God ons Vader en die kerk ons moeder? Deel I
ABSTRACT
The signifisance of the church in the life of the current members of the congregation. Part 1
During the centuries christians understood the church as a very important part of their lives. The classical way of expressing this truth is the statement that when God is one’s Father the church is one’s mother. Since the nineteenth century this perception of the importance of the church changed drastically. Even members have a negative opinion of the church which they support. One of the contributing factors is the impact of the liberal theology of the nineteenth century known as the Moderne Richting. The first article traces the roots of this trend in the theology and characterise it. The second one pauses at one of the products of this theology, DP Faure founder of the Free Protestant Church in Cape Town.
DIE HERKOMS VAN DIE MODERNE RIGTING
Deur die eeue heen het die kerk in mense se lewe nie altyd dieselfde plek ingeneem nie. Die rol van die kerk gaan in ’n groot mate saam met die manier waarop lidmate oor godsdiens en die kerk dink. Soms is hierdie denke ook nie bewustelik nie, maar deel van die algemene denkraam van die tyd waarin ’n mens lewe en is dit eerder ’n onbewuste ingesteldheid teenoor die kerk. Die vraag ten grondslag van hierdie twee artikels is waarom die kerk skynbaar vir die huidige lidmaat nie meer dieselfde waarde het as wat dit in die dae van die Hervorming gehad het nie. Die eerste artikel karakteriseer een van die redes, die sogenaamde Moderne Rigting in die teologiese strominge van die negentiende eeu histories. Die tweede artikel laat val die lig op een van die produkte van hierdie stroming, DP Faure die stigter van die Vrye Protestantse Kerk in Kaapstad.
Die kerk tydens die Middeleeue
Die tydstip in die geskiedenis waar ons moet begin om ons situasie vandag te verstaan, is so ver terug as die Middeleeue. Gedurende die Middeleeue was die kerk in volle beheer van die lewe. Die “filosofie” waarop dit berus het, was dat die Koninkryk van die Hemel en die kerk identies is. Die kerk is gesien as God se verteenwoordiger en in baie opsigte God se plaasvervanger op aarde. Die kerk het dan ook die landsregering aan die koning verleen. Daar was bitter min waaroor die kerk nie die seggenskap gehad het nie. Die besluite en die uitsprake van die kerk en belangrike kerkfigure het elke mens se lewe bepaal want daarvan het afgehang wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is, wat sonde en verpligting is, hoe jy gered word en waaroor jy verlore gaan.1 As die priester meen dat jy jou enigste melkkoei aan die kerk moet skenk en jy weier, kon jy vir ’n onbepaalde tyd in die tronk beland en as misdadiger gebrandmerk word. Wat dit vererger het, is dat die kerk hoe langer, hoe meer van God vervreemd geraak het en as’t ware vir God vervang het. Dr H Bouwman druk dit so uit: De kerk leidde de vroomheid in de bedding, door haar gegraven. Van het oogenblik, dat iemand geboren werd, tot zijn laatsten snik, stond de mensch onder de zorg en de leiding van de kerk. Ja, ook dan nog liet de kerk den mensch niet los, want zij geleidde hem door haar sacrament achter den dood door het vagevuur heen naar de plaatz de eeuwige gelukzaligheid, of zij liet den onboetvaardige over aan de kwelling van de machten der duidsternis. Maar door dit alles werd het natuurlijke leven geknecht en ging de vrijheid van den Christenmensch verloren.2
Die kerk na die Hervorming
Die herlewing wat vandag die Hervorming of Reformasie genoem word, het hierdie absolute mag van die kerk verbreek. Verskeie voorlopers het ’n rol gespeel, maar die begin van die Hervorming word gewoonlik aangedui as Oktober 1517 toe Martin Luther sy vyf en negentig stellinge teen die deur van die kasteel van Wittenberg vasgespyker het. In Genève was dit Johannes Calvyn wat sedert die 1530’s die Hervorming deurgevoer het deur dit prakties in die stad te laat plaasvind en teologies verwoord het in sy Institusie van die Christelike Godsdiens. Die Hervorming het die mag van die kerk verbreek deurdat dit die gesag wat die kerk deur die Middeleeue gehad het aan die Woord van God (Bybel) toegeken het en die kerk self aan die Bybel onderwerp het. Die natuurlike lewe van die gelowige is bevry van die verknegting deur die kerk.3
Die kerk was steeds belangrik want die kerk moes die Bybel vir die lidmate toeganklik maak. Die verskil was egter dat die lidmate nou kon saampraat oor die Bybel, God se bedoeling met wat in die Bybel staan en die verstaan daarvan. Hulle was die kerk. Die kerk moes hom skik na God se soewereiniteit soos dit uit die Bybel begryp is deur die gemeente en nie volgens die besluite van ’n paar belangrike figure wat namens die kerk praat nie. Die kerk was nie meer die despoot van die Middeleeue nie. Die tweede verskil wat dit meegebring het, was dat die Koninkryk van die Hemel nou gesien is as meer en omvattender as die kerk. Die kerk het in diens gekom van die Koninkryk en was nie meer die Koninkryk en dus ’n doel op homself nie. Die derde verskil wat hier genoem moet word, is dat die Hervorming ’n duidelike onderskeid tussen die landsregering en die kerk ingebring het. Regerings was dankbaar dat die kerk nie die land wou regeer nie, maar het hard probeer om die kerk te regeer sodat hierdie beginsel van die Hervorming nie so maklik deurgewerk het nie.4
Een van die beginsels wat sterk deur die Hervorming beklemtoon is, was dat die kerk altyd aan die hervormd is. Dit hou nooit op om self suiwerder kerk aan die hand van die Bybel te word nie. Dit bly vra na die wil en die gehoorsaamheid aan God. Hierdie beginsel verkry eers sy omvattende betekenis as ’n mens begryp waarvandaan die woorde gereformeerd en hervorm kom. Tydens die eeu wat die Hervorming vooraf gegaan het, is in die Nederlande van iemand wat tot bekering gekom het, gepraat dat hy gereformeer het en nou een van die hervormde mense is.5 Die bedoeling van die Hervorming was dat sowel lidmaat as kerk/gemeente nooit kan ophou ontwikkel in die geloof nie. En tog het daar mettertyd ’n verstarring ingetree.
