Brits, HJ & Swanepoel, HJ
Vaal Universiteit van Tegnologie, Vanderbijlpark

Kontekstualisering as voorvereiste vir profetiese prediking in 'n post-apartheidkonteks

ABSTRACT

Contextualising as a prerequisite for prophetical preaching in a post-apartheid context

Prophetical preaching as a type of preaching has the character of practical Word application for the distressed. Prophetical preaching carries a message of comfort, encouragement and hope for the “hopeless”. This article argues that a prophetical preacher within a “post-apartheid” South Africa, has to understand the negative discourse that exists within the context of the distressed. This context has to be interpreted and transformed into a positive narrative through the medium of prophetical preaching.

Profetiese eskatologie konsentreer op God se verlossing wat nog op hierdie aarde en in hierdie geskiedenis plaasvind (Du Rand, 2007:21).

1. INLEIDING

Volgens Dingemans (1996:127) is 'n preek “geen beschouwende verklaring van een alleswetende predikant, maar hulp voor mense in nood. Zicht op bevrijding. Preken zouden daarom meer op zoek moeten gaan naar het geheim van teksten dan naar een alles overkoepelende verklaring”. Die Gereformeerde Kerk in die post-apartheidsera kan nie anders as om diakonale kerk te word nie, en daardeur word geïmpliseer dat haar profetiese stem (duideliker) gehoor moet word. In profetiese prediking behoort daar na die fyn nuanses tussen gepredikte teks en die konteks van die hoorders gesoek te word. Binne die post-apartheidtydvak en nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika is die kerk se betrokkenheid by mense in nood die wesenlike vergestalting van dieselfde kerk se boodskap van die Here se sorgsame liefde – juis vir mense in nood. Hierdie saak is alreeds in 1999 duidelik deur die AKDB (1999:8) uitgespreek, toe die implementering van regstellende aksie (en die impak daarvan vir die blanke – en, vir die doel van hierdie artikel, die etniese groep wat vanaf die bewind van die African National Congress aan die ontvangkant van regstellende inisiatiewe staan), nog nie 'n werklikheid was nie. Hierdie gelowiges is die noodlydendes wat op soek is na hoop binne ’n skynbaar hooplose situasie; net soos die gelowiges wat tydens die apartheidsjare in hul duisende Sondag vir Sondag na troos en hoop geluister het van profetiese predikers soos dié van Emeritus-Aartsbiskop Desmond Tutu. Die kerk het ook ’n taak om die nood raak te sien; nie net van sy eie lidmate nie, maar ook dié van noodlydendes wat buite die invloedsfeer en grense van die kerk leef. Om maar ’n paar tendense in hierdie verband te noem: die slagoffers van die realiteit van ’n MIV/vigs-pandemie, werkloosheid, die morele verval van die gemeenskap, vrees, en die toenemende ervaring van geweldmisdaad.

Die nood van lidmate binne die geledere van die kerk moet ook nie oor die hoof gesien word nie – die hoorders in die Gereformeerde susterskerke ervaar onsekerheid en die impak van die implementering van onder andere die regerende party se regstellende inisiatiewe. Baie het kinders wat noodgedwonge hul vaderland moet verlaat om deel te word van die duisende Afrikaners in diaspora. Soveel van die gelowiges oorweeg om self elders buite die grense van die land ’n heenkome te vind; trouens, feitlik almal het ’n familielid/lede of vriende wat al nuwe burgerskap in ’n ander land aanvaar het, moontlik juis omdat hulle as mense sonder hoop hul eie bestekopname gemaak het en ’n drastiese besluit moes neem. Geweldig baie mense kan weens ouderdom en finansiële omstandighede nie deel word van dié diaspora nie, al ervaar hulle die brandende werklikhede van politieke hervorming. Die kerk moet binne hierdie konteks van toenemende armoede, onsekerheid en wanhoop ’n boodskap van versoening en hoop bring.

