Bekker, Christelle & Hendriks, H Jurgens
Universiteit Stellenbosch

Die gemeente as huishouding van God1

ABSTRACT

The congregation as God’s household

The article is an eco-feministic interpretation of James. It has the following hypotheses: the transformation of the patriarchal family is the key to the transformation of society. If friendship is the baseline structure of the relationship between people who understand their identity as being the missional body of Christ, equality and hospitality will result, creating space for congregations to be places where healing can take place and people can experience freedom. The concept household is defined and the implications of being a household of God, based on key concepts in James, provide more than twenty parameters for a theory of ministry.

1 INLEIDING EN HIPOTESES

Ekofeministe werk met die uitgangspunt dat daar ’n direkte verband bestaan tussen patriargale kulture oor die algemeen en die onderdrukking van vroue en die natuur (Radford Ruether 2003:24). Androsentriese en patriargale denkraamwerke (veral binne die Christelike geloof) bly voortbestaan in die denke van mense, dwars oor die wêreld (Brock 1988:43, Nakawombe 1996:42) – ook in Afrika (Njoroge 1996:11).2 In so ’n samelewing het mense gewoond geraak aan die feit dat vroue afhanklik moet wees.3 Ook vroue het die geldigheid van denkraamwerk aanvaar en pas hul lewens daarvolgens aan (Carlson-Brown & Parker 1989:1). Die arbeidsmark het reeds vordering gemaak om diskriminasie teen vroue uit te skakel, maar tog het die onderdrukking van vroue nog nie opgehou nie (Bloomquist 1989:64-65). Patriargie is diep gewortel in die samelewing en die menslike werklikheidsverstaan. Hierdie denkraamwerk word steeds telkens ook deur die kerk versterk4 en deur die patriargale gesin in stand gehou. Hoewel patriargie nie die enigste euwel is wat vir onreg en pyn verantwoordelik is nie, is dit in die Christelike godsdiens ’n wesenlike faktor (Brock 1988:43, Nakawombe 1996:42). Brock (1988:3) plaas die patriargale5 gesin in die sentrum van haar nadenke oor die Christelike geloof, omdat sy oortuig is dat die transformasie van die patriargale gesin die sleutel is tot die transformasie van die samelewing. Sy is oortuig dat konsepte rakende ras, klas en gender binne die huishouding vorm aanneem. Hierby kan die verstaan van die mens as deel van die skepping gevoeg word. Die huishouding staan in direkte verband met die mens se vorming van verhoudings. Die rede hiervoor verduidelik Baron en Bryne (2000:305) as volg: “Most parent-child interactions have later implications, because the family is the setting in which each of us learns how to deal with other people. Even the way in which parents play with their children provides youngsters with information about how to interact with others, thus enabling them to engage in cooperative play later on with their peers.” Hierdie visie vra ’n fundamentele herdink van elke soort verhouding binne die hedendaagse gesin, wat sentraal staan binne meeste huishoudings (oikoi).

Deur die interpretasie van Jakobus kan die vorming van ’n nuwe identiteit en werklikheidsverstaan voortkom wat eerder fokus op die handelinge van die gestuurde as die individu se plek in die huishouding (oikos). Hierdie identiteit sal meewerk daartoe dat daar nie van mense verwag word om aan sekere rolverwagtings op grond van geslag te voldoen nie (wat dikwels lei tot onderdrukking en daartoe bydra dat mense nie individualiseer nie). Vriendskap as basis vir alle verhoudings van gestuurdes bring gelykwaardigheid en gasvryheid na vore as sentrale waardes binne die geloofsgemeenskap. Op hierdie wyse kan alle mense versorg word, omdat gasvryheid sal bydra daartoe dat niemand sonder huishouding sal wees nie. As deel van die transformasie van die gemeenskap stel die interpretasie van Jakobus sekere helende en bevrydende prosesse voor, soos die heling van dit wat mense se lewenskwaliteit inperk. Dit sou gepaard gaan met die emosionele heling van mense deur “emosionele uitlaatkleppe” (Jakobus 3:13-15). Die heling van mense kan bydra tot die heling van die skepping.

2 PROBLEEMSTELLING

Die metafoor “liggaam van Christus” verwys na almal wat aan God drie-enig deur die verlossingswerk van Jesus Christus behoort. Diesulkes leef daagliks as gestuurdes (Matteus 28:19-20) op aarde. Die identiteit van gestuurdes wat deur individuasie6 gevorm is, is die bepalende faktor agter die handelinge van gestuurdes, en bring sin vir die individu. Die gemeenskap van gelowiges,7 in die verskeidenheid van gestaltes wat dit aanneem asook hulle interpretasie van die Bybel, vorm die identiteit (en daardeur handelinge) van gestuurdes.

Deur die loop van generasies, is groepe en mense deur ’n sekere verstaan van tekste soos 1 Timoteus 3 en Titus 18 binne die Christelike geloof in spesifieke posisies van mag gevestig. Soos in meeste instellings, is daardie posisies hiërargies, met dié wat die belangrikste is bo aan die leer en die wat minder belangrik is onder aan die leer. Rondom hierdie hiërargie het ’n emosionele klimaat gevorm wat nie die mens van vandag se behoeftes aanspreek nie (Mead 1994:97). Ook die huishouding word geraak. Die sogenaamde “huishoudelike kodes” in Efesiërs 5 en 6 behels onder meer Aristoteles se huishoudelike teorie: die heers van keiser oor onderdane, eienaar oor slaaf, man oor vrou en pa oor kinders. Sy definisie vir die huishouding was dat huishoudings die basiese boustene van die staat vorm (Dunn 1996:49). Dit het so ’n integrale deel van die kultuur van die dag gevorm, dat die Bybelskrywers met hierdie ideologie as agtergrondkennis skryf (Browning 2004:4-5).9 Die eerste vraag wat die leser behoort te vra is waarom sou die skrywer hierdie keuse maak? Die eerste-eeuse kerk se keuse om hierdie riglyne te onderskryf, het bygedra tot hul getuienis aan hul bure binne die konteks waar hulle as gestuurdes gewoon het. Hierdeur is aan buitestaanders gekommunikeer dat die Christelike geloof nie daarop uit is om die ordelike staat te versteur nie (Dunn 1996:57). Vir die moderne gestuurde sou die interpretasie van die rede waarom die Haustafeln gebruik is, beteken dat gesonde huishoudings vir vandag se konteks, as deel van hul getuienis belangrik is (:58). Die volgende vraag wat hieroor gevra behoort te word is: “Wat doen ’n sekere verstaan van die teks aan die hoorders, wanneer aan die voorgestelde werklikheidsverstaan gehoor gegee word?” (Schüssler Fiorenza 1992:47). Dit is nodig omdat daar kragte en strukture in die kerk en samelewing bestaan wat keer dat vroue hul regmatige plek in die skepping inneem.

