Fourie, W & Van Rooi, L
Universiteit van Stellenbosch

Geskeidenheid binne die familie van NG Kerke en die stryd om ’n menswaardige Suid(er)-Afrika: enkele implikasies

ABSTRACT

In 1996 het Suid-Afrika haar eerste demokratiese Grondwet aanvaar waarby ’n Handves van Regte ingesluit is. Enersyds verteenwoordig die Grondwet ’n kulminasiepunt van die stryd om die erkenning van elke Suid-Afrikaner se inherente gelykheid, vryheid en waardigheid. Andersyds skep die Grondwet die ruimte vir die voortgesette strewe na ’n menswaardige samelewing.

Daar kan egter gevra word in hoe ’n mate Suid-Afrika daarin geslaag het om ’n kultuur van menswaardigheid te vestig. Hierdie vraag hang saam met die rol wat die kerke binne die familie van NG Kerke kan speel in die vestiging van ’n kultuur soos veronderstel deur die Grondwet van Suid-Afrika. In hierdie verband wys die teoloog, Wolfgang Huber, die belangrike verband tussen demokrasie se menseregtekultuur en die belang van menswaardigheid binne Protestantisme.

Hierdie artikel ondersoek die rol wat die familie van NG Kerke kan speel in die daarstel van ’n kultuur van menswaardigheid in Suid-Afrika. Spesiale aandag word gegee aan die strukturele geskeidenheid binne die familie van NG Kerke en die implikasies hiervan op die bovermelde.

ABSTRACT

Division within the family of Dutch Reformed Churches and the quest for a culture of human dignity in South(ern) Africa: some implications.

South Africa accepted her first democratic Constitution, which includes a Bill of Human Rights, in 1996. Whilst on the one side this Constitution should be seen as the pinnacle in the struggle to realize the inherent equality, freedom and dignity of every South African, on the other side, this Constitution also creates the space for the continous strive towards a society characterised by a culture of human dignity.

It can however be asked to what extend South Africa succeeded to establish a society characterised by a culture of human dignity. This questions relates to the role which churches within the family of Dutch Reformed Churches can play in establishing a culture as it is implied by the Constitution. In this regard the theologian Wofgang Huber shows in his work towards the existing and indeed most important connection between democracy and a culture of human dignity.

This article looks into the role that the family of Dutch Reformed Churches can play in creating a culture of human dignity in South(ern) Africa. Special attention will be given to the structural division wihtin the family of Dutch Reformed Churches and the challenges in this regard.

1. Menswaardigheid binne die Suid-Afrikaanse demokrasie

Volgens die Handves van Regte van die Suid-Afrikaanse Grondwet (die Grondwet) het elke Suid-Afrikaner ’n ‘ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm (moet) word’.1 Hierdie waardigheid word beskerm deur ’n stel regte wat ten doel het om elke persoon binne die landsgrense van Suid-Afrika te beskerm en om die inherente waardes van die Grondwet, nl. vryheid, gelykheid en waardigheid, te laat gestalte vind in onderlinge verhoudinge tussen landburgers en die staat, landsburgers en ander instansies in die samelewing en landsburgers onder mekaar.

Die belang van die aanloop tot post-apartheid Suid-Afrika se Grondwet wat ’n Handves van Regte insluit, kan nie gering geskat word nie. Hier moet daar onthou word dat Suid-Afrika se geskiedenis gekenmerk word deur verdeeldheid, diskriminasie en juis ook die ontkenning van basiese regte aan die grootste gedeelte van haar burgers. Die Suid-Afrikaanse Grondwette van 1910, 1961, en 1983 is gekenmerk deur rasse-eksklusiwiteit, die afwesigheid van ’n Handves van Regte, en die oppergesag van die parlement.2 Dis is dan juis op hierdie punt wat die Grondwet van 1996 verskil van die vorige Grondwette van Suid-Afrika. Die huidige Grondwet (wet no 108 van 1996) word juridies beskou as die hoogste gesag in Suid-Afrika en dit laat geen ruimte vir rasse-eksklusiwiteit nie. Daarenteen word menseregte en menswaardigheid aan al haar landsburgers3 geensins bevestig of beskerm deur die genoemde Grondwette van 1910 -1983 nie. Inteendeel, mens vind eerder tekens van ’n afkeur jeens die tema van menseregte binne verskeie sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing van die tyd.4 Die afwesigheid van menseregte het tot gevolg gehad dat die menswaardigheid van die grootste gedeelte van haar burgers ontken is. Tesame met hierdie ontkenning van menswaardigheid is dan ook die ontkenning van gelykheid van mense – een van die pilare en weerstandigste gevolge van die apartheid-sisteem.

