteer die Dordtse Kerkorde van 1619 met name op die punt van die selfstandigheid van die plaaslike kerk. Hierdie herinterpretasie en die proses van heroriëntasie word die Doleansiekerkreg genoem (Van den Broeke 2005:208).

Die Doleansie was uiteraard ’n stryd teen sinodokrasie. Reeds vóór die Doleansie was kerkregtelike beginsels geformuleer en uitgedra, wat voor oë gehou was by die afwerping van die sinodale juk en wat in die daaropvolgende tyd kragtig gehandhaaf sou word. Onder andere sluit die beginsels die selfstandigheid van die plaaslike kerk, die konfederatiewe karakter van die kerkverband en die prinsipiële onderskeid tussen die Kerkraad en die meerdere vergaderinge in. Die Doleansiekerkreg bring nie iets nuuts in vergeleke met die 16de eeu en of die 17de eeu na vore nie, maar dui eerder ’n terugkeer na ou gereformeerde beginsels: “Niets nieuws. Re-formatie, wederkeer, terugkeer tot de oude gereformeerde beginselen” (Deddens 1992a:57). Die kerkregtelike standpunt van die Doleansie was dat die Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederlandsche Hervormde Kerk in het Koningrijk (1816) die teendeel is van wat ’n Gereformeerde kerkinrigting behoort te wees. Die hoogste wetgewende, regsprekende en besturende mag word in artikel 61 van die Algemeen Reglement (1816) aan die Sinode toegeken: “met name het feit dat aan de synode ‘de hoogste wetgevende, rechtsprekende en besturende macht’ werd toegekend” (Bakker 1986a:134). Kuyper beklemtoon daarteenoor dat die hoogste kerklike regsbevoegdheid by die plaaslike kerk lê. FL Rutgers en AF de Savornin Lohman bou later met hul (kerk) juridiese vakkennis voort op Kuyper se aannames met betrekking tot die selfstandigheid van die plaaslike kerk.

Die Doleansiekerkreg staan teenoor die hiërargiese sinodale kerkregeringstelsel en leervryheid (Deddens 1986:57-58). die artikel word dié fases bespreek met verwysing na bovermelde kerkregbeginsels van die Doleansie (oud kerkrecht). Die term oud kerkrecht verwys na die stellingname wat deur drr A Kuyper en FL Rutgers ontwikkel was voor, tydens en na die Doleansie. Dit staan ook bekend as Doleansiekerkreg. Die Doleansie beoog geensins om ’n nuwe kerkreg te presenteer nie, maar gryp doelbewus terug na die sisteem van kerkregering, wat sy klassieke uitdrukking vind in die kerkorde, wat deur die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618-1619 vasgestel was (Golverdingen 2001:Hoofstuk 6.1).

ONDERGESKIKTHEID AAN DIE NGK (1881-1915)

Drie fases kan in die NGSK se strewe na kerkregtelike selfverwesenliking onderskei word, naamlik Ondergeskiktheid aan die NGK (1881-1915), Beperkte outonomie onder die Grondwet (1915-1956) en Kerkregtelike selfverwesenliking (1956-1982). Ds DP Botha (1981:158-164) onderskei in CJ Kriel se Die Eerste Eeu drie fases in die kerkregtelike ontwikkeling van die NGSK te wete die tydperk van volkome ondergeskiktheid aan die Nederduitse gereformeerde Kerk (1881-1916), die tydperk van beperkte outonomie onder die Grondwet (1915-1958) en die tydperk van groei van Grondwet tot Akte van Ooreenkoms (1958-1975).

Op Maandag 22 November 1880 het die Sinode van die NGK die Konstitusie vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika goedgekeur (Acta NGK 1880:72). Die Konstitusie verskyn as art 217 tot art 226 in die Kerkwet NGK (1881 (Kriel 1981:158). Die Sinode van die NGK (1880) het aan die Binnelandse Sendingkommissie (=BSK) opdrag gegee om die heel eerste Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika, later bekend as Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) byeen te roep (Kriel 1963:71). Kennisgewings met betrekking tot die eerste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika het in ses agtereenvolgende uitgawes van De Christen vanaf 5 Augustus 1881 tot 10 Augustus 1881 verskyn (Loff 1981:24). Die stigtingsvergadering is deur die Binnelandse Sendingkommissie vir 5 Oktober 1881, op Wellington belê. Die hooflyne van die agenda van die Stigtingsinode was deur die NGK bepaal. Die Konstitusie was vooraf aan die gemeentes en/of werkkringe gesirkuleer en hulle is sodoende in kennis gestel van die besluit van die NGK om ’n stigtingsvergadering byeen te roep. Die BSK het die gemeentes en/of werkkringe wat deur die NGK gestig is, of met die NGK in verband staan, versoek om kragtens art 221.2 van die Konstitusie afgevaardigdes na die Stigtingsinode te stuur