3 BASISTEORETIESE BEGINSELS UIT JAKOBUS

Die basisteorie wat op grond van die interpretasie van Jakobus gevorm is (Bekker 2010) wil die vestiging van ’n ekofeministiese werklikheidsverstaan deur ’n bewusmakingsproses bevorder. Met die formulering van die basisteorie is daar gestreef na die herstel van die magteloses se posisie en rol. Dit wil hulle identiteit gelykwaardig met dié van alle mense formuleer en tot sy reg laat kom in helende en bevrydende ruimtes – in huishouding- en kerk-wees. In Jakobus is die huishouding van God deur die lens van vriendskap geïnterpreteer. Uit hierdie basisteorie moet ’n praktykteorie voortkom wat in ’n bedieningspraktyk gestalte kan vind in nuwe en eksperimentele gemeentes. Met die patriargale gesin wat volgens die navorsing van Castells (2004)10 in krisis verkeer (saam met globalisasie11 en inligtingsmatigheid12), is die vestiging van ’n postpatriargale identiteit ’n heel nuwe paradigma wat vorm moet aanneem. Binne so ’n liminale fase is dit nie haalbaar of wenslik om ’n voorskriftelike praktykteorie uit te spel nie. Sou mens dit doen is dit ’n ontkenning van die waarde en gawes van ’n geloofsgemeenskap wat saam moet onderskei hoe God hulle wil gebruik as ’n helende en bevrydende ruimte. ’n Voorskriftelike praktykteorie sou die verstekopsie van ’n patriargale benadering wees, tipies van die institusionele model (Hendriks 2004:46). Daar behoort saam met die feit dat die voorstelle ’n heel nuwe paradigma verteenwoordig, aanvaar te word dat die “sosiale skuiwe” wat gemaak moet word om by die voorgestelde praktyk uit te kom ’n baie meer komplekse proses impliseer as wat beskryf word. Die bewusmakingsproses13 waarna feminisme streef om sosiale verandering te bewerkstellig (Schüssler Fiorenza 2001:94) kan nie in praktiese stappe uiteengesit word nie. Al die gestuurdes in ’n gegewe konteks behoort saam te besin oor watter implikasies Bybelse waardes in hul konteks sal hê. Voorstelle word dus alleen gemaak as poging tot illustrasie.

4 DIE HUISHOUDING AS PRAKTYKTEORETIESE ORIËNTASIEPUNT

’n Gesin se kultuur is tyd en konteksgebonde. Ons is nie geroepe of verplig tot ’n bepaalde vorm van gesinslewe nie (Müller 2002:12). Die patriargale kerngesinstruktuur wat nog algemeen in geloofsgemeenskappe as norm hanteer word, word dikwels gerig volgens tekste wat in die eerste-eeuse konteks ontstaan het. Huishoudings (waarvan die tradisionele kerngesin maar een vorm is) het egter ’n onvervangbare funksie en is steeds relevant vandag.14 Hoewel nie alle huishoudings kinders het nie, maak kinders huishouding (“housekeeping”) onafwendbaar. Op die ou end het alle mense ’n huishouding nodig ter wille van versorging. Familie is ’n verhouding, maar huishouding (oikos) is ’n plek. Breidenthal (1997:2) definieer huishouding (oikos) as volg: “...two or more people sharing the daily round of life to a significant degree and over a significant period of time, whether the sharing is freely chosen or not.” Müller (2002:12) verduidelik verder dat huishoudings deur verhale gekonstitueer word en hulle gesamentlike identiteit bepaal en nie deur objektiewe maatstawwe wat van buite besluit wat ’n huishouding is of nie is nie. Met hierdie verstaan word die geloofsgemeenskap bevry om ’n wye verskeidenheid saamwoonooreenkomste te beskou as ruimtes waar gestuurdes versorg word. Wat alle huishoudings in gemeen het, is ’n hoë mate van bekendheid – om te ken en geken te word. Dit sal tot gevolg hê dat die kerk nie meer die gemeenskap van gelowiges in terme van huisgesinne sal hanteer nie, maar eerder die verantwoordelikheid sal neem dat niemand sonder huishouding is nie. Uit Jakobus word die kerk (ekklesia) opgeroep om vir kwesbares op praktiese wyse verantwoordelikheid te neem: Plaaswerkers (Jakobus 5:1-12), weduwees en wese (Jakobus 1:27)15 en armes (Jakobus 2:5-15). Ook aan hulle moet die ruimte geskep word om ’n huishouding vir versorging te hê.16 Binne die kerk kan ’n seremonie ontwikkel word waar hersaamgestelde huishoudings geleentheid aan gestuurdes gee om hulle toewyding aan mekaar en die kinders in die huishouding voor die geloofsgemeenskap te bely.

5 TRANSFORMASIE PARAMETERS

Die huishouding word as die sleutel tot die transformasie van die samelewing hanteer.17 Die rede hiervoor is dat dit ook die ruimte is waar identiteit gevorm word. Identiteit is belangrik omdat dit die grootste faktor is wat mense se aksies bepaal en waardeur die mens sin maak uit die werklikheid. Ten einde ’n ekofeministiese werklikheidsheidsverstaan te vestig sal die vorming van post-patriargale huishoudings nodig wees. Wat sou hierdie inhoud in ’n post-patriargale samelewing behels? Elk van die volgende paragrawe hanteer ’n beginsel uit Jakobus wat as ’n riglyn kan geld vir ’n bedieningspraktyk waar ’n huishouding ’n helende en bevrydende ruimte vir gemarginaliseerdes kan wees.

Volgens die interpretasie van Jakobus – deur die lens van die voorbeeld van Jesus - behoort die hiërargiese strukture van die tradisionele huishouding en huwelik vervang te word met ’n nuwe familie (ekklesia), wat op vriendskap gebaseer is. Soos Jesus gebruik Jakobus die terme “broers en susters” (2:15) en “vriende van God,” (2:23) eerder as man, vrou (eggenoot), kind of hoof. Deur te fokus op geloof wat in dade oorgaan, maak Jakobus nadenke oor byvoorbeeld vroue in terme van ordentlikheid en onderdanigheid irrelevant (Cargal 2004:112). Die klem is op die handelende gestuurde, nie die gestuurde se geslag of “rol” in die huishouding nie. Die “plek” van die huishouding sal nog bestaan, maar sal as deel van die ekklesia verstaan word. Jesus se bediening beskou byvoorbeeld nie bloedfamilie as sentrale struktuur nie, maar laat ook niemand sonder huishouding (oikos) nie. Hy gee ’n praktiese voorbeeld hiervan in Johannes 19:26-27 wanneer Hy vir Johannes aan Sy moeder as seun gee. Die daaglikse bekendheid en praktiese versorging van elkeen word nie opgehef nie, maar vind ’n nuwe betekenis binne die ruimte van die huishouding van God. Jakobus rig byvoorbeeld sy brief aan ’n gemeenskap en nie ’n familie, soos die wysheidskrywers van sy tyd nie. Huishoudings behoort die roeping van die gelowige te dien. Huishoudings wat so ingerig word dat dit gestuurdes se potensiaal inperk, behoort deur die ekklesia aangespreek te word. Dit behoort byvoorbeeld nie as uitsonderlik beskou te word indien ’n getroude vrou saam met kerkleiers gaan kamp nie. Sou sy byvoorbeeld kinders hê, maar geen ander volwassene in haar huishouding nie, behoort die gemeente voorsiening te maak vir die versorging van kinders.

