ngtt_v43_n1_a14

Attie van Niekerk,
Universiteit van Pretoria

Apartheid en armoede: Wat moet die NG Kerk bely?

ABSTRACT

Apartheid and poverty: What should the Dutch Reformed Church confess?

The Dutch Reformed Church has confessed its guilt in supporting apartheid, and has also launched an initiative to combat the escalating poverty in South Africa. Should these two issues be linked? Attention is given to recent theological arguments coming from some theologians in the Dutch Reformed Church, who attribute the poverty of a large number of black people in South Africa directly to the oppressive policies of apartheid in the past. It is argued that these views are often superficially motivated, and that they tend to obscure a proper understanding of the causes of poverty in the South African context. They repeat the mistakes of the international development industry since 1949, as well as that of the apartheid ideology and many anti-apartheid movements. This mistake is to ignore the actual views, needs and dynamics of the poor communities and to present solutions that are available, familiar, convenient, and often advantageous, not to the poor themselves, but to those who pretend to speak and act on behalf of the poor. More often than not, even well meaning efforts of this type do more harm than good to the poor. Such a lack of interest in and concern for poor people must be confessed by many of the non-poor of almost all ideological convictions. The church should redress this gap by close, existential, respectful involvement with the poor that leads to reliable understanding of the dynamics of poverty in actual life.

Die vraag of, hoe en waar die NG Kerk en/of NG lidmate skuld moet bely weens apartheid het in die afgelope jare meermale ter sprake gekom. Daar was debatte oor die belydenis al dan nie voor die Waarheids- en Versoeningskommissie en ook met die loodsing van die veldtog Tuiste vir Almal op 16 Desember 2000. Hierdie veldtog is geloods met ’n belydenis waarin die wit gemeenskap sy verantwoordelikheid vir apartheid erken het, “want baie wit mense het die stelsel aktief en passief ondersteun”. Die belydenis is gevolg deur ’n onderneming om te werk aan die “regstelling van die ongeregtighede”, onder meer deur ’n ontwikkeling-en-versoeningsfonds te begin (Rapport Perspektief, 17 Des 2000:1).

Die Tuiste vir Almal-veldtog het sekere ooreenkomste met die Jaar van Hoop, wat die NG Kerk in 2001 aangekondig het. In die Jaar van Hoop het die NG Kerk inisiatiewe geloods ten opsigte van versoening, armoede en moraliteit. Daar is, soos Tuiste vir Almal ook doen, ’n fonds geskep om projekte te finansier.

Een verskil val op. Die Jaar van Hoop is nie eksplisiet gekoppel aan die NG Kerk se skuld­belydenis oor apartheid nie. Verskeie organiseerders van die Jaar van Hoop het wel die Tuiste vir Almal se skuldbelydenis oor apartheid onderteken, maar die sinodebesluite ten opsigte van die Jaar van Hoop verwys nie na apartheid nie. Watter benadering is verkieslik: om wit optrede teen armoede te koppel aan ’n belydenis oor apartheid, of dit juis nie daaraan te koppel nie?

Die vraag kan ook anders gestel word: Bring die belydenis oor die onreg van apartheid ons wesenlik nader aan insig in die ware probleem van en die gepaste oplossing vir die armoede, lyding en nood van die meerderheid Suid-Afrikaners? Moet swart armoede aan apartheid toegeskryf word? Het ons dalk skuld aan méér as apartheid? Is skuld ’n goeie motief vir optrede?

Die doel van hierdie artikel is om groter duidelikheid te probeer kry oor die verband tussen apartheid en swart mense se armoede, ter wille van ’n beter insig in die probleem van swart armoede, beter insig in die NG Kerk en sy lidmate se aandeel daarin en meer effektiewe optrede daarteen. Die bedoeling is nie om ’n skuldbelydenis deur wit mense te vermy nie, maar om dit te verdiep.

Daar sal eerstens gekyk word na die verband tussen apartheid en swart armoede, en tweedens na ’n gepaste respons van die kant van die NG Kerk en NG lidmate.

1. APARTHEID DIE OORSAAK VAN SWART ARMOEDE?

Dit is opvallend hoe vanselfsprekend sommige skrywers aanvaar dat apartheid die oorsaak van swart armoede is. In sy verdediging van die Tuiste vir Almal-veldtog skryf dr Fanie du Toit, ’n NG leraar en lid van die aanvoorkomitee van die veldtog, dat apartheid katastrofale ekonomiese skade aan miljoene mense aangerig het. Hierdie stelling word dan geondersteun deur sekere statistieke, soos:

• “In 1946 was wit mense se inkomste 11.3 keer groter as dié van swart mense, maar in 1970 was dit 14.6 keer groter.”

• “In 1986 nog het die staat slegs R21 per kop aan swart mense en R54 per kop aan bruin mense se maatskaplike dienste bestee, teenoor R100 per kop aan wit mense.”

• “In 1975 … is daar per kop slegs R4 per swart leerling bestee vir elke R100 aan ’n wit leerling. Teen 1990 het swartes steeds net 20% van wit leerlinge se staatsubsidie ontvang.”

Sulke gegewens, sê Du Toit, bied “insig … oor die ontstaan van armoede in die land … Die huidige ekonomiese ongelykheid hou dus regstreeks verband met ’n stelsel wat wit mense wreed bo ander groepe bevoordeel het …” Enige redelike mens, sê Du Toit, moet tot die gewaarwording kom dat “wit mense só bevoordeel is deur die vorige bestel dat geleerdes selfs beweer wit rykdom en swart armoede is twee kante van dieselfde munt” (Du Toit 2000:11).

In ’n doktorale proefskrif wat prof H Lötter in 1999 by die Departement Dogmatiek en Etiek aan die Universiteit van Pretoria ingehandig het, word swart armoede en die kloof tussen wit rykdom en swart armoede eweneens op ’n baie vanselfsprekende wyse toegeskryf aan apartheid. Lötter verwys na verslae soos die Poverty and Inequality Report van 1996 en ook ander verslae:

• “Only 1% of white people were poor, while 60.7% of black people were poor. Apartheid did indeed channel resources to whites and took good care of them at the expense of blacks!” (10).

• “The vast difference between the probability of whites being poor and blacks being poor demonstrates how effectively apartheid established the link between the white race and riches and the black race and poverty. The link between race and poverty is thus not arbitrary nor coincidental. It is the result of policies of successive white apartheid governments that deliberately impoverished black people” (11).

• “Poor black people experienced the deliberate neglect of infrastructure in their areas” (12).

