Die neerslag van die metafoor. ’n Voorlopige besinning
ABSTRACT
The underlying principles of the metaphor: a preliminary reflection
This article examines the theoretical basis and the hermeneutical processes which determine the appropriation of the metaphor in religious discourse. Throughout the twentieth century the influence of linguistic philosophy on language has been noted by various philosophers, linguists and theologians. Religious language of the twenty first century is furthermore intensely aware of the fact that linguistic utterances pertaining to God have no realistic external referent. This realisation foregrounds the importance of the metaphor and speaking about God by means of metaphorical language. Metaphors are sparks of imagination, transferring a word from its normal context to an estranged one. Meaning crystallises in the course of a dynamic interaction between two concepts that belong supposedly to unrelated, even hostile domains. Often the meaning of metaphors is uncertain because authors are not explicit about their thoughts. This is especially the case with regards to metaphors in the Bible, because the interpretation of metaphors is influenced by the reader’s associative frame of reference. Both authors and readers from Biblical times had a context and a frame of reference vastly different from today. However, the meaning of metaphors is not fixed, on the contrary, numerous new meanings may be mobilised by different readers’ associative frame of reference. Because metaphors have a history of human experience, these are living metaphors that make language new and exceed the limits of meaning and association. If conventional metaphors permeate all of human life, thought and action, theological discourse is metaphor par excellence. This article concludes with a challenge to Practical Theology, especially Homiletics, Liturgy and Narrative Pastoral Counselling to treat the metaphor with caution and with awe. A dynamic and interactive relationship between theory and praxis is necessary for the metaphor to function creatively and to induce change. Therefore theory needs to find its home in praxis.
1. ’N INVALSHOEK
Die metafoor speel ’n belangrike rol in die Praktiese Teologie. Dit is veral die geval in die domein van die Homiletiek (vgl Garhammer 2000; Lisher 2005; McClure 2003; Nicol 2002; Vos 2005), die Liturgie (vgl Barnard 2006; Long 2001; Schuman en Oskamp 1998) en Narratiewe Pastoraat (vgl Heitink 1998; Morgenthaler 2002 en Shibler 2002). Die vraag wat die navorser egter bly boei, is: watter teoretiese grondslag en hermeneutiese prosesse bepaal die gebruik van die metafoor? Dit is hierdie vraagstelling wat in die artikel ondersoek word.
In die twintigste eeu is daar nuut gedink word oor die aard van die spreke oor God wat verdere nuansering sou beleef op verskeie wyses (vgl Du Toit 1984; Van Huyssteen 1987). Daar was steeds oorblyfsels van strominge uit die verlede, veral op grondvlak waar ’n literalisme en/of die tydsgees alles bepalend was, maar op die voorpunt van die kritiese teologiese geloofsverantwoording het daar beweging gekom (vgl Van Huyssteen 1986).
Paul Tillich (1951) het ’n teorie ontwikkel dat religieuse taal nie soseer analogies nie, maar eerder simbolies van aard is. Waar ’n analogie twee verskillende entiteite of situasies in verband met mekaar probeer bring, gaan simboliese taal verder deurdat die simbool enersyds verteenwoordigend is vir dit wat dit simboliseer, maar andersyds gans anders kan wees as die objek van simbolisering.
Hierdie manier van kyk na die spreke oor God slaag daarin om die misterie van die Goddelke natuur te handhaaf, maar dit verdiep die spreke in so ’n mate dat simboliek dikwels misleidend en totaal verbergend kan wees en, uiteindelik, niksseggend. Dit was dan ook die beskuldiging wat teen Tillich se teorie ingebring is en verklaar hoekom hy God as die Syn self beskou het eerder as enige spesifieke manifestasie daarvan. Sy konklusie dat God nie bestaan nie, maar die grond van ons bestaan is, vloei ook konsekwent hieruit voort.
Naas Tillich sou iemand soos Rudolph Bultmann (1985) die 19de eeuse idee van godsdienstige taal as mitologiese spreke oor God weer opneem en daarop uitbrei ter wille van kontekstuele teologie. Dit alles was die teologiese werêld se reaksie op die linguistiese filosofie van die logiese positiwisme waarvolgens slegs verifieerbare uitsprake oor empiries en a-prioriese entiteite sin kon dra. Enige taal oor iets wat nie aan hierdie vorm van kontrole onderworpe kon wees nie, is nie soseer as waar of vals beskou nie, maar as onsinnig.
Maar hierdie herwinning van die mitologiese dimensie van religieuse taal sou daartoe lei dat sommige teoloë gereken het dat die ontmitologisering van religieuse diskoers nie genoeg konsekwent deurgevoer is nie. Gevolglik het daar ’n groep voorstanders tot stand gekom wat in die godsdiensfilosofie bekend sou staan as non-kognitiwiste Hierdie teorie oor die aard van religieuse taal het gesteun op die linguistiese filosofie van Ludwig Wittgenstein (2001) wat aanvanklik ’n vorm van logiese atomisme voorgestaan het, maar in sy latere lewe meer ruimte vir ’n mistieke dimensie sou skep.