2. KONTEKSTUALISERING

Mense leef en bestaan binne kulturele en verstaanbare raamwerke of kontekste (Müller 1996:4). Die kerk moet haar verbind tot effektiewe bediening; dit is, ’n bediening wat nie slegs fokus op die konfessionele (of dan belydende) en Bybelse beginsels nie maar wat ook ruimte laat vir die konteks van die mens wat bedien word (Vorster 1999:25). God werk tog verskillend met verskillende mense (Venter 1988:33). Die prediker moet daarom vanuit die ervaring en belewenis van die hoorders die werking van God en die Heilige Gees kan waarneem.

Tydens profetiese prediking behoort daar gevolglik aandag gegee word aan kontekstuele werklikhede (kontekstualisering) en verder ook aan die invloed van breër verbande op mense se lewensverhale. Vayda (1983:265, 268) beskryf kontekstualisering (konteksanalise) as: “… focusing on significant human activities or people-environment-interactions and then explaining these interactions by placing them within progressively wider or denser contexts.”

Daar behoort op beduidende menslike aktiwiteite en omgewingsinteraksies gefokus te word (Vayda 1983:268, 270, 272). Ons behoort die aksies en interaksies van individue in breër kontekste te plaas, sodat dit meer verstaanbaar kan wees. Dit sal ons help om by ’n holistiese begrip uit te kom. Hoe meer ons die kontekste verstaan, hoe meer sal ons die gepaardgaande tersaaklike aktiwiteite verstaan. Daar is egter nie rigiede raamwerke waarbinne kontekstualisering plaasvind nie. Roth (1997:26) meen ook dat daar nie ’n vaste pad na ’n konteks of ’n kulturele kunswerk is nie. Ons kontekstualiseer voorwerpe vanuit ons eie huidige situasie en ons doen dit volgens ons behoefte. Die onderwerpe wat bestudeer word, verander voortdurend.

Wat verder tydens profetiese konteksgerigte prediking in ag geneem behoort te word, is die diskoerse wat binne sekere kontekste bestaan. Diskoerse binne kontekste speel ’n bepalende rol in die wyse waarop mense hulle werklikhede, kennis en narratiewe konstrueer. In kort is diskoerse bepaalde vaste gelowe wat binne sosiale kontekste bestaan. Dit word dikwels deur mense as “waarhede” aanvaar. Weingarten (1995:12) stel dit soos volg: “… discourses influence what we can know and not know, see and not see, say and not say in complex and subtle ways.” Diskoerse is in instansies, sosiale verhoudings en tekste ingebed (Davies & Harre 2001). McKenzie en Monk (1997:93) verwys na ’n diskoers as ’n “… cluster of ideas produced within the wider culture …” en sê dit is ’n “… useful backdrop to the understanding and application of narrative ideas …”. Dit is duidelik dat daar sekere magte binne diskoerse fungeer. Volgens Drewery en Winslade (1997:35, 36) is ’n diskoers ’n stel verbandhoudende stories (narratiewe) of standpunte oor hoe die wêreld behoort te wees.

Dikwels word mense só in die gang van negatiewe diskursiewe strome meegesleur dat hulle hulle eie werklikhede volgens die gang van die strome konstrueer. Dit lei daartoe dat hulle van hulle eie stemme ontmagtig word. Tydens die dekonstruering van sulke strome behoort persone met nuwe stemme bemagtig te word (Swanepoel 2003:150).

Die vraag wat die profetiese prediker gevolglik moet vra, is: “Wat is die heersende negatiewe diskoerse wat in die kontekste van mense leef?” Negatiewe diskoerse wat binne kontekste bestaan moet gedekonstrueer word en nuwe hoopvolle diskoerse moet vanuit die Skrif daargestel word.