• … “(A)ctions that apartheid governments at local, regional, and national levels did to impoverish people. There were numerous acts of omission that did the same” (18-19).

Op bladsy 126 (vgl ook p 9) word ongelykheid in die besteding aan wit en swart onderwys weer eens aangebied as die enigste bewysvoering dat swart mense se benadeling “deliberate” was:

• “Not providing good quality education for black people in apartheid South Africa was deliberate, so as to exclude them from better positions in society. Glaring inequalities in expenditure per head of population clearly testify to that.”

Du Toit en Lötter se argumentasie kan as volg opgesom word:

a) Daar is ’n groot kloof tussen wit rykdom en swart armoede.

b) Die apartheidsregering het wit mense bo swart mense bevoorreg.

c) Apartheid het sowel wit rykdom as swart armoede veroorsaak.

d) Apartheidsregering het bedoel om die swart mense te onderdruk en te verarm (Lötter noem dit doelbewus, “deliberate”; Du Toit noem dit wreed, wat albei op die bedoeling én die gevolg kan dui).

Stellings C en D is konklusies wat getrek word uit die gegewens in A en B. Die geldigheid van die hele betoog is afhanklik daarvan dat die gegewens waarop stellings A en B berus, geldig is, en dat die afleidings wat in C en D gemaak is, geldige afleidings uit die gegewens is. Daaroor enkele opmerkings.

1.1 Die geldigheid van die gegewens

Dit bly maar ’n waagstuk vir teoloë om statistieke te probeer interpreteer en daaroor te debatteer. Selfs kundiges op daardie terrein verskil van mekaar. Elkeen hou ánder gegewens voor. Prof Jan Sadie, byvoorbeeld, het statistieke uitvoerig geanaliseer en bevind dat daar ’n massale oordrag van geld en grond van wit na swart mense was in die sestigerjare van die vorige eeu (1996:29, 44, 37, 32). En prof Hermann Giliomee (2000:10) beweer: “In 1996 was daar reeds meer swartes as wittes in die boonste vyfde van die land se inkomstegroepe.” Hy sê dat die opkoms van die swart middestand nie in 1994 eers begin het nie. Laasgenoemde stelling word geondersteun deur Whiteford en McGrath (1996:49), wat bevind dat die rykste 20% swart huishoudings se inkomste met 38.2% gestyg het tussen 1975 en 1991, terwyl die rykste 20% wit huishoudings se inkomste in hierdie tyd konstant gebly het.

Die “ekonomiese feite” waarna Du Toit verwys, is geselekteer en gebruik om ’n bepaalde argument te ondersteun. ’n Mens kan ander feite selekteer wat die teenoorgestelde argument sou ondersteun. Byvoorbeeld: In 1951 was daar 777 185 swart skoliere in Suid-Afrika. (Tomlinson­verslag 1955:9). In 1986 was daar 6 237 000 (Behr 1988:216). Daaruit kan ’n mens aflei dat die apartheidsregering die voorsiening van swart onderwys agtvoudig verhoog het in 35 jaar, al was die besteding per kop nog ver agter die besteding aan wit onderwys. Dit is begryplik dat die groot kwantitatiewe sprong nie altyd gepaard sou gaan met die verlangde kwaliteit nie. Daarmee word nie gesê dat die apartheidsregering, wat swart onderwys betref, niks het om te bely nie, maar wél dat daar ook ander gegewens is wat oorweeg moet word.

’n Tweede voorbeeld: Du Toit beweer dat die gaping tussen wit en swart inkomste as gevolg van apartheid gegroei het van 11.3 keer groter in 1946 tot 14.6 keer groter in 1970. Dit is egter min in vergelyking met die huidige gaping tussen die rykste 10% en die armste 40% in die swart gemeenskap. In 1991 was die inkomste van die rykstes 31 keer groter as dié van die armstes (R3 001 teenoor R93 124 per huishouding) en in 1996 was dit 42 keer groter (R2 383 teenoor R108 568 per huishouding, vgl Whiteford & Van Sevenster 1997:19). Daar is nie net ’n gaping tussen die inkomste van rasse nie, maar ook tussen dié van klasse.

’n Derde voorbeeld: Indien apartheid so ’n belangrike oorsaak van armoede was, sou ’n mens verwag dat die einde van apartheid ’n verbetering sou bring. Dit gebeur egter nie, ten minste nie wat die volgende indikatore betref nie:

• Inkomste: Die armste 40% van die swart bevolking se inkomste het vanaf 1991 tot 1996 met 21% gedaal van R3 001 tot R2 383 per huishouding per jaar. Die volgende 20% se inkomste het met 4% gedaal (Whiteford & Van Sevenster 1999:19-20).

• Matriekuitslae: Die aantal matrikulante het gedaal van 287 343 in 1994 tot 249 831 in 1999, en dié met universiteitstoelating van 88 497 tot 63 725 in dieselfde tyd (Mattison 2000:1).

• Werkgeleenthede: Die formele ekonomie het sedert 1990 jaarliks omtrent 100 000 werkgeleenthede verloor (De Lange 2000:2).

• Dienste: Sommige dienste, soos elektrifisering en watervoorsiening, is uitgebrei, maar is moeilik volhoubaar, terwyl talle dienste agteruitgegaan het, onder meer weens die nie­betaling vir dienste. In ’n artikel in die Sowetan (Raboroko 1999:3) onder die opskrif “Cash-strapped councils in SA in danger of collapse” beweer ’n amptenaar dat slegs 3 van die 83 plaaslike besture in Mpumalanga behoorlik funksioneer. Dit stem ooreen met die patroon dwarsdeur Afrika (vgl Feris 2000:17).

• Gesondheidsorg: Berigte oor die swak toestand van hospitale, waarvan veral die armes afhanklik is, verskyn gedurig. Vigsaktiviste beweer dat hulle taak uiters moeilik gemaak word deur die optrede van die regering, wat wel ’n sterk veldtog teen rook voer, maar vigs buite beheer laat raak het (Marais 2000).

Met hierdie gegewens word die probleem aan die orde gestel dat daar verskillende stelle gegewens voorgehou kan word om teenstellende argumente te ondersteun. Die wyse waarop gegewens geselekteer word, moet bedink word, byna soos die seleksie van Bybeltekste om ’n teologiese argument te voer. Volgens watter logika versamel en vergelyk ons gegewens?

