stj_v1_n2_a19

Stellenbosch Theological Journal 2015, Vol 1, No 2, 401–425

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2015.v1n2.a19

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2015 © Pieter de Waal Neethling Trust

Aanbidding en sport: ’n Ruimtelik-liturgiese ondersoek1

Flynn, Daléne

Universiteit van Pretoria

Dalene.Flynn@up.ac.za;

Wepener, Cas

Universiteit van Pretoria

Cas.Wepener@up.ac.za

Abstract

Worship and sport. A spatial-liturgical study

The main aim of this article is to look into the possible connection there is between worship and sport. Through participatory observation an attempt was made to answer the basic practical theological question, namely “what is going on?” Two spaces in Atteridgeville were visited and compared, the one a worship space and the other a sport space. Similarities and differences were pointed out. Thereafter an attempt was made to answer the second question of practical theological interpretation, namely “why is this going on?” Two themes were used in doing so: spatiality and rituals. Both spaces are important in the lives of the community. The spaces and the rituals create an axis mundi where participation in life can take place through the rituals performed. The information in this article is an abstract of a study that culminated into a model for social cohesion.

Keywords

Spatiality, liturgy, rituals, worship, sport

1.Inleiding

Aanbidding en sport word nie normaalweg met mekaar in verband gebring nie. Sport speel ’n belangrike rol wêreldwyd en ook in Suid-Afrika. Die eindstryd van die Rugbywêreldbekertoernooi in 1995 op Ellispark Stadion het ’n skare van 62 000 mense gelok. Die Sokker-Wêreldbekertoernooi se eindstryd wat in 2010 in die FNB Stadion, ook bekend as Soccer City, gespeel is, het ’n skare van 84 490 mense gelok.

Aanbidding speel egter ook ’n groot rol in Suid-Afrika. Na bewering het tussen drie en vyf miljoen mense die Paasnaweek-vierings by Moria buite Polokwane in 2013 bygewoon.2 Volgens die Suid-Afrikaanse sensusopname in 2001 (daar was geen vrae oor godsdiens in die 2011 sensusopname nie) is 79,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene.3 ’n Groot hoeveelheid van hierdie Christene neem gereeld aan verskillende aanbiddingsgeleenthede deel.

Hierdie artikel ondersoek die kwessie of die twee wêrelde van die Christelike liturgie en die sportstadions (heilig en sekulêr) nie nader aan mekaar gebring kan word en mekaar kan verryk nie. Die werkshipotese van hierdie artikel is dus dat ’n groter resiprositeit tussen die liturgie van Sondag en die “liturgie” van Saterdag wat mekaar wedersyds sinvol kan verryk ten einde die kwaliteit van die aksies wat op albei plekke plaasvind te kan verbeter. Die Christelike liturgie en sportbyeenkomste kan sosiale kohesie in Suid-Afrika dien of teëwerk afhangende van die kwaliteit van die handelinge wat in die onderskeie ruimtes plaasvind. Hierdie artikel wil die ideaal van die bevordering van gesonde sosiale kohesie dien aan die hand van ’n ruimtelik-liturgiese studie. Met die oog op die navorsing waaroor in hierdie artikel verslag gedoen word, is ’n aanbiddingsruimte en ’n sportruimte in Atteridgeville besoek en is daar gekyk watter ooreenkomste en verskille daar tussen hierdie ruimtes te vind is.

Volgens die praktiese teoloog Rick Osmer (2008:4) is daar vier navorsingsvrae wat gevra moet word in ’n poging om die take van prakties-teologiese interpretasie te verrig. Die vrae is: Wat gaan aan? Hoekom is dit aan die gang? Wat behoort aan te gaan? en Hoe kan ons hierop reageer? Allereers sal die eerste vraag aan die beurt kom. Dit is deel is van die beskrywend-empiriese taak. Daarna sal kortliks aan dít waaraan aandag gegee kan word, behandel word om sodoende die volgende twee vrae te beantwoord as deel van die interpretatiewe en normatiewe take van prakties-teologiese interpretasie.

2.Metodologiese vertrekpunte

Die empiriese studie is in vier geografiese areas in Tshwane gedoen. In hierdie vier areas is agt fisiese ruimtes gekies, waarvan vier aanbiddingsruimtes en vier sportruimtes is. In hierdie artikel word slegs twee van die agt ruimtes bespreek.

Die data vir hierdie studie is versamel deur deelnemende waarneming (cf. Wepener 2009:23-32) en ook doelbewustelik op ’n refleksief-etnografiese wyse.4 Dit was belangrik om sover moontlik nie vooraf kennis te gee op watter dag die bepaalde ruimte besoek sou word nie5. Dit was nodig ten einde te sien hoe mense binne elke ruimte natuurlik met andere omgaan. Juis om reaktiwiteit (cf. Mouton 1990:78) teë te werk is daar bewustelik gekies teen die voer van gestruktureerde onderhoude. Informele gesprekke met mede-aanbidders het by elkeen van hierdie ruimtes plaasgevind6 en dit is by hierdie studie ingewerk. Informele gesprekke is ’n aanvaarde praktyk binne etnografie (cf. Fetterman 2010:40). Verder is daar gereeld en deurlopend in gesprek getree met eweknieë (peers) en die data is met hulle bespreek om hulle menings en sienings te verkry. Die data is ook by verskeie slypskole van die Worship in Africa Research Group aangebied en bespreek. Waardevolle insette is gelewer wat in hierdie studie ingewerk is. Een spesifieke besoek aan elke ruimte is volledig gedokumenteer en hierdie spesifieke besoeke is binne elke geografiese gebied met mekaar vergelyk. Die bevindings wat vanuit die data gemaak is, is met bestaande teorieë vanuit die literatuur geverifieer.

Die waargeneemde en gedokumenteerde data is deur middel van ’n algemene induktiewe benadering binne ’n hermeneutiese raamwerk ondersoek ten einde bepaalde temas en kategorieë te identifiseer (cf. Pieterse 1998:182; Thomas 2006:239-240). Analitiese strategieë of beginsels onderliggend aan ’n algemene induktiewe benadering behels die volgende en is hier so aangewend: Die waargeneemde en gedokumenteerde data is herhaaldelik ondersoek ten einde sekere temas en kategorieë te identifiseer. Hierna is die rou data opgesom om van hierdie temas en kategorieë uit te wys. Daar is gesoek na verbande tussen die navorsingsdoelwitte (deduktief) en die opsommings (induktief) vanuit die rou data. Die data is hanteer totdat daar sekere hooftemas na vore getree het wat verder ondersoek kon word (cf. Thomas 2006:239-240). In die lig van die navorser se bekendheid met hierdie verskillende ruimtes sou ’n diachroniese snit gemaak en ’n historiese studie oor aanbiddingsruimtes en sportruimtes in die algemeen gedoen kon word. Dit kan van waarde wees in toekomstige navorsing aangesien die finale woord hieroor nog nie gespreek is nie. Vir hierdie studie is daar egter baie spesifiek gekies vir ’n sinchroniese snit binne ’n bepaalde tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis en binne ’n bepaalde geografiese gebied. Die sinchroniese sisteem van simboliese handelinge binne elke ruimte is gedokumenteer en hierdie data is met mekaar vergelyk (cf. Grimes 2010a:loc.1256). In hierdie artikel sal daar ná die aanbieding van ’n kort opsomming van die data twee van hierdie temas hanteer word, naamlik ruimtelikheid en rituele.