Die Sinode van die NGK (1880) het drie kwalifikasies vir die afvaardiging na die eerste Sinode van die sendinggemeentes bepaal:

• daar moet ’n wettige Kerkraad bestaan,

• die Kerkraad moet ten minste ’n derde van die sendeling se salaris betaal,

• die eiendom moes volgens art 221.2. (c) op óf die NGK óf op die sendinggemeente se naam getransporteer wees (Acta NGK 1880 art V bylae De Sending in De Christen 24 September 1880:8 asook Kerkwet NGK 1881 Hoofstuk 1:87).

Met die twee stoflike voorvereistes (art 221.2 (b) en (c)) word ’n afwyking van die Gereformeerde Kerkreg gevind waarvolgens sittingsreg op meerdere vergaderinge aan ampsdraers van die plaaslike gemeentes op grond van geloofsbriewe verleen is ongeag die finansiële vermoëns van die betrokke kerklike vergaderings.

Na die openingsrede, deur ds JH Neethling, sekretaris van die Binnelandse Sendingkommissie, op 5 Oktober 1881 is die eerste Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika Sinode, as gekonstitueer verklaar (Acta NGSK 1881:6). Slegs 4 gemeentes uit ’n moontlike sestig gemeentes het egter hierdie Stigtingssinode bygewoon (Kriel 1981:29-30). Elke gemeente is op grond van bovermelde vereistes op die Stigtingsinode getoets (Acta NGSK 1881:7). Eerwaarde Johann Kretzen (George), eerwaarde Dirk Jan Hendrik Ruytenbeek en ouderling Andries Overmeyer (Wynberg), eerwaarde Johannes Petrus Rossouw (Zuurbraak), eerwaarde Jacobus Cornelis Pauw en ouderling Jan Joeli (Wellington) is deur hul onderskeie gemeentes na die Stigtingsinode afgevaardig. Die sekretaris van die Binnelandse Sendingkommissie, ds JH Neethling, het deurgegee dat gemeentes, wat met die NGK in verband gestaan het en wat nie afgevaardigdes na die stigtingsvergadering gestuur het nie, te wete Beaufort-Wes, Elandskloof, Middelburg en Ceres, voortaan onder die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika sou resorteer. Daarteenoor sou Murraysburg, Graaf-Reinet, Victoria-Wes, Richmond uitgenooi word om deel te word van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (Acta NGSK 1881:6-7). Ds JH Neethling het daarop gewys dat op grond van art 221 en art 219 die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk wel gemeentes buite die NGK kon opneem (Acta NGSK 1881:7).

Eerwaarde Dirk Jan Hendrik Ruytenbeek is as eerste moderator van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika gekies (Acta NGSK 1881:6). Hy het die Konstitusie voorgelees en verduidelik (Acta NGSK 1881:6). Eerwaarde Johan Kretzen is as assessor en eerwaarde Johannes Cornelis Pauw is tot scriba sinodi, actuarius en penningmeester gekies (Acta NGSK 1881:6).

Die bepalinge van die NGK se Wetboek was in sodanige gevalle waarvoor die Konstitusie nie voorsiening maak nie, van toepassing in die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (Kriel 1981:33). Byvoorbeeld daar is geen bepaling in die Konstitusie met betrekking tot die byhou van doop- en lidmaatregisters nie. Tog was elke gemeente van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika verplig om genoemde registers by te hou en afskrifte van registers by die Sinode van die NGK in te dien. Die bewaring van die dokumente was die verantwoordelikheid van die NGK.

