Nel, MJ

Universiteit van Stellenbosch

Die voorwaardelike karakter van God se vergifnis in die Ons Vader-gebed1

ABSTRACT

The conditional nature of God’s forgiveness in the Lord’s Prayer

This article examines Matthew 6:12 as a crux interpretum for understanding the forgiveness of others as a prerequisite for receiving God’s forgiveness in the Gospel according to Matthew. It utilises the insights gained into the nature of patron-client relationships in the first century Mediterranean world by historical anthropology in order to read Matthew 6:12, 14-15 and Matthew 18:23-35 within its original cultural context. It concludes that as the Patron of believers, God demands that they repay his patronage by living according to his code of conduct and not that of the world. Believers are therefore expected to do what was regarded as dishonourable by the dominant culture: they should forgive others unconditionally. In honouring God as their Patron in this manner, believers do not earn his forgiveness but rather act according to their expected role as clients in an intrinsically asymmetrical relationship that has been established through the grace of God.

1. INLEIDING

Die vyfde bede van die Ons Vader-gebed (6:12) is ’n crux interpretum vir die verstaan van die verhouding tussen menslike vergifnis en die ontvangs van God s’n in die Matteusevangelie. Die bede verbind God se vergifnis van gelowiges met hulle verantwoordelikheid om ander eerste te vergewe (6:12, 14-15)2 wat die vraag na vore bring of God se vergifnis verdien moet word deur die vergewing van ander (Carson 1984:172)? Dié vraagstelling hou verband met die dieperliggende vraag of vergifnis in Matteus te danke is aan God se genade, wat gestalte vind in die soenoffer van Jesus (vgl. 20:28 en 26:28), en of dit afhanklik is van God se finale oordeel oor gelowiges wat sal geskied na aanleiding van hulle gehoorsaamheid al dan nie aan sy wil, soos bekendgemaak deur Jesus (vgl. 6:12, 14-15; 25:31-46) (vgl. Seeley 1994:21; Nel 2002:303-314).

Ten einde ’n antwoord te kry op die vraag of God se vergifnis verdien moet word, sal die verhouding tussen menslike en Goddelike vergifnis in die vyfde bede van die Ons Vader-gebed (6:12), tesame met die begronding daarvan (6:14-15), eers in die artikel ontleed word. Daarna sal dit in die lig van 1ste-eeuse weldoener-kliënt verhoudinge, soos geïllustreer deur die gelykenis van die onvergewensgesinde slaaf (18:23-35), van nader beskou word.

2. DIE VERGIFNIS VAN ANDER AS VOORWAARDE VIR VERGIFNIS

2.1 Matteus 6:12

Die sleutel vir die uitleg van die vyfde petisie van die Ons Vader-gebed, is die korrekte verstaan van die hipotaktiese frase (ώς καί ήμείς άϕήκαμεν τοίς όϕειλέταις ήμών) in vers 12, asook die uitklaring van die verband tussen vers 12 en verse 14 tot 15.

Afsonderlik beskou bied die hoofsin (12a) en hipotaktiese frase (12b) waaruit vers 12 bestaan weinig teologiese probleme. In vers 12a word om vergifnis van God as genadige Vader gevra vir die sondes teenoor Hom waarvoor die dissipels self nie vergifnis kan bewerkstellig nie (Morris 1992:147-148). Net God kan die verhouding tussen Hom en mense herstel (Hendrickx 1984:120). In vers 12b word weer veronderstel dat dit wat hulle wel kan doen, naamlik om ander hulle oortredings teen hulle te vergewe, hulle wel sal doen (Betz 1995:403-404).

Die verbinding van die twee dele bied egter bepaalde eksegetiese en teologiese probleme (Stein 1990:75; Hultgren 1996:285). Die voegwoord (ώς) wat die twee dele aan mekaar bind, dui daarop dat die petisie in die eerste deel gekwalifiseer word deur die voorwaardes gestel in die tweede deel daarvan (Guelich 1982:294). Die bereidwilligheid om ander te vergewe is in dié geval die enigste voorwaarde in die Ons Vader-gebed (Jeremias 1971:192). Só verstaan sal God slegs in dieselfde mate wat mense dit wel reeds doen, hulle ook vergewe (Hultgren 1996:285-286). Volgens Matteus vergewe God dus nie sondaars op ’n ongekwalifiseerde wyse nie. Die kwalifikasie word versterk deurdat die vyfde petisie die enigste een is waarop uitgebrei word deurdat verse 14-15 die voorwaarde vervat in vers 12, eers positief en dan negatief herhaal.

