Stellenbosch Theological Journal 2018, Vol 4, No 2, 359–378

DOI: http://dx.doi.org/10.17570/stj.2018.v4n2.a17

Online ISSN 2413-9467 | Print ISSN 2413-9459

2018 © Pieter de Waal Neethling Trust

Liturgie as ontmoetingsruimte waar Christelike identiteit en lewenswyse gevorm word1

Jaco Barnard

Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

jaco@nggars.org.za

Cas Wepener

Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

cas.wepener@up.ac.za

Abstract

Liturgy as space for encounters, which impact on the formation of Christian identity and way of life.

The researcher aims to investigate the impact of various forms of encounters experienced during the Sunday liturgy on the identity and daily lives of believers. Three encounters are identified and studied. Firstly, the personal encounter between the individual and God. Secondly, encounters between people where individuals share in each other’s stories and realities. Thirdly, encounters with the world and society (the missional encounters with the world in need). This investigation aims to determine the impact of these encounters upon Christian identity and the subsequent way of life, from the conviction that liturgy and life are deeply related to one another and that these encounters shape the lives of worshippers within a unique South African society.

Key words

Practical Theology; liturgy; sermon; encounters; identity

1.Inleiding

Die primêre vraagstelling wat in hierdie artikel ondersoek word, is: Watter rol speel ontmoetings in die liturgie in die vorming van ’n Christelike identiteit en lewenswyse? Die navorsing poog om die verband tussen ontmoetings en die eksistensiële vraagstuk na identiteit binne ’n vinnig veranderende wêreld te verken. Burger verduidelik dat die kerk (en elke gelowige) drie eksistensiële vrae het. Eerstens, die vraag na God: waar vind ek God en hoe leer ek God beter ken? Tweedens, die vraag na ’n persoon se selfverstaan. Laastens, die vraag na die sin van die lewe: hoe kry ek sin gemaak van die wêreld daarbuite en hoe vind ek my plek en rol daarin (Burger 2005:13)?

In hierdie artikel word die rol van ontmoetings in die erediens, in die beantwoording van hierdie drie eksistensiële vrae verken deur te fokus op die impak van ontmoetings in die erediens, nie net op die individuele gelowige nie, maar ook op die gemeenskap van gelowiges. Drie kern ontmoetings word verken, naamlik: die ontmoeting tussen God en mens (waar die mens God persoonlik en intiem op nuwe maniere leer ken), die ontmoeting met ‘mekaar’ (waar die persoon genooi word om ander persone in hul eie lewenswerklikhede te ontmoet); en dan ook die ontmoeting met die wêreld (waar die mens genooi word om in aanraking te kom met die nood in die wêreld).

Die navorser het die werkshipotese dat liturgie en lewe ten nouste aan mekaar verbind is, gebruik as vertrekpunt. Verder word daar vanuit die oortuiging te werk gegaan dat die liturgie nie net ten doel het om lidmate tevrede te stel en só wil behou nie, maar hulle identiteit en lewe help vorm, binne ’n Suid-Afrikaanse konteks in ’n voortslepende oorgangstyd (Pieterse 2001; Niemandt 2013:31–32; Van der Merwe 2009a:148–157). Die navorser het probeer aandui dat hierdie ontmoeting, waarin God aan die mens geopenbaar word, nie net ’n impak het op die mens se verstaan van wie God is nie, maar ook vanuit die verstaan van die mens as Imago Dei, ’n definitiewe impak op die gelowige individu se selfverstaan en identiteit het (McGrath 2001:440; Migliore 2004:139–142; Root 2014:96).

Alhoewel die erediens nie as die begin en einde van die gemeente se openbare byeenkomste beskou moet word nie, is dit steeds van sentrale belang in die lewe van die gemeente en gelowige individu. Die erediens is die kernruimte waarbinne geloofsvorming plaasvind en waar die gemeente as geloofsgemeenskap God saam aanbid en, terwyl dit ook die missionêre omgewing is van waar die bediening van die gemeente ontstaan, gerig en uitgestuur word (Barnard 1981:3; Müller 1990:3; Smit 2010:2).

Die erediens kan maklik in ’n vaste roetine of gewoonte verval, waar ’n reeks elemente soos agendapunte ‘afgehandel’ word, en die lidmaat wel ’n baie mooi preek gehoor het – maar nie noodwendig die Here ontmoet het nie. Net so sit lidmate Sondag na Sondag langs mekaar in die kerkbanke, sonder om noodwendig mekaar te ontmoet en leer ken, en dus vreemdelinge van mekaar bly. Ontmoetings met mekaar, waar lidmate mekaar leer ken en inspraak in mekaar se lewens lewer, is nodig (Long 2001:15–41). Nog meer: die erediens wat sy doel bereik sal uitloop op lewens van gehoorsaamheid en diens in ’n stukkende samelewing in nood – hierdie doel kan alleenlik moontlik wees as die lidmaat met die nood in die wêreld in aanraking gebring word, en sy/haar rol as gestuurde daarheen verstaan (Sweet 1999:220; Cilliers 2008:15).

2.Metodologie

Die navorsing is gedoen in die veld van die Praktiese Teologie2 met ’n definitiewe fokus op die liturgie. Osmer (2008:1–31) verduidelik dat hierdie ’n proses van interpretasie behels, wat hoofsaaklik uit vier take bestaan, te wete ’n empiries-beskrywende, ’n interpretatiewe, ’n normatiewe, asook ’n pragmatiese taak.

