Stellenbosch Theological Journal 2018, Vol 4, No 1, 387–409

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2018.v4n1.a18

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2018 © Pieter de Waal Neethling Trust

“Oorwin die kwaad deur die goeie”
Romeine 12:21 deur die bril van ’n historikus

Scholtz, Leopold

University of KwaZulu-Natal

leoscholtz@yahoo.com

Abstract

“Overcome evil with good” – Romans 12:21 through the eyes of an historian

Romans 12:9-21, and especially verse 21, lies at the heart of Christian ethics. Paul’s idea that evil should be overcome with good, is often criticised as naïve. In this article, the author – not a theologian, but an historian – analyses five dates, namely 1871, 1919, 1940, 1945 and 1949. These involved especially Germany, France, Britain, America and the Soviet Union. A common feature of the first four is that they all contain evil done by one country to another. They are then followed by vengeance, which include even more severe evil. This escalation resulted in Europe by 1945 being transformed into a smoking ruin. In the period immediately afterwards, several statesmen – including Konrad Adenauer (Germany), Charles de Gaulle and Robert Schuman (France) and president Harry Truman (USA) – realised that the cycle of injustice and vengeance had to be stopped. This resulted in 1949 in (West) Germany being readmitted to the Western democratic international society. These examples prove that Paul was not so naïve when he counselled that vengeance belonged to God.

Key words

St. Paul; Letter to the Romans; Sermon on the Mount; Otto von Bismarck; Adolf Hitler; Georges Clemenceau; Jan Smuts; Robert Schuman; Charles de Gaulle; Konrad Adenauer; vengeance

1.Inleiding

Aan geleerde teologiese kommentare op die Bybel is daar geen tekort nie. Daar is waarskynlik min geskrifte in die wêreldgeskiedenis wat deur die eeue sulke uitvoerige kommentare uitgelok het. Van Origines en Augustinus via Luther en Calvyn tot Karl Barth en Hans Küng (om maar enkele name te noem) is sowat elke woord van die Bybel onder die mikroskoop gehou.

Die skrywer hiervan kan nie in daardie dissipline werk nie. Hy is ’n professionele historikus wat sy werk uit sy eie akademiese agtergrond benader, en dit verskil van dié van die teoloog. Tog hoef dit geen teenstrydigheid op te lewer nie. Die skrywer is ’n belydende – ofskoon kritiese – Christen wat die Bybelse geskrifte as ’n rigsnoer vir sy lewe ervaar. En sy benadering as historikus kan moontlik ’n toevoeging tot die teologiese benadering van die Christelike geloof wees.

Dit gaan hier om Romeine 12:9–21, waar Paulus riglyne gee oor hoe liefdevol gelowiges en ongelowiges met mekaar moet omgaan. Dié perikoop kan met groot vrug uit ’n teologiese oogpunt behandel word. ’n Historikus sou egter na praktiese voorbeelde uit die geskiedenis kon verwys wat Paulus se diepe menslike insig kon bevestig.

2.Paulus se riglyne vir die Christelike lewe

In die tweede perikoop van Romeine 12 (veral verse 14–21) beveel Paulus die Christene van Rome dat hulle “hartlike broederliefde teenoor mekaar” moet bewys:

“Seën jul vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie … Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld, sê die Here.’ As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

Dan volg dié sleutelgebod: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie; maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Dié vermaning van Paulus pas naatloos in by wat Jesus in die Bergrede gepredik het. Volgens Matteus 5:38–39 en 43–48 het hy toe gesê:

“Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe …

“Julle het gehoor dat daar gesê is: “Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat hulle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?”

Dit lê aan die hart van die Christelike etiek. Paulus en Jesus het geleef in ’n tyd dat wraak en weerwraak algemeen aanvaar was. Hulle het egter ingesien dat dié bose kringloop êrens deurbreek moet word. Hul riglyn druis ewenwel regstreeks in teen die menslike aard. Dit maak van dié riglyn waarskynlik die moeilikste van alle gebooie in die Christelike geloof.

’n Mens hoor soms dat dergelike gebooie moreel hoogstaande is, maar dat dit nie rekening hou met die onaangename werklikheid van die wêreld nie. Moes Brittanje in 1939 bloot vir Adolf Hitler gebid en die ander wang gedraai het? Moes die Britse premier, Winston Churchill, toegelaat het dat Hitler soos ’n stoomroller oor Brittanje heen wals? Of was hy reg om hom te verset, bondgenote te soek en uiteindelik ’n teenoffensief te begin?

Dit is ingewikkelde sake. Uiteindelik het die geskiedenis Churchill reg bewys en die Bybel verkeerd, sou aangevoer kon word. Tog is dié antwoord nie voldoende nie; die saak is meer genuanseerd as dit. Dít is die doel van dié beskouing – om met praktiese voorbeelde aan te dui dat Paulus (en Jesus) nie so naïef was as wat ’n mens op die eerste gesig sou dink nie. Maar dan moet jy wel bereid wees om verder te dink as wat jou neus lank is.

Dit sal hier agtereenvolgens gaan om die behandeling van vyf historiese jaartalle – 1871, 1919, 1940, 1945 en 1949. Uiteindelik word ’n gevolgtrekking bereik, waaruit blyk dat ook verstandige staatsmanne se besef van verligte eiebelang die morele en praktiese geldigheid van Jesus en Paulus se riglyne bevestig. Dit is dus nie primêr ’n historiese artikel nie; eerder ’n poging om ’n teologiese punt deur bestaande historiese kennis te illustreer.

3.1871: Die Spieëlsaal van Versailles

Dit is 18 Januarie 1871. In die beroemde Spieëlsaal in die paleis te Versailles buite Parys kom hooggeplaastes uit verskeie Duitse state byeen. Eenparig besluit hulle om Duitsland te verenig en koning Wilhelm I van Pruise tot Duitse keiser uit te roep. Op ’n skildery kan gesien word hoe die argitek van die gebeurtenis, die Pruisiese rykskanselier Otto von Bismarck (ná dese ook kanselier van die Duitse Ryk), die indrukwekkende seremonie hoogs tevrede aanskou. Later sou die Beierse prins Otto skryf: “Alles so kalt, so stolz, so glänzend, so prunkend en groβtuerisch und herzlos und leer.”1

Die feit dat dit in die Spieëlsaal plaasgevind het, moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat Bismarck in 1870 doelbewus ’n oorlog met Frankryk uitgelok het. Sedert hy in 1862 Pruisiese kanselier geword het, was dit sy ideaal om Duitsland – in dié stadium slegs ’n geografiese begrip – te verenig.

