ngtt_v45_s1_a05

Claassens, L J M
St Norbert College, De Pere, W I
Dept Old and New Testament University of Stellenbosch

As God nie voed nie: Joël 1 in die konteks van wêreldhonger

ABSTRACT

When God withholds food: Joel 1 in the context of world hunger

A significant metaphor for God in the Old Testament is of God providing food (e.g. to Israel in Ex 16; Deut 8, as well as to all of creation Gen 1-2, Ps 104). But particularly in the prophetic literature, one finds the flipside of this image in the tragic descriptions of famine imagery. It is then that people may conclude that God sometimes fails to feed God’s people.

This paper investigates the metaphor of God withholding food as it occurs in the book of Joel. In a quest to make sense of this problematic image for God, the paper reflects on the different ways in which the biblical traditions viewed famine. This biblical theological reflection on the metaphor of God withholding food is done in light of contemporary questions such as world famine and poverty.

Een van die ryk Ou-Testamentiese metafore wat vir God gebruik word, is die God wat kos voorsien. Hierdie metafoor word in verskeie tekste gebruik om God se sorg te verwoord, en vind selfs grondslag in die Nuwe Testament wanneer God se voeding in Jesus gekonkretiseer word.1 In kontras hiermee vind ’n mens egter veral in die profetiese boeke tragiese beskrywings van daardie tye as die kosvoorraad opraak. Dit is dan wanneer mense mag voel dat God nie voed nie.

Hierdie voorstelling van God wat nie voed nie is veral relevant in die konteks van ’n wêreld waar voedselskaarste en honger aan die orde van die dag is. Byvoorbeeld die Wêreldvoedselopname van 1990-1992 toon aan dat daar 841 miljoen mense in die wêreld is wat honger ly. 2 En volgens ’n verslag van 1998 oor Armoede en Ongelykheid wat vir die kantoor van die Uitvoerende Adjunkpresident in Suid-Afrika voorberei is, is daar 50% van die bevolking wat op minder as R12 ’n dag oorleef – 27% hiervan op ’n skrale R6,50 per dag.3

Hierdie artikel ondersoek een van die tekste in die Ou Testament, naamlik Joël 1, waar die metafoor van God wat nie voed nie, aan die orde kom. As deel van die eerste deel van die bundel oor Armoede in Suid-Afrika wat waarnemend te werk gaan (Sien, See), identifiseer hierdie artikel een van die Bybelse tekste wat iets verwoord van mense se ervaring van gebrek en voedselskaarste. Die artikel vra hoe ’n mens moet dink oor hierdie problematiese godsbeeld – veral in die lig van ons eie spesifieke konteks wat geteister word deur hongersnood en armoede. Dit is my hoop dat hierdie proses van teologiese nadenke oor die beeld van God wat nie voed nie sal help om opnuut iets van die omvang van die probleem van armoede en honger in ons land raak te sien.

VOEDSELSKAARSTE IN JOËL

In Joël 1 sien ons skrikwekkende beskrywings van die tragedie wat gepaard gaan met ’n gebrek aan kos. In Joël 1:4-7 blyk dit dat die hongersnood deur ’n swerm sprinkane veroorsaak is wat soos ’n magtige weermag die land inval en alles in sig verorber. In vers 4 word vier verskillende terme vir die naderende sprinkane gebruik, wat iets beskryf van die swetterjoel insekte wat op die land toesak en grootskaalse vernietiging meebring.4

In kontras hiermee verstaan Graham Ogden die sprinkane nie letterlik nie, maar glo dat die sprinkane saam met ander metafore soos droogte (Joël 1:9-13, 17-18) en vuur (Joël 1:19-20, 2:3) gebruik word om die vernietiging mee te beskryf wat ’n vyandige aanval sou veroorsaak.5 Of die sprinkane letterlik of figuurlik gebruik word, sprinkane, droogte, vuur en vyande wat alles voor die voet uitwis het almal dieselfde vernietigende effek: ’n volslae gebrek aan kos. ’n Verskriklike tragedie (of dit nou ’n sprinkaanplaag of oorlog is) herroep ewe vernietigende gebeure om iets van die impak van die gebeure te kommunikeer.