Die sosioloog Peter L Berger (1977:163-216) het volgens ’n bepaalde logika gewerk toe hy by geleentheid ’n “calculus of pain” en ’n “calculus of meaning” gemaak het. Dit is ’n berekening van die lyding en skade wat ’n sekere ideologie meegebring het. Een manier om dit te doen is om die huidige situasie te vergelyk met voorstellings van hoe die samelewing sou gelyk het sonder die betrokke ideologie. Hoe sou Suid-Afrika sonder apartheid gewees het? Soos Rusland? Soos die res van Afrika? Soos Amerika? As ’n sinvolle metode gevind is, moet betroubare indikatore bepaal word. Daarna kan gegewens geselekteer word.

Uit eie ervaring weet ek dat die statistieke oor swart onderwys, wat Lötter en Du Toit aanbied, nie die hele verhaal vertel nie. Ek het grootgeword op die kampus van die Universiteit van die Noorde, ’n swart universiteit. Ek self het tien jaar lank daar gewerk en ses jaar in Venda. Ek het verskeie amptenare van die destydse Departement van Bantoe-Onderwys geken. Daar was amptenare met negatiewe gesindhede, maar om te sê dat swak onderwys doelbewus aan swart mense gebied is, “so as to exclude them from better positions in society,” doen sommige betrokkenes onreg aan. Sulke betrokkenes sou met gemak ’n heel ander stel “feite” kon voorhou as wat deur Lötter en Du Toit voorgehou word.

Die gegewens wat Lötter en Du Toit aanbied, ondersteun die dominante diskoers van die dag, sonder om dit enigsins te bevraagteken. Argumente téén die apartheid-as-oorsaak-van-swart­armoede-argument kan, aan die ander kant, net so eensydig en selektief met gegewens werk en moet ook getoets word.

Die kerk se belydenis van skuld oor apartheid sal meer waarde hê as die betroubaarheid van die gegewens waarop dit berus beter beredeneer is. Die regstellende aksie wat op ’n skuldbelydenis moet volg, sal gevolglik ook meer sinvol wees omdat dit nader aan die oorsake van die armoede sal kom. Die debat oor “feite”, die “blote gegewens”, is nog nie afgehandel nie. Die eerste doel van die debat moet wees om ’n ooreenkoms te bereik ten opsigte van die logika waarvolgens gegewens versamel en vergelyk kan word.

Die vraag hoe daar vanuit die gegewens tot gevolgtrekkings gekom word, verdien verdere debat. Die gegewens moet betroubare indikatore wees van die gevolgtrekkings.

1.2 Die geldigheid van gevolgtrekkings

Die wyse waarop Du Toit en Lötter gevolgtrekkings maak uit hulle gegewens kan eweneens bevraagteken word.

Hulle eerste gevolgtrekking is dat swart armoede en die gaping tussen wit rykdom en swart armoede deur apartheid veroorsaak is. Lötter, veral, gaan ’n stap verder en sê herhaaldelik dat dié gevolge doelbewus deur die apartheidsregering veroorsaak is. Die wyse waarop hierdie oorsaak tot hierdie gevolg gelei het, word egter nie beredeneer nie. Daarmee slaan Lötter sy eie korrekte riglyn in die wind: “The complexity of poverty means that an adequate explanation of a specific case of poverty must take into account multiple possible causes” (Lötter 1999:121).

Ander verklarings vir armoede bestaan en moet teen die apartheid-as-oorsaak-argument opgeweeg word ten einde by ’n beter begrip van armoede te kom. Enkele van hierdie verklarings word hier onder bespreek. Hierdie verklarings sien die oorsprong van armoede in die mislukking van ontwikkelingshulp, wat op sy beurt op verskillende maniere verklaar kan word, waaronder:

• Westerse ontwikkeling bots met die tradisionele Afrikakultuur;

• armoede hervestig homself deur vooruitgang te verteer, en

• die ontwikkelingshulp word gedryf deur goeie bedoelings, maar met ’n swak begrip van die dinamika van die armoedekultuur.

Hierdie moontlike verklarings word voorgehou met die doel om die kompleksiteit van armoede te illustreer en word vervolgens bespreek.

1.2.1 Westerse ontwikkeling bots met die Afrika-etos

Prominente swart skrywers, dwarsoor Afrika, het vanaf die begin van die 20ste eeu geworstel met die vraag of hulle Westerse ontwikkeling wil hê of nie. Lötter en Du Toit ignoreer hierdie debat en gaan uit van die vanselfsprekende veronderstelling dat daar maar een faktor was: dat die wit apartheidsregering die so begeerde Westerse ontwikkeling van swart mense weerhou het. Dit is egter nie die volle prentjie nie.

In 1983 is ’n verkorte weergawe van my doktorale tesis gepubliseer onder die titel Dominee, are you listening to the drums? In daardie tyd was die dominee aan wie se adres die boek gerig was regs, ’n ondersteuner van apartheid. Vandag moet dieselfde vraag gevra word aan daardie dominees wat apartheid so gladweg veroordeel. Hoor hulle enigsins beter as hulle voorgangers wat die swart stemme sê?

In die eerste maande van die jaar 2000 het sogenaamde oorlogsveterane in Zimbabwe blanke boere se plase begin beset. In Mei 2000 verskyn ’n berig “Mugabe thugs target black professionals”, waarin berig word dat die swart middelklas die teiken van aanvalle geword het: “Teachers, nurses and other professionals have been subjected to sustained abuse by supporters of President Robert Mugabe’s Zanu-PF party, raising fears of a repeat of the ‘80s ‘Gukurahundi’ (wipe out everything) campaign. Then, teachers and other professionals were among the first targets in a campaign of terror in which 20 000 people were murdered, many of them by being buried alive” (Makhanya & Malala, 2000:1).

Dit is blykbaar eerder ’n kultuur-botsing as ’n rasse-botsing.

Sulke reaksies teen geleerde swart mense is niks nuuts nie. Naipaul (1980:187-188) verwys na ’n rebellie wat ná onafhanklikheid in Zaïre plaasgevind het. Pierre Mulele, vroeër minister van onderwys, het na Stanleyville gemarsjeer en almal wat kon lees of skryf, of wat ’n das gedra het, geskiet. Nege duisend mense is, na wat berig word, dood. Mense wat later gevra is wat die doel van die opstand was, het net gelag en gesê: “Nobody knows. He was against everything. He wanted to start again from the beginning.”

In Suid-Afrika het die stryd teen apartheid met ’n skole-opstand begin. Tussen 1976 en 1994 is honderde skole vernietig, dikwels deur hulle af te brand.

