H J B Combrink
Universiteit van Stellenbosch

’n Halfeeu van verklaring, vertaling en verspreiding van die Bybel: met spesifieke verwysing na die rol van die Algemene Kommissie vir Bybelvertaling, Bybelverklaring en Bybelverspreiding

ABSTRACT

A half-century of interpretation, translation and distribution of the Bible: with specific reference to the role of the General Synod’s Commission for the Interpretation, Translation and Distribution of the Bible

Sixty years ago the Federated Council of Dutch Reformed Churches mandated a committee to answer the need for a popular explanation of Scripture. Initially the emphasis was mainly on the books of the New Testament. Members of the committee and other scholars also became involved (together with theologians of other churches) in the revision of the 1933 Afrikaans version, and eventually in the New Afrikaans version of 1983. At present this committee also serves as liaison body for Dutch Reformed ministers serving in the Bible Society of South Africa and in this manner serves to integrate the Bible Society and church much closer to one another.

1. INLEIDING

Binne die konteks van die tema 350 jaar Gereformeerd 1 word daar in hierdie artikel veral gefokus op die afgelope halfeeu van die bestaan van die Algemene Kommissie vir Bybelvertaling, Bybelverklaring en Bybelverspreiding (AKBV) – soos die kommissie tans genoem word – en sy voorloper, die Kommissie vir Bybelverklaring van die Raad van Gefedereerde NG Kerke. Selfs die benaming het in die loop van die jare veranderinge ondergaan. Dit gaan hier dus veral oor die rol van die kommissie ten opsigte van die vertaling, verklaring en verspreiding van die Bybel. Al hierdie aspekte was nie in dieselfde mate gedurende die afgelope halfeeu ewe prominent op die kommissie se agenda nie. Daar kan beslis nie in die kort bestek van hierdie artikel grondig ingegaan word op 350 jaar van die geskiedenis van elkeen van hierdie terreine nie. Tog sal bepaalde drade wat deurloop reeds vroeër opgetel word ten einde die afgelope halfeeu in perspektief te kan sien. Verder dek die oorsig ook nie noodwendig alle aspekte van gereformeerd- wees op hierdie terreine – buite die werksaamhede van die kommissie om – nie, maar alleen waar daar pertinente raakpunte met die werk van die AKBV na vore kom.

2. BYBELVERKLARING

Die behoefte

Baie jare lank was die taak van die kommissie feitlik uitsluitlik gefokus op die daarstel van gepaste Bybelverklarings. Dit is ’n boeiende verhaal om na te gaan hoe daar van vroeg af ’n passie was om die Bybel op verantwoorde wyse te verklaar, maar ook hoe die omstandighede van Skrifverklaarders en die wel en wee van uitgewers die proses meermale byna laat vasval het. Ons lees reeds in die Handelinge van die Gefedereerde Raad van NG Kerke (1939:28, 93, 94) van die behoefte aan “kanttekeninge” by die Bybel en aan ’n “saaklike Bybelverklaring”. Die saak kom weer in 1941 ter sprake wanneer daar gerapporteer word dat die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) nie dergelike “kanttekeninge” kan onderneem indien dit “ander lesings” of “woordverklarings” behels nie. Hulle is aan ’n grondreël gebind dat alle publikasies sal geskied “sonder aantekeninge of kommentaar” (without note or comment). Indien met “kanttekeninge” bloot net “verwysings” bedoel word, sou die BBBG dit wetlik wel kon doen. Hulle kon dit in elk geval nie bekostig nie (Handelinge 1941:32). Daarom neem die Raad van Kerke die volgende besluit:

Die Raad van die Kerke gevoel die behoefte, veral met die oog op huislike gebruik, aan ’n Bybelverklaring in Afrikaans, en dra die arbeid op aan geskoolde Afrikaanse Skrifkenners om die verklaring van die verskillende Bybelboeke te besorg (Handelinge 1941:6).

Met die oog hierop is ’n Kommissie vir Bybelverklaring benoem.2 Die eerste vergadering van hierdie kommissie vind plaas op 11 Junie 1941 in Kaapstad in die Hugenote-gebou, met ds Mentz as voorsitter en prof E E van Rooyen as skriba. Daar word besluit om die Afrikaanse teks by die verklaring te gebruik, om perikoopsgewys en nie vers vir vers nie te verklaar, en om as voorbeeld van wat beoog word die bewerking van 1 Petrus in die bekende Nederlandse reeks Korte Verklaring te neem. Die bedoeling was om aanvanklik met twee boeke uit die Ou Testament en vyf uit die Nuwe Testament te begin. Daar word ook dadelik ’n paar medewerkers aangewys.3 Daar is ook besluit om reviseurs te benoem om die verklaarders waar nodig advies te gee. Die Raad van Kerke spesifiseer later dat die reviseurs spesifiek vir die dogmatiese inhoud (Handelinge 1943:72) verantwoordelik moet wees.4 Die drukwerk sou deur die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging (SABV) gedoen word.

’n Saak wat verder ook van tyd tot tyd op die sakelys van die kommissie sou verskyn, is die behoefte aan verskillende soorte handboeke. By die eerste vergadering van die kommissie in Junie 1941 is ook oorweeg om in samewerking met die Gefedereerde Sondagskoolkommissie ’n doelmatige katkisasieboek te laat opstel.

Die eerste verklarings

Teen 1944 het die verklaring op Efesiërs deur J F Mentz reeds verskyn, terwyl daar in 1946 verslag gedoen word dat die verklaring van Mattheus deur G B A Gerdener ook intussen verskyn het. Die reeks wat so begin verskyn het, staan bekend as die Korte verklaring van die Heilige Skrif vir die Afrikaanse volk en die eerste uitgawes verskyn by die SABV. By die Raad van Kerke van 1947 word E E van Rooyen vir die Ou Testament en J J Müller vir die Nuwe Testament aangewys as eindredakteurs. Hulle moes ook lede van die kommissie wees. Terselfdertyd hoor ons van oponthoud met die drukwerk by die SABV. Probleme ten opsigte van die uitgewers en die publikasie sou met verloop van tyd telkens weer opduik. Tog verskyn daar by die SABV nog ’n verklaring, naamlik dié van die briewe aan die Filippense, Kolossense en Thessalonisense deur J A van Zyl Viljoen.

Vanaf 1949 dien prof E P Groenewald as voorsitter en prof J J Müller as skriba baie jare lank die kommissie. Prof Groenewald se rol as voorsitter word later ook voortgesit in die Kommissie vir Bybelverklaring van die Algemene Sinode wat ná 1962 tot stand kom.

Die Ou Testament

By die Raad van Kerke van 1951 word verslag gedoen dat die reeks langsaam vorder. Van die redes hiervoor is dat daar probleme ondervind word om voldoende medewerkers vir die Ou Testament te vind en by die kommissie is daar vrae oor die wenslikheid daarvan om met die Ou Testament voort te gaan. Daar is tog sprake van ’n manuskrip oor Jona wat reeds ’n geruime tyd beskikbaar is. Die Raad besluit dat met die uitgee van verklarings oor die Ou Testament voortgegaan moet word en dat daar met die uitgewers onderhandel moet word om die hele Ou Testament in een of in ’n paar bande uit te gee (Handelinge 1951:108). Prof P A Verhoef word as eindredakteur vir die Ou Testament en ook as lid van die kommissie aangewys. In 1953 blyk dit dat P F D Weiss reeds besig is met die verklaring van Josua en P A Verhoef met Nahum, Habakuk en Sefanja. Tog word daar besluit om voorlopig geen verdere opdragte vir bewerking van Ou- Testamentiese boeke te gee nie, in die lig van die moontlike verskyning van ’n Afrikaanse Bybel met kort aantekeninge. Intussen is 17 boeke van die Nuwe Testament reeds verklaar. Dit duur egter nog vele jare voordat die Ou-Testamentiese deel van die reeks werklik van die grond af kom.

