ngtt_v49_n3_a16

Meiring, PGJ
Universiteit van Pretoria

Die NG Kerk en die Wêreldraad van Kerke – ses dekades van verwagting, verwydering en toenadering

ABSTRACT

The NG Kerk (DRC) and the World Council of Churches – six decades of expectation, estrangement and reapproachment

The DRC, a founder member of the WCC (1948), decided in 1961 in the aftermath of the Cottesloe Consultation, to sever all ties with the WCC. For the next 46 years the relationship between die DRC and the WCC was strained to the limit, for a variety of reasons - inter alia the DRC’s support of apartheid, the WCC’s Program to Combat Racism, as well as theological developments in the ecumenical body as well as in the church itself. In 2007 the DRC, however, decided to apply for membership once again, with high hopes that the lessons from the past will serve the church well on its way to the future.

1. INLEIDING

“Broers en susters, let asseblief daarop dat ons, om hierdie voorstel goed te keur, ’n twee-derde meerderheid nodig het”. Professor Piet Strauss, pas-aangewese moderator van die Algemene Sinode van die N G Kerk (Junie 2007) het die aanbeveling wat deur die moderamen voorgelê is, vir bespreking oopgestel. Geen bespreking het egter gevolg nie en die voorstel is feitlik eenstemmig aanvaar: Die Algemene Sinode besluit om aansoek te doen vir lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke en dra dit aan die moderamen op om die proses af te handel. (Agenda 2007:404). Ses en veertig jaar nadat die NG Kerk sy band met die liggaam verbreek het, was die sinode gereed om die reis, terug na Genève, aan te pak.

Baie water moes in die see loop voordat dit kon gebeur. In dié artikel word aandag aan die lang verhaal van die N G Kerk en die Wêreldraad van Kerke (WRK) gegee, van 1948 toe die WRK sy eerste algemene vergadering in Amsterdam gehou het, na 1961 toe die band verbreek is, tot en met die Sinode van Boksburg (2007), toe die bogenoemde besluit geneem is. In die jare wat verloop het, is baie oor die verhouding tussen die N G Kerk en die WRK gesê en geskryf. By verskeie sinodes is emosionele debatte hieroor gevoer en sterk besluite geneem. Ontwikkelinge in die WRK die afgelope ses dekades én die reaksie van die N G Kerk op hierdie ontwikkelinge word aan die orde gestel. Enkele lesse wat op die pad geleer is, word aangedui.

2. DIE BEGINJARE: ENTOESIASTIESE LID VAN DIE WÊRELDLIGGAAM

Toe die WRK sy eerste Algemene Vergadering in Amsterdam (1948) gehou het was die N G Kerk (die Ned Herv of Geref Kerk van Transvaal) daar. Gedurende die jare voor die Tweede Wêreldoorlog, toe voorbereidings getref en die besluit geneem is om tot die stigting van die WRK oor te gaan, was die N G Kerk ( Ned Herv of Geref Kerk van Transvaal en die N G Kerk van die Kaap) óók daar. As gevolg van die uitbreek van die oorlog moes die stigtingsvergadering vir tien jaar uitgestel word, maar in 1940 het die Kaapse Sinode reeds besluit om lid te word van die te stigte WRK, met die Transvaalse Sinode kort op sy hakke. In 1947 het die Raad van Kerke reeds sy afgevaardigdes na Amsterdam aangewys. Dit was nie vreemd nie. In die N G Kerk was daar in die dekades wat die besluit voorafgegaan het, veral in die Kaap en Transvaal, ’n groeiende ekumeniese bewussyn. Die kerke was reeds jare lank lid van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en afgevaardigdes van die N G Kerk het hul plekke gereeld by ekumeniese byeenkomste van die Internasionale Sendingraad, van Life and Work en Faith and Order – die drie liggame wat saamgewerk het om die WRK tot stand te bring – ingeneem. Oorsese besoekers aan ons land, onder wie die bekende sendingleier John R Mott, het meegehelp om die ekumeniese vlam brandende te hou (Van der Watt 1987:119vv, Crafford en Gous 1993:332vv).

Die stigting van die WRK het op 22 Augustus 1948 plaasgevind. Verteenwoordigers van 147 kerke uit 44 lande was teenwoordig. Onder hulle was dr G B A Gerdener, wat namens die Transvaalse Kerk lidmaatskap aanvaar het én ook die Kaapse Kerk as waarnemer verteenwoordig het. In 1953 het die Kaapse Kerk formeel om lidmaatskap aansoek gedoen. In die jare wat sou volg het veral afgevaardigdes uit Transvaal aktief aan die bedrywighede van die WRK deelgeneem: proff Ben Marais en G B A Gerdener en di C B Brink en A M Meiring het verskillende vergaderings van die WRK bygewoon. Brink is twee keer (1954 en 1957) as lid van die Sentrale Komitee verkies. In 1952 het die algemene sekretaris van die WRK, dr W A Visser’t Hooft, ’n uitgebreide besoek aan Suid-Afrika gebring. Predikante uit Suid-Afrika, onder wie di. Beyers Naudé en W de W Strauss, is as welkome besoekers in Genève ontvang (Randall 182:3; Crafford en Gous:332v; Van der Watt 1987:24).

In die Transvaalse Kerk was ekumene hoog op die agenda. ’n Uitgebreide verslag van prof E P Groenewald in 1952 aan die sinodale kommissie oor ekumeniese bewegings waarby die kerk betrokke kon raak geskryf het, is goed ontvang en selfs as pamflet uitgegee: “Die bestaansreg van ekumeniese bewegings word nie meer in twyfel getrek nie. Die huidige wêreldsituasie bring dit mee dat die Kerk van Christus na vorme soek om sy innerlike eenheid tot uitdrukking te bring, en om deur die eenheid met groter krag sy getuienis te laat hoor” (Groenewald 1952:1).

Groenewald was positief oor die doelstellings en werkswyse van die WRK. Wat hom egter wel bekommer het is dat die “Koninkryk van God-teologie” in die WRK, waarvoor hy persoonlik groot waardering gehad het, daartoe aanleiding kon gee dat die WRK se sosiale bemoeienis in ’n wêreld - waar Christus se heerskappy nie algemeen aanvaar word nie - ’n wegbereider vir kommunisme kon word. Die Koninkryksteologie beïnvloed ook die wyse waarop die WRK na die wêreldwye rassevraagstuk kyk.” (D)it bring mee dat dit uiters moeilik word om die rassebeleid van die N G Kerk op die platform van die WRK te verdedig, nie omdat ons beleid geen Bybelse of Christelike grondslag of motief het nie, maar omdat daar so ’n verskil in teologiese beskouing t.o.v. die Koninkryk van God bestaan” (Groenewald 1952:8).