In Suid-Afrika kan tendense soos die MIV/vigs-epidemie, regstellende aksie en misdaad mense tot ’n diskoers van totale hooploosheid vir ons land laat neig. So ’n diskoers mag mense selfs beweeg om die land te verlaat omdat hulle ’n algehele gebrek aan hoop ervaar. Dis hierdie noodlydendes wat Sondag vir Sondag kom soek na antwoorde en hoop wanneer die Woord vir hulle gebreek word. Die prediker moet dus teen die agtergrond van die heersende diskoerse in sy/haar preekvoorbereiding biddend na die Woord gaan, op soek na troos wat relevant is vir ’n gehoor wat sonder hoop is. Die Skrif bied ’n voldoende raamwerk waarbinne elke vraagstuk waarmee die gemeente mag worstel, deurdink en begelei kan word (Crabb 1988:21), waarmee die prediker van teks na konteks kan beweeg om op kreatiewe wyse ’n profetiese boodskap aan die noodlydendes te bring. Kontekstualisering of konteksanalise is ’n noodsaaklike voorvereiste in die maak van ’n profetiese preek. Die prediker moet aan die hand van ’n sosiale- en konteksanalise, met ’n begrip van die heersende diskoers, die wêreld van die toehoorder interpreteer. Die prediker moet dus by ’n punt kom waar hy of sy empatie met die noodlydende beleef. Volgens Kotzé (1991:104) moet die persoon wat die evangelie verkondig, immers eers kennis van sy/haar hoorders asook die wêreld waarin hulle leef, hê. Dit onderstreep die noodsaaklikheid van kontak met lidmate by wyse van byvoorbeeld tradisionele huisbesoek. Verder plaas dit ook ’n verantwoordelikheid op kerkgenootskappe. Kerkgenootskappe behoort op ’n gereelde basis genoegsame betroubare statistiese sowel as kwalitatiewe data aan leraars te verskaf wat hulle kan gebruik om sosiale analises en interpretasies binne eie gemeentekonteks te kan uitvoer (Brits 2001:186), mits hierdie sosiale analise van die kerk nie bloot gedoen is vanuit ’n spesifieke rasperspektief nie (Maimela 1990:35-36). ’n Sosiale analise is dus belangrik omdat dit die oorheersende negatiewe diskoerse interpreteer wat deur profetiese prediking in positiewe narratiewe omskep behoort te word.

Brits (2001:186) is van mening dat die prediker wat in die konteks van die noodlydende werk, in sy/haar analise die klem op daardie segmente behoort te laat val wat lig werp op uitbuiting, verarming en verontregting. Binne die konteks van hierdie studie verwys dit na sake wat tot nood aanleiding gee, onder andere die impak van regstellende aksie, die MIV/vigs-pandemie, toenemende werkloosheid weens die politieke hervormings en die ekonomiese krisis op internasionale en nasionale vlak, die algemene tendens van morele verval, toenemende geweldsmisdaad en die diaspora van soveel Afrikaanssprekende jongmense. Om haar diakonale funksie na te streef en uit te leef moet die kerk nie net die nood na binne nie, maar ook die nood na buite raaksien sodat die Liggaam in beweging gebring kan word, en sodat God se liefde en genade deur middel van diakonale diens kan manifesteer. Slegs dan kan God se liefde demonstratief ervaar en openbaar word, en kan mense volgens Sy Beeld optree : “human beings are seen as the very imag and likeness of God. The path to knowledge of God goes through other human beings” (Berryman 1987:47). Dan kan die gemeente en die kerk weer voetewassers word, dan kan God se liefde en genade tasbaar en kenbaar aan die mens in nood ’n werklikheid word. Wanneer die Liggaam van Christus in beweging kom, verander ’n situasie van hooploosheid in een van hoopvolheid. Die noodlydende kom Sondae kerk toe om in en deur die ontmoetingsgebeure vertroosting en hoop te kan ontvang. Dit sal dus beteken dat die kerk opnuut haar profetiese stem sal moet laat hoor. Dit beteken ook dat die hoorders opgeroep sal moet word om in hierdie situasie van nood liefdesdiens te verrig en na mekaar uit te reik, nie net na die armes in die gemeenskap of buite die grense van die kerk nie, maar ook om demonstratief die hande en voete van Christus vir die lidmate en noodlydendes binne die kerk te word. Die kerk moet dus die lot van die armes eksistensieel kan aanvoel (Pieterse 2001:60) as voorwaarde vir sinvolle profetiese prediking.