Volgens teorieë van die non-kognitiwisme, waarvan daar verskeie weergawes bestaan, is die funksie van religieuse taal nie om aan ons feite te verskaf oor die aard van enige bo-natuurlike wêreld en ’n transendente God nie. Godsdienstige diskoers is ’n eiesoortige taalspel (Wittgenstein) met sy eie reëls en daarom nie vatbaar vir legitieme kritiek deur wetenskaplike diskoers nie.
Diegene wat die non-kognitiwistiese interpretasie van religieuse taal voorstaan, het ook beweer dat hoewel hierdie taal nie aan ons informasie deurgee oor ’n werklike God en sy wêreld nie, dit wel ’n regulerende en ekspressiewe funksie het. Enersyds help dit met die struktureer van groepsdinamiek (’n idee wat teruggevoer kan word na Durkheim (1954) se sosiologiese teorieë oor die wese van godsdiens) en andersyds is dit ’n uitdrukking van ons diepste behoeftes, ons morele oortuigings en ons ideologiese belange.
Sedert die sestiger jare van die twintigste eeu toe die non-kognitiwisme naas die mitologiese en fundamentalistiese verstaan van godsdienstige taal in sekere teologiese kringe inslag gevind het, het verdere nuansering gekom as gevolg van die ontwikkelinge in die kontinentale filosofie (vgl Wittgenstein 2001).
3. DIE INVLOED VAN DIE LINGUISTIESE FILOSOFIE OP TAAL
’n Stroming wat deur die linguistiese filosofie gevoed is, loop vanaf Lacan (2006); Lévi-Strauss (1967); Nietzsche (2006); Peirce (1958); Wittgenstein (2001) en die taalfilosofiese idees van die strukturalisme, post-strukturalisme en semiotiese materialisme/diskursiewe idealisme. Hierdie stroming word vandag by uitstek met die dekonstruktiewe post-modernisme (Derrida, 2001) geassosieer. Dit sien alle spreke oor God op ’n wyse wat terugval op die simboliese en non- kognitiwistiese teorieë oor religieuse spraak waaruit dit kernidees ontleen.
As postmoderne benadering wat uit die dekonstruksie put (Derrida 2001) asook uit ander vorme van postmoderne taalfilosofie en wat op die godsdiensfilofiese kritiek van Feuerbach (2004); Freud (2004) Kierkegaard (1946) en Nietzsche (2006) gegrond is, word religieuse taal op ’n non-realistiese manier verstaan. Spreke oor God dui volgens hierdie teorieë nie op ’n ekstra- tekstuele entiteit nie en het geen referent buite ditself nie. Dis eerder simbolies verteenwoordigend van menslike ideale. Hierdie ideale is egter nie essensialisties in ons psiges ingebed nie, maar opsigself kulturele konstrukte wat hulle eie bestaan regverdig en nie na ’n transendente werklikheid verwys nie.
In my benadering het taal ook ’n verwysende aard. Ten opsigte van die verstaan en bestaan van God beteken dit Hy ook buite die taalwerklikheid bestaan. Taal be-teken Hom. God woon nie net in papierhuise nie, maar ook daarbuite. Hy is dus meer en groter as wat taal kan sê. God transendeer ook ons taal.
In die volgende afdeling word intensief aandag gegee aan die metafoor as ’n lewende vorm van taal.
4. METAFORE AS VONKPOS
Metafore is verbeeldingsvonke. Dit kom in die film Il postino aan die lig. ’n Posbode is ’n nuusdraer. Soms is dit slegte nuus. Veral as hy vensterkoevertjies aflewer. Ander kere is dit goeie nuus. As hy ’n brief van ’n vriend, ’n vriendin of ’n geliefde bring. Dan is hy ’n draer van vonkpos. In die film is daar ’n ywerige posman, Mario Ruoppolo. Hy is getrou op sy fiets om op ’n Italiaanse eiland, Cala di Sotto, pos af te lewer. Die ontvanger van die pos het hoog teen ’n steil heuwel gebly. Hy was die beroemde Chileense digter, Pablo Neruda. Die digter was om politieke redes hier ’n balling. Mario het op ’n dag, soos dit maar met die meeste jongmanne gaan, op ’n beeldskone meisie verlief geraak. Beatrice Russo. Hy het sy hart verloor en woordloos na haar gekyk. Om sy liefde aan haar te verklaar, het hy die digter se woorde nodig. Die digter moes hom met haar in aanraking bring. By Neruda leer die posman die krag van metafore. Hy leer dat sy tong nie net bedoel is om seëls te lek nie, maar ook om metafore te maak. Metafore is vlerke wat die liefde dra.
