God ons Vader en die kerk ons moeder? Deel II
ABSTRACT
The signifisance of the church in the life of the current members of the congregation. Part 2
In the second article we look at the life of DP Faure as a productof the liberal theology of the nineteenth century. He grew up as a member of the Dutch Reformed Church and went to Leiden for theological studies. On his return to Cape Town it was clear that he would not fit in the Dutch Reformed Church and he did not even tried to get ordained. In controversy with some of the ministers of the Dutch Reformed Church over several doctrinal issues he founded the Free Protestant Church. Most of the information for this article comes from his autobiografy.
DP FAURE – DIE PRODUK VAN DIE NUWE TEOLOGIE
Die oprigting van die Teologiese Seminarium (Kweekskool) op Stellenbosch op 1 November 1859 het baie daarmee te doen dat daar sedertdien minder Suid-Afrikaanse teologiese studente na die Nederlande is vir opleiding. DP Faure is in 1861 na Leiden. In sy outobiografie meld hy dat daar geen bepaalde rede was waarom hy na Leiden is nie. For many years past all the Cape ministers had been trained at Utrecht, which was conservative, or in Edinburgh, wich was sound in doctrine. Yet I went to Leiden, not attracted by its Liberalism, for at that time we knew nothing about doctrinal differances. At home I had received the ordinary orthodox religious education.1
Teen die tyd dat hy met sy teologiese opleiding moes begin, het die invloed van die liberale tendens in die teologie en die samelewing al diep spore aan die Kaap getrap. Sy geliefde skoolhoof, wat hom gratis laat skoolgaan het en hom die laaste drie jaar daarvan as ’n soort junior leerkrag benut het, dr ANE Changion het in Leiden studeer. Dr Changion was redakteur van De Zuid-Afrikaan, ’n gematigde liberale koerant aan die Kaap en een van die felste teenstanders van die oprigting van die Kweekskool. In sy proefskrif demonstreer wyle prof TN Hanekom uitvoerig watter omvangryke invloed die liberale rigting toe reeds in die Kaapse kerklike en kulturele lewe gehad het.2 Faure kon dit sekerlik op daardie stadium nog nie insien nie, maar die keuse vir Leiden was nie toevallig nie. ’n Jaar later het PC Vintcent by hom aangesluit.
Faure het dikwels tyd aan huis van sy dosente deurgebring en na sy terugkeer na SA in korrespondensie gebly met proff Scholten, Keunen, Rauwenhoff en Van Hengel. Van sy aangenaamste tye op universiteit noem hy die many happy hours passed in the family circle of Professor Scholten, whose cheerful wife and two highly intelligent and charming daughters, were so irresistible, and made me feel so at home, that I fear that my visits were often unduly protracted.3 Hy beskryf hoe sy sienings verander het: one by one I found (them) to be untenable, indefensible, founded on unreliable tradition, contrary to fact, baseless and untrue. Terug in die Kaap in 1865 het hy geweet dat die Colloquium Doctum (toelatingseksamen) wat intussen deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk ingestel is – juis om predikante van die nuwe teologie uit die kerk te weer – vir hom ’n struikelblok sou wees. Die Sinode van 1862 se opdrag aan die eksamenkommissie was dat by die Colloquium Doctum veral ondersoek gedoen moet word na die kandidaat se gevoelens oor die wedergeboorte deur die Heilige Gees, die persoonlike ervaring van God se genade en die gehegtheid aan die leer van die Kerk.4 Die paar keer dat predikante Faure gevra het om dienste te lei, was vir hom onaangename ervarings vanweë die reaksie van die kerkrade of gemeentelede sodat hy nie vir die toelatingseksamen aangemeld het nie. Saam met PC Vintcent het hy op toer gegaan waartydens hulle ’n hele aantal gemeentes besoek het.
Op Beaufort-Wes het ds Fraser nie een van hulle gevra om te preek nie, terwyl hyself elders moes optree. In Victoria-Wes het ds Leibbrandt hom laat preek. In Hanover het ds Burgers beide laat optree en toe verder saam met hulle ’n deel van die toer meegemaak. In Graaff-Reinet het ds Charles Murray vir Vintcent, volgens Faure the least of the three evils, gevra om ’n Sondagmiddagdiens waar te neem.
