stj_v1_n1_a16

Stellenbosch Theological Journal 2015, Vol 1, No 1, 231–343

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2015.v1n1.a16

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2015 © Pieter de Waal Neethling Trust

God en armoede in die Karoo – ’n Besinning oor ’n teologie van transformasie

Van Niekerk, PI

Universiteit van Stellenbosch

heaven@lantic.net

Abstract

God and poverty in the Karoo – A reflection on a theology of transformation

The Karoo is an outstretched arid area characterised by poverty and underdevelopment. This article focuses on the poverty of the Karoo people and the effect of their faith in God on social development and transformation. The future of the Karoo is vested in its people and religious communities. Previous research indicated that believers’ image of God had an effect on their attitude towards social development and transformation. A small sample of women in a Karoo town experienced God as loving, but not as a God that inspired people towards transformation. The test for the church lies in her social involvement in the world as its salvation is God’s concern. In Christian humanism the integrity of creation in a world filled with injustice and poverty is emphasised. Churches in the Karoo are encouraged to utilise a theology of transformation that is developmentally driven and inspired by a transforming image of God.

Keywords

People of the Karoo, Image of God, Transformation, Poverty, Church, Earthiness, Justice

Inleidend

Ek was ’n stigterslid en die eerste voorsitter van KAMBRO1 wat in 1992 ontstaan het na afloop van ’n Armoede- en Ontwikkelingskonferensie wat op Beaufort-Wes gehou is.2 In 2012, twintig jaar later, woon ek weer ’n Karoo-ontwikkelingskonferensie op Beaufort-Wes by, hierdie keer met die tema: “Reik na ons toekoms: mense, ruimte en tuiste in die Karoo”. Van die ou kwelpunte is nog daar, ondanks die jong demokrasie. Waarskynlik is die grootste nuwe probleem die hidrokraking van skaliegas in die Karoo.

Die Groot-Karoo strek oor vier provinsies: die Noord-, Wes- en Oos-Kaap en die Vrystaat. Dit is ’n uitgestrekte, waterarm gebied wat Namakwaland, Boesmanland, die Nama-Karoo, die Richtersveld, die Klein-Karoo en die Sukkulent-Karoo insluit (Atkinson 2009:2). Dit is ’n hoofsaaklik onderontwikkelde gebied wat as die Aspoestertjie-streek van dié vier provinsies bekend staan.3

Die toekoms van die Groot-Karoo (voortaan Karoo genoem) lê in sy mense. Sosiale bates soos die “sakekamers, landbouverenigings, afgetrede mense, kunsverenigings, gemeentes” (Atkinson 2012), dit wil sê die burgerlike gemeenskap, word moontlik onderwaardeer.4 “Kerke en moskeë, naas Pep Stores-takke, is die blywendste instellings in veral ons mees afgeleë plattelandse gemeenskappe. Dié instellings het legitimiteit en is deel van ons inheemse kultuurlandskap waarmee die armstes van die armes gemaklik kan assosieer” verduidelik ’n navorsingsosioloog Wynand Louw (Van Niekerk 2007). Arm mense steun grotendeels op maatskaplike en menslike ondersteuningsnetwerke, byvoorbeeld familie- en gemeenskapsisteme, veral kerkorganisasies (Grove 2010:15).

Die Suid-Afrikaanse geloofslandskap

In 2006 het die Pew Forum die geloofs-/godsdiensverbintenis van 800 respondente in Suid-Afrika ondersoek. Byna 80% van die deelnemers het aan die Christelike geloof behoort. Volgens ’n meer onlangse peiling affilieer minstens 70% Suid-Afrikaners met die Christelike godsdiens (Schoeman 2012).

Enorme menslike hulpbronne is in geloofsgemeenskappe geleë (Burger et al. 2010:68) en in die burgerlike samelewing dra spesifiek Christelike geloofsgemeenskappe sterk geloofwaardigheid (Roberts et al. 2010:27; Swart 2006:346). Die strategiese posisie van plaaslike gemeentes ten opsigte van maatskaplike ontwikkeling staan potensieel in diens van die sosiale5 asook spirituele kapitaal6 in Suid-Afrika.

Die betrokkenheid van geloofgemeenskappe in samelewings wat in die kloue van armoede leef, vorm byna 16% van die nie-winsgewende welsyn- en ontwikkelingsektor (Burger et al. 2010:68). In dorpies en townships in verafgeleë gebiede soos die Karoo bied kerke soms die enigste strukturele infrastruktuur waarvandaan maatskaplike ontwikkelingsaksies geloods kan word. Kerkgeboue is bymekaarkomplekke waar mense gemotiveer en gemobiliseer kan word tot ontwikkeling en transformasie. Godsdienstige byeenkomste soos eredienste en bidure bied geleentheid waartydens lidmate geïnspireer kan word tot hoop en bevryding.7 Lidmate se siening van hulleself en God kan verander. Die Karoo se krag lê grootliks in sy mense van wie die meerderheid gelowig is.

Die kerk se maatskaplike betrokkenheid

Die kerk se betrokkenheid by maatskaplike geregtigheid en opheffing is nie ’n nuwe verskynsel nie. Volgens Pierson (Bowers-Du Toit 2012:206) het maatskaplike welsyn en gemeenskapsontwikkeling altyd met Christelike sending gepaard gegaan.8 Daar is talle voorbeelde in ons geskiedenis waar geloofsgemeenskappe soos kerke hul tande vir armoede gewys het. Die aksies van die NG Kerk in die 1930’s om die armblankeprobleem te verlig, getuig hiervan (Van Niekerk 2007). Armoede in Suid-Afrika is egter nie net ’n sosio-ekonomiese kwessie nie, maar ook ’n belangrike politieke saak (Bowers-Du Toit 2012:207).

In die 1980’s het die Biskoppekonferensie van die Rooms-Katolieke Kerk (soos die afdeling Vrede en Geregtigheid), maar veral die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, apartheid – wat onder meer strukturele armoede veroorsaak het – hoofsaaklik op grond van die Bybelse beginsel van “sosiale geregtigheid” beveg (Van Niekerk 1997:49). Dit was nie slegs ekumeniese instansies en denominasies nie, maar ook kerkleiers soos Beyers Naudé, Allan Boesak en Desmond Tutu se Godsbeskouing wat met wêreldwye steun op ’n profeties-heldhaftige wyse die bemagtigende funksie van geloof/godsdiens getoon en ’n groot bydrae gelewer het tot die verwesenliking van ’n vrye en regverdige demokratiese Suid-Afrika.9

Die tweede Carnegie-verslag het in 1989 aangetoon dat die kerk (asook vakbonde en ander burgerlike gemeenskapsorganisasies) die beste geplaas is om saam met armes armoede te bestry. Die kerk se kragtigste werktuig is bemagtiging – dit maak mense krities bewus van die oorsake van hul armoede en het ten doel dat hulle self beheer van hulle toekoms neem. Die mate waartoe die werk van die kerk ’n uitwerking op die bemagtiging van armes het, is ’n belangrike toets vir die kerk (Wilson & Ramphele 1989:302).

