Heine, QE & Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

Die kerkregtelike ontwikkeling van godsdiensvryheid in die NG Kerk tussen 1962 en 2007

ABSTRACT

The development of religious freedom in the canonical law in the Dutch Reformed Church between 1962 and 2007

From as far as 1652 the Christian religion was a privileged religion in South Africa. The privileged situation of the Dutch Reformed Church in its relation to the state made it unnecessary for them to discuss or define the concept of freedom of religion. Consequently the church gave silent consent to the state’s limited application of religious freedom. In and outside the church there was an ongoing debate that helped the church to formulate its role in religious freedom, which resulted in the document “Church and Society” (1986–1990). With the new Constitution of South Africa in 1996, a new situation developed for the Dutch Reformed Church as well as other churches. The church realized that it must define and take up its own legal position on religious freedom, which is guaranteed in the Constitution of South Africa.

1. INLEIDING

Dit word algemeen aanvaar dat godsdiensregte en daarom godsdiensvryheid, die mees basiese en onderskeidende van alle menseregte is.1 Histories het godsdiensvryheid slegs ontwikkel waar ander menseregte-waardes soos vryheid om te assosieer en vryheid van spraak, ook bestaan het.2 In ’n onlangse proefskrif3 deur die outeur van die artikel is navorsing gedoen na die ontstaan en ontwikkeling van die konsep van godsdiensvryheid en hoe dit in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (hierna genoem NG Kerk) tussen 1962 en 2007 kerkregtelik gemanifesteer het. In hierdie artikel word slegs gefokus op enkele van die navorsingsresultate, spesifiek die wat verwys na die kerkregtelike ontwikkeling van godsdiensvryheid in die NG Kerk tussen 1962 tot 2007.

2. DIE BETEKENIS VAN GODSDIENSVRYHEID

Vir Christene is die basis van godsdiensvryheid geleë in die waarheid dat die mens na God se beeld geskape is; dat die mens as sy beelddraer in en tot vryheid geskape is en dat ware vryheid deur Jesus Christus verdien is. Hoewel Christene oortuig is dat die beginsel van godsdiensvryheid in die Skrif geleë is, beteken hierdie erkenning van godsdiensverskeidenheid geensins dat alle godsdienste gelyk is nie.

Die historiese manifestasie van godsdiensvryheid het dikwels baie lank gewag vóór dit 'n werklikheid geraak het in die alledaagse lewens van godsdienstige mense. Dit het nog langer geneem voordat godsdiensvryheid geïnstitusionaliseer is en godsdienste 'n wetlike vryheid en beskerming ontvang het en die rol van die kerk en die staat uitgeklaar is. In baie lande het dit steeds nie gerealiseer nie. Die konsep van godsdiensvryheid het ontwikkel uit die sameloop van historiese gebeurtenisse, filosofiese denke en die herontdekking van Bybelse waarhede wat niemand doelbewus beplan het nie. In die ontwikkeling van die konsep het die Bybel en die Christelike tradisie 'n baie sterk rol gespeel (Tierney 1996:34).

Die konsep van godsdiensvryheid het deur die eeue verskillende betekenis nuanses gehad. Godsdiensvryheid het nie dieselfde betekenis in die sestiende eeu as in die twintigste eeu gehad nie. Aanvanklik is godsdiensvryheid net gesien as 'n Godgegewe reg vir indiwiduele mense. Nadat daar ’n geskiedenis van gruweldade was, veral met die Tweede Wêreldoorlog, is die wêreld gedwing om saam oor menseregte en by name godsdiensvryheid, te besin. ’n Baken in die ontwikkeling van godsdiensvryheid was die wêreldwye ooreenkomste wat oor menseregte en godsdiensvryheid bereik is. Hierna het godsdiensvryheid ontwikkel tot 'n konsep van konstitusionele reg vir alle mense. Die Verenigde Nasies het in 19484 ’n Deklarasie van Menseregte opgestel, waarin godsdiensvryheid omskryf5 word. Dit is van lidlande verwag om godsdiensvryheid grondwetlik te omskryf en te beskerm. Die Deklarasie van Menseregte omskryf godsdiensvryheid as volg:

Artikel 18: “Everyone has the right to freedom of thought, conscience and religion: this right includes freedom to change his religion or belief, and freedom, either alone or in community with others and in public or private, to manifest his religion or belief in teaching, practice worship and observance.

Na die Verenigde Nasies in 1948 die Universele Deklarasie vir Menseregte aanvaar het, kon hulle nooit daarin slaag om mense se regte oor die vryheid van godsdiens af te dwing nie. Na 'n aanloop van twintig jaar van intense debatvoering en harde werk oor godsdiensvryheid, het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in 1981 eenstemmig die “ Deklarasie6 vir uitskakeling van alle vorme van onverdraagsaamheid en/of diskriminasie op grond van godsdiens of geloof” aanvaar. Al het die Deklarasie min bindende gesag gehad, is dit volgens Roan steeds die belangrikste kontemporêre internasionale kode oor die beginsel van godsdiensvryheid (Roan, 2003:2). Artikel 6 van die Deklarasie spel dit duidelik uit watter praktiese vryhede by godsdiensvryheid ingesluit word: Die volgende word genoem: i) Die reg om in ooreenstemming met 'n godsdiens of geloof te aanbid, te vergader en om vir dié doel 'n plek van aanbidding te vestig en te onderhou; ii) Die reg om toepaslike barmhartigheidsdiens en medemenslike hulpbronne te inisieer en te vestig; iii) Die reg om sekere rituele, geloofsartikels en gebruike te beoefen en die nodige middele daarvoor te bekom en te gebruik. iv) Die reg om relevante publikasies te skryf, uit te gee en in 'n sekere gebied te versprei: v) Die reg om 'n godsdiens of geloof in 'n doelmatige plek te onderrig; vi) Die reg om fondse in te samel, en vrywillige finansiële en ander bydraes te ontvang; vii) Die reg om geskikte leiers, volgens die vereistes en standaarde van enige godsdiens of geloof, op te lei, te verkies of aan te wys; viii) Die reg op spesifieke rusdae, feestelike vakansiedae en seremonies, in ooreenstemming met 'n godsdiens of geloofsoortuiging se gebruik; ix) Die reg om 'n kommunikasiestelsel te begin, dit te onderhou en met indiwidue en gemeenskappe op nasionale en internasionale vlak te kommunikeer.

