Nel, M
Universiteit van Pretoria

Verskuiwinge in die lewens- en tydsbeskouing van die inwoners van Siro- Palestina (1200-500 vC).

ABSTRACT

Shifts in the way the inhabitants of Palestine looked at life and time during the period 1200-500 BCE

The Levant was inhabited by Canaanites during the second millennium BCE, and from 1200 BCE onwards also by the Israelites. The Israelite view held on life and the world is well known from the scriptures that they had left behind. The Canaanite way of thinking remained unknown until the tell at Ras Shamra was excavated and the city of Ugarit was brought to light during 1929. A series of written sources were found in the city’s palace archives and library. Thus, today the world view of the Canaanites can be compared to that of the Israelites. Both the Canaanite and the Israelite world consisted of a divinely ordained order that was essentially unchangeable. Chaos, evil and destruction posed a constant threat to the world. But order was ordained by the gods, and they would maintain it as long as men respected this order. This fixed order would continue to exist. At no stage was the end of the world and time envisaged by the Canaanite or Israelite. Death meant descending to Sheol, the pit. All people went to the same place. No distinction was made between good and evil people, or Israelites and the heathen. Mankind existed in Sheol until he was lost from memory. Then existence ceased. There was no expectation of a coming consummation of the world or righteousness.

At the time of the Exile, everything changed for the remnant of Judah. Since then the prophets promised a glorious future for a privileged group. Jahweh punished His people through the Exile for their polytheism and He used Cyrus the Persian as His servant to bring them back to their land. It was believed that this was the moment that He would establish His kingdom in Jerusalem. Jews found new hope in the vision that the world would be made new. This paved the way for a new theological development in Jewish thinking: the origins of Jewish apocalyptic.

1. INLEIDING

Siro-Palestina het in Bybelse tye as Kanaän bekend gestaan. Dié gebied omsluit die moderne Israel, Jordanië, Libanon en sentrale Sirië. Die area is in die tweede millennium vC deur die Kanaäniete bewoon, en vanaf 1200 ook deur die Israeliete.

Die Kanaäniete het in ’n aantal stadstate gewoon en uit landbou en handel ’n lewensonderhoud gemaak. Die gebied is sonder groot riviere, en dit het ekonomiese ontwikkeling gestrem sodat die gemeenskappe relatief klein was. Een van die groter stede wat opgegrawe is, beslaan slegs 20 hektaar (Cohn 20012:119).

Die bevolking het van seisoen tot seisoen geleef, met landbou wat deur droogte en hongersnood gekenmerk is.

Tot in die twintigste eeu was kennis oor die lewens- en wêreldbeskouing van Kanaäniete hoofsaaklik beperk tot inligting wat afgelei kon word uit profetiese uitsprake in dié verband. In 1929 verander die situasie egter as die tel by Ras Shamra opgegrawe word en die oorblyfsel van Ugarit bloot gelê word. Die stad is aan die Siriese kus geleë, oorkant Ciprus, op die handelsroetes tussen Mesopotamië, Egipte en die Middelandse See. Ugarit was ’n metropolis wat uit die Laat Bronsera dateer en wat mense uit verskillende kulture in kontak met mekaar gebring het.

’n Groot bron van geskrifte is in die paleisargief en stadsbiblioteek gevind wat vertel van ’n goue eeu wat die stad tussen 1400 en 1200 vC sou beleef het (vgl Gray 1964 en 1965 en Curtis 1985). Na ’n halfeeu van navorsing en debat vat Young (1981) die inligting saam. Oor Kanaänitiese mitologie, vergelyk Mullen (1980:1-112) en Gordon (1981:183-217).

Ugarit lê aan die noordelike grens van Kanaän maar deel die Kanaänitiese kultuur van die Middel- en Laat Bronseras (1700-1200 vC) Polities vorm die area deel van die groter ryke wat die oikoumene oorheers, hoofsaaklik die Egiptiese. Hierdie stadstate was meestal koninkryke waarvan die regeerders as vasale van wêreldheersers opgetree het en wat groot gesag uitgeoefen en die agting van die bevolking geniet het.

2. KANAÄNITIESE WÊRELD- EN TYDSBESKOUING

2.1 Koning

Ugaritiese legendes het die koningskap aan goddelike sanksie gekoppel. Die legendariese koning Keret verteenwoordig die gode voor die mense, en omgekeerd die mense voor die gode. Hy word deur die pantheon aangestel. Daar bestaan getuienis dat hy ná sy dood ’n vorm van goddelike status ontvang het (Cohn 20012:120). Die koning was verantwoordelik om geregtigheid te laat geskied en regverdige handel in die gemeenskap te bevorder. Hy moes ook die weduwees en wese versorg (Gibson 1978:102-107). Deur goeie orde te handhaaf, het hy ’n positiewe invloed op die natuur uitgeoefen sodat vrugbaarheid kon volg. Koning Danel word ’n “voorsiener van vrugbaarheid” genoem. Aanvanklik het die koning ook sy troepe in oorlogvoering gelei. Teen die helfte van die tweede millennium het verskeie van dié take op die professionele priesters, soldate en regters oorgegaan. Maar die koning het steeds die oppergesag gehandhaaf en was vir die handhawing van goddelik gestelde orde (Heltzer 1982:178-181).

Die Kanaänitiese landvolk het egter nie die monargie aanvaarbaar gevind nie. Hulle moes die luukse lewenstyl van die koningskap finansier. In Ugarit het tussen 6 000 en 8 000 mense gewoon, waarvan die meeste ekonomies onaktief was en afhanklik is van 25 000 landvolk wat hul lewenstyl moes finansier. Die stelsel was nie volhoubaar nie, en in die dertiende eeu het die ekonomie ineen gestort (Cohn 20012:120). Die klein dorpies het verlate agtergebly. Die stadstate het voor die aanslae van die “seevolke” van Anatolië en die Egeïse See geval, veral toe die verswakte Egiptiese ryk ook geen beskerming meer aan sy vasale kon bied nie.

Die Kanaänitiese wêreldbeeld oorleef egter en oefen ’n invloed uit op ’n groep wat ook in dié tyd hulle in die land vestig, die Israeliete.

2.2 Pantheon: El

Ugaritiese geskrifte koppel die naam van Elimelek aan die Oegaritiese mites – hy sou dit tussen 1380-1360 vC op skrif gestel het (Gibson 1978:67). Die groot pantheon is deur drie hoofgode regeer: El, Hadad (of Ba’al) en Anat. El (“god”) was die skepper wat alles in stand hou. Hy het ook gesorg vir kindergeboortes. En hy het ook die ander gode op letterlike wyse geskep. Sy genoot was Athirat of Asjera, wat in die skeppingswerk deelgeneem het. As hul koning het El die byeenkoms van alle gode gelei. Sy tent was die sentrum van die heelal, by die bron van die boonste en onderste waters van die kosmiese oseaan (Gibson 1978:209 en De Moor 1980:171-187). Die aardse koning was ’n weerspieëling van El, wat ook toesig oor geregtigheid moes hou.

El het omringende volke gebruik om die mense te straf wat teen hom oortree het. Oortredings het bestaan uit etiese of rituele misstappe.