Die mense in die eerste-eeuse samelewing het die wêreld beskou as opgemaak uit vriende en buitestaanders. Gasvryheid in hierdie konteks het nie gehandel oor die onthaal van vriende, familie of kollegas nie, maar die innooi van die buitestaander en vreemdeling tot die posisie van vriend (Isherwood & Stuart 1998:58). Indien die verhouding tussen gelowiges verstaan word as vriendskap, sal gasvryheid deel wees van die praxis wat hulle leef. Om ’n maaltyd te deel is die mees algemene aktiwiteit wat vriende saam doen. Die plesier van lekker kos, humor en goeie geselskap met mense van wie jy hou, is helend en vervullend. In so ’n situasie beleef liggaam en gees op geïntegreerde wyse aanvaarding, vervulling en plesier – ’n tuiskoms. Kos is ’n meer inklusiewe plesier as seks, omdat dit met enige ander gedeel kan word (McFague 1987:167). In byna alle samelewings simboliseer iemand wat alleen eet, eensaamheid of vreemdelingskap. Gemeenskaplike maaltye nooi die vreemdeling en uitgeworpene in en ryk ’n hand van vriendskap uit. Die gedeelte maaltyd is ’n simbool van die gemeenskap waarna die kerk verlang: ’n vreugdevolle en inklusiewe saamwees van mense wat van mekaar hou en omsien na mekaar se basiese behoeftes (McFague 1987:172). Huishoudings behoort so ingerig te word dat dit vir die voordeel van die gemeenskap bestaan. Dit sal selfs beïnvloed hoe huise ingerig word. Word die huis van gestuurdes so ingerig dat ’n huishouding onverwagte besoekers (ook in terme van verblyf) kan ontvang? Op hierdie wyse sal daar ook ’n huishouding wees vir “die geringste van die wat honger, dors en sonder klere is, vreemdelinge sonder heenkome, siekes en gevangenis.” Die gasvryheid aan die kwesbare sal vra dat huishoudings as niegewelddadige en bevrydende ruimtes funksioneer.

Vir die huishouding (oikos) om as bevrydende en helende ruimte te funksioneer, behoort die grense tussen publiek en privaat (as kenmerk van patriargie) te vervaag. Die vriendskapsbeeld in Jakobus verteenwoordig ’n verhouding wat binne sy konteks oor die grense van publiek en privaat gestrek het.18 Deur die vriendskapsbeeld op huishoudings van toepassing te maak, sal huishoudings bystaan in die proses om toegekende “plekke” binne ’n huishouding af te staan en in nie-hiërargiese verhoudings teenoor mekaar te staan. Ook ouers behoort hulle kinders in terme van nie-hiërargiese verhoudings te verstaan. Dit hef nie die ouers se verantwoordelikheid tot dissipline en opvoeding op nie, maar laat geen ruimte vir ’n ingesteldheid dat die ouer die kind kan beheer of “besit” nie. Binne die vriendskapsmodel sal ouers nie meer kinders as “verlengstukke van hulself” sien nie, maar as vriende wat gasvry ontvang word.19 Ouers behoort hiervoor toegerus te word, omdat ouers selde ’n voorbeeld gehad het om hierdie nuwe ingesteldheid te kan uitvoer.

Die afhanklikheid van kinders en kwesbare mag daarom nie in die huishouding geëksploiteer word nie.20 Die huishouding (oikos) is ’n versorgende ruimte wat elkeen toelaat om hul volle potensiaal uit te leef deur individuasie en daarom medeverantwoordelikheid te kan neem vir God se herskepping. Volgens Brock (1988:32) is die reaksie op mag as “om te beheer” of “om beheer te word,” beide uitvloeisels van mishandeling in die vroeë kinderjare en is ’n kenmerk van gebrekkige selfaanvaarding. So word magsmisbruik van generasie tot generasie oorgedra. Die werk van Rosenberg (2003) oor niegewelddadige kommunikasie, sal vir die toerusting van ouers van waarde kan wees. Hieroor behoort voornemende ouers reeds toegerus te word. Verwysings hierna kan ook in die doopbelofte bygewerk word.

Schoeman (2004:1-31) skryf ook oor die oordrag van die simptome van geweld wat van generasie tot generasie oorgedra word.21 ’n Simptoom wat veral vroue onnodig stereotipeer en ontmagtig is fusie as keersy van individuasie. Fusie het emosionele onvolwassenheid tot gevolg deurdat objektiewe denke deur emosionaliteit oorheers word. Verder gee dit aanleiding tot die gebrek aan grense of die gebrek aan individualiteit tussen twee of meer mense (:6). Vroue verloor byvoorbeeld hulle eie identiteit en verstaan hulself nie as individu los van hul lewensmaats of kinders nie.22 Hierdie simptome strem die individu se individuasie en weerhou hierdie vroue van gelykwaardige deelname binne die arbeidsmark en geloofsgemeenskap.

Die rolmodelle wat deur Jakobus aangehaal word, verteenwoordig huishoudings wat nie stereotipes versterk nie. Beide Job en Abraham het byvoorbeeld sterk vroue gehad wat duidelik gekommunikeer het (Genesis 16:2-6; 18:10-12; 21:6-12 en Job 2:9). Abraham het dikwels vir Sara as gelyke gespreksgenoot en onafhanklike besluitnemer hanteer (Genesis 16:2, 16:6; 21:8-10). Ook Ragab openbaar tipies “manlike” optrede in haar konteks. Sy besit ’n besigheid en staan aan die hoof van haar huishouding, wat haar ouers insluit. Sy neem besluite namens haar familie, gee strategiese raad en sluit ooreenkomste. Elia word deel van verskillende “huishoudings” ter wille van sy fisiese versorging. Hy openbaar ook sterk emosies wat in ’n patriargale samelewing by mans ontmoedig word. Hierin verteenwoordig hulle “huishoudings sonder essensie”: ’n huishouding wat deur verhale gekonstitueer word en hulle gesamentlike identiteit bepaal en nie beïnvloed word deur objektiewe maatstawwe en rolverwagtinge wat van buite besluit wat ’n huishouding is of nie is nie.

Saam met die verandering in die huishouding, hang die aanpassing van huweliksverhouding.23 Die eienskappe van getrouheid, toewyding en versorging, word vandag binne vriendskapsverhoudings as belangrik beskou. In ’n post-patriargale samelewing sal die onderskeid tussen vriend en geliefde vervaag. Die klem op vriendskap – eerder as geslagtelikheid – sal meewerk tot die gelykheid en beskerming vir albei partye, omdat vriendskap alle suggesties van eienaarskap uitskakel en klem lê op gelykwaardigheid. Die huwelik word getransformeer van ’n institusie met rigiede reëls wat die liggame beheer van diegene in die huwelik, na ’n saamleef van gelykwaardige lewensmaats (partners) wat nie die seggenskap oor hul liggame opgee nie. Dit is belangrik omdat die huwelik byvoorbeeld een van die gevaarlikste institusies vir vroue in Afrika is, waar die waarde van die huwelik dikwels hoër geag word as persoonlike welstand (Phiri en Nadar 2009:8).