Dis nie dat hy ’n fyn uitgewerkte plan gehad het nie; daarvoor was hy te veel van ’n pragmatiese opportunis. Later het hy sy politieke taktiek beskryf:

Die Weltgeschichte mit ihren groβen Ereignissen kommt nicht dahergefahren wie ein Eisenbahnzug in gleichmaβiger Geschwindigkeit. Nein, es geht ruckweis vorwärts, aber dann mit unwiederstehlicher Gewalt. Man soll nur immer darauf achten, ob man den Herrgott durch die Weltgeschichte schreiten sieht, dann zuspringen und sich an seines mantels Zipfel klammern, daβ man mit fortgerissen wird, so weit es gehen soll.2

Die Franse nederlaag was van epiese belang in die Europese geskiedenis. Die destydse Britse premier, Benjamin Disraeli, se kommentaar was treffend: “The war represents the German revolution, a greater political event than the French revolution of the last century. … There is not a diplomatic tradition which has not been swept away. You have a new world … The balance of power has been entirely destroyed.”3

Maar Bismarck se prestasie het ’n fatale weeffout bevat. Die generaals het (weliswaar teen sy sin) daarop gestaan dat Frankryk twee grensprovinsies, Elsas en Lotharinge, moes afstaan. Hulle het dit nie polities bekyk nie, maar militêr: Hulle wou ’n buffersone met Frankryk hê vir ingeval dié Duitsland aanval. Daarby het die Duitse industriële leiers begerig na die ystererts in Lotharinge gekyk.4

In ’n openbare briefwisseling met die Duitse filosoof en teoloog David Friedrich Strauβ het die Franse godsdienswetenskaplike Ernest Renan ’n fundamentele punt gemaak: “Julle [die Duitsers] het pleks van ’n liberale beleid die banier van … etnografiese beleid ontplooi; hierdie beleid gaan vir julle noodlottig word. Die vergelykende filosofie wat julle geskep en ten onregte op die veld van die politiek oorgedra het, gaan julle parte speel.” Profeties het hy daarop laat volg: “Wanneer die Slawe eendag aanspraak op die eintlike Pruise maak, op Pommere, Silesië en Berlyn … wat sal julle dan te sê hê?”5

Die feit dat die nuwe Duitse keiserryk van alle plekke in die koninklike Spieëlsaal op die as van die vernietigde Franse keiserryk gebou is, was ’n vernedering wat ’n onuitwisbare litteken op die Franse psige gelaat het.6 Die Franse politikus Léon Gambetta se leuse – Toujours y penser, jamais en parler! (“Altyd daaraan dink; nooit daaroor praat nie!”) – het die stille Franse wraaksug uitstekend verwoord.7

4.1919: Weer die Spieëlsaal

Die onreg wat die Duitsers hul Franse westerbure in 1871 aangedoen het, het tot ’n begeerte by laasgenoemdes gelei om eersgenoemdes gruwelik te straf. Gedurende sy verdere kanselierskap het Bismarck deur ’n stelsel van bondgenootskappe vernuftig daarin geslaag om Frankryk geïsoleer te hou. Daardeur het hy dit vir die Franse voorlopig onmoontlik gemaak om hul sug na wraak te laat botvier.8

Maar in 1888 is Wilhelm I oorlede en het sy kleinseun, die jong en onstabiele Wilhelm II, die troon bestyg. Bismarck se opvolgers as kanselier en die nuwe keiser het vrywel onmiddellik sy bouwerk van alliansies laat verkrummel. Die Franse het in die gaping gespring en eers ’n bondgenootskap met Rusland en daarna met Brittanje gesluit. Hulle was verlos van hul isolasie. Dit was die eerste stap onderweg na hul wraak.

Oor die oorsake van die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) is duisende dik boeke geskryf, met byna ewe veel teorieë en gevolgtrekkings. Waarskynlik die duursaamste een is dié van Christopher Clark: “The outbreak of war in 1914 is not an Agatha Christie drama at the end of which we will discover the culprit standing over a corpse in the conservatory with a smoking pistol. There is no smoking gun in this story; or rather, there is one in the hands of every major character. Viewed in this light, the outbreak of war was a tragedy, not a crime.”9

Wat ná die oorlog gebeur het, is deur veral twee faktore bepaal. Eerstens was die Eerste Wêreldoorlog destyds die verskriklikste konflik van alle tye. Altesame 13 miljoen soldate het gesneuwel.10 Hiervan was sowat 1,4 miljoen Franse soldate. Saam met die sowat 300 000 burgerlike sterftes het die land 4,29% van sy bevolking aan die dood afgestaan.11 Ten tweede was die Duitse leër volledig verslaan. Die Duitsers was op alle fronte aan die retireer en die land was volledig uitgeput. Wilhelm II het geabdikeer, en ’n onstabiele demokrasie het sy outoritêre staat vervang. ’n Wapenstilstand het in November 1918 ’n einde aan die bloedbad gebring.

Teen dié agtergrond was die Franse nie in ’n versoenende bui nie. Die land se premier, Georges Clemenceau, het as jong man die beleg van Parys deur die Duitsers in 1871 meegemaak en is gedryf deur ’n bittere haat teenoor alles wat Duits was. “My life hatred,” so het ’n Amerikaanse joernalis kort voor die Fransman se dood in 1929 uit sy mond aangeteken, “has been for Germany because of what she has done to France … Germany believes that the logic of her victory means domination, while we do not believe that the logic of our defeat is serfdom.”12 Dus was Clemenceau se begeerte dat Duitsland se eenheid van 1871 weer ongedaan gemaak word.13

In Januarie 1919 het die seëvierende Geallieerde magte in Parys byeengekom om onderling oor vredesvoorwaardes te onderhandel en dit dan aan die Duitsers te oorhandig. Die Duitsers is nie uitgenooi nie; die voorwaardes is eenvoudig in Junie aan hulle gedikteer met die dreigement dat hul land volledig beset sou word as hulle dit nie aanvaar nie.

Suid-Afrika is deur generaals Louis Botha en Jan Smuts verteenwoordig. Smuts was iemand met ’n diep insig in die geskiedenis en die internasionale politiek. Hy was ten gunste van ’n billike benadering teenoor Duitsland, ’n land wat weliswaar vier jaar lank sy vyand was, maar in sy oë tog ’n enorme bydrae tot die Europese beskawing en kultuur gelewer het. Hy was, blykens ’n private brief, dodelik ontnugter deur die eerste gesamentlike sitting van die Paryse Vredeskonferensie:

“What a farce that first meeting was! You must have heard the smug [pres. Henri] Poincaré roll out his periods about Justice! And I thought of the wise old Lao Tzu saying: ‘The more unrighteous men are, the more they talk of righteousness’! What a poor beginning! Here is a world waiting for the Word, for some crumb of comfort to fall from the table of the great and the wise. And we had nothing to say except punishment for war crimes with which our tempers are already worn threadbare through the agonies of five years!”14

