Stellenbosch Theological Journal 2018, Vol 4, No 1, 297–319

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2018.v4n1.a14

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2018 © Pieter de Waal Neethling Trust

Geloofsonderskeiding in die Oostelike Sinode van die NG Kerk tydens die besluitnemingsprosesse oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde

Louwrens, Carl

Universiteit Stellenbosch

crl@telkomsa.net

Hendriks, Jurgens

Universiteit Stellenbosch

hjh@sun.ac.za

Abstract

Faith discernment in the Eastern Synod of the DR Church during the resolution processes on the amendment of Article 1 of the Church Order

During 2014, the DRC came to a point where they had to decide whether they would amend their confessional base to include the Belhar Confession as part of their official doctrine. The General Synod suggested amending Article 1 of the Church Order in order to expand the confessional base. An amendment of the Confession is possible after it has been approved by a two-thirds majority of each synod and two-thirds of all the church councils. In both cases it needs a two-thirds majority. 58% of the congregations in the Eastern Synod voted against the amendment of Article 1 in September 2014. In October 2014 the Eastern Synod voted in favour of the amendment of Article 1 with a majority of 73%. This article reflects on why the result of the spiritual discernment process was so different between the synod and the church councils of the Eastern Synod.

1.Inleiding

1.1. Die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2011 besluit om die Belydenis van Belhar op ’n kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak. Die Algemene Sinode van 2013 aanvaar ’n voorstel om Artikel 11 te wysig en dit baan die weg hiervoor.

Voordat die Algemene Sinode Artikel 1 kan wysig, moet die voorstel ooreenkomstig Artikel 44 van die Kerkorde deur gemeentes en sinodes aanvaar word. Die Algemene Sinode het besluit dat die Moderamen die kerkverband moes lei in die besluitnemingsproses oor die wysiging van Artikel 1 deur in oorleg met die onderskeie Sinodes ’n roetekaart en tydraamwerk vir die aanvang, verloop en afhandeling van die proses te bepaal.

Artikel 44 bepaal dat al 10 Sinodes van die NG Kerk elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van die wysiging moet besluit. Die tweede deel van die proses raak gemeentes en bepaal dat twee derdes van al die kerkrade van die NG Kerk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van die wysiging moet besluit.2

Die Sinodale Diensraad van Oostelike Sinode het in 2013 besluit dat gemeentes eers oor die moontlike wysiging van Artikel 1 moet besluit voordat die Sinode daaroor sal besluit. Hulle het ’n projekspan benoem wat die proses in die Oostelike Sinode beplan en gekoördineer het. Die ideaal van die projekspan was dat gemeentes ’n gekoördineerde proses sou volg sodat besluitneming op gemeentevlak binne ’n beplande tydskedule afgehandel kon word.

Die Sinode het ’n uitgewerkte tydskedule aan gemeentes asook ’n moontlike sakelys vir die gemeentevergadering voorgestel (Louwrens 2016:47,79).

Die proses wat by gemeentes gevolg is, is gedoen aan die hand van Reglement 24 van die Kerkorde.

Gedurende Augustus 2014 is die proses van besluitneming soos voorgeskryf deur die Algemene Sinode deur meeste gemeentes van die Oostelike Sinode afgehandel. Die uitkoms van hierdie proses wys dat 58% van die Oostelike Sinode se gemeentes teen die aanvaarding van die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde gestem het.

Tydens die vergadering van Oostelike Sinode van 19 tot 21 Oktober 2014 het 73% van die afgevaardigdes egter positief ten gunste van die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde gestem (Handelinge van die Oostelike Sinode 2014:119).

1.2 Geloofsonderskeiding

Die begrip “geloofsonderskeiding” kom opsommend daarop neer dat dit die taak van die kerk is om die wil van die drie-enige God te probeer bepaal. Hahn (in Zscheile et al. 2012:147) verwys daarna as “an expression of a congregation’s participation in the life of God in the world.”

Geloofsonderskeiding behoort dus tot die wese van kerklike vergaderings3.

Die Sinodale Diensraad van die Oostelike Sinode het dit benadruk dat die gemeenteproses in ’n gees van geloofsonderskeiding moet plaasvind.

Die Handelinge van die Oostelike Sinode bevestig dat die belang van geloofsonderskeiding tydens die besluitnemingsproses van die Sinode beklemtoon is (Handelinge van die Oostelike Sinode 2014:117).

Die vraag is egter of geloofsonderskeiding in die praktyk tydens kerkvergaderings toegepas word.

1.3 Doel van die navorsing

Die navorsing het in die eerste plek ten doel om ondersoek in te stel na die verstaan van geloofsonderskeiding deur die sinodepredikante en kerkrade van die Oostelike Sinode en of dit prakties toegepas is in die besluitnemingsprosesse oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde. Oor die langer termyn is die doel van die navorsing om gemeentes te help met die verstaan en praktiese toepassing van geloofsonderskeiding tydens kerkraadsvergaderings.

2.Navorsingsmetodologie

Osmer (2008:4) omskryf die vier kerntake waarop prakties-teologiese interpretasie fokus as:

1.Beskrywend-empiriese taak. Wat is tans aan die gebeur?

2.Interpretatiewe taak. Hoekom gebeur dit so?

3.Normatiewe taak. Wat behoort te gebeur?

4.Pragmatiese taak. Hoe behoort ons daarop te reageer?

Hierdie vier vrae vorm die basiese struktuur van die navorsing.

