stj2017v3n1_br02

Stellenbosch Theological Journal 2017, Vol 3, No 1, 553–554

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2017.v3n1.br02

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2017 © Pieter de Waal Neethling Trust

Muis, Jan

Onze Vader. Christelijk spreken over God.

2016, Zoetermeer: Boekencentrum.

ISBN: 978-9023928669

Resensie deur Almatine Leene

Muis tree op 1 September 2017 af as hoogleraar in dogmatiek aan die Protestantse Universiteit in Nederland. In die boek Onze Vader wil hy die vraag beantwoord wat die woord ‘God’ beteken. Die vraag blyk nie eenvoudig nie want Muis het ses jaar aan die boek van 400 bladsye gewerk. Die boek het ’n duidelike en oorspronklike fokus, naamlik die Ons Vader gebed. Daardie keuse maak hy omdat dit volgens hom meer reg doen aan die Bybel (in lyn met die teoloog Miskotte oor wie hy ’n PhD gedoen het) as om vanuit die klassieke gedagte van God se eienskappe, of die konsensus dat God liefde te werk. Tog pas sy werk in die klassieke denke oor God omdat hy naby die Bybel bly. Na ’n tyd van vrysinnigheid is daar baie ruimte hiervoor in Nederland.

Die boek val in twee dele uiteen. Die eerste deel gaan oor ‘christelijk spreken’ waar hy byvoorbeeld onderskeid maak tussen ‘oor God praat’, ‘met God praat’ en ‘God wat praat’. Maar ‘praat’ is nie genoeg nie; hy bespreek ook wat dit beteken om in God te glo. Muis beantwoord daardie vraag met twee woorde: verlange en vertroue. Die enigste grond om christelik oor God te praat is openbaring. Hy verbind ‘om oor God te praat’ met Jesus Christus en dit definieer hy as om christelik oor God te praat. Hy sien die triniteitsleer as belangrik want deur Jesus leer gelowiges die Vader ken. Hierdie uitspraak sien ’n mens min tot sy reg kom in die uitwerking van die res van die boek. Daardeur kry die eenheid van God ook in die tweede deel meer aandag as die Drie-eenheid.

In die tweede deel gaan dit oor die eenheid van God en word vier verskillende Bybelse name van God bespreek: Vader, JHWH, Koning en Skepper. Dit word op die Ons Vader gebed gebaseer, al voel dit party keer of hy net te lank moet verduidelik dat die gebed daardie keuse regverdig. Die uitgebreide en deeglike bespreking van die betekenis van die name laat die leser opnuut nadink oor die verstaan wat gelowiges van God het en hoe ons tot daardie verstaan kom. ‘Vader’ staan volgens Muis vir die God wat handel – ’n belangrike naam, maar JHWH bly die sentrale Naam (166). Oor ‘Koning’ konkludeer Muis dat die Naam in ons tyd hoegenaamd nie geskik is om te gebruik nie, omdat die betekenis daarvan vandag anders as in die Bybelse tyd verstaan word (187). ‘Skepper’ vind hy die mees universele naam vir God – ’n uitdaging in die een en twintigste eeu.

Vervolgens bespreek Muis vyf kenmerke van God, naamlik liefde, heiligheid, regverdigheid, mag en ewigheid. Hy verkies die woord kenmerke bo eienskappe. Die kenmerke se verhouding tot mekaar kom uitgebreid aan die orde en ook moontlike teenstrydighede word behandel. Muis kom dikwels tot die konklusie dat daar nie ’n bevredigende antwoord is hoe gelowiges byvoorbeeld God se liefde en toorn moet verstaan nie. Die bespreking oor die kenmerke en die konklusie daarvan gee onmisbare inligting en help die leser tog verder.

Die boek sluit af met die werklikheid van God. Muis stel die vraag of God (werklik) bestaan en antwoord dan positief op sy vraag. Hy bespreek hierdie vraag heel laaste omdat hy dit nie op ’n abstrakte manier wil benader nie. Daardeur voel die laatste deel egter oorbodig, juis omdat dit al vroeër in die boek aan die orde kom.

Muis is ’n diep denker wat baie verskillende perspektiewe op belangrike begrippe vir gelowiges se verstaan van God gee. Om hierdie rede pla dit nie baie dat daar beperkte aanhalings en gesigspunte van andere teoloë is nie. So ontbreek enige verwysing na die populêre teoloog Tom Wright se denke oor die verstaan van God as koning.

Sy werk is belangrik en onmisbaar vir teologiestudente. Dit bied ’n alternatief op die klassieke manier waarop oor God gedink word en skep ’n bewussyn van hoe God omskryf word Die boek lees nie altyd maklik nie aangesien daar baie herhalings voorkom en analities geskryf word. Die boek se styl word goed deur professor Marcel Sarot met die woorde ‘slow theology’ opgesom In ons tyd is dit nie noodwendig gewild nie, maar steeds baie gesond en nodig.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Copyright (c) 2017 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch

Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2413-9467 (online); ISSN 2413-9459 (print)


© 2017 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

No registration, article submission or processing fees apply.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited. 

SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/ 
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.