3. PROFETIESE PREDIKING

Pieterse (1995:96-111) wys daarop dat De Gruchy die Suid-Afrikaanse profetiese teologie as ’n sosiaal-kritiese en wêreldtransformerende teologie beskou wat eksplisiet in lyn met die boodskap van die Skrif staan. Profetiese prediking is die benadering van die teks vanuit die konteks en perspektief van die noodlydendes. Eksegeties moet die prediker wat vanuit hierdie perspektief werk, vertolk en reageer binne die krisissituasie van die noodlydende en, vir die doel van hierdie artikel, die toenemende armoede onder die sogenaamde blanke gelowiges in die kerk. In profetiese prediking word die prediker die spreekbuis van die lewende handelende God wat optree binne ’n bepaalde krisisgelaaide konteks met ’n krities-kreatiewe woord waardeur verlede en hede, tradisie en krisis evangelies herinterpreteer word (Pieterse 2001:73). Dit word gedoen in terme van ’n nuwe beloftewoord sodat dit nuwe verbeeldingryke lewensmoontlikhede en alternatiewe aan die aanhoorder bied. Volgens Pieterse (2001:73) sou die profetiese inhoud baat by die gepaste profetiese styl en retoriek, naamlik dié van waagmoed, pastorale bewoënheid en nabyheid binne die kring van skeppende gemeenskappe van geloof.

Die profetiese prediker moet dus met sy eksistensiële kennis van die situasie van armoede en nood waarbinne hy of sy preek, bakhand na die Skrif gaan. Die Bybel word gelees vanuit die perspektief van die armes en vanuit die noodlydende se belange. Die prediker gaan dus gekontamineer deur die uitkoms van ’n sosiale analise en die eksistensiële ervaring en kennis van die noodlydende (Brits 2001:251). Pieterse (2001:73-109) wys op die volgende sake wat in gedagte gehou moet word wanneer ’n profetiese prediker ’n gekose teks met die oog op prediking gaan lees:

3.1 Die stem van God in die teks

Die teks moet deur die prediker in die preekmaakproses gelees word om die woorde en die handelinge van die lewende God daarin te vind. Die prediker soek hermeneuties na die stem van die Here; dit is immers wat die hoorders ook tydens prediking wil hoor. Deur middel van die Heilige Gees word die woorde van die teks dinamiese Woordgebeure. Die teks self kom “nuut” binne die situasie (van nood) van die gemeente op ’n aktuele en dinamiese wyse aan die woord.

3.2 Woordgebeure

Die preek van die teks in die spesifieke gemeentelike situasie is ’n vertolkende aktiwiteit en moet getrou bly aan wat die teks self sê. Vertolking in profetiese prediking dui op ’n herinterpretasie van die teks sonder dat die bedoeling van die teks skade ly. Die teks moet ’n bevrydende boodskap vir die noodlydende bring. Die prediker moet dus kreatief te werk gaan in die preekmaakproses om die Skrifgeworde Woord van die teks weer eens woordgebeure te maak met ’n nuwe en aktuele boodskap vir die konteks waarin die hoorders hulle bevind. In die woordgebeure word die prediker deur God aangespreek, wat die prediker tot begrip lei. Die Skrif is immers die resultaat van die werk van die Heilige Gees en daarom kom die Woord weer tot spreke binne die prediking.

3.3 Liturgie

Deur middel van herinnering word God se dade van bevryding in die liturgie gevier. Die Pasga was byvoorbeeld vir Israel ’n herinnering van die verlossingsdade van God deur Israel uit slawerny te red. Die Pasga was nie net ’n herinneringsfees nie, maar ook ’n verwagtingsviering. Die verwagting is geplaas op die komende Messias wat ’n nuwe bevryding sou bring. In die nagmaal, maar ook in die prediking, word die beloftes van God lewend gehou deur herinnering en verwagting. Deur middel van profetiese prediking word die aanhoorders herinner aan God se bevrydende handelinge en woorde in die konteks van nood.

3.4 Krities-kreatiewe hermeneutiek

Met die konteks van die eeu-oue teks tesame met die konteks van die noodlydende moet daar ’n krities-kreatiewe hermeneutiese omgang wees. Dit moet op so ’n wyse gedoen word dat die begrip en die vertolking van die boodskap in die preek nuwe bevrydende beloftes van God in die profetiese prediking inhou. Die hermeneutiese arbeid moet ideologie-krities wees. Alle ideologieë wat die krag van Godswoord in die teks vir die armes verswak, moet blootgelê word. Dit maak nie saak wat die ideologie is nie: of dit Westers, kapitalisties, sosialisties, rassisties, Derdewêrelds of ’n volksgroep se ideologie is nie. Die profetiese prediker moet hierdie ideologie blootlê. Hermeneutiek is altyd ideologie-krities. Die teks moet op ’n kreatiewe wyse geïnterpreteer word sodat die profetiese preek vir die armes waarlik bevrydend kan wees.