Die besoek aan Lucas Moripe Stadion wat hier bespreek word, het plaasgevind op 27 Oktober 2013 tydens ’n Absa Premierliga sokkerwedstryd wat tussen Supersport United en Bloem Celtic gespeel is. St. Anne’s Rooms Katolieke kerk se besoek wat hier bespreek word, het plaasgevind op 9 Maart 2014. In die kerkjaar was dit die eerste Sondag in Lydenstyd ook bekend as Invocavit.7

Vervolgens sal ’n kort opsomming gegee word van dit wat binne elke ruimte waargeneem is en daarna sal daar gekyk word na die ooreenkomste en verskille met betrekking tot die data.

3.Die Lucas Moripe stadion

Ten einde die ooreenkomste en verskille makliker aantoonbaar te maak word daar hier ’n keuse gemaak om die inligting puntsgewys en kortliks opgesom aan te bied.

Daar is ’n mate van vrees by my as navorser en my man wat my vergesel het, om in Atteridgeville in te gaan.

Simbole van die 2010 Sokker-Wêreldbekertoernooi lok steeds positiewe reaksie uit.

Dit is opmerklik hoe vriendelik die mense in die strate teenoor vreemdelinge is.

Kinders loop in die strate om die stadion en bedel kaartjies vir die wedstryd.

’n Guns kom nie verniet nie, iets word in ruil daarvoor verwag. Die wag by die stadion se hek nooi ons om binne te parkeer. Nadat ons parkeer het, sê hy dat hy ’n fooitjie sal waardeer.

Die ruimte (stadion) is pragtig skoon en versorg.

Simboliek wat hier aangetref word, is vuvuzelas, kleur, liggaamlikheid en vlae.

Sokker blyk nie ’n groot aanhang onder wit Suid-Afrikaners te hê nie of dit kan natuurlik ook wees dat hulle nie graag in Atteridgeville gaan sokker kyk nie.

Ondersteuners van die twee spanne ding met mekaar mee deur sang, dans en musiek. Mans en vroue is deel van hierdie groepe.

Verskeie musiekinstrumente word gebruik.

’n Voorganger is belangrik – elke groep wat sing en dans en musiek maak het ’n persoon wat die voortou neem en dirigeer.

Kinders is welkom en beweeg vrylik rond.

Afrika-tyd – mense kom steeds die stadion binne lank nadat die wedstryd reeds begin het.

Afwesigheid van enige sigbare tydsaanduiding – daar is geen horlosie wat die tyd aandui of aftel nie.

Die onderskeid tussen hulle wat het en hulle wat nie het nie (“haves and have nots”). Die stadion het ’n spesiale ruimte vir belangrike persone. In hierdie VIP-ruimte word eet- en drinkgoed vryelik uitgedeel.

Die spelers het bepaalde rituele – dit is iets wat algemeen voorkom by sportlui en daar is bepaalde redes hiervoor (cf. Flynn 2011).

Die koeldrankverkoper mag nie aan 'n toeskouer die bottel met die koeldrank gee nie. Hy moet dit in 'n plastiek glasie uitgooi en dan net die glasie koeldrank aan die toeskouer gee wat dit koop. Hy takseer ons, wyk van die reëls af en gee wel vir ons die bottels.

Onmin op die veld tussen swart en wit spelers – ’n wit speler word enkele minute nadat hy op die veld verskyn het, so ernstig beseer dat hy met ’n draagbaar van die veld af geneem moet word.

Ons ontmoet ’n oorsese reisiger wat die moeite doen om in Afrika te kom sokker kyk. Hy vra ons vir ’n saamrygeleentheid na die Gautrein stasie in Hatfield. Hy vertel ons dat hy misdaad en geweld binne Suid-Afrika beleef het.

4.St. Anne’s Rooms-Katolieke Kerk

Die ruimte is nie duidelik gemerk nie – daar was nie ’n duidelike aanduiding dat die gebou voor ons die St. Anne’s Rooms Katolieke Kerk is nie.

Gasvryheid – verwelkoming by die deur, hulp deur die hele diens en ook met die tee, verversings en gesprek na die diens.

Daar is ’n ruimte vir belangrike gaste. Gewone besoekers mag nie daar sit nie.

Daar is nie ’n aparte moederskamer nie. Kinders sit in die gemeentelike ruimte.

As altaar-bedieners maak kinders deel uit van die liturgie en speel ’n belangrike rol in die prosessie.

Die ruimte binne is lig, die baie vensters en ligte meubels dra hiertoe by.

’n Groot skildery van St. Anna8 maak dit duidelik dat sy binne hierdie gemeenskap belangrik is. Die gemeente is dan ook na haar vernoem. Daar is twee kleiner skilderye van Jesus en Maria aan weerskante van die skildery van St. Anna. Daar is ook binne die liturgiese ruimte beelde van Jesus en Maria.

Die liturgie is deelnemend. Meer as een liturg neem deel, die gemeente is betrokke by die liturgie, so ook die koor en die altaar-bedieners.

Vroue word by die liturgie betrek. ’n Vroue liturg is gebruik en dogters is deel van die altaar-bedieners. Die vroue liturg het ook deel gehad aan die bediening van die mis. ’n Vrou het ons by die deur verwelkom en sy het ook later die afkondigings gelees. Die priester het ’n vrou gestuur om die eerste kontakpunt van gasvryheid te wees en ons vir tee en verversings te nooi.

Liturgiese kleredrag speel ’n belangrike rol – die verskillende liturge was in liturgiese drag geklee, sowel as die altaar-bedieners. Die vrou wat ons verwelkom het, het ’n blou skouermantel gedra.

Simboliek – die prosessie, die dra van die wierook, kruis en kerse, kerse op die tafel voor in die liturgiese ruimte, die gebruik van water by die deur om ’n kruis op die voorkop te maak met die inkom en verlaat van die kerkgebou, die gebruik van klokkies tydens die instel van die tekens, die water wat oor die persone gesprinkel is wat na vore gekom het vir voorbidding, skilderye, beelde, liturgiese kleredrag, kopbuigings, die maak van die kruisteken, die wyse waarop die gawes “gebring” word, die mis, beweging tydens die sing van Hosanna, die gereelde gebruik van “amen”, vroue se bedekking van hulle hoofde tydens die mis, leegdrink van die nagmaalbeker, die wyse waarop die mis gebruik word, die wyse waarop nuwe lidmate verwelkom word, “uitdeel” van die Here se vrede aan mekaar.

Vaste, bekende elemente in die liturgie. Die mis het ’n bepaalde struktuur wat universeel gebruik word en wat opgeneem is in die Roman Missal.9

Afrika-tyd heers (niemand is haastig nie en deur die hele diens het mense nog die gebou binnegekom om deel te hê aan die erediens).

Geen musiekinstrumente word gebruik nie. Die koor speel ’n belangrike rol tydens die diens.

