Ontvang hiermee die eerste uitgawe van die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif vir 2009, Deel 50 nommers 1 & 2, Maart-Junie 2009. Baie dankie aan die skrywers vir hulle bydraes en mag u as leser groot baat vind by die teologiese navorsing en nadenke wat in al die artikels neerslag gevind het.
By die lys van medewerkers verskyn daar 'n paar nuwe name. Namens die redaksie heet ons u welkom en spreek die vertroue uit dat u samewerking met die NGTT vir u 'n verrykende ervaring sal wees. Terselfdertyd is daar ook 'n naam wat in die toekoms nie meer as 'n medewerker van die NGTT aangeteken sal staan nie. Prof J L (Koekjan) de Villiers is op Sondag 10 Maart tydens 'n kerkdiens in die Azalea tehuis oorlede. Hy en sy eggenote Helene, het vir die afgelope aantal jare daar gewoon. Nog in Maart het prof Koekjan en prof Verhoef met hulle eggenotes van die 150-jarige feesvieringe van die Kweekskool (Fakulteit Teologie, US) bygewoon. Ons dank die Here vir sy lewe, die invloed wat hy op talle studente en in die kerk gehad het en vir sy ryk skriftelike nalatenskap. Ons bid vir sy eggenote en familie die vertroosting van die Here toe.
Ons is ook bewus van 'n aantal van ons medewerkers met wie se gesondheid dit nie so goed gaan nie. Ons dink veral aan prof DA du Toit en dr BA du Toit. Dr B du Toit het onlangs 'n skoonseun aan die dood afgestaan. Ook vir u en u familie bid ons die krag van die Here toe.
Die voordragte van die konferensie wat onlangs op Stellenbosch gehou is – Die Geskiedenis van die Kweekskool en Teologie op Stellenbosch 1859–2009 – word DV gedurende die tweede helfte van die jaar in 'n afsonderlike uitgawe van die NGTT gepubliseer. As intekenaar sal u 'n kopie ontvang. Los kopieë kan bestel word by CLF, by order@clf.co.za
P Coertzen