Die AGS-lidmaat se rolverwagtinge van sy/haar pastor: 'n beskrywende ondersoek
ABSTRACT
AFS members' role expectations of the pastor: a descriptive investigation
In this article, the focus will be on the findings of a qualitative research investigation (Putter 2006) of the role expectations of the AFM pastor and a literature study of theological training. It will probably show how joint progress towards components for continued theological training can be made. Training for the Apostolic Faith Mission (AFM) pastor for admission to the ministry varies from a one-year certificate to an honours degree in Theology, offered at various institutions. During the General Business Meeting of the AFM in 2008, constitutional amendments were approved that pave the way for having only one institution for theological training in the church. The new theological institution faces a major challenge, namely that of establishing relevant theological training, in order to avert the danger of being identified as an elitist, irrelevant work group, with its own pastor’s language that is understood only by a small group of insiders.
1. INLEIDING
Tydens die Apostoliese Geloof Sending (hierna die AGS) se Algemene Besigheid Vergadering in Mei 2008 is daar uitgewys dat eenheid tussen die AGS se verskillende teologiese instellings nog nie bereik is nie. Neels Jackson meld:
“Te midde van harde woorde wat geval het, het die AGS grondwetlike wysigings goedgekeur wat die weg baan dat daar vanaf 2009 af net een instelling vir teologiese opleiding in die kerk sal wees. Die AGS het vroeër uit verskillende rasgegronde afdelings bestaan, maar dié het in 1996 verenig. Die verskillende teologiese kolleges wat die verskillende afdelings bedien het, het egter bly voortbestaan (Beeld 27 Mei 2008 p 13).
Verder is tydens die vergadering aangehoor dat 'n operasionele plan vir teologiese opleiding in 2009 nog nie in plek gebring is nie. Dit bring mee dat teologiese opleiding binne die AGS in 2009 'n onsekere roete gaan word. Die belangrikheid om bestaande kursusmateriaal te evalueer en aan te pas word al hoe meer belangrik aangesien teologiese opleiding wêreldwyd in 'n krisis verkeer (Maré 2005:432). Uit Europa word gereeld verneem van akademiese poste wat nie meer gevul word nie, en van teologiese fakulteite wat ter wille van oorlewering saamsmelt of andersins, sluit (Joubert 2001:192).
In die artikel gaan die bevindinge van 'n navorsingsondersoek (Putter 2006) wat oor die rolverwagtinge van die pastor handel en 'n literatuurkontrole oor teologiese opleiding, kursories onder die loep geneem word. Uit dié ondersoek kan sinvolle en bruikbare komponente vir voortgesette teologiese opleiding verkry word.
2. NAVORSINGSONTWERP
'n Deel van die AGS-lidmate is deur die AGS-hoofkantoor geselekteer as verteenwoordigers van die breër AGS om aan die navorsingsondersoek deel te neem (Holliday 2002:5; Burns & Grove 1993:58). Hulle is doelgerig geselekteer om aan die navorsingsvereistes te voldoen en die nodige inligting te verskaf ten opsigte van die rolverwagtinge wat van die pastor gekoester word (Creswell 1994:148). Deelnemers is uit die volgende groeperinge geselekteer: getroudes, tieners, senior burgers, leiers en nie-aktiewe lidmate sowel as voltydse pastors. Met behulp van die AGS-hoofkantoor is werkswinkels reg oor die land gehou. Dié werkswinkels was verteenwoordigend van al die gemeentes, ongeag verskille in kultuur, taal en ekonomiese omstandighede, en het sowel plattelandse as stedelike gemeentes ingesluit (Holliday 2002:41; Mouton 1996:135). By al die werkswinkels is die ses kriteria gehandhaaf waaraan deelnemers aan die ondersoek, moet voldoen (Van Kraam in Polkinghorne 1989). Hierdie kriteria is die volgende:
• Die vermoë om hulself verbaal met relatiewe gemak uit te druk
• Die vermoë om emosies sonder inhibisie te ervaar en uit te druk
• Die vermoë om die fisiese belewenis wat die emosies vergesel te ervaar en uit te druk
• Die vermoë om te rapporteer of neer te skryf wat hulle ondervind
• 'n Spontane belangstelling in hul belewenis
• Bestudering van ’n redelik onlangse situasie
Verder het al die deelnemers aan die ondersoek, nadat hulle ingelig is oor die aard en doel van die ondersoek, en verseker is dat alle inligting en hul identiteit as vertroulik beskou sal word ( Lincoln & Guba 1985:192; Creswell 1994:147-148), hul name op 'n presensielys aangeteken ten einde skriftelik toestemming te verleen dat inligting vir navorsing gebruik mag word.
Die volgende kommunikasietegnieke is tydens die gesprekvoering gebruik:
• Refleksie van inhoud: Die navorser kommunikeer aan die deelnemers hoe hulle persepsies, ervarings en gevoelens neergeskryf kan word.
• Parafrasering: Die navorser herformuleer 'n stelling wat die deelnemers gemaak het, om duidelikheid te kry wanneer deelnemers se response vaag, onduidelik of verwarrend is.
• Opsomming: Wanneer alle klein groepies aan die einde van die verrigtinge saam as een groot groep bymekaar kom, word terugvoering aan die deelnemers gegee oor die algemene inhoud of van 'n gedeelte van die groepe se besprekings.
• Versoek om voorbeelde en beskrywings: Die deelnemers word gelei om hul belewenis van die pastor se rolverwagtinge binne die bediening te beskryf.