Nie almal het egter die ekumeniese entoesiasme gedeel nie. Terwyl kritiese stemme van tyd tot tyd in die Transvaalse en Kaapse sinodes gehoor is, was die houding in die Vrystaat en Natal in die algemeen afwysend. Besware teen die “ruim” basisformule van die WRK, vrese dat dit in ’n “superkerk” kan ontaard, vrae oor die WRK se verhouding met die Rooms-Katolieke Kerk en veral verontwaardiging oor die uitsprake ten opsigte van die rassesituasie in Suid-Afrika, is as argumente teen lidmaatskap aan die WRK gebruik (Van der Watt 1987:125).

3. DIE VERHOUDING RAAK GESPANNE: DIE N G KERK SE RASSEBELEID ONDER SKOOT

By die Tweede Algemene Vergadering van die WRK te Evanston (Augustus 1954) het Groenewald se woorde wáár geword. Die tema van Evanston was “Christus – die hoop van die wêreld”. Groot klem is op die eenheid van die kerk gelê, ter wille van die kerk self én ter wille van sy getuienis in die verskeurde na-oorlogse wêreld. Sending was hoog op die agenda, maar só ook die sosiale roeping van die kerk. Dit was onvermydelik dat alle vorme van diskriminasie en rassisme hewig onder skoot sou kom. Die Transvaalse en Kaapse afgevaardigdes moes ernstige vrae oor die rassesituasie in Suid-Afrika - waar apartheid met die steun van die Afrikaanse Kerke beleid geword het – beantwoord (Landman 1955:4vv). In sy toespraak het Ben Marais daarop gewys dat niemand op grond van kleur of ras lidmaatskap van enige kerk geweier mag word nie. Evanston het dit onomwonde gestel: “Evanston declares its conviction that any form of segregation based on race, color or ethnic origin is contrary to the Gospel, and is incompatible with the Christian doctrine of man and with the nature of the church of Christ” (Evanston Speaks:371)

Brink het in sy verslag aan die Transvaalse Sinode (1957) die besluit verduidelik. Hy was in die posisie om dit te doen, want hy was lid van die besluite-kommissie van Evanston. Die verslag lewer boeiende leesstof: hoe Brink en sy medeafgevaardigdes uit die N G Kerk (en ook uit die Ned Herv Kerk) probeer het “om sonder prysgee van ons beginsels, so min as moontlik teenstand en gevoel teen ons Kerk uit te lok. Ek mag sê dat ons nie net deur Gods genade daarin geslaag het nie, maar dat ons selfs ’n groot mate van simpatie gewek het vir ons Kerke in die besondere verantwoordelikhede wat hulle te dra het. Ons het ingestap in ’n atmosfeer vol agterdog en veroordeling. Ek het die Wêreldraad verlaat met die versekering dat sommige ten minste oortuig geraak is van ons eerlikheid en opregtheid en dat hulle vir ons intree” (Handelinge 1957: 52).

Ds Brink het gerapporteer dat die Suid-Afrikaanse afvaardiging besluit het om nie teen die besluit te stem nie, maar om eerder buite stemming te bly. Sy verklaring hieroor is deur die Evanston-vergadering met applous begroet (Brink: 53). Die Transvaalse Sinode het Brink se verslag aanvaar en besluit dat die kerk ten spyte van die kritiek ten opsigte van die rassebeleid van die kerk, lid van die WRK sou bly. So ook die Kaapse Kerk (Geldenhuys:93). Dat die vrae oor N G Kerk se houding oor apartheid in die kerklike arena in felheid sou toeneem, was egter duidelik. Dr F E O’Brien Geldenhuys vertel in sy outobiografie van sy eerste kennismaking met die WRK, gedurende dieselfde jaar, toe hy ’n vergadering van die Sentrale Komitee in New Haven (VSA) bygewoon het. Martin Niemöller, die man wat in ’n Duitse-konsentrasiekamp beland het omdat hy hom teen die Nazi-beleid uitgespreek het, was ook daar. ”Hy het my ’n insig gegee in die felle gevoel teen Suid-Afrika se rassebeleid. Toe ons oor Suid-Afrika praat, het hy uitgeroep: “Nee, man, ons wil niks met julle te doen hê nie! Ons het aan die lyf gevoel wat rassisme aan beskaafde mense kan doen!’” (ibid:93).

4. COTTESLOE – DIE GROOT BREUK

In die jare wat op Evanston gevolg het, is die goeie verhouding voortgesit. Nie net met die wêreldliggaam in Genève nie, maar ook met lidkerke van die WRK in Suid-Afrika, is op talle maniere saamgewerk. Dit alles sou egter in ’n oogwink verander. Die aanleiding vir die gebeure was ’n politieke insident. In Suid-Afrika het binnelandse protes teen apartheidsbeleid – veral teen die gehate pasboek wat alle swart Suid-Afrikaners moes dra – breekpunt bereik. By Sharpeville, ’n swart woonbuurt by Vereeniging, het duisende swartmense rondom die plaaslike polisiestasie saamgedrom en begin om hul pasboeke te verbrand (21 Maart 1960). Foto’s en berigte van die polisie wat op die skare losgebrand het – van die 64 dooies en die talle gewondes – het die wêreld geskud. Skerp vrae is gevra. Waar was die getuienis van die Christene in die land? Wat doen die kerke om die plofbare situasie te ontlont? Die WRK het aangebied om ’n beraad te reël vir sy agt Suid-Afrikaanse lidkerke om die situasie te bespreek. Dr Robert Bilheimer het as spesiale gesant van die WRK na Suid-Afrika gereis om voorbereidings vir die konsultasie te tref.

Oor die Cottesloe beraad wat vanaf 7 Desember 1960 plaasgevind het, is reeds soveel geskryf dat daar in dié artikel nie volledig daarop ingegaan hoef te word nie. Abraham Lückhoff gee ’n volledige behandeling van die gebeure (Lückhoff 1978. vgl. ook Geldenhuys 1982:48vv, Crafford en Gous 1993: 206vv). Elk van die agt kerke (die Bantoe Presbiteriaanse Kerk, die Anglikaanse Kerk, die Congregational Kerk, die Metodiste Kerk, die N G Kerke van Transvaal en die Kaap, die Ned. Herv. Kerk en die Presbiteriaanse Kerk van Suidelike-Afrika) kon tien afgevaardigdes stuur. Die N G Kerke het onder leiding van die twee moderators (dr A J van der Merwe van die Kaap en ds A M Meiring van Transvaal) ’n sterk afvaardiging, moderatuurslede én teologiese professore, gestuur. Die samesprekings was besonder openhartig. Vir die eerste keer kon leiers van die agt kerke sáám om ’n tafel vergader, om oor die probleme in die land én hul gesamentlike roeping te beraadslaag. Verrassende positiewe dinge het gebeur. Op die laaste dag van die beraad het die Anglikaanse aartsbiskop Joost de Blank, wat as ’n bitsige teenstander van die N G kerk bekendgestaan het, sy “broers en kollegas in die N G Kerk” om verskoning gevra oor alles wat hy in die verlede teen die kerk kwytgeraak het. Dis nie dat hy noodwendig met dié kerk se standpunte saamgestem het nie, maar hy was jammer oor sy skerp veroordeling (Geldenhuys 1982:51). Wat die besluite van Cottesloe betref het die lede van die ander kerke agteroorgebuig om die bekommernisse van die Afrikaanse kerke op te vang, en om dit vir hulle moontlik te maak om hul stemme daarby te voeg. Nogtans was die besluite vir dié tyd radikaal. Vier besluite (oor die gesamentlike aanbidding, die oortuiging dat die Skrif geen verbod op gemengde huwelike plaas nie, die reg van algemene grondbesit en oor Kleurlingverteenwoordiging in die Parlement) het lynreg teenoor die apartheidsbeleid gestaan.