Op die Stigtingsinode het die selfstandigheid van die gestigte Sendingkerk ter sprake gekom, toe eerwaarde Paulus Teske, sendeling van Beaufort-Wes, beswaar aangeteken het teen die stigting en organisasie van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (Acta NGSK 1881:9-12). Paulus Teske het op 26 September 1861, saam met eerwaarde Jacobus Cornelius Pauw, uit Nederland in Tafelbaai aangekom het. Hy was gedurende 1862 in die werkkring in Beaufort -Wes deur ds Krige van die NGK Prins Albert georden. Hy was veral deur die Afscheiding en die kerkregtelike stryd in Nederland beïnvloed. Hy was assessor van die 2de, 3de en die 4de sinodes van die NGSK. Hy sterf 1897 (Joubert 1932:230). Hy het die regsgeldigheid van art 226 bevraagteken wat aan die Sinodale Binnelandse Sendingkommissie vetoreg ten opsigte van alle wette en bepalings wat deur die Sendingkerk gemaak mag word, verleen het (Acta 1881:9-12 asook Kriel 1981:31). Hy het van die veronderstelling uitgegaan dat die oorspronklike gesag by die plaaslike gemeente lê en dat die meerdere vergadering slegs afgeleide gesag het. Teske se beswaar teen die daarstelling van ’n aparte sendingkerk op grond van die aanvaarde Konstitusie was vanaf Woensdag 5 Oktober tot Vrydag 7 Oktober 1881 bespreek (Acta NGSK 1881:9-12). Hy het op Vrydag 7 Oktober 1881 voorgestel dat die vergadering die Binnelandse Sendingkommissie (=BSK) versoek om by die NGK se eerskomende Sinode ’n beskrywingspunt met betrekking tot die wysiging van art 226 in te dien. Indien die BSK dit egter nie wou doen nie, het hy aanbeveel dat die vergadering sodanige beskrywingspunt by die eersvolgende Sinode van die NGK moes indien (Acta NGSK 1881:10-11). Teske het ook voorgestel dat die vergadering uitgestel moes word tot na die Sinode van die NGK (Acta NGSK 1881:10-11).

Die ouderling van Beaufort-Wes, Damon Titus, het Teske se voorstel gesekondeer (Acta NGSK 1881:12). Die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1881) het Paulus Teske se voorstel verwerp en het daarmee die konstitusionele riglyne, soos vasgelê deur die NGK, aanvaar. Paulus Teske was nie bereid om deel van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk te word nie, aangesien hy van mening was dat die NGSK ’n onsuiwere kerkbegrip huldig. Hy het gevolglik kennis gegee dat Beaufort-Wes nie lid van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika kan word nie, maar dat hy graag, soos in die verlede, direk onder die BSK sou wou funksioneer: “Geeft kennis dat hy de Vergadering verlaat en van deze Zendingkerk geen lid kan zijn en dat hy als voorheen met zijne gemeente onder die H.E. Zending Commissie blijft” (Acta NGSK 1881:12).

Teenoor die besluit van die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1881) het Paulus Teske sy eie geworteldheid in die Gereformeerde Kerkreg en kerkregering beklemtoon. Paulus Teske gaan van die veronderstelling uit dat ’n Sinode die regsbevoegdheid behoort te hê om besluite te kan verander en dat sodanige bevoegdheid nie aan ’n subkommissie van ’n ander kerk gesekondeer kan word nie. Op aanbeveling van die scriba, eerwaarde Cornelius Pauw, het die Sinode eenparig besluit dat hulle aan Paulus Teske en Damon Titus adviserende stemme sou verleen. Teske en Titus het met adviserende stem die res van sittings bygewoon (Acta NGSK 1881:12).

1. SELFSTANDIGHEID VAN DIE PLAASLIKE GEMEENTE

Paulus Teske is van mening dat die art 226 afwyk van ’n suiwer kerkbegrip en dat dit gevolglik die selfstandigheid van die NGSK in gedrang bring (Acta NGSK 1881:10). Volgens Teske behoort ’n kerk vry en onafhanklik te wees. Hy is van mening dat die artikel wantroue by die sogenaamde gekleurde bevolking tot gevolg kan hê en dat dit uiteindelik tot gevolg kan het dat ander gemeentes wat hul by die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk sou wou aansluit, daardeur afgeskrik kon word (Acta NGSK 1881:10).

Op die stigtingsvergadering is die Konstitusie aanvaar wat onder andere die selfstandigheid van die plaaslike gemeente as een van die grondbeginsels van die Doleansiekerkreg in gedrang gebring het. Die regerende mag hoort volgens art 226 tuis by die BSK deurdat die NGK en hul subkommissie besluite van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk kon veto. Al die besluite van die NGSK sou onderworpe wees aan die goedkeuring van die NGK (Smith 1972:40). Daarteenoor staan die outonomiteit en/of selfstandigheid van die plaaslike gemeente vir Teske sentraal. Paulus Teske pleit dat die selfstandigheid van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk erken en eerbiedig sal word. Hy beskou die art 226 as in stryd met ’n gereformeerde kerkbegrip. Teske het op die Stigtingsinode gevra of die Sinodale Binnelandse Sendingkommissie (SBSK) nie afgeskaf kon word nie. Ds Botha, lid van die Sinodale Binnelandse Sendingkommissie het daarop geantwoord dat dit nie gedoen kan word nie, omrede art 221 waardeur die reg van sitting en stemreg aan die lede van die Sinodale Binnelandse Sendingkommissie op die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk verleen word, slegs deur die NGK self op hul eersvolgende Sinode verander kon word (Acta NGSK 1891:2).