Die vraag: “Wat is die rolverwagtinge van die AGS-pastor?” is tydens al die werkswinkels gevra. Tydens die werkswinkels is deelnemers aangemoedig om alles moontlik te noem wat na hul mening die rolverwagtinge van die pastor behels, omdat geen inligting verlore moes raak nie. Verder is veldnotas deur middel van sleutelwoorde en -frases gemaak om waarnemings aan te teken. Die aantekeninge is later breedvoerig ingevul (Knafl & Breitmayer 1989:434-436).
Die navorser kon niks tydens die ondersoek toevoeg, weglaat, verdraai of verwring nie, maar slegs die ondersoek fasiliteer. 'n Objektiewe benadering is sover moontlik gehandhaaf. Die inligting wat uit die werkswinkels verkry is, is volgens Tesch (Creswell 1994:154) se beskrywende metode van analise verwerk. 'n Kundige op die terrein van sowel die teologie as kwalitatiewe navorsing is as onafhanklike kodeerder aangestel. Nadat die gesprekke getranskribeer en gekodeer is, is 'n protokol vir die analise van die data aan die onafhanklike kodeerder verskaf. Sy het die data onafhanklik gekategoriseer en gekodeer, waarna sy die inligting vanuit 'n teologiese agtergrond met die navorser bespreek en saamgestel het sodat dit deur 'n eksterne kodeerder nagesien kon word om die betroubaarheid (Krefting 1991:217) van die data te kontroleer. Verskeie konsensusgesprekke tussen die navorser en die eksterne kodeerder het daarna gevolg en die finale en subkategorieë is geïdentifiseer.
3. LITERATUURKONTROLE
Die navorsingsondersoek is by wyse van 'n Iiteratuurkontrole met relevante navorsingsbevindings en literatuur aangaande teologiese opleiding nagegaan om verskille, ooreenkomste, en unieke bydraes te identifiseer. Die navorsing van Basson (1999), De Kok (2001), Gibbs & Coffey (2001), Nel (2002), Maré (2003) en Hattingh (2005) is in detail ondersoek. Barna (1993; 1998), Malpkurs (1999), Placher (2004) het ook relevante kommentaar gelewer oor enkele aspekte van teologiese opleiding en het kortliks ter sprake gekom.
4. BEVINDINGE VAN DIE NAVORSINGSONDERSOEK EN DIE LITERATUURSTUDIE
Hier volg 'n opsomming van die hoof- en subkategorieë van die data vanuit die navorsingsondersoek (Putter 2006:88-110).
4.1. Persoonlike kenmerke en deugde van die pastor vir effektiewe rolfunksionering
Daar was 'n duidelike verwagting tydens al die werkswinkels dat pastors Godvresende persone sal wees wat 'n persoonlike verhouding met God nastreef. Hierdie persoonlike verhouding word onder andere ontwikkel wanneer die pastor deurlopend tyd aan gebed en Bybelstudie afstaan. 'n Uitgebreide kennis van die Bybel word as belangrik beskou sodat pastors se verhouding met God deurlopend kan groei, toeneem en verdiep. De Kok (2001:118) verklaar hieroor dat wanneer pastors se Bybelkennis toeneem, hulle beter in staat sal wees om onder die leiding van die Heilige Gees hul gemeentes, gesinne en die mense in die gemeenskap te kan leer. Pastors sal dan ook in staat wees om hulself beter te kan leer (Kruger & Venter 2002:350). Larsen (1995:79) wys uit dat: “the average pastor in the USA spends a third of his time on Bible study and prayers”. Sy navorsing (1995:30) wys verder dat 71,8% van die respondente verwag dat pastors daagliks hul gebed en Bybelstudiemetodes moet ontwikkel. Hierdie gevoel word ook in Suid-Afrika ondersteun. Volgens Clark (2000:6) moet pastors Bybelkennis deurlopend toepas en ontwikkel, sodat hulle effektief toegerus kan bly funksioneer. De Kok (2001:90) brei verder soos volg hierop uit:
“There should be no area of Bible knowledge that is neglected in training. I think that more research could be done in this area and the relationship between mastering Biblical knowledge and the relevant skill. Knowledge of the Bible also comprises the understanding of the scriptures. The scriptures are understood by exegesis, background, introductions and the comprehension of Biblical Greek and Hebrew”.
Dit was vir die deelnemers duidelik dat die pastor se verhouding met God verder kan ontwikkel namate pastors voortbou op 'n teologiese fondament wat deur die Bybelskool/Kollege of Universiteit gelê is. Deelnemers het uitgewys dat pastors te alle tye vertrouenswaardig moet wees en respek afdwing. Die deugde waaroor 'n pastor moet beskik (respek, integriteit, eerlikheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en betroubaarheid) moet deur evaluering en toetsing gemonitor word (Nel 2002:158-162), wat daartoe kan lei dat die gemeente en die pastor mekaar se vordering en vooruitgang gereeld monitor en evalueer (Placher 2004:10). Dit kan ook gebeur dat teologiese seminariums in samewerking met gemeentes aan nuwe voorstelle werk ten einde die pastor beter te kan begelei om bogenoemde deugde te ontwikkel. Maré (2003:112) wys ook op die belangrikheid van 'n toetsinstrument wat teologiese seminariums kan gebruik om studente/pastors se geestelike toestand te monitor.