Armoedeverligting kan nie meer gesien word as welsynswerk nie – wat lank in kerklike kringe die geval was.10 Dit kan nie langer beskou word as bloot die uitdeel van aalmoese om die lot van sekere mense effens te verlig nie. Beukes (2004) meen die huidige tydsgewrig roep om die permanente verandering van die lewenstog van diegene wat te weinig het om ’n sinvolle, menswaardige lewe te lei.11

Die uitdaging vir die kerk, veral in afgeleë gemeenskappe soos die Karoo, lê nie in sy diens van barmhartigheid nie.12 Kerke, gemeen­tes en lidmate se betrokkenheid by arm mense is hoofsaaklik projek­gedrewe. Die talle sopkombuise en gemeenskapsprojekte soos naaldwerkgroepe en groentetuine is prysenswaardig. Die impak van kerke en Christelike organisasies se fokus op vroeë kinderontwikkeling en geletterdheidsprogramme vir volwassenes moet ook nie onderskat word nie. Tog moet erken word dat die historiese welsynswerk van die kerk, naamlik die “versorging-, institusionele en opheffingsbenaderings” (Kritzinger 1996:4-12) te kort skiet wanneer dit neerkom op ’n kontekstueel-relevante publieke teologie.13 Hier is dit veral “die profetiese stem van die kerk wat gewig dra, die liefde, genade, geregtigheid en die praktiese uitleef en voortleef van dit wat met God se wil ooreenstem” (Gaum 2011:162). “Dit gaan vir God om die wêreld en sy heil, nie om die kerk nie. Die kerk is daar om die sjaloom van die wêreld te bedien. Daarom moet die kerk solidêr met die wêreld wees, selfs tot op die punt van selfontlediging” (Jonker 2008:63). Die kerk word getoets aan sy unieke Christelike humanisme, sy getuienis van liefde, sy klem op die integriteit van die skepping in ’n wêreld van onreg, ongelykheid en uiterste armoede en in sy diakonie van geregtigheid. Geregtigheid gaan oor die herstel van regte; dis nie die bewys van ’n guns (of voorreg) nie (Van Niekerk 1997:39).14 Kerke, gemeentes, instansies of individue gemoeid met diakonie tree as bondgenote op (Hendriks 1974:26). Smit (2004:353) beskryf diakonie só: “Die Nuwe Testament noem dit ’n diakonaat van vryheid, ’n diakonaat van geregtigheid, ’n diakonaat van versoening. Dis ’n dienswerk van solidariteit in elke vorm van lyding en nood”.15 Geloofsgemeenskap en geregtigheid gaan saam.16

’n Christelike Godsbeskouing in gemeenskappe soos in die Karoo

Godsdiens kan sosiale verandering inisieer, begelei of inhibeer (Coetzee 1984). Godsdiens, byvoorbeeld die Christelike geloof, kan maatskaplike bemagtiging bevorder óf beperk (McGuire 1992:213). Dit kan vergelyk word met ’n Januskop (Lewy 1974:583-584). Volgens Lewy het godsdiens twee dimensies: veranderend of stabiliserend. Dié tweekoppigheid het ’n dubbele funksie: Dit is ’n krag wat kan bou óf vernietig, behoudend stabiliseer óf bemagtig. Berger (1967:100) skryf: “Religion appears in history both as a world-maintaining and as a world-shaking force. In both these appearances it has been both alienating and de-alienating”. Die stabiliserende funksie van die Christelike geloof as ’n godsdiens is onder meer die bied van troos en ondersteuning, maar dit verskraal die impak van geloof indien dit gelowiges nie tot verandering en bemagtiging inspireer nie.17

Watter impak het geloof in God op ’n gemeenskap of samelewing?18 In watter mate word die Christelike geloof kontekstueel “geglo, beleef, ervaar en gerealiseer” (Dekker & Stoffels 1983:31)? Die antwoord op hierdie vrae hang saam met die gelowiges se persepsie, denke, idees, opvattings, sienings of bewussyn van God, dit wil sê hul Godsbeskouing (Van Niekerk 1997:20).

Om oor God te praat is nie eenvoudig nie, omdat dit moeilik is om in mensewoorde presies uit te druk wat ’n mens met geloof in God ervaar (Lindijer 1990:8). Sölle (1990:37) skryf: “When we say ‘God’, that is only a symbolic approximation to something that we cannot grasp with our words”. Dit is metaforiese spreke oor God. Hier gaan dit nie oor verklarings en feitelike uitsprake oor God nie, maar oor uitdrukking aan die sin van die lewe en die eksistensiële verhouding met God (Ganzevoort 1994:239). Dit het te doen met die belewenisse en ervarings van God se mense; met gelowiges se omvattende bewuswees van God (Van der Ven 1993).

Mense se Godsbeskouing hou verband met verskillende faktore. ’n Godsbeeld word gevorm deur die ontvangs van indrukke – die geloofsoortuiging waarvolgens kinders grootgemaak word, die unieke belewenisse van God wat ouers, versorgers en/of rolmodelle aan kinders oordra en dit wat kerkgangers van God in die kerk hoor. Hierdie indrukke word mettertyd as ’n Godsbeeld geïnternaliseer. Persoonlike omstandighede en die wyse van godsdiensbeoefening speel ook ’n rol. Verskillende beskouings oor God kan tegelyk waar wees, weens die rykdom en diepte van God asook sy geheimenisvolle omgang met mense (Lindijer 1990:9). Sommige Godsbeskouings is “disfunksioneel’’ (Louw 1995:7) en behoort afgewys te word indien dit iemand onvry, onmenslik of angstig maak (Lindijer 1990:9).

’n Konstellasie van eksterne en interne faktore kan lei tot die inhibering van maatskaplike bemagtiging en transformasie van mense wat in armoede leef. Hulpeloosheid, fatalisme, konformering, ondergeskiktheid en veral afhanklikheid is tendense wat met armoede geassosieer word.19 “Poor people feel nonexistent, valueless, humiliated” (Wink in Myers 1999:76). Terreblanche (1977:61) meen “’n veelvoud van faktore [bevestig] ’n armlastige lewenstyl en houding. Dié lewenstyl weerspieël ’n langdurige en chroniese armoede wat reeds deel geword het van die struktuur van mense se persoonlikheid wat in armlastige gemeenskappe gebore word en die res van hulle lewe daar moet slyt”.

