Wepener, CJ

Universiteit van Stellenbosch

Die lang pad van bekering. Deel 1. Die opkoms van die kategumenaat in die Patristieke tyd

ABSTRACT

The long road of conversion. Part 1. The rise of the catechumenate in Patristic times

In this series of articles the story of the catechumenate is told. Starting with the Apostolic times and diachronically following the development of this process through the centuries, the story of it’s origin, the so-called golden age, it’s demise as well as the recent rediscovery of the catechumenate is described and commented on. The study aims at commenting on teaching, ethics and mission from a liturgical historical point of view. By means of a historical reconstruction of the ritual form as well as didactic content of the catechumenate, several questions are addressed. Firstly it is being asked what (if any) impact the process of the catechumenate can have on a discrepancy between faith and deeds (Ethics), secondly, how Christians were initiated into the early church before and after 312 (Mission), and thirdly what we can learn about the manner in which instruction occured in the catechumenate (Teaching)? The hypothesis of this research is that insight into the process of the catechumenate can help the church today to forge a closer connection between faith and life by means of a similar ritual-didactic process of conversion and initiation. In the first article the catechumenate is reconstructed as it developed in the first centuries, up to 312. In the second part of this series the historical inquiry will be continued from 312 onwards and through the Middled Ages. In part 3 the Reformation period will be dealt with in some more detail, and in part 4 an ecumenical survey will be conducted regarding the rediscovery of the catechumenate in the last decades. In every article some guidelines will be distilled that will all be systematised in a practical-theological model in part 5.

1. INLEIDING1

Na ’n klomp eeue waarin die kerk tot ’n grote mate onbewus was van die fyn-deurdagte kategumenaatprosesse in die vroeë kerk, is daar in die laaste paar dekades ’n nuwe belangstelling in die proses en word van vele kante en hoeke gevra wat die kerk van vandag van die vroeë kategumenaat2 kan leer.

Dit is interessant om van nader te kyk na van die redes waarom meer en meer kerke begin navorsing doen het oor die kategumenaat.

Dit was die Liturgiese Beweging van die negentiende en twintigste eeu se belangstelling in die vroeë bronne wat die kerk weer bewus gemaak het van die kategumenaatproses. Hulle slagspreuk “terug na die bronne” het tot gevolg gehad dat die heel vroegste liturgiese bronne op ’n noukeurige en wetenskaplik verantwoordbare wyse bestudeer is, en dat hierdie vroeë bronne duidelik aangetoon het hoe die kategumenaat as ’n integrale rituele proses in die vroeë kerk gefunksioneer het.

Die Rooms Katolieke Kerk was die eerste kerk wat begin eksperimenteer het met die herbenutting van die kategumenaat in ons dag. Van hulle sendelinge in Afrika het teen ongeveer die middel van die twintigste eeu wyses benodig waarop volwasse bekeerlinge begelei kan word in ’n proses van bekering wat doop en kategese insluit. Vir hierdie doel is met die ou kategumenaat-proses geëksperimenteer3.

In die sestiger- en sewentigerjare van die twintigste eeu het van die Protestantse kerke ook met meer erns na die kategumenaat-proses begin kyk. Dit het waarskynlik te doen met die feit dat dit presies in hierdie jare is dat die groter Protestantse kerke op ’n groot skaal lidmate begin verloor het en veral begin sukkel het om hulle jongmense in die kerk te hou. Die besef het posgevat dat daar waarskynlik iets fout is met die manier waarop mense in die kerk ingelei is deur die proses van kinderdoop, sondagskool-kategese en dan belydenisaflegging. ’n Hele paar kerke het ernstig begin vra wat die kerk vandag kan leer van die vroeë kategumenaatsproses. In baie kerke is die proses steeds aan die gang.

Vir heelwat mense was die omvang van die kategumenaatsproses en die hoë eise wat dit aan deelnemers gestel het ’n groot verrassing. Dit is duidelik dat Christenskap in die proses nie as ’n ligtelik saak gesien is wat ’n mens binne ’n paar dae of weke kan verstaan en aanleer nie. Dit was ’n lang proses wat 3-5 jaar kon duur en wat groot opofferings van mense gevra het. In ’n tyd waar teoloë soos Bonhoeffer goedkoop dissipelskap die skuld gegee het vir die kerk se probleme, was die nuus oor die kategumenaat se diepte en erns ’n vars bries vir vele.

Die belangstelling in die kategumenaat is verder gestimuleer deur die groeiende oortuiging by vele dat die kerk is sy wese missionêr is en dat evangelisasie ’n wesenstaak van elke gemeente behoort te wees. Wie kyk na die proses van die kategumenaat weet dat die evangelisasiemotief aan die hart daarvan lê. Dit was ’n proses wat begin het by die spontane getuienis van lidmate en geëindig het by lidmaatskap van die kerk en toelating tot die nagmaal. Vele skrywers se belangstelling in die kategumenaat kom spesifiek uit hierdie hoek.

Daar is ’n sesde oorweging wat genoem sou kon word. Vir meer mense is die fassinerendste aspek van die kategumenaat die manier waarop lering, liturgie (spesifiek rituele) en die sakramente aan mekaar gebind word op ’n logiese en komplementerende manier. In baie kerke waar lering en liturgie vir lank hanteer is as twee totaal verskillende bedienings, was die kategumenaat se interspel tussen die drie aspekte ’n nuwe uitdaging om die heilsmiddele van die geloof en die bedienings van die evangelie op ’n meer holistiese manier te verstaan en te gebruik.