Die metode van navorsing het hoofsaaklik op ’n literatuurstudie berus, wat verder aangevul is deur empiriese data wat uit deelnemende observasies van ’n erediens, asook persoonlike onderhoude bekom is. Daar is besluit op ’n kwalitatiewe metodologie vir hierdie studie, omrede kwalitatiewe navorsing antwoorde op vrae verken, deur persone binne ’n gegewe sosiale omgewing te bestudeer. Kwalitatiewe navorsing stel ook belang in die verstaan van die onderwerp wat verken word vanuit die perspektief van die persone wat by die navorsing betrek word (Berg 2004:7).

Die deelnemende gemeente is ’n stadsgemeente in die noorde van Pretoria. Die gemeente bestaan uit 2 124 lidmate, waarvan 1769 belydende en 350 dooplidmate is. Ongeveer 56% van die gemeentelidmate is tussen die ouderdom van 40 en 79, terwyl ’n verdere 6% ouer as 80 jaar is. Die visie van die gemeente, naamlik: ‘Aanbid … gee om … bring hoop’, wys daarop dat die drie ontmoetings waarop hierdie navorsing fokus reeds in die hart van die gemeente behoort te leef en in die erediens asook gemeentebediening gestalte behoort te vind. ’n Klein verteenwoordigende steekproef, bestaande uit vyf persone (van verskillende profiele) is saamgestel. Die samestelling van die steekproef was as volg:

Geslag – twee vroulik & drie manlik

Ras – vier blank & een persoon van kleur

Ouderdom –15, 26, 36, 47 en 67 jarige ouderdom.

Die drie ontmoetings van belang is gebruik as wegspringplek en die gespreksvrae is saamgestel met hierdie drie ontmoetings in gedagte. Drie primêre vrae, wat handel oor ’n persoonlike ontmoeting met die Here tydens ’n erediens, ’n ontmoeting met ’n mede-lidmaat tydens die erediens, en die missionale impak van die erediens, is aan die lidmate gestel. Die persoonlike onderhoude was daarop gerig om die wyse waarop dié medenavorsers die erediensgebeure toeëien, te verreken in die ondersoek, as aanvulling van die literatuurstudie (Stringer 2005; Wepener 2009:22).

In hierdie artikel word voorts enkele opmerkings, aan die hand van die literatuurstudie, en aanvullende bevindings van die kwalitatiewe navorsing, gemaak op grond van Osmer se bovermelde vier take, ten einde as pragmatiese taak ’n liturgiese praxisteorie daar te stel (Osmer 2008:1–31).

3.Deskriptief-empiriese taak: Wat is besig om te gebeur?

In die eerste wêreld, veral Europa en Brittanje, het nie net erediensbywoning nie, maar ook die belang van die erediens in die lewens van mense dramaties afgeneem. Nog meer, ’n groot getal Christene se mening is dat die erediens nie vir hulle sin maak nie, en dus nie werklik die gewenste impak op hulle identiteit en lewenswyse het nie. (Burger 2009:15–16).

Binne ’n Afrika (en dus ook Suid-Afrikaanse) konteks, lyk die prentjie egter anders en speel die kerk as religieuse groep, asook die erediens, steeds ’n baie belangrike rol in die sosiale en interpersoonlike verhoudings van individue. Net so woon die oorgrote meerderheid persone steeds jaarliks aanbiddingsgeleenthede by, en word ’n groot hoeveelheid mense op ’n weeklikse basis deur die Christelike kerk bereik (Hendriks 2005; Wepener 2006:50–51; Wepener et al. 2010:67–68).

Tans word daar in kerke regoor Suid-Afrika, insluitend die NG Kerk, doelbewuste pogings aangewend om nuut te dink oor die sinvolheid van die erediens binne ’n Suid-Afrikaanse konteks met sy unieke uitdagings van ’n multikulturele samelewing, transformasie, versoening, armoede en nog meer (Burger 2009:16; Van der Merwe et al. 2013). Enkele liturgiese tendense kan onderskei word:

’n Skuif van “blended worship”3 na ’n konvergensie liturgie, wat verwys na “die saamvloei van liturgiese bronne uit die breër Christelike tradisie met kontemporêre uitdrukkingsvorms in die één stroom van die plaaslike gemeente se liturgie” (Van der Merwe 2009b:251).

Inkulturasie en interkulturasie: In ’n poging om weg te breek van die Westerse invloed op die samelewing en kerk, is daar tans in Afrika hernude pogings om ook in die liturgie terug te keer na wat eg aan die Afrika konteks, byvoorbeeld tradisionele musiek, instrumente en gebare binne die liturgie (De Klerk 2013:26; Wepener 2007:735–736).

’n Skuif van ’n gespreksmodel na ’n ontmoetingsmodel vir die erediens: Aan die begin van die twintigste eeu het liturgie grootliks inligting rakende God kommunikeer. In die tweede deel van dié eeu het die liturgiese landskap merkwaardige verandering ondergaan, met ’n nuwe waardering vir die rol van persoonlike betrokkenheid [ontmoetings] met God, asook die liggaamlike deelname van die erediensganger (Barnard et al. 2014:207, De Klerk 2013:56, Müller 1990:1–2, Wepener 2006:387). Die erediens is nie alleenlik die ruimte waar die individu net God se woorde leer ken nie, maar God self ontmoet en leer ken.

Dit is duidelik dat die kerklike en liturgiese landskap die afgelope tyd merkwaardige veranderinge ondergaan, sommige ten goede en ander minder so. Hierdie veranderinge geskied egter nie lukraak nie, en hom hierdie rede is die interpretatiewe taak van hierdie navorsing van belang, in die soeke na waarom hierdie verandering besig is om plaas te vind.

4.Interpretatiewe taak: Waarom is dit besig om te gebeur?