Dit is binne hierdie konteks dat die eerste Grondwet ná Apartheid moes poog om, in lyn met die Universele Verklaring van Menseregte van 19485 en die Vryheidshandves van 1955 (Freedom Charter)6, die waardigheid van elke Suid-Afrikaner te erken en beskerm. Daarom is dit geen verrassing dat die Grondwet duidelik ten diepste gebou is op die erkenning van menswaardigheid nie.7 Reeds in die proses wat die implementering van die Grondwet voorafgegaan het, is daar gepoog om hieraan gestalte te gee en daarom die direkte betrekking van die land se inwoners by die vaslegging van die Grondwet.8

Tog is die realisering en toeëiening van elke mens se gelyke menswaardigheid ’n uitdaging waarmee Suid-Afrikaners gekonfronteer word.

Die effek van hierdie geïnstitusionaliseerde ongelykheid is steeds sigbaar in die Suid-Afrikaanse samelewing. Juis daarom maak Katts dit duidelik dat die waardigheid van die individuele mens en die gelykheid van alle mense met regte te make het.9 In ’n bespreking oor die begrippe van ‘wit meerderwaardigheid’ en ‘swart minderwaardigheid’ maak Mamphele Ramphele die volgende stelling: ‘It (black superiority) is not something one shrugs off like a bad cold. It has been branded deeply into one’s psyche by doors that have been shut in one’s face, resulting in repeated humiliation. Humiliation tends to breed both self-hatred and rage. Both emotions make it hard for one to rise to the challenges of the rights and responsibilities of citizenship’.10 In die konteks van Suid-Afrika vandag is dit waar van albei kante van die ‘skeidslyn’. Die ontkenning van regte aan swart Suid-Afrikaners het nie net ’n direkte impak op die menswaardigheid van hierdie groep gehad nie, maar deur wetgewing wat juis die menswaardigheid van swart Suid-Afrikaners aangetas het, het dit ook wit Suid-Afrikaners ontneem van die geleentheid om die rykheid van hul medemens ten volle te beleef. In hierdie verband noem Botman dat ‘South African black theologians such as Simon Maimela, Desmond Tutu, and Allan Boesak, have argued since the 1970’s that the liberation of black people would lead also to the restoration of the human dignity of whites.’11

Vanuit bovermelde blyk dat die Grondwet ten doel het om menswaardigheid binne die landsgrense van Suid-Afrika te bevorder asook om die inherente en gelyke menswaardigheid van almal binne haar landsgrense te beskerm. Dit is egter duidelik dat die vestiging van ’n kultuur van menswaardigheid in Suid-Afrika ’n langtermynproses is wat nie slegs teen die agtergrond van juridiese oorwegings tot sy reg sal kom nie. Dit bring die uitdaging voor die deur van elke Suid-Afrikaner, maar veral voor die instellings van die burgerlike samelewing. 12 Hierdie artikel ondersoek daarom die rol wat die familie van NG Kerke in hierdie verband kan speel aangesien die getuienis en beskerming van elke mens se gelyke menswaardigheid ’n fundamentele element van die Christelike antropologie is. In die volgende afdeling sal gevolglik aandag geskenk word aan die teologiese basis op grond waarvan die familie van NG Kerke haar rol kan opneem. Spesifiek die werk van die Duitse teoloog Wolfang Huber sal gebruik word om klaarheid te kry oor die kerk se potensiële rol.13

2. DIE ROL VAN MENSWAARDIGHEID BINNE PROTESTANTSE TEOLOGIE

Ten spyte daarvan dat die Suid-Afrikaanse konteks gekenmerk word deur ’n hernude beklemtoning van elke burger se gelyke menswaardigheid, is dit nie sonder meer duidelik hoe die kerk hierby sou kon aansluit nie. Spesifiek die rol van die tema van menswaardigheid in die kerk word omgeef deur konseptuele onduidelikheid.

In hierdie opsig is Wolfgang Huber se werk oor menswaardigheid van belang. Hy maak die uitdagende punt dat die tema van menswaardigheid vir die kerk nie slegs van formele belang is nie, maar dat dit inderdaad die kerke se primêre toegang tot hul publieke rol in demokrasieë is.14 Deur middel van die bevordering van ’n kultuur van menswaardigheid, meen Huber, kan die kerk en teologie in kritiese solidariteit met demokrasieë hul getuienis na die publieke sfeer bring. Huber wys egter verder daarop dat hierdie kritiese solidariteit op grond van die gedeelde belang van menswaardigheid nie die kerk se ongekwalifiseerde legitimasie van demokrasie óf die politieke maghebbers van die dag impliseer nie. Inteendeel, ’n kultuur van menswaardigheid en die kodifisering daarvan in handveste van menseregte gee juis uitdrukking aan die feit dat menswaardigheid die mag van die staat voorafgaan,15 en dat die staat sy grense oorskry daar waar hierdie onvervreembare menswaardigheid nie gedien word nie.16