5.Sigbare ooreenkomste tussen die twee ruimtes

In hierdie afdeling word die gedokumenteerde data nou vergelyk ten einde enige ooreenkomste en verskille te kan aantoon. Hierdie vergelyking van die kwalitatiewe data is noodsaaklik ten einde tot interpretasie te kan kom.

Gasvryheid en vriendelikheid teenoor vreemdelinge.

Spesiale ruimte vir belangrike gaste en besoekers.

Kinders is belangrik en welkom.

Die ruimtes is goed versorg en skoon.

Deelname aan die liturgie is belangrik. Mans, vroue en kinders mag deel hiervan uitmaak.

Liturgiese kleredrag speel ’n belangrike rol. Ook in die sokkerruimte speel dit 'n belangrike rol aangesien die ondersteuners aan die kleur van hulle klere uitgeken word.

Afrikatyd heers by albei ruimtes.

Geen sigbare tydsaanduiding nie.

Musiek en sang is belangrik by albei ruimtes.

’n Voorganger in albei ruimtes is baie belangrik.

Rituele is aanwesig en belangrik by albei ruimtes.

Vaste bekende elemente in die liturgie.

Die ruimtes is nie duidelik gemerk nie.

Dit wat belangrik is by St. Anne’s word teen die mure uitgebeeld. Dit wat belangrik is by die stadion word in die vlae en kleure uitgebeeld.

By albei ruimtes word ons na die “verkeerde” sitplek gestuur. By St. Anne’s is ons eers na die ruimte vir belangrike gaste geneem maar later weer gevra om te skuif en in die gemeentelike ruimte te gaan sit. By Lucas Moripe stadion is ons van die een hek na die ander gestuur. Die eerste hek waar ons wou ingaan, was die korrekte hek.

By albei ruimtes was daar min of geen ander wit Suid-Afrikaners nie.

6.Sigbare verskille by die twee ruimtes

Daar is geen sigbare prosessie by die stadion nie. Dit is egter moontlik dat dit plaasgevind het voor ons daar aangekom het.

Op sigwaarde speel simboliek ’n groter rol by St. Anne’s as by die stadion.

Geen musiekinstrumente word by St. Anne’s gebruik nie. Musiekinstrumente (waaronder vuvuzelas ook tel) is belangrik by die stadion.

Die vrees om in Atteridgeville in te gaan is besweer teen die tyd wat St. Anne’s besoek is. Laasgenoemde besoek word vreesloos gedoen.

Kinders wat bedel om die stadion. By St. Anne’s bring almal met trots hul gawes. Die klein Christelike gemeenskappies sorg vir dié wat dit moontlik sou nodig vind om te bedel.

Liggaamlikheid en beweging speel ’n baie groter rol by die stadion as by St. Anne’s.

Daar is 'n mededinging by die stadion terwyl daar by St. Anne’s ’n eenheidsgevoel is.

Alhoewel kinders welkom is by St. Anne’s kan hulle nie vrylik rondbeweeg soos by die stadion nie.

By die stadion is daar ’n duidelike onderskeid tussen hulle wat het en hulle wat nie het nie. Dieselfde is nie waar by St. Anne’s nie, alhoewel daar tog ’n spesiale ruimte vir belangrike gaste is.

'n Uiterlike beoordeling vind by albei ruimtes plaas. By die stadion word die reëls vir ons gebuig. By St. Anne’s word verleentheid bo die buig van reëls verkies.

By die stadion het 'n mens die gevoel gekry dat ons met opset na die verkeerde hek gestuur is. By St. Anne’s was dit ’n opregte oordeelsfout.

By die stadion was daar die ongelukkige voorval van onmin tussen die wit en die swart speler. By St. Anne’s was daar werklik geen gevoel van onmin of onwelkome gevoel nie.

7.Interpretasie van dit wat hier aangaan

Soos reeds hier bo verduidelik is, is verskillende belangrike temas geïdentifiseer. Twee van hierdie temas sal hier aandag geniet, naamlik ruimtelikheid en rituele.

7.1. Ruimtelikheid

Eliade (1959:36) wys op die belangrikheid van ’n vaste punt, ’n axis mundi, waaraan die mens hom/haarself kan lokaliseer en sy/haar bestaan kan begrond. Hierdie axis mundi help die mens om die ruimte rondom hom/haarself te orden. Die mens het ’n inherente behoefte om sy/haar wêreld te orden (1959:44). In die antieke tyd was die tempel die middelpunt van die wêreld, die imago mundi. Die mens wou egter ook hê dat sy/haar huis ’n imago mundi moes wees. Die huis word dan ook die middelpunt van die wêreld, en op ’n mikrokosmiese skaal is dit ’n weergawe van die heelal. Die tempel was steeds by uitstek die middelpunt en dit was daar naby die mens in die stad. Die mens was verseker van kommunikasie met die wêreld van die gode bloot net deur die binnegaan van die tempel (Eliade 1959:43). Vandag het elke mens steeds ’n imago mundi wat vir hom/haar belangrik is. Vir sommige is dit die “tempel”, vir andere hul huis en vir sommiges is dit die sportstadion. Hierdie ruimtes kan selfs die axis mundi wees waarvolgens hy/sy die kosmos orden.

Ruimtes wat spesiale betekenis kry word plek. Tuan (1977:6) beskryf dit soos volg: “What begins as undifferentiated space becomes place as we get to know it better and endow it with value”. Die ruimte-huis (“house”) is ’n plek wat die wind en die reën buite hou maar die plek-huis (“home”) is die tuiste waar ons lewe. Daar kan twee ruimtes wees, soos byvoorbeeld ’n konferensiesaal en ’n teater, wat op die oog af baie dieselfde lyk, met ruimtelike kenmerke wat ooreenstem soos beligting en oriëntasie. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat daar gesing en gedans sal word terwyl ’n referaat aangebied word. Sulke optrede sal uit plek wees. Plek en nie ruimte nie bepaal dus die gepaste optrede (Harrison & Dourish 1996:69). Dieselfde ruimte, met geen verandering aan die ruimtelike organisasie of uitleg nie, kan as verskillende plekke op verskillende tye funksioneer.

Die liturgiese ruimte in St. Anne’s laat by mens geen twyfel dat die hoofdoel van hierdie ruimte ’n baie spesifieke soort aanbidding is nie. Die res van die gebou leen dit tot konsert- en kooruitvoerings en enige ander byeenkoms. Mens sou egter moeilik hierdie ruimte kon gebruik vir sekulêre optredes en byeenkomste, bloot uit die respek wat die liturgiese ruimte afdwing. Lucas Moripe stadion word hoofsaaklik vir sokker gebruik. Dit sou egter gebruik kon word vir enige ander byeenkoms oor ’n breë spektrum heen – van politieke tot gemeenskapsbyeenkomste tot selfs aanbidding.

