Kruger, P & Hofmeyr, JW
Universiteit van die Vrystaat

'n Era van verandering vir die NG Kerk en Suid-Afrika sedert 1990 (Deel I)1

ABSTRACT

An era of change for the Dutch Reformed Church since 1900.

Part I

Since 1990 the political and cultural situation in South Africa has changed radically. People reacted differently to this change. For some it was the long-anticipated outcome of years of political struggle. For others it has brought uncertainty and despair. Furthermore the change in South Africa is encompassed by a new way of social thinking and behaviour, which represents what is known as the postmodern paradigm. Secularization of everyday life and institutions is also escalating. The DR Church stands within the sphere of influence of these phenomena. The influence of the variety of historical incidents underlies the numerous and diverse phenomena in the church.

1. INLEIDING

Om die resente stand van die NG Kerk te verstaan, is dit nodig dat die konteks waarbinne die geskiedenis van die NG Kerk afspeel, verreken word. So word ‘n historiese denkraamwerk verkry waarbinne die NG Kerk gestalte kry. Twee belangrike dimensies van hierdie konteks wat ‘n invloed op die NG Kerk het, is die polities-kulturele situasie van Suid-Afrika sedert 1990 en die verandering van wêreldbeskouings (paradigmas) as dominante denksisteme in Suid-Afrika.

2. ‘N ERA VAN VERANDERING IN SUID-AFRIKA SEDERT 1990

Daar is tans drie prominente samelewingsvisies in die Suid-Afrikaanse samelewing teenwoordig. Dit is die ou apartheidskollektivisme, Afrika kommunalisme en Westerse individualisme (Van der Walt, 1999:25-26). Ingewikkelde politieke- en sosiale verandering het tot hierdie situasie aanleiding gegee. Sedert 1990 het onomkeerbare geskiedkundige gebeure plaasgevind wat die apartheidsera in Suid-Afrika tot ‘n einde laat kom het en die opkoms van Afrika kommunalisme en Westerse individualisme aangehelp het.

2.1 Die apartheidsdiskoers in die era van verandering

Die apartheidsdiskoers het as ‘n samelewingsvisie ontwikkel sedert 1948, toe die Nasionale Party aan bewind gekom het. Die reeds bestaande tradisies van natuurlike skeiding tussen etniese groepe [deels agv die erfenis van die Britse imperiale-koloniale tradisies (Wiechers, 1986:16)] is absoluut gemaak. Die nasionalistiese aspirasies van die Afrikanervolk asook die maatskaplike uitwerking van verstedeliking en die groot ekonomiese depressie op Afrikaners was belangrike vormingsfaktore (Grundlingh 2001:245-246). Die gevolglike verdeling van die Suid-Afrikaanse samelewing in homogene kategorieë het veroorsaak dat volke of rasse naas mekaar in insigselfgeslote eenhede bestaan het binne hulle eie samelewingsinstellings soos kerk en onderwys. Gemeenskappe wat nie deur apartheid bevoordeel is nie, het ontwrigting en vertraging in groei beleef. Met verloop van tyd het dit gelei tot verset en politieke geweld (Wessels 2001:255-256). Die legitimiteit van die apartheidsbeleid het egter binnelands sowel as buitelands finaal in gedrang gekom (Durand, 2002:47). Hoewel apartheid amptelik nie meer as beleid toegepas is nie, was die oorblyfsels van die apartheidsdiskoers soms tog nog plekplek merkbaar.

2.2 Verandering gekenmerk deur die opkoms van Afrika kommunalisme

‘n Nuwe demokratiseringsfase in Suid-Afrika is in 1994 ingelei met die bewindsaanvaarding van die ANC. Afrika kommunalisme met sy sterk Afrika-groepsidentiteit het as samelewingsvisie na vore getree. Daar is ‘n gemeenskaplikheid onder die meerderheid Afrikane wat gedryf word deur die dominante swart beskouing dat daar met die verlede (onder die apartheidsbewind) afgereken moet word (Du Toit 1999:6). Daarom moet die Suid-Afrikaanse samelewing getransformeer word tot ‘n oop, nie-rassige en nie-seksistiese samelewing (Durand, 2002:9).

Binne die konteks van Afrika is die opkoms van Afrika kommunalisme ‘n baken van hoop, want die verlede met sy emosies van skuld, lyding en viktimisasie kon vreedsaam ontknoop word en die situasie van agtergeblewenes het nou besondere aandag geniet. Nie al die ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika identifiseer noodwendig met Afrika kommunalisme as samelewingsvisie nie. Vir diegene by wie die beginsels van die apartheidsdiskoers dominant was, is dit ‘n simbool van wanhoop. Daar is reaksie omdat die transformasieproses in Suid-Afrika revolusionêr is en ‘n natuurlike oorgangsproses nie plaasgevind het nie (Du Toit, 1999:2). Daarom is daar ook ‘n algemene kritiek teen die newe-effekte van die transformasie-kwessies soos misdaad, belewenis van oneffektiwiteit en onbevoegdheid in dienssektore, korrupsie en werkloosheid (Du Toit 1999:2, 3).

Desondanks is daar by wit mense tog ‘n bereidheid om aan te pas by die kontekstuele en pluralistiese kultuur en by die feit dat waardes, leefstyle, maniere van dink en doen veranderlik is (Grundlingh, 2001:258).

2.3 Verandering teen die agtergrond van ‘n metakonteks

Die verandering in Suid-Afrika kan egter nie alleen aan die politieke veranderinge toegeskryf word nie. Met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het Suid-Afrika deel geword van die nuwe oop en veranderde plaaslike en internasionale orde wat almeer pluralisties en pragmaties van aard is (Boshoff 1995:3). Invloede ook vanuit die Westerse individualisme (as derde samelewingsvisie) tesame met die wêreldwye dominante post-moderne paradigma kom na vore.

Die postmoderne denkraamwerk omvat ‘n hedendaagse manier van dink waarin die volgende idees dominant is:

• Realiteit is ‘n sosiale konstruksie.