Maar wat is ’n metafoor? Metafoor is ’n belangrike derde weg naas fundamentalisme en mistiek (Degenaar 1970:308). Volgens Aristoteles beteken metafoor om aan ’n saak ’n naam te gee wat aan ’n ander saak behoort (vgl Aristoteles 1457b6; 1457b; Ricoeur 2003:8-48; Eggs 2001:1103-1109). Degenaar (1970:294) stel dit soos volg: “Die betekenis van een woord word ontgin in die betekenisveld van ’n ander woord wat kategoriaal daarvan verskil.” ’n Woord word uit ’n normale konteks oorgedra na ’n vreemde konteks. Die woord “metafoor” kom van die Griekse woorde meta: oor en pherein: dra (Latyn: translatio) en kan aangedui word as “figuur van oordraging” (Degenaar 1970:294; Eggs 2001:1099). Die vraag is: Hoe kan hierdie metaforisering en oordraging verstaanbaar beskryf word?
5.1 Enkele flitse van filosofiese denke oor metafore
Wolterstorff (1999:562) wys daarop dat metafore ’n filosofiese onderwerp is wat reeds sedert die tyd van Aristoteles die spraakfiguur wat meer as enige ander deur taalfilosowe bespreek word. Een tema wat prominent in hierdie besprekings tot en met die negentiende eeu voorkom, is die siening dat metafore “versierings” van taal is. Metafore is dekoratiewe opsionaliteite ter wille van retoriese en estetiese funksies. Volgens hierdie beskouing dra metafore niks by tot die kognitiewe betekenis van die diskoers nie. Hulle verleen bloot kleur, sensasie en emosionele impak.
Dit was dus kenmerkend van die Verligting en pre-Verligtingsera filosowe (vgl Hobbes 1971 en Locke 1690) om daarop aan te dring dat alhoewel filosowe dalk goeie rede het om hulle konsepte deur middel van metafore oor te dra, is dit verstandiger om nie in metafore te dink nie. Inteendeel, hulle kan en moet daarsonder klaarkom, want metafore kan mislei.
Die uitstaande kenmerk van omtrent alle teorieë en besinning oor metafore sedert die Romantisisme tot in ons eie tyd is die verwerping van die siening dat metafore as opsionele versiering beskou word.
Post-moderne taalfilosofie sedert Nietzsche (vgl Schoeman 2004) sien metafore orals, nie net in die diskoers van teologie en godsdiens nie, maar ook in die wetenskap en in alle taalkontekste. Nietzsche (vgl Schoeman 2004) self gaan sover as om te beweer dat alle taal metafories is en die waarheid self is bloot ’n leër (weermag) van metafore is.
Sharpe (1995:555) wys daarop dat die beginpunt in die filosofiese besprekings oor die parafraseerbaarheid van metafore in letterlike taal moontlik is. Kortom: is metafore vertaalbaar by wyse van ’n dinamiese-ekwivalent? Daar is verskeie teorieë hieroor. Volgens die substitusie-teorie word veronderstel dat ’n metafoor ’n letterlike ekwivalent verteenwoordig. Die uitdrukking “God is ’n Vader” kan uitgebrei word na ’n tegnies vergelykbare frase as “God is soos ’n Vader met betrekking tot die volgende eienskappe van vaders: liefde, sorg, trou, ens.
Dit klink voor die handliggend, maar na Max Black (1962) se invloedryke referaat waarin hy die bogenoemde teorie probeer vervang het met die sogenaamde “interaksie teorie”, het filosowe al hoe meer waardering ontwikkel dat verskillende mense verskillende eienskappe tussen terme van die metafoor uitkies. Mense het, vanweë persoonlike verwysingsraamwerk verskillende assosiasies met konsepte (soos “God” en “Vader”) en lees verskillende oorvleuelings en gemeenskaplikhede in vanweë hierdie perspektiwistiese pluralisme (vgl Lokof en Johnson 1980).
Die idee dat daar ’n letterlike vertaling of parafrasering van alegemene metafore kan wees, het problematies geword. Selfs in die geval van Bybelvertaling en interpretasie waar daar gemeen sou kon word dat ons is op meer vaste grond is, want wat die betrokke skrywer as gemeenskaplik beskou het tussen die terme van die metafoor (God en Vader) bloot binne daardie konteks net verreken word. Ook hier is dit egter weereens ’n oorvereenvoudiging.