Terug in die Kaap het Faure ’n reeks lesings gehou oor die menslike rede, die Ou Testament, die Nuwe Testament, wonderwerke (2), Jesus Christus, die mens, verlossing, ewige straf, profete en profesieë, die vierde Evangelie, en Christus of nie? All the seats in the large Hall were occupied, and of course, the audience consisted of the most intellectual section of the community, and this continued to be the case throughout the series and thereafter.5 Dit het gelei tot die stigting van die Vrye Protestantse Kerk in Kaapstad. Di Kotzé van Darling, Burgers van Hanover en Naudé van Queenstown het by verskeie geleenthede in die saal van die Mutual Assuransie Maatskappy dienste vir Faure waargeneem. Tot in die 1870’s het Faure ook gereeld “dienste” in Stellenbosch gehou in Pleinstraat aan huis van me Agatha de Villiers, deur die dorpsmense Hannie Rooibekkie genoem omdat sy oordadig gegrimeer het. Vintcent het na sy finale terugkeer uit Leiden ’n Vrye Protestantse Kerk in Graaff-Reinet gestig.
Faure se kerk is nie unitaries genoem nie omdat daar volgens hom te veel kerke was met dié naam wat net die leer van die drie-eenheid verwerp het, maar andersins volledig by die belydenisskrifte gebly het. Vir hom was die belydenisskrifte ’n struikelblok in die ontwikkeling van die beskawing. Die enigste vereiste om lid van die VPK in Kaapstad te word, was ’n positiewe antwoord op die vraag: Do you belief that true Religion consists in Love to God and Love to Man, and is it your earnest desire to practise this religion in your daily life? Hieroor het sy ou raadgewer, prof Rauwenhoff opgemerk dat hy vir so lank moontlik nie nader aan ’n formele geloofsbelydenis moet kom as hierdie vraag nie. Hy keur ook goed dat Faure die doop in die kerk behou het ter wille van die indruk wat dit skep, die onderlinge gemeenskap wat daardeur bevorder word en omdat dit die aandag vestig op die waarde van Christelike opvoeding. Hy beveel egter ook aan dat Faure dalk een keer per jaar – miskien op Goeie Vrydag – die nagmaal bedien omdat hy waarskynlik some of inferior culture in die gemeente het. Die voorveronderstelling is duidelik: die ontwikkelde Christen het die behoefte aan primitiewe godsdienstige tekens soos die sakramente ontgroei en iets soos ’n geloofsbelydenis mag om praktiese redes noodsaaklik word, maar het in die evolusionêre ontwikkeling van die menslike gees ’n beperkende aandeel.
In die plaaslike pers was Faure baie bedrywig en het hy baie aandag gekry. Teenoor die stelling dat die Bybelskrywers deur God geïnspireer is, antwoord hy we do not and cannot believe it, because most immoral doctrines are also contained in that Book, stories which are calculated to corrupt the morals of our children, and descriptions of the Divine character most degrading and pernicious.6 Sy argumente berus daarop dat Abraham, ’n vriend van God, leuens vertel het; dat Jakob, ook een van God se gunstelinge, ’n berugte onderkruiper was; dat Dawid, ’n man na Gods hart, ’n wrede roofbendeleier, ’n moordenaar en owerspeler was; en dat Moses op God se bevel aan die farao ’n voorbedagte leuen vertel het. Hy vra of sy opponent bereid is om Genesis 19 en 38 en Esegiël 23 aan sy familie of gemeente voor te lees. Hierdie argumente is dalk stewig wanneer ’n mens nie jou sonde en die genade in Christus in die Bybel erken nie.
Faure het aansoek gedoen, is goedgekeur en in 1869 ingelyf by die vrymesselaarslosie, De Goede Hoop. Die vrymesselaars had the reputation of being a brotherhood which ignored dogmatic differences, and which, while acknowledging and requiring belief in a Great Arhitect of the Universe, yet left its members free to form their own conceptions of the nature of that Being, of the relationship between that Being and mankind, and of His mode of operation – an Order which recognized the common bond of humanity which connects and equals all races, all creeds, all individuals.7 In die organisasie het hy so vinnig gevorder as wat toelaatbaar was. Na 1881 het hy Deputy Grand Master for South Africa geword. Die vereistes wat hierdie organisasie stel ten opsigte van godsdiens het die nuwe teologie, waarvoor Faure hom beywer het, soos ’n handskoen gepas.
