ngtt_v49_n3_a10

De Villiers, Pieter GR
Universiteit van die Vrystaat

Aanbidding van God in die lig van Bybelse spiritualiteit

ABSTRACT

Adoration of God in the light of Biblical spirituality

This article focuses on adoration as a key motif in New Testament texts in the light of Biblical Spirituality. It firstly discusses the link between adoration and the field of spirituality, and how adoration is given to both God and Christ. After pointing out the individual and collective nature of adoration, adoration is delineated in terms of God’s initiative, whilst attention is then paid to the exclusive adoration of God in the Bible and the mystical presence of God in adoration. In the last part of the essay the development of adoration as worship of Christ is investigated.

1. INLEIDING

Aanbidding van God1 het, ten spyte van sy groot rol in Bybelse tekste en in die kerklike lewe, in baie opsigte ’n omstrede, selfs vermaledyde begrip geword. Vir sommige kontemporêre denkers is dit ’n begrip wat ’n gevoel van wêreldmyding en –vervreemding oproep. Hulle beskou dit selfs as ’n onbybelse ontvlugtingspraktyk wat gelowiges wêreldvreemd maak en lei tot die verwaarlosing van die stryd teen konkrete, veral sosiale ongeregtighede.2 Ander weer verbind dit met ekstatiese, hoogs emosionele ervaringe in opwekkingsbewegings, ook in moderne tye, of met uitgediende individualistiese praktyke.3 Juis vanweë hierdie omstredenheid, maar ook omdat dit ’n sentrale begrip in Bybelse tekste is, is die tyd dus ryp om weer eens die begrip in sy Bybelse konteks te ondersoek.

Die begrip “aanbidding” is ’n poging om die Engelse begrip adoration of die Latynse woord adoratio te vertaal. In Afrikaans is dit ’n begrip wat moeilik vertaal. Dit kan ook “verering” beteken, wat, in ’n minder gelaaide sin, wys op eerbied, respek en selfs bewondering vir ’n belangrike persoon (’n president, koninklike, held, weldoener). Hierdie respekvolle verering kom ook in die Bybel voor. Jesus word byvoorbeeld in Markus 15:16-20 deur die soldate met ’n pers kleed en doringkroon aangetrek en spottenderwys as koning vereer. Religieuse aanbidding is egter iets anders as hierdie verering of waardering, wat in ’n sosiale konteks in interpersoonlike verhoudinge tussen mense van verskillende sosiale vlakke plaasvind.4 Die rykheid van die aanbiddingsmotief in die Nuwe Testament blyk reeds daaruit dat verskillende Griekse woorde daarvoor of vir aspekte daarvan gebruik kan word. Dit sluit in  (bv Matt 2:2),  (Matt 15:9; Hand 18:13; Rom 1:255),  (Hand 17:23),6  (Luk 1:50),  (Op 7:15),  (Matt 15:87) en verwante woorde wat almal met die semantiese veld van aanbidding te doen het (cf. Louw & Nida 17.21-22; 53.53-53.64).8 Aanbidding word dus in Grieks verbind met ’n hele konfigurasie van woorde, soos bv. verering, vrees, dien, hoewel dit dikwels veral met  geassosieer word.9

Aanbidding lê op die raakvlak tussen die goddelike en die menslike, soos telkens blyk uit die herhaalde gebruik daarvan in Nuwe-Testamentiese tekste.10 Die Nuwe Testament volg hierin die voorbeeld van die Ou Testament. Die Ou-Testamentiese Psalmboek, om een van die meer pregnante voorbeelde te noem, eindig byvoorbeeld klimakties in aanbidding as die viering van God se aldeurdringende teenwoordigheid (Ps 145-150). In Psalm 150 is aanbidding ’n motief wat by herhaling voorkom en wat soos ’n goue draad die verskeie elemente daarin verbind. Dertien keer vra die Psalmdigter dat God geprys word in die heiligdom, dat God se mag geloof word en dat dit met musiek gedoen word. Op mistieke wyse wys die Psalm op die heiligdom as die ruimte waarin God in mag teenwoordig is en op musiek as medium waardeur God gehoor en beleef word. Die goddelike vind uitdrukking in hierdie element. Maar terselfdertyd, heel mistiek, is die gemeenskap van gelowiges in die heiligdom en in musiek besig om God te aanbid. Hier word die goddelike en menslike moment met mekaar verbind en word die erediens die plek van goddelike teenwoordigheid én van menslike transformasie. God straal daar mag en grootheid uit, maar gelowiges word daardeur beweeg om God se mag en grootheid te aanbid. God en mens kom in ’n wederkerige, innige verhouding saam waarin die mens God aanbid.11

Net so eindig Openbaring as laaste boek in die Nuwe Testament op ’n hoogtepunt met die vertelling hoedat God ’n woonplek by mense maak, by hulle bly en hulle liefdevol versorg (Op.21:3-4). Terwyl die tempel in die eerste bedeling die (verbergende) ruimte vir God se teenwoordigheid was, is die ruimte waar God woon in die nuwe bedeling die nuwe Jerusalem. God woon egter nou direk, van aangesig tot aangesig, by die gelowige volk. In hierdie goddelike ruimte, “dien” God se dienaars God terselfdertyd by die troon van God en van die Lam in die stad (Op 22:3; ;  Ook die nasies leef in die lig van die stad en stroom daarheen met hul rykdom (Op 21:24-26). Hierdie opmerking hang saam met die aanbiddingslied van die siterspelende gelowiges in Openbaring 15:4: “Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik12 nie? U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en U aanbid (), want hulle sal sien dat u handelswyse regverdig is.”13 Die eindtyd bring die direkte teenwoordigheid én aanbidding van God deur die engele, die gelowiges en die nasies.14 Aanbidding volg waar God teenwoordig is en waar God werk.

2. AANBIDDING EN SPIRITUALITEIT

Uit hierdie gegewens kan reeds afgelei word dat aanbidding ’n belangrike plek inneem in die gebied van spiritualiteit. Spiritualiteit het, soos blyk uit die gesaghebbende werk van Waaijman (2002:423-4), te doen met die goddelike-menslike relasionele proses wat transformatief van aard is. Spiritualiteit kan verder aan die hand van sekere belangrike grondbegrippe soos heiligheid, barmhartigheid en volmaaktheid beide ten opsigte van God én van die mens verduidelik word. Die mens word deur God as die ontsaglik Heilige, maar gelykertyd ook die ontfermende Barmhartige aangeraak en getransformeer om toenemend die beeld van God te reflekteer.15 Waaijman (2002:316-317), byvoorbeeld, beskryf die vrees of ontsag vir God as ’n basiese begrip wat die hele proses van die ontmoeting tussen God en mens omvat – vanaf, soos hy dit stel, die eerste ontsaglike aanraking tot en met die eerbiedige afronding daarvan in liefde. In aanbidding speel eerbied, vrees, respek, verering van God ’n kritieke rol (vgl bv die  in die Ou Testament). God word as die Ontsaglike en tog ook as die Liefdevolle aanbid, sonder enige teken van kruiperige onderworpenheid. Aanbidding reflekteer die proses van menslike heling en groei in die liefde wat volg op God se aanraking. Vrees en ontsag vir God vind dan sy vervulling in dienende liefde tot God. Maar die punt is dat aanbidding uiteindelik veral gaan om vrees van God as die Ontsaglike en Ontfermende.

Die aanbiddingsmotief word die beste gedien deur dit teen hierdie spiritualiteitsraamwerk te verstaan, en dan spesifiek in die lig van Bybelse spiritualiteit. God as die ontsaglike, maar ook as God wat die mens hernuwe, is die God wat deur die mens aanbid word. Daar is ’n boeiende en mistieke moment in die proses van aanbidding. Deur te aanbid, word die mens ook weer fundamenteel vernuwe en omvorm. Dit is nie net ’n menslike reaksie op ’n goddelike aanraking nie, maar in die aanbidding self gebeur iets wat self transformerend van aard is. Aanbidding is die gevolg van, maar word terselfdertyd ook die bron van transformasie en hernuwing. Daarmee word die prosesmatige as ’n fundamentele aspek van spiritualiteit beklemtoon (cf. Waaijman 2002: 455-6). In die geestelike lewensreis waarin die menslike tot groter volmaaktheid gebring word, speel aanbidding ’n sentrale rol. Dit is deel van voortdurende karakter van die verhouding tussen God en mens. Daarmee verkry aanbidding ’n besondere dinamiese karakter en word dit ten nouste verbind met die konkrete omstandighede waarin die gelowiges en die gelowige gemeenskap hulle bevind.