Daar is twee moontlikhede om die hipotaktiese frase in vers 12, wat die aard van dié kwalifikasie weergee, te verstaan.3 Dit kan óf as ’n ondergeskikte frase van vergelyking (“soos”), óf van rede/oorsaak (“omdat”) geneem word (Stander 1987:241). Die vyfde petisie om vergifnis deur God word dus, óf gekwalifiseer deur die mate waarin gelowiges ander vergewe (“soos”), óf vanweë die feit of hulle dit beoefen al dan nie (“omdat”). Blass, Debrunner en Funk (1961:236), asook Rienecker (1976:18) en Stander (1987:241) kies op grammatikale gronde om die ondergeskikte frase 9 ώς καί ήμείς άϕήκαμεν τοίς όϕειλέταις ήμών) as een van rede of oorsaak te neem.

Die vyfde petisie leer dus nie dat gelowiges in dieselfde maat vergeef word as wat hulle ander vergewe nie (France 1985:137). Só sou niemand God se vergifnis kan ontvang nie (Morris 1992:147). Nie alleen is gelowiges se vergifnis van ander dikwels gebrekkig nie, maar is hulle skuld teenoor God veel groter as die van ander teenoor hulle (Stein 1990:75; Hultgren 1996:288).

Die dissipels word eerder geleer om te bid dat God hulle sondes sal vergewe omdat hulle diegene wat teen hulle gesondig het, reeds vergewe het.4 Die doen van die onmoontlike (vereffening van hulle sondeskuld teenoor God) word dus vervang met die eis om die moontlike (die eer van God as hulle weldoener deur die navolging van sy voorbeeld) te doen (18:35).

2.2 Matteus 6:14-15

Verse 14 tot 15 moet saam met vers 12 gelees word, aangesien hulle ’n identiese onderliggende enthymeem bevat, waarvan die rasionale eers positief en dan negatief gestel word (Kennedy 1984:59).5

Positief gestel (vers 14)

i. Algemene reël: Julle hemelse Vader vergewe diegene wat mense hulle sondes vergewe (vers 12 en 14).

ii. Spesifieke geval: Julle vergewe diegene wat teen julle sondig (vers 12 en 14).

iii. Gevolgtrekking: Julle Vader sal julle vergewe (vers 12 en 14).

Negatief gestel (vers 15)

i. Algemene reël: Julle hemelse Vader vergewe nie diegene wat mense hulle sondes nie vergewe nie (negatief gestel) (vers 15).

ii. Spesifieke geval: Julle vergewe nie diegene wat teen julle sondig nie.

iii. Gevolgtrekking: Julle Vader sal julle nie vergewe nie (vers 15).

As ’n aanhaling van die Heilige Reg6 (Käsemann 1969:77; Guelich 1982:298; Hagner 1993:152) veronderstel verse 14 en 15 die beginsel van retributiewe geregtigheid (Betz 1995:416). Volgens dié beginsel word die optrede van mense (vervat in die eerste deel van die stelling) direk in verband gebring met dié van God (vervat in die tweede deel van die stelling) (Aune 1983:167-168, 238-239).

Die betrekking van God se optrede op die van mense in Matteus is nie net beperk tot 6:12,14-15 nie, maar kom ook in gedeeltes soos 7:1-5 en 12 voor, terwyl verskeie sleutelperikope dit duidelik maak dat dit wat van God gevra word en dit wat Hy genadiglik aan gelowiges skenk, ook teenswoordige, menslike handelinge vereis. Voorbeelde in Matteus van tweedelige uitsprake (met dieselfde werkwoord in beide dele) waarin die eerste deel op menslike aktiwiteit en die tweede op ’n eskatologiese daad van God dui, is onder andere 5:7; 10:32-33 en 23:12 (Davies & Allison 1988:611). Die inhoudelike strekking van 6:12, 14-15 wat God se vergifnis aan dade van versoening en vergifnis koppel, verskil ook weinig van 5:23-24 en die gelykenis van die onvergewensgesinde slaaf (Guelich 1982:298; Davies & Allison 1988:615). Soms is die optrede van gelowiges ’n voorwaarde vir God se handeling (bv. 6:12, 14-15) en ander kere weer die gevolg daarvan (bv. 18:23-35) (Mohrlang 1984:52-53; Schrage 1988:145; Stein 1990:76-77; Hultgren 1996:289).

