Hofmeyr, JW
Universiteit van die Vrystaat

’n Perspektief op Flip van der Watt en sy geskiedenis van die NG Kerk-familie ten tye van sy 70ste verjaarsdag

ABSTRACT

A perspective on Flip van der Watt and his history of the DR Church family at the time of his 70th birthday

Prof PB van der Watt, who recently celebrated his 70th birthday, was once attached to the Universities of Stellenbosch and Pretoria as church historian. He made an important and interesting, though relatively narrow contribution to the subject of church history in the South African context. In this article the focus is briefly on his life story but more extensively on his academic contributions in the field of church history. It is concluded that besides him popularising church history with lay people, his most important other contribution was in the field of denominational history and more specifically in the knowledge about the Dutch Reformed Church. Sadly he never succeeded to provide a broader and somewhat more kaleidoscopic or ecumenical perspective on the Dutch Reformed Church or to really focus on the Dutch Reformed Church family as a whole. In this respect, though there were already some exceptions to the rule, he was a typical representative of his times.

1. FLIP VAN DER WATT AS MENS

Phillip Blignaut van der Watt het onlangs sy sewentigste verjaarsdag gevier. Flip wat by uitstek kerkhistorikus was en wat ook in hierdie hoedanigheid beslis kind van sy tyd was, is op 10 Augustus 1937 in die Vrystaatse dorp Theunissen gebore. Nadat hy in 1954 aan die Hoërskool Excelsior gematrikuleer het, wend hy hom na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat vir akademiese studie. In 1957 behaal hy die BA-graad aldaar vanwaar hy in 1958 na Stellenbosch verskuif vir sy teologiese studies. Aan die einde van 1961 behaal hy die BD-graad by die Universiteit van Stellenbosch en in dieselfde tyd word by ook gelegitimeer as bedienaar van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Hy tree in 1962 toe tot die bediening as predikant van die Gemeente Bloemhof en sedert 1965 die Gemeente Bloemhof-Oos. Intussen is hy ook ingeskryf as doktorale student in die Ekklesiologie aan die Universiteit van Stellenbosch onder promotorskap van T N Hanekom. Gedurende 1966 en 1967 neem Flip demissie met die oog op verdere studie. Dit sou juis gedurende hierdie tyd wees dat hy aan die Vrije Universiteit van Amsterdam (Nederland) gaan studeer onder die studieleiding van die welbekende D Nauta. In 1967 keer Flip terug na die gemeentebediening en wel na die laaste gemeente wat hy voor sy akademiese loopbaan sou bedien, naamlik Vrede-Wes. Gedurende 1968 behaal hy die DTh-graad in die Ekklesiologie aan die Universiteit van Stellenbosch, as die eerste promovendus van T N Hanekom, met ’n goed gedokumenteerde en oorsigtelike proefskrif getitel Die Loedolffsaak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1862-1962. Van 1971 tot 1974 is hy senior lektor in die Ekklesiologie aan die Teologiese Kweekskool van die NGK op Stellenbosch. In 1974 word ’n professoraat (ad hominem) aan hom aangebied aan die Universiteit van Stellenbosch. Vanaf 1975 word hy die opvolger van B J Marais, professor in en hoof van die Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Fakulteit Teologie van die NGK aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat hy tot in 1989 sou beklee. Sy professorale intreerede lewer hy op 17 Februarie 1975. Voordat hy in 1989 as studentedekaan aan die Universiteit van Pretoria aangewys is, dien hy reeds sedert 1984 as adjunk-dekaan en sedert 1987 as dekaan van die Fakulteit Teologie van die NGK aan UP (Van der Watt 1989:85).

Van der Watt het ’n besonder produktiewe akademiese en publikasieloopbaan as kerkhistorikus en kerkregtelike gehad. Dit is binne die bestek van ’n oorsig soos hierdie moeilik om reg te laat geskied aan elk van sy bydraes in hierdie verband, en daarom word slegs die heel belangrikstes hier genoem. Wat akademiese boeke uit sy pen aanbetref is sy vierdelige Die Nederduitse Gereformeerde Kerk waarskynlik die bekendste en belangrikste. ’n Belangrike biografiese bydrae getitel John Murray, 1826-1882: die eerste Stellenbosse professor het in 1979 verskyn. Naas sy proefskrif waarna reeds vroeër verwys is, verskyn ook boeke soos Kerkregering deur kerkvergaderings (1983), Beroerders en beroeringe (1975), Gemeentes- en nogmaals gemeentes (1977) asook ’n hele aantal populêre publikasies.