Waarom die gedurige verset teen Westerse geleerdheid en ontwikkeling?

Die Naipaul-broers, V S en Shiva, se verklaring is dat die Westerse kultuur die mense van Afrika van hulle identiteit, hulle self, beroof het. Om hulle identiteit te kan terugkry, moet die vreemde identiteit uitgewis word.

Hierdie verklaring stem in sekere opsigte ooreen met dié van Adrio König (1983:75, vgl ook 211) waar hy soek na die rede …

… waarom Swartes “hulle eie” kerke en biersale afgebrand het … Is dit nie só dat die Blankes net gegee het (hoe baie of hoe min ook al) en nie die ruimte geskep het dat die Swartes sinvol en verantwoordelik aan die samelewing kan deelneem nie? So het die Wittes ’n gemeenskap tot stand gebring waarin Swartes hulle met niks kon identifiseer nie omdat niks hulle eie was nie. Hul huise, skole, publieke geboue, alles is gegee, is die Wittes s’n. En omdat hulle nie die Wittes in die hande kan kry nie is die enigste manier waarop hulle hul frustrasie teen die Wittes kan uithaal, om dit wat die Wittes gegee het, te probeer vernietig. Al het die Wittes dit goed bedoel – en die meerderheid het seker – is die uitgangspunt tog verkeerd: die meerdere buig neer en gee aan die mindere …

König en die Naipaul-broers se verklarings stem hierin ooreen, dat die vernietigingsdrang uit frustrasie kom. Hulle verskil in dié opsig dat König die frustrasie toeskryf aan die paternalistiese wyse waarop skole, kerke en biersale gegee is, terwyl die Naipauls sê dat die frustrasie gerig is op die Westerse kultuurgoedere self.

Volgens die berig wat hier bo aangehaal is, ondersteun die onlangse gebeure in Zimbabwe, soos elders in Afrika, die Naipauls se siening. Zimbabwe is al 20 jaar lank onafhanklik. Mugabe vernietig sy eie land se ekonomie, eerstens deur sy onbekostigbare oorlog in die Kongo en tweedens deur sy binnelandse optredes. Die swart middelklas en skole word teikens van anargie. Die ruimte, wat König voorstel as oplossing, is daar gegee, maar dit het die frustrasie nie verwyder nie. Die swart middelklas, wat Westerse ontwikkeling nastreef, is in ’n oorlewingstryd.

König se verklaring is moontlik steeds geldig in spesifieke gevalle, maar nie altyd nie.

Dit is verder belangrik dat König die vraag hoe ons in die teologie moet oordeel oor armoede en ontwikkeling in Afrika, aan die orde gestel het. Sy uitsprake is gemaak tydens sy besinning oor die toepassing van die begrip genade in die praktyk van gelowiges se lewe, hier en nou. Dit is verder interessant dat hy, as skerp kritikus van apartheid, tog die meerderheid blankes se goeie bedoelings in so ’n groot mate aanvaar. Hiervan wyk veral Lötter se tweede gevolgtrekking radikaal af.

Lötter ignoreer die hele debat in die swart gemeenskap en konkludeer eenvoudig en her­haaldelik dat die swart armoede veroorsaak is deur die wit regering se doelbewuste onderdrukking en verarming van die swart gemeenskap.

Daar is egter ’n argument dat apartheid armoede, paradoksaal, vererger het deur die verbeterde dienste wat dit in die swart gemeenskap gelewer het. Armoede moet dan toegeskryf word aan die goeie bedoelings van die apartheidsregering, eerder as hulle kwade bedoelings.

1.2.2 Armoede teer op vooruitgang

Giliomee (17.10.2000:10) beweer dat die swart bevolkingsgroep in die laaste dekade van apartheid 50% vinniger gegroei het as in die laaste dekade voor apartheid. “Swart lewensverwagting het van 38 tot 64 toegeneem en suigelingsterftes van 174 tot 55 per duisend afgeneem.” Swart bevolkingsgroei word hier gesien as die gevolg van verbeterde mediese sorg en ander dienste deur die apartheidsregering. Die bevolkingsgroei word op sy beurt gesien as ’n oorsaak van die mislukking van apartheid en van die mislukking van apartheid se pogings om swart ontwikkeling, sy dit dan afsonderlike ontwikkeling, te bewerkstellig.

Dat beter dienste kan lei tot armoede is glad nie ’n vreemde gevolgtrekking nie, soos gesien kan word uit die volgende drie voorbeelde.

Dr A van Pelt was vanaf 1950 kommissaris van die Verenigde Volke in Libië. Die bevolking was baie arm; hulle het op die fisieke bestaansminimum geleef. Hulle het daarby baie siektes gehad. Van Pelt het twee ondersoeke laat doen: een na ekonomiese ontwikkeling en een na mediese sorg. Toe die twee spanne hulle bevindings en voorstelle bespreek, blyk dit dat die verbeterde mediese sorg die getalle baie meer sou laat toeneem as wat enige ekonomiese plan voedselproduksie of voedselbeskikbaarheid sou kon laat verbeter. Die gevolg sou grootskaalse hongersnood wees. Na slapelose nagte het Van Pelt besluit om die babasorg uit die mediese plan te skrap (De Jong 1968:200-201), want beter mediese sorg kan hongersnood veroorsaak.

’n Tweede voorbeeld: Die internasionale ontwikkelingsbedryf het die afgelope jare begin fokus op die lank verwaarloosde bevordering van landbou in Afrika. Arm mense word gehelp om landbouprodukte te produseer vir die uitvoermark. Dit verhoog die inkomste van arm mense, maar dit het allerhande slegte gevolge, onbedoeld. Daar vind ’n verskuiwing plaas as gevolg van hierdie ontwikkelingshulp. Waar vroue voorheen 80% van die voedsel in Afrika geproduseer het, hoofsaaklik om vir hulle gesinne te sorg, word daardie grond nou deur mans gebruik om produkte vir uitvoer te produseer: “Men are more inclined to spend extra income on luxury items, such as alcohol, gambling, prostitution, another wife, whereas income under a woman’s control is spent on children’s and domestic needs … “ Die gevolge is onder meer ’n “massive impact on the macro-economy”, ’n afname in voedselsekuriteit en voeding, en ’n toename in gronderosie, omdat vroue na marginale grond uitgestoot word (Cornwell 2000:17-19).

