Nagmaalviering in die NG Kerk - tussen tradisie en vernuwing. Deel 1
ABSTRACT
The celebration of the Lord’s Supper in the Dutch Reformed Church - between tradition and renewal. Part 1
In a series of three articles, the celebration of the Lord’s Supper in the Reformed tradition is explored. Such a historical reconstruction enables us to weigh the praxis surrounding our current celebration of the sacrament against our tradition and the initial intentions of the Reformers. Therefore this article firstly looks at the current celebration and reception of the celebration of the Lord’s Supper in the Dutch Reformed Church. This liturgical praxis is then placed against the historical development of the sacrament, focussing on Luther, Zwingli, Calvin, London, Frankenthal and the Netherlands. In conclusion some of the often forgotten intentions of the Reformers that came to the fore are highlighted. Part 2 of our series will describe the development in the celebration of the Lord’s Supper in South Africa and thereafter place it within the context of the liturgical praxis concerning the Lord’s Supper in the rest of the Reformed world.
1. INLEIDING
In die Santa Maria delle Grazie-klooster in Milaan is ’n muur met ’n bekende fresko daarop, getiteld “Die Laaste Avondmaal”. Dit het die beroemde Italiaanse maestro van die Renaissance, Leonardo da Vinci, twee jaar geneem om te voltooi. Dit is ook ’n beeld wat met die verloop van die laaste bykans vyf honderd jaar ’n groot invloed uitgeoefen het op hoe mense die eerste nagmaalviering van Jesus en sy dissipels visualiseer. Al dertien van hulle, almal in ’n lang ry agter ’n netjies gedekte tafel, op stoele, Christus met uitgestrekte arms plegtig in die middel, met ses dissipels aan elke kant.
Ammerman et al (1998:17) vertel in hulle boek Studying congregations van ’n klein dogtertjie wat haar ma in die kombuis dophou waar dié besig is om die vlerkies van hoender wat sy wil kook af te sny. Toe die meisie haar vra hoekom sy dan die vlerkies afsny, antwoord die ma: “Want dit is hoe my mamma dit altyd gedoen het.” Gevolglik gaan vra sy haar ouma en dié antwoord: “Want dit is hoe my mamma dit altyd gedoen het.” Uiteindelik vra die meisie haar oumagrootjie en sy antwoord: “Omdat my kastrol te klein was.”
In ’n reeks van drie artikels word die viering van die nagmaal in die gereformeerde tradisie verken. Só ’n historiese rekonstruksie maak dit moontlik om die huidige praktyk rondom die viering van die nagmaal in die NG Kerk in die lig van die gereformeerde tradisie en bedoelings van die Hervormers (veral Calvyn) te ondersoek. Sodoende kan die huidige stand van sake beoordeel word en sal daar dan ook uiteindelik enkele voorstelle op die tafel geplaas word. Hierdie eerste artikel in die reeks verken in ’n eerste afdeling die huidige nagmaalpraktyk en resepsie daarvan in die NG Kerk. Dié praktyk word in ’n tweede afdeling binne sy bepaalde historiese ontwikkeling geplaas, spesifiek teen die agtergrond van die viering van die sakrament in die gereformeerde tradisie. In die konklusie word enkele van die dikwels vergete bedoelings van die Hervormers met betrekking tot die viering van die sakrament belig.
2. PRAKTYK EN TOE-EIENING
Om die huidige nagmaalpraktyk in die NG Kerk volledig te beskryf sal ’n haas onmoontlike taak wees. Soveel gemeentes, soveel variasies op die nagmaalliturgie. In die NG Kerk in Suid-Afrika kry ’n mens vandag klassiek-gereformeerde nagmaaldienste, met ’n volledige formulier en die tradisionele voorbereidings- en dankseggingsdienste; daar bestaan ook liturgiese vierings met litanieë, bykomende simbole, elemente uit die nagmaalliturgie van die Vroeë Kerk en ander variasies op die tradisionele; asook vryer meer ongestruktureerde charismatiese inkledings van die nagmaal. Elkeen van hierdie strome het bepaalde winspunte wat met vrug deur die ander strome aangewend kan word. Wat die toe-eiening van hierdie sentrale Christelike ritueel deur NG lidmate betref, bestaan daar ook leemtes.
Die Algemene Sinode het al by verskeie geleenthede probeer om hierdie hiate te ondervang. So byvoorbeeld is die gebruik van ’n alternatiewe verkorte formulier in 1974 vir die NG Kerk goedgekeur, en nog een in 1998. Heelwat gemeentes gebruik deesdae egter die nagmaalformulier net gedeeltelik of glad nie, of vervang dit met litanieë, ander gebede en variasies ten opsigte van die instellingswoorde, as alternatief of variasie op die tradisionele formuliere (vgl Heyns et al 2001). So het die Algemene Sinode van 1982 gevra vir ’n nagmaalformulier waaraan die gemeente aktief kan deelneem. Vir hierdie doel, en omdat die Sinode van oortuiging was dat meer variasie goed sal wees, het die Algemene Sinode van die NG Kerk van 1998 ook besluit om die Katoliek-Gereformeerde Diensorde goed te keur, asook ’n studiestuk getiteld “Ritueel en simbool rondom die viering van die nagmaal” as riglyn vir gebruik deur die kerk.1
Die hipotese van hierdie artikel gaan uit van die standpunt dat die probleem van toe-eiening van nuwere nagmaalliturgieë deur lidmate, die implementering van ’n weeklikse of maandelikse viering, asook die terughoudendheid ten opsigte van implementering van voorstelle deur kerkrade, veral rondom drie punte sentreer, te wete hulle verstaan van die tradisie, die tydsaspek en die praktiese uitvoerbaarheid van voorstelle. Hoe kan die nagmaal byvoorbeeld weekliks gevier word, en terselfdertyd reg laat geskied word aan selfondersoek? Daarom sal daar nou eers deur middel van ’n diachronies historiese voëlvlug gekyk word na die herkoms van ons huidige nagmaalliturgie in die NG Kerk. Hoe is die gereformeerde nagmaal in die verlede gevier? Wat was die ideale van die Reformatore ten opsigte van die nagmaalviering? Is ons huidige praktyk nog in lyn met Calvyn se beskouings oor die nagmaal?