Huber wys op die historiese rol van die Christelike (en spesifiek Protestantse) teologie om menswaardigheid as toegang tot demokrasieë te motiveer. Die Reformasie se herontdekking van God se genadige regverdigmaking van die mens lewer ’n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van menseregte in moderne samelewings en vorm terselfdertyd die basis van menswaardigheid binne Protestantisme.17 In die Grieks-Romeinse antieke is die mens se waardigheid òf as dignitas òf as honor verstaan. 18 Die mens se dignitas was wat die mens onderskei het van diere, terwyl honor ten nouste saamgehang het met die posisie wat in die samelewing vervul is. Met die Italiaanse Renaissance en Spaanse laat-skolastiek gedurende die 15de en 16de eeue het die egaliserende betekenis van menswaardigheid voorrang bo die differensiërende betekenis begin geniet.19 Dit was egter veral die Reformasie wat die grondslag gelê het vir 'n radikale bevestiging van elke mens se onvervreembare gelyke waardigheid, en dit het noodwendige en verreikende politieke gevolge gehad.

Martin Luther se ontdekking dat God sy geregtigheid nie slegs aktief en bestraffend uitoefen nie, maar deur sy genade in die eerste plek passief, het geïmpliseer dat menswaardigheid nie meer kon afhang van die individu se vermoëns nie.20 God se inisiatief het 'n differensiërende menswaardigheidskonsep fundamenteel weerspreek deur menswaardigheid buite die mens self te begrond.21 Kant het hierdie onvervreembare waardigheid later deels verwoord as dat die mens ’n doel insigself is, en nooit gemaak kan word tot ’n middel tot ’n doel nie.22

Huber motiveer sy argument vir menswaardigheid as aanknopingspunt tussen die kerk en demokrasieë deur te wys op die Protestantisme se bydrae tot die kodifisering van die menswaardigheidsgedagte. Hierdie bydrae moet egter nie verwar word met 'n implisiete oproep tot legitimisering van demokrasieë se klem op menswaardigheid nie. Inteendeel, Huber meen die Reformatoriese impulse moet steeds aangewend word om menswaardigheid as 'n kritiese aanknopingspunt te ontwikkel. Vir hom is veral kritiek teen menseregte as individualisme nodig.

Huber meen dat dit dwingend noodsaaklik is om die verbinding tussen die individuele en sosiale elemente van die Reformatoriese verstaan van menswaardigheid te herbevestig. God se regverdigmaking verkneg die mens immers nie tot ’n individualistiese misverstaan van menswees nie,23 maar dit bevry die mens juis van ’n verknogtheid aan die self. Huber maak gebruik van Bonhoeffer se teologie om aan te dui dat God se bevryding van sonde die mens open vir ander.24 Menswaardigheid, volgens ’n Protestantse verstaan daarvan, grens dus nie individue van mekaar af nie, nog minder verdoem dit individue tot die beskerming van hul menswaardigheid, maar dit rig mense op mekaar. Bonhoeffer werk met die “antwoordstruktuur” wat God se bevryding aan menswees gee.25

Huber gebruik Luther se bekende dubbel-tese om hierdie antwoordstruktuur te illustreer: ’n Christen is ’n vrye meester oor alles en aan niemand onderdanig nie. ’n Christen is ’n diensbare kneg en aan almal onderdanig. Die Christen is ’n vrye meester weens God se bevryding van eie pogings om waardigheid en betekenis te bewerkstellig. Omdat menswaardigheid slegs in verhouding met ander gerealiseer kan word, beteken die Christelike verstaan van menswaardigheid dat die naaste nie beleef word as ’n beperking op vryheid en per implikasie menswaardigheid nie, maar as die voorwaarde vir die realisering daarvan.26

Vir die Suid-Afrikaanse demokrasie, maar ook vir die familie van NG Kerke het menswaardigheid as aanknopingspunt tussen demokrasieë en die kerk verreikende implikasies. Indien die tema van menswaardigheid erken word as van sentrale belang, roep dit ’n korresponderende getuienis binne en buite die kerk na vore. Huber verwoord hierdie verband deur na die kerk te verwys as beide ruimte en beyweraar vir vryheid27, dit wil sê dat dit die kerk se plig is om haar getuienis te beliggaam. Vir die huidige situasie van geskeidenheid in die familie van NG Kerke is dit egter ook waar 'n grondliggende kritiek geleë is: die kerk kan haarself kwalik vir vryheid in die samelewing beywer sonder om sélf ruimte van geleefde vryheid te wees.28 Dieselfde geld vir die kerk se betrokkenheid met betrekking tot die vestiging van ’n kultuur van menswaardigheid: om haarself vir ’n meer menswaardige samelewing te beywer, is dit belangrik dat die verkondigde waarheid beliggaam word in die kerk se werking en strukture.29 In die laaste afdeling word daar gevolglik aandag gegee aan die implikasies van die gereformeerde oortuiging van die gelyke waardigheid van alle mense binne ’n samelewing waar ’n kultuur van menseregte gebou word.