Ons weet nie altyd met sekerheid wat die skrywer self met die betrokke terme in die metafoor geassosieer het nie. Dis immers juis die geval dat gebruikers van metafore nie eksplisiet is oor hulle gedagtes nie. Verder is die skrywer nie beskikbaar vir ’n onderhoud nie en is die betrokke metafoor dalk nie meer algemeen gebruik in ons eie konteks nie. Die Bybelskrywer se verwysingsraamwerk is boonop heel waarskynlik in baie opsigte anders as ons s’n en ons kan nooit heeltemal seker wees dat ons dieselfde assosiatiewe betekenis aan die betrokke woorde nie heg nie. Ons idees oor en ervarings van konsepte soos God en Vader is immers nie meer dieselfde as in Bybelse tye nie - ten spyte van gemeenskaplikhede.
Metafore se interpretasie word beinvloed word deur die inlees van die assosiatiewe verwysingsraamwerk van die leser.
Metafore verteenwoordig die groei-punte van taal. ’n Groot deel van ons taal is metaforiese van aard. ’n Kursoriese blik op taal in die geheel wys hoe deurspek ons verstaan met metaforiese diskoers is en tot hoe ’n mate ons in metafore dink. Baie hiervan verdwyn egter in vergetelheid en talle metafore is dooie metafore omdat hulle met die verloop van tyd verslyt het tot ’n meer letterlike dimensie in die praktyk. Dit beteken nie dat verslete metafore nie weer nuut gebruik kan word nie. Nie net in die godsdiens nie, maar ook in die taal van die wetenskap is daar talle naamwoorde, werkwoorde, ens wat ’n metaforiese verwysingsraamwerk veronderstel, hoewel in baie opsigte jare van gebruik en herinterpretasie die betekenis skynbaar verletterlik het (Sharpe 1995:555).
Gesien teen die eis van logiese taalgebruik is die metafoor vir baie filosowe ’n geval van katachrese (woordmisbruik), ’n noodsaaklike euwel of ’n blote versiering, en daarom nie geskik vir die uitdrukking van proporsionele “waarhede” nie (Gräbe 1992, 288). Selfs in die sestigerjare vind die filosoof Max Black (1962) dit nog byvoorbeeld nodig om die gebruik van metaforiese taalgebruik in filosofiese geskrifte te verdedig.
6. METAFORE AS ’N TAALLANDSKAP
Na my mening is daar ’n nou verwantskap tussen metafore en vergelykings. Ek sou selfs van ’n familieverwantskap praat. In die geval van ’n vergelyking gaan dit om ’n oordrag tussen twee terme. Die oordrag berus op die waarneming dat die vergelyking iets eksplisiet maak deur twee sake/persone met mekaar te vergelyk (Ricoeur 2003:30. Vgl ook Goodman 1968:77-78). Ek gee ’n voorbeeld. God is soos dou. Hiermee word te kenne gegee dat God met dou (wat aan mense bekend is en sekere assosiasies oproep) vergelyk kan word. In die geval van ’n metafoor gaan dit om die uitbeelding en verbeelding (Ricoeur 2003:30). Wanneer ’n metafoor ’n verhouding tussen twee gebiede daarstel, word nuwe assosiatiewe samehange tot stand gebring. Die metafoor maak ons oë oop vir “sien as” (Degenaar 1970:295-296; Du Plessis 2006:85). Die uitkoms is meestal verrassend en vreemd. Dit plaas die vergelykingsontvanger in ’n nuwe lig (Bons 2004:236).
Black (1962) beskryf die metafoor as ’n “filter” wat bepaalde trekke van die vergelykingsontvanger uitsoek. In die voorbeeld, God is ’n eggenoot, word sekere eienskappe van die mens op God oorgedra terwyl ander eienskappe uitgelaat word. Die metafoor betrek God en eggenoot op mekaar. God word ’n eggenoot. Maar die metafoor handhaaf altyd ’n gesonde spanning tussen God en die eggenoot. Anders gesê: God gaan nie in ’n eggenoot op nie. Hy is oneindig groter en meer as net ’n eggenoot. Die metafoor skep nie net nuwe sinsamehange nie, maar stel ook grense (Bons 2004:237). God is oneindig meer as ’n eggenoot. Wanneer metafore gebruik word, moet daar altyd na die “wortelmetafoor” gesoek word, maar ’n mens moet ook op die uitkyk wees na die elemente van die konteks wat nie deur die metaforiese spraakgebuik uitgedruk word nie (Bons 2004:236).
Die tradisionele, maar ook die algemene beskouing in verband met verskynsels soos metaforiek, hiperbool (stylfiguur wat van buitengewone oordrywing gebruik maak as uiting van ’n hewige gevoel of om ’n sterk indruk te maak), litotes (stylfiguur waardeur iets belemtoon word deur die ontkenning van die teenoorgestelde, of deur verkleining of deur versagting, byvoorbeeld hulle gaan my ou boekie ook publiseer; dit gaan nie sleg nie (= goed)), ensovoorts, is dat hulle “stylfigure” is wat uitsluitlik tot die wêreld van die poësie, die verbeelding en die retoriek behoort. Metafore, en die ander genoemde “stylfigure” is beskou as retoriese middels wat in hoofsaak sou bydra tot die stilistiese verfraaiing van veral literêre tekste (Carstens 1992, 114; 1993, 85; Van Leeuwen 2002:69).