’n Laaste opmerking oor Faure is dat hy hom vir ’n tyd lank in die spiritisme verdiep het. Sy bedoeling met die weeklikse bywoning van séances was om vas te stel of die geeste wat by oproeping “verskyn” werklik die geeste is van mense wat gelewe het. Indien hy bewyse kon kry wat hierdie aanspraak bevestig the immortality of the human soul would take its place among the establied truths and indisputable facts.8 Indien die onsterflikheid van die siel in die veld van die wetenskap as feit aanvaar word, is dit vir hom ook godsdienstig aanvaarbaar.
Sy eksperimente het egter op niks uitgeloop nie omdat hy nie genoeg tyd daaraan kon bestee nie; omdat twee van sy tafelgenote - sonder sy wete – nie ’n oop gemoed gehad het nie en hulle verset het teen enige verskynings; en omdat die gehalte van die mediums maar power was! Die belangrike is om die gedagtegang van die Moderne Rigting hierin te onderskei: slegs dit wat wetenskaplik aanvaarbaar is, is geloofwaardig. Baie wat vandag as postmodernisties getipeer word, hoort na regte steeds in die gedagtegang van die liberale denke van die negentiende eeu. Die teorieë het verander en die resultate van die wetenskap het dalk aansien verloor, maar as die opstanding van Christus verklaar word in terme van onvernietigbare energie is dit maar nog dieselfde denke.9
Die Moderne Rigting wat sy hoogtepunt rondom 1860 bereik het se vergroeisels het diep in die Suid-Afrikaanse samelewing ingebed. Faure en Vintcent is uit die NG Kerk uit, maar het in wye kringe beïnvloed. JJ Kotzé (van Darling), TF Burgers (van Hanover en later president van die ZAR), HCV Leibbrand (van Victoria-Wes en later staatsargivaris) en SP Naudé (van Queenstown) het vir ’n tyd lank in die bediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gebly. Die hofsaak oor die grense van die NG Kerk – en daarmee die wettigheid van die sinode omdat afgevaardigdes van buite die Kaapkolonie sitting gehad het - deur ouderling HH Loedolff van Malmesbury in 1862 was in die teken van die liberale stryd. Die kwessies rondom die vrywillige beginsel en die vrye verkiesing het in dieselfde teken gestaan.10 In die Anglikaanse Kerk was dit dieselfde liberale denke rondom die saak van biskop Colenso wat gelei het tot twee Anglikaanse kerke in SA.
Die stryd in die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Die Sinodevergadering van 1862 was die groot konfrontasie tussen die voorstanders van die gereformeerde leer en die verteenwoordigers van die nuwe teologie. Ds Andrew Murray jr het beskrywingspunte ingedien oor die opwekking en die vrugte daarvan, die inkleding van die vergadering om daarby aan te sluit en De Synode geve eene duidelijke getuienis dat zij de wedergeboorte en de persoonlijke ondervinding van Gods genade als het hoofvereischte beschouwt van den Evangeliedienaar.11 Naudé het beskrywingspunte ingestuur wat daarop gesinspeel het dat dr Servaas Hofmeyr van Montaqu die perke oorskry het en die Kerkraad van Burgersdorp teen Naudé gewaarsku het toe hy – toe nog predikant van Colesberg - as konsulent van die gemeente ’n beroepsvergadering gelei het. Die Kerkraad van Montaqu wou dat die sinode ’n verklaring van Naudé eis oor ’n stelling wat hy in Graaff-Reinet gemaak het en wat toe in De Kerkbode berig is, nl Met blijdschap heb ik bespeurt dat velen onder u strevende zijn naar een zelfstandig Christendom, naar een zelfstandige overtuiging in zake der Godsdienst, dat zij niet meer het hoofd buigen of eigen oordeel gevangen geven onder de orakelspreuken van hunne vaderen.12 ’n Hele aantal versoekskrifte en beskrywingspunte van kerkrade het gevra na die handhawing van die leer, die uitleg en verdediging van die Heidelbergse Kategismus, die voorlesing van die Tien Gebooie en die volledige liturgiese formuliere tydens eredienste en dat slegs leraars wat aan die leer van die Kerk gebind is op kansels toegelaat mag word.