Verder lewer hy verskeie kerkhistoriese en kerkregtelike bydraes tot ’n hele aantal ander boeke soos byvoorbeeld Die Kerk in aksie (red W L Maree), Die kerk in die wêreld (red J P Oberholzer), Die ou, ou tyding (red F C Fensham), Ensiklopedie van die wêreld en die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek.

In wetenskaplike tydskrifte is eweneens ’n aantal van sy pennevrugte opgeneem. Dit was hoofsaaklik in die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif en in Skrif en Kerk wat hy artikels veral oor die verhoudinge tussen die drie Afrikaanse kerke, en oor herlewingsaspekte in die NGK geskryf het. In ’n menigte ander meer populêre tydskrifte (soos byvoorbeeld Die Voorligter, Die Kerkbode, Insig en De Kat) asook in talryke koerante (soos byvoorbeeld Beeld, Burger, Hoofstad en Die Transvaler) verskyn ’n omvangryke verskeidenheid van bydraes oor veral die geskiedenis van die NGK asook oor verskillende kerkregtelike aspekte. Sy besondere belangstelling in en liefde vir die sogenaamde Vaderlandse Kerkgeskiedenis blyk verder ook nog uit tientalle populêre radiopraatjies en televisieoptredes. Dit het beslis ’n oog vir die belangrikheid van hierdie vakgebied by die mens in die straat ontwikkel.

Intussen lewer hy ook nog ’n hele aantal akademiese lesings by teologiese dae, predikante-konferensies en huldigings-geleenthede. Hy bring ook ’n aantal besoeke aan Skotland en Nederland (1972), die VSA (1976), en Engeland, Skotland en Nederland (1981).

Ons kollega het ook verskeie toekennings as erkenning vir die bydrae wat hy as akademikus gelewer het, ontvang. In 1988 kom die besondere eer hom toe om die Totiusprys vir Teologie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te ontvang en in 1989 ontvang hy aan die einde van sy formele akademiese loopbaan eretoekennings van die Verteenwoordigende Studenteraad en die Deo Gloria-vereniging aan die Universiteit van Pretoria.

Van der Watt het ten spyte van sy omvattende akademiese aktiwiteite en publikasies homself nie onbetrokke betoon op die kerklike en die kulturele akker nie. Alhoewel hy net in vier gemeentes van die NGK voltyds in die bediening gestaan het, het hy gedurende sy loopbaan ook nog ’n tiental beroepe na ander gemeentes ontvang. Selfs toe hy reeds gevestig was in die akademiese milieu is hy in 1984 nog na die NG Gemeente Wonderboom-Suid beroep.

Sedert sy legitimasie in 1961, maar ook gedurende sy jare van akademiese betrokkenheid het hy ’n groot verskeidenheid van posisies as kerklike ampsdraer beklee, onder andere as lid van die Sinodale Regskommissie van die Vrystaatse Kerk (1967-1970), die Argiefkommissie van die Kaapse Kerk (1971-1974), die Tussenkerklike Kommissie (1975-), die Noord-Transvaalse Regskommissie (1979-), die Noord-Transvaalse Sinodale Kommissie (1979-), die Algemene Regskommissie (1982-1989), lid van die Breë Moderatuur (1982-1986) en lid van die dagbestuur van die Algemene Sinodale kommissie (1986-1990). Sedert 1987 is hy ook voorsitter van die Sinodale kommissie van die NGK van Noord-Transvaal. Intussen was hy ook nog tussen 1982 en 1986 redaksielid van die dokument “Kerk en Samelewing”, hoofbestuurslid van SABRA (1971-1974), lid van die Publikasiekomitee van die Direktoraat van Publikasies (1984-), ondervoorsitter van die Maatskappy vir Europese Immigrasie (1989-1990) en assessorlid (1975-1987) en volle lid (1988-) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Flip van der Watt kon in die loop van sy kerklike en akademiese loopbaan ook voortdurend steun op die onderskraging van sy dinamiese eggenote, Nakkie, wat as onderwyseres vir baie jare aktief was. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore naamlik Karien, Louis Lukas Stephanus en Liesé.