Toe die besluite bekendgemaak is (15 Desember 1960) was die vet in die vuur. In die Afrikaanse pers was daar verbystering én felle kritiek. Die opposisiekoerante het gejuig (Meiring 1976:78). Dr H F Verwoerd, destyds eerste minister, het die ongewone stap geneem deur die optrede van die N G Kerk-afgevaardigdes in die openbaar, in sy Nuwejaarsboodskap, te repudieer. Die kerk het nog nie gepraat nie, het Verwoerd die volk gerus gestel: “In feite het die Kerke nog nie gepraat nie. Die stem van die Kerk moet nog gehoor word en wel op hul sinodes waarop die lidmate sowel as die predikante teenwoordig sal wees” (Lückhoff 1978:116). Die afvaardiging van die Ned Herv Kerk het hulle ter elfder ure van die Cottesloe-besluite gedistansieer (sien Lückhoff 1978:97vv; Geldenhuys 1982:48vv). In die geledere van die N G Kerk was die beroering egter so erg dat die Transvaalse moderatuur ’n buitengewone vergadering van die Sinodale Kommissie byeengeroep het (2 Maart 1961) om “die meriete van die kerkeberaad sowel as die voortsetting van lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke te bestudeer” (Lückhoff 1978:361). Die N G Kerk-afvaardiging is in so ’n mate onder verdenking gebring, het Groenewald in dié tyd vertel, dat ’n situasie soortgelyk aan die jare 1858-1860 (toe spanning in kerklike geledere breekpunt bereik het) ontwikkel het. “Kerklike sake is met politieke emosie benader, en deur sommige is kerkverband tweede gestel ná partyverband. Die vrees vir kerklike verdeeldheid was nie ongegrond nie” (Groenewald 1961:131).

5. SES SINODES BESLUIT TÉÉN DIE WRK

Een na die ander het die sinodes van die N G Kerk die besluite van Cottesloe verwerp. Die N G Kerk in die Vrystaat was eerste in die ry. Op ’n vergadering van die Algemene Sinodale Kommissie van die Vrystaatse Kerk (22 Februarie 1961) is ’n verklaring uitgereik waarin die besluite van Cottesloe as “voorbarig” en “onverantwoordelik” bestempel is, die afgevaardigdes op die vingers getik is én die Transvaalse en Kaapse sinodes versoek is om uit die WRK te tree. ’n Maand later (22-24 Maart 1961) het die Federale Raad van die N G Kerke ’n soortgelyke besluit geneem. Die Sinodes van Natal en Suidwes-Afrika het eweneens die besluite van Cottesloe verwerp en die beroep op die Transvaalse en Kaapse kerke om hul lidmaatskap van die WRK te beëindig herhaal. Die Natalse Kerk het selfs verder gegaan: indien die Algemene Sinode wat in 1962 sou konstitueer, sou besluit om ’n lid van die WRK te word, sou die Natalse Kerk uit die Algemene Sinode bedank (Lückhoff 1987:129vv).

Toe die Transvaalse Sinode op 5 April 1961 in Pretoria byeengekom het, het die gemoedere hoog geloop. Reeds by die verkiesing van die moderatuur het die antipatie teenoor die Cottesloe-afgevaardigdes na vore gekom. Die moderator A M Meiring wat die Transvaalse afvaardiging gelei het, is met ’n skrale meerderheid van nege stemme herkies, terwyl die assessor Beyers Naude en die aktuarius F E O’B Geldenhuys hul posisies verloor het. Twee en ’n half dae lank is Cottesloe bespreek, waarna al die Cottesloe-aanbevelings afgekeur is. Verdere lidmaatskap van die WRK was vanselfsprekend in gedrang. Om lid te bly sou vir die kerk “ontsaglike gevare” inhou, het die ad hoc- kommissie wat die sinode hieroor moes adviseer, bevind. Alhoewel die kommissie erken het daar te min tyd vir ’n grondige studie was, wou dit tog voorkom of die WRK “wesenlik sterk liberalistiese, modernistiese, kosmopolitiese, sosialistiese en kollektivistiese tendense het, met ’n uiters sterk gelykskakelings- en nivelleringsrigting waarvan sy kleursiening ’n konsekwente uitvloeisel is” (Lückhoff 1978: 142).

Dié oordeel is nie billik nie, het dr C I van Heerden wat pas ná sy doktorale studie uit Nederland teruggekeer het, betoog. ’n Milder ordemosie is aanvaar: lidmaatskap van die WRK moes beëindig word, maar die sinode sou nog in korrespondensie met die WRK bly en sodoende nog die gepubliseerde stukke van dié liggaam ontvang.

Tien maande ná Cottesloe het die Kaapse Sinode in Kaapstad byeengekom (November 1961), slegs ’n paar dae ná die Nasionale Party weer eens ’n groot meerderheid in ’n algemene verkiesing behaal het. Die sinode het in kalmer waters plaasgevind. Beide dr AJ van der Merwe en ds W A Landman (Cottesloe-afgevaardigdes) is as moderator en skriba herkies. Tydens die bespreking was dit egter gou duidelik dat ten spyte van die verduidelikings van die afgevaardigdes, die sinode nie die Cottesloe-besluite sou goedkeur nie. Met ’n oorweldigende meerderheid het die sinode besluit om uit die WRK te tree. ’n Voorstel om soos die Transvaalse Kerk wel in korrespondensie met die WRK te bly, is met ’n meerderheid van slegs 13 stemme aanvaar.

Toe die eerste sitting van die Algemene Sinode van die N G Kerk (Oktober 1962) plaasgevind het, was die koeël reeds deur die kerk. ’n Nuwe kerkorde is aanvaar waarin bepaal is dat die N G Kerk wel ekumeniese betrekkings wil handhaaf, maar dat kontak veral met kerke van Gereformeerde belydenis en kerkregering, asook met kerke van algemene Protestantse Christelike belydenis, gesoek moet word (Kerkorde Art 70). Lidmaatskap of selfs net kontak met die WRK, was nie eers op die tafel nie.