3. HISTORIESE OORSIG
Ons begin die historiese oorsig deur ongelukkig die eerste 1 500 jaar liturgiegeskiedenis te negeer en kort voor die aanvang van die Reformasie die lyn op te neem. Dit is die tyd toe die Middeleeuse mis2 sterker as enige ander Christelike ritueel tot die verbeelding van gelowiges gespreek het, sodat Wegman (1991:224) die sakrament van die nagmaal (oftewel eucharistie) die kern van die vroomheid van daardie tyd kan noem. Sonder om té negatief te oordeel oor die mis en vroomheid van die laat-Middeleeue, kan sekere wanpraktyke en ’n verwording van die sakrament nagespeur word (Webber 1994:104).3 ’n Vrugbare bodem vir Reformasie, sodat Gerrish (1993:2) van mening is dat Calvinisme tydens die Reformasie ontstaan het as ’n onderskeidende tipe sakramenteteologie.
Hierdie artikel wil egter nie die teologiese ontwikkeling van die nagmaal naspeur nie, maar eerder die vorm van die viering daarvan, al kan vorm en inhoud nie heeltemal geskei word nie. Wat van belang is, is dat daar vanuit die verskillende reaksies van die Reformatore (hier slegs Luther, Zwingli en Calvyn) op uiteenlopende wyses vorm gegee is aan hulle teologiese oortuigings met betrekking tot die nagmaalviering. Soos die bekende spreuk van Prosper van Aquitanië lui, lex orandi lex credendi, soos ons bid so glo ons. Desnieteenstaande was daar konsensus by die Hervormers ten opsigte van drie basiese veranderinge by ’n nagmaalviering. Eerstens moes die gebede in die landstaal vertaal word, en die voorganger moes hoorbaar praat. Tweedens moes alle verwysings na die nagmaal as offer verwyder word. Derdens het hulle die deelname van die lidmate aan sowel die brood as die beker as ’n ononderhandelbare vereiste gesien (Old 1984:126). Vervolgens Luther en Zwingli se inrigting van die nagmaal in kort, en daarna Calvyn se vormgewing in meer besonderhede.
3.1. Luther
Nadat Maarten Luther (volgens Protestantse legende en in lyn met die fenomeen van “created tradition”) op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings teen die deur van die slotkapel in Wittenberg vasgespyker het, het ingrypende hervorming, ook ten opsigte van die liturgie, in volle swang gekom. Luther het baie na aan die oorspronklike misstruktuur gebly, en sy vroeë Formulae Missae van 1523 het herkenbaar teruggegaan op die orde van die mis (met altaar), behalwe dat elke verwysing na die mis as offer vermy is (Wegman 1991:328).4 Luther se bedoeling was dan ook juis om nie iets nuuts te ontwerp nie, maar eerder ’n suiwering en hervorming. Sy 1523-weergawe het hy hersien in 1526 met die sogenaamde Deutsche Messe wat as geheel in die landstaal geskied het; die mense kon self voorgeskrewe liedere sing, die altaar is in die vorm van ’n tafel naby aan die gemeente geplaas en die instellingswoorde is op dieselfde toon gesing as waarop die Evangelielesing tradisioneel plaasgevind het (Boendermaker 1998:236; Wegman 1991:328-329). Verder het hy die instellingswoorde met sy rug na die gemeente gesing, waarna hy die brood en wyn opgehef het terwyl ’n klokkie lui, en dan het eers die mans en daarna die vroue vorentoe geloop, gekniel en die brood (op die tong) en wyn ontvang (Luth 1995:99-100). Luther het vasgehou aan die eenheid van Skrif en tafel, die eenheid van prediking en nagmaalviering, met die gevolg dat hy prinsipieel ten gunste van ’n weeklikse nagmaalviering was (Boendermaker 1998:241). In 1520 het Luther egter nog gepleit vir ’n daaglikse nagmaalviering in die hele Christendom. Hy het nietemin in 1523 slegs opdrag gegee vir ’n viering op Sondae, behalwe as daar diegene was wat dit meer gereeld wou ontvang (Wainwright 1980:327-328).
