ngtt_v43_n1_a08

Stephan Joubert
Universiteit van Pretoria

Aan tafel saam met Jesus: eksegetiese riglyne vir prediking uit Lukas 14:1-24

ABSTRACT

At the table with Jesus: exegetical guidelines for sermons on Luke 14:1-24

Luke 14:1-24 is analysed within the framework of Jesus’ rejection of the social hierarchy of his day by eating with “unwelcome” table guests, such as sinners, the sick and the outcasts. Firstly, a brief description is offered of the nature of the Graeco-Roman symposium and Jewish public meals, as the possible conceptual backgrounds for the understanding of Luke 14. This is followed by a discussion of Jesus’ radical rejection of the principle of balanced reciprocity in Luke 14. Within the parameters of his new perspective on reality, where socio-religious outcasts take predominance, some guidelines are finally put on the table to serve as aids for sermons on this explosive text.

1. MAALTYE IS MEER AS EET EN DRINK

Lukas verwys dikwels in sy Evangelie na maaltye waarby Jesus betrokke was. Hy vertel onder meer van Jesus se ete by Levi (5:27-32), Simon die Fariseër (7:36-50) en twee ander belangrike Fariseërs (11:37-54; 14:1-24). Ons verneem ook van Jesus se nagmaal saam met die dissipels kort voor sy kruisiging (22:14-38), die ete saam met die twee mense van Emmaus kort na sy opstanding (24:13-35) en die opgestane Jesus se ete in die teenwoordigheid van sy dissipels (24:41-49). Dan is daar ook nog die ete wat Jesus self vroeër vir die groot skare voorsien het (9:10-17), asook die (veronderstelde) etes by Marta en Maria (10:38-42) en Saggeus (19:1-10).

Die bekende Duitse Nuwe-Testamentikus Joachim Jeremias (1979) het ons aandag daarop gevestig dat maaltye ’n belangrike rol speel in Jesus se bemiddeling van die koninkryk van God aan mense. Deur sy tafelgemeenskap met sondaars en sosiaal veragtes, distansieer Jesus Hom nie net van die heersende godsdienstige status quo binne die samelewing nie, maar wys Hy ook op ’n sigbare manier hoe die aard en inhoude van God se nuwe wêreld daar uitsien.

Binne die Joodse wêreld waarbinne Jesus opgetree het, dien openbare maaltye as sigbare uitdrukking van die samehorigheid van die betrokkenes, maar ook as aanduider van die deelnemers se sosiale status (Garnsey 1999:128). Daarom dat sitplekplasings by sulke maaltye van deurslaggewende belang vir die genooides was. Wie eet saam met wie; hoe naby sit die aanwesiges aan die eregaste; wie sê wat, en wie eet nie saam nie – sulke soort sake het bygedra tot die ryk simboliese betekenis verbonde aan openbare maaltye. Hierdie etes was natuurlik ook die ideale geleenthede om sosiale bande te versterk, vorige maaltyduitnodigings of ander gunste terug te betaal en, indien nodig, versoening tussen strydende faksies te bewerkstellig.

2. JESUS VERSKUIF DIE GODSDIENSTIGE DOELPALE

Lukas maak dit deur die loop van sy Evangelie duidelik dat Jesus ’n godsdienstige “spelbreker” is. Een van die sigbare maniere waarop Hy sy misnoeë wys met die verstarde godsdienstige sisteem van sy dag is deur saam met “onwelkome tafelgaste” te eet, saam met mense wat nie geskik is vir deelname aan amptelike godsdienstige aktiwiteite nie. Die titel “sondaar” het religieuse onreinheid binne die Joodse wêreld versimboliseer. As gevolg van die oortreding van Mosaïese wette, asook die voorskrifte rondom kos en ander reinheidswette, is hierdie sondaars as onbevoeg beskou vir deelname aan amptelike kultiese bedrywighede. Daarom het godsdienstige Jode geweier om saam met onrein mense te eet. Hulle was bang dat hulle kon “aansteek”. Tog is Jesus so dikwels in die geselskap van hierdie sosiaal uitgeworpenes opgemerk dat Hy later negatief geëtiketteer is as “’n vraat en wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars” (Luk 7:31­35). Deur sy bereidwilligheid om saam met enigeen te eet, godsdienstiges (7:36-50; 11:37-54; 14:1-24) en sondaars (5:27-32; 19:1-10) inkluis, het Jesus sulke openbare maaltye benut as provokatiewe geleenthede om die bestaande godsdienstige grense te verskuif en ’n nuwe ingesteldheid teenoor alle mense sigbaar uit te beeld. Kortom, deur sy eie kwistige weggee van Goddelike genade aan sondaars rondom die etenstafel (vgl Luk 7:49-50; 19:8-10) bewys Jesus dat Hy inderdaad die geneser van die siekes is (5:29-32). In sosiologiese terme verander Hy ook die aard van die maaltye waarby Hy betrokke is vanaf seremonies (as herhaaldelike gebeure ter instandhouding en bevestiging van bepaalde werklikhede) na rituele (as status-transformasies – van rein na onrein – vgl Neyrey 1991; Osiek & Balch 1997:45).

