ngtt_v51_n1_a04

Botha, DP (snr)1
Emeritusleraar

Eenheid, paternalisme en “geen gelykstelling”

Die wesenskenmerke van die verhouding van die NG Kerk tot die NG Sendingkerk soos beliggaam in die Sinodebesluite van die NG Kerk van 1857 en 1880

ABSTRACT

Unity, paternalism and ‘No equalisation’ – the fundamental characteristics of the relationship of the DR Church with the DR Mission Church as embodied in the Synod Decisions of the DR Church from 1857 to 1880

Paradoxically the leitmotif for the resolutions of the Dutch Reformed Church at its synods of 1857 and 1880 to create separate ministries for persons of colour was the unity of the church and its mission enterprise. In 1857 this ideal was aimed at by introducing the principle of the Middle Course (way), which endeavoured to reconcile two opposing realities. On the one hand there was the need for the church to retain and strengthen its spiritual influence over the freed slave community, which tended to drift away from the church of their former masters. On the other hand there was the cultural legacy of a slave-owning community, which manifested itself in a society of two classes in which the upper class (mainly white) strongly resisted any measure that would lead to social equality with the lower class (all persons of colour). The Middle Course tried to accommodate both realities by demanding that the unity of the social classes be maintained in the congregations of the church through common worship, but that where this was unattainable due to the resistance of the upper class to social equalisation with the lower class, congregations were allowed to serve the members of the lower class with Word and Sacrament in a separate building. The members of the upper class were in paternalistic control of all church affairs. For the next century or more the ethos of the Dutch Reformed Church in her dealings with the fruits of her mission enterprise was characterised by this ambiguity of striving after unity with her Young Churches, but upholding her stance of “no equalisation” and paternalistically controlling the relations. The missionary situation in and outside of the congregations after 1857 was so varied that the Middle Course could not be applied generally. When in 1880, however, the Dutch Reformed Mission Church was established the principles of the Middle Course were applied. The young church was church politically powerless, theologically ignorant and socially subservient. It would take decades of hard struggle to attain self-determination in church polity and theological equivalence with the Dutch Reformed Church, without sacrificing the essential unity that Christ has endowed. This quest continues.

Inleiding

Dit ly geen twyfel nie dat die NG Kerkvaders by die sinode van 1857, met die aanvaarding van die dubbelslagtige voorstel van Andrew Murray (Sr.), ’n doelgerigte poging aangewend het om die kerklike eenheid van die blankes en “gekleurdes” te handhaaf en te bevorder. Aan die ander kant is dit ewe duidelik dat hierdie besluit ten volle daarmee rekening gehou het dat die algemene lewenshouding van die Kaapse en Transgariep blanke samelewings dié van “geen gelykstelling” tussen blankes en “gekleurdes” was. Hierdie lewenshouding was ongetwyfeld die nalatenskap van die stelsel van slawerny wat vir byna twee eeue in SA geheers het. Standverskille is mettertyd stewig met kleurverskille geïdentifiseer en die bloedige botsings in die grensgebiede en die geskille met sekere sendelinge het die houding van die blanke heerserstand slegs versterk. (Sien Die Opkoms van ons Derde Stand – D.P. Botha; The Cape Vernacular - A.M. Hugo; Children of Bondage – Robert C. H. Shell). Daar bestaan ook nie juis dokumentêre getuienis dat die NG Kerk in enige stadium deur prediking, pastorale bediening of uitsprake die stelsel van slawerny veroordeel het nie. Vooroordele van blankes teenoor mense van kleur kon dus ongebreideld vestig sonder die nodige korrektief van kerklike kant.

Toestand voor vrystelling van die slawe

Voor die vrystelling van die slawe in 1836 kon die NG Kerk daarop aanspraak maak dat die meerderheid slawe tot sy invloedsfeer behoort het omdat hulle eienaars so te sê almal lidmate van die kerk was. Daar was ook goeie verstandhoudings tussen gemeentes van die kerk en die sendinggenootskappe, met uitsondering van die Londense Sendinggenootskap. Lidmate van die kerk was ook aktief betrokke by werksaamhede van die SA Sendinggenootskap in Kaapstad en sy Hulpgenootskappe in verskeie dorpe wat hulle spesifiek op die evangelisering van die slawe en ander “heidenen” toegespits het en “gestichten” of “oefeningshuizen” vir die doel opgerig het. Die boodskap van die Evangelie wat mense vrymaak van sonde en in Christus gelykwaardig voor God stel is aan die slawe en verkondig sonder om oral die konsekwensies daarvan deur te trek na die sosiale dimensie. Al is slawe vry in Christus en gelykwaardig aan die eienaars voor God, bly hulle status in die samelewing as ongelyk en ondergeskik aan die eienaars/heersers onaangetas. Hulle toelating tot en uitsluiting uit die sosiale verkeer met die laasgenoemdes bly dus die prerogatief van die blanke heerserstand.

Dit het tot gevolg gehad dat die slawe (en met hulle die ander gekleurde groepe) sedert die begin van die neëntiende eeu op baie ongelyke wyse binne die gemeenskap van die NG Kerk geakkommodeer is. In sommige gemeentes soos Kaapstad, Swartland, Swellendam en Wynberg e.a. is gelowige gedoopte slawe tot lidmate met volle regte saam met blankes toegelaat. In ander gemeentes is hulle onder beheer van die kerkrade afsonderlik bedien in geboue spesiaal daarvoor opgerig soos Tulbagh, Graaff-Reinet en Stellenbosch. In nog ander gemeentes het werksaamhede van sendinggenootskappe tot stand gekom wat die ondersteuning van die NG kerk geniet het soos Ladysmith en Wellington.

Alhoewel dit nie ’n ideale toestand van sake vir die NG Kerk was nie, was dit nogtans ’n situasie wat hy grootliks onder sy beheer gehad het. Sedert 1652 kon hy weens verskeie faktore buite sy beheer (soos staatsoorheersing , gebrek aan predikante, en voorskrifte deur die moederkerk in Nederland) nooit ’n Bybelsverantwoorde gesagstruktuur volgens Presbiteriaanse kerkregtelike beginsels daarstel nie. Eers in 1824 kon hy ’n sinode hou en het hy strompelend begin stap op die weg van kerklike organisasie en gesagsuitoefening. Een van sy eerste maatreëls was om ’n kommissie te benoem om die hele stand van die sending te ondersoek en die aanvaarding van agt artikels wat volgens A.A. Odendaal die strekking gehad het “om die posisie van sendelinge van verskillende Genootskappe ten opsigte van hulle verhouding tot die NG Kerk en die regering duidelik omskrywe”.