3.2 Zwingli
In Zürich het die vormgewing van die nagmaalviering by Zwingli anders daar uitgesien as by Luther of by Calvyn. Volgens Engelbrecht (1979:112) het Zwingli vanweë bygeloof rondom die mis, en die feit dat die mis daagliks bedien is, daartoe gekom dat die nagmaal slegs vier maal per jaar bedien is en in Bern slegs drie maal. Hierdie verklaring vir Zwingli se vier maal, naamlik dat die mis daagliks bedien is, is egter nie heeltemal korrek nie, al het ’n daaglikse misviering in die Rooms-Katolieke kerk voorgekom. Die vernaamste stimulus ten grondslag van Zwingli se kwartaallikse viering was nie te veel nagmaal nie, maar eerder te min. So merk Nicholas Wolterstorff op dat daar in Zwingli se gemeente die eeue oue gewoonte aanwesig was om slegs een maal per jaar die nagmaal te gebruik, “and it is not inappropriate to observe that quarterly participation in the Lord’s Supper by the people was in fact an increase for most of them from their previous practice” (Wolterstorff 1992:294).
Wat die frekwensie betref het Zwingli dus met sy radikale hervorming probeer om die frekwensie van nagmaalviering te verhoog, maar het hy die teenoorgestelde tradisie gevestig. Verder moet in gedagte gehou word dat die struktuur van die liturgie, vanaf die tyd van Justinus die Martelaar en die Vroeë Kerk, tot en met die aanvang van die 16de eeu, altyd die twee hoogtepunte van Woord en sakrament gehad het. Ten spyte van sy goeie bedoelings en poging om die frekwensie van die nagmaal te verhoog, het Zwingli in die Heilige Week van 1525 daardie struktuur vir die eerste maal in die geskiedenis van die liturgie van die Christelike kerk verwoes, deur die struktuur van Woord en sakrament uitmekaar te trek en twee aparte dienste daarvan te maak (Wolterstorff 1992:294). Ten spyte van die goeie bedoelings, te wete die terugwen van die Skrif en prediking, die ontvangs van brood en wyn meer as een maal per jaar deur gemeentelede en ’n verhoging van die frekwensie van nagmaalviering, was die konsekwensies van Zwingli se stap monumentaal. So wys Wolterstorff (1992:295) daarop dat die meeste mense in die gereformeerde kerke Zwingli se stap nie as ’n tydelike oplossing gesien het waarmee weggedoen moet word na afloop van die noodtoestand nie, maar as die normale wyse waarop die gereformeerde liturgie ingerig moet word.
3.3 Calvyn
Op hierdie punt is dit nou nodig om Calvyn5 se beskouings ten opsigte van die wyse van nagmaalviering na te speur. Hier is dit belangrik om op die verskille in Calvyn se liturgie te let, afhangende van waar hy hom bevind het, te wete Genève (1533-1538), Straatsburg (1538-1541) en weer Genève (vanaf 1541). In die eerste uitgawe van sy Institusie (1536), nog voordat Calvyn in Genève aangekom of sélf al die nagmaal bedien het, het hy ’n skets vir die nagmaaldiens ontwerp. Hierdie skets was vir hom só essensieel dat hy dit tot en met die laaste uitgawe van sy Institusie (1559) ongewysig kon handhaaf (Dankbaar 1986:46). Barnard (1981:314-315; sien ook Dankbaar 1986:46; Calvyn 1991:1746) vat hierdie skets as volg saam:
• Die nagmaal moet gereeld en minstens een maal per week gevier word.
• Dit behoort te begin met ’n gebed.
• Hierop moet ’n preek volg.
• Brood en wyn moet aan die dienaar gebring en op die nagmaaltafel geplaas word.
• Die voorlesing van die instellingswoorde.
• Die verduideliking van die betekenis van en bedoeling met die nagmaal (nagmaalonderrig), waarby aangesluit word die wegwysing van die persone wat deur die gebod van Christus uitgesluit word (ban).
• Nagmaalgebed tot die Here om die geloof en dankbaarheid te leer en voor te berei vir die regte ontvangs van die gawes.
• Uitdeling van die elemente terwyl psalms gesing of gedeeltes uit die Skrif voorgelees word.
• Na die uitdeling vermaning tot geloof en tot belydenis van die geloof, tot liefde en tot ’n Christelike lewenswandel.
• Dankgebed waarin God gedank en lofsange aangehef word.
• Wegsturing (seën).
Volgens Engelbrecht (1979:113) het Calvyn tussen 1537 en 1561 (nav ses tekste wat hy nagegaan het uit hierdie periode) nooit van opinie verander oor sy standpunt dat die nagmaal weekliks gevier moet word nie. Daarom het Calvyn nog enkele jare voor sy dood (V1564) in 1561 opgemerk dat ’n nagmaalviering van slegs vier maal per jaar te weinig en ’n misstand is (Wegman 1991:331). In Straatsburg het Calvyn ook probeer om ’n weeklikse nagmaalviering in te voer, maar vanweë die weiering deur die magistrate moes hy tevrede wees met ’n maandelikse viering. Tydens sy tweede verblyf in Genève het hy ook toestemming verkry om die nagmaal op Pase, Pinkster en Kersdag te vier, en een maal per maand in een van die drie kerkgeboue (Brienen 1992:58-60). In Genève het Calvyn saam met ander predikante die sogenaamde Ordonnances Ecclesiastiques by die stadsraad ingedien waarin ’n weeklikse nagmaalviering bepleit is, maar hulle (Calvyn en die ander predikante) moes intussen vanweë die swakheid van die volk verlief neem met maandeliks. Hulle het egter nie toestemming verkry vir ’n weeklikse viering nie.