2.3 Samevatting

In die Matteusevangelie is die vergifnis van ander ’n voorwaarde vir die ontvangs (6:12, 14-15), óf behoud (18:23-35), van God se vergifnis (Patte 1987:89, 109). Alhoewel die volgorde tussen God en gelowiges se onderskeie dade van vergifnis nie vas is nie, verander dit niks aan die koppeling van die twee nie (Nolland 2005:761). Die ontvangs en behoud van God se vergifnis veronderstel telkens ’n bepaalde verhouding tussen God en gelowiges. Daar moet daarom gevra word hoe dié asimmetriese verhouding tussen ongelyke subjekte soos God en gelowiges verstaan moet word in die konteks van die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld ten einde die vraag te kan beantwoord of gelowiges hulle vergifnis deur God moet verdien deur ander te vergewe. Ten einde dit te kan doen sal die modelle en insigte, soos ontwikkel deur die historiese antropologie ten opsigte van weldoener-kliënt verhoudinge in die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld, vervolgens benut word (vgl. Scott 1990:205-215; Neyrey 1998:7-9, 14-34).

3. GOD AS GELOWIGES SE HEMELSE WELDOENER

3.1 Weldoener-kliënt verhoudinge in die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld

Die wederkerige verhoudinge tussen persone van ongelyke sosiale status in die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld kan getipeer word as weldoener-kliënt kontrakte (Malina 1996:143; Moxnes 1991:242; Elliott 1996:144). Weldoener-kliënt kontrakte is vrywillig geïnisieer deur ’n weldoener met ’n positiewe uitdaging van ’n ondergeskikte persoon (die kliënt) se eer. Positiewe uitdagings soos die gee van ’n geskenk, of die nooi vir ’n ete, het die ontvanger daarvan onder ’n duidelike verpligting geplaas om op ’n gepaste wyse (bv. met lojaliteit en gehoorsaamheid) teenoor sy of haar weldoener te reageer (Neyrey 2004:12). Totdat ’n gepaste teenprestasie gelewer is, was die kliënt as ’t ware in die skuld by die weldoener (Joubert 1998:154-155; Neyrey 2004:250).

In die Romeinse samelewing het weldoenerskap beslag gekry in die sisteem van patronatus en in die Griekse wêreld in die sisteem van openbare en private weldoenerskap (Joubert 1998:154-161). Indien die twee sisteme op ’n laer vlak van abstraksie met mekaar vergelyk word, blyk dit dat hulle nie dieselfde binne Griekse en Romeinse kontekste gefunksioneer het nie (Joubert 1998:158-159; kontra Crook 2004:60-67). Die spesifieke terminologie vir die Romeinse sisteem van patronatus en clientela was dan ook grootliks afwesig in die Ooste (Elliott 1996:151). In die Romeinse sisteem was daar ’n onoorbrugbare statusverskil tussen die patronus en kliënt. In die Griekse sisteem was dit egter wel moontlik om die statusverskil op te hef en was dit ook, anders as by die Romeinse stelsel, die ganse gemeenskap wat by die weldoener se optrede gebaat het en nie net enkele individue nie. Rondom die 3de-4de eeu het die twee sisteme egter inmekaar gevloei (Joubert 1998:159).

3.2 God as weldoener in Matteus

Vanweë die belangrikheid van die kliënt-weldoener verhoudinge in die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld, is dit dikwels in Rabbynse literatuur as ’n metafoor vir die verhouding tussen God en Israel benut (Scott 1990:207). Alhoewel God self nooit ’n weldoener (εύεργέτης) in Matteus genoem word nie, word daar wel na Hom as “Vader” verwys7 wat in Grieks-Romeinse literatuur dikwels as ’n term vir weldoeners gedien het. Dit is ook duidelik dat God se optrede in Matteus ooreenstem met die van ’n antieke weldoener deurdat Hy onder andere voedsel en klere (6:26-33) aan sy kliënte bied (Malina & Rohrbaugh 1992:59; Neyrey 2001:369-373; 2004:6-7, 52-53).8 God verleen ook spesifiek vergifnis aan sy kliënte (vgl. Neyrey 1998:43), wat op hulle beurt moet reageer met lojaliteit en respek teenoor Hom as weldoener (vgl. Elliott 1987:42-43; Malina & Rohrbaugh 1992:75).

3.3 God as weldoener in die Ons Vader-gebed

In terme van die gemeenskaplike sosiale en kulturele topieke van die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld erken die Ons Vader-gebed God as gelowiges se hemelse weldoener.9 Só begin die Ons Vader-gebed met ’n invocatio, wat die intieme nabyheid van God as Vader (ІІάτερ ήμϖν) met sy transendente, almagtige natuur (ό έν τοίς ούρανοίς) verbind (Van Tilborg 1985:120; Morris 1992:144; kontra Luz 1989:377).