Die reeks tydelik gestaak

Uit die kommissie se verslae aan die Raad van Kerke van 1953 en 1955 word dit duidelik dat swak verkope van die verklarings, die worsteling van medewerkers om vordering te maak met hulle opdragte, asook die beplande Bybel met verklarende aantekeninge die voortgang van die reeks tot stilstand laat kom het, behalwe vir die werk aan Openbaring deur J H J Greijvenstein. Uit die verslag aan die Raad van Kerke van 1959 blyk dit dat die kommissie ’n “soort rustende bestaan” gevoer het sedert die besluit van 1955 om voorlopig nie voort te gaan met reeks nie (Handelinge 1959:45). Intussen het die beplande Bybel met verklarende aantekeninge wel in drie dele verskyn (Geldenhuys 1958-1959), wat as sodanig ’n heel besondere gebeurtenis was aangesien teoloë van verskillende kerke hieraan meegewerk het. Tog kry die kommissie weer die opdrag om met die taak van Bybelverklaring voort te gaan (Handelinge 1959:119). Die kommissie wys dus verdere medewerkers aan vir die ontbrekende boeke in die Nuwe Testament.

’n Nuwe taak

Intussen het die Raad van Kerke in 1957 aan die kommissie ’n nuwe taak opgedra, naamlik die keuring namens die NG Kerk van die Handleiding vir godsdiensonderrig op skole wat deur die Interkerklike Kommissie vir Onderwys gehanteer is. So is aandag gegee aan die Handleiding vir St 10 (Geloofsleer, Wet van God, Mens en sy samelewing, en Gebed) en die Handleiding vir St 6 (Aardrykskunde van Bybellande, Bybelse oudheidkunde, en Argeologie). Later kom by ’n Handboek vir godsdiensgeskiedenis vir St 9, wat oor kerkgeskiedenis handel en aanvanklik nogal (heel begryplik) heelwat kommentaar van die verskillende kerke uitgelok het.

Die Algemene Sinode van 1962

Met die eerste sitting van die Algemene Sinode in 1962 word die naam van die kommissie die Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling. Die Sinode besluit dat die kommissie voortaan uit drie lede sal bestaan (Handelinge 1962:255) en as lede word aangewys E P Groenewald (voorsitter), J J Müller (skriba) en P A Verhoef. ’n Hele aantal jare sou die kommissie uit hierdie drie persone bestaan.5

In Maart 1966 word daar besluit om, waar vroeëre dele reeds uitverkoop is, dit aan nuwe bewerkers op te dra om dit grondig te hersien. Dit word so deur die Algemene Sinode van 1966 goedgekeur. Intussen vorder die onderhandelings met NG Kerk-Uitgewers en word daar onderneem dat verdere publikasies teen een manuskrip per jaar gepubliseer kan word.

Die Ou Testament

In 1970 is ’n verklaring van Amos deur dr Adrio König ontvang, maar in die lig van ’n moontlike Interkerklike Ou-Testamentiese reeks Bybelverklarings word daar voorlopig ’n afwagtende houding ten opsigte van die verklaring van die Ou Testament ingeneem. By die Algemene Sinode van 1974 rapporteer die kommissie dat die verklaring van Amos wel in 1974 verskyn het, maar dat daar steeds ’n afwagtende houding oor die res van die Ou Testament ingeneem word. By die Algemene Sinode van 1978 is daar weer sprake van die voorgestelde Interkerklike Ou-Testamentiese reeks6 en dat die eerste verklarings in 1979 verwag word. Ongelukkig neem die Algemene Sinode van 1982 kennis dat die Ou-Testamentiese reeks intussen gekanselleer is. Daar word besluit dat die kommissie moet voortgaan met sy eie reeks (Handelinge 1982:186).

Vanaf 1971 word nuwe medewerkers aangewys om dele van die Nuwe Testament wat reeds uitverkoop is, opnuut te verklaar. Dit is tog interessant dat die Algemene Sinode van 1974 sy opdrag tot Bybelverklaring van die hele Bybel (dus ook die Ou Testament) herbevestig (Handelinge 1974:485). Die kommissie word nou vergroot tot ses lede met E P Groenewald as voorsitter en A H van Zyl as sekretaris.7

Dit blyk dat die reeks nuwe verklarings geleidelik groei. Teen 1982 verskyn nog ’n Ou- Testamentiese kommentaar, naamlik Rut deur W S Prinsloo. Verder is dit merkwaardig dat van die 13 dele van die Nuwe Testament wat tot op daardie tydstip verskyn het, sewe deur prof E P Groenewald, nog steeds voorsitter van die kommissie, gedoen is. Die kommissie het deur die jare aan die medewerkers redelike vryheid van aanpak gegee. Dit is dan ook interessant dat in die verklaring van Rut diskoersanalise en ’n narrotologiese benadering na vore kom.

Skrifverklaring vir Bybelstudent en Gemeente

Ná die verskyning van die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel in 1983 (NAV) word besluit dat in alle herdrukke van die reeks daar voortaan by die NAV aangepas moet word. Die kommissie besluit in 1987 om ten opsigte van die voltooiing van die Ou-Testamentiese deel van die reeks, met die oog op kontak en groter samewerking, met teoloë uit ander kerke in hulle persoonlike hoedanigheid oor deelname te onderhandel (Notule 28/10/1987:5). Sedertdien het daar dan nog sewe bande verklarings van Ou-Testamentiese boeke verskyn (Habakuk, Psalm 101-119, Psalm 120-150, Prediker, Joël, Haggai, Daniël), ’n Engelse vertaling van die kommentaar op Efesiërs (1991), asook herdrukke van sommige bewerkings en nuwe bewerkings van die res van die Nuwe- Testamentiese boeke met die uitsondering van Matteus. By die Algemene Sinode van 1990 word meegedeel dat die naam van die reeks (wat algaande as die “Swartbandreeks” bekend begin staan het) voortaan sal wees: Skrifverklaring vir Bybelstudent en gemeente (SBG).

Intussen verskyn die Verklarende Bybel (1983-vertaling) met A H van Zyl (1989) aseindredakteur,8 waaraan 47 medewerkers, verteenwoordigend van ses verskillende universiteite, saamwerk. In sekere sin is dit die vervolg op Die Bybel met Verklarende Aantekeninge van 1958-1959 wat nog by die eerste Afrikaanse vertaling aangesluit het. Net soos die eerste publikasie, is die Verklarende Bybel ’n besondere spanpoging tussen ’n groot aantal medewerkers, waaraan lede van die AKBV uiteraard ook meegedoen het.