2. DIE KARAKTER VAN DIE KERKVERBAND

Op die Stigtingsinode van die NGSK 1881 het die vier gemeentes: George, Wynberg, Zuurbraak, Wellington, gesamentlik ’n eenheid, ’n kerkverband gevorm. Die gemeentes is in lyn met art 220 van die Konstitusie in twee Ringe, naamlik ’n Oostelike Ring en Westelike Ring verdeel (Acta NGSK 1881). Met kerkverband word ’n eenheid in kerkregtelike sin veronderstel. Die kerkverband in die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk was ’n konfederasie van selfstandige plaaslike gemeentes en/of werkkringe wat vrywillig tot die verband toegetree het. Die plaaslike gemeentes en/of werkkringe het die reg gehad om tot die kerkverband toe te tree en/of uit te tree. Elke gemeente wat tot die kerkverband toetree, moes volgens art 221 oor ’n Kerkraad beskik wat die gemeente op die meerdere vergaderinge verteenwoordig en die gemeente plaaslik bestuur. Na die Stigtingsinode het Graaff-Reinet, Aberdeen en Middelburg by die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk aangesluit (Kriel 1963:83-84).

Paulus Teske is van mening dat ’n kerk tot stand kom deur middel van ’n aantal gelowiges wat onderling met mekaar in verband tree. Teske kon appelleer teen die besluit van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika Sinode van 1881, maar hy het verkies om hom by die besluit te berus en sluit op die tweede Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika Sinode 1891 met sy gemeente, Beaufort-Wes, by die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika aan (Kriel 1981:35). Teske het sedert 1891 onverpoos gepoog om die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk kerkregtelik van binne te verander. Op sy vraag op die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1891) of sy toetrede tot die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk ’n invloed sou hê op die verhouding waartoe sy gemeente met die Ringsendingkommissie staan, het die sekretaris van die Binnelandse Sendingkommissie, ds Botha, ontkennend geantwoord (Acta NGSK 1891:2). Op voorstel van ds W Murray, predikant van die NGK Worcester, en lid van die BSK het die Sinode besluit dat finansiële state wat die verskillende gemeentes jaarliks aan die BSK moes opstuur, voortaan deur die sekretaris van die kommissie van die Sinodale Vergadering van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk, aan die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk Sinode voorgelê moes word. Die gemeentes wat nie onder die toesig van die BSK gestaan het nie, moes hul finansiële state direk aan die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk stuur (Acta NGSK 1891:5).

Geen Ringsvergadering het sedert die Stigtingsinode (1881) plaasgevind nie. In hoofsaak het die Sinode van Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1891) in sy werksaamhede as Ring gefungeer (Kriel 1981:39). Op dié Sinode, met twaalf sendelinge en tien ouderlinge van onderskeidelik sestien gemeentes as afgevaardigdes, was Teske as assessor gekies. Dié posisie het hy tot 1896 beklee. Eerw. C J Pauw is op dié Sinode as moderator gekies. Teske het op die Sinode voorgestel dat die Sinode ’n kommissie benoem om ’n eie kerkorde vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk op te stel (Acta NGSK 1891:4). Die voorstel was aanvaar en ’n kommissie, bestaande uit die moderatuur en lede van die Binnelandse Sendingkommissie, naamlik di Botha van NGK Philadelphia en De Wet van NGK Villiersdorp, was aangewys (Kriel 1963:107).

Die drang na kerkregtelike selfverwesenliking was volgens Kriel deurgaans aanwesig (1981:160). Teske het van die veronderstelling uitgegaan dat die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk ’n selfstandige kerkregtelike posisie behoort te hê daarom sy voorstel vir ’n eie kerkorde vir die sendinggemeentes wat met mekaar in verband gestaan het. Hy het ’n onderskeid gemaak tussen die selfstandigheid van ’n kerk en beheer van buite. Die wetgewende mag van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk was volgens die Konstitusie gesetel in die NGK. Teske was van mening dat die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk nie ’n ondergeskikte posisie behoort te hê nie (Kriel 1981:39).