Diegene wat Flip van der Watt, wat nie te graag oor homself wil praat nie, goed ken, sal saamstem dat hy ’n lojale mens met ’n besondere integriteit is, ’n persoon wat glo in ’n saaklike, doelgerigte en effektiewe manier van optrede en ’n mens wat die lewe met groot erns en toewyding aanpak. By die feit dat ook hy sy eie worsteling oor byvoorbeeld bepaalde sosiopolitieke sake geken het en op ’n stadium met AP Treurnicht van die Konserwatiewe Party simpatie gehad het, bly daar by Flip steeds die strewe om in die goeie sin van die woord byderwets te probeer wees.

2. DIE KERKHISTORIKUS FLIP VAN DER WATT

Om tot ’n finale en vergelykende beoordeling (ook ten opsigte van ander Suid-Afrikaanse kerkhistorici) van Van der Watt se bydrae tot die breër Suid-Afrikaanse kerkhistoriese toneel te kom, is binne hierdie bestek nie moontlik nie. Dat dit egter nie ’n geringe bydrae is nie, hoef nie betwyfel te word nie.

Die spesifieke uitgangspunte waarmee Van der Watt Kerkgeskiedenis beoefen het, is oor die algemeen redelik uitgebreid uitgespel: veral in sy professorale intreerede aan die Universiteit van Pretoria maar ook in sommige van sy ander publikasies. Ons noem hier net die wese van sy sieninge soos saamgevat in sy intreerede getitel “Gedagtes rondom ’n kontemporêre kerkgeskiedenis – met besondere verwysings na die Ned Geref Kerk” “In hierdie vakdissipline gaan dit om die kerk, as vrug van die openbaring van God. Die kerkgeskiedenis beskrywe die bestaan van hierdie empiriese kerk in die wêreld, waarby nie net op die organisasie en inrigting gelet word nie, maar ook op die vele vrugte wat deur die verkondiging op die akker van die maatskappy, die kultuur en staatkundige lewe gedra is. Die kerkhistorikus probeer met ander woorde om die werking van die Woord in die kerk en deur die kerk in die wêreld na te speur. Hierdie taak is nie maar net bloot beskrywend van aard nie; die kerkgeskiedenis moet ook vasstel watter kragte en oortuiginge die verskynsels, gebeurtenisse en toestande in die verlede tot stand gebring het – meer nog, hy sal steeds die norm moet aanlê van wat kerk is en wat die vrug van die kerklike verkondiging in die wêreld behoort te wees. Hierdie kritiese maatstaf by die beoordeling en tipering van gebeurtenisse en verskynsels word ontleen aan die Heilige Skrif, wat vanselfsprekend ’n konfessionele standpunt by die historikus veronderstel” (1975:5).

Van der Watt het met sy vierdelige werk oor die NGK die eerste werklike volledige geskiedenis van die NGK daargestel. In deel een wat die periode 1652 tot 1824 dek, word die vestiging en uitbreiding van die Kerk bespreek asook die kerkregtelike ontwikkeling, die sending, die barmhartigheidswerk, onderwys en kategese, die betrekkinge tot die owerheid asook die ander Kerke wat in dié tyd reeds aan die Kaap aanwesig was. In ’n tweede deel word die geskiedenis van die Kerk in die Oranje-Vrystaat, Natal en Transvaal van die aanvang van die Groot Trek tot ongeveer dertig jaar later gedek. Aspekte soos die houding van die Kaapse kerk ten opsigte van die Voortrekkers, hul vestiging in die Transgariep, die kerklike skeuringe wat toe plaasgevind het, die verbreking van die kerkverband, die sending, armsorg en onderwys kom ter sprake. In deel drie wat die periode dek vanaf 1824 tot 1905 word die NGK op die weegskaal geplaas en aspekte soos sy wydvertakte bediening, kerklike verdeeldheid en sy arbeid gedurende die oorlogsjare word onder die soeklig geplaas. In hierdie deel word die belangwekkende gebeure rondom die veelbesproke Sinode van 1857 waartydens die besluit rondom die “swakheid van sommiges” ter sprake gekom het, glad nie aan die orde gestel nie. Dit gee waarskynlik die beste blyke daarvan dat Van der Watt nie veel belangstelling in of aandag aan die saak van ander rasse in die NG Kerk gegee het nie. In deel vier wat die tydperk vanaf 1905 tot 1975 dek word veral die moderne en kontemporêre kerkgeskiedenis van die NGK gedek. Hier kom sake soos die NGK en die rassevraagstuk soos dit in die 20e eeu ontwikkel het, ekumeniese verhoudinge, teologiese opleiding en die kerk se verhouding tot die Afrikanervolk ter sprake.