Die druk wat op pastors geplaas word om as rolmodel te kan funksioneer kan as positief benader word. Nel (2002:157) noem juis in hierdie verband dat pastors wat weet dat hulle geroepe is, ook weet wat die beroep inhou en watter eise die beroep stel. Deelnemers sien op na pastors, omdat hulle glo dat mense te midde van die gebrokenheid en hartseer van die wêreld nie soos gewonde diere wil funksioneer nie, maar pastors as ”wounded healers” wil ervaar wat vir hulle hoop en uitkoms bring (Nel 2002:155). Ten einde as 'n effektiewe rolmodel te kan funksioneer, plaas die deelnemers 'n hoë premie op die ontwikkeling van pastors se verhoudingsvaardighede. Weese (in Morgan & Giles 1994:7) meld dat pastors in die VSA verhoudingsvaardighede as die topvaardigheid beskou. Die belangrikheid om aan hierdie vaardigheid deurlopende aandag te skenk word toenemend genoem. Nel (2002:160) verklaar dat die pastor in 'n mens-beroep staan, en mens-beroepe in diens van God vra na mense wat met ander mense kan werk.
Deelnemers verwag dat pastors op hoogte van die hedendaagse dilemmas moet wees en dat hulle relevant en goed ingelig oor die veranderinge wat plaasvind, moet funksioneer. Om dit te kan doen, word verwag dat pastors self bereid sal wees om te verander en om sekere aanpassings te maak ten einde beter toegerus te word. In gesprekke met pastors is uitgewys dat daar onkunde en vrese by hulle heers oor die ‘hoe’ van die pastoraat en hoe om dit met groter effektiwiteit te kan hanteer. Volgens deelnemers is dit belangrik dat pastors ekstra bekwaam moet wees. In sommige gevalle word daar na 'n ‘sesde sintuig’ verwys. Clarke (2000:5) noem dat lidmate verwag dat pastors hul intellektuele, geestelike en fisiese behoeftes deurlopend moet verstaan en daaraan aandag gee. De Kok glo (2001:120) dat pastors mense met hul spesifieke behoeftes kan help, maar dat dit slegs moontlik is wanneer pastors hul toewyding aan God en Bybelstudie en gebed as hoogste prioriteit beskou.
4.2 Interpersoonlike vaardighede waaroor die pastor moet beskik
4.2.1 Kommunikasievaardighede
Deelnemers is van mening dat indien die pastor beter ingelig kan word oor effektiewe kommunikasietegnieke om aan die jeug, senior burgers, getroude groepe, leierskapsgroepe en selfs die nie-aktiewe lidmate se belange te voldoen, kan dit lei tot spontane en gesonde wisselwerking tussen die betrokke partye. Volgens die deelnemers is kommunikasievaardighede ook vir die pastor onontbeerlik (De Kok 2001:119). Deelnemers het verder 'n duidelike aanduiding gegee dat pastors die sleutel is tot samewerking tussen verskillende generasies en die vermoë om die uitdagings van die lewe beter die hoof te kan bied. Verder word daar verwag dat pastors in voeling moet wees met die veranderinge waardeur die gemeente en gemeenskap gaan en dat hulle moet weet wat om in verband daarmee te doen. Dit beteken dat die pastor beter toegerus sal moet word om al hierdie toenemende uitdagings te bowe te kom en effektief te funksioneer. Dit gaan daaroor dat die pastor ook deurlopend bevoeg sal wees om effektief met lidmate te kommunikeer oor sekere rolverwagtinge (wat aan lidmate toevertrou kan word), sodat die pastor nie al die verantwoordelikhede van gemeentewerk op homself hoef te neem nie. Die aanleer van sekere kommunikasievaardighede strek dus veel verder, want dit gaan ook per slot van rekening daaroor dat die pastor lidmate moet kan toerus, sodat hulle na volwassenheid in Christus gelei kan word. Die belangrikheid van kommunikasievaardighede blyk verder ook uit die feit dat die sukses van die pastor se uitlewing van sy rol as visionêre leier, volgens deelnemers, bepaal word deur die effektiwiteit van sy kommunikasie met die gemeente. Effektiewe kommunikasie impliseer vir die deelnemers dat die pastor, as visionêre leier, sy rigting- en leidinggewing in gemeenteverband duidelik en verstaanbaar uiteensit. Kommunikasievaardighede verdien dus die hoogste prioriteit, want dit behels ook onder andere prediking, berading en gemeentebestuur. Aangesien kommunikasievaardighede soveel fasette van die pastoraat raak, moet dit deel uitmaak van die minimum toerusting waaroor 'n pastor moet beskik.
4.2.2 Konflikhanterings- en mediasievaardighede
Een van die groot behoeftes wat die deelnemers geïdentifiseer het, was dat pastors oor goeie konflikhanterings- en mediasievaardighede moet beskik. Aangesien die wêreld en die omgewing waarbinne mense woon al hoe vyandiger teenoor die Christendom staan (Sweet 1999:49), moet die pastor mense leer om die toenemende konfliksituasies beter te kan hanteer, op te los en te bestuur. Konfliksituasies is verder aan die toeneem vanweë stygende armoede, werkloosheid, die bedreiging van 'n patriargale familie, die wegsterf van die volkstaat en die krisis van demokrasie (Hendriks 2004:122-125). Dit beteken dat die pastor toenemend in 'n situasie verkeer waar hy met bogenoemde vaardighede toegerus moet wees. Die rolverwagtinge wat lidmate van pastors koester, bring mee dat pastors ook van tyd tot tyd persoonlike konfliksituasies ervaar en 'n onvermoë toon om dit self op te los. In die komplekse verhouding tussen pastor en lidmaat kan sake, volgens die deelnemers maklik skeef loop omdat die pastor se gedrag grootliks bepaal watter mate van lojaliteit die lidmate sal openbaar. Swak verhoudings tussen pastors en lidmate lei tot ’n kritiese houding en soms openlike konflik. Soms ervaar pastors verwerping deur die gemeente - met ernstige gevolge vir albei partye. Die deelnemers is dit eens dat pastors wat oor goeie konflikhanterings- en mediasievaardighede beskik ook as effektiewe mentors, vertrouelinge en spanlede funksioneer.
