ngtt_v43_n3_a05

P Coertzen
Universitieit van Stellenbosch

350 Jaar Gereformeerd 1652-2002. Kerkreg en kerkregering in die NG Kerk gedurende die afgelope dekades

ABSTRACT

350 Years Reformed 1652-2002. Church polity and church governance in the DR Church during the past decades

The article describes and evaluates certain aspects of the order in the Dutch Reformed Church during the past few decades. The aspects which are described and evaluated are: the nature of the church polity and government in the Dutch Reformed Church; developments regarding the Church Order; development with regard to the offices in the Church; labour relations, and church orderly development with regard to church unity.

1. TER INLEIDING

Alles in die Kerk is beslis nie kerkreg nie – die lewe van die kerk van die Here Jesus is baie wyer en baie meer omvattend as net kerkreg en kerklike orde. Dit is egter net so waar dat alles in die Kerk – die verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente, die kategese, die herderlike versorging van die lidmate, die diens van barmhartigheid, die opbou van die gemeente, die ampte, diensverhoudinge, kerkvergaderinge, opsig en tug, die beslegting van geskille, appèlle en die hantering daarvan, die verhouding tussen die kerk en die staat, die kerk en die onderwys aan dooplidmate, die openbare getuienis van die kerk en die kerk se ekumeniese betrekkinge – al hierdie sake en watter ander aspek van die kerk se bestaan ’n mens aan sou kon dink, deel is van die orde van die Kerk en elkeen het gevolglik ’n bepaalde kerkregtelike kant. Wanneer ’n mens dus wil praat oor die geskiedenis van kerkreg en kerkregering in die NG Kerk die afgelope vyftig jaar of so, sou ’n mens op die kerkregtelike kante van al die gemelde aspekte kon ingaan. Dit is egter ’n onbegonne taak om dit te wil doen. Daarom wil ek graag in hierdie artikel konsentreer op ’n aantal kerkregtelike aspekte van die afgelope klomp dekades en meer wat na my mening belangrik is. Ek wil naamlik aandag gee aan

• die aard van kerkreg en kerkregering in die NG Kerk;

• ontwikkelinge met betrekking tot die kerkorde as sodanig;

• ontwikkelinge betreffende die ampte;

• diensverhoudinge, en

• kerkregtelike ontwikkelinge betreffende kerkeenheid.

2. DIE AARD VAN KERKREG EN KERKREGERING IN DIE NG KERK

By die Sinode van 1886 het ’n beskrywingspunt van prof A Moorrees gedien dat Kerkreg as ’n selfstandige vak by die Kweekskool gedoseer moet word. Hoewel die beskrywingspunt deur die Sinode goedgekeur is, is dit nie seker of dit wel ten volle in die praktyk deurgevoer is nie, want in 1917 herinner die kuratore die professore daaraan dat hulle “gaarne zien dat er meer aandacht aan het studie van Kerkrecht in het Semminarium gegeven zal worden, daar de omstandigheden van den tegenwoordig tijd dit eischen” (Notule Curatorium, 24 Okt 1917, KKA, S, 1/2, 175). Die omstandighede van die teenwoordige tyd waarna verwys word, is klaarblyklik ’n hernude belangstelling in en toepassing van sogenaamde kollegialistiese kerkreg en kerkregering in die NG Kerk.

Op 26 Desember 1923 is daar in De Kerkbode ’n bespreking deur die redakteur van P J S de Klerk se boek Kerk en sending in Suid-Afrika. Die redakteur neem sterk standpunt in teen sekere stellings van De Klerk oor die kerk en stel dit as die standpunt van die NG Kerk dat die Algemene Kerk ’n ondeelbare geheel vorm waarvan geen gemeente hom kan afskei nie en vervolg dan: “Men is in de eerste plaats lid der Kerk en uit kracht daarvan lid van de biezondere gemeente” (De Kerkbode, 26 Des 1923). Hierdie standpuntstelling van die redakteur bring die reaksie van prof Keet dat so ’n siening inderdaad Rooms of Kollegialisties is. Hierop volg ’n heftige polemiek in De Kerkbode en ’n klag teen prof Keet by die kuratorium dat hy ’n kerkreg doseer wat nie volgens die gangbare opvatting van die kerk en die Wette en Bepalinge is nie. Prof Keet verdedig hom met krag teen die beskuldigings. Op 27 Februarie 1924 skryf hy in De Kerkbode dat kerkregering moet geskied in ooreenstemming met sy oorsprong en wese en volgens die beginsels wat deur Christus in sy Woord daarvoor neergelê het. Hierop laat volg hy dan: “Laat my hier sê dat ons kerklike Wetten en Bepalingen ten spyte van sy afkoms, deur Gods genade, met al sy gebreke nie so ver van die Gereformeerde beginsel staan as wat dikwels beweer word nie. Die moeite kom van die verkeerde interpretasie, wat soms daaraan gegee word. Daar is in die loop van die tyd reeds groot verbeteringe aangebring, en die meeste foute, wat daar nog in voorkom, sit meer in die wyse van uitdrukking as in die saak self” (De Kerkbode, 27 Feb 1925, 281). In Oktober 1924 met die sluiting van die Kweekskool lewer hy sy rede, Na Honderd Jaar De Regeringsvorm van de Nederduitse Gereformeerde Kerk aan de Gereformeerde Beginselen getoetst, waarin hy tot die volgende slotsom kom: “Het resultaat van ons onderzoek is, dat de regeringsvorm van de Ned Geref Kerk, ondanks de vele onvoordelige omstandigheden welke hare geboorte omgaven en hare ontwikkeling bemoeilikten, niet in strijd is met de beginselen van het gereformeerde kerkrecht. Ze is in haar wezen niet kollegialisties; ze is ook niet kongregationalisties; maar ze is die presbyteraal- synodale vorm van kerkregering, welke de plaatselike gemeente en het verband van de kerk beide op het zuiverst tot hun recht laten komen. Zij wil vrij zijn, om volgens Gods Woord haar geestelike roeping te kunnen volbrengen, gedachtig aan het woord, dat Christus der gemeente tot ’n Hoofd gegeven is boven alle dingen, welke Zijn lichaam is en de vervulling Desgenen, die alles in allen vervult” (Keet 1925:26).

Op 25 November 1925 vergader die kuratorium op Stellenbosch om onder meer aandag te gee aan die beweerde geskil tussen dr Keet en die kuratorium. ’n Week later berig De Kerkbode dat die saak op ’n broederlike wyse bespreek is “met ‘t gevolg, dat duidelijk geworden is dat er eigenlijk geen wezenlijk verscjil bestaat. Deze kwestie … is dan gelukkig bijgelegd” (De Kerkbode, 2 Des 1925, 1611).

Met sy standpuntstelling in 1925 het B B Keet die karakter van kerkregering in die NG Kerk beskryf. In 1959 het W D Jonker Keet se standpunt herbevestig toe hy in antwoord op ’n bewering van prof S du Toit, rektor van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Potchefstroom, dat die NG Kerk met sy voorgenome nuwe kerkorde eintlik erken dat sy stelsel van kerkregering nog altyd ongereformeerd was, die volgende geskryf het: “Die nuwe kerkorde is net eenvoudig ’n nuwe vormgewing van wat ons al die jare in die wette en bepalinge gehad het, sodat dit in ons kerkorde geen verskil gaan maak wanneer ons die nuwe kerkorde in die plek van die bestaande wette en bepalinge invoer nie. Van ’n radikale breuk kan hier geen sprake wees nie, en nog minder van ’n verandering van die stelsel van ons kerkregering” (Jonker, Die Kerkblad, 16 Sep 1959, 8).