Die hoogtepunt van die Hervorming was die Sinode van Dordt in 1618-1619. Die gereformeerdes in Engeland, Switserland, Frankryk, Duitsland en die Franssprekende gemeentes in Nederland was uitgenooi om saam met afgevaardigdes van die Nederlandse Kerk die saak van die uitverkiesing te besleg. Twee beskouings het bestaan. Die een groep het geglo dat ’n mens die vrye wil het om in Christus as jou Saligmaker te glo of nie te glo nie. Jou geloof is dan die deurslaggewende faktor in jou verhouding met God. Hulle is die Remonstrante of na hulle Nederlandse leier, Arminius die Arminiane genoem. Hulle was ook van oortuiging dat die landsregering kerksake moes regeer. Die ander groep, die Kontraremonstrante het geglo dat God deur middel van die uitverkiesing bepaal wie wedergebore word en wie nie. Die wedergeborenes vind hulle verlossing in Christus. Al beleef hulle dit as ’n wilsbesluit om tot bekering te kom, is bekering ’n noodwendige reaksie op wat God reeds in hulle gewerk het. Hulle oortuiging was dat die kerk nie deur ’n instansie buite die kerk – soos bv die landsregering - geregeer kan word nie. Omdat Christus self sy kerk regeer deur sy Woord en Gees, moet dit geskied deur middel van kerkmense in gehoorsaamheid aan die Skrif.
Die Franse koning het nie toegelaat dat die Franse Kerk ’n afvaardiging na die Sinode van Dordt stuur nie en van die Engelse afvaardiging was biskoppe wat meer simpatie met die Remonstrante gehad het en selfs gepleit het vir ’n biskoplike (of episkopaalse) stelsel van kerkregering. Die stryd is egter beslis ten gunste van die Kontraremonstrante en is verwoord in die Dordtse Leerreëls en die Kerkorde van Dordt. Die Dordtse Leerreëls (’n verklaring van art 16 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) is saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1563) aanvaar as die belydenisgrondslag van die gereformeerde kerk. Die Kerkorde van Dordt het die inrigtingsbasis geword van alle gereformeerde kerke. Die Sinode van Dordt het ongelukkig die monument van die Hervorming geword want die beweging het na 1619 sy momentum verloor. Die Nederlandse regering het nie toegelaat dat daar weer ’n nasionale sinode van die protestantse kerk gehou is nie totdat kerkomstandighede en regeringsvorm in 1795 radikaal verander het na die Franse Revolusie van 1789.
In Nederland is pogings aangewend om die Hervorming weer aan die gang te kry. Bekendste hiervan is die sg Nadere Reformasie reeds in ongeveer 1636. Gisbertus Voetius wat as jong predikant die Sinode van 1618-1619 bygewoon het, wou die Hervorming verder voer deur die geloofsleer van die Hervorming in ’n praktiese lewenswyse te laat realiseer. Hy het van kleingroepe (konventikels) in die gemeente gebruik gemaak. Na sy dood in 1676 het die konventikels vir hulle lede die gemeente vervang en het dit uitgeloop op ’n dwepery. Pogings om nader te reformeer kom tot vandag toe nog voor, maar het nooit weer momentum gekry en ’n beweging geword soos die Hervorming nie. Ernstige aanhangers van die Hervorming is meer dikwels die ortodoksie genoem. Met ortodoksie word gesinspeel op ’n kerk waarvan die leer klaar ontwikkel het en by wyse van spreke in konkreet gegiet is, terwyl dit ook sy belang verloor het. Die saak is finaal afgehandel en is nie meer oop vir bespreking nie. Hierdie term kom vanuit ’n verwysing na die Grieks-Katolieke6 of Oosters-Ortodokse Kerk waarin die leerinhoud van die geloof nie meer aandag kry nie, terwyl die saamwees en die belewenis van die saamwees die eerste prioriteit is. Dit is ironies dat die gereformeerdes7 wat so fyn onderskei het in die geloofsleer en van die beginsel uitgegaan het dat reformasie nooit ophou nie met dié skeldnaam juis verwyt is dat hulle in konkreet gegote leer nie vir hulle belangrik is nie.