3. IMPLIKASIES VIR DIE FAMILIE VAN NG KERKE

In die eerste afdeling is aangetoon dat dit dwingend noodsaaklik is dat Suid-Afrika – ten spyte van die Grondwet en Handves van Regte – toenemend ’n menswaardige samelewing moet word. Die Grondwet bied die basis vir veral die instellings van die burgerlike samelewing om ’n bydrae te lewer. In die tweede afdeling is aan die hand van die teologie van die Duitse teoloog, Wolfgang Huber, aangetoon hoe die tema van menswaardigheid ’n basiese veronderstelling van die Gereformeerde dogma en ekklesiologie vorm. In hierdie afdeling word sekere implikasies aan die familie van NG Kerke in die lig van die eerste twee afdelings geformuleer.

Eerstens is dit nodig om daarop te wys dat die term “familie van NG Kerke” verwys na die historiese en noue verband tussen die NG Kerk (NGK), die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), die NG Kerk in Afrika (NGKA), en die Reformed Church in Africa (RCA). Ten spyte van hierdie noue band staan die term egter steeds ook in die teken van die geskeidenheid wat hierdie familie van kerke kenmerk. Die voormalige NG Sendingkerk (NGSK), die NGKA30 en die RCA het tot stand gekom weens sendingwerk onder verskillende bevolkingsgroepe in Suider-Afrika.31 Uniek aan hierdie kerke is die feit dat lidmaatskap tot hierdie kerke vir ’n lang tydperk beperk was tot ’n spesifieke bevolkings- en/of etniese groep.

Belangrik vir die argument is die implikasies hiervan, naamlik dat strukturele geskeidenheid binne die familie van NG Kerke nie primêr toegeskryf kan word aan verskille op grond van kerkregtelike beginsels, kerklike struktuur, die belydenis grondslag, en ander dogmatiese verskille nie.32 Die geskeidenheid binne die familie van NG Kerke kan na behore geïnterpreteer en verstaan word slegs aan die hand van die sosiaal-, polities-, en historiese konteks van Suid-Afrika. Die geskiedenis van die familie van NG Kerke is inderdaad ten nouste verbonde aan die sosiale geskiedenis (kultuur-histories) van Suid-Afrika.33 Die praktyk van afsonderlike kerkverbande onder die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika was immers in lyn met die beleid van afsonderlike ontwikkeling voor en tydens statutêre apartheid, wat – soos welbekend – ook deur hierdie kerke ondersteun is.34 Hierdie praktyk(e) het vanaf die vroegste tye ’n daadwerklike impak gehad op die ekklesiologie van die familie van NG Kerke. Op sy beurt het die bepaalde ekklesiologiese uitkyk ook uiting gevind in die strukture en praktyke van hierdie kerke. Ten spyte van ’n proses van kerkhereniging wat sedert die 1980s reeds aan die gang is35, is die familie van NG Kerke dus een van die denominasies wat gekenmerk word deur ’n struktuur wat slegs op grond van Suid-Afrika se sosio-politieke geskiedenis na behore verstaan kan word. Hierdie geskeidenheid het egter ook implikasies, tweedens, vir die legitimiteit van die kerk se getuienis.

Huber wys ons daarop dat, indien die kerk getrou wil bly aan haar wortels, die tema van menswaardigheid 'n sentrale rol in die Protestantse self-verstaan speel. Die onvermoë om hierdie oortuiging tot uiting te bring blyk gevolglik kritiese vra aan die oortuigingskrag van die kerk se verkondigde boodskap te vra. Aan die hand van Bonhoeffer maak Huber ons daarop attent dat die kerk se verkondigde waarheidskarakter ten nouste saamhang met die bestaansvorm daarvan. In sy bekende Finkwelwald-lesings wys Bonhoeffer daarop dat "die waarheid waarvan die kerk getuig nie bloot die gevolg van afleidings is nie", ook nie die oordrag van "'n spesifieke dogma" nie. Die kerk se getuienis is eerder waarheid "wat plaasvind" ("geschehende Wahrheit"), en hierdie waarheid is aangewese op 'n korresponderende bestaansvorm. Dan maak Bonhoeffer die verontrustende stelling: "Dit is moontlik vir die kerk om die ware leer te verkondig, maar dat dié leer steeds onwaar is."36 Meer spesifiek maak Willie Jonker ons in aansluiting daarby attent daarop dat ‘dit nóg in die lig van die Skrif, nóg volgens die beginsels van die gereformeerde kerkreg toelaatbaar is om verskillende Ned. Geref. Kerke (in die sin van afsonderlike kerkverbande vir die verskillende volkere) parallel naas mekaar te laat bestaan.’37 Hierdie realiteit het direkte implikasies óók op hoe ons ekklesiologie gestalte vind binne die strukture van die kerk.