Hoe ernstig die toestand was word weerspieël deur uitdrukkings soos “misbruyken en wanorde” en “wanorde en verdeeldheid en scheuring” wat in die kommissieverslae voorkom. Die besluite van die sinode was ’n duidelike poging om die kerk en sy lidmate teen onregmatige proselietmakery deur sendinggenootskappe te beskerm en hom terselfdertyd groter beheer oor die bewegings en optrede van sendelinge binne wat hy as sy regsgebied beskou het te gee. A.J. Botha verklaar tereg dat alhoewel die sinode geen bedoeling gehad om binne eie verband afsonderlike bediening van die gekleurdes te bevorder nie, sy erkenning van die genootskaplike sendelinge en die geldigheid van hulle optrede binne bepaalde ordereëls tog daardie uitwerking moes hê. N.J. Hofmeyr het in 1853 reeds tot dieselfde gevolgtrekking gekom. (Sien De Gereformeerde Kerkbode 28 Mei 1853).

Die sinode van 1826 aanvaar ’n reglement “betreklijk het ordenen van Sendelingen” en orden ook vir L. Marquart as eerste sendeling van die NG Kerk. Die reglement bepaal dat die sendeling hom slegs sal bepaal by die bediening van die sakramente onder en aan die bekeerlinge uit die heidendom, wat hy tot ’n gemeente versamel, maar dat hy onder geen omstandighede by ander Christene (blank en gekleurd) mag indring nie. In 1829 word enige skeiding aan die Nagmaalstafel op grond van kleur streng afgewys. Uit die konteks moet dit verstaan word dat hierdie besluit nie van toepassing was op nagmaalsbedieninge deur sendelinge nie, maar deur predikante binne die gevestigde gemeentes waar blankes en gekleurdes saam aanbid het. Afsonderlike bediening aan gekleurdes deur sendelinge van die kerk sou dus voortgaan.

Die sinode van 1834 het ’n reglement vir Onderwys aan die Heidene aangeneem. Die volgende kommentaar van P.J.J.S. Els kan onderskryf word:

“Dit is allereers baie duidelik dat die kerk die bestaande sendinginstitute (sending-stasies) sien, nie as ’n doelbewuste poging om die Kleurlinge of nie-blankes in die algemeen van die blankes te skei nie, maar as die vrugbaarste metode om hulle geestelik te bearbei, sodat die leraar vry kan wees om sy aandag aan sy grotendeels blanke gemeente te gee. Dit wil tweedens nie sê dat die kerk hiermee enigsins ’n visie van ’n afsonderlike inheemse dogterkerk gehad het of die nie-blanke lidmate van bywoning van die gewone eredienste van die Ned. Geref. Kerk uitsluit nie. Dit word duidelik uit punt twee van die amendement. Hulle wou hierdie nie-blanke lidmate juis inskakel as gewone lidmate van die Ned. Geref. Kerk”.

Wat egter duidelik uit al die sinodebesluite oor die sending blyk is dat die kerk volkome kerkordelike beheer oor die sendelinge, die sendingwerksaamhede en die gemeentes uit die “heidene” nagestreef het. Die kerk het klaarblyklik nie beswaar gehad teen die sendingmetode van die genootskappe of institute nie, maar dan moes sulkes direk onder kerklike beheer staan. Die sinode van 1834 het dan ook ’n ernstige dog mislukte poging aangewend om die bestuur en werk van die SA Sendinggenootskap, wat hoofsaaklik uit lidmate van die NG Kerk bestaan het, onder sy beheer te kry. Dit is denkbaar dat die NG Kerk tog uiteindelik die beheer oor die verskillende sendingaksie sou kon verkry het, indien die status quo in die maatskaplike lewe gehandhaaf sou bly. Dit is ook denkbaar dat die inskakeling van bekeerlinge uit die “heidene” by bestaande gemeentes sou voortgaan sonder enige versteuring van die standsopset van die gemeenskap ook binne die kerk. Die blanke leierskap van die kerk sou immers steeds oor die finale beslissingsmag in alle sake beskik.

Ontwikkelinge na die vrystelling van die slawe

Die vrystelling van die slawe in 1836 het egter ’n radikale omwenteling in die maatskaplike sowel as kerklike lewe teweeggebring. Hier kan ons slegs op enkele gevolge wys. Die vrygestelde slawe het die wetlike status van vrymense gekry en gekoppel aan die toepassing van Ordinansie 50 van 1828 het die heerserstand alle wetlike beheer oor hulle en hulle vrye beweging verloor. Vir hulle vroeëre eienaars het dit groot finansiële verliese beteken en vir die heerserstand groot verlies aan mag.

Dit het ’n nuwe dimensie gebring in die politiek van die land, want die vrye gekleurdes kon nou ook tot die politieke arena toetree. Gesindhede van welwillendheid teenoor die lede van die vroeëre onvrye stand het by menige blanke plek gemaak vir gevoelens van vrees vir verlies van standsbevoorregting indien hierdie voorregte deur die vrye arbeidersklas gedeel moet word. Daarom mog daar “geen gelykstelling” wees nie. (N.J. Hofmeyr beskrywe die vooroordele en rasionalisasies wat hieruit voortgespruit het op treffende wyse in sy artikelreeks oor die sending in De Gereformeerde Kerkbode van 1853.)

Die NG Kerk se verlies was aansienlik. Hy kon nie langer die vrygestelde slawe as deel van sy invloedsfeer reken uit hoofde van die lidmaatskap van hulle gewese eienaars nie. Die sendinggenootskappe se invloed is geweldig versterk deurdat aansienlike getalle vrygestelde slawe na die institute verhuis het en in daardie gemeenskappe opgeneem is. Die bevolking van Genadendal, byvoorbeeld, het in daardie tyd byna verdubbel. In Kaapstad het St. Stephens as onafhanklike gemeente vir vrygestelde slawe ontstaan en die ZA Gesticht, die gemeente van die SA Sending-genootskap het aansienlik gegroei. Die Apostoliese Unie van Ds. G.W. Stegmann (Lutheraan) en dr James Adamson (Presbiteriaan), albei leraars van St. Stephens, het leraars opgelei en aktief begin sendingwerk doen in plekke soos Clanwilliam, Kaapse vlakte, Pniel, Bainskloof en Caledon. Hierdie proses het versterkend voortgeduur, sodat Hofmeyr in 1853 kon verklaar:

“Intusshen is het te betreuren dat de meeste kleurlingen thans buiten den invloed onzer Gereformeerde kerk zijn. Hoe menig Gereformeerd kerkgebouw zullen wij op den dag des Heeren in de buitendistrikten van kleurlingen bijna geheel ontbloot zien, terwijl zij daar en tegen in menigte op het zendings instituut zich bevinden ... Nu werden de slaven vrij verklaard, wat was dan ook natuurlijker dan dat de zendelingen op eene onafhanklijke en tevens gemakkelijke wijze hun werk onder de heidenen zochten te verrigten – en onder anderen hen rondom zich op hunne “Instituten” bijeenzamelen”.