4.2.3 Effektiewe besluitnemingsvaardighede
Deelnemers wil sien dat alle besluite wat die pastor neem tot die vooruitgang en vordering van die Koninkryk moet lei en verwag dat die pastor oor effektiewe besluitnemingsvaardighede moet beskik. Gibbs & Coffey (2001:108-109) wys daarop hoe belangrik dit vir die pastor is om deurlopend ingelig te funksioneer en te weet watter bedienings-‘hoed’ in 'n gegewe situasie gedra moet word. Ten einde die ‘hoed’ van effektiewe pastorale versorger, prediker, onderwyser, evangelis, leier ensovoorts te dra, behels dat die pastor deurlopend oor effektiewe besluitnemingsvaardighede moet beskik. Aangesien pastors in 'n hoërisiko-beroepsgroep funksioneer, kan sekere stresverwante siektes veroorsaak word vanweë spanning wat ontstaan wanneer pastors 'n onvermoë toon om die regte besluite te neem (Carstens 1999:468).
4.2.4 Organisasievaardighede
Deelnemers verwag van pastors om, as goeie organiseerders, projekte te loods wat 'n verskil kan maak. Sulke projekte is onder andere gemeenskapuitreikings en huwelikseminare. Deelnemers is dit eens dat pastors wat goeie organiseerders is ook as effektiewe pastors sal funksioneer (Maré 2005:442). Deelnemers wil sien dat die projekte wat pastors loods nie net beplan en gereël sal word nie, maar dat die uitvoering daarvan glad en effektief sal verloop.
4.3 Die hoofrolle wat die pastor vervul
4.3.1 Prediker
Volgens die deelnemers moet pastors se prediking relevant, effektief en verstaanbaar aangebied word, sodat alle ouderdomsgroepe met die prediking kan identifiseer. Daar rus dus 'n baie groot verantwoordelikheid op die pastor om toe te sien dat die prediking tot die toehoorder sal spreek.
Volgens deelnemers moet pastors die probleme van die hedendaagse tye ken, daarmee kan identifiseer en dit in die prediking kan behandel, sodat mense voel dat iets aan hul holistiese nood gedoen word deurdat hulle moed ingepraat word en die versekering kry dat daar hoop is (Adams 1973:171). Deelnemers is dit eens dat die pastor as prediker hulle tot 'n nuwe optrede moet lei. Long (1971:25) beskryf die saak van die kant van die prediker: hy wil graag ná die preek verneem of die preek die hoorders iets geleer het, of dit hulle geraak het en of hulle van plan is om daarop te reageer. In hierdie verband meld Vos (1996:148) dat die pastor as prediker met oorredende kommunikasie die hoorder op intellektuele, emosionele en konatiewe vlak tot verstaan en instemming van sy rede sal moet lei. Die pastor behoort dus die toehoorder te oortuig dat die nuwe manier van doen beter as die oue is en, indien hy dit wel gaan gehoorsaam, hy daaruit gaan voordeel trek. Nooit is daar sprake van dwang nie, maar 'n oortuiging wat lei tot positiewe reaksie. Die preek se oogmerk is om hoorders tot geloofshandelinge te motiveer, te inspireer en te aktiveer (Vos 1996:150). Volgens die deelnemers moet pastors as goed ingeligte predikers deeglike eksegese doen. Cohn-Sherbok (1991:72) stel dit so: “Not only must pastors have a knowledge of the content of the scripture; they must also be able to interpret the content and apply it today. Thorough exegesis of the Bible then also leads to a knowledge of the Bible”. Heitink (1993:159-163) bevestig dié gedagte en verklaar dat prediking ten doel het om die mens te beïnvloed en te verander - sy lewe, situasies en keuses. Johann Symington (Beeld 27 September 2006 p. 7) meld dat wanneer 'n prediker op die preekstoel klim moet hy nie net die uitlêer van 'n Boek wees wat 'n droë preek bring nie. Hy moet 'n towenaar wees. Hy moet mense laat proe hoe soet God is. Predikers moet op kreatiewe en verbeeldingryke maniere oor God praat. Hedendaagse mense leef in 'n materiële paradys, maar hulle is ongelukkiger en eensamer as ooit. Hulle besef al hoe meer dat geld hulle nie gelukkig kan maak nie. Juis in hierdie omstandighede behoort die prediker met mense oor God te praat. Kerke blom daar waar die hoofsaak is dat 'n ontmoeting met God sal plaasvind. Vir deelnemers was dit 'n uitgemaakte saak dat die Woordbediening die primêre roeping van die pastor is (Vorster 1998:22). Die Bybel se boodskap en inhoud, die verhale en die uiteinde van die verhale toon duidelik dat die Woordbediening as die belangrikste wyse van toerusting beskou word (Leith 1990:206). Aangesien die deelnemers uitgewys het hoeveel fasette van die totale mens se bestaan deur prediking beïnvloed word, behoort die pastor deurlopend toegerus te word ten einde effektief in daardie rolverwagting te kan funksioneer.