As gevolg van hierdie belangstelling is daar tans ’n rykdom van bronne oor liturgie en liturgiegeskiedenis waarin hierdie insigte na vore gebring en verken word vir gebruik vandag. So byvoorbeeld merk Frank Senn (1997:96) in sy werk Christian Liturgy, met betrekking tot die kategumenaat in die Vroeë Kerk op: “... the process of the catechumenate meant that prospective members were not rushed into full church membership. Catechumens were watched and scrutinized and instructed over a long period of time. This thorough preperation may have been one of the faith’s particular appeals”. Met hierdie opmerking oor die proses van bekering en lidmaatskap in gedagte, wil hierdie ondersoek, deur die storie van die kategumenaat te vertel, kyk na die rol wat die kategumenaat (of ’n vorm daarvan) didakties, eties en missiologies kan speel en ook in die geskiedenis van die kerk gespeel het? Veral ook gesien binne die groot diskrepansie wat daar huidiglik in Suid-Afrika heers tussen die statistiek met betrekking tot kerklike lidmaatskap en etiese gedrag4, die verwaarlosing van Christelike lering in sommige kerke en die huidige post-Christendom sendingsituasie waarin sommige kerke begin inbeweeg, sou so ’n verkenning van waarde kan wees.

Anders gestel: impakteer ’n té maklike toegang tot lidmaatskap nie negatief op Christene se morele optrede as gelowiges nie? En kan ’n omvattende ritueel-didaktiese proses nie in ons tyd nie betekenisvol wees in hierdie verband nie? Die hipotese waarmee dus gewerk word is dat ’n periode van kategumenaat, op watter wyse ook al, op ’n didaktiese, etiese en missiologiese vlak, waarde kan hê vir ons eie konteks. Insig in die inhoud (didakties) en vorm (ritueel-liturgies) van die kategumenaat (met die oog op die ontwerp van ’n soortgelyke praktyk vir huidige gebruik) kan eerstens help om die etiese diskrepansie te ondervang deur geloof en dade deur middel van ’n doelbewuste proses beter te integreer. Tweedens kan dit ook op ’n missiologiese vlak insig verleen in die wyse waarop voornemende lidmate geïnisieer is in die kerk, spesifiek ook in ’n voor-Christendom en in ’n Christendom tydperk. Hierdie missiologiese insig kan vanweë ons huidige sogenaamde post-Christendom konteks waardevol wees5. Derdens kan dit aantoon hoe lering en liturgie nou verbonde was aanmekaar in sekere periodes van die geskiedenis van die liturgie.

Die pad wat hierdie navorsing wil stap ten einde hierdie te probeer beantwoord, is tweërlei van aard, wat ook in afsonderlike artikels uit die verf sal kom. Eerstens sal ’n diachroniese liturgiehistoriese verkenning van die praktyk van die kategumenaat in die Vroeë Kerk gemaak word. In hierdie verkenning sal veral gefokus word op die inhoud en aard van die instruksie van die kategumenaat en op die gepaardgaande vorm van die rituele begeleiding van die proses. Presies hoe die proses in die eerste eeue daar uitgesien het, sal gevolg word deur ’n beskrywing van die bykanse verdwyning van die proses in die daaropvolgende eeue, asook ’n beskrywing van wat tydens die Reformasie in hierdie verband gebeur het. Verder sal ’n ekumeniese verkenning met betrekking tot wat ander kerke en mense wêreldwyd in hierdie verband gedoen het, onderneem word, en laastens sal die prakties-teologiese implikasies daarvan vir ons kerk-wees vandag in ’n laaste artikel verken word.

In hierdie eerste artikel sal dus gevra word, hoe het die kategumenaat gedurende die eerste eeue gelyk? En vanuit hierdie beskrywing sal aangetoon word watter van die eienskappe van die kategumenaat moontlik ’n invloed op onderrig, etiek en evangelisasie kon gehad het?

2. GESKIEDENIS VAN DIE LITURGIE EN AFBAKENING VAN DIE ONDERWERP

In Protestantse geledere sal die vraag na die normatiwiteit van die liturgiegeskiedenis/tradisie(s) ten opsigte van die informering van die huidige liturgiese praktyk gou geopper word. En saam hiermee die vraag, watter deel van die Christelike liturgiegeskiedenis, indien enige, veral die huidige liturgiese praktyk (moet) informeer? In ’n artikel oor hierdie kwessie belig Barnard (2004) verskeie Protestantse sienswyses van hierdie saak en wys op diegene wat meer ekumenies dink en die Reformasie nie as ’n radikale breuk met die een heilige algemene kerk sien nie en daarom ook put uit die liturgiegeskiedenis van vóór die Reformasie, en tweede ook op diegene wat slegs op die vroeë Reformasie rig en enige liturgiese vorm altyd deurbreek. Die blote feit dat hier ingegaan word op die liturgie van die Vroeë Kerk verklap die meer inkarnasionele en Christologiese onderbou van hierdie ondersoek wat beteken dat die vorm van die liturgie van die Patristiek as nuttig en insiggewend gesien word vir liturgiehervorming vandag. Insiggewend ten opsigte van hoe mense wat ons voorgegaan het in die geloof, en soos ons deel is van een heilige algemene kerk, die inhoud van hulle geloof vorm gegee het. ’n Vorm waaruit ons kan put ... of nie.