’n Derde voorbeeld: Aan die einde van die 19de eeu het Engeland in Indië besproeiingskemas gebou wat in 1979 nog beskryf is as verreweg die grootste in die wêreld wat betref die oppervlakte wat besproei is. Groot spoornetwerke is gebou. Die verbeterde voedselproduksie het gelei tot ’n verlaging in die sterftekoers. Dit het op sy beurt gelei tot ’n styging in bevolkingsgetalle, wat die verbetering weens voedselproduksie uitkanselleer het. Die uiteinde was dat meer mense in dieselfde armoede en ellende geleef het as vóór die skema.

Die bekende ekonoom J K Galbraith, van wie die laaste voorbeeld kom, noem dit the equilibrium of poverty: “If new investment or new technology, however acquired, increases income, forces will normally be set in motion that restore previous or some other stable level of deprivation. If income increases for any other reason, the income will not be self-perpetuating … The increase will, in effect, consume itself” (1979:51-52).

Sulke armoede kan vergelyk word met ’n soort kanker wat verander en aanpas by die medisyne wat gegee word, en die medisyne self gebruik om sy greep op die pasiënt te versterk.

Nie alle kankers kan tans oorwin word nie. Vir alle soorte armoede het ons eweneens nie al die antwoorde nie. Maar dit is geen verskoning om simplisties en naïef daarmee om te gaan nie. Behoorlike navorsing en harde werk bring tog klein deurbrake.

Die vraag is nie net hoeveel geld gespandeer is nie. Die vraag is eintlik hoe daardie geld in die komplekse interaksies van baie faktore gefunksioneer het. Hoe wys is die geld gespandeer?

Die sleutel tot vordering lê in ’n goeie begrip van die prosesse en interaksies van die betrokke stelsels, nie in die blote hoeveelheid geld wat gespandeer is nie.

1.2.3 Goeie bedoelings plus swak insig as oorsaak van armoede

Lötter wyt swart armoede, en die kloof tussen wit rykdom en swart armoede, aan die slegte bedoelings van wit regerings. Dat goeie bedoelings armoede kan veroorsaak, word egter nou taamlik wyd aanvaar. Talle berigte in koerante lewer bewys van hierdie persepsie. Dit lei tot ’n sterk afname in hulp. Enkele voorbeelde word vervolgens gegee.

In die Daily Nation (Business) van Kenia skryf Paul Redfern (1999:1): “Western donors spent over $200 billion on aid in Africa between 1980 and 1999, a sum which singularly failed in the vast majority of African countries to bring about real economic improvement.” Die opskrif van die berig is: “Africa worse off despite $200 bn in aid”. Redfern berig dat die Franse die uitwissing van armoede as ’n hopelose en utopiese ideaal beskou en dat armoede nie eens meer by name genoem word in die VSA se beleid ten opsigte van Afrika nie.

In die Namibian verskyn ’n berig: “Aid to developing countries seen as corruption catalyst”. Daarin skryf Jonathan Manthorpe, “the respected foreign-affairs columnist”: “Monsters like (Zimbabwean President Robert) Mugabe, the former Zairean leader Mobutu Sese Seko … and others are in many ways the creations of benevolence from the West … The donors, in their ‘messianic drive to do good’, created the corruption that allowed such men to survive … Far from alleviating the people’s plight, foreign aid frequently prolonged and entrenched their poverty and oppression …” (Manthorpe 2000:19).

In New Vision verskyn ’n berig: “Horn aid may fuel war”. Daar word berig dat meer as 12 miljoen mense in die horing van Afrika deur hongersnood bedreig word. Hulp word beplan, maar: “… Some donor countries fear that this aid, far from promoting peace, might fuel the war, that is currently stalled … It is feared that infrastructural improvements aimed at speeding up aid delivery will also oil Ethiopia’s war machine …” (27.4.2000:16).

In Brittanje se The Times skryf Simon Jenkins (2000:20): “Sierra Leone, like Somalia, is the archetypal road to hell that is paved with good intensions. The wealth of diamonds and aid (60 million pounds from Brittain alone in four years) has showered money on any who could lay their hands on it. Civil war, spilling over from Liberia, is endemic …” Die probleem hier is te veel geld, eerder as te min, of eerder, te min begrip van die aard en dinamika van die krisis in die land.

In Business Day verskyn ’n artikel van Michael Hofman en Tony Hawkins (2000:17), “Africa on the brink of collapse”: “Africa is slipping out of the control of the leaders who claim to govern it, and beyond the reach of the international institutions and coalitions that seek to rescue it … An essential first step is … recognising the mistakes of the donors as well as the failures of the leaders of a fragile continent on the verge of collapse.”

Reeds in 1978 het Schlemmer (1978:49-56) daarop gewys dat die druk wat daar in die sewentigerjare van die vorige eeu was om die gaping tussen wit en swart inkomste te vernou, gelei het tot ’n groeiende kloof tussen ryker en armer swart inkomste. Die druk om aan swart mense beter salarisse te betaal het tot gevolg gehad dat nywerhede, boere, huisvroue, ensovoorts (insluitende diegene wat die druk uitgeoefen het) hulle aantal werknemers verminder het, en dié wat oorgebly het meer betaal het. Voordat party egter meer kon gekry het, moes ander hulle werk verloor en verarm. Werkgewers kon dit doen deur oor te skakel na meer moderne produksiemetodes (wasmasjiene vir klere en skottelgoed, stofsuiers, poleerders, ens).

In hierdie komplekse kombinasie van faktore het verset teen lae lone vir swart mense onbedoeld tot groter rykdom vir party én groter armoede vir ander gelei. In die tagtigerjare van die twintigste eeu het die sanksieveldtog teen apartheid ook tot armoede gelei.

Armoede word nie net deur bose bedoelings veroorsaak nie. En apartheid het dit nie net sleg bedoel nie. Apartheid het baie jare lank bekend gestaan as afsonderlike ontwikkeling. Die positiewe element van die bedoelings van die beleid word aangedui in die woord “ontwikkeling”. Hierdie woord sluit aan by die groot internasionale ontwikkelingsbedryf. Die huidige regering het in dié lyn voortgegaan en self sy Heropbou en Ontwikkelingsprogram geloods.

Die ontwikkelingsbedryf het in 1949 ontstaan toe die destydse president van die VSA, Harry S Truman, ’n grootse program aangekondig het “to place the technical resources and achievements of the United States at the service of the less fortunate people of the world” (Galbraith 1980:29). Die bedryf, bestaande uit projekte, konferensies, bedrae geld, doktorale proefskrifte, ensovoorts, wat hierop gevolg het, is onoorsigtelik groot.