Calvyn neem sy standpunt, naamlik dat die nagmaal baie gereeld gevier moet word, nog verder in Institusie 4.17.44. Na aanleiding van Handelinge en Korintiërs maak hy die volgende stelling: “Dit moet juis so geskied dat geen vergadering van die kerk mag plaasvind sonder die Woord, gebede, deelname aan die nagmaal en aalmoese nie” (Calvyn 1992:1747). In Institusie 4.17.46 verklaar Calvyn dat die gebruik om slegs een maal per jaar nagmaal te vier ’n uitvinding van die duiwel is. En soos reeds vermeld, was Calvyn van oortuiging dat die nagmaal “baie dikwels en ten minste een keer per week aan die gemeente voorgesit” moet word (Calvyn 1992:1746). In 1561 skryf Calvyn nog: “Ek het sorg gedra om in die openbaar te laat aanteken dat ons gewoonte (om nagmaal slegs vier keer per jaar nagmaal te vier) verkeerd is, sodat dié wat na my kom in staat moet wees om dit vryelik en maklik te herstel” (Barnard 1981:334; vgl ook Wainwright 1980:328).
Calvyn se motivering vir die weeklikse viering, benewens die feit dat dit die voorbeeld van die apostels (Hand 20) volg, is dat die nagmaal inhoudelik van groot waarde vir die geloof en lewe van die gemeente kan wees. Indien ons weekliks in liefde en geloof met God verbind word, hoeveel liefde, danksegging en lofprysing sal ons nie in die week aan Hom bring nie? Verder sal ’n weeklikse opregte selfondersoek en die aflê van vyandskap, haat en nyd teenoor ons naaste, en ’n saam aansit met ons naaste, meer liefde, agting en Christelike geluk, rus en vrede in die gemeente bring (Engelbrecht 1979:113).
Dat ’n weeklikse viering vir Calvyn van die allergrootste belang was, is duidelik vanuit die voorafgaande. Die rede waarom hy hierdie ideaal nooit kon verwesenlik nie, is gewoon dat die burgerlike owerhede van Genève en Straatsburg dit nie wou toelaat nie. Volgens Barnard (1981:320) het Calvyn hom sy lewe lank beywer vir die herstel van hierdie fout.
’n Volgende vraag is egter hoe Calvyn die nagmaalviering ingerig het. In die Institusie (4.17.43) maak hy dit duidelik dat die presiese wyse van nagmaalviering vir hom ’n middelmatigheid (adiafora) is, solank die wyse van viering nie indruis teen God se Woord nie. Dit maak dus nie vir Calvyn saak of die gemeente en predikant sit of staan, of die wyn wit of rooi is, of die kommunie lopend geskied al dan nie en of die brood gesuur of ongesuur is nie. Hierdie sake is volgens Calvyn middelmatighede wat aan die vryheid van die kerk oorgelaat word. Hy sien die verskeidenheid soms juis as nuttig, omdat dit wys dat die geloof nie bestaan uit die eenvormigheid van seremonies nie (Dankbaar 1986:46; ook Landman 1999:129). Afgesien van hierdie houding is dit tog interessant om te sien hoe Calvyn sy erediens (wat in beginsel altyd ’n nagmaalviering ingesluit het) ingerig het, aangesien dit tog sy teologiese oortuigings met betrekking tot die erediens weerspieël (lex orandi lex credendi).
Met sy eerste verblyf in Genève het Calvyn aangesluit by Farel se “Maniere et fasson” waarvolgens die erediens ingerig is. Nagmaal het lopend geskied, deurdat eers die mans en daarna die vroue na die tafel geloop het, waar die predikant vir hulle die stuk (gewone) brood (nie ongesuurde ouels nie) in die hand gegee het, asook die beker.6 Die nagmaalgangers het heel waarskynlik gestaan terwyl hulle geëet en gedrink het en daarna teruggekeer na hulle banke.7
Met sy aankoms in Straatsburg, het Calvyn ’n Franse vlugtelingsgemeenskap aangetref vir wie daar wel preekdienste gehou is, maar waar geen nagmaal bedien is nie. Gevolglik het hy die gemeente georganiseer sodat hulle nagmaal kon vier (Barnard 1981:316).8 Tydens sy tyd as predikant van die Franse gemeente in Straatsburg, het Calvyn na alle waarskynlikheid in 1539 ’n kerkboek geskryf waarvan geen eksemplaar meer bestaan nie. Dankbaar is egter van oortuiging dat ons Calvyn se diensorde kan aflei uit ’n werk (wat in 1542 in Straatsburg verskyn het, met Rome as skynadres om die sensuur te vermy) van sy opvolger Pierre Brully, wat niks nie of nouliks van Calvyn afwyk (Dankbaar 1946:49).9 In Straatsburg het Calvyn ook die lopende nagmaal beoefen, met nadruk daarop dat sowel die brood as wyn ontvang moet word tydens die nagmaal. Eers het die predikant ’n stukkie brood afgebreek en geëet, daarna het hy uit die beker gedrink en dan ook die diakens bedien. Mans en vroue het daarna na die tafel gegaan, eers die brood uit die hand van die predikant ontvang en daarna aan die ander kant van die tafel die wyn van die diakens. Vir elke persoon het die predikant individueel gesê: “Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.” En die diaken het gesê: “Die beker wat ons seën, is die gemeenskap met die bloed van Christus.”10 Calvyn het in sy nagmaalliturgie ook die kommunievermaning, wegwysing van onboetvaardiges en uitnodiging van gelowiges opgeneem. Verder word die kommunie-invokasie aan die tafel voor die kommunie uitgespreek, en die gesonge geloofsbelydenis is geplaas “waar die verkondigingsdeel van die diens en die maaldeel bymekaarkom” (Barnard 1981:318-319). Barnard (1981:322-323) vat die hoofmomente van die nagmaal in Straatsburg by Calvyn as volg saam:
• Geloofsbelydenis gesing (waartydens elemente gereed gemaak)
• Konsekrasiegebed
• Ons Vader
• Bede om die regte ontvangs
• Instellingswoorde - 1 Korintiërs 11:23-26
• Wegsturing en vermaning (vry)
• Uitdeling/kommunie (waartydens Ps 138 of ’n ander psalm gesing word)
• Danksegging
• Nunc dimittis
• Seën (Num 6).