Wanneer liturgiehistories na ’n spesifieke ritueel, soos byvoorbeeld die kategumenaat, gekyk word, dan is dit belangrik om die ondersoeksobjek sekuur af te baken. In hierdie ondersoek word gekyk na die kategumenaat, en spesifiek hier na die rituele proses van liturgie en lering in die Christelike kerk. Dit beteken dat die beskrywing sal poog om aan te toon hoe die proses daar uitgesien het, asook wat die inhoud was van die lering. Verder sal gefokus word op die Vroeë Kerk – vanaf kort na die Nuwe Testamentiese of Apostoliese tyd tot en met die aanbreek van die Middeleeue (rofweg dus tot en met 500). Hierdie tydperk, volgens Wainwright (1992:61-64) die Patristieke tyd, sal vir ons doeleindes hier opgedeel word in die tydperk vóór 312 en die tydperk daarna6. Die tydperk tot en met 312 sal in hierdie artikel aan bod kom, en die eeue daarna in deel

2 van hierdie reeks. So ’n verdeling behoort insig te verleen hoe die kerk op didakties-rituele wyse met bekering en dissipelmaking omgegaan het in twee verskillende ekklesiale paradigmas (voor- Christendom wat ten dele vergelykbaar is met die huidige na-Christendom paradigma, asook in die Christendom paradigma). Of eerder, om die enkele ontwikkelinge te kan aantoon in die lig van die bekering van Konstantyn en die invloed daarvan op die praktyk van die kategumenaat.

Daar is in die veld van die liturgiewetenskap al heelwat navorsing gedoen aangaande die kategumenaat in die geskiedenis van die liturgie. Gevolglik sal enkele van die sekondêre bronne wat oor hierdie onderwerp handel, onontbeerlik wees. Saam hiermee sal gekyk word na van die belangrikste en volledigste primêre bronne. Die keuse vir primêre bronne wat in hierdie artikels gebruik word, sal chronologies en geografies afgebaken word. Daar sal ’n verteenwoordigende keuse gemaak word ten opsigte van bronne vanaf die heel vroeë Didache (moontlik laat eerste eeu) tot en met enkele bronne wat die kategumenaat in die vyfde eeu beskryf. Saam hiermee sal die keuse van bronne ook afkomstig wees uit verskeie gebiede rondom die Middellandse See in die eerste vyf eeue. Verder sal die beskrywings per bron gemaak word. Die rede hiervoor is gewoon omdat daar geen uniforme reëling ten opsigte van die kategumenaat bestaan het nie, en elke bron se eie unieke bydrae so die beste belig kan word. Daar is onder liturgiste deesdae bykans algemene konsensus om in navorsing verby die twintigste eeuse pogings te beweeg wat gepoog het om een uniforme liturgiese praktyk in sekere liturgiese periodes te rekonstrueer uit die bronmateriaal en om eerder die uniekheid van elke onderlinge tradisie te erken7.

3. DIE KATEGUMENAAT IN DIE VROEË KERK8

Die titel van hierdie reeks artikels is “Die lang pad van bekering” en sinspeel op die proses- struktuur van die kategumenaat (wat doop, bevestiging en nagmaal ingesluit het) en die geestelike groei en verdieping wat so ’n proses kan help bewerk. Yarnold (2001:ix&60) beskryf die kategumenaat as “calculated to inspire religious awe, to make these rites the occasion of a profound and life-long conversion”. In die Apostoliese tyd is dit besonder moeilik om ’n presiese rekonstruksie (of eintlik om enigsins ’n getroue rekonstruksie) van die doop te maak. Wat wél gesê kan word, is dat die doop in dié tydperk bestaan het uit ’n kort voorbereiding (dele van die Pauliniese en nie-Pauliniese briewe was moontlik ontleen van doopkategese), vervolgens die onderdompeling of besprinkeling met water en derdens moontlik ook ’n salwing en/of handeoplegging (Noakes, 1992:117-118, sien ook Kavanagh, 1991:3-31). Die vroegste bronne ná die Apostoliese tyd dui alreeds op ’n geleidelike ontwikkeling en uitbreiding van die proses. Hoe dit ook al sy, die doop het na alle waarskynlikheid in die Apostoliese tyd uit meer as slegs ’n kort waterritueel bestaan. Dit is hoogs onwaarskynlik dat daar ’n eeu of twee later ’n sekuur uitgewerkte uitgebreide rituele proses vanuit die niet in die liturgie van die kerk sou verskyn het.

3.1 Vóór 312

Die bronne wat hier gekies word om te bespreek in hierdie vroeë periode is die Didache, Justinus se Apologie, Tertullianus se De Baptismo en die Apostoliese Tradisie van Hippolitus.9 Hierdie bronne word as van die belangrikstes beskou in die bestudering van die kategumenaat in hierdie periode.

3.1.1 Die Didache10

Daar is relatief min gegewens in die Didache, alhoewel die volgende wel aangaande die doop, wat ’n integrale deel van die kategumenaat was, gesê word. In 7.1 staan, “Baptize as follows: after first explaining alle these points ...” waaruit afgelei kan word dat die aktuele doopritueel voorafgegaan is deur instruksie of uitleg. Die voorafgaande teks in die Didache handel dan juis ook oor die twee paaie waaruit gekies moet word en volgens Noakes (1992:119) word dit redelik algemeen aanvaar dat hierdie twee weë gebruik is vir morele instruksie in doopkategese11. In 7.4 word ook versoek dat die dopeling, die bedienaar van die doop en almal wat kan twee of drie dae voor die doop vas. Die doop met water word self ook met enkele voorskrifte beskryf12, en in 9.5 word dit gestel dat slegs gedooptes aan die ete van danksegging mag deelneem.