Van der Watt se kerkgeskiedskrywing is by geleentheid deur die resensent M C E van Schoor bespreek. Hy stel byvoorbeeld in Die Volksblad van 11 Mei 1977 dat die meeste Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenisse oorlaai is met ’n oormaat van feite wat in herhalende patrone voorkom, met die gevolg dat “net die betrokkenes genot daaruit put om dit te lees, of die bewysvoeringe is so lank en uitgerek dat slegs die kerkhistorikus daarvoor geesdrif het. Dr Van der Watt se werk verskil egter van al sy voorgangers daarin dat hy nie die bestaande kerkgeskiedenis wil oorskryf nie …maar om ’n saaklike en bevatlike leesboek oor die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te verstrek. Enige iemand wat hom tot die kerkgeskiedenis aangetrokke voel en veral lidmate van die NG Kerk, kan met die grootste vrymoedigheid hierdie ewewigtige oorsig met sy belangrike hoofmomente en onderliggende strominge aanskaf en daardeur verryk en veel wyser word” (Van Schoor 1977).

Van der Watt huldig verder sterk gevoelens oor subjektiewe, apologetiese en tendensieuse kerkgeskiedskrywing. Hy is van mening dat veral kerkgeskiedskrywers van die Afrikaanse kerke hulle hieraan skuldig maak (1983:1). Hy is dus beslis nie meer ’n verteenwoordiger van die skool van polemiese en apologetiese kerkgeskiedskrywing soos wat dit in Suid-Afrika in die middelera van die 20e eeu gestalte aangeneem het en waarvan SP Engelbrecht, GD Scholtz en andere verteenwoordigers was nie. Die historikus FA van Jaarsveld het uitgebreide aandag hieraan gegee en ernstige kritiek daarteenoor in ’n verskeidenheid van studies en publikasies uitgespreek.

Die verhoudings tussen die drie Afrikaanse Kerke is ook ’n tema waarmee Van der Watt hom by meerdere geleenthede besig gehou het. Hy betreur die werklikheid van die drie onderskeie kerke, maar hy het begrip vir ’n verskeidenheid ander punte van onderlinge verskil. Hy is veral van oortuiging dat die karakter van die verskillende Kerke, elk met sy eie historiese styl in die gewone godsdienstige lewe, nie so maklik negeer kan word nie. Interessant is byvoorbeeld dat bepaalde praktyke binne een Kerk moeilik te assosieer is met die in een van die ander Kerke (1958:69).

Aan die werklikheid van die verskillende Kerke in die NG Kerkfamilie het Van der Watt nie uitgebreid aandag gegee nie. Slegs in die vierde deel van sy vierdelige werk oor die NG Kerk verwys hy enigsins meer uitgebreid na die verskillende kerke. Van ’n perspektief op ’n gedeelde geskiedenis is daar egter nie sprake nie. In sy tyd was dit jammer genoeg ook meer die uitsondering as die reël dat teoloë ’n breër perspektief op die situasie in Suid-Afrika getoon het en ’n openheid getoon het om die veelrassige werklikheid te verdiskonteer in hulle wetenskaplike arbeid. Van der Watt het dus nie oor die wetenskaplike Rubicon kon beweeg nie en dit was eintlik eers nadat sy loopbaan as kerkhistorikus geëindig het (toe hy in 1989 studentedekaan by UP geword het) dat hy ’n ruimer perspektief op die Suid-Afrikaanse werklikheid gekry het. Van der Watt kon dus wel tot op ’n sekere hoogte interdenominasioneel funksioneer maar nie werklik intradenominasioneel nie. Hy het dus nooit daarin geslaag om in sy kerkgeskiedskrywing van die NG Kerk die wêreld anderkant die skeidsmure uitgebreid te beskryf nie.