Nadat die dissipels God as hul weldoener erken het in die invocatio, eer hulle God verder as hulle weldoener deur eers vir die eer van sy Naam, die koms van sy koninkryk en die uitvoering van sy wil te bid, voordat hulle hul eie behoeftes aan Hom bekend maak in drie petisies (Neyrey 1998:110). Dit is in die bekendmaking van hulle behoefte aan vergifnis deur hulle hemelse weldoener, dat die bidders deur Jesus geleer word om hulle versoek te kwalifiseer deur na hulle vergifnis van ander te verwys. Die rede hiervoor is dat die eer van God as hemelse weldoener gekoppel is aan die optrede van sy kliënte (vgl. 5:16). God se eer word egter nie gedien deurdat gelowiges Hom op een of ander manier (bv. die gee van ’n offer) vergoed vir hulle oortredinge teen Hom nie. God word eerder geëer wanneer hulle teenoor mekaar optree met dieselfde barmhartigheid as wat Hy aan hulle betoon het (9:13; 12:7).

Die grondmotief agter die oproepe in Matteus om barmhartige dade te beoefen, is daarom die wete dat God genadig is en dat sy geregtigheid vereis dat dié wat om genade vra ook genade sal beoefen (vgl. 5:21-48; 6:2-4; 7:1-5, 14, 15-26) (Betz 1995:133-134). Indien die bidders as God se kliënte, volgens die waardes van die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld, nie soos hulle hemelse weldoener met genade gehandel het nie, sou hulle sy naam in oneer bring. Die implikasie sou wees dat die handhawing van hulle eie eer, deur volgens die heersende norme nie te vergewe nie, belangriker was as God se eer. Hulle handhaaf hul eer deur vergelding te eis terwyl God van sy reg om vergelding afgesien het (deSilva 1999:61-62). Die omgekeerde is ook waar. Daar kan nie van ’n weldoener verwag word om op ’n bepaalde wyse te handel (deur bv. te vergewe) as sy kliënte ooglopend anders optree nie. Daarom moet gelowiges eers met hulle broers versoen word, voordat hulle ’n offer kan bring om vergifnis van God te vra (5:23-24). Die uitbeelding van God as ’n weldoener, en gelowiges as sy kliënte, bied dus ’n model vir die verstaan van die voorwaardelike, maar nie verdienstelike, karakter van God se vergifnis in die Matteusevangelie en sal daarom vervolgens in groter detail beskou word.

4. DIE EER VAN GOD AS WELDOENER

In die grammatika van weldoener-kliënt verhoudinge dui genade op ’n kliënt se versoek aan ’n weldoener om ’n spesiale guns (Neyrey 1998:135).10 In die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld het dit egter nie alleen gedui op dit wat ontvang is nie, maar ook op die ontvanger se gunstige reaksie daarop. Om dié rede het daar nie iets bestaan soos ’n geïsoleerde daad van genade nie. ’n Daad van genade moes ’n soortgelyke daad van genade ontlok (deSilva 2000:104-109). ’n Weldaad van ’n weldoener, soos die verlening van vergifnis, het dus ’n voortgaande verhouding tussen die ontvanger (die kliënt) en die gewer (die weldoener) daargestel, wat vereis het dat eersgenoemde gepas reageer op die ontvangs van die weldaad. Die reaksie het dan ook die aard van hulle voortgaande verhouding direk bepaal. ’n Eerbare reaksie (die kliënt handel soos die weldoener in die openbaar) het gelei tot verdere weldade deur die weldoener. ’n Oneervolle een het egter gelei tot aksies soos die neem van wraak11 deur die weldoener om sy eer te herstel (vgl. deSilva 2000:102-119). Matteus huiwer daarom nie om daarvan melding te maak dat God diegene, wat oneervol teenoor sy bemiddelaar (Jesus) of sy ander kliënte opgetree het nie, daarvoor sal vergeld nie (21:33-46).

4.1 Matteus 18:23-35

Die gelykenis in 18:23-35 gee ’n uiteensetting van die optrede van God as ’n weldoener indien sy kliënte nie gepas gereageer het op sy weldade nie (vgl. Scott 1990:267-280).12 Dit vertel van ’n koning (God) wat sy kliënt (’n slaaf) inroep om sy skuld teenoor hom as weldoener te vereffen. Aangesien hy dit nie kon vereffen nie dreig die koning hom met die gepaste optrede volgens die heersende kulturele waardes: hy sal sy kliënt en sy familie as slawe verkoop ten einde hulle skuld te delg (18:25) (Neyrey 2004:71). In reaksie op sy slaaf se pleidooi om genade (18:26) doen die koning egter die ondenkbare deur oneervol op te tree – hy spreek die slaaf vry van sy skuld (Neyrey 1998:182-183).