Laastens volg dit uit hierdie analise van die Suid-Afrikaanse konteks en Huber se werk dat ’n geskeide familie van NG Kerke die legitimiteit van die denominasie se publieke stem onder verdenking plaas. Die huidige kerklike spanning rakende die NG Kerk se aansoek om lidmaatskap van die All African Council of Churches is maar een aanduiding van die skade wat geskeidenheid aan die kerk as instelling se getuienis aanrig. Van beide binne en buite die kerk blyk die familie van NG kerke se legitimiteit en vermoë tot betroubare publieke deelname toenemend in die gedrang te kom. Van binne vind die kerke dit steeds moeilik om ’n sentrale oortuiging tot uiting te bring, en van buite getuig die kerk se strukture teen een van haar grondende waarhede, naamlik God se genadige regverdigmaking van die sondaar.

Ten spyte daarvan dat die gereformeerde kerke etlike miljoene Suid-Afrikaners verteenwoordig, vind die kerk dit derhalwe steeds moeilik om invloed in die publieke sfeer uit te oefen.38 In hul analise van die burgerlike samelewing in Suid-Afrika, wys Robinson en Friedman dat kerke in die algemeen –nie tel onder die instansies wat konstruktief in die publieke sfeer invloed uitoefen nie.39 Inteendeel, organisasies met min of geen amptelike lede, soos Idasa, of ’n organisasie wat feitlik deel van die politieke sfeer vorm, soos Cosatu, is die sterkste akteurs binne die burgerlike samelewing. Terwyl lidmate en baie gemeentes sonder twyfel daagliks besig is om die boodskap van God se genadige aanname van alle mense op ’n verskeidenheid van plekke te leef, ook deur middel van verhoudings wat oor kleur- en kultuurgrense heen strek, het Suid-Afrika se burgerlike samelewing instellings nodig wat ook in terme van hul strukture meewerk aan ’n meer menswaardige Suid-Afrika. Dit geld veral in die konteks van Suid-Afrika as “maturing democracy”, soos Robinson en Friedman dit stel: “While South Africa ... [is a] functioning multi-party [democracy], [it] is [not] fully responsive to its citizens: liberal democratic norms may be present in some institutions and procedures, but absent in others because democratic institutions are still maturing ...”40

4. TEN SLOTTE

In hierdie artikel het ons gepoog om aan te toon dat strukturele geskeidenheid binne die familie van NG Kerke die kerk as instelling se publieke getuienis onder verdenking plaas. Deur middel van die werk van die Duitse teoloog Wolfgang Huber is aangetoon hoe menswaardigheid ’n sentrale rol in Protestantse teologie speel en potensieel een van die mees betekenisvolle aanknopingspunte tussen demokrasieë en die kerk van wees. Ons het egter ook aangetoon hoe die geskeidenheid binne die familie van NG Kerke nie in ooreenstemming met hierdie getuienis blyk te wees nie en groot dringendheid aan die gesprekke rakende kerkhereniging verleen.

BIBLIOGRAFIE

Die Achterberg Verklaring. 2007. http://ngkok.co.za/achterberg/Achterbergh%20Verklaring%202006%20_Afr.pdf

Botman, HR. 2006. ‘Covenatal Anthropology: Integrating Three Contemporary Discourses of Human Dignity’. In Woodhead, L & Soulen, RK. (red). 2006. God and Human Dignity. 72-86. Grand Rapids: Eerdmans.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Seksie 10. 1996.

Die Universele Verklaring van Menseregte. 1948. http://www.un.org/Overview/rights.html

Die Vryheidshandves. 1955. http://www.anc.org.za/ancdocs/history/charter.html

Gerstner, J. 1997. ‘A Christian Monopoly: The Reformed Church and Colonial Society under Dutch Rule’. in Elphick, R & Davenport, R (eds). 1997. Christianity in South Africa. A Political, Social & Cultural History. 1997, 16-30.

Huber, W. 1985. Folgen christlicher Freiheit: Ethik und Theorie der Kirche im Horizont der Barmer Theologiesche Erklärung. 2de uitgawe. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag

Huber, W. 1987. Protestantismus und Protest. Reinbek bei Hamburg: Rowohlt Taschenbuch Verlag.