Flip van der Watt is wel deeglik bewus van die hoë eise wat aan die kerkhistorikus gestel word, veral aan diegene soos hyself wat ’n oorsigtelike geskiedenisbeeld probeer teken. In die inleiding tot deel drie van sy geskiedenis oor die NGK stel hy dit so: “Tussen die spreekwoordelike ‘Scylla’ en ‘Charybdis’ moes die weg gevind word! Enersyds is daar die gevaar van ’n blote opstapeling van feite – wat ’n sinvolle konsipiëring van die gebeure onmoontlik maak. Andersyds is weer die moontlikheid van ’n oppervlakkige veralgemening – veral wanneer ’n stewige feitefundering gemis word. Daarby moet die kerkhistorikus altyd onthou dat vir ’n interpretasie van die Kerkgeskiedenis nie alleen die notule van kerklike vergaderinge geken moet word nie, maar ook die historiese agtergrond waarteen en waarbinne die kerk leef” (1980:2).

Die grootste bydrae wat Van der Watt ten opsigte van die Kerkgeskiedenis gelewer het, is waarskynlik geleë in die feit dat hy ’n belangrike bydrae tot die popularisering van die vak by die mens in die straat en in die kerkbank gemaak het, en wel by wyse van ’n legio kort artikels in koerante en populêre tydskrifte asook optredes op televisie en oor die radio.

Verder het Van der Watt op sy studente in die kerkgeskiedenisklaslokaal ’n groot indruk gemaak. Soos sy voorganger B J Marais het ook hy met sy pittige, saaklike en entoesiastiese styl daarin geslaag om by die studente ’n liefde vir die vak te kweek. Uiteindelik het nie minder nie as dertien doktorale studente onder sy studieleiding in die Kerkgeskiedenis gepromoveer.

Ook in sy kerkgeskiedskrywing betoon Van der Watt homself as die beskeie mens. As hy al vier dele van sy geskiedskrywing oor die NGK voltooi het, stel hy dit so: “Ons studie … oor die wel en weë van die NGK vanaf 1652 tot 1975 bied homself dus beskeielik aan as die mees volledige geskiedenisbeeld van hierdie historiese kerk in Suid-Afrika. Dit kom met geen ander pretensie nie as om slegs ’n gids te wees in die kronkelgange van besondere kerkhistoriese gebeure!” (1987:[ii]).

Van der Watt het ten spyte van die feit dat hy met die uitspel van sy uitgangspunte in sy intreerede heelwat gewag gemaak het van ’n breër ekumeniese perspektief, tog uiteindelik in min van sy publikasies werklik die breër spektrum van kerke omvattend aan die orde gestel of ’n breë oog getoon vir die ekumeniese werklikheid. Dat ekumeniese kerkgeskiedenis reeds in Van der Watt se tyd sterk na vore getree het, is duidelik. Teoloë wat ook internasionaal sterk leiding geneem het in hierdie verband was mense soos K S Latourette uit die VSA en E Benz uit Duitsland. Van hulle insigte het Van der Watt egter nie veel kennis geneem nie. Hy het weliswaar in sy intreerede aangetoon dat, alvorens daar aan ’n meer omvattende oorsig aandag gegee kan word, daar eers deeglik deurvorsde geskiedenisse van die verskillende denominasies daargestel moet word. Daartoe het hy wel ’n reuse bydrae gelewer.

Een van die ander leemtes in Van der Watt se loopbaan as kerkhistorikus was die feit dat hy klaarblyklik nie op ’n uitgebreide vlak meegedoen het aan openbare akademiese gesprekke rondom sy vakgebied nie. Hy het nie aktief by die Kerkhistoriese Werkgemeenskap van Suidelike-Afrika ingeskakel of daaraan meegewerk nie. Daarbenewens het hy ook nie uitgebreid op ’n internasionale vlak aan vakkongresse deelgeneem nie. Hierdie tipe geleenthede het ongetwyfeld vir die vakman ’n bepaalde waarde en dit bied beslis ook ’n geleentheid vir wedersydse teologiese stimulering. In sekere opsigte was Van der Watt as kerkhistorikus ’n alleenloper en ’n deur homself geïsoleerde kerkhistorikus.