3. DIE KERKREGTELIKE IMPLIKASIES VAN GODSDIENSVRYHEID

Volgens bogenoemde en ander internasionale erkende ooreenkomste moet die owerheid duidelik omskryfde ruimte vir indiwidue, geloofsgemeenskappe en kerke toelaat om hulle reg tot godsdiensvryheid te beoefen. Hierdie ruimte wat owerhede gee, impliseer ’n aantal kerkregtelike uitgangspunte waarvan kerke moet kennis neem. Vervolgens word enkeles uitgelig:

i) Godsdiensvryheid vra ’n samewerkende en onpartydige verhouding tussen kerk en staat.7 ii) Godsdiensvryheid gee aan elke indiwidu en groep die reg om hulle geloofs-oortuiging in die openbaar of in privaatheid uit te leef en te verkondig. iii) Godsdiensvryheid gee aan kerke en godsdienstige groepe die reg om hulle eie grondwet en interne reëlings op te stel en in stand te hou.8iv) Die staat aanvaar verantwoordelikheid om godsdiensvryheid vir elke landsburger, geloofsgemeenskap en kerk konstitusioneel te waarborg en te beskerm.9 v) Godsdiensvryheid gee elke godsdienstige organisasie die reg om as regspersoon aan die burgerlike regspleging deel te neem.10 vi) Godsdiensvryheid gee aan godsdienste die verantwoordelikheid om hulle regte te gebruik.11 vii) Godsdiensvryheid gee aan godsdienste die reg om ander mense van hulle godsdienstige oortuiginge te vertel. Ander landsburgers het weer die reg om daarna te luister of nie.12 viii) Godsdiensvryheid vereis ’n onderlinge- samewerkende verdraagsaamheid tussen al die godsdienste, sonder dat elkeen se eie oortuigings aangetas of gekompromitteer word.

4. KERKREGTELIKE ONTWIKKELING IN DIE NG KERK TUSSEN 1962 EN 200713

Die ontwikkeling van godsdiensvryheid in Suid-Afrika en daarmee saam in die NG Kerk, is ’n netwerk van gebeure wat nie eers in 1962 begin het nie. Dit het reeds in 1652 en selfs daarvoor in Europa begin. Verder is die ontwikkeling van godsdiensvryheid in Suid-Afrika tot nou toe nog nie voltooi nie. Thomas Carlyle handhaaf die standpunt dat nuwe historiese gebeurtenisse nie een enkele oorsaak het nie, maar dat dit die gevolg is van ’n hele netwerk van gebeurtenisse. Hierdie nuwe gebeurtenis, gekombineer met al die vorige, bring die geboorte van verdere veranderinge te weeg (Thomas Carlyle, 1872:2:257). Dit is nie anders met die ontwikkeling van godsdiensvryheid in Suid-Afrika en by name in die NG Kerk nie. Wat wel waar is, is dat die ontwikkeling van godsdiensvryheid in Suid-Afrika, vanweë baie redes, baie stadiger en langer geneem het as in ander Westerse lande. Die een groot rede is dat Suid-Afrika op die Afrika kontinent geleë is en nie altyd in vergelyking met ander Afrika lande geëvalueer word nie. Indien ’n evaluering van godsdiensvryheid van die NG Kerk gedoen word, moet dit altyd rekening hou met die feit dat dit deel vorm van die Afrika kontinent.

Om ’n beoordeling van godsdiensvryheid in die NG Kerk, vanaf 1962 tot 2007, te maak moet dit in drie fases gedoen word. Die eerste fase is vanaf 1962 tot voor 1986, waar die NG Kerk lojaal aan die staat en aan hoofsaaklik een kultuurgroep was. In dié tyd was Suid-Afrika nog nie ’n volledig demokratiese land nie. Die tweede fase is die oorgangsfase, waar die kerk losgekom het van sy ondersteuning aan die staat en ook losgemaak is van 'n hoofsaaklike amptelike bediening aan slegs een kultuurgroep. Hierdie was ’n groot denkskuif wat vir die kerk baie pynlik, maar noodsaaklik was. Die derde fase is na die eerste volledig demokratiese verkiesing van 1994, en veral na 1996 toe die nuwe grondwet aanvaar is, waar die kerk hom kerkregtelik moes posisioneer in ’n nuwe staatkundige bedeling.

4.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk voor 1986

4.1.1 Die verhouding tussen die kerk en staat

Daar was vóór 1779 slegs een kerk in Suid-Afrika.14 In 1779 is die eerste ander denominasie aan die Kaap toegelaat naamlik die Lutherse kerk. Tussen 1780 en 1994 was die Christendom 'n bevoordeelde godsdiens in Suid-Afrika. Dit is ook so in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika in 1961, wetlik ingeskryf15. In die Grondwet word na Suid-Afrika verwys as ’n Christelike land (Artikel 32). Daar was onder andere wetgewing wat die Christelike godsdiens bevoordeel het ten opsigte van Sondaghandel, onderwysbeleid, eedswering in howe, die wet teen godslastering en nog ander. Vanweë die bevoordeling van die Christendom was daar tussen 1962 en 1994 nie werklik ’n skeiding tussen kerk en staat nie. Dit het implikasies gehad hoe die kerk en die staat godsdiensvryheid geïnterpreteer het. Dit het ook implikasies gehad vir die NG Kerk se omskrywing en toepassing van godsdiensvryheid. Die noue verbintenis tussen die NG Kerk en die regering het egter tot gevolg gehad dat daar gevalle was waar die kerk anderpad gekyk het toe die regering mense se godsdiensvryheid beperk het.

Daar was die voorbeeld in 1957 toe minister Verwoerd (minister van Naturelle-sake) ’n bepaling ingebring – die sogenaamde “kerkklousule”: artikel 28(d) van wetsontwerp in die Wysigingswet op Naturellewetgewing van 1957 – (SAO, 1957:52). Dié wetgewing wou hê dat die minister goedkeuring moet verleen indien swartmense ook ’n kerk wou besoek wat hoofsaaklik vir witmense bedoel is. Die minister sou ook net toestemming kon gee as hy daarvan oortuig was dat hul motiewe ’n bona fide kerklike rede was, en nie vir politieke gewin nie. Die Federale Raad van Kerke (NG Kerke) het hierop gereageer deur agt beginsels te formuleer wat die basis vir die samesprekings met die minister sou vorm (Handelinge, Raad van Kerke, 1957:96). Hierdie agt beginsels het duidelike uitspraak ten gunste van godsdiensvryheid bevat. Die minister oortuig hulle egter om hulle belangrike beginsels van godsdiensvryheid te wysig in belang van die veiligheid van die staat. Hoewel die NG Kerk duidelik van oortuiging was dat die politieke besluite oor die wet (die Wysiging van die Naturelle Wet van 1957) oor orde in die samelewing gegaan het en nie om godsdiensregte opsigself nie, was hulle geensins krities teenoor die regering oor die saak nie. 16 Dit dui daarop dat die NG Kerk in feite homself, die beperking van vryheid van godsdiens goedgekeur het. 17 Nog ’n voorbeeld kan die Wet op Groepsgebiede (soos gewysig in 1961) genoem word. Die wet het nie-blankes verhoed om: hulle reg tot beoefening van hulle “godsdiens of geloofsoortuiging in die openbaar”, asook hulle reg om hulle ” godsdiens of geloofsoortuiging op sy eie of in gemeenskap met ander, te beoefen”.18

Die geskiedenis toon duidelik dat die NG Kerk, asook die owerheid duidelik bewus moes wees wat die wêreldwye erkende omskrywing en toepassing van godsdiensvryheid in 1962 was. Die Wêreldraad van Kerke asook die standpunte wat in 1960 deur die Cottesloe kerkeberaad geformuleer is, was wyd bekend. Die Cottesloe kerkeberaad het belangrike beginsels aanvaar wat rigtingduidend vir godsdiensvryheid in Suid-Afrika was. Hiervolgens was die vryheid van aanbidding vir almal in tyd en plek belangrik. Vrye assosiasie en vrye huwelike asook vryheid om die evangelie te verkondig in alle omstandighede was van die belangrikste uitgangspunte (Cottesloe-Consultation, 1960:73-78). Die NG Kerk se noue verbintenis met die regering het hom blind gemaak vir die breër kerk se standpunte en sy stilswye oor die beperkte godsdiensvryheid wat die staat in die jare toegepas het, moes ’n invloed op sy kerkregtelike beskouing van godsdiensvryheid gehad het

4.1.2 Kerkregtelike bepalings

Die eerste kerkorde in 1962 het ’n baie beperkte omskrywing van godsdiensvryheid gehad. Artikel 65 c:

Die Kerk aanvaar met dankbaarheid die beskerming deur die owerheid, asook die erkenning van sy onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms, met dien verstande dat genoemde vryhede nie misbruik sal word om die fondamente van die staatsgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie.