Die gevolge is te erg vir woorde. Die basiese voedselvoorrade van Israel is uitgewis: die graan is vernietig, die vars geparste wyn het opgedroog, en die nuwe olie het misluk (vs 10). In vers 7 sien ons hoe die sprinkane al die wingerde en die vyebome – simbole vir die vrugbaarheid van die land – verwoes het. Ten slotte wys vs 12 hoe daar nie meer vrugte is nie, hoe al die bome van die veld verdroog het: die granaat, die palm en die appelbome. Dit is ’n donker prentjie wat geskets word om die omvang van die vernietiging te beskryf.

In ’n bestaansekonomie met beperkte voorrade het geen kos omtrent altyd hongersnood vir die oorgrote meerderheid beteken. Maar die gebrek aan kos het nie net die mense se oorlewing bedreig nie. In vers 12 gaan die kosskaarste gepaard met ’n gebrek aan vreugde. Saam met die wingerd en die oes verwelk ook die mense se vreugde. 6 En meer nog, honger het ook ’n spirituele dimensie wanneer die gebrek aan kos die mense se religieuse belewenis raak, wanneer hulle nie meer voedseloffers aan God kan bring nie (vs 13). Hongersnood het inderdaad ’n impak op elke faset van die mens se lewe …

En dit is nie net die mense wat geraak word deur die voedselskaarste nie. In vers 10 rou die aarde saam oor die gebrek aan kos. En in vers 18 word gesê hoe die diere ly wanneer die skape verward rondstaan en die beeste loei omdat daar nie weiding is nie. Mens en dier pleit saam vir God se ingryping (sien ook Jona 3:7-8).

Dus, hoe moet ’n mens dink oor hierdie tragiese uitbeelding van die ellende wat mense ervaar as gevolg van voedselskaarste? In die Ou Testament tref ’n mens twee perspektiewe aan in verband met hongersnood. In die eerste plek is hongersnood, soos ook oorlog, siektes en aardbewings, verstaan as ’n natuurlike verskynsel wat sonder waarskuwing in mense se lewe inbreek en wat ten alle koste oorkom moet word (sien bv die verhaal van Abraham in Gen 12:10 en Josef in Gen 37-50). Tweedens, veral in die profetiese literatuur, is hongersnood beleef as ’n teken van sonde en waar mense tekort skiet. Byvoorbeeld in Amos 4:6-12 sien ’n mens hoe God allerhande rampe stuur soos droogte, pes, siektes, en ook hongersnood, om die mense te probeer oorreed om hulleself tot God te bekeer.7

Hierdie twee perspektiewe word goed geïllustreer in die polemiek oor die interpretasie van die boek Joël. Bruce Birch huldig die opinie dat Joël die voedselskaarste beleef as oordeel van God in terme van die profetiese bekeringsboodskap. Dit is veral duidelik in Joël 2:12-17 waar die mense geroep word om hulself te bekeer en tot God te wend met behulp van gebare van vas, weeklag en roubetoon (ook Joël 1:5-14). 8 In kontras hiermee interpreteer Graham Ogden die boek Joël in terme van die Ou-Testamentiese klaagliederetradisie, waarbinne mense God smeek om hulle te red uit wat die spreker sien as ’n onverdiende krisis (bv Ps 17:3-5; 26:1-3; 44:17-22; 59:3-4). Volgens Ogden veroordeel die profeet Joël nie vir Juda soos die ander profete nie, en moet die huidige krisis dus nie geïnterpreteer word as God se straf nie. Ogden meen dat die verwysing in Joël 2:12, “draai jou met jou hele hart tot my” (םכבלـלכב ירצ ובש), verstaan moet word as “wend jou-self tot God vir hulp.” 9