4.3.2 Kerkleier
Al die deelnemers het saamgestem dat die pastor as 'n uitmuntende leier van 'n gesin, gemeente en gemeenskap moet funksioneer. Hierdie kernbehoefte dui daarop dat die pastor deurlopend die waarde van goeie leierseienskappe moet ontwikkel en dit nie moet beskou as 'n posisie wat beklee word nie. Gibbs & Coffey (2001:113) voer aan dat 'n leier, nie iemand is wat 'n amp beklee nie, maar iemand wat die gawe van leierskap deurlopend ontwikkel. Vir die deelnemers is dit belangrik dat leierskapsontwikkeling nie agterweë gelaat moet word nie, maar dat dit 'n baie belangrike bestanddeel van die pastoraat moet uitmaak (George 1994:299). Dit was daarom duidelik vir die deelnemers dat pastors net mense se leierseienskappe kan ontwikkel tot op die vlak wat hulle eie leierseienskappe ontwikkel is. Ten einde lidmate beter te kan toerus, moet pastors self deurlopend as leiers toegerus word om effektief binne hulle hoofrolle te funksioneer.
Aangesien deelnemers toenemend die waarde van opleiding in kerkleierskap insien, behoort teologiese instellings hiervan kennis te neem. Die motivering daarvoor is dat deelnemende pastors gemeld het dat hulle weinig opleiding in kerkleierskap ontvang het. Vele pastors wêreldwyd het dit ook al ervaar (Malphurs 1999:13; Barna 1993:146). Deelnemers het uitgewys dat die pastor se sukses as effektiewe kommunikeerder afhang van hoe sterk daar in leierskapsontwikkeling gevorder is (Anderson 1992:46). Deelnemers sien ook die pastor, in sy leierskapsrol, as die persoon verantwoordelik vir die gemeente se algemene beplanning, organisasie en finansiële situasie. Daarbenewens is die pastor ook verantwoordelik vir die geestelike koers wat die gemeente inslaan en moet hy prediking, lering, berading en pastorale sorg aanwend as hulpmiddelle om die geestelike rigting van die gemeente aan te dui. Hierdie verwagtinge van die deelnemers dat die pastor as 'n sterk geestelike leier moet funksioneer, bring mee dat die pastor deurlopend 'n deugsame, kuis en rein karakter moet ontwikkel. Barna (1998:107) verwys in hierdie verband na “a leader with virtuous character ...”. Deelnemers wys daarop dat die ontdekking en ontwikkeling van die pastor se gawes as leier een van die belangrikste aspekte van leierskap behoort te wees (Gibbs & Coffey 2001:107). Deelnemers glo dat die pastor se leierskapsontwikkeling nie in isolasie van die bedieningsituasie gesien moet word nie. Leierskapsontwikkeling aan seminariums moet daarom pastors begelei en hulle in staat stel om probleemoplossing binne die bediening te kan toepas.
4.3.3 Bestuurder
Deelnemers is van mening dat pastors ook as ‘goeie bestuurders’ van hulle gemeentes en gesinne moet funksioneer. 'n Effektiewe bestuurder is, volgens die deelnemers, iemand wat goed kan delegeer, fasiliteer en krisisbestuur toepas. Hierdie behoefte van die deelnemers, dat pastors met nuwe bestuurstegnieke toegerus moet word, word ook in die samelewing waargeneem, waar instansies en firmas hul personeellede gereeld vir voortgesette opleiding stuur. Deelnemers glo verder dat 'n bestuurder ook oor die eienskappe van 'n goeie beplanner moet beskik. Dit word al hoe duideliker uit die inligting verkry van die deelnemers dat gemeentes na gemakliker bestuurstyle op soek is; 'n bestuurstyl waar die pastor sekere bestuursaangeleenthede aan lidmate kan toevertrou. De Kok (2001:84) gee 'n uiteensetting van so 'n bestuurstyl wanneer hy aanvoer:
“The Church should not have a hierarchical management system, where the pastor is the managing director and his various members are his subordinates - a pastor’s authority should lie in and be supported by the fact that he is willing to serve (which is an attitude category). The pastor should then manage the assembly in a serving capacity and not in a ruling capacity.”
4.3.4 Onderwyser, opleier, bemagtiger en toeruster
Die pastor behoort, volgens die deelnemers, in groter mate te besef hoe belangrik dit vir hom is om as opleier, bemagtiger en toeruster te funksioneer. Kruger & Venter (2002:349) is hiermee eens dat pastors meermale erns behoort te maak met hulle taak om die gemeente toe te rus. Kruger & Venter haal De Klerk (1998:75-76) aan wat meld dat sommige pastors weens gebrekkige opleiding nie as goeie toerusters bekendstaan nie, terwyl ander 'n ontoereikende persoonlikheid het wat as struikelblok dien in die toerustingswerk van die gemeente (Venter 2004:429-449). Deelnemers stem saam dat pastors as instrument 'n groot rol speel in die toerusting van die gemeente. Vorster (1998:26) voeg by dat die pastor ook die roeping het om toe te sien dat die kerkraad toegerus word en hulleself verder toerus vir die uitoefening van toesig en tug. Indien lidmate, soos die deelnemers dit stel, ”deurlopende opleiding in lewensvaardighede, self-help-situasies, gesins-beplanning en lidmaat-betrokkenheid, enkellopende en huwelikspare-berading, die keuse van 'n huweliksmaat, finansiële beplanning” verlang, behoort dit deel uit te maak van die komponente van effektiewe teologiese opleiding (Maré 2005:442).