Globalisasie ontbloot absolute kulturele- en godsdienstige oortuigings as slegs histories-bepaalde konstruksies (Middleton & Walsh 1995:30, 31). Die ‘waarheid’ van dié konstruksies is net relevant vir die konteks waarin dit funksioneer (Janse van Rensburg, 2000:7). Die aard van ‘n individu se band met ‘n sosiale diskoers bepaal die mate waarin dit dominant is in die lewe van daardie individu

• Dekonstruksie.

Omdat oortuigings konstruksies is wat ‘n bepaalde realiteit tot gevolg het, dra die postmoderne geneigdheid om konsepte en oortuigings (hetsy kultureel, sosiaal of religieus) te dekonstrueer daartoe by om die mag daarvan in mense se lewens bloot te lê. Dit konfronteer die individu en die sosiale groep met hulle eie konstruksies (Middleton & Walsh 1995:33).

• Disoriëntasie.

Dekonstruksie kan vryheid van beperkende konstruksies bring, maar kan ook ontnugtering en disoriëntasie bewerk. As mense bewus word van die bepaaldheid, subjektiwiteit en beperkinge van hulle oortuigings, kan dit ‘n anomiese effek hê wat hulle laat met ‘n gebrek aan sosiale en etiese norme (Middleton & Walsh 1995:36).

• Morele weifeling.

As etiese norme net konstruksies is, word die normatiwiteit daarvan deur keuses bepaal. ‘n Individu wat geabsorbeer word deur die sosiale diversiteit van hierdie wêreld, vind dit moeilik om getrou te bly aan beginsels wat deur dekonstruksie gerelativeer word. Dit lei tot die kenmerkende hedendaagse morele weifeling (paralyses) (Middleton & Walsh 1995:60).

• Agterdog teenoor meta-narratiewe.

Meta-narratiewe word beskou as absolute sisteme wat dominante magstrukture legitimeer en dié wat nie daarby inpas nie, marginaliseer of onderdruk bv. sosialisme, apartheidsdiskoers en selfs religieuse diskoerse en sisteme. Meta-narratiewe is sosiale konstruksies met ‘n skyn van universaliteit waarin heterogeniteit nie verreken word nie. Daarom is daar die hedendaagse neiging om die sosiale bepaaldheid en magstrukture van meta-narratiewe bloot te lê (Lyotard 2004:123).

Die genoemde dominante idees van die postmodernisme bring die normatiwiteit van oortuigings, groepsassosiasie, norme en waardes in die private sfeer. Die keuse van die individu (en individue kollektief) is die mees reële werklikheid van die postmoderne tydsgees. Dit lei tot die relativering van sosiale instellings se rolle, aangesien samelewingsverbande in die postmoderne era ‘n kontraktuele karakter dra en alleen bestaan solank individuele lede dit goed vind (Van der Walt 1999:27).

Die uitwerking van die postmoderne denke en individualisme dra daartoe by dat die invloed van die kerk, die godsdiens, teologie en die Christelike geloof (as sosiale konstuksies en meta-narratief) op verskeie terreine verminder. Religieuse en metafisiese oorheersing word dikwels aan die openbare terreine van die lewe en denke onttrek. In hierdie proses van sekularisasie of ‘verwêreldliking’ (Durand 2002:23) word die mens daarvan bewus dat hierdie wêreld deur die mens beheers kan word (Heyns, 1969:26). Dit versterk die rol van individualisme. Sekularisasie wat gewoonlik met die Westerse wêreld vereenselwig word, het ook ‘n invloed op die middelklas Westersgerigte Suid-Afrikaners.

Die sekulêre eeu laat die klem ook val op die tegnologiese prestasies van die mens en daarmee saam die Westerse ontwikkelingsdenke. Hierdie ideologie beïnvloed ongemerk die denke en dade van die hedendaagse mensdom (Van der Walt 1999:100). Terme soos ekonomiese groei, bevrediging van basiese behoeftes, volhoubare ontwikkeling en verligting van armoede is alledaagse taal. Die uitwerking van hierdie ideologie het egter verwronge waardes tot gevolg. Van der Walt (1999:111-113) dui dit soos volg aan:

Die beskouing dat ontwikkeling en vooruitgang vanselfsprekend “goed” is, lei in baie opsigte daartoe dat die mark spandabelrig en verkwistend is.

Die goeie lewe en doel van die mens se bestaan word gemeet aan die optimale bevrediging van die individu se eie begeertes en hebsug.

Sosiale samelewingsverbande en -instellings, soos die kerk, wat mislei word om die organisatoriese model van die “effektiewe” handelsonderneming na te volg, staan die gevaar om hulle eiesoortige beginsels en karakter te verloor.

2.4 Slot: 'n Era van verandering in Suid-Afrika sedert 1990

Die Suid-Afrikaanse samelewing is kompleks. Daar is spanning tussen die wêrelde wat deur die verskillende samelewingsvisies verteenwoordig word, aangesien dit histories met verskillende bevolkingsgroepe saamloop. Maar daar vind ook ‘n vervloeiing van die samelewingsvisies plaas wat ‘n eiesoortige karakter verleen aan sekere sosiale lae van die samelewing, bv. die swart bolaag word intellektueel beïnvloed deur die waardes en denke van postmodernisme. Heuvel (1999:5) dui aan dat die eintlike stryd wat vandag in die wêreld (en ook in Suid-Afrika) woed, ‘n stryd oor idees is. Individue word deur die idees van ‘n wêreldbeskouing (paradigma) beheer, of hulle daarvan bewus is al dan nie. Hierdie idees beïnvloed ook die kerk aangesien hierdie individue deel is van die kerk. Vervolgens word die NG Kerk ondersoek teen die agtergrond van dit wat tot dusver bespreek is.