Dit blyk byvoorbeeld uit Psalm 111, wat in ’n gees van ekstatiese aanbidding vertel van die Psalmdigter wat God met sy hele hart in die gemeente, die samekoms van die opregtes wil loof (vers 1). Hierna volg ’n reeks van aangrypende beskrywinge wat uitlê waarom gelowiges vir God met soveel intensiteit aanbid: God is die Heilige wat ontsag wek, maar is tog ook die genadige en barmhartige God wat mense bevry en met hulle ’n verbondsverhouding aanknoop (verse 9-10). Die verborge God, wat vrees en ontsag oproep, is ook die God van liefde wat ’n intieme verhouding met die mensdom begeer. Wysheid begin met die dien van hierdie Here. Aanbidding van God as huiwering voor en verwondering oor God se dade, word by herhaling beklemtoon. Dit is nie maar ’n intellektuele verstaan van historiese feite of gebeure nie, want op ’n mistieke manier deel die gelowige aan God se dade in die blywende en aanbiddende viering daarvan. Die “ewige roem” van die Here hou immers altyd stand (vers 10)! Dit is ’n wysheid wat gelowiges voortdurend moet herontdek – sodat aanbidding deel is van die voortgaande geestelike reis en op sy beurt hierdie geestelike reis vorm en bepaal.

Reeds uit hierdie opmerkings word nou duidelik hoedat aanbidding verruim word sodat dit nie net met ’n liturgiese konteks te doen het nie, maar eintlik die hart van die geestelike lewe in die algemeen aandui. Om God te aanbid, behels ’n lewenshouding wat die ontsagwekkende én die toewendende karakter van God vier as die diepste sin van die menslike bestaan. Hierdie opmerking toon ook dat aanbidding nie verskraal kan word tot emosionele of ekstatiese ervarings nie.

3. AANBIDDING EN CHRISTELIKE IDENTITEIT

Ook in die Nuwe Testament word aanbidding steeds gebruik om die verhouding van gelowiges met God te beskryf – nie net in die kultus nie, maar ook in die algemene godsdienstige sin van die woord. Gelowiges se aanbidding weerspieël ’n houding van eerbied, ontsag en bewondering vir God wat op abstrakte én konkrete maniere, asook in uiteenlopende kontekste, uitgedruk word.

Hoe wesenlik aanbidding ook in ’n Nuwe-Testamentiese konteks is, word in die Bybel reeds op ’n formele vlak uitgewys in beskrywings van sommige van die eerste gelowiges wat as proseliete bekend gestaan het en onder wie die Christendom veral in ’n Klein-Asiatiese konteks wortel geskiet het (Becker 1979:615). Daar is ’n besonder nou verband tussen aanbidding en vrees of ontsag vir God. Hierdie mense was beïndruk deur die Joodse groepe se monoteïsme, hul hoë etiese standaarde, hul indrukwekkende heilige tradisies, hul sterk sosiale verhoudinge en die gebrek aan ’n offer-kultus in die sinagoge (Ferguson 1993:512). Hulle het op allerhande maniere met Joodse groepe geassosieer, óf deur ’n losse verbintenis, óf deur eerbiedige respek, óf deur deelname aan sommige aktiwiteite soos byvoorbeeld sinagagogedienste, óf deur voluit Jode te word. Sulke simpatisante is in Grieks ook “godvresendes” genoem.16 Die Christelike getuienis het sterk onder hierdie groepe inslag gevind en hulle het op groot skaal volgelinge van die nuwe weg geword.

Lukas noem hierdie groepe in die eerste deel van Handelinge “(god)vresendes” (Hand 10:2, 22, 35; 13:6, 26) en in die tweede deel “aanbidders van God” (Hand 13:43, 50; 16:14; 17:4, 17; 18:7).17 In Handelinge 13:16 verkondig Paulus die evangelie aan “Israeliete en godvresendes” (). Hier word die woord “proseliete” nie gebruik nie, maar net die woord “die vresendes”. Die veronderstelling is hier dat dit om “vrees van God” gaan. In Handelinge 13:43 word die band tussen hierdie groep gelowiges en die motief van aanbidding nog sterker gelê. Hulle word daar as godvresende proseliete ()18 en as godvresende vroue beskryf (in vers 50; ). Die woord ~ verwys spesifiek na die vererende aanbidding van God (sien verder hieronder). Ewe sterk kom die motief van godvresendheid deur in Handelinge 16:14 (Lidia)19, 17:4,20 17 en 18:7 (Titius Justus). Die verbintenis is veral duidelik in Handelinge 10:2 waar Kornelius as ; (godsdienstig en godvresend) beskryf word. Daarmee word die noue verband tussen verering van God en ontsag vir God in die lewe van die godsdienstige mens onderstreep.

Aanbidding is dus nie maar net nog ’n element in die Christelike lewe nie, maar identifiseer iemand wesenlik as volgeling van God. In vroeg-Christelike denke, soos in hul Joodse geloofsgenote se gedagtes, is iemand wat godsdienstig is in die eerste en belangrikste instansie iemand wat God as Godvresende “aanbid.” Soos hierbo aangedui is, is vrees van God ’n sentrale motief in spiritualiteit en is dit by uitstek die hart van aanbidding.

Tog is daar meer hieroor te sê, want die identiteit van Christene as Godvresendes hou verband, tweedens, met die Christelike lewe as ’n kontinue wandel in aanbidding voor God. Kenmerkend aan spiritualiteit is die klem wat gelê word op die proses van transformasie. Spiritualiteit is “geleefde” geloof. Lukas beskryf in Handelinge 9:31 die eerste Christene as mense wat in die vrees van die Here leef (“gewandel”; 21 ; vgl. ook Hand 2:43 – cf. ook vers 47!). Haenchen (1971:333) se kommentaar op hierdie vers is: “the fear of the Lord (fear of God) determines the Christian’s way of life.” Die voordurende geestelike reis van gelowiges staan konsekwent in die teken van eerbiedige vrees van en verwondering voor God.22

Daarmee hang saam ’n derde punt. In al die gevalle in Handelinge het die beskrywing van ’n gelowige as ’n Godvresende ’n sterk praktiese betekenis. Dit beteken ’n aktiewe, voortgaande en volhoudende aanbidding van God in die praktyk (Foerster 1985:168). In Handelinge 19:17 oorval groot vrees Jode en Grieke in Efese en prys hulle die naam van Jesus,23 waarop hulle hul towerboeke verbrand. Aanbidding het steeds weer konkrete konsekwensies. Wie kies om God te aanbid en om met God aanbiddend te wandel, aanvaar die volle verantwoordelikheid vir die implikasies wat dit in die praktyk van elke dag het. Aanbidding kan dus in Bybelse sin nie met ’n wêreldvreemde ontvlugting verbind word nie.

Uit bogenoemde opmerkings blyk hoedat aanbidding van God so sentraal aan die geloofsreis is, dat die identiteit van ’n gelowige in terme daarvan omskryf word. Om gelowig te wees, beteken om God te aanbid. In die volgende afdelings moet ondersoek word wat hierdie aanbidding behels het en hoe dit inhoudelik verstaan is.

4. AANBIDDING VAN GOD

Aanbidding in die Nuwe Testament as ontsag, eerbied en bewondering vir God kom op verskillende vlakke na vore en word, soos hierbo vermeld is, met verskeie woorde uitgedruk. Die volgende aspekte maak duidelik wat aanbidding inhoudelik behels.

4.1. Individuele en gemeentelike aanbidding

Een van die mees basiese aspekte van aanbidding is dat dit ’n individuele en gemeenskaplike aktiwiteit is. Aanbidding is ’n innerlike houding of instelling van iemand ten opsigte van die goddelike. Aanbidding word egter ook in uiterlike vorm en op fisieke vlak uitgedruk deurdat iemand op die grond of op die knieë neerval, buig of met die voorkop aan die grond raak. Hierdie fisieke liggaamshandelinge word gedoen voor God (Lk.22:41; Ef.3:14).24 Die konkrete handeling kan soms interessant afgewissel word. In Hebreërs 11:21 word  verbind met ’n heel unieke daad. Die gedeelte vertel van Jakob wat op sy kierie geleun en God in ’n daad van verering aanbid het. Aanbidding is dus nie maar net bloot ’n innerlike ervaring of daad nie, maar word sigbaar in fisieke gebare en dade. 25 Die totale mens is innerlik en fisiek by aanbidding betrokke.