Hierdie karakterisering van die kerkregering in die NG Kerk sou in 1962 neerslag vind in die Kerkorde van die nuwe Algemene Sinodale verband tussen NG Kerke. In Artikel 1 van die Kerkorde lees ons: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig Artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Vyf Dordtse Leerreëls.” Hierdie bewoording sou onveranderd bly tot in die huidige Kerkorde (1962-1998). Dit is opvallend dat nóg die Dordtse Kerkorde nóg die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (1959) enige sodanige inskrywing bevat wat eintlik die karakter van die kerkorde en die kerkverband beskryf. Die Christian Reformed Church of North America wat grootliks op die Dordtse lees geskoei is, bevat wel sedert 1960 met die hersiening van hulle Kerkorde wel sodanige inskrywing. Dit wil dus voorkom of die neiging om die doel en basis van ’n kerkorde en ’n kerkverband te tipeer uit resente tye dateer. Daar moet egter ook gestel word dat hierdie standpuntstelling van die NG Kerk as gevolg van onder meer veranderinge in Skrifbeskouing geweldig onder druk gekom het in die jongste jare (vgl Brits 2001). Wanneer die Skrif nie meer as normatief vir die leer en lewe van die kerk gesien word nie maar die mense se nadenke oor die Skrif wat telkens opnuut in die tyd hermeneuties binne ’n bepaalde konteks vergestalt moet word, lei dit noodwendig tot bepaalde gevolge in die regering van die kerk. Voeg hierby allerlei nuwe teologiese modelle met sterk tendense tot die demokratisering van die kerk – “die bemagtiging van gelowiges” is woorde wat gebruik word – en die regering van die kerk in terme van blote bestuurswetenskaplike paradigmas en dit is duidelik dat die gereformeerde karakter van kerkregering in die NG Kerk nie meer sonder meer as ’n gegewe aanvaar kan word nie.

3. DIE KERKORDE

Nadat die NG Kerkverband in 1862 as gevolg van ’n hofbeslissing verbreek is, het elkeen van die vier sinodes wat toe tot stand gekom het, naamlik die NG Kerk in Suid-Afrika en die NG Kerke Natal, Vrystaat en Transvaal, hulle eie Kerkordes gehad. Deurentyd het daar egter stemme opgegaan vir die herstel van die kerkverband. Die Federale Raad van NG Kerke het hom veral sedert sy stigting in 1905 baie sterk hiervoor beywer. Op sy vergadering van 1955 besluit die Raad om dit aan die Kommissie van Actuarii op te dra om ’n kerkorde op te stel in oorleg met die Kommissie vir Kerkvereniging (Handelinge van die Raad van Kerke 1955, 90). Kleynhans is van mening dat hierdie besluit die standpunt weerspieël het dat ’n kerkorde noodsaaklik is as basis vir kerkvereniging (Kleynhans 1973:149).

In 1957 rapporteer die Kommissie van Actuarii aan die Raad (i) dat hulle na oorlegpleging met die Kommissie van Kerkvereniging met die oog op die ontwikkeling van die kerklike organisasie besluit het om nie in daardie stadium ’n kerkorde op te stel nie; (ii) dat hulle aandag gaan skenk aan die hersiene Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland ten einde te bepaal wat die waarde daarvan vir ons is, en (iii) dat hulle die Raad versoek om hulle opdrag ’n staande opdrag te maak (Handelinge van die Raad van Kerke 1957, 73-74). Die Raad se reaksie is dat hy andermaal die verskillende sinodes vra om hulle ten gunste van die kerkvereniging uit te spreek en dat dit nou die aangewese tyd is om dit te doen. Die Kommissie van Actuarii word daarom gevra “om by die volgende vergadering van die Raad ’n konsep Kerkorde voor te lê wat:

(i) kan dien as basis van vereniging, en

(ii) waaruit duidelik sal blyk wat die verhouding tussen die verskillende Sinodes, Provinsiaal en Nasionaal sal wees en wat die magte en bevoegdhede van die verskillende Sinodes sal wees” (Handelinge van die Raad van Kerke 1957, 37).

In 1959 lê die Kommissie van Actuarii ’n konsepkerkorde “as basis vir kerkvereniging” aan die Raad voor. Die Raad neem dit in behandeling, bring bepaalde wysigings aan en verwys dit na die verskillende sinodes met die versoek dat hulle kommentaar aan die afgevaardigdes na ’n Konvent, voorafgaande aan ’n Algemene Sinode, voorgelê moet word vir oorweging en ’n finale beslissing. Die Kerkorde met die voorgestelde wysigings van die onderskeie sinodes is op 11 en 12 Oktober 1962 aan die Konvensie van die Ned Geref Kerk in Kaapstad voorgelê, verder gerevideer en daarna eenparig goedgekeur (Handelinge Algemene Sinode 1962, 225-232).

Hierdie goedkeuring van ’n kerkorde vir ’n Algemene Sinodale verband van Ned Geref Kerke het ’n baie besondere mylpaal in die kerkregtelike ontwikkeling van die Ned Geref Kerk gekenmerk. Die bronne vir die Kerkorde was onmiskenbaar die Dordtse Kerkorde, die hersiene Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959 en dan ook uit die aard van die saak die hele kerkregtelike ontwikkeling van die Ned Geref Kerk in die geheel van Suid-Afrika. By talle van die artikels in die nuwe Kerkorde is daar omtrent letterlike oornames uit die Dordtse Kerkorde en ook die nuwe Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN). Soos die GKN het die NG Kerk met die Kerkorde beslis ook die weg opgegaan van presbiteriaal-sinodale kerkregering waarin elkeen van die kerkvergaderinge na hulle eie aard ’n kerklike gesag het wat deur Christus aan hulle verleen is (KO 1962-1998, Art 20). Hoewel prof Keet dit in sy sluitingsrede van 1925 ook eksplisiet gestel het dat die NG Kerk ’n presbiteriaal-sinodale kerkregering het, skryf hy tog nog in 1963, ’n jaar na die aanvaarding van die nuwe Kerkorde, in sy werk Orde in die Kerk, klaarblyklik in navolging van sekere doleansie-kerkregstandpunte: “Vir ons opvatting is die kerkraad die enigste bestuur in die kerk omdat hy optree kragtens die amp van dié wat daarin dien … Hieruit vloei voort dat die sinode nooit heersend oor die plaaslike gemeente mag optree nie; sy gesag word nie ontleen aan ’n mag wat hoër is as dié van gewone die gewone amp nie, maar aan die vrywillige ooreenkoms van gelyke lede van ’n vergadering waar die minderheid hom onderwerp aan die besluite van die meerderheid … In ’n sekere sin dus is die mag van die sinode meer beperk as dié van die kerkraad; dit is ’n afgeleide mag” (Keet 1963:17). Die spanning oor die gesag van meerdere vergaderinge soos verwoord enersyds deur die Kerkorde (1962) en andersyds deur ’n leidende kerkregtelike soos prof Keet bestaan tot vandag toe voort in die NG Kerk en het selfs in dié mate toegeneem. Daar is klaarblyklik standpunte in die Kerk wat groter gesag aan die kerkraad wil toeken en amper op ’n Independentistiese wyse te werk wil gaan met die gesag van die kerkraad, terwyl daar ander gevoelens is dat ’n presbiteriaal-sinodale vorm van kerkregering juis beteken dat albei die kerkraad én die meerdere vergadering ’n gesag het kragtens die funksie wat aan hulle toegeken is. Die NG Kerk het volgens die artikels van sy Kerkorde gekies om die weg op te gaan van die presbiteriaal-sinodale kerkregering.