Die toekoms van die SBG-reeks

Teen die einde van 1995 blyk dit uit gesprekke met Lux Verbi dat daar ernstige vraagtekens oor die toekoms van die SBG-reeks hang. Die normale verkope het feitlik tot stilstand gekom en by die uitgewer het die indruk bestaan dat die reeks vir die gewone lidmaat te duur geword het en dat hulle onder meer eerder ’n eenbandkommentaar sou koop. Verder is daar ook vrae of alle boeke van die Bybel ewe veel in aanvraag by die gewone Bybelstudent is. In Februarie 1998 deel die uitgewers die kommissie mee dat daar besluit is om die reeks voorlopig te staak. Daar is egter onderneem om alle beskikbare en toekomstige kommentare in elektroniese formaat in samewerking met LOGOS-sagteware beskikbaar te stel. Dit het intussen plaasgevind en bied ’n belangrike nuwe moontlikheid om die reeks tog wel te kan voltooi en steeds by te werk. Benewens die kommentare wat reeds gepubliseer was, is Deuteronomium en Miga ook intussen in die LOGOS- elektroniese weergawe van die reeks opgeneem. Die besinning oor die toekoms en lewensvatbaarheid van die reeks is intussen deur die AKBV in oorleg met Lux Verbi voortgesit. Tans word daar in die vooruitsig gestel dat, nadat die reeks in elektroniese formaat voltooi is, die hele reeks moontlik in vier bande (die OT in drie bande en die NT in een band) in harde kopie beskikbaar gestel sal word. Daar is ook duidelike riglyne deur die redaksie aan die medewerkers verstrek ten opsigte van die teikenpubliek, die omvang en die vlak van die verklarings wat beoog word. Van die tipiese probleme in die verlede was dat medewerkers tog maar bewustelik of onbewustelik die voer tog te hoog vir die beoogde teikenmark wou ophang.

Personalia

In 1976 neem prof A H van Zyl die skribaat oor van prof P A Verhoef wat in 1964 prof J J Müller (1949-1964) opgevolg het. Prof F J Botha het op sy beurt die skribaat by A H van Zyl oorgeneem ná die Algemene Sinode van 1982, maar hy is in 1985 oorlede. Op 23 Oktober 1986 breek die dag aan dat die Algemene Sinode en prof E P Groenewald mekaar formeel groet en die Sinode sy dank uitspreek vir prof Groenewald se besondere bydrae oor baie jare as Bybelverklaarder en Bybelvertaler asook as voorsitter van die Eindredaksie van die NAV. Prof Groenewald was ook sedert 1949 voorsitter van die Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling (Handelinge 1986:433). Sedert 1987 is prof P A Verhoef die voorsitter en J A du Rand die skriba. Hier moet ook vermeld word dat prof Verhoef reeds vanaf 1951 lid was van die Raad van Kerke se Kommissie vir Bybelverklaring, dat hy vanaf die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962 lid was van die Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling en vanaf 1987 tot met sy uittrede in 1994 die voorsitter was.9 In die negentigerjare is drie Ou-Testamentici, wat lede van die kommissie was (of tussentyds benoem was), onverwags oorlede, naamlik W S Prinsloo, F E Deist en J P J Olivier.

Ander publikasies

Intussen beleef die Suid-Afrikaanse teologiese en godsdienstige toneel ’n ongekende opbloei van godsdienstige leesstof en sien dit ook heel anders uit as in 1939 toe die eerste versoeke in verband met “kanttekeninge” by die Bybel na vore gekom het. In die verloop van jare was daar benewens die arbeid van die kommissie ook meer as een poging om kommentaarreekse van stapel te stuur. Hier kan net verwys word na die reeks waarvan die kommentare van Groenewald (1948) en De Klerk (1951) voorbeelde is, asook ’n latere reeks waarvan daar ook net drie kommentare verskyn het, dié van Kotzé (1990), Roberts (1992) en Du Plessis (1995). Vosloo10 gee ’n goeie oorsig oor ander reekse en verwys onder meer ook na Die Teologiese Boekreeks van die Verenigde Lutherse Seminarie en die Evangeliese Broederkerk, asook die reeks Die Woord vir die mense van Orion.

Verskillende lede van die kommissie, asook baie ander leraars en teoloë, is heel produktief op hierdie gebied en doen mee aan allerlei publikasies wat aan die kerklike en godsdienstige leser ’n wye verskeidenheid van verklarings en oordenkings van die Skrif en belangrike agtergrondinligting vir die verstaan van die Bybel bied. Hier kan as voorbeeld verwys word na die Die Bybel in praktyk: Nuwe vertaling (1993) en Die Bybellennium Eenvolumekommentaar: Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing (1999), albei onder redaksie van Wil Vosloo en Fika van Rensburg. Die AKBV is dus ook bewus daarvan dat sy eie bydrae op hierdie terrein – te midde van talle ander publikasies – ’n duidelike teikenmark en eie aanpak sal moet verteenwoordig. Dit is verder ook verblydend dat leraars en teoloë wat in die verlede nie sulke geleenthede gehad het nie, ook in allerlei publikasies aktief betrokke is by Bybelverklaring op ’n wyse wat gewone lidmate en die kerkpubliek in die breë wil dien. Hier kan as voorbeelde verwys word na die Bybelverklaring, hermeneutiek en preekhulp van ’n reeks soos Woord teen die Lig en die Preekstudies met liturgiese voorstelle wat deur BUVTON saam met die Leesrooster voorsien word, asook soortgelyke materiaal in die Preekprogram wat deur die C B Powell Bybelsentrum van UNISA gepubliseer word. Dit is werklik nie moontlik om hier volledig te wees nie. Tog moet daar ten slotte ook verwys word na die vakpublikasies van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika wat juis in die afgelope halfeeu werk van onskatbare waarde gelewer het om die beoefening van die Bybelse wetenskap en teologie te stimuleer en uit te bou.

3. BYBELVERTALING

Soos uit die vorige afdeling blyk, was die taak van die kommissie van die Raad van Kerke asook van die Algemene Sinode baie sterk bepaal deur die opdrag tot Bybelverklaring. Volgens die huidige reglement vir die AKBV 3.1 is deel van die taak van die kommissie om die Algemene Sinode te adviseer in verband met die aanwysing van Bybelvertaling(s) wat amptelik gebruik moet word (KO Art 43.1.2) (Kerkorde 1998:36). Die Kommissie onderneem dus ook nie op sy eie Bybelvertaling(s) nie, maar lede van die kommissie was in die verlede ten nouste hierby betrokke toe daar met ander kerke saamgewerk is om ’n nuwe Bybelvertaling daar te stel. Dit geskied dan gewoonlik in die konteks van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) of sy voorloper, die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG).

Die 1933-vertaling

Die geskiedenis van die Bybel in Afrikaans wat in 1933 verskyn het, is voldoende gedokumenteer sodat daar nie hier verder daaraan aandag gegee word nie (vgl Nienaber 1934; 1949; Nienaber & Heyl 1961; Oberholster 1958). Wat die breë samewerking betref, moet daarop gelet word dat daar aanvanklik besluite deur verskillende sinodes en kerke geneem is. Maar volgens Nienaber is daar teen 1919 uiteindelik eenstemmigheid bereik en kan verklaar word dat die werk aan die Afrikaanse Bybelvertaling nie bloot uitgaan “van partikuliere persone nie, maar van die Hollandse kerke van Suid-Afrika in ’n gesamentlike aksie” (Nienaber 1934:69). Daar was van die begin af noue skakeling tussen die BBBG en die 7 van die drie Afrikaanse kerke in die persoon van die sekretaris van die BBBG in Kaapstad wat in die kommissie sitting gehad het, ds H P M Steyn. Die BBBG het reeds in 1917 op versoek van die NG Kerk in die Vrystaat en Transvaal besluit om die koste te dra van ’n vertaling en produksie van die Bybel in “‘Afrikaans’ or Cape Dutch” (Smit 1970:227). Juis ds Steyn het met onvermoeide ywer die saak van die Afrikaanse Bybelvertaling gedryf en bevorder. Hy was baie duidelik die skakel tussen die verskillende sinodes, die vertalers en die BBBG.