3. ‘N ERA VAN VERANDERING IN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK SEDERT 1990

Vir Heyns (1969:7-9) bestaan daar ‘n intieme band tussen die teologie (vir skrywers ook die aard van kerkwees as uitvloeisel van die teologie) en die tydsgees, aangesien die teologie (en kerkwees) nie losstaan van die ruimte en die tyd waarin dit bestaan nie. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die historie van die NG Kerk dus verstaan teen die agtergrond van die dimensie van die polities-kulturele situasie van Suid-Afrika sedert 1990 en die dimensie van die verandering van wêreldbeskouings (paradigmas) as dominante denksisteme in Suid-Afrika.

3.1 Die NG Kerk se erfenis van burgerlike godsdiens en apartheidsteologie, en die veranderinge ten opsigte daarvan

Tydens die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober 1990 te Bloemfontein het die kerk hom finaal gedistansieer van die volkskerk-gedagte sowel as apartheid as samelewingsvisie (Handelinge van die Algemene Sinode, 1990:595, 597).

Wat die NG Kerk se volkskerk-erfenis betref die volgende:

Die term volkskerk beskryf die kenmerkende versmelting tussen volk en kerk onder die Afrikaners. Verskillende redes vir die ontwikkeling van die burgerlike godsdiens van die Afrikaner word aangevoer:

• Die uitwerking van die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 en die verarmde situasie van die Afrikanervolk daarna, het daartoe gelei dat die NG Kerk in sy sorg aan verarmde Afrikaners ‘n kerk-vir-die-volk sou word (Olivier 2002:158). Dit is opmerklik dat die opbloei van die Afrikaner se nasionale bewussyn (par 2.1) in die tyd saamgeval het met die kerk se besorgdheid oor die geestelike welsyn van die Afrikaner (Moodie 1975:69).

• Verder het die Calvinistiese gedagte van kollektiewe individualisme (Moodie 1975:24) ‘n sterk invloed onder die Afrikaners gehad. Die essensie is dat ‘n individu tegelyk vrywillig behoort en onderdanig is aan ‘n Christelike gemeenskap en aan ‘n aardse outoriteit (wat aan God onderdanig is). Die totale lewensbestel is dus in wese godsdienstig. Beide die kerk en die staat is middele waardeur Christus regeer (Kinghorn 1986a:48). So kan daar gepraat word van die Christelike staat (Gaum 1981:27) en kon die Afrikaner se nasionalisme op hierdie wyse godsdienstig gelegitimeer word (Rossouw 2001:99).

Die gemiddelde Afrikaner het hierdie verstaan van die werklikheid as ‘n gegewe aanvaar. Die invloed van hierdie teologiese ontwikkelings en sienings sou kulmineer in die apartheidsdiskoers en -teologie (van die NG Kerk).

Wat die NG Kerk se erfenis van apartheidsteologie betref:

Tydens die jare van die Nasionale Party se regering het die behoud van die Afrikaner langs die weg van afsondering plaasgevind. Vanuit die verstaansraamwerk van die burgerlike godsdiens het die NG Kerk teologies nagedink insake die Afrikaner en sy rasseverhoudinge (Kinghorn, 1986b:117). Die dokument Ras, volk en nasie en Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif wat in 1974 deur die NG Kerk aanvaar is, is die vrug van hierdie nadenke. Die teologie van volksveelvormigheid in die dokument het ‘n raamwerk gebied oor die wyse waarop daar oor die sosiale werklikhede en -instellings destyds nagedink moes word (Kinghorn 1986b:130). Volkereverskeidenheid is selfs geag dat dit in diens van die koninkryk van God staan wat veroorsaak het dat die wit mense se selfafsondering ‘n godsdienstige basis gekry het wat haas onuitroeibaar was (Durand 2002:29). Teen die 1970’s het die NG Kerk so naby aan die regering beweeg dat dit ook die beskermheer van die landsbeleid geword het (Lubbe 2001:29). Die kerk erken dit ook: “Die Kerk is intiem betrokke by die staatkundige ontwikkelinge van ons land” (Ras, volk en nasie, 1975:4). Hierdie houding sou egter beslis verander ná die publikasie van Kerk en Samelewing (1986). Dit blyk duidelik uit die gees daarvan en tallose verwysings daarin.

Die NG Kerk is naas sy eie worsteling intussen vanuit verskillende oorde gekritiseer en onder druk geplaas as gevolg van sy ondersteuning en teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid. Daar was ook inisiatiewe om strydende kerke bymekaar te bring en verskille uit te praat. Ons dink aan die Cottesloe-beraad van 1960; die Christelike Instituut van Suidelike Afrika (waaraan Beyers Naude verbonde was); die Broederkring (later Belydende Kring) wat in 1975 gestig is en ‘n teenstander van apartheid in kerk en staat was; die Hervormingsdag-getuienis van 1980, waarin solidariteit met almal wat deur onregverdige sosiale praktyke, ekonomiese wanverhoudinge en die lyding as gevolg van politieke maatreëls geraak is, bepleit is; Stormkompas van 1981 wat die NG Kerk se onverskilligheid teenoor duisende swart mense se ellende uitgewys het; ‘n Ope brief aan die NG Kerk van 9 Junie 1982 wat die onaanvaarbaarheid van apartheid se samelewingsbeginsels gekritiseer het; die Sinode van die NG Sendingkerk in 1982 wat die morele en teologiese regverdiging van apartheid as ‘teologiese kettery’ beskryf het; die Instituut vir Kontekstuele Teologie (ICT) en die Kairos-dokument van 1985 wat aangedring het op die uitwissing van alle polities-sosiale ongeregtighede; en die NG Sendingkerk se amptelike aanvaarding van die Belydenis van Belhar in 1986 (wat sedertdien ‘n simbool van polarisasie in die NG Kerkfamilie geword het).