Verder is daar in die jongste tyd ’n geneigdheid by sommige leraars en selfs ook kerkrade om hulle in baie belangrike sake nie by die Kerkorde te hou nie. ’n Pertinente voorbeeld hiervan is die standpunte en praktyke oor die samestelling van kerkrade waar daar in stryd met die artikels van die Kerkorde wyses van samestelling voorgestaan word wat die geldigheid van kerkrade en hulle besluite in gedrang kan bring (vgl Van der Merwe & Marais 2001:88). Dit is insiggewend dat die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) in sy pastorale brief aan predikante in 2001 dit ook nodig gevind het om leraars op te roep tot getrouheid aan die Kerkorde van die Kerk (vgl die pastorale brief van die ASK aan predikante, Mei 2001). Hierdie kommer is ook uitgespreek deur die voorsitter van die ASK, prof Pieter Potgieter, in ’n onderhoud met Die Kerkbode (Die Kerkbode, 5 Apr 2002).

4. DIE AMPTE

4.1. Die aantal ampte in die Kerk

In die Kerkorde (KO) van 1962 lui die bewoording oor die ampte soos volg: “Die drie ampte waaraan Christus die dienswerk van die kerk toevertrou het, is dié van bedienaar van die Woord, dié van ouderling en dié van diaken. Hierdie drie ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei” (KO 1962). Die herkoms van die inskrywing tot op hierdie punt is baie duidelik die nuwe Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (Art 2,1959). Die NG Kerk voeg egter die volgende by: “By die uitoefening van hulle roeping mag geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van Sy kerk is.” Weer eens hoor ’n mens soortgelyke woorde in die Kerkorde van die CRCA (Art 1, 1960). In die Kerkorde van 1998 word daar ’n duidelike onderskeid gemaak tussen die dienswerk van gelowiges en die dienswerk van die besondere ampte (KO 1998, Art 3). Daar is dus tans erkenning daarvoor dat alle gelowiges ’n roeping tot dienswerk het benewens die besondere dienswerk van die besondere ampte. Soos die GKN het die NG Kerk sedert 1962 ook net drie ampte.

By die Algemene Sinode van 1998 het die Sinode herbevestig dat die bestaande drie be- dieninge van bedienaar van die Woord, ouderlinge en diakens ’n Skriftuurlik-verantwoorde gestaltegewing van die Nuwe-Testamentiese ampsbeskouings is (Agenda Algemene Sinode 1998, 211 en 219 ev; Handelinge, 435). Terselfdertyd het die Sinode ook aanvaar dat daar in beginsel geen beswaar is teen die verbreding van die inhoud van die bestaande ampte nie en dat daar ook geen prinsipiële beswaar kan wees teen die vermeerdering van die aantal ampte in die Kerk nie (Agenda Algemene Sinode 1998, 211-212; Handelinge, 435). Een van die voorbeelde wat genoem word as ’n verbreding van die aantal ampte is die instelling van ’n afsonderlike kategete-amp (Agenda Algemene Sinode 1998, 220; Handelinge, 435-436). Dit is duidelik dat daar ook in hierdie opsig ’n bepaalde dinamika in die ampsontwikkeling van die NG Kerk is.

4.2. Vroue in die ampte

’n Belangrike ontwikkeling in die ampsbeskouing van die NG Kerk was die toelating van vroue tot die diakenamp eers in 1986 (Agenda Algemene Sinode 1986, 461; Handelinge 1986,1248) en toe in 1990 tot al die ampte in die NG Kerk (Agenda Algemene Sinode 1990, 131; Handelinge 1990, 563). Saam met die voorstel van 1990 was daar ook ’n minderheidsvoorstel wat onder meer wou hê dat die Algemene Sinode moet kennis neem van die groot meningsverskil wat daar bestaan oor die juiste interpretasie van Skrifgedeeltes wat handel oor die posisie van vroue in die besondere ampte. Hierdie voorstel is nie goedgekeur nie en sedert 1990 is vroue toegelaat tot die ampte van leraar, ouderling en diaken in die NG Kerk. Nog was dit nie die einde van die verhaal oor die vrou in veral die amp van leraar in die NG Kerk nie. Vanaf 15-17 September 2000 vind daar op versoek van die ASK ’n kongres plaas by die Orchard Rereat Sentrum in Johannesburg. In haar verslag skryf die verteenwoordiger van die ASK, dr Cecile Cilliers, onder meer die volgende: “Die vroue (veral vrouepredikante en -proponente) se pyn en vernedering wat hulle ervaar het, is met begrip deur die mans aangehoor … As sameroeper is ek nie ontevrede met hierdie eerste aanvoer van ’n belangrike saak nie, maar ek het bepaalde kwellings en bedenkinge oor wat nou vir die vrou in die kerk en in al die ampte voorlê. Daar is ’n sterk drukgroep onder van die vroue – nie noodwendig van die predikantekorps nie – aan die ontwikkel, ’n groep wat weinig vertroue het in die wil van die ASK om werklik met hierdie saak erns te maak.” Dr Cilliers versoek die ASK om erns te maak met die voorstelle wat van die kongres af kom “voordat ’n goeie saak deur verdagmakery en onnodige onderlinge struweling gekniehalter of selfs gekelder word” (Agenda ASK, Nov 2001, 79). Na aanleiding van die verslag het die ASK onder meer soos volg besluit: “Die ASK bevestig onvoorwaardelik dat diskriminasie teen vroue sonde was en is; bely sy eie aandeel, bewustelik of onbewustelik, aan optredes wat onbillik en kwetsend teenoor vroue in die kerk kon wees; moedig predikante, kerkrade en lidmate aan om sensitief te wees vir neerbuigendheid en vooroordeel teenoor vroue; onderneem om meganismes aan die gang te sit om tot en met die volgende Algemene Sinode ernstig aandag te gee aan die saak, na aanleiding van die versoek wat vanaf die Kongres oor die Vrou in die Kerk onder die ASK se aandag gekom het” (Notule ASK, Nov 2001,12). Hierop is ’n taakspan aangewys wat tot by die Algemene Sinode van 2002 die saak van die vrou in die amp – met verwysing na vrouepredikante, -ouderlinge en - diakens en selfs die vrou in die kerk – sal ondersoek, organiseer en dryf tot bevrediging van alle partye” (Notule ASK, Nov 200, 12).

4.3. Status of bedieningsbevoegdheid

Die status, amps- of bedieningsbevoegdheid van predikante en proponente het gedurende die afgelope vyftig jaar telkens op die agenda van die NG Kerk gekom. Reeds by die tweede ver- gadering van die Algemene Sinode in 1966 dien daar ’n verslag van die Tydelike Regskommissie oor die Status en Legitimasie van Predikante (Algemene Sinode 1966, Handelinge, 449). In daardie stadium onderskei die Kerk tussen vyf vorme van predikantstatus:

(i) Predikante wat bevestig is as bedienaars van die Woord in plaaslike gemeentes – hulle dra die titel van Dominee en het volle ampsbevoegdheid.

(ii) Predikante in sinodale diens of wat professore aan die Kerk se teologiese skole is. Hulle dra die titel van Dominee en Professor, maar het slegs beperkte ampsfunksies.

(iii) Persone wat nie as predikante aan ’n gemeente verbind is of in sinodale diens staan nie, maar geestelike werk verrig in terme van Art 11 van die KO. Hulle behou die ampsbevoegdheid om die Woord en sakramente te bedien en behou die titel Dominee.

(iv) Persone wat ’n teologiese opleiding ontvang het, maar met akademiese werk besig is aan ’n onderwysinrigting. As hulle toestemming tot behoud van bevoegdheid verkry het, het hulle proponentsbevoegdheid. So ’n persoon moes hom een maal elke drie jaar by die Legitimasie- kommissie aanmeld ten einde “hom te verantwoord ten opsigte van sy reg op behoud van status”. (v) Persone wat uit die bediening getree het en ’n ander betrekking beklee waarvoor geen behoud van bevoegdheid toegeken kan word nie. Hulle verbeur die titel van Dominee of Proponent (Algemene Sinode 1966, Handelinge, 449).