2.1 Ontwerp

Daar is van die gemengde metode of “mixed method” gebruik gemaak om hierdie vrae te beantwoord.

Inligting is bekom deur kwantitatief4 ’n vraelys en kwalitatief fokusgroepe te gebruik.

Die doel van die metode in hierdie navorsing is om die kwalitatiewe en die kwantitatiewe bevindinge te gebruik om die verskil tussen die uitslag oor die voorgestelde wysiging wat op sinodevlak en by kerkrade plaasgevind het, te verduidelik.

2.2 Deelnemers

Die navorsingspopulasie van hierdie studie is predikante van die Oostelike Sinode en kerkraadslede van twee gemeentes van dieselfde sinodale streek.

2.3 Data-versamelingsmetode

2.3.1 Vraelys

Vir die insameling van kwantitatiewe data is van vraelyste (Louwrens 2016:75–78) gebruik gemaak met die doel om te bepaal hoe predikante geloofsonderskeiding verstaan en toepas tydens kerkraadsvergaderings.

Die navorser het die vraelys self opgestel. ’n Kundige op die gebied van statistiek en vraelysontwikkeling, professor Chris Smit,5 het die vraelys geëvalueer en aanbevelings gemaak vir verbetering van die vrae en samestelling van die vraelys.

Die vraelys bestaan uit ses onderafdelings:

1.Die rol van die voorsitter.

2.Skrifgebruik tydens kerkraadsvergaderings.

3.Gebed tydens kerkraadsvergaderings.

4.Besluitnemingsproses.

5.Spiritualiteit.

6.Biografiese besonderhede.

2.3.2 Fokusgroepe

Vir die insameling van kwalitatiewe inligting is van fokusgroepe gebruik gemaak. Die volgende vrae dien as gespreksriglyn:

Wat is uniek van ’n kerkraadsvergadering?

Beskryf hoe julle te werk gaan om oor moeilike sake besluite te neem.

Wat is die rol van Skriflesing en gebed in besluitneming?

2.3.3 Dokument-analise

Daar is van verskeie dokumente (Louwrens 2016:11) gebruik gemaak om die praktyk van geloofsonderskeiding tydens die vergadering van die Oostelike Sinode te beskryf.

Dokument-analise word dikwels saam met ander kwalitatiewe navorsingsmetodes gebruik om geldigheid van die waarneming te verhoog.

2.3.4 Etiese oorwegings

Die navorser het voldoen aan die vereistes van die Navorsingsetiekkomitee van die Universiteit van Stellenbosch vir die empiriese navorsing wat deur middel van die vraelyste, fokusgroepe en dokument-analise gedoen is (Louwrens 2016:74).

3.Bespreking van die vraelys aan predikante

3.1 Inleiding

Die navorser het 74 vraelyste uitgestuur en 38 is terug ontvang, ’n responskoers van 51%. Alle statistiese resultate in die navorsingsverslag is afgerond tot die naaste vol persentasiepunt.

3.2 Die rol van die voorsitter

By ’n kerkraadsvergaderings is ’n predikant nie vanselfsprekend die voorsitter van die vergadering nie. In gemeentes met meer as een predikant kan die voorsitterskap tussen die medeleraars roteer. In sommige gemeentes is die voorsitter ’n lid van die kerkraad en nie ’n predikant nie.

In die lig hiervan is dit belangrik om te bepaal tot watter mate die voorsitter slegs ’n funksionaris is wat die ordelike verloop van die vergadering handhaaf en of hy ook verantwoordelik is om die vergadering te begelei om God se wil vir die gemeente te onderskei.

Dit blyk dat by 53% van die kerkrade leraars optree as die voorsitter van kerkraadsvergaderings. Hierdie persentasie is opmerklik aangesien dit tradisioneel altyd die leraar was wat as voorsitter van ’n kerkraadsvergadering opgetree het. 58% van die respondente dui aan dat die voorsitterskap roteer.

Op die vraag of die voorsitter slegs verantwoordelik is dat die vergadering volgens orde-reëlings verloop, het ’n meerderheid van 63% leraars aangedui dat die voorsitter meer as net ’n funksionaris is wat die orde in ’n vergadering handhaaf. Die keersy staan tog uit dat by 37% van kerkrade die voorsitter geen ander rol vervul as om die orde te handhaaf nie.

Die reaksie op die vraag wie die vergadering begelei om God se wil vir die gemeente te onderskei het 54% van die respondente genoem dat die voorsitter die vergadering begelei om God se wil te onderskei en by 46% is dit ’n ander persoon. Opmerklik dat 53% respondente aandui dat die leraar die voorsitter van die vergadering is en dat dieselfde getal, naamlik 53%, aandui dat die voorsitter die vergadering begelei om die wil van God te onderskei.

3.3 Skrifgebruik tydens kerkraadsvergaderings

Alle kerkraadsvergaderings word geopen met Skriflesing en gebed. Dit is belangrik om te bepaal hoe die Skrif tydens hierdie vergaderings hanteer word.

Op die vraag wie verantwoordelik is vir die spiritualiteitsoefening tydens die kerkraadsvergadering het 57% van die respondente geantwoord dat dit die voorsitter se verantwoordelikheid is.

Verder is gevra hoe die Skrif tydens kerkraadsvergaderings hanteer word.