Vir ekumeniese verhoudings het een van die donkerste tye in die N G Kerk aangebreek. As gevolg van Cottesloe sou nie net die verhouding met die WRK nie, maar ook met ander ekumeniese liggame – die S A Raad van Kerke, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (later Gereformeerde Ekumeniese Raad) en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke - dikwels onder skoot kom (Geldenhuys 1982:58; Lückhoff 1978:165-171).

Van sy kant het die WRK pogings aangewend om olie op die waters te gooi, met nie veel sukses nie. Visser’t Hooft en Bilheimer het ’n lewendige korrespondensie met talle N G Kerk-afgevaardigdes bly voer. In September 1961 het Bilheimer ’n drie weke lange besoek aan Suid-Afrika gebring, waar hy ’n gemengde ontvangs geniet het. Die redakteur van Die Kerkbode (A P Treurnicht) het hom so sterk teen die besoek uitgelaat, dat die kuratorium van die Stellenbosse Kweekskool ’n beoogde lesing van Bilheimer afgelas het. Enkele N G predikante en teoloë het nog sporadiese kontak met die WRK behou en selfs nog internasionale byeenkomste bygewoon, maar teen ’n prys. Ben Marais, wat na New Delhi gereis het om die derde Algemene Vergadering van die WRK mee te maak, het onder hewige kritiek – veral van sy kollega aan die Teologiese Fakulteit in Pretoria, A B du Preez – deurgeloop (Van der Watt 1987:126; Lückhoff 1978:150).

By die Derde Algemene Vergadering van die WRK te New Delhi (1961) is daar oor die ontwikkelinge in Suid-Afrika én oor die bedanking van die twee N G Kerke (sowel as dié van die Ned Herv Kerk) verslag gelewer. New Delhi was in die geskiedenis van die ekumeniese beweging ’n hoogtepunt. Met as tema “Christus, die Lig van die Wêreld”, het meer as 1000 afgevaardigdes wat bykans 200 kerke verteenwoordig het, saamgekom – onder hulle 23 nuwe lidkerke uit verskillende dele van Afrika. ’n Hele aantal Ortodokse Kerke uit Rusland en Oos-Europa het ook sitting ingeneem. Vir die eerste keer in baie eeue het die Oosterse en die Westerse Kerke weer in gesprek getree. Ook hier was sending hoog op die agenda. Nie net is die Internasionale Sendingraad amptelik by die WRK as die nuwe Afdeling vir Wêreldsending en Evangelisasie geïnkorporeer nie, maar het die dialoog tussen die Christelike evangelie en die ander groot wêreldgodsdienste ook heelwat aandag gekry. Teologies was die byeenkoms deurslaggewend en is besluite geneem wat baie van die N G Kerk se besware in die maande ná Cottesloe teen die rigting waarin die WRK volgens die oordeel van baie beweeg het, sou kon opvang. Die “wye” basisformule van die WRK (“The WCC is a fellowship of churches which accept our Lord Jesus Christ as God and Saviour”) is trinitaries én met verwysing na die Skrif uitgebou na: “The WCC is a fellowship of churches which confess the Lord Jesus Christ as God and Saviour according to the Scriptures and therefore to fulfill together their common calling to the glory of the one God, Father, Son and Holy Spirit” (New Delhi Report:152).

Nêrens in die rapporte voor die sinodes of studiestukke van die N G Kerk direk ná New Delhi word egter hierna verwys nie. Waarvan die Afrikaanse kerke wél met irritasie kennis geneem het was die nuus dat die WRK andermaal ’n ernstige waarskuwing teen enige vorm van rassediskriminasie uitgespreek het. Spesiale steun is uitgespreek vir Christene wat in Suid-Afrika vir die uitskakeling van rasse-segregasie en -diskriminasie stry.

Tydens die Algemene Sinode van 1966 was die WRK vlugtig op die agenda. In ’n verslag oor die N G Kerk se verhouding met die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) is berig hoe die N G Kerk die twee liggame oor hul verhouding met die WRK oor die kole gehaal het. Die GES was nie self lid nie, maar van sy lidkerke – onder andere die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) – was wel, en dit kon toekomstige verhoudings binne die GES ernstig benadeel. Verder is bekommernis uitgespreek oor Suid-Afrikaanse studente wat met WRK-beurse oorsee studeer (Handelinge 1966:528vv).

6. ‘N NUWE STORM BARS LOS – THE PROGRAMME TO COMBAT RACISM

Die tema van die vierde Algemene Vergadering van die WRK te Uppsala (1968) was “Kyk, Ek maak alles nuut!”. Meer kerke as ooit tevore (232 kerke uit 84 lande) het na Swede gereis, om onder meer oor die rol van die kerk in ’n wêreld met skynbaar onoplosbare sosio-ekonomiese en politieke probleme, te beraadslaag. Verteenwoordigers uit derde wêreld-kerke het by herhaling gevra: Wat doen die WRK om hul mense in hul stryd teen kolonialisme en onderdrukking by te staan? Kan die kerke die “revolusionêre taak” aanvaar om duidelik teen die onderdrukkende strukture van hul dag stelling in te neem? In Latyns-Amerika was die “Teologie van die Rewolusie” besig om veld te wen. Waar het die WRK gestaan? Uppsala se antwoord was duidelik:

“In countries where the ruling groups are oppressive or indifferent to the aspirations of the people, are often supported by foreign interests, and seek to resist all changes by the use of coercive or violent measures, including the ‘law and order’ which may by itself be a form of violence, the revulotionary change may take a violent form…Nevertheless, we (the churches) are called to participate creatively in the building of political institutions to implement the social changes that are desperately needed” (Uppsala Report III:15).

Teologies gesproke het die WRK hom op ’n nuwe baan begeef. Die invloed van Dietrich Bonhoeffer en J C Hoekendijk was tydens die beraad opvallend, ook tydens die bespreking van die sendingtaak van die kerk. Groot gewag is van die komende dialoog tussen die wêreldgodsdienste gemaak, terwyl New Delhi se sterk beklemtoning van sending as getuienis en diens, na sosiaal-politieke aksie verskuif het. Christus, die kosmiese Christus, was aan die werk in die wêreld – en die Kerk moes hom gehoorsaam by sy Heer aansluit (Crafford, Gous 1993:114).