Teen 2002 is daar in die Kerkorde ’n Reglement vir die reëling van die bevoegdheid van Predikante en Proponente (KO 1998, 31, Regl 3). Enersyds stel die reglement dit dat daar nie so iets is soos ’n ampstatus wat “geleë (is) in bepaalde vermoëns of besondere kwaliteite, of ’n aparte geestelike stand wat beklee is met ’n blywende eer of mag en wat deur ’n daad van ordening verkry word nie” (KO 1998, Regl 3.1.2). Andersyds word die verkryging en behoud van ampsbe- voegdheid baie sterk verbind aan die funksionering daarvan binne gemeentelike verband. Van beroepe teologiese dosente, predikante in sinodale diens en emeriti word gesê dat hulle wel predikantsbevoegdheid het, maar nie in die amp staan nie omdat hulle nie na ’n gemeente beroep en bevestig is nie (KO 1998, Regl 3.2.3). Die reglement maak egter wel voorsiening dat dosente en predikante in sinodale diens, benewens hulle verbandswerk, ook per ooreenkoms na ’n ge- meente beroep en bevestig kan word; op dié manier staan hulle dan ook in die amp van predikant (KO 1998, Regl 3.1.3). ’n Gemeenteleraar wie se band met ’n gemeente losgemaak word, kan slegs predikantsbevoegdheid behou as die band met die gemeente losgemaak is na aanleiding van KO, Artikel 12.5.2 of KO, Artikel 12.5.3. ’n Persoon wat die bediening na aanleiding van KO, Artikel 11 verlaat, verkry proponentsbevoegdheid en bly as sodanig dus net beroepbaar in die NG Kerk en kan op geen verdere ampsbevoegdhede aanspraak maak nie.

Dit blyk dat daar ’n aantal sake is wat tog verdere aandag nodig het. Daar moet byvoorbeeld in die NG Kerk deeglik besin word oor wat presies met ordening tot ’n leraar bedoel word – dit is nie maar net ’n bloot formele saak wanneer iemand georden word tot ’n bedienaar van die Goddelike Woord nie en daar word deesdae heeltemal te min hiervan gemaak. Daar moet ook besin word oor die standpunt om aan predikante in doseerposte en in diens van die kerkverband wel predikantsbevoegdheid te gee, maar terselfdertyd te sê dat hulle nie in die amp staan nie. ’n Standpunt soos hierdie is myns insiens nie te rym met presbiteriaal-sinodale kerkregering nie. Hierdie predikante staan wel deeglik in ’n amp, hoewel dit weliswaar ’n amp met ’n beperkte bevoegdheid kan wees daarin dat hulle byvoorbeeld net die Woord en die sakramente kan bedien en as predikant nie al die ander funksies van ’n predikant kan vervul nie – hulle funksie is die bediening van die Woord en sakramente in die opleiding van predikante en in diens in die kerkverband.

5. DIENSVERHOUDINGE

’n Baie belangrike ontwikkeling in die kerkregering van die NG Kerk gedurende die afgelope vyftig jaar was die voorstelle oor diensverhoudinge wat voor die Algemene Sinode van 1998 gedien het en ook goedgekeur is. In die inleiding tot die voorstelle is die volgende argumente ter motivering genoem:

(i) Dit het geblyk dat in die diensverhouding tussen ’n predikant en die gemeente dit nodig geword het om die nuwe arbeidswetgewing, wat in 1997 in werking getree het, in berekening te bring. Daar moes weer na Artikels 7, 9, 12, en 13 van die Kerkorde asook die Reglement vir die reëling van Bevoegdheid van Predikante en Proponente en ook die Verlofreglement gekyk word.

(ii) Dit het verder geblyk dat die onversoenbaarheid van die nuwe Arbeidswetgewing met die Kerkorde van 1994 die Kerk gedwing het om vars te dink oor die arbeidsverhoudinge in die gemeente ten opsigte van sy werknemers.

(iii) Uit die gesigshoek van die arbeidsreg is dit ook as onaanvaarbaar gesien dat ’n bepaalde gemeente die werkgewer van ’n predikant is terwyl die kerkverband (die ring en die sinode) die finale seggenskap in die uitdiensstelling van die predikant het.

(iv) Dit was ook nodig om die verhouding tussen diensbeëindiging, soos omskryf in die Kerkorde (1994), Artikels 12 en 13, en tugmaatreëls soos verwoord in hoofstuk 5 van die Kerkorde duidelik te bepaal.

(v) Daar moes ook duidelikheid verkry word oor wat die taakomskrywing van ’n predikant is met die vraag of Artikel 9 van die Kerkorde (1994) so ’n taakomskrywing bevat en of dit net ’n beskrywing is van die karakter van die predikantsamp. “Indien aanvaar sou word dat Artikel 9 wel die taakomskrywing van die predikant bevat, ontstaan die vraag wat die funksie van die beroepsbrief dan is veral aangesien die beroepsbrief nêrens in die Kerkorde vermeld word nie.” Gegewe hierdie vrae is daar by die Algemene Sinode aanbeveel om Artikel 9 as ’n karak- terbeskrywing van die amp te sien en die beroepsbrief as ’n meer gedetailleerde onderhandelbare dienskontrak waarin die funksies of ampsverantwoordelikhede van die predikant in ’n bepaalde gemeente of kerkverbandfunksie, in die lig van Artikel 9, omskryf word.

Kort na die Algemene Sinode het verskeie vrae betreffende die nuwe reëlings na vore gekom:

(a) Vrae is byvoorbeeld gevra oor die aard van die verhouding tussen die predikant en die gemeente: Is dit bloot ’n werkgewer-werknemer-verhouding wat net by wyse van ’n dienskontrak tussen die twee partye bepaal word, of staan die predikant primêr in diens van God met die roeping van die predikant deur God en sy Woord wat ’n baie belangrike rol speel? Hierdie vraag is onder meer gevra na aanleiding van die feit dat daar konflikterende uitsprake van Hooggeregshowe en ook die Arbeidshof was oor die aard van hierdie verhouding. In sommige uitsprake is uitdruklik uitgegaan van die standpunt dat die kerkraad die predikant se werkgewer is, terwyl in ander uitsprake gesê is dat die predikant nie in diens van die kerkraad staan nie, maar in diens van God.

(b) Die hele vraag oor die gesag van staatswetgewing in kerke het ook na vore gekom en daarmee saam die vraag na die reikwydte van vryheid van godsdiens in die nuwe staatsbedeling van Suid- Afrika. Dit het gou duidelik geword dat nóg die staat nóg kerke in Suid-Afrika die omvang van die vryheid van godsdiens soos gewaarborg deur die nuwe Grondwet van 1996 al werklik gepeil het. Verskeie slypskole en konferensies wat hieroor gehou is, het onder meer aangetoon dat vryheid van godsdiens in ander demokrasieë van die wêreld beteken dat dit vir kerke die reg tot eie inrigting in terme van ’n eiesoortige reg (ius sui generis) beteken. In die geval van Arbeidsverhoudinge is die vraag of die Arbeidswet met al die gepaardgaande wette sonder meer net so van toepassing is op die kerk en of die kerk die reg het om besondere vereistes veral ten opsigte van diensverhoudinge met leraars te stel, terwyl daar aanvaar word dat ander werknemers in diens van die kerk wel onder die Wet op Arbeidsverhoudinge val. Dit is opvallend dat weinig hedendaagse kerkordes inskrywings bevat wat hulle posisie ten opsigte van die gesag en werking van staatswetgewing in die betrokke kerk duidelik uitspel. Vanaf 1962 het die Kerkorde van die NG Kerk die volgende inskrywings bevat oor die Kerk se verhouding tot die staat en die wetgewing van die staat: “(67.2) Die kerk as instituut onderwerp hom aan die gesag en wette van die staat, in soverre dit sy deelname aan die regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte betref en in soverre genoemde regsverkeer en burgerlike regte nie met die Woord van God in stryd is nie. (67.3) Die Kerk aanvaar met dankbaarheid die beskerming deur die owerheid asook die erkenning van sy onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms, met dien verstande dat genoemde vryhede nie misbruik word om die fondament van die staatsgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie.” In 1998 is hierdie inskrywings verander en daar is tans nie sulke duidelike inskrywings oor hierdie aangeleentheid nie. Die vraag is of dit nie wel nodig is nie.