3. DIE GRIEKS-ROMEINSE SIMPOSIUM EN JOODSE OPENBARE MAALTYE AS VERSTAANSRAAMWERK VIR LUKAS 14

Die oorspronklike lesers van die Lukasevangelie het ook nie-Jode ingesluit wat hulle iewers binne die Grieks-Romeinse wêreld bevind het (Schnelle 1999:260; Johnson 1999:219). Uiteraard was hulle goed op die hoogte met Grieks-Romeinse maaltydgebruike, soos die simposium, ’n geleentheid tot gesprek en debat (saam met kos en drank) wat direk na afloop van ’n formele banket gevolg het. Sedert die dae van Plato en Xenofon was hierdie simposiums ideale geleenthede om gesprek te voer met kollegas wat aan dieselfde gilde, filosofiese skool of godsdienstige groepering behoort het. Tydens sulke maaltye het die gaste gewoonlik rondom die gasheer en eregaste se hooftafel op banke aangelê wat in ’n U-vorm, bekend as ’n “triklinium,” gerangskik was (Bartchy 1992:796ff).

Joodse openbare feesmale was ook goed aan Lukas se Joodse lesers bekend. Al die manlike gaste by sulke feeste is ’n paar dae voor die tyd amptelik deur slawe of werkers van die eienaar uitgenooi. Op die dag van die fees is diegene wat die uitnodiging aanvaar het deur die slawe laat roep sodra die kos gereed was (gewoonlik in die namiddag, nadat die ergste hitte van die dag verby was). By die mense se aankoms het slawe hulle voete gewas en welriekende salf oor hulle hare en/of voete gegooi. Wanneer die gaste aangesit het vir die voorgereg, het slawe hulle regterhande (as die hand waarmee geëet is) gewas. Terwyl ’n beker wyn aan elkeen gegee is, het ’n gebed gevolg, wat elkeen stilweg gebid het, met die woorde: “U word geprys, Here ons God, Koning van die wêreld, wat ook die vrug van die wynstok vir ons gee.”1 Gepekelde vis en groente is dan geëet, met nog ’n gebed waarin God gedank is vir die groente wat Hy uit die aarde laat voortkom. Hierna het die gaste in ’n groter vertrek op hulle linkersye gaan aanlê by lae bankies vir die hoofmaal.2 Weer eens is hulle hande gewas waarna die gasheer opgestaan, ’n stuk brood geneem en dan gebid het: “U word geprys, Here ons God, Koning van die wêreld, wat brood uit die aarde laat voortkom.” Nadat die gaste met die woord “amen” geantwoord het, het die gasheer vir elkeen ’n stuk brood afgebreek. Solank die diensknegte of slawe broodstukke (wat as “eetgereedskap” gedien het) op die tafel geplaas het, het die gaste geweet dat daar nog geregte volg. Aan die einde van die ete het die laaste handewassing gevolg.3 ’n Laaste dankgebed is dan uitgespreek deur die belangrikste persoon by die ete.4 Tydens hierdie gebed het die bidder, met sy wynbeker in die hand, ’n seën uitgespreek oor die ete. Enige versuim om sodanige dankgebed te bid was volgens die Jode niks minder nie as ’n misdaad teen hulle Vader (God) en hulle moeder (Israel) (vgl Bolyki 1998:195-6).