Hierdie artikel vloei waarskynlik direk voort uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (Hierna genoem NGB) Artikel 36 (Kleynhans, 1988:196). Die eerste gedeelte19, kom volgens Kleynhans van die NGB. Hiervolgens was dit duidelik dat die staat nie net aan die kerk die ruimte moet gee om sy godsdiens uit te leef nie, maar ook as beskermer van die verkondiging van die Woord moes optree (NGB, Art. 36). Die Dordtse Kerkorde van 1618 verwys ook hierna in Artikel 28 (Kerkorde van Dordt, 1618: art 28). Artikel 65c wil dan juis hiervoor vir die staat erkenning gegee (Heyns, 1992:396). In die lig van die kerk se belydenisskrif was dit gepas om hiervoor teenoor die staat sy dankbaarheid te betoon.

Die tweede gedeelte20 beskryf die kerk se reg tot godsdiensvryheid. Of die NG Kerk met Artikel 65(c) die algemeen aanvaarde omskrywing van godsdiensvryheid (paragraaf 2) bedoel het, is nie duidelik nie, want die noue verbintenis tussen die Kerk en die regering het die kerk nooit genoop om op sy reg tot godsdiensvryheid aan te dring en te verduidelik wat hy daaronder verstaan nie. Dit is veelseggend dat die vryheid van godsdiens in die betrokke artikel beperk word tot vryheid van belydenis en byeenkoms. Dit is wel so dat albei belangrike elemente van die breër omskrywing van godsdiensvryheid is, maar dit is ook so dat godsdiensvryheid baie meer behels as net vryheid van belydenis en vryheid van byeenkoms. Hierdie formulering kom egter nie in die Dordtse Kerkorde van 1619 of die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Nederland van 1959 voor nie21. Kleynhans verklaar die sinsnede “belydenis en byeenkoms”, vanuit die geskiedenis van Artikel 36 van die NGB en is verder van mening dat die beginsel van die staat as beskermer van godsdiensvryheid afkomstig is van Calvyn se standpunt, dat “die staat die roeping het om die ware Gereformeerde religie te beskerm en te bevoordeel”. Hierdie standpunt kom ook in Artikel 36 van die NGB voor (Kleynhans, 1988|:197).

Omdat dit vir die samestellers van die Kerkorde van 1962 belangrik was om die nuwe Kerkorde van die Gereformeerde Kerkorde in Nederland as uitgangspunt te neem, omdat hulle oortuig was dat dit 'n eietydse weergawe van die Dordtse Kerkorde was (Vorster, 1960:12), is die ontstaan van die derde gedeelte22 van die Kerkorde artikel 65 mees waarskynlik van die NGB, artikel 36 afkomstig.

Vanaf 1962 tot 1986 het die kerkordelike bepaling oor godsdiensvryheid onverander gebly.

4.1.3 Gevolgtrekking

Na ’n ontleding van die geskiedenis kan die volgende afleidings gemaak word:

• Vóór 1994 was daar beperkte godsdiensvryheid in Suid-Afrika.

• Dit is duidelik dat die NG Kerk in 1962 se omskrywing van godsdiensvryheid verskil het van die algemeen aanvaarde omskrywing in die Christelike wêreld. Vir die NG Kerk is godsdiensvryheid verskraal gesien as slegs ” ’n vryheid van belydenis en van byeenkoms”, soos verwoord in die eerste Kerkorde van die Algemene Sinode. Hierdie eng omskrywing van godsdiensvryheid, het veroorsaak dat die NG Kerk nooit die beperking van menseregte deur die regering as ’n skending van godsdiensvryheid gesien het nie. Godsdiensvryheid vir die kerk, was bloot die vryheid wat almal gehad het om te bely waarin hy glo en dit in ’n geloofsbyeenkoms te kan doen.

• Gewetensvryheid het nog altyd in Suid-Afrika bestaan, maar die reg om die godsdiens van jou keuse in die openbaar uit te leef, het nie altyd vir alle mense gegeld nie (so byvoorbeeld kon mense van kleur nie altyd blanke eredienste bywoon nie). Dit kan gekonkludeer word dat die essensiële regte en vryhede van alle godsdienste nie voor 1994 goed beskerm is nie.

• Dit is duidelik dat die motiewe van die N G Kerk nooit was om ander bevolkingsgroepe of kerke te benadeel nie (Jonker, 1998:71). Landman verklaar ook dat die bedoeling van die N G Kerk nie onderdrukking was nie, maar die bevordering van afsonderlike ontwikkeling (Landman 1968:20).

• Om 'n eenvoudige motivering vir die NG Kerk en sy noue verhouding met die staat aan te bied, sal nie deug nie. Lombard bevind (Lombard 1974:264) dat om te beweer dat die NG Kerk die beleid van Afrikaner-politici kritiekloos aanvaar het óf dat die regering die Afrikaanse Kerke se beleid oorgeneem het, is ’n oorvereenvoudiging van die situasie in Suid-Afrika. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling is oor jare heen gevorm. Alhoewel dit na 1948 hoofsaaklik Afrikaanssprekendes was wat daarvoor verantwoordelik was, het elke deel van die bevolking van Suid-Afrika, blank en nie-blank, Afrikaans, sowel as Engelssprekend, hul bydrae in die ontwikkeling en formulering daarvan gehad.

• Geen aggressiewe godsdienstige vervolging of ekstreme geloofsonverdraagsaamheid het in Suid-Afrika plaasgevind nie, maar die basiese waardes van godsdiensvryheid naamlik om “op sy eie of in gemeenskap met ander te beoefen” en “jou godsdiens van jou keuse uit te leef”, is nie altyd deur die regering bevorder nie (Gildenhuys 2001:290).