Afsonderlike ontwikkeling het hierby aangesluit. Baie geld en mense is gewy aan swart ontwikkeling.

’n Mens kan redeneer dat hierdie pogings om ontwikkeling te bring ingesluit moet word by ’n skuldbelydenis.

Galbraith argumenteer uitvoerig dat die hulp wat gebied is nie gevorm is deur ’n ware insig in die nood van die armes nie. Die hulp wat gebied is, is gevorm deur die motiewe, insigte, voorkeure en ervarings van diegene wat die hulp gebied het: “The causes of this mass rural poverty, in contrast with case poverty, have been much less investigated. Instead, to an astonishing degree, the causes are simply assumed. When examined, these answers have one feature in common: they are universally unsatisfactory … they are selected not for their validity but for their convenience” (2); “… of poverty … we have no explanation. Or, more precisely, we have a plethora of explanations, each superficially persuasive, each confidently offered, each noticable for what it does not explain …” (27); “… if there was to be a remedy, there had to be a cause. If it couldn’t be otherwise identified, it would have to be assumed. We suppose that on social questions we proceed from diagnosis to action. But if action is imperative, we make the cause fit the action …” (36, 37); “In the great explosion of concern over poverty, we did not, to repeat, move from cause to remedy; we moved from the only available line of remedial action to the cause that called for that action” (40), ensovoorts.

Hierdie stellings van Galbraith is ewe veel van toepassing op die anti-apartheidsbewegings as op apartheid self. Nie een van die twee het armoede goed begryp nie. Albei wou hulle eie beskikbare oplossings vir armoede aanbied. Die gevolg is dat die debat vir en teen apartheid geen insig lewer in die komplekse, byna demoniese, dinamika en mag van armoede nie. Dit bied eerder misleidende, en daarom skadelike, riglyne.

Daarvan ’n enkele voorbeeld. Min Afrikaners was oor soveel jare só betrokke by die kritiek teen apartheid as die joernalis Max du Preez. Hy stem heelhartig saam met alles wat in die Tuiste vir Almal-belydenis staan, maar voel die tyd vir praat is verby. “My hande jeuk … om betrokke te raak, om te werk aan wat verkeerd is …” Maar wanneer Du Preez dan voorbeelde noem van wat ons moet doen, besef ’n mens skielik weer dat dekades se debatte oor apartheid blykbaar geen insig gebring het in die aard en kompleksiteit van armoede en hoe moeilik dit is om te bestry nie:

Ek hoor van duisende mense wat cholera het, en ek raak ongeduldig: gee my 30 boere en ons gaan lê binne twee weke vir die mense skoon water aan of sit ’n opvangtenk vir reënwater onder elkeen se dak en dis die einde van cholera … Ek kyk na treurige TV-tonele van kinders wat in ’n ruïne moet skoolgaan, en ek dink:

bring so 50 Tukkies of Raukies en ons ruim daai plek binne ’n week op … kom ons kry ’n 100 wit gesinne in elke dorp of woonbuurt wat elkeen R50 per maand gee om twee kinders op skool te hou … Kom ons kry elke Afrikaanse universiteitskoshuis om ’n groentetuin by ’n swart hospitaal aan te lê en te bewerk sodat pasiënte behoorlike kos kan eet en gesond kan word … (Du Preez 2000:15).

Du Preez sit nog met baie jare gelede se versweë veronderstellings oor armoede: Wittes met die geld, kennis en energie gaan maak vinnig die probleme reg. Swart mense is passiewe ontvangers wat niks verstaan of kan doen nie. Die probleme is eenvoudig: ’n Mens kan voor jou TV sit en sien wat verkeerd is en hoe dit opgelos moet word.

Dit is soos boererate teen ver gevorderde kanker.

Die debat vir en teen apartheid het vir die stryd teen armoede weinig nut gehad. Vir Afrikaners om vandag te sê dat apartheid die oorsaak van swart armoede is, kan net nog een van die gerieflike en beskikbare verklarings wees waarvan Galbraith praat.

2. WAT MOET DIE NG KERK EN SY LIDMATE SE RESPONS WEES?

Die verrassende is dat sowel Du Toit as Lötter ’n sterk aandrang op ’n skuldbelydenis oor apartheid, wat die logiese gevolg van hulle sterk uitsprake oor apartheid sou wees, vermy.

Volgens Du Toit is dit ’n misverstand om apologie vir skuld en erkenning van verantwoordelikheid met mekaar te verwar: “Dit is van groot belang om dié onderskeid te verstaan en te handhaaf. Om bevoorregting te erken, is nog nie om apologie aan te teken nie. Wit mense moet erken dat hulle deur apartheid bevoorreg is, en verantwoordelikheid daarvoor neem en restitusie aanpak. So ’n erkenning van bevoorregting mag dalk daartoe lei dat apologie aangeteken word, maar apologie is ’n saak waaroor individue, uit eie oortuiging, self kan besluit.” Die implikasie is dat bevoorregting erken moet word en restitusie aangepak moet word sonder dat skuld oor die bevoorregting noodwendig bely moet word.

Die redes waarom Du Toit hierdie onderskeid maak, is nie duidelik nie. Sy standpunt het die voordeel dat dit steriele debatte oor apartheid as oorsaak van armoede wil vermy en eerder die klem wil lê op sinvolle dade. Dat hy nie ligtelik omgaan met ’n skuldbelydenis nie moet gewaardeer word. Die onderskeid wat hy maak, word egter nie algemeen aanvaar deur voorstanders van die Tuiste vir Almal-veldtog nie. Wilhelm Jordaan (2000:1) praat sonder omhaal van woorde van ’n “skulderkenningsdokument”, wat hy verdedig.

Lötter se vermyding van duidelike konklusies oor skuld en restitusie is nog meer verrassend. Naas sy sterk uitsprake oor apartheid bied hy eksegese oor armoede en rykdom, waarin daar van sterk optrede sprake is, soos teen farao en teen die rykes in die tyd van die profete.

Een voorbeeld: Lötter (1999:298, 299) sê van Saggeus dat hy ryk was en ’n beroep beoefen het waarin hy mense kon uitbuit. Die mense het hom beskou as ’n sondaar. Toe Jesus hom raaksien en aanvaar, kondig Saggeus aan dat hy die helfte van sy besittings vir die armes gaan gee; as hy iemand verkul het, vergoed hy dit boonop vierdubbeld. Dít is sterk optrede.