Aanbidding is egter meer as net iets wat innerlike of konkreet op individuele vlak voorkom. In Bybelse tekste het dit ’n gemeenskaplike karakter en word dit dikwels veral in ’n liturgiese konteks geplaas.26 Die beskrywing van die gemeentelike byeenkomste in Handelinge 2:43-44 is hieroor duidelik. Die eensgesindheid en mededeelsaamheid van die eerste Christene word beskryf nadat die wonders van die apostels genoem is en gemeld is dat dit hulle “met diep ontsag vervul het.” Die beskrywing van hul aktiwiteite sluit aanbidding in die tempel in, maar sluit ook klimakties af met die opmerking dat hulle as groep God “geprys” het (Hand 2:46-47). Openbaring bied die mees opvallende voorbeelde hiervan, veral in die troonvisioen met sy aangrypende aanbiddingsliedere (Op.4-5), maar ook met sy baie liturgiese aanspelinge en sy antifoniese liedere wat met aanbidding te doen het (Op 1).27 In Openbaring staan die aanbidding van God en die Lam deur die gemeenskap van gelowiges, maar veral deur gelowiges uit alle nasies, volkere, tale en stamme sentraal.28 Aanbidding is gemeenskaplik, universeel en strek oor alle grense heen, omdat dit per slot van sake gaan om God as Skepper van hemel en aarde, en as die Een wat die nuwe hemel en nuwe aarde tot stand bring (cf. veral bv. Op 4-5; 21:22-27).29 Aanbidding is vir die godsdienstige lewe van sentrale belang – op beide individuele en gemeenskaplike vlak. Dit kan nie verskraal word tot individualistiese ervarings nie, terwyl aanbidding ook, soos blyk uit die aangehaalde gedeeltes uit Handelinge, nou verbind word met ’n nuwe leefwyse van mededeelsaamheid (Hand 2:45).

4.2. Die aanbidding as reaksie op God se inisiatief

Aanbidding hang ten nouste saam met ’n reaksie op ’n verhouding wat God geïnisieer het en in stand hou. Dit het hierbo reeds geblyk uit die manier waarop gelowiges in die eerste eeu as Godvresendes beskryf is. In die Nuwe Testament blyk dit uit die belangrike doksologie aan die begin van Openbaring (in Op 1:6-8). Aanbidding as vrees vir God vier hier God se uitverkiesing en roeping van gelowiges tot die volk van God, tot koninkryk en priesters vir God.

In aanbidding nader gelowiges God vanuit ’n spesifieke verstaan van God se karakter. In die lofprysende aanbidding van God kom veral twee aspekte na vore, naamlik God se grootheid én nabyheid. God se karakter word hiermee in die andersheid en in die intiemheid daarvan gevier. Daarmee word ’n Ou-Testamentiese motief oorgeneem, soos hierbo reeds aangedui is.

Aanbidding fokus op God se ewige heerlikheid en krag, soos blyk uit Openbaring 1. God word met eerbied en ontsag hier vereer as die unieke heerser oor die konings (vers 5), as begin en einde, as die Pantokrator, die Almagtige (vers 8). Terselfdertyd fokus die verering ook op God wat mense liefdevol transformeer vanuit hul sondige bestaan tot ’n besondere status van koninkryk en priesters (vers 6). Die ontsagwekkende God, sterker as die wêreldnasies, is terselfdertyd die liefdevolle God wat omgee vir en naby kom aan mense en aan hulle ’n besondere status toeken. In die middel van die boek,30 wanneer die finale boekrol oopgemaak word en Johannes die opdrag kry om weer eens vir die hele wêreld te profeteer (Op 10), volg daar eers die verhaal van die twee getuies wat hierdie opdrag uitleef (Op.11), met daarna ’n gepaste aanbiddingslied in Openbaring 11:19. Hierdie aanbiddingslied, gesing deur knielende ouderlinge (vers 16), vier God se “groot mag” (vers 17) en universele koningskap asook sy oordeel oor die kwaad en sy loon aan die wat God “vrees” (vers 18). Wat dit beteken, is reeds in ’n vorige gedeelte in die boek verduidelik (Op 7:15-17) waar die hemelse leërskare (engele, ouderlinge en lewende wesens) in ’n fisieke uitdrukking van hul aanbidding kniel met hulle gesigte na die grond toe (vers 11) en lof, heerlikheid, dank en eer, ewige mag en sterkte aan God bring.

Maar hier word die voorstelling van ’n ontsagwekkende God gekoppel met ’n beeld van God wat by mense bly,31 hulle honger versadig, hul dors les en hulle beskerm teen die elemente. God is by hulle as herder wat hulle na die lewenswater lei en hulle trane afdroog. God die ontsagwekkende is ook God wat red en versorg. Hier word die redding van al die nasies besing in ’n nimmereindigende erediens, want die gelowiges wat uit die groot verdrukking kom, is voor die troon van God en dien () God dag en nag in die tempel (Op 7:15-17).32 Aanbidding is uiteindelik ’n dankbare uiting van ’n gemeenskap wat sy ontstaan te danke het aan die ontsagwekkende God se reddende inisiatief. Aanbidding word dus vanuit die soteriologie gekleur. God word aanbid vir God se groot dade waardeur mense bewus raak van God se mistieke werking in hul lewens (Hand 2:11), en in aanbidding daarop reageer.

Hierdie aspek is van besondere belang omdat dit duidelik afstand neem van enige vorme van erediens en aanbidding wat godsdiens domestiseer en ontneem van sy vreemde, ontsagwekkende karakter. Aanbidding van God in die Nuwe Testament wil wel God se liefdevolle redding vier, maar dit huiwer dikwels voor die ondeurgrondelike misterie van God waarvoor die mens terugskrik, selfs ’n heilige vrees en ontsag koester. Daar is niks snoesigs of sentimenteels omtrent aanbidding nie. Dit bevestig ook indirek ’n fundamentele uitgangspunt in Bybelse Spiritualiteit. Aanbidding het as sentrale vertrekpunt die spreke van God. In die erediens waar aanbidding van God ’n konkrete beslag vind, is die Woord van God en die nadenke daarvan (lectio en meditatio) onverhandelbare elemente.

4.3. Eksklusiewe aanbidding

Aanbidding van God in die Nuwe Testament het verder ’n eksklusiewe karakter, wat ook die verborgenheid, ontsagwekkende en vreemdheid daarvan onderstreep. Dit hang veral saam met die monoteïstiese karakter van die Joods-Christelike tradisie en die gepaardgaande skeppingsgeloof. Alleen God word aanbid en niks of niemand anders nie. In die troonvisioen van Openbaring 4-5 word God deur die hele skepping in die hemel, op die aarde en onder die aarde vereer (Op 5:13). Dit moet weer verstaan word in die lig van die skeppingsgeloof. God as heilige en ewige (Op 4:8) ontvang eer, heerlikheid en dank omdat God “alles geskep het” en deur sy wil “alles ontstaan het en geskep is (Op.4:11). Hieruit vloei voort dat nóg die skepping nóg engele aanbid mag word. Die siener word daarom uitdruklik verbied om die engel wat vir hom die visioene bring, te aanbid (Op 22:9; cf. 22:6-8).

Hierdie eksklusiewe aanbidding van God is algemeen in vroeg-Christelike kringe. Paulus beklemtoon in ’n plegtige verklaring ook dat alleen die Skepper aanbiddingswaardig is (Rom 1:25). Lukas vertel in Handelinge 10:25-26 hoe Paulus, toe Kornelius eerbiedig voor hom gekniel het, afwysend daarop reageer met die woorde: “ek is ook maar net ’n mens.” Dit word vanuit ’n ander perspektief in Hebreërs ontwikkel met die uitspraak dat selfs engele God moet aanbid. Aanbidding word veral in die Q-tradisie met die verering van die een God van Israel verbind (Matt 4:10; Luk 4:7). Deur die aanhaling van hierdie Ou-Testamentiese tradisie benadruk die sinoptici dat aanbidding as diens () eksklusief aan God toekom.