Profetiese prediking moet die toehoorder wat werklik voetewasser wil word, aktiveer om in gehoorsaamheid oor te gaan tot handeling. Eers dan kan die situasie van die noodlydende aangespreek en getransformeer word op weg na ’n beter bedeling. Profetiese prediking behoort in ’n profetiese styl verkondig te word, daarom sal die taal, terminologie, gedagtes en gees van die eie tyd gebruik word vir kommunikasie binne die gemeentekonteks.

3.4 Vertolking

Profetiese prediking vra na waagmoed en kreatiwiteit van die prediker in die interpretasieproses. Dit eis ’n vertroue dat die Heilige Gees die verbeeldingryke reaksie op die teks se betekenis sal vergesel wanneer nuwe lewensmoontlikhede – soos die teks dit aanreik - met inspirasie en hoop aan die noodlydendes verkondig word. Hierdie hermeneutiese aktiwiteit wat binne die preekmaak- of homiletiese proses plaasvind, word vertolking genoem (Pieterse 2001:75). Verstaan of begrip gebeur wanneer eksegese lei tot betekenisontwerp van die teks vir ’n verstaan in die hede. Dit sluit aan by die hermeneutiese raamwerk van Gadamer en Ricoeur (Brits 2001:254). Vertolking van die gemeente is ’n kreatiewe respons op die betekenisontwerp. Die betekenisontwerp word in hierdie proses van waagmoedige optrede omgesit in ’n vertolkingsontwerp. In die hermeneutiese proses word eksegetiese metodes gebruik om die wêreld van die Skrif te ontsluit. Die spreke van God in die teks word in die vertolking gesoek. Daar word met ywer gesoek na ’n ontmoeting met God in die teks wat ’n woord van bevryding en bemoediging vir die noodlydende in sy/haar konteks bring.

In die Woord spreek die lewende God self ’n stryd aan teen die kwaad sodat bevryding uit situasies van onderdrukking, ongeregtigheid, armoede en nood bewerkstellig word. Dit is hierdie spreke van God in die Bybel wat vir die situasie van die noodlydende toepaslik gemaak word wat Pieterse “vertolking” noem. Die teks self beskik oor die vermoë om in elke nuwe konkrete situasie ’n nuwe betekenis te skep. Hierdie beskouing sluit aan by die beskouings van Gadamer en Ricoeur en beklemtoon die openheid van die teks (Brits 2001:103-178; Pieterse 2001 62 – 65; Du Toit 1988:36). Aktuele profetiese prediking is moontlik omdat ’n teks oor hierdie meervoudige betekenis of “polivalensie” beskik (Brits 2001:255). Die teks is met ander woorde dus “oop” en “onvoltooid”. Die geïnterpreteerde teks moet daarom altyd herinterpreteer word (Du Toit 1988:45). ’n Korrelatiewe hermeneutiek is daarom nodig om ’n balans tussen tradisie en die huidige situasie te vind. Dit geskied deur die interpretasies van die verlede krities vir die hede te interpreteer (Van der Ven 1993:19).

Die prediker gebruik die teks hermeneuties in ’n nuwe situasie om ’n relevante boodskap, wat die kontemporêre situasie van die aanhoorders aanspreek, moontlik te maak (Jonker 1988:34). In die konteks van profetiese prediking aan die noodlydende moet die teks dus herinterpreteer word met die oog op prediking in die eie konkrete situasie. Dit sluit aan by Pieterse se beskouing van die teologiese uitgangspunt van die homiletiek wat die dinamiese krag van die teks beklemtoon (Pieterse 1979). Die teks kan dus telkens ’n nuwe, aktuele en bevrydende woord spreek. Die gemeente kom ook na die erediens en preek luister met ’n verwagting om die aktuele woord van God duidelik te hoor. Hulle kom met biddende harte om ’n besonderse ontmoeting met God te hê. God moet hulle vandag in hul nood aanspreek, vertroos, bemoedig, versterk, sodat hulle as mense sonder hoop weer mense vervul met hoop en lewenskoers kan word. Die werking van die Heilige Gees in hierdie proses moet nie onderskat word nie. Hierdie verwagting van die aanhoorder maak dit vir die profetiese prediker moontlik om ’n bevrydingswoord op kreatiewe en profetiese wyse te verkondig wat ook in lyn met die teks staan.