Hoe word die Skrif tydens kerkraadsvergaderings hanteer?

v7

Frekwensie

Persentasie

Kumulatiewe Frekwensie

Kumulatiewe Persentasie

Slegs Skriflesing

2

5.71

2

5.71

Skriflesing en oordenking

10

28.57

12

34.29

Skriflesing en gesprek

15

42.86

27

77.14

Wandel in die Woord

5

14.29

32

91.43

Ander

3

8.57

35

100.00

Frekwensie Ontbreek = 3

’n Minimum van 6% van respondente noem dat slegs Skriflesing by die opening van kerkraadsvergaderings plaasvind.

Die grootste getal respondente, naamlik 43%, noem dat saam met die Skriflesing daar ook ’n gesprek plaasvind. Indien Skriflesing en oordenking saam met Skriflesing en bespreking gereken word, kies 71% respondente daarvoor en blyk dit die meer algemene praktyk te wees. Die klein persentasie van 14% respondente wat reageer het op Wandel in die Woord, laat die vraag ontstaan tot watter mate die respondente bekend is met die praktyk van Wandel in die Woord?

3.4 Gebed tydens kerkraadsvergaderings

Daar is drie vrae gevra om te bepaal wat die rol van gebed tydens kerkraadsvergaderings is.

Eerstens word bepaal wie hanteer gebed tydens ’n kerkraadsvergadering. ’n Meerderheid van 66% van die respondente het aangedui dat ’n aangewese persoon gebed tydens kerkraadsvergaderings hanteer en slegs 34% noem dat die voorsitter die gebedshandeling hanteer.

Die vraag oor die wyse van gebed tydens kerkraadsvergaderings is soos volg beantwoord:

Wyse van gebed tydens kerkraadsvergaderings

v9

Frekwensie

Persentasie

Kumulatiewe Frekwensie

Kumulatiewe Persentasie

Een persoon bid

7

19.44

7

19.44

Meer as een persoon bid

5

13.89

12

33.33

Lede bid in groepies

2

5.56

14

38.89

Kombinasie van bogenoemde

22

61.11

36

100.00

Frekwensie Ontbreek = 2

Dit is uit bogenoemde tabel duidelik dat daar by ’n beduidende persentasie van 61% respondente ’n kombinasie van wyses is, waarop gebed in kerkraadsvergaderings hanteer word. Saam met die 66% wat aangedui het dat ’n aangewese persoon die gebed hanteer, blyk dit dat daar nie ’n vaste patroon is waarop gebed tydens vergaderings hanteer word nie.

Alhoewel 57% van die respondente aangedui het dat hulle aan die begin en die einde asook deur die loop van die vergadering bid, is daar 43% wat slegs aan die begin en einde van vergaderings bid.

3.5 Besluitnemingsproses

Voordat besluite geneem kan word, vind daar altyd ’n bespreking oor die betrokke saak plaas. Daar is verskeie wyses waarop dit kan plaasvind.

Bespreking deur middel van beredenering van standpunte vind by 79%, dus die oorgrote meerderheid van die respondente, plaas. Slegs 21% van die kerkrade luister saam na die Woord om God se wil te onderskei.

Wat besluitneming betref, neem 67% van die respondente besluite nadat daar konsensus bereik is oor wat die wil van die Here is. 25% van die respondente besluit met ’n meerderheid van stemme.

By 8% van die kerkrade word sake na ’n kommissie of taakgroep verwys vir latere besluitneming.

Dit blyk dat beredenering van sake die algemene wyse van bespreking is voordat daar besluite geneem word.

25% respondente wat positief reageer op besluitneming deur middel van meerderheid van stemme is opmerklik in ’n sinodale gebied waar konsensus ’n kernwaarde is.

3.6 Spiritualiteit

’n Kerkraadsvergadering verskil van ander vergaderings aangesien sake wat bespreek word oor God en sy wil vir die gemeente en gemeenskap handel. Die volgende vrae wou bepaal hoe kerkraadslede die vergaderings beleef.

Vir 61% van die respondente is die belewenis van ’n kerkraadsvergadering ’n geestelike ervaring, terwyl 39% dit as ’n besigheidsvergadering beleef. As in ag geneem word dat slegs leraars aan die opname deelgeneem het, is hierdie persentasie nie baie hoog nie. Die navorser sou, in nabetragting, graag gewone kerkraadslede daaroor wou toets.

Aangesien tyd so ’n belangrike deel van ons lewe uitmaak, wou die navorser bepaal of daar genoeg tyd tydens kerkraadsvergaderings is om die wil van God te kan onderskei. Die respondente het soos volg geantwoord:

Daar is genoeg tyd tydens ’n vergadering om die wil van God te onderskei

v15

Frekwensie

Persentasie

Kumulatiewe Frekwensie

Kumulatiewe Persentasie

Stem glad nie saam

4

10.53

4

10.53

Stem nie saam nie

4

10.53

8

21.05

Stem saam

21

55.26

29

76.32

Stem beslis saam

9

23.68

38

100.00

Net meer as die helfte, naamlik 55% van die respondente, stem saam dat daar genoeg tyd is om God se wil te onderskei. 24% stem beslis saam dat daar genoeg tyd is om God se wil te onderskei. Volgens 22% van die respondente is daar nie genoeg tyd nie.

’n Beduidende persentasie van 79% van leraars noem dat daar genoeg tyd by kerkraadsvergadering is om God se wil te onderskei. Praktiese ervaring van meeste kerkraadsvergaderings is egter dat vergaderings so gou moontlik afgehandel moet word.

Vervolgens is die respondente gevra om hul opinie uit te spreek oor die volgende stelling: “God, show us your will and if we like it, we will do it.”