Wat die proses13 dus aanbetref, kom daar alreeds in hierdie enkele gegewens uit die Didache ’n patroon met betrekking tot Christelike inisiasie uit die verf, naamlik vas en onderrig, gevolg deur die doop met water wat uiteindelik lei tot toelating by die Nagmaal. En alreeds in hierdie vroeë periode kan gesien word hoe godsdienstige onderrig en liturgiese begeleiding hand aan hand gaan in die proses van Christelike bekering en inisiasie.

3.1.2 Justinus se Eerste Apologie14

In Justinus se Apologie 1.61 praat hy met betrekking tot die doop eerstens van diegene wat oortuig is en wat glo dat wat Justinus-hulle vir hulle leer waar is, en hulle daarvolgens kan lewe. En dat hierdie mense in vas en gebed onderrig word om vergifnis vir hul sondes van God te vra (terwyl diegene wat hulle onderrig saam met hulle vas en bid). Daarna word hulle gelei na ’n plek waar water is en in die naam van die Vader en Here van almal, die Redder Jesus Christus en Heilige Gees gewas met water. Hierdie was sê Justinus word die “verligting” genoem “since they who learn these things become illuminated intellectually” (Whitaker, 2003:3)15. In Apologie 1.65 word dan verder beskryf wat na die waterdoop gebeur. Die nuut gedooptes word begelei na ’n plek waar die sogenaamde broers en susters op hulle wag om vir die nuut gedooptes te bid met die oog op hulle dade en redding. Na die gebede groet almal mekaar met ’n kus en daarna volg die nagmaal. Die oorkoepelende struktuur by Justinus is dus soortgelyk aan die van die Didache, naamlik onderrig (gepaardgaande met vas en gebed), die waterdoop en dan die nagmaal16.

3.1.3 De Baptismo (DB) en ander dooppreke van Tertullianus17

Dit was Tertullianus wat opgemerk het dat “Christene gemaak, en nie gebore word nie” (sien Senn, 1998:1). Hierdie beskouing van hom kom duidelik na vore in die wyse waarop hy aan die kategumenaat uitdrukking gegee het. Voor die doopritueel moet die dopelinge gereeld bid, vas, hulle knieë buig en nagwake hou, te same met sondebelydenis (DB 20). Die duiwel word vooraf ten minste tweemaal afgesweer18 (De Corona 3). Vanuit DB 4 kan ons aflei dat die doopwater eers geseën is, en nadat die water betree is, is die Christelike geloof bely en die duiwel afgesweer (De Spectaculis 4) die dopeling gewas in die water (DB 2), driemaal in die Naam van die drie Persone (Adversus Praxean 26) onderdompel waartydens die dopeling telkens redelik uitgebreid geantwoord het (De Corona 3). Hierna is hy/sy gesalf met geseënde balsem19 (DB 7) wat Tertullianus verduidelik as teruggrypend op Aaron wat met olie uit ’n horing deur Moses gesalf is en waarom Jesus die titel “Christus” ook het. In DB 8 beskryf hy die handeoplegging en seën wat gevolg het en die Heilige Gees genooi en verwelkom het20, en wat voorafgegaan is deur die kruisteken (De Resurrectione Carnis 8). Na die doop is die neofiete verwelkom deur melk en heuning te eet21 en vir een week lank na die doop het hulle nie gebad nie (De Corona 3). Wat die liturgiese tyd vir die doop aanbetref, is Paasfees volgens Tertullianus die mees gepaste tyd “... for then was accomplished our Lord’s passion, and into it we are baptized ...” (DB 19), alhoewel Pinkster daarnaas ook gepas is, of andersins eintlik enige dag, omdat elke dag die Here se dag is.

Hier het ons dus by Tertullianus alreeds ’n sterk ontwikkeling in die rigting van ’n meer uitgebreide kategumenaat. Wat opval, is dat rituele soos doop, aanneming en nagmaal, in hierdie periode ’n liturgiese eenheid vorm as inisiasieritueel. So merk Noakes (1992:123) ten opsigte van Tertullianus se geskrifte op dat die elemente van salwing, handeoplegging en kruisteken, later sou ontwikkel tot ’n aparte liturgiese gebeure, naamlik bevestiging22, en volgens Wegman (1991:81) dui hierdie handelinge daarop dat die gawe van die Gees hier ’n besondere aksent begin kry. Nietemin, hierdie ontwikkeling by Tertullianus is in lyn met die beskrywing uit die Apostoliese Tradisie uit ongeveer dieselfde periode.

3.1.4 Apostoliese Tradisie (AT) van Hippolitus23

Die beskrywing van die doop in die Apostoliese Tradisie is redelik volledig en beskrywend sodat slegs die hoofmomente sonder fyn besonderhede hier weergegee sal word. Die beskrywing begin met persone wat gedoop wil word wat hulself met ’n getuie by die onderwysers aanmeld. Die persone word dan ondervra oor die redes waarom hulle na die geloof wil kom en hulle getuies word ondervra aangaande hulle lewenswandel en getuig of hulle daartoe in staat is om die woord te hoor (AT 15). Die katekumenate hoor dan, met enkele uitsonderings na, die woord drie jaar (AT 17) terwyl hulle vir daardie periode liturgies apart gehou word en sekere handelinge nie verrig nie (AT 18).

Na die onderrigperiode word diegene wat die doop gaan ontvang, gekies en hulle lewenswandel ondersoek (of hulle byvoorbeeld siekebesoek gedoen het) deurdat hulle getuies op die vrae antwoord (AT 19). Gedurende die tydperk wat die katekumenate apart van die gemeente onderrig word, ontvang hulle daaglikse eksorsismes met handeoplegging en kort voor die doop moet die biskop elkeen persoonlik eksorseer. Indien daar twyfel bestaan oor ’n kandidaat se lewenshandel, word die persoon eenkant gesit en nie gedoop nie (AT 20).