Die betekenis van plek is ’n emosionele verbintenis met plek deur die verstaan van die simbole en betekenisse daarvan. Hierdie emosionele verbintenis staan bekend as topofilia (“liefde vir plek”). Die betekenis wat mense aan plek koppel kan selfs ’n invloed hê op mense se bereidwilligheid om by te dra tot en deel te neem aan sosiale aktiwiteite (Najafi & Shariff 2011:1101). Relph (1976:26) beweer dat simbole, tradisies, mites en rituele bydra tot die versterking van die betekenis van plek. Volgens omgewingsielkundiges behoort die emosionele sowel as die funksionele kwaliteite van plekke aandag te geniet. Simboliese en affektiewe kwaliteite is belangrik om meer mense na plekke toe aan te trek. Die betekenis van plek hang ook saam met die ervaring van plek. Gevoelens soos stimulasie, opgewondenheid, vreugdevolheid is voorbeelde van hierdie ervaring. Die ervaring word beleef deur al die sintuie: sien, hoor, reuk, proe en voel (Najafi & Shariff 2011:1101). As hierdie simboliese en affektiewe kwaliteite toegepas word op die twee ruimtes wat in hierdie artikel aandag geniet, is die volgende waarneembaar:

St. Anne’s beskik oor heelwat simboliek en 'n mens beleef ook die affektiewe daar. Die heerlike saamsing, deelnemende liturgie, die ervaring om saam deur die gebou te stap en saam jou offergawe en ekstra kos vir hulle wat dit nodig het te bring, die reuk van die Nagmaalstekens, die lui van klokkies – die geluid hou betekenis in en kondig aan wat hierna gaan gebeur, die raak aan mekaar met die “uitdeel” van die “vrede van die Here sal met jou wees”, vroue wat hul hoofde bedek wanneer hulle na vore gaan om deel te neem aan die nagmaal, die sprinkeling van water op hulle wat gebed benodig, die aanraking aan iemand wat voorbidding benodig, die prosessie, kruise, kerse en gasvryheid. Simboliek sowel as affektiwiteit speel waarskynlik ’n rol hier in die feit dat hierdie ruimte vol gepak is op ’n Sondag en vir mense betekenis inhou.

Lucas Moripe stadion bevat geen simboliek wat aan die plek gekoppel kan word nie. Die simboliek wat wel hier aangetref word, word deur die toeskouers die ruimte ingebring. Van hierdie simbole is onder andere die volgende: Daar is klubs wat iemand sal aantrek om soos ’n priester te lyk. Simbolies dui dit daarop dat hy vir sy span sal bid om te wen. Daar is klubs wat ’n doodskis saam met hulle na die stadion bring. Simbolies dui dit daarop dat “ons gaan julle vandag begrawe”. Sommige klubs bring koolkoppe saam en wanneer hul span begin wen eet hul ondersteuners die kool as simbool dat “ons gaan julle vandag opeet”.10 Musiek skep ’n bepaalde atmosfeer waar die toeskouers sing en dans en geraas maak. Kleur maak ’n belangrike deel van die dag uit. Die span waarmee jy jouself identifiseer word deur die kleur wat jy dra bepaal.

As daar vanuit ’n teologiese perspektief na plek gekyk word, dan is daar geen twyfel dat plek ’n belangrike rol in die Bybel gespeel het nie. Die Bybel begin met die perfekte plek, Eden, waar God kies om in vertikale gemeenskap met die mens te wees en waar die mens in horisontale gemeenskap met mekaar kan wees (McGowan 2009:2). Die Ou Testament spreek duidelik van ’n definitiewe verhouding tussen God, mense en plek. ’n Groot deel van die Ou Testament sentreer rondom ’n volk wat op reis is na ’n plek wat aan Abraham beloof is, die beloofde land. Hoop en geloof word op hierdie belofte van plek gebaseer. Op reis is daar tye in die wildernis – ’n plek van verlatenheid, sonder hoop. Daar is ’n voortdurende spanning tussen plek en plekloosheid.

Deur die hele Ou Testament openbaar God homself aan die mense op verskillende maniere en op verskillende plekke, selfs op die plekke van verlatenheid. Wanneer God op die agtergrond geskuif word, volg ballingskap – ’n verlies aan plek. Daar vind egter positiewe dinge plaas binne die slegte belewenis van ballingskap. Die verlies aan ’n sentrale plek van aanbidding, die tempel, veroorsaak dat ander plekke van aanbidding belangrik raak. So ontstaan sinagoges en gewone huise word weer belangrik as plekke waar daar saam gebid en bymekaar gekom word. In die Ou Testament het ’n plek dikwels betekenis as gevolg van dít wat daar gebeur het. Net so kry bepaalde stories gesag op grond daarvan dat dit aan ’n plek gekoppel kan word (Inge 2003:33-51, 54). “Places are the seat of relations and of meeting and activity between God and the world” (Inge 2003:68).

Lathrop (2009:loc.33, 97) wys op die belangrikheid en selfs heiligheid van plek soos dit aangetref word in Eksodus 3:5 waar God vir Moses sê: “Moenie nóg nader kom nie. Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Moses moenie sy skoene uittrek omdat God heilig is nie, maar wel omdat die plek waarop hy staan heilig is. God se heiligheid sluit nie plek uit nie maar juis in.

In die Nuwe Testament kry plek ’n hele nuwe dimensie as God mens word en onder ons kom woon. In Christus is God se teenwoordigheid nie meer die Ark van die Verbond nie, is God se woonplek nie meer die tempel nie. God se ware teenwoordigheid is nou die gekruisigde Christus en Hyself is nou die geestelike tempel, die nuwe woonplek van God (Inge 2003:55). In Christus maak God vir Homself ruimte te midde van menslike bestaan en as die plek waar die aardse mens en die hemelse Vader met mekaar gemeenskap kan hê (Torrance 1969:24).

Die Keltiese Christendom het ’n sterk ingesteldheid vir plekke waar daar ’n raakpunt is tussen die fisiese wêreld en die geestelike wêreld. Hulle noem dit “thin places”. Wills (2011:loc.131) beskryf dit as momente in ons lewe waar die geestelike en die natuurlike wêrelde mekaar kruis en vernou tot ’n dun plek, ’n plek waar jy ’n skielike en kortstondige bewustheid ervaar van God se teenwoordigheid en nabyheid. In ’n boek met die titel Thin times and thin places: life lessons from the Labyrinth deur Joel W Kreger beskryf die outeur sy ervarings terwyl hy deur die verskillende labirinte op sy plaas gestap het. Sy verduideliking van die labirint as ’n dun plek is waardevol om ander dun plekke te kan identifiseer:

Labyrinths … are where the fabric between the material world and the spiritual world is “thin”. As I walk into the labyrinth I take my humanity with me, and I am allowed to touch the depths of my soul. They let me delve to the core of who I am, what I am doing, why I am doing it. They help me see and understand myself more clearly as I walk deeper into the labyrinth. There I experience my humanity. But something else begins to happen. As I walk deeper into the labyrinth, I also experience the divine. I feel as though I touch the very face of God as I walk this path set in the beauty of creation. The depths of my humanity touching the face of God. Thin place indeed.

(Kreger 2013:loc.38)

Daar is oral geestelike ruimtes om ons. Om die waarheid te sê is die hele lewe heilig. God is oral teenwoordig, sy teenwoordigheid is egter nie altyd openbaar, ontbloot nie en soms bly God versteek (Wepener 2011:204).