Die verandering in die kerklike, en liturgiese landskap kan toegeskrywe word aan ’n vinnig veranderende wêreld en samelewing, gekenmerk deur die sogenaamde netwerk kultuur en globalisering. Verder het die politieke oorgang na ’n regering van nasionale eenheid in April 1994 ’n definitiewe oorgangstyd vir kerk en samelewing in Suid-Afrika teweeg gebring – die sogenaamde liminale tyd. Hierdie oorgangstyd het nie net radikale skuiwe in die onderwys, en op sosiale en plaaslike bestuursvlak beteken nie, maar die kerk ook genoodsaak om nuut te dink oor die kerk (en elke gelowige) se rol daarbinne (Barnard et al. 2014, Burger 1995:13; Niemandt 2013:17).

Dit laat die vraag: “Wat is veronderstel om te gebeur?” Dié navorsing wil ’n saak stel vir die beantwoording van hierdie vraag deur ’n nuwe manier van dink oor die erediens en liturgie as ’n ruimte waar God, mens en samelewing ontmoet.

5.Normatiewe taak: Wat is veronderstel om te gebeur?

Die vraag moet krities gevra word of Suid-Afrika steeds binne ’n liminale (oorgangs-) fase is en of ’n nuwe diskoers, met die fokus op versoening, geregtigheid en genesing, nie nodig is nie. Die fase van liminaliteit kan baie maklik as ’n verskoning gebruik word, om nie daadwerklik betrokke te raak in ’n soeke na ’n nuwe gemeenskap in Suid-Afrika, gekenmerk deur rekonsiliasie, transformasie en eenheid nie.

Die navorsing wil ’n saak stel vir die belangrike rol van die erediens4, as ontmoetingsgebeure5, in die vorming van gelowiges se identiteit en lewenswyse, binne ’n Suid-Afrikaanse samelewing (Wepener 2011:206–207). Die erediens as ruimte behels ’n nuwe ontmoeting met God waarin die mens God beter (en op nuwe wyses) leer ken, tot ’n nuwe verstaan van hulleself en hul lewensdoel kom, en laastens tot ’n dieper insig in die lewe en waar hulle in die groter prentjie inpas kom (Burger 2005:13–14). Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks sou dit beteken dat die gelowige individu God ontmoet wat inisieer, versoen, transformeer en liefdevol optree teenoor alle persone ongeag van taal, kultuur en ander sosiale onderskeiding; wat sorg vir die armes en hoop bring aan die onderdruktes; wat ongeregtigheid aanspreek en een nuwe gemeenskap daarstel –’n gemeenskap waar almal welkom is (McGrath 2001:296; McKim 2001:47, 87–89, 136–137; Migliore 2004:100, 407; Van der Merwe 2009c:136; Vos 1995:5; Vos 2010:4).

Die primêre vraagstelling van hierdie navorsing was: Watter rol speel ontmoetings in die vorming van ’n Christelike identiteit en lewenswyse? Die beantwoording van hierdie vraagstelling is nie ’n eenvoudige taak nie, aangesien dit nog onbekende terrein in die liturgiek, ten opsigte van die spesifieke fokus op ontmoetings in die erediens, is. Tóg kan enkele opmerkings na afloop van hierdie navorsing, gemaak word as merkers vir verdere ondersoeke wat volg.

5.1 Liturgie as ontmoetingsruimte

Dit wil voorkom dat beide die gesentraliseerde ruimte (erediens ruimte), en die gedesentraliseerde ruimtes (alledaagse leefruimtes)6 bydra tot die ervaring van ’n intieme ontmoeting tussen God en mens. Alhoewel ’n persoonlike ontmoeting met God met die erediensgebeure te make het, vind dit dikwels eers ná afloop van die erediens. So noem ’n vroulike medenavorser dat sy dikwels ’n ontmoeting met God het wanneer sy by die huis weer oor die erediens nadink (Barnard 2015:202), terwyl ’n jong manlike medenavorser weer getuig van besondere ontmoetingsgebeure wanneer hy die erediensgebeure met sy kollegas en vriende bespreek (Barnard 2015:208).

Ten opsigte van die prediking het praktiese prediking wat van toepassing op die daaglikse realiteite van die lidmate is, ’n sterker impak op die persoon se identiteit, lewensuitkyk en Godsbegrip, as dié met ’n sterk teologiese klem, maar minder praktiese van aard. Rakende die sakramente, veral ten opsigte van die praktiese betekenis daarvan, het geeneen van die medenavorsers ten opsigte van hul erediens belewenisse verwys na die sakramente, of die bediening daarvan nie.

Musiek speel ’n baie belangrike rol as liturgiese moment en handeling. Uit byna elkeen van die gesprekke het dit na vore gekom dat musiek (veral lofprysing en aanbidding) ’n belangrike deel uitmaak van die erediens as ontmoetingsgebeure. ’n Vroulike lidmaat noem dat “wat vir my altyd lekker was, is daardie lang sing voor die tyd. Weet jy as ons daardie halfuur of wat, 45 minute gesing het dan voel jy so naby aan God” (Barnard 2015:200). Uit die navorsing wil dit voorkom dat, ongeag van die tipe begeleiding en musikale styl, die ruimte (atmosfeer) wat deur die musiek geskep word, belangrik is en help om ’n intieme ontmoeting met God moontlik te maak.

Ten opsigte van die erediensverloop en -struktuur het enkele medenavorsers ’n voorkeur vir ’n tradisionele en meer gestruktureerde erediens verloop getoon. ’n Middeljarige manlike lidmaat stel dit as volg:

“Kyk ek is ’n baie, hoe kan ek sê tradisiegewys, weet dinge moet op ’n sekere manier vir my gebeur, jy weet, ek is in ’n professie wat weet ’n sekere ding moet gebeur voordat daar is stappe wat gevolg moet word en ek hou daarvan om in die erediens ook deur daardie stappe te kan gaan om te sê “oukei” ek is nou hier daar gaan nou sekere dinge met my gebeur” (Barnard 2015:214).