Diegene wat wel gedoop gaan word, moet dan op die Donderdag bad, op die Vrydag vas, op die Saterdag op ’n aangewese plek vergader om te kniel en te bid terwyl die biskop hulle eksorseer met handeoplegging, in hulle gesigte blaas, op hulle voorkoppe, ore en neuse die (kruis)teken maak, en hulle dan laat regop staan. Verder hou hulle dan vir die res van die nag ’n nagwaak terwyl daar vir hulle gelees word en hulle verdere onderrig ontvang (AT 20).

Met hanekraai word ’n gebed oor die water gedoen. Eers doen die biskop ’n danksegging oor die ‘olie van danksegging’ (wat ’n diaken dan neem en aan sy regterkant gaan staan) en eksorsiseer die ‘olie van eksorsisme’ (wat ’n diaken neem en aan sy linkerkant gaan staan). Na ’n uitgebreide eksorsisme met die gepaste olie volg die waterdoop. Die kandidate trek kaal uit24, en die kleintjies word eerste gedoop, daarna die mans en laastens die vroue. Die doop is driemaal en Trinitaries met die kandidaat wat telkens voor elke onderdompeling wat gepaard gaan met ’n belydenis oor een van die Persone, antwoord “Ek glo so”25. Nadat die kandidaat die derde keer uit die water opgekom

het, word hy/sy deur die presbiter met die ‘olie van danksegging’ gesalf. Hierna droog hulle hulself af en trek hulle klere aan om die kerk te betree (AT 21). Eers kom die biskop egter en lê elkeen die hande op en doen ’n gebed, waarna hy die “olie van danksegging” uit sy hand op hulle koppe gooi en sy hand daar plaas met ’n gepaardgaande formule (AT 22).

Hierna gebruik die neofiete vir die eerste maal die nagmaal saam met die res van die gemeenskap van gelowiges. Wat hier interessant is met betrekking tot die toediening van die elemente, is dat eers die brood, dan die melk en heuning en laastens die beker ontvang is (AT 21).

Enkele ander bronne sou nog vir ’n beskrywing van die kategumenaat in hierdie vroeë periode geraadpleeg kon word, soos briewe van Ciprianus, die Didascalia Apostolorum (hoofstukke 9&16) en die Handelinge van Judas Thomas. Die voorafgaande beskrywings verskaf egter vir ons doeleindes genoeg informasie ten einde ’n beskrywing in hierdie periode te kan maak en enige verskille met die daaropvolgende periode, wat in deel 2 van hierdie reeks uit die verf sal kom, te kan uitwys.

4. ROETEMERKERS VANUIT DIE PATRISTIEK

Voordat oorgegaan word na die periode ná 312 om die ontwikkelinge van hierdie proses in ’n staatskerk probeer naspeur, sal daar nou eers en baie voorlopig boek opgemaak word ten opsigte van die moontlike winspunte van die kategumenaat in hierdie periode. Hierdie winspunte sal as roetemerkers aangedui word en sal in deel 5 saam met al die ander roetemerkers uit die ander artikels gesistematiseer word in ’n prakties-teologiese voorstel met die oog op vandag.

Die roetemerkers:

• Geestelike oefeninge, soos vas, is saam met die onderrig uit byvoorbeeld die Bybel gebruik om kandidate te help om op God te fokus en na sy stem te luister.

• Toegang tot die Christelike kerk was moeilik en dit het ook aan die evangelie ’n besondere aanloklikheid verleen.

• Getuies het ’n besondere funksie vervul en kandidate onderskraag. Verder het die res van die gemeenskap van gelowiges ook deurgaans die funksie gehad om vir kandidate te bid. Die groter geloofsgemeenskap was dus intiem betrokke by die hele proses. Benewens die getuies en die groter geloofsgemeenskap het die biskop en sy ouderlinge noulettend toesig gehou oor die gehalte van die bekering van kandidate (Wegman, 1991:84).

• In die vroeë Patristieke tyd was doop, bevestiging en eerste nagmaal een inisiasieritueel.

• Hierdie porses met die gepaardgaande volle lidmaatskap het aan ’n persoon toegang verleen tot sekere dinge wat taboe was vir nie-lidmate. Wat egter hier opmerklik is, is die gegewe dat Woordverkondiging altydeur vir almal toeganklik was.

• Onderrig is doelbewus ritueel begelei en beide lering en liturgie was deurentyd onderling verbonde. Die een het selde sonder die ander gefunksioneer.

• Deurgaans in die proses moes kandidate bevestig dat hulle graag die proses wil deurloop wat persone se “commitment” tot die saak versterk het.

• Die rituele self was “awe-inpiring”, goed ontwerpte, besonder taktiele handelinge wat ’n blywende indruk op mense gelaat het.

• Sondevergifnis en -belydenis was integraal tot die voorbereiding.

• Daar was sprake van ware inisiasie in die kultureel antropologiese sin van die woord. Mense se identiteit is deur ’n ritueel begeleide proses vanaf nie-gelowige na gelowige, vanaf dood na lewend, begelei. Verskeie simbole het hierdie transformasie ondersteun, soos die water (afwassing, geboorte ens.), die olie (salwing vir diens) en handeoplegging (vir ’n besondere taak). Verder is liminaliteit in Victor Turner se sin van die woord aktief ingespan as strategie. Hier sou ’n herwaardering van die verskillende wyses waarop die Nuwe Testament oor die doop praat waardevol kan wees.