In die Nuwe Testament word enige poging om iemand anders as God te aanbid as boos en afgodery beskou. Die kenmerk van die bose is by uitstek sy valse aanspraak op goddelike verering. Die beste voorbeeld hiervan is die versoekingsverhaal waarin die duiwel Jesus vra om hom te vereer – iets wat deur Jesus verwerp word (Matt 4:8-10). Paulus beskou die bestaande wêreld as boos juis omdat dit die geskape dinge eerder as die Skepper aanbid (Rom 1:25) en gevolglik die waarheid van God vir die leuen inruil (vgl. ook Giesen 1997:328). Maar weer eens is die mees pregnante uitdrukking van die bose se vals aansprake op aanbidding in Openbaring te vind. Die bose triade, die draak en die twee diere, eis volgens Openbaring 12-13 aanbidding van hulle volgelinge op. Die dier in Openbaring 13:5 uiter in hierdie verband arrogante en lasterlike woorde. Hy verlei mense tot afgodery deur vir homself goddelike verering op ’n slu manier op te eis. Volgelinge van die bose triade word daarom ook as sy “aanbidders” beskryf (Op 13:4, 8, 12, 15; 16:2; 19:20). Die Bose triade boots die goddelike Drie-eenheid na veral in hierdie ontoelaatbare aanspraak op aanbidding. In teenstelling met hierdie valse aanbidding, moet gelowiges God alleen vrees en vereer (Op 14:7).

Die implikasies van hierdie faset van aanbidding kan moeilik oorskat word. Die geestelike lewensreis van gelowiges het ’n oop karakter omdat God alleen oor die hele skepping heers. Kornelius is ’n godvresende (Hand 10:2, 22) wat “altyddeur in gebed voor God” was (10:2). Die evangelie mag aan so ’n persoon nie onthou word nie. Petrus word dus deur ’n visioen van God van sy vooroordele teen heidene bevry (10:34-35) en ontdek dan tot sy verbasing hoe die Gees op Kornelius uitgestort word (10:44). Hy merk dan dat ook heidene hierdie gawe ontvang (10:45) en God “groot maak.” Petrus se geloofsgroei behels hier ’n dieper insig in die feit dat “God geen aannemer van die persoon is nie” maar dat in elke nasie die een wat God “vrees en geregtigheid doen”, God welgevallig is (10:35). Almal (nie-Jode, vroue en slawe) word ingelyf in die eskatologiese gemeenskap van die een God wat juis uitgebeeld word as ’n gemeenskap wat heling aan die hele skepping en alle nasies bring (Op 22:2). Almal, sonder uitsondering, deel in aanbidding. Openbaring 14:6-7 roep “die bewoners van die aarde, elke nasie, stam, taal en volk” op om God te aanbid. Dit staan teenoor die aanbidding van die dier deur “al die bewoners van die aarde” in Openbaring 13:8 en die daarmee gepaardgaande materialistiese, ekonomiese en geestelike uitbuiting van mense (sien ook veral Op 17-18). Aanbidding is omvattend, sluit alle mense in, relativeer vooroordele en wys die vergoddeliking van enige iets buite God om, af.33

4.4. Aanbidding as die vrees van die heilige God

Aanbidding is, soos reeds telkens geblyk het, ten nouste te verbind met eerbiedige vrees van en ontsag vir God. Hierdie ontsag is in werklikheid die mees kenmerkende aspek van aanbidding en verdien spesiale aandag: dit weerspieël die besef van die goddelike teenwoordigheid en ’n groot, byna onoorbrugbare afstand wat die aanbidder van die goddelike skei. Die aanbidder probeer hierdie ontsagwekkende goddelikheid deur ’n menigte van begrippe tot uiting bring – soos blyk uit Openbaring 5:13, waar begrippe soos mag, rykdom, wysheid, sterkte, eer, heerlikheid en lof gebruik word om God te karakteriseer.

Die teenwoordigheid van die goddelike roep by die aanbidder ’n heilige vrees en ontsag op. In Openbaring 14:7 word vrees en verering direk met aanbidding verbind: “Vrees God en gee aan God die eer... Aanbid God wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het” (sien Op 15:4; 19:5).34 Soos hierbo beskryf is (afdeling 3), gebruik verskeie gedeeltes in Lukas-Handelinge die Griekse woord vir vrees () om gelowiges te beskryf as Godvresendes (; vgl. bv. Luk 1:50). Hierdie woord beskryf “profound reverence and respect for deity, with the implication of awe bordering on fear” (Louw & Nida 53.58). Die lofsang van Maria in Lukas 1:46-49 bied besonderlik ter sake inligting. Die beeld van God wat Maria in haar lofsang teken, is ontsagwekkend. Sy besing die grootheid van God (vers 46) wat magtig is en groot dinge (vers 49) asook kragtige dade gedoen het (vers 51). Haar aanbiddende lofsang skilder God se oordeel oor “hoogmoediges in hulle eiewaan” (; vers 51; cf. Op 13:5), terwyl Maria self bewus is van haar eie geringheid (vers 48). Voor God se ontsagwekkendheid is die godsdienstige mens nederig bewus van menslike beperktheid.

Tog is God wat in vergelyking met die mens heilig en ontsagwekkend is, ook weer hier die God wat verlos en ontferming bied. God bied dit juis aan  (Luk 2:50). Maar die grondtoon bly dié van God se verhewendheid. Dit word bevestig deur die antropologie wat hiermee geassosieer word. Aanbidding as vrees van God, soos in Maria se loflied, word verbind met ’n begrip vir die mens se eindigheid en voorlopigheid – en as die mens wat in nederigheid deur God besoek en geseën word. Die sin van die menslike bestaan kan daarom nie op ’n arrogante manier in die mens self gesoek word nie, maar is te vinde buite die mens om in die helende verhouding met God. Nie arrogansie, maar eerbiedige, deemoedige vrees en ontsag is die gepaste menslike reaksie op die teenwoordigheid van God.

Hierdie insig is selfs sterker terug te vind in Hebreërs 12:28-29. In die konteks waarin hierdie gedeelte pas, word gepraat oor die feestelike samekoms in die hemelse Jerusalem en die oproep tot aanvaarding van die Goddelike woord. Begrippe soos eerbied en ontsag kwalifiseer in die gedeelte aanbidding en verbind dit met ’n besonder sterk beeld van God: “Laat ons God dankbaar dien (aanbid) met eerbied en ontsag, soos God dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.”

Aanbidding is hier die menslike respons op God se ontsagwekkende teenwoordigheid wat ook met die motief van heiligheid aangevul word. Die mens staan nie angstig of verwilderd voor God in aanbidding nie, maar met eerbied voor God se heiligheid. Die aanbidding van die vier lewende wesens in Openbaring 4:8 bevestig dit op ’n spesiale manier wanneer hulle met die bekende Qěduššah () God se heiligheid drie keer besing.35 Hemelse figure word hier beskryf in terme van hul funksie om God in heiligheid te aanbid. Hul aanbiddingsroep gaan terug op Jesaja 6:3 se  wat ’n groot rol in Joodse tradisies gespeel het en wat die andersheid en unieke karakter van God beskryf (Beckwith 1919:502; Aune 1993:199736). Aanbidding is dus ten nouste met die motief van heiligheid verbind.

Die teenpool van hierdie viering van God se heiligheid is weereens die bewussyn van menslike onvermoë en sondigheid. Dit kom indirek na vore in dieselfde troonvisioen waarin die Qěduššah so prominent is. Die siener het “baie gehuil” toe hy agterkom niemand in die hemel, op die aarde en onder die aarde was “waardig” om die boekrol met die openbaring oop te maak nie. Daar is ’n groot afstand tussen God as Heilige en die skepping in sy gebrek aan heiligheid. In aanbidding word God se heiligheid gevier in die biddende bewussyn van die afstand tussen God en skepping. Terselfdertyd word die oorbrugging van die afstand deur God se heilsdade in Christus ook in aanbidding gevier. Openbaring 5:9-10 is ’n aanbiddingslied waarin die Lam vereer word omdat hy geslag is tot loskoping van mense vir God. Maar selfs in hierdie uitreiking van God is daar iets oorweldigends en kragtig: Twee keer daarna (Op 5:12 en 5:13) volg daar liedere waarin die mag van die Lam en van God saam met die Lam geëer word.

Die bewussyn van eie onwaardigheid voor die heilige God is ook diep ingebed in die sinoptiese tradisie. Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:9-14 bevat die dankgebed van die Fariseër wat in die tempel vol selfgeregtigheid homself aanprys, teenoor die tollenaar wat in skuldbelydenis nie eers na die hemel wou opkyk nie, maar op sy bors slaan as teken van berou (vers 13). Hier word uiterlike, arrogante aanbidding as vals uitgewys. Op dieselfde manier word uiterlike, onbetrokke en valse aanbidding in Matteus 15:8-9 deur ’n aanhaling van Jesaja 29:13 skerp in ’n Jesus-woord veroordeel. Die verering van God ( vers 8; , vers 9) met ’n leë hart is nutteloos. God word nie deur uiterlike wettiese vertoon aanbid nie, maar met ’n innerlike houding van eerbied en ontsag en met bewussyn van ’n mens se eie kreatuurlikheid en feilbaarheid. In aanbidding bely die mens sy eie sondigheid, maar in aanbidding is die proses ook aan die gang om die mens te inspireer om so heilig soos God te word. Dit is ’n mistieke proses waardeur aanbidding nie net uitdrukking gee aan ’n innerlike houding van nederigheid en afhanklikheid nie, maar tog ook die mens se omvorming tot beeld van God bevorder.

