En ook gehoor? Vrae rondom die gereformeerde siening van die kerk1
ABSTRACT
'And heard'? - Questions concerning Reformed ecclesiology"
The essay honours the legacy of W.D (Willie) Jonker by reflecting on some theological assumptions in his own theology motivating his concern that the church of Jesus Christ should continuously experience spiritual renewal and practice concrete and visible discipleship in order to proclaim the gospel with some credibility and conviction in an increasingly secularized world – a concern again expressed in his study on the relevance of the church that has recently been published for the first time. The essay argues that these assumptions have all been characteristic of the Reformed tradition, since Calvin. It points out that Calvin already held similar views regarding the church, and then demonstrates the crucial importance of several of these typical Reformed convictions in Jonker’s own theological work, over several decades. It discusses the central place in Reformed ecclesiology of confessions of faith, of the visible form and order of the church, and of the life, witness and service of the church. It argues that – for Calvin, the Reformed tradition, and Jonker – these three ecclesiological aspects are of central importance, and that the contribution of Reformed ecclesiology to contemporary ecumenical endeavours also depends on these emphases.
“IN DIE VERKONDIGING EN UITLEWING VAN DIE EVANGELIE”?
Relevansie is vir die kerk belangrik – so skryf Willie Jonker – maar die kerk het geen ander weg tot groter relevansie nie, as om sy taak as verkondiger van die evangelie met woord en daad met die grootste nougesetheid te behartig. In die verkondiging en uitlewing van die evangelie het die kerk iets wat per definisie relevant is, en dit is sy roeping om op sodanige wyse sy identiteit as lewende gemeente van Christus in die wêreld sigbaar te maak dat die wêreld die relevansie van die boodskap en die lewensgemeenskap van die kerk sal kan sien.
Hoe doen die kerk dit?
Die weg daarheen is geen vreemde weg nie: Dit is die weg van verootmoediging, inkeer tot sy eie saak en opregte Christelike dissipelskap. Egte dissipelskap is meer as die handhawing van die goeie leer; dit is ook ’n navolging van Christus in die oorgawe van die eie lewe aan God en die mense. Om werklik kerk vir ander en kerk vir die wêreld te wees, moet die kerk in eerste instansie weet wat dit is om kerk van Christus en van God te wees. En dit moet nie net die bestaan van die individuele gelowiges stempel nie, maar ook die bestaan, vorm en struktuur van die kerk as gemeenskap.
Wat is dus nodig?
Die evangelie (is) altyd aktueel vir elke tyd, mits dit reg verstaan en verkondig word. Dit is die taak van die kerk om goed genoeg na die boodskap van die evangelie te luister om dit in elke tyd opnuut te verstaan, te verkondig en uit te lewe as die bevrydende woord vir daardie tyd met sy spesifieke omstandighede. Wat ons land vandag nodig het, is dat die NGK in hierdie uur die evangelie van die koninkryk so goed sal verstaan en met woord en daad sal vertolk, dat dit in die krisissituasie waarin ons ons op hierdie oomblik bevind, gehoor en ervaar kan word as die woord van verlossing, hoop en bevryding.
Wat is daarom die diepste uitdaging?
As die kerk dit alles egter op die regte wyse wil doen, is sy grootste behoefte geestelike vernuwing en verdieping, 'n terugkeer tot die elementêre werklikheid van Christen-dissipelskap en onvoorwaardelike oorgawe aan God. Dit is vandag die grootste enkele behoefte van die kerk as hy werklik relevant moet wees.
Hierdie woorde kom uit die laaste hoofstuk van sy studie oor die relevansie van die kerk, wat tans vir die eerste keer uitgegee word en vandag hier bekend gestel word, maar wat hy reeds 25 jaar gelede geskryf het, in ’n tyd wat hy ook elders as oomblikke “op die breuklyn” beskryf het, krisistye vir die kerk in die wêreld, maar ook in Suid-Afrika.2 Hy dink na oor geesteshistoriese ontwikkelinge sedert die Verligting en oor maniere waarop die kerk daarop reageer, toegespits in die uitdagende vraag of die kerk nog enigsins relevant kan wees in ’n tydsgees as talle mense “verstikkend ongeïnteresseerd” is in die kerk.3 In dié aanhalings klop die hart van sy eie reaksie.
Enigeen wat sy werk ken sal egter ook oombliklik besef hoeveel van die sentrale motiewe van sy kerklike