Hierna word vertel hoedat die koning se kliënt oënskynlik eervol optree deur sy eie kliënt, wat aan hom ’n nietige bedrag skuld, se pleidooi om genade te ignoreer en hom in die tronk te gooi (18:30). Anders as die koning handel hy volkome volgens die reëls van kliënt-weldoener verhoudinge in die 1ste-eeuse Mediterreense wêreld. Sy gedrag is egter in die lig van die genade wat hy ontvang het, oneervol. Gedrag wat normaalweg eervol sou wees, is egter oneervol gemaak deur die onverwagte optrede van die koning (Luz 2001:474). Sy gedrag skend die eer van sy weldoener omdat hy nie soos sy meester gehandel het teenoor sy kliënt in die teenwoordigheid van die ander slawe nie (18:31) (deSilva 1999:58). Gevolglik het sy weldoener geen alternatief nie as om drasties teenoor hom op te tree deur hom in die tronk te gooi en te laat martel nie (18:34).

Die gelykenis maak dit duidelik dat die koning se kwytskelding van sy slaaf se skuld, nie hulle verhouding ontbind het nie. Dit het hulle verhouding eerder op nuwe terme voortgesit. Nie alleen het die koning steeds sy slaaf se meester gebly nie (Nolland 2005:759), maar het die koning se weldaad aan die slaaf in die lig van die heersende siening van weldoener-kliënt kontrakte hulle verhouding versterk. Volgens Malina (1996:147) kon ’n weldoener-kliënt verhouding ook tussen ’n eienaar en sy slaaf bestaan het bo en behalwe hulle wetlike gesanksioneerde verhouding as slaaf en eienaar. Só kon ’n eienaar sy slaaf byvoorbeeld beskerm het teen die risiko om mishandel of verkoop te word, waarop die slaaf op sy beurt met respek en lojaliteit teenoor sy eienaar moes reageer. Die slaaf se meester was dus in die gelykenis tegelykertyd ook sy weldoener. Daar het daarom ’n verpligting gerus op die slaaf om met ’n gepaste handeling op die genade wat hy ontvang het, te reageer (deSilva 2000:116).

Alhoewel ’n weldoener nie ’n daad van genade betoon het om daardeur iets in ruil te ontvang nie (so ’n motief sou dit diskwalifiseer as ’n genadige daad), het hy of sy wel in ag geneem of ’n persoon op ’n gepaste wyse daarop sou reageer (deSilva 2000:108). Die gelykenis van die onvergewensgesinde dienskneg illustreer dié kultureel verwagte respons van genade op die ontvangs van God s’n (vgl. deSilva 2000:122-123). Wie genade ontvang het, was onder ’n verpligting om dit ook aan ander te betoon (Davies & Allison 1991:802; Hagner 1995:540). Terwyl die aanvanklike genadige daad ’n vrywillige een deur die weldoener was, was ’n soortgelyke genadige respons daarop deur ’n kliënt egter ’n vereiste (Sisero Off. 1:47-48). Die versuim om korrek op ’n genadige daad te reageer, is daarom ten alle koste deur eervolle persone vermy (Seneca Ben. 3.1.2; 3.2.1).

4.2 Die navolging van God se nuwe gedragskode

Jesus verkondig ’n hemelse weldoener wie se gedragskode vir wat eervol is en wat nie, radikaal verskil het van die heersende sosiale kode s’n (Scott 1990:278-279; Neyrey 1998:182-183; 2004:75-77). Sowel God se keuse van sy kliënte as sy genadige optrede teenoor hulle, was direk in stryd met wat as eervolle gedrag deur ’n weldoener beskou is (21:33-45). As weldoener verwag God onverdeelde lojaliteit en respek van sy kliënte en eis Hy daarom dat sy kliënte volgens sy nuwe, en oënskynlik oneervolle, gedragskode sal handel en nie volgens die van die heersende kultuur se morele kode nie (vgl. deSilva 1999:62; Neyrey 1998:209-210; 2004:65-67, 70). Daarom verloor diegene wie hulle lewens inrig om die guns van ander te bekom God se guns as weldoener (6:1-17); maar eer Hy diegene wat hulle eer ter wille van Hom verloor het (5:1-12) (Neyrey 2004:58).