• Die NG Kerk het in die fase voor 1994 nooit self nodig gehad om hom te posisioneer ten opsigte van godsdiensvryheid nie. Hy was altyd in ’n bevoorregte posisie met die regering van die dag en kon sy vryhede sonder verhindering uitleef. Hiervan getuig sy noue verbintenis met die regering

• Dit is opvallend dat die Cottesloe-beraad (1960) en die debatvoering daarna, 'n voortgaande besinning van godsdiensvryheid in die NG Kerk aan die gang gesit het. Na die Cottesloe-beraad van 1960 het 'n proses van nadenke oor volkere verhoudinge en godsdiensvryheid in die NG Kerk begin, wat sou uitloop op Kerk en Samelewing in 1990. Dit is gevolg deur 'n voortgaande proses van nadenke oor godsdiensvryheid, tot vandag toe

• In die NG Kerk se ondersteuning van staatsbeleid, het hy soms kritiekloos meegewerk met die regering wat nie sekere vryhede en regte aan alle godsdienste gegee het nie. Die NG Kerk is telkemale deur die staat voorgesê wat om te doen. Voorbeelde hiervan was, toe die owerheid Cottesloe veroordeel, het die kerk dit nagedoen. So was dit ook met die besluite oor die Christelike Instituut (Agenda en Handelinge 1966). Die NG Kerk het die vereenselwiging met die beleid van die regering nie as ’n beperking van godsdiensvryheid gesien nie, maar as ’n beskerming van die Afrikaner. Vrye denke buite die Afrikanersaak was vir die NG Kerk soms baie moeilik (Jonker, 1998:68).

• Die NG Kerk het nooit enige godsdiensvervolging ondersteun nie. Die teendeel was eerder waar. Die besluite van die Raad van Kerke in 1957 (Handelinge, Raad van Kerke 1957) na die “Kerkklousule” (hiervolgens mag swart mense nie 'n blanke kerk besoek nie) van Dr Verwoerd, het getoon dat die kerk baie simpatiek gestaan het teenoor ooglopende onreg. Die NG Kerk het hom egter blindelings laat oortuig dat hierdie “onreg” in landsbelang was. Een van die redes was omdat die kerk (NG Kerk) en die staat nie werklik geskei was nie.

• Voor 1982 was daar min bewys dat die NG Kerk bereid was om profeties in die openbaar teenoor die regering standpunt in te neem. Die staat is gesien as deel van die Christelike samelewing.

• Die geskiedenis getuig dat die NG Kerk in die jare 1962-1986, vanweë sy noue verbintenis met die Afrikanervolk en die regering, (i) perspektief verloor het, (ii) sy roeping om die Woord duidelik in alle omstandighede te laat hoor, verwaarloos het, en (iii) sy liefde vir die eie so verabsoluteer het, dat hy in die proses die beperking van godsdiensvryheid vir sekere landsburgers stilswyend laat begaan het.

• Dit is eers in 1986 dat die NG Kerk in die openbaar kritiek op die staatsbestel gemaak het. Dit het egter nie beteken dat daar in die jare waar die kerk geen amptelike kritiek teenoor die staat gelewer het, nie in kerklike geledere hewig hieroor debat gevoer is nie. Die veranderinge na 1986 was juis die gevolg van hewige interne debatvoering binne die kerk.

4.2 Die tydperk van losmaking tussen kerk en staat (1986-1994)

4.2.1 Die verhouding tussen die kerk en staat

Vanaf 1986 tot 1994 het die basiese formulering van Artikel 65 oor godsdiensvryheid dieselfde gebly. Dit is in 1986 met die aanvaarding van Kerk en Samelewing, dat die NG Kerk werklik afstand gekry het van die staat en dit duidelik verklaar dat daar 'n skeiding tussen kerk en staat is.

Dit was ook in 1986 met die Kerk en Samelewing-beleidstuk dat die NG Kerk homself “oop23 verklaar het. Hiermee het hy duidelik gesê dat hy nie meer ’n kerk slegs vir een kultuurgroep is nie. Hierdie grens wat die kerk na soveel jare oorgesteek het, was ’n dapper stap en ’n breuk met die voorafgaande geskiedenis. Al het dit nooit eksplisiet in die Algemene Sinode se Kerkorde gestaan nie, was dit met die konstituering van die eerste Algemene Sinode in 1962 in meeste van die streeksinodes (behalwe die Wes- en Suid-Kaap) die algemeen aanvaarde beleid dat die kerk slegs vir blanke Afrikaners bedoel is.24 Dit was ’n pynlike pad vir die kerk, want ’n groep lidmate wat die kerk steeds “eksklusief” wou hou vir blanke Afrikaners, het weggeskeur en ’n ander kerk gestig.

4.2.2 Kerkregtelike bepalings

Hoewel die kerkorde artikel nie verander het sedert 1962 nie, het daar ’n veranderende besluit gekom. Met die herformulering van Kerk en Samelewing in 1990, het die NG Kerk vir die eerste keer ’n duidelike geformuleerde beleid oor godsdiensvryheid gehad naamlik: “Die beginsel van godsdiensvryheid moet steeds gehandhaaf word. Dit hou in dat die owerheid onpartydig moet staan teenoor alle kerke en gelowe, dat daar ruimte geskep moet word dat die kerk sonder staatsinmenging met sy arbeid kan voortgaan en dat daar teen niemand gediskrimineer mag word op grond van geloofsoortuiging nie (Kerk en Samelewing, 1990:paragraaf 301).”

4.2.3 Konklusie

Die tydperk tussen 1986 en 1994 was vir die NG Kerk ’n tydperk van losmaking van die staat. Die kerk het in die tyd gereed gemaak vir ’n herposisionering ten opsigte van godsdiensvryheid.

4.3 Godsdiensvryheid in die Nederduitse Gereformeerde Kerk Na 1994

4.3.1 Die verhouding tussen die kerk en staat

Met die aanvaarding van ’n nuwe grondwet van Suid-Afrika is daar ’n onpartydige staatsbeleid ten opsigte van godsdiensvryheid aanvaar. Dit beteken dat die staat wel godsdiens toelaat, maar alle godsdienste gelyk ag. Onpartydigheid, jeens die verskeidenheid van godsdienste binne die staatsbestel, vereis dat die staat alle godsdienste ’n gelyke kans moet gee om hulle geloof te beoefen. Neutraliteit beteken dat die staat geen eie oortuiging het nie, terwyl onpartydigheid beteken dat die staat wel 'n oortuiging handhaaf, maar nie ander oortuiginge benadeel nie (Malherbe, 2006:198). ’n Onpartydige verhouding tussen die kerk en staat is die grondslag van ’n samewerkende staat-kerk-verhouding waar die kerk en die staat deur hulle onderskeie funksies saamwerk om die land te dien (Coertzen 2005(iv):11).

Met die Grondwet van 199625 is godsdiensvryheid vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis vir die landsburgers gewaarborg.26 Hiermee het ’n totaal nuwe bedeling vir kerke in Suid-Afrika aangebreek. Na 1996 is kerke steeds as ’n regspersoon behandel. Dit beteken hulle kan eiendom besit, transaksies doen, kan gedagvaar word en kan self dagvaar. Kerke se regsposisie word egter steeds deur die howe as die van ’n vrywillige vereniging beoordeel. ’n Vrywillige vereniging word volgens die kontraktereg hanteer. Dit beteken dat die kerk se eie interne reëls en regulasies, asook die aanstelling van personeel hanteer word, asof daar 'n kontraktuele ooreenkoms tussen die kerk en sy lidmaat/werknemer is (Coertzen 2001(iv):122). Die nuwe Grondwet waarborg nie net godsdiensvryheid nie, maar bied ook aan kerke en godsdienste die reg en die geleentheid om op grond van hulle eie interne waardes en reëls, beoordeel te word.27 Die hof erken die reg van die kerk om hulle interne reëls op grond van hulle eie leer te handhaaf, maar dan moet die kerk oor ’n verantwoorde, duidelik omlynde en maklik bepaalbare leerstellings beskik (Malherbe 2006:195).