’n Intieme ontmoeting met God, die mens of samelewing word moontlik gemaak wanneer daar kreatief met die erediens verloop omgegaan word – mits dit doelmatig en nie lukraak gedoen word nie. So vertel ’n lidmaat van ’n erediens op Goeie Vrydag, waar die liturgie nie met die gebruiklike seën beëindig is nie en noem dat wanneer dinge in ’n sekere volgorde gebeur dit goed is, maar “baie keer dan, as dit nie in daardie volgorde gebeur nie dan dink jy wat gaan nou aan … en dan dink jy weer hoekom? Hoekom is dit so …?” (Barnard 2015:222). Ook ’n jong vroulike lidmaat noem dat die erediens vir haar ’n besondere ervaring is omdat dit beide informeel is, maar nie “enige ontspanne lekker partytjie waar jy is nie” (Barnard 2015:206). Vir haar is die erediens ’n heilige ruimte omdat die grote God daar teenwoordig is.

Dus wil dit voorkom dat die struktuur van die erediens nie soseer die fokuspunt in ons nadenke oor die liturgie moet wees nie, maar eerder die doel wat daardeur bereik wil word – en dus – watter ruimte daardeur geskep moet word. ’n Formalistiese, rigiede struktuur kan die natuurlike vloei van die erediens as ontmoetingsgebeure verhinder. ’n Ontmoetingsmodel kan egter ook nie sonder struktuur funksioneer nie, en dus dien ’n mate van struktuur juis die erediens as ontmoetingsgebeure, indien dit doelmatig aangewend word.

Die rol van stilte of stilwordmomente in die erediens moet nie gering geskat word nie. Tydens die gesprekke het dit duidelik na vore gekom dat, veral binne die gejaagde samelewing en tydsgees, die geleentheid om stil te word ruimte skep vir ’n besondere ervaring van God se teenwoordigheid (Barnard 2015:196; 215). ’n “Oorvol” en “besige” liturgie wat in die proses nie tyd vir stilte laat nie, kan moontlik ’n hindernis ten opsigte van die erediens as ontmoetingsgebeure wees.

5.2 Ontmoeting tussen God en mens

Die navorsing het bevind dat, alhoewel God die mens in die erediens wil ontmoet, dit nie ’n gegewe is dat hierdie ontmoeting wederkerig plaasvind nie. Slegs twee van die medenavorsers het genoem dat hulle tydens die betrokke oggenddiens ’n persoonlike en intieme ontmoeting met God beleef het, terwyl ander wel per geleentheid só ontmoeting beleef het. Die rol van liturgie, as ruimte waar, deur simbole en simboliese handelinge, deur kuns en musiek, deur aanspraak maak op emosie en vele ander wyses ’n atmosfeer geskep word waarbinne die persoon God kan ontmoet, moet opnuut weer in die gedagtes van elke liturg lewe en waardeer word (Smit 2009:101). Dit wil voorkom dat, vanuit die ervarings van gewone lidmate, praktiese prediking; vurige lofprysing en aanbidding; persoonlike geloof- en skuldbelydenis; asook die gebruik van verhale belangrike liturgiese (elemente) is waartydens God op ’n besondere wyse ontmoet word.

Op grond van die terugvoer van die medenavorsers, wil dit voorkom dat God die persone ontmoet deur die verhale van ander gelowiges, in tye van swaarkry en nood, en in dade van gehoorsaamheid en diens. Deur uit te reik na ander in nood, kom die persoon tot die besef van die sin van sy/haar bestaan, as gestuurde van God. ’n Manlike lidmaat vertel van die impak wat die ontmoeting met God op sy identiteit gehad het en noem dat dit hom onder die besef gebring het dat hy “net ’n instrument in die hand van die Here is … ek moet my oopstel vir die Heilige Gees om te hoor wat Hy vir my wil sê en waar Hy my benodig” (Barnard 2015:226).

5.3 Ontmoetings met mekaar

Vanuit bogenoemde ontmoeting tussen God en mens word die grondslag vir ’n nuwe selfverstaan en identiteit gevind. Vanuit die ontdekking van sy/haar identiteit as Imago Dei, kom die gelowige individu onder die indruk dat God ’n relasionele God is, wat in verhouding met Sy skepping/skepsels leef – daarom, word die mens se identiteit nie in isolasie gevind nie, maar in verhoudings met ander, as deel van die koinonia, wat alle sosiale grense transendeer (Burger 2005:30; Baker 2012:129; Hays 1996:196; Lukken 1999:67,69; Ries & Hendriks 2013:2).

In die betrokke gemeente word, tydens die erediens ’n ruimte vir hierdie ontmoetings hoofsaaklik op twee wyses geskep. Eerstens, deur die voorbiddingslys met die gemeente te bespreek en siekte, nood of dood te kommunikeer. Hieruit kom die oproep dan aan die gemeente om dié persone te kontak, of voor te bid. Tweedens, word ruimte geskep vir hierdie ontmoetings deur gedurende die diens ’n geleentheid te skep waar lidmate na mekaar draai en mekaar groet. Die medenavorsers beleef eersgenoemde positief en as ’n belangrike deel van die erediens, terwyl laasgenoemde ongemak by sommige veroorsaak het en deur ander as “geforseerd” beskryf is (Barnard 2015:198). Ander het weer die groetgeleentheid positief ervaar, en beskryf dit as ’n belangrike geleentheid waarby vreemdelinge welkom geheet kan word in die gemeente (Barnard 2015:209; 217–218).