Een van die grootste struikelblokke in die weg van die NG Kerk om sendingwerk te doen is in 1843 verwyder toe die Kerkorde van De Mist deur die Kerkordonnansie van 1843 herroep is. Die sinode van 1847 het sonder politieke kommissarisse kon vergader. Die voorsitter, dr P.E. Faure, met sterk steun van di G.W.A. van der Lingen en J. Spijker, reageer skerp op die “onverdienden blaam” dat die kerk onverskillig staan teenoor die uitbreiding van Gods koninkryk onder die heidene. Die sinode wil die teendeel bewys en vir die eerste maal in die geskiedenis van die kerk roep hy ’n Permanente Sendingkommissie in die lewe.

Die sinode van 1852 vind in ’n moeilike tyd plaas. Die mees verwoestende Agste grensoorlog was pas verby. Die kolonie was vasgevang in die konstitusionele stryd van 1850-1854 met die kwessie van die stemreg van gekleurdes hoog op die agenda.

Gemoedere is gaande gemaak deur gerugte deur John Montagu (Koloniale Sekretaris) onder die swartes versprei, dat die blankes hulle weer tot slawerny wil verkneg. Ewe-eens is ’n gerug onder blankes versprei dat die swartes ’n opstand beoog om al die blankes uit te moor. (D.J.P. Haasbroek – Historia XVI nr 1). Die onafhanklikwording van die Transvaal op 17 Januarie 1852 het nuwe eise aan die verhoudinge met die gemeentes anderkant die Vaalrivier gestel. Maar dit was ook die jaar van die tweede eeufees van die kerk. Die lede van die sinode was intens bewus van die groot uitdagings waarvoor die kerk te staan gekom het, veral wat die sending betref. Die eerste verslag van die Sendingkommissie is enersyds bemoedigend waar hy rapporteer oor sendingwerk onder kleurlinge en blankes gedoen. Andersyds kla hy oor die swak ondersteuning aan die kant van gemeentes. Die voorsitter verklaar “dat men in dezen tijd vooral zoo rijk aan lasterlijke beschuldigingen tegen onze kerk, niet genoeg kan aandringen op den plicht der Gemeenten jegens Onchristenen” .

So aangegryp is die sinode deur sy sendingtaak dat hy ’n verpligte jaarlikse kollekte vir die sending instel en die Kommissie met twee lede vergroot. Met groot piëteit het alle afgevaardigdes hulle staande, plegtig en eenparig verbind tot groter ywer vir die sending. Hierdie sinode besluit ook tot die oprigting van ’n eie teologiese seminarie om o.a. arbeiders vir die sending op te lei. In sy herderlike brief vind die sinode dit nodig om die gemeentes teen onchristelike vooroordele te waarsku en die eenheid van gelowiges ongeag kleur of afkoms te beklemtoon. Dit dui daarop dat die kerk al hoe meer met teenstand teen sendingwerk vanuit sekere kringe van die kerk te doen gekry het. Maar miskien moet in hierdie verband ook met die faktor van die groter ”inheemswording” van die leraarskorps rekening gehou word. Al hoe meer seuns van die kerk het hulle as predikante bekwaam en tot die bediening toegetree. Hulle sou vanselfsprekend meer sensitief wees vir die druk van maatskaplike verhoudingspatrone uit eie kring as predikante wat uit Europa gekom het. Daarom is dit veelseggend dat die predikante wat die leiding geneem het in die voorbereiding tot en daarstelling van die sendingbeleidsbesluit van 1857 almal Suid-Afrikaners was.

Rondom 1857

Ek wil nie in hierdie voordrag te diep ingaan op die beweegredes tot, die meriete van die formulering van en die kritiek daarop (veral van P. Huet) van die bekende besluit van die sinode van 1857 nie. (Hiervoor verwys ek na my publikasie Die Opkoms van ons Derde Stand 1960 en my studiestuk vir die Federale Raad van N.G. Kerke in 1982 oor die Historiese Agtergrond van die Stigting van Afsonderlike Etniese Kerkverbande, asook A.J. Botha se proefskrif Die Evolusie van ’n Volksteologie, 1984.) Ek wil probeer vasstel of daar ’n verband is tussen hierdie besluit en die stigting van die NG Sendingkerk in SA en indien wel, wat dit is.

Dit moet in die eerste plek duidelik wees dat die 1857-besluit nie gerig was op die sendingsituasie in die algemeen nie. Daarom kan dit nie gesien word as ’n aansluiting by of uitbreiding van die besluite van die sinodes van 1824 tot 1834 nie. Daardie besluite se fokus was gerig op die uitbreiding en vestiging van kerklike (lees NG Kerklike) bestuur en beheer van sendelinge en sendingwerk. Die eenheid van die kerk was geïdentifiseer met die kerklike beheer. Die groot verdeeldheid wat veral gevolg het op die vrystelling van die slawe en die reuse toename in die groei en invloed van die institute van die sendinggenootskappe soos deur Hofmeyr en ander beskrywe is betreur, maar die kerk het daaroor beheer verloor en was magteloos om die proses om te keer. Sy fokus moes dus verskuif na die terrein waaroor hy wel beheer gehad het, naamlik sy gemeentes.

Die saak wat voor die sinode gedien het was dus nie oor sendingstrategie in die algemeen nie, maar pertinent oor die vraag of die metodiek van die sendinggenootskappe van afsonderlike gemeenteskepping uit bekeerlinge uit die “heidene” wel gevolg kan word deur die gemeentes van die NG Kerk, wat tot in daardie stadium slegs inlywing van bekeerlinge uit die “heidene” as gebruiklik aanvaar het. Daar was op daardie tydstip reeds ’n aantal vooraanstaande gemeentes soos Wellington, Stellenbosch, Tulbagh, Paarl en Graaf-Reinet en ander wat “gestichten” (geboue) gehad het waar gekleurdes afsonderlik deur sendelinge bedien is, maar ander ook met volle lidmaatsregte by die gemeentes ingelyf is.

Die sinode kon beslis nie gelukkig gewees het met hierdie toedrag van sake nie, maar hy sou ook nie kon ontken dat hierdie metode ’n suksesresep vir die bediening van die evangelie aan die vrygestelde slawe en ander gekleurdes was nie en dat dit onteenseglik die hoofrede was waarom hierdie mense van die NG Kerk wegbeweeg het. Sou die sinode hierdie sending-metode sanksioneer vereis die eenheid van die kerk dat dit gemeentelik onder beheer van die kerkraad sal wees. Op hierdie wyse sou bestaande institute binne die grense van gemeentes weer mettertyd binne die invloedsfeer van die NG Kerk gebring kan word, tot herstel van die kerklike eenheid tussen blankes en gekleurdes.