5. SAMEVATTING

Die voorwaardelike karakter van God se vergifnis in 6:12 impliseer nie dat gelowiges wat ander vergewe ’n juridiese of teologiese eis teen God om sy vergifnis het nie (Betz 1995:404; Hultgren 1996:286). Gelowiges se verhouding met God as hulle weldoener is immers ’n wederkerige verhouding tussen persone van ongelyke status (vgl. Moxnes 1991:242; Malina 1996:145; Elliot 1996:144; Neyrey 2004:249). Die ongelykheid van die verhouding beteken dat dit ’n mistasting sal wees om 6:12, 14-15 te lees asof God gelowiges móét vergewe omdat hulle ander vergewe het (Guelich 1982:294). Moule (1978:72-75) beklemtoon tereg in die verband die verskil tussen die voorwaardelike karakter van gelowiges se vergifnis en die moontlike verdienstelike status daarvan. Om aan God as weldoener se voorwaarde vir vergifnis te voldoen impliseer nie dat vergifnis daardeur verdien word nie. Die nakoming van die vereiste is wel nodig vir die ontvangs van God se vergifnis, maar is nie genoegsaam daarvoor nie (Nolland 2005:294).

Die vergewing van ander is daarom nie ’n vervanging van die noodsaak om God om vergifnis te vra nie. Gelowiges moet om dié rede dit steeds as ’n genadegawe in gebed, in ’n gesindheid van vergewensgesindheid en afhanklikheid van God vra (Jeremias 1971:201; Hendrickx 1984:121), in plaas van om bloot op ’n juridiese beginsel (soos wat hulle ander vergewe, is hulleself outomaties vergewe) staat te maak. Op dieselfde wyse maak onderlinge versoening nie gelowiges se offers aan God om vergifnis oorbodig nie (5:23-24). Vergifnis is daarom altyd ’n genadige toesegging van God as hemelse weldoener aan gelowiges as sy kliënte.

BRONNE GERAADPLEEG

Aune, DE 1983. Prophecy in Early Christianity and the Ancient Mediteranean World. Grand Rapids: Eerdmans.

Betz, HD 1995. The Sermon on the Mount. Minneapolis: Fortress Press. (Hermeneia).

Blass, F, Debrunner, A & RW Funk 1961. A Greek Grammar of the New Testament and other Early Christian Literature. Chicago: University of Chicago Press.

Carson, DA 1984. Matthew. Grand Rapids: Zondervan. (The Expositor’s Bible Commentary. Vol 8).

Crook, ZA 2004. Reconceptualising Conversion: Patronage, Loyalty, And Conversion In The Religions Of The Ancient Mediterranean. Berlin: de Gruyter. (Beihefte zur Zeitschrift für die neutestamentliche Wissenschaft und die Kunde der älteren Kirche).

Davies, WD & Allison, DC 1988. A Critical and Exegetical Commentary on the Gospel according to Saint Matthew. Vol 1. Edinburgh: T & T Clark. (ICC).

Davies, WD & Allison, DC 1991. A Critical and Exegetical Commentary on the Gospel according to Saint Matthew. Vol 2. Edinburgh: T & T Clark. (ICC).

deSilva, DA 1999. The Hope of Glory: Honor discourse and New Testament Interpretation. Collegeville: Liturgical Press.

deSilva, DA 2000. Honor, Patronage, Kinship & Purity: Unlocking New Testament Culture. Downers Grove: InterVarsity Press.

Elliott, JH 1987. Patronage and Clientism in Early Christian Society. Forum 3 & 4, 39-48.

Elliott, JH 1996. Patronage and Clientage, in Rohrbaugh, RL (ed) 1996. The Social Sciences and New Testament Interpretation, 144-156. Peabody: Hendrickson Publishers.

France, RT 1985. The Gospel according to Matthew: An Introduction and Commentary. Leicester: IVP.

Guelich, RA 1982. The Sermon on the Mount. A Foundation for understanding. Waco: Word Books.

Hagner, DA 1993. Matthew 1-13. Dallas: World Books (WBC 33a).

Hagner, DA 1995. Matthew 14-28. Dallas: World Books (WBC 33b).

Hendrickx, H 1984. The Sermon on the Mount. 2nded. London: Geoffrey Chapman.

Hill, D 1972. The Gospel of Matthew. Grand Rapids: Eerdmans. (NBC).

Hultgren, AJ 1996. Forgive us, as we forgive. Word & World 26, 284-290. Jeremias, J 1971. New Testament Theology. London: SCM Press.

Joubert, SJ 1998. Antieke weldoenerskap en die interpretasie van die Nuwe Testament. NGTT 39, 154-161.

Käsemann E 1969. Die Anfänge christlicher Theologie, in Käsemann E 1969. Exegetische Versuche und Besinnungen. 2 Band. 3 Aufl., II82-II104 Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Kennedy, GA 1984. New Testament interpretation through rhetorical criticism. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Lambrecht, J 1985. The Sermon on the Mount: Proclamation and Exhortation. Delaware: Glazier. (Good News Studies 14).

Louw, JP & Nida, EA 1988a. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. Vol 1. New York: UBS.