As dit gaan oor die vraag wie die grootste invloed op Van der Watt in sy kerkhistoriese en ook kerkregtelike vorming uitgeoefen het, skroom hy nie om te sê dat dit die Stellenbosser T N Hanekom en die Amsterdammer D Nauta was nie. In sommige kringe word gesê dat Van der Watt se geskiedskrywing sterk deur A Moorrees beïnvloed sou wees. Dit is egter ’n saak wat ’n studie van ’n ander aard vereis.

Tot ’n omvattende beoordeling van die bydrae van die 20e eeuse Suid-Afrikaanse kerkhistorici, beide binne hulle eie plaaslike maar ook in die breër Suid-Afrikaanse verband, het dit nog nie gekom nie. In hierdie oorsig het die soeklig dus alleen maar geval op Flip van der Watt en sy engere bydrae. Die plek en rol van voorgangers soos byvoorbeeld prof B J (Ben) Marais as ekumeniese kerkhistorikus, en kollegas en navolgers soos byvoorbeeld prof E (Eddie) Brown as denominasionele kerkgeskiedskrywer (alhoewel hulle geskrewe bydraes relatief beperk was) is nie hier in berekening gebring nie. Eers wanneer soortgelyke studies oor die verskillende ander bekleërs van akademiese poste in kerkgeskiedenis in Suid-Afrika onderneem is, sal dit moontlik wees om die bydrae van Flip van der Watt tot die uitbou van die kerkhistoriese wetenskap in die breër Suid-Afrikaanse verband ten volle te begroot.

3. SLOT

Die sewentigjarige Flip van der Watt kan in baie opsigte wat sy lewe asook sy kerkhistoriese bydrae aanbetref as kind van sy tyd beskou word. Hy het sy belangrikste akademiese werk in die periode tussen 1968 en 1989 gelewer. Dit was die jare waarin die opbou maar ook die aftakeling van apartheid in die Suid-Afrikaanse samelewing sy hoogbloei beleef het. In vele opsigte sou hy as ’n tipiese (wit) Nederduitse Gereformeerde kerkhistorikus getipeer kon word wat nie daarin kon slaag om die verweefde geskiedenis van die rasgeskeide familie van NG Kerke te beskryf nie. Dat hy egter wel beslis ’n bepaalde bydrae, weliswaar ook met sy tekortkominge, tot die kerkhistoriografie van die NG Kerk gelewer het kan nie weggeredeneer word nie. Dat daar dus baie nuwe uitdaginge vir die kerkhistoriografie in die algemeen maar ook vir die van die NG Kerkfamilie in die volgende paar dekades voorlê , staan soos ’n paal bo water.

BIBLIOGRAFIE

Eybers, I H, König, A en Stoop, J A 1973. Inleiding in die Teologie. Pretoria: N G Kerkboekhandel.

Van der Watt, P B 1975. Gedagtes rondom ’n kontemporêre kerkgeskiedenis – met besondere verwysing na die Ned Geref Kerk, Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Van der Watt, P B 1980. Die Ned Geref Kerk 1824-1905 (Deel 3). Pretoria: N G Kerkboekhandel.

Van der Watt, P B 1983. Die Ned Geref Kerk en die Susterkerke. Die Ned Geref Kerk en sy ekumeniese verhoudinge (Teologiese dag, Universiteit van Pretoria) 8 Februarie.

Van der Watt, P B 1985, 1885-1892: ’n Abortiewe kerkvereniging. Skrif en Kerk 6(1): 63-69.

Van der Watt, P B (red) 1989. Deo Gloria! Teologiese Fakulteit 1939-1988. Pretoria: N G Kerkboekhandel.

Van Schoor, M C E 1977. Boekbespreking van P B van der Watt, Die Ned Geref Kerk 1652-1824 (Deel 1). Die Volksblad, 11 Mei.

Kontakbesonderhede

JW Hofmeyr,

Blenheim Mews 3

Blenheimweg 20

0081 LYNNWOOD GLEN

TEL.: 012 361 7690

E-posadres: hoffie.hofmeyr@up.ac.za