2.3 Pantheon: Ba’al

Die god wat die grootste rol speel was egter Ba’al (Kapelrud 1952:2 en De Moor 1971:137). Ba’al het eers later tot die prentjie toegetree, moontlik omdat hy ’n god van vreemde oorsprong was wat deur immigrante saamgebring word. Hy is nie die seun van El en Athirat nie. Trouens, Athirat het hom gevrees en gehaat, nes sy die gode wat van haar afgestam het, gehaat het.

In vroeëre voorstellings is Ba’al as die goddelike soldaat uitgebeeld, bewapen met ’n swaard en spies. Hy is jonk en magtig, “die magtigste van die helde”, die god van storm en reën. Hy openbaar homself veral in die geweldige storms wat in herfs en laatwinter in dié gebied voorkom (Kapelrud 1952:61).

Anders as El is Ba’al nie die veraf god wat onaangeroer bly as vernietigende magte teen hom te staan gekom het nie. Hy was altyd aktief in die heelal besig om die kosmos teen die magte van chaos te beskerm. Die gang van die natuur en die voortbestaan van lewe op aarde het van hom afgehang. El het die wêreld goed gemaak, maar dit was Ba’al se taak om te sorg dat die skepping goed en funksionerend bly (Schmidt 1966:31). In hierdie opsig vertoon hy ooreenkomste met die jong Babiloniese stormgod, Mardoek.

By geleentheid het El téén advies in vir Yam, “heer van die see”, toestemming gegee om ’n paleis te bou. Hiermee het hy as’t ware koninklike status aan die god gegee. Die see is ewig aan die beweeg, ’n onregeerbare mag wat voortdurend die land bedreig. Yam se heerskappy omsluit ook die mitiese oseaan wat die hele aarde omring en enige tyd alle lewe kan vernietig. Yam word ook met ’n slang of draak geïdentifiseer (Gibson 1978:50, 68 gee die betrokke poëtiese gedeeltes weer wat hieroor handel). Skaars het Yam koninklike status ontvang of hy het die gode geviktimiseer en geïntimideer. Een van sy eise was dat hulle Ba’al aan hom moes oorhandig, en die gode moes toegee aan sy eis. So is Ba’al aangespoor om die wapen teen Yam op te neem, en hy tree as oorwinnaar uit die stryd. Hierop het El ’n paleis vir Ba’al gebou, bokant Safonberg, 335 kilometer noord van Ugarit. Moontlik sinspeel die mite op die motivering van priesters om bydraes by die volk te kry vir die oprigting van die Ba’altempel. Hierdie tempel is in Ugarit opgegrawe (Cohn 20012:123). Ba’al kon nie vrugbaarheid aan mense skenk as hy nie ’n aardse tempel het nie, so word geleer (vgl die vertaling van die poëtiese gedeelte in Gibson 1978:66).

Ba’al het op aarde geregeer, namens en onder El. Hy het El nooit opgevolg nie, soos in die Babiloniese mitologie gebeur het toe Mardoek vir Anu en Enlil opgevolg het nie. Volgens die ouer Kanaänitiese mite word Ba’al ook nie toegelaat om die hemel en aarde uit die liggaam van Yam te maak nie. Die twee mitologieë het invloed op mekaar uitgeoefen. Die ooreenkomste tussen die twee verhale kan hieraan toegeskryf word, maar hulle het tog verskillend ontwikkel.

2.4 Dood

Yam is oorwin deur Ba’al maar hy is nie vernietig nie. Ba’al het egter ook ’n ander, selfs meer angswekkende antagonis, Mot, die “geliefde van El” (vgl Alster 1980:82 en Margalit 1980:201-205). Mot is die god van droogte wat die land onvrugbaar maak. Sy blyplek is die woestyn. Hy is ook heer van die dood (sy naam beteken “dood”). Mot kom ooreen met die Mesopotamiese Nergal, wat ook ’n onversadigbare lus vir menslike vlees en bloed het (vgl Gibson 1978:68-69).

Elke lewende wese ontmoet een of ander tyd die god van die dood, naamlik Mot. Hy regeer in die onderwêreld, die “put” of “afgrond”.

Vir die mens wat sterf, is die dood ’n nuwe lewensvorm wat geen vreugde inhou nie. Gereelde offers van kos en drank wat deur naasbestaandes voorsien is, kon honger en dors tydelik verdryf. Almal geniet egter nie die voorreg van naasbestaandes wat omgee nie. Sommige dooies wat ontevrede oor hul toestand was, het ook mense aangeval (Spronk 1986:139, 204-205).

As Mot Ba’al uitdaag, vind die geveg op die grens tussen die aarde en die onderwêreld plaas. Ba’al verloor die geveg en hy sterf. Sy dood bedreig die voortbestaan van die hele kosmos. Selfs El besef wat die erns van die situasie is, en staan selfs van sy troon op om oor Ba’al te treur. Ba’al se suster en genoot, Anat, vind sy lyk en begrawe dit. Vir die Kanaäniet was ’n behoorlike begrafnis gepaard met die nodige rouritusse baie belangrik. Daarsonder kon die gees nooit tot rus kom nie. Hoe dit ook al sy, Ba’al herleef en die aarde word weer vrugbaar. Die gevaar is egter nie verby nie. Mot val vir Ba’al herhaaldelik aan. Volgens De Moor (1980:178) simboliseer die geveg die siklus van seisoene. Volgens ander simboliseer dit die stryd tussen die magte van lewe en dood, en orde en chaos. Waters verteenwoordig vernietigende magte wat voortdurend die skepping bedreig. Chaos is ’n immerteenwoordige moontlikheid en dood die grootste sekerheid. Albei vorm ’n onafskeidbare deel van die werklikheid (Margalit 1980:164-165).

2.5 Pantheon: Anat

Anat, Ba’al se suster en genoot, is ook in Anatolië, Mesopotamië en Egipte aanbid (Albright 1968:112-118 en Kapelrud 1969:91). Anat is ook heel waarskynlik in die Joodse militêre Elefantini-kolonie as Jahwe se genoot aanbid (Cohn 20012:256). Die Ras Shamra-tekste bevat meer inligting oor die rol wat sy gespeel het. Haar taak was om vrugbaarheid aan te help. Kleiplakette toon haar kaal en met vergrote geslagsdele, en is waarskynlik as amulette vir kindergeboortes gebruik. As Mot vir Ba’al doodmaak, val Anat op haar beurt die god aan en vermoor hom (Gibson 1978:78). Mot staan egter uit die dood op (Gibson 1978:77). Anat is ’n gedugte vegter en dra haar deel by saam met Ba’al om die wêreld teen chaos te beskerm (vgl gedeelte in Gibson 1978:47 wat vertel hoe Anat mense doodmaak tot sy in hul bloed loop. Haar bloeddorstigheid word egter nie geles nie, want sy maak haar soldate in haar eie tempel dood en was haar hande in hulle bloed). Sy tree as “stammoeder van die nasies” op. Die beeld herinner aan Assiriese en Egiptiese basreliëftekeninge wat afgekapte hande en koppe van oorwindes toon (Gibson 1978:68-69).