Pres. Woodrow Wilson van Amerika het net soos Smuts idealisties in Parys aangekom. Maar hy was ’n onpraktiese dromer en kon nie staande bly teen die klipharde magspolitikus Clemenceau nie. Lloyd George het in beginsel in Wilson en Smuts se rigting geneig, maar hy was ’n opportunistiese politikus wat vernuftig tussen die twee kampe gelaveer en sy gewig ten slotte agter Clemenceau ingewerp het. Dit het Smuts en Botha – wat ten slotte slegs die relatief onbelangrike Unie van Suid-Afrika verteenwoordig het – geïsoleer.15

Ten slotte was die vredesvoorwaardes – in Smuts se woorde – “een vreselijk document”.16 Duitsland is gedwing om Elsas en Lotharinge aan Frankryk terug te gee, maar moes ook grondgebied aan België afstaan. In die ooste is ’n korridor na die see op Duitse grondgebied vir die nuut gestigte Pole uitgekerf. Die land moes ondraaglike herstelbetalings aan die oorwinnaars oordra, wat die Duitse ekonomie later in ’n yslike krisis gedompel het.17 Ook is die alleenskuld vir die oorlog in die vredesverdrag formeel op Duitsland se skouers gepak. Die Duitse strydkragte is prakties ontman.18

Profeties het Smuts aan Wilson en Lloyd George geskryf: “Under this Treaty Europe will know no peace … I am grieved beyond words that such should be the result of our statesmanship.’19 En aan sy vrou het Smuts hom ontboesem: ‘Onder dit tractaat gaat de toestand in Europa ondragelijk worden en moet er òf revolutie komen òf weer een oorlogs uitbarsting mettertijd.’20

Só het die onreg van 1871 in 1919 aanleiding gegee tot weerwraak en veel groter onreg. In Paulus se woorde, kwaad is met kwaad vergeld.

5.1940: Hitler se meedoënloosheid

Hoe anders het sake in Junie 1940 gelyk! Adolf Hitler se Wehrmacht het Frankryk in ’n Blitzkrieg van ses weke platgeloop, en hy was nou in staat om voorwaardes aan die magtelose Franse te dikteer.

Die onreg van Versailles het deur die jare aan die Duitse siel gevreet, selfs erger as 1871 se nederlaag aan die Franse psige. Hul keiserryk het plek gemaak vir die sogenaamde Weimar-republiek, ’n hoogs onstabiele demokrasie wat gekenmerk is deur ’n versplintering van die partypolitiek met ’n horde uiteenlopende partye en ekstreme polarisering. Die teenstellings is verskerp deur herhaalde ekonomiese krisisse, wat minstens gedeeltelik veroorsaak is deur die reusagtige herstelbelatings wat kragtens die Verdrag van Versailles aan Duitsland opgelê is.21

Dit alles het bygedra tot die magsoorname van Hitler en die Nazi’s in Januarie 1933. Binne enkele weke het hy alle teenstand bruut onderdruk en ’n totalitêre diktator geword.

Een van die doelstellings wat Hitler reeds sedert die vroeë jare twintig nagestreef het, was om die Versailles-bepalings ongedaan te maak en wraak op Frankryk te neem.22 In sy boek Mein Kampf (1924) het hy geskryf:

Denn darüber muß man sich endlich vollständig klar werden: Der unerbittliche Todfeind des deutschen Volkes ist und bleibt Frankreich. Ganz gleich, wer in Frankreich regierte oder regieren wird, ob Bourbonen oder Jakobiner, Napoleoniden oder bürgerliche Demokraten, klerikale Republikaner oder rote Bolschewisten: das Schlußziel ihrer außenpolitischen Tätigkeit wird immer der Versuch einer Besitzergreifung der Rheingrenze sein und einer Sicherung dieses Stromes für Frankreich durch ein aufgelöstes und zertrümmertes Deutschland.23

En dus het Hitler se Wêreldbeskouing op ’n nulsomspel neergekom – wat die een wen, kan slegs ten koste van die ander gaan.24 Gevolglik was die Verdrag van Versailles gelyk aan die ‘verslawing van ons volk’.25

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 het aan Hitler die kans gegee om sy wraaksug in die praktyk te bring. Dit sou oordrewe wees om te sê Hitler het die oorlog begin spesifiek om Versailles te wreek, maar dis waar dat die onreg van dié vredesverdrag manna uit die hemel vir sy propaganda was.26

Op 10 Mei 1940 het die Wehrmacht Frankryk en die Lae Lande binnegeval en die Franse, Belgiese en Nederlandse strydkragte binne rekordtyd op die knieë gedwing. Nog voordat die Franse bes gegee het, het Hitler sy droom aan sy generaals geopenbaar. Kol-genl Alfred Jodl het in sy dagboek aangeteken dat die diktator ‘al die gebied wat in die laaste 400 jaar van die Duitse volk beroof is’, wou terugvat. Dit het beteken alles oos van die lyn Verdun, Toul, Belfort, asook die kusstede van Cherbourg en Brest – ’n yslike deel van Noord-Frankryk. Dit is inderdaad wat in die praktyk gebeur het: Die hele Noord-Frankryk is saam met die Atlantiese kusstrook beset, en die res is onder die bestuur van ’n marionetteregering van veldm. Philippe Pétain met sy setel in Vichy geplaas.27

Op 21 Junie 1940 het verteenwoordigers van die nuwe Franse regering ’n wapenstilstand met Hitler geteken. In Hitler se opdrag is die treinkoets waarin die wapenstilstand van 11 November 1918 in die bos van Compiegne naby Parys geteken is, uit ’n museum gehaal en weer na dieselfde plek by Compiegne gesleep. Hitler se doel was simbolies: Hy wou die Franse se neuse in hul eie vernedering druk.28

Die Amerikaanse joernalis William Shirer het die seremonie van ’n afstand dopgehou. Wat hy van Hitler se liggaamstaal waargeneem het, het boekdele gespreek:

It is afire with scorn, anger, hate, revenge, triumph. He steps off the monument and contrives to make even this gesture a masterpiece of contempt … Suddenly … he throws his whole body into harmony with his mood. He swiftly snaps his hand on his hips, arches his shoulders, plants his feet wide apart. It is a magnificent gesture of defiance, of burning contempt for this place now and all that it has stood for in the twenty-two years since it witnessed the humbling of the German Empire.29

Dít was Hitler se wraak vir Versailles, wat op sy beurt wraak vir die onreg van 1871 was. ’n Patroon het duidelik geword: Onreg word gevolg deur wraak, wat op sy beurt deur nog erger wraak opgevolg word. Om Paulus se woorde te herhaal, kwaad is opnuut met kwaad vergeld. En nog was het einde niet.