Louw, JP & Nida, EA 1988b. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. Vol 2. New York: UBS.

Luz, U 1989. Matthew 1-7. Edinburgh: T&T Clark.

Luz, U 2001. Matthew. A Commentary on Matthew 8-20. Minneapolis: Fortress Press. (Hermeneia).

Malina, BJ & Rohrbaugh, RL 1992. Social-Science Commentary on the Synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress Press.

Malina, BJ 1996. The social world of Jesus and the Gospels. Routledge: London.

Metzger, BM 1971. A Textual Commentary on the New Testament. London: UBS.

Mohrlang, R 1984. Matthew and Paul: A Comparison of Ethical Perspectives. London: Cambridge University Press. (SNTS Monograph Series 48).

Morris, L 1992. The Gospel according to Matthew. Grand Rapids: Eerdmans.

Moule, CFD 1978. “As we forgive...” in Bammel, E, Barret, CK & WD Davies. Donum Gentilicum, 68-77. Oxford: Clarendon Press.

Moxnes, H 1991. Patron-Client Relations and the New Community, in Neyrey, JH (ed) 1991. The Social World of Luke-Acts: Models for Interpretation, 241-268. Peabody: Hendrickson.

Nel, MJ 2002. Vergifnis en versoening in die evangelie volgens Matteus. Ongepubliseerde DTh tesis, Universiteit van Stellenbosch.

Neyrey, JH 1998. Honor and Shame in the Gospel of Matthew. Louisville: John Knox Press.

Neyrey, JH 2001. Prayer, in Other Words, in Pilch, JJ (ed) 2001. Social Scientific Models for Interpreting the Bible – Essays by the Context Group in Honor of Bruce J. Malina, 349-380. Leiden: Brill.

Neyrey, JH 2004. Render to God: New Testament understanding of the Divine. Minneapolis: Fortress Press.

Nolland, J 2005. The Gospel of Matthew. Grand Rapids: Eerdmans. (NIGT).

Patte, D 1987. The Gospel according to Matthew: A Structural Commentary on Matthew’s Faith. Philadelphia: Fortress Press.

Rienecker, F 1976. Linguistic Key to the Greek New Testament. Grand Rapids: Regency Reference Library.

Schrage, W 1988. The Ethics of the New Testament. Philadelphia: Fortress Press.

Scott, BB 1990. Hear then the Parable. A Commentary on the Parables of Jesus. Minneapolis: Fortress Press.

Seeley, D 1994. Deconstructing the New Testament. Leiden: Brill. (Biblical Interpretation Series 5).

Stander, HF 1987. On translating Matthew 6:12 (and Luke 11:4). NGTT 28, 241-242.

Stein, RH 1990. Difficult Passages in the New Testament: Interpreting the Puzzling Texts in the Gospels and Epistles. Grand Rapids: Baker Book House.

Van Tilborg, S 1985. The Sermon on the mount as an ideological intervention: a reconstruction of meaning. Assen: Van Gorcum.

TREFWOORDE

Vergifnis, Ons Vader-gebed, Weldoener-kliënt verhoudinge, Eer en skaamte, Matteus

KEY WORDS

Forgiveness, Lord’s Prayer, Patron client relationships, Honour and shame, Matthew

KONTAKBESONDERHEDE

Dr MJ Nel

Posbus 80862

0017 DOORNPOORT Tel: (012) 547 1041

Sel: 083 973 1428

E-pos: marius-nel@lantic.net

1 Hierdie artikel is gebaseer op navorsing wat gedoen is met die steun van die Nasionale Navorsingstigting vir die D.Th. graad aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Die titel van die proefskrif is Vergifnis en versoening in die Evangelie volgens Matteus. Die promotor was Prof. H.J.B. Combrink. Die outeur is lid van die Universiteit van Stellenbosch se Navorsingsgenootskap vir die Nuwe Testament, NTNUS.

2 Die koppeling kom ook in sekere Joodse gebede voor (Luz 1989:383-384). Só verklaar Jesus Sirag 28:2 byvoorbeeld: “Forgive thy neighbour the injury [done to thee] and, when thou prayest, thy sins will be forgiven.” Vir ander parallelle sien Moule (1978:68-70), Hendrickx (1984:120-121) asook Davies en Allison (1988:610-611).

3 Louw en Nida (1988b:267) gee tien betekenismoontlikhede vir (ώς) te wete: (a) “like”, (b) “that”, (c) “how”, (d) “when”, (e) “while”, (f) “because”, (g) “in order to”, (h) “with result that”, (i) “approximately”, (j) “how great”. Van die tien kies Blass, Debrunner en Funk (1961:236), Rienecker (1976:18) en Stander (1987:241) vir die betekenis wat met Louw en Nida (1988b:267) se betekenismoontlikheid (f) ooreenstem. Volgens Louw en Nida (1988a:782) funksioneer (ώς) in die verband as “a marker of cause or reason, implying the special nature of the circumstances – ‘on the grounds that, because’.