Hierdie kritiek, maar beslis ook eie selfstandige denke en ernstige teologisering het die NG Kerk tot selfondersoek gedwing. Ras, volk en nasie is hersien en verwerk. Dit het gelei tot Kerk en samelewing (van 1986) wat as ‘n hersiene uitgawe in 1990 verskyn het. Die indruk het al meer ontwikkel dat die NG Kerk besig was om sy rug op apartheid te keer. Van binne die NG Kerk was daar besliste reaksie. Daar was byvoorbeeld taamlike sterk protes teen Kerk en samelewing (1986). Hierdie beswaardheid sou lei tot ‘n proses waaruit die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk op 27 Junie 1987 sou voortkom (Van der Merwe 2002:95, 97). In Kerk en samelewing (1990:46) is genoem dat groot en onvermydelike veranderinge besig was om hulleself sosiaal en kerklik te voltrek. Vir die NG Kerk was dit nie maklike tye nie, want hy moes homself herposisioneer ten opsigte van sy verhoudinge en sy wese as kerk.

3.2 'n Era van transformasie in die NG Kerk sedert 1990

Na die belangrike Algemene Sinode van 1990 het sekere gebeure verdere momentum verleen aan transformasie in die NG Kerk:

• Op 3 November 1990 vind ‘n ekumeniese kerkeberaad by Rustenburg plaas waar kerke hulle stem kom laat hoor omtrent die situasie in Suid-Afrika op daardie stadium (Gaum 1997:53). Dis hier waar die afvaardiging van die NG Kerk hulle vereenselwig met die verklaring van prof Jonker waarin hy sy persoonlike skuld maar ook plaasvervangend dié van die NG Kerk bely vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte in Suid-Afrika. Hoewel daar verskillende reaksies in die NG Kerk was, bly dié gebeurtenis voortleef as ‘n merkwaardige oomblik van belydenis, vergifnis en versoening (Gaum 2002:218-219).

• Tydens die Algemene Sinode van 1994, blyk dit dat ‘n nuwe tydperk van versoening begin het (Van der Merwe 2002:113). In sy openingsrede beklemtoon prof Johan Heyns die kerk se boodskap van versoening. Pres Nelson Mandela besoek ook die sinode en wys daarop dat die NG Kerk ‘n onontbeerlike rol in die opbou van ‘n regverdige en vreedsame Suid-Afrika behoort te speel (Handelinge van die Algemene Sinode 1994:534, 536).

• Die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake kry tydens die Algemene Sinode van 2002 opdrag om ‘n studie te onderneem oor watter rol die NG Kerk in die openbare gesprek kan speel, aangesien die kerk op ‘n nuwe manier by die veranderde politieke-sosiale konteks betrokke behoort te raak (Handelinge van die Algemene Sinode, 2002:625). So ook word die NG Kerk se openbare deelname aan en ondersteuning van morele vernuwings-inisiatiewe by die Algemene Sinode van 2004 beklemtoon (Handelinge van die Sinode 2004:301).

• Sedert 1990 het die gesprek omtrent kerkeenheid of kerkhereniging van die NG Kerkfamilie se lidkerke op die voorgrond getree. Reeds in Ras, volk en nasie van 1976 word genoem dat sigbare eenheid van die kerk vir die NG Kerk van belang is (Ras, volk en nasie 1975:85). Ook in Kerk en samelewing van 1986 (en hersien in 1990) word dit gestel dat die uitgebreide familie van NG Kerke wesenlik één is, maar dat die wyse waarop aan hierdie eenheid uitdrukking gegee moet word nog onduidelik was (Kerk en samelewing 1990:33). Op 14 April 1994 ontstaan die VGKSA (Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika) as ‘n eerste stap tot eenheid van die hele NG Kerkfamilie (Du Toit 2002:166). By die Algemene Sinode van 1994 word dit goedgekeur dat die NG Kerk met die ander lede van die familie moet saamwerk om een kerkverband daar te stel, maar teen 2002 word die teleurstelling uitgespreek dat min vordering gemaak is met die proses. Dit was grootliks agv spanning en hofsake tussen die VGKSA en die NGKA, onsekerheid of die NGKA wil deel wees van die herenigingsproses en verskille oor die aanvaarding van die Belydenis van Belhar (Agenda van die Algemene Sinode 2002:379-381). In 2004 word ‘n ‘ruim huis’-benadering bepleit waarin plek gemaak word vir almal in die familie ten spyte van die verskille wat bestaan. Die besluite van die Algemene Sinode van 2007 het te doen met die voortsetting van gesprekke, en die Achterberg II-dokumente met aanbevelings omtrent oa. die konfessionele basis (oor die plek van Belhar) en die model vir hereniging (waarin gemeentes as regspersone in sigself hulle verantwoordelikheid en besluitneming behou) word aan gemeentes deurgegee vir bespreking en kommentaar (Kerkorde 2007:139-140). Sedertdien het die proses weereens ‘n verleentheid geword met die opskort van gesprekke deur die VGKSA. ‘n Lang en moeisame pad lê nog voor.

Die konteks van die Nuwe Suid-Afrika daag die kerk uit tot ‘n soeke na nuwe relevansie op polities-kulturele vlak.

Anders as voorheen het Suid-Afrika sedert die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika deel geword van ‘n nuwe tipe orde: dit het sigbaar geword in onder andere ernstige nadenke oor en die daarstelling van ‘n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika asook in ‘n oop en veranderde internasionale orde in wording. In hierdie tyd het daar ‘n groeiende internasionalisering van kennis, tegnologie, kultuur en waardes plaasgevind. Dit lei tot ‘n plurale en pragmatiese samelewing wat ook aan die kerk (die NG Kerk ingeslote) nuwe uitdagings bied. Uit die sake op die NG Kerk se agendas sedert 1990, word die invloed van dié konteks van verandering duidelik. Sake soos Skrifgesag, homoseksualiteit en die kerk se gereformeerde karakter word meer as een keer bespreek. Die Nuwe Hervorming, kerkloosheid, die NG Kerk se identiteitskrisis en tendense in kerkbywoning is onder ernstige bespreking. Oor eietydse kerkwees en die geloofwaardigheid van die kerk word meermale nagedink. Nadenke omtrent die bedreiging wat postmodernisme vir die kerk inhou, beland ook op die agenda van die kerk (Van Zyl 2005:82-83, 87-88). Van Niekerk (2005:7) verwoord die NG Kerk se belewenis in dié era: “Ons beleef ‘n oorgangstyd van...onsekerheid. Terwyl ons sukkel om die apartheidsalbatros af te skud...tref sekularisasie ons samelewing, en worstel ons met die openlike kritiese bevraagtekening van tradisionele geloofswaarhede. Die leierskap moet te midde van hierdie onsekerhede oriëntasie bied en selfs identiteit bemiddel. Intussen ding ons op die godsdiensmark mee ... Geriefshalwe neem talle...ook nie graag standpunt in oor etiese verknorsinge van ons tyd nie.” Die voorkoms van hierdie sake op die agenda van die NG Kerk noodsaak ‘n verdere nadenke oor die konteks waaruit hierdie invloede voortkom.