Lötter se beskrywing van die uitbuitery waaraan Saggeus skuldig was, is veel sagter as sy beskrywing van die uitbuitery waaraan die apartheidsregering skuldig sou wees. Wanneer dit egter kom by die konklusies, oor wat ons as bevoorregtes van die apartheidsera moet doen, soos dit logies voortvloei uit sy eie stellings, word die voorskrifte aansienlik afgewater: Hy konkludeer slegs dat ons, die ryk mense, God eerste moet stel en die armes moet help (Lötter 1999:339, 361). Waar Lötter se situasie-analise skerp en hard is, en die Bybel duidelik en spesifiek, is die toepassing sag, vaag en skadeloos. Daar is geen sprake daarvan dat blankes, wat oor dekades heen deur onreg en uitbuiting sou ryk geword het, sê nou maar die helfte van ons besittings (bv grond, huise, geld, polisse, pensioenfondse) moet prysgee en dit wat onregverdig bekom is, viervoudig moet vergoed, of soos die Ou Testament voorskryf, net met 120% vergoed nie.

Die diskrepansie tussen die sterk uitsprake oor die onreg van apartheid aan die een kant, en die vermyding van ’n ewe sterk skuldbelydenis en/of restitusie aan die ander kant, is nie oortuigend nie. Die skerp gevolgtrekking van bewustelike skadeberokkening deur apartheid moet darem lei tot ’n gepaste skuldbelydenis, wat moet lei tot ’n erkenning van ’n verantwoordelikheid tot gepaste restitusie.

Die bedoeling van die betoog tot dusver is nie om ’n wit belydenis oor apartheid te vermy nie, maar om dit te verdiep. Die bedoeling is ook nie dat die stryd teen ellende maar laat vaar moet word nie, maar dat dit dramaties opgegradeer moet word.

In die volgende gedeelte sal betoog word dat ons skuld eerder lê in die goeie wat ons wou doen as in die kwade, en in die dinge wat ons nie gedoen het nie, meer as in die verkeerde dinge wat ons wel gedoen het. Die benadering sluit aan by Karl Barth se siening van sonde as hoogmoed en traagheid, en Spreuke se kritiek op luiheid en dwaasheid.

Ons skuldbelydenis en gevolglike restitusie bly maar gebrekkig, omdat ons insig in armoede so gebrekkig is. Maar sowel voor- as teenstanders van apartheid (en die meeste van ons, wit mense, is op ’n manier albei) kan hulle tog ’n paar vrae afvra, soos:

2.1 Is ons Westerse kultuur, wat ons in ons ontwikkelingsprojekte as oplossing vir armoede aanbied, regtig so ’n goeie vergestalting van die Christelike geloof? Het ons nie weer teruggeval in die soort kultuuroptimisme waarteen Barth in opstand gekom het nie? Het ons nie in oormoed vergeet van Afrika se eeue oue kultuur met sy diepgewortelde patrone nie?

Vernietig ons nie, in ons ontwikkeling, die skepping van God en die kulture van mense nie? Was Barth nie dalk reg dat die mens se sonde sy hoogtepunt bereik in ons menslike prestasies, ons wetenskap, ons kunste, ons mensgesentreerde religie, ons ideologie en pogings om die wêreld te red, ons rykdom en vooruitgang nie?

Die hoogmoed van ons Westerse mense is wel begryplik as ’n mens kyk na die asemrowende prestasies van hierdie kultuur en die gebrek aan vergelykbare prestasies in Afrika. Maar Paulus het al gewaarsku dat die Jode wat op hulle eie prestasies beoordeel wou word, daardeur die genade misloop (Rom 9:32, 33). Ook ons Westerse mense se prestasies en ons vooruitgang kan die wêreld nie red nie, al roem ons daaroor. Hoogmoed is ’n groot versoeking vir die prestasiegerigte Weste.

Die stroom nuus uit Afrika vertel een storie: Hierdie groot kontinent is besig om te disintegreer. Westerse ontwikkeling word al hoe meer deel van die probleem, en kan net deel van die oplossing wees as dit getransformeer word om heilsaam in die heersende patrone te funksioneer. Maar dit sal harde werk kos. En nederigheid. Dit bring ons by die tweede siening van sonde.

2.2 Ons mislukking in Afrika kan verder verklaar word uit ons traagheid.

Dit is vir ons gerieflik om die armoede en lyding in ons land toe te skryf aan die slegte bedoelings en dade van apartheid, want dan kan ons die optimisme oor ons kultuur in stand hou. Ons kan ons gerieflike lewenstyl sonder probleem voortsit en dit vir Afrika aanbied as die aangewese oplossing vir hulle probleme. Die probleme lê dan nie by ons nie, maar by die slegte bedoelings van apartheid en by Afrika se eie mislukkings.

Hoogmoed, sê Barth (1953:157), is om die genade wat Jesus aanbied nie te aanvaar nie, maar jou eie verlossing te wil bewerk. Traagheid is om, nadat jy die genade wel aanvaar het, nie op te staan in ’n nuwe lewe nie, maar om dan voort te leef in ’n sinlose bestaan. In die stryd teen armoede, sou ons kon sê, is traagheid veral ons weiering om te aanvaar dat die stryd teen nood ’n harde en moeilike pad is. Weens ons traagheid wil ons eenvoudige en maklike oplossings hê.

Wat moet ons bely? Dat ons in ons ontwikkelingshulp gedoen het wat vir ons gerieflik was en dat ons nie sensitief geluister het na wat die mense in nood nodig gehad het nie. Ons het die oplossings aangebied wat beskikbaar was en onsself oortuig dis goed genoeg. Ons het eerste gesorg vir ons eie gerief, voorspoed, sekuriteit en selfverwesenliking, en die mense in nood, en ons hulp aan hulle, rondom ons belange ingepas.

Ons het, in die “goeie” wat ons gedoen het, tekortgeskiet aan Jesus se woorde in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, waarin Hy die mens in nood in die middelpunt geplaas het (Berkouwer 1960:26).

Ons het uit voeling geraak met die groot deernis en besorgdheid van God én met die weerbarstige aard van armoede in die praktyk van elke dag.

Hieraan is voor- en teenstanders van apartheid ewe skuldig.

Ons wou hê dat die oplossing vir armoede daarin lê dat Afrika soos ons, die Weste, moet word. Dalk moet ons ons rol nou anders definieer: dat ons dit wat goed is in die Westerse kultuur op heilsame wyse moet laat funksioneer in die huidige Afrika-patrone en -prosesse. As ons dit doen, plaas ons die nood in die sentrum en vind ons ons identiteit en bestaan in die hoëkwaliteitbydrae wat ons kan lewer om daardie nood te verlig.