Die 1953- hersiene uitgawe

Terwyl hier veral op die afgelope halfeeu gekonsentreer word, is dit sinvol om te let op die wyse waarop hierdie kommissie by die aanloop tot en die totstandkoming van die NAV van 1983 betrokke was. Uiteraard sal ook aandag gegee word aan wat ná 1983 op hierdie front gebeur het. Onmiddellik ná die verskyning van die 1933-vertaling stel ds H P M Steyn, sekretaris van die BBBG, by die laaste vergadering van die Algemene Kommissie vir Bybelvertaling op 23 Augustus 1933 voor dat ’n hersiening van die vertaling wat so pas verskyn het, gemaak moet word omdat die “uitgawe nie allesins volmaak is nie” (Van Zyl & Swanepoel 1972:18).

Reeds by die Raad van Kerke se vergadering in 1935 in Durban dien daar ’n beskrywingspunt van dr M J van der Westhuizen (Handelinge 1935:110) om met die oog op ’n eventuele revisie van die Bybel in Afrikaans “’n vertaling te lewer, veral van die Nuwe Testament, volgens die beste teks van die oorspronklike”. Die besprekingspunt word egter “uit respek vir die Kommissie van Bybelvertalers” teruggetrek (Handelinge 1935:18). Intussen het die Bybelvertalers direk ná 1933 met ’n hersiening begin, maar besluit dat hulle by die dieselfde grondteks sou hou as wat gebruik is vir die 1933-vertaling, naamlik die Masoretiese teks vir die Ou Testament en die Textus Receptus vir die Nuwe Testament. Die bedoeling was om aan die vertaling self (inhoud) sowel as die taal waarin daar vertaal is (vorm) aandag te gee (Van Zyl & Swanepoel 1972:19). Die vertalers van die 1933-Bybel kom reeds in April 1934 in Potchefstroom saam om met die hersieningstaak te begin. Waar die verwagting aanvanklik was dat die hersiening binne drie jaar voltooi sou wees, verskyn die hersiene uitgawe eers in 1953, nadat die Bybel ses keer volledig deurgewerk is (Oberholster 1958:88).

Tog het daar dadelik weer stemme opgegaan vir ’n voortgaande hersiening van die Hersiene uitgawe van 1953. Die Raad van Kerke het in 1955 besluit om die BBBG om ’n nuwe hersiening te vra en ook lede vir so ’n kommissie aangewys (Handelinge 1955:92). Die Bybelgenootskap stel dan ’n interkerklike kommissie vir die hersiening van die Afrikaanse Bybel saam wat op 9 Oktober 1958 in Pretoria onder voorsitterskap van prof B B Keet vergader. Hy bedank kort hierna en prof E P Groenewald word as voorsitter benoem (Smit 1970:232-33). Algaande groei die oortuiging by die hersieners dat ’n hersiening eintlik nie moontlik is nie en dat daar eerder aan ’n nuwe vertaling gedink moet word. Hierdie kommissie vergader weer in 1962 en in 1966.

Die NAV van 1983

Daar kan ook nie volledig op die geskiedenis van die totstandkoming van die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 (NAV) ingegaan word nie (vgl Helberg 1986; Turley 1989; Van Zyl 1983; 1984:53-57; Van Zyl & Swanepoel 1972; Verhoef 1998:96-100; 2000). Tog sal daar op bepaalde aspekte, veral soos dit met die werk van die kommissie saamhang, gelet word. Lede van die kommissie het van 8-26 Julie 1967 ’n vertalerseminaar by Turfloop bygewoon. Daar was meer as 100 mense en verteenwoordigers van 17 vertalingsprojekte teenwoordig (Turley 1994:34). Dit is opgevolg deur ’n seminaar in 1968 by die Universiteit van Pretoria wat deur vertalers van die Afrikaanse Bybel, eksegete, taalkundiges, lede van die drie susterkerke en lede van die BSA bygewoon is. Op die laaste dag is die volgende besluit daar geneem:

Die vergadering is van oordeel dat, aangesien die bestaande Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 deur die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika aanvaar is, slegs nege jaar nadat Afrikaans amptelike taal geword het, die tyd nou aangebreek het dat gewerk word aan vernieude vertaling, wat rekening hou met die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope tydvak en die resultate van wetenskaplike ondersoek, so getrou as moontlik aan die grondteks; ’n waardige vertaling wat ons volk aanspreek binne en buite die kerk, in die erediens en huislike gebruik, in ons teenwoordige situasie en tyd (Smit 1970:233).

Hierdie besluit is deur die Nasionale Raad van die BSA op 14 Augustus 1968 goedgekeur (Turley 1994:34) en gedurende 1970 deur die kerkvergaderings van die drie Afrikaanse kerke goedgekeur.

Van 27 Junie tot 17 Julie 1969 trek die BSA die lede van vertalingskommissie saam by Hibberdene ten einde die publikasie van ’n proefbundel van die nuwe vertaling van drie Ou- Testamentiese en drie Nuwe-Testamentiese boeke voor te berei. Die bedoeling was om ’n nuwe benadering te gebruik en die reaksie van die kerklike publiek te toets. Tot op daardie tydstip was dit eintlik die kommissie wat as opdrag die voortgaande hersiening van die 1953-vertaling gehad het. Nou tree die kommissie eintlik alreeds op as ’n kommissie vir die nuwe vertaling van die Bybel met E P Groenewald as voorsitter en A H van Zyl as sekretaris. Daar word besluit om die benaderingswyse van elke konsepvertaler te eerbiedig en so ook aan die lesers die geleentheid te bied om met variasies in benadering tot Bybelvertaling kennis te maak. Hierdie Proefvertaling van 1 Samuel, Amos, Maleagi, Die Evangelie volgens Johannes, Die Brief aan die Filippense, Die Brief aan die Kolossense word op 18 Februarie 1971 gepubliseer en binne enkele dae is die voorraad in die Transvaal uitverkoop (Van Zyl & Swanepoel 1972:49-53). Die bedoeling was dat hierdie publikasie sou saamval met die herdenking van die 150-jarige bestaan van die BSA in 1970.11

By die Algemene Sinode van 1970 word goedgekeur dat daar in plaas van met ’n hersiening van die 1953-uitgawe met ’n nuwe vertaling van die Bybel voortgegaan sal word en dat die volgende persone op die paneel van vertalers sal dien: E P Groenewald (voorsitter), A H van Zyl (sekretaris), F C Fensham, F J Botha, P A Verhoef (Handelinge 1970:855). Prof Groenewald wat in 1970 geëmeriteer het, wy hom vanaf 1971 voltyds aan die vertaling, terwyl die ander persone in deeltydse hoedanigheid meewerk. Soos die ander kerke wat betrokke is, begroot die Algemene Sinode om die projek op ’n jaarlikse basis finansieel te ondersteun, onder meer om hulp vir die deeltydse vertalers in te koop.

Intussen stel die BSA ’n Breë Vertalingskommissie saam waarby die Algemene Sinode ook nog verdere name toevoeg. In 1975 verskyn Die Blye Boodskap met die vier Evangelies, Handelinge en Psalms 1-50. In 1979 verskyn Die Nuwe Testament en die Psalms in die nuwe vertaling.12 Hierdie publikasie is in 1980 bekroon met die Credo-prys vir Christelike literatuur (Turley 1994:21). Daar was ook ’n Breëkommissie om kommentaar op konsepvertalings te lewer, be- staande uit teoloë, taalkundiges en ook verteenwoordigers van die onderskeie kerke. Wat die NG Kerk betref, was dit twee lede van die Breë Moderatuur.13

Die werkswyse wat gevolg is, het meegebring dat daar ongeveer vyf fases in die vertaalproses was. Afsonderlike boeke is aan individuele vertalers toegeken. Ook vakmanne wat nie lede van die redaksie was nie, het vertaal. Die redaksie het dan kommentaar gelewer op die eerste konsep. In die lig hiervan is ’n tweede teks voorberei wat dan in ’n sitting van die volle kommissie bespreek is. Hierna is die produk na die kommissies van verskillende kerke gestuur vir hulle kommentaar. Die Eindredaksie het daarna die finale teks voorberei. Omdat daar in die loop van 15 jaar bepaalde nuwe insigte gegroei het, was dit noodsaaklik om die vertaling van die hele Bybel tog te hersien en te koördineer. Vir die finalisering van die hele Bybel is die Nuwe Testament van 1979 ook weer grondig hersien (Helberg 1986:7 ev; Verhoef 1998:98-99).