Basies beteken die term בש iets soos om “om te draai” of om “terug te draai.” 10 As ’n mens dus die בש taal lees in die konteks van die profetiese tradisie wat ’n verband trek tussen sonde en lyding, ontvang בש inderdaad soos Birch voorstel die assosiasie van “om jouself te bekeer.” Maar Ogden is reg met sy opmerking dat daar nêrens in Joël is daar sprake van Juda se sonde nie (in kontras met Jeremia, Amos en Hosea). As ’n mens dus die בש taal in die konteks van die klaagliederetradisie lees, ontvang dit ’n ander konnotasie, naamlik, om na God te draai in tye van nood. Hierdie twee interpretasiemoontlikhede aangaande Joël 1 bied aan ons ’n konteks om oor die beeld van God wat nie voed nie na te dink in ’n wêreld waar honger ’n lewenswyse geword het.

TWEE KANTE VAN HONGERSNOOD

’n Eerste perspektief aangaande die problematiek van voedselskaarste is dat daar tye is wanneer ’n mens maar net kan huil oor die lyding wat honger meebring. Hierdie standpunt is gebaseer op die besef dat lyding nie altyd in verband met straf gebring kan word nie. Wendy Farley stel dit as volg: “We live in a world where little girls are raped and beaten by their fathers and where war ravages the most helpless and wretched of the earth’s children.” En spesifiek oor hongersnood sê sy: “The hollow face of hunger does not seem to pursue only those who ‘deserve’ to starve.” 11 In sulke tye van onbeskryflike nood blyk dit dat daar geen ander opsie is as om jou hart voor God uit te stort en te wag op uitkoms nie.

In die lig hiervan moedig Joël sy gehoor aan om hulleself te wend tot die Een wat in die verlede kos voorsien het. In Joël 1:5-14 doen die profeet ’n oproep op die mense om hulle hartseer te verwoord, om klaagliedere te sing, en om deel te neem aan die gepaste rourituele (wat vas en die dra van sakke insluit). In vs 8 smeek Joël die mense om te huil met dieselfde intensiteit as ’n meisie wie se verloofde net voor die huwelik gesterf het. Op voetspoor van sy interpretasie van Joël verstaan Ogden Joël 2:13, “skeur julle harte en nie julle klere nie,” nie as ’n oproep tot bekering nie, maar in terme van ’n diep emosionele reaksie oor die tragedie wat die mense tans beleef.12 Met ’n diepe versugting pleit die gelowiges by God om hulle situasie te verander, om in te gryp en weer kos te voorsien.

Iets van hierdie interpretasie is waardevol vir hoe ons oor hongersnood dink. Dit is so dat die wêreldwye voedselskaarste ’n verskriklike probleem is wat deur ’n verskeidenheid faktore veroorsaak word: natuurrampe, droogte, misoeste, veranderende weerpatrone, langer lewensverwagting en ’n bevolkingsontploffing.13 Wanneer hongersnood sy verwoesting saai, is dit belangrik om voor God te huil en om jou hartseer en magteloosheid oor die omvang van die situasie uit te spreek. Die klaagliederetradisie bied ’n uitstekende voorbeeld van die katarsis-effek om in die teenwoordigheid van sinlose lyding te huil tot jy nie meer trane het nie. Soos Walter Brueggemann dit stel: “Only grief permits newness. Without lament, hope is stillborn.” 14 Vir heling om plaas te vind is dit belangrik om die gevoelens van woede, hartseer, angs en selfs haat eerlik te verwoord.15

Benewens die emosionele waarde inherent aan ’n eerlike uiting van ’n mens se hartseer, is die klaaglied verder ten diepste ’n vorm van weerstand. Deur te huil en te kla weier die gelowiges om maar net die status quo te aanvaar. Samuel Balentine verwoord dit soos volg:

It is the very nature of lamentation to resist resignation and to press

for change. Where there is lament, there is life, and even in the midst

of suffering, this life will be vital and expectant.16

Hierdie hardnekkige weiering om te gaan lê, is gebaseer op ’n diepe geloof dat ten spyte van die hopeloosheid van hulle situasie, God steeds ’n God van goedheid en geregtigheid is wat eerder lewe as dood wil hê vir die skepping. En daarom hou die bidders aan om tot God te roep in die hoop dat God hulle situasie sal verander.