4.5. Die teenwoordigheid van God in aanbidding

Daar moet nog gewys word op die belangrikste dimensie van aanbidding van God. Aanbidding impliseer steeds weer die direkte ervaring van God se teenwoordigheid.37 In sy aangrypende beoordeling van die vroeg-Christelike byeenkomste wat in Korinte soveel verdeling veroorsaak het en wat Paulus dryf om die noodsaak van die liefde in hul geestelike lewenskuns te onderstreep, keer Paulus hom teen die ongebreidelde ekstatiese uitinge in die gemeentelike byeenkomste wat soveel onmin in hulle midde veroorsaak het. Die ekstatiese, bonatuurlike spreek van tale, die bo-verstandelike tekens van godsdienstigheid, is, vreemd genoeg, juis kontra-produktief in sy negatiewe inwerking op die gemeentelike orde. Dit kan die ervaring van die teenwoordigheid van God ondermyn, juis omdat dit aandag op die ekstatiese vestig, in plaas van op die goddelike teenwoordigheid as die eintlik fokuspunt van aanbidding.

Vir Paulus is die verkondiging van die goddelike boodskap ’n voorvereiste vir aanbidding en die erediens. Aanbidding is wel ’n menslike respons op wie God is en wat God doen, soos in die verkondiging uitgelê word en soos hierbo uitgespel is (cf. afdeling 4.2). Dit is egter alleen maar die begin. Iemand wat hoor van God se teenwoordigheid in die gemeente, voel volgens Paulus in sy sonde aangespreek deur die rigtende teenwoordigheid van God waarby die “verborge dinge in sy hart” aan die lig kom (1 Kor 14:24-25). Dan volg die klimaks: wanneer dit gebeur, val so iemand op die knieë en aanbid God. Dan getuig so iemand “openlik”: “Waarlik, God is hier by julle!” (vers 25).

Hier moet ’n tweeledige perspektief behoue bly: Aanbidding self transformeer die mens en reflekteer dus nie bloot transformasie nie. Aanbidding is dus ’n mistieke proses waarin God se teenwoordigheid gevier en beleef word. Dit reflekteer hoe die mens deur God aangeraak en getransformeer is, maar dit dien ook terselfdertyd as aanbiddende handeling tot die verdere geestelike transformasie van die mens. Wanneer die mens in reaksie op God se suiwerende aanraking vir God aanbid, is God só teenwoordig dat hierdie aanbidding die mens verder transformeer en suiwer. Wat ’n menslike respons is, word terselfdertyd deur God gedra en gebruik.

Die Protestantse kommentator op Openbaring, Prigent (1964:79), beklemtoon in die verband dieselfde gedagte vanuit ’n ander hoek. Volgens hom wil Openbaring vir die eerste Christene deur al die sinspelinge op en bedekte verwysings na hul kultiese belewenis, hul liturgie en hul sakramente verseker dat hierdie kultus en liturgie nie maar net vir hulle voorberei vir die koms van Christus nie. Deur hul liturgie verkry hulle effektief deel daaraan en ervaar hulle reeds daardie finale oomblikke. In hul aanbidding en viering van God, word die poorte na die herstelde paradys vir hulle oopgemaak, word hulle bevry van die dood en oordeel en word hulle ingelei in die hemelse, nuwe en ewige Jerusalem. Deur hierdie verklaring van Openbaring word die gelowige coram Dei et Christi gestel, vloei die toekoms in die hede, word die heil meegedeel en ervaar. Hier is dus sprake van ’n ervaring van God wat Westerse tydkategorieë deurbreek.

Aanbidding gaan egter nie net om die belewing van God nou en in die erediens tussen die tye nie, maar word veral verbind met die toekoms wanneer God se teenwoordigheid direk ervaar sal word. Hierdie toekomsperspektief op aanbidding kom sterk deur in Openbaring. Openbaring 1:7 begin met die lied wat die terugkeer van Christus as tema van die boek besing. Almal sal hom “sien.” In Openbaring 22:3-5 word die teenwoordigheid van God aan die einde onder gelowiges beskryf en word opgemerk dat hulle God in aanbidding sal dien (; cf. Louw & Nida 53.14). Die koms van die nuwe Jerusalem uit die hemel beteken volgens Openbaring 21:3 dat God se woonplek by die mense sal wees. Gelowiges sal uiteindelik in God se mistieke teenwoordigheid wees.

Met hierdie mistieke dimensie en die fokus op God se teenwoordigheid in aanbidding, word duidelik waarom gebed so ’n sentrale begrip in Bybelse tekste en in spiritualiteit is. Aanbidding vertel van ’n gelowige gemeenskap wat deur God getransformeer is, maar dit dien terselfdertyd die voortgaande transformasie van húlle wat aanbid.

5. AANBIDDING VAN CHRISTUS

Die meeste van die voorafgaande opmerkings oor aanbidding pas ook goed in ’n Ou-Testamentiese en Joodse konteks. Carson (1993:15) wys tereg daarop dat aanbidding ’n oorganklike werkwoord is en dat dit daarom steeds God is wat aanbid word; vandaar die eenvoudige opdrag in Openbaring 22:9: “Aanbid God!”38 Aanbidding word egter op ’n spesiale wyse ontwikkel wanneer dit in die Nuwe Testament met aanbidding van Christus verbind word.

Dit bly opvallend dat belangrike groepe binne die monoteïstiese Jodedom op ’n stadium begin het om Jesus as goddelike figuur te aanbid. Bybelse voorbeelde toon dat die aanbidding van Jesus reeds vroeg in die geskiedenis van die eerste Christene voorgekom het. Dit is, soos Hurtado (2003:2-3) tereg opmerk, sonder parallelle in sy intensiteit en gevarieerdheid en sonder analogie in die omringende wêreld. Hoe intens en uitgebreid die aanbidding van Christus was, blyk byvoorbeeld uit Hebreërs 1:6, waarvolgens al die engele van God in opdrag van God die Eersgeborene aanbid. Pauliniese perspektiewe op Jesus onderstreep dit ook: In Filippense 2:10-11 word aanbidding vanuit ’n Christologiese perspektief bekyk wanneer Paulus opmerk dat elke knie in die hemel en op aarde in die naam van Jesus in aanbidding sal buig. Jesus word met ontsag vereer en aanbid as ’n sterk, verhewe goddelike figuur.

Vir die skrywers van die sinoptiese evangelies is reeds die aardse Jesus op ’n besondere wyse as goddelike figuur herken en bely. Matteus beskryf hoe mense tydens Jesus se aardse bediening reeds in ’n aanbiddingsdaad tot Jesus nader. Die melaatse in Matteus 8:2 (kyk Mark 1:40; Luk 5:12), die raadslid in Matteus 9:18 (kyk Mark 5:22; Luk 8:41), die Kanaänitiese vrou in Matteus 15:25 (kyk Mark 7:25) en die vrou van Sebedeus in Matteus 20:20 (kyk Mark 10:35) nader Jesus almal met eerbiedige ontsag deur, as onmiskenbare teken van hul verering, voor hom te kniel.39 Ewe sterk is die aanbidding deur die wyses (Matt 2:2) en die besetene van Gadara (Mark 5:6, kyk Luk 8:28). Die skrywers van die Evangelies dink aan die historiese Jesus soos hulle die opgestane Jesus beleef – as iemand wat buitengewone verering opgeroep het, ook in sy aardse lewe en as iemand in wie God duidelik teenwoordig is.

Ook in ander Nuwe-Testamentiese tekste kom daar verwysings na die aanbidding van Jesus voor. Na die stilmaak van die storm en Petrus se redding (Matt 14:33) word Jesus deur sy dissipels aanbid wanneer hulle voor hom kniel met die uitroep: “U is waarlik die Seun van God.” Ook na sy opstanding is aanbidding die mees opvallende aspek van die dissipels se geloof. Matteus 28:9 beskryf hoe die vroue, na die ontdekking van die leë graf, terug hardloop om die boodskap te vertel en dan die opgestane Jesus raakloop. Hulle het “sy voete gegryp en hom aanbid”. Ook die ander dissipels aanbid hom na sy opstanding (Matt 28:17; sien Luk 24:5). Nützel (1993:174) skryf gepas:

In Matthew  thus expresses the trusting homage of one who sees God reflected in Jesus, and the term thus has the sense of worshipful reverence... By using προσκυνέω Matthew thus allows the Christ’s glory to shine behind the earthly Jesus, the glory of the Christ who is exalted to the right hand of God; thus also the fullness and authority of God’s power is seen (cf. 28:18).