6.1945: Götterdämmerung

Hitler se wraak was bloedig, maar kon nie standhou nie. Sy oorwinning oor Frankryk het hom op die toppunt van sy mag geplaas. Sy enigste oorgeblewe opponent, Brittanje, was internasionaal geïsoleer en het oorkant die Engelse kanaal op ’n Duitse maritieme landing gewag. Maar Hitler was nie tevrede met sy vernedering van Frankryk nie. Hy het homself en sy land se vermoëns mateloos onderskat en toegelaat dat hy in ’n oorlog teen die twee sterkste moondhede ter wêreld, die Sowjetunie en Amerika, ingesuig word. Daarmee het hy die finale Duitse nederlaag en sy eie selfmoord in 1945 beseël.30

Toe Hitler op 30 April 1945 ’n einde aan sy lewe maak, was Duitsland ’n smeulende puinhoop. Volgens ’n amptelike ondersoek van die Duitse regering in 2005 het die land in die jare 1939–1945 altesame 7 375 000 vroegtydige sterftes – onder wie 4,3 miljoen soldate – beleef.31 Maar ofskoon die Duitsers verskriklik gely het, was die lyding wat die res van Europa weens Hitler se leiding deurgemaak het, vele male hoër, ’n geskatte 40 miljoen sterftes (onder wie die geskatte ses miljoen vermoorde Jode).32 Dit is duiselingwekkende getalle wat geen normale mens kan opneem en verwerk nie.

Uit die oogpunt van talle Europeërs was dit nou die derde keer dat die Duitsers vir ’n verwoestende oorlog verantwoordelik was. Bowendien het die Neurenberg-verhore bewys dat die land oorlogsmisdadigers soos feitlik nooit tevore in die geskiedenis voortgebring het. Dit was asof die Duitsers kollektief ’n uniek verdorwe volk met ’n onherroeplik gewelddadige en wrede volksaard was.33

Die vraag was hoe daar nou met die Duitsers omgegaan moes word. John Ikenberry gee iets van die oorwinnaars se geestesgesteldheid weer:

As in the past, leaders at this settlement brought with them lessons and reactions from earlier settlements. In 1919, leaders in Paris remembered Vienna [1815]. In 1945, the diplomats and politicians who negotiated an end to the war were even more burdened with this sense of the repetition of history. The war had been a continuation of the previous war.34

Reeds voor die einde van die oorlog het die drie belangrikste Geallieerde leiers, Franklin D. Roosevelt (Amerika), Josef Stalin (Sowjetunie) en Winston Churchill (Brittanje) in die vakansieoord Jalta op die Krim byeengekom om oor ’n ná-oorlogse internasionale herskikking te praat. Daar het hulle ooreengekom om Duitsland uiteen te skeur en onder kuratele van dié drie moondhede saam met Frankryk te plaas. Europa sou eweneens in invloedsfere tussen enersyds Amerika, Brittanje en Frankryk en andersyds die Sowjetunie verdeel word. Die ooreenkoms is ’n paar weke ná die einde van die oorlog in Potsdam bevestig en in groter besonderhede uitgewerk.35

Duitsland is in vier besettingsones verdeel, waar onderskeidelik Amerika, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie die septer geswaai het. Veral in die oostelike sone – waar die Sowjet-oorheersing later in die kommunistiese Duitse Demokratiese Republiek (DDR) gekristalliseer het – is ’n ongelooflike verwoestingsprogram op gang gebring.36 In die ooste het Sowjet-soldate honderdduisende vroue van alle ouderdomme sonder aansiens des persoons wreed, soms herhaaldelik, verkrag.37 Sowat 12–14 miljoen Duitsers is in ’n meedoënlose program van etniese suiwering verdryf uit die Tsjeggiese Sudetenland, asook gebiede wat deur Pole en die Sowjetunie ingepalm is – Silesië, Oos-Pommere en Oos-Pruise – waar hulle eeue lank gewoon het. Êrens tussen 500 000 en 1,5 miljoen van die verdrewenes het in die proses gesterf.38

Die patroon is voortgesit: Opnuut is kwaad met kwaad vergeld. En die vergelding het steeds erger geword.

7.1949: Begin van versoening

Binne enkele jare ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het dit duidelik geword dat die wrede Nazi-besetting van ’n groot deel van Europa naatloos vervang is met ’n ewe wrede besetting deur die Sowjetunie van Sentraal- en Oos-Europa. In ’n beroemde toespraak in 1946 het Churchill beklemtoon: ‘From Stettin in the Baltic to Trieste in the Adriatic, an iron curtain has descended across the continent.’39

Binne ’n kort tyd het die houding van die Westerse Geallieerdes teenoor Duitsland dramaties verander. Die onmiddellike aanleiding daartoe was weliswaar nie ’n nuwe begrip van Christelike vergewingsgesindheid nie, maar klipharde geopolitieke werklikhede.

Die polarisering tussen die Weste en die Sowjetunie het steeds skerper geword. Allengs het Josef Stalin alle teenstand in die gebiede onder sy beheer uitgeskakel en dit aan ’n totalitêre diktatuur onderwerp wat nie vir dié van Adolf Hitler teruggeskrik het nie.40 Dié proses was een van verskeie faktore wat Westerse leiers opnuut oor die hantering van die Duitse vraagstuk laat nadink het. Immers, die militêre bedreiging uit die Sowjetunie het in hul gemoedere steeds groter geword. Vanweë sy geografiese ligging en sy ekonomiese krag was Duitsland – of dan die drie westelike besettingsones – van sleutelbelang om dié bedreiging die hoof te bied. In 1949 is die drie sones tot die Bondsrepubliek Duitsland omgeskep. Toe Navo in dieselfde jaar as antwoord op die Sowjet-bedreiging in die lewe geroep word, het Duitse herbewapening ’n praktiese vooruitsig geword. En toe Amerika in 1948 gevolglik deur die sogenaamde Marshallplan $10,2 miljard vir heropbou aan die verwoeste Europa beskikbaar stel, het Wes-Duitsland ook ’n deel daarvan ontvang.41

Bowendien het die Wes-Duitsers in 1948–1949 een van die modernste demokratiese grondwette ter wêreld opgestel. Ofskoon dit nie eensklaps ’n omwenteling in die outoritêre Duitse politieke kultuur teweeg gebring het nie, het dit die deur na ’n ‘stille revolusie’ geopen.42

Dit was teen dié agtergrond dat pres. Harry Truman in 1947 aangekondig het dat Amerika voortaan hom teen die groeiende kommunistiese aggressie sou verset.43 Dit maak Michael Stürmer se treffende vertolking korrek: ‘Die Bundesrepublik Deutschland entstand nicht als Staat auf der Suche nach einer Auβenpolitik, sondern als Produkt amerikanischer Auβenpolitik auf der Suche nach einem Staat. Bundesrepublik Deutschland und Nordatlantik-Pakt: Beide waren Teil desselben amerikanischen grand design.’ Truman se verbintenis tot die verdediging van Europa was aan een beslissende voorwaarde verbind: ‘Deutschland muβte Teil des Klubs werden.’ Truman het dit duidelik aan sy Europese bondgenote gestel, in Stürmer se woorde: ‘Der militärische Schutz sei nur der erste Schritt; die wirtschaftliche Integration Europas müsse folgen, und das ‘Deutsche Reich’ gehöre als Kernstück dazu.’44

En dus het genl. George Marshall, Amerikaanse minister van buitelandse sake, vroeg in 1948 geskryf: ‘Unless Western Germany during coming year is effectively associated with Western European nations, first through economic arrangements, and ultimately perhaps in some political way, there is a real danger that the whole of Germany will be drawn into the eastern orbit with dire consequences for all of us.’45

Maar mettertyd het ander motiewe ook ’n rol begin speel. Was dit werklik onvermydelik dat die vyande se wedersydse wraak voortdurend al hoe erger moes word? Het Europa nie genoeg verwoesting, bloedvergieting en ellende meegemaak nie? Was dit nie tyd vir ’n ander benadering nie?