Hierdie alternatiewe identiteit sal nie druk op lewensmaats plaas om verantwoordelik te wees vir die ander se behoeftebevrediging nie. Van ’n huweliksmaat word verwag om vriendin / vriend, vertroueling, geesgenoot én minnares / minnaar te wees. Die moderne huwelik beloof dat dit alles moontlik is met een mens. Perel (2007:194) stel voor dat daar aanvaar behoort te word dat ’n individu behoeftes het wat nie noodwendig deur die huweliksmaat bevredig kan word nie. Binne ’n verhouding van vryheid kan grense van behoeftebevrediging onderhandel word ten opsigte van outonomie, geesgenote en vriendskap. Dit sal ook impliseer dat lewensmaats nie verplig sal voel om net vriende van dieselfde geslag te hê nie, maar vriende van beide geslagte en alle ouderdomme. Om dit moontlik te maak vir gestuurdes om ’n diverse groep mense te leer ken, sal die byeenkomste (formeel en informeel) op sensitiewe wyse gereël word. (Dit geld nie vir byvoorbeeld sekere terapeutiese byeenkomste waar homogene groepe ’n beter keuse sou wees nie.) In die kerk en huishoudings kan daarom met die reël van byeenkomste gelet word daarop dat die inrigting van aktiwiteite, uitleg van vertrekke en verdeling van werk nie geslagte verdeel en stereotipeer nie. Elke individu behoort met gemak kontak te kan maak met enige ander, terwyl almal vir die verloop van al die aspekte van die byeenkoms verantwoordelikheid kan neem. Die samewerking of saamwees van mense van enige geslag, seksuele voorkeur of huwelikstatus behoort genormaliseer te word en nie as onvanpas of verdag hanteer te word indien die betrokkenes getrou is aan hul huweliksmaat nie.

Om dit vir beide partye in die huwelik prakties moontlik te maak om tot beroep en huishouding te kan bydra, sal vereenvoudiging van lewenstyl vereis, wat die werkholistiese lewenstyl van talle gestuurdes sal inkort. Waardes soos ’n gesonde lewenstyl, genoeg rus en gesonde menseverhoudinge sal voorrang geniet. In ’n samelewing waar ’n skaarste-mentaliteit24 heers sal die denkproses wees: Hoe meer jy het, hoe meer waarde het jy. Jakobus staan ’n teenoorgestelde denkraamwerk voor en noem Abraham ’n vriend van God (Jakobus 2:23), die gewer van elke goeie gawe en volmaakte geskenk (Jakobus 1:17).

Vir Jakobus begin boosheid by menslike begeerte na dinge, weens ’n gevoel van onvoltooidheid (Jakobus 1:4). Gestuurdes behoort bewustelik weer betrokke te raak by aktiwiteite wat ’n stadiger lewenspas aanmoedig. Die beoefening van ’n ekologies-vriendelike lewensstyl sal outomaties hierdie doel bereik: Deur niks aan te koop wat nie noodsaaklik is nie, liewer te herstel as te vervang, eie groente te kweek, self produkte te vervaardig ensovoorts. Ook die regverdige verdeling van take onderling sal veral vroue bevry om ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap te kan maak.25

Teenoor vriendskap met die wêreld stel Jakobus vriendskap met God voor. Wanneer mense na heelheid en voltooidheid soek, moet hulle vir God om wysheid vra (Jakobus 1:5). Die wysheid wat van God kom is sonder bybedoelings, vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg (Jakobus 3:17). God se goeie gawes is onbeperk (Jakobus 1:17). Daar is geen rede vir kompetisie nie. Ook in hierdie opsig kan die kerk deur helende prosesse te fasiliteer, mense bevry van ’n gevoel van onvoltooidheid. Deur die aanleer van vaardighede en ontwikkeling van selfkennis, kan gestuurdes begelei word tot heelheid. Introspektiewe kuns- en skryfklasse, musiek-, drama- en dansonderrig en handwerk met die doel om selfkennis en vaardigheid te fasiliteer, sal mense help in hierdie strewe.

McFague (1993) is oortuig dat die agteruitgang van die natuur in direkte verband met die mens se minagting van menslike liggaamlikheid staan en noem die heelal “God se liggaam.” Volgens haar behoort daar gestreef te word na ’n skeppinggesentreerde teologie eerder as ’n mensgesentreerde teologie. In die verhaal van Job kom die mens nie na vore as die middelpunt van die skepping nie, maar bestaan as klein interafhanklike onderdeel daarvan. Job plaas die huishouding waarvan hy deel is, as onderdeel van die skepping. Die huishouding van God sluit die hele kosmos in.

Dit sal vra dat die mens haar selfsugtige soeke na behoeftebevrediging moet prysgee ter wille van ander, sodat alles en almal ewe veel geleentheid kan kry om hul volle potensiaal te kan bereik (Cummings 1991:103). Die nagmaal funksioneer byvoorbeeld hierin as kragtige simbool, omdat aan elkeen dieselfde uitgedeel word. Dit sal vereis dat mense net sal leef met dit wat hulle nodig het, sodat daar genoeg sal wees en alle lewende wesens kan ontvang wat hulle nodig het. Heel mense sal ’n lewe van eenvoud kan leef, wanneer hulle weet wie hulle as beelddraers van God is. Praktiese onderrig vir die uitleef van eenvoud, behoort deur die kerk aangebied te word. Die organisasie The Natural Step doen reeds waardevolle werk in hierdie verband.

Ook die duidelike verband tussen die agteruitgang van die natuur (onder meer deur die misbruik van menslike mag en die impak van armoede) en gebrek aan kundigheid behoort deur gelowiges aangespreek te word. Ter wille van die voortbestaan van die mens en die bemagtigende invloed daarvan op vroue behoort die mens weer bewustelik binne die ritme van glacial time te leef. Dit beteken dat die mens die verhouding tussen mens en natuur en die evolusie tussen die twee partye sal respekteer.

Die kerk kan gestuurdes bystaan in hul strewe om hul ekologiese voetspoor te verminder deur toerusting en beskikbaarstelling van herwinningsprojekte. Interkerklike projekte kan byvoorbeeld geloods word om alle eiendom wat onder gestuurdes se bestuur staan, ekovriendelik te maak. Ook kerkeiendom kan aangepas word vir meerdoelige gebruik. Op hierdie wyse kan gestreef word na ekovriendelike gemeenskappe, terwyl eko-dorpe ook ontwikkel kan word. ’n Voorbeeld hiervan word gevind in die Findhorn Foudation, wat bekend staan as “geestelike gemeenskap, toerusting- en eko-dorp” (http://www.findhorn.org/index.php?tz=-120). In hierdie dorp word alle geboue gebou op ekovriendelike beginsels, die gemeenskap verbou hul eie groente en vrugte, suiwer hul eie water en maak slegs van son- en windkrag gebruik. Volgehoue toerustingsgeleenthede word deur inwoners aangebied en besoekers word vir kort en langer periodes gehuisves. Hierdie strewe sal ook armoede-verligting dien, deurdat mense bemagtig kan word om hul omgewing beter te benut en hulle eie voedsel te verbou. Binne so ’n gemeenskap kan gestuurdes ook by prosesse betrokke raak wat emosionele heling bevorder.

Die prosesse wat heling van gestuurdes ten doel het, word ook deur Jakobus voorgestel. Heling staan sentraal in die herskepping van die gebroke skepping, wat heling na liggaam en siel insluit (McFague 1987:147). Wanneer Jakobus in 5:14-18 na siekte verwys, behels dit alle toestande wat menslike lewenskwaliteit inperk, soos emosionele moegheid, gemarginaliseerdheid en gestremdheid. Wanneer die gelowige depressief is oor haar lyding, moet sy bid (Jakobus 5:13). Dié wat opgeruimd is, moet lofliedere sing (Jakobus 5:13). Hierin vind die gelowige “emosionele uitlaatkleppe.” Hierdie ”uitlaatkleppe” kan ook in ’n moderne idioom aangebied word byvoorbeeld deur meditasie, joernaalkuns en dans.