Die Middeweg-voorstel

Die Middeweg-voorstel van Hofmeyr (De Gereformeerde Kerkbode 28 Mei 1853 p.165) vorm ongetwyfeld die agtergrond van die sinodebesluit van 1857. Daarin bepleit hy die evangelisering van die kleurlinge binne gemeenteverband volgens die metode van die sendinggenootskappe omdat hy dit beskou as noodsaaklik weens hulle besondere behoeftes. Terselfdertyd bepleit hy hulle samehorigheid met die blankes by die eredienste in lyn met die erkende gebruik van die kerk. Dit moes vir hom duidelik gewees het dat as afsonderlike bediening en gesamentlike aanbidding nie saam gehandhaaf word nie, die kerk sy invloed oor die gekleurdes sou verloor. Slegs afsonderlike bediening sou die skeiding verskerp en die invloed van die sendinggenootskappe versterk; slegs gesamentlike aanbidding sou in die lig van die sondige blanke vooroordele die toevoeging van bekeerlinge uit die “heidene” so te sê tot stilstand kon bring. Dit is dus duidelik dat sy Middeweg-voorstel slegs kon slaag indien die sondige blanke vooroordele onbevrees deur prediking en pastorale sorg deur die kerk bestry sou word.

Wat die inhoud van Hofmeyr se voorstel in dié verband aan die sinode was en waarom hy dit ten gunste van Andrew Murray Snr s’n (wat besluit geword het) teruggetrek het sal ons nooit weet nie. As gelet word op sy vurige betoë in sy artikels in De Gereformeerde Kerkbode teen die sondige blanke vooroordele, veral in die buitedistrikte, is dit ondenkbaar dat hy die eksepsie teen die Skrifreël “ten gevolge van de zwakheid van sommigen” kon ondersteun. As hy moontlik gedink het dat sondige vooroordele deur omseiling van hulle konfrontasie deur die sending van die kerk sou verminder of irrelevant word het hy hom vergis. Die kompleks van emosies wat bevat is in die vooroordele en uitgedruk is in die credo “Geen Gelykstelling nie” sou verbete weerstand bied teen beide die aanvaarding van die “gemeentes uit die heidene” as gelykwaardig aan die blanke gemeentes en die aanvaarding van bekeerde kleurlinge as deelnemers aan lidmaatsregte saam met blankes. Die blanke kerkleiding, wat deur die gewraakte besluit verhinder is om die suiwer Skrifbeginsel van gelykheid van ras en kleur voor die Here en in die kerk onverbiddelik te handhaaf, sou op die duur nie kon vermy om tussen die behoud van blanke- of kleurlinglidmate te kies nie. Dit het dan ook die einde van Hofmeyr se Middewegskema teweeggebring.

Die situasie na 1857

Die 1857-besluit kon beslis nie die lading van die kerk se sendingwerksaamhede dek nie. Dit het slegs een aspek betref. Sendingwerksaamhede het wel toegeneem, maar geweldig gedifferensieerd. Daar was reeds funksionerende sendinggemeentes opgebou, sommiges deur buitelandse sendinggenootskappe soos Wellington (Paryse Sendinggenootskap), Zuurbraak (Londense Sendinggenootskap),Stellenbosch (Rynse Sendinggenootskap), ander deur individuele sendelinge soos Middelburg (Eerw.Bennie), nog ander deur hulpgenootskappe van die SA Sendinggenootskap soos Zoar en Graaff-Reinet). Tussen sulke gemeentes en die gemeentes van die NG Kerk ter plaatse was daar ’n engere of losser band. Oor wat die verband tussen hierdie gemeentes, en die verband met die NG gemeentes en die NG Kerkverband moes wees, het die sinode geen leiding gegee nie. Die sinodebesluit het wel die weg gebaan vir ’n dinamiese ontplooiing van die sendingywer op plaaslike vlak in ’n verskeidenheid van programme soos onder andere aangetoon deur A.J.C. Erwee in sy proefskrif oor “Die Sending van die Nederduitse Gereformeerde Kerk onder die Inboorlinge van Noordwes-Kaapland” Dit was veral die groot herlewing van 1860 wat die sending-ywer van die kerk sterk aangeblaas het.

Die periode wat op 1857 gevolg het is gekenmerk deur ’n ongekende opbloei van sendingywer met ’n gepaardgaande toename in die verdeling van beheer van die sendingwerk, want daar was voorasnog geen kerkregtelike verantwoording nie. Die Sinodale Sendingkommissie het die reg verkry om selfstandig sendingwerk binne gemeentegrense te onderneem in oorleg met kerkrade (bv. Zuurbraak, Wynberg en Palmietrivier). Verder het hierdie kommissie ’n ondersteunende funksie t.o.v. gemeentelike sendingwerk gehad. Ander werksaamhede is deur sendingdireksies bestuur en beheer. Ringsbeheer en –toesig het stelselmatig ontwikkel en in 1870 het die sinode in elke ring ’n “Zending Inspector” verorden.

Hofmeyr se Middewegplan (soos saam gelees met die 1857 sinodebesluit) was klaarblyklik nie die oplossing vir hierdie komplekse situasie nie. Eerstens was dit nie moontlik om gevestigde sendinggemeentes wat uit genootskaplike sendingwerk na die NG Kerk oorgekom het, soos George, Zuurbraak en Zoar volgens die formule van die middeweg onder die bestuur van die kerkraad van die plaaslike NG –gemeente te stel nie. Dit sou verder ook nie toegepas kon word op “sendingstasies” soos Elandskloof en Ebenhaeser (Olifantrivier) nie. Slegs nuwe werk en enkele bestaande projekte sou volgens die formule ingerig kon word.

Tog was die Middewegformule vir Hofmeyr die weg waarlangs die verlore eenheid teruggewen moes word. Die metode van afsonderlike bediening binne een gemeenteverband het nie vir hom in die weg van die eenheid gestaan nie. Dit is egter ewe duidelik dat Hofmeyr hom met twee verskynsels misreken het. Die eerste is die eenheidsverwoestende krag van die blanke kleurvooroordele wat juis die metode van afsonderlike bediening sou aangryp om die eenheid wat daar wel bestaan het op te hef (waarvan die gebeure te Malmesbury ’n duidelike bewys is). Hierteen het sy formule nie ’n teenmaatreël ingebou nie en die sinodebesluit het teenmaatreëls effektief geneutraliseer met sy toegewing van die eksepsie teen die Skriftuurlike vereiste op grond van “die swakheid van sommiges”.