Maar aan die anderkant, alhoewel dit baie belangrik is om klaagliedere te sing en te protesteer oor die ervaring dat God nie kos voorsien nie, is dit nie die hele storie nie. Ons sal ’n fout maak om nie die rol wat menslike verantwoordelikheid en sonde in hongersnood speel ernstig te neem nie. Hierdie perspektief stem goed ooreen met Birch se interpretasie. Volgens hom, verstaan Joël die krisis van die sprinkane as komende van God. In die lig van hierdie grootskaalse bedreiging is die enigste hoop vir redding geleë in bekering.17

Joël sien die bedreiging van die hongersnood wat deur die sprinkane veroorsaak is as ’n teken van die dag wat God finaal in die geskiedenis sal ingryp. Waar Israel met afwagting na hierdie dag uitgesien het in die geloof dat God hulle van hulle vyande sal bevry, is dit eerder vir Joël ’n dag van oordeel.18 So verskriklik is die idee om nie kos te hê nie dat Joël in kosmiese terme praat van die son en maan wat verduister, van duisternis wat oor die land sprei (vs 10-11). Hierdie kosmiese katastrofe is as sodaning dat dit beskryf word in terme van die Tuin van Eden wat verander in ’n barre woestyn (vs 3).19

In verse 12-13 roep Joël die mense op tot bekering. Hulle moet wegdraai van die pad wat lei tot vernietiging en die weg van die lewe volg.20 Joël roep die mense bymekaar waar die hele gemeenskap – oud en jonk, en selfs die pasgetroudes – tot God moet bid om genade. Die mense plaas hulle hoop in God wat genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde is (vs 13). Maar Joël sê dat die mense nie net moet deelneem aan blote eksterne handelinge nie, maar dat hulle hul harte moet skeur sodat hulle reaksie diep vanuit die hart kom.

Alhoewel dit gevaarlik is om alle ongeluk toe te skryf aan sonde (soos die voorbeeld van Job ons herinner), is daar tog waarde aan die profetiese perspektief. Dit is so dat daar vandag ’n verband is tussen hongersnood en mense se ongehoorsaamheid. Hongersnood gebeur daar waar mense faal. Materialisme, gierigheid, die groeiende gaping tussen ryk en arm, die vernietiging van die wêreld se natuurlike hulpbronne, en die begeerte om jou eie lewenstandaard te handhaaf ten koste van die armes, kan wel onder die hofie van sonde geklassifiseer word. Die ironie van die saak is egter dat dit diegene is wat grootliks verantwoordelik is vir hierdie toedrag van sake wat steeds in luukse leef.21 Dit is tragies dat dit diegene is wat onskuldig en hulpeloos is wat ly, wat die meeste voel dat God nie voed nie.

Dit is dus belangrik om nie maar net te huil oor die tragedie van hongersnood nie, maar om ook verantwoordelikheid te neem vir ons eie rol in die lyding van ander. Maar meer nog, ons word geroep om lyding te beveg. Daar is goed om te doen wat kan verseker dat God weer sal voed. Om twee voorbeelde te noem: Eerstens, in terme van mense se rol in hongersnood, is daar baie wat mense kan doen om honger te oorkom, om die gaping tussen ryk en arm te verminder. Farley meen dat barmhartigheid, of wat sy “sacraments of compassion’s care” noem, ’n essensiële rol speel om lyding teen te staan (sien byvoorbeeld kosvoorsiening, werkskepping en gesondheidsorg). Maar dit is nie genoeg om pleisters op die seerplekke te plak nie. Ware barmhartigheid poog om by die wortel van die probleem uit te kom, en sodoende mense te help om onreg en alles wat lewenskwaliteit inhibeer, te beveg.22