4. ’N VERKENNENDE EKSEGETIESE OORSIG OOR LUKAS 14:1-24

4.1 Lukas 14:1-6: Onreinheid word verwyder en die sabbat word oortree

In Lukas 14 bevind ons ons saam met Jesus by die maaltyd van ’n belangrike Fariseër (soos geïmpliseer deur die term ajrcw`n in v 6). Boonop is dit op die sabbat, die heiligste dag op die Joodse religieuse kalender. Fariseërs het gereeld saam geëet om hulle gemeenskaplike identiteit te handhaaf teenoor die sogenaamde am ha-arets, die onrein mense van die land, sowel as om godsdienstige kwessies te beredeneer (vgl Moxnes 1988:10-21). Hulle, en die kenners van die wet van Moses (v 3), beskou Jesus nou ten minste as hulle sosiale gelyke wanneer hulle Hom vir ete uitnooi.

Tussen die gaste verskyn daar skielik ’n man met ’n liggaamlike afskeiding. Aan die hand van Levitikus 15 weet ons dat sodanige siektetoestande deur die Jode as onrein beskou is. Sulke mense moes alle fisieke kontak met rein mense vermy ten einde hulle nie te besoedel nie (Pilch 2000:111). Hierdie man se teenwoordigheid by die ete moes dus, net soos in die geval van die sondige vrou in Lukas 7:36-50, uiters problematies gewees het vir die reinheidsbewuste Fariseërs. Jesus genees hom egter dadelik, waarna Hy die godsdienstige leiers binne ’n tipiese “strydgesprekkonteks” uitdaag oor hulle idee dat Hy die sabbat oortree. Genesing van siekes is deur hulle as werk, en sodoende as sabbatsontheiliging, beskou. Jesus se strikvraag rakende hulle optrede wanneer ’n seun of ’n os op die sabbat in ’n put beland (v 5), was natuurlik nie ’n onbekende dilemma vir die rabbi’s in daardie tyd nie (Keener 1999:358). Terwyl die meer konserwatiewe Jode selfs so ver gegaan het om te sê dat ’n dier of ’n mens maar in ’n put kon bly indien daar genoeg kos tot hulle beskikking was (Shab.128b), het die meerderheid godsdienstiges noodhulp aan sulke slagoffers nie as ’n sabbatsoortreding beskou nie (Marshall 1978:580). Jesus sien sy genesingsdaad ook binne sodanige konteks as ’n daad van eskatologiese hulp wat op die plek voltrek moet word ten einde onreines se reinheid daar en dan te verwyder. Selfs die viering van heilige dae is vir Jesus ondergeskik aan die onmiddellike hulpverlening aan noodlydendes.

4.2 Lukas 14:7-11: Moenie hardloop vir die voorste plekke nie

Tradisioneel was sitplekplasings van groot belang by openbare maaltye. ’n Tipiese maaltydplasing het soos volg daar uitgesien (vgl Malina & Rohrbaugh 1992:366):

tafel.png

Te midde van al die belangrike gaste (v 12) maak Jesus dit duidelik dat Hy Fariseïese beskouings oor die sabbat, asook hulle denke oor sosiale rangorde binne die samelewing, heeltemal verwerp. Dit blyk uit sy kort onderrig (parabolhv) aan die aanwesiges (vv 8-11) oor sitplekplasings by openbare maaltye. In die lig van die obsessie onder mense in daardie tyd om ereposisies by sulke maaltye te bekom (om hulle sosiale status te onderstreep), sê Jesus dat mense (sy volgelinge!) nie by ’n huweliksfees op ’n eresitplek (prwtoklisiva) moet gaan sit nie, aangesien dit dalk vir ’n belangriker persoon gereserveer kan wees (v 8). Die gasheer sal hulle dan in die openbaar tot skande bring deur hulle na die geringste sitplek (to;n e[scaton tovpon) te begelei (v 9). Veel eerder moet mense uit die staanspoor by die onbelangrikste plek gaan sit sodat die gasheer hulle later na ’n beter sitplek toe kan neem (v 10). Binne die Joodse samelewing, wat gegrond was op die primêre waardes van eer en skaamte (vgl Malina 2001), is openbare erkenning deur ander mense van groot belang vir individue se eie status en posisie. Jesus leer die aanwesiges egter die paradoksale les dat ware eer in sosiale interaksies slegs deur nederigheid verwerf kan word.