3.3 Die verandering van wêreldbeskouings (denksisteme) as konteks vir die NG Kerk

Die invloed van die veranderde internasionale orde in Suid-Afrika is vir Smit (2001:121) ook die mees fundamentele rede vir verandering, want die tipiese internasionale [post]modernistiese, sekulêre, pluralitiese invloede is in Suid-Afrika merkbaar. Die uitwerking daarvan kan in die algemeen waargeneem word in die religie en die lewe van die kerk (ook die NG Kerk).

• Globalisasie bring mense in aanraking met ander kulture, godsdienste, wêreldbeskouings en waardes wat lei tot groter verdraagsaamheid vir kulturele en godsdienstige pluraliteit. Pluralisasie se refleksie op absolute oortuigings en waardes lei tot relativisme, aangesien absolutismes gedekonstrueer word tot konteksbepaalde konstruksies. Vir die NG Kerk wat tradisioneel volgens dogmatiese- en etiese absolutes funksioneer, het dit implikasies, aangesien die postmodernisme die relevansie van strukture en instellings wat volgens absolutes funksioneer, uitdaag.

• Die konsep ‘waarheid’ kan ook nie meer in ‘n absolute ontologiese sin beskou word nie. Waarheid as konstruksie staan in noue verband met die waarnemer daarvan en sy konteks. Dié besef lei daartoe dat daar almeer uitgesproke stemme ten opsigte van geldende geloofswaarhede is. Dit het direkte implikasie vir Skrifinterpretasie. Hofmeyr (2002:14,15) wys daarop dat ‘n gebalanseerde gereformeerde Skrifbeskouing ernstig in gedrang gekom het weens die opkoms van hierdie nuwe wêreldbeeld.

• Die dekonstruksie van geldende geloofsdiskoerse kan ontwrigtend en verwarrend wees. Uit 'n hele verskeidenheid van uitsprake van bepaalde kerkleiers en kerkvergaderings in hierdie tyd blyk die kommer hieroor. Ook teen hierdie agtergrond behoort die ontstaan van byvoorbeeld die Evangeliese Inisiatief op 20 Julie 2007 verstaan te word, want dit was ook die bedoeling van die EI om in ‘n gebalanseerde verdraagsaamheid die onrus in die NG Kerk oor die skynbare teologiese krisis aan te spreek, en ook die klassieke hoofstroomteologie te midde van ‘n gesonde verskeidenheid te herbevestig.

• Hoewel die meerdimensionele karakter van ‘waarheid’ vir sommiges negatief is, skep dit positief die ruimte vir alternatiewe formuleringe en standpunte oor God en die religie. Dit bied die agtergrond waarteen die spiritualiteitsdiversiteit binne die NG Kerk verstaan behoort te word - ‘n diversiteit waardeur ‘n groter verskeidenheid behoeftes van lidmate aangespreek kan word.

• Die hedendaagse mens is pragmaties wat hulle toewyding aan bepaalde vaste etiese raamwerke en outoritêre strukture laat taan. Mense se verbintenisse word bepaal deur hulle keuses. Dit ontmagtig die kerk. Dit is waarskynlik hoekom die kerk se sê oor sake soos die huwelikskultuur en homoseksualiteit vir die samelewing daarbuite nie werklik saak maak nie.

Die veranderinge het ook implikasies vir die proses van teologisering, aangesien die teologie immers ook die denke van die tyd reflekteer.

• Hans Küng (1989a:4) werp lig op die algemene toedrag van sake in die teologie: “What is ... happening ... is that one theological ‘paradigm’ ..., is being replaced by another ... [T]he present state of epistemological discussion: a discussion which - after logical positivism and critical rationalism - has entered on a new, third phase.” Hoewel daar soms kontinuïteit tussen teologiese paradigmas bestaan, is daar vandag ‘n diskontinuïteit met die teologiese benaderings van die Reformasie en die Protestantse Ortodoksie (Küng, 1989b:214).

• Teologiese studie is voortdurende in beweging binne ‘n altyd-veranderende samelewing, waarin die historiese en teenswoordige bewussyn verreken word (Gerrish 1989:163). In die proses om hierdie bewustheid te verreken word die historiese bepaaldheid en die relasionele en kontekstuele aard van die teologie uitgewys. Die Protestantse Ortodoksie vind dit vreemd, omdat dit grootliks aan teologiese waarhede dink as geldend ten spyte van die kontekste van die verlede en hede.

• In die postmoderne era is daar ‘n beweging weg van die groter gemeenskap na privatisme (Marty, 1989:199). Die invloed van individualisme werk mee dat die kommunale basis van godsdienstige oortuigings en gedrag bedreig word. Gevolglik raak die taal van die teologie meer subjektief en pluralisties.

• Die nuwe paradigma in die teologie het ‘n bewussyn vir pluralisme, hetsy ‘n bewussyn vir verskeidenheid binne ‘n sekere geloofstradisie (Brauer, 1989:206) of die meerdimensionele karakter van ‘waarheid’. Daar behoort in die kerk algaande vir die konsep ‘geïntegreerde diversiteit’ plek gemaak te word om eenheid te bewerk (Du Toit 2007:110).