Die betekenis van die metafoor staan nie klinkklaar vas nie en die uitwerking daarvan kan nie presies voorspel word nie. Metafore is “ongebonde taal” (langage délié; Ricoeur 1975a:152ev): mense laat hulle nie deur die gangbare betekenis van woorde voorgesê nie, maar mobiliseer betekenismoontlikhede wat tot nog toe nie geblyk het nie. Die lewende metafoor maak die taal nuut (Van Leeuwen 2002:70). Die vernuwing en nuwe insigte kom tot stand deurdat ’n metafoor normaalweg ’n woord of segging is wat binne ’n ongewone konteks gebruik word. Daarom is metafore plofstof wat mense tot nuwe insigte ruk en nuwe wêrelde oopskiet. Die voorstelling van die metafoor moet vars wees en vervoerende krag hê (Du Plessis 2006:78. Vgl ook Goodman 1968:79-80). Metafore word ook gebruik om die gebroke werklikheid te dig (Van Niekerk 2006:72).
Die metafoor is veral ’n instrument van die odd language (Ramsey 1957) - die religieuse. Dit beteken egter nie dat religieuse taal uitsluitlik metafories is en dat al die religieuse sinne uit botsings van woorde bestaan nie. In die teologie kan die aanhoudende gebruik van poëtiese, metaforiese taal ’n gevoel van vermoeidheid as van verhewenheid oproep (vgl Van Leeuwen 2002:70). En tog is daar juis in die metaforiese gebeure die verrassende en verruklike.
7. FUNKSIES VAN DIE METAFOOR
Aristoteles onderskei drie soorte woorde: vreemd, gewoon en metafories. Vreemde woorde gee aan ons hoofbrekens; gewone woorde dra dit oor wat ons reeds weet; dit is die metafoor wat ons iets nuuts en vars bied (Carson 2000:30).
Ten einde die trefkrag, die nuutheid en die varsheid van metafore te peil, moet bepaalde funksies van metafore onderskei word.
7.1 Die metafoor skep spanning
’n Metafoor help om die onbekende in terme van die bekende te begin verstaan (Van Huyssteen 1986, 159). Metafore dien nie net om iets te “benoem” nie, maar dit verleen ook toegang tot dit waarna verwys word (Van Huyssteen 1997:188). Op dié manier word ’n brug, ’n interaksie tussen “saak” en “beeld” geskep. Deur die beeld word toegang tot die saak bewerk.
Eie aan die metafoor is dat dit taalspanning skep (Ricoeur 1975:77, 79, 92-93, 95). Dit bied ’n “stereoskopiese visie” en bind altwee die helftes, die saak en die beeld (byvoorbeeld God en eggenoot, Hosea 1-3 en God en rots, Psalm 18:2) saam in ’n komplekse spanning wat sowel die ooreenkomste as die verskille erken. Op dié manier ontstaan ’n dinamiese interaksie tussen “saak” en “beeld”. Die interaksie by die gebruik van metafore vind nie slegs op die vlak van woorde plaas nie, maar ook op die vlak van betekenisse. Hierdie interaksie wat metafore bewerk, maak ruimte vir verbeelding. Dit lei daartoe dat metafore die grense oorskry wat deur streng refleksie geskep is (Van Huyssteen 1997:212. Vgl Degenaar 1970:297-298).
Die metafoor werk tegelyktydig met die paradoks van dit wat is en ook nie is nie (Ricoeur 1979:27). Die spanningskwaliteit van ’n metafoor bevestig en ontken terselfdertyd dat iets die geval is. Daar is, volgens Ricoeur, ’n implisiete “en is ook nie” in elke positiewe metaforiese bewering (Ricoeur 1978:221-224, 255-256). Black (1962:229) praat van die metafoor as ’n filter waardeur sommige eienskappe beklemtoom word en ander onderdruk word. Daar is betekenisse van die eggenoot wat nie in die vergelyking op die spel geplaas word nie. ’n Mens kan nie vra of God net soos ’n man in die huwelik optree nie.
Die metafoor, God is ’n eggenoot, bevestig dat daar ’n verband tussen God en ’n eggenoot gelê word (liefde, trou, opoffering), maar bewaar steeds die “is ook nie” element. God is nie ’n eggenoot nie. Die egte betekenis ontstaan deur die botsing van juis God en eggenoot (vgl Van Leeuwen 2002:69-70). Die hoorder se konsepsuele raamwerk waarmee hy waarneem, lei daartoe dat die God-as-eggenoot metafoor assosiasies van liefde, trou en opoffering meebring. Op hierdie manier word nuwe perspektiewe op God en ervaringe van Hom in die alledaagse lewe moontlik gemaak. Die metaforiese spanning word gehandhaaf deurdat God nie in die alledaagse werklikheid altyd as “’n eggenoot” ervaar word nie.