(c) Na die Algemene Sinode van 1998 is die vraag ook mettertyd gevra of die blote feit dat die kerk van die verhouding tussen predikant en gemeente praat as ’n werkgewer-werknemer- verhouding wat in terme van ’n dienskontrak gereël word nie al klaar die kerk verplig om hom te hou aan al die bepalings van die Arbeidswet en alle verbandhoudende wetgewing nie.

(d) Die Kerk het gehoop dat met die duidelike omskrywing van die kerkraad as die werkgewer van die predikant enige moontlikheid van die aanspreeklikheid van meerdere vergaderinge in terme van skadevergoeding of hofkoste in die geval van appèlle teen die handelinge van die werkgewer verminder sou kon word. Dit het geblyk nie die geval te wees nie. In terme van die Kerkorde en die aard van presbiteriaal-sinodale kerkregering is die betrokkenheid van meerdere vergaderinge en hulle gevolmagtigdes nog altyd van so ’n aard dat hulle aanspreeklikheid in terme van sowel skadevergoeding as hofkoste nie uitgesluit kan word nie.

(e) Laastens was daar ook die vraag of dit nie tot nadeel van die kerk was om die ring baie minder inspraak in die beroeping en bevestiging van leraars te gee nie en ook om die ring se betrokkenheid by Artikel 12-ondersoeke en -tugondersoeke te beperk nie.

Dit is duidelik dat daar nog heelparty sake in verband met diensverhoudinge is waaraan die Kerk aandag moet gee. Dit is van baie groot belang dat die kerk billike en regverdige diensverhoudinge moet hê. Die vraag wat egter beantwoord moet word, is of die Kerk net so al die bepalinge van die Arbeidswet van die land moet oorneem ten einde billike arbeidsverhoudinge in sy eie geledere te verseker. Die Skrif self is op baie plekke baie duidelik oor arbeidsverhoudinge en juis daarom behoort die kerk vanuit sy roeping tot Woordverkondiging aandag te gee aan wat die Skrif oor arbeidsverhoudinge leer en dit self ook konsekwent binne sy eie geledere toe te pas. Natuurlik kan die Kerk ook kennis neem wat die arbeids- en aanverwante wetgewing van die land sê en dit selfs ook gebruik in sy eie diensverhoudinge. Dit is en bly egter ’n prinsipiële vraag of die kerk, gegewe sy reg tot vryheid van godsdiens wat onder meer die reg tot selfinrigting impliseer, elke nuwe wet wat deur die staat ingestel word holis bolis moet implementeer. As die gebruik van sekere woorde en begrippe uit ’n wet, soos “werkgewer” en “werknemer”, beteken dat die Kerk hom daardeur geheel en al verbind aan elke stipulasie van die wet en die staat dus op hierdie wyse eintlik seggenskap in die kerk verkry, is dit ’n saak waarna weer gekyk moet word en sal die Kerk sodanige woorde en begrippe moet vermy. Die Kerk moet gehoorsaam wees aan die wette van die land. Daar behoort egter ook in die lig van die gewaarborgde reg tot die vryheid van godsdiens voorsiening gemaak te word dat kerke die reg het om in tersaaklike gevalle, soos die diensverhoudinge van predikante, hulle eie interne orde te reël in ooreenstemming met hulle belydenis en teologiese oortuigings. Sodanige belydenis en oortuigings mag uit die aard van die saak nie die vrede van ’n gemeenskap en die staat bedreig nie. Hierdie interne reëlings kan uit die aard van die saak nie uitgesluit word van die jurisdiksie van die howe nie. Daar behoort egter erkenning te wees dat die interne middele van kerke eers benut moet word voordat partye hulle tot die burgerlike reg wend.

6. DIE VORMING VAN EEN KERKVERBAND

’n Kerkregtelike aangeleentheid wat die NG Kerk by meer as een geleentheid besig gehou het gedurende die afgelope dekades was die vorming van een kerkverband.

6.1. Die Raad van Nederduitse Gereformeerde Kerke (1905)

Dit begin alles met die stigting van die Raad van Nederduitse Gereformeerde Kerke in 1905 in ’n poging om die eenheid tussen die vier sinodale verbande van Kaapland, die Vrystaat, Natal en Transvaal te herstel. In 1862 is die een sinodale verband van die NG Kerk verbreek toe die Kaapse Hooggeregshof op grond van Ordonnansie nommer 7 van 1843 bevind het dat afgevaardigdes uit die Vrystaat, Natal en Transvaal nie sitting mag neem in die Kaapse Sinode nie omdat hulle nie binne die grense van die Kaapkolonie woon nie (Van der Watt 1987:1 ev).

6.2 De Nederduitsche Gereformeerde Kerken Vereenigingsacte 1911 (Wet no 23 van 1911)

Baie gou, trouens, al op die eerste vergadering van die Raad het die wenslikheid en moontlikheid van die hereniging van die vier sinodes ter sprake gekom. Op 3 Maart 1909, tydens die tweede sitting van die Raad op Stellenbosch, word daar na aanleiding van ’n verslag die wenslikheid van vereniging andermaal bevestig. As motivering het gedien die feit dat die kerke feitlik een was in belydenis, kerkregering en toepassing van bepalinge; dat die opleiding van predikante, sendelinge en onderwysers sou bevorder word; dat administrasie, opsig en tug, opvoeding, sendingwerk en die hantering van fondse soveel beter behartig sou kon word; dat ’n verenigde kerk hom met meer gesag en invloed sou kon laat geld op verskillende lewensterreine; dat die lede van die vier kerke een in afkoms, taal en vaderland was. Verder was daar ook die oortuiging dat die beweging na politieke vereniging ook die oortuiging versterk het dat daar ’n behoefte was aan geestelike eenheid. Tydens die bespreking van die verslag het die veelbesproke gelykstellingskwessie, dit wil sê die posisie van Kleurlinglidmate in die nuwe kerkverband, ter sprake gekom. Hieroor het die Raad besluit dat die posisie soos op daardie oomblik in die onderskeie kolonies sou bly voortbestaan in die nuwe kerkverband. Omdat die Kaapse Kerk in daardie stadium nog altyd verbonde was aan Ordonnansie 7 van 1843 sou owerheidstoestemming verkry moes word vir die Kerk om tot vereniging toe te tree. Hierop het die vier sinodes gelas dat De Nederduitsche Gereformeerde Kerken Vereenigingsacte 1911 opgestel moet word. Dit is as Wet nommer 23 van 1911 by die Parlement ingedien en op 12 Mei 1912 geproklameer. As sodanig was dit ’n verenigingsakte wat aan die kerke die waarborg gebied het dat indien hulle voorstelle tot vereniging finaal goedgekeur sou word, dit die krag van ’n staatswet sou hê. Indien eers die kerkrade en daarna die sinodes die voorstelle sou goedkeur, sou die wet in werking tree en sou kerkvereniging kon deurgaan. Daar was baie groot belangstelling in die saak en sterk argumente vir en teen vereniging is uitgespreek. Uit die briefwisseling blyk dat kerkraadslede baie bewus was van die groot verantwoordelikheid wat op hulle gerus het. Minstens driekwart van die kerkrade moes hulle vir vereniging uitspreek alvorens dit sou kon deurgaan. Uiteindelik kon die voorstelle nie in een van die gefedereerde kerke die vereiste meerderheid verkry nie (Van der Watt 1987:1-6). Die Kerkbode het die vrees vir gelykstelling en vir ’n synodus contracta as die vernaamste redes vir die mislukte verenigingspoging gesien, terwyl die Transvaalse Sinode in 1912 dieselfde mening gehuldig het, maar ook daarby gevoeg het die onbekendheid met die parlementêre akte en verdeeldheid onder lidmate (Van der Watt 1987:6).