• In die postmoderne era is daar ook ‘n oorgang van denominasionaliteit na ekumenisiteit (Moltmann 1989:221). Dit daag die absolutistiese identiteite wat denominasioneel in stand gehou is uit. Die NG Kerk beleef dit omtrent sy gereformeerde identiteit wat uitgedaag word deur die blootstelling aan ander spirtualiteite en teologieë in die ekumeniese era.

• Daar is ook ‘n oorgang van die Eurosentriese era na die era van die mensheid (mensdom) as ‘n geheel (Moltmann (1989:222). Vir die Afrikaner en die NG Kerk is dié skuif moeilik, want kerklik en teologies funksioneer die NG Kerk Eurosentries. Die Christelike geloof het vandag nuwe swaartepunte in Afrika, Latyns-Amerika en Asië en daarmee saam ontwikkel nie-Europese Christelike teologieë. In Suid-Afrika (ingesluit die NG Kerk) is daar veral kontak gemaak met dié teologieë in die vorm van die bevrydingsteologie en die teologie van Swart Inheemse kerke. Die kerke met ‘n begrip vir die beginsels van Afrika kommunalisme het die taak om by te dra tot die noodsaaklike herbesinning en heropbou van norme en waardes wat gebaseer is op en relevant is vir die Afrika-kultuur (Oosthuizen, 1999:165).

• Die effek van sekularisasie en die impak van die postmoderne era laat die vraag ontstaan of godsdiens as sulks nog lewensvatbaar is (Brauer 1989:209). Hoewel die toenemende sekularisasie die invloed van godsdiens in die openbare terrein verminder, bied dit aan godsdienste en die teologie ‘n geweldige uitdaging om opnuut te ontdek wat dit beteken om relevant te wees in die kontemporêre wêreld.

Ook in die Suid-Afrikaanse samelewing sien ons dat die invloed van wêreldwye sekularisasie die behoefte aan die individu se menseregte aanwakker en word die invloed van die kerk op beide mens en instansies kleiner (Hofmeyr 2002:13). In die Nuwe Suid-Afrika beleef die NG Kerk hoe die openbare terrein ongetwyfeld minder gevul word met godsdiens of godsdienstige aansprake. Vir die NG Kerk het dit soms oomblikke van anomie en disoriëntasie gebring. In dieselfde sin beleef die kerk dat die Christelike etiek al minder deel vorm van die burgerlike samelewing. Dit raak die gesins- en gemeenskapslewe asook die geloofwaardigheid van die korporatiewe en kommersiële lewe (Stackhouse 1995:36). Skynbaar is wat die kerk te sê het vir die groter gemeenskap meer en meer irrelevant. Daar is al minder van ‘n basis vir persoonlike gedrag, omdat sekularisasie die hedendaagse mens losgemaak het van vroeëre norme en waardes (baie van hulle Bybels).

In teenstelling met die voorafgaande wys Berger (1999:6-7) op ‘n internasionale verskynsel wat ‘n teen-sekulariserende uitwerking het – desekularisasie. Du Toit (2007:41) identifiseer dit as post-sekularisme. Op internasionale godsdienstige terrein kom bewegings na vore wat ál meer konserwatief of ortodoks is. Kenmerkend aan die verskynsel is ‘n groot godsdienstige ywer, die trotsering van die heersende tydsgees (wat mense se sekerhede ondermyn) en ‘n terugkeer na die gesag van godsdienstige oortuigings wat tradisioneel gegeld het. Berger (1999:8) identifiseer die oplewing in die Evangeliese (lees ook Protestantse [König 1998:78]) kerklike tradisie as deel van hierdie verskynsel. Hoewel die grootste oplewing in die Pentekontalisme is, voeg Martin (1999:38) by dat daar ook baie ‘hernuwing’ plaasvind in die ouer, hoofstroom ‘Evangelicalism’ (‘n tradisie waarbinne die NG Kerk ook val). Hy bevestig dit dat die proses van sekularisasie nie die einde van godsdienstigheid gebring het nie. Hoewel die kerk in baie samelewings ‘n subkultuur geword het, het die samelewing steeds sterk religieuse ondertone (Du Toit 2007:41) en is daar steeds geleentheid vir die godsdiens as hoofdraer van etiese waardes om op ‘n manier sy invloed te laat geld, ten spyte van ‘n omgewing wat deesdae soms vyandig is (Stackhouse 1995:33).

Nog een saak wat deur die teenswoordige konteks aan die orde gestel word, handel omtrent kerkwees in die verbruikersamelewing. Agv die invloed van die Westerse ontwikkelingsdenke (par 2.3) word die hedendaagse samelewing gekenmerk deur veral twee realiteite: die akkumulasie van rykdom en mag en die uitruiling van kommoditeite (Robert Heilbroner soos aangehaal deur Meeks, 1996:254). Besigheidsbelange word bepaal deur die vinnig-veranderende voorkeure en behoeftes van mense. Hierdie behoeftes en voorkeure word selfs bepalend vir die sfere waarin sosiale goedere versprei (Stackhouse 1995:31). Dit impliseer dat ‘n organisasie soos die kerk geabsorbeer word deur die logika van die mark of verbruikersamelewing (Meeks, 1996:255). Die kerk se rol raak gevolglik verwring: “Selfs kerke word...effektiewe bemarkers van geestelike verbruikerskommoditeite en dienste” (Van der Walt 1999:114). Die pluralistiese situasie vandag veroorsaak dat daar ‘n wedywering tussen verskillende religieuse realiteite is. Die bevrediging van ‘geestelike’ behoeftes word ‘n kragtige dryfveer en die kerk se sukses word gemeet aan die mate waarin die individu optimaal bevredig voel. Die Algemene Sinode van 2004 besluit die volgende omtrent die aangeleentheid: “Die Algemene Sinode gee opdrag aan die Diensgroep vir Gemeente-en-Bedieninge om ondersoek in te stel na die verskynsel wat in gemeenskappe voorkom dat lidmate van NG gemeentes bedieningstyle in ander kerke aantreklik vind.” (Handelinge van die Algemene Sinode 2004:443). In die verrekening van hierdie tendens word daar gevra watter behoeftes van lidmate erken moet word en wat die NG Kerk kan doen om self hierdie behoeftes aan te spreek. Dit is tipiese taal van die verbruikersamelewing en dit blyk dat die NG Kerk in hierdie opsig uitgelewer staan voor die eise en dryfvere van die verbruikersamelewing.