Dit was duidelik dat dit ’n onstuimige sinodevergadering kon wees nog voordat ouderling HH Loedolff van Swartland, soos tydens die vorige sinodevergadering, beswaar gemaak het teen die sittingsreg van afgevaardigdes buite die grense van die Kaapkolonie op grond van Ordonnansie No 7 van 1843.13 Die voorstanders van die nuwe teologie het nie beskeidenheid aan die dag gelê nie. Voortvarend en welsprekend met ’n eie agenda het dit hulle nie lank geneem om die vergadering te frustreer nie. Die vergadering het plaasgevind in die Kaapstadse kerkgebou wat nie die ideale vergaderplek was nie, maar al wat die kerkraad kon kry. Tydens die eerste sitting het ds Kotzé voorgestel dat ’n kommissie aangewys word om na ’n meer doeltreffende lokaal te soek. Die volgende dag het hy voorgestel dat die voorsitter nie die vergadering adviseer nie en toe ook nog dat ’n lid net buite stemming kan bly indien hy sy gewetensbesware teen die bepaalde saak verklaar. Die volgende dag dat die vergadering nie aan die lede ’n bepaalde kleredrag voorskryf nie. Die sinode het besluit om elke Maandagaand ’n sinodale biduur en elke Woensdagoggend ’n broederlike onderhoud oor die opwekking en die bediening te hou. Die volgende dag is ’n voorstel dat die biduur nie verpligtend is vir die lede wat daarteen gestem het nie afgestem. Kotzé het laat aanteken dat hy in die minderheid gestem het en nog later dat hy nie in die vergadering was toe die oorspronklike besluit geneem is nie. Op Naudé se vraag in ’n beskrywingspunt oor in watter mate die kerkraad in die Nederduitse Gereformeerde Kerk die predikant beroep (gesinspeel op dr Servaas Hofmeyr), was Kotzé se sarkastiese voorstel in die vergadering: Wanneer er geen onbetamelijke invloed worde aangewend, dan geschiedt het beroep door den gecombineerden Kerkeraad.14
Die kwessie van ds Naudé se opmerking in Graaff-Reinet het ter sprake gekom deurdat ds JH Neethling Hz van Stellenbosch aangespreek is oor die brief wat hy destyds daaroor in De Gereformeerd Kerkbode laat plaas het. Die sinode het Kotzé en Leibbrandt (van Victoria-Wes) se amendement dat die vergadering sy afkeur in Neethling se optrede uitspreek, met 68 stemme uit 86 verwerp en geoordeel dat Neethling in moeilike omstandighede getrou gehandel het. Naudé het tydens die vergadering volstrek geweier om sy opmerking te verduidelik waarop besluit is dat Naudé self die twyfel oor sy regsinnigheid versterk. Weereens het Kotzé ’n protes teen die besluit van die vergadering laat aanteken. Toe die vrye verkiesing ter sprake kom, het Kotzé in ’n lang toespraak motiveer dat die beginsel reeds vanaf die apostoliese tyd kom en sydelings gedreig dat die regering dit op die Kerk kan afdwing indien die sinode nie ten gunste daarvan besluit nie. Die grond vir laasgenoemde stelling was ’n voorstel deur PE de Roubaix wat in 1861 in die wetgewende vergadering aangeneem is dat gemeentelede die reg het om kerkraadslede te verkies en predikante te beroep. Die goewerneur het egter nie die wetgewing bekragtig nie.
Kotzé, Burgers en Naudé het op 10 November laat aanteken dat hulle nie in die vergadering was toe die besluit oor die Colloquium Doctum geneem is nie en protes teen die besluit aangeteken. Die volgende dag het Kotzé hulle protes voorgelees. Lede van die vergadering, waaronder ’n simpatieke dr Heyns (van Kaapstad) het geoordeel dat die protes uitdrukkinge bevat wat beledigend teenoor die vergadering is. Die protes is van die hand gewys waarop hulle kennis gegee het van ’n protes op die besluit van die vergadering. Toe ds Andrew Murray ’n voorstel indien waarin ’n beroep gedoen word op die professore, predikante en studente om erns te maak met hulle toewyding het Kotzé en Burgers daarteen gepraat omdat almal weet dat die wedergeboorte en ervaring van God se genade die hoofsaak vir elke leraar moet wees. Toe Murray se voorstel aanvaar word, het Kotzé weereens kennis gegee van protes.