3.5 Moralistiese prediking

Die profetiese preek wil die noodlydende vertroos, bemoedig en verlossing bewerkstellig. Profetiese prediking kan die prediker maklik in die strik van moralistiese prediking laat verval in sy poging om te vertroos en te bemoedig of om onreg uit te wys en aan te spreek (Brits 2001:257; Pieterse 1995:109). Die gevaar van moralistiese prediking is dat die genade van God daardeur verontagsaam word, in so ’n mate dat God op die kansel “uitgewis” kan word (Cilliers 1997). Cilliers se studie beklemtoon dat die evangelie van vrye genade nie vanselfsprekend verkondig word nie, maar dat preke oor die algemeen ’n sterk moralistiese inslag het. Dit wil sê die neiging bestaan dat predikers uitsluitlik op die innerlike toestand van die hoorders konsentreer. Cilliers wys in verband met moralistiese prediking daarop dat daar so maklik voorwaardes vanaf die kansel aan die hoorders gestel word. Ons moet in geloof óns hand na Jesus toe uitsteek, Sy hand “gryp” – of ons moet Hom net aanraak “ten einde verlos te word” (Cilliers 1997:2). In hierdie proses word dit wat Jesus gedoen het, verwring tot wat die mens moet doen. Dit is nou nie meer Jesus wat die inisiatief neem nie maar die mens self. Jesus word geteken as Iemand wat “graag wil help” – die indruk word gelaat dat Hy “wil” maar nie in staat daartoe is nie, die mens moet eers iets “doen”.

Wanneer ons dus preek in die konteks van die noodlydende moet die troos van die evangelie lê in die feit dat dit Jesus is wat in genade na die noodlydende kom. Dit is juis Jesus wat in genade Sy hand na die noodlydende uitstrek en Sy genade nie aan voorwaardes koppel nie. Profetiese prediking kan ook maklik tot wettisisme lei; dit wil sê dat die noodlydende as toehoorder onder die vals indruk gebring word dat hulself oor die potensiaal beskik om hul probleme op te los. Hulle moet maar net die appèl wat die prediker maak ter harte neem, hulle moet net sy oproepe en opdragte uitvoer en aan sekere reëls vashou, dan sal hulle die wêreld kan verander en ’n nuwe wêreld vir hulself kan skep. Dit is niks anders as ’n valse mentaliteit van Goddelike manipulering wat op hierdie wyse versterk word (Brits 2001:258). Die klem in wettiese preke word op die vroom potensiaal van die mens gelê. Dit lei tot die ontkenning van die krag van God se genade. Dit is die “potensiaal” van die “vroom noodlydende mens” wat dan die sonde oplos en verlossing bewerkstellig.

4. SAMEVATTING

Profetiese prediking as preektipe dra die karakter van praktiese toepassing van die Woord in die hedendaagse lewe, en in die konteks van hierdie artikel, ’n woord van troos, bemoediging en hoop vir mense sonder hoop. Predikers wat binne ’n konteks van noodlydendes preek moet die diskoerse wat binne die betrokke kontekste bestaan, verstaan. Hulle moet bewus wees van die afbrekende diskursiewe strome wat die gevolg mag hê dat mense hul eie werklikhede negatief konstrueer. ’n Sosiale analise is daarom belangrik aangesien dit die oorheersende negatiewe diskoerse wat deur profetiese prediking in positiewe narratiewe omskep behoort te word, interpreteer. Deur middel van die profetiese preek kan die prediker juis terapeuties die noodlydende bemagtig deur die skep van nuwe hoopvolle diskoerse met bevrydende beloftes wat Skrifgefundeerd is .