Oorspronklik is die hele erediens by Calvyn vanaf die tafel gelei, en die predikant gaan slegs na die preekstoel vir die preek. Mettertyd is die diens al meer vanaf die kansel gelei (Barnard 1981:323). Daar kan aanvaar word dat Calvyn in Straatsburg heel moontlik die meeste liturgiese vryheid beleef het, wat as ’n liturgiese vrugbare tyd in sy lewe gesien kan word. In 1541 keer Calvyn terug na Genève om daar sy werk voort te sit en hy ontwerp allereers die reeds vermelde Ordonnances ecclésiastiques. In hierdie dokument is voorsiening daarvoor gemaak dat brood uitgedeel word deur meer as een predikant en aan meer as een tafel, ten einde die groot toeloop van nagmaalgangers beter te kon hanteer. Die beker is bedien deur die ouderlinge en diakens onder toesig van die predikante, en die gemeente het die elemente staande en lopende ontvang en gebruik (Dankbaar 1986:50-51).11
Indien ’n mens hierdie gegewens met betrekking tot Calvyn se inkleding van die nagmaal vergelyk met die huidige praktyk rondom die nagmaal in die NG Kerk, is dit duidelik dat Calvyn nie die enigste bron was vir die huidige stand van sake nie. Inteendeel, Barnard wys op die invloed van Straatsburg, die Palts, Zürich en Basel. Verder het Nederland se gereformeerde liturgie weens vervolging nie in Nederland self ontstaan nie, maar loop die Nederlands-Gereformeerde liturgiese verbindingslyne via die Nederlandse vlugtelinggemeentes van Londen en Frankenthal (Barnard 1981:353).
3.4 Londen
In Londen het Pollanus Calvyn en Bucer se Straatsburgse liturgie gebruik. Die nagmaal is tweeweekliks gevier, die kommunie het steeds lopend geskied en die leraar het die brood en die diaken die beker uitgedeel. Met verloop van tyd het nog predikante ’n invloed uitgeoefen op die liturgie in Londen, onder andere a Lasco, Micron en Datheen (Barnard 1981:354-361). A Lasco het in 1551 die eerste diensorde in Latyn opgestel wat deur Utenhove in Nederlands vertaal en in 1554 deur Micron in ’n verkorte Nederlandse bewerking uitgegee is. Volgens hierdie ontwikkeling is die nagmaal slegs maandeliks gevier en die deelnemers het aan ’n lang tafel gaan aansit.12 Die predikant kyk na die gemeente en spreek die woorde van 1 Korintiërs 5:7-8 staande en hardop (in teenstelling met die mis waarin die priester se rug na die gemeente gekeer is en die woorde nie altyd hoorbaar was nie), hy breek die brood sittende, eet self eerste en bedien die persone langs hom,13 waarna die borde na die kante van die tafel beweeg. Die predikant het sélf ook eerste die beker gebruik, maar dié is vasgehou deur een van die persone wat langs hom gesit het om enige gedagte aan priesterlike/sakramentele mag te deurbreek (Luth 1995:103). Wanneer een groep klaar was, het hulle die tafel verlaat en ’n volgende groep het kom aansit. Verder is daar tydens so ’n tafelwisseling passende Skrifgedeeltes vanaf die kansel voorgelees en na afloop van die viering is aalmoese by die deure ingesamel vir die armes en die orige brood en wyn is na die armes van die gemeente geneem, in die besonder die siekes en bejaardes (Dankbaar 1986:65). Alhoewel a Lasco beweer dat hy by die opstelling van die Londense kerkorde dié van Straatsburg en Genève tot voorbeeld geneem het, is Barnard van mening dat Zwingli en sy opvolger Bullinger se invloed bespeur kan word. Dieselfde geld van Micron wat “homself nou verbonde gevoel het met Zwingli en met Bullinger” (Barnard 1981:361).14
3.5 Frankenthal
’n Ander plek wat van groot belang is vir die ontwikkeling van die Nederlandse liturgie of, soos Barnard (1981:362) dit stel, waar die Nederlandse liturgie sy beslag gekry het, is Frankenthal (Palts). Nederlandse vlugtelinge het hulle na vele omswerwing onder leiding van à Lasco in Frankfurt aan die Main gevestig waar Micron en Datheen ook later kom help het. In 1562 verlaat Datheen en Van der Heyden, en saam met hulle sestig gesinne, Frankfurt en vestig hulle in Frankenthal (Barnard 1981:362). Hier in Frankenthal het die Nederlandse liturgie sy beslag gekry, deurdat Datheen ’n bundel liturgiese geskrifte saamgestel het wat die hoofsaak was van die liturgiese erfenis van Nederland (Barnard 1981:363). Wat egter vir hierdie artikel van belang is, is die invloed wat Datheen se liturgiese vernuwing uitgeoefen het op die frekwensie en wyse van nagmaalviering in die Nederlandse kerk.