Soos hierbo opgemerk, beskryf Lukas die eerste Christene as ’n gemeenskap gevul met “diep ontsag” (Hand 2:43) wat God se teenwoordigheid vier (Hand 2:28b) en getrou en vreugdevol gereeld bymekaar kom (Hand 2:37-47). Hy eindig sy evangelie met ’n verwysing na die dissipels se aanbidding na die opstanding: “Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys” (Luk 24:52). Hierdie voorbeelde verwys na die vreugdevolle aanbidding van en ontsag vir Jesus as goddelike figuur.

Openbaring bied die beste voorbeeld van die sterk Christologiese karakter van aanbidding (sien Op 1:17-18, maar veral 4:8-11; 7:11-12, 16; 19:4). In Openbaring 5:12 word Jesus op dieselfde manier as God aanbid in Openbaring 4:11-12. Daarbenewens word God en Christus saam voorwerpe van aanbidding in Openbaring 5:13 (kyk veral ook bv. Op 22:3). Dit is omdat hulle hul klere gewas het in die bloed van die Lam (Op.7:14) dat die gelowiges voor die troon staan waar hulle God dag en nag in die tempel aanbid en waar hulle die durende teenwoordigheid van God en die Lam ervaar (Op 14:15,17). 40

6. SLOT

Aanbidding in die Nuwe Testament wys op die mistieke, eerbiedige toewyding aan God en Jesus. Dit reflekteer ’n innerlike houding van bewonderende, eerbiedige, huiwerende verering van God soos in Christus geopenbaar. In aanbidding word die karakter en genadegawes van God gevier. God word vereer as die totaal Andere, die Heilige wat radikaal verskil van die skepping en skepsels, maar God word ook gevier omdat God intiem verbonde is aan die skepping en die genesing daarvan. Die ervaring van die mistieke teenwoordigheid van God in aanbidding het ’n transformatiewe effek op mense. Dit lei tot ’n dankbare lewensstyl en helende verhoudinge, maar meer nog, dit bring die gelowige in ’n nog intiemer verhouding met God.

Dit word geïllustreer in Efesiërs 5:12-20, waar “psalms, lofgesange en geestelike liedere onder mekaar gesing word met die hele hart tot eer van die Here”, en met dank teenoor God, die Vader van alles, in die Naam van die Here Jesus Christus (vers 19-20). Hierdie blye aanbidding is egter ingebed in gedeeltes wat helder is oor die nuwe lewenswyse van hulle wat God vrees. Daarom is daar die oproep: “Wees baie versigtig hoe julle lewe” (vers 15). Ook Hebreërs 13:15-16 vra gelowiges om God gedurig te prys en om nie te vergeet om goed te doen en met ander te deel nie (kyk ook Heb.13:5-6; Volf 1993:207). Op hierdie manier loop aanbidding uit op praxis. Aanbidding is dus nie ’n wêreldmydende aktiwiteit nie, maar veronderstel en bepaal juis ’n omvorming van God se skepping tot sy hoogste doel. Terselfdertyd vertel aanbidding hoe die goddelike aanraking van die mens ’n voortgaande proses aan die gang sit. Aanbidding is nie eenmalig nie. Die lewensreis bly gedurigdeur ’n aanbiddingsreis.

Bybelse spiritualiteit, met sy aandag vir die interaksie tussen die goddelike en menslike, vir die transformasie en die prosesmatige, help ons om op hierdie manier aspekte van die Bybelse tekste op ’n vars manier uit te lig, en sal hopelik verder in dialoog met ons kontemporêre opvattings van aanbidding ontwikkel word. Die eksegetiese insigte wat in die artikel uitgespel is, verdien in hierdie opsigte verdere gesprek en ondersoek.

BIBLIOGRAFIE

“Adoration.” 1958. The Oxford Dictionary of the Christian Church. London: Oxford University Press, 19.

Aune, D.E. 1997. Revelation 1-5. (WBC 52). Dallas: Word, 302-305.

Beale, G.K. 1999. The Book of Revelation. A Commentary on the Greek Text. (NIGTC). Grand Rapids: Eerdmans.

Becker, U. 1979. S.v. Gottesfürchtiger, Proselyt. ThBL 1, 612-614.

Billings, B.S. 2006. Do This in Remembrance of Me. The Disputed Works in the Lukan Institution. Luke 22:19b-22. An Historic-exegetical, Theological and Sociological Analysis. London: Continuum.

Buber, M. 1992. Schriften zur Philosophie. 1. München: Kösel.

Caird, G.B. 1966. The Revelation of St. John. Peabody: Hendrickson.

Carson, D.A. 1993. Worship: Adoration and Action. Grand Rapids: Baker Book House.

Cullmann, O. 1953. Early Christian Worship. Studies in Biblical Theology. London: SCM.

Ferguson, E. 1993. Backgrounds of Early Christianity. Grand Rapids: Eerdmans.

Foerster, W. 1985. S.v. Eusebeiva. TWB 3,168-96.

Giesen, H. 1997. Die Offenbarung des Johannes. (Regensburger Neues Testament). Regensburg: Friedrich Pustet.

Greeven, S. S.v. Proskunevw. TDNT 6, 763-6.

Haenchen, E. 1971. The Acts of the Apostles. Oxford: Blackwell.

Hattori, Y. 1993. Theology of Worship in the Old Testament, in Carson 1993, 21-50.

Herzog, F.W. The Norm and Freedom of Christian Worship, in Carson 1993, 98-133.

Heiler, F. 1957. S.v. Anbetung. RGG 3, 356-8.

Hurtado, L.W. 2003. Lord Jesus Christ. Devotion to Jesus in Earliest Christianity. Grand Rapids: Eerdmans, 2003.

Johnson, L.T. 1992. The Acts of the Apostles. (Sacra Pagina 5). Collegeville: Liturgical.

Louw J. & E.Nida. Greek-English Lexicon of the New Testament. New York: UBS, 540-1 (53.53-53.63).

Martin, R.P. 1964. A Footnote To Pliny’s Account of Christian Worship. Vox Evangelica 3, 51-57.

MCFadden, T.M.M. 1957. S.v. Adoration. Encyclopedic Dictionary of Religion, 50.

Mussner, F. 1957. S.v. Anbetung. LThK 1, 1957, 499.

Nützel, J. M. 1993. Art. Proskunevw. In: Balz, H.R. & Schneider, G. (ed.). Exegetical Dictionary of the New Testament. Grand Rapids: Eerdmans 3:173-175.

Osborne, G.R. 2002. Revelation. (Baker Exegetical Commentary on the New Testament). Grand Rapids: Baker Academic.

Peterson, D. 1993. Worship in the New Testament, in Carson 1993, 51-91.

Prigent, P. 1964. Apocalypse et Liturgie. (Cahiers Théologiques 52). Neuchatel: Delachaux.

Stuckenbruck, L.T. 1995. Angel Veneration and Christology: A Study in Early Judaism and in the Christology of the Apocalypse of John. (WUNT 2/70). Tübingen: Mohr-Siebeck.

Bauckham, R. 1993. The Climax of Prophecy. Edinburg: Clark, 118-149.

Volf, M. 1993. Worship as Adoration and Action: Reflections on a Christian Way of Being-in-the-World, in Carson 1993, 203-211.

Waaijman, K. 2002. Spirituality: Forms, Foundations, Method. Leuven: Peeters.

Waaijman, K. 2004. Mystiek in die Psalmen. Baarn: Ten Have.

TREFWOORDE

Bybelse spiritualiteit, Aanbidding, Eerbied vir God, Ontsag vir god

KEY WORDS

Biblical spirituality, Adoration of God, Veneration of God, Awe of God

Kontakbesonderhede

Prof Pieter GR de Villiers

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

BLOEMFONTEIN

9300

1 Die Latynse woord adoratio het as tegniese begrip vir die aanbidding van God deur die eeue ’n groot rol in die kerklike lewe gespeel. Dit funksioneer dan in die sin van die Griekse woord . In Engels word behalwe adoration ook veneration en revere gebruik.