Anat is die Westerse eweknie van die Mesopotamiese godin van oorwinning, Inanna of Ishtar. Anat is deur die farao’s van die negentiende dinastie vereer en haar kultus gevolglik uitgebou. Rameses II noem sy swaard “Anat is oorwinnend”. Die Ugaritiese samelewing was ’n militêre gemeenskap wat vele oorloë gevoer het, en uiteindelik volledig vernietig is. Hierdie feit het navorsers daartoe gebring om Anat as godin van oorlog te tipeer (Albright 1968:112-118).

2.6 Wêreldbeeld

Vir die Kanaäniet bestaan die wêreld uit ’n orde wat deur die gode vasgestel is en dus essensieel onveranderlik bly, maar tog steeds deur magte van vernietiging, chaos en kwaad bedreig word. Die orde sluit alle bestaande dinge in. Die beste wat die mens kan doen is om die orde te dien en hom/haar daarmee te versoen. Die orde word voortdurend, dus elke seisoen bedreig. Maar die oorwinning en handhawing van die orde is gewaarborg. Die wêreld sal vir altyd aangaan soos dit tans bestaan. Die meeste wat die mens kan hoop, is dat dinge sal bly soos dit altyd was (Cohn 20012:128). Dat die orde en tyd sal ophou bestaan, het hoegenaamd nie onder die Kanaäniete voorgekom nie, nes die geval was by die antieke Egiptenaars, Mesopotamiërs en Vediese Indiërs van die eerste drie millennia vC (bv Kemp 1989:14).

3. ISRAELITIESE WÊRELD- EN TYDSBESKOUING IN DIE TYD VAN DIE MONARGIE

3.1 Aankoms in Kanaän

Die vroegste vestiging van Israeliete in Kanaän wat argeologies bevestig kan word, dateer uit 1200 vC. Bewyse hiervan kan moontlik gebaseer word op die ontstaan van ’n honderd onversterkte dorpies in die heuwelgebied ver van die Kanaänitiese stede (Cohn 20012:129). Die inwoners van die klein dorpies leef van die skape, bokke en soms beeste wat aan hulle behoort. Sommige meen die dorpies is gestig deur ontevrede landvolk wat uit die stadstate gevlug het toe laasgenoemde verswak het (Gottwald 1979:14). Ander meen die dorpies is die gevolg van nomadiese immigrasie vanuit Edom en Moab (Redford 1992:271). Hierdie moontlikheid beteken egter nie dat die Eksodus-tradisie bloot fiksioneel verstaan moet word nie. Navorsing het aangetoon dat ’n eiendomlose volk, die Hapiru, op die buitewyke van die stedelike samelewing gewoon het, en moontlik deur Rameses II (1304-1237 vC) gedwing is om sy nuwe hoofstad te bou. Sommige van dié mense het moontlik ontsnap en deel van die migrasie in Kanaän gevorm. Die ooreenkoms tussen die woorde, Hapiru en “Hebreër”, kan in dié rigting wys. ’n Stad wat intussen op die Gisavlakte opgegrawe is, toon egter aan dat die Rameses-bouwerk nie deur slawe nie, maar professionele persone gedoen is.

Hierdie groepe het hulleself hergroepeer en stamme gevorm. Hulle het mettertyd groot dele van Kanaän verower, alhoewel hulle nooit die vrugbare en dig bewoonde stadstate aan die kus aangeval het nie. Teen ongeveer 1000 vC het ’n kombinasie van ekonomiese en militêre faktore tot die daarstelling van ’n gesentraliseerde Israelitiese staat onder ’n koning gelei. Hier begin die geskiedenis van Israel as ’n volk met ’n eie identiteit (Cohn 20012:130). Vroeër het die groep as twee losse groepering van stamme bestaan, maar die tweede koning, naamlik Dawid, het daarin geslaag om die groepe onder sy leiding te verenig. Dawid en Salomo het oor ’n groot groep Kanaänitiese stadstate van die sentrale en noordelike pleine geregeer, terwyl vasale van die stadstate belasting aan hulle moes betaal.

Die monargie in Jerusalem het sy politieke model aan die Nuwe Koninkryk van Egipte ontleen, sy burokratiese model aan Kanaänitiese stadstate, en sy ideologie van die koningskap aan Kanaänitiese en Mesopotamiese modelle (Albright 19662:71-72). Die verenigde staat het tot Salomo se dood in 926 of 922 vC geduur, as die twee huise elk sy eie koningskap vestig.

Die Noordelike ryk het in 745 vC begin verkrummel en finaal in 722 vC voor Tiglat-Pileser van die Neo-Assiriese Ryk geval. Hierdie heerser het die lokale bevolking gedwing om met die inwoners van ander provinsies saam te smelt, met die doel om die volk te ontbondel. Die Suidelike ryk oorleef die Ballingskap onder Nebukadnesar (597 en 587/6 vC), maar die Dawidiese monargie word vernietig en die tempel en hoofstad word verwoes.

3.2 Bronne

Om die wêreldbeeld van die Israeliete te beskryf word moeilik omdat die bronne divers van aard is. Die relevante gedeeltes in die Hebreeuse Bybel dateer uit 600 tot 100 vC en is geredigeer deur latere redakteurs met ’n eie ideologie en ervaring. Om die oorspronklike beskouinge agter die tekste te ontrafel is baie moeilik en in die meeste gevalle onmoontlik. Soggin (1984:357-367) is ’n goeie inleiding tot die geskiedenis. Lemche (1988) se weergawe verskil van hoe die Bybelse weergawe van Israel se geskiedenis verloop het.

3.3 Yahwisme

Die Noordelike Ryk was sterk, maar die Suidelike Ryk meer invloedryk omdat die Dawids- en Sionsideologie daar gefloreer het en tot Yahwisme gelei het. Die Hebreeuse Bybel skets Yahwisme as ’n eenvormige en onveranderlike wêreldbeeld. Moderne navorsing het egter getoon dat ten minste twee verskillende wêreldbeelde daarin opgesluit lê. Die eerste is die ideologie van die Jerusalem-monargie, wat grootliks met die Ugarit-wêreldbeeld ooreenstem. Tyd en afstand skei egter die opvattings van Ugarit en die Jerusalem van die Suidelike Ryk, sodat die invloed wat Ugarit op die Jerusalem-ideologie uitgeoefen het, eerder aan die gemene wêreldbeeld van die oikoumene toegeskryf moet word (Albright 19662:72). Die Siro-Palestynse wêreldbeeld oorleef dié van Ugarit met ’n duisend jaar en word voortgesit onder die Kanaäniete van die eerste millennium vC asook die Fenisiërs (Albright 19662:71-72).

’n Belangrike vraag is: waar kom die geloof in Jahwe vandaan? Sommige meen Jahwe is ’n Midianitiese god wat deur immigrante vanuit Egipte in Kanaän bekend gestel is. Ander meen dit was ’n onbelangrike god van die Kanaänitiese pantheon (Gray 1953:280). Wat wel seker is, is dat teen die tyd dat Israel ’n eie identiteit ontwikkel het, sy Jahwe as beskermgod toegeëien het, soos Kemos beskermgod van die Moabiete, Milkom van die Ammoniete, Hadad van die Arameërs en Melkart van die mense van Tirus was. As die koninkryk ná Salomo verdeel word, eien albei groepe Jahwe as beskermgod vir hulleself toe (Cohn 20012:131-132).