Wysigings aan die NAV

Op 2 Desember 1983 is Die Bybel: Nuwe Vertaling in Kaapstad gepubliseer, net mooi 50 jaar ná die verskyning van die 1933-vertaling. Binne die eerste jaar is daar ongeveer 580 000 eksemplare van hierdie uitgawe versprei (Turley 1994:61). Ná die verskyning van die NAV het ’n kommissie wat benoem is jaarliks in Desember vergader om voorstelle tot wysiging van die NAV te oorweeg. Uitgawes van die NAV wat daarna verskyn het, het die betrokke wysigings bevat. Aangesien daar deur die verskillende uitgawes ’n mate van verwarring ontstaan het, is hierdie werkswyse in Desember 1990 gestaak en bevat alle uitgawes van 1991 af die aanvaarde wysigings (Verhoef 2000:56). Dit is interessant om daarop te let dat in Junie 1984 die Pieter van Drimmelen-medalje vir die bevordering van Afrikaans op die gebied van die godsdiens deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan die BSA oorhandig word.

Samewerking tussen kerke

Aanvanklik is die samewerking beperk tot die drie sogenaamde Afrikaanse susterkerke wat lede gehad het in die redaksie, maar ook in ’n Breëkommissie waarin, benewens teoloë en taalkundiges, ook kerklike verteenwoordigers sitting gehad het om kommentaar te lewer op die konsep- vertalings. Die BSA het die proses van samewerking en inspraak egter steeds verbreed. Op 28 Februarie 1979 vind die eerste vergadering van die Kerklike Skakelkomitee van die BSA vir die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling by die Universiteit van Pretoria plaas.14 Daar was vier vertalers, vier persone van die Gereformeerde Kerk, ses van die NG Kerk, twee van die Hervormde Kerk, een van die NG Sendingkerk en een van die AGS teenwoordig.

Vanaf 1984 is die benaming van die skakelkomitee die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans). By die konstitueringsvergadering van die Kerklike Advieskomitee word E P Groenewald tot eerste voorsitter verkies. Volgens die reglement mag enige kerkverband wat oorwegend Afrikaans in prediking en pastoraat gebruik, ’n aantal verteenwoordigers benoem om as behoorlik benoemdes namens die kerkverband deel te neem aan besprekings en besluitneming. Tans dien die volgende denominasies in die Kerklike Advieskomitee: die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika , die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika, asook die hoofsekretaris van die BSA. Daar word steeds addisionele kerke wat Afrikaans gebruik deur die BSA uitgenooi om aan die werksaamhede van die Advieskomitee deel te neem. Hoewel die Advieskomitee een keer per jaar kan vergader, roep die BSA die liggaam normaalweg slegs byeen indien die sakelys dit regverdig. Sedert 1984 het die Advieskomitee nog net tien keer vergader.15

Nuwe sake

Sake wat van 1984 tot 1991 veral die aandag van die Kerklike Advieskomitee geniet het, was veral die NAV en die prosedure wat deur die Eindredaksie gevolg moes word wanneer die reaksies op die NAV oorweeg word. In 1989 word daar na die Bybelteks op rekenaar en ’n moontlike vertaling van die Bybel vir lesers met beperkte leesvermoë verwys.

In 1991 kom die versoek om oorweging te skenk aan ’n Vertaling vir dowes vir die eerste keer op die sakelys. Daar word deur die Gereformeerde Kerk gewys op die behoefte aan ’n Formeel korrespondente (literêre) Bybelvertaling wat kan dien as ’n kontrole-Bybel vir liturgiese gebruik, asook as Kanselbybel vir algemene gebruik. In 1995 word daar weer na die behoefte aan ’n vertaling vir die dowes en die konkordante vertaling verwys en word daar aanbeveel dat ’n simposium in verband met die wenslikheid van dié twee vertalings gehou moet word. Die simposium vind dan op 12 Junie 1996 plaas. Daar word sterk aanbeveel dat voortgegaan moet word met ’n vertaling vir die dowes. Ofskoon Gebaretaal hulle eerste taal is, is Doofgerigte skryftaal vir hulle veel meer verstaanbaar as normale geskrewe Afrikaans. Aan die begin van 1997 het die BSA in uitvoering van die versoeke van die kerke en die Advieskomitee met die ABD-projek (Afrikaanse Bybelvertaling vir die Dowes) begin.16 Benewens ’n proefvertaling van Genesis en Markus (1998), is Daniël tot Maleagi (2000) reeds gepubliseer en is Die vier Evangelies tans in die pers.

In die Advieskomitee se notule van 1998 word daar verwys na die navorsing wat ISWEN vir die BSA oor ’n Bybel in oudioformaat onderneem. Telkens word daar ook deur die BSA verslag gedoen oor die beskikbaarheid van die 1933/53-vertaling en die verskillende formate van die 1983-vertaling.

Besware teen die NAV

Intussen het daar ná die verskyning van die NAV ook heelwat besware na vore gekom in die korrespondensiekolomme van die dagblaaie, maar ook in publikasies. Daar kan nie nou hierop ingegaan word nie, maar daar kan wel na die volgende publikasies in hierdie verband verwys word (Erasmus 1988; Gouws 1989; Gunther 1986; 1987; Weiss 1990).

Die Verwysingsbybel

Nog ’n publikasie van die BSA waarby ’n vorige voorsitter van die kommissie (prof P A Verhoef) ook betrokke was, is die Verwysingsbybel: 1983-vertaling (Oberholzer 1998).17 Hierdie belangrike projek het vanaf 1992 tot 1998 geduur. Aangesien dit ’n publikasie van die BSA is, kon hier geen werklike verklaring gedoen word nie, maar die bydrae van die deeglike kruisverwysings asook die woordelys, plekname, kernkonkordansie en kaarte is ’n besonder belangrike naslaanbron vir die ernstige Bybelstudent. Intussen het daar in 1987 reeds ’n ander konkordansie op die NAV verskyn (Cinamon 1987), asook in 1996 (Potgieter 1996).

Navorsing oor Bybelvertaling

Die BSA het deur die jare ’n belangrike rol gespeel om publikasies oor navorsing op die gebied van navorsing oor Bybelvertaling te stimuleer en te publiseer. Hier kan net vlugtig verwys word na die Leksikon van Louw en Nida (Louw et al 1989), asook publikasies soos Louw (1985); Nida (1983; 1984); Wendland (1985; 1987), en Wendland & Louw (1993). Hierdie publikasies het beslis ’n wesenlike rol op hierdie terrein in Suid-Afrika gespeel.