McGowan (2009:9) roep in herinnering hoe gemeenskappe oorspronklik daar uitgesien het. Alle dorpe is rondom die sentrale dorpsplein gebou. Dit was bekend as die Griekse agora, die Romeinse forum en die Italiaanse piazza. Eie aan hierdie dorpspleine was heilige en burgerlike ruimtes. Daar was gewoonlik ’n kerk en ’n regeringsgebou op die plein. Die dorpsplein was die hart van die stad en die algemene bymekaarkomplek vir al die burgers. Die grootte van die dorp is bepaal deur hoe ver ’n mens kon loop en die hoogte van geboue is beperk deur die aantal trappe wat ’n mens gemaklik kon klim. Mense het binne stapafstand van hul huise gewerk en hulle kon ook kerk toe, skool toe, winkel toe en na ontspanninggeriewe toe stap. Met die ontwikkeling van die motor het alles verander. Mense het begin om te werk waar hulle die meeste geld verdien en kon nou daarheen ry. Baie vinnig het alles nie meer om die hart van die dorp, die plein gedraai nie. Kerke, skole en ontspanningsgeriewe is nie meer noodwendig binne loopafstand van waar mense bly nie. Baie tyd word per dag in motors en op pad spandeer. Mense ry werk toe, skool toe, kerk toe en selfs om net brood en melk te koop.

Die kerk is nie meer fisies naby die middelpunt, die hart van die gemeenskap nie, maar dit sou dalk weer op ’n ander manier deel kan word van die hart van die gemeenskap. McGowan (2009:12-13) doen ’n beroep op kerke om verskeie praktiese strategieë wat hy voorstel te oorweeg. Hy maak hierdie oproep vanuit sy ervaring om geloofsgemeenskappe weer te integreer binne die struktuur van die kern van gemeenskappe in wat hy noem “postmoderne agoras”. Sy voorstelle is hoofsaaklik daarop gemik om kerke daar te stel wat meer as een doel binne die gemeenskap dien.

As die teologiese perspektief van ruimtes op die twee ruimtes van hierdie studie toegepas word, lyk dit soos volg:

St. Anne’s – Dit wil voorkom asof hierdie plek belangrik is in die gemeenskap. Omdat ons gesoek het na die kerk het ons die lang Khozastraat twee maal op en af gery. Van orals af was mense aan die stap na die kerk toe. Daar was twee geleenthede tydens die diens wat ek as “thin place” momente sou kon beskryf. Die een was waar ek net bewus geword het van die hemelse sang. Ek kon nie die woorde verstaan nie maar dit het my met ’n goddelike warmte omvou – die pragtige mense stemme sonder enige instrumentele begeleiding. Die tweede was tydens ons beweging van agter na die liturgiese ruimte voor, om ons offergawes fisies te bring. Die trots van die mense in hul “opgaan” om te gee het my klein en nietig laat voel te midde van hierdie plek. Ek kon iets beleef van “trek jou skoene uit want hierdie is heilige grond.”

Lucas Moripe stadion – Ek het hier geen spirituele moment beleef nie, selfs al soek ek hard na een. Daar was wel ’n gemeenskapsgevoel onder die toeskouers. Op daardie spesifieke dag was daar nie baie mense nie. Dit was as gevolg van die twee spanne wat teenmekaar gespeel het. Wanneer gewilde spanne teen mekaar speel, is die stadion vol gepak. Die ongelukkige gebeurtenis tussen die swart en die wit speler was ’n ervaring waar hemel en aarde baie ver van mekaar gevoel het. Hier is pragtige groen gras en ’n goedversorgde atletiekbaan, wat esteties besonder mooi vertoon. Ons weet dat God op enige plek kan opdaag (mooi of lelik). Self sou ek God maklik kon ervaar in die mooi van hierdie groen gras en die baan.

Die volgende tema wat aandag sal geniet, is rituele.

7.2. Rituele

Bell (1997:266-267) wys daarop dat rituele nie maar net iets is wat gemeenskappe doen nie, dit is ook ’n stuk hermeneutiese gereedskap om te help om kulturele praktyke te interpreteer. Rituele hou egter nie maar net altyd gemeenskapsidentiteit in stand nie. Dit kan dit ook bevraagteken, uitdaag of selfs ondermyn. Sommige rituele ontstaan spontaan en onbewustelik vanuit die dinamika van ’n groep en ander rituele word bewustelike deur individue geskep (Curzer 2012:292).

Volgens Curzer (’n filosoof en wiskundige) is die doel van rituele om mense se denke en gevoelens te verander deur middel van simboliese handelinge. Rituele gee uitdrukking aan en versterk sekere sienings oor die wêreld en oor menslike verhoudings. Rituele leer dat daar afhanklikheid van mekaar is sowel as dat daar sekere verpligtings teenoor mekaar is. Dit raak ’n mens emosioneel. Dit inspireer tot die herhaling van aksies wat ’n spesiale gevoel en betekenis het. Almal verstaan en ervaar nie noodwendig altyd wat rituele poog om oor te dra nie. Curzer (2012:293-302) lig voordele en nadele verbonde aan rituele uit. Dit is ’n nuttige beoordeling. Hierdie voor en nadele sal kortliks genoem word en daarna sal die rituele wat waargeneem is by St. Anne’s en Lucas Moripe Stadion beoordeel word ten opsigte van hul waarde aan die hand van die riglyne van Curzer.

Van die voordele is:

Dit bied die geleentheid om te midde van ’n bedrywige lewe vir ’n oomblik tot stilstand te kan kom.

Rituele omsluit die wysheid van die verlede. Waardevolle maniere van doen en waardes kan so van geslag tot geslag oorgedra word.

Rituele help om makliker deur moeilike oorgange in die lewe te kom en om komplekse situasies te hanteer. Omdat daar nie gedink hoef te word wanneer daar aan rituele deelgeneem word nie, help dit in tye van verlies, stres en pyn.

Rituele bied ’n geankerdheid. Rituele is relatief tot verhoudings en help 'n mens om gemaklik te wees met jou plek en rol binne families en die samelewing (cf. Torevell 2000:2-4).

Rituele is nuttig vir selfverwesenliking. In die beoefening hiervan ontdek en versterk jy die sosiale komponente van jouself. Jy ontdek en verbind jouself aan die waardes inherent aan verhoudings. Rituele maak dit vir jou makliker om die persoon te word wat jy graag wil wees (cf. Torevell 2000:44; Brevers et al. 2011:4-5).

Rituele help om te fokus op die hier en nou. Dit help om te fokus op dit wat waardevol in die lewe is.

Rituele kan help om goeie morele gewoontes en handelinge te ontwikkel en te vestig. Dit help om die regte waardes te internaliseer en om gedrag dan in ooreenstemming te bring met hierdie waardes (Birrell 1981:366-373).

Rituele verbeter sosiale harmonie. Dit skep saambindende ervarings en omdat rituele ’n gedeelde ervaring is, skep dit ’n gemeenskapsgevoel.