Aanvanklik was El die belangrikste god vir die Israeliete, net soos vir die Kanaäniete. Hier kan gelet word op die raaiselagtige uitspraak van El in die Ba’al-siklusse, “Die naam van my seun is Jaw” (vgl Gray 1953:278-283). El behou dwarsdeur die Hebreeuse Bybel tekens van sy oorspronklike waardigheid – daar word deurgaans met respek na hom verwys.

Die Israeliete het aanvanklik aan Jahwe in dieselfde terme gedink as wat die Kanaäniete aan Ba’al en die Babiloniërs aan Mardoek gedink het. In hierdie verband kan na Rigters 5 verwys word, wat moontlik die oudste teks in die Bybel is, en na Jahwe as stormgod verwys (vgl Deut 33:26). Jahwe onderwerp die waters asook die drake Leviatan en Rahab. Die psalms wat hierdie gedagtes hanteer, doen dit teen die agtergrond van Jahwe se koningskap (Pss 29:2,10 en 93; vgl ook Anderson 1987:99). Die ooreenkoms met die Ba’al-beskrywing is duidelik. Die psalms is moontlik tydens die herfsfees gesing om die koms van die nuwe jaar in te lui, ’n viering wat Jahwe se koningskap sou bevestig. Sommige navorsers sien hierin ’n Jahwe-troonbestyging soos die geval met Mardoek tydens die akitu, of ook ’n viering van Jahwe se oorwinning oor die magte van chaos (vgl Gray 1953:7-38). Hierdie psalms dateer waarskynlik uit die monargiese periode, wat beteken dat dit vroeër is as die Genesis 1-skeppingsage wat uit die sesde eeu vC dateer. Die implikasie is duidelik: voor Jahwe die waters van mekaar kon skei en die firmament skep, moes hy eers die chaosmagte oorwin, nes Ba’al (vgl ook Ps 74:13-14).

Jahwe onderhou ook die wêreldorde, soos Ba’al. Hy skenk die reën deur waters uit die boonste deel van die kosmiese oseaan deur vensters in die lug vry te laat (Ps 65:9-13).

3.4 Jahwe as angswekkende oorlogsgod

Ba’al laat die oorlogsfunksie aan sy suster oor, maar Jahwe voer self oorlog (Von Rad 1951:13 en Cross 1973:91-111). Die stamme wat later Israel vorm, was by oorlog betrokke. Die meeste navorsers aanvaar dat daar nie ’n groot intog was nie, maar afsonderlike groepe of stamme was tog by militêre aksie teen Kanaänitiese stamme betrokke. Reeds so vroeg as in die “Lied van Debora” (Rigters 5) word aan die stryd teen politieke vyande ’n kosmiese dimensie verleen, as Jahwe die sterre gebruik om in die geveg ten gunste van sy volk in te meng. Die sterre word beskou as goddelike wesens van ’n laer orde. Kanaänitiese mitologie ken ook sterre as deel van die hemelse byeenkoms van gode, naamlik “die seuns van El” (Cross 1973:97).

Jahwe word ook as oorlogsgod beskryf as hy die onregeerbare waters onderwerp (Hab 3:8; Eseg 29:3-5). Jahwe se taak het dieselfde gebly net soos aan die begin: om chaos te onderwerp en die kosmos te hervestig.

3.5 Jahwe en El

Anders as in die Feniciese mitologie bly Jahwe nie ondergeskik aan El nie. Mettertyd het Israel hul beskermgod tot die posisie van unieke waardigheid verhef, verhewe bo alle ander gode. Later vind ’n identifikasie tussen El en Jahwe ook plaas, alhoewel duidelike tekens in die Hebreeuse Bybel voorkom wat aandui dat die volk aanvanklik aan El en Jahwe as twee aparte gode gedink het. Sommige navorsers meen dat die twee gode apart bestaan het tot hulle in die periode van die ballingskap deur Deutero-Jesaja verenig is. Sommige psalms uit die monargiese periode dui egter aan dat Jahwe reeds met El geïdentifiseer is en van sy kenmerke aan hom toegedig is. Barker (1992:23) is van mening dat die identifikasie tussen El en Jahwe eers tydens die ballingskap plaasvind. Jahwe word nou beskryf as El Eljon, “die hoogste”. En sy heerskappy is absoluut soos dié van El (Pss 46:10; 97:9; 103:19 asook Jes 6:3). Sy mag is universeel omdat Hy die heelal geskep het (Ps 93:3, 5). Psalm 82 skets Jahwe as voorsitter van ’n byeenkoms van gode waar hy die oordeel oor die gode uitspreek omdat hulle nie reg laat geskied het nie, maar die onderdrukkers se kant gekies het. Deur nie geregtigheid te handhaaf nie, het die gode die geordende wêreld bedreig en die fondamente van die aarde laat skud. Alhoewel die gode die “seuns van El” was, moes hulle sterf. In die Fenisiese mitologie was El verantwoordelik vir die funksie wat Jahwe hier vervul, as regter en voorsitter van die byeenkoms van die gode (vgl ook Pss 68:5 en 10:16-18).

3.6 Tempel

Dawid maak Jerusalem die sentrum van die Jahwe-kultus. Teologiese regverdiging hiervoor kan gevind word in Psalms 46:5-8 en 132:13-14. Die keuse van Jerusalem is ’n polities-gemotiveerde strategie, met die doel om alle vorige aanspraakmakers op die stad uit te skakel (Cohn 20012:136). Hier woon Jahwe en openbaar Hy sy wil. Hy regeer in Sion soos Ba’al in Safon. Sion word die “heilige rots”, sentrum en fondament van die geordende wêreld wat voortdurend teen die agente van chaos beskerm moet word.

Die Jerusalemtempel bevat ’n element van die misterieuse, soos alle Nabye Oosterse tempels. Slegs priesters mag die tempel betree (Haran 1977:245-259 asook Barker 1991:64). Die volk mag slegs die buitenste voorhof binnegegaan het. Die gebou het ’n doel wat grens aan ’n soort propaganda om naamlik die Israeliet (en Kanaäniet) te beïndruk en aan te toon dat die koningskap goddelik gesanksioneer is. Die belangrikste deel van die tempel bevat die ark, ’n pre-monargiese troon waarop Jahwe sit en heers.

Die plan van die tempel word aan Dawid geopenbaar, en kom ooreen met die hemelse woonplek van Jahwe/El. Die afwesigheid van enige beeld gee aan die tempel sy unieke karakter. Tog dui die ark die teenwoordigheid van Jahwe in die tempel aan. Zoroaster se volgelinge het later tempels gebou waar ook geen beeld voorgekom het nie, en slegs vuur vereer is (O’Flaherty 1976:27 en Eliade 1979:226).

Die tempel is op ’n groot rots gebou, wat as beginpunt van die skepping van die heelal beskou word. Onder die rots lê die kosmiese waters wat die orde bedreig. Die oerwaters word in die tempel gesimboliseer deur ’n enorme bronsbak. Die grootte van die bak was gelyk aan die helfte van die gebou self, en dit het op twaalf bronsbulle gerus. Die gebou verteenwoordig die geordende wêreld terwyl die bul, granaatappels en palmbome vrugbaarheid simboliseer. Die pilare voor die tempel simboliseer die permanensie van die wêreld (Barker 1991:87-114).