Die opdrag om sonde teenoor mekaar te bely (Jakobus 5:16) gaan gepaard met emosionele en geestelike heling, reeds nou (Scear 1983:134). Job en Elia het gekla oor hul lot. Job wil met tye opgee op die lewe (byvoorbeeld Job 3:1-26) maar het bly worstel om sin te maak uit sy omstandighede. Soos Job ly die hoorders van die brief ook onskuldig onder die mag van ander. Gestuurdes het geleenthede nodig om dieselfde soort proses te kan deurgaan. Dit sal veral vir mense wat gebuk gaan onder geweld, wat ly aan depressie, angstigheid, psigosomatiese siektes, eetversteurings, seksuele disfunksie en ander minder opvallende psigologiese probleme wat ontstaan as gevolg van geweld, waardevol wees. Die ekklesia kan ’n belangrike rol as helende ruimte speel in die lewens van sulke mense.

Wanneer Storr (1974:vii) se definisie vir psigoterapie in ag geneem word, naamlik “the art of alleviating personal difficulties through the angency of words and a personal professional relationship,” is dit duidelik dat die geloofsgemeenskap die potensiaal het om as helende ruimte te kan funksioneer. Hierdie definisie benadruk die feit dat psigoterapie nie bloot tegniek, manipulasie of ’n meganiese verbintenis is nie. Die gebruik van die woord “kuns” beklemtoon die feit dat emosionele heling nie langs die weg van rigiede tegnieke of meganiese betrokkenheid geskied nie. Wat nodig is, is kwaliteite soos empatie, intuïsie, ervaring, vaardigheid en goeie oordeel. Deur die gebruik van woorde word die persoon begelei tot ’n meer gebalanseerde en geïntegreerde lewenstyl. Dit vra ’n persoonlike verhouding van vertroue en egtheid, maar ook professionele optrede, wat deur toerusting gevestig kan word. Binne so ’n verhouding word die ander onvoorwaardelik aanvaar, en emosionele onafhanklikheid aangemoedig.

Die kerk voorsien hierdeur ’n veilige simboliese baarmoeder26 waar die gebroke psige ruimte het om te herstel ten einde opnuut gebore te word. Balint (aangehaal deur Avis 1989:76) is van oortuiging dat die gebrokene terug gaan deur emosionele oordrag, na ’n posisie van passiewe liefde deur die verteenwoordiger van die terapeutiese ruimte vanwaar die individu ’n nuwe begin kan maak. Hierdie liefde behels vergewende en onvoorwaardelike aanvaarding sonder enige eise, wat deur elke mens van die “volmaakte ouer” verwag word. Hierdie konsep kan deur gestuurdes verstaan en toegepas word. Aan die einde van die proses behoort die verwonde die waarheid oor haar lewe te kan konfronteer ten einde sin te maak uit ’n gefragmenteerde gemoed en te individualiseer (Ahmed 1989:76). Jakobus moedig lydendes aan om geduldig te wees omdat God hulle sal help. Hierdie is egter nie ’n passiewe soort geduld nie, maar ’n strewe om sin te vind binne moeilike omstandighede. In ’n samelewing waar onreg voortbestaan, sal belydenis gedurig nodig wees.

Ook gebed bring heling en uitkoms in tye van lyding. Carmichael (2004:183) verstaan gebed as konteks waar die gestuurde as vriend deelneem aan God se ouerlike herskepping. Opregte gebed is ’n basiese element van ’n Christelike lewe en gemeenskap met integriteit (Jakobus 1:6-8; 4:3; 5:13-16). Praxis word versterk deur ’n lewe van gebed. Jakobus 1:6-8 en 4:3 wys op verkeerde maniere van bid. Albei wys op dubbelhartige mense wat hul eie belang soek. ’n Lewe van konsekwentheid is volgens Jakobus ware wysheid (Jakobus 1:5, 1:22 en verder). In Jakobus 5:14-16 word nie alleen ouderlinge nie, maar ook alle gestuurdes gevra om vir mekaar te bid. Kragtige gebed is nie alleen moontlik vir groot leiers soos Elia nie, maar vir almal (Jakobus 5:17-18). Deur te wys op die lewe van Elia, herinner die skrywer die hoorders hoe belangrik dit is om binne die wil van God te bid. Beide Elia se profesie en gebed was gegrond op die wil van God, wat sentraal staan (Warrington 2004:366).

Gemeentes kan meer ruimte skep vir voorbidding. Gemeentes maak reeds gebruik van gebedslyste en omsendbriewe, maar daar kan meer gedoen word om vir die gejaagde lewe waarin die gestuurde moet bestaan, gebedstyd in te ruim. Tydens eredienste kan byvoorbeeld ’n tyd van stilte gegun word vir voorbidding vir ander. ’n Gebedsvertrek of gebedshulplyn kan by die kerkgebou of ’n gestuurde se huis beskikbaar gemaak word vir voorbidding. ’n Gebedsblog, Twitter- of Facebook-blad kan ook lei tot groter interaktiewe betrokkenheid by voorbidders.

6 GEVOLGTREKKING

Hierdie nadenke is ’n poging om ’n bydrae te lewer tot die vestiging van ’n ekofeministiese werklikheidsverstaan27 as deel van ’n projekidentiteit binne die kerk, deur ’n bewusmakingsproses in antwoord op die volgende vraag: Tot watter mate funksioneer die kerk as helende en bevrydende ruimte in ’n tydperk van liminaliteit? Hierdie proses sal die benoeming van vorme van onderdrukking behels en voorstelle tot ’n nuwe verstaan van die geopenbaarde waarheid uit die Bybel. Post-patriargale ruimtes sal waardes soos niekompetering, niegewelddadigheid, samewerking en die meerdimensionaliteit van die menslike ervaring28 voorstaan.

In die strewe na transformasie is die identiteit en individuasie van die gestuurde van deurslaggewende belang. ’n Post-patriargale gemeenskap van gelowiges en ’n ekofeministiese interpretasie van die teks Jakobus sal bydra tot die vorming van die identiteit van gestuurdes deur individuasie. Individuasie is moontlik indien die individu binne aanvaardende ruimtes toegelaat word om hulle volle potensiaal te bereik. Dit sal lei tot bevrydende en helende handelinge en skepping van veilige ruimtes binne die gemeenskap van gelowiges.

Uit ’n feministiese perspektief leef kinders van God in afwagting dat God se huishouding op aarde gevestig word waar die mens en natuur in ’n gemeenskap van vryheid en verantwoordelikheid sal leef. Die huishouding van God (ekklesia) is nie alleen ’n fisiese plek nie, maar ook ’n verhouding waarbinne die wil van God gedoen word. Russel (1987:20) verwys na herinneringe van ’n toekoms waarin die onderdruktes, die gemarginaliseerdes en “die kleintjies” van God se huishouding in ’n herstelde skepping sal leef te midde van oorheersende strukture.

As die interpretasie van Jakobus oor die huishouding van God as helende en bevrydende ruimte, in ’n bedieningspraktyk gestalte kan vind, sal dit vir alle gelowiges, maar veral die onderdruktes en gemarginaliseerdes in die samelewing, ’n gelooftuiste en herstelruimte bied. Hierdeur sal alle mense kan tuiskom, saam met (histories) kwesbares en gemarginaliseerdes, in God se huishouding, in liminale plekke met ’n eie identiteit omdat niemand binne onderdrukkende strukture daarvan weerhou sal word om te individualiseer en medeskeppers saam met God te wees nie.