BIBLIOGRAFIE

AKDB (Algemene Kommissie vir Diens en Barmhartigheid). 1999. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die mens in nood.
[Beskikbaar op Internet:] http://www.chrisnet.org.za/ng.html.

BRITS, H.J. 1999. Die metafoor in prediking. M. Th.–verhandeling. Pretoria: UNISA.

BERRYMAN, P. 1987. Liberation theology: essential facts about the revolutionary movement in Latin America and beyond. London: I.B. Taurus.

CILLIERS, J. 1997. Die uitwissing van God op die kansel. Kaapstad: Lux Verbi.

CRABB, L. 1988. Understanding people. Hants: Marshall Pickering.

DAVIES, B. & HARRE, R. 2001. Positioning: the discursive production of selves. [Web:] http://www.massey.ac.nz/~ALock/position/position.htm.

DREWERY, W. & WINSLADE, J. 1997. The theoretical story of narrative therapy. (In Monk, G., Winslade, J., Crocket, K. & Epston, D. Narrative therapy in practice. San Francisco: Jossey-Bass. p. 32-52.)

DU RAND, J. 2007. Die A-Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

DU TOIT, C. 1988. Aspekte van die postmodernistiese idioom in die teologie. Theologiae Evangelica 21(1): 36-50.

JONKER, W.D. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.

KOTZÉ, B.J. 1991. ’n Pastorale strategie vir sosiale transformasie. D.Th. – Proefskrif. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

McKENZIE, W. & MONK, G. 1997. Learning and teaching narrative ideas. (In Monk, G., Winslade, J., Crocket, K. & Epston, D. Narrative therapy in practice. San Francisco: Jossey-Bass. p. 82-120.)

MÜLLER, J. 1996. Om tot verhaal te kom: pastorale gesinsterapie. Pretoria:RGN.

PIETERSE, H.J.C. 2000. Koers vir die Afrikaanse jeug: die denke van Beyers Naudé. (Ongepubliseerde manuskrip).

PIETERSE, H.J.C. 1995. Desmond Tutu's message: a qualitative analysis. Kampen: Kok Pharos Publishing House.

ROTH, M.S. 1997. Multiple contextualizations in money, power and history. Art Bulletin, LXXIX(1):25-27, March.

SWANEPOEL, H.J. 2003. ’n Kritiese evaluering van White en Epston se narratiewe hantering van die sosiale konstruk “afwykende gedrag”. Vanderbijlpark: PU vir CHO (Vaaldriehoek kampus) (Proefskrif- PhD).

VAN DER VEN, J.A. 1993. Practical theology: an empirical approach. Kampen: Pharos.

VAYDA, A.P. 1983. Progressive contextualization: methods for research in human ecology. Human Ecology, 11(3):265-281.

VORSTER, J.M. 1995. Die Kerk in nuwe konteks (1). Die Kerkblad, 98(2963): 25 & 27, 10 Mei.

VENTER, C.J.H. 1988. Praktiese riglyne uit die Nuwe Testament vir die pastorale gesprekvoering. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 5: 29-38.

WEINGARTEN, K. 1995. Radical listening: challenging cultural beliefs for and about mothers. (In Weingarten, K. Cultural resistance: challenging beliefs about men, women, and therapy. New York: Harrington Park Press. p. 7-22.)

TREFWOORDE

Profetiese prediking, Kontekstualisering, Post-apartheid, Diskoers, Narratief, Kritiese-kreatiewe , hermeneutiek

KEY WORDS

Prophetical preaching, Contextualising, Post-apartheid, Discourse, Narrative, Critical-creative, hermeneutic

KONTAK BESONDERHEDE

Dr Hans Brits

Vaal University of Technology

Quality Promotion Unit

Private Bag x 021

VANDERBIJLPARK

1911

Tel 016 950 9559/083 629 7445

E-pos: hansb@vut.ac.za

Dr Hennie Swanepoel

NG Melbosstrand

Posbus 400

MELKBOSSTRAND

7437

Tel 021 5531745/082 781 6330

E-pos:hjswanepoel09@gmail.com