Rituele skep grense, bring orde en sekerheid voort en verminder so chaos (cf. Grün 2000:11-14, 23-24; Grainger 2009:61). Dit help om te weet wat om te verwag.

Rituele help jou om met andere te identifiseer en verbeter so verhoudings met ander mense.

Rituele het intrinsieke en estetiese waarde. Of jy daaraan deelneem of dit waarneem, dit voeg iets moois tot die lewe toe.

Rituele is kragtig en het voordele. Maar iets wat so kragtig is, kan ook gevaarlik wees. Daarom moet daar ook gekyk word na die nadele van rituele.

Van die nadele is:

Rituele kan ’n mors van tyd wees.11 Sommige rituele neem net ’n bietjie tyd in beslag terwyl andere baie tyd in beslag neem. Tyd is ’n skaars kommoditeit in vandag se lewe en nie almal het tyd hiervoor nie.

Rituele kan ’n vermorsing van hulpbronne tot gevolg hê. Enorme hoeveelhede geld kan byvoorbeeld op ’n begrafnis of troue uitgegee word. Sodoende word hierdie rituele ’n las eerder as ’n vreugde. In hierdie opsig plaas rituele veral druk op arm mense. Sosiale druk veroorsaak dat hulle wel deelneem aan hierdie rituele en dan geld uitgee wat hulle nie het nie.

Uit die vorige punt spruit dit voort dat rituele dikwels aangemoedig word deur sosiale druk. Mense neem deel hieraan uit vrees om in die skande gesteek te word.

Rituele neem nie altyd die individu in ag nie. Tradisionele maniere van rou vind byvoorbeeld nie by almal byval nie. Vir sommige mense is dit van groot waarde terwyl ander eerder hul eie maniere van rou wil vind (cf. Müller 2014:loc.1481-1509).

Rituele kan “trop diere” skep. Omdat rituele aksies en passies rig om sosiaal aanvaarbaar te wees verminder dit afwykende gedagtes, gevoelens en gedrag (cf. Torevell 2000:27). Dit bring jou in ooreenstemming met sosiale norms en verminder jou eie individuele keuses en opsies.

Rituele vestig waardes deur herhaling en passie eerder as deur middel van rede (cf. Grainger 2009:77-78). Mense word dikwels van kindsbeen af gekondisioneer hierdeur en sodoende kan rituele indoktrineer.

Rituele kan sosiale mobiliteit verhinder. Dit kan jou gemaklik maak in jou eie wêreldjie. “Ons mense” doen dinge so en dit word dan bevestig in en deur rituele. Jy identifiseer met hulle wat dieselfde rituele as jy uitvoer. Dit bring die gevaar mee dat daar moeilik oor hierdie grens heen beweeg word na die ander. Dit kan maklik “in” en “uit” groepe skep.

Rituele onderdruk die motivering om te verbeter omdat dit die neiging het om mense te versoen met wat hulle het. Dit is natuurlik nie noodwendig sleg om tevrede te wees met wat 'n mens het nie. Tog is dit dikwels ontevredenheid met die status quo wat lei tot die verbetering van dinge, omstandighede en mense.

Die navolging van rituele kan lei tot ’n geslotenheid in denke en die onderdrukking van bevraagtekening en kreatiwiteit.

Rituele dra die wysheid van die verlede oor maar dikwels ook die dwaasheid (cf. Birrell 1981:366-369). Daar is sommige rituele wat problematies en manipulerend raak soos wat ’n samelewing verander. Die samelewing beweeg vooruit terwyl die rituele onveranderd bly. So kan die rituele wat geassosieer word met ’n tradisionele familie byvoorbeeld gebruik word deur mans om mag te bekom en oor hul vroue te behou. Rituele rondom troues en begrafnisse word uitgebuit en gemanipuleer deur verskeie verskaffers binne hierdie industrieë.

Rituele kan bedagsaamheid en weldeurdagte optrede verhinder. ’n Man sal byvoorbeeld die ritueel gebruik om vir sy vrou blomme te koop om daardeur verskoning te vra vir een of ander verkeerde optrede. Sonder hierdie ritueel sou dit vir hom nodig gewees om te dink hoe hy om verskoning kon vra. Daar sou dalk ’n beter opsie na vore kon kom. In hierdie geval is die ritueel ’n struikelblok vir meer gepaste denke en gevoelens.

Rituele kan onregverdig wees. ’n Eenvoudige voorbeeld is wanneer mense saam in ’n restaurant eet. Die ritueel is gewoonlik om die rekening te neem en die bedrag dan te deel deur die hoeveelheid mense wat geëet het en elkeen betaal dan ’n gelyke deel. Hierdie gebruik is onregverdig omdat sommige mense dan te veel betaal terwyl andere te min betaal.

Die rituele wat binne die twee ruimtes geïdentifiseer is, sal nou positief en negatief beoordeel word aan die hand van die riglyne van Curzer (2012: 290-309) wat hier bo bespreek is.

7.2.1 Rituele by St. Anne’s

Positief

Die ritueel van die prosessie wat ’n definitiewe begin en einde van die diens aandui, help die aanbidders om ’n “ander” wêreld as die alledaagse te betree. Hulle kan tot stilstand kom en fokus op die hier en nou. Heelwat van hierdie rituele skep saambindende ervarings en ’n gemeenskapsgevoel – die saam bring van gawes, die saam deelneem aan die liturgie, die tasbare uitdeel van die “vrede van die Here”, die spesiale manier waarop daar vir mense gebid word en nuwe lidmate sowel as besoekers verwelkom word. Mense wil voel dat hulle aangeraak word tydens die diens. Die ritueel om hulle met heilige water te besprinkel wanneer daar vir hulle voorbidding gedoen word, is ’n ritueel wat poog om hieraan te voldoen. Die liturgie bestaan uit bekende rituele wat grense skep en orde en sekerheid voortbring. ’n Mens ervaar die intrinsieke en estetiese waarde van hierdie rituele.

Negatief

Die meeste van hierdie rituele is bekend deur middel van herhaling. Die rede speel nie noodwendig ’n rol nie. Omdat jy bekend is met die rituele kan jy deelneem daaraan sonder dat jy daaroor hoef te dink. Hierdie rituele kan mense wat van buite hierdie tradisie kom, uitsluit, omdat besoekers dit nie verstaan nie en ook nie weet wanneer om wat te doen nie.

7.2.2 Rituele by Lucas Moripe Stadion

Positief

Hierdie rituele bied waarskynlik aan die toeskouers ’n mate van ’n geankerdheid. Hulle is gemaklik met die rituele wat hulle uitvoer en met hulle plek en rol in die aanmoediging van hul spanne. Hulle is verbind aan die spanne wat hulle ondersteun en ook aan mekaar. Die ervaring wat hulle deel skep kohesie en ’n gemeenskapsgevoel. Die spelers se rituele help hulle om te fokus en kalm te bly te midde van die stryd (cf. Flynn 2011; Grün 2000:24; Quinn 2010:1; Neil 1982:99).