Vryheid van godsdiens beteken onder meer dat geloofsgemeenskappe en kerke ’n reg het om hulle eie interne reëls op te stel en toe te pas. Dit beteken ondermeer hulle mag hulle eie belydenisskrifte opstel en bepaal hoe dit deur leraars en lidmate onderhou moet word. Kerke mag hulle eie vereistes vir lidmaatskap neerlê en mag na aanleiding van hulle godsdienstige oortuiginge standpunte oor die huwelik, seksuele verhoudinge en ander etiese sake hê en dit ook toepas binne die kerk. Hulle mag vereistes vir leraarskap in die kerk neerlê en toepas asook. Hulle mag hulle eie arbeidsverhoudinge reël en prosedures neerlê vir hulle vergaderings, geskilbeslegtings, dissiplinêre ondersoeke en appèlle. Kerke mag in die openbaar hulle standpunte stel en bevorder. Hulle mag godsdiensonderrig aan hulle lidmate gee en ook instellings vir onderrig en opleiding daar stel of in ooreenkoms met Universiteite en ander opleidingsinstansies die vereistes vir die opleiding van hulle predikante en ander werknemers stel (Coertzen 2005(iii):12). Die ruimte en regte wat die Grondwet vir godsdiensvryheid bied, gee ook aan geloofsgemeenskappe die reg om in die openbaar godsdiensgebaseerde onderwys te beoefen.

Die kerk sal sorg moet dra dat gelykheid en onbillike diskriminasie op grond van onder meer ras, geslagtelikheid, geslag, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, taal en geboorte 28 nie op 'n onverantwoorde wyse in die kerklike praktyk plaasvind nie. Op geen wyse mag daar op grond van hierdie regte onbillik teen 'n persoon of 'n instelling gediskrimineer word nie en diskriminasie op een of meer van hierdie gronde is onbillik tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is. Artikel 36 maak voorsiening vir onder andere beperkinge op regte, en dit kan geskied op grond van die kerk se leerstellings en kerkorde, maar dan moet die besluite duidelik, en teologies deeglik begrond en in ooreenstemming met 'n kerk se geloofsidentiteit wees.

4.3.2 Kerkordelike bepalings

Met die 1998 Algemene Sinode het die kerk vir die eerste keer homself kerkregtelik ten opsigte van godsdiensvryheid geposisioneer. Daar moet egter op gelet word dat die kerk baie duidelik is dat godsdiensvryheid elke mens se reg is. In die formulering van die Kerkorde word egter slegs na die kerk as instituut verwys (nie na indiwidue nie). Die rede hiervoor is dat dit in die Kerkorde oor die kerk as instituut gaan.

4.3.2.1 Artikel 65

Die nuwe Kerkorde artikel 65.3 stel 3 sake oor godsdiensvryheid duidelik. Die eerste is dat godsdiensvryheid die kerk se onvervreembare reg is, die tweede is dat die kerk 'n Bybels-profetiese roeping het om teenoor die staat te getuig en derdens dat die staat 'n verantwoordelikheid teenoor die kerk het om hom die ruimte te gee om sy roeping na te kom (Die Kerkorde 1998:artikel 65.3).

65.3 Christus is die hoof van die kerk. Daarom beskou die Kerk sy reg op vryheid van godsdiens, wat sy Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit, as onvervreembaar. In die uitoefening hiervan maak hy aanspraak op die regsbepaalde beskerming van die owerheid.

In hierdie kort, maar kragtige formulering het die NG Kerk sy siening en amptelike beleid oor godsdiensvryheid duidelik gestel. Hierdie drie beginsels wat in die artikel verwoord word, sluit baie nou aan by die internasionaal erkende verwysingsraamwerk van godsdiensvryheid wat in vorige paragrawe genoem word. Dit wil voorkom asof die Kerkorde ’n samewerkings-verhouding tussen kerk en staat impliseer. Hiermee is die skeiding tussen kerk en staat ook duidelik omskryf. Met die herskryf van die artikel is ook weggedoen met die sosiologiese formulering van die samelewing. Dit is vervang deur Rom. 13 as grondslag vir die taak van die owerheid uit te lig (Artikel 65.1).

Daar is verskeie artikels wat oor die konsep van godsdiensvryheid handel:

4.3.2.2 Artikel 2

Om godsdiensvryheid te beklemtoon is in 2002 'n derde gedeelte by Artikel 2 bygevoeg:

Artikel 2(iii) Die Nederduitse Gereformeerde Kerk reël sy eie interne orde op grond van sy onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus en ook op grond van sy reg tot vryheid van godsdiens (Kerkorde 2002:1).

Met die byvoeging in die kerkorde het die NG Kerk baie duidelik die ruimte wat godsdiensvryheid deur die Grondwet van Suid-Afrika aan hom bied, aangegryp. Hiermee wil die kerk twee sake duidelik stel:

Dat hy kerk van Christus is en nie daarvoor skaam is nie. Die kerk word intern deur die roeping en regering van Christus bepaal en dat die kerk die reg wat godsdiensvryheid hom bied, wil gebruik om sy eie interne sake te reël. Die NG Kerk het met die verandering gewys dat hy homself in ’n nuwe situasie posisioneer in die samelewing. Hy wil nie meer ’n kerk wees, wat hom deur omstandighede, politieke partye, kultuurorganisasies ensovoorts, wil laat voorskryf hoe om sy eie sake te bedryf nie. Hy wil dit self doen, volgens die gesag van Christus aan die een kant en die reg wat die Grondwet hom aan die ander kant gee.

Hierdie is ’n baie belangrike artikel in die kerkorde. Die kerk maak definitiewe teoretiese aansprake, maar of die sinodes, ringe, kerkrade en lidmate die waarde hiervan sal besef, sal net die tyd leer.

4.3.2.3 Artikel 7, 12 en 58

Hierdie artikel handel oor die diensverhoudinge van die predikant.

Tydens Algemene Sinode van die 1998 is daar radikale veranderings gemaak. Die rede wat vir die veranderings gegee is, was dat die kerk geoordeel het dat hy meer in lyn met die Arbeidswetgewing wou kom. Tydens die Algemene Sinode van 2002 is dit weer verander. Waar die Algemene Sinode van 1998 probeer het om die Arbeidswetgewing na te volg en nie unieke kerklike inhoud aan die toepassing van die wet probeer gee het nie, het die Algemene Sinode van 2002 weer gefokus op die identiteit van die Kerk en op die roeping van die predikant. Sonder om teen die Arbeidswetgewing in te gaan, het hulle die ruimte wat die Grondwet vir hulle met betrekking tot godsdiensvryheid gee, benut en 'n eie inhoud aan die diensverhoudinge in die Kerk gegee. Die Algemene Sinode neem die volgende besluit:

“Die Sinode besluit dat terwyl hy begerig is om ’n eie inhoud aan sy arbeidsverhoudinge te gee, alles in werking gestel moet word ten einde te verseker dat die Kerk se aanspreeklikheid beperk sal word deur te bly by die bepalings van die toepaslike arbeidswetgewing” (Handelinge, 2002:562).