BRONNELYS

Ackermann, D.M., Draper, J., Mashinini, E. (1991) Women Hold up Half the Sky: Women in the Church in Southern Africa. Cluster Publications, Pietermaritzberg.

Ahmed, D.S. (2002) Women, Psychology and Religion. (Ahmed 2002:Bl.70-88).

Ahmed, D.S. (Ed) (2002) Gendering the Spirit: Women, Religion and the Post-Colonial Response. Zed Books, London en New York.

Avis, P. (1989) Eros and the sacred. SPCK, London.

Baron, R.A., Byrne, D. (2000) Social Psychology. Allyn & Bacon, Massachusetts, VSA.

Barton, S.C. (Ed) (1996) The Family: In Theological Perspective. T&T Clark, Edinburgh.

Bekker, C. (2010) “Die huishouding van God” as helende en bevrydende ruimte in ’n tydperk van liminaliteit. Die ontwikkeling van ’n teologiese basisteorie. ’n Doktorale Proefskrif in die Praktiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Bekker, C. (2010) Die Huishouding van God volgens Jakobus: Rolmodelle en vriendskap onderweg na ’n postpatriargale identiteit. Artikel NGTT Maart 2011.

Blackden, C.M., Wodon, Q. (2006) Gender, Time use and Poverty: Introduction. (Blackden & Wodon 2006:Bl1-12).

Blackden, C.M., Wodon, Q. (Eds) (2006) Gender, Time use, and Poverty in Sub-Saharan Africa. The World Bank, Washington DC, VSA.

Blankenhorn, D., Browning, D., Stewart Van Leeuwen, M. (Eds) (2004) Does Christianity Teach Male Headship?: The Equal-Regard Marriage and Its Critics. William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids Michigan.

Bloomquist, K.L. (1989) Sexual Violence: Patriarchy’s Offense and Defense. (Carlson-Brown & Bohn 1989:Bl.62-69).

Breidenthal, T.E. (1997) Christian Household: The Sanctification of nearness. Cowley Publications, Boston, V.S.A.

Brock, R.N. (1988) Journeys by Heart: A Christology of Erotic Power. The Crossroad Publiching company, New York, VSA.

Browning, D. (2004) The Problem of men. (Blankenhorn, Browning & Van Leeuwen 2004:Bl.3-12).

Cargal, T.B. (2004) When Is a Prostitute Not an Adulteress? The Language of Sexual Infidelity in the Rhetoric of the Letter of James. (Levine 2004:Bl.114-126).

Carlson-Brown, J., Bohn, C.R. (Eds) (1989) Christianity, Patriarchy and Abuse: A Feminist Critique. The Pilgrim Press, New York.

Carlson-Brown, J., Parker, R. (1989) For God So Loved the World? (Carlson-Brown & Bohn 1989:Bl.1-30).

Carmichael, L. (2004) Friendship: Interpreting Christian Love. T&T Clark International, New York, VSA.

Castells, M. (2004) The Information Age: Economy, Society, and Culture. Volume II. The Power of Identity. Blackwell Publishing, VSA.

Cummings, C. (1991) Eco-Spirituality: Toward a Reverent Life. Paulist Press, New York.

Dunn, J.D.G. (1996) The Household Rules in the New Testament. (Barton 1996:Bl.43-64)

Edley, N., Wetherell, M. (1995) Men In Perspective: practice, power and identity. Prentice Hall/Harvester Wheatsheaf, Hemfordshire, London.

Gladwin, C.H. (1991) Introduction. (Gladwin 1991:Bl.1-24).

Gladwin, C.H. (Ed) (1991) Structural Adjustment and African Women Farmers. University of Florida Press, Florida, VSA.

Grobbelaar, J. (2008) ’n Ondersoek na die bediening van Laerskoolkinders in en deur die gemeente as intergenerasionele ruimte. ’n Doktorale Proefskrif in die Praktiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Habel, N.C. (2001) Earth First: Inverse Cosmology in Job. (Habel & Wurst 2001:Bl.65-77b).

Habel, N.C., Wurst, S. (Eds) (2001) The Earth Story in Wisdom Traditions. Sheffield Academic Press, Sheffield, Engeland.

Hendriks, H.J. (2004) Studying congregations in Africa. Lux Verbi.BM. Wellington.

Isherwood, L., Stuart, E. (1998) Introducing Body Theology. Sheffield Academic Press, Sheffield, VK.

Juma, J. (2007) Africa’s Agriculture: Prejudice Impedes Women Productivity. Berig vir die “The African Executive” (Tydskrif) 12-19 September 2007. Afgelaai van die internet op 19 Mei 2008. http://www.africanexecutive.com/modules/magazine/articles.php?article=2535

Kanyoro, M.R.A., Njoroge, N.J. (Eds) (1996) Groaning in Faith: African Women in the Household of God. Acton Publishers, Nairobi, Kenia.

Lemmer, J. (2005) Identity & sexual Identity. Sexology S.A., Pretoria.

Lim, L.Y.C. (1997) Capitalism, Imperialism and Patriarchy: The Dilemma of Third World Women Workers in Multinational Factories. (Visvanathan et al 1997:Bl.216-229).

Levine, A. (Ed) (2004) The Catholic Epistles and Hebrews. The Pilgrims Press, Cleveland.

Malina, B.J. (1993) The New Testament World. Insights from Cultural Anthropology. Revised Edition. Westminister /John Knox Press, Louisville, Kentucky.

McFague, S. (1987) Models of God: Theology for an Ecological Nuclear Age. SCM Press, London.

McFague, S. (1993) The Body of God: An Ecological Theology. SCM Press, London.

Mead, L.B. (1994) Transforming Congregations for the Future, An Alban Institute Publication, Once and Future Church Series. The Alban Institute, VSA.

Müller, J. (2002) Gesinne van binne. Barnabas, Bloemfontein.

Nakawombe, J.K. (1996) Women in the Kingdom of God. (Kanyoro & Njoroge 1996:Bl.23-30)

N.G. Proteahoogte (2010) Daniël-konferensie. Afgelaai van die internet op 26 Februarie 2010. http://www.proteahoogte.co.za/

Njoroge, N.J. (1996) Groaning and Languishing in Labour Pains. (Kanyoro & Njoroge 1996:Bl.3-15).

Pienaar, J., Strydom, M., Myburgh, K., Goeiman, C., Endres E., Pretorius, W (2008) Families in die kragveld van die Gees. Pinksterreeks vir 2008, geplaas vir NG Kerk Noordelike sinode. Afgelaai van die internet 10 September 2008. http://www.ngk-ntvl.com/Pinkster_2008.pdf

Perel, E. (2007) Mating in captivity: Sex, Lies, and Domestic Bliss. Hodder & Stoughton, London.

Phiri, I.A., Nadar, S. (2009) “Going Through the Fire with Eyes Wide Open?”: African Women’s Perspectives on Indigenous Knowledge, Patriarchy and Sexuality. Paper read at a Joint Societies of Religion and Theology Meeting, Stellenbosch, June 2009.