Negatief

Die rituele hier skep definitiewe “in” en “uit” groepe. By ’n wedstryd is die geraas en geskreeu ’n aanvaarde ritueel. Dit is egter onbedagsaam en ondeurdag al doen almal dit. Toeskouers moet deur die koeldrankverkoper se ritueel teen hulleself beskerm word. Dit is gevaarlik om glasbottels in die stadion toe te laat aangesien dit al gebeur het dat toeskouers mekaar na die wedstryd daarmee gooi.

Rituele vanuit ’n teologiese perspektief is nie iets ongewoons nie. In die Ou Testament sowel as in die Nuwe Testament speel die erediens ’n belangrike rol. In die Ou Testament het die erediens ’n sentrale plek ingeneem in die Here se verhouding met sy volk. Die erediens en die reëlings (rituele) hier rondom neem ’n groot deel van die Ou-Testamentiese geskrif in beslag. In die Nuwe Testament het die erediens van die begin af ’n sentrale rol in die lewe van die kerk gespeel (Burger 2009:17-18). Ook hier het bepaalde rituele ’n belangrike rol gespeel. Sommige rituele wat in die Ou Testament aangetref word, is voortgesit terwyl ander rituele rondom die persoon van Christus en die geloofsgemeenskap ontstaan het.

Dinge in die wêreld verander voortdurend. Rituele bied vastigheid en stabiliteit. Die geloofsgemeenskap het iets om te bied deur middel van geloofsrituele – vastigheid te midde van voortdurende verandering. Selfdissipline, vaste roetine, gebede, Bybelstudie, tye van stil meditasie en refleksie kan ’n kontra-kultuur bied op die huidige verbruikerskultuur (die mentaliteit van “instant gratification”). Deur selfdissipline te beoefen dra ’n mens ook by tot die welstand van andere. Dit mag lyk soos selffokus, maar kan juis geskied tot voordeel van diegene rondom jou. Jy kan nie omgee vir andere en goed na hulle kyk as jy nie eers vir jouself kan omgee en vir jouself goed kan wees nie. Jesus het geleer dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Matt 19:19; Matt 22:39). Rituele het ’n sosiale dimensie. Dit maak ’n bepaalde kollektiwiteit tussen mense wakker (Wepener en Van der Merwe 2009:208).

Wepener en Van der Merwe (2009:195-196) noem dat postmoderne mense ’n hunkering beleef na die meer misterieuse kant, die mistieke kant, die nie-rasionele en simboliese kant van die lewe. Hier speel rituele ’n belangrike rol. Gemeentes gaan terug op ou vorms van die erediens en nuwe rituele word ontwerp rondom die groot oorgange in die lewe. Mense het ’n toenemende behoefte om nie net kognitief aangespreek te word en deel te neem aan aanbidding nie. ’n Klemverskuiwing vanaf ’n rasionele godsbelewing na ’n behoefte aan ’n belewing deur middel van alle sintuie word aangetref. Rituele betrek die hele mens in sy of haar volle sintuiglikheid (Wepener en Van der Merwe 2009: 204).

Binne die erediens vind rituele neerslag in liturgieë. Dit is egter ook so dat liturgieë geïdentifiseer kan word in dít wat binne sportruimtes plaasvind. Binne elke sodanige liturgie is daar definitiewe elemente wat herhaal word. As dit beoordeel word aan die hand van die bespreking ten opsigte van die doel en waarde van rituele dan blyk dit duidelik dat hierdie herhaling aan mense vastigheid en geborgenheid bied te midde van ’n wêreld waar alles voortdurend verander. Dit is ’n bekendheid wat jou omvou sonder dat jy eers altyd daarvan bewus is. Selfs mense wat krities en uitgesproke is ten opsigte van geloof, tradisie en vaste rituele binne die erediens neem verlief met die vaste rituele binne die sportruimtes. Hulle is waarskynlik nie eers altyd bewus daarvan nie. Tog doen hulle gemaklik en geredelik mee aan hierdie rituele. Dit is nie die doel van hierdie artikel nie maar daar sou in verdere navorsing gekyk kon word na die mate waarin dit die rede is dat mense opgaan in sport – hierdie geborgenheid, bekendheid en vastigheid wat die sportrituele bied. Vaste rituele help met identiteitsvorming en skep ’n ruimte waarbinne hulle wat aan dieselfde rituele deelneem, met mekaar in “bekende” interaksie kan verkeer. Die behoefte aan ’n geïntegreerde lewe waar daar liggaamlik deelgeneem kan word aan rituele, aan sang, musiek en die polsing van die lewe word hier bevredig. Hulle wat om een of ander rede geen sweempie van beweging binne ’n kerklike aanbiddingsruimte sal waag nie, neem die vrymoedigheid om dit wel te doen binne hierdie sport-aanbiddingsruimte. Skielik kan hy/sy volkome mens wees in hul “aanbidding” en vervaag die dualistiese skeiding tussen gees en liggaam. Op ’n “vreemde” wyse is die sekulêre en die heilige nie meer geskei nie en kom dit bymekaar uit.

8.Gevolgtrekking

Die ooreenkomste en verskille tussen die twee ruimtes is in afdelings 5 en 6 hierbo uitgelig. Uitstaande ooreenkomste is egter dat nie een van hierdie ruimtes duidelik gemerk is nie. Dit is nie nodig nie aangesien hierdie twee ruimtes belangrik is vir almal binne hierdie spesifieke gemeenskap en hulle weet presies wat en waar dit is. Binne albei hierdie ruimtes neem almal deel aan die liturgie, dit behoort aan die mense/deelnemers. Opmerklike verskille is dat alhoewel daar heelwat beweging tydens die liturgie by St. Anne’s is, vind daar min beweging plaas terwyl daar gesing word. By die stadion is beweging ’n wesenlike deel van die sang. Mededinging en buiging van reëls is aan die orde van die dag binne die stadion, terwyl by St. Anne’s verleentheid verkies word bo die buiging van reëls. ’n Gevoel van eenheid word hier ervaar.

Aanbidding en sport is nie so ver verwyderd van mekaar as wat sommige dalk sou wou glo nie. Ons liturgieë, heilig of sekulêr, vorm en ontwikkel ons identiteit en maak van ons die persone wat ons is en word. Dit werk met ons hart eerder as met ons verstand (cf. Smith 2009:24-27). In Atteridgeville waarop hierdie artikel gefokus het, is daar nie meer die tradisionele agora waar ’n kerk en ’n regeringsgebou die middelpunt van die dorp of stad was nie. Hier draai ’n Sondag in die lewe van die gemeenskap om die kerk en die sportstadion. Kerk en stadion (sport) word die middelpunt van die dorp of stad. Dit is in skerp teenstelling met wat vandag al hoe meer aan die orde van die dag is, dat die middelpunt van ’n gemeenskap ’n sportruimte word soos byvoorbeeld ’n gholfbaan. In hierdie geval dra albei by om aan die gemeenskap ’n axis mundi te bied, ruimtes waar hulle opgewondenheid, vreugdevolheid en deelname kan ervaar. Ruimtes wat die gemeenskap vorm en ontwikkel. Die rituele wat in albei ruimtes plaasvind help mee om afhanklikheid van mekaar sowel as verpligtings teenoor mekaar uit te lig en te versterk. Dit bied ’n geleentheid om saam tot stilstand te kom. Hierdie rituele bied ook vastigheid, geborgenheid en stabiliteit te midde van ’n wêreld waarvan dit nie altyd waar is nie. Dit spreek die mens se behoefte aan die misterieuse, die mistieke, die nie-rasionele en die simboliese aan. Die polsing van die lewe kan ervaar word in stille deelname of in deelname met volle oorgawe.