Op 7 Julie 1892, agtien maande na die tweede Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk, het die derde sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika te Kimberley plaasgevind (Kriel 1981:36). Eerww C J Pauw is as moderator en Paulus Teske is as assessor herkies (Acta NGSK 1892:12-13). Op dié Sinode is daar oorgegaan tot die herverdeling van die gemeentes in twee Ringe naamlik die Westelike Ring (Wellington, Wynberg, Zuurbraak, Malmesbury, Ceres, Elandskloof, Kaapstad, Riebeeck-Kasteel en Montagu) en die Middellandse Ring (George, Beaufort-Wes, Middelburg, Graaff-Reinet, Beaconsfield, Kimberley en Richmond) (Acta NGSK 1892:20). Al bovermelde gemeentes was op dié Sinode verteenwoordig. Ds P Teske is as voorsitter en ds A Weich is as scriba van die Middellandse Ring gekies, eerwaarde CJ Pauw is as voorsitter van die Westelike Ring gekies en eerw. B Pienaar as scriba (Acta NGSK 1892:22-23). Beide die Westelike Ring en die Oostelike Ring het op 11 Julie 1892 vir die eerste keer gekonstitueer (Kriel 1981:40). Op die derde Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (1892) het die kommissie vir die opstel van ’n vereenvoudigde wetboek, waarvan Paul Teske self ’n lid was, gerapporteer dat hul die opdrag nie uitgevoer het nie, aangesien hul van mening was dat die tyd vir ’n eie wetboek nog nie ryp was nie. Die Sinode het kennis geneem van die verslag van die kommissie (Acta NGSK 1892:15). Verder het die Sinode ook besluit dat artikels van die Wette en Bepalinge van die NGK deur die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk handhaaf moes word (Acta NGSK 1892:17). Op voorstel van eerw. Teske dat die Sinode die BSK sal versoek om te verklaar of hul die transport en dokumente van die Beaufort Wes behoorlik ondersoek het en as eiendom vir die NGK gewaarborg is, het die BSK instemmend geantwoord (Acta NGSK 1892:18)

Teske het, onder andere by die Stigtingsinode die voorwaarde dat die eiendom aan die NGK volgens Konstitusie getransporteer moes word, as kerkregtelik juis betwyfel (Kriel 1963:107). In 1892 het Teske die voorvereiste nagekom deurdat ook Beaufort-Wes se eiendom vir die NGK gewaarborg was.

Op 9 tot 11 September 1896 het die vierde Sinode Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk te Wellington plaasgevind. Eerwaarde AF Weich is op die Sinode as moderator gekies (Acta NGSK 1896:5). Twintig gemeentes was deur hul afgevaardigdes, 15 sendelinge en 17 ouderlinge, op die Sinode verteenwoordig (Kriel 1963:87). Teen 1908 was slegs 10 gemeentes, te wete, Wellington, Wynberg, Ceres, Malmesbury, Ebenezer (Kaapstad), Paarl, Oudtshoorn, Beaconsfield, Calvinia en Britstown finansieel selfstandig. Al die ander gemeentes, wat alreeds ’n eie leraar besit het, was met ’n jaarlikse toelaag, vanaf ₤20 tot ₤60, uit die Binnelandse Sendingkas ondersteun (Almanak 1908:27). Beaufort-Wes was dus een van die gemeentes wat afhanklik was van steun van die Binnelandse Sending. In samewerking met Binnelandse Sendingkommissie was in elke Ring ’n Ringsendingkommissie saamgestel wat binne die Ringsressort van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk die belange van die sending behartig het. Die finansies van die verskillende Ringe was deur die Binnelandse Sendingkommissie beheer (Almanak 1908:27). Op dié Sinode 1896 was geen beskrywingspunte met betrekking tot die daarstelling van ’n eie wetboek ingedien nie (Acta NGSK 1896:5-8). Eers op die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk-Sinode 1908 het die kwessie oor die daarstelling van ’n eie wetboek vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk weer aan die orde gekom. Eerwaarde S Weich, predikant van Malmesbury, het op die Sinode voorgestel dat die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk moes oorgaan tot die opstel van ’n eie wetboek vir die omstandighede en behoeftes van die binnelandse sendingkerk: “De synode neme in ooverweging of de tijd nu niet gekomen is, dat er een ekstrakt uit het wetboek gemaakt worde, met nodig geachte bijvoegingen, geschikt en toepasselik voor de tegenwoordige omstandigheden en behoeften der binnelandse zendingkerk (Acta NGSK 1908:11). Die voorstel van eerwaarde S Weich, was deur die Binnelandse Sendingsekretaris, ds J du Plessis, gesteun (Kriel 1981:160). Ds Du Plessis het gemeen dat daar ’n reglement vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk opgetrek kon word, mits dit nie indruis teen die wette en bepalinge van die NGK nie. Eerwaarde Weich het dit duidelik gestel dat dit nie sy bedoeling is om die Wetboek van die NGK oor boord te gooi nie, maar dat hy vir ’n ekstrak pleit vir soverre dit vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk nodig is (Acta NGSK 1908:11). Twyfel het op die Sinode bestaan of die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk hom van die wette en bepalinge van die NGK onttrek het (Kriel 1963:107). Die leraar van Wellington, eerw. J C Pauw, het gevra of die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk die reg het om hom te onttrek van die wette en bepalinge van die NGK. Daar was gevolglik op die Sinode ’n kommissie benoem, bestaande uit die moderatuur, CJ Pauw, H Dekker, ID Pienaar, asook die leraars van Malmesbury, eerwaarde S Weich, en Woodstock, eerwaarde JP De Villiers, asook ds J Du Plessis, sekretaris van die Binnelandse Sendingsubkommissie, om ’n konsep wetboek op te stel en aan die volgende Sinode van die NGK voor te lê vir bekragtiging (Acta NGSK 1908:11).