Ontwikkeling is dan nie meer om Afrika argeloos te moderniseer nie, maar om so in te speel op die ingewikkelde wisselwerking van komplekse stelsels, waarvan ons deel is, dat die prosesse anders kombineer en meer volhoubaar, bekostigbaar, aantreklik en heilsaam word.

Daarvoor is skuldgevoelens egter nie die beste dryfkrag nie. Die skuldgevoelens van ryk lande oor slawerny en kolonialisme word nog steeds gebruik om druk op die Weste uit te oefen om Afrika te help (sien bv die redaksionele kommentaar, “SA en VSA”, in Beeld [2000:10]). Dit word egter al hoe makliker vir die Weste om Afrika self te blameer vir sy veelvoudige ellendes. Skuld as dryfveer maak dit al hoe makliker, moreel gesproke, vir die Weste om te onttrek. Skuldgevoelens gaan verby, maar die liefde bly. Die liefde plaas die mens in nood in die sentrum en behoort ons te bring by insig in die werklike aard en dinamika van armoede.

Dit is egter slegs moontlik indien ons in ’n verhouding, van mens tot mens, kan kom met die arme. Dit is ’n saak wat in ’n ander artikel verder bespreek sal word.

3. SLOT

Aan die begin van die artikel is die vraag gevra of wit optrede teen swart armoede gekoppel moet word aan ’n belydenis oor apartheid, en of dit juis verkieslik is om dit nie te koppel nie.

Dit lyk asof ’n mens soos volg kan antwoord:

Wit Suid-Afrikaners het baie te bely oor apartheid, al is dit vir party, byvoorbeeld jongmense, meer ’n kollektiewe belydenis. So ’n belydenis kan egter ons skuld vergroot indien ons bely om die verkeerde redes. Daar is verskillende verkeerde redes moontlik. Ons kan guns soek by die nuwe maghebbers. Ons kan te lui wees of te min belang stel om regtig aandag te gee aan die saak en die maklike oplossing kies. Ons kan onsself heimlik regverdig en die sonde op ons vaders projekteer.

Ons belydenis moet opreg wees. Dit moet goed deurdink wees. Dit moet vergesel word van bypassende regstellende optrede. ’n Belydenis wat maklik en vinnig gedoen word, en net so maklik en vinnig vergeet word, is ’n belediging vir die mense in nood, en maak sake net slegter.

BIBLIOGRAFIE

Barth, Karl 1952. Die Kirchliche Dogmatik IV/1: Die Lehre von der Versöhnung. Zollikon-Zürich: Evangelischer Verlag.

Beeld 2001. SA en VSA. Redaksionele kommentaar, 28 Jun 2001, 10.

Behr, A L 1988. Education in South Africa: origins, issues and trends: 1652-1988. Pretoria: Academica.

Berger, Peter L 1977. Pyramids of sacrifice. Political ethics and social change. New York: Penguin.

Berkouwer, G C 1960. De Zonde II. Wezen en verbreiding der zonde. Kampen: Kok.

Cornwell, Linda 2000. Engendering Development Studies. Pretoria: UNISA.

De Jong, F J 1968. Economie en ethiek, in Roscam Abbing, P J (red). Om de mens. Ethiek in wetenschap en beroep. Leiden: A W Sijthoff.

Du Preez, Max 2000. NEE vir in-reverse Boetman. Beeld, 15 Des 2000, 15.

Du Toit, Fanie 2000. Los eers apologieë – erken wit bevoordeling en stel sake reg. Beeld, 12 Des 2000, 11.

De Lange, Jan 2000. Suid-Afrika het verlede jaar 420 000 werkloses bygekry. Sake-Beeld, 15 Feb 2000, 2.

Feris, Melanie-Ann 2000. Africa faces crisis as urban rot sets in from Cape to Cair. STAR, 10.4.2000, 17.

Galbraith, J K 1980. The nature of mass poverty. New York: Penguin Books.

Giliomee, Hermann 2000. Verlede se lyding. Apartheid se kwaad nie so eensydig. Beeld, 17 Okt 2000, 10.

Hofman, Michael & Hawkins, Tony 2000. Africa on the brink of collapse. Business Day, 18 Mei 2000, 17.

Jenkins, Simon 2000. Stuck in the mire of the white man’s burden. The Times, 10 Mei 2000, 20.

Jordaan, Wilhelm 2000. “Skuld-dokument”. Nuwe vrae op die drumpel van jou deur. Rapport Perspektief, 17 Des 2000, 1.

König, Adrio 1983. Heil en heilsweg. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Lötter, H P P 1999. Christians and Poverty. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Makhanya, Mondli & Malala, Justice 2000. Mugabe thugs target black professionals. Sunday Times, 21 Mei 2000, 1.

Manthorpe, Jonathan 2000. Aid to developing countries seen as corruption catalyst. Namibian, 3 Mrt 2000, 19.

Marais, Hein 2000. The AIDS Crisis. AIDS Study Centre, University of Pretoria.

Mattison, John 2000. Grim truth behind the matric spiral. Sunday Independent, 23 Jan 2000, 1.

Naipaul, V S 1981. The return of Eva Peron. New York: Penguin Books.

Raboroko, Joshua 1999. Cash-strapped councils in SA in danger of collapse. Sowetan, 15.1.1999, 3.

Rapport Perspektief. Om te bely … of nie te bely nie. Rapport, 17 Des 2000, 8.

Redfern, Paul 1999. Africa worse off despite $200 bn in aid. Daily Nation (Business), 24 Aug 1999, 1.

Sadie, Jan 1995. Wat los regstellende aksie op?; “Bakhand-bedrywe” nie nuut; Die nuwe pigmentokrasie, Rol van universiteit in meritokrasie. Finansies en Tegniek, 7 Ap 1995, 29; 14 Apr 1995, 44, 21 Apr 1995, 37; 28 Apr 1995, 32.

Tomlinson F R 1955. Samevatting van die verslag van die kommissie vir die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die Bantoegebiede binne die Unie van Suid-Afrika. Pretoria: Staatsdrukker.

Whiteford, Andrew & McGrath, Michael 1994. Distribution of income in South Africa. Pretoria: RGN.

Whiteford, Andrew & Van Sevenster, D E 1999. Winners and losers. South Africa’s changing income distribution in the 1990s. Pretoria: WEFA.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.