3.4 Slot: 'n Era van verandering in die NG Kerk sedert 1990

Daar is ‘n relasie tussen die geskiedenis van die NG Kerk en dié van die breër Suid-Afrikaanse samelewing. Die kerk staan nie los van die ruimte en die tyd waarin dit bestaan nie. Wat die polities-kulturele situasie betref, is aangedui dat die NG Kerk en die apartheidsregering intiem betrokke was by mekaar en dat die wedersydse beïnvloeding daartoe bygedra het dat die apartheidsteologie ontwikkel het. Resente veranderinge veral sedert 1990 op polities-kulturele gebied het ook ‘n era van verdere transformasie vir die NG Kerk ingelui ten opsigte van sy polities-kulturele rol in Suid-Afrika.

Transformasie in die NG Kerk is egter nie alleen op polities-kulturele gebied nie, maar hou ook verband met die interne kerklike situasie soos die kerk se identiteit, sy teologisering, sy rol in die samelewing, eietydse kerkwees en so meer. Baie van die veranderinge is vervleg met die tydsgees wat deur ‘n verandering van wêreldbeskouings (paradigmas) as denksisteme gekenmerk word. Suid-Afrika beleef ook die effek van wêreldwye prosesse van transformasie as gevolg van die invloed van die postmoderne denksisteem. Op kerklike terrein werk hierdie invloed mee tot onder meer die relativering en dekonstruksie van geloofswaarhede asook verskuiwings in die teologiseringsproses. Sekularisasie en die marksamelewing bied geweldige uitdagings aan die kerk.

4. SLOT

Die somtotaal van dit wat bespreek is in hierdie artikel, werk vormend in op die selfverstaan van die NG Kerk. Die begrip wat die kerk vir die betekenis van hierdie gebeure toon, sal mede bepaal waartoe die NG Kerk in die toekoms verander.

BIBLIOGRAFIE

Agenda van die elfde sitting van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 13-19 Oktober 2002.

BERGER, P.L. 1999. The desecularization of the world: a global overview. (In Berger, P.L., ed. The desecularization of the world: resurgent religion and world politics. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Company. p. 1-18.)

BOSHOFF, H. 1995. Die kerk in die nuwe Suid-Afrika. Potchefstroom.

BRAUER, J. 1989. A paradigm for theology? Introductory remarks. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 205-211.)

Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2007. Saamgestel deur die Algemene Taakspan Regte van die Algemene Sinode. Wellington : Bybelmedia.

DURAND, J. 2002. Ontluisterde wêreld: Die Afrikaner en sy kerk in ‘n veranderde Suid-Afrika. Wellington : Lux Verbi.BM.

DU TOIT, C. 1999. The quest for African identity and the concept of nation-building as motives in the reconstruction of South African society. (In Walsh T.G. & Kaufmann F., eds. Religion and social transformation in South Africa. St Paul, MN : Paragon House. p. 1-23.)

DU TOIT, P.R. 2002. Die NG Kerk en sy familieverhoudinge. (In Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ‘n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein : Barnabas. p. 131-180.)

DU TOIT, C.W. 2007. Seasons in theology. Inroads of postmodernism, reference and representation. Pretoria : Research Institute for Theology and Religion, UNISA.

GAUM, F.M. 1981. Die kerk en die toekoms van Suid-Afrika. Pretoria : NG Kerkboekhandel Transvaal.

GAUM, F.M., samesteller. 1997. Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid 1960-1994. Wellington : Hugenote-Uitgewers (Algemene Sinodale Kommissie).

GAUM, F.M. 2002. 1990. Belydenis, vergifnis en versoening by Rustenburg. (In Hofmeyr G., red. NG Kerk 350 - Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-2002. Wellington : Lux Verbi.BM. p. 218-219.)

GERRISH, B. 1989. From ‘Dogmatik’ to ‘Glaubenslehre’: A paradigm change in modern theology? (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 161-173.)

GRUNDLINGH, A. 2001. Die Anglo-Boereoorlog in die bewussyn van 20ste-eeuse Afrikaners. (In Pretorius, F., red. Verskroeide aarde. Kaapstad : Human & Rousseau (Edms.) Bpk. p. 242-265.)

Handelinge van die agtste Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Bloemfontein. 16-25 Oktober 1990. (p. 457-748.)

Handelinge van die negende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 11-20 Oktober 1994. (p. 347-609.)

Handelinge van die elfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria. 13-19 Oktober 2002. (p. 447-636.)

Handelinge van die twaalfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos. 10-15 Oktober 2004. (p. 270-452.)

HEUVEL, M.C. 1999. Rebuilding our nation - Participating in the political process from the perspective of a Biblical Christian worldview. Potchefstroom. (Series F2: Brochures of the Institute for Reformational Studies, 1999:71.)

HEYNS, J.A. 1969. Sterwende Christendom? Kaapstad : Tafelberg-Uitgewers.

HOFMEYR, J.W., 2002. Die NG Kerk en kerkwees in ons tyd. (In Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ‘n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein : Barnabas. p. 1-50.)

JANSE VAN RENSBURG, J. 2000. The paradigm shift. An introduction to postmodern thought and its implications for theology. Pretoria : Van Schaik Publishers.

Kerk en samelewing 1990: ‘n Getuienis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 1990. Uitgegee deur Algemene Sinodale Kommissie. Bloemfontein : N.G. Sendingpers.