Die tweede verskynsel is die dinamiese kragte wat losgemaak word wanneer gemeenskapstrukture ontstaan en ’n eie lewe begin voer. Groepstrukture is geneig om eie identiteite en solidariteite te ontwikkel. ’n Gemeente word gevorm rondom Woord, Sakrament en Tug. Wanneer ’n groep gekleurdes dus in ’n afsonderlike gebou so saamgetrek word is dit onvermydelik dat hulle ’n eie identiteitsgevoel ontwikkel, dat hulle hul al meer met die sendeling as hulle leraar en al minder met die “moedergemeente” as hulle gemeente identifiseer. Met die versterking van hulle groepsidentiteitsgevoel sal hulle ook die behoefte aan selfbeskikking begin voel en ’n begeerte na eie ampsdraers ontwikkel. Enige ontsegging van hierdie voorregte sal as paternalisme en selfs onderdrukking ervaar word. Hofmeyr se formule hou ook nie met hierdie verskynsel rekening nie.

Omdat die formule van die Middeweg nie verder gegaan het as die daarstelling van die metode van afsonderlike bediening vir die onmiddellike doelmatigheid in missionêre verband nie, het dit nie ’n oplossing gebied vir die verhoudingsprobleme wat na verplanting ontstaan het nie. Want vanuit watter hoek ’n mens ook al die afsonderlike bediening aan gekleurdes beskou, as omseiling van vooroordeel of as tegemoetkoming aan die buitengewone behoeftes van die gekleurdes, dit moet tot kerkplanting lei. Vrae wat dus onmiddellik aan die orde kom is: Wat is die kerklike status van die groep kleurlinggelowiges wat afsonderlike bediening geniet? Indien hulle as volwaardige gemeente beskou word, wat is hulle verhouding tot die “moedergemeente”? Is hulle gemeentestruktuur tydelik of permanent? Wat is hulle posisie t.o.v. kerkverband? Wat is die verband tussen hulle doelmatige afsonderlikheid en die eenheid wat deur hulle afsonderlikheid gedien moet word? ’n Vraag wat op dieselfde vlak lê is: Wat is die status en kerkregtelike verband van die sendeling in hierdie opset?

Indien die bogenoemde vrae wel die aandag van die kerk geniet het, blyk dit nie uit die verslae en debatvoerings by daaropvolgende sinodes nie. Die NG Kerk is ook in 1860 oorrompel deur die Liberale Stryd en die gedwonge afskeiding van die gemeentes van die Transgariep. Dit het tot 1870 geduur. Alle aandag is op die behoud van leersuiwerheid toegespits. Die verwarring was so groot dat die Ring van Tulbagh van 1864 tot 1871 verdaag het. Die herlewing van 1860 het nie alleen die sendingywer by die NG Kerk aangeblaas nie, maar beslis ook die kerk se verhouding tot die sendinggenootskappe en hulle sendelinge ten goede verbeter. Die Christelike Konferensie wat op 16 en 17 Januarie 1861 in die Groote Kerk, Kaapstad plaasgevind het is bewys hiervan. Daar was ’n groot skare byeen uit gemeentes uit die NG Kerk en ander Protestantse kerke, sowel as professore van die Kweekskool en predikante en sendelinge van die kerke en sendinggenootskappe. Voordragte is in Hollands en Engels gelewer deur sprekers uit verskillende kerke. Dit is duidelik dat daar as produk van die geseënde opwekking ’n sterk ekumeniese besef by ’n groot getal predikante en lidmate van die NG Kerk posgevat het. Eerw. Esselen, Rynse sendeling van Worcester, het ’n treffende getuienis gegee oor die oplewing van sendingywer by die NG Kerk.

Onderhandelinge met die Rynse Sendinggenootskap

Die toenadering tussen die NG Kerk en die Rynse Sendinggenootskap was so sterk dat onderhandelings begin is vir die oorname deur die NG Kerk van die 15 werkkringe van die Rynse Sendinggenootskap. Die NG Kerk was volkome bereid om 10 van die gemeentes, wat reeds ’n hoë graad van selfstandigheid bereik het as gemeentes van die kerk in sinodale verband op te neem soos die geval was met St. Stephens en Stockenström. Met spyt moes die sinode van 1873 egter verneem dat die Rynse Genootskap nie sy weg oopgesien het om slegs ’n deel van sy werk oor te gee nie en is die onderhandelinge beëindig. In hierdie onderhandelinge is blykbaar duidelik uitgemaak wat die NG Kerk as ’n selfstandige gemeente beskou. Die tydelike kommissie van die sinode, wat met die verslag belas was verklaar van hierdie onderhandelinge: “En in de toekomst, wanneer de bestaande moeigelijkheden zijn weggeruimd, zullen zij wellicht nog dienen als grondslagen voor de verwezenlijken van wat nu nog niet gegeven magt worden”.

Dit skyn asof die sinode in 1857 dieselfde maatstaf vir selfstandigheid toegepas het toe hy St. Stephens, die gemeente van vrygestelde slawe, as volwaardige gemeente in sinodale verband ingeskakel het en nie die sendinggemeente George nie. Ander sendinggemeentes soos Zoar, Zuurbraak, Graaff-Reinet en Middelburg het egter nie aansoek gedoen om inskakeling nie. Uit die standpunt wat die kerk ten opsigte van die inskakeling van die Rynse gemeentes ingeneem het moet afgelei word dat hy nie uit beginsel en in die praktyk teen die inskakeling van gemeentes van gekleurdes gekant was nie. Hulle moes egter ’n bepaalde graad van finansiële selfstandigheid hê en hulle leraars moes oor die gewenste kwalifikasies beskik. Dit sal ’n ope vraag bly of die NG Kerk die vrug van sy sendingarbeid , asook ander gemeentes uit die genootskaplike sending, wanneer hulle die toets van selfstandigheid (wat vir die Rynse gemeentes gestel is) geslaag het, so sou inskakel. Dit sou immers die eenheid van kerkverband behou het. Maar ons sal nooit weet nie, want die NG Kerk is as’t ware in ’n ander rigting gedwing deur die optrede van een van sy eie sendelinge die geniale J.C. Pauw, wat die struktuurprobleme van die sendingwerksaamhede helder ingesien het.

JC Pauw en die nuwe wending

Jacobus Cornelis Pauw is op 13 Desember 1837 te Leiden in Nederland gebore. Hy is eers as onderwyser opgelei en daarna as predikant aan die Seminarium van die Vrye Skotse Kerk te Amsterdam. Hy was dus in die teologiese kraal van die Skotse predikante waarvan Andrew Murray Snr een was. Deel van sy teologiese toerusting was sy deeglike kennis van die Gereformeerde kerkreg. Pauw kom op 23 September 1861 in Tafelbaai aan en die Sendingkommissie stuur hom na Zoar, naby Ladysmith.