Die navorsing het gewys op die rol van die gedesentraliseerde heilige ruimtes van die alledaagse bestaan as belangrike ontmoetingsruimtes tussen mense. Tydens die empiriese ondersoek is die koffiekroeg waar gemeentelede na afloop van die erediens saam kuier, mekaar ontmoet en ook God in die getuienisse van ander ontmoet, as só ’n ruimte identifiseer. Soos ’n manlike lidmaat sit stel:

Dit is nie net u weet jy kom nie net kerk toe, weet kom kerk toe en tienuur na die diens ry jy nie … Hier is so ’n ontmoeting na die tyd jy waar almal tee drink en jy hoor mense hoe gaan dit, jy weet. Wat is nuus by julle, weet daardie tipe … Ek sal sê ja dit is belangrik. Soos byvoorbeeld hier by ons, die tee drink na die tyd … Is ook weet waar, weet waar mense ander mekaar ontmoet en ek voel u weet as ’n mens net, u weet in die erediens ook sê u weet, almal kom kuier na die tyd, lekker tee drink (Barnard 2015:209–210).

Só verstaan word die kombuisarea ’n voortsetting van die erediensgebeure en dien dit as ’n heilige ontmoetingsruimte waar lidmate mekaar ontmoet, vreemdelinge tuis voel, en die belewenis van die erediens met mekaar bespreek word. Hierdie ontmoetings dra by tot ’n samehorigheidsgevoel en skep ’n vertrouensruimte waar lidmate veilig voel, mekaar ondersteun en versorg en so dra hierdie ontmoetings by tot die ontstaan van ’n gemeenskap wat alle sosiale grense transendeer (Ammerman 1999:362–367; Cilliers & Wepener 2007:40–42). Hierdie ontmoetings gee ook betekenis aan lidmate se eie swaarkry en lyding, deurdat dit hulle voorberei om daar te wees vir ander wat deur soortgelyke omstandighede gaan. ’n Manlike lidmaat getuig as volg hiervan:

Ja, weereens dit gaan oor of jy die mens se omstandighede ken, weet ek het al sekere “experiences” gehad waar, weet ek deur baie moeilike omstandighede gegaan het met, om ’n voorbeeld te noem ek het ’n kind aan die dood afgestaan en ander mense in die gemeente het mos nou gehoor dat daar ook deur dieselfde prosesse moet gaan en so aan en ons kon, ek kon, ek en my vrou kon hulle bystaan en hulle help … (Barnard 2015:218–219).

Binne die uitdagings van die Suid-Afrikaanse konteks het die kerk as gemeenskap ’n baie belangrike rol te speel in die sosiale en interpersoonlike verhoudings van individue. Die kerk as gemeenskap moet die draers van hoop vir die daarstel van só gemeenskap in die wyer samelewing van Suid-Afrika wees –’n gemeenskap vry van vooroordeel, onderskeid, uitbuiting, korrupsie, en nog meer –’n gemeenskap waar elkeen welkom is, versorg word, bemagtig word, en liefgehê word.

5.4 Ontmoetings met die samelewing

Vanuit die ontmoeting met God, ontdek die individu dat God nie net ’n relasionele God is nie, maar ook ’n sturende God is. Vervolgens word die gelowige individu uitgenooi om sy/haar identiteit as gestuurde na die wêreld te ontdek, omhels en te leef (Peterson 2013:94; Verkuyl 1979:171). Hierdie derde ontmoeting moet dus nie as losstaande ontmoeting beskou word nie, maar eerder as ’n natuurlike uitvloeisel van die vorige twee ontmoetings, naamlik: die ontmoeting tussen God en mens, en die ontmoetings tussen mekaar.

Hierdie derde ontmoeting dwing die kerk [en elke gelowige] om nuut te dink oor Christelike identiteit, roeping en lewenswyse. Begrippe soos gestuurde gemeentes en missionale ekklesiologie wys iets van hierdie nuwe begrip oor die identiteit en bestaansdoel van die kerk en elke gelowige individu (Niemandt 2013:20). Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks behels só ’n ekklesiologie dat die kerk [en elke gelowige] die bemiddeling van God se totale reddende werke in ’n persoon se lewe, ’n soeke na geregtigheid, bevryding van alle vorms van onderdrukking, enkulturasie, evangelisasie, asook getuienis teenoor ander gelowe is. Sosiale aksie is beslis ’n onlosmaaklike deel van dié roeping van die kerk [en elke gelowige] (Armstrong 1997:60; Bosch 1991:393–510; Pieterse 2009:1–6; Pieterse 2011:1–8; Van der Merwe 2014:4).

Die navorsing het bevind dat die missionale bewussyn onder lidmate moontlik steeds beperk is tot betrokkenheid by barmhartigheidsoptrede teenoor mede-gemeentelede in nood, en in meeste gevalle nog nie groter betrokkenheid in die wyer samelewing en wêreld of ekologie insluit nie. Missionale betrokkenheid blyk steeds verstaan te word as enkele projekte, waarby sekere bedienings (gewoonlik lede van die missionale bediening) van die gemeente betrokke is, en dat gemeentelede se deelname grootliks ten opsigte van donasies verstaan word. Vanuit die gesprekke met die medenavorsers was daar geensins bewyse van ’n verstaan van die kerk se missionale roeping as die bring van die evangelie aan die onbereiktes, of van die ekologiese dimensie van die kerk [en gelowige] se missionale identiteit en roeping nie.