Teen die einde van die sewentiende eeu en vir die duur van die agtiende eeu was die gereformeerde leer sonder lewenskrag. Dit het tot ’n stilstand gekom omdat dit hoofsaaklik besig gebly het met die instemming en aanvaarding van leerstellinge wat tydens die bloeitydperk van die Hervorming geformuleer is. In die Nederlande was dit die stryd tussen die Voetiane se verheerliking van die letter van die Skrif en die Coccejane se vergeesteliking van die Ou Testament wat die aandag in beslag geneem het. Soos meermale die geval is, het die politiek ook hierin ’n woord meegespreek. Die volgelinge van Gisbertus Voetius (1589-1676) was prinsgesind en die volgelinge van Johannes Coccejus (1603-1669) was staatsgesind. Die stryd tussen die twee groepe het meer as ’n eeu lank geduur, is vanaf kansels aangeblaas en het niks bygedra om lewenskrag aan die protestantisme te gee nie. Die geloofslewe van die Metodisme en die piëtisme het ’n groter impak gemaak op gelowiges as wat die ortodokse protestantisme gehad het.8
Die opkoms van die moderne rasionalisme en wetenskapsbeskouing
Dieselfde tyd as Voetius en Coccejus het ’n Fransman geleef wat die wêreld se manier van dink verander het. René Descartes of in Latynse vorm Renatus Cartesius (1596-1650) was ’n wiskundige wat sy wiskundemetode op die wysbegeerte van toepassing gemaak het. Soos in wiskunde begin kennis vir hom by ’n onweerlegbare stelling. Met logiese denke maak jy dan deur middel van deduksie afleidings om by ’n gevolgtrekking uit te kom. Die gevolgtrekking of resultaat is die enigste kennis waarvan jy seker kan wees. Hierdie denkproses het die maatstaf geword van die moderne wetenskap. Die wetenskaplikheid van enige saak word getoets aan die metode waarlangs tot die resultaat gekom is. As die metode nie die toets slaag nie, is die saak nie wetenskaplik nie.
Wysgerig moes Descartes ’n basisstelling vind wat nie betwyfel kan word nie. Sy antwoord was dat as hy aan alles twyfel hy net van een ding seker kan wees. Dit is dat hy twyfel. Om te kan twyfel, moet hy egter dink. En om te kan dink, moet hy bestaan. Sy gevolgtrekking is dat omdat hy dink, bestaan hy. Bekend is sy basiese stelling in Latyn: cogito, ergo sum. Daarmee het hy die menslike verstand of rede die bron van alle betroubare kennis gemaak en die logiese redenering tot die enigste wetenskaplike metode verhef. Descartes self het waarskynlik nie besef watter vuur hy aan die brand gesteek het nie. Nadat van sy volgelinge die konsekwensies van sy denke verder uitgewerk het, het hierdie denkwyse die Westerse wêreld spoedig oorweldig en diep spore ook in die godsdiens, teologie en kerklike lewe getrap. Descartes is die vader van die rasionalisme waardeur die wetenskap geblom en die godsdiens pynlik gebloei het.9
Die lewe wat in die Middeleeue deur die kerk verkneg en deur die Hervorming aan die Bybel geketting was, kon nou deur die redelikheid bevry word. Die wetenskap het die potensiaal om alle probleme te hanteer en op te los. Die wêreld kan nie anders as om ’n beter plek te word nie. Die volmaakte was op hande. Daar het in die eerste helfte van die negentiende eeu ’n optimisme geheers wat net nie gedemp kon word nie. Charles Darwin (1809-1882) se oupa, Erasmus Darwin (1731-1802) het al die evolusie-gedagte verkondig in The temple of nature. Toe Charles in 1859 sy On the origin of species by means of natural selection laat verskyn, het die optimisme geen perke geken nie. Die wetenskap en die wetenskaplike beginsel van die evolusie het nie net die godsdiens verklaar nie, maar ook die oplossing gebied vir die behoeftes en tekortkominge van die samelewing. Die totale vryheid van die mens was in sig.10
Die wetenskap was die instrument waardeur hierdie Utopia van vryheid vir die samelewing moes realiseer. Daarom was elke denker met die wetenskap besig en byna elke benadering tot die wetenskap se resultaat was dat die bestaan van God soos deur die Bybel verkondig in gedrang gekom het. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die positivisme van die Franse filosoof, Auguste Comte (1798-1857).11 Wetenskap was vir hom die eksperimentering, waarneming van die reëlmatighede en dan die vasstelling van die wette uit die gevolgtrekking waartoe gekom is. Comte het sy wetenskapsbeskouing gesien as die hoogtepunt van die evolusie van die wetenskap. Die primitiefste stadium van die mens (en die wetenskap) is die religieuse of teologiese. Dan word alles wat waargeneem of beleef word, verklaar aan die hand van die optrede van ’n god of gode. In die religieuse primitiwiteit is daar dan ook ’n ontwikkeling gewees vanaf die fetisme deur die veelgodedom tot by die monoteïsme. Die tweede stadium vir die mens en die wetenskap is vir hom die metafisika. Tydens hierdie periode is begrippe afgelei soos oorsaak, natuur, krag, ens. en is verskynsels in terme daarvan verstaan en verklaar. Ten slotte het die positivisme aangebreek en probeer die wetenskap nie meer verklaar nie, maar net beskryf. ’n Wêreld vir die sintuie ontoeganklik kom nie meer ter sprake nie, bestaan nie en het dus ook geen invloed op verskynsels nie.12
Gee ’n mens vir Comte gelyk kan die God van die Bybel nie bestaan nie; kan die teologie as wetenskap nie beoefen word nie; en moet die godsdiens en die kerk ander funksies kry om nog enigsins sinvol te wees. Alles is immers in diens van die wetenskap. Stem jy met Descartes en sy volgelinge in, het die menslike verstand die laaste sê oor wat waar is. Wat bly dan oor van die God van die Bybel en van die Bybel? Is daar waarheid in die wonderwerke, die maagdelike geboorte en die opstanding van Christus? Is sonde, verlossing en vergifnis nog geldende begrippe? Dien teologie en kerk ’n doel? Die antwoorde is in die wetenskap gesoek.