Dit is bemoedigend dat privaat organisasies soos “Food for the Hungry” en “Bread for the World” al heelwat sukses behaal het om wêreldhonger te beveg. So het die aantal mense met ’n gebrek aan basiese lewensmiddele verminder van ’n geraamde 918 miljoen in 1969-1971 tot 841 miljoen in 1990-1992. Hierdie afname in die getal ondervoede mense is merkwaardig in lig van die feit dat die wêreldbevolking in die laaste 20 jaar met 1,5 biljoen mense toegeneem het.23 Maar daar is nog baie om te doen. Veral hier in Suid-Afrika hoef ’n mens nie baie ver te soek om te sien hoeveel mense nog te kort skiet aan basiese lewensmiddele nie. In Uprooting Poverty word ’n skokkende kykie gebied na die grootskaalse wanvoeding by kinders.24 Die voorbeeld van die 3½ jaar oue kind van ’n plaas in Stellenbosch wie se daaglikse dieet bestaan uit ’n sny brood en botter, en verder koffie met ’n halwe teelepel suiker en Cremora, saam met droë brood drie keer ’n dag, gee ’n ontstellende gesig aan die koue statistiek.25

HOOP TE MIDDE VAN HONGERSNOOD

Ons het aan die hand van die voorbeeld van Joël 1 gesien hoe die beeld van God wat nie voed nie iets uitdruk van die manier waarop mense sin maak van die tragedie van hongersnood. Ons het gesien hoe hierdie beeld fluktueer tussen die absolute hulpeloosheid wat mense ervaar oor die omvang van ’n voedselkrisis en die besef dat mense hulle rol in hongersnood ernstig moet neem.

Maar Joël 1 volstaan nie maar net met hierdie beeld nie. Dit is tog merkwaardig dat Israel te midde van hulle ervaring dat God nie voed nie, steeds aan die hoop vashou dat God weer eens sal voorsien. In Joël 2:24-26 sien ons hoe God se hernude voedselvoorsiening oorvloedig en genoegsaam sal wees. Die graansilo’s en die wynvate sal nie groot genoeg wees om al die kos te hou waarmee God opnuut vir Israel sal voed nie. Die aarde met al sy inwoners en ook die diere sal bly wees en juig oor die kos wat God weer eens voorsien het. Dit is belangrik om raak te sien dat hierdie hoop dat God weer sal voorsien so seker is dat die digter dit beskryf asof dit klaar plaasgevind het deur die perfektum konjugasie te gebruik (’n aanduiding dat die aksie reeds voltooi is): God het reën gegee, die dorsvloer vol koring en die parskuipe loop oor van wyn en olie (vs 23).26

In Joël 3:18 word hierdie oortuiging selfs verder geneem wanneer God se hernude kosvoorsiening mitologiese afmetings aanneem.27 Nou drup die wyn van die berge en die melk vloei van die heuwels. Dit mag wees dat te midde van die krisis van honger en gebrek, mense hulle hoop vir ’n tyd wanneer hulle genoeg sal hê om te eet, na die toekoms getransponeer het. Maar die feit bly staan, Israel het nie getwyfel dat daar eendag ’n einde aan die huidige voedseltekort sal wees nie. Hulle het vas geglo dat hongersnood nie deel van God se bedoeling vir die wêreld is nie.