Dit moes nou reeds by die leser deurgeskemer het dat Burgers, Kotzé en Naudé dikwels nie in die vergadering was nie. In van die eerste sittings het verskeie ouderlinge beswaar gemaak teen die lede van die vergadering wat nie die sittings stiptelik bywoon nie. Aanvanklik is sake uitgestel as die voorsteller op daardie oomblik nie ter vergadering was nie. Op 18 November het ’n voorstel van Burgers ter tafel gekom terwyl hy sonder verlof afwesig was waarop die vergadering besluit het om in dergelike gevalle nie meer die aangeleentheid te laat oorstaan nie. Dieselfde dag word beide Kotzé en Naudé op dieselfde manier uitgevang. Dit is baie duidelik dat die vergadering gefrustreerd geraak het met hierdie drie leraars en dat húlle aan die ander kant doelbewus hulle misnoeë met die vergadering gedemonstreer het. Hulle was ook nie alleen nie, maar die leiers van ’n groep van die afgevaardigdes. Onder die liberaalgesinde leraars by die sinode het getel IGJ Horak (Mosselbaai), HCV Leibbrandt (Victoria-Wes), GA Martin (Aliwal-Noord), G van Niekerk (Hoopstad), LFG Biccard (Greytown), CT Muller (Pearston), CT Scholtz (Dordrecht), C Marais (Bredasdorp) en BH de Vries (Riebeeck-Wes). Soos in Europa die geval was, het ook hulle onderling in standpunte en denke groot verskille openbaar en tog ’n losse groep met dieselfde gesindheid gevorm.
Die kameel se rug het geknak toe ds Kotzé op Woensdag 19 November – na aanleiding van die petisie wat gevra het dat die Heidelbergse Kategismus verklaar en verdedig word in die prediking - verklaar dat die Heidelbergse Kategismus in antwoord 60 verkeerd is waar dit stel dat nadat die verloste deur ’n ware geloof in Christus geregverdig is, en dat ek nog gedurigdeur(steeds) tot alle kwaad geneig is. Volgens hom bevat dit taal die niet eens in de mond van eenen heiden waarheid sou bevatten, of hij moest een duivel zijn, veel minder nog in dien van den Christen.15 Waar hy ook al daaroor sou preek sou hy sê dat hy meen die kategismus hier verkeerd is. Op voorstel van dr Robertson (Swellendam) en ds Huet (Pietermaritzburg) het die vergadering geëis dat hy dit terugtrek. Op sy weiering is hy geleentheid tot die Vrydag gegun om die saak te oordink. Vrydag het hy verklaar dat hy dit nog sterker sou wou stel en nie bereid is om iets daarvan terug te trek nie. Burgers en Naudé het daarop aangedring dat Kotzé sy saak teenoor die vergadering motiveer. Die sinode was egter nie bereid om die Kerk se leer teen een van die Kerk se leraars te verdedig nie en het ’n kommissie aangewys om met hom in gesprek te tree. Die kommissie het gevra dat hy sy standpunt op skrif stel. Nadat hy sy verklaring voorgelees het, het Burgers en Naudé voorgestel dat die vergadering daarby berus. Die vergadering het egter tereg daarop aangedring dat hy sy stelling dat die Heidelbergse Kategismus verkeerd is, moes terugtrek en hom tot die volgende dag gegee om dit te doen.
Die aangeleentheid rondom Kotzé en die Heidelbergse Kategismus het baie aandag getrek sodat heelwat lede van die publiek die sittings bygewoon het wanneer die saak ter sprake gekom het. Van hulle het egter die indruk gewek dat hulle moedswillig geraas het om die verrigtinge te ontwrig. Daarop het die sinode besluit om aan elke afgevaardigde drie kaartjies beskikbaar te stel met die versoek om verantwoording te doen vir die mense aan wie hulle die kaartjies uitdeel.