Huber, W. 1990a. ‘Protestantismus und Demokratie’ in W. Huber (red.) Protestanten in der Demokratie. 11-36. München: Kaiser.

Huber, W. 1990b. Konflikt und Konsens. Studien zur Ethik der Verantwortung. München: Chr Kaiser Verlag.

Huber, W. 1993a. Die tägliche Gewalt: gegen den Ausverkauf der Menschenwürde. Freiburg im Breisgau: Herder.

Huber, W. 1996a. Gerechtigkeit und Recht. Grundlinien christlicher Rechtsethik. Gütersloh: Chr. Kaiser/Gütersloher Verlagshaus.

Huber, W. 1999. Kirche in der Zeitenwende: gesellschaftlicher Wandel und Erneuerung der Kirche. Gütersloh: Verl. Bertelsmann Stiftung.

Huber, W. 2001a. Rechtfertigung und Recht: Über die christlichen Wurzeln der europäischen Rechtskultur. Baden-Baden: Nomos.

Huber, W. 2001b. Unantastbare Menschenwürde – Gilt sie von Anfang an? [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ekd.de/vortraege/huber/Huber_011207.html. [15 Augustus 2008]

Huber, W. 2004a. Der christliche Glaube und die politische Kultur in Europa. [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ekd.de/vortraege/huber/040524_huber_glaube_und_politische_kultur.html [15 Augustus 2008]

Huber, W. 2004b. Religionsfreiheit und offene Gesellschaft — ein Prüfstein aktueller Dialoge in Europa. [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ekd.de/vortraege/huber/041130_huber_-religionsfreiheit.html [15 Augustus 2008]

Huber, W. 2006a. Flugblätter der Freiheit. Verantwortliches Handeln aus christlichen Wurzeln. [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ekd.de/vortraege/huber/060123_huber_weisse_rose.html [15 Augustus 2008]

Huber, W. 2006b. Das Vermächtnis Dietrich Bonhoeffers und die Wiederkehr der Religion – Vortrag zum 100. Geburtstag von Dietrich Bonhoeffer in der Humboldt-Universität zu Berlin. [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ekd.de/vortraege/huber/060204_huber_berlin.html [15 Augustus 2008]

Jonker, WD. 1962. Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal. Potchefstroom: Studiegroep oor “Kerk en Wêreld”.

Katts, DJ. 2007. Op weg na ’n menswaardige samelewing: ’n teologies-etiese ondersoek na die korrelasie tussen ’n handves van menseregte en morele vorming. Stellenbosch: SUN Press.

Robinson, M. & Friedman, S. (red). 2005. Civil society, democratisation and foreign aid in Africa. IDS Discussion Paper 383. Brighton: Institute of Development Studies.

Skjelten, S. 2006. A people’s constitution. Public participation in the South African constitution-making process. Midrand: Institute for Global Dialogue.

Ramphele, M. 2008. Laying Ghosts to Rest. Dilemmas of the Transformation in South Africa. Cape Town: Tafelberg.

KEY WORDS

Human Dignity, Constitution, Family of Dutch Reformed Churches, Freedom

Unity

TREFWOORDE

Menswaardigheid, Grondwet, Familie van NG Kerke, Vryheid, Eenheid

KONTAK BESONDERHEDE

Willem Fourie

Fakulteit Teologie

Stellenbosch Universiteit

Privaatsak X 1

7602 MATIELAND

Tel: 084 680 0911

E-pos: willemfourie@gmail.com

Leslie van Rooi

Fakulteit Teologie

Stellenbosch Universiteit

Privaatsak X 1

7602 MATIELAND

Tel: 071 194 2324

E-pos: lbvr@sun.ac.za

1 Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Seksie 10, 1996, 3.

2 Sien in hierdie verband Synnøve Skjelten, A people’s constitution. Public participation in the South African constitution-making process, 2006, 15-17.

3 Eie beklemtoning.

4 Verskeie bronne toon aan dat die idee van Regte aan almal veral gedurende Apartheid sterk saamgehang het met die idee en ‘gevaar’ van kommunisme. In die lig hiervan het die persepsie bestaan dat die vestiging (en die verstaan) van aspekte soos menswaardigheid en vryheid nie anders as dat dit gepaard sou gaan met ‘n politieke en ekonomiese rewolusie nie. Dit moes ten alle koste vermy word. Vir ’n goeie oorsig in hierdie verband sien Danie du Toit, Die Mens en sy Regte. Geloof en Praktyk in Suid-Afrika. 1988. Kaapstad: Zebra Publikasies; OR Olivier, Menseregte en die Suid-Afrikaanse kerke. 1983, Stellenbosch Universiteit: Ongepubliseerde BD-verhandeling.