Die invloed hiervan op kerk en teologie
Na die Franse Revolusie (1789) en Napoleon se onderwerping van Nederland het die revolusionêre denke ook sterk ingang in die gereformeerde kerk gekry. Min weerstand is byvoorbeeld gebied teen die aanvaarding van die Algemene Reglement van 1816 waardeur die kerk in vorm ’n genootskap (dit wil sê ’n gewone menslike vereniging naas ander verenigings) geword en sy kerkorde van 1619 prysgegee het. Gedurende die 1830’s het die stryd gewoed oor die ondertekening van die geloofsbelydenisse oor omdat of vir sover hulle in ooreenstemming met die Woord van God is. In 1834 het ’n deel van die Nederlandse Hervormde Kerk afgeskei en die begin gevorm van wat later die Nederlandse Gereformeerde Kerk geword het. Wat in die Hervormde Kerk oorgebly het, is beskrywe as “sat en sonder pit”. Die rasionalisme het oorgeneem en deug het in die plek van geloof en bekering gekom.
Die sterkste verset teen hierdie toestand het gekom van ’n groepie kerklike regsgeleerdes onder die naam, Réveil met G Groen van Prinsterer, I Da Costa, A Capadose, W de Clerq en OG Heldring aan die leiding daarvan.13 Die eerste wat John en Andrew Murray na hulle aankoms in 1845 in Utrecht gedoen het, was om ’n byeenkoms by te woon wat deur dr Capadose toegespreek is.14
Die Kweekskool te Stellenbosch het op 1 November 1859 begin. Totdat dit gebeur het, het studente vir teologiese opleiding na Europa gegaan. Tussen 1800 en 1875 het 80 Kaapse teologiese studente in Nederland studeer. Van hulle is 62 na Utrecht, 17 na Leiden en 1 na Groningen. Van die 50 Kaapse studente in ander studierigtings is meer as die helfte na Leiden. Tussen die 18 predikante wat die kern van die liberale groep in Suid-Afrika gevorm het, is ’n paar wat voor 1846 gelegitimeer is, nl A Roux (1838), JWL Scholtz (1839), PN Ham (1844) en TJ van der Riet (1844). Die ander is in 1852 (1), 1858 (4), 1860 (6) en 1866 (1) gelegitimeer.15 PC Vintcent en DP Faure wat nie in die NG Kerk in die bediening was nie, is hier buite rekening gelaat.
Die ontstaan van die Moderne Rigting in Nederland
Utrecht
Die Moderne Rigting16 in die teologie het begin toe die Universiteit van Utrecht in 1846 vir mnr CW Opzoomer, toe net 24 jaar oud, aangestel het om ’n departement van wysbegeerte aan die universiteit te begin. Opzoomer was student in Leiden toe hy in openbare geskrifte teen Da Costa en prof Van Oosterzee standpunt ingeneem het. Na aanleiding hiervan is die professoraat hom aangebied. Hij ontplooide zich als wijsgeer, rechtsgeleerde, kunstenaar, letterkundige. Aan groote kennis paarde hij een fijnen smaak. Een innemend, indrukwekkend stem, schitterend redenaarsgaven, groote vriendelijkheid en een gezonde zin voor humor maakten hem als aangewezen leider der scharen studenten, die zijne gehoorzalen vulden.17 Vir Opzoomer het alle ontwikkeling gestaan in diens van die opheffing van die samelewing. By geleentheid het hy die sake wat die samelewing bedreig, beskryf as die kerklike onverdraagsaamheid, politieke heerssug en die onkunde en wilde opgewondenheid van die demokrasie. Die enigste wapen daarteenoor is die verligting van die volk. Die optimisme van die tyd is duidelik wanneer hy skryf: Maakt het volk wijs, en leert het de gevolgen zijne daden kennen, en voor het eerst maar ook voor goed, hebt gij het bandeloos geweld gebonden, en de volmaking der menschheid op de baan van orde en vrede geleid.18 Verligting is die enigste wapen waarmee die volk teen homself en teen die regering versterk kan word. Daarom kon hy baie optimisties verklaar dat wat dit die staat ekstra aan onderwys kos dit die staat minder aan tronke sal kos.
Opzoomer het by die panenteïsme van KCF Krause (1781-1832) aangesluit waarin God verstaan word as die alomvattende bewussyn van alles en almal. Hy word nie soos by die panteïsme die somtotaal van die hele skepping nie, maar die “verstand” van alles. Vir Opzoomer beteken dit dat wat in die natuur gebeur noodwendig uitdrukking aan God gee. Daarom is daar nie ruimte vir ingrype van God in die natuur nie, nie plek vir wonderwerke nie en gebedsverhoring druis in teen God se wese en natuur. In plaas daarvan dat die kerk die mense opvoed om verstandelik vrede te kry met hulleself deur te verstaan dat hulle denke deel van God se verstandelike openbaring in die natuur is, verkneg die kerk sy lidmate met ’n sondebesef, onmoontlike wonderwerke soos die maagdelike geboorte en opstanding van Christus uit die dood, verlossing en ingrype van God in die skepping.