Woensdag 26 November het Kotzé sy antwoord aan die sinode voorgehou waarin hy tot die slotsom kom dat die Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 60 in teenspraak met homself kom. Volgens hom rym die antwoord in vraag 60 glad nie met die antwoord op vraag 8 nie. Burgers en Naudé was vinnig om voor te stel dat daar tussen Kotzé en die res van die vergadering net ’n verskil in die grammatikale betekenis van die sinsnede is. Die vergadering wou egter dat hy erken dat die Heidelbergse Kategismus nie verkeerd is nie en het ’n verklaring deur dr Robertson aan hom voorgehou. Voordat hy daarop kon reageer, het die nuus gekom dat ouderling HH Loedolff van Malmesbury en HH Smuts die hofsaak teen die sinode se samestelling gewen het waarop die lede woonagtig buite die Kaapkolonie die vergadering moes verlaat. Die twee professore van die Kweekskool het ook op ’n wenk die vergadering vrywillig verlaat. Dit het die meerderheid van die konserwatiewe faksie drasties verminder.
Naudé en Burgers het onmiddellik daarop aangedring dat ’n nuwe moderatuur verkies word.16 Die hoofmotief vir die hofsaak was om van die konserwatiewe stemme vanuit die binneland ontslae te raak. ’n Nuwe verkiesing kon dit dalk vir die nuwe teologie moontlik maak om die leiding in die sinode oor te neem en hulle saak baie sterk te bevorder. Dit het nie gebeur nie. Die sinode het besluit om te verdaag totdat die moderatuur die lede weer oproep tot voortsetting van die vergadering.
Op 15 Oktober 1863 is die sinodevergadering met dieselfde moderatuur hervat om sy onafgehandelde sake te voltooi. Die volgende dag het Kotzé geweier om op die verklaring deur dr Robertson opgestel te reageer of om sy stelling terug te trek. Hierop is hy met behoud van traktement geskors tot en met die Sinodale Kommissie se vergadering in 1864 waar hy ’n laaste kans sou kry om van standpunt te verander. Hy het nie, is geskors en het die daaropvolgende hofsaak oor sy skorsing gewen. In die poging om hom terug te wen vir die regsinnigheid en in die baie geleenthede wat hy gebied is om weer oor die saak te dink, het die sinodevergadering nagelaat om aan hom ’n skriftelike akte van beskuldiging te besorg op grond waarvan die hof hom gelyk gegee het dat hy onregmatig geskors was.17 Iets soortgelyks het met Burger gebeur nadat die Sinodale Kommissie hom aan leerdwaling skuldig bevind het. Beide Kotzé en Burgers is deur die Kerk uit die bediening geskors, deur die siviele hof herstel en het hulle bediening sonder goedkeuring van die Kerk voortgesit.
Toe daar by die Sinode van 1867 beswaar gemaak word teen die aanvaarding van die geloofsbrief van Burgers – terwyl finale uitsluitsel nog nie ontvang is van die Geheime Raad in Brittanje nie – is ook hierdie sinodevergadering verdaag tot verdere kennisgewing. Tydens die polemiek oor hierdie aangeleentheid het Kotzé verskonend erken dat hy nie van DP Faure se kansel in die Mutual Hall gebruik sou maak indien hy bewus was dat Faure die Godheid van Christus geloën het nie.18 Die mate waarin die standpunte van die liberaalgesindes van mekaar verskil het, is merkwaardig. Dit het eerder oor ’n opvatting en ’n gesindheid teenoor die Kerk gegaan as oor ’n teologiese standpunt met eenvormige inhoud.