7 Sien die Grondwet van die RSA, Seksie 1 (a), 1996, 1. Dit is noemenswaardig dat die aspek van Menswaardigheid ten diepste verbind word met al die ander artikels in die grondwet en dus nie net deel vorm van die voorwoord nie, maar ook voorkom in die res van die dokument. Sien in hierdie verband Van der Venn, et al, Is there a God of Human Rights? The Complex Relationship between Human Rights and Religion: A South African Case. 2004, 276-280.

8 Sien in hierdie verband Skjelten, A people’s constitution, 2006. ‘For the South African transformation to succeed, a democratic culture and an understanding of law as societal framework had to be developed. The final Constitution needed to be a living document that South Africans could own. In order to achieve this, the constitution-writing process had to facilitate participation by the public.’ Skjelten, A people’s constitution, 2006, 26.

9 DJ Katts, Op weg na ‘n menswaardige samelewing: ‘n teologies-etiese ondersoek na die korrelasie tussen ‘n handves van menseregte en morele vorming, 2007, 17. Eie beklemtoning.

10 Mamphele Ramphele, Laying Ghosts to Rest. Dilemmas of the Transformation in South Africa. 2008. 73.

11 HR Botman, ‘Covenatal Anthropology: Integrating Three Contemporary Discourses of Human Dignity’. In Woodhead & Soulen (red), God and Human Dignity, 2006, 74.

12 Donald Katts wys daarop dat samelewingsinstansies direk kan bydra om menswaardigheid in Suid-Afrika te bevorder. Hy noem as rolspelers in die verband die sakesektor, die media, statutêre instansies en die burgerlike samelewing. Sien in dié verband Katts, Op Weg, 2007, 148-157.

13 Huber is ook sedert 2003 die voorsitter van die Evangelische Kirche in Deutschland se uitvoerende raad, en is weens sy posisie nou betrokke by die kerk se publieke getuienis. Hy het egter reeds voor sy kerklike betrokkenheid oor die kerk se publieke rol nagedink, en skryf in 1973 die boek Kirche und Öffentlichkeit (Kerk en Publiek).

14 Wolfgang Huber, Protestantismus und Protest. 1987:74-79; Protestantismus und Demokratie. In W. Huber (ed.) Protestanten in der Demokratie. 1990a: 29; Der christliche Glaube und die politische Kultur in Europa. 2004a: (http://www.ekd.de/vortraege/huber/040524_huber_glaube_und_politische_kultur.html); Religionsfreiheit und offene Gesellschaft – ein Prüfstein aktueller Dialoge in Europa. 2004b. (http://www.ekd.de/vortraege/huber/041130_huber_religionsfreiheit.html).

15 Huber, 1987:74.

16 Wolfgang Huber. Kirche in der Zeitenwende Gesellschaftlicher Wandel und Erneuerung der Kirche. 1999. 171-173.

17 Wolfgang Huber. Rechtfertigung und Recht. Über die christlichen Wurzeln der europäischen Rechtskultur. 2001a:12-18.

18 Wolfgang Huber. Unantastbare Menschenwürde – Gilt sie von Anfang an? 2001b. (http://www.ekd.de/vortraege/huber/Huber_011207.html)

19 Sien veral Wolfang Huber. Gerechtigkeit und Recht. Grundlinien christlicher Rechtsethik. 1996a. 228-231.

20 Huber 1987:23-24.

21 Wolfgang Huber. Die tägliche Gewalt: gegen den Ausverkauf der Menschenwürde. 1993. 150.

22 Wolfgang Huber. Flugblätter der Freiheit. Verantwortliches Handeln aus christlichen Wurzeln. 2006. (http://www.ekd.de/vortraege/huber/060123_huber_weisse_rose.html).

23 Huber 1999:169-170

24 Wolfgang Huber. Konflikt und Konsens. Studien zur Ethik der Verantwortung. 1990b. 141-146.

25 Huber 2006:6.

26 Huber 1999:170.

27 Wolfgang Huber. Folgen christlicher Freiheit: Ethik und Theorie der Kirche im Horizont der Barmer Theologiesche Erklärung. 1985. 205-216.

28 Huber 1985:212.

29 In hierdie opsig wys Huber ook op Bonhoeffer se onderskeid tussen die kerk se verkondigde waarheid en haar bestaansvorm (“Wahrheit” und “Existenzform”): Christelike waarheid bestaan nie onbeliggaam nie, en die waarheidsgehalte is inderdaad afhanklik van die beliggaming daarvan (Huber 1985:169).