’n Meerderheid van 53% respondente stem glad nie saam nie en ’n verdere 21% stem nie saam met die stelling nie. Opmerklik dat net meer as ’n kwart van die respondente, naamlik 27%, positief voel oor die stelling.

Was daar enige verdieping ten opsigte van spiritualiteit in kerkraadsvergaderings oor die afgelope 10 jaar? Dit blyk dat 53% van die leraars beslis saamstem en ’n verdere 34% saamstem dat daar ’n dieper spiritualiteit by kerkraadsvergaderings is as 10 jaar gelede. Dertien persent beleef dit nie so nie. Dus is 87% respondente, ’n oorgrote meerderheid, van mening dat daar die afgelope tien jaar ’n positiewe groei na dieper spiritualiteit by kerkraadsvergaderings was.

Word ’n proses van geloofsonderskeiding gevolg wanneer kerkrade besluite neem oor belangrike sake soos die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde? Die meeste respondente, 76%, is positief dat die besluit oor Artikel 1 geneem is na ’n proses van geloofsonderskeiding. Dus is 24% van mening dat dit nie die geval is nie.

3.7 Biografiese besonderhede

Die gemeentes van die Oostelike Sinode is versprei oor drie provinsies in Suid Afrika en daar is een gemeente in Swaziland.

Uit die vraelyste blyk dat 61% van die respondente gemeentes met hoogstens 700 belydende lidmate verteenwoordig. 49% persent deelnemers verteenwoordig gemeentes met meer as 700 belydende lidmate. Gegewens uit die Jaarboek van die Ned Geref Kerke 2014 toon dat 54% van deelnemende gemeentes hoogstens 700 lidmate het.

Oostelike Sinode se sinodale kantoor beskou slegs die 21 gemeentes in Pretoria as stadsgemeentes. Nelspruit en Witbank het ook amptelike stadstatus en gemeentes in hierdie stede word vir die studie as stedelike gemeentes gereken. Dit blyk dat 63% van die respondente plattelandse gemeentes verteenwoordig en 37% stedelike gemeentes.

Wat die samestelling van die kerkrade betref: 39% van kerkrade word saamgestel uit ’n leraar en diensgroepvoorsitters, 28% van kerkrade word saamgestel uit leraars en wyksleiers en 33% van die respondente het aangedui dat hulle kerkrade op ’n ander wyse saamgestel word.

Mans is in die meerderheid by 84% van die kerkrade en slegs 13% van die respondente dui aan dat daar gelyke verteenwoordiging tussen mans en vroue op die kerkrade is. Slegs een gemeente het meer vroue as mans.

Uit die onderstaande tabel blyk die volgende ten opsigte van die getal en die ouderdomsgroep van kerkraadslede.

Veranderlike

Benaming

N

Gemiddelde

Standaard afwyking

Minimum

Maksimum

v21

Die totale getal kerkraadslede

38

20.4

9.6

8

44

v24

Geskatte getal kerkraadslede jonger as 40 jaar oud.

26

3.8

3.8

0

13

v25

Geskatte getal kerkraadslede tussen 40 en 60 jaar oud

26

12.2

6.8

3

32

v26

Geskatte getal kerkraadslede ouer as 60 jaar oud

25

3.8

4.3

0

16

Daar is ’n groot verskil in die getal kerkraadslede. Dit wissel van 8 en 44. Die gemiddelde getal kerkraadslede is 20.

Die gemiddelde aantal kerkraadslede per gemeente jonger as 40 jaar is 4.

Die gemiddelde aantal kerkraadslede per gemeente tussen 40 en 60 is 12.

Die gemiddelde aantal kerkraadslede per gemeente ouer as 60 is 4.

Die meeste kerkraadslede val in die ouderdoms groep tussen 40 en 60 jaar.

3.8 Konklusie

Vanuit die gegewens uit die vraelyste blyk dit dat die respondente ’n goeie begrip toon van geloofsonderskeiding.

Die voorsitter se taak word beskryf as om die kerkraad te help om die wil van God tydens die vergadering te onderskei en nie net om te sorg dat die vergadering volgens orde-reëlings verloop nie. Daar is ’n strewe om God se wil te gehoorsaam en uit te voer.

Kerkraadsvergaderings word oorwegend beskou as geestelike byeenkomste en nie besigheidsvergaderings nie.

Daar is ’n groot aantal respondente wat ’n dieper spiritualiteit by vergaderings beleef. Dit word bevestig deur die wyse waarop die Skrif hanteer word. ’n Groter deelname in gebed en die wyse waarop gebede tydens die verloop van vergaderings gedoen word, dra verder daartoe by.

Daar is volgens die meeste respondente genoeg tyd om die wil van God tydens vergaderings te onderskei.

Besluite word oorwegend deur middel van konsensus geneem. Die proses wat gevolg is om oor die wysiging van Artikel 1 te besluit, bevestig dit.

Uit die tweerigting-analise wat gedoen is, blyk dit dat daar nie ’n verskil in uitkoms tussen stedelike en plattelandse respondente is nie. Dieselfde geld vir groot en klein gemeentes. Hieruit kan afgelei word dat daar nie ’n wesenlike verskil is tussen predikante se verstaan van geloofsonderskeiding, ongeag van gemeente grootte of waar die gemeente geleë is nie.

4.Bespreking van die fokusgroepe

4.1 Inleiding

Die fokusgroepe het plaasgevind by twee gemeentes in die Oostelike Sinode. Die volgende vrae is aan die deelnemers gevra:

1.Hoe verskil ’n kerkraadsvergadering van ’n gewone vergadering?