Die gevolge van die Moderne Rigting
Die oorhoofse vraag is wat hierdie ontevredenheid met die Kerk veroorsaak het? In die woorde van ds Naudé van Queenstown in 1860 op Graaff-Reinet was die leer van die kerk waaraan die Kerk vasgeklou het die orakelspreuke van hulle vaders. Die Kerk het bekrompe gebly omdat dit nie die nuwere teologie van verligte beskawing wou aanvaar nie. Daarom het die Kerk die remskoen vir die samelewing geword. Die Sinode van 1862 was die geleentheid waarvoor die voorstanders van die liberale rigting gewag het om ’n deurbraak in die Nederduitse Gereformeerde Kerk te bewerkstellig. Toe dit vroeg tydens die sinode al geblyk het dat dit nie gaan gebeur nie, het die leiers van hierdie rigting mekaar opgestook tot optredes waaroor hulle waarskynlik jare later skaam sou gekry het. Die pers en lede van die publiek het ywerig meegehelp om hierdie negatiewe beeld van ’n verkrampte kerk te laat posvat. Vir baie lidmate het hierdie begrip bly voortbestaan: al is ek lidmaat van die Kerk, bly ek erg krities daarteenoor en behou ek ’n afstand daarvan. Die situasie dat die lidmate van die kerk agterdogtig is teenoor die kerk, kerkbesluite, meerdere vergaderings en die kerkleiding, so onmoontlik as wat dit klink, is ’n realiteit waarmee ook die Nederduitse Gereformeerde Kerk sedert die helfte van die negentiende eeu te kampe het. Op so ’n manier kan die Kerk vir ’n mens nooit die moeder word wat Calvyn bedoel het toe hy gesê het dat as God ons Vader is, is die Kerk ons moeder. In die skoot hiervan wil God sy kinders versamel, nie alleen om deur die bystand en bediening daarvan gevoed te word so lank hulle suigelinge en kinders is nie, maar ook om deur die moederlike sorg daarvan gestuur te word totdat hulle wasdom bereik en uiteindelik die doel van die geloof bereik. Dit is ons immers nie geoorloof om dinge wat God saamgevoeg het, te skei nie, sodat die kerk ook vir diegene vir wie God hulle Vader is, hulle moeder is.19
Die liberale rigting as deel van die gistingspot van die negentiende eeu met die aksente wat dit gelê het, het ’n positiewe bydrae tot die samelewing gelewer deurdat dit opvoeding sterk beklemtoon het, onafhanklikheid in die hand gewerk het, die nuusmedia versterk het en persoonlike selfstandigheid aangewakker het. Dit moet egter tot ’n groot mate verantwoordelikheid aanvaar vir die gesindheid van gesagsverwerping in samelewing en kerk, die onsekerheid in geloofsopvattings en die agterdog teenoor die kerk. Die Hervorming het teenoor die toestand in die Middeleeue daarin geslaag om die lidmate een met die kerk te laat voel: die lidmaat was die kerk wat deur Christus regeer is. Die liberale rigting met sy siening dat die lidmate by die kerk verby ontwikkel het, het weer die wig tussen die lidmate en die kerk terug geplaas.
BRONNELYS
Calvyn, J 1559. Institusie van die Christelike Godsdiens, Boek 4, vertaling Simpson HW, Potchefstroom, 1991.
Faure, DP1907. My Life and Times, JC Juta, Kaapstad.
Handelingen der tiende vergadering van de synode der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika gehouden de Kaapstad, op Dingsdag, den 14den October en volgenden dagen, 1862, NH Marais, Kaapstad, 1863.
TREFWOORDE
Geloofsleer, Beskawingsontwikkeling, Sakramente primitiewe godsdienstige tekens, Bybelverhale om sedelike waardes te ondermyn, Wetenskap die basis vir geloofwaardigheid
KEY WORDS
Doctrines, Developement of civilisation, Bible stories calculated to corrupt the morals of our children, Natural science the proof of religious beliefs.
KONTAK BESONDERHEDE
1 Faure, DP 1907. My Life and Times, bl 21.
2 Die Liberale Rigting in Suid-Afrika (1951), bl 191 ev
3 Faure, aw, bl 24.
4 Handelingen 1862, bl 60.
5 Faure, aw, bl 36.
6 Dies. bl 45.
7 Dies. bl 115.
8 Dies. bl 124-125
9 Du Toit, BJ 2000. God? Geloof in ’n postmoderne tyd, Bloemfontein: CLF, 152
10 Hanekom, TN, aw, bl 308-414 gee ’n volledige beskrywing hiervan.
11 Handelingen 1862, II.13-15.
12 Dieselfde, V.14.
13 Van der Watt, PB 1973. Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962, behandel die aangeleentheid volledig.
14 Handelingen 1862, bl 26.
15 Handelingen 1862, bl 84.
16 Dies. bl 104
17 Du Toit, S. Professor NJ Hofmeyr, 1827-1909, predikant in die lesingslokaal (ongepubliseerde verhande-ling, 1984), bl 208 ev behandel die saak volledig.
18 Dieselfde, bl 255.
19 Calvyn, J 1559. Institusie van die Christelike Godsdiens, 4.1.1, bl 1266-1267.