KINGHORN, J. 1986a. Vormende faktore. (In Kinghorn, J., red. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg : Macmillan Uitgewers (Edms.) Bpk. p. 47-69.)

KINGHORN, J. 1986b. Konsolidasie, rasionalisasie en dogmatisering. (In Kinghorn, J., red. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg : Macmillan Uitgewers (Edms.) Bpk. p. 117-143.)

KÖNIG, A. 1998. Vernuwe of verdwyn. Kaapstad : Lux Verbi.

KÜNG, H. 1989a. Paradigm change in theology: a proposal for discussion. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 3-33.)

KÜNG, H. 1989b. What does a change in paradigm mean? (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology –A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 212-219.)

LYOTARD, J. 2004. The postmodern condition: a report on knowledge. (In Drolet, M., ed. The postmodernism reader. Foundational texts. London : Routledge. p. 123-146.)

LUBBE, J.J. 2001. A tale of fear and faith. (In Hofmeyr, J.W., Lombaard, C.J.S. & Maritz, P.J., eds. Perspectives on Christianity: 1948 plus fifty years. Theology, Apartheid and Church: Past, Present and Future. Pretoria. p. 29-50. (Series 5, Volume 1: Institute for Missiological and Ecumenical Research.)

MARTIN, D. 1999. The Evangelical upsurge and its political implications. (In Berger, P.L., ed. The desecularization of the world: resurgent religion and world politics. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Company. p. 37-49.)

MARTY, M.E. 1989. The social context of the modern paradigm in theology: a church historian’s view. (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future). New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 174-201.)

MEEKS, M.D. 1996. The future of theology in a commodity society. (In Volf, M., Krieg, C. & Kucharz, T., eds. The future of theology. Grand Rapids, MI : Eerdmans Publishing Co. p. 253-266.)

MIDDLETON, J.R. & WALSH, B.J. 1995. Truth is stranger than it used to be. Biblical faith in a postmodern age. Downers Grove IL : Intervarsity Press.

MOLTMANN, J. 1989. Theology in transition - to what? (In Küng, H. & Tracy, D., eds. Paradigm change in theology - A symposium for the future. New York, NY : The Crossroad Publishing Company. p. 220-225.)

MOODIE, T.D. 1975. The rise of Afrikanerdom. Power, apartheid, and the Afrikaner Civil Religion. Berkeley, CA : University of California Press.

OLIVIER, A.R. 2002. Derde era: 1902-1961. (In Hofmeyr G., red. NG Kerk 350 – Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652-2002. Wellington : Lux Verbi.BM. p. 158-159.)

OOSTHUIZEN, G.C. 1999. Indigenous Christianity and the future of the Church in South Africa. (In Walsh T.G. & Kaufmann F., eds. Religion and social transformation in South Africa. St Paul, MN : Paragon House. p. 157-173.)

OOSTHUIZEN, J. 2007. NGK gons oor teologiese strominge. Kerkbode:7, Aug. 10.

Ras, Volk en Nasie en Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif. 1975. Kaapstad : NG Kerk-Uitgewers.

ROSSOUW, G.J. 2001. Essentials of apartheid. (In Hofmeyr, J.W., Lombaard, C.J.S. & Maritz, P.J., eds. Perspectives on Christianity: 1948 plus fifty years. Theology, Apartheid and Church: Past, Present and Future). Pretoria. p. 88-104. (Series 5, Volume 1: Institute for Missiological and Ecumenical Research.)

SMIT, D.J. 2001. Has there been any change? On the role of the Dutch Reformed Church 1974-1990. Scriptura, 76:119-126.

STACKHOUSE, M.L. 1995. Christian social ethics in a global era: Reforming Protestant views. (In Stackhouse, M.L., ed. Christian social ethics in a global. Nashville TN : Abingdon Press. p. 11-73.)

VAN DER MERWE, J.M., 2002. Die NG Kerk en die samelewing. (In Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ‘n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein : Barnabas. p. 51-130.)

VAN DER WALT, B.J. 1999. Godsdiens en samelewing - Christelike betrokkenheid op die markplein. Potchefstroom. (Reeks F3: Versamelwerke van die Instituut vir Reformatoriese Studie, 1999:51.)

VAN NIEKERK, A. 2005. Vrye Afrikaan slaan hard. Begriplose kritiek. Kerkbode:7, Sept. 9.

VAN ZYL, A.M. 2005. Die transformasie van die NG Kerk in die eerste dekade van Demokrasie (1994-2004). Pretoria : Universiteit van Pretoria. (Skripsie - M.Div.)

WESSELS, A. 2001. Die oorlog se bose kringloop. (In Pretorius, F., red. Verskroeide aarde. Kaapstad : Human & Rousseau (Edms.) Bpk. p. 254-257.)

WIECHERS, M. 1986. Die juridiese profiel van apartheid. (In Kinghorn, J., red. Die NG Kerk en Apartheid. Johannesburg: Macmillan Uitgewers (Edms.) Bpk. p. 7-17.)

KEY WORDS

Social Change, Apartheid collectivism, African communalism, Western individualism, Postmodern paradigm, Secularisation, Changes in NG Church

TREFWOORDE

Sosiale Verandering, Apartheidskollektivisme, Afrika kommunalisme, Westerse individualisme, Post-moderne paradigma, Sekularisasie, Veranderinge in NG Kerk

KONTAK BESONDERHEDE

Ds P(Pieter) Kruger

Posbus 570

1490 NIGEL

011 814 4848

082 686 9217

E-posadres: pkkruger@telkomsa.net

Prof JW(Hoffie) Hofmeyr

Universiteit Vrystaat

Posbus 339

9300 BLOEMFONTEIN

E-posadres: linhof@mweb.co.za

1 Artikel gebaseer op 'n hoofstuk uit 'n MA-verhandeling(Teologie) by UP(2008) getitel “’n Dowwe spieël: ’n Kerkhistoriese ondersoek na die resente stand van die NG Kerk, 1990-2006” en ingedien deur ds P Kruger onder die studieleiding van prof JW Hofmeyr.