Veral drie Europese staatsmanne het só begin dink – die eerste Wes-Duitse bondskanselier, Konrad Adenauer, en die Franse leiers Robert Schuman en Charles de Gaulle.

Adenauer was voor die oorlog burgemeester van Keulen, maar is deur die Nazi’s uit sy amp onthef. Ná die oorlog was hy die Geallieerdes se keuse om die nuwe Bondsrepubliek Duitsland – Wes-Duitsland – te lei. Onder sy leiding het die demokrasie stadig maar seker wortel in Duitsland begin skiet, en het die Duitsers hul verlede begin konfronteer.46

In sy memoires het die bondskanselier geskryf:

Der deutsch-französischen Aussöhnung und Verständigung galt schon seit den zwanziger Jaren mein Bestreben. Die Herstellung eines guten Verhältnisses zwischen Frankreich und Deutschland war die grundlegende Voraussetzung für eine bessere Zukunft nicht nur für unserer beiden Länder, sondern Europas und eines groβen Teiles der Erde. Ich war mir klar darüber, daβ eine dauernde Verständigung nur durch ausdauernde un zielbewuβte Arbeit erreicht werden konnte.47

In Maart 1950 het hy in ’n onderhoud met ’n Britse verslaggewer selfs ’n Duits-Franse unie as hoeksteen van ’n toekomstige verenigde Europa voorgestel.48

Van sy kant was De Gaulle aanvanklik wraaksugtig. Hy wou selfs dat Duitsland in verskeie staatjies opgebreek moet word. Maar, verrassend genoeg, het hy – al was hy ten tyde van Adenauer se voorstel slegs ’n private burger – positief op die voorstel gereageer. Die opmars van die barbaarse Hunneleier Attila, so het De Gaulle uit sy tuisdorp, Colombey, laat weet, kon in die Romeinse tyd slegs danksy die gesamentlike inspanning van Galliërs, Germane en Romeine gekeer word. ’n Unie tussen Frankryk en Duitsland sou die eenheidswerk van Karel die Grote voortsit. Die toekomstige lot van Europa hang grootliks van die ontwikkeling van die Frans-Duitse betrekkinge af, was sy reaksie.49

Op sy beurt het Schuman noue bande met die Duitse kultuur gehad. Hy is in Luxemburg gebore, maar sy vader was ’n Duitssprekende uit die provinsie Lotharinge. Hy het aan die Universiteit van Bonn gestudeer en in die Eerste Wêreldoorlog selfs in die Duitse leër gedien, maar in die tweede oorlog Frankryk se kant gekies. Schuman was ’n gelowige Christen en Bybelgeleerde. Niemand was méér geskik om die aartsvyande Frankryk en Duitsland te versoen nie.

In ’n toespraak op 6 September 1951 in San Francisco het Schuman gewys dat hy van die geskiedenis geleer het. Met verwysing na die Vredesverdrag van Versailles het hy gesê:

We have seen the rigid controls and restrictions which various treaties have imposed on the vanquished in the past. The method has failed completely. … In particular, the demilitarization of the vanquished, imposed by other means, has proved to be a dangerous illusion. It promoted a desire for revenge in the Prussia of 1914 as in the Germany of Hitler. In the long run, it is not possible to prevent a strong nation from arming itself by maintaining it in a state of inferiority. If we wish to prevent it from rearming against us, we must bring it into association with us in the common work of peaceful reconstruction. … This policy, which gives to the vanquished every opportunity, is not only the result of simple generosity, of a sentiment inspired by religious or humanitarian considerations which we are far from scorning; this policy is based, above all, on a realistic view of the psychology of nations and on our own experience, accumulated in the course of a turbulent century.50

Dus, as Franse minister van buitelandse sake, het hy op 9 Mei 1950 die Schuman-verklaring uitgereik waarvolgens Frankryk, Wes-Duitsland, Italië en die Benelux-lande die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap gestig het. Dit was die voorloper van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), wat op sy beurt die voorloper van die Europese Unie (EU) sou word. Die sleutelsinne lui: ‘The coming together of the nations of Europe requires the elimination of the age-old opposition of France and Germany. Any action taken must in the first place concern these two countries.’51

Nadat De Gaulle in 1958 president van Frankryk geword het, het hy die versoening met Duitsland met krag verder gevoer. Op ’n perskonferensie in 1962 het hy hom só daaroor uitgelaat:

Daar is ’n interafhanklikheid tussen Duitsland en Frankryk. Op daardie interafhanklikheid berus die onmiddellike veiligheid van die twee volke. ’n Mens hoef slegs na die kaart te kyk om dit te sien. Op daardie interafhanklikheid berus elke hoop op die vereniging van Europa op politieke terrein, soos ook op die terrein van verdediging en die ekonomie. Op daardie interafhanklikheid berus gevolglik die lot van Europa as geheel.52

In 1962 is die versoening tot ’n klimaks gevoer met wedersydse besoeke van Adenauer aan Parys en van De Gaulle aan Bonn. ’n Vriendskapsverdrag is terselfdertyd geteken.53 Die bose kringloop wat sedert 1871 steeds erger geword het, is eindelik deurbreek. Kwaad is nie meer met kwaad vergeld nie; dit is deur die goeie oorwin.

8.Besluit

Die Heidelbergse Kategismus (vrae 7 en 8) stel dat die mens in sonde ontvang en gebore en geneig is tot alle kwaad. Dus is dit logies dat mense geneig is om griewe te koester en onreg te wreek. Die probleem is dat wraak dikwels met verdere – selfs groter – onreg gepaard gaan, wat op sy beurt weer nog erger wraak uitlok. Só word ’n bose kringloop geskep wat uiteindelik verwoestende gevolge kan hê. Dít is wat Paulus en Jesus probeer deurbreek.