Godsdiens kan die proses van maatskaplike transformasie in ’n samelewing beïnvloed wanneer lidmate van ’n gemeente byvoorbeeld gedurig hul Godsbeskouing met hul eie eksistensiële posisie verbind. As gelowiges die breë lewenswêreld met armoede, swaarkry en onvervulde behoeftes vereenselwig, word veronderstel dat hul geloofsmanifestasie ’n respons van bevestiging van of kritiek teen hulle omstandighede sal wees (Coetzee 1984:10).

Glo, bely en doen

Wanneer gelowiges aangeraak word deur God se openbaring, neem hulle dit in ontvangs. Die ontvangs lei tot ’n respons (Van der Ven 1993:103). In dié respons, hoofsaaklik deur liturgie en gebed (Van der Ven 1988:15), speel die mens die “hoofrol” in die interaksie met God. Dit lei verder tot ’n reaksie waardeur gelowiges hulself op ander mense rig en oor God getuig. Dit is die “kerugma”, “belydenis” of “diakonia” (Van der Ven 1988:15). “Die impak wat God se selfonthulling in geloof het, manifesteer in gelowiges se lewe” (Van Niekerk 1997:26).

Wat hoor die benadeeldes, geringstes, noodlydendes, besitloses of die plaaswerkers in die Karoo tydens eredienste?20 Tradisioneel is hulle waarskynlik ook gereelde kerkgangers, indien die kerkgebou of plek van aanbidding nie te ver van hul blyplek is nie. Watter boodskap kry hulle van die dominee, pastoor, priester of prediker? Of watter Goeie Nuus-boodskap of Christelike geloofsoordenking hoor hulle oor die radio? Hoor hulle van God wat hom-/haarself bekend stel as die Een wat op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme of verontregte is, en dat God sy/haar kerk roep om hom/haar hierin te volg (Belydenis van Belhar 1986)? God word deel van die mensheid en deur Christus kry mense deel aan die Godheid. God word sigbaar deur ’n Mens en deur die mens se lewe word God sigbaar. In ’n sin som dit myns insiens die evangelie op.

Case-Winters (1990:19) skryf: “The way in which we conceive God and the way we speak of God have real consequences in the realm of human affairs”. Myers (1999:23) stel dit só: “We must know who God is before we can answer the question about who we are and what we are supposed to be doing”. ’n Mens se Godsbeeld is met sy/haar selfbeeld verbind. Calvyn (1972:37) het verklaar dat die kennis van die self en die kennis van God ten diepste met mekaar verweef is. Mense se Godsbeskouing is ’n komplekse saak. Dieselfde beeld van God kan vir verskillende gelowiges verskillende dinge beteken (Van Niekerk 1997:278).

Mense se siening van God – meer spesifiek hoe hulle Goddelike mag verstaan – word beïnvloed deur hul bestaande ekonomiese en sosiale belange. Maar dit werk ook andersom: Mense se hantering van sosiale belange word beïnvloed deur hoe hulle Goddelike mag verstaan. Mense se menswaardigheid ontwikkel ooreenkomstig die beeld wat hulle van God het (Migliore 1983:32-33). Gelowiges se Godsbeskouing en gevoel van waardigheid voed mekaar. Presies hierin lê my besorgdheid: Dit is veral die leemte in arm gelowiges se Godsbeskouing wat hul potensiaal tot maatskaplike ontwikkeling en transformasie affekteer.

Karoomense se armoede en die kerk

Ek het vyf jaar lank in die Karoo gewoon, gewerk en die aardsheid van sy mense beleef. Die mense se swaarkry het my geraak en hul geloof het my getref. Ek het bly wonder hoe Karoomense na God kyk, en of dié kyk van ander mense s’n verskil.

Die sosio-ekonomiese uiterstes – die groot onreg in Suid-Afrika – laat ’n wrang smaak by baie mense en wys veral die vinger na gegoede Christene. Armoede/werkloosheid is een van die sewe grootste bedreigings (“reuse”) vir Suid-Afrika (SACLA 2003).21 Suid-Afrika se Gini-telling22van ongeveer 0.70 in 2008 toon dat die gaping tussen ryk en arm in ons land van die hoogste ter wêreld is (Atkinson 2010:67).23 Die Gini-telling vir vier streke van die Karoo was relatief laer as die gemiddelde Gini-telling van die provinsie Noord-Kaap en van Suid-Afrika in sy geheel (Atkinson 2010:65).24 Die inkomsteverskil tussen ryk en arm is in die Karoo relatief kleiner en dit lyk dus of mense hier in die algemeen minder welvaart beleef. In Karoodorpe soos Murraysburg en Laingsburg is die sosiaal-maatskaplike infrastruktuur uiters beperk (Swart 2006:350). Beaufort-Wes het verreweg nie genoeg maatskaplike werkers nie (ibid:349). Baie Karoodorpe toon sigbare agteruitgang.25

Die Karoomense word deur Jacobs (Mouton 2010) as aardsgebonde beskryf, baie van hulle besitloos en gewoonlik met ’n eenvoudige geloof.26 Palmer (Steyn 2005) meen dat die Karoo min ateïste oplewer.27 Hoewel gegewens oor die geloofsprofiel en kerklidmaatskap van die Karoomense nie beskikbaar is nie, toon Karoo-navorsing gedurende 2007 en 200928 dat inwoners in die algemeen ’n betekenisvolle band met plekke van aanbidding het (Atkinson 2010:178).29

Gebondenheid aan aanbiddingsplekke, 2007 en 2009 (Atkinson 2010:178)

AARD VAN BAND

Carnarvon

Williston

Victoria-Wes

2007

2009

2007

2009

2007

2009

n

%

n

%

n

%

n

%

n

%

n

%

Baie sterk

253

74.9

262

73.0

176

65.2

213

69.6

211

79.9

202

68.7

Minder sterk

67

19.8

85

23.7

85

31.5

82

26.8

46

17.4

78

26.5

Geen

18

5.3

12

3.3

9

3.3

11

3.6

7

2.7

14

4.8

NVT

8

6

27

5

36

11

Totaal

346

100.0

365

100.0

297

100.0

311

100.0

300

100.0

305

100.0

Die Atkinson verslag gaan van die veronderstelling uit dat die inwoners se gebondenheid aan veral kerkgenootskappe ’n belangrike rol in toe­komstige ontwikkelingsinisiatiewe kan speel. Ek is egter van mening dat kerkgebondenheid sonder ’n geïnternaliseerde bemagtigende Gods­beskouing onder lidmate die transformasie van arm mense kortwiek.

’n Groep Karoomense se godsbeskouing

My vorige navorsing het die impak van mense se geloof op die burgerlike samelewing ondersoek.30 Hieruit blyk dit dat ’n teologie wat op die maatskaplike ontwikkeling, bemagtiging en transformasie van mense fokus, nie die invloed van Godsbeskouing op gelowiges moet onderskat nie.