Die tempel verenig ook hemel en aarde, soos by die Mesopotamiërs. Die rites wat in die tempel bedryf is, het ten doel gehad om Jahwe se soewereine regering vanuit die hemel/vanaf die ark te onderhou. Enige foute wat by die rites sou insluip, het die geordende kosmos in gevaar gestel (Haran 1977:44).

Die sentrum van die kultus het op offerandes berus, net soos in die geval van die omringende volke. Die doel was om God te voed. Lof- en dankliedere was daarop gerig om God se mag te vergroot.

In koninklike rites verteenwoordig die aardse koning Jahwe se heerskappy op aarde. Die band tussen koning en nasionale God is by Israel net so sterk as by ander volke (2 Sam 7:16 en Ps 89:19-38; vgl Cross 1973:261-262).

3.7 Wêreldbeeld

Die Israelitiese wêreldbeeld in die dae van die monargie het baie in gemeen met dié van die Kanaäniete, Mesopotamiërs en Egiptenaars gehad. Die Israeliete het hulself gesien as geposisioneer in ’n goddelik geordende wêreld wat ter wille van hulle belange daargestel is en in essensie nooit sou verander nie. Dít word aangedui met die terme mishpat, tsedek en shalom. Mishpat is meer as oordeel. Dit dui op die konstante regering van Jahwe as koning. Dit dui ook die goddelik vasgestelde orde self aan, en kan as “reg” of “geregtigheid” vertaal word (Cohn 20012:138).

Die Kanaäniete beskou tsedek as die goeie, gunstige manifestasie van die songod. In Yahwisme bestaan tsedek in Jahwe self. Hulle noem die eienskap tsedakah. Alles wat Jahwe doen, van die reën wat Hy gee tot die straf op Israel se vyande, is ingesluit in tsedakah.

Shalom verwys na welsyn of welstand en welvaart, wat ’n vrugbare land, oorwinning in die oorlog en vrede tussen families ingesluit het. Shalom is die vrug van tsedek: as die volk tsedek handhaaf, geniet hulle land shalom (Ps 89:14 en Jes 45:8, 19).

Die Israeliete het egter goed geweet dat orde soos deur Jahwe vasgelê, selde onwrikbaar voortbestaan. Die kosmos is voortdurend deur magte van chaos en wanorde bedreig (vgl Deut 8:15; Num 20:5; Jes 34:9-15 en 27:2; Pss 46 en 89; en Jer 4:11). Die woestyn is byvoorbeeld beskou as gebied waar demone die heerskappy voer, soos gesimboliseer deur die reptiele wat daarin voorkom en die mens bedreig. Vyandige nasies bedreig die Israeliete soos chaosmonsters, soortgelyk aan watermonsters of die gloeiende woestynwind. En die dood wag as die laaste ver- nietigende mag op elkeen.

3.8 Lewe na die dood

Die Israeliet het dieselfde van die lewe ná die dood verwag as die Mesopotamiër of Kanaäniet nie (vgl Spronk 1986). Alle mense wat sterf, ryk en arm, regverdige en onregverdige, gelowige en ongelowige, gaan na Sheol, die onderwêreld of “put”. En niemand keer ooit weer daarvandaan terug nie. Sheol is onder die aarde, in die donker dieptes. ’n Vorm van bestaan heers daar wat egter deur naasbestaandes van die oorledene verbeter kan word deur offers van kos en drank. Sheol is die land van vergetelheid. Al wat die regverdige agter laat as hy soontoe gaan, is ’n goeie reputasie en seuns wat sy naam lewend sal hou. Die toekomsverwagting van die Israeliet word tot laasgenoemde beperk (Spronk 1986:86-92).

Die Israeliet het in monargiese tye dieselfde toekomsverwagting as ander Nabye Oosterse volke gehad, met uitsondering van die Zoroastriane. ’n Verwagting van ’n toekomstige voltrekking van die geskiedenis bestaan nie.

4. ISRAELITIESE WÊRELD- EN TYDSBESKOUING TYDENS DIE BALLINGSKAP

4.1 Nuwe omstandighede

Indien die Israelitiese wêreldbeeld verstar het in ooreenstemming met die gangbare omstreeks die monargiese tyd, sou dit waarskynlik dieselfde pad geloop het as die wêreldbeelde van die kleiner volke in Siro-Palestina, sowel as van Egipte en Mesopotamië. Die nuwe opvatting is aan die gang gesit deur ’n beweging wat Jahwe as enigste God verkondig het (vgl Smith 1971:2-69; Rose 1975; Keel 1980 en Lang 1981:55-73).

Alhoewel Jahwe die beskermgod van Israel was, is die algemene godsdienstige lewe deur vorme van politeïsme gekenmerk. Dat Israel ’n politeïstiese siening daarop nagehou het, word veronderstel in Ahlström (1963 en 1982) se werke, en beredeneer in Olyan (1988:2-101) en Smith (1990:132-168). Die gode van ’n laer orde is soms die “leërskare van die hemel” genoem (vgl Dentan 1968:86-102 en Mullen 1980:186-190). Tigay (1986:32) stem nie saam dat politeïsme ’n oorwegende rol in Israel se godsdienstige lewe gespeel het nie. Hy gebruik onomastiese gegewens om dit te probeer aantoon.

Die beskermgode van volke het die aandag van hul volgelinge opgeëis, maar nooit eksklusiewe lojaliteit van hulle verwag nie. Israel se profete verkondig die boodskap dat Israel se beskermgod die enigste God is en dat Hy eis dat Israel Hom alleen moet dien. Die Sjema (Deut 6:4-5) verteenwoordig hierdie standpunt. Uit dié tradisie ontwikkel monoteïsme en hieruit groei Judaïsme, en deur Judaïsme die Christelike geloof en Islam.

Die Hoseaboek is die oudste “Jahwe-alleen”-geskrif (Zenger 19982:475-477). Die profeet tree ná 750 vC op, alhoewel die boek byvoegings van ’n latere oorsprong bevat. Hosea stel die amptelike godsdiens van sy dag voor as politeïsties, wat ’n gruwel vir Jahwe is (vgl Hos 11:2;13:4). Hosea se verkondiging herinner aan die Dekaloog, maar die teenoorgestelde is waar: die Mosaïese wet word later neergepen en geïnterpreteer vanuit die “Jahwe-alleen”-beweging. Hosea teken Jahwe se verhouding met Israel in terme van die emosionele intensiteit en ambivalensie van die huwelik. Vir hom, asook Jeremia en Esegiël, is politeïsme niks anders nie as ontrouheid aan ’n verbondsgenoot (vgl Dentan 1968:46-179 en Smith 1971:43-44, asook Eks 34:14).

Die “Jahwe-alleen”-beweging ontwikkel heelwat later in die Suidelike Ryk as in Israel. Eers in die regeringstyd van Josia (641-609 vC) tree Sefanja as profeet op (Sef 1:4-6). Die hoëpriester Hilkia het hierdie gedagtegang ondersteun en het ’n boek aan die koning oorhandig wat tydens die herstelwerk aan die tempel gevind is. Die boek bevat die kern van Deuterononium 12-26 en moedig Josia aan om alle politeïstiese voorwerpe van die tempelterrein te verwyder en alle ander heiligdomme te sluit. Josia sterf in 609 vC sonder dat die “Jahwe-alleen”-beweging die oorhand kry. Maar die proses wat die tradisionele Israelitiese wêreldbeeld radikaal sou verander, het begin (Cohn 20012:143).