2 Kyk hiervoor die boeiende analise van Volff 1993: 205-207. Die kritiek op ’n teïstiese Godsbeeld, asook die verpolitisering van teologie, speel ’n belangrike rol in die kritiek op aanbidding as kerklike praktyk.

3 So word aanbidding veral die sing van meesleurende liedere wat in godsdienstige byeenkomste op ’n stadium tot ’n einde kom en dan oorgaan tot ’n deel van die erediens waarin “gepreek” word. Hiervoor en vir ander voorbeelde van die maniere waarop aanbidding in hedendaagse kontekste verskraal of verwring word, kyk Carson 1993:14-18. Hy wys bv. hoe die erediens vroeër gereduseer is tot die vraag hoe mense die preek beleef het, terwyl dit tans verskraal word tot die vraag hoe mense die aanbidding (“worship”, as die nie-preek gedeelte van ’n erediens) geniet het.

4 Kyk hieroor ook die nuttige werk van Nützel 1993.

5 Kyk Foerster 1985:168-169 wat hierdie vers noem as voorbeeld van “active worship”. Hy skryf ook i.v.m. die klassieke Griekse gebruik van die woord dat dit beteken “terugdeins van”, maar in ’n godsdienstige sin nie net “verering” beteken nie, maar aanbidding as ’n kultiese handeling.

6 Cf. Foerster 1985:168-169 vir die spesiale gebruik van die woord en vir die meer algemene ander gebruike.

7 Kyk die sekulêre gebruik van die woord in Hd.28:10 en in 1 Pet.2:17, waar die eerbied () teenoor almal en die keiser naas die vrees vir God gestel word.

8 Die motief van aanbidding moet ook verbind word met ander begrippe soos die prys en grootmaak van die Here. Kyk die tekste hieronder. In hierdie studie kan sulke begrippe weens beperkte besprekingsruimte net terloops ter sprake kom. Die ryk skat van woorde in Lukas om ontsag voor God te beskryf, verdien verdere navorsing. Vir tekste, kyk Johnson 1992:88. Lukas volg hierin sy Joodse tradisies.

9 Die Griekse woord  word 60 keer in die Nuwe Testament gebruik, 13 keer in Matteus, 2 keer in Markus, 3 keer in Lukas, 11 keer in Johannes, 4 keer in Handelinge, 1 keer in 1 Korintiërs, 2 keer in Hebreërs en 24 keer in Openbaring. Die woord word dus veral in Matteus, Johannes en Openbaring aangetref.

10 Kyk ook Heiler 1957:356, wat aanbidding as ’n oervorm van alle godsdienste beskryf. Vir hom is aanbidding “das Versinken, das Kleinwerden bis zum Nichts vor dem Hocherhabenen, Übermächtigen, ‘Ganz-Anderen’ und Geheimnisvollen, dem zugleich Furchtbaren und Wunderbaren, dem ‘Heiligen...’ Die seelische Reaktion beim Innewerden des ‘Heiligen’ besteht in einem gleichzeitigen Abgestoβen- und Angezogenwerden... Dieser Doppelaffekt der’heiligen Scheu’ (vgl. ‘Ehrfurcht’, ‘reverentia’, ‘awe’, altnordisch agi) zieht Unterwerfung und Hingabe nach sich.” Vir ’n soortgelyke analise, maar spesifiek vanuit die Psalms in die Ou Testament, kyk Waaijman 2004:79-89. Hy sluit nou aan by Buber 1992. Uit die analise van die Bybelse tekste sal duidelik word dat hierdie algemene opvatting op ’n eie, unieke manier sy beslag binne die Joods-Christelike tradisie vind.

11 Kyk vir ’n indrukwekkende beskrywing en voorbeelde van die aanbiddende viering van God in die Psalms veral Waaijman 2004:144-145.

12 Die visioen van die Nuwe Jerusalem het “eer” as ’n sleutelmotief, soos blyk uit Openbaring 21:11, 23 en 26. Opmerklik is veral hoe die menslike heerlikheid van die nasies in vers 26 as teenpool van God se heerlikheid in verse 11 en 23 beskryf word. Die konings van die nasies bring hulle heerlikheid aan God om saam te vloei met God se heerlikheid. Dit word ’n aanbiddingshandeling. Hulle is nie meer selfverheerlikend nie (Bauckham 1993:315). Kyk ook Op.4:11; 5:11, 13; 7:12 vir verdere verwysings na God se heerlikheid.

13 Kyk veral Bauckham 1993:118-149 vir ’n insiggewende bespreking van die aanbidding van Jesus. Hy wys tereg daarop dat Openbaring fokus op die konflik tussen egte en valse aanbidding.

14 Bauckham 1993:315 wys daarop dat Johannes Jes.60:5,11 in ’n doksologiese sin interpreteer.

15 Oor die komplekse aard van transformasie, cf. Waaijman 2002:455-81. Hy bespreek ten minste vyf verskillende vlakke van transformasie. Weens beperkte ruimte kan hierdie vlakke nie in hierdie artikel in diepte uitgewerk word nie.

16 Ferguson 1993:516 verwys na ’n Joodse inskripsie in Afrodisias uit 210 n.C. met name van 54 “Godvresendes” wat skenkings aan die Joodse gemeenskap gemaak het en wat wys hoe baie proseliete daar in sommige plekke was.

17 Kyk Ferguson 1993:516. Hy meen dat die eerste naam meer Ou-Testamenties is, terwyl die tweede ’n meer Hellenistiese beskrywing is. Die belangrike punt is dat daar geen verskil in betekenis is nie. Lukas wys dieselfde tendens byvoorbeeld in sy gebruik van die naam Saulus (Hd.7:58; 8:1 ens.) en Paulus (Hd.13:9, 16, ens). Kyk veral Handelinge 13:9.

18 Die OAV het “godsdienstige Jodegenote.” Die NAV vertaal met “die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het.” Die nuwe Nederlandse Bybelvertaling (2004) vertaal met “vroom proseliete.” Letterlik is hier sprake van “godvresende” proseliete. Lukas beklemtoon in sy konteks van veelgodedom (Hd.17!) dat dit hier gaan om vrees vir die een ware “God”.

19 Die nuwe Nederlandse vertaling bied hier: “ze vereerde God” wat wys hoe inkonsekwent vertalings kan wees (kyk die vorige voetnoot), maar wat goed illustreer watter nuanses wel ter sprake is by die Griekse woord en hoe verskillend vertalings dit kan uitbring.

20 Hier en in vers 17 vertaal die Nuwe Afrikaanse vertaling wel die Grieks met “godvresende” - anders as in Handelinge 13:43.

21 Johnson 1992:177 merk tereg op dat die participium die Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse  is en daarmee wys op ’n lewensweg, lewenswyse. Lukas gebruik die uitdrukking dikwels in sy werke (kyk Luk 1:12, 65; 2:9; 5:26; 7:16; Hand 2:43; 5:11; 19:17).

22 Vgl. ook Hd.5:11waarin die hele kerk met “groot vrees” reageer op die dood van Ananias en Saffira – kennelik in reaksie op die besef dat hulle dood ’n straf is op die twee se leuens vir God (en nie mense nie; Hd.5:4, 9).

23 Hand 10:46 beskryf hoe die heidene die Heilige Gees met ekstatiese tekens ontvang en God dan loof..

24 Maar ook voor Jesus (Op 1:17; Mark 5:22; Hand 7:60; Joh 11:32). Cf. hieroor die bespreking oor die aanbidding van Christus hier onder, en ook Heiler 1957:356-7 met vergelykende voorbeelde. Nützel 1993 wys daarop dat  dikwels met  gebruik word (Matt 2:11; 4:9; 18:26; Hand 10:25; 1 Kor 14:25; Op 4:10; 5:14; 7:11; 11:16; 19:4, 10a; 22:8) of soortgelyke uitdrukkings (in Mark 15:19;  in Matt 28:9). Aanbidding is dus nou verbind met neerbuig.

25 Dit kom bv. in gereformeerde spiritualiteit na vore in die kniel van ’n gesin tydens boekevat in gebed.

26 Die Griekse woord  wys bv. op die tempeldiens in Joh 4:20, 12:20; Hand 8:27; 24:11; Op 11:1.

27 Die antifoniese liedere kenmerk die aanbidding van die vroeë kerk, soos uit die bekende opmerking van die jongere Plinius, die Romeinse skrywer in sy verslag (c.112 n.C.) aan keiser Trajanus oor Christene se byeenkomste. Vir ’n bespreking van Plinius en die implikasies van sy teks vir die verstaan van aanbidding, kyk Martin 1964. Hy wys daarop dat hierdie gedeelte tekens toon van ’n praktyk waarin Christus in die kultus as God aanbid is. Hy is in die sentrum van hul aanbidding vereer, ook deur antifonale liedere, op ’n manier wat later ’n vaste deel van die Christelike aanbidding sou word, soos blyk uit werke van Tertullianus, Clemens van Alexandrië en Eusebius.