Uppsala se woorde sou gou in dade oorgaan. Tydens ’n konsultasie oor rassisme in Notting Hill (1969) het Visser’t Hooft die noodsaaklikheid van ’n aksieplan teen rassisme bepleit. Nog in dieselfde jaar het die Sentrale Komitee (Canterbury 1969) besluit om ’n spesiale program, The Programme to Combat Racism (PCR), in die lewe te roep. Een van die prioriteite van die PCR sou die skepping van ’n spesiale fonds wees om rassisme te bestry. Die doel van die fonds was “raising the awareness and … strengthening the organizational capability of racially oppressed people” (Hofmeyr en Pillay 1994: 279). Dat opponente van die onderdrukkende Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid hoog op die lys van ontvangers sou staan, was gou duidelik. Toe die eerste uitbetalings in 1970 aangekondig is, was meeste van die 19 organisasies aan wie geld toegestaan is, uit Suider-Afrika. In Suid-Afrika het ’n storm van protes losgebars toe die name van ontvangers, onder meer die ANC en die PAC wat deur baie as “terroriste-organisasies” gesien is, op die lys verskyn het. Nie net die Afrikaanse Kerke nie, maar ook die S A Raad van Kerke het die uitbetalings ernstig gekritiseer – alhoewel die SARK nie toegegee het aan die druk van eerste minister John Vorster om sy bande met die WRK te verbreek nie (ibid: 279v).

Die oorbetalings aan Suid-Afrikaanse én ander bevrydingsbewegings is jaarliks gedoen (WCC 2004:1vv) en elke keer het dit hewige kritiek ontlok. Ná die 1971-skenkings het die plaaslike Anglikaanse Kerk hom van die PCR gedistansieer. Lesslie Stradling, biskop van Johannesburg, het verduidelik (Die Burger, 5 Aug 1971): “Na die eerste skenking deur die WRK aan terroriste het die Anglikaanse Kerk besluit om nie meer geld aan dié organisasie te gee nie … Ons het destyds gehoop dat die WRK ’n impulsiewe skenking gedoen het wat hom later sou berou. Nou blyk dit dat sy skenkings aan terroriste-organisasies bewese beleid is”. John Rees, hoofsekretaris van die SARK het hom ook van die skenking gedistansieer, maar bygevoeg (Die Transvaler, 11 Sep 1971): “Die besluit is geneem en ons is nie by magte om dit ongedaan te maak nie … Dit pas ons (egter) om te vra waarom die besluit geneem is. Die antwoord is duidelik. Dit was ’n reaksie op ’n onregverdige rassetoestand. Ek meen dat een van die positiewe gevolge van die Wêreldraad van Kerke se besluit is dat die Kerk nou voor ’n probleem geplaas is waaraan hy nooit veel aandag geskenk het nie. Dis die hele kwessie van geweld en nie-geweld”.

’n Afvaardiging van die SARK wat ’n onderhoud met die eerste minister in Kaapstad oor die saak gaan spreek het, moes van Mnr Vorster hoor dat hy geen besoek deur WRK-verteenwoordigers aan Suid-Afrika sou toelaat nie en dat hy beslis ook nie sou toestem dat geld uit Suid-Afrika aan die PCR-fonds oorbetaal mag word nie (Die Transvaler, 11 Sep 1971). Toe die WRK as deel van sy PCR-program verder nog steun vir ’n toerisme-boikot na Malawi, een van die min Afrika-lande met wie Suid-Afrika hartlik saamgewerk het aangekondig het, was Die Kerkbode se redakteur weer eens gereed met vlammende kritiek (Die Vaderland, 30 Aug 1971).

Ten spyte van die protes het die PCR-fonds voortgegaan met sy program. Ná die 1978-uitbetalings toe die naam van Robert Mugabe se Patriotic Front in Rhodesië op die lys van ontvangers verskyn het, het die debat in hewigheid toegeneem. Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in oorsese lande – veral in die Britse pers – is die optrede van die WRK bevraagteken. Tydens ’n driedaagse konferensie in Londen is ’n internasionale organisasie, die International Christian Network gestig, om as teenvoeter vir die WRK te dien. Die N G Kerk was nie daar nie, maar drie ander Suid-Afrikaners het die vergadering bygewoon: proff. J P Oberholzer (moderator van die Ned Herv Kerk), J L Helberg (Geref Kerke) en eerw. Fred Shaw (Metodiste-kerk). Met verwysing na die moord op ds en mev André Brand, twee N G Kerk-sendelinge (waarvoor die Patriotic Front verantwoordelik gehou is), het dr Koot Vorster verklaar: “As ’n kerk het ons geen keuse as om die WRK heeltemal teen te staan nie. Hierdie skenking bewys hulle is nie ’n Wêreldraad van Kerke nie, maar ’n wêreldlike raad van kerke” (Beeld, 14 Aug 1978).

Ook prof Ben Marais wat deur die jare ’n noue persoonlike band met die WRK gehandhaaf het, was bekommerd. In ’n ope brief aan Philip Potter, algemene sekretaris van die WRK, sê Marais dat hy nooit waarde aan die beskuldigings dat die WRK Marxisties en selfs goddeloos en duiwels geword het, geheg het nie. “Maar dit maak my seer dat u jongste optrede rede gee vir die soort karakterisering van die WRK. En ek is seker dat u dit kon en behoort te vermy het” (Oggendblad, 17 Aug 1972).

Die kritiek was egter nie universeel nie. Deur die jare het die PCR ook ondersteuning uit plaaslike kerklike geledere begin kry. Veral leiers van kerke met ’n meerderheid swart lidmate het hul waardering begin uitspreek. Baie swart Suid-Afrikaners het, in die woorde van Beyers Naude, ervaar dat die WRK en sy lidkerke hul uiteindelik met die lot van verontregtes en onderdruktes vereenselwig het (Hofmeyr en Pillay 1994: 280). By die Lambeth-konferensie (Augustus 1978) het biskop Desmond Tutu, pas aangestel as algemene sekretaris van die SARK, die skenkings verwelkom as die WRK se “positive identification with the cause of liberation. They wish to declare their identification with those who are struggling for peace, justice, human rights and a different order of society” (Rand Daily Mail. 11 Aug 1978; vgl Allen 2006:117, 288). Tydens die tiende herdenking van die PRC in Amsterdam (1980) het Charles Villa-Vicencio as Suid-Afrikaner sy waardering geboekstaaf. Dat die PCR met sy werk moes voortgaan, was vir hom duidelik (Die Burger, 25 Julie 1980).

Tydens ’n WRK-beraad in Nairobi (Des 1985) was die PCR wéér onder skoot, dié keer omdat lede van die ANC en PAC as deelnemers verwelkom is. Dr Pierre Rossouw (Direkteur van Ekumene van die N G Kerk) was van mening dat dit tot meer geweld in Suid-Afrika sal lei. Dr Martin Pauw van die Kweekskool, Stellenbosch, het verskil: Ons moet begin om met mekaar te praat, was sy standpunt: “As saam na oplossings gesoek word, kan dit vrugte afwerp” (Die Burger, 6 Des 1985). Besware en verduidelikings het mekaar afgewissel tot en met 1994, toe die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika plaasgevind het. Reg en geregtigheid het geseëvier, het die WRK geoordeel, en die PCR het sy deel bygedra. In Genève was daar dankbaarheid oor die rol wat die WRK in die verband kon speel. Maar dat die PCR-program deur die jare ook vir heelwat spanning en meningsverskil verantwoordelik was, is net so duidelik. Onteenseglik was dit een van die grootste redes vir die verwydering tussen die N G Kerk en die WRK.