Dit wil ook voorkom asof die besef dat die kerk [en gelowige] se missionale identiteit en roeping die totaliteit van ons dag tot dag bestaan insluit, grootliks ontbreek. So byvoorbeeld, het enkele medenavorsers verwys na geleenthede waar hulle uitgereik het na ander in nood, maar het dan pertinent genoem dat dit nie deel van ’n kerk-aksie was nie – en dus het hulle dit nie as sending of uitreik beleef nie. Soos ’n vroulike medenavorser dit stel:

As ’n mens half van iets weet, kan jy dit half kanaliseer of self, selfs toe ons ’n bietjie by die, ag ons blanke plakkerskampe het ons so ’n bietjie goed wat ons partykeer gaan, so maar dit is nie regtig kerkgebonde nie, ons is maar half die Voortrekkers wat daar uitgekom het. My sussie is by ’n groep, so nee, ek kan nie, ek dink wat goed was, is dat ’n mens weet waar dit is, want ek het byvoorbeeld ’n tannie wat nou gebrei het wat sy wou geweet het waarheen om met die goed te gaan, dan is dit lekker, jy weet waarnatoe om die mense te kanaliseer, so, maar self is nie by een van die daardie groepe betrokke op hierdie stadium nie. So ek is relatief onbetrokke in hierdie stadium, so wat sleg is (Barnard 2015:201–202).

Dit het by hierdie medenavorsers gelei tot ’n skuldgevoel aangesien hy/sy nie baie “betrokke” is nie, alhoewel hy/sy in werklikheid sy/haar identiteit as gestuurde in die gedesentraliseerde ruimtes geleef het, hetsy saam met die Voortrekkers, of in ’n persoonlike besoek aan ou vriende, of by die werk waar met kinders in nood omgegaan word. Hierdie wanpersepsie kan moontlik daaraan toegeskryf word dat daar nie doelgerig in die erediensgebeure op die definisie en praktiese implikasie van die kerk [en gelowige] se missionale identiteit en roeping gefokus word nie. Die algehele indruk wat vanuit die gesprekke gevorm word, is dat die erediens nie werklik bydra tot die verstaan van hul Christelike identiteit as gestuurdes na die samelewing (spesifiek binne ’n Suid-Afrikaanse konteks) nie. Daar moet dus nuut gedink word oor die wyse waarop die missionale identiteit van die gemeente [en lidmaat] deurlopend in die erediensgebeure teenwoordig moet wees en prakties, verstaanbaar kommunikeer word.

Daar sal oor nuwe maniere besin moet word oor die rol wat die liturgie in hierdie ontmoeting speel. ’n Liturgie wat nie “missionalisties”7 is nie, maar missionaal; waar Bybelse gasvryheid ’n belangrike fokuspunt is en waar met teologie en antropologie (God en mens) erns mee gemaak word, (Long 2001:15–17; Wepener 2008:215–216) is nodig.

6.Pragmatiese taak: Hoe moet ons reageer op dit wat besig is om te gebeur

Binne die NG Kerk familie, moet daar vanuit ’n waardering vir die geskiedenis en die lesse wat daaruit geleer is, op nuwe vars maniere oor ons kerkwees gedink word –’n kerkwees waar ons relevant en geloofwaardig binne die huidige tydsgees met sy uitdagings leef. Die navorser sluit aan by die oortuiging van Long (2001:9–11) dat lewende gemeentes juis dié is wat dit regkry om voortdurend nuut te word binne die veranderende konteks, maar deur steeds getrou te bly aan die ryke geskiedenis en erfenis van die kerk.

Dit is die navorser se oortuiging dat die erediens juis vandag ’n belangrike rol te speel het en dat nuwe moontlikhede vir die erediens en liturgie verken moet word. Die erediens staan sentraal tot die ontdekking en realisering van die kerk se roeping in ons bepaalde tydsgees. Die erediens se volle potensiaal word ontsluit wanneer ruimte gelaat word vir die ervaring van God se teenwoordigheid, vir pogings om gasvryheid teenoor vreemdelinge te bewys en wanneer daar duidelike lyne getrek word tussen die erediens gebeure en die gemeente se roeping na die wêreld (Smit 2009:106–107; Van der Merwe 2009a:148–157).

7.Slotopmerkings

Teoreties en teologies gesproke blyk daar ’n duidelike verband tussen die ontmoetings, wat in dié artikel bestudeer is, en die vorming van Christelike identiteit en lewenswyse te bestaan. Die empiriese bevindinge ondersteun hierdie uitgangspunt en bied merkers vir verdere verkenning rondom ontmoetings in die liturgiek. Die diagram8 wat volg beeld die praxisteorie van hierdie navorsing op grafiese wyse uit.

stj2018n2_a17-01

*Figuur 1: Die verband tussen ontmoetings en identiteit.

Die ontmoeting met God is die beginpunt en oorsprong van elkeen van die ontmoetings. Omdat God ons ontmoet en ons toelaat om Hom te leer ken, leer ken ons ons eie persoonlike identiteit as beeld van God, word ons genooi om ander mense en hul stories te ontmoet en ontdek ons dat ons ’n roeping het as gestuurde na die wêreld. Tóg is hierdie ontmoetings nie losstaande van mekaar nie, maar het dit ’n wedersydse impak op mekaar:

Wanneer ons luister na die getuienis van ander, of deur ander se omgee God se teenwoordigheid ervaar, lei dit tot ’n dieper kennis van God, wat weer lei tot die potensiaal om onsself beter te leer ken as beeld van God (Burger 2005:59).

Wanneer ons betrokke raak in die nood van die wêreld, leer ken ons God se binnekant deur middel van God se buitekant (Peterson 2013:94; Verkuyl 1979:171).

Nie net het elkeen van die ontmoetings hulle ontstaan te danke aan God nie, maar wys hulle ook telkens weer terug na God. Hoe meer ons groei in ons persoonlike identiteit, hoe meer wil ons soos Dawid in Psalm 139 God loof vir Sy wonderlike handewerk. Ons ontdek God se teenwoordigheid, liefde en sorg in die stories en omgee van ander. Net so vind ons self hoop in God namate ons deel in Sy toetrede tot ’n stukkende wêreld.