• Die inisiasieproses het ’n resiproke karakter besit, deurdat die genade van God en dit wat Hy vir die kandidate doen, gesimboliseer en verduidelik is, maar dat die kandidate self ook deurgaans moes bely en bevestig. Hierdie verstaan strook met ’n Gereformeerde verstaan van die liturgie waarin God op ’n teonoom resiproke wyse (Van Ruler) ’n ontmoeting met die mens bewerk.26

• Die doen van barmhartigheidswerk is ingebou in ’n baie vroeë fase en was nie net die resultaat van die pad van bekering nie. Die praktiese ervaring van barmhartigheidswerk was deel van die konteks waarbinne die geloofsinhoud ontvang is.

• In die woorde van Alan Kreider (1999) het hierdie proses van die kategumenaat “belief, behaviour and belonging” gestimuleer. In ons eie dag is “belonging”, om te behoort, een van die grootste hunkeringe van moderne mense en moet hierdie kwaliteit van die kategumenaat verder verken word.

• Dit is belangrik om in ag te neem dat hierdie proses gemik was op die bekering van enkelinge en nie op massa-bekerings nie (Wegman, 1991:84).

Dit blyk vanuit die proses-struktuur van die kategumenaat asof bekering in hierdie periode nie beskou is as ’n eenmalige gebeure wat gekoppel was aan ’n spesifieke formule of formules wat die geloof van die kandidaat bevestig en sodoende dus ook sy/haar paspoort na die hemel gewaarborg het nie, maar eerder ’n lang pad wat ’n gelowige sy/haar hele lewe lank stap.

5. TEN SLOTTE

Die oogmerk van hierdie eerste artikel in die reeks is ’n oorsigtelike liturgiesehistoriese beskrywing van die kategumenaat in die eerste eeue van die Patristieke tyd. Indien ’n mens hier vanuit die vorm van die gebed iets van die inhoud van die geloof kan aflei, dan wil dit voorkom asof bekering ’n lang pad was van geestelike groei en volwassewording ... eers na baie lering eenmalig die water, dan die melk en heuning en dan eers voortdurend die brood en wyn. In deel 2 sal dit aan die lig kom hoe hierdie lang pad tydens die Christendom-era in die daaropvolgende jare meer uitgebreid en geformaliseerd geraak het, maar ook algaande ’n kortpad geword het.

BIBLIOGRAFIE

Ascough, R.S. 1994. “An Analysis of the Baptismal Ritual of the Didache”. Studia Liturgica 24/2, 201-213.

Barnard, M. 2004. “Liturgia semper roformanda quia ecclesia reformata. Het gebruik van tradities in recente protestantse liturgiehervormingen”. Jaarboek voor liturgie-onderzoek 20, 59–72.

Bijlsma, R. 1981. Kleine Catechetiek. Nijkerk: G.F. Callenbach.

Couratin, A.H. 1952. “Justin Martyr and Confirmation – A Note”. Theology. 55, 458-460.

Guder, D.L. (red.). 1998. “Missional Church: From Sending to Being Sent”. In: Missional Church. A Vision for the Sending of the Church in North America. Grand Rapids: Eerdmans.

Hawkins, F. 1992. “The Didache”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Immink, G. 1998a. “Een dubbele beweging”. In: Oskamp, P. en N. Schuman (reds.). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema.

Johnson, M.E. 2003. “The Study of the Rites of Christian Initiation Today”. In: Whitaker, E.C. 2003. Documents of the Baptismal Liturgy. Revised and expanded edition by M.E. Johnson. Alcuin Club Collections 79. Londen: SPCK.

Jones, C et al (reds.). 1992. “The Apostolic Tradition”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Kavanagh, A. 1991. The Shape of Baptism: The Rite of Christian Initiation. Studies in the Reformed Rites of the Catholic Church, Volume 1. (Reprint). Collegeville, MN: The Liturgical Press.

Kreider, A. 1999. The Change of Conversion and the Origin of Christendom. Christian Mission and Modern Culture. Harrisburg: Trinity Press International.

Nelson, M.E. 1996. “Catechesis and baptism in the early Christian church”. In die Skriflig 30/4, 443-456.

Noakes, K.W. 1992. “Initiation: From New Testament Times until St Cyprian”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK

Pecklers, K.F. 2003. Worship. Londen/ New York: Continuum.

Ratcliff, E.C. 1948. “Justin Martyr and Confirmation”. Theology. 51, 133-139.

Senn, F.C. 1997. Christian Liturgy. Catholic and Evangelical. Minneapolis: Fortress Press.

Senn, F.C. 1998. “A Catechism on the Catechumenate”. Lutheran Forum. 32/3, 1 – 5. (ook by http://www.worship.ca/docs/f_32_fs.html besoek op 02/8/05)

Statistiek Suid-Afrika. 2001. Religion Report.

Stewart-Sykes, A. 2001. “Manumission and Baptism in Tertullian’s Africa: A Search for the Origin of Confirmation”. Studia Liturgica. 31/2, 129–149.

Van Ruler, A.A. 1973. “Hoofdlijnen van een Pneumatologie”. Theologisch Werk Deel IV. Nijkerk: Uitgeverij G.F. Callenbach, 9 – 40.

Wainwright, G. 1992. “The Periods of Liturgical History”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Webber, R.E. 1994. Worship Old & New. A Biblical, Historical, and Practical Introduction. Revised Edition. Grand Rapids: Zondervan.

Wegman, H.A.J. 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.