In Utrecht het Opzoomer bevriend geraak met die oogkundige, FC Donders waardeur hy onder die indruk gekom het van die wetenskapsmetode in die natuurkunde: alles berus op eksperimente en waarneming wat dan tot ervaring lei. Twee jaar na sy aanstelling het sy wysbegeerte van die ervaring na vore gekom. Hierin erken hy vyf bronne van kennis in die mens, nl die sintuiglike waarneming, die gevoel van bevrediging en onbevrediging, die gevoel van skoonheid (estetika), die gevoel van sedelikheid (etiek) en die godsdienstige gevoel. Uit die eerste vier bronne vloei die harmonieuse wêreldbeskouing of die ware wysbegeerte voort. Dit bring hom dan weer by dieselfde beskouing waarin daar nie plek vir wonderwerke en gebedsverhoring is nie.
Die evolusie van die geskiedenis het volgens hom die godsdiens uitgewys as ’n menslike gevoel waarmee ’n mens jouself verbeter, jou in harmonie met die natuur en die god in die natuur bring. Dit moet egter gebou wees op die resultate (of ervarings) van die wetenskap. Daarom is die wetenskap die bron van die kwaliteit van jou menswees en die oplossing vir alle ontwikkelingsprobleme. En omdat die wetenskap nou werklik deurgebreek het, lyk die toekoms rooskleurig. Die massas moet net leer om uit hulle onkunde (die dinge wat tradisioneel deur die kerk sonde genoem is) te ontwikkel sodat hulle beskaafd, ingelig en verantwoordelik deugsaam kan lewe. Daarop moet alle opvoeding, onderwys, etiek en godsdiens gerig wees.
Opzoomer se denke het rondom 1860 baie veld gewen deur die verbreiding daarvan deur een van sy studente en latere kollega, Allard Pierson. Mettertyd het hulle paaie egter geskei omdat Pierson te veel waardering gehad het vir die denke van die supranaturaliste wat vir Opzoomer gebots het met sy ervaringswysbegeerte. Die naturalisme was destyds die teologiese rigting wat geoordeel het dat daar net kennis verkry kan word uit sake wat binne die natuurlike veld van waarneming val. Opzoomer se ervaringswysbegeerte het hiervoor gekwalifiseer. Die supranaturalisme het dieselfde benadering gehad, maar geoordeel dat daar ruimte gelaat moet word vir ’n bonatuurlike wêreld wat nie met die sintuie geken kan word nie. Die skeiding tussen Opzoomer en Pierson was tiperend van die Moderne Rigting uit Utrecht. In die fynere uitwerking van hulle standpunte was daar groot verskille tussen die verskillende aanhangers van die nuwe teologie.
Opzoomer se trefkrag het nie berus by die inhoud van sy wysbegeerte nie, maar by sy persoonlikheid, die oorredingskrag waarmee hy dit voorgedra het, die gesonde verstand wat hy aan die dag gelê het en die fris bries wat hy was in die dorre akademiese wêreld van die Utrechtse universiteit. Die Moderne Rigting was vir vyftig jaar of meer lewenskragtig en is deur baie denkendes nagevolg, maar het deurgaans op sy beste ’n baie losse eenheid met groot onderlinge verskille en dikwels verskuiwings van standpunte behels. Die eenstemmigheid in die Rigting was dat
• geloof aan wonderwerke bygeloof is;
• die Bybelse beskouing oor God die uitdrukking van ’n meer primitiewe fase van menslike ontwikkeling is;
• godsdiens ’n rol te vervul het in die selfontwikkeling van die beoefenaar daarvan;
• die Christelike godsdiens die hoogste vorm in die godsdienstige ontwikkeling is;
• die wetenskap die finale antwoord is in die ontwikkeling van die mens en die samelewing; en
• die kerk in sy toenmalige gestalte ’n remskoen vir hierdie ontwikkeling is.
Die Suid-Afrikaanse teologiese studente wat gedurende hierdie bloeitydperk van die Moderne Rigting in Utrecht studeer het, het dit beleef dat die Nederlandse Hervormde Kerk vir hulle niks te bied het nie. Die kerk was pap en sonder pit. Hulle het die universiteit self as ’n gevaar vir hulle geloofsopvattings ervaar. Die uitkoms was vir hulle in ’n studentevereniging, Secor Dabar.19 Hierdie vereniging het nou aansluiting gevind by die Réveil en soos laasgenoemde die leer op die agtergrond geskuif in ’n strewe na persoonlike vroomheid. Hierin kom ook die gees van hulle tyd tot uiting: die waarde van die dogma word geringskat en die geloofslewe gerangeer op die gevaarlike sy-spoor van die subjektivisme, wat sedert die tyd van Schleiermacher magteloos geblyk het teenoor die liberalisme, selfs wegbereidend daarvoor gewerk het.20 Die praktiese dienslewering en sendinggedeelte van Sechor Dabar, Eltheto met sy eie nuusbrief, asook die vereniging vir Suid-Afrikaners, Elpis het onder leiding van die Suid-Afrikaners in Utrecht, met name John Murray, ontstaan. Later in hulle bediening in Suid-Afrika het hierdie daadwerklike benadering tot die godsdiens deurgaans na vore gekom.