6.3. ’n Algemene Sinode in 1962

Die poging van 1911 het nie geslaag nie, maar die saak van kerkvereniging het deurentyd op die agenda gebly. In 1959 het ’n Kommissie van Actuarii wat deur die Raad van Kerke aangestel is,

’n konsepkerkorde voorgelê wat as basis sou kon dien vir kerkvereniging. Benewens die gereformeerde karakter van die Algemene Sinodale verband wat baie sterk beskryf is in Artikel 1 van die voorgestelde Kerkorde en verskans is in Artikel 44 (KO 1962, Art 1 en 44) het die Kerkorde ook die beginsel van desentralisasie sterk voorop gestel. In die KO, Artikels 36 en 37 lees ons: “(36) Die samestellende kerke of sinodes behou volle seggenskap oor hul eiendomme, finansies, werksaamhede, ens, wat hulle voor toetreding tot die verband gehad het of daarna verwerf, behalwe die wat volgens hierdie Kerkorde aan die Algemene Sinode oorgedra is of sal word, of deur die Algemene Sinode in Trust gehou word. (37) Dit sal die samestellende kerke vry staan om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ens, uit die verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God kan regverdig in die lig van Sy heilige Woord” (KO 1962, Art 36 en 37). Hierdie artikels is deur die jare tot vandag toe nog net so in die Kerkorde.

6.4. Een kerkverband vir die familie van NG Kerke

Die familie van NG Kerke in Suid-Afrika het tot in April 1994 bestaan uit die NG Kerk (1652), die NG Sendingkerk (1881), die NG Kerk in Afrika (1963) en die Reformed Church in Africa (1968) (Kerk en Samelewing 1990, par 238). Die laaste drie kerke het uit die NG Kerk en dié se sendingwerk gegroei. Hoewel die kerke dieselfde belydenisskrifte gehad en ook dieselfde be- ginsels van kerkregering gehandhaaf het, was dit vier afsonderlike kerkverbande – die onderskeie Kerkordes het geen gesag ten opsigte van mekaar gehad nie en besluite van die onderskeie sinodes en kerkvergaderinge was nie bindend op mekaar nie.

Deur die jare heen was daar ’n besef dat die eenheid tussen die familielede belangrik is. Reeds in November 1960 het afgevaardigdes van die familie van NG Kerke in Bloemfontein byeengekom vir die stigting van die Raad van Kerke van Gereformeerde Belydenis in Suidelike Afrika. Toe ander kerke nie tot hierdie forum wou toetree nie, is daar in 1964 die Federale Raad van Ned Geref Kerke gestig. In 1963 stel die Gereformeerde Ekumeniese Sinode voor dat daar ’n Algemene Sinode van al die Ned Geref Kerke ingestel word. By die vergadering van die Federale Raad in 1966 spreek die voorsitter, prof W J van der Merwe, hom uit teen die gedagte van ’n Algemene Sinode van Ned Geref Kerke (Van der Watt 1987:27). In 1966 keur die Algemene Sinode ’n sendingreglement goed waarin die Sinode uitdrukking wil gee aan die wesenlike eenheid tussen “moeder- en dogterkerke” terwyl die volwaardigheid en selfstandigheid van die Jongkerke terselfdertyd erken word (Sendingreglement 1966, Art 5, in Van der Watt 1987:22). In 1972 vra sowel die RCA as die NGSK dat die Federale Raad in ’n Algemene Sinode omskep word. Van der Watt is van mening dat die rede hiervoor die feit was dat die Jongkerke begin ervaar het dat die spontane kerklike verskeidenheid in baie gevalle gedreig het om in gedwonge kerklike geskeidenheid te ontaard. Steeds het die NG Kerk voortgegaan om te verklaar dat die eenheid tussen die familielede nie net ’n geestelike eenheid kan wees nie, dit moet ook sigbaar gemaak word, hoewel nie noodwendig in een kerkverband nie (Ras,Volk en Nasie 1974:49, stelling 33, bl 84, stelling 58) – die Federale Raad is as voldoende beskou. By sy vergadering van 1978 verwerp die Algemene Sinode die idee van ’n Algemene Sinode van NG Kerke. Hierna besluit eers die NGKA en daarna die NGSK om nie net in ’n Algemene Sinode byeen te kom nie, maar om een kerkverband te vorm. In 1987 begin hulle met samesprekings in hierdie verband.

In 1986 aanvaar die NG Kerk by sy Algemene Sinode in Kaapstad die dokument Kerk en Samelewing. Hierdie dokument word in 1990 by die volgende Algemene Sinode hersien. In paragrawe 234 tot 237 van 1990 word die volgende getuienis gelewer: “234. Die kerke van hierdie Familie is kragtens hulle historiese verbondenheid in ’n gemeenskaplike oorsprong, hulle gemeen- skaplike geloof in en verbondenheid aan dieselfde Here van sy Woord, en kragtens die erkenning van dieselfde gereformeerde belydenis en kerkregering , wesenlik een. 235. Hoewel hierdie kerke institutêr onderskeie is, roep die belydenis van die eenheid van die kerk hulle daartoe op om, as ’n saak van die grootste erns en in ooreenstemming met die gereformeerde sinodaal-presbiteriale (sic) opvatting van kerkverband, aan hulle wesenlike eenheid vollediger sigbare uitdrukking te gee. 236. Die Ned Geref Kerk onderskryf die ideaal van een kerkverband tussen die Familie van Ned Geref Kerke. Die strukture waarin hierdie eenheid gestalte moet kry, is in hierdie stadium nog nie duidelik nie, maar word langs die weg van gesprekke met belanghebbendes uitgewerk. Binne hierdie strukture word rekening gehou met bedieningsbehoeftes, dit wil sê met die regmatige vorme van verskeidenheid ten opsigte van taal, kultuur en liturgie. 237. Aangesien veranderde gesindhede die wegbereider moet wees vir veranderde strukture en nie andersom nie, roep die Ned Geref Kerk sy lidmate op om hulle te beywer vir groter begrip vir mekaar en onderlinge liefde” (Kerk en Samelewing 1990). Hierdie besluite soos hier bo weergegee, was baie belangrik – vir die eerste keer het die NG Kerk die ideaal van een kerkverband vir die familie van NG Kerke onderskryf. Dit sou tot 1994 duur voor die gesprekke waarvan paragraaf 236 praat, sou begin.