Die Suid-Afrikaanse teoloog Andries van Aarde praat in sy analise van Romeine 12 van ‘nuwe denke’: ‘Die spiraal van konflik is gebreek en geweld is met liefde beantwoord.’ In die ou paradigma, sê hy, sou

jy in ’n spiraal van geweld jouself … vergeld ter wille van oorlewing en ’n hoopvolle toekoms. Nou het dinge verander! Binne die Pauliniese paradigma is geloof, liefde en hoop gawes van God – en wanneer jy dit só internaliseer dat jy soos God, soos Jesus en soos die Gees die lewe onbeperk vir ander gun, sal jy begin om eerder “die ander wang te draai” as om met geweld en doodslag te wreek. Wat is die appèl? Miskien kan die liefde wel die hubris oorwin!54

Meestal is dit natuurlik nie die geval nie. Meestal is wraak die outomatiese reaksie. En dikwels móet dit ook so wees, anders kan jy jouself immers nie in ’n harde wêreld staande hou nie. Dit geld des te meer vir die internasionale politiek, waar – ooreenkomstig die woorde van die 19de-eeuse Britse staatsman lord Palmerston – daar geen permanente vriende is nie; slegs permanente belange.55

Sekerlik moet ’n mens nie naïef hieroor wees nie. Magsbeluste leiers soos Hitler en Stalin word nie deur liefdevolle reaksie weerhou om ander plat te trap nie, inteendeel. Dis nie waaroor dit gaan nie. Paulus en Jesus se riglyn vir versoenende liefde kan ook gepaard gaan met harde eiebelang. Maar dit is dan ’n soort verligte eiebelang waar mense verder as hul neus kyk.

Die wêreldleiers wat in 1949 en daarna besluit het om die eskalerende kringloop van onreg, wraak, groter onreg en erger wraak te deurbreek, het dit nie soseer gedoen omdat hulle so lief vir die Duitsers was nie. Die meeste (Schuman was dalk ’n uitsondering) het ook nie Paulus of Jesus se riglyne in gedagte gehad nie. Hulle het dit op rasionele gronde gedoen. Hulle het Duitsland nodig gehad as skans teen die oprukkende Sowjetunie en omdat ’n herstelde Duitse ekonomie onontbeerlik was vir die welsyn van Europa.

En dus het hulle nie opnuut kwaad met kwaad vergeld nie, maar die kwaad deur die goeie oorwin. Daardeur het hulle die deur geopen na die langste ononderbroke periode van vrede en ekonomiese groei in die geskiedenis. Op grond van die harde praktyk kan daarom gestel word: Die Bybelse gebod getuig van skerp insig in die menslike psige en is daarom selfs in ’n gesekulariseerde samelewing geldig.

Bibliografie

Adenauer, Konrad. Erinnerungen 1945–1953. Stuttgart: Deutsche Verlags-Anstalt, 1965.

Applebaum, Anne. Iron Curtain. The Crushing of Eastern Europe 1944–1956. Londen: Allen Lane, 2012.

Augustine, Dolores L.. Red Prometheus. Engineering and Dictatorship in East Germany, 1945–1990. Cambridge: MIT Press, 2007.

Clark, Christopher: The Sleepwalkers. How Europe Went to War in 1914. New York: HarperCollins, 2012.

Clinton, Michael. “ ‘The New World will create the New Europe’: Paul-Henri d’Estournelles de Constand, the United States, and International Peace”. Journal of the Western Society for French History, 40/2012.

Crockatt, Richard: The Fifty Years War. The United States and the Soviet Union in World Politics, 1941–1991. Londen: Routledge, 1995.

Dassen, Patrick en Ton Nijhuis (reds.). Gegijzeld door het Verleden. Controverses in Duitsland van de Historikerstreit tot het Sloterdijk-debat. Amsterdam: Boom, 2001.

Douglas, R.M. Orderly and Humane. The Expulsion of the Germans after the Second World War. New Haven: Yale University Press, 2012.

Frei, Norbert. 1945 und Wir. Das Dritte Reich im Bewuβtsein der Deutschen. München: C.H. Beck, 2005.

Frei, Norbert. Vergangenheitspolitik. Die Anfänge der Bundesrepublik und die NS-Vergangenheit. München: dtv, 1996.

Gaddis, John Lewis. The Cold War. Londen: Allen Lane, 2006.

Gall, Lothar. Bismarck, Der Weisse Revolutionär. Berlyn: Ullstein, 1997.

Goldhagen, Daniel. Hitler’s Willing Executioners. Ordinary Germans and the Holocaust. New York: Alfred A. Knopf, 1996.

Hancock, W.K. en J. van der Poel (reds.). Selections from the Smuts Papers, IV. Cambridge: At the University Press, 1966.

Hess, Jürgen C. en Friso Wielenga (reds.). Duitsland en de Democratie 1871–1990. Amsterdam, Boom, 1994.

Heiber, Helmut. Die Republik von Weimar. München: Deutsche Taschenbuch Verlag, 1966.

Herf, Jeffrey. Divided Memory. The Nazi Past in the Two Germanys. Cambridge: Harvard University Press, 1997.

Hitler, Adolf: Mein Kampf. München: NSDAP, 1936.

Horne, Alistair. To Lose a Battle. France 1940. Londen: Macmillan, 1969.

Ikenberry, John. After Victory. Institutions, Strategic restraint and the Rebuilding of Order after Major Wars. Princeton: Princeton University Press, 2001.

Jarausch, Konrad H.. After Hitler. Recivilising Germans, 1945–1995. Oxford: Oxford University Press, 2005.

Johnson, Paul. Modern Times. A History of the World from the 1920s to the 1990s. Londen: Phoenix Giant, 1992.

Kammerer, Anja en Willi. Narben Bleiben. Die Arbeit der Suchdienste60 Jahre nach dem Zweiten Weltkrieg. Berlyn: Deutsche Dienstelle e.a., 2005.

Kershaw, Ian: “Europe’s second Thirty Years War”. History Today, 55/9, September 2005.

Kershaw, Ian. Hitler, I. 1889–1936. Hubris. Londen: Penguin, 1999. Hitler, II. 1936–1945. Nemesis. Londen: Allen Lane, 2000.

Keynes, John Maynard. The EconomicConsequences of the Peace. Faksmilee-uitgawe: s.p., BiblioBazaar, 2002.

Kissinger, Henry. Diplomacy. New York: Simon & Schuster, 1994.

Kuhlmann, Thomas-Stamm en Jürgen Elvert en Birgit Aschmann en Jens Hohensee (reds.). Geschichtsbilder. Festschrift für Michael Salewski zum 65. Geburtstag. Wiesbaden: Franz Steiner Verlag, 2003.

Lacouture, Jean. De Gaulle. The Ruler: 1945–1970. Londen: Harvill, 1991.

Mann, Golo. The History of Germany since 1789. Middlesex: Penguin, 1968.

Macmillan, Margaret. Peacemakers. Six Months that Changed the World. Londen: John Murray, 2004.

McRandle, James en James Quirk. “The blood test revisited: A new look at German casualty counts in World War I”. The Journal of Military History, 70/3, Julie 2006.

Messerschmidt, James W. “The forgotten victims of World War II. Masculinities and rape in Berlin, 1945”. Violence Against Women, 12/7, Julie 2006.