7.2 Die metafoor verbind verbandhoudende werklikhede
Die proses van metaforiese plaasvervanging vestig die aandag op twee realiteite wat op een of ander manier met mekaar verband hou. In die betrekking van Jhwh en ’n leeu opmekaar, is daar twee verbandhoudende werklikhede van die leeu wat op Jhwh toegepas word. (Hos.11)
7.3 Die metafoor as netwerk
Ricoeur (1977:44) het daarop gewys dat “die primêre eenheid van betekenis” die sin en nie die woord is nie. As daar na metaforiese taal verwys word, gaan dit nie slegs om ’n funksie van woorde nie, maar ook om die totale ko(n)teks waarbinne woorde (frases) gebruik word. Onder konteks word nie net die literêre aspekte (d.w.s. makrostruktuur, diskoers, narratief, ens.) verstaan nie, maar ook ander ko-”tekste” soos die benoemde subjek (dws die skrywer of leser/hoorder), wat sy/haar sosio-historiese agtergrond en literêre kompetensie insluit. Die homileet moet steeds daarvan bewus bly dat talle metafore nie tot ’n enkele geslote konteks beperk is nie, maar oor die ganse geskrif versprei kan wees.
7.4 ’n Huweliksmetafoor
In die metaforiese dinamiek van Hosea speel die huweliksmetafoor ’n sleutelrol. Hierdie metafoor kom ook elders in die Ou Testament voor (Jeremia). Maar by Hosea het die metafoor ’n verrassende en skokkende effek.
Nelson Goodman (1968:73. Vgl ook Ryle 1949:16ev) se konsep van die metafoor as “berekende kategoriefout” help ons om die huweliksmetafoor te verstaan. ’n Kategoriefout is ’n fout wat ontstaan wanner a as b gesien word (Jhwh is ’n eggenoot) sonder om bewus te wees van die verskil in kategoriale gehalte van a en b. ’n Metafoor kan binne hierdie model gesien word as
’n berekende kategorie-fout: die verteller weet van die verskil in kategoriale gehalte tussen a en b en is juis besig om dié verskil in ’n noue verband te manupileer (Degenaar 1970:297). Die metaforiese spreke is nie ’n “foutiewe” taalgebruik nie, maar dit is ’n berekende kategorie-fout, en die woord “fout” het hier ’n bepaalde betekenis in die taalspel (Degenaar 1970:297).
In die voorbeeld God as eggenoot, skuif die kategorie eggenoot wat menslik is en God oor mekaar. As ons vergeet dat die uitdrukking ’n kategoriale verwarring is, dink ons aanstons aan God as ’n manlike figuur wat die vroulike uitsluit (vgl Du Plessis 2006:76). Die huweliksmetafoor word in Hosea gebruik om Jahwe se trou en liefde vir sy “vrou” Israel uit te druk. En ook om aan die ander kant Israel se ontrou en liefdeloosheid te verwoord.
Ons moet die metafore oor God in Hosea vanuit ’n multi-perspektiviese beeldgeskiedenis lees. Die metafore kan nie net tot een begrip, een gestalte of een werkswyse gereduseer word nie (Zenger 1994:120). Metafore is nie slegs “afbeeldinge van iets nie”, maar “beelde vir iets” (Zenger 1994:116). God is vir ons ’n eggenoot.
Rondom die huweliksmetafoor is daar in Hosea 1-3 ’n verhaalnetwerk opgebou. Dit is ’n boeiende verhaal van die spanning tussen liefde en ontrou.
8. KONVENSIONELE METAFORE
Stylfigure soos metafore en vergelykings word soms gesien as manifestasies van buitengewone eerder as die gewone taalgebruik. Verder is hierdie verskynsels ook beskou as kenmerke slegs van taal, en nie ook as kenmerke van die menslike denke en handelinge nie (Vos 1999, 98).
Metafore is egter nie net tot die teologie beperk nie. Dit is soos asem deel van ons ganse lewe. Dit deurdring ons denke en handelinge. Ons alledaagse konseptuele sisteem wat ons denke en handelinge bepaal, is fundamenteel metafories van aard (Lakoff & Johnson 1980:3). Dit beteken dat alle taal deur konvensionele metafore deurdring is. Onder konvensionele metafore word metafore verstaan wat gegrond in alledaagse ervaringe wat gevolglik die wyse waarop mense dink en met die wêreld kommunikeer, struktureer. Metafore skep ’n geskiedenis: dit kom uit ’n beleefde geskiedenis en skep ’n nuwe geskiedenis (Zenger 1994:117). Aangesien metaforiek nie net in taal uitmond nie, skep dit ook op denk- en handelingsvlak nuwe moontlikhede en uitsigte.