In April 1994 het die NGSK en ’n deel van die NGKA met mekaar verenig om die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika te vorm. In Augustus van dieselfde jaar het die Dagbesture van die NG Kerk en die VGK se Sinodale Kommissies hulle verbintenis tot sigbare kerkeenheid bevestig. Die NG Kerk se Algemene Sinode van 1994 het met vreugde kennis geneem van die ontwikkelinge tot die vorming van een kerkverband en het onderneem om saam te werk in die daarstelling van ’n Gesamentlike Kommissie (Handelinge Algemene Sinode 1994). In November 1994 kom afgevaardigdes van die NG Kerk, die VGKSA en die RCA byeen en stem in tot die vorming van ’n Gesamentlike Kommissie, asook om saam te werk aan die opstel van ’n konsepkerkorde vir die een kerkverband van Nederduits Gereformeerde Kerke familie in Suid- Afrika. Die Gesamentlike Kommissie kom vir die eerste keer in Pretoria byeen op 7 Maart 1995. Die vergadering gee opdrag dat alle moontlike inligting oor ’n moontlike model vir die nuwe kerkverband ingewin en geëvalueer moet word, asook dat die mening van die drie kerke oor die Belydenis van Belhar en die Laudium Verklaring beskikbaar gestel en geëvalueer moet word (Notule van die eerste vergadering van die Gesamentlike Kommissie, Pretoria, 7 Mrt 1995). By die tweede vergadering van die Gesamentlike Kommissie op 26 Maart 1996 in Belhar het Subkommissie 1 verslag gedoen oor ’n moontlike struktuur, asook oor die belydenisgrondslag van die nuwe kerkverband. Oor gemeentes is voorgestel dat hulle kan bly soos hulle is mits hulle lidmaatskap en eredienste oop is en mits plaaslike gemeentes gereeld saamkom om sigbaarheid te verleen aan hulle eenheid; dat wedersydse diens aan mekaar gelewer word; dat verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar word oor gemeentegrense heen, en dat gemeentes hulle georganiseerde diens en getuienis in en vir die wêreld saam en in eenheid sal lewer. Oor ringe is voorgestel dat naburige gemeentes in ringe gegroepeer word; dat die groepering in oorleg met gemeentes gedoen word, en dat bedienings en taalbehoeftes in ag geneem moet word by die groepering van gemeentes. Indien gemeentes dit verkies, kan hulle vra om by ’n ander ring ingedeel te word. Oor sinodes was daar geen aanbevelings nie. Oor die Belydenis van Belhar het die VGK onderneem om ’n agtergrondsdokument beskikbaar te stel vir verspreiding in die ander kerke met die versoek dat dit aanvaar word as deel van die konfessionele grondslag vir die voorgestelde nuwe kerk. Subkommissie 1 het ook voorgestel dat die Belydenis van Belhar deel sal wees van die konfessionele corpus van die nuwe kerk, maar dat die ondertekening daarvan nie verpligtend sal wees nie (Notule van die Gesamentlike Kommissie, 26 Mrt 1996, Belhar).

Op 25 Oktober 1996 stuur die VGK ’n brief aan die NGK waarin ’n besluit van hulle Algemene Sinodale Kommissie vervat is. In die brief stel hulle dit onder meer dat die Belydenis van Belhar ononderhandelbaar is as belydenisskrif vir die nuwe kerkverband en dat hulle ook die onvoorwaardelike aanvaarding van die Belydenis van Belhar beskou as ononderhandelbaar vir enige verdere diskussie oor kerkeenheid (Brief aan die NG Kerk van die VGKSA, 25 Okt 1996). In April 1997 het die Sinode van die VGKSA besluit dat die gesprek in die Gesamentlike Kommissie moet voortgaan, maar dat die uiteindelike aanvaarding van die Belydenis van Belhar ononderhandelbaar is (Handelinge Algemene Sinode NG Kerk 1998, 18). Op 7 April 1997 versoek die Algemene Sinodale Kommissie van die NGK die VGK om tyd ten einde ’n besluit te kan neem wat nie in botsing sal wees met sy Kerkorde nie en wat ruimte sal bied aan die verskillende kerkvergaderinge om hulle uit te spreek oor die Belydenis van Belhar.

Volle besonderhede oor die Belydenis van Belhar is op 20 Februarie 1998 in Die Kerkbode gepubliseer met die versoek dat lidmate en kerkvergaderinge die dokument sal bestudeer en hulle kommentaar daarop sal lewer. Uit die kommentaar het geblyk dat baie lidmate en kerkvergaderinge van mening is dat die Belydenis in wese nie in stryd is met die Skrif of die Drie Formuliere van Eenheid nie. Vir die oorgrote meerderheid lidmate en kerkvergaderinge was dit egter nie aanvaarbaar as belydenisskrif in die voorgestelde nuwe kerkverband nie (Addendum Agenda Algemene Sinode NG Kerk 1998, 40-41; Handelinge Algemene Sinode NG Kerk 1998, 423; Besluiteregister 18.3, Handelinge Algemene Sinode 1998, 516). Die Algemene Sinode van 1998 het hierdie bevindinge en kommentaar bekragtig, maar terselfdertyd ook sy toegewydheid herbevestig om een kerkverband vir die familie van NG Kerke in Suid-Afrika tot stand te bring. Die Algemene Sinode het ook sy frustrasie met die stadige gang van die eenheidsproses geboekstaaf en terselfdertyd gevra dat al die lede van die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika by die proses betrek moet word (Besluite Register 10.2, Handelinge Algemene Sinode 1998, 516). Oor die Belydenis van Belhar het die Sinode sy begrip uitgespreek en kennis geneem van die geweldige premie wat die VGKSA op die Belydenis van Belhar plaas as belydenisskrif vir dié Kerk. Die Algemene Sinode verklaar egter dat op grond van die kommentaar wat ontvang is dat die Belydenis van Belhar nie op die oomblik as vierde belydenisskrif aanbeveel kan word nie. Daar word ook gevra dat daar opnuut gekyk moet word na ’n manier waarop die Belydenis van Belhar in die nuwe kerkverband se belydenisgrondslag opgeneem kan word, “maar op so ’n wyse dat niemand se gewete onder enige dwang geplaas word nie”. Daar is ook opdrag aan die ASK gegee om, indien dit blyk dat die belydeniskwessie ’n onoorkomelike probleem vir die vorming van een sinodale verband is, indringend aandag te gee aan alternatiewe strukture van kerkverband (Besluiteregister 10.2, Handelinge Algemene Sinode 1998, 516).

In November 1998 het daar ’n Appèlhofuitspraak gekom in ’n saak tussen die VGKSA en die NGKA. Dié saak het sy oorsprong gehad in ’n versoek tot ’n hofbevel wat die VGKSA op 26 Februarie 1996 voor die Hooggeregshof van die Vrystaat gebring het. Die versoek het gevra vir ’n verklaring van die hof (i) dat die NGKA en die NGSK wettig verenig het in April 1994; (ii) dat die NGKA nie langer bestaan nie; (iii) dat alle regte, voorregte, eiendomme, bates en laste van die regspersone van die NGKA oorgegaan het na die ooreenstemmende regspersone van die VGKSA, en (iv) dat die streeksinode van die Oranje-Vrystaat geen regsbevoegdheid het om enige regsgeldige handelinge in die naam van die voormalige NGKA in die Vrystaat te verrig nie. Die Hooggeregshof van die Vrystaat het die versoek toegestaan waarop die NGKA na die Appèlhof geappelleer het. Op 6 November 1998 bevind die Appèlhof dat die Algemene Sinode van die NGKA in 1991 buite sy bevoegdheid opgetree het. Hieruit volg dat die besluit van die NGKA om met die NGSK te verenig en alle verbandhoudende besluite ultra vires was. Die Appèlhof bevind gevolglik dat die Hooggeregshof van die Vrystaat verkeerdelik verklaar het dat die NGKA nie meer bestaan nie en dat al sy regte, ensovoorts oorgegaan het na ooreenstemmende regspersone in die VGKSA. Dit was ook verkeerd om te bevind dat die streeksinode van die NGKA in die Vrystaat geen regsbevoegdheid het nie. Oor die versoek om te verklaar dat die NGKA en die NGSK wettig verenig het, het die Appèlhof geen bevinding gemaak nie omdat die betrokke dokumente nie voor die hof gedien het nie (Appèlhofsaak, Nov 1998). Die effek van hierdie saak was dat die voortgesette bestaan van die NGKA bevestig is. Daar was ongelukkig ook die nadelige effek dat die verhouding tussen die VGKSA en die NGKA baie gespanne geraak het en dit sou onvermydelik ’n invloed hê op pogings om een kerkverband vir die familie van NG Kerke te realiseer. Volgens ’n persberig op Woensdag 16 Junie 1999 was daar 32 hofsake hangende tussen die VGKSA en die NGKA oor eiendomsreg.

Intussen het die NGKA skriftelik versoek om deel te wees van die Gesamentlike Kommissie. Subkommissie 7 van die Gesamentlike Kommissie het vergader en aanbeveel dat ’n verkleinde Gesamentlike Kommissie byeenkom om te besluit oor die deelname van die NGKA en dat ’n Konven t van die Familiekerke plaasvind ten einde die weg vorentoe te beplan.