7. TEOLOGIESE ONTWIKKELINGS IN DIE WRK

Die PCR was nie al wat op die WRK se agenda was nie. Te midde van die storms wat dié program wêreldwyd veroorsaak het, het die WRK met sy werksaamhede voortgegaan. Verdere ontwikkelings in die teologie van die liggaam, was daar ook. Die vyfde Algemene Vergadering is in Nairobi (1975) gehou, met as tema “Jesus Christus bevry en verenig”. Dat daar ’n besliste reaksie teen die rewolusionêre teologie van Uppsala aan die opbou was, was duidelik. ’n Jaar tevore het ’n groot getal evangeliese kerke en organisasies onder leiding van Billy Graham in Lausanne byeengekom – en die invloed van die Lausanne-verklaring was by Nairobi merkbaar. Die 286 lidkerke moes steeds opgeroep word om die sosio-ekonomiese implikasies van die evangelie ernstig op te neem, maar die evangeliserende taak van die kerk mag nie skade ly nie. Christus is die enigste hoop vir die wêreld en dié boodskap moes deurgegee word. Nairobi was minder optimisties oor die uitkoms van die wêreldwye rewolusionêre stryd teen rassisme en onreg; die derde wêreld-afgevaardigdes ook minder radikaal in hul uitsprake (Crafford en Gous 1993:115vv).

Agt jaar later het die sesde Algemene Vergadering in Vancouver (1983) byeengekom. Teen die tyd het die ledetal kerke tot 300 gegroei, verteenwoordigend van 400 miljoen Christene op aarde. Die tema van Vancouver was “Jesus Christus – die lewe van die wêreld”. Die groot vraag was hoe om in ’n verdeelde, stukkende wêreld van Jesus te getuig. Baie aandag is aan teologiese sake gegee, na aanleiding van ’n uitvoerige verslag oor hoe die lidkerke in hul beskouings oor die doop, nagmaal en bediening nader aan mekaar kon beweeg. Toe die bydrae wat die WRK steeds moes lewer om die brandende vraagstukke van die dag - die dodelike wapenwedloop én voortslepende rassisme - te help oplos, op die agenda gekom het is dr Allan Boesak aan die woord gestel. Apartheid in Suid-Afrika moet met Nazi-Duitsland vergelyk word, het hy sonder omhaal van woorde verklaar (Crafford en Gous 1993:117).

Die sewende algemene vergadering Canberra (Februarie 1991) was ’n reuse-byeenkoms, met 4000 afgevaardigdes, gaste en waarnemers. “Kom Heilige Gees: maak die hele skepping nuut”, was die tema. Onder die genooides was twee waarnemers uit die N G Kerk, professore Johan Heyns en Pieter Potgieter. In Suid-Afrika het die politieke toneel drasties verander. Die bevrydingsbewegings is ontban en het na Suid-Afrika teruggekeer. Die ANC-leier Nelson Mandela is na 27 jaar uit die tronk vrygelaat. ’n Nuwe toekoms het gewink, ook wat ekumeniese verhoudinge betref. Heyns en Potgieter is persoonlik deur die hoofsekretaris Konrad Raiser uitgenooi én ook amptelik verwelkom. In die persverklaring aan die einde van die vergadering, is onder meer berig dat die N G Kerk vir die eerste keer sedert 1961 ’n vergadering van die WRK bygewoon het. Tydens die vergadering is die N G Sendingkerk as volle lid aanvaar. Binnekort sou die N G Sendingkerk en die N G Kerk in Afrika verenig, het dr Russel Botman verklaar, en dan sal die nuwe Verenigende Gereformeerde Kerk ook aansoek doen om lidmaatskap. Alhoewel die worsteling om die verstaan van die evangelie en die eise van die evangelie teen die einde van die 20ste eeu bo-aan die agenda gestaan het én ten spyte daarvan dat daar nog baie vrae oor sekere standpunte wat binne die WRK gestel is bestaan het, was dit duidelik dat die WRK hom op die pad na vernuwing bevind het. Die jarelange spanning tussen die wêreld se evangelicals en ecumenicals was aan die afneem. In die kringe van die WRK is die ou evangeliese ideaal van Amsterdam om Christus as verlosser van die wêreld bekend te stel, weer na vore gehaal. In evangeliese kringe is die belangrikheid van ’n sosiale gewete vir die kerk beklemtoon. Die werk wat by die WRK se Sendingkongres te San Antonio (1988) as voorbereiding vir Canberra gedoen is - waar prof David Bosch ’n baie groot rol gespeel het om evangelicals en ecumenicals met mekaar te versoen – het goeie vrugte afgewerp.

Tydens die Algemene Sinode van 1994 het die WRK vir die eerste keer in jare op die sinode-agenda verskyn. In die verslag van die Algemene Sinodale Kommissie word van die nuwe verhouding wat tussen die WRK en die N G Kerk aan die ontwikkel is vertel. Informele kontak was daar baie. Raiser het met sy koms na Suid-Afrika (1993), ’n spesiale besoek aan die sinodale kantoor gebring. Die N G Kerk is genooi om waarnemers na die vergadering van die Sentrale Komitee te Midrand (Januarie 1994) te stuur. Tydens ’n onderhoud wat prof Piet Meiring (wat na die aftrede van Rossouw as direkteur van Ekumene vir die N G Kerk aangestel is) en ds Frans Maritz met Raiser gevoer het, het hy dit benadruk dat navorsers, studente en besoekers van die N G Kerk altyd by die WRK se kantore in Genève welkom sal wees. Indien die WRK deur sy komitees of personeel die N G Kerk van diens kon wees, het hulle dit graag aangebied (Agenda 1994: 33).

In 1998 het die WRK sy agste algemene vergadering in Harare gehou. Meer as 5000 afgevaardigdes (uit ’n rekordgetal van 339 kerke) en besoekers was daar, nie net om na mekaar te luister nie, maar ook na president Nelson Mandela wat ’n verrassingsbesoek gebring het. “Saam, onder die kruis, in Afrika” was die tema – en die hoofdoel van die vergadering om saam met die kerke van Afrika na te dink oor die rol van die WRK in die geteisterde kontinent. Aan die rol van vroue in die WRK, asook aan geweld teen vroue en kinders, is baie aandag gegee. Ook die plek van die Ortodokse Kerke, wat die afgelope jare ’n ongemaklikheid met die WRK begin beleef het, is onder oë geneem. Die ontspanne verhouding tussen die N G Kerk en die WRK het ná Harare voortgeduur. In 2002 is Piet Meiring genooi om by die WRK se sewende internasionale Consultation on United and Uniting Churches (Driebergen, Nederland) ’n voordrag te lewer – die eerste keer ná meer as 40 jaar dat ’n verteenwoordiger van die N G Kerk ’n WRK-podium bestyg. Meiring se verhaal oor hoe die N G Kerk op ’n nuwe pad begin stap het, die skuldbelydenis van die N G Kerk oor sy aandeel aan apartheid, sy verbintenis om op ’n nuwe manier diensbaar te wees in die wêreld én oor die vordering wat op die pad van die hereniging van die N G familie gemaak word, is in ’n amptelike publikasie van die WRK opgeneem (Meiring 2004: 117vv).