Op die Sinode van die NGK (1903) is die ou Binnelandse Sendingkommissie getermineer. Die Algemene Sinodale Sendingkommissie is op die Sinode in sub-kommissies verdeel. Die Binnelandse Sending-subkommissie het tot stand gekom wat verantwoordelik was vir uitbou van die NGSK. Die Binnelandse Sending-subkommissie het sitting op die Sinode van die NGSK gehad (Kriel 1981:41). Op die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1912) het ’n gedrukte vorm van die konsep wetboek gedien (Acta NGSK 1912:9). Dit het bekend gestaan as die Wetten en Bepalingen voor het bestuur van de Nederduitse Gereformeerde Zendingkerk in de Kaapprovinsie van Zuid-Afrika. Die Sinode het besluit om die behandeling van die konsep wetboek te staak, omdat slegs die NGK die bevoegdheid gehad het om kerklike bepalings vir die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk te ontwerp en/of te wysig (Kriel 1981:160 vergelyk ook art 226 van die Kerkwet van die NGK 1881). Die NGK was gevolglik deur die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (1912) versoek om ’n konsep wetboek te ontwerp (Acta NGSK 1912:10-11). Die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk se verandering van die konstitusie was afhanklik aan die ratifisering, bekragtiging en/of goedkeuring deur die NGK se Binnelandse Sending-subkommissie.

3. DIE KARAKTER VAN DIE GESAG VAN DIE MEERDERE VERGADERING

Die lede van die Binnelandse Sendingkommissie van die NGK het sittingsreg en stemreg op die Sinode van die NGSK gehad (vergelyk art 226 van die Konstitusie asook Kriel 1981:161). Op die meerdere vergadering van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk was die NGK verteenwoordig deur die Binnelandse Sendingkommissie. ’n Meerdere vergadering is egter volgens die Doleansiekerkreg ’n vergadering van kerke wat vrywillig in kerkverband met mekaar staan. Die Konstitusie van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk gaan nie van die primordiale reg van die plaaslike gemeente uit nie, aangesien groter mag aan die NGK se Binnelandse Sendingkommissie verleen is as die plaaslike gemeente.

4. DIE TUGREG TEN OPSIGTE VAN AMPSDRAERS

Reeds op die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk van Zuid-Afrika (1891) het Teske die vraag gevra in hoeverre die kerklike wette van die NGK vir die uitoefening van die kerklike tug vir die sendinggemeente bindend was. Die voorsitter, eerw. JC Pauw, het geantwoord dat volgens art 219 van die Konstitusie die bepalinge bindend is in soverre die omstandighede en behoeftes van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk toepaslik was (Acta NGSK 1891:5). Geen voorsiening vir afsetting van ouderlinge, diakens en sendelinge was in die Konstitusie gemaak nie. Die NGK het alreeds in 1824 ’n vierde amp ingestel, naamlik die amp van die sendeling. Die sendeling was iemand wat opleiding ontvang het om die evangelie aan die sogenaamde heidene te verkondig. ’n Reglement vir die ordening van sendelinge was in 1826 goedgekeur. Volgens prof CJ Kriel word reeds met art 221 en 222 van die Konstitusie van die Sendingkerk (1881) die dubbele lidmaatskap van sendelinge in die vooruitsig gestel (Skema NGSK 1978:70). Die sendelinge sou direk onder die opsig en tug van die NGK resorteer (Kriel 1981:160). Met betrekking tot die tugreg oor sendelinge is die selfbeskikking van die NGSK deur bogenoemde bepalinge aan bande gelê. Die NGSK moes met betrekking tot die tug van sendelinge handel ooreenkomstig die bepalinge van NGK (Kriel 1981:33).