’n Opname in November 2012 suggereer iets van ’n groepie Karoomense se Godsbeskouing. Ek het ’n vraelys oor mense se Godsbeskouing ontwikkel vir my doktorale studie (Van Niekerk 1997:119-120; 127-129).31 Beaufort-Wes is as ’n relatiewe sentrale dorp van die Karoo gekies met logistieke toeganklikheid. ’n Plaaslike dominee, ds. René Potgieter het kosteloos die veldwerk gedoen. ’n Toevallige steekproef is binne die grense van ’n veelrassige NG gemeente gevorm deur agtien “bruin” vroue te identifiseer wat van staatstoelae afhanklik is. Hulle response op die vraelys is met ’n tipe Likert-skaal beoordeel.

VRAELYS OOR GODSBESKOUING:

STELLINGS

WAARDESKAAL

Stem heeltemal saam

Stem saam

Nie seker nie

Stem nie saam nie

Stem glad nie saam nie

Ek aanvaar armoede as die wil van God.

1

2

0

4

5

God stel die mens in staat om iets aan armoede te doen.

5

4

0

2

1

Alles wat met my gebeur is soos God dit wil.

1

2

0

4

5

God inspireer mense wat verdruk word om dit teen te staan.

5

4

0

2

1

God wil hê dat ek minderwaardig moet wees.

1

2

0

4

5

God lewe en is in die hemel maar Hy het geen invloed op die aardse lewe nie.

1

2

0

4

5

Ek gee alles oor aan God.

1

2

0

4

5

God gee my die krag dat ek betrokke raak by die opbou van ons land.

5

4

0

2

1

God is die krag wat nie toelaat dat armes tevrede met hul lot is nie.

5

4

0

2

1

God gee my die vermoë om meer en meer in beheer van my lewe te wees.

5

4

0

2

1

God is bo en sien alles raak.

1

2

0

4

5

God is in my en versterk my om dinge saam met ander mense te verander.

5

4

0

2

1

God is die pottebakker en ek die klei.

1

2

0

4

5

God stel my in staat om op my eie bene te staan.

5

4

0

2

1

Ek glo niks sal ooit verander nie.

1

2

0

4

5

God beheer en kontroleer my lewe.

1

2

0

4

5

God deel sy krag met my sodat ek my situasie kan verander.

5

4

0

2

1

Ek plaas my hele lewe in die hande van God.

1

2

0

4

5

God maak my bewus dat ek iets aan my swaarkry kan doen.

5

4

0

2

1

God gee my talente om te ontwikkel.

5

4

0

2

1

Die totale gemiddelde telling is bereken en vergelyk met elke stelling se gemiddelde telling. Sewe stellings het ’n ondergemiddelde reaksie uitgelok en dui ’n geloof in ’n God aan wat nie mense tot transformasie en bemagtiging inspireer nie. Die spreekwoordelike dobbelsteen het verkeerd geval en hulle lot God se wil.32 Die stellings is:

  • “Ek aanvaar armoede as die wil van God.”
  • “Alles wat met my gebeur is die wil van God.”
  • “Ek gee alles oor aan God.”
  • “God is bo en sien alles raak.”
  • “God is die pottebakker; ek is die klei.”
  • “God beheer en kontroleer my.”
  • “Ek plaas my hele lewe in die hande van God.”

Nege deelnemers (dus 50%) het ’n ondergemiddelde telling vir geloof in ’n transformerende God. Agt deelnemers (44%) stem (heeltemal) saam met die stelling: “Ek aanvaar armoede as die wil van God”. Slegs een deelnemer het ’n bogemiddelde telling gekry wat dus aandui dat haar God as transformerend en bemagtigend beskou.

Hierdie bevindings kan nie veralgemeen word as verteenwoordigend van die Karoomense se Godsbeskouing nie. Tog kom hierdie prentjie van 18 “bruin” vroue wat van staatstoelae afhanklik is, se Godsbeeld ooreen met die bevindings van my vorige studies oor die Godsbeskouing van arm mense. Hoewel die meerderheid arm mense God positief beleef, ervaar hulle nie God as ’n unieke mag wat mense bemagtig, in staat stel, en inspireer om in beheer van hul eie lewe en toekoms te kom nie. Respondente se belewenisse word eerder met ’n passiewe afhanklikheid van God en ’n eksterne lokus van kontrole geassosieer.

Besinning oor ’n teologie van transformasie

Uit ’n verrassende oord kom ’n getuigskrif van die impak van die Christelike geloof in Afrika. Die politieke kommentator Matthew Parris (2009) skryf die artikel “As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig”. Hy het as oortuigde ateïs onder die indruk gekom van die “enorme bydrae wat Christelike evangelisasie in Afrika lewer: Dit is radikaal anders as die werk van sekulêre nieregeringsorganisasies, regeringsprojekte en internasionale hulppogings. Sulke pogings alleen werk nie. Opvoeding en opleiding alleen werk nie. In Afrika verander die Christelike godsdiens mense se harte. Dit bring geestelike transformasie. Die wedergeboorte is werklik”.

Parris (2009) se indruk van “Christelike evangelisasie” wat tot “geestelike transformasie” lei, het waarskynlik te make met die vrug van die Christelike geloof, ’n mobiliserende en bevrydende Godsbeskouing en – humanisme! Christelike humanisme bevestig die integriteit van die skepping en besef dat menslike lewe gewortel is in en afhanklik is van die aarde. Dit erken ons gemeenskaplike menslikheid. Dit glo dat die redding wat ons in Christus het, ons nie méér godsdienstig maak nie, maar meer volledig méns laat word. Christelike humaniste stry saam vir menseregte, vryheid, waardigheid, geregtigheid en vrede en die ontwikkeling van ’n volhoubare omgewingsbeleid wat kreatiwiteit aanmoedig (Gaum et al. 2008:481-2).33

Wanneer mense as beelddraers en vennote van God saam met ander beelddraers kreatief betrokke raak by die skepping van ’n nuwe wêreld en geloof ’n visie van sigbare en daadwerklike persoonlike en maatskaplike transformasie insluit, ontstaan ’n teologie van bemagtiging, wat transformasie en ontwikkeling veronderstel (Van Niekerk 1997:269-270). Myers (1999:3) gebruik die begrip “transformational development” en bring dit in verband met die Menslike gestalte wat God in Christus aangeneem het.34 Dié begrip verwoord die soeke na maatskaplike verandering wat die totale mens se materiële, sosiale en spirituele lewe omarm. Dié ontwikkeling hou rekening met hedendaagse sosio-ekonomiese omstandighede en uitdagings.35 Byvoorbeeld, as beelddraers van God staan die mense van die Karoo tans voor ’n groot uitdaging, naamlik hidrokraking van skaliegas in die Karoo. Dit is ’n veelkantige kwessie met ’n geloofsdimensie wat faktore soos ekosensitiwiteit én die sosio-ekonomiese werklikheid van die bewoners behoort te verreken.