’n Basiese metafoor konsep is ’n verbinding waardeur een konsep (God) in terme van die ander konsep (huwelik) verstaan word (vgl Turner 1991, 158). ’n Metafoor verkry geldigheid deur sy gebruik in die alledaagse taal en denke. Om sy funksie te verstaan moet ’n mens op hoogte wees van die wyse waarop die metafoor gebruik word en funksioneer.
Met behulp van beeld-skemas verstaan ons nie slegs metafore nie, maar ook dit wat ons meestal in die wêreld aantref (Johnson 1987, xiv). Beeld-skemas is nie net denk”beelde” nie, maar enige konsep waaroor ons beskik om byvoorbeeld ’n huwelik voor te stel. Die metafoor is geleentheidsspesifiek en nie begripmatig universeel nie (Du Plessis 2006:81. Vgl ook Goodman 1968:89-90). Ons almal het ’n konseptuele begrip van ’n huwelik as metaforiese uitdrukking van ’n lewensverhouding en kan die begrip in die taalgebruik toepas. Konseptuele metafore soos dié maak dit sodoende moontlik om dit wat die metafoor onder woorde bring te herrangskik. Hieruit blyk dat die samelewing ook konvensionele metafore voorsien om ons verstaan van due Hosea boodskap te verstaan.
9. METAFORE IN DIE TEOLOGIESE SPREKE
In die hermeneutiek vind ons die herwaardering van religieuse taal as metafories in die werk van Paul Ricoeur. Dit is deur verskeie teoloë verder ontgin (o.a. Sally MacFague, Du Toit, Van Huyssteen, Jansens en Vos). Lakoff en Johnson se nadenke oor die metafoor is ook vir die teologie ontsluit (vgl Vos 2005).
Teologiese taal het ’n metaforiese straling. Daarom moet teologiese spreke ook ’n metaforiese gesig vertoon, anders is daar weinig spreke tot/oor die Onsienlike.
’n Metafoor is soos ’n paling: dit is glad, vinnig, ontglipbaar, verrassend en vars. Die uitdaging aan die Praktiese Teologie, en met name die Homiletiek, die Liturgiek en die Narratiewe Pastoraat om versigtig en verwonderend met die metafoor te handel. Alleen in ’n dinamiese interaktiewe relasie tussen teorie en praxis kan die metafoor vernuwend en veranderend werk. Maar dan moet die teorie in die praxis afsak.
10. BRONNELYS
Aristoteles, Poetica, 1457b6:21, 1457b
Barnard, M & Post, P 2001. Rituele bestek. Antropologische kernwoorden van de liturgie. Uitgeverij Meinema: Zoetermeer.
Barnard, M 2006. Liturgie voorbij de Liturgische Beweging. Uitgeverij Meinema: Zoetermeer.
Black, M 1962. Models and Metaphors. Studies in language philosophy. Ithaca.
Bons, E 2004. Die Ehemetaphorik in Hosea 2,4-25 – Elemente, Funktion, Hintergrunde. In Irsigler, Hubert (Hg.). Mythisches in biblischer Bilsprache. Gestalt und Verwandlung in Prophetie und Psalmen. Herder Verlag: Freiburg.
Bultmann, R K 1985. New Testament and mythology: and other basic writings. Translated by S M Ogden. New York Obis books.
Carson, A 2000. Men in the off hours. Alfred A Knopf: New York.
Carstens, A 1992. Metonimie, polisemie en die leksikografie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde. 10/3, 114-122.
Degenaar, J 1970. “Iets oor die metafoor”. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 10/4, 293-308.
Derrida, J 2001. Writing and Difference. New York: Routledge.
Du Plessis, J G 2006. Die metafoor op die markplein. In Hertzog, Dirk, Britz, Etienne, Henderson, Alastair. In Gesprek sonder Grense. Huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar se 80ste verjaarsdag. H&B Uitgewers: Stellenbosch.
Durkheim, E 1954. The Elementary Forms of Religious Life. New York: The Free Press.
Eggs, E 2001. Metaphor In Historisches Worterbuch der Rhetorik. Herausgegeben von Ueding, Gert. Wissenschaftliche Buchgesellschaft: Darmstadt, 1103-1109.
Feuerbach, L A 2004. The essence of Religion. New York: Prometheus Books.
Freud, S 2004. The Future of an illusion. London: Penguin Books.
Garhammer, E 2000. Am Tropf der Worte – Literarisch predigen. Bonifatius Druck Buch Verlag. Paderborn.
Goodman, N 1968. Languages of art. An approach to a theory of symbols. The Bobbs-Merrill Company: Indianapolis, Kansas City.
Grabe, I 1992. Metafoor. In: Cloete, T.T. (red.), Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr, 288-293.
Heitink, G 1998. Pastorale zorg. Theologie, differentiatie, praktijk. Uitgeverij Kok: Kampen.