In dié verband is baie belangrike byvoeginge tot die Kerkorde gemaak. 'n Nuwe Artikel 58 wat spesifiek oor diensverhoudinge handel word bygevoeg.

58.1 Werknemers anders as predikante in diens van 'n gemeente of die kerkverband se diensverhouding, word per diensooreenkoms gereël.

58.2 Vir die diensverhouding van predikante sien Artikel 12.

58.3 In geval van wangedrag deur werknemers, anders as predikante, tree die verantwoordelike kerkvergadering op in gevolge die diensooreenkoms en indien nodig die prosedure van kerklike tug. (Die Kerkorde, 2002: Artikel 58:23)

Met hierdie artikel het die Algemene Sinode 'n keuse vir die uniekheid van die predikantsamp gemaak. Wat werknemers betref, anders as predikante, geld die normale arbeidsregtelike prosedure.

Die uniekheid van die predikant word in Artikels 7 en 12 uitgedruk.

Artikel 7

Artikel 7.1 van 1998 lui: “'n Bedienaar van die Woord word deur 'n kerkraadsvergadering beroep.”

Artikel 7.1 van 2002 lui: “'n Bedienaar van die Woord vir 'n plaaslike gemeente word deur die kerkraad van die gemeente met goedkeuring van die gemeente en die ring beroep. Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet …”

Die verskil in die twee artikels gaan daaroor dat: Artikel 7.1 van 1998 noem die kerkraad as die finale besluitnemer, terwyl Artikel 7.1 van 2002, die ring weer die bevoegdheid gee om kontrole uit te oefen of die beroep volgens voorskrif en kerkorde gedoen is. Die Ring het ook die gesag om die beroep terug te verwys of ongeldig te verklaar. (Agenda en Handelinge, 2002:294). Hier is dit duidelik dat die sinode weer terugbeweeg het na die kerkverband se opsig oor predikante se beroeping. Die feit dat die kerk hier self sy kerklike aangeleentheid reël, is 'n praktiese manifestasie van godsdiensvryheid.

Artikel 12

'n Baie belangrike verandering is in Artikel 12.1; 12.2; 12.3 aangebring. In die Kerkorde van 1998 val die klem, in navolging van die Arbeidswet baie sterk op die Kerkraad as die werkgewer van die predikant.

12.1 Die gemeente of kerkverband (ring, sinode of Algemene Sinode) in wie se diens 'n predikant staan, is die werkgewer van die predikant.

12.2 Die werkgewer handel deur middel van sy gevolmagtigde vergadering, naamlik kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode.

12.3 Indiensneming of diensbeëindiging geskied deur die werkgewer en die verlening of verlies van ampsbevoegdheid geskied deur die Algemene Sinode of 'n kommissie van die Algemene Sinode daartoe aangewys (Kerkorde, 1998:artikel 12.1-12.3:4).

In die Kerkorde van 2002 word heeltemal ander bewoordinge gebruik om die geestelike aard van 'n predikant se werk as 'n geroepene van die Here na vore te bring.

12.1 Predikante word vir die uitvoering van hulle amp of bediening deur 'n kerkvergadering (kerkraad, ring, sinode, Algemene Sinode) beroep en in diens gestel.

12.2 'n Predikant is, as geroepene van die Here deur Sy kerk, aan die Here én aan die betrokke kerkvergadering verantwoording verskuldig.

12.3 Die kerkvergadering gee aan die predikante die respek en ondersteuning wat hulle as geroepenes van die Here en sy kerk in staat kan stel om hulle amp en bediening effektief uit te voer.

12.4 Indiensneming en diensbeëindiging geskied deur die betrokke kerkvergadering soos bepaal deur die Kerkorde en ander geldende besluite (Kerkorde, 2002:artikel 12.1-12.4:6)

Terselfdertyd word die verantwoordelikheid en funksie van die betrokke kerkvergadering duidelik uitgelig. Die reg tot vryheid van godsdiens word gebruik om die besondere aard van 'n predikant se diensverhouding in die Kerkorde te bewoord.

Daar is in die Kerkorde van 1998 veranderings aangebring ten opsigte van artikels aan die wyses waarop die band tussen predikant en gemeente of kerkvergadering losgemaak kan word. In 1998 het die werkgewer (kerkraad, ring, sinode of Algemene Sinode) “ingevolge die prosedure vir kerklike tug’ opgetree. In die besluite by Artikel 12 is 12b2.1 om so te lees “In geval van wangedrag deur predikante tree die toesighoudende ring ingevolge die prosedure vir kerklike tug op”. Met dié verandering is weer terugbeweeg na die opsig van die kerkverband (Handelinge, 2002:558). Uit die veranderinge aan Artikels 7, 12 en 58 kan afgelei word dat die Algemene Sinode 'n duidelike poging aangewend het om die ruimte wat godsdiensvryheid hom bied, te benut. Die Algemene Sinode van 2004 het riglyne vir Arbeidsverhoudinge opgestel waar die kerk se reg op godsdiensvryheid duidelik uitgelig word (Handelinge, 2004:434). Daarmee het die Algemene Sinode weer die skeiding tussen kerk en staat herbevestig asook sy verantwoordelikheid om ’n profetiese Christelike stem in die samelewing te laat hoor.

Die Algemene Sinode het in 2007 sy besluite oor die nuwe staatkundige bedeling wat in 2004 geneem is, herbevestig (Agenda en Handelinge, Algemene Sinode, I:2007:98; III:97). Die Algemene Sinode het ook die dokument “Die NG Kerk en die Grondwet” as beleidstuk van die NG Kerk aanvaar. Dit geld ook as uitgangspunt vir die werk van die Parlementêre Lessenaar (Agenda en Handelinge, Algemene Sinode, 2007:I:111-113; II:13; III:97). Volgens dié beleidstuk het die kerk ’n baie belangrike rol te speel in die wetskrywende proses van die land.

4.3.3 Konklusie

• Met die aanvaarding van die nuwe Grondwet het die NG Kerk die ruimte wat die Grondwet vir godsdiensvryheid bied, probeer benut deur sy Kerkorde so te wysig dat die kerk nie net profeties teenoor die staat moet optree nie (skeiding tussen kerk en staat), maar dat die kerk inherent Jesus Christus en die Woord as die hoogste gesag in die kerk aanvaar en aanspraak maak dat die kerk homself sal organiseer volgens sy grondwaardes (Kerkorde 1998: Artikels 65.3; Kerkorde 2002:Artikels 2,3).

• Daar is in 1998 en 2002 nie net kerkordelike veranderings aangebring nie, maar die reëlings rondom diensverhoudinge is aangepas, daar is met die staat in gesprek getree oor Christelike onderwys en die tugreglement is arbeidsregtelik aangepas, maar tog is die inherente waardes van die Bybel deeglik ingebou.