4 Jeremias (1971:201), Hill (1972:138) en Lambrecht (1985:132) neem die Aoristus as ’n vertaling van die Aramese perfectum coincidentiae wat dui op ’n handeling wat hier en nou plaasvind. Dit sou dus met “soos wat ons hiermee ons skuldenaars vergewe...” vertaal kon word (Hill 1972:138; Moule 1978:69). Dié spekulatiewe lesing kan egter nóg bewys nóg weerlê word (Davies & Allison 1988:612). Die aoristusvorm van die werkwoord άϕίημι wat daarop dui dat die daad van vergifnis reeds plaasgevind het (Hagner 1993:150), word deur onder andere B, Z, f1, pc, vgst, syrp.h, GrNypt gesteun (Metzger 1971:16; Carson 1984:174; Davies & Allison 1988:611).

5 Betz (1995:415-416) wys daarop dat verse 14-15 nie bloot kommentaar lewer (France 1985:137) op vers 12 nie (en daarom sekondêr daaraan is nie). Dit is eerder die beginsel waarvan vers 12 ’n bepaalde toepassing is (vgl. die voegwoord γάρ wat verse 14-15 aan vers 12 verbind).

6 Alhoewel die aanhaling nie aan Käsemann (1969:77) se vyfledige kriteria vir ’n aanhaling van Heilige Reg voldoen nie, voldoen dit wel aan Aune (1983:167-168, 238-239) se enkele bepalende kriterium (die beginsel van retributiewe geregtigheid).

7 Van die 64 verwysings na “vader” πατήρ in die Matteusevangelie dui 45 op God (Malina 1996:173).Die Vaderskap van God is dus ’n uiters belangrike teologiese motief in Matteus (Mohrlang 1984:80; France 1985:113). In 5:45, 48; 6:1, 9, 14, 26, 32; 7:11; 15:13; 18:35 en 23:9 word die Vaderskap van God verder met die dieselfde byvoeglike (τοις ουρανοις) frase en verbuigings daarvan) beskryf (France 1985:113; Morris 1992:106). Die verwysing na God as die Vader in die hemel is uniek aan Matteus (sien 6:14, 26, 32; 15:13; 18:35; 23:9) en kombineer as teologiese konsep God se transendensie met sy immanente liefde en genade (Hagner 1993:135-136).

8 Neyrey (2004:55-57) klassifiseer die verskillende weldade wat God in Matteus aan sy kliënte bewys as weldade van mag (power), verbintenis (commitment), aansporing (inducement) en invloed (influence). Die verlening van vergifnis word as ’n weldaad onder verbintenis geklassifiseer aangesien dit ’n gepaste reaksie van die ontvanger daarvan ontlok deur ’n geïnternaliseerde gevoel van verpligting en nie deur mag nie. Verbintenis dui op ’n reeks van persoonlike verhoudinge wat deur woorde soos “lojaliteit”, “getrouheid” en “pligsbesef” beskryf kan word.

9 Neyrey (2001:373) wys daarop dat gebed self nie iets is wat kliënte ruil vir God se aardse geskenke nie, maar eerder die dankbare erkenning van God se weldoenerskap is.

10 Terwyl genade έλεος ook kan dui op dit wat uit meegevoel vir die swakkes en armes gedoen word, dui dit in Matteus in besonder op die vergifnis wat aan skuldiges verleen word (Guelich 1982:88, 104; Mohrlang 1984:97; Betz 1995:134; Neyrey 1998:182).

11 Só skryf Aristoteles dat dit wenslik is (Rhet. 1.9.24) “To take just vengeance on enemies and not to be reconciled; for to retaliate is just.

12 Dié argument onderliggend aan die gelykenis is identies aan die een vervat in 6:12, 14-15 en kan soos volg weergegee word: (i) Algemene reël: God vergewe nie dié wat nie ander sondaars vergewe nie. (ii) Spesifieke geval: As iemand nie ander wat sondig vergewe nie; (iii) Gevolgtrekking: sal God hulle ook nie vergewe nie. Dié ooreenstemming van 18:23-35 en 6:12, 14-15 beklemtoon dat dit in beide perikope nie soseer oor die volgorde van intermenslike vergifnis en die ontvangs van God se vergifnis gaan nie, as wat dit oor die koppeling van gelowiges se optrede aan diEe van God gaan.