Die hart van Jesus se lering aan die gaste word in vers 11 saamgevat (vgl Kollmann 1990:216): Mense wat daarop uit is om hulle openbare status deur selfgesentreerde pogings te laat toeneem, sal dit uiteindelik verloor, maar mense wat voor God en ander nederig is se openbare eer sal toeneem. Hierdie uitspraak, wat tot die hart van die selfverstaan van die eerste gelowiges hoort (vgl bv Luk 16:15; 18:14; Matt 18:4; 23:12; 2 Kor 11:7; Jak 4:10; 1 Pet 5:6), benadruk die feit dat Jesus se volgelinge nooit hulle eie eer mag vooropstel of proaktief bevorder nie. Juis wanneer hulle doelbewus kies om nie deel te neem aan wedywerings om status en eer binne die openbare arena nie, staan hulle ’n kans om op die regte manier eer te bekom. Ware eer en integriteit voor God en mense word slegs toegereken aan nederige mense, aan diegene wat nooit ten koste van ander hulleself vooropstel of hulle eie belange probeer bevorder nie.

4.3 Lukas 14:12-14: Geen wederkerigheid nie

Asof die atmosfeer aan die etenstafel teen hierdie tyd nie al gespanne genoeg is nie, draai Jesus nou na die gasheer toe met die opmerking dat hy nie in die toekoms weer hierdie belangrike gaste vir ete moet nooi nie. In ’n verduideliking, wat as ’n belediging deur die gasheer verstaan sou kon word, gaan Jesus nogeens reglynig teen die grein van die heersende waardes van sy dag in. Binne ’n oorwegend arm Joodse samelewing het die beginsel van resiprositeit of wederkerigheid (vgl Joubert 2000) die basis van alle interpersoonlike relasies buite die familie gevorm. Met ander woorde, wanneer iemand die een of ander guns of diens aan jou bewys het, was jy onder die verpligting om later met ’n gawe van gelyke waarde te reageer. Daar was dus nie iets soos gratis maaltye nie. Iewers vorentoe moes die gaste met soortgelyke uitnodigings reageer. Maar Jesus maak dit duidelik dat sy volgelinge nie langer mag deelneem aan die heersende spel van wederkerigheid nie. Inteendeel. Hulle moet juis diegene na maaltye toe uitnooi wat geen eer binne die samelewing geniet nie, asook dié wat onrein is, soos die armes, verlamdes en blindes. Sulke mense, wat buite die stelsel van resiprositeit staan, kan hulle aardse weldoeners nooit beloon nie. Die goeie nuus egter is dat God diegene wat goed doen aan sulke eerloses op die laaste dag sal beloon (v 14; vgl ook Hanson & Oakman 1998:75). Binne ’n samelewing waarin bykans niemand iets vrywillig vir iemand anders gedoen het sonder om iets terug te verwag nie, hoor Jesus se tafelgenote nou dat hulle weldade aan eerloses en noodlydendes weldade aan God self is. Hy word as ‘t ware die indirekte ontvanger van hulle weldade. Daarom sal God hulle eendag beloon met die ewige lewe.5

4.4 Lukas 14:15-24: Verkeerde mense vir die regte fees

Na al die ongemaklikheid onder die gaste as gevolg van Jesus se skokkende genesing van ’n onrein persoon op die sabbat (vv 1-6), sy daaropvolgende kritiek op die aanwesiges se sug na openbare eer (vv 7-11) en sy verwerping van die beginsel van wederkerigheid (vv 12-14), probeer een van die gaste die gespanne situasie ontlont met ’n verwysing na die komende eskatologiese maaltyd van God (v 15). Hierop reageer Jesus met ’n skerp verhaal oor ’n groot feesmaal. Hy verwys na die bekende gebruik van daardie tyd dat die eienaar sy slaaf (’n tweede maal) na al die gaste toe gestuur het wat vroeër reeds die uitnodigings na die ete toe aanvaar het (v 17). Nou, op die tydstip dat die kos gereed is, het al die genooides egter skielik “wettige” verskonings waarom hulle nie meer kan kom nie.

Sonder om in al die eksegetiese besonderhede rondom die interpretasie van hierdie gelykenis in te gaan, is dit duidelik dat Jesus die godsdienstige mense in hierdie vertelling voorhou as diegene wat die uitnodiging na God se eskatologiese fees van die hand wys vanweë hulle selfgesentreerde agendas. Die uiteinde is dat hulle uitgesluit word van die ware fees van God, terwyl diegene wat deur hulle as sondaars en onreines geklassifiseer word as eregaste aan die hemelse Gasheer se tafel gaan aansit. Opmerklik is dat al die verskonings van die oorspronklike genooides (“die godsdienstiges”) binne die verhaal gepaardgaan met kommersiële en familiale aangeleenthede, wat natuurlik die basiese boustene van die Joodse samelewing uitgemaak het. Met ander woorde, hierdie persone se verskonings word deur hulle as geldige redes aangebied waarom hulle ’n minder belangrike aangeleentheid soos ’n feesmaal ter syde kan stel (vv 18-20).