Hobbes, T 1962 Leviathan. John Plamenatz (ed.). London: Collins.
Hogen, L H 2006 Graceful Spreech. An Invitation to Preaching. Westminster John Knox Press: Louisville, London.
Johnson, M 1987. The body in the mind. The bodily basis of meaning imagination and reason. Chicago: University of Chicago.
Kierkegaard, S 1974. Christian Discourses and the Lilies of the field and the Birds of the Air and three Discourses of the communion on Fridays. Translated by Walter Lowrie. Princeton: Princeton University Press.
Lacan, J 2006. Écrits: The first edition in English. Translated by Bruce Fink. New York: W.W. Norton and Company
Lakoff, G & Johnson, M 1980. Metaphors we live by. Chicago: University of Chicago Press.
Lévi-Strauss, C 1963, 1967. Structural Anthropology. Translated by Claire Jacobson and Brooke Grundfest Schoepf. New York: Doubleday Anchor Books.
Locke, J 2007. An essay of human understanding. Los Angeles: Pomona.
Lischer, R 2005. The end of words. The language of reconciliation in a culture of violence. William B Eerdmans Publishing Company: Grand Rapids, Michigan.
Long, T G 2001. Beyond the Worship Wars. Building Vital and Faithful Worship. United States of America: The Alban Institute.
Long, T G 2005. The witness of preaching (2nd ed.). Westminister John Knox Press: Louisville, Kentucky.
McClure, J S 2003. The four codes of preaching. Rhetorical Strategies. Westminster John Knox Press: London.
Nicol, M 2005. Ein anderins Bild setzlen. Dramaturgische Homiletik. Vandenhoek & Ruprecht: Göttingen.
Nicol, M & Deeg, A 2005. Im Wechselschritt zur Kanzel. Praxisbuch Dramaturgische Homiletik. Vandenhoek & Ruprecht: Göttingen.
Nietzsche, F 2006. Beyond Good and Evil. LLC: Filiquarian Publishing.
Oskamp, P en Schuman, N 1998. De weg van de Liturgie. Tradities, achtergronden, praktyjk. Uitgeverij Meinema: Zoetermeer.
Morgentaler, C & Schibler
Peirce, C S 1931-58. Collected Papers. Elements of Logic. Volume 2. Cambridge: Harvard University Press.
Ramsey, I T 1957. Religious language. London: SPCK.
Ricoeur, P 1975a. Parole et symbole. RevSR, 49, 142-161.
Ricoeur, P 1978. The Rule of Metaphor: Multi-Disciplinary Studies in the Creation of Meaning in Language, trans. Robert Czerny with Kathleen McLaughlin and John Costello, S J. London: Routledge and Kegan Paul.
Ricoeur, P 1979. Naming God. USQR. New York: Union Seminary Quarterly Review, 34/4, 15-27.
Sharpe, R A 1995 Oxford Companion to Philosophy. New York: Oxford University Press.
Schoeman, M 2004. Generositeit en Lewenskuns. Grondtrekke van ’n post- Nietzscheaanse etiek. Pretoria: Fragmente Uitgewers.
Tillich, P 1951. Systematic Theology. Vol. 1. Chicago: University of Chicago Press.
Turner, M 1991. Reading minds. The study of English in the age of cognitive science. Princeton: Princeton
University Press.
Van Huyssteen, J W 1986. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Pretoria: RGN Uitgewers.
Van Huyssteen, J W 1997. Essays in Postfoundationalist Theology. Grand Rapids: Eerdmans.
Van Leeuwen, M 2002. De onalledaagse taal van de liturgie. In: Barnard. M & Schuman, N, Nieuwe wegen in de liturgie. Zoetermeer: Meinema.
Van Niekerk, D 2006. ’n Nag op ’n kaal plein. Human & Rousseau: Kaapstad.
Vos, C J A 2005 Theopoetry of the Psalms. T&T Clark: New York.
Vos, C J A 1999. ’n Raaisel in die spieël. Kantaantekeninge oor Letterkunde en Homiletiek. In: Lombaard. C (red.), ‘...In die wêreld...’. Johannesburg: Lewende Woorde: Randse Afrikaanse Universiteit: Dept. Griekse & Latynse Studies, 93-106.
Wittgenstein, L 2001. Tractatus Logico Philosophicus. New York: Routledge.
Wolterstorff, N P 1999. Cambridge Dictionary of Philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.
Zenger, 1994. Am Fuss des Sinai. Gottesbilder des Ersten Testaments. D?sseldorf: Patmos Verlag.
TREFWOORDE
Metafoor, Non-kognitiwisme, Mitologiese spreke, Linguistiese filosofie
KEY WORDS
Metaphor, Non cognitivism, Mithological aphorism/ saying, Linguistic filosophy
KONTAKBESONDERHEDE