Waarskynlik word die meeste Karoomense se mede-skeppendheid beïnvloed deur ’n verskraalde teologiese bewussyn. Ander kontekstuele en historiese sosio-ekonomiese onregte werk ook beperkend ten opsigte van ’n ingesteldheid tot transformasie. Die uitkoms van die Beaufort-Wes-opname bevestig dit.

Die geloofslewe het die geloofsleer nodig. Die kerk behoort getrou te wees aan sy missie – geloof en belydenis oor grense heen (Atkinson 2012). Dit wat gereeld oor God in die huis, kerk en gemeenskap gehoor word (geloofsleer), vorm, ontwikkel en hou gelowiges se Godsbeskouings in stand (Van Niekerk 1997:186). Dit is veral die kerk se beskouing van God wat lidmate se denke oor en optrede teenoor ander mense (geloofslewe) kan bevestig of skuif. Die Bybelwaardes soos integriteit van die skepping, geregtigheid en vrede is gelyktydig Goddelike en sosiale boustene,36 met ’n geïnternaliseerde, bemagtigende Godsbeskouing as fondasie. ’n Gemeente is inderwaarheid die samekoms van gelowiges wat hulle vir transformerende ontwikkeling beywer.37

’n Kerk se teologie het ’n belangrike invloed op lidmate se Godsbeskouing. Dit is wenslik dat God se invloed bekend gemaak word as ’n transendente, misterieuse mag in die lewe van elke gelowige. Dit kom nie van buite om te domineer en te beheer nie, maar van binne, in sinergie, om “lewe” en energie te gee. Dit oorweldig nie, maar bemagtig (Case-Winters 1990:226-227). God is Skepper, Verlosser en Transformeerder van die lewe. God se mag is kreatief. Dit is nie ’n ongevoelige nie, maar ’n gevoelvolle mag; dit is nie ’n onveranderlike nie, maar ’n standvastige, selfgewende mag, wat die wêreld kan bevry en transformeer (Migliore 1983:71). Ek voel tuis met ’n “teologie van transformasie” wat transformatief-ontwikkelingsgedrewe is en deur ’n transformerende Godsbeskouing geïnspireer word.

Ten slotte

Die hoop in die Karoo beskaam nie, daar is oases van herstel en heling in die Karoo, maar nie sonder groot uitdagings nie. Die aardsheid van die Karoomense veronderstel ’n noue verbondenheid met God as die Skepper en Onderhouer – ook van die Karoo. Hier is ook ’n verbondenheid aan die kerk as verteenwoordiger van God.

Ds Barnard Steyn het agt jaar op die rand van die Karoo gewoon. Hy (Steyn 2005:23) skryf: “Dié wêreld herinner aan die ewigheid … dit herinner aan God wat nog altyd hier was en altyd hier sal wees. … God kan nie en hoef nie teenwoordig gestel te word nie, maar as beelddraers verteenwoordig mense Hom op ’n verskeidenheid maniere”. Ook die Karoomense tree as rentmeesters van God op, maar die verstaan van hierdie verantwoordelikheid hou verband met hul Gods- en selfbeskouing. Die impak van die Christelike geloofsgemeenskappe en veral gewone gelowiges op die Karoo se waarde moenie onderskat word nie. Die onpretensieuse Godsgebondenheid van ’n groot groep Karoomense kan as ’n sneller dien en tot positiewe transformasie bydra.

Bibliografie

Atkinson, D 2009. Towards cross border collaboration in desert areas. Ongepubliseerde referaat, Karoo-armoedekonferensie, Graaff-Reinet.

Atkinson, D 2010. Socio-economic follow up study: Carnarvon and Williston. Ongepubliseerde verslag.

Atkinson, D 2012. Volhoubare ontwikkeling van klein dorpies. Lesing Noord-Kaapse leraars byeenkoms Gariepdam. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.ngkerk.org.za/noordkaap/nuus.asp [2012, 29 Oktober].

Belydenis van Belhar. 1986. Belhar: NG Sendingkerk van SA.

Berger, PL 1967. The sacred canopy: Elements of a sociological theory of religion. New York: Doubleday.

Beukes, E 2004. Ongepubliseerde referaat, Badisa konferensie, Bellville.

Bosch, DJ 1979. Heil vir die wêreld. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Bowers, N & August, K 2004. Engaging poverty: The church as an organisation for change. Ned Geref Teologiese Tydskrif, 45(2):416-427.

Bowers-Du Toit, N 2009. Theology and Praxis: Friends, Foes or Mere Acquaintances? A Case Study from Paarl. Journal of Theology for Southern Africa, 133:97-110.

Bowers-Du Toit, N 2012. Remembrance and renewal. Exploring the role of the church as an agent of welfare after 15 years of democracy. Ned Geref Teologiese Tydskrif, Supplementum 53:205–216.

Brueggemann, W 1984. The message of the Psalms. Minneapolis: Augsburg.

Burger, R, Louw, M & Van der Watt, C 2010. The challenge of poverty and social exclusion in post-apartheid South Africa – Considering the potential role of religious groups. In Swart, I, Rocher, H, Green, S & Erasmus, J (eds). Religion and Social Development in Post-Apartheid South Africa. Stellenbosch: Stellenbosch University Press.

Calvin, J 1972. Institutes of the Christian religion. Grand Rapids: Eerdmans.

Case-Winters, A 1990. God’s power: Traditional understandings and contemporary challenges. Louisville: Westminster/John Knox Press.

Coetzee, JK 1984. Religie as inisieerder, begeleier en inhibeerder van sosiale verandering. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

De Gruchy, JW 2006. Being human: Confessions of a Christian Humanist. London: SCM.

Dekker, G & Stoffels HC 1983. Godsdienst en samenleving: Inleiding tot de studie van die godsdienstsociologie. Kampen: Kok.

De Vries, AH 2012. Woede. Litnet. [Intyds]. Beskikbaar http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=31420&cause_id=1270 [2012, 20 Oktober].

Ganzevoort, RR 1994. Een cruciaal moment: Functie en verandering van geloof in een crises. Zoetermeer: Boekencentrum.

Gaum, F 2011. Fluit-fluit, die kerk is uit? Wellington: Bybel-Media.

Gaum, F, Boesak A & Botha,W (reds.) 2008. Christelike kern-ensiklopedie. Wellington: Lux Verbi BM.

Grove, P 2010. ’n Bate-gebaseerde benadering tot armoede. Kruisgewys, 10(4): 14-15.

Hendriks, J 1974. Overall waar mensen zijn. De diakonale gemeente. Kampen: Kok.

Jonker, WD 2008. Die relevansie van die kerk. Wellington: Bybel-Media.

KAMBRO 1992. A vision for the Karoo. A report on the conference on poverty in the Karoo. Beaufort West.

Koopman, N 2008. Suid-Afrikaanse kerke en die openbare lewe. Enkele lesse uit die teologie van Willie Jonker. In Jonker, WD, Die relevansie van die kerk. Wellington: Bybel-Media.