In Februarie 2006 het dr Kobus Gerber (algemene sekretaris van die N G Kerk) en Meiring die mees onlangse Algemene Vergadering van die WRK in Porto Alegre, Brasilië, as waarnemers bygewoon, saam met meer as 3 000 ander kongresgangers. Die aantal lidkerke het intussen tot 348 gestyg. Die ontvangs wat hulle geniet het, was gul. Die tema van die vergadering was “God, in u genade, transformeer die wêreld” - en Gerber en Meiring kon entoesiasties rapporteer oor die werksaamhede van die WRK, oor die wydlopende diskussies en die baie aandag wat aan Bybelstudie, sang en gebed gegee is: “ Intussen het die samestelling van die WRK ook drasties verander. In 1948 met die stigting van die WRK, was twee-derdes van die lidkerke uit Europa en Noord-Amerika. Vandag kom twee-derdes van die lidkerke uit Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Vroue en ook die jeug speel ’n al groter rol in die werksaamhede van die WRK. Teologies het die WRK sy grondslag, konstitusie en werkwyse drasties hersien om weer die oorspronklike bedoeling te weerspieël” (Agenda, Alg Sinode 2007: 405v).

Uiteindelik, op 7 Junie 2007, het die Sinode van Boksburg besluit om weer aansoek te doen om lidmaatskap van die WRK. Na 46 jaar het die N G Kerk op die pad na die wêreldliggaam begin terugstap.

8. SLOT: TERUG OP DIE PAD – EN VORENTOE.

Op dié pad – terwyl daar agtertoe én vorentoe gekyk word – kan heelwat perspektiewe na vore gehaal en talle lesse geleer word. Toekomstige navorsing sal hierop moet ingaan. Met verwysing na die verhaal van verwydering én toenadering wat hierbo vertel is, kan egter op die volgende gewys word:

8.1. Dit is duidelik dat die grootste faktor wat die verhouding tussen die WRK en die N G Kerk deur die jare bepaal het, nie teologies van aard was nie, maar met die rasse-situasie in Suid-Afrika en met die N G Kerk se jarelange steun aan die apartheidsbeleid te make gehad het. Die bekommernis wat Brink, Groenewald, Marais en Landman reeds in die jare net ná Amsterdam (1948) uitgespreek het, is bewaarheid. Die kerke van die wêreld sou swaar sluk aan die N G Kerk se nou verbintenis met die Nasionale Party asook die kerk se standpunt oor rassesake. Na 1961, toe een sinode na die ander die aanbevelings van Cottesloe verwerp het, het ’n fatale breuk tussen die WRK en die N G Kerk ontstaan. Gereelde rapporte oor die lyding van swart Suid-Afrikaners by opvolgende WRK-vergaderings, het die kloof al wyer laat gaap. Dit was eers na 1990 toe die N G Kerk formeel afskeid van apartheid geneem het én sy skuld in die verband bely het, dat die deure na die ekumeniese familie weer oopgegaan het. Uiteindelik kon die N G Kerk kon sy pad weer terugvind, eers na die S A Raad van Kerke, daarna na die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en uiteindelik ook na die Wêreldraad van Kerke.

8.2. Die Programme to Combat Racism - wat ’n direkte uitvloeisel van die WRK se verbintenis om mense wat teen onreg en rassisme stry by te staan was - het soos min ander dinge emosies laat opvlam en verhoudinge laat versuur. Vandag word daar, met reg, op die positiewe bydrae wat die PCR gelewer het gewys. Maar dat die PCR jare lank nie net in die kring van die Afrikaanse Kerke nie, maar ook van talle ander kerke - ook lidkerke van die WRK - ’n steen des aanstoots was, is duidelik.

8.3. Teologiese faktore het egter óók deur die jare ’n belangrike rol gespeel. Vrae het van twee kante gekom. Vir die WRK was die “apartheidsteologie” van die N G Kerk vreemd en onaanvaarbaar – al was dit so dat daar aanvanklik ’n mate van empatie met die spesifieke situasie waarin die Afrikaanse Kerke hulle bevind, bestaan het. Ná Evanston en veral ná Uppsala, toe stemme uit die derde wêreld al duideliker begin praat het, was die kritiek vlymskerp. In N G Kerk-kringe was daar net soveel vrae oor teologiese ontwikkelinge in die WRK. Aanvanklik was die verskille klein. Die Koninkryksteologie van Amsterdam was vir die N G Kerk-mense aantreklik, al was Groenewald eerlik genoeg om te waarsku dat die etiese konsekwensies van dié teologie ’n vraagteken oor die kerk se rassebeleid werp. By sinodes is, van tyd tot tyd, die wye basisformule van die WRK en die noue verhouding met Rome gekritiseer. Maar dit was eers ná Cottesloe dat die WRK se teologie behoorlik onder skoot gekom het. Onder die eerste kritici was die redakteur van Die Kerkbode, A P Treurnicht, wat in talle inleidingsartikels die “liberalistiese ideologie” van die WRK aangeval het (Lückhoff 1978: 108vv), asook J D Vorster wat die WRK as “die magtigste linkse organisasie ter wêreld” afgemaak het (Elseviers Weekblad, 5 Aug 1972). Later, veral ná Uppsala, het ook ekumeniesgesindes soos Ben Marais (Oggendblad, 17 Aug 1972), O’Brien Geldenhuys (1982: 93), Johan Heyns (Oggendblad, 17 Aug 1978) en Willie Jonker (Hoofstad, 20 Okt 1982) die rewolusionêre teologie van die WRK bevraagteken (vgl Meiring 1995:34.). Toe dit egter ná Nairobi en Vancouver duidelik begin word het dat die teologiese pendulum van die WRK na ’n meer gematigde evangeliese posisie begin terugswaai het, is baie van die besware opgevang. By Canberra, Harare en Porto Alegre was dit duidelik dat die evangelicals en die ecumenicals van die wêreld mekaar weer begin hoor het. Teologies gesproke, het die moderamen van die Algemene Sinode (2007) geoordeel, sou die N G Kerk hom weer tuis kon voel in die ekumeniese familie.