Wepener, C.J. 2003. “Liturgie en versoening vóór die Reformasie: 60 - 312 AD”. Praktiese Teologie in Suid- Afrika. 18/1, 231–256.

Whitaker, E.C. 2003. Documents of the Baptismal Liturgy. Revised and expanded edition by M.E. Johnson. Alcuin Club Collections 79. Londen: SPCK.

Yarnold, E. 1992a. “Initiation: The Fourth and Fifth Centuries”. In: Jones, C. et al (reds.). The Study of Liturgy. Revised Edition. Londen: SPCK.

Yarnold, E. 2001. The Awe-Inspiring Rites of Christian Initiation. The Origin of the R.C.I.A. Second Edition Reprinted. Collegeville: The Liturgical Press. http://www.iss.co.za

TREFWOORDE

Kategumenaat, Liturgie, Patristiek, Doop

KEY WORDS

Catechumenate, Liturgy, Patristics, Baptism

Dr Cas Wepener

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

Privaatsak X 1

MATIELAND 7602

Tel.: (021) 808 3624

E-pos: cwepener@sun.ac.za

1 My opregte dank aan dr. Louis van Tongeren (dosent Geskiedenis van die Liturgie, Universiteit van Tilburg) vir stimulerende gesprekke en opmerkings tydens die voorbereiding van hierdie reeks.

2 Die woord kategumenaat is ’n moderne woord wat afgelei is van die Griekse woord vir “hoorders” (van die Woord van God) en ten opsigte van persone dui dit op diegene wat die eerste stap geneem het in die rigting van Christelike lidmaatskap (sien Yarnold, 1992a:131). En volgens Chrisostemos is die woord afgelei van die Grieks vir “eggo” en verklaar daarmee dat die instruksie wat katekumenate verkry nie net vir hulle ore bedoel is nie, maar in hulle koppe moet resoneer en in hulle lewens tot uitdrukking kom (sien Yarnold, 2001:7).

3 Hierdie herontdekking aan Rooms Katolieke kant sal in deel 4 vollediger bespreek word.

4 Volgens die 2001 Sensus skaar 79,8% van die bevolking van Suid-Afrika hulle by die Christelike geloof. Hierteenoor het Suid-Afrika van die hoogste misdaadsyfers in die wêreld. Vergelyk in hierdie verband syfers van die Instituut vir Sekerheid Studies by www.iss.co.za onder “Criminal Justice Monitor”.

5 Die Suid-Afrikaanse kerklike situasie is uiteraard nie direk vergelykbaar met dié van ander periodes in die kerkgeskiedenis nie. Die skuif in die samelewing wat deur sommiges as ’n skuif vanaf Christendom na na- Christendom beskryf word (sien Guder, 1998:5-7 & Kreider, 1999), het ’n impak op hoe die kerk omgaan met evangelisasie. Volgens Kreider (1999:xvii) (wat ook vir Butterfield in hierdie verband aanhaal) is die huidige Westerse situasie (wat ook geld vir groot dele van die Suid-Afrikaanse samelewing) vergelykbaar met die situasie van die Vroeë Kerk en sal ’n verkenning van hoe die Vroeë Kerk hiermee omgegaan het, insig kan verleen in moontlikhede in hierdie verband vir ons eie konteks. Op ’n etiese vlak merk Nelson (1996:446) op dat die situasie dat die feit dat die gelowiges sterk begin toeneem het teen die einde van die tweede eeu en die probleem dat baie gelowiges onder vervolging afgesien het van hul geloof, die gevolg gehad het dat die struktuur van die kategumenaat ontwikkel het. Sodoende kon gelowiges beter voorberei word vir ’n lewe in die sitausie van vervolging en heelwat dwaallere.

6 Sodoende sal die invloed wat die bekering van Konstantyn en gepaardgaande wetgewing ten opsigte van die Christendom uitgeoefen het op die kategumenaat ook aangetoon kan word. En volgens Wainwright (1992:63) kondig hierdie insident tereg ’n waterskeiding aan in die Patristieke tydperk.

7 ’n Klassieke voorbeeld van ’n poging tot ’n rekonstruksie van ’n algemene vorm is Gregory Dix se seminale werk The Shape of the Liturgy. Ascough (1994:202, sien ook Johnson, 2003:xiii) noem ’n benadering wat veronderstel dat daar uniforme liturgiese praktyke bestaan het ’n slaggat in liturgiese navorsing.

8 Die meeste van die tekste van die primêre bronne waarmee daar vervolgens gewerk word kom uit die seleksie en vertalings in Whitaker (2003).

9 Sien onder andere Webber (1994:95), die bronne wat deur ’n standaardwerk oor die bestudering van die liturgie soos Jones et al (1992) met betrekking tot Christelike inisiasie geraadpleeg word en die bronne wat deur Whitaker (2003) aangegee word as die belangrikste liturgiese bronne vir die bestudering van hierdie onderwerp, asook Wegman (1991:66-68). Uiteraard kan alle bronne nie hier tereg kom, maar slegs ’n seleksie.

10 Daar is groeiende konsensus dat hierdie dokument afkomstig is uit Sirië en gedateer kan word as laat eerste/vroeg tweede eeu AD (Whitaker, 2003:1, sien ook, Hawkins 1992:85-86).