Moller, Sabine. Vielfache Vergangenheit. Öffentliche Erinnerungskulturen und Familieerinnerungen an die NS-Zeit in Ostdeutschland. Berlyn: Diskord, 2003.

Mougel, Nadège. “World War I casualties”. Reperes Centre Européen Robert Schuman. by www.centre-robert-schuman.org/userfiles/files/REPERES%20%E2%80%93%20module%201-1-1%20-%20explanatory%20notes%20%E2%80%93%20World%20War%20I%20casualties%20%E2%80%93%20EN.pdf Opgeroep 31.1.2018.

Overy, Richard. Why the Allies Won. Londen: Jonathan Cape, 1995.

Rich, Norman. Hitler’s War Aims, II. The Establishment of the New Order. Londen: André Deutsch, 1974).

Scholtz, Leopold en Ingrid: “Die Eerste Wêreldoorlog as faktor in die Suid-Afrikaanse toetrede tot die internasionale gemeenskap”. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56/1, Maart 2016.

Schuman, Robert. “The Schuman Declaration – 9 May 1950”, by https://europa.eu/european-union/about-eu/symbols/europe-day/schuman-declaration_en (opgeroep op 6.2.2018).

Schuman, Robert. “The spirit of the treaty”. Vital Speeches of the Day, 1.10.1951.

Stürmer, Michael. Das Jahrhundert der Deutschen. München: Bertelsmann, 1999.

Taylor, Telford. The March of Conquest. Londen: Edward Hulton, 1959.

Van Aarde, Andries. “Paulus se versie van ‘draai die ander wang’ – gedagtes oor geweld en toleransie”. HTS Teologiese Studies, 64/4, 2008.

Von Krokow, Christian Graf. Bismarck. Eine Biographie. Stuttgart: Deutsche Verlags-Anstalt, 1997.

Williams, Charles: Adenauer. The Father of the New Germany. Croydon: Abacus, 2003.

1 Lothar Gall: Bismarck, Der Weisse Revolutionär (Berlyn, Ullstein, 1997), 520. (‘Alles so koud, so trots, so glansend, so pronkend en grootdoenerig en harteloos en leeg.’)

2 Thomas Stamm-Kuhlmann: “Der Mantel der Geschichte. Die Karrière eines unmöglichen Zitats”, in Thomas-Stamm Kuhlmann, Jürgen Elvert, Birgit Aschmann, Jens Hohensee (reds.): Geschichtsbilder. Festschrift für Michael Salewski zum 65. Geburtstag (Wiesbaden, Franz Steiner Verlag, 2003), 216. (“Die wêreldgeskiedenis met sy groot gebeurtenisse kom nie aangery soos ’n trein in gelykmatige snelheid nie. Nee, dit gaan rukkenderwys voorwaarts, maar dan met onweerstaanbare geweld. ’n Mens moet altyd daarop let of jy die Here God deur die wêreldgeskiedenis sien skry, dan opspring en jou aan die pante van sy mantel vasklamp, sodat jy voortgesleep word so ver as wat dit kan gaan.”)

3 Henry Kissinger: Diplomacy (New York, Simon & Schuster, 1994), 134.

4 Golo Mann: The History of Germany since 1789 (Middlesex, Penguin, 1968), 381.

5 Christian Graf von Krokow: Bismarck. Eine Biographie (Stuttgart, Deutsche Verlags-Anstalt, 1997), 232.

6 Henry Kissinger: Diplomacy (New York, Simon & Schuster, 1994), 134.

7 Aangehaal in Michael Clinton: “ ‘The New World will create the New Europe’: Paul-Henri d’Estournelles de Constand, the United States, and International Peace” (Journal of the Western Society for French History, 40/2012, 89).

8 Vir ’n analise hiervan, kyk Christopher Clark: The Sleepwalkers. How Europe Went to War in 1914 (New York, HarperCollins, 2012), 124–127.

9 Clark: The Sleepwalkers, 561.

10 Vgl. James McRandle en James Quirk: “The blood test revisited: A new look at German casualty counts in World War I” (The Journal of Military History, 70/3, Julie 2006, 693).

11 Nadège Mougel: “World War I casualties” (Reperes Centre Européen Robert Schuman, p. 4. [Aanlyn] Beskikbaar: by www.centre-robert-schuman.org/userfiles/files/REPERES%20%E2%80%93%20module%201-1-1%20-%20explanatory%20notes%20%E2%80%93%20World%20War%20I%20casualties%20%E2%80%93%20EN.pdf [Opgeroep 31.1.2018]

12 Margaret Macmillan: Peacemakers. Six Months that Changed the World (Londen John Murray, 2004), p. 35.

13 John Ikenberry: After Victory. Institutions, Strategic restraint and the Rebuilding of Order after Major Wars (Princeton, Princeton University Press, 2001), 133. Vgl. ook Kissinger: Diplomacy, 233; John Maynard Keynes: The EconomicConsequences of the Peace (Faksmilee-uitgawe, s.p., BiblioBazaar, 2002), 16–17.

14 W.K. Hancock en J. van der Poel (reds.): Selections from the Smuts Papers, IV (Cambridge, At the University Press, 1966), 47–48 (Smuts – Margaret Gillett, 19.1.1918).

15 Oor Smuts se rol, vgl. Leopold en Ingrid Scholtz: “Die Eerste Wêreldoorlog as faktor in die Suid-Afrikaanse toetrede tot die internasionale gemeenskap” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56/1, Maart 2016, 190–206).

16 W.K. Hancock en Jean van der Poel: Selections from the Smuts Papers, IV (Cambridge, At the University Press, 1966), 174 (Smuts – sy vrou, 20.5.1919).

17 John Maynard Keynes: The Economic Consequences of the Peace (Londen, Macmillan, 1919), 71.

18 Macmillan: Peacemakers, 474–477.

19 Selections from the Smuts Papers, IV, 157 (Smuts – Lloyd George en Wilson, 14.5.1919).

20 Ibid., p. 174 (Smuts – sy vrou, 20.5.1919).

21 Vir ’n goeie ontleding van die Weimar-republiek se rol, kyk Helmut Heiber: Die Republik von Weimar (München, Deutsche Taschenbuch Verlag, 1966), passim.

22 Ian Kershaw: Hitler, I. 1889–1936. Hubris (Londen, Penguin, 1999), 246.

23 Adolf Hitler: Mein Kampf. (München, NSDAP, 1936), 699. (‘Want daaroor moet ’n mens uiteindelik duidelik wees: Die onverbiddellike doodsvyand van die Duitse volk is en bly Frankryk. Afgesien van wie in Frankryk geregeer het of sal regeer, hetsy Bourbons of Jakobyne, Napoleonide of burgerlike demokrate, klerikale Republikeine of rooi Bolsjewiste: die einddoel van hul buitelandse politieke optrede sal altyd ’n poging wees om die Ryngrens in besit te neem en sy vloei vir Frankryk deur ’n opgeloste en verwoeste Duitsland te verseker.’)