In die lig hiervan sou ons kan sê dat die beeld van ’n God wat weer sal voed, hoop bied vir diegene wat vasgevang is in die web van honger en wanhoop. Hierdie verstaan help die slagoffers om verder as hulle omstandighede te kyk, en te bly hoop op ’n toekoms waar daar nie meer gebrek en lyding is nie. Aan die ander kant help hierdie oortuiging ons ook om te verstaan dat hongersnood beveg moet word in die hoop dat dit eendag totaal oorwin sal word. Die besef dat God ’n oorvloedige toekoms sal gee moedig mense aan om die huidige stand van sake in ooreenstemming te bring met die ideaal van God se koninkryk. Elke daad van barmhartigheid, elke poging om ongeregtigheid en armoede te beveg, is ’n stap nader aan die realisering van God se ideaal vir die wêreld in die hier en nou.

BIBLIOGRAFIE

Alexander, David 2001. Feeding the Hungry and Protecting the Environment. Pages 77-98 in All Creation is Groaning: An Interdisciplinary Vision for Life in a Sacred Universe. Edited by Carol J. Demsey and Russell A. Butkus. Collegeville, Minn: Liturgical Press.

Balentine, Samuel 1992. “Enthroned on the Praises and Laments of Israel.” Pages 20-35 in The Lord’s Prayer: Perspectives for Reclaiming Christian Prayer. Edited by Daniel L Migliore. Grand Rapids, MI: Eerdmans. Billman, Kathleen D and Migliore, Daniel L 1999. Rachel’s Cry: Prayer of Lament and Rebirth of Hope. Cleveland, Ohio: United Church Press.

Birch, Bruce C 1997. Hosea, Joel, and Amos. Westminster Bible Companion. Louisville, KY: Westminster John Knox.

Brueggemann, Walter 1986. The Hopeful Imagination: Prophetic Voices in Exile. Philadelphia: Fortress.

Claassens, L Juliana M 2004. The God who Provides: Biblical Images of Divine Nourishment. Nashville, TN: Abingdon.

Cornelius, Izak. “Paradise Motifs in the ‘Eschatology’ of the Minor Prophets and the Iconography of the Ancient Near East: The Concepts of Fertility, Water, Trees and ‘Tierfrieden’ and Gen 2-3.” Journal of Northwest Semitic Languages 14 (1988): 41-83.

Farley, Wendy 1990. Tragic Vision and Divine Compassion: A Contemporary Theodicy. Louisville, KY: Westminster John Knox.

Harrelson, Walter. “Famine in the Perspective of Biblical Judgments and Promises.” Pages 84-99 in Lifeboat Ethics: The Moral Dilemmas of World Hunger. Edited by George R Lucas and Thomas W Ogletree. New York: Harper & Row, 1976.

May, J & Govender, J Poverty and Inequality in South Africa. Report prepared for the office of the Executive Deputy President, 1998.

McFague, Sallie 2001. Life Abundant: Rethinking Theology and Economy for a Planet in Peril. Minneapolis: Fortress.

Ogden, Graham S and Deutsch, Richard R 1987. A Promise of Hope – A Call to Obedience: A Commentary on the Books of Joel and Malachi. International Theological Commentary. Grand Rapids, MI: Eerdmans. Pieterse, H J C 2001. Preaching in a Context of Poverty. Translated by Marcelle Manley. Pretoria: University of South Africa.

Sixth World Food Survey. Rome: Food and Agriculture Organization of the United Nations, 1996. Soelle, Dorothy 1975. Suffering. Translated by E Kalin. Philadelphia: Fortress.

Wilson, Francis & Ramphele, Mamphela 1989. Uprooting Poverty: The South African Challenge. Report for the Second Carnegie Inquiry into Poverty and Development in Southern Africa. Cape Town: David Philip.

Wolff, Hans Walter 1977. Joel and Amos. Hermeneia. Translated by Waldemar Janzen et al. Edited by S Dean McBride, Jr. Philadelphia: Fortress.