By die Sinode van Emden in 1571 is besluit dat gewone brood by die nagmaal gebreek en gebruik moet word (die Sinode van Dordrecht in 1578 het wél wafels toegelaat, maar net solank daar geen figure op afgedruk was nie). Die vraag na staande of sittende nagmaal is as ’n “middelmatigheid” gesien. Tydens die Sinode van Dordrecht in 1574 is Datheen se liturgiese geskrifte aanbeveel en besluit dat die nagmaal elke twee maande gevier moes word. Hiermee saam dat dienaars en ouderlinge die lidmate voor die nagmaal moes besoek en dat ’n preek met die oog op selfondersoek voor die nagmaal gehou moes word. Verder word sit of staan tydens nagmaal steeds as middelmatighede gesien, maar kniel is uit weens die gevaar van bygeloof. Verder oordeel die Sinode dit wenslik dat lidmate tog maar die gewoonte van staande kommunie geleer moet word (Luth 1995:104).15 Tydens die viering kon die Skrif gelees en psalms gesing word, by die uitdeling is die woorde van 1 Korintiërs 10:16 gebruik plus die Londen appendix. Die tweemaan-delikse nagmaalviering is by die Sinode van Middelburg in 1581 herbevestig, asook by die Sinode van Den Haag in 1586, maar dié het bygevoeg dat die nagmaal ook op Paasdag, Pinksterdag en Kersdag moet geskied, terwyl die Sinode van Dordrecht in 1618/1619 die besluit ten opsigte van die tweemaandelikse viering herhaal het (Dankbaar 1986:79-88; ook Barnard 1981:365-370). Siekenagmaal is egter nie toegelaat nie, alleen nagmaal in kerkdienste (Luth 1995:106).
Datheen het geen vaste vorm vir die viering van die nagmaal voorgeskryf nie en gevolglik was daar geen uniformiteit in gemeentes nie. Teen die middel van die 17de eeu is die nagmaal dikwels verdeel in ’n oggend- en middagdiens, en in sommige gemeentes is die nagmaalviering oor die verloop van twee opeenvolgende Sondae versprei ten einde dit vir meer persone moontlik te maak om dit by te woon. Viering het ook meestal sittende by tafels geskied en dit was algemene gebruik om te vas voor die nagmaal (Luth 1995:107). Alhoewel ’n mens tereg kan sê dat die nagmaal hier gevier is, was dit ’n erg lerende vorm van viering, ’n erfenis wat deesdae al hoe meer deur gereformeerde kerke vervang word met ’n vierende, gedenkende vorm (Barnard & Vos 2001:25).
3.6 Ander gereformeerdes in Nederland en verdere ontwikkelings
Calvyn se opvolger in Straatsburg, Brully, was in 1545 vir ’n kort periode tot en met sy marteldood, predikant in Doornik. Volgens Dankbaar (1986:81) kan ons veronderstel dat wanneer Brully in Doornik die nagmaal bedien het, dit staande en lopende sou geskied het, geskoei op Calvyn se eie gebruik. Dieselfde geld heel waarskynlik van De Brès se bediening (1552-1567) in die Suide van Nederland, wat in 1559 ’n periode lank by Calvyn in Genève gestudeer het. Ook in die Martinikerk in Groningen is die nagmaal meer as twee eeue lank (vanaf 1594) staande en lopende gevier, waartydens die deelnemers in ’n lang stoet van die skip na die koor van die kerk beweeg het, waar hulle van twee predikante die brood en beker ontvang het. Staande en lopende kommunie het ook in Friesland voorgekom en op heelwat ander plekke in Nederland (Dankbaar 1986:81). Die enigste uitdruklike beskrywing van ’n nagmaalviering waartydens lidmate in hulle banke bly sit het terwyl die voorganger en diakens rondgaan met die brood en wyn, sogenaamde nagmaal by omdeling, is gevind by die Dopers in Nederland. Hierdie vorm van viering word tot vandag nog by hulle gevind (Dankbaar 1986:84).
4. KONKLUSIE
Met verloop van tyd het die frekwensie van die nagmaal in Nederland gedaal en is Calvyn se ideaal so vaarwel toegeroep en ongemerk ’n keuse vir Zwingli se kwartaallikse viering gemaak. Waar Luther ’n voorstander van ’n daaglikse viering was, was Calvyn ’n voorstander van ’n week-likse viering. In Londen word egter ’n tweeweeklikse viering aangetref en ’n tweemaandelikse viering vanaf Datheen, wat uiteindelik ’n kwartaallikse viering geword het.