Kritzinger, JJ 1996. Die stryd teen armoede. Studiestuk 340. Potchefstroom: Instituut vir Reformatoriese Studie.

Lewy, G 1974. Religion and revolution. New York: Oxford University Press.

Lindijer, C (red.) 1990. Beelden van God: Oriëntasies op het denken en spreken over God in onze tijd. ‘s Gravenhage: Meinema.

Louw, DJ 1995. Die rol van Godsbeelde/voorstellinge in die ontwikkeling van lidmate se geloof – ’n pastoraal-diagnostiese model. Ongepubliseerde lesing, Universiteit van Stellenbosch: Departement Diakonologie.

Mandryk, J 2010. Operation world. 7th edition. Colorado, Secunderabad: Biblica Publishing.

McGuire, MB 1992. Religion: The social context. Belmont: Wadsworth.

Migliore, DL 1983. The Power of God. Philadelphia: Westminster Press.

Mouton, D 2010. God se beeld in die karretjiemense. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.ngkok.co.za/reisgeselskap/leierskap/karretjiemense [2012, 11 Oktober].

Myers, BL 1999. Walking with the poor. Maryknoll, New York: Orbis Books.

Parris, M 2009. As ateïs glo ek werklik Afrika het God nodig. In Die Burger, BY, 21 Februarie.

Pew Forum. 2010. Pew Forum on Religion & Public Life / Islam and Christianity in Sub-Saharan Africa. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.pewforum.org/uploadedFiles/Topics/Belief_and_Practices/sub-saharan-africa-preface.pdf [2012, 19 November].

Preman Niles, D 2003. Justice, peace and the integrity of creation. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.wcc-coe.org/wcc/who/dictionary-article11.html [2012, 18 November].

Roberts, B, Kivilu, M & Davids, YD (eds) 2010. South African Social Attitudes, 2nd Reflections. Cape Town: HSRC Press.

SACLA 2003. SACLA Giants. South Africa faces a number of giants. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.sacla.za.net/ public_html/7giants.htm [2012, 30 Oktober].

Schoeman, K 2012. Klein plattelandse gemeentes: ’n ruimte om ’n brug na die hele gemeenskap te bou. Ongepubliseerde verslag. Bloemfontein: UVS.

Small, A 1983. Die Here het gaskommel. In Opperman, DJ. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Smit, DJ 2004. Oor die kerk en maatskaplike uitdagings in ons land. Ned Geref Teologiese Tydskrif (NGTT) 45(2): 350-362.

Sölle, D 1990. Thinking about God: Introduction to theology. London: SCM Press.

Steyn, B 2005. Die leraar as “change agent”. Kruisgewys 5(2): 23-24.

Swart, I 2004. The third public: Hermeneutical key to the theological debate on church and development? Ned Geref Teologiese Tydskrif (NGTT) 45(2):475-494.

Swart, I 2006. Churches as a stock of social capital for promoting social development in Western Cape Communities. Journal of Religion in Africa (JRA) 36: 346-378.

Terreblanche, S 1977. Gemeenskapsarmoede. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Ven, JA 1988. Practical theology: from applied to empirical theology. Journal of Empirical Theology 1:7–27.

Van der Ven, JA 1993. Practical theology: An empirical approach. Kampen: Pharos.

Van Niekerk, P 2007. Wat het die kerk, moskee & Pep Stores gemeen? BY, 25 Augustus, bl 5.

Van Niekerk, P 2010. Die vrug van humane Christene. Communitas. www.communitas.co.za.

Van Niekerk, P 2012. Ons kan doen met spirituele mondigheid. Litnet. http://www.litnet.co.za/Article/ons-kan-doen-met-spirituele-mondigheid.

Van Niekerk, PI 1997. Die verband tussen ’n Christelike Godsbeskouing en die sosiale bemagtiging van lidmate in ’n plattelandse gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Ongepubliseerde DTh-proefskrif. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.

Van Niekerk, PI & Orkin, M 1991. The NGKA in its community. Contextual analysis for social action on poverty and dependence. Johannesburg: CASE.

Van Wyk, C 2012. Mymeringe oor die Psalms: Gemeenskap en geregtigheid gaan saam. Communitas. [Intyds]. Beskikbaar: www.communitas.co.za [2012, 10 November]

Venter, M 2012. Ons noem die boer nog baas. Ek praat nie met hom oor menseregte nie. In Die Burger, 16 November, bl 4.

Wilson, F & Ramphele, M 1989. Uprooting poverty. The South African challenge. Kaapstad: David Philip.

Zohar, D & Marshall, IN 1999. Spiritual Capital: Wealth we can live by. London: Bloomsbury Publishing.

1 Die akroniem KAMBRO (KAroo Mobilisering, Beplanning en Rekonstruksie Organisasie) verwys na die Karooplant die kambro, ’n simbool van eenvoud, vasbyt, gehardheid en kosbaarheid. KAMBRO was waarskynlik een van die grootste plattelandse nie-regeringsorganisasies van sy tyd. In die voorwoord tot die verslag oor die konferensie in Beaufort-Wes word onder meer geskryf: “Groot soos die Karoo op ’n kaart voorkom, is dit maar ’n stippeltjie op die sosio-ekonomiese agenda van ons land … Ons krag lê in ons mense” (Kambro 1992).

2 Altesame 250 afgevaardigdes het 34 dorpe van die Groot-Karoo by dié konferensie verteenwoordig.

3 “In each of the four provinces, it is the neglected zone, the undeveloped backwater, the regional Cinderella. Development effort has been systematically diverted away, towards the coastlines and the capital cities. The provinces also have different levels of resources available to devote to development in the arid areas” (Atkinson 2009:4).

4 “Dit sal katastrofies wees om die verantwoordelikhede op die staat se skouers te laai. Te veel ambisieuse staatsgeïnisieerde ekonomiese en maatskaplike projekte het onder meer weens korrupsie, onvanpaste projek-keuses en ’n onsensitiewe inwerkingstelling-metodiek gesneuwel. Die burgerlike gemeenskap is ’n beter opsie tot ons beskikking. Dit is ’n geduldige sektor wat ’n wye spektrum belangegroepe insluit, van geteikende mense en/of gemeenskappe en nieformele gemeenskapsgebaseerde organisasies tot formele organisasies soos geloofsgebaseerde instellings” (Louw in Van Niekerk 2007).

5 “[…] ’n Christelike geloofsgemeenskap lewe gewoonlik volgens ’n bepaalde waardesisteem en oriëntasie wat hulle verhouding met God maar ook hulle onderlinge verhoudings bepaal. Hierdie verhoudings het verder bepaalde implikasies vir die gemeenskap waarbinne so ’n gemeente gevind word” (Schoeman 2012). Volgens Swart (2006:346) is kerke strategies belangrik in die vorming van sosiale kapitaal, ten spyte van die kerke se ongenoegsame vordering met betrekking tot sosiale praktyk.