Gedurende die afgelope eeu was die saak van kerkverband telkens op die agenda van die NG Kerk. Om tot ’n Algemene Sinode van die vier NG Kerksinodes te kom het bykans sestig jaar geduur. Die pogings om een kerkverband vir die familie van NG Kerke te vorm het baie sterk impetus gekry in 1994. Die vraag oor die posisie van die Belharbelydenis en sedert 1998 die gespanne verhouding tussen die VGK en die NGKA het die proses baie spoed laat verloor en dit soms selfs feitlik tot stilstand gebring. Tans is daar weer tekens dat dit kan hervat. Dit beteken nog nie dat dit ’n maklike proses gaan wees nie – die vraag oor die posisie van die Belharbelydenis sal nog beantwoord moet word. Dan is daar ook nog die moeilike kerkregtelike vraag oor hoe die vorming van een kerkverband bewerkstellig moet word . Verskeie regsmenings is al hieroor bekom (vgl Die Nederduitse Gereformeerde Kerk – Kerkvereniging, Regsmening van W H Trengrove en WH G van der Linde, Advokatekamers, 20 Feb 1996; J N W Barkhuizen SC, Memorandum insake Kerkvereniging,1 Aug 1995, Johannesburg). Wat die NG Kerk betref, staan sy besluit van 1998 soos daar hier bo na verwys is. Daar is egter duidelik nog baie werk te doen om een kerkverband vir die familie van NG Kerke daar te stel.

7. TEN SLOTTE

By die herdenking van die 350-jarige koms van die NG Kerk na Suid-Afrika is daar baie nuwe uitdagings en geleenthede vir die Kerk. Daar is diegene in die Kerk wat sterk pleidooie lewer vir ’n nuwe of ’n tweede hervorming met alles wat dit impliseer. Daar is nuwe denke in die Kerk oor gemeentes en hoe hulle bestuur moet word; oor die diversiteit van spiritualiteit in die Kerk en hoe dit gehanteer moet word. Vrae word gestel oor die ampte, soos ook oor die samestelling en funksionering van kerkvergaderinge. Daar is hewige debatte aan die gang oor die Skrif en die gesag daarvan; oor metafore in die Bybel, hulle betekenis en wie daardie betekenis toeken. Daar is die vraag oor die historiese Jesus wat as ‘t ware van nuuts af gevoer word met al die implikasies daaraan verbonde. Die nuwe konstitusionele bedeling sedert 1994 het die NG Kerk voor ingrypende vrae geplaas oor die verhouding tussen kerk en staat. Die liberale demokrasie, wat hoog aangeprys word, konfronteer kerke en ook die NG Kerk met allerlei vrae oor gevestigde standpunte, strukture en leerstellinge. Daar is ook die dringende opgaaf van een kerkverband vir die familie van NG Kerke.

Ons sal baie naïef wees om te dink dat al hierdie sake nie diepgrypende gevolge kan hê vir die orde en regering van die NG Kerk nie. Die wyse waarop al hierdie vrae, en nog meer, beantwoord word en waarop die geleenthede benut word, sal bepaal of die NG Kerk oor nog ’n honderd jaar steeds sal kan sê dat ons ’n gereformeerde kerk is met ’n gereformeerde kerkregering.

Daarom is dit goed om by geleentheid van ’n 350-jarige herdenking na te dink oor wat die Kerk in die verlede gesê het hy is, wat hy probeer het om steeds te wees en wat hy graag in die toekoms sal wil wees: ’n Kerk wat in vryheid volgens God se Woord sy geestelike roeping wil vervul; ’n kerk met Jesus Christus as sy Verlosser en enigste Here en Hoof, en ’n kerk vervul met die Heilige Gees wat die kerk in die waarheid van die Woord wil lei. Ook ’n kerk wat weet dat hy in die verlede dikwels verkeerd geluister het na die Here se Woord en wat dit in die toekoms weer sal doen, maar ’n kerk wat vanuit die wete en belydenis van God se ewige onveranderlike trou, sy huidige konteks en die toekoms met al sy geleenthede en uitdagings wil tegemoetgaan in biddende opsien tot die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

BIBLIOGRAFIE

Agenda en Handelinge van die eerste vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, asook van die Konvensie en die Ontbinding van die Raad van Kerke. Gehou in Kaapstad op Donderdag 11 Okt 1962 en volgende dae.

Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk 1966 gehou in Bloemfontein op Donderdag 13 Okt 1966 en volgende dae.

Agenda en Handelinge van die negende vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in Pretoria 1994.

Agenda en Handelinge van die van die tiende vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in Pretoria 1998.

Barkhuizen, J N W (SC), 1 Aug 1995. Memorandum insake Kerkvereniging.

Brief van die VGKSA aan die NG Kerk, 25 Okt 1996.

De Kerkbode, 26 Des 1921, 27 Feb 1924, 27 Feb 1925, 2 Des 1925.

Die Kerkbode, 5 Apr 2002.

De Ridder, Richard R & Hofman, Leonard J 1994. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids, Michigan: CRC Publications.

Handelinge van die vier en twintigste vergadering van die Raad van Kerke gehou in Durban op 8 Jun 1955 en volgende dae.

Handelinge van die vyf en twintigste vergadering van die Raad van Ned Geref Kerke in Pretoria op 27-29 Mrt 1957. Voortrekkerpers Bpk.

Keet, B B 1925. Na Honderd Jaar. De Regeringsvorm van de Nederduitse Gereformeerde Kerk aan de Gereformeerde Beginselen getoetst. Toespraak gehouden bij de sluiting van de Theologiese Kweekschool, Okt 1924. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkerij.

Keet, B B 1963. Orde in die Kerk. Handleiding vir Ouderlinge, Diakens en Lidmate. Kaapstad: NG Kerk- Uitgewers.

Kerk en Samelewing 1986. ’n Getuienis van die Ned Geref Kerk soos aanvaar deur die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, Okt 1986. Bloemfontein: NG Sendingpers.

Kerk en Samelewing 1990. ’n Getuienis van die Ned Geref Kerk soos aanvaar deur die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, Okt 1990. Bloemfontein: NG Sendingpers.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente en Besluite van kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Okt 1970, 1974, 1978, 1982, 1986, 1990. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland 1995. Kampen: Uitgeverij Kok.

Kerkorde en Reglemente van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde kerk in Suider Afrika 1997.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente en Besluite van kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Okt 1994 en 1998. Wellington: Hugenote Uitgewers.

Kleynhans, E P J 1973. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. Stellenbosch.

Nauta, D 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: J H Kok.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) en Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo) v Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1998. Die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika, Saaknommer 536/96.

Notule van die eerste vergadering van die Gesamentlike Kommissie, Pretoria, 7 Mrt 1995.

Notule van die tweede vergadering van die Gesamentlike Kommissie, Belhar, 26 Mrt 1996.

Pastorale brief aan predikante van die NGK, soos goedgekeur by die vergadering van die ASK, 8 en 9 Mei 2001. Sinodale sentrum, Pretoria..

Pienaar, T J & Britz, R M 2001. Van akkomodasie tot kwessie: die verhaal van Skrifbeskouing in die NG Kerk sedert 1963. NGTT Deel 42, nr 3 & 4, Sep & Des 2001.

Ras, Volk en Nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif. Goedgekeur en aanvaar deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Okt 1974. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Trengrove, W H & Van der Linde, W H G, 20 Feb 1996. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Kerkvereniging – ’n Regsmening. Johannesburg: Advokatekamers.

Van der Merwe, M & Marais, F 2001. Draers van hoop. Werkbare planne vir gemeentes wat wil lewe. Wellington: Lux Verbi.BM.

Van der Watt, P B 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.