Die “Jahwe-alleen”-beweging is ’n vindingryke reaksie op die toestand waarin Israel en Juda hulleself bevind. As gevolg van magsuitbreiding van wêreldmoondhede is kleiner volke voortdurend bedreig. Israel se God blyk nie opgewasse te wees teen die gode van die wêreldmoondhede nie. En dit het tot die vraag gelei: waarom ly God se volk? Die “Jahwe-alleen”- beweging bied ’n antwoord: Jahwe straf sy volk omdat hulle nie eksklusiewe lojaliteit en trou aan Hom betoon nie. Jahwe bepaal die gang van die geskiedenis want Hy is die enigste God. Die konings van Assirië en Babilonië is instrumente in sy hand om sy volk se geskiedenis te beïnvloed. So ’n interpretasie van die geskiedenis en politieke gebeure is (sover bekend) uniek in die antieke wêreld. Die ander kulture het geglo dat die gode van ’n volk wat in ’n veldslag wen ook oor die gode van die oorwonne volk heers. Israel se profete leer: Israel se ondergang is duidelike tekens van Jahwe se geregtigheid en mag (Dentan 1968:179).

Die sogenaamde Deuteronomistiese beweging groei uit hierdie opvattings van gebeure in die sewende en eerste helfte van die sesde eeu en skep ’n samehangende teologie wat handel oor God se verkiesing van Israel en wat lei tot ’n verbond tussen Hom en sy volk. Die Deuteronomistiese geskiedwerk (Deut-2 Kon) interpreteer sewe eeue van Israelitiese geskiedenis in terme van verkiesing en verbond en gebruik beloning en vergelding as verklaringsprinsipe om aan te dui wat met Israel gebeur het (Zenger 19982:135-136).

4.2 Toratradisie

Die kern van die Deuteronomistiese teologie is die onderhouding van die Tora. Die Verbondskode (Eks 20:23-23:33) bevat 41 wette, die Deuteronomistiese Kode (Deut 12-26) bevat 68 wette en die Heiligheidskode (Lev 17-26) bevat 504. Die wet word as van goddelike oorsprong beskou. Talle van die wette kom ook in Mesopotamiese wetversamelings voor (Perlitt 1969:164). Sommige van die wette weerspieël egter duidelik die ideologie van die Deuteronomistiese beweging. Die doel is dat Israel ’n onderskeie volk sou word wat vir Jahwe afgesonder leef.

Die invloed van die Deuteronomistiese beweging op Juda is voorlopig onbeduidend. Die Ballingskap het egter die situasie verander. Nou word die onderhouding van die Tora belangrik om die groepie Judeërs se identeit te beskerm. Die Sabbat word onderhou, manlike persone word besny, reinheidswette word onderhou. Die motivering wat hiervoor gebruik is, is: Juda het in ballingskap beland omdat sy nie God se wette onderhou het nie. Haar heil lê in die streng nakoming van die Tora.

Ná die ballingskap bou Esra en Nehemia verder aan die identiteit van die Jode deur ook die onderhouding van die Tora te beklemtoon. Hierna word die Pentateug gefinaliseer sodat die vereistes wat Jahwe aan sy volk stel, duidelik aangetoon en bewaar kan word. Die onderhouding van die Tora het direk voortgevloei uit die teologie van die “Jahwe-alleen”-beweging. Die Tora hou voordele in vir die onderhouer en wat vergelyk kan word met die wyse waarop die Zoroastriane hul wetskorpus onderhou het. ’n Gewone mens kon voortaan die orde wat deur God vasgelê is, help onderhou en versterk. So ’n orde sal nooit vernietig word nie (Ps 119, veral verse 89-91 en 96).

4.3 Eksodustradisie

Ook die Eksodustradisie kry voortaan ’n nuwe interpretasie. Die wyse waarop die eksodus in die dertiende eeu vC plaasgevind het, indien dit wel plaasgevind het, is ’n kwessie waaroor waarskynlik nog lank besin gaan word. Een duidelike saak is: Die Noordelike Ryk het teen die agste eeu (’n) aspek(te) van die Eksodustradisie in haar volksideologie geïnkorporeer. Die ballingskapsituasie het nuwe betekenis en impetus aan dié tradisie verleen (Van Iersel & Weiler 1987:83-92 bespreek die betekenis wat die Eksodustradisie vir onderdrukte mense kan inhou). Voor of kort na die ballingskap boet die ou herfsfees wat Jahwe se oorwinning oor die chaoswaters herdenk, van sy belang in ten gunste van die pasgafees wat tydens die herfs gevier word (Cohn 20012:146). In die plek van ’n onveranderlike wêreldorde waar chaos jaarliks oorwin moet word, beweeg die konsep van die geskiedenis nou na die sentrum van die Judeërs se belangstelling. Dié geskiedenis begin vir Israel met die Eksodus.

Jahwe word egter nie as die enigste god wat in die geskiedenis optree beskou nie. Daar bestaan getuienis dat Egiptiese, Sumeriese, Assiriese, Babiloniese en Kanaänitiese gode ook in die geskiedenis van hul volke ingryp (Albrektson 1967:32-98). Daarby is militêre oorwinnings en neerslae dikwels as tekens van goddelike goedkeuring of wraak beskou. Hierdie stellings is gegrond op die (Kanaänitiese) Amarnabriewe uit die veertiende eeu en die (Moabitiese) Mesasteen van die negende eeu (Cohn 20012:147).

Volgens die Deuteronomis tree Jahwe egter veel meer doelgerig en konsekwent in die geskiedenis op as enige ander god.

4.4 Ballingskapsteologie

Die Deuteronomis(tiese skool) was moontlik nog aan die werk toe Juda in ballingskap gegaan het. Die omvang van die ballingskap het die klassieke profete se ergste verwagtinge oortref. Die hele geordende wêreld stort ineen – die Tempel as sentrum van orde word vernietig. Jeremia 4:23-25 getuig dat die Judeërs beleef het dat die orde opgehef sou wees en die aarde na chaos van die oertyd teruggeval het. Uit dié ervaring skep ’n nuwe geslag profete ’n nuwe teologie. Hul situasie konfronteer hulle met nuwe vrae waarop hulle antwoorde moet vind. God straf nou sy volk. Sal Hy weer, soos in Egipte, genade aan hulle bewys? Sal Hy hulle weer (kan) red?

Volgens die profete gaan God in die toekoms ’n groter daad as die Eksodus uitvoer. Jahwe se orde gaan herstel word en die omvang daarvan gaan groter wees as voorheen.

Op materiële gebied vaar die ballinge nie sleg nie. Maar tog is hulle ongelukkig want om ballingskap te wees, spel vir hulle die oorwinning deur die chaosmagte, wat met die dood vergelykbaar is. Die oorwinnaars het die nasiestaat Juda vernietig, die Jahwe-tempel afgebrand en die Dawidsdinastie uitgeroei. En ten spyte van hierdie nasionale rampe was daar sommige Judeërs wat in die ballingskapsituasie gefloreer het. Sommige Judeërs-in-ballingskap het dan ook Mardoek naas Jahwe begin aanbid.