30 Op 14 April 1994 het die NGSK en die grootste gedeelte van die NGKA verenig in die VGKSA.

31 Vir ’n goeie oorsig in hierdie verband sien NJ Smith Die planting van afsonderlike kerke vir nie-blanke bevolkingsgroepe deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Annale. Vol. 34. Serie B no.2. Stellenbosch Universiteit. 1973.

32 Alhoewel die belydenis van Belhar slegs deur die VGKSA en nie deur die ander kerke binne die familie van NG Kerke onderskryf word nie, sou dit onregverdig wees om die noodsaaklikheid vir afsonderlike kerke toe te skryf aan ‘n verskil in belydenis tussen hierdie kerke. Geskeidenheid binne die familie van NG Kerke bestaan immers reeds lank voor die opstel en aanvaarding van hierdie belydenis deur die Sinode van NGSK in 1982 en 1986 afsonderlik. So onderskryf al vier kerke binne die familie die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse kategismus en die Dordtse Leerreëls.

33 Vir ‘n goeie illustrasie van die noue verhouding tussen die kerk (hier die NG Kerk) en die sosiaal-politiese konteks van Suid-Afrika sien die amptelike Sendingbeleid van die NG Kerk(-e). In GBA Gerdener, Reguit koers gehou, 1951, 85-92, Pretoria: NG Kerk-Uitgewers; Hannes Adonis, Die Afgebreekte Skeidsmuur weer opgebou. Die verstrengeling van die sendingbeleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika mt die praktyk en ideologie van die Apartheid in historiese perspektief. 1982. Amsterdam: Rudopi.

34 Sien in hierdie verband J Kinghorn (red), Die NG Kerk en Apartheid, 1986, Johannesburg: Macmillan

35 Sien in hierdie verband die verbintenis van hierdie kerke tot hereniging soos verwoord in die Achterberg-verklaring http://ngkok.co.za/achterberg/Achterbergh%20Verklaring%202006%20_Afr.pdf

36 Wolfgang Huber. Das Vermächtnis Dietrich Bonhoeffers und die Wiederkehr der Religion - Vortrag zum 100. Geburtstag von Dietrich Bonhoeffer in der Humboldt-Universität zu Berlin. 2006b. (http://www.ekd.de/vortraege/huber/060204_huber_berlin.html)

37 WD Jonker, Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal, 1962, 25. Hiermee ontken ons nie die legitimiteit van verskeidenheid tussen verskillende kerkverbande nie.

38 Ons gebruik hier spesifiek die ‘gereformeerde kerke’ omdat ons dit duidelik wil stel dat dit hier gaan oor die ekklesiale tradisie en gereformeerde teologie in die algemeen. Hiermee ontken ons nie die realiteit dat hierdie tradisie sterk gestalte vind binne die familie van NG Kerke nie, maar wil ons juis aantoon dat hierdie kerke deel vorm van die gereformeerde tradisie en as volg ’n spesifieke verstaan van identiteit, orde, belydenis, struktuur, ens. het.

39 M. Robinson en S. Friedman. Civil society, democratisation and foreign aid in Africa. 2005.

40 Robinson and Friedman 2005:41. Veral in die huidige konteks van spesifiek die opvlam van vreemdelingehaat het die kerk 'n belangrike publieke verpligting. Na aanleiding van erge aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika in Mei 2008 skryf Christi van der Westhuizen die volgende: "Ons private en openbare geweldskultuur beteken die jongste drastiese uitdrukking van onverdraagsaamheid is maar net nog 'n bewys van ons gebrek aan eensgesindheid oor die menseregtewaardes in ons Grondwet. Ons Grondwet is tog die sosiale kontrak waarop ons kohesie in ons samelewing moet bou. Dit behoort ons saam te bind onder die identiteit 'Suid-Afrikaanse burger'. Maar die geweldaanvalle in en buite ons huise wys dat baie – indien nie die meeste nie – van ons nie saamstem met die waardes wat sê ons moet andersheid respekteer nie. Die kletsklasse hou daarvan om na die Grondwet te verwys as die fondament van postapartheid-Suid-Afrika. Maar almal is nog nie oortuig hiervan nie. Die mislukking hiervan moet aan die adres van die elite-groepe in en buite die regering gerig word. Die toonaangewendes in ons samelewing – van die regering en die burokrate tot die sakebedryf, die media, aktiviste en intellektuele – het tot dusver hul plig versuim. Hierdie waardes moes reeds lankal gepopulariseer gewees het." Sien in die verband Christi van der Westhuizen, ‘Ons is nie 1 nie omdat ons nie andersheid verduur nie’, In Rapport, 25 Mei 2008. http://www.news24.com/Rapport/Perspektief/0,,752-810_2327926,00.html.