Die predikante wat uit hierdie skool gekom het, was John en Andrew Murray (1845 in Utrecht begin studeer), JH Neethling Hz (1846), NJ Hofmeyr en HE Faure (1847), AA Louw, William Murray en Servaas Hofmeyr (1849). Hulle het standpunt ingeneem teen die Moderne Rigting. Van die studente wat later na Utrecht gekom het, het ’n hele aantal nooit by die bediening uitgekom nie. Onder hulle tel JH Beck, PC Keytel, PJS du Toit, PJ Borcherds, HH Wicht, MC Ackermann, FM Hitzeroth, SJ Meintjes en WR Thompson. Sommige van die SA studente wat aanvanklik by Sechor Dabar ingetrek was, het later ontuis geword soos TF Burgers, CT Muller en JHD de Villiers wat al drie in 1857 uit Eltheto bedank het. JJ Kotzé (later leraar van Darling) is in 1855 vanaf Utrecht na Leiden. Die kommentaar van ds JF van Hoogstraaten hierop aan ds JH Neethling Hz was Cotzé, zult gij weten, is naar Leyden, waar hij meer voordeel voor zijnen geest vindt.21 Van SP Naudé, latere leraar van Queenstown skryf hy een allerliefst, beste jongen, vrolijk, vriendelijk, eenvoudig, met alles tevreden, en levende voor de studie.
Die Sinode van 1857 het op voorstel van ds Andrew Murray jr besluit om op ’n manier toesig te bewerk oor die teologiese studente in Europa. In Utrecht het hulle met die studenteleraar, ds G Barger in verbinding getree. Sy reaksie was dat dit baie noodsaaklik is, maar nie so maklik uitvoerbaar nie. Hy meld dat die Suid-Afrikaners duidelik in twee groepe verdeel is wat ’n konkrete afstand tussen die groepe handhaaf vanwee lewenstyl, verdeeldheid en tweedrag. Hy oordeel dat daar een onzettende verschil tusschen den geest der vorige generatie van Kapenaren en der teenwoordige22 is. In sy kommentaar op 30 November 1858 deel hy die Suid-Afrikaners in drie groepe. Die eerste groep bevat sewe name, die tweede groep bestaan uit ses en die derde groep vermeld hy glad nie die name nie. Die eerste sewe het later onder die behoudende predikante getel. Barger verwys na hulle as allen voortreffelijke jongelieden en verbind die volgende ses, HH Scholtz, de Vries, HCV Leibbrand, Meintjies, Mulder en Marais met en daarbij. Hierdie ses het hulle in die bediening aan die kant van die liberales geskaar. In sy skrywe meld hy dus ’n groep van sewe en ’n groep van ses wat almal voortreflike jongmense is. En dan is daar ’n derde groep wie se name hy geheel verswyg. Hulle is volgens hom minder gunstig bekend op die kampus en by die mense by wie hulle tuisgaan. In Leiden is ’n ds Krabbe genader om toesig te hou oor die Kaapse studente.23
Leiden
Die ander been van die Moderne Rigting was prof JH Scholten van Leiden. Dit was die ingenomendheid met sy standpunte wat vir JJ Kotzé van Utrecht getrek het. Scholten was ’n bietjie ouer as Opzoomer. Hy is in 1811 gebore, het in ’n behoudende huis groot geword en was aanvanklik Bybelgelowige teoloog wat in 1840 professor te Franeker geword het. Daarna is hy na Leiden waar hy teenoor Opzoomer opgetree het en al meer onder die indruk van die wysbegeerte as bron van die ware kennis gekom het. Dit het hom tot Albert Schweizer se werk oor die geloofsleer van die evangelies-gereformeerde kerk (1844)24 aangetrek waaroor hy ’n reeks lesings gegee het. Scholten se lesings het gehandel oor die Nederlandse Geloofsbelydenis en oor die beginsels van die Leer van die Hervormde Kerk. Schweizer, in navolging van die Duitse teoloog, Schleiermacher vereenselwig God en wêreld en beskou daarom die wil van die mens in alles gebonde.
In hierdie lesings het Scholten die Réveil aangeval op die grond dat hulle pogings in stryd is met die leer van die kerk en daarom net so min regsinnig is as die beskouinge waarteen hulle dit het. Die metode waarvan hy gebruik gemaak het, is dat hy die algemene beginsel van die leer uitlig en as basis neem en dan daaruit gevolgtrekkings maak. Hy het dus nie die beginsels ondersoek of bevraagteken nie, maar op rasionalistiese manier deduktief geredeneer. Die grondbeginsel van die gereformeerde leer is vir hom soos vir Calvyn die soewereiniteit van God. Hy kom egter anders as Calvyn tot rasionalistiese gevolgtrekkings. God beheer, bestuur en beskik alles. Daarom is die menslike wil volstrek gebind, gedetermineerd. Dr Abraham Kuyper, seker die bekendste van Scholten se studente, het die beginsel van die soewereiniteit van God gereformeerd uitgewerk.
Scholten het hoe verder hoe meer lig by die wysbegeerte opgesteek. Onder invloed van die Duitsers, FC Bauer (1792-1860) en DF Strauss (1808-1874) het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die Evangelie volgens Johannes die resultaat van ’n latere ontwikkeling tydens die tweede helfte van die tweede eeu was en toe aan Johannes toegeskryf is. Die teorie waarop hierdie oortuiging staan, is dat daar oorspronklik ’n tradisie vanuit Joodse oogpunt oor die Messias was wat op Jesus van toepassing gemaak is. Dit word die Petriniese rigting genoem. Toe ontstaan die meer universele tradisie vanuit die Grieks-heidense gelowiges wat die Pauliniese tradisie genoem word. Na ’n honderd jaar of meer se ontwikkeling van die Christendom het die Katolieke leer oor Christus ontstaan wat dan in die vierde Evangeliebeskrywing die Godheid van Christus konstateer.25 In wysgerige raamwerk is die Petriniese die tesis, die Pauliniese die antitese en die Katolieke die sintese. Vir Scholten word die geloof in Christus as die Seun van God in die sin dat Hy God is die siening uit ’n bepaalde fase van ontwikkeling in die Christendom. Met die nuwe wetenskap en nuwe wysbegeerte is by hierdie stadium verby beweeg.