Volgens Esegiël vlam nuwe hoop onder die ballinge op. Die profeet wat ’n priester in die Jerusalemtempel was, word in 597 vC na Babilonië weggevoer. Hy wy sy lewe in die vreemde aan die geestelike versorging van sy volksgenote. Die profeet leer dat die volk in ballingskap sit vanweë die politeïsme waarmee hulle hulleself in die Beloofde Land verontreinig het. Tog is dit nie die einde nie want die ballinge keer na Jahwe terug. Die groepie getroue Judeërs-in- ballingskap word die ware Israel, Jahwe se eie volk. Hulle verteenwoordig die enigste groep wat die eksklusiewe goedkeuring van Jahwe wegdra.

Esegiël voorsien dat God Israel se hart gaan verander (Eseg 11:19-20; 36:26-28). Alle Israeliete wat in die ballingskap verstrooi is, insluitende die Noordelike Ryk ’n eeu vantevore, sal na die beloofde land terugkeer. Die twee ryke sal verenig word met Jerusalem as hoofstad. Die Tempel sal herbou word en mooier wees as ooit tevore. Sion is die sentrale berg op aarde. ’n Nuwe Dawid sal as koninklike herder sy kudde beskerm, ’n beeld bekend uit die Egiptiese en Mesopotamiese kulture. En Israeliete sal as regverdiges leef. Jahwe sal goed wees vir sy volk. Hy sal hulle beskerm. Die mense wat in die land agtergebly het, sal geen deel hierin hê nie. En as hulle in hul veelgodery volhard, wag vernietiging op hulle (vir ’n opsomming van wat die tsedek sal doen, vgl Eseg 18:7-9 en 22:7).

Juda word in Esegiël se geestesoog ’n nasiestaat waar die gemeenskaplike Nabye Oosterse ideaal van ’n goddelik-bepaalde en alles-omvattende orde in elke faset van die lewe gerealiseer word, en enigiets wat die orde mag bedreig, sal geëlimineer word.

4.5 Deuterojesaja

Deuterojesaja (Deut 40-55) tree ’n halfeeu ná Esegiël op in die periode van 547-538 vC (nie almal stem saam oor die omvang van Deuterojesaja se werk of die periode wat hy optree nie; hier word die meerderheidsiening gehandhaaf). Kores II, die Persiese koning, bou in dié tyd die grootste ryk wat die mensdom nog gesien het. Wat is die implikasie vir Jahwe se volk? Kores II se oorwinnings is die gevolg van Jahwe se besluit, en die doel hiervan is die totale heil van Jahwe se getroue volgelinge. Kores is die Judeërs se redder. Hy is deur Jahwe gestuur (Jes 44:28 en 45:4).

Deuterojesaja is die eerste rasegte monoteïs (met die uitsondering van Zoroaster, oor wie se historiese plasing veel debat gevoer word). Voor sy tyd het die Deuteronomis en profete aanvaar dat die ander volke se gode ware gode is. Deuterojesaja ontken die werklikheid van heidense gode. Vele ander aspekte van Deutero-Jesaja verdien aandag in terme van Israel se teologiese ontwikkeling, soos die Dienaar van die Here-liedere en die profeet se veronderstelde universalisme. Slegs ’n god wat die oerchaos in orde kon omskep, kan die ware God wees. Slegs dié God kan Jode uit die chaos van die ballingskap red. Ook Psalm 74 beskryf die gevegsmite in terme van kosmogoniese belang. Die psalm is ’n klaaglied oor die vernietiging van die tempel. Jahwe oorwin die chaoswaters om die wêreld te orden. Jahwe is die Skeppergod.

4.6 Terugkeer

In 538 vC word die Neo-Babiloniese ryk deur Kores onderwerp, soos Deuterojesaja voorsien het. Kores laat onderworpe volke veel meer outonomie toe. Die Jode mag na hul land terugkeer. Die stad en selfs hul tempel mag weer opgebou word, en dit met fondse wat die Chaldese koning beskikbaar stel.

Tog stroom die volke nie na Jerusalem nie, soos deur die profeet aangekondig (Jes 2:2-4). Trouens, nie eens veel van die weggevoerde Jode keer terug nie. Die diaspora het ’n lewenswyse geword. Van nou af is dit tegnies nie meer moontlik om van “Israeliete” te praat nie, maar van “Jode”.

In plaas daarvan dat hulle stad en land as die sentrum van die wêreld beskou word, besit die klein nasiestaat slegs ’n stuk grond wat ongeveer 40 vierkante kilometers beslaan is en 20 000 inwoners huisves. Die groepie is polities onmagtig en sonder ’n weermag. Die profete hou egter nie op om van heil te praat nie. Veral Jesaja 56-66, asook gedeeltes in Jesaja 1-40 wat uit die ná- ballingskapse periode kom, verwys hierna. Ook Sagaria en Joël, twee na-ballingskapse profete, en gedeeltes in Amos, Hosea, Miga en Sefanja wat uit die na-ballingskapse periode kom, bevat sodanige profesieë. God gaan weer ingryp. Sy werk gaan tot ’n nuwe skepping lei. Die aarde sal nie vernietig word nie maar radikaal getransformeer word (Jes 11:6-9; vgl Eissfeldt 1974:317-318). Jerusalem word ’n stad sonder mure en Sion die hoogste berg op aarde (Sag 2:5). Jahwe se Gees verander mense se harte (Joël 2:27-29). Mense sal baie oud word (Jes 65:20). Siekes sal gesond word (Jes 35:5-6).

4.7 Heil

Al die getroue volgelinge van Jahwe kan heil verwag. Die Jode se intellektuele horisonne het verbreed ná hul bootstelling aan die Perse sodat sommige uitsprake in hul geskrifte aandui dat heidene tot aanbidding van Jahwe bekeer kan word. Hulle mag ook aan die tempelkultus deelneem, en selfs priesters word (Jes 56:3 en 66:21).

Die hooftema van die na-ballingskapse teologie is egter: Israel se vyande is Jahwe se vyande en sy wraak op hierdie mense sal angswekkend wees. Hul straf is om Israel en die tempel te dien (Jes 60:10-14 en 61:5-6). Nasies soos Edom wat egter die volk verdruk en beveg het, sal vernietig word (Jes 34:8-10). Jahwe is die antieke Kryger wat in die onderwerping van die vyande die finale oorwinning oor chaos behaal.

Tog sal nie alle Jode in die groot voleinding ’n deel hê in die heil en seëninge nie. Die moontlikheid word geskep dat ’n mens as deel van God se volk gebore kon word maar die voorregte daarvan verbeur, waarskynlik deur veelgodery aan te hang. Barker (1987:212-218) meen egter dat “die goddeloses” na die terugkerende ballinge verwys soos waargeneem deur dié wat in die land agter gebly het. Hanson (1975:132) is weer van mening dat die term na die Sadokitiese priesters verwys. Die nuwe era wat gaan aanbreek voorsien die totale uitwissing van die goddelose, die wettelose en die bose (Jes 65:12, 17).