Radford Ruether, R. (2003) Ecofeminism. (Soskice & Lipton 2003:Bl.23-33).

Rosenberg, M.B. (2003) Nonviolent Communication: A Language of Life. 2nd Edition. PuddleDancer Press, Encinitas.

Russel, L.M. (1987) Household of freedom: Authority in feminist theology. Philidephia, Westminister.

Scaer, D.P. (1983) JAMES the apostle of FAITH: A primary Christological Epistle for the Persecuted Church. Concordia Publishing house, St Louis.

Schoeman, H. (2004) Regverdiging vir multigenerasiebenadering tot geweld teenoor vroue. Acta Academica Supplementum 2004 (1): 1-31.

Schüssler Fiorenza, E. (1992) But She said. Feminist practices of Biblical interpretation. Beacon Press, Boston.

Schüssler Fiorenza, E. (Ed) (1994) Searching the Scriptures, Volume Two: A Feminist Commentary.The Crossroad Publishing Company, New York.

Schüssler Fiorenza, E. (2001) Wisdom ways. Introducing Feminist Biblical Interpretation. Orbis Books, New York.

Soskice, J.M., Lipton, D. (Eds) (2003) Oxford Readings in Feminism: Feminism & Theology. Oxford University Press, New York.

Storr, R.J. (1974) Sex and Gender: Development of Masculinity and Femininity. Aronson, New York, VSA.

Swart, A. (1996) Dignity and Worth in the Commonwealth of God. (Kanyoro & Njoroge 1996:Bl.53-63).

Tamez, E. (1994) James. (Schüssler Fiorenza 1994:Bl.381-391).

Visvanathan, N., Duggan, L., Nisonoff, L., Wiegersma, N. (Eds) (1997) The Women, Gender & Development Reader. Zed Books, London.

Warrington, K.(2004) James 5:14-18: healing then and now. International Review of Mission 93 (370-371 Jl-O): 346-367.

TREFWOORDE

Ekofeminisme, Huishouding, Patriargie, Gender, Heling, Gasvryheid, Jakobus

KEY WORDS

Eco feminism, Household, Patriargalism, Gender, Healing, Hospitality, James

KONTAKBESONDERHEDE

Dr C Bekker

Frangipanistr.14, Brackenfell

christelle@iburst.co.za

Prof H Jurgens Hendriks

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

hjh@sun..ac.za

1 Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se doktorale proefskrif (Bekker 2010). Prof HJ Hendriks was die promotor.

2 Juma (2007) berig byvoorbeeld dat ’n onlangse opname in Kenia, die volgende bevind het: 50% van die manlike deelnemers verkies vroue wat minder as hulle verdien en 35%, vroue wat dieselfde verdien as hulle. 50% Verkies vroue wat deeltyds werk en 39%, vroue wat voltyds werk. Gladwin (1991:8) berig dat mans weier om aan die verbouing van voedsel vir die huishouding deel te neem, omdat dit as “vrouewerk” beskou word.

3 Dit laat vroue dikwels magteloos om hulle omstandighede te verander. Meer as twee derdes van die wêreld se onbetaalde werk word deur vroue gedoen. Vroue in Afrika is verantwoordelik vir arbeid ten opsigte van lewensonderhoud en die versorging van alle familielede. Sy is verantwoordelik vir voedselvoorbereiding, versameling van hout en water, versorging van kinders ensovoorts wat tyd-armoede tot gevolg het en onder andere die bestryding van armoede strem. Tydens die siekte of dood van vroue neem ander vroue hierdie taak oor. Dit word meestal gedoen sonder om oor die rede hiervoor na te dink. Ook geweld en onderdrukking word as “onafwendbaar” verdra. Geweld en onderdrukking hou gevolge op psigologiese vlak vir vroue in, wat bydra tot vroue se magteloosheid om medeverantwoordelikheid vir die samelewing te aanvaar.

4 ’n Voorbeeld van die handhawing van die patriargale denkraamwerk word gevind in die reeks: “Families in die kragveld van die Gees” wat vir Pinkster 2008 vir die NG Kerk opgestel is deur Johan Pienaar, in samewerking met Marina Strydom, Kobus Myburgh, Colin Goeiman, Ernst Endres en Willem Pretorius. Hierin word die volgende oor die huwelik gesê: “Murray Janson skryf êrens aangrypend dat vir die vrou die woord “onderdanigheid” ten diepste beteken om ’n dak oor haar lewe te hê. God sê vir die vrou dat sy haar man as ’n dak moet beskou wat Hy oor haar geplaas het om haar te beskerm. Die man moet haar dien deur vir haar ’n dak te wees! Sy moet die man dien deur hom toe te laat om vir haar ’n dak te wees. Met die besluite wat haar man neem, die rigting wat hy aandui en die leiding wat hy gee, moet hy sorg dat sy maksimaal kan groei. Soos die gemeente aan die Here onderdanig is en Hy hulle beskerm, so moet die vrou na die man kyk en vir hom sê: “Ek wil nie buite jou om en los van jou beweeg nie. Ek wil nie op my eie wees nie. Kom en beskerm my, asseblief. Ek waardeer jou as die dak oor my lewe!”… “Liefde is vir die man om vir sy vrou te sê: “Toe ek jou die dag voor die kansel ontvang het, was jou lewe ses en sewentig persent reg. Ek gaan jou so dien, jou so liefhê, so met jou praat, so oor jou dink en so met jou werk dat wanneer ek jou die dag vir die Here teruggee, jy vyf en tagtig persent geword het. Dít is die liefde wat die Here van ’n man verwag” (Pienaar et al 2008). ’n “Daniël-konferensie” word ook byvoorbeeld in die eerste kwartaal van 2010 in die Weskaap gehou en word as volg beskryf: “As ons kyk na hoe God wil hê dat ons manne teenoor ons gesinne en families moet optree dan kan ’n mens duidelik die rolle sien van ’n Koning – wat in liefde regeer, ’n Priester - wat intree by God vir sy gesin en die leiding neem geestelik en ’n Profeet - wat as leier voor stap in die rigting wat God se wil is (NG kerk Proteahoogte 2010).

5 Ackermann, Draper en Mashinini (1991:130) omskryf patriargie as volg: “Patriarchy is the power of the fathers; a familial, social, ideological system in which men – by force, direct pressure, or through ritual, tradition, law and language, customs, etiquette, education and division of labour – determine what part women shall or shall not play, and in which the female is everywhere subsumed under the male.” Hoewel die “beheer van die vaders” dalk nie meer so algemeen vandag is nie, is die oorheersing van vroue deur mans wel algemeen (Edley en Wetherell 1995:123, Nakawombe 1996:42).

6 Individuasie verwys na ’n lewenslange groeiproses waardeur die individu tot verstaan van haar unieke identiteit kom (Lemmer 2005:68).

7 Waar die lede van die liggaam saam is, vind gemeenskap van gelowiges plaas.

8 Van ouderlinge en diakens word volgens 1 Timoteus 3:1-13 verwag om hulle huisgesin te kan beheer, ten einde die sorg van die gemeente te kan waarneem. In Titus 1:7 word ouderlinge “bestuurders van die huishouding van God” genoem. Die aanbevelings verwag dat so iemand “onberispelik” sal wees en “getrou aan hulle vroue.” Dit wil voorkom of patriargale waardes mettertyd al meer na vore gekom het by die inrigting van die kerk. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 30) verduidelik byvoorbeeld dat die kerk “geleer en regeer” moet word deur “betroubare persone” sodat alles “behoorlik en ordelik geskied” volgens die voorskrif in 1 Timoteus 3.