1 Vir ’n in-diepte beskrywing van die verskillende manifestasies van hierdie metafoor sien L Juliana M Claassens, The God who Provides: Biblical Images of Divine Nourishment (Nashville, TN: Abingdon, m 2004).

2 David Alexander, “Feeding the Hungry and Protecting the Environment,” in All Creation is Groaning: An Interdisciplinary Vision for Life in a Sacred Universe” (ed. Carol J Demsey and Russell A Butkus; Collegeville, Minn: Liturgical Press, 2001), 78; Sixth World Food Survey (Rome: Food and Agriculture Organization of the United Nations, 1996).

3 J May & J Govender, Poverty and Inequality in South Africa. Report prepared for the office of the Executive Deputy President (1998); H J C Pieterse, Preaching in a Context of Poverty (trans. Marcelle Manley; Pretoria: University of South Africa, 2001), 30-32. Hierdie statistiek is gebaseer op die 1995 Heropbou en Ontwikkelingsprogram se standaard wat ’n huishouding met minder as R352,53 per volwasssene as arm beskou, en huishoudings met R193,77 as ultra-arm. Hierdie statistiek vergelyk met die internasionale klassifikasie van $1 per volwassene per dag as indikasie van volslae armoede.

4 Bruce C Birch, Hosea, Joel, and Amos (Westminster Bible Companion; Louisville, Ky.: Westminster John Knox, 1997), 134; Graham S Ogden and Richard R Deutsch, A Promise of Hope – A Call to Obedience: A Commentary on the Books of Joel and Malachi (ITC; Grand Rapids, Mich.: Eerdmans, 1987), 22.

5 Ogden, A Promise of Hope, 20, 25-26. Die NRSV vertaal hierdie vier obskure terme wat gebruik word om die sprinkaanplaag mee te beskryf as volg: “What the cutting locust (םוגר) left, the swarming locust (הבראר) has eaten. What the swarming locust left, the hopping locust (ליםחה) has eaten, and what the hopping locust left, the destroying locust (קליה) has eaten” (in kontras hiermee, sien die NAV wat die terme bloot as verskillende swerms verstaan). Ogden meen dat hierdie terme óf vier verskillende soorte sprinkane óf vier verskillende stadia in die sprinkaanlewensiklus aantoon.

6 Die intieme verhouding tussen die mense en die omgewing word treffend geïllustreer deurdat dieselfde werkwoord, “om te verwelk” (שבי), gebruik word vir die wingerd, die oes en die mense se vreugde.

7 Walter Harrelson, “Famine in the Perspective of Biblical Judgments and Promises,” in Lifeboat Ethics: The Moral Dilemmas of World Hunger (ed. George R. Lucas and Thomas W. Ogletree; New York: Harper & Row, 1976), 84-87.

8 Birch, Hosea, Joel, and Amos, 132.

9 Ogden, A Promise of Hope, 11.

10 Fabry toon aan dat בש’n werkwoord is wat beweging aandui – met name beweging in die rigting van die punt van oorsprong. Hierdie betekenis is egter oop vir interpretasie soos die voorbeeld van Spreuke 20:26 aantoon. In hierdie vers is בש se betekenis iets van beweging sonder enige spesifieke rigting. Die algemene teologiese gebruik van בש as bekering is dus nie outomaties nie, en kon wel in ’n “pre- teologiese fase” in terme van ’n liturgiese daad tot God verstaan gewees het. Fabry, TDAT 7:1122.

11 Wendy Farley, Tragic Vision and Divine Compassion: A Contemporary Theodicy (Louisville, Ky.: Westminster John Knox, 1990), 20.

12 Ogden, A Promise of Hope, 20-21.

13 Harrelson, “Famine,” 84, 91.

14 Walter Brueggemann, The Hopeful Imagination: Prophetic Voices in Exile (Philadelphia: Fortress, 1986), 41; Kathleen D Billman and Daniel L Migliore, Rachel’s Cry: Prayer of Lament and Rebirth of Hope (Cleveland, Ohio: United Church Press, 1999), 16. Sien ook die werk van Dorothy Soelle wat beskryf hoe die uiting van pyn ’n uitermatige belangrike stadium is wat nie oorgeslaan kan word nie, Suffering (trans. E. Kalin; Philadelphia: Fortress, 1975), 71-72.