In die voorrede tot Het Evangelie naar Johannes (Leiden. 1864) skryf Scholten Onder hetgeen onzen leeftijd op wetenschappelijk gebied kenmerkt moet in de eerste plaats het streven naar werkelijkheid genoemd worden. De tijd der abstracte theorieën is voorbij. Het ideale is niet, gelijk vroeger onder de heerschappij eener dualistische wereldbeschouwing algemeen geloofd werd, aan gene zijde van – boven – of buiten – de werkelijkheid gelegen, spiegelt zich in tegendeel in het feitelijke af, zooals dit door nauwkeurige waarneming en daarop gebouwd nadenken tot onze kennis komt. Vir hom is hierdie standpunt nie die formulering van nog ’n abstrakte teorie nie, maar die konstatering van die finale waarheidsopvatting. Die wetenskap het die laaste antwoord! En die metodiek van die wetenskap is om krities te wees. Al sou kritiek soms oppervlakkig en dus onvoldoende wees, dit neemt niet weg, dat de kritische metode de alleen ware is, en dat de kritiek regt heeft om elke aprioristische, hetzij supranaturalistische of speculatieve theorie te verstoren, zoodra zij blijkt met de langs empirischen weg geconstateerde werkelijkheid in strijd te zijn.26
Prof Abraham Kuenen (1828-1891), briljante student en kollega van Scholten het met sy Historisch-kritisch onderzoek naar het ontstaan en de verzameling der boeken des Ouden Verbonds (1861-1865) ’n deurslaggewende bydrae tot die verstaan van die Ou Testament gelewer, maar met die evolusionistiese standpunt wat hy deurgaans daarin handhaaf, is hy saam met Opzoomer en Scholten as stigter van die Moderne Rigting beskou.27 In Leiden was Scholten en Kuenen die vlagdraers van die nuwe teologie. Hulle het aan ’n Godsbegrip vasgehou omdat dit volgens Scholten ’n aangebore waarheid in die rede (of verstand) van die mens is waarmee die wetenskap rekening moes hou. In die wetenskap en wetenskapsmetodiek wat vir hom die waarheid verantwoord, was daar egter nie stawende bewyse of noodsaak vir hierdie aanname nie.
In vergelyking het Opzoomer by die positiviste aansluiting gevind, maar in waardering van die godsdiens van hulle verskil. Scholten aan die ander kant spring weg by die spekulatiewe rasionalisme vir wie die rede (verstandelike proses) die enigste bron van waarheid is. Sy algemene beginsel is die soewereiniteit van God. Daaruit maak hy rasionalisties die gevolgtrekkings dat
• die mens geen vrye wil het nie;
• daar nie plek vir wonders is nie;
• niks van bo of buite die natuurlike werklikheid ingegee word nie; en
• geen gebedsverhoring moontlik is nie.
Hoewel dus op verskillende gronde en langs verskillende weë kom Opzoomer en Scholten by dieselfde resultaat: godsdiens speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van (die geskiedenis van) die mens; in die godsdiensontwikkeling is die Christendom die hoogste ontwikkeling; die Bybel is die weergawe van mense se belewenis van hulle godsdiens; Christus was ’n besonder begaafde mens; God gryp nie in die loop van sake in nie en dus is daar nie sprake van wonders nie; die wetenskap en gepaardgaande wysbegeerte is die manier waarop tot die waarheid gekom word en die kritiese metode waarmee alle aansprake op waarheid getoets moet word. Uiteindelik is ’n mens se toewyding in godsdiens ’n persoonlike saak waarmee jy jou eie menswees help ontwikkel tot ’n verligte en opgevoede mens wat op humanistiese wyse ’n positiewe bydrae tot die samelewing kan maak.28
By implikasie moes dit al duidelik geword het dat Bybelse geloofsbegrippe, soos sonde, wedergeboorte en versoening vir die Moderne Rigting ander betekenisse moes verkry indien hulle nog daarvan gebruik maak. Prof NJ Hofmeyr het in ’n toespraak in die Sinode van 1862 aangetoon hoe hierdie rigting ander inhoude gee aan die terme God, openbaring, Bybel, sonde, verlossing, en dan die gesag van die Heilige Skrif en die godheid van Christus ontken. In die woorde van Chantepie de la Saussaye: onder voorwendsel van het chritelijke leerstuk naar de behoeften en in de taal van onzen tijd uit te drukken, lost zij hetzelve op, door de termen te vernietigen waaruit het bestaat.29 Een aanhaling uit die werk van dr AL Poelman, predikant van Noordbroek en redakteur van die Moderne Rigting se De Bijbelvriend oor die erfsonde sal die punt illustreer. De zonde zelve, als een toestand, waarin het vleesch heerscht over den geest, kan niet overerven. Maar erfelijk van geslacht tot geslacht zijn de zinnelijke driften, de hartstogten, de hebbelijkheden, die als natuurlijke uitingen der zinnelijkheid op zich zelve noch goed, noch kwaad zijn, maar die ondeugden worden, en een toestand van zonde teweeg brengen, en zonde in menigte baren, zoodra zij in verset komen met het geweten. 30
Leiden het by die Kapenaars ’n sleg naam gehad weens die gedrag van die (teologiese) studente aan die universiteit. John Murray en JH Neethling Hz het as studente tydens reise in Europa die universiteit besoek en kon nie nalaat om hulle afkeer aan die teologiese studente se gedrag te boekstaaf nie.31 Dr William Robertson is in 1860 deur die Christelike Konferensie op Worcester na Europa gestuur om predikante en onderwysers vir Suid-Afrika te werf. Na sy besoeke aan Leiden en Utrecht en verslag daaroor32 is hy na Skotland waar hy die meeste van sy werfwerk gedoen het. Die kandidate wat hy in Nederland kon werf, was nie bereid om die Formuliere van Eenheid te onderteken nie. Na 1861 het slegs twee Kapenaars teologie aan Leiden studeer, nl PC Vintcent en DP Faure. Nie een van hulle twee het predikant in die NG Kerk geword nie.