2.Subvraag: Hoe funksioneer gebed by ’n kerkraadsvergadering?

3.Subvraag: Hoe funksioneer die Bybel in ’n kerkraadsvergadering?

4.Subvraag: Hoe funksioneer stilte tydens ’n kerkraadsvergadering?

5.Hoe gaan die kerkraad te werk met besluitneming oor moeilike sake?

4.2 Demografie en konteks van die fokusgroepgemeentes

Ter wille van konfidensialiteit word die twee gemeentes onderskeidelik beskryf as Gemeente X en Gemeente Y.

4.2.1 Gemeente X

Hierdie gemeente bestaan uit 361 belydende lidmate en 130 dooplidmate. Die gemeente het slegs een leraarspos. Die huidige leraar het ongeveer drie jaar gelede die beroep na die gemeente aanvaar. Die lidmate is hoofsaaklik vrugteboere en daar is ook wildsboerdery in die omgewing. Die dorpsgebied is baie klein en die lidmate reis gemaklik na groter dorpe in die omgewing vir sake en ander belange.

Die kerkraad bestaan uit 40 lede plus die leraar. Van die 40 kerkraadslede is 4 vroue. Kerkraadslede se ouderdom verskil van persone in hul vroeë twintigs tot een lid wat vyf en sewentig jaar oud is. Die leraar is die voorsitter van die vergadering. Die gemeente is opgedeel in wyke en daar is een ouderling en een diaken vir elke wyk. Die ouderlinge en diakens vorm saam die kerkraad. Elke kerkraadslid dien op ’n kommissie van sy of haar keuse. Hierdie kommissies vergader voor elke kerkraadsvergadering en lewer verslag aan die volledige kerkraadsvergadering. Die kerkraad vergader 4 keer in ’n jaar.

4.2.2 Gemeente Y

Hierdie gemeente bestaan uit 421 belydende en 120 dooplidmate. Die gemeente het een leraarspos. Die huidige leraar is die afgelope drie jaar aan die gemeente verbonde. ’n Groot persentasie van die lidmate is vrugteboere. Ander is in die gasvryheidsbedryf en daar is ook enkeles met sakebelange in die dorp. Die dorp het ’n gemiddelde sakekern en lidmate gaan met uitsondering na groter dorpe vir sake en ander belange.

Die kerkraad bestaan uit 14 lede plus die leraar. Daar is 4 vroue op die kerkraad. Die hoofouderling is die voorsitter van die vergadering. Die gemeentewerk word gedoen deur kommissies en die kerkraad bestaan uit die voorsitters van die kommissies. Die kerkraad vergader een maal per kwartaal. Die kommissies vergader voor elke kerkraadsvergadering en lewer verslag van hul werksaamhede by die kerkraadsvergadering.

4.3 Bespreking van navorsingsbevindinge

4.3.1 Hoe verskil ’n kerkraadsvergadering van ’n gewone vergadering?

Gemeente X

Die kerkraad is gestruktureerd rondom die kommissies en neem dus kennis van die verslae van die onderskeie kommissies wat vooraf vergader het. Die gevolg hiervan is dat bespreking tydens vergaderings beperk word.

Van die deelnemers het verwys na die feit dat hierdie werkswyse die tydsduur van vergaderings inkort. Soms word sake van die dagbestuur per epos hanteer.

Gemeente Y

Die voorsitter van die gemeente is die hoofouderling. Opmerkings van deelnemers wat hierdie vraag opsom is die volgende:

Gemeente Y se kerkraad word saamgestel uit die voorsitters van die onderskeie kommissies. Tydens die vergadering word verslag gegee van die afgelope kwartaal se werksaamhede by wyse van verslae wat voor die tyd opgestel en versprei is. Opmerklik is die waardering vir die feit dat streng by die agendapunte gehou word en dat die vergadering binne die bepaalde tydskedule afgehandel word.

Samevatting

Uit die bespreking van die navorsingsdeelnemers blyk dit dat:

1.Kerkraadsvergaderings voorafgegaan word deur kommissievergaderings. Verslae van die kommissievergaderings word by die kerkraadsvergadering bespreek.

2.Daar word gehou by vergaderingsprosedure.

3.Tyd is ’n belangrike faktor wat altyd in ag geneem word.

Die volgende subvrae is gevra:

1.Hoe funksioneer gebed by julle kerkraadsvergadering?

2.Hoe funksioneer die Skrif by die opening van jul kerkraadsvergadering?

4.3.2 Hoe funksioneer gebed by julle kerkraadsvergadering?

By Gemeente X vind gebed deur die loop van die kerkraadsvergaderings plaas. Met die opening en afsluiting maar ook wanneer kontensieuse of moeilike sake bespreek word. Verskillende persone kry geleentheid om te bid en daar is ’n variasie in die wyse van gebed.

By Gemeente Y vind gebed meestal by die opening en afsluiting van die vergadering plaas maar daar is soms geleenthede, krisisse en sake waarvoor spesiaal gebid word. Uit die bespreking is dit duidelik dat gebed ook ’n belangrike rol speel tydens die kommissie vergaderings en dat kerkraadslede ook by die huis verder bid oor bepaalde sake.

Samevatting

Die volgende blyk uit die data oor gebed tydens kerkraadsvergaderings:

Gebed is ’n belangrike deel van kerkraadsvergaderings.

Gebede vind hoofsaaklik plaas aan die begin en einde van die vergaderings.