Die kwessie van tugreg ten opsigte van die sendelinge het 1908 aan die orde kom. Die Middellandse Ring het die Sinode versoek om hul besluit te bekragtig insake die saak van die gewese leraar van Upington, JA Van Niekerk wat weens onsedelike gedrag afgeset was. Die Middellandse Ring het die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk-Sinode versoek om J A van Niekerk af te set van sy amp as leraar en sy status terug te trek, aangesien algehele afsetting alleen deur die Sinode kon geskied (Acta NGSK 1908:4). Die Sinode het eenparig besluit dat J A van Niekerk onbevoeg is vir die leraarsamp en het sy status ontneem: “De uitspraak van de Synode is, dat JA van Niekerk wegens het bedreven kwaad onbevoegd is tot het leraars ambt en hem mits deze zijn status ontneemt. Waardeur nu verstaan wordt, dat genoemde persoon ophoudt leraar te zijn” (Acta NGSK 1908:5).

Die Sinode van die NGK (1908) het die hele aangeleentheid met betrekking tot die tug van die sendelinge na hul Regskommissie verwys ten einde die Sinode met advies te bedien (Kriel 1963:108). Onder andere moes die Regskommissie vasstel of dit binne die bevoegdheid van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk sou lê om ’n sendeling te skors en/of af te set. Die Sinode van die NGK (1909) het op aanbeveling van die Regskommissie besluit dat die Sendelinge onder die tug van die Ringe van die NGK wat hulle gelegitimeer het, staan (Acta NGK 1909:101). Die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk was dus nie bevoeg om ten opsigte van wangedrag sendelinge te skors en/of af te set nie. Die Sinode van die NGK (1909) het ook besluit om die hele aangeleentheid insake die uitoefening van die kerklike tug na die Binnelandse Sending-subkommissie te verwys wat by die volgende Sinode verslag moes lewer (Acta NGK 1909:92).

Sedert 1908 het die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk hom beywer dat die reg om die tug uit te oefen ten volle erken word. Die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk (1912) het na aanleiding van die uitspraak van die Sinode van die NGK (1909) ’n mosie aanvaar (met die steun van ds DS Botha van die Binnelandse Sendingkommissie) dat die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk self die tug op die sendelinge behoort toe te pas (Botha 1981:160). Die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk beklemtoon met dié besluit op voetspoor van die DKO art 37 dat die tugreg van die Kerkraad van die plaaslike gemeente, nie op die Ring of Sinode of die Binnelandse Sending Kommissie oorgedra kan word nie. Die Sinode van die NGK (1915) het egter besluit dat hierdie reg alleen die NGK toekom.

5. DIE APPÈLREG TEN OPSIGTE VAN DIE BESLUITE VAN ’N MEERDERE VERGADERING

Die besluite van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk was volgens art 226 onderworpe aan die goedkeuring van die NGK. Art 226 ken aan die Binnelandse Sendingkommissie ’n dwingende mag toe (potestas definitiva). Wetswysigings was volgens art 226 van die goedkeuring van die Binnelandse Sendingkommissie afhanklik. ’n Kommissie van die NGK te wete die Binnelandse Sendingkommissie het as ’n soort hoër bestuur, ’n senatus ecclesiasticus of super-kerkraad, gefunksioneer wat onderwerping vra. Die NGK het bestuursmag oor en buite die plaaslike gemeente locus classicus van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk uitgeoefen.

Die vetoreg van die Binnelandse Sendingkommissie is tekenend van die beoefening van hiërargiese kerkregeringstelsel. In hiërargiese kerkregeringstelsel, anders as in ’n Gereformeerde kerkregeringstelsel is daar ruimte dat ’n laer bestuur se besluite deur ’n hoër bestuur vernietig en/of veto kon word. Die aard van die gesag van die Kerkraad, die Ring en die Sinode van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk en dié van die Binnelandse Sendingkommissie van die NGK was nie dieselfde nie. Laasgenoemde kommissie het hoër gesag in vergelyking die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk gehad. In die Binnelandse Sendingkommissie van die NGK vind ’n kulminasie van mag plaas. Die kommissie kon oor sake handel wat uiteraard tot die bevoegdheid van die mindere of meerdere vergaderinge van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk tuishoort. Die BSK het teenoor die plaaslike gemeente dwingende, beslissende mag gehad. Die BSK het nie slegs adviserende stem nie, maar kon ook besluite van die NGSK veto en/of nietig verklaar. Die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk kon gevolglik geen wysigings aan die Konstitusie doen sonder die goedkeuring van die NGK nie, aangesien die Binnelandse Sendingkommissie kassasiereg ten opsigte van besluite van die Nederduitsche Gereformeerde Zendingkerk gehad het. ’n Nuwe formulering van die wette en bepalinge van die NGSK wat in enige opsig mag afwyk van die Konstitusie kon alleen plaasvind met goedkeuring van die NGK.