BRONNELYS
Bouwman, H 1928. Gereformeerd Kerkrecht I. JH Kok, Kampen.
Brouwer, AM sd. De Moderne Richting, H Ten Hoet, Nijmegen.
Hanekom, TN 1951. Die Liberale Rigting in Suid-Afrika I, CSV, Stellenbosch.
Hofmeyr, NJ 1862. Mijne Bezwaren tegen het Hedendaagsche Liberalisme, of de zich noemende Moderne Theologie, Van de Sandt de Villiers & Co, Kaapstad.
Moll,W 1854. Johannes Brugman en het godsdienstig leven onzer vaderen in de vijftiende eeuw I, G Portielje & Zoon, Amsterdam.
Poelman, AL 1861. Wat de Moderne Thelogie leert, P van Wicheren, Groningen.
TREFWOORDE
Ortodoksie, Rasionalisme, Wetenskapsbeskouing, Evolusie, Revolusie
KEY WORDS
Orthodoxy, Rationalism, Epistemology, Evolution, Revolution
KONTAK BESONDERHEDE
1 Berkhof, H en De Jong, OJ: Geschiedenis der Kerk (1967), bl 95-97 en 130.
2 Bouwman, H: Gereformeerd Kerkrecht I (1928), bl 183.
3 Dies. bl 251.
4 Van’t Spyker, W: De Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 (1987), bl 24-25.
5 Moll, W: Johannes Brugman en het godsdienstige leven onzer vaderen in de vijftiende eew (1854), bl 10
6 Die Oosters-Ortodokse Kerk het amptelik as afsonderlike kerk ontstaan in 1054 nC toe die Griekse gedeelte van die katolieke kerk van die Romeinse Ryk en die Latynse gedeelte daarvan formeel uiteen is. In die naam is ortodoks afgelei van die Griekse woord doksa in die sin van lofprysend. Die liturgie gaan vir hulle die leer vooraf.
7 Die onderskeid tussen hervormdes en gereformeerdes het eers na die Afskeiding van 1834 in Nederland beslag gekry. Voor 1834 was die twee terme sinoniem.
8 Brouwer, AM: De Moderne Richting (sd), bl 14. Vgl Haitjema, TL: De nieuwere geschiedenis van Neerlands Kerk der Hervorming (1964), bl 19-34.
9 Van Peursen, CA: Descartes en Grosheide, GHA: Descartes als wiskundige in Christelijke Encyclopedie II (1957), bl 390-391.
10 Lever, J: Charles Robert Darwin in Christelijke Encyclopedie II (1957), bl 368.
11 Louët Feisser, JJ: Auguste Comte, Fransche wijsgeer in Christelijke Encyclopedie II, (1957), bl 273.
12 Die huidige indeling van die geskiedenis as premodern, modern en postmodern is ’n herformulering van Comte se indeling. Die wetenskap is deur die kommunikasietegnologie verdring as die klimaks van die evolusie.
13 Brouwer, AM: aw, bl 15; Haitjema, TL: aw, bl 138-145.
14 Van der Watt, PB: Die Utrechtse Studentegeselskap SECOR DABAR – aanvangsjare en Suid-Afrikaanse studente (1844 – 1848) in NGTT, Januarie 1975, bl 67.
15 Hanekom, TN: Die liberale rigting in Suid-Afrika I (1951), bl 305-306.
16 Dit is die benaming waaronder hierdie bepaalde liberale beweging in die kerk geken is en deur hulle self gebruik is.
17 Brouwer, AM: aw, bl 16.
18 Dies. bl 17 en 18
19 Onthou die Woord uit Ps 119:49.
20 Hanekom, TN: aw, bl 297-8.
21 Dies. bl 298
22 Dies. bl 281.
23 Handelingen Sinode 1862, bl 32.
24 Dit was die eerste keer in honderd jaar dat daar ’n boek oor die gereformeerde leer verskyn het.
25 In die gesprek oor die opstanding van Christus na die Algemene Sinode van 2007 was die onderskeid tussen die Joodse Messias en die Hellenistiese godeseun ook die oplossing wat ’n artikel in die Kerkbode aangebied het.
26 Aangehaal by Brouwer, bl 35.
27 Aalders, GC: Abraham Kuenen in Christelijke Encyclopedie IV (1959), bl 339.
28 Brouwer, aw, bl 39.
29 Hofmeyr, NJ: Mijne Bezaren tegen het Hedendaagsche Liberalisme, of de zich noemende Moderne Theologie (1862), bl 3.
30 Poelman, AL:Wat de Moderne Theologie leert (1861), bl 118.
31 Du Plessis, J: The Life of Andrew Murray of South Africa (1919), bl 68.
32 De Gereformeerd Kerkbode, 29 Desember 1860 en Handelingen 1862, bl 85.