Hy word in 1863 te Swellendam georden, bedien Zoar tot 1867, Zoar en Amalienstein saam tot 1876, Zuurbraak tot 1879 en daarna Wellington tot met sy emeritaat in1913.

By Wellington, waar Pauw sy lewenstaak sou verrig, het sake in ’n sekere rigting ontwikkel. Afgesien van die kleurlinge wat aan die NG-gemeente van Wellington behoort het, het die Paryse Sendinggenootskap ’n sterk gemeente onder die kleurlinge opgebou. Eerw. Bisseux was hoog bejaard en wou aftree. Dit was sy wens dat die gemeente by die NG Kerk inskakel. Dit was ook die wens van die Genootskap en die gemeente self. Dr Andrew Murray, predikant van die NG –gemeente en Eerw. Bisseux het die gemeente ontmoet en hulle het eenparig besluit om Eerw. Pauw as leraar te beroep. Die gemeente het amptelik onder die beheer van die Sinodale Sendingkommissie gekom en hierdie kommissie het die beroep uitgebring. Deur Murray se bemiddeling sou Pauw ook as dosent by die Sendelingsinstituut, wat in 1877 opgerig is, in diens tree.

As sendeling, wat reeds 18 jaar ondervinding van die bediening op sendingstasies met verskillende kerkverbande gehad het en ’n uitstaande kenner van die kerkreg was, het Pauw ’n baie duidelike opvatting gehad oor die aard van die gemeente waarheen hy beroep was en die verhouding van daardie gemeente teenoor die NG Kerk. Daarom was hy geskok om op die vooraand van sy vertrek uit Zuurbraak ’n brief van Murray te ontvang, waarin hy die voorstel van sommige van die vroomste sendingvriende oordra dat die gemeente wat hy (Pauw) gaan bedien, onder bestuur van ’n aantal direkteure geplaas word op voetspoor van Murraysburg en ander plekke. Die voordele daaraan verbonde sou dan wees (a) dat die verband van die blanke en bruin gemeentes beter bewaar sou bly, (b) dat geldelike hulp uit die blanke gemeente makliker en meer gereeld verkry word, en (c) dat die bestuur van alles kan plaasvind met inagneming van die boerebevolking.

Pauw was erg verontwaardig en antwoord Murray se brief onmiddellik. Dat hy onder plaaslike direkteure moet staan, daarvan kan daar geen sprake wees nie, want

• die gesag van die Sendingkommissie oor hom en die gemeente word ipso facto geneutraliseer;

• die kerkraad van sy toekomstige gemeente word daardeur tot “nul” gereduseer,

• daardeur kom hy en sy gemeente in ’n staat van ondergeskiktheid, waaraan hy nie geneig is om hom te onderwerp nie,

• deur so ’n ondergeskiktheid sal die ontwikkeling van die gemeente tot selfonderhoud en selfstandigheid baie gestrem word.

Hy weet nie wat die Sendingkommissie van die voorstel sal sê nie, maar as die lede van die kommissie sendelinge was, sou hulle nie toestemming gee nie.

Hierdie korrespondensie is van die uiterste belang, omdat dit die teenstelling tussen die praktyk van die Middeweg en die suiwer kerkregtelike siening van Pauw duidelik na vore bring. Andrew Murray, wat aan die skool van Hofmeyr en William Murray behoort het, het blykbaar geen probleem gehad met ’n opset, waar ’n gemeente uit die heidene, hoe selfstandig oraal, onder die opsig en beheer van ’n blanke gemeente val nie. Uit die derde motivering in Murray se brief skyn dit asof die sosiale struktuur vir die mense van die Middeweg ook die kerk moet konstitueer. Vir die predikante en blanke gemeentes van wie die sendingwerk uitgegaan het, was dit waarskynlik ’n doodnatuurlike reëling, aangesien die gekleurdes vanuit hulle volslae onderhorige sosiale posisie nie ernstig beswaar kon aanteken nie.

Pauw het as sendeling die verhoudingsprobleme tussen selfstandigwordende sending-gemeentes en hulle “moedergemeentes” aan eie lyf gevoel. Ook moes hy as sendeling bewus gewees het van die status- en verhoudingsprobleme tussen predikante en sendelinge. Sy grootste probleem was egter van ’n kerkregtelike aard. Geen gemeente van die kerk mag oor ’n ander gemeente van die kerk heers nie en so ook nie ’n leraar oor ’n ander leraar nie. Daarom het hy nie beswaar teen kerklike toesig oor sy gemeente deur die Sendingkommissie, wat die kerkverband en die meerdere vergadering verteenwoordig nie. Maar hy onderwerp hom en sy gemeente nie aan die gesag van ’n ander gemeente van die kerk nie, al word daardie gemeente ook gekonstitueer deur die besittersklas en sy gemeente deur die arbeidersklas. Die kerklike toekoms van sy gemeente het vir hom met die suiwer kerkregtelike formulering van hierdie verhouding en sy konsekwente toepassing saamgehang.

Pauw neem die leiding

Pauw was die eerste persoon wat die probleem in geskrif aan die orde gestel het en die Sendingkommissie blykbaar die eerste kerklike instansie wat die erns daarvan besef het. Op 19 Maart 1880 verskyn in De Christen (die blad wat vir enkele jare in die plek van Die Kerkbode gepubliseer is) ’n artikel van Pauw onder die opskrif “De Toekomst Onzer Zendinggemeenten.” Daarin sit hy die kerkregtelike probleme van die sendelinge sowel as die sendinggemeentes uiteen en stel hy twee alternatiewe oplossings voor t.w. “Er moet eene KERKORDE zijn waarnaar en waardoor die gemeenten bestuurd worden. Die gemeenten moeten tot eene Kerk gevormd of by de kerk ingelijfd worden. . . . Het zal nu de vraag wezen wat voor onze kerk de weg is, óf de Zendinggemeenten als leden van haar lichaam in haar lichaam opnemen, óf die gemeenten zich tot eene eiegene Inboorlingkerk laten vormen”. In ’n voetnota wys die redakteur (Dr Andrew Murray) inlywing af want “onze Kerk is er nog niet rijp voor”. (Dit is nie duidelik in watter opsig die kerk nie ryp was nie. Sou die redakteur moontlik die vereistes van selfversorging wat die sinode in 1873 aan die Rynse gemeentes gestel het en op grond daarvan drie se inlywing afgewys het in gedagte gehad het en geoordeel het dat te min van die sendinggemeentes in daardie stadium aan die vereistes voldoen het?) Hy is ook nie geesdriftig oor die alternatief nie. Klaarblyklik was hy steeds oortuig van die lewensvatbaarheid van die Middeweg.