6. KONKLUSIE

Die NGSK toon ’n noue aansluiting by die Doleansiekerkreg met die sterke aksentuering van die selfstandigheid van die plaaslike gemeente, die konfederatiewe karakter van die kerkverband en die afwysiging van ’n hiërargiese kerkregeringstelsel. Die NGSK beklemtoon in hulle stryd om selfverwesenliking dat aan die kerke in korrespondensie of sinodaal gekombineerd die drievoudige mag naamlik, leer-, regeer- en tugmag toekom. Op voetspoor van die oud kerkrecht gaan die NGSK van die veronderstelling uit dat indien ’n plaaslike gemeente hom aan die uitspraak van ’n Sinode onttrek, het die meerdere vergadering nie die reg om self sy besluit in die plaaslike gemeente te voltrek en die Kerkraad af te set nie. Die NGSK gaan van die veronderstelling uit dat die aansluiting by die kerkverband die onderskeie plaaslike gemeentes verplig om uitvoering te gee aan die besluite van die meerdere vergaderinge; dat die bestuursgesag by die kerkraad berus en dat die toepassing van sensuur oor die wit leraars aan die kerkorde daartoe bevoegde verklaarde mindere vergadering oorgelaat behoort te word, dat die kerkraad tug mag uitoefen en ook bevoeg is om die daadwerklike skorsing en afsetting van ampsdraers te implementeer.

GERAADPLEEGDE WERKE

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1880). Villiers Drukpers, Kaapstad

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1881). Townshend en Zoon Drukkers, Kaapstad.

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1891). Townshend en Zoon Drukkers, Kaapstad.

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1892). Townshend en Zoon Drukkers, Kaapstad.

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1896). Townshend en Zoon Drukkers, Kaapstad.

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1908). Paarldrukpers, Paarl.

Acta en Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (1912). Paarldrukpers, Paarl.

Almanak voor de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika voor het jaar 1908. 59ste jaargang, Villiers Drukpers, Kaapstad

Almanak voor de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika voor het jaar 1910. 61ste jaargang, Villiers Drukpers, Kaapstad

Bakker, W., 1986a. De Doleantie in den lande. Uitbreiding en consilidatie in Bakker, W (red) 1986, De Doleantie van 1886 en haar geschiedenis, p.134-146. Uitgeverij Kok, Kampen.

Botha, D.P., 1981. Kerkregtelike selfverwesenliking in Kriel, C J 1978, Die Eerste eeu. Die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika, 5 Oktober 1881- 5 Oktober 1981. Paarldrukpers, Paarl.

Deddens, D., 1986. Het doleantiekerkrecht en de Afgescheidenen in Deddens, D., & Kamphuis, J., (red) 1986, Doleantie – Wederkeer. Opstellen over de Doleantie van l886. p.57-150.TU, Haarlem.

Deddens, D., 1992a. De Gereformeerde Kerken in Nederland: een bond van kerken, geen kerk in Deddens, D., en Te Velde, M., (red) 1992, Vereniging in wederkeer. Opstellen over de Vereniging van l892. 45-86. TU, Barneveld.

Joubert, P.P., 1932. Na Vyftig jaar ’n Jubileum- Gedenkboek van die Ned. Geref. Sendingkerk in Suid-Afrika, bevattende gegewens van sy ontstaan en ontwikkeling. Paarldrukpers, Paarl.

Kerkwet Nederduitse Gereformeerde Kerk (1881), Villiers Drukpers, Kaapstad

Kriel, C.J., 1956. Gedenkskrif NGSK. Paarl: Paarldrukpers.

Kriel, C.J., 1963. Die geskiedenis van die Ned Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1956. ’n Historiese studie van die sendingwerk onder die Kleurlingbevolking van Kaapland. Paarldrukpers, Paarl.

Kriel, C.J., 1978. Seuns in sy wingerd. Paarldrukpers, Paarl.

Kriel, C.J., 1981. Die eerste eeu. Die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika, 5 Oktober 1881- 5 Oktober 1981. Paarldrukpers, Paarl.

Loff, C.J.A., 1981. Dogter of verstoteling? Kantaantekeninge by die geskiedenis van die Ned Geref Sendingkerk in Suid-Afrika. Paarldrukpers, Paarl.

Smith, N.J., 1972. Die planting van afsonderlike kerke vir Nie-blanke bevolkingsgroepe deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. DTh dissertasie. Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Van den Broeke, C., 2005. Een geschiedenis van de classis Classicale typen tussen idee en werkelijkheid (1571-2004) dissertasie, Vrije Universiteit Amsterdam: Uitgeverij Kok, 26 April 2007 van http://www.kerkrecht.nl.

KONTAKBESONDERHEDE

Dr Mary-Anne Plaatjie van Huffel

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbisch

Privaatsak X1

7602MATIELAND

E-posadres: mapvan huffel@sun.ac.za