Die eienaar se reaksie op hierdie verskonings is skokkend. Hy stuur sy slaaf nou na ongenooides toe, en meer in die besonder, ook na die minder gegoede dele van die stad waar die arm mense in die smal straatjies woonagtig is (v 21). Van hier af moet die slaaf later selfs na die sosiaal uitgeworpenes buite die stadsmure gaan, waar die siekes, prostitute en ander onrein mense woonagtig is (v 23). Teenoor die ryk elite, wat die uitnodiging minag, verskuif die klem na die ongenooides wat as ‘t ware gedwing word om vanuit hulle geringe woonplekke na die ryk man se fees toe te kom. Weer eens ruil die rolle volgens Jesus om: Die vername godsdienstiges loop God se godsdienstige feesmaal mis as gevolg van hulle eie selfvoldaanheid, terwyl diegene wat gestroop is van hulle menswaardigheid deur dinge soos armoede en fisieke lyding, gulhartig op God se uitnodiging reageer en as sy eregaste ontvang word.

5. RIGLYNE VIR PREDIKING UIT LUKAS 14:1-24

Lukas 14 is ’n skokkende teks wat die heersende sosiaal-godsdienstige ideologieë van die maghebbers, ook binne ons eie dag, aan die kaak stel. Dit daag uit, ontmasker, hervorm, verskuif grense en gee nuwe inhoude aan menslike integriteit. Die volgende aspekte sou in ’n preek of, verkieslik, ’n preekreeks oor hierdie gedeelte aan die orde gestel kon word:

a. Godsdienstige tradisie moet gereeld onder die soeklig kom

Teenoor godsdienstige tradisies wat so maklik geyk en ’n opsigselfstaande grootheid kan word, soos met die Fariseërs se siening van die sabbat waar die onderhouding van hierdie dag groter geword het as menslike deernis vir noodlydendes, wys Jesus dat God altyd oor mense se heil besorg is en nie oor mensgemaakte reëls vir heilige dae nie. Vir Jesus gaan dit dus nie oor starre wettiese nakoming van moets en moenies op ’n heilige dag nie, maar oor die onmiddellike hulp aan mense in nood wat egter deur “die godsdienstiges” binne daardie tyd verwerp is. Die kerk vandag moet waak teen die verabsolutering van menslike tradisies oor sake soos die sabbat. Sulke sogenaamde heilige dae (vgl Rom 14; Gal 4; Kol 2) mag nooit opsigselfstaande groothede word ten koste van die kerk se gerigtheid op mense in nood nie.

b. Eie pogings om eer en erkenning te bekom, is uit

Mense se diepgewortelde behoefte aan erkenning en hulle selfgesentreerde pogings om hulle eie openbare status te laat toeneem word in Lukas 14 deur Jesus ontmasker. Hy is op soek na nederigheid by sy volgelinge. Gelowiges mag hulleself nooit bevorder nie, veral nie ten koste van ander mense nie. Ook mag hulle nie behep wees met hulle eie openbare status of posisie nie. Gelowiges wedywer nooit om erkenning nie, maar tree deurentyd nederig op in die teenwoordigheid van ander mense. Dit beteken dat ander mense se belange voor hulle eie belange staan. So ’n lewensingesteldheid van nederigheid lei uiteindelik tot die regte soort eer vir gelowiges in die teenwoordigheid van God en ander. Dit berus immers op die ou end by God om aan sy kinders eer te gee, en nooit by hulleself nie.

c. Gelowiges deel met ander

Min mense doen goeie dinge vir ander sonder om die een of ander vorm van erkenning of wedersydse hulp terug te verwag. Hierteenoor maak Jesus dit duidelik dat sy volgelinge juis ’n hart en ’n oog moet hê vir die noodlydendes in die samelewing wat niks in ruil aan te bied het nie. Mense wat siek en sonder kos of klere is, moet gelowiges se vriende wees. Die vraag vir gelowiges moet dus nie meer wees: Watter belangrike mense ken ek? nie, maar eerder: Hoeveel mense in nood en hoeveel “onbelangrike mense” ken my? Christene deel ook hulle materiële middele met diegene aan die onderste punt van die sosiale skaal in die lewe sonder enige soeke na erkenning of dank aan hulle kant. Hulle weet immers dat God raaksien wat hulle doen en dat Hy hulle op die regte tyd sal verhoog.