6 Zohar en Marshall neem filosofiese en sielkundige konsepte in ag wanneer hulle ’n toekomsvisie van kapitalisme in hulle boek Spiritual capital: Wealth we can live by (1999) gee. Hulle waarsku teen die eensydige opgaar van materiële kapitaal en argumenteer eerder vir die byeenbring van “spirituele kapitaal”. Eersgenoemde is nie volhoubaar nie en kan ’n monster word wat homself opvreet. Positiewe verandering vind slegs plaas wanneer kapitaal mense se fundamentele behoeftes dien en ’n waardegerigte kultuur bevorder. Volgens die skrywers hou spirituele intelligensie verband met die wyse waarop die kultuur van vrees, hebsug en selfhandhawing beweeg na ’n kultuur van ontdekking, samewerking, sin en karaktergroei. Indien mense se optrede op hoër behoeftes gerig is, bring dit heelheid en geestelike oorvloed mee (Van Niekerk 2012).

7 Volgens Roberts et al. (2010:27) woon 51% Suid-Afrikaners een of meer maal per week godsdienstige byeenkomste by. Verder, ongeveer ’n driekwart van alle volwassenes glo vas in die bestaan van God en beweer dat Jesus die oplossing van al die wêreld se probleme is.

8 “The church has been at the forefront of mobilising its resources to support and care for the poor and marginalised in South African society since 1652. Societal reformation for the oppressed and marginalised was also promoted by the church. Several missionaries of the London Missionary Society (LMS) encouraged the Khoikhoi to institute court cases against white farmers and employers at whose hands they’d suffered” (Bowers-Du Toit 2012:206).

9 “On April 27, 1994, South Africa held its first democratic elections after the fall of the apartheid system of racial segregation. Religion played an important role in bringing about this change:Anglican Archbishop Desmond Tutu earned the Nobel Peace Prize in 1984 for his outspoken opposition to apartheid, and many of South Africa's churches were active in efforts to end the practice” (www.pewforum.org).

10 “Relief work, while well-meaning and legitimate in many contexts, focuses more on the symptoms than causes of poverty and implies a ‘charity’ approach to welfare and development, rather than a community development approach (based on tenets such as empowerment, selfreliance and participation advocated by the South African government …” (Bowers-Du Toit 2012:212).

11 Elwil Beukes is ’n ontwikkelingsekonoom en het tydens ’n Badisa-konferensie opgetree.

12 Barmhartigheid word tradisioneel verstaan as hulpverlening aan armes en nie as die transformasie of bemagtiging van of geregtigheid aan mense wat in armoede leef nie. Dit herinner aan “Social Welfare versus Community Development” (Bowers & August 2004:419): die begrip barmhartigheid kan met die term “social welfare” vertaal word aangesien “dinge vír mense gedoen [word] en nie mét hulle nie’’.

13 ’n Publieke teologie is ’n “teologie wat pertinent nadink oor die betekenis van die Christelike geloof en kerk vir die publieke lewe” (Koopman 2008:176). “Kerke word geroep om relevant te wees in hul samelewings. Die kerk het nie net betekenis vir die private sfere van die samelewing, vir sekere kleinere groeperinge, of in sekere stressituasies soos siekte en dood nie. Die kerk het … betekenis vir die alledaagse lewe, vir die werklike vrae waarmee mense worstel, vir beslissende dinge wat in die wêreld gebeur” (ibid:177). Swart (2004) beskou ’n relevante en effektiewe teologie as een waarin die interfunksionele rol van die akademie, geloofsgemeenskap en die burgerlike samelewing in ontwikkeling beklemtoon word.

14 “The Church is well placed to work for change and development, and to educate people. It can be an important facilitator for development and social change. The Church should not only deal with the symptoms of poverty; food for the hungry and visiting the old and the sick will always be a task of the Church. But true diakonia in striving for justice also addresses the source of poverty … Members should be consciencitised to the true meaning of justice and democracy” (Van Niekerk & Orkin 1991:29).

15 Die Karooboer en gereelde kerkganger wat sy dankoffer getrou gee en jaarliks ’n vet skaap of twee vir buitelandse sending of barmhartigheid skenk, maar sy werkers onder die minimum loon betaal, se liefde is eensydig en hy pleeg onreg. David Bosch (1979) meen, “[a]s ons aan mense alleen daardie deel van die evangelie bring wat met hul eie behoeftes en persoonlike probleme verband hou … en swyg oor hul verhouding met hul medemense, oor rassisme, uitbuiting en blatante onreg, bring ons nie die evangelie nie. Die dominee wat tydens huisbesoek by die ryk boer oor sy siel praat, maar swyg oor die wyse waarop hy sy plaaswerkers behandel, versuim sy plig”.

Dit herinner aan die werkeronrus van November 2012 in De Doorns. ’n Plaaswerker vertel: “Ons noem die boer nog ‘Baas’. Ek praat eerder nie met hom oor menseregte en hoër betaling nie. Al wat hy sal doen, is om sy vinger na die pad te wys en te sê: ‘Daar is die pad, stap’” (Venter 2012:4). Ek veronderstel dat hierdie boer ook die Christelike weg ken en Sondae met ’n skoongewaste motor kerk toe kan ry. Watter boodskap kry hy van die kansel af en hoe geïntegreerd is sy geloof met sy alledaagse handel en wandel? Wie is die God wat hy aanbid?

16 “Communion with God cannot be celebrated without attention to the nature of the community, both among human persons and with God … Indeed, it is through the question of justice that communion is mediated” (Brueggemann 1984:169). Geloof in God word treffend raakgevat in onder meer die Psalms. “Die Psalms leer ons dat gesprek met God nooit losgemaak kan word van ons lewensomstandighede nie. … [Dit] leer ons dat dit nie net ons persoonlike ervarings is wat deel is van ons gesprek met God nie, maar ook die verskeidenheid van ervarings in die wyer gemeenskap. Ons gesprek met God word, trouens móét, onontwykbaar gekleur word deur ons ervarings – goed of sleg – binne die geloofsgemeenskap sowel as in die publieke gemeenskap” (Van Wyk 2012).

17 Die Pew Research Center’s Forum on Religion & Public Life het in 2010 die resultate gepubliseer van ’n ondersoek waaraan 25,000 mense verteenwoordigend van 75% van die totale bevolking van sub-Sahara-Afrika deelgeneem het. Een bevinding was dat godsdiens veel eerder ’n bron van hoop as ’n oorsaak van konflik in dié streek is. Godsdiensleiers en -bewegings het ’n kragtige impak op die burgerlike samelewing, is sleutelverskaffers van noodleniging aan en ontwikkeling van behoeftiges, gegewe die vele mislukte staatsdienste.