Alhoewel daar van tyd tot tyd op ander tye as die opening en afsluiting van die vergadering gebid word, bly dit die uitsondering.

Verskillende wyses van gebed vind wel plaas.

Daar is ’n groeiende tendens by albei die kerkrade om by verskillende geleenthede in die vergaderings te bid.

Opmerklik dat nie een van die gemeentes dit duidelik genoem het dat gebed ’n rol speel om die wil van God vir die gemeente te onderskei nie.

4.3.3 Hoe funksioneer die Skrif tydens kerkraadsvergaderings?

Daar word onderskei tussen Skrifgebruik tydens die opening van die kerkraadsvergaderings en Skrifgebruik wanneer daar besluite geneem word. Eerstens word gekyk na die uitsprake van die deelnemers oor Skrifgebruik by die opening van die kerkraadsvergadering.

Gemeente X

Uit bogenoemde uitsprake blyk dat die opening van gemeente X se kerkraadsvergaderings normaalweg gebruik word om die kerkraadslede toe te rus en inligting oor bepaalde onderwerpe uit die Bybel deur te gee. Hierdie onderwerpe is nie noodwendig van toepassing op wat in die vergadering bespreek gaan word nie.

Gemeente Y

Deelnemers van Gemeente Y is dit eens dat moeite gedoen word met die Skriflesing tydens die opening van die kerkraadsvergaderings. Die Skriflesing word so gekies dat dit betrekking het op dit wat in die vergadering bespreek word.

Samevatting

Albei die gemeentes doen moeite met die opening van hul kerkraadsvergaderings. Daar word nie net vinnig ’n kort gedeelte uit die Bybel gelees en gebid sodat met die vergadering voortgegaan kan word nie.

Gemeente X fokus sterk op toerusting en die deurgee van inligting terwyl Gemeente Y poog om die lig van die Skrif op van die sake wat tydens die vergadering bespreek gaan word te laat val.

Dit verskil van die tradisionele wyse van kerkraadsopening waar net ’n gedeelte uit die Bybel gelees is en dan sonder enige bespreking of oordenking ’n gebed gedoen is.

4.3.4 Hoe funksioneer stilte in ’n kerkraadsvergadering?

Aangesien stilte ’n belangrike element van geloofsonderskeiding is, is die fokusgroepe gevra watter rol stilte in hul vergaderings speel.

Gemeente X

Alhoewel Gemeente X se kerkraadslede enkele kere blootgestel is aan die gebruik van stilte tydens ’n vergadering, is hulle van mening dat hulle genoeg geleentheid vir stilte in die natuur waar hulle woon en werk het. Hulle beleef dit dan geforseerd wanneer dit in ’n vergadering plaasvind.

Gemeente Y

Gemeente Y het by die derde vergadering van die jaar, dit wil sê, twee maande voor die fokusgroep onderhoud, vir die eerste keer aandag aan stilte gegee en daar was groot waardering daarvoor. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die navorsingsondersoek fokus op die tydperk Mei tot November 2014. Gedurende daardie tydperk was hulle nog nie blootgestel aan die benutting van stilte tydens ’n vergadering nie.

Samevatting

Die twee fokusgroepe verskil van mekaar ten opsigte van die vraag oor die rol van stilte by ’n kerkraadsvergadering. Vir die deelnemers van Gemeente X berus die verantwoordelikheid van stilte nie in die vergadering nie maar eerder persoonlik waar jy op jou eie op ’n stil plek iewers in die natuur is.

Die blootstelling aan stilte in ’n vergadering is uiters positief beleef deur die deelnemers van Gemeente Y. Die waarde van stilte vir hulle is juis dat hulle in die regte stemming kom vir die vergadering en dat hulle kan afskakel van die gejaag van die werksdag.

4.3.5 Hoe gaan die kerkraad te werk met besluitneming oor moeilike sake?

Hierdie vraag verken die navorsingsdeelnemers se ervaring rondom besluitneming oor moeilike sake. Daar is pertinent verwys na die hantering van die besluit oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.

Gemeente X

Die deelnemers het hulle positief uitgespreek oor die feit dat besluite met konsensus geneem word.

Gemeente Y

Navorsingsdeelnemers was dit almal eens dat meeste besluite met konsensus geneem word. Selfs wanneer ’n besluit geneem moet word met die uitbring van stemme, word seker gemaak dat dit in ’n gees van eensgesindheid gedoen word.

Die belangrikheid van gebed is beklemtoon deur die deelnemers, tog is dit duidelik uit die respons dat die Skrif self nie ’n groot rol gespeel het in die besluitnemingsproses nie. Die vergadering is met Skriflesing geopen, die Skrif was ’n riglyn maar die besluit is nie geneem op grond van ’n bepaalde Skrifgedeelte nie.

4.4 Algemene samevatting

Vir albei die gemeentes was die besluit oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde ’n belangrike saak.

Die riglyne wat die Oostelike Sinode aanbeveel het, is in albei gemeentes nougeset nagevolg.

Gemeente X se kerkraad en lidmate is deeglik ingelig oor die agtergrond van belydenisskrifte. Die respondente noem egter nie dat die Skrif hulle duidelik gelei het nie. Hulle het nie ’n deeglike studie van die Skrif gedoen oor die sake wat in die Belydenis van Belhar uitgespreek word nie. Uit hul antwoorde blyk dit dat algemene Christelike norms en strategiese denke vir hulle rigtinggewend was.