Saam met hierdie ontwikkeling ten opsigte van die frekwensie het die nagmaal sy vreugdekarakter verloor en al hoe meer net ’n herdenking van Christus se dood geword, vol rou en droefheid.16 Die preek is ook onder invloed van die rasionalisme en individualisme al hoe meer as die eintlike erediens beskou en die ander liturgiese elemente is as bykomend gesien (Barnard 1981:371). Hierdie ontwikkeling is vreemd aan Calvyn se eie siening ten opsigte van die eenheid van Woord en sakrament. Vir Calvyn moes daar nie net by elke sakramentsbediening ’n Woordbediening wees nie, maar by elke Woordbediening, blyk dit, ook ’n sakramentsbediening. Verder was dit ook vir Calvyn belangrik dat albei elemente ontvang moes word, sowel die brood as die wyn. Alhoewel gereformeerdes die vorm van die viering in hulle geskrifte as ’n middelmatigheid gesien het, verklap hulle handelinge dikwels iets anders. Hoe dit ook al sy, afwisseling in die wyse van viering is as iets goeds gesien. Die vorm wat hulle eksperimentering aangeneem het, kan vandag ook met vrug gebruik word in ons eie eksperimentering met nuwe/ou nagmaalliturgieë. Dit word duidelik vanuit hierdie historiese oorsig dat aksies soos staan, loop, die vorming van sirkels, die aanspreek van elke nagmaalganger individueel deur die predikant, en ’n predikant wat feitlik die hele erediens vanaf die tafel lei, deel is van ons gereformeerd liturgiese erfenis.
Hierdie nagmaalliturgieë van Luther, Zwingli, Calvyn, a Lasco, Micron en Datheen is van besondere belang vir die verstaan van die liturgie van die NG Kerk, aangesien dit ’n groot invloed uitgeoefen het op die liturgie van Nederland en van Datheen waaruit die NG Kerk-liturgie oorgeplant is in Suid-Afrika. Dan was daar uiteraard oor die verloop van 350 jaar ook nog allerlei invloede vanuit Nederland en gebeure op eie bodem wat die wyse van nagmaalviering beïnvloed het. Hierdie verdere ontwikkelinge sal in deel 2 van ons reeks oor die gereformeerde nagmaalviering aan die orde kom.
BIBLIOGRAFIE
Agenda vir die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998.
Ammerman, N T 1998. Studying congregations. A new handbook. Nashville: Abingdon Press.
Barnard, AC 1981. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.
Barnard, M & Vos, C J A 2001. ’n Besinning oor die liturgie, teorievorming, ondersoek en praktykvorming. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 16/2,17-32.
Boendermaker, J 1998. Maaltijd van de Heer: oecomenisch-protestant, in Oskamp, P & Schuman, N (reds). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Meinema: Zoetermeer.
Bosch, R A 1999. Rouwsluier over de Tafel van de Heer? Over de herkomst van de avondsmaalviering op de Goede Vrijdag. Eredienstvaardig 15/1, 7-11.
Brienen, T 1992. Oriëntasie in de liturgie. Theologie in reformatorisch perspectief. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum B V.
Calvyn, J 1541. Short treatise on the Lord’s Supper, in Reid, J K S (red) 1984. Calvin Theological Treatises. Library of Christian Classics: Ichthus Edition. Philadelphia: The Westminster Press.
Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens, Deel 4. Vertaal deur H W Simpson. Potchefstroom: CJBF.
Calvyn, J 1972. Uitlegging op den Eersten en Tweeden Zendbrief van Paulus aan de Corinthiërs. Vertaal deur AM Donner. Goudriaan: W A de Groot. Calvyn, J 1971. De Evangelieën van Mattheus, Markus en Lukas, in Onderlinge Overeenstemming Gebracht en Verklaard. Vertaal deur A Brummelkamp. Goudriaan: W A de Groot.
Dankbaar, W F 1986. Communiegebruiken in de eeuw der Reformatie. Groningen: Instituut voor Liturgiewetenschap van de RUG.
De Gruchy, J W 2001. The future of Reformed Churches in South Africa. Some random notes and reflections. Scriptura 76, 43-49.
Engelbrecht, B J 1979. Temas rondom die Reformasie. Pretoria/Kaapstad: HAUM.
Gerrish, B A 1993. Grace & gratitude. The Eucharistic Theology of John Calvin. Minneapolis: Fortress Press.
Handelinge van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1998.
Heyns, M et al (reds). Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die Leesrooster vir lidmate.
Stellenbosch: BUVTON.
Landman, G 1999. Het delen van brood en wijn. Verschillende vormen voor het vieren van het heilig Avondmaal. Eredienstvaardig 15/4.
Luth, J R 1995. Churches of the Dutch Reformation, in Caspers, Lukken & Rouwhorst (reds). Bread of heaven. Customs and practices surrounding Holy Communion. Essays in the history of liturgy and culture. Liturgia Condenda 3. Kampen: Kok Pharos Publishing House.
Old, H O 1984. Guides to the Reformed Tradition. Worship that is Reformed according to Scripture. Atlanta: John Knox Press.
Smit, D J 1982. Die prediking by die nagmaal, in Burger, Müller & Smit (reds). Woord teen die lig 4. Riglyne vir nagmaalsprediking. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Tripp, D H 1992. Protestantism and the Eucharist, in Jones, Wainwright, Yarnold & Bradshaw (reds). The Study of Liturgy. Londen: SPCK.
Vrijlandt, M A 1987. Liturgiek. Delft: Meinema.
Wainwright, G 1980. Doxology. The praise of God in worship, doctrine, and life. ASystematic Theology. New York: Oxford University Press.
Webber, R E 1994. Worship old & new. A biblical, historical, and practical introduction. Revised Edition. Grand Rapids: Zondervan Publishing House.