4.3.5 Invloedryke persoon in die samelewing
Deelnemers wil graag sien dat pastors invloed by skole, in die politiek, by besighede en die uitsaai-owerheid moet uitoefen en kenners moet wees van die verskillende kulture se belange in die gemeenskap en hoe dit tot bevordering van die Koninkryk van God aangewend kan word. Om as invloedryke persone in die samelewing te kan funksioneer sal pastors, volgens die deelnemers, aan lidmate medeverantwoordelikheid moet toevertrou. Cohn-Sherbok (1991:72) moedig die uitreik na verskillende mense in die omgewing aan deur aan te voer dat “[E]vangelism is the proclamation to all peoples and cultures of the good news about Jesus Christ. Through the power of the Holy Spirit, the Gospel goes out to Christians alienated from the Church and non-Christians”.
4.3.6 Siele-wenner, yweraar vir evangelisasie
Deelnemers het aangetoon dat pastors nie hulle begeerte om siele te bly wen vir die koninkryk moet prysgee nie, en dat daar deurlopend nuut gedink moet word oor die missionêre opdrag van die Bybel. Juis daarom moet pastors begelei word om meer siele vir die Koninkryk van God te wen. Kritzinger (2001:74) is van mening dat die kerk geen bestaansreg buite sy deelname aan God se sending in en na die wêreld het nie. Alles wat die kerk doen, behoort ’n missionêre dimensie te hê ... ook sy teologiese opleiding (Gensichen 1971:80-95; Bevans & Schroeder 2000:199-201). Volgens Hattingh (2005:2) behoort teologiese opleiding “in a mind frame of loving and reaching the world” bestudeer en doseer te word. In besonder moet die pastor vir die mense van ons tyd wat in moedeloosheid vasgevang is, hoop gee. Daar sal dus in die rigting van 'n dinamiese missionêre kerk wat effektief uitreik na die buitewêreld gewerk moet word.
4.3.7 Kerkplanter
Daar was 'n duidelike aanduiding onder die deelnemers dat pastors nuwe kerke moet vestig. Met hierdie doel voor oë behoort pastors opleiding te kry oor 'n kerkplantingskursus. Navorsing (Hendriks 2004:128) kon uitwys dat die middelpunt van die Christendom vanaf Europa na die suide van Afrika beweeg. Dit word toenemend belangrik dat alle teologiese seminariums en universiteite in Suid-Afrika sal insien dat hulle 'n kritieke rol speel in die opleiding van pastors om kerke te plant. Aangesien daar in Afrika en Asië duisend nuwe kerke elke week geplant word (Hattingh 2005:2) behels dit dat 54 000 pastors elke jaar opgelei moet word. Maré (2003:111) meld in hierdie verband dat bogenoemde nie net vir Missiologie as vakgebied geld nie, maar dat dit beteken dat elke vakgebied in diens moet staan van die missionale opdrag van die kerk. Die totaliteit van die opleiding moet uiteindelik daarop gerig wees om pastors op te lei wat meer effektief kan wees in die uitvoering van nuwe kerkplantings.
4.3.8 Effektiewe berader
Deelnemers verwag dat pastors as effektiewe beraders moet funksioneer en nie as opportuniste moet bekend staan wat onverantwoordelike antwoorde vir beraadsoekers opdis nie. Dobson (2001:3-5) verklaar dat dié gevaar onstaan wanneer sommige beraders oor raad skryf vanuit hulle eie beperkte ervaring en wat hul unieke vooroordele weergee, en hul raaiskote en veronderstellings propageer asof dit die Waarheid self verteenwoordig. Terreine wat deelnemers as sensitiewe areas uitgewys het waar die pastor as berader kundig te werk moet gaan, is voorhuwelikse, huweliks-, gesins-, geweld- en misdaad- en traumaberading. Dobson (2001:3) meld onder andere dat jeugmisdaad, dwelmmisbruik, geestesversteurings, alkoholisme, onbeplande swangerskappe en selfmoord toeneem, omdat oningeligte beraders se slegte raad daartoe bydra om die probleme te skep. Volgens die deelnemers is pastors nie altyd bewus van die verskillende beradingsmodelle wat aangeleer kan word sodat hulle die beste berading binne 'n gegewe situasie kan toepas nie. Om mense se komplekse probleme binne hul holistiese bestaan te kan probeer verstaan, vereis dat pastors deurlopende toerusting moet ontvang om effektief as berader te kan funksioneer. Die verwagting van die deelnemers dat die pastor altyd toeganklik vir die gemeente moet wees, plaas geweldige druk op pastors om altyd die regte antwoorde te gee (Maré 2005:442). Daar is ook beklemtoon dat die pastor meer kennis moet invorder om lidmate toe te rus om berading te gee aan mense wat MIV-positief is.
4.3.9 Betrokkene by gemeenskap
Probleme in verband met die armoede- en werkloosheidskwessie bring mee dat pastors beter ingelig moet word oor die hantering van sulke sake. Dit is belangrik dat pastors opgelei en toegerus sal word om gemeenskapsprojekte te loods en netwerke te vorm met ander dienste wat beskikbaar is.