5. SINTESE

Die Kanaänitiese wêreldbeeld, soos deur die Ugaritiese geskrifte geskets, sien die wêreld as ’n onveranderlike plek. Chaos bedreig dit voortdurend, maar die voortbestaan daarvan word deur die gode gewaarborg, mits die mens die gode se hand sterk. Dié wêreldbeeld is in breë trekke deur die Israeliete oorgeneem nadat hulle in Palestina gevestig geraak het.

Die ballingskap bedreig Juda se bestaan en hieruit word ’n idee gebore dat die wêreld tog veranderlik is. Esegiël en Deuterojesaja skep ’n beeld van ’n roemryke toekoms wat deur ’n bevoorregte groep geniet gaan word. Dié beeld inspireer vir eeue hierna die godsdiens van die Jode. Hulle reageer op die vernietiging van Juda en die tempel, gebeure wat die bestaan van die geordende wêreld van die Jode in gedrang bring en hulle gedisoriënteer laat. Jode vind nuwe hoop in ’n visie van ’n wêreld wat nuut gemaak sal word. Die tafel is gedek vir die volgende ontwikkeling in die Joodse teologie, die ontstaan van Joodse apokaliptiek.

LYS VAN AANGEHAALDE WERKE

Ahlström, G W 1963. Aspects of syncretism in Israelite religion. Lund: C W K Gllerup.

Ahlström, G W 1982. Royal administration and national religion in Palestine. Leiden: Brill.

Albright, W F 19662. Archaeology and the religion of Israel. Baltimore: Penguin.

Albright, W F 1968. Yahweh and the gods of Canaan. Winona Lake: Eisenbrauns.

Albrektson, B 1967. History and the gods: An essay on the idea of historical events as divine manifestations in the Ancient Near East and in Israel. Lund: Gleerup.

Alster, B 1980. Death in Mesopotamia. Copenhagen: Akademisk Forlag.

Anderson, B W 1987. Creation versus chaos: The reinterpretation of mythical symbolism in the Bible. Philadelphia: Fortress Press.

Barker, M 1987. The Older Testament: The survival of themes from the ancient royal cult in sectarian Judaism and early Christianity. London: SPCK.

Barker, M 1991. The gate of heaven. The history and symbolism of the temple in Jerusalem. London: SPCK.

Barker, M 1992. The great angel. A study of Israel’s second God. Louisville, Ky: Westminster / John Knox Press.

Cohn, N 20012. Cosmos, chaos & the world to come. The ancient roots of apocalyptic faith. New Haven & London: Yale University Press.

Cross, F M 1973. Canaanite myth and Hebrew epic: Essays on the history of the religion of Israel. Cambridge, Mass: Harvard University Press.

Curtis, A H W 1985. Ugarit (Ras Shamra). Cambridge: Lutterworth.

De Moor, J C 1971. The seasonal pattern in the Ugaritic myth of Ba’lu according to the version of Ilimiliku. Kevelaer: Butzon & Bercker.

De Moor, J C 1980. “El, the creator”, in Rendsburg, G et al (ed). The Bible world. New York: Ktav Publishing House, 171-187.

Dentan, R C 1968. The knowledge of God in ancient Israel. New York: Seabury Press.

Eissfeldt, O 1974. The Old Testament. An introduction. Oxford: Basil Blackwell.

Eliade, M 1979. A history of religious ideas. Volume 1: From the Stone Age to the Eleusinian Mysteries. Translated by W R Trask. London: Collins. New York: F Watts.

Gibson, J C L 1978. Canaanite myths and legends. Edinburgh: Clark.

Gordon, C H 1981. “Canaanite Mythology”, in Kramer, S N (ed). Mythologies of the ancient world. New York: Gurland.

Gottwald, N K 1979. The tribes of Yahweh: A sociology of the religion of liberated Israel. London: SCM.

Gray, J 1953. ‘The god Jaw in the religion of Canaan’, in Journal of Near Eastern Studies, 12, 278-283.

Gray, J 1964. The Canaanites. London: Thames and Hudson.

Gray, J 1965. The legacy of Canaan. Leiden: E J Brill.

Hanson, P 1975. The dawn of apocalyptic. The historical and sociological roots of Jewish apocalyptic eschatology. Philadelphia: Fortress Press.

Haran, M 1977. Temples and temple-service in ancient Israel: An inquiry into the character of cult phenomena and the historical setting of the priestly school. Oxford: Clarendon Press.

Heltzer, M 1982. The internal organization of the kingdom of Ugarit: Royal service-system, taxes, royal economy, army and administration. Wiesbaden: Reichert.

Kapelrud, A S 1952. Baal in the Ras Shamra texts. Copenhagen: G E C Gad.

Kapelrud, A S 1969. The violent goddess. Anat in the Ras Shamra texts. Oslo: Universitetsforlaget.

Keel, O (ed) 1980. Monotheismus im alten Israel und seiner Umwelt. Oxford, UK: Blackwell. Cambridge, Mass: Basil Blackwell.

Kemp, B J 1989. Ancient Egypt: Anatomy of a civilization. New York: Routledge.

Lang, B (ed) 1981. Der einzige Gott: Die Geburt die biblischen Monotheismus. Munich: Kosel.

Lemche, N P 1988. Ancient Israel. A new history of Israelite society. Sheffield: JSOT Press.

Margalit, B 1980. A matter of ‘life’ and ‘death’. A study of the Baal-Mot epic. Kevelaer & Neukirchen- Vluyn: Neukirchener Verlag.

Mullen, E T 1980. The divine council in Canaanite and early Hebrew literature. Chico, California: Scholars Press.

O’Flaherty, W D 1976. The origins of evil in Hindu mythology. Berkeley: University of California Press.

Olyan, S M 1988. Asherah and the cult of Yahweh in Israel. Atlanta: Scholars Press.

Perlitt, L 1969. Bundestheologie im Altes Testament. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Redford, D B 1992. Egypt, Canaan and Israel in ancient times. Princeton: Princeton University Press.

Rose, M 1975. Der Ausschliesslichkeitsanspruch Jahwes: Deuteronomistische Schultheologie und die Volksfrömmigkeit der späten Königszeit. Stuttgart: W Kohlhammer.

Schmidt, W H 1966. Königtum Gottes in Ugarit und Israel. Rome: Pontificum Institutum Biblicum.

Smith, M 1971. Palestinian parties and politics that shaped the Old Testament. New York: Columbia University Press.

Smith, M S 1990. The early history of God: Yahweh and other deities in ancient Israel. San Francisco: Harper & Row.

Soggin, J A 1984. A history of Israel. From the beginning to the Bar Kochba Revolt. London: SCM.

Spronk, K 1986. Beatific afterlife in ancient Israel and in the ancient Near East. Kevelaer: Butzon & Bercker.

Tigay, J H 1986. You shall have no other gods. Atlanta: Scholars Press.

Van Iersel, B & Weiler, A (eds) 1987. The Exodus – A lasting paradigm. Edinburgh: T & T Clark.

Von Rad, G 1951. Der heilige Krieg im alten Israel. Grand Rapids: W B Eerdmans.

Young, G D (ed) 1981. Ugarit in retrospect: Fifty years of Ugarit and Ugaritic. Winona Lake, Indiana: Eisenbrauns.

Zenger, E (ed) 19983. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: Kohlhammer.