Vanweë die belangrike rol wat die erediens in die gereformeerde tradisie vervul, word ’n sterk saak gestel vir verdere ondersoek na die erediens as ontmoetingsgebeure. ’n Nuwe diskoers vir die erediens as ontmoetingsgebeure, wat Christelike identiteit en lewenswyse help vorm, is nodig.

Bibliografie

Ammerman, N 1999. Congregation and Community. Rutgers University Press, New Brunswick.

Armstrong, RS 1997. Service Evangelism. Westminster Press, Philadelphia.

Baker, CA 2012, “Social Identity Theory and Biblical Interpretation”, Biblical Theology Bulletin 42(3), 129–138. Instyds. Beskikbaar: http://www.sagepub.co.uk/journalsPermissions.nav [5 Julie 2016].

Barnard, AC 1981. Die erediens. NGKB, Pretoria.

Barnard, J 2015. “Liturgie as ontmoetingsruimte. Die erediens as identiteitsvormende en lewensimpakterende ontmoetingsgebeure.” Proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Barnard, M, Cilliërs, JH, & Wepener CJ. 2014. Worship in the Network Culture. Liturgical Ritual Studies. Fields and Methods, Concepts and Metaphors. Paris: Peeters Press.

Berg, BL 200. Qualitative Research Methods for the Social Sciences: International student edition. Long Beach: Pearson Education Inc.

Bosch, DJ 1991. Transforming Mission, Paradigm shifts in Theology of Mission. New York: Maryknoll.

Burger, CW 1995. Gemeentes in Transito. Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi.

— 2005. Ontmoetings met die lewende God: Hoe God ons roep, nuut maak en stuur. Kaapstad: Lux Verbi.

— 2009. “Ontdek die belang van die erediens.” In: Cas Wepener & Johan van der Merwe (reds.). Ontdekkings in die erediens. Kaapstad: Lux Verbi. 15–30.

Cilliers, JH 2008. “In die omtrek van die Gees: ’n Besinning oor die ruimtelikheid van Liturgie.” Praktiese Teologie in Suid-Afrika 23(2), 1–21.

Cillier, JH & Wepener CJ 2007. Ritual and the Generation of Social Capital in Contexts of Poverty: A South African Exploration. International Journal of Practical Theology 11(1), 39–55.

Clasen, F, Bartlett, A, Carstens, C & Schoeman, F 2012. Handleiding vir die erediens. Resensie 5. NGTT. Intyds. Beskikbaar: http://ngtt.journals.ac.za [16 Maart 2016].

De Klerk, BJ 2013. Liturgical Involvement in Society. Perspectives from Sub-Saharan Africa. Noordbrug: Potchefstroomse Teologiese Publikasies.

Hays, RB 1996. The Moral Vision of the New Testament. Community, Cross, New Creation: A Contemporary Introduction to New Testament Ethics. New York: HarperOne.

Hendriks, HJ 2005. Census 2001: Religion in South Africa with Denominational Trends 1911–2001. South African Christian Handbook 2005–2006. Kaapstad: Christian Network. 29, 39–40, 83.

Kunin, SD 1998. God’s place in the world. Sacred Space and sacred Place in Judaïsm. New York: Cassel.

Long, TG 2001. Beyond the Worship Wars: Building vital and faithful Worship. Bethesda: Alban Institute.

Louw, D 2008. Cura Vitae: Illness and the healing of life. Kaapstad: Lux Verbi.

Lukken, G 1999. Rituelen in overvloed. Een kritische bezinning op de plaats en de gestalte van het christelijk ritueel in onze cultuur. Baarn: Gooi & Sticht.

McGrath, AE 2001. Christian Theology. An Introduction, 3rd ed. Oxford: Blackwell Publishing.

McKim, DK 2001. Introducing the Reformed Faith. Biblical revelation, Christian tradition, contemporary significance. Westminister John Knox Press, London.

Migliore, DL 2004. Faith seeking understanding: An Introduction to Christian Theology. Cambridge: William B. Eerdmans Publishing Company.

Müller, J 1990. Die erediens as fees. Pretoria: NGKB.

Niemandt, N 2013. Nuwe leiers vir nuwe werklikhede. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Osmer, R 2008. Practical Theology: An Introduction. Michigan, USA: Wm.B. Eerdmans Publishing Company.

Peterson, CM 2013. Who is the church? An ecclesiology for the twenty-first century. Minneapolis: Fortress Press.

Pieterse, HJC 2001. Prediking in die konteks van armoede. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

— 2009, Prediking oor die koninkryk van God: ’n Uitdaging in ’n nuwe konteks van armoede, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #106. [Intyds]. Beskikbaar: DOI:10.4102/ht s.v65i1.106 [12 Augustus 2016].

— 2011, A church with character and its social capital for projects amongst the poor, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1046. [Intyds]. Beskikbaar: http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i3.1046 [12 Augustus 2016].

Ries, J., & Hendriks, H.J., 2013, ‘Koinonia en diakonia as ’n missionale koninkryksdans’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(2), Art.#1249, besigtig op 11 Mei 2016, by http://dx.doi.org/10.4102/hts.v69i2.1249.

Root, A 2014. Christopraxis. A Practical Theology of the Cross. Mineapolis: Fortress Press.

Rossouw, PJ 1988. Gereformeerde Ampsbediening. Pretoria: NGKB.

Smit, DJ 2009. “Ontdek die eie aard van die gereformeerde erediens.” In: Cas Wepener & Johan van der Merwe (reds.), Ontdekkings in die erediens, Wellington: Lux Verbi BM. 87–108.

Smit, GH 2010. Aanbidding en prediking in missionale gemeentes – homlileties-liturgiese beskouïnge van missionêre gemeentebediening, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art.#313. [Intyds]. Beskikbaar: http://dx.doi.org/10.4102/hts.v66i1.313 [12 Augustus 2016].