24 Ibid., 766.

25 Ibid., 637.

26 Macmillan: The Peacemakers, 166. Haar standpunt word gesteun deur Hitler se beste biograaf, Ian Kershaw. Kyk sy Hitler, II. 1936–1945. Nemesis (Londen, Allen Lane, 2000), 224.

27 Norman Rich: Hitler’s War Aims, II. The Establishment of the New Order (Londen, André Deutsch, 1974), 197–198).

28 Telford Taylor: The March of Conquest (Londen, Edward Hulton, 1959), 318–323.

29 Aangehaal in Alistair Horne: To Lose a Battle. France 1940 (Londen, Macmillan, 1969), 508.

30 Kyk die uitstekende analise van Richard Overy: Why the Allies Won (Londen, Jonathan Cape, 1995).

31 Anja en Willi Kammerer: Narben Bleiben. Die Arbeit der Suchdienste – 60 Jahre nach dem Zweiten Weltkrieg (Berlyn, Deutsche Dienstelle e.a., 2005), 12.

32 Ian Kershaw: “Europe’s second Thirty Years War” (History Today, 55/9, September 2005, 10).

33 Selfs in 1996 het ’n Amerikaanse politieke wetenskaplike, Daniel Goldhagen, die Duitsers in sy doktorale proefskrif van ‘eliminationist anti-semitism’ beskuldig, wat hy teruggevoer het tot Martin Luther in die 16de eeu. Kyk sy Hitler’s Willing Executioners. Ordinary Germans and the Holocaust (New York, Alfred A. Knopf, 1996).

34 G. John Ikenberry: After Victory. Institutions, Strategic Restraint, and the Rebuilding of Order after Major Wars (Princeton, Princeton University Press, 2001), 164.

35 Richard Crockatt: The Fifty Years War. The United States and the Soviet Union in World Politics, 1941–1991 (Londen, Routledge, 1995), 45–47 en 53–54; John Lewis Gaddis: The Cold War (Londen, Allen Lane, 2006), 18–25.

36 Vgl. hieroor Dolores L. Augustine: Red Prometheus. Engineering and Dictatorship in East Germany, 1945–1990 (Cambridge, MIT Press, 2007).

37 James W. Messerschmidt: “The forgotten victims of World War II. Masculinities and rape in Berlin, 1945” (Violence Against Women, 12/7, Julie 2006, 706–712).

38 R.M. Douglas: Orderly and Humane. The Expulsion of the Germans after the Second World War (New Haven, Yale University Press, 2012), passim.

39 Paul Johnson: Modern Times. A History of the World from the 1920s to the 1990s (Londen, Phoenix Giant, 1992), 437–438.

40 Vir ’n briljante analise van dié proses, kyk Anne Applebaum: Iron Curtain. The Crushing of Eastern Europe 1944–1956 (Londen, Allen Lane, 2012), passim.

41 Ibid., pp. 268–269; Johnson: Modern Times, 440.

42 Friso Wielenga: “‘Stille revolutie’ en schijnbare normaliteit”, in Jürgen C. Hess en Friso Wielenga (reds.): Duitsland en de Democratie 1871–1990 (Amsterdam, Boom, 1994), 177.

43 Gaddis: The Cold War, p. 95; Johnson: Modern Times, 439–440.

44 Stürmer: Das Jahrhundert der Deutschen, 193. (‘Die Bondsrepubliek Duitsland het nie ontstaan as staat op soek na ’n buitelandse beleid nie, maar as produk van die Amerikaanse buitelandse beleid op soek na ’n staat. Bondsrepubliek Duitsland en Noord-Atlantiese Pakt: Albei was deel van dieselfde Amerikaanse grand design.’ ‘Duitsland moes deel van die klub word.’ ‘Die militêre beskerming is slegs die eerste stap; die ekonomiese integrasie van Europa moet volg, en die “Duitse ryk” hoort as sentrale bestanddeel daarby.’)

45 Ikenberry: After History, 207.

46 Oor die Duitsers se moeisame verwerking van hul eie verlede en hul pad terug na aanvaarding deur die res van Europa en die Weste is honderde boeke geskryf. Hier volg ’n onvolledige lys, wat egter ’n goeie begin sou wees vir diegene wat meer wil weet: Norbert Frei: Vergangenheitspolitik. Die Anfänge der Bundesrepublik und die NS-Vergangenheit (München, dtv, 1996); Patrick Dassen en Ton Nijhuis (reds.): Gegijzeld door het Verleden. Controverses in Duitsland van de Historikerstreit tot het Sloterdijk-debat (Amsterdam, Boom, 2001); Norbert Frei: 1945 und Wir. Das Dritte Reich im Bewuβtsein der Deutschen (München, C.H. Beck, 2005); Sabine Moller: Vielfache Vergangenheit. Öffentliche Erinnerungskulturen und Familieerinnerungen an die NS-Zeit in Ostdeutschland (Berlyn, Diskord, 2003); Jürgen C. Hess en Friso Wielenga: Duitsland en de Democratie 1871–1990 (Amsterdam, Boom, 1994); Konrad H. Jarausch: After Hitler. Recivilising Germans, 1945–1995 (Oxford, Oxford University Press, 2005); Jeffrey Herf: Divided Memory. The Nazi Past in the Two Germanys (Cambridge, Harvard University Press, 1997).

47 Konrad Adenauer: Erinnerungen 1945–1953 (Stuttgart, Deutsche Verlags-Anstalt, 1965, 295). (‘Die Duits-Franse versoening en verstandhouding was reeds sedert die twintigerjare my strewe. Die tot stand bring van ’n goeie verhouding tussen Frankryk en Duitsland was die grondliggende voorwaarde vir ’n beter toekoms, nie net vir ons beide lande nie, maar van Europa en ’n groot deel van die aarde. Dit was duidelik vir my dat ’n duursame begrip net deur voortdurende en doelbewuste arbeid bereik kon word.’)

48 Ibid., 312–313.

49 Ibid., 316.

50 Robert Schuman: “The spirit of the treaty” (Vital Speeches of the Day, 1.10.1951, 746–748).

51 “The Schuman Declaration – 9 May 1950”, by https://europa.eu/european-union/about-eu/symbols/europe-day/schuman-declaration_en (opgeroep op 6.2.2018).

52 Jean Lacouture: De Gaulle. The Ruler: 1945–1970 (Londen, Harvill, 1991), 340.

53 Ibid., 339–442; Charles Williams: Adenauer. The Father of the New Germany (Croydon, Abacus, 2003), 503–506.

54 Andries van Aarde: “Paulus se versie van ‘draai die ander wang’ – gedagtes oor geweld en toleransie” (HTS Teologiese Studies, 64/4, 2008) 1690–1691.

55 Kissinger: Diplomacy, 96.