Wegman, H A J 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.
Wolterstorff, N 1992. The Reformed liturgy, in McKim, D K (red). Major themes in the Reformed tradition. Grand Rapids: W B Eerdmans.
1 Sien Agenda van die Algemene Sinode van die NG Kerk 1998:251, 256-265, asook Handelinge 1998:511.
2 Die Rooms-Katolieke benaming “mis” het eers in die vierde eeu na vore gekom en dui op die Latyn vir die seën of wegstuur na afloop van die viering, ander terme is eucharistie of danksegging, nagmaal, “Lord’s Supper”, “Holy Communion” en Laaste Avondmaal om ’n paar te noem. Vir meer hieroor sien gerus Smit (1982:16).
3 Ander ontwikkelinge was dat misse “gesê” is vir soldate op die slagveld met dié oortuiging dat hulle nie sal sterf solank die priester besig is met die mis nie, dat niemand skielik sal sterf gedurende ’n mis nie, dat kos beter smaak na bywoning van ’n mis en dat misse vir lewendes en dooies “gesê” kan word. Webber (1994:104).
4 Vir ’n handige oorsig van die hervorming van die nagmaal deur Luther, Zwingli en Calvyn, sien Tripp (1992:294-309).
5 Calvyn se standpunt ten opsigte van die nagmaal word op ’n aantal plekke aangetref waarvan van die belangrikstes die volgende is: “Short treatise on the Lord’s Supper”, “Confessing of Faith concerning the eucharist”, “Summary of doctrine concerning the ministry of the Word and the sacraments”, en Institusie van die Christelike geloof Deel 4, hfst 17 en 18.
6 In al sy werk oor die nagmaal, insluitende sy kommentare op Matteus, Markus, Lukas en 1 Korintiërs, trek Calvyn sterk te velde teen die Roomse gebruik om slegs die brood aan die nagmaalgangers te bedien. Dit laat ’n mens onwillekeurig wonder of die wyse van viering werklik vir hom maar net ’n middelmatigheid was.
7 Farel het vir die eerste keer volgens sy “Maniere et fasson” die nagmaal op 24 Desember 1536 bedien. Daar was egter een vorige onwettige nagmaalviering op Witte Donderdag 10 April 1533, toe die hervormingsbeweging nog verbode was. By hierdie viering wat in ’n tuin in Genève plaasgevind het, was bykans tagtig mense teenwoordig, die voorganger was die evangelis en kousemaker Guérin Muète wat heel waarskynlik Farel se liturgie gebruik het (vgl Dankbaar, W F 1986:46-48; Landman 1999:129; Barnard 1981:314-315).
8 Tydens sy verblyf in Straatsburg het Calvyn ook sy werk oor die nagmaal, waarmee hy probeer het om te medieër tussen Zwingli en Luther in hulle stryd oor die sakrament, klaargemaak. Sien Calvyn se “Short treatise on the Lord’s Supper” van 1541 (Reid 1984).
9 ’n Boheemse broer wat Straatsburg in 1540 besoek het, beskryf Bucer se nagmaalliturgie in dieselfde stad as volg: “Vóór de tafel zijn treden waarop het volk knielt. Sommigen wordt het brood in de hand gegeven, anderen in de mond gelegd” (Landman 1999:129).
10 Volgens Pollanus wat die Straatsburgse praktyk oorgeneem het na Engeland en dit daar in 1551 gepubliseer het (Landman 1999:129, asook Dankbaar 1986:52-53).
11 Dankbaar is egter van oortuiging dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die ouderlinge (raadslede) aan die uitreiking van die bekers deelgeneem het, synde dit vermoedelik benede hulle stand sou gewees het.
12 Die sittende nagmaalviering is gedoen as ’n kollektiewe maal, as teken van rus en vrede met God, as voorafskaduwing van die Messiaanse banket, en as beeld van eenheid en liefde in die hele gemeenskap. Vergelyk o a Vrijlandt (1987:96), Luth (1995:102) en Dankbaar (1986:63).
13 Terwyl hy die brood vir die persone naaste aan hom gegee het, het die predikant gesê: “Nemet, etet, ghedencket ende gheloouet, dat het lichaem ons Heeren Iesu Christi inder doet, aen de galghe des cruyces gheleurt is, tot vergiffenisse aller onser sonden.” Hierdie woorde het later bekend geword as die sogenaamde Londen appendix (Luth 1995:102).
14 Vir meer detail aangaande die nagmaalviering in die gemeente in Londen, sien Dankbaar (1986: 60-66) asook Luth (1995:101-103).
15 Luth merk tereg op dat hierdie uitlating van die Sinode duidelik verklap dat die wyse van nagmaalviering nie werklik vir hulle ’n middelmatigheid was nie. Volgens Dankbaar (1986:80) is op las van die State van Holland en Zeeland in 1576 ’n voorskrif opgeneem in die kerklike wette, waarvolgens die nagmaal “ordentlick al passeerende” uitgereik moes word. Hierdie wet berus op ’n praktiese oorweging, naamlik om die bediening te bespoedig.
16 Sien o a Bosch (1999:7-11), asook Barnard (1981:372). Volgens De Gruchy (2001:49) het gereformeerde aanbidding ’n vorm van onderwys geraak, sodat selfs die nagmaal didakties in plaas van vierend geword het.