Stringer, MD 2005. A Sociological History of Christian Worship. Cambridge: University Press.

Sweet, L 1999. Soultsunami: Sink or swim in new millennium culture. Grand Rapids: Zondervan

Van der Merwe, J 2009a. “Ontdek die nege lense op die erediens”. In: Cas Wepener & Johan van der Merwe (reds.), Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM. 147–164.

— 2009b, “Tien hedendaagse Liturgiese skuiwe”. In: Cas Wepener & Johan van der Merwe (reds.), Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM. 250–251.

— 2009c, “Ontdek die doop en geloofsbevestiging”. In: Cas Wepener & Johan van der Merwe (reds.), Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi BM. 129–146.

Van der Merwe, JC 2014. ’n Narratief vir kerkwees vandag, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70 (1), Art.#2699. [Intyds]. Beskikbaar: http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i1.2699 [21 April 2016].

Van der Merwe, S, Pieterse, H, & Wepener, CJ, 2013. Multicultural worship in Pretoria. A ritual-liturgical case study, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif. [Intyds]. Beskikbaar: http://ngtt.journals.ac.za/pub/article/view/311 [8 Augustus 2016].

Verkuyl, J 1979. The Kingdom of God as the goal of the Missio Dei, International Review of Mission, 68(270), 168–175.

Vos, CJA 1995. Die blye tyding: homilitiek uit ’n hermeneuties-kommunikatiewe perspektief. Pretoria: RGN.

— 2010, Godsbeelde in die liturgie, HTS Teologiese studies/Theological Studies 66(2), 1–5.

Wepener, CJ 2006. Participation and Power: Opportunities for Method and Theory in Liturgical Research from a Changing (Dutch Reformed) South African Liturgical Landscape, Jaarboek voor Liturgie-onderzoek 22, 50–51.

— 2007, Participation and power. Opportunities for method and theory in liturgical research from a changing (Dutch Reformed) South African liturgical landscape, NGTT 48 (3&4), 730–742.

— 2008, Towards a missional liturgy, NGTT 49(1&2), 206–219.

— 2009, From fast to feast. A Ritual-Liturgical Exploration of Reconciliation in South African Cultural Contexts, Liturgia Condenda 19. Leuven: Peeters Pers.

— 2011, Liminality: Recent Avatars of this Notion in a South African Context, Jaarboek voor liturgieonderzoek 27, 189–208.

Wepener, CJ, Swart, I, Ter Haar, G, & Barnard, M, 2010. The Role of Religious Ritual in Social Capital Formation for Poverty Alleviation and Social Development. Theoretical and Methodological Points of Departure of a South African Exploration’, Religion & Theology 17, 61–82.

1 Met dank aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Universiteit van Pretoria.

2 Praktiese Teologie word in dié artikel verstaan as die wetenskap van die teologiese, kritiese en hermeneutiese refleksie op die intensies en betekenis van menslike aksies soos dit in die daaglikse bestaan gestalte vind (Louw 2008:71; Osmer 2008).

3 Long (2001:12) verduidelik dat Blended worship sy wortels in die voorkeure en giere van die individu, in plaas van die evangelie van God het. Die gevolg van hierdie tipe aanbidding is dat die erediens dikwels ’n mengelslaai van verskillende elemente en style is, in ’n poging om iets vir elkeen te bied.

4 Die erediens word in wese verstaan as die samekoms van kinders van die Here met hulle Here (Rossouw 1988:263; Clasen et al. 2007:11). Getrou aan die taal van hierdie navorsing kan ons dus sê dat God die mens ontmoet wanneer God tot die liturgiese ruimte toetree en die mens toelaat om God te leer ken (Cilliers 2008:5-6).

5 ’n Keuse word gemaak vir die erediens as ontmoetingsgebeure, eerder as ontmoetingsgebeurtenis. Hierdeur word beklemtoon dat die navorser nie die erediens verstaan as ’n enkele geleentheid, wat op ’n gegewe plek en tyd plaasvind nie, maar eerder as verskeie ontmoetings, wat op verskillende geleenthede, in diverse ruimtes plaasvind.

6 Gesentraliseerde ruimte verwys daarna dat ’n spesifieke ruimte as heilige plek afgesonder is, soos byvoorbeeld die tempel. Hierteenoor lees ons veral in Genesis van gedesentraliseerde ruimte waar die (Heilige) ruimte so versprei word dat dit in alle ruimtes van die alledaagse lewe kan voorkom. God ontmoet nie vir Moses in die tempel nie, maar by ’n doringbos (Kunin 1998:28).

7 Wepener (2008:215) waarsku tereg dat ’n fyn onderskeiding nodig is tussen ’n missionalistiese liturgie, en ’n missionale liturgie. ’n Missionalistiese liturgie se fokus is om so aantreklik as moontlik te wees met die oog op die sogenaamde seekers, en die waarde van hierdie tipe liturgie word bepaal deur die hoeveelheid persone wat daarby aanklank vind en daardeur getrek word. Alhoewel hierdie nie opsigself sleg is nie, kan dit nie as die sentrale fokus van opregte missionale liturgie beskou word nie.

8 Met die gebruik van die grafiek (figuur 1) om die verband tussen die drie ontmoetings uit te beeld, is die keuse gemaak om ’n sirkel diagram hiervoor te gebruik, met die ontmoeting met God in die middel van die diagram. Hiermee word uitgebeeld dat hierdie ontmoetings nie ’n eenmalige geleentheid kan/moet wees nie, maar ’n voortdurende ontmoetings-siklus wat in die Sondag-erediens, maar ook in die erediens van die lewe afspeel.