11 Sien in hierdie verband ook Bijlsma (1981:43-45), Wegman (1991:80) en Wepener (2003:235-236).

12 Die wyse waarop die teks sê dat jy moet doop in lopende water, maar as daar nie lopende water is nie dan ander water, en indien koue water nie beskikbaar is nie dan warm water, en indien geen van die vorige beskikbaar is nie, gooi water driemaal op die hoof, laat die gedagte ontstaan dat die presiese wyse van die waterdoop van sekondêre belang was vir die outeur(s). Van belang is eerder die feit dat die mense gedoop word. En volgens Ascough (1994:210) is die rituele doopelement wat wel vir die outeur(s) belangrik is en hierdie ritueel afsonder van enige ander, die aanroeping van die naam van die Here op een of ander wyse tydens die waterdoop.

13 Deur die Kultureel Antropologiese insigte van Victor Turner toe te pas op die beskrywing van die doop in die Didache kom Ascough (1994:211-213) tot die gevolgtrekking (’n redelik voor die hand liggende een) dat daar hier ’n ritueel van status transformasie beskryf word en dat die fases van die proses duidelik aantoonbaar is, te wete 1. verwydering (van mense deur die onderrig; van plek tydens die aktuele doopritueel en van tyd deur met vas die normale lewensritme te deurbreek) 2. liminaliteit waartydens ’n drumpelperiode ervaar is van nog nie volledige lidmaatskap nie en 3. integrering deur toelating tot die nagmaal.

14 Justinus het sy verdediging van die Christelike geloof in Rome gedoen, al was hy in Sirië gebore, in ongeveer 160 AD (Noakes, 1992:118 & Whitaker, 2003:2) en vir ’n beskrywing van twee bekeringsverhale rakende Justinus self, sien Kreider (1999:3-4).

15 In ’n onlangse boek wys Pecklers (2003:39&40) ten opsigte van die kategumenaat (die deurgaans in die boek ten opsigte van die hele liturgie) hoe kulturele elemente in die loop van die geskiedenis geleen is, so byvoorbeeld ook ’n woord soos ‘verligting’ in die kategumenaat wat ook in die misterie kultusse van die dag voorgkom het.

16 In ’n argument teen liturgiste wat Justinus se verstaan van Christelike inisiasie tot slegs die waterdoop beperk, maak Ratcliff (1948:133-139) die punt dat daar by Justinus ’n veel groter inisiasie patroon nagespeur kan word. En in ’n artikel uit dieselfde era argumenteer Couratin (1952:458-460) ook, deur middel van ’n vergelyking van Justinus se beskrywing en die ritueel met betrekking tot melaatses in Levitikus 14, dat Justinus bekend was met ’n groter seremoniële dooppatroon wat oliesalwing en offer by die eucharistie ingesluit het. En deur sy eie argument en Ratcliff s’n bymekaar te bring stel Couratin ’n uitgebreide patroon voor: waterdoop, oliesalwing, gebed om die Gees gevolg deur die eucharistie.

17 Tertullianus het gewerk in Noord-Afrika en in 195 AD tot bekering gekom. Sy De Baptismo dateer vroeg uit die derde eeu AD (Whitaker, 2003:8 & Noakes, 1992:121) en was ’n polemiese werk wat gedien het as verdediging van die doop teenoor ’n Gnostiese sekte wat gelei is deur ’n “certain female viper” (Noakes, 1992:121). In verband met Tertullianus en ’n bespreking van sy doopritueel sien ook Stewart- Sykes (2001:130-141).

18 In totaal word die duiwel dus tydens die doopritueel driemaal afgesweer.

19 Volgens Noakes (1992:122) is die dopeling se hele lyf na alle waarskynlikheid gesalf.

20 Volgens DB 17 is die biskop primêr vir die uitvoering van hierdie liturgiese taak verantwoordelik, alhoewel die biskop ook opdrag aan die presbiters en diakens of selfs leke kan gee om dit te doen. DB 18 laat dit verder blyk dat Tertullianus nie ten gunste van kinderdoop was nie (sien ook Noakes, 1992:122 en Whitaker, 2003:10).

21 Tertullianus verwys nie na toelating tot die nagmaal nie. Stewart-Sykes (2001:140) wys in hierdie verband op die gebruik van Marcion om die neofiete eers te speen op melk en heuning en eers dan brood te gee wat hom tot die gevolgtrekking laat kom dat aanvaar kan word dat die melk en heuning waarna Tertullianus verwys ook waarskynlik deur die nagmaal gevolg sou word.

22 Hierdie insig werp alreeds lig op een van die inisiële vrae, te wete die waarde van die huidige ritueel van aanneming en belydenisaflegging in onder andere die NG Kerk in isolasie van ander rituele.

23 Dit is tradisioneel aanvaar dat Hippolitus wat vroeg in die derde eeu in Rome werksaam was die outeur van hierdie geskrif is en dat die dokument self vanuit Rome afkomstig is. Hierdie oorsprong en outeurskap word deesdae bevraagteken en geargumenteer vir ’n redaksiegeskiedenis met verskeie outeurs. Sien Whitaker (2003:4) en ook Jones et al (1992:87-89) vir ’n bespreking van verskeie standpunte in hierdie verband.

24 Volgens die Didascalia Apostolorum (DA) moes vrouens ander vrouens salf. Indien daar geen vrou beskikbaar is vir die taak nie, dan wel ’n man, maar hy salf haar slegs op haar kop (DA 16). Hierdie riglyn uit die DA dui daarop dat die naaktheid waarmee sekere dele van die ritueel gepaard gegaan het met sensitiwiteit hanteer is.

25 ’n Kandidaat wat vir hom-/haarself kan praat moet self antwoord, andersins moet ’n kandidaat se ouers of iemand anders uit die familie vir hom/haar praat (AT 21).

26 Sien Van Ruler (1973), ook Immink (1998).