8.4. In ’n brief wat C B Brink ná Cottesloe aan Visser’t Hooft geskryf het maak hy melding van ’n gebrekkige ekumeniese bewussyn in die N G Kerk. Die N G Kerk, sê Brink, het wel sedert 1948 aan die WRK behoort en verslag aan sy sinodes gegee, maar ”(d)it blyk nou dat dit nie genoeg was nie en dat ons nie kan verwag dat ’n Sinode ekumenies sal handel tensy die Kerk geleer is om ekumenies te dink en te leef nie” (Lückhoff: 144). Brink se woorde is in die dekades ná Cottesloe wáár bewys. Ook vandag moet die vraag nog gevra word: hoe ’n groot premie plaas die kerk – ook op gemeentelike én sinodale vlak – op ekumeniese verhoudings? Op Algemene Sinodale vlak is heelwat inisiatiewe geneem en het die vestiging van ’n vaste ekumeniese kantoor, sedert 1978, ’n besliste bydrae gelewer (Crafford en Gous 1993:346, 366vv). Vanuit dié kantoor is en word baie gedoen om bande met ander kerke in die binne- én buiteland uit te bou. Maar of die hele N G Kerk al geleer het om “ekumenies te dink en te leef” is ’n oop vraag. Of die teologiese fakulteite in hul curricula genoeg aandag hieraan gee, is ’n ewe groot vraag.

8.5. Die rol wat enkelinge gespeel het om die kerk op sy ekumeniese pad te begelei, om die N G Kerk voortdurend uit te daag om die struikelblokke op die ekumeniese pad te verwyder, vra na behoorlike navorsing. Die bydrae van sommige “profete binne die kerk” (C B Brink, Ben Marais, O’Brien Geldenhuys, David Bosch, Willie Jonker en andere) sowel as dié “buite die kerk” (Beyers Naudé en sy medestanders) is al beskryf, ander nie. Die baie stemme uit die N G Kerkfamilie (Sam Buti, Allan Boesak, Russel Botman, Jaap Durand, Nico Smith en hul kollegas), soos ook dié van leiers van ander Suid-Afrikaanse kerke (met aartsbiskop Desmond Tutu vóór in die ry) - wat ten spyte van soms vlymskerp kritiek geweier het om ten opsigte van die N G Kerk moed op te gee - moet weer gehoor én beoordeel word. ’n Heel aparte studieveld is die rol van joernaliste wat sowel die kerklike as die sekulêre pers verteenwoordig het. Knipsels in die Algemene Sinodale Argief (Stellenbosch) bied fassinerende leesstof. Redakteurs soos S E D Brown (South African Observer) en A P Treurnicht (Die Kerkbode) was veral in die jare net ná Cottesloe onvermoeid in hul ywer teen die WRK. Terwyl die meeste Engelse opposisie-koerante die WRK in die algemeen goedgesind was (totdat die PCR aan die orde gekom het), was die Afrikaanse pers, soos ook die SAUK, deur die jare uiters krities. In die sewentiger en tagtiger jare het egter ’n nuwe geslag kerklike beriggewers (veral Abraham Lückhoff, Rykie van Reenen, later ook Neels Jackson) met meer gebalanseerde beriggewing na vore gekom, wat beslis meegehelp om kerklike opinies te vorm.

8.6. Wat die toekoms betref: alles dui daarop dat die WRK by sy volgende algemene vergadering (waarskynlik in 2013), die N G Kerk se aansoek om lidmaatskap sal goedkeur. Intussen kan die kerk reeds aan die werksaamhede van die liggaam begin deelneem. Die N G Kerk het tydens die Sinode van Boksburg sy roepingsverklaring herbevestig om die evangelie tydig en ontydig te verkondig en om oral getuienis af te lê van die hoop wat in ons leef. Die kerk het hom opnuut verbind tot diens in die samelewing en om ’n bydrae tot die genesing van ons land te lewer, asook om na groter eenheid met ander kerke, plaaslik én wêreldwyd, te streef. Lidmaatskap van die WRK sal die N G Kerk op sy pad om dié hoë doel te bereik aansienlik aanhelp. En wie weet, miskien kan die kerk ook, sy dit op ’n heel beskeie wyse, ’n eie bydrae in die wêreldliggaam lewer.

BIBLIOGRAFIE

Alberts, L en Chikane, F 1991. The road to Rustenburg. Kaapstad: Struik Allen, John 2006. Rabble-rouser for peace: The authorized biography of Desmond Tutu. Londen: Rider

Crafford, D en Gous, G (reds) 1993. Een liggaam – baie lede. Pretoria: Verba Vitae Elphic, R en Davenport, R (red) 1997. Christianity in South Africa. Kaapstad: David Philip

Geldenhuys, F E O’Brien 1982. In die stroomversnellings. Kaapstad: Tafelberg

Groenewald, E P 1952. Verslag oor Ekumeniese Bewegings, voorgelê aan die Moderatuur en Sinodale Kommissie van die Ned.Herv. Kerk van Suid-Afrika. Johannesburg: N H of G Kerk

Groenewald, E P 1961. “Die Transvaalse Kerk en die Cottesloe-beraad”, NGTT (Junie 1961): 131vv.

Hofmeyr, J W en Pillay G J (reds) 1994. A History of Christianity in South Africa(1) . Pretoria: HAUM

Hope, M en Young, J 1981. The South African churches in a revolutionary situation. Maryknoll: Orbis

Landman, W A 1955. Ons rassevraagstuk, die wêreldmening en ons toekoms. Stellenbosch: CSV

Lückhoff, A H 1978. Cottesloe. Kaapstad: Tafelberg

Meiring, Piet 1991. “Die ekumeniese isolasie van die N G Kerk” in De Villiers E en Kitching, D (reds) Derdegelui vir môre. 1991: Tafelberg

Meiring, Piet 1995. Die N G kerk en die nuwe ekumeniese situasie. Fak.Teologie, Univ. van.Pretoria.

Meiring, Piet 2004. “The Dutch Reformed Family in South Africa: Lessons learned on the way to reunification” in Best, Thomas F : With a demonstration of the Spirit and of power. Geneve: WCC

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962,1966, 1978, 1982, 1986, 1994, 2007. Agendas en Handelinge van die Algemene Sinode. Pretoria: NGK

Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk 1957. Handelinge van die Sinode 1957. Pretoria

Randall, Peter (red) 1982. Not without honour: Tribute to Beyers Naudé. Johannesburg: Ravan

Van der Watt, P B 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NGKB

Villa-Vicencio, C en de Gruchy, J W (reds) 1985. Resistance and Hope. Grand Rapids: Eerdmans

World Council of Churches 1954. Evanston Speaks. Genève:WCC

­ 1968: Uppsala Report. Genève: WCC

­ 2004: Program to Combate Racism, 1936-1996. Genève: IDC

Nota i v m die koerantberigte: Kopieë van die artikels en berigte uit die dagbladpers waarna in die artikel verwys word, is te vinde in die versameling van koerantknipsels wat in die Argief van die Algemene Sinode van die N G Kerk, Stellenbosch, bewaar word.

Kontakbesonderhede

Prof PGJ Meiring

Fakulteit TEOLOGIE

Universiteit van Pretoria

0002

E-posadres;pmeiring@ccnet.up.ac.za

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.