Bibliografie

Bell, C 1997. Ritual: perspectives and dimensions. New York: Oxford University Press.

Birrell, S 1981. Sport as ritual: interpretations from Durkheim to Goffman. Social Forces, 60(2):354-376.

Brevers, D et al. 2011. Sport superstition: mediation of psychological tension on non-professional sportsmen’s superstitious rituals. Journal of Sport Behaviour, 34(1):3-24.

Burger, C. 2009. “Ontdek die belang van die erediens”. In: Wepener, C & Van der Merwe, I (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM.

Curzer, HJ 2012. Contemporary rituals and the Confucian tradition: a critical discussion. Journal of Chinese Philosophy, 39(2)290-309.

Eliade, M 1959. The sacred and the profane: the nature of religion. Trans. WR Trask. New York: Harcourt, Brace & World, Inc.

Flynn, DS 2011. ’n Verkennend-beskrywende prakties-teologiese ondersoek na die waarde van “liturgiese” momente binne sport gemik op liturgiese inkulturasie. MDiv skripsie. Dept Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.

Grainger, R 2009. The drama of the rite: worship, liturgy and theatre performance. Eastbourne: Sussex Academic Press.

Grimes, RL 2010. Beginnings in ritual studies, Ritual Studies International. Canada: Waterloo.

Grün, A 2000. Een veilige schuilplaats: meer levensvreugde door rituele. Tielt: Lannoo.

Harrison, S & Dourish, P 1996. Re-place-ing space: the roles of place and space in collaborative systems: Proceedings of the 1996 ACM Conference on Computer Supported Cooperative Work, Boston, Massachusetts. 16-20 November 1996. 67-76.

Inge, J 2003. A Christian theology of place. Surrey: Ashgate.

Kreger, JW 2013. Thin times and thin places: life lessons from the Labyrinth. Amazon Digital Services, Inc.

Lathrop, GW 2009. Holy ground: a liturgical cosmology. Minneapolis, MN: Fortress Press.

Mataboge, M. 2014. “Most South African profess to be Christians.” Mail & Guardian December 2014-January 1 2015, p. 3.

McGowan, M 2009. Saving suburbia: from the garden to the city. [Online] http://visionroom.com/wp-content/uploads/2013/07/2009.07.Suburbia-by-Mel-McGowan.pdf [Accessed 26 August 2014]

Müller, J 2014. Geloof anderkant Sondag: Christenskap met of sonder die kerk. Kaapstad: Tafelberg.

Najafi, M & Shariff, MKBM 2011. The concept of place and sense of place in architectural studies. World Academy of Science, Engineering and Technology, 80:1100-1106.

Neil, GI 1982. Demystifying sport superstition. International Review for the Sociology of Sport, 17(1):99-124.

Osmer, R 2008. Practical theology: an introduction. Grand Rapids, MI: WB Eerdmans.

Pieterse, HJC 1998. A theological theory of communicative actions. Religion and theology, 5(2):176-194.

Quinn, E 2010. Why do so many athletes have superstitions and rituals: do superstitions give athletes a performance edge? [Online] http://sportsmedicine.about.com/od/sportspsychology/a/superstitions.htm [Accessed April 2011]

Relph, E 1976. Place and placelessness. London: Pion.

Smith, JKA 2009. Desiring the Kingdom: worship, worldview, and cultural formation. Grand Rapids, MI: Baker Academic.

Thomas, DR 2006. A general inductive approach for analyzing qualitative evaluation data. American Journal of Evaluation, 27:237-246.

Torevell, D 2000. Losing the sacred: ritual, modernity and liturgical reform. Edinburgh: T&T Clark.

Torrance, TF 1969. Space, time and incarnation. Edinburgh: T&T Clark.

Tuan, Y 1977. Space and place: the perspective of experience. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Wepener, C 2011. Nuwe tendense buite-om die erediens van die 21ste eeu. ’n Beskrywende liturgie-historiese en hedendaagse verkenning. NGTT, 52(1&2):257-271.

Wepener, C 2009. From fast to feast. A ritual-liturgical exploration of reconciliation in South African cultural contexts. Liturgia Condenda 19. Leuven: Peeters Pers.

Wepener, C & Van der Merwe, J 2009. “Ontdek die kenmerke en waarde van simbole en rituele”. In: Wepener, C & Van der Merwe, I (reds.). 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM.

Wills, MH 2011. Pressing into thin places: encouraging the heart toward God. Dallas, Texas: Brown Christian Press.


1 Hierdie artikel is gebaseer op kwalitatiewe empiriese data wat versamel is vir ’n PhD studie met die titel: Aanbidding, sport en sosiale kohesie: ’n ruimtelik-liturgiese perspektief. Hierdie studie het binne ’n oorkoepelende praktiese-teologiese metodologie ’n model vir sosiale kohesie ontwikkel. Hierdie navorsing is deur die eerste outeur uitgevoer en die tweede outeur was die studieleier.

2 http://www.citypress.co.za/news/natural-order-at-moria/

3 http://www.gcis.gov.za/sites/default/files/docs/resourcecentre/pocketguide/004_saspeople.pdf en volgens ’n resente artikel in Mail & Gaurdian het die sogenaamde “General Household Survey” van 2013 aangetoon dat 85.6% van Suid-Afrikaners met die Christelike geloof geaffilieer is (Mataboge 2014:3).

4 Daar word deurgaans ook verwys na die eie belewenisse van die navorser tydens die doen van die veldwerk en dokumentasie van die data.

5 Dit was moontlik by ses van die agt besoekte ruimtes. By St. Anne’s en by Silver Lakes Gholfbaan moes daar vir die eerste besoek vooraf reëlings getref word.

6 ’n Lys van persone met wie daar gesels is, is beskikbaar.

7 Opvolgbesoeke aan hierdie ruimtes het plaasgevind en kollegas en medestudente vanuit Atteridgeville het tydens verskeie navorsingsbyeenkomste waardevolle insette gelewer.

8 Volgens oorlewering was St. Anna die moeder van Maria die moeder van Jesus.

9 http://www.fatherboniface.org/waob/texts/roman_missal_third_edition.pdf. ’n Handige opsomming is beskikbaar by https://www.magnificat.net/romanmissal/pdf/PewCard4pages_195x270_site.pdf

10 Met dank aan dominees Peter Rapetswa en Mzwandile Nyawuza vir hierdie inligting.

11 Dit kan natuurlik ook juis positief en kontra-kultureel wees omdat hierdie “mors” van tyd ons dwing om tot stilstand te kom … Hierdie “nadeel” van rituele kan ook ’n voordeel wees.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Copyright (c) 2016 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch

Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2413-9467 (online); ISSN 2413-9459 (print)


© 2017 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

No registration, article submission or processing fees apply.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited. 

SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/ 
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.