By Gemeente Y was die Skrif gebruik by die opening van die vergadering en daar is na die Skrif verwys. ’n Respondent verwys pertinent dat alhoewel na die Skrif geluister is, dit nie die besluitneming noodwendig beïnvloed het nie.

4.5 Konklusie

Kerkraadsvergaderings verloop streng volgens bepaalde agendapunte en prosedures. Dit is die duidelikste onderskeiding tussen kerkraad en sekulêre vergaderings.

Daar is getuienis van geloofsonderskeidende praktyke tydens die kerkraadsvergaderings.

Hierdie praktyke het egter nie ’n groot rol gespeel tydens die besluitneming oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde nie.

Daar moet in gedagte gehou word dat die Oostelike Sinode se werkswyse wat wegbeweeg van die tradisionele vergaderingsprosedure neerslag vind in gemeentes se vergaderings. Veral in een gemeente het daar die afgelope jaar baie gebeur om meer te fokus op geloofsonderskeidende praktyke. Dit het ’n invloed gehad op die uitkoms van die fokusgroeponderhoud.

5.Oostelike Sinode

’n Breedvoerige bespreking oor die karakter en werkswyse van die Oostelike Sinode6 is van belang aangesien dit ’n beeld vorm van die gees en atmosfeer waarbinne vergaderings van die Oostelike Sinode oor die afgelope paar jaar plaasvind.

Een van die doelwitte van die Sinode is dat elke afgevaardigde die vergadering as ’n geestelike ervaring sal beleef.

Die Sinode se waardes sluit in dat hulle ruimte wil maak vir God se verskeidenheid van mense en dat hulle wil groei in verhoudinge met gelowiges van ander kerke.

Die Sinode is sensitief vir die veranderende manier waarop mense die wêreld verstaan en daarin leef.

Die Oostelike Sinode verwys na homself as ’n gesonde familie. Hierdie metafoor, soos beskryf in sy waardes, het beïnvloed die onderlinge verhoudinge tussen predikante van die Sinode.

Hierdie waardes was bepalend vir die wyse waarop die Sinode die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde hanteer het.

Alhoewel die Sinodale Diensraad voorgestel het dat daar nie verdere gesprek oor Artikel 1 toegelaat sal word voordat oorgegaan is tot stemming nie, is daar op versoek van die afgevaardigdes ruimte gemaak vir verdere gesprek.

Die sinodegangers is na elke toewydingsgeleentheid diep onder die indruk gelaat van God se teenwoordigheid en dat dit wat tydens die vergadering gebeur, verantwoordbaar aan Hom en ons naaste moes wees.

Die kerkleiding het die noodsaak van geloofsonderskeiding deur die hele proses beklemtoon.

Tydens die vergadering van die Sinode en pas voor die stemproses begin het, het die voorsitter die vergadering gelei in ’n proses van geloofsonderskeiding. Daar was geleentheid vir stilte. Vervolgens is die sinodegangers gevra om saam met diegene wat rondom die tafel gesit het, te bid vir die leiding van die Here. Die voorsitter het daarna self die vergadering in gebed gelei. Eers hierna het die stemproses plaasgevind met die uitkoms dat 73% van die verteenwoordigers ten gunste van die voorstel gestem het.

In die lig van hierdie gegewens is dit duidelik dat geloofsonderskeiding deel was van die besluitnemingsfase van die Sinode.

6.Die reaksie van die NG Kerk op die Belydenis van Belhar

6.1 Aanloop

In 1990 het die Algemene Sinode van die NG Kerk besef dat die Belydenis van Belhar nie in stryd is met die Skrif en gereformeerde belydenisskrifte nie.

Die Algemene Sinode van 2011 besluit om die Belydenis van Belhar op ’n kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak. Die Algemene Sinode het dit aan die Moderamen opgedra om die nodige kerkregtelike prosesse hiervoor in werking te stel. By die Algemene Sinode van 2013 is besluit om dit te implementeer deur Artikel 1 van die Kerkorde te wysig.

6.2 Die gemeentes van die Oostelike Sinode

Die proses wat gemeentes van Oostelike Sinode gevolg het vir die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde is beskryf onder punt 1.1 van die artikel.

6.3 Konklusie

By beide die Algemene Sinode sowel as die Oostelike Sinode het geloofs­onderskeiding vooropgestaan. Beide hierdie Sinodes het die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde aanvaar en so die pad gebaan vir die opneem van die Belydenis van Belhar as deel van die belydenisgrondslag.

Hieruit kan die afleiding gemaak word dat wanneer gelowiges hulle voor God verootmoedig en geloofsonderskeidend met die Skrif omgaan, hulle persepsies kan verander en vooroordele soos rassisme verdwyn.

Uit die data van die vraelys aan predikante van die Oostelike Sinode het geblyk dat hulle ’n goeie begrip van geloofsonderskeiding het. Die ervaring van die Oostelike Sinode se werkswyse, toewydingsgeleenthede en die stemproses tydens die sinodesitting het hiertoe bygedra.

Tog het die uitslag van gemeentes in die Oostelike Sinode verskil van die van die Sinode.

Uit die bespreking van die proses wat die Sinodale Diensraad van die Oostelike Sinode aan die gemeentes voorgeskryf het, het geblyk dat die proses grootliks struktureel gedryf is en dat groot klem geplaas is op die feit dat die proses gekoördineerd en kerkregtelik korrek sou geskied. Daar was ook druk geplaas op gemeentes om die proses binne ’n bepaalde tydskedule af te handel.