18 “Christianity faces many challenges – not least is how a nation that is 75% Christian can be crippled by poverty, violence, crime, AIDS and racial strife” (Mandryk 2010:760).

19 Myers (1999:81) meen armoede is ’n komplekse maatskaplike kwessie wat die fisiese, persoonlike, sosiale, kulturele en spirituele sfere insluit. Armes se sienswyse hang ook grootliks af van hulle wêreldsiening, onderwys en opleiding.

20 Bowers-Du Toit (2012:214) wys op die funksie van Bybeltekste in die bemagtiging van armes: “texts pertaining to God’s justice and concern for the poor, oppressed, and marginalised could be consulted, with the view to promoting their usage in church liturgy, sermons, and bible studies”.

21 Die ander ses bedreigings is MIV/vigs, misdaad, geweld, rassisme, seksisme en gesinskrisisse (South African Christian Leadership Assembly 2003).

22 Die Gini-telling is die inkomsteverspreiding van ’n land se inwoners wat die gaping tussen ryk en arm meet.

23 Die Gini-telling in perspektief 1996, 2005 en 2008 (Atkinson 2010:67)

AREA

1996

2005

2008

Suid-Afrika

0.62

0.67

0.66

Noord-Kaap

0.59

0.66

0.66

Namakwastreek

0.57

0.65

0.66

Karoo-Hoogland-Munisipaliteit (Williston)

0.62

0.66

0.65

Pixley ka Seme-streek

0.58

0.64

0.65

Ubuntu-Munisipaliteit (Victoria-Wes)

0.59

0.63

0.63

Kareeberg-Munisipaliteit (Carnarvon)

0.53

0.62

0.62

24 Voetnota 22.

25 De Vries (2012) beskryf sigbare tekens van verval in die Karoo: “Ek het onderweg Hanover toe en terug deur hoofstrate gery met een, miskien twee geboue waar die dakke en ruite almal heel is. Strate met gehawende woonhuise, winkels en kantore tussen opgestapelde afval, krake in die mure, ’n stoep waarvan stutpale gebreek het en flarde sinkplate wat skuins hang oor stukke broekieskant”.

26 “Hulle is mense met ’n eenvoudige geloof wat op die Here self fokus” (Jacobs in Mouton 2010).

27 “The Karoo breeds few atheists. Perhaps this is an accident and its plant and animal world, so bizarre and yet so methodical, plays no part in this at all. Or perhaps, unguessed by its people, the pressure of a great plan is about them” (Palmer in Steyn 2005).

28 Sentrum vir Ontwikkelingsteun, Universiteit Vrystaat: Dit het 366 huishoudings in Carnarvon, 314 in Williston en 307 in Victoria-Wes ingesluit. Ongeveer 60% van die huishoudings van 2007 het ook aan die ondersoek van 2009 deelgeneem.

29 Atkinson (2010:176) bespreek inwoners se gebondenheid aan kerke in terme van “sosiale kapitaal”. Die doel van die ondersoek was “to determine the extent to which the residents of Carnarvon, Williston and Victoria West are able to draw on the social context, in which they find themselves embedded, for support”.

30 In 1991 is ’n landwye ondersoek (insluitend Karoodorpe) geloods waaraan 850 huishoudings (lidmate van die destydse “swart” NGKA, “bruin” NGSK en die breër gemeenskap) deelgeneem het en die verslag The NGKA in its community. Contextual analysis for social action on poverty and dependence (Van Niekerk & Orkin 1991) het verskyn. Dit is gevind dat NGKA-respondente se godsdienservaring nie ’n bemagtigende effek op hul persoonlike lewe het nie, alhoewel hulle glo aan die rol van die kerk in bevryding (Van Niekerk 1997:9). Slegs een sesde van die respondente het God as bemagtigend beskou, as die Een “who inspires the oppressed to improve society”. In die NGSK is God se bemagtigende hoedanigheid deur slegs 14% van die response erken. In 1996 word die verband tussen Christelike Godsbeskouing en maatskaplike bemagtiging van lidmate in ’n VGKSA plattelandse gemeente ondersoek. Die bevinding was onder meer dat die lidmate van dié gemeente (’n dorpie aangrensend aan die Karoo) in ’n God glo wat in totale beheer is. Dit – tesame met ander faktore – lei tot ’n merkbare afhanklikheidsgevoel. Hulle glo swaarkry moet aanvaar word. Gevolglik is hulle afhanklikheid van God deur passiwiteit gekenmerk en ’n lamheid ten opsigte van maatskaplike bemagtiging (Van Niekerk 1997:278).

31 Die vraelys is nie gestandaardiseer nie, maar tog ’n handige meetinstrument wat binne enkele minute ’n aanduiding van ’n deelnemer se beskouing oor God weergee. Die stellings is deur prof. Dirkie Smit nagesien en die metode deur die navorsingsosioloog Wynand Louw gekeur.

32 Adam Small, “Die Here het gaskommel” (Opperman 1983:458).

33 Gaum et al. (2008) se besinning is op De Gruchy het in sy boek Being human – confessions of a Christian humanist (2006) gegrond. De Gruchy word as ’n baanbreker t.o.v. Christelike humanisme beskou.

34 “The Incarnation is a powerful theological metaphor for those who practise transformational development …” (Myers 1999:46).

35 Volgens Bowers-Du Toit (2009:110) speel teologie “a significant role in the way the church engages with poverty and vulnerable groups both for ‘better’ and for ‘worse’. As ‘friends’, praxis has the potentiality to be more effective as it engages with theologies that challenge the church to be more incarnational and address issues of self-worth and vocation. As ‘foes’ biblical motivation that is valid, yet remains unexamined, may hinder the church in exercising the kind of praxis that moves beyond charity or the boundaries of their own community or congregation.”

36 “Justice, peace and the integrity of creation … three aspects of one reality: as a single vision towards which we work and as three entry points into a common struggle in these areas. The addition of the term ‘integrity of creation’ to help clarify ‘the biblical vision of peace with justice’ was particularly useful. Besides alluding to the damage being done to the environment and the threat posed to the survival of life, the term also gave a new prominence to the doctrine of creation and the opportunity to reaffirm our Trinitarian faith, beginning with God as Creator and therefore also Liberator and Sustainer” (Preman Niles 2003).

37 Die diens van ’n agent van transformasie (“holistiese praktisyn” – Myers 1999:150) behoort die proses van transformasie te bevorder.

Refbacks

  • There are currently no refbacks.


Copyright (c) 2015 STJ | Stellenbosch Theological Journal

Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution 4.0 International License.


ISSN 2413-9467 (online); ISSN 2413-9459 (print)


© 2017 Pieter de Waal Neethling Trust, Stellenbosch.

No registration, article submission or processing fees apply.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited. 

SUMMARY: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/ 
FULL: http://creativecommons.org/licenses/by/4.0/legalcode

Powered by OJS.