d. God se nuwe inklusiewe groep

Lukas 14 wys dat God niemand voortrek nie. Inteendeel. Op diegene wat harteloos vashou aan uiterlike godsdienstige gebruike, sonder dat hulle ’n oop hart en hand vir noodlydendes rondom hulle het, wag daar ’n groot verrassing. As gevolg van hulle beheptheid met hulle eie belange, ten spyte van hulle sogenaamde godsdienstigheid, gaan hulle God se hemelse feesmaal misloop. Aan die ander kant bied God juis nuwe lewe vir sosiaal veragtes en vir sondaars. Selfs die mees verguisde mense is welkom by sy feesmaal. Die hemel is volgens Jesus nie outomaties vir die sosiale en godsdienstige elite bedoel nie. God se arms is oop vir almal, vir diegene wat Hom vertrou om in al hulle behoeftes te voorsien.

BIBLIOGRAFIE

Bartchy, S S 1992. Table fellowship, in Dictionary of Jesus and the Gospels, 796-800. Leicester: InterVarsity Press.

Bolyki, J 1999. Jesu Tischgemeinschaften. Tübingen: Mohr Siebeck (WUNT II, 96).

Garnsey, P 1999. Food and society in classical antiquity. Cambridge: University Press.

Hanson, K C & Oakman, D E 1998. Palestine in the time of Jesus. Social structures and social conflicts. Minneapolis: Fortress.

Johnson, L T 1999. The writings of the New Testament. An interpretation. Revised edition. Minneapolis: Fortress.

Jeremias, J 1979. Neutestamentliche Theologie I. Die Verkündigung Jesu. 3.Aufl. Gütersloh: Güterslöher Verlag.

Joubert, S J 2000. Paul as benefactor: Reciprocity, strategy and theological reflection in Paul’s collection. Tübingen: Mohr Siebeck (WUNT II, 124).

Keener, C S 1999. Acommentary on the Gospel of Matthew. Grand Rapids: Eerdmans.

Kollmann, B 1990. Ursprung und Gestalten der frühchristlichen Mahlfeier. Göttingen: Vandenhoeck (GTA 43).

Malina, B J 2001. The New Testament world. Insights from cultural anthropology. Third edition. Louisville: Westminster John Knox.

Malina, B J & Rohrbaugh, R 1992. Social-science commentary on the Synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress.

Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke. A commentary on the Greek text. Exeter: Paternoster.

Moxnes, H 1988. The economy of the kingdom. Social conflict and economic relations in Luke’s Gospel. Philadelphia: Fortress.

Neyrey, J H 1991. Ceremonies in Luke-Acts: The Case of Meals and Table-Fellowship, in Neyrey, J H (red). The Social World of Luke-Acts: Models for Interpretation. Peabody: Hendrickson.

Osiek, C & Balch, D I 1997. Families in the New Testament world. Households and house churches. Louisville: Westminster John Knox.

Pilch, J J 2000. Healing in the New Testament. Insights from medical and Mediterranean anthropology. Minneapolis: Fortress.

Schnelle, U 1999. Einleitung in das Neue Testament. 3.Aufl. Göttingen: Vandenhoeck.

1 Wyn van Karmel of die Saronvlakte, wat verdun is met water, is by openbare etes voorgesit aan die gaste. Wyn uit die Saron het gewoonlik uit een deel wyn en twee dele water bestaan. Dit was drie maal sterker as wyn van Karmel.

2 Volgens Alkidamus, ’n Kiniese filosoof, was dit veels te verfynd en “vroulik” vir mans om op stoele by ’n tafel aan te sit.

3 As daar meer as vyf gaste by die ete was, is die onbelangrikste se hande heel eerste gewas, tot by die laaste vyf. As daar vyf of minder gaste was, is die belangrikste persoon se hande egter eerste gewas.

4 Sou die eregas weier, het hy volgens die Jode die risiko geloop om vroeg te sterf.

5 Moxnes (1988:129) wys tereg daarop dat Lukas die enigste outeur in die Nuwe Testament is wat die tegniese taal vir resiprositeit gebruik, te wete ajntapovdomav (v 12), ajntapodou`naiv (v 14) en ajntapodoqhvsetai (v 14).

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.