Pauw het die tweede alternatief klaarblyklik nie aan die orde gestel om vooroordele te omseil nie. Vir hom was die bestaan van sendinggemeentes ’n voldonge feit. Hoe hulle tot stand gekom het en of hulle ontstaan die gevolg van blanke vooroordele was of nie, was nie ter sake nie. Vir hom was hulle gemeentes van Christus en hulle kon nie op independentistiese grondslag, sonder kerkverband, bly voortbestaan nie. Hierdie wantoestand wou hy beëindig sien. Pauw se artikel het die Binnelandse Sending-kommissie tot handeling aangespoor, want op sy vergadering van 18 Augustus 1880 te Montagu word besluit om die “Zendelingen en Godsdienst-onderwijzers onzer Kerk” na ’n vergadering uit te nooi “en naar een schets hun te worden gezonden een Schema van Ordening voor d. Nederd. Geref. Zending Gemeenten te ontwerpen en aan de Zending Comm. Voor te leggen, die het, zoo zy het goedkeurt, in haar Rapport opneemt en aan die Synode voorstellen zal”.

Nadat die Sendingkommissie ’n “schets” aan Pauw vir kommentaar voorgelê het is dit op 5 en 6 Oktober 1880 te Worcester deur 7 sendelinge van die kerk tot ’n “schema” verwerk en deur hulle onderteken. Volgens hierdie skema met 12 artikels sou die voorgestelde Sendingkerk selfbeskikkend wees terwyl sy eenheid met die NG Kerk deur sy naam, belydenisgrondslag en gemeenskaplike kerkordelike bepalinge tot uitdrukking kom. Die eenheidsband sou verder geheg word deurdat twee van die lede van die Sendingkommissie op sy Algemene vergadering (sinode) sitting het met stemreg en een op sy sinodale kommissie in die reses ook met stemreg.

Die Sinodebesluit van 1880

Die Sendingkommissie het die skema verwerk tot 10 artikels en dit aan die sinode voorgelê, wat dit met geringe wysigings op Vrydag 12 November 1880 goedgekeur het. Artikels 5 en 10 het egter fundamentele wysigings aan die skema van die sendelinge aangebring. Pauw was hieroor begryplik teleurgesteld. Op 15 November rig hy die volgende brief aan die Binnelandse Sendingkommissie by die sinode, wat ek volledig deurgee:

“Zeer ongaarne schrijf ik dezen brief, maar als lid van de Commissie van toelichten van de Conferentie van Zendelingen in October j.l. te Worcester gehouden, acht ik het mijn pligt om met verschuldigden eerbied het volgende voor te dragen:

A
1. Artikel X van het schema voor de stichten der Zendingkerk, zoo als het door U is voorgelegd aan en goedgekeurd door de Hoog Eerw. Synode is geheel in stryd met het te Worcester opgestelde schema door de Conferentie. (Hierdie artikel bepaal dat geen besluit van die Algemene Vergadering van die Sendingkerk in werking gestel kan word sonder die goedkeuring van die Bin. Sendingkommissie nie – DPB)
2. De Conferentie heeft voorgesteld dat de Hoog Eerw. Zend Commissie lid zou worden van het Bestuur der Zendingkerk, opdat daardoor de Zendingkerk in levend
en in kerkelijk verband met de Moederkerk zou blijven.
3. Zoo als Art X nu in het schema staat wordt de nieuwe stichting geene Kerk volgens ons Gereformeerd Kerkbegrip, maar bloot eene Conferentie of Commissie van advies.
4. Het is mijn gevoelen, dat het schema als Constitutie der Zendingkerk van wege Art X , door de Zendelingen onzer kerk niet zal aangenomen worden (Ik zeg dit persoonlijk met de grootste bescheidenheid en den verschuldigden eerbied.)
5. Dit artikel sal een slagboom wezen voor de toetreden van Zustergemeenten of Kerken, die anders hiertoe begeerte hebben.
6. Om deze redenen neem ik de vryheid U te verzoeken in overweging te willen nemen of het niet mogelijk is genoemd artikel te revideren in den geest van het te Worcester opgestelde schema.

B
Een tweede punt waarop ik verzoek te mogen wijzen is Art V2c
(Alle vaste eiendom van die gemeentes van die Sendingkerk moet getransporteer wees op naam van die Binnelandse Sendingkommissie in trust vir die gemeentes – DPB)
Vanwege de verscheidenheid van omstandigheden, waaronder de verschillende Zendingwerkzaamheden onzer kerk gedreven worden, zal deze bepaling onuitvoerbaar worden gevonden op sommige plaatsen en bijna zeker een hinderpaal zyn voor de aansluiting van zustergemeenten, die tegen deze bepaling bezwaar zullen kunnen hebben. – De Conferentie te Worcester heeft daarom gezocht eene formule te vinden, waardoor vervreemding van kerkelijke eigendom verhinderd en bitterheden of moeijelikheden vermeden kunnen worden. . . . .
Met hoogachting ens. ens. ens.”

Pauw se pleidooi het egter niks opgelewer nie. Die sinode het bly staan by die tien artikels wat die “grondwet” vir die oprigting van die NG Sendingkerk daargestel het.

Die Binnelandse Sendingkommissie is belas met die uitvoering daarvan. As hy sy gemeente en medebroers in die sending ten beste moes dien, het Pauw ook geen opsie gehad nie, as om by die besluite van die sinode in te val. Dat hy in weerwil van sy sterk kerkregtelike besware teen die strukturering van die Sendingkerk tog terwille van die evangelie met die loodsing daarvan voortgegaan het, het sy ongekende geestelike moed en visie bewys. Hy sou die Kerk wat op 6 Oktober 1881 in sy gemeente met slegs vier gemeentes gekonstitueer is lei en begelei deur sy traumatiese groeiproses terwyl hy die grondslae help lê het vir die NG Sendingkerk se stryd om kerkregtelike selfverwesenliking wat tot 1975 geduur het en sy teologiese gelykwaardigheid aan die NG Kerk, wat treffend bewys is deur die daarstelling van die Belydenis van Belhar in 1982 Die weg van die NG Sendingkerk van 1881 tot 1994 toe dit in die VGK opgegaan het is ’n verhaal op sy eie.

Gevolgtrekkings

Watter gevolgtrekkings kan ons uit die besluite van die NG Kerk se sinode van 1880 rondom die stigting van die NG Sendingkerk maak? Het dit enige verband met die besluit van 1857? Myns insiens kan die volgende gekonstateer word:

1. By albei Sinodes (1857 en 1880) was die hoofmotief vir die besluite die behoud en versterking van die eenheid tussen blankes en gekleurdes binne die kerk.