4.4 Die pastor benodig self volgehoue geestelike, intellektuele, emosionele en fisieke sorg, koestering en ontwikkeling
4.4.1 Deurlopende opleiding in relevante velde en lewenslange student wees word benadruk
Deelnemers het deurgaans gevoel dat lidmate 'n bydrae daartoe kan lewer deur die pastor aan te moedig om verder te ontwikkel op die gebiede waar hy effektief funksioneer (Nel 2002:156). Verder behoort lidmate die pastor se passie vir die bediening deurlopend te monitor, evalueer en toe te sien dat dit ontwikkel word (Nel 2002:155). Nel (2005:459-460) glo dat voortgesette teologiese opleiding vir pastors in relevante velde 'n kritiese noodsaaklikheid word. Nel stel dit so: “Every trained pastor needs to stay competent. Sy redes daarvoor is:
• the increasing and continuing changes in society;
• the fact that theological training does not end with formal training in faculties of theology; and
• the fact that it is not only theological professors who train people for public pastoral leadership
Dit is juis wat die deelnemers bedoel het met die idee dat pastors kursusse moet volg wat hulle in staat sal stel om beter toegerus te funksioneer om die eise en uitdagings van 'n veranderende wêreld die hoof te kan bied. Placher (2004:42) glo ook dat die toekomstige sukses wat pastors binne hul rolverwagtinge gaan ervaar, sal afhang van hoe hulle deurlopende opleiding in relevante velde kan ontvang. Deelnemers het ook daarop gewys dat pastors lewenslange studente moet bly. Placher (2004:41) het gemeld dat drie jaar wat te min is om pastors toe te rus om effektief binne die rolverwagtinge van die pastor te kan funksioneer. Deelnemers voel dat pastors op alle terreine behoort te ontwikkel, selfs in rekenaaropleiding en die gebruik van die internet. De Kok (2001:125) het reeds in 2001 in sy studie bevind dat pastors 'n behoefte aan rekenaaropleiding toon, aangesien hulle nie tydens hulle aanvanklike opleiding daarin geskool is nie. Deelnemers het duidelik te kenne gegee dat hulle verkies dat teologiese seminariums die voortgesette teologiese opleiding van pastors moet behartig. Placher (2004:42) reken met reg dat teologiese seminariums en universiteite wat kwaliteit opleiding aanbied, pastors die beste kan begelei. Indien dosente 'n groter inspraak kan lewer, kan 'n gebrek aan begeleiding van die pastor se spiritualiteitsvorming uit die weg geruim word. Hierdie gedagte kan verder gemotiveer word op grond van die feit dat deelnemers die behoefte aangedui het dat pastors ook 'n persoonlike mentor moet hê. Maré (2003:111) meld hieroor dat 'n mentorsverhouding tussen dosent en student/pastor 'n lewenslange verbintenis behoort te word.
4.4.2 Die pastor benodig huweliks-, gesins-, fisiese en emosionele selfversorging
Deelnemers het verklaar dat 'n effektiewe pastor iemand is wat sy huwelik en gesin goed bestuur en lei. Aangesien die pastor deurlopend toeganklik vir die gemeente moet wees, sal genoegsame tyd saam met die gesin net moontlik wees as die pastor geleer word hoe om sy tydsbestuur te verbeter. Dit het duidelik geblyk dat pastors 'n geweldige onvermoë toon om hul tyd reg te bestuur en te benut. Vanweë ontoereikende en ongebalanseerde tydsbesteding word vele sake agterweë gelaat, en juis daarom moet pastors opleiding in effektiewe tydsbestuur ontvang (Maré 2005:442).
4.5 Samevatting
Volgens die navorsingsondersoek van Putter (2006) het AGS-lidmate eerstens uitgewys dat hul pastor oor sekere persoonlike kenmerke en deugde vir effektiewe rolfunksionering moet beskik. Tweedens is sekere hoofrolle beklemtoon waarin pastors deurlopende opleiding moet ontvang. Derdens wil lidmate sien dat pastors oor sekere interpersoonlike vaardighede beskik ten einde relevant en tersaaklik binne hulle onderskeie rolverwagtinge te funksioneer. Vierdens is dit vir die lidmate belangrik dat pastors volgehoue geestelike, intellektuele, emosionele en fisieke sorg, koestering en ontwikkeling benodig. Navorsing van Basson, De Kok, Gibbs & Coffey, Nel, Maré en Hattingh het relevante kommentaar gelewer oor aspekte van teologiese opleiding. Die AGS se nuwe teologiese instelling behoort die versoeke van hul Kerk se lede (aangaande die rolverwagtinge van die AGS-pastor) met groot erns bejeën, sodat pastors nie as 'n elitistiese, irrelevante groep voltydse werkers in die kerk, met 'n eie vaktaal wat slegs deur 'n klein groepie gelowiges verstaan word, bekend staan nie.
5. BIBLIOGRAFIE
Adams, J E 1973. The Christian counselor’s manual. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.
Anderson, L 1992. A Church for the 21st century: Bringing change to your Church to meet the challenges of a changing society. Minneappolis: Bethany House.
Basson, G J 1996. 'n Prakties-teologiese teorie vir leierskap vanuit 'n kerkgroei perspektief. DTh-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
Barna, G 1993. Today’s pastors. Ventura: Regal.
Barna, G 1998. The second coming of the Church. Waco, TX: Word.
Beeld 27 September 2006. Dominees moet kerk uit sy winterslaap red, p 6.