Ander vertalings

Intussen het daar ook ander vertalings in Afrikaans verskyn wat nie van hierdie kommissie of die BSA uitgegaan het nie, maar wat sekerlik ’n belangrike rol in die lees en verstaan van die Bybel en die Nuwe Testament by die Afrikaanse kerklike en leserspubliek speel. Hier kan ons verwys na Die Lewende Bybel (CUM 1982), Die Boodskap (Van der Watt, Joubert, & Cloete 1997) asook Die Nuwe Testament vir kinders (Joubert, Van der Watt, & Stander 1999). Dit is verblydend dat die ernstige Bybelstudent steeds meer verklarings en vertalings tot sy of haar beskikking het om uit die ou skat steeds nuwe en ou dinge te voorskyn te bring. Die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie is in 2000 aan Jan van der Watt en Stephan Joubert vir Die Boodskap toegeken.

Voortgaande vertaling

Lede van die kommissie en ’n breë verteenwoordiging teoloë en kerklike verteenwoordigers was ook betrokke by ’n Bybelvertalingsimposium in Augustus 2001 wat op versoek van die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) deur die BSA aangebied is. Die simposium het plaaslike akademici en vertalingskonsultante van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG) byeengebring om, onder meer, in die lig van hedendaagse navorsing ten opsigte van vertaling en die nuwe inisiatiewe wat binne die WBG geformuleer word, die behoefte aan ’n moontlike nuwe Bybelvertaling in Afrikaans te bespreek. By die simposium is onder meer gewys op die ingrypende verskuiwings in die vertaalteorie en -wetenskap wat ingetree het sedert die dae toe daar met die eerste fases van die NAV ’n begin gemaak is. Daar sal in die nabye toekoms duidelikheid moet kom oor die vraag na die noodsaak en die aard van ’n moontlike nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans (Van der Merwe 1999; 2001; Wilt 2001).

By die vergadering van die Kerklike Advieskomitee op 1 Maart 2002 word daar kennis geneem van die voorlopige bevindings van die marknavorsing deur die BSA by Bybellesers van verskillende denominasies oor hulle sienings ten opsigte van verskillende vertalings van die Bybel, asook ander sake wat verband hou met die lees van die Bybel. Tog word geoordeel dat daar nog nie voldoende duidelikheid is of daar met ’n volgende vertaling van die Bybel in Afrikaans voortgegaan moet word nie. Die Dagbestuur van die Advieskomitee ontvang opdrag om voorstelle oor moontlike proefvertalings aan die BSA voor te lê sodat die Advieskomitee uiteindelik oor meer gegewens sou kon beskik ten einde ’n verantwoorde besluit oor ’n verdere vertaling te kan maak. Die BSA het in die lig van die voorstelle versoek dat daar by elk van die volgende vier sentra, Pretoria, Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch, ’n vertalersgroep gevorm sal word. Die bedoeling is dat elke groep vier verskillende weergawes van drie teksgedeeltes uit die Ou Testament en drie gedeeltes uit die Nuwe Testament sal voorberei.18 Die bedoeling is dat hierdie poging om op vier verskillende plekke telkens vier weergawes van dieselfde tekste voor te berei, materiaal sal lewer wat die Kerklike Advieskomitee in staat sal stel om meer helderheid te kry oor die verskeidenheid van moontlike vertaalwyses en die aard van ’n moontlike verdere vertaling – indien daar tot so iets besluit sou word.

4. BYBELVERSPREIDING

Aanvanklik was die werksaamhede van die BSA nie direk by die werk van die kommissie ter sprake nie. Hier bo is egter in die konteks van Bybelvertaling reeds gewys op die heel besondere rol wat die BSA deurentyd in hierdie verband gespeel het. Op hierdie wyse was daar dus deur die jare heen in elk geval intensiewe skakeling tussen lede en veral die voorsitters van die kommissie met die BSA. Daar het egter met die Algemene Sinode van 1998 ’n nuwe bedeling aangebreek toe die Reglement van die AKBV goedgekeur is, waarvolgens twee predikante van die NG Kerk in diens van die BSA ook sitting neem op die kommissie. Die aanloop hiertoe was ’n brief wat reeds in Junie 1995 van dr D Tolmie, destydse Hoofsekretaris, ontvang is wat hierdie saak aangaande die bevoegdheid van predikante in diens van die BSA aan die orde gestel het. Volgens die Algemene Sinode van 1994 kon leraars wat in heeltydse diens van die BSA tree, alleen maar proponentsbevoegdheid behou.

Nadat die saak deeglik aandag geniet het, skep die nuwe Reglement van die AKBV (1998) die ruimte dat die Algemene Sinode per ooreenkoms ’n aantal predikante beskikbaar stel vir diens in die BSA en dat die betrokke leraars sodoende hulle predikantsbevoegdheid kan behou. In aansluiting hierby is daar ’n ooreenkoms tussen die Algemene Sinode van die NG Kerk en die BSA op 16 Maart 1999 deur die Algemene Sinodale Kommissie goedgekeur waarvolgens die wyse van benoeming deur die AKBV in oorleg met die BSA gereeël word. Dit geld alleen vir persone wat as predikante van die NG Kerk in diens van die BSA tree.19 Hierdie reëling lui ’n nuwe fase in die bestaan van die kommissie in, wat ook weerspieël word in die nuwe benaming van die kommissie – die Algemene Kommissie vir Bybelvertaling, Bybelverklaring en Bybelverspreiding. Hierdie nuwe verhouding verstewig egter ’n band tussen die NG Kerk en die BSA, wat oor vele jare uiteraard reeds tussen die BSA en alle meewerkende kerke bestaan.

Hoewel hier geensins in besonderhede by die werksaamhede van die BSA oor die afgelope halfeeu stilgestaan kan word nie, is dit wel belangrik om net op enkele hoogtepunte van die geskiedenis van die BSA te let (vgl Smit 1970; Turley 1994).20

Die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG)

Op 23 Augustus 1820 word die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG), aanvanklik bekend as die South African Bible Society, gestig. Dit was die amptelike begin van Bybelgenootskapwerk in Suid-Afrika en die plaaslike BBBG het as ’n tak van die moedergenootskap in Engeland gefunksioneer.

In die eerste eeu van die BBBG se bestaan sou met reg verklaar kon word dat die belangrikste hoogtepunte met die vertaling van die Bybel saamhang. Hier word heel kursories op hoogtepunte gewys: die Tswana Bybel – 1857 (deur Robbert Moffat vertaal), die eerste volledige Bybel- vertaling in Suid-Afrika, en op twee na, die eerste in Afrika; die Xhosa Bybel – 1859; die Suid- Sotho Bybel – 1881; die Zoeloe Bybel – 1883; die Noord-Sotho (Pedi) Nuwe Testament – 1890; die Pedi Bybel – 1904; die Tsonga Bybel – 1907; die Afrikaanse Bybel – 1933; die Venda Bybel – 1936; die Swati Bybel – 1996, en verder ook Bybelvertalings in Namibië (Nama, Herero, Kwanyama, Kwangali, Dhimba) en die Afrikaanse Bybel in braille in 1941. Tans word gewerk aan die Bybel in Suid-Ndebele, die enigste amptelike taal van Suid-Afrika wat nog nie ’n volledige Bybel het nie. Die Bybelboeke Rut en Jona het in 2000 verskyn.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA)

Vanaf 1 November 1965 funksioneer die BSA as ’n outonome liggaam, onafhanklik van die BBBG, 145 jaar nadat die werk in 1820 in Suid-Afrika ’n aanvang geneem het. In 1965-1968 was die BSA betrokke by die vestiging van Bybelgenootskappe in ons buurlande Lesotho, Botswana, Swaziland en Namibië. Vanaf 1987 is die werk in dié lande onder toesig van die WBG.