• In alles het die kerk sy profetiese getuienis behou deur die Woord en Jesus Christus as die hoogste gesag te erken. Hiervoor het hy van die beperkingsreg wat Artikel 36 van die Grondwet bied, gebruik gemaak, deur aanspraak te maak op eie interne reëls (Kerkorde 2002:art 2.3).

• Daar is egter steeds tekortkominge in die kerk se benutting van die ruimte van godsdiensvryheid: Terreine soos die kerk se reg om huwelike te bevestig in ooreenstemming met sy geloofsidentiteit, asook die reg om in openbare staatskole onbeskaamde godsdiensonderrig te kan gee, is voorbeelde waarop die kerk nog nie die ruimte wat aan hom gebied word ten volle benut nie. Op hierdie aspekte sal verder navorsing gedoen moet word.

• Die kerk sal baie duidelik sy eie regte en posisie ten opsigte van die wet op godsdiensvryheid moet verreken in die reis na godsdiensvryheid. Dit is ’n vraag of almal dit werklik verstaan en prakties toepas. Die Grondwet het leemtes wat godsdienste self sal moet vul.29 Die probleem kom in waar die kerk self intern twyfel oor sekere van sy aansprake. Volgens Van Wyk is dit fataal indien ’n kerk oor sy eie posisie en interne reëls twyfel het, want dan laat hy die besluit oor aan die staat se oordeel (Van Wyk 2006:219). Daar gaan nog vele juridiese grense wees waar die perke van kerklike outonomie getoets gaan word, daarom moet daar ook gewaak word teen oorvereenvoudiging.

• Uit die navorsing van die besluite en die Kerkordes van die Algemene Sinodes van die NG Kerk, blyk dit asof die NG Kerk na 1994, godsdiensvryheid in die praktyk bevorder, en uitleef. Dit blyk verder dat die NG Kerk homself kerkregtelik geposisioneer het om die ruimte te benut wat die Grondwet van Suid-Afrika (1996) hom ten opsigte van godsdiensvryheid bied.

5. SLOTWOORD

Die verhaal van die ontwikkeling van godsdiensvryheid wêreldwyd, sowel as in die NG Kerk, is nog nie klaar geskryf nie. Dit is 'n daaglikse pad van groei en ontwikkeling. Die uitdaging gaan wees hoe die NG Kerk homself voortdurend kerkregtelik gaan posisioneer om getrou te bly aan sy Here en Hoof, Jesus Christus en die Woord van God.

BIBLIOGRAFIE30

Acta en Handelinge: Raad van Nederduitse Gereformeerde Kerke, 1909; 1951,1953; 1955; 1957; 1959; 1961Agendas en Handelinge van die Algemene Sinode van die NG Kerk 1962-2007

Coertzen, P 2001(i). “The Position of Churches in South Africa under a New Constitution.” Legal Positions of Churches and Church Autonomy. Scripta Canonica 3. Peeters: Leuven.

Coertzen, P 2001. “Die regsposisie van kerke in Suid-Afrika.” NGTT 42/1&2. 115-122

Coertzen, P 2005. “Peil en Konteks, Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering in Suid-Afrika vandag.” Referaat gelewer by Kerkreg Werkgemeenskap, Aug/Sept 2005.

Coertzen, P 2006. “Kerk en staat – Die Optimum verhouding vir Godsdiensvryheid.NGTT 47/1&2, p. 134- 142.

Coertzen, P 2008. “Grappling with Religious Differences in South Africa: A Draft for a Charter of Religious Rights” artikel in Brigham Young University Law Review 2008, p 109-128.

Cottesloe Consultation, Johannesburg, 7–14 December 1960.

Cottesloe-versameling, Kaapse Kerkargief. Bundel K166- K171.

Declaration on the Elimination of All forms of Intolerance and of Discrimination Based on Religion or Belief (G.A. Res. 36/55–11.25.1981. U.N. Doc. A/36/684 (1981)

Durham, CW 1996(i). “Rousseau’s Civil Religion and the idea of Wholeness.” Religious Liberty in Western Thought. Emory University, Studies in Law and Religion. Scholars Press: Emory University

Gildenhuys, JL 2002. “An Assessment of Constitutional Guarantees of Religious Rights and Freedom in South Africa.” Ongepubliseerde DL proefskrif aan die Universiteit van Stellenbosch.

Heyns, JA 1992. Inleiding tot die Dogmatiek. NGKB: Pretoria.

Jonker, WD 1998. Selfs die kerk kan verander. Tafelberg: Kaapstad

Kerkordes van die Algemene Sinode van die NG Kerk 1962-2007

Kleynhans, EPJ 1988. Gereformeerde Kerkreg, Deel 4: Die arbeid en betrekkinge van die kerk. NG Kerk Boekhandel: Pretoria.

Landman, WA 1968. “A Plea For Understanding” Ned. Geref. Kerk-Uitgewers: Kaapstad.

Malherbe, R 2006. “Enkele kwelvrae oor die grondwetlike beskerming van die reg op godsdiensvryheid.” NGTT 47/1&2, p. 180–199.

Roan, M ea 2003. Freedom of Religion or Belief. Study Guide: University of Minnesota, Human Rights Center: Minnesota.

Tierney, B 1996. “Religious Rights: An Historical Perspective. in Religious Human Rights.” Global Perspective: Religious Perpectives. Martinus Nijhoff Publishers: The Hague.

Universal Declaration of Human Rights (G.A. Res. 217 a (III) 12.10.1948). Teks in Scalabrino, M, 2003. International Code on Religious Freedom. Peeters.

Van Wyk, A 2006. ”Die akte van menseregte en kerklike tug: ’n potensiële dilemma.” NGTT 47/1&2, 214- 219.

Vorster, JD 1960. “Die Kerkorde vir die Ned Geref Kerke.” NGTT 1/4, 12-18.

TREFWOORDE

Godsdiensvryheid, NG Kerk, Kerk en Staat, Godsdiensregte, Kerkreg

KEY WORDS

Freedom of religion, Dutch Reformed Church, Church and State, Religious rights, Canon law / Church law

KONTAK BESONDERHEDE

Dr Quintus Heine

Posbus 5025

7572 KRAAIFONTEIN-NOORD

Tel 021 988 4132

Sel; 083 381 6878

E-pos: qparke.co.za

1Wêreldraad van Kerke, New Delhi:1961; Wêreldbond vir Gereformeerde Kerke, 1976:”Theological basis of human rights’: Gereformeerde Ekumeniese Sinode /Raad, “Testimony on Human Rights”. 1983.

2 “Historically and ideologically, religious rights and political rights are inextricably interwined ...” Wood, JE . 1996. An Apologia for Religious Human Rights: 455.

3Vryheid van Godsdiens: ’n Ondersoek na historiese ontwikkelinge van die konsep en die teologies- kerkregtelike posisie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962 tot 2007”. Q E Heine. Desember 2008; Universiteit van Stellenbosch.

4 Universal Declaration of Human Rights” (G.A. RES. 217 a (III) 12.10.1948.

5 Deur navorsing is bewys dat dit steeds ’n geldige omskrywing van godsdiensvryheid is wat wêreldwyd deur die Christelike kerke en ander instansies aanvaar word.