9 Volgens Grobbelaar (2008:361) kom Strecker tot die gevolgtrekking dat selfs “[t]he formal characteristics of the household codes...were already present in the pre-Christian Greek and Hellenistic Jewish traditions.” Hiervolgens kan die huishoudelike kodes nie as “suiwer Christelike” konsep verstaan word nie, hoewel dit in die eerste eeuse kerk opgeneem is.

10 Die boek “The Power of Identity: The information age: Economy, Society and Culture,” is die tweede volume in ’n reeks van drie werke, deur Manuel Castells, ’n professor in Sosiologie.

11 Die vinnige groei van netwerke tussen rekenaars, nasies en gemeenskappe deur middel van die internet, media, vervoer en telekommunikasie, wat die planeet in een “groot dorp” verander het.

12 Die beskikbaarheid en reproduksie van inligting.

13 Schüssler Fiorenza 2001:94 verwys na hierdie proses as “Feminist Biblical Interpretation as a process of conscientization.” Hierdie proses behels die benoeming van vorme van onderdrukking en voorstelle tot ’n nuwe verstaan van die geopenbaarde waarheid uit die Bybel.

14 Wat wel uit eerste eeuse tekste duidelik is, is dat die getuienis van gesonde huishoudings aan die samelewing, ook vir die moderne gestuurde belangrik is. Hoe die huishouding saamgestel is en die wyse waarop die versorging van die huishouding geskied en verdeel word, sal anders daar uitsien as in die Bybelse konteks of patriargale samelewing.

15 Weduwees en wese is tradisioneel beskou as magtelose en verwaarloosde mense (Deuteronomium 14:29; 24:17-22 en Jeremia 5:28). Weduwees en wese was arm en onderdruk omdat hulle nie hulself kon verdedig nie, en ook niemand gehad het om hulle te verdedig nie – hulle is deur mense in magsposisies onderdruk. Die moeder van wese sou arm en sonder heenkome wees, net omdat sy ’n vrou is (Tamez 1994:385).

16 Prakties sal dit beteken dat die woord “gesin” ’n wyer toepassingsveld in gemeentes sal verkry. Wat tradisioneel as “gesinskampe” en “gesinsdienste” bekend gestaan en georganiseer is, sal so ingerig moet word dat mense uit diverse huishoudelike groeperings daar tuis kan kom en bedien kan word.

17 Naas die skool, kerk en televisie, is die huishouding die belangrikste ruimte waarbinne kinders gesosialiseer word en as bepalende faktor in die vorming van ’n werklikheidsverstaan funksioneer.

18 Die klem op die familie sou vroue in hierdie konteks net weer teruggeskuif het na die privaatsfeer.

19 Prakties sou dit beteken dat, omdat kinders die gasvryheid van ouers ontvang het, dit mettertyd vir kinders moontlik sal wees om aan ander gasvryheid te betoon – ook wanneer ouers van hulle afhanklik word.

20 Die funksionering van mag in die huishouding van God word juis deur Jesus met ’n kind geïllustreer. Die belangrikste in die koninkryk is mense wat in totale afhanklikheid van God, sonder om staat te maak op verdienste, Sy genade ontvang deur geloof. Jesus verwys verder na elkeen wat “een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak ...” (Matteus 18:6-9). “Hierdie kleintjies” is ook gestuurdes wat soos kinders geword het. Om Jesus te volg vra dus om enige toegekende mag af te staan en liewer daarop te let dat alle mense – selfs die kwesbare en onbelangrike van die samelewing – welkom en veilig is in die huishouding van God.

21 Die gebrek aan selfdifferensiasie (die mate waartoe die persoon in staat is om objektiewe en verantwoordelike besluite te kan neem op grond van haar kognitiewe reaksie ten opsigte van emosionele aangeleenthede in haar omgewing en haarself as unieke individu beskou), versteuring van emosionele prosesse in die kerngesin (emosionele afstand en huwelikskonflik, disfunksionering van die eglied of oordrag van die probleem na ’n kind), multigenerasie-oordrag (emosionele prosesse binne die kerngesin wat van een generasie na die volgende oorgedra word) en emosionele afsnyding (outonomie word verkry deur afstand te skep tussen een party en die kerngesin).

22 Vroue in Afrika se identiteit en status word dikwels nog bepaal deur hul verhouding met ander – as vrou of moeder – en nie deur besondere kwaliteite of persoonlike suksesse nie (Swart 1996:59).

23 Vandag word byvoorbeeld intimiteit, gedeelde waardes, gedeelde finansies en seksuele plesier as sentrale waardes van ’n huwelik beskou. Vrugbaarheid, bewaring van rykdom en familiebande is vervang deur romanse, intimiteit en emosionele- en seksuele versoenbaarheid. Hierdie waardes maak nie deel uit van die Nuwe Testamentiese beskouing van die huwelik nie en getrouheid in die huwelik sal hiermee meer insluit as slegs seksuele getrouheid.

24 Malina noem hierdie ’n samelewing van “limited-good”. Die ingesteldheid sou byvoorbeeld wees dat as jy ryk is, rykdom noodwendig ten koste van ’n ander bekom was (Malina 1993:43).

25 Blackden en Wodon (2006:1-12) skryf oor die tyd-armoede waaronder vroue in Afrika ly, weens die onregverdige verdeling van huishoudelike take tussen mans en vroue. Volgens Lim (1997:221) benadeel patriargale denke en onregverdige verdeling van huishoudelike take vroue, omdat vroue hulle genderrol aanvaar en daarom dikwels nie die motivering het om bemarkbare vaardighede te bekom nie. Hierdie gegewe word bevestig deur Blackden & Wodon (2006) en wys op die feit dat wanneer die armoede-vraagstuk aangespreek word, die onregverdige verdeling van werkslading (tyd-armoede) eers aangespreek behoort te word.

26 Die woedende persoon benodig ’n veilige ruimte/baarmoeder waarbinne hy/sy die skade wat hom/haar aangedoen is of deur hom of haar aangebring is, te kan deel. Deur ondersteuning en herstellende samewerking kan hierdie woede konstruktief gekanaliseer word om iets beter te bereik, volgens Anthonissen (Openbare lesing, tydens ’n “Being-shop” oor konstruktiewe woede op 14 September 2004 te Stellenberg N.G.Gemeente, Bellville). In so ’n baarmoeder kan die verwonde tuiskom en tyd gegun word om te groei ten einde weer selfstandig die werklikheid van die lewe te kan aandurf. Binne hierdie baarmoeder word die individu die ruimte gegun om haar eie skadukant te konfronteer. Wanneer die individu deur haar skadukant in primitiewe aggressie teenoor die ander reageer, bied die baarmoeder ’n aanvaardende en vergewende ruimte van die “perfekte ouer” (Avis 1998:76).

27 Hiervolgens word gestreef na ’n praxis waar geen onderdrukking teenwoordig is nie, maar dit neem die verantwoordelikheid om veral vroue se bydraes tot hul reg te laat kom en die mens en die natuur in harmonie te laat leef.

28 Met veral klem op die heilsaamheid van menslike liggaamlikheid en intuïtiewe vermoë.