28 Let op die veelseggende twee titels van Jesus in Op 1:5, maar ook sy universele koningskap wat as klimaktiese derde titel bygevoeg word. In ’n konteks waarin die Romeinse keiser graag gevlei is deur ’n populêre kultus met ’n kleurryke optog en erediens waarin hy as god en here vereer is, was dit `’n waagstuk om Jesus eerder die koning van die konings te noem. Hoe sterk die fokus op die aanbidding van Jesus val, blyk uit die feit dat verse 5-6 waarskynlik die enigste doksologie aan Christus in die Nuwe Testament bevat (kyk verder Aune 1997:45).

29 Openbaring word lank reeds in navorsing met die liturgie, dus ook met aanbidding, verbind. Cullmann (1953:7; kursivering toegevoeg) skryf, “the whole book of Revelation from the greeting of grace and peace in chapter 1.4 to the closing prayer: Come Lord Jesus, in chapter 22.20, and the benediction in the last verse, is full of allusions to the liturgical usages of the early community.” Prigent (1964:7) het ook liturgiese elemente in die boek ondersoek. Hy verduidelik sy eie benadering tot die begrip liturgie as: “Nous appellerons donc éléments liturgiques tout ce qui, de près ou de loin, est susceptible d’être compris comme allusion à la vie culturelle de l’Eglise: images, mots, doctrines et practiques. Naturellement on pensera d’abord à tout ce qui se rattache aux sacrements, mais il faudra bien prendre garde de ne pas négliger un autre aspect possible de la vie liturgique de l’Eglise primitive: le culte, qui’il soit ordinaire ou plus solemnellement consacré à telle occasion particulière” (sekondêre kursivering). Die verstaan van liturgie van die vroeë kerk word verarm as dit tot die sakramentele en die eucharistie beperk word. Die ryke variasie in die vroeg-Christelike liturgie illustreer ook duidelik op watter baie maniere aanbidding van God tot uiting gekom het. Kyk vir die liturgiese konteks ook Caird 1966:301.

30 Openbaring 10-11 vorm ’n oorgangsgedeelte ná die troonvisioen met sy boekrol, die sewe seëls en die sewe trompette (Op.5-9). Dit lui die tweede gedeelte van die boek met sy bose triade (die draak en twee diere) en die prostituut in (Op.12-18), voor die laaste deel (Op.19-21). Dit vertel van die openbaring van die boekrol wat die siener moet eet en dan die daaropvolgende profesie.

31 Die uitdrukking in vers 15, “en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly”, moet eintlik vertaal word, “sal sy tent oor hulle sprei” (). Dit sinspeel op die tent/tabernakel in die Ou Testament as ruimte waar God in heiligheid woon (Ex.25:8). In die latere Joodse literatuur word die gedagte voortgesit in die voorstelling van die , die heerlikheid van God onder die volk – dus beide die grootheid én nabyheid van God (kyk Joh 1:14; Rom 9:23; 1 Pet 4:13-14, asook Osborne 2002:329 en Beale 1999:441, wat ook die aspekte van God se heerlikheid én sy beskerming beklemtoon). Kontrasteer hierdie dubbele siening met Giesen 1997:200 ,wat dit net as ’n teken van beskerming en geborgenheid verstaan.

32 Vir die vele eksegetiese probleme in die gedeelte, soos bv. die identiteit van die groep en die wisseling in tye, kyk Beale 1999:424-445.

33 In die lig hiervan is Op 3:9 opmerklik. Die Filadelfiërs word verseker dat hulle vyande voor hulle sal kniel. Dit is hoogs uitsonderlik dat mense so vereer word in ’n boek wat origens aanbidding eksklusief met God verbind (cf. ook Nützel 1993:174).

34 Aune 1998:827 verbind die vers met Deut 10:12-15 en Eks 20:4-6, en meld in hierdie konteks spesifiek dat die begrip aanbidding herhaaldelik in die Ou Testament voorkom – wat wys hoe diep Openbaring in die Ou Testamentiese denke geanker is.

35 Kyk hieroor Heiler 1957:357, wat dit as die klassieke aanbiddingslied van die Jodedom en Christendom beskryf.

36 Sommige eksegete wil die  herlei na die Joods-Sinagogale liturgie – wat later ook deur Christelike groepe oorgeneem is. Carson 1993:14 waarsku teen pogings wat die Nuwe Testament fynkam vir allerhande “liturgiese” tradisies, soos bv. in Fil 2:6-11 en Kol 1:15-20, wat die vroeë kerk se liturgie na die sinagogale liturgie herlei. Vir hierdie teorie en kritiek in die navorsing, kyk veral nou Billings 2006:140.

37 In ’n sekere sin hang dit ten nouste saam met kontemplasie. In die monastiese tradisie was dit die belangrikste moment in spiritualiteit. In kontemplasie word die teenwoordigheid van God in die menslike bestaan ervaar. Kyk Volff 1993:203 vir ’n bespreking oor die reformasie se reaksie om kontemplasie en handeling in die wêreld te versoen. Dit is belangrik om daarop te let dat Volff se kritiek alleen geldig is ten opsigte van sekere monastiese ordes.

38 Hy skryf (1993:15) heel plasties hieroor, “If you seek peace, you will not find it; if you seek Christ, you will find peace, If you seek joy, you will not find it; if you seek Christ, you will find joy. If you seek holiness, you will not find it; if you seek Christ, you will find holiness. If you seek experiences of worship, you will not find them; if you worship the living God, you will experience something of what is reflected in the Psalms. Worship is a transitive verb, and the most important thing about it is the direct object.”

39 Die melaatse en die Kanaänitiese vrou spreek Jesus as Here aan, terwyl die vrou van Sebedeus oor sy toekomstige Koninkryk praat. Dit is duidelike aanwysings van die goddelike waarde wat hulle aan hom toeken. In die histories-kritiese eksegese word die titel “Here” wat deur die figure as aanspreekvorm vir Jesus gebruik word, dikwels afgeswak en dan beskryf as ’n beleefde groet teenoor mense met ’n spesiale status in die samelewing. Tog, in die konteks van die Evangelies, pas so ’n verklaring nie. Die karakters gebruik taal wat volgens die Evangeliste wys dat hulle by Jesus as goddelike figuur hulp soek.

40 Aanbidding van Jesus het ’n unieke karakter in die Johannese geskrifte. Daarin word aanbidding in die tempel oorgedra op Jesus (cf. Joh 12:20). In Johannes 4:19-25 kry aanbidding van Jesus ’n mistieke kwalifikasie wanneer Jesus praat van ’n tyd wat sal kom wanneer aanbidding in gees en in waarheid eerder as op ’n spesifieke plek sal plaasvind. Dit is ’n Christologiese duiding van aanbidding, want Jesus is die waarheid (Joh 14:6) en sal die Gees stuur wat in die waarheid inlei (Joh.16:13). Die verhoogde Christus en sy Gees roep aanbidding na vore verby die tradisionele ruimte van die tempel. Die alternatief is nie Jerusalem of Gerisim nie (Joh.4:24), maar dit gaan in aanbidding om die dien van Jesus in waarheid (kyk veral Joh.2:19-22; verder Nützel 1993:174, wat opmerk dat dit nie noodwendig beteken dat spesifieke aanbiddingsplekke verwerp word nie). Verdere navorsing behoort meer aandag te gee aan hoe aanbidding op verskillende ryk maniere in die Bybelse tekste ervaar en ontwikkel word. Bybelse spiritualiteit wil juis sensitief wees vir die interaksie van momente in die teks met die konteks waarin dit pas. Spiritualiteit is nooit staties nie. Die voortgaande geestelike reis is onvoorspelbaar en lewer sy kwota van verrassings, nuwighede, teenslae, teleurstellings en ontnugteringe op – soos maar te goed blyk uit die Psalmboek met sy groot variasie van geestelike ervaringe. Dit is juis daarom dat spiritualiteit beklemtoon dat die geestelike reis ’n prosesmatige karakter het. Dit is ’n reis wat steeds weer op nuwe en ander maniere verloop.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.