Daar was dus min ruimte gelaat vir gemeentes om die proses rustig en op ’n spirituele wyse te hanteer waar geloofsonderskeiding deurslaggewend sou wees. Dit het die moontlikheid gelaat dat sekulêre motiewe ’n groot rol in die besluitnemingsprosesse van kerkrade en gemeentes gespeel het.

7.Gevolgtrekking

Die predikante van die Oostelike Sinode het ’n goeie begrip van geloofs­onderskeiding.

Die inligting van die fokusgroeponderhoude dui egter daarop dat geloofsonderskeiding nie ’n integrale deel uitmaak van kerkraads­vergaderings nie. Wanneer die verloop en besluitnemingsprosesse van kerkraadsvergaderings vergelyk word met die luistersiklus is dit duidelik dat daar min sprake was van geloofsonderskeiding.

Die nougesette navolg van die formele stemproses soos deur die Sinode voorgestel, het baie min ruimte gelaat vir geloofsonderskeiding. Te veel klem is gelê op die feit dat die proses kerkregtelik korrek moes geskied en binne ’n bepaalde tydraamwerk afgehandel moes word.

Daar is min getuienis dat kerkrade met ’n luisterende gesindheid aan die stemproses oor Artikel 1 deelgeneem het (Niemandt 2013:117).

Ten spyte van die feit dat predikante ’n goeie begrip van geloofsonderskeiding het, blyk dit dat hulle nie sterk genoeg geestelike leiding gegee het tydens die besluitnemingsproses van die kerkraadsvergaderings nie.

Die gebrek aan geloofsonderskeiding by kerkrade het dus ’n invloed gehad op hulle besluit oor die wysiging van Artikel 1.

Gevolglik het die Sinode se besluit verskil van dié van die gemeentes.

Die toewydingsgeleenthede asook die stemproses van die Sinode was gefokus om te hoor wat God se wil vir die vergadering was. Die voorsitter het sterk leiding gegee om die Sinode te begelei in ’n proses van geloofsonderskeiding voordat oor die wysiging van Artikel 1 gestem is.

Die Sinode was nie gebind aan ’n voorgeskrewe proses soos die gemeentes nie. Die feit dat ’n sinode oor ’n paar dae strek, skep ’n dieper spiritualiteit as by ’n haastige kerkraadsvergadering waar tyd meestal ’n negatiewe rol speel.

Die toepassing van geloofsonderskeiding tydens die Sinode het dus ’n invloed gehad op sy besluit oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.

8.Aanbevelings

Predikante moet hul rol as geestelike leiers herontdek en uitoefen.

Kerkraadslede is nie geheel onkundig oor geloofsonderskeiding nie. Predikante kan egter meer daarvan maak om kerkraadsvergaderings as geestelike byeenkomste in te rig waar die teenwoordigheid van God beleef word.

Kerkrade moet die vermoë aanleer om na God en die wêreld te luister.

Daar moet geleenthede geskep word om na die stem van die ander te luister.

Die luistersiklus van Marais (2011:47–115) kan dien as model om kerkrade te help om geloofsonderskeiding in die praktyk toe te pas.

Bibliografie

Aanvullende Agenda van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2015.

Agenda van die Oostelike Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2014.

Hahn, D.C. 2012. “Congregational Discerning as Divine Action in Conversation.” In Zscheile, D.J. (ed.), Cultivating sent Communities. Grand Rapids: Wm.B.Eerdemans. pp. 145–165.

Handelinge van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2011.

Handelinge van die Oostelike Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2014.

Louwrens, C. 2016. “Geloofsonderskeiding in die Oostelike Sinode van die NG Kerk tydens die besluitnemingsprosesse oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.” Ongepubliseerde meestersgraadverhandeling, Stellenbosch Universiteit. [Intyds]. Beskikbaar: http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/98637

Marais, F. 2011. Meeting with God’s Voice: a guide for leaders seeking God’s agenda for their congregations. Wellington: Bible Media.

Maree, K. (ed.) 2011. First Steps in Research. Pretoria: Van Schaik Publishers.

Mouton, J. & Marais, H.C. 1991. Basiese Begrippe: metodologie van die geesteswetenskappe. Pretoria: RGN.

Niemandt, N. 2013. Nuwe Leiers vir nuwe werklikhede. Vereeniging: CUM.

Osmer, R.R. 2008. Practical Theology: An Introduction. Grand Rapids: Eerdmans.

Oostelike Sinode [Intyds] Beskikbaar: http://sinoos.co.za/waardes-en-funksionering/ [1 September 2016]

1 Vir alle verwysings na Artikels en Bepalinge, sien Oostelike Sinode:Familiereëls 2014. Die Artikels van die Algemene Sinode 2013 en die aanvullende Bepalings van die Oostelike Sinode 2014, Reglemente en Funksionele Besluite van die Algemene Sinode, sowel as die Oostelike Sinode, is vervat.

2 Oostelike Sinode van die NG Kerk 2014.Agenda:68.

3 Louwrens 2016:2 bespreek die begrip geloofsonderskeiding in meer detail. Die artikel fokus op die empiriese navorsing wat help om die navorsingsvraag te kan antwoord.

4 “We focused on the most widely used strategy for collecting information form respondents (quantitavie research) or participants (qualitative research)” Maree & Pieterson (in Maree, et al. 2011:169).

5 Departement van Statistiek. Universiteit van Pretoria. Chris.Smit@up.ac.za.

6 Die kenmerke, waardes en funksionering van die Oostelike Sinode kan besigtig word op hul webtuiste http://sinoos.co.za/waardes-en-funksionering/