Waar alle Bybels voorheen veral in Engeland gedruk is, is daar vanaf 1966 (die publikasie van die Nama Bybel) tot in die middel van die tagtigerjare begin om Bybels plaaslik te druk. Die publikasie van die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel was ook ’n hoogtepunt vir die Suid- Afrikaanse drukkersbedryf. Tans word jaarliks gemiddeld meer as ’n miljoen Bybels en Bybelgedeeltes in Suid-Afrika geproduseer. Steeds meer werk word ook vir ander Bybel- genootskappe, veral in Afrika, onderneem. Verlede jaar is daar 414 792 volledige Bybels vir Bybelgenootskappe in Afrika gedruk.

In 1991, 1994 en 2000 is spesiale telethons, bekend as Bibliathon ‘91, ‘94 en 2000, in samewerking met die SABC aangebied. Hierdie televisie-uitsendings het meegehelp om miljoene rand vir Bybelverspreiding in te samel. Volgens terugvoering van Bybelgenootskappe in die res van die wêreld is dit ook uniek vir ’n openbare uitsender om op dié skaal tyd aan ’n Bybelgenootskap beskikbaar te stel.

Die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG)

In 1966 het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika volle lidmaatskap van die WBG gekry. Die Hoofsekretaris, ds G S Kritzinger, dien tans op die Afrika-Streeksraad van die WBG sowel as op die Wêreldraad van die WBG. ’n Vorige organiserende sekretaris van die BSA, dr C F Sieberhagen, is ook onlangs aangestel in die Afrikastreek as mediakonsultant van die WBG. Die BSA was in 2000 die gasheer vir die WBG se Algemene Vergadering in Midrand. Ongeveer 137 Bybelgenootskappe uit meer as 200 lande was teenwoordig.

Denominasies

Die BSA het tans 26 sekretarisse wat 11 kerkgenootskappe verteenwoordig in diens. Deur die jare is persone uit die verskillende kerkgenootskappe as sekretarisse aangestel. Die BSA bestaan om alle kerke te dien en om te verseker dat almal in Suid-Afrika toegang tot die Woord in hulle eie taal het. Net enkele voorbeelde: Die aanstelling van Rev P M Mpumlwana, ’n Xhosasprekende in 1961 as die eerste swart sekretaris, en die verskyning van die Afrikaanse Bybel met deuterokanonieke boeke in 1965. Hierdie Bybel was een van die eerste Bybelgenootskapuitgawes met deutero-kanonieke boeke in Afrika.

Vanaf 1965 tot op hede het die volgende persone as Hoofsekretarisse van die BSA gedien: ds J T M (Tom) de Jongh van Arkel wat reeds in 1955 Hoofsekretaris geword het, ds G E (Gerrit) van der Merwe – 1974; ds S (Sep) Boshoff – 1990; dr D (Donald) Tolmie – 1993, en tans ds G S (Gerrit) Kritzinger.

5. SLOTOPMERKING

Daar het veral gedurende die afgelope halfeeu opwindende dinge gebeur op die drie terreine wat hier bestryk is. Wat Bybelverklaring betref, staan die AKBV voor die uitdaging om werklik die lidmate van die NG Kerk te dien met verantwoorde verklaring van die Bybel. Ons beleef tans ’n hoogbloei van vraag en aanbod ten opsigte van godsdienstige publikasies in Suid-Afrika. Daar word ’n stroom van publikasies aan die kerklike publiek in die breë beskikbaar gestel. Tog oordeel ons dat daar juis nou in ’n tyd van toenemende debat en meningswisseling oor die Woord en die teologie, miskien meer as ooit ’n behoefte is om duidelike leiding te gee aan lidmate. Dit bly ’n verantwoordelikheid waarvoor ons nie kan terugdeins nie.

Die behoefte aan Bybelvertalings hang ook saam met die klaarblyklike belangstelling in die Woord en teologie. Daar word van verskillende kante af gevra na verskillende tipes vertalings. Individue sal waarskynlik by verskillende projekte betrokke raak. Die rol van die AKBV in hierdie verband kan alleen in samehang wees met wat die BSA op advies van en op versoek van die kerke van die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) besluit. Tog mag nie vergeet word nie dat daar ook nou reeds met verantwoordelikheid beplan moet word met die oog op die lidmate en Bybellesers van die jare 2010, 2015 en die geslag Bybellesers wat dan tussen 15-30 sal wees. Dit vra groot wysheid en insig.

Die betrokkenheid van die AKBV by die werk van die BSA ten opsigte van die verspreiding van die Bybel is uiteraard indirek. Tog gee die visie van die BSA om die Woord te bring aan steeds meer groepe – wat nog nie daaroor beskik nie – ook aan die AKBV ’n wonderlike geleentheid om hierin te deel. En waar die BSA ook die visie het om instrumenteel te wees om werklik die Woord van God vir Afrika te help produseer, sal dit vir alle kerke wat by die BSA betrokke is ’n wonderlike geleentheid gee om ook op hierdie wyse getrou te bly aan die ideaal om die Woord aan hierdie kontinent te help bring.

Samevattend kan verklaar word dat daar op die gebied van die vertaling, verklaring en ver- spreiding van die Bybel in die afgelope halfeeu soveel opwindende dinge gebeur het en nog steeds aan die gebeur is, dat dit alleen maar stof tot groot dankbaarheid bied. Dit neem nie weg dat daar ook groot uitdagings en geleenthede voor ons lê nie, aangesien juis die vertaling en verklaring van die Bybel in hierdie dae dikwels die gemoedere laat hoog loop. Hier moet steeds met die grootste verantwoordelikheid op getree word.

BIBLIOGRAFIE

Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling. Notule van 28 Oktober 1987.

Burger, C W, Müller, B A & Smit D J 1981. Woord teen die lig. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Cinamon, D V 1987. Die nuwe vertaling Bybelkonkordansie. Ravenmore: Sceptre.

Coertzen, P (red) 1998. Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met reglemente en besluite van kerkregtelike aard soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 1998. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

CUM 1982. Die lewende Bybel. Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy.

De Klerk, P J S 1951. Die brief aan die Hebreërs. Pretoria: Van Schaik. (Kommentaar op die Bybel. Nuwe Testament 10.)

Die blye boodskap: Die Evangelie volgens Matteus, die Evangelie volgens Markus, die Evangelie volgens Lukas, die Evangelie volgens Johannes, die Handelinge van die Apostels, Psalms 1-50. 1975. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Die Bybel. Nuwe vertaling. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Die Nuwe Testament en die Psalms: 1979-vertaling met woordelys en teksverwysings. 1979. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Du Plessis, I J 1995. Die Evangelie volgens Lukas. 3 Volumes. Kaapstad: Lux Verbi. (Kommentaar op die Nuwe Testament: Struktuur, uitleg, boodskap.)

Erasmus, J C 1988. Bewaar my Woord: Kritiek op die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Pretoria: Ye Olde Print Shoppe.

Geldenhuys, J N (red) 1958-1959. Die Bybel met verklarende aantekeninge. 3 Volumes. Kaapstad: Verenigde Protestantse Uitgewers.

Gouws, J 1989. Ter wille van die waarheid van die Woord – die kerk in Suid-Afrika, waarheen? Morgenzon: Oranjewerkers Promosies.

Groenewald, E P 1948. Die Evangelie volgens Markus. Pretoria: Van Schaik. (Kommentaar op die Bybel. Nuwe Testament 2.)

Gunther, M 1986. Is die 1983-vertaling die Bybel? Silverton: IVB.

Gunther, M 1987. Van die Nuwe Testament tot ons Bybel. Isando: IVB.

Handelinge van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk 1962, 1970, 1974, 1982, 1986.

Handelinge van die Raad van Gefedereerde Ned Geref Kerke 1935, 1939, 1941, 1943, 1951, 1955, 1959.