Beeld 27 Mei 2008. AGS staan sy plek vol in die evangeliese stroom, p 13.
Bevans, S & Schroeder, R 2000. “Missionary by its Very Nature”. A reading of the Acts of the Apostles. Verbum SVD 41(2), 199-234.
Burns, N & Grové, S K 1993. The practice of nursing: Conduct, critique and utilization. Philadelphia: Saunders.
Carstens, J C (skriba) 1999. Handelinge van die tiende vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk, Oktober 1998. Bloemfontein: CLF-Drukkers.
Clark, M S 2000. Personal Bible study: Relevance and methods. Johannesburg: Apostolic Faith Mission Theological Seminary.
Cohn-sherbok, D 1991. A dictionary of Judaism and Christianity. London: Speck House Publishing.
Creswell, J W 1994. Research design: Qualitative & quantitative approaches. Thousands Oaks: Sage.
De Kok, P O 2001. A relevant curriculum framework for the training of pastors. M Ed dissertation, Rand Afrikaans University, Johannesburg.
Dobson, J 2001. Fokus op meer as 400 vrae van gesinne wat mense die meeste pla. Illinois: Tyndale House Publishers, Inc, Wheaton.
Gibbs, E & Coffey, I 2001. Church next: Quantum changes in Christian ministry. Leicester: Inter-Varsity.
Gensichen, H W 1971. Glaube für die Welt. Theologische Aspekte der Mission. Guterslogh: Gerd Mohn.
George, C F 1994. The coming Church revolution: Empowering leaders for the future. Grand Rapids: Fleming H Revell.
Hattingh, W J 2005. Prinsipaal verslag van die Aucklandpark Teologiese Seminarium. Johannesburg.
Hendriks, H J 2004. Studying Congregations in Africa. Wellington: Lux Verbi.
Heitink, G 1993. Praktische Theologie. Kampen: Kok.
Holliday, A 2002. Doing and writing: Qualitative research. Thousands Oaks: Sage.
Joubert, S J 2001. Teologiekroniek: Die relevansie van teologie in millennium drie. Verbum et Ecclesia 22 (1), 191-197.
Knafl, K & Breitmayer, B J 1989. Triangulation in qualitative research: Issues of conceptual clarity and purpose in Morse, J (ed), Qualitative nursing research: A contemporary dialogue, 193-203. Rochville, MD: Aspen.
Krefting, L 1991. Rigor in qualitative research: The assessment of trustworthiness. American Journal of Occupational Therapy 45 (3): 214-222.
Kritzinger, J 2001. Missionêre perspektiewe op teologiese opleiding. Verbum et Ecclesia 22 (1), 72-84.
Kruger, F P & Venter, C J H 2002. Die prediker as toeruster van die gemeente: Basisteoretiese perspektiewe vanuit Hebreërs. In die Skriflig 36 (3), 347-367.
Larsen, E L 1995. A Profile of Contemporary Seminarians Revisited. Theological Education, XXXI, Supplement 1995:3-77
Leith, J H 1990. Calvin’s doctrine of the proclamation of the Word and its significance for today in George, T (ed), John Galvin and the Church. A prism of reform, 206-229. Westminister: John Knox Press.
Lincoln, Y S & Guba, E G 1985. Naturalistic inquiry. London: Sage.
Long, T G 1971. The senses of preaching. Atlanta: John Knox Press.
Malphurs, A 1999. The dynamics of Church leadership. Ministry dynamics for a new century. Grand Rapids: Baker.
Maré, L P 2003. AGS-pastore se belewenis van hulle teologiese opleiding. MA- verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.
Maré, L P 2005. AGS pastore se belewenis van hulle teologiese opleiding. Verbum et Ecclesia Jrg 26 (2), 432-446.
Morgan, T C & Giles, T S 1994: Re-engineering the seminary. Christianity Today 38 (12) 74-82.
Mouton, J 1996. Understanding social research. Pretoria: Van Schaik.
Nel, M 2002. Predikante opleiding: Roeping, keuring en legimentering. Verbum et Ecclesia 23 (1).
Nel, M 2005. Public pastors leaders: The purpose of thoelogical training. In die Skriflig 39 (3): 441-462.
Placher, C 2004. The seminary’s impossible task: Spread too thin. Christian Century, 120 (4), 26-36.
Polkinghorne, D E 1989. Phenomenological research methods in Valle, RS & Halling, S (eds), Existential-Phenomenological perspective in psychology: Exploring the breadth of human experience. New York: Plenum.
Putter, A P J 2006. Die voortgesette akademiese ontwikkeling van die AGS-pastor. DLitt et Phil-Proefskrif, Universiteit van Johannesburg. Johannesburg.
Sweet, L 1999. Soul Tsunami. Michigan: Zondervan Publishing House.
Venter, C J H 2004. Die predikant wat houe uitdeel – die gemeente as teiken. In die Skriflig 38(3), 429-449.
Vorster, J M 1998. Die toerustingstaak van die Gereformeerde predikant: 'n Praktiese bedieningsmodel. In die Skriflig 32 (1), 19-35.
Vos, C J A 1996. Die volheid daarvan, vol. 1. Pretoria: Sigma-Pers.
TREFWOORDE
Lidmate, Leierskap, Rolverwagtinge, Teologiese opleiding, Voortgesette opleiding
KEY WORDS
Members, Leadership, Role expectations, Theological training, Continuous training
KONTAK BESONDERHEDE