15 Sien ook die belangrike boek deur Kathleen Billman en Daniel Migliore, Rachel’s Cry, waarin hulle pleit vir die herwinning van die klaaglied in die erediens. Hulle sê: “Without the prayer of lament the other important elements of prayer – praise, thanksgiving, confession, intercession – atrophy and ring hollow. How can praise be free and joyful if the realities of broken human life are not named and lamented? How can heartfelt thanks be given for healing if the wounds are denied? How can confession of sin be sincere if we turn all sorrow into guilt? How can intercession be strong if our language does not reflect knowledge of the real sufferings of those for whom we pray?” (p. 19).

16 Samuel Balentine, “Enthroned on the Praises and Laments of Israel,” in The Lord’s Prayer: Perspectives for Reclaiming Christian Prayer (ed. Daniel L Migliore; Grand Rapids, Mich.: Eerdmans, 1992), 34.

17 Birch, Hosea, Joel, Amos, 143.

18 Sien ook Amos 5:18-20 and Sefanja 1:4, 7, 14 waar hierdie perspektief oor die dag van die Here uitgebeeld word. Amos maak dit duidelik dat daar ’n radikale omkering in Israel se normale verwagting gaan wees, naamlik dat hulle vreugde en vrede sal ervaar nadat God al hulle vyande verslaan het. Birch, Hosea, Joel, Amos, 136, 140; Hans Walter Wolff, Joel and Amos (Hermeneia; trans. Waldemar Janzen et. al; ed. S. Dean McBride, Jr.; Philadelphia: Fortress, 1977), 7.

19 Ogden, A Promise of Hope, 28.

20 Birch baseer sy interpretasie op die verstaan van בש in vs 13 as ’n radikale ommekeer. Hierdie ommekeer is na God toe en weg van die sonde. Birch erken dat dit vreemd is dat die sonde nie hier gespesifiseer word nie (sien bv Amos 5), maar meen dat die sonde nie benoem word nie sodat gelowiges self die spasies kan invul, Hosea, Joel, Amos, 144; Wolff, Joel and Amos, 13.

21 Sallie McFague, Life Abundant: Rethinking Theology and Economy for a Planet in Peril (Minneapolis: Fortress, 2001), 153; Harrelson, “Famine,” 92.

22 Farley, Tragic Vision, 69, 88.

23 Alexander, “Feeding the Hungry,” 80, 91.

24 Francis Wilson & Mamphela Ramphele, Uprooting Poverty: The South African Challenge. Report for the Second Carnegie Inquiry into Poverty and Development in Southern Africa (Cape Town: David Philip, 1989), 100-106.

25 Wilson & Ramphele, Uprooting Poverty, 103.

26 Sien ook die reeks infinitief absolutus in vs. 26 “julle sal oorvloedig eet en versadig wees <bad hebrew copy>

27 Izak Cornelius beskryf hierdie toekomstige idilliese toestand van oorvloedige vrugbaarheid en vrede wat in kontras staan met die ervaring van chaos, onvrugbaarheid en dood. Hierdie eskatologiese hoop is egter nie soseer gesetel in ’n terugkeer na die paradys wat verlore is nie (“Urzeit”), maar in ’n totale nuwe situasie wat die oorspronklike paradys verreweg oortref (“Endzeit”), “Paradise Motifs in the ‘Eschatology’ of the Minor Prophets and the Iconography of the Ancient Near East: The Concepts of Fertility, Water, Trees and ‘Tierfrieden’ and Gen 2-3,” JNSL 14 (1988): 41-83.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.