6 Declaration on the Elimination of All forms of Intolerance and of Discrimination Based on Religion or Belief (G.A. Res. 36/55–11.25.1981).

7 Daar is 'n wesenlike verband tussen die landswette oor godsdiensregte en die wyse waarop die skeiding tussen kerk en staat geïnterpreteer word. Durham het dit duidelik deur gevallestudies aangetoon. Die kerk en staat verhouding beïnvloed die wette van die land oor godsdiensvryheid (Durham 1996:2).

8 Tussen die jare 1966–1976 is die ooreenkoms van International Covenant on Civil and Political Rights (12.16.66–03.23.1976) by die Verenigde Nasies gesluit. Hiervolgens word die reg van ’n instansie (bv. 'n kerk) erken om op grond van sy religieuse oortuiging, homself te organiseer, sy eie eredienste in te rig en om die praktiese uitlewing van sy godsdiensoortuiging na goeddunke te organiseer. Artikel 18.3 van die 1981 Deklarasie stel duidelike beperkings op godsdiensvryheid ”Freedom to manifest one’s religion or beliefs may subject only to such limitations as are prescribed by law and are necessary to protect public safety, order, health or morals or the fundamental rights and freedoms of others” Dit gaan ook byvoorbeeld ook om sake soos arbeidsverhoudinge, die reg van die kerk om net sekere persone tot die ampte toe te laat, die stel van sekere vereistes vir die predikantsamp, die voltrekking van kerklike huwelike, godsdiensonderwys, ordereëls en vergaderingsprosedures, reëlings betreffende ampsvereistes en ampsfunksies, diensverhoudinge ensovoorts.

9 Dit is ook wat die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) Artikel 36 in sy nuwe vertaling (1986) impliseer, dat die staat ’n verantwoordelikheid het om ’n veilige ruimte te skep vir die uitleef van godsdiens (Jonker, 1993:56).

10 Die regsposisie van kerke in Suid-Afrika is dat hulle tradisioneel deur die howe as vrywillige assosiasies of verenigings gesien en beoordeel word. Die kerkordes van die vrywillige assosiasies word as hulle konstitusie of grondwet gesien. In ’n beoordeling van die howe is die kerkorde dus die kontrak tussen die vrywillige assosiasie/vereniging en sy lede (Coertzen 2001(i):51).

11 Vier basiese grondlyne oor hoe die ruimtes gevul kan word, kan onderskei word (Malherbe, 2006:199; Van Wyk 2006:219; Coertzen 2005(i):92).* Kerke sal duidelike grense in hulle kerkordes en bepalinge moet trek en nie moet twyfel oor hulle leerstellige- en kerkordelike posisies nie. * Kerke het die reg en die verantwoordelikheid om hulle leerstellige beskouinge, vreesloos op die markplein te verkondig en uit te leef. * Kerke sal bereid moet wees om die juridiese grense in die hof te toets. * Kerke sal hul interne orde en reëls met verantwoording, volgens hulle eie geloofsoortuiginge, moet opstel.

12 Dit is inherent deel van die Christelike godsdiens se basiese leerstellings dat hy 'n roeping het om die evangelie na alle dele van die wêreld uit te dra (Matt 28:18–19)

13 In 1962 vergader die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk en in 2007 vergader die jongste Algemene Sinode.

14 “Kragtens oktrooi was die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie verplig tot die bevordering van die “ware Christelijke religie” – en daaronder is die Gereformeerde godsdiens verstaan. Dit sou beteken dat net soos in Oos-Indië ook aan die Kaap alleen die Gereformeerde kerk sou wees. In die praktyk het dit onder meer beteken dat slegs hierdie kerk openbare godsdienstige samekomste kon hou” (Van der Watt 1976:71).

15 Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Wet no. 32 van 1961, Staatsdrukker.

16 "Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en Rassepolitiek”, Lombard 1974:166

17 Prof BB Keet het die weglaat van laaste vier beginsels en ander wysiginge wat aan die beginselverklaring aangebring is, ernstig gekritiseer en die NG Kerk daarvan beskuldig dat hulle hul eie beginsels prysgee om die regering tegemoet te kom (Cape Times, 2 Mei 1973).

18 Vergelyk die omskrywing van godsdiensvryheid in paragraaf 2.

19Die Kerk aanvaar met dankbaarheid die beskerming deur die owerheid

20 “... asook die erkenning van sy onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms.”

21 vgl. Kerkorde van Dordt 1619 en die Kerkorde van die GKN 1959

22 “… met dien verstande dat genoemde vryhede nie misbruik sal word om die fondamente van die staatsgesag te ondergrawe of om wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie.”

23 Handelinge van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk:1986: 656

24 Artikel 3 van die Wette en Bepalinge van die NG Kerk van Transvaal (1957), wat oor die vereistes van lidmaatskap handel, het die volgende inleiding gehad: “Aan elkeen van die besondere Gemeentes behoort alleen blanke persone” (Wette en Bepalinge, NG Kerk van Transvaal 1957:12). Dieselfde inleidende formulering vir artikel 3 het vir die NG Kerk in die Oranje Vrystaat (Wette en Verordeninge, NG Kerk in die OVS, 1960); die NG Kerk in Suidwes-Afrika (Wette en Bepalings, NG Kerk in Suidwes-Afrika 1957); die NG Kerk van Natal (Wette en Bepalinge, NG Kerk van Natal 1957) en die Suidelike Streek van die NG Kerk van Transvaal (Wette en Bepalinge van die Suidelike Streek van die NG Kerk van Transvaal, 1959) gegeld. Die NG Kerk van Suid-Afrika (Kaapland) het egter nie die Kerkordelike bepaling so beskryf nie (Bepalinge en Reglemente, NG Kerk in SA, 1957). Sien ook Jonker, WD 1998. Selfs die kerk kan verander:189.

25 Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Wet nr. 108 van 1996

26 Artikel 15; 9;17;18;29;31 het almal met godsdiensvryheid te doen.

27 Artikel 36 van Grondwet

28 Artikel 9 van die Grondwet

29 Oor hierdie aangeleentheid verklaar Coertzen “The South African Constitution says nothing else regarding or defining freedom of religion. Compared to the European Convention and the Universal Declaration of Human Rights, the Constitution is surprisingly vague. For instance, it makes no mention of the right to change religion, the right to practice privately, or the right to manifest publicly one’s religious beliefs. These are key religious freedoms, and their absence from the current Constitution makes it incumbent on religious groups in South Africa to identify their religious rights against a backdrop of South African law” en verder “The threat of government intervention is by no means idle” (Coertzen, 2008:118).

Uit die geledere van die NG Kerk en ander Protestantse genootskappe het daar 'n werksdokument naamlik Handves van Godsdiensregte en -Vryhede ontstaan, waar teoloë, regsgeleerdes en filosowe sterk leiding geneem het om op die einde 'n amptelike Handves van Godsdiensregte vir Suid-Afrika daar te stel.

30 Vir volledige bibliografie sien : “Vryheid van Godsdiens: ’n Ondersoek na historiese ontwikkelinge van die konsep en die teologies- kerkregtelike posisie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962 tot 2007”. Q E Heine. Desember 2008; Universiteit van Stellenbosch.