Helberg, J L 1986. Lig op die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Joubert, S, Van der Watt, J G & Stander, H 1999. Die Nuwe Testament vir kinders ... in ’n taal wat húlle verstaan. Vanderbijlpark: Carpe Diem.

Kotzé, P P A 1990. Die Brief van Jakobus. Kaapstad: Lux Verbi. (Kommentaar op die Nuwe Testament: Struktuur, uitleg, boodskap.)

Louw, J P (red) 1985. Lexicography and translation: With special reference to Bible translation. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Louw, J P et al (reds) 1989. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. 2 Volumes. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Nell, Ian, Meyer, Ockert S & Botha, Johan 2001. Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die Leesrooster vir lidmate. Stellenbosch: BUVTON.

Nida, E A 1984. Signs, sense, translation. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Nida, E A et al (red) 1983. Style and discourse: With special reference to the text of the Greek New Testament. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Nienaber, P J 1934. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling en ’n hoofstuk oor die vertaling van die Psalm- en Gesangboek en die formuliere. Kaapstad: Nasionale Pers.

Nienaber, P J 1949. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Johannesburg: Nienaber.

Nienaber, P J & Heyl, J A 1961. Die Afrikaanse Bybelvertaling. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Oberholster, J A S 1958. Die Bybel in Afrikaans. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Oberholzer, J P et al (red) 1998. Verwysingsbybel: 1983-vertaling Band 1: Teks met voetnote; Band 2: Naslaanmateriaal. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Potgieter, J H et al 1996. Afrikaanse Bybelkonkordansie (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Roberts, J H 1992. Die brief aan Filemon. Kaapstad: Lux Verbi. (Kommentaar op die Nuwe Testament: Struktuur, uitleg, boodskap.)

Smit, A P 1970. God het laat groei: Geskiedenis van die Bybelgenootskapsbeweging in Suider-Afrika 1820-1970. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Turley, M E 1989. Die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling 1968-1988: ’n Geselekteerde bibliografie. M Bibl, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Turley, M E 1994. Genade in oorvloed 1820-1995. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Van der Merwe, C H J 1999. ’n Konkordante vertaling van die Bybel in Afrikaans: Is dit hoegenaamd verantwoordbaar en hoe sal dit lyk? NGTT, 293-306.

Van der Merwe, C H J 2001. Is dit tyd vir ’n nuwe Bybelvertaling in Afrikaans?

Van der Watt, J G & Joubert, S 1997. Die Boodskap: Die Nuwe Testament in hedendaagse Afrikaans. Vereeniging: CUM.

Van Zyl, A H 1983. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Fax Theologia 3 (2), 1-28.

Van Zyl, A H 1984. Die aanleiding tot die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Skrif en Kerk 5 (1), 23-8.

Van Zyl, A H (red) 1989. Verklarende Bybel (1983-vertaling). Kaapstad: Lux Verbi.

Van Zyl, A H & Swanepoel, F A 1972. Waarom ’n nuwe Bybelvertaling? Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Verhoef, P A 1998. Hutspot-temas. Stellenbosch: P A Verhoef.

Verhoef, P A 2000. Terugblik van ’n brugbouer. Stellenbosch: P A Verhoef.

Vosloo, W 2001. Hoe om die Bybel beter te verstaan: Verklarings van die Bybel in Afrikaans. Verbum et ecclesia 22 (1), 178-190.

Vosloo, W & Van Rensburg, F J (reds) 1993. Die Bybel in praktyk: Nuwe vertaling. Vereeniging: CUM.

Vosloo, W & Van Rensburg, F J (reds) 1999. Die Bybellennium: Eenvolumekommentaar: Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing. Vereeniging: CUM.

Weiss, P F D 1990. Feite en foute: Oor Bybeltekste en Bybelvertalings. Kaapstad: Lux Verbi.

Wendland, E R 1985. Language, society, and Bible translation: With special reference to the style and structure of segments of direct speech in the Scriptures. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Wendland, E R 1987. The Cultural factor in Bible Translation: A study of communicating the Word of God in a central African cultural context. Londen: United Bible Societies. (UBS monograph series 2.)

Wendland, E R & Louw, J P 1993. Graphic design and Bible reading. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid- Afrika.

Wilt, T 2001. A new framework for Bible Translation. Referaat gelewer by Bybelvertalingsimposium, Kemptonpark, Aug 2001.

1 Konferensie gehou by die Fakulteit Teologie, Stellenbosch, 7-10 Apr 2002

2 Ds J F Mentz (Paarl), prof E P Groenewald, ds P H van Huyssteen, ds M Odendaal, ds P S Z Coetzee en prof E E van Rooyen.

3 Proff E E van Rooyen, J H J Kritzinger, G B A Gerdener, E P Groenewald, di M J van der Westhuizen en J Mentz.

4 Vir die Ou Testament was dit proff G M Pellissier en ds M Potgieter, en vir die Nuwe Testament proff B B Keet en J J Muller.

5 Vanaf 1966 neem prof Verhoef oor as skriba, terwyl prof Müller steeds die derde lid van die kommissie bly.

6 Die redaksie bestaan uit J L Helberg, J P Oberholzer, P A Verhoef en A H van Zyl.

7 Die ander lede is J J Müller, P A Verhoef, F J Botha en F C Fensham.

8 Die res van die redaksie was J P Oberholzer, J L Helberg, asook F J Botha wat voor die verskyning reeds oorlede is.

9 Na 1994 word H J B Combrink die voorsitter, terwyl J A du Rand steeds die skriba is.

10 Vosloo (2001) gee ’n sinvolle oorsig wat ook ’n breer terrein as hierdie artikel dek.

11 Die ander medewerkers aan hierdie proefvertaling was J J Müller, F C Fensham, F J Botha, P A Verhoef, J L de Villiers, E S Mulder, S P J J van Rensburg, J P Oberholzer, S du Toit, J H Kroeze, W J Snyman, S J du Plessis, J Postma en as taalkundige L W Hiemstra.

12 Tot in daardie stadium was die Eindredaksie E P Groenewald, A H van Zyl, J P Oberholzer, J Postma, en as taaladviseur W Kempen.

13 Na die voltooiing van die Nuwe Testament word die Eindredaksie soos volg saamgestel: E P Groenewald (voorsitter), J P Oberholzer (visevoorsitter), A H van Zyl (sekretaris), J L Helberg, P A Verhoef en as taaladviseur W Kempen.

14 Ds G E van der Merwe, Hoofsekretaris van die BSA, tree as voorsitter op en A H van Zyl as sekretaris.

15 Prof Groenewald was voorsitter vanaf 1984 tot 30 Augustus 1989. By daardie geleentheid is prof J P Oberholzer as die volgende voorsitter verkies, ’n posisie wat hy tans nog beklee.

16 Die voorsitter is J P Oberholzer, en ander lede is tans D F Tolmie, H C van Zyl, R P Hough, C H J van der Merwe, H J B Combrink, E Roux, M van den Heever en E Blignaut.

17 Die redaksie is J P Oberholzer (voorsitter), P A Verhoef, J P Louw, Fika van Rensburg, H C van Zyl en Rini Scheffler.

18 Eks 33, Ps 16, Jes 1, Matt 5:1-20, Rom 7:7-26 en Op 4.

19 Onlangs is daar vir die eerste keer in terme van die ooreenkoms gehandel toe ds D C Taljaard as organiserende sekretaris vir die Johannesburgstreek deur die AKBV in samewerking met die BSA benoem en op 3 Februarie 2002 in die amp bevestig is.

20 Die waardevolle hulp van me M E Turley van die BSA word met besondere dank vermeld.