2. In 1857 is hierdie ideaal nagestreef deur maatreëls binne die afsonderlike gemeentes te tref deur die toepassing van die beginsels van die Middeweg. Die besluit om eksepsie weens “die swakheid van sommiges” te akkommodeer het egter eenheidsverbrokkelend gewerk wat oor 20 jaar ’n verwarrende toestand geskep het

3. Waar die Middeweg ook al toegepas is in gemeentes was alle besluitneming en beheer in die hande van die blanke kerkrade of die Sendingkommissie van die sinode. Genootskaplike sendingwerk egter (soos in Wellington), was wel ondersteun, maar nie beheer nie.

4. Die kleurlingwerkkringe binne gemeentes het mettertyd ’n eie gemeente-identiteit begin ontwikkel maar kon dit nie uitleef binne hulle gesamentlike verband met die blanke deel van die gemeente nie (“swakheid van sommiges”) en hulle kon ook nie as afsonderlike gemeentes tot die sinodale verband toetree nie weens hulle gemeentelike onvolkomenheid. Hulle bestaan en werkswyse is paternalisties voor-geskrywe deur die blanke kerkrade en merendeels op die grondslag van “geen gelykstelling”.

5. ’n Baie belowende oplossing is voorgestel deur die dinamiese sendeling, J.C. Pauw wat deur die Sinodale Sendingkommissie “gekoop” is, naamlik die skepping van ’n eie kerkverband vir die onderskeie gemeentestrukture van kleurlinge. Die sendelinge het dit saam uitgebou tot ’n skema waarin die kerkregtelike selfstandigheid van hierdie kerkverband neergelê is en die eenheid met die NG-kerkverband bevestig is. Hierdie skema het voorsiening gemaak vir die verteenwoordiging van die NG Kerk in die bestuursliggaam van die nuwe Kerkverband, maar nie vir enige paternalistiese oorheersing nie.

6. Die Sendingkommissie het met die skema wat hy voor die sinode van 1880 gelê het en wat deur die sinode aanvaar is, die Kerk wat nog gestig moet word van alle kerkregtelike en sivielregtelike selfbeskikking ontneem. Geen besluit wat deur die Algemene Vergadering van die nuwe Kerk geneem word mag in werking gestel word sonder die goedkeuring van die Sendingkommissie nie (vetoreg) en alle onroerende eiendom van ’n gemeente van die nuwe Kerk moet op naam van die Binnelandse Sendingkommissie getransporteer word in trust vir die gemeente. Om tot hierdie ingrypende wysigings van die skema van die sendelinge te kom is volkome eensydig gehandel deur kommissie en sinode. Pauw, wat lid van die Kommissie van Toeligting oor die saak was is nie eers ingelig nie.

7. Dit is duidelik dat die sinodebesluit van die NG Kerk in 1880 aan drie sentimente uitdrukking gegee het t.w. (a) Die sterk strewe van die kerk om die eenheid met die kleurlinggemeentes te behou, (b) Die sterk paternalistiese instelling van die kerkleiding om voor te skryf en te beheer en (c ) Die subtiele vrees vir gelykstelling. Hierdie sentimente het inderdaad die hoofkomponente geword in die vorming van die etos van die NG Kerk. Sy selfbeeld het stelselmatig dié geword van kerk vir die blanke Afrikaners en sy bedieningsprioriteite sou volgens hierdie beeld bepaal word, terwyl hy terselfdertyd trustee oor die welwese van die Sendingkerk en sy lidmate gebly het as uitdrukking van hulle eenheid.

8. Die NG Sendingkerk was kerkregtelik onmagtig, teologies onkundig en sosiaal ondergeskik. Dit sou die sendelinge en hulle latere kollegas uit die geledere van die Sendingkerk self wees wat met die bystand van hulpkragte uit die NG Kerk, oor baie dekades die stryd sou voer tot kerkregtelike selfbeskikking en teologiese gelykwaardigheid met die NG Kerk, sonder om die wesenlike eenheid met die NG Kerk prys te gee.

BRONNELYS

Actas Synodi NGKerk: 1824, 1826, 1829, 1834, 1847, 1852, 1857,1870, 1873, 1880

Binnelandsche Zendingcommissie – Notule 18 Augustus 1880; NG Kerkargief, Stellenbosch

Botha, A J. Evolusie van 'n Volksteologie, Teks en konteks 4, Universiteit van Wes-Kaapland 1995

Botha, D P. Die Opkoms van ons Derde Stand, Human en Rousseau 1960

Botha, D P. Historiese agtergrond van die stigting van Afsonderlike Etniese Kerkverbande, Ongepubliseerde studieverslag aan Federale Raad van NG Kerke 1984

De Christen 19 Maart 1880

Dreyer, A. Kruisgesante in Suid-Afrika. Jubileum Gedenkboek van die Sendinginstituut op Wellington 1877-1927, Kaapstad 1927

Els, P J J S. Kerkplanting by die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap – ’n Sendingwetenskaplike ondersoek na gemeentevorming in die Suid-Afrikaanse Gestig, D.Th Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1971

Erwee, A J C. Die Sending van die NG Kerk onder die Inboorlinge van die Noord-Wes Kaapland, D.Th Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch,1980

De Gereformeerde Kerkbode Januarie 1861. Verslag van Christelijke Conferentie te Kaapstad den 16den en 17den Januarij, 1861

Haasbroek, D J P. The Origin of Apartheid in South Africa, Artikel in Historia XVI no 1, 1971

Hofmeyr, N J. Artikels oor Het Zendingwerk, in De Gereformeerde Kerkbode van 5 Maart 1853 (No 5), 28 Mei 1853 (No 11), 25 Junie 1853 (No 13), 23 Julie 1853 (No 15)

Hugo, A M. The Cape Vernacular, Intreerede, Universiteit van Kaapstad 1970

Odendaal, A A. Die Nederduitse Gereformeerde Sending in die Oranje Vrystaat (1842-1910), Doktorale Proefskrif, Teologiese Kweekskool, Stellenbosch 1970

Pauw, Anna. Eerw. J C Pauw-‘n Lewenskets, Paarlse Drukpers Maatskappy Beperk, Paarl 1943

Pauw, J C. Privaatstukke en Briewe, NG Kerkargief, Stellenbosch

Shell, C H Robert. Children of Bondage, Witwatersrand University Press, Johannesburg 1995

TREFWOORDE

Eenheid, Paternalisme, “Geen Gelykstelling”, Sending Instituut, Middeweg

KEY WORDS

Unity, Paternalism, No Social Equality, Mission Station, Middle Course (way)

KONTAK BESONDERHEDE

Ds DP Botha

Langverwag 209

7600 STELLENBOSCH

Sel: 083 657 0760

E-posadres: davbot@mtnloaded.co.za

1 Bydrae tot ’n navorsingsvoorstel by ’n werksessie van Buvton, Universiteit Stellenbosch, 6-7 Februarie 2007.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2226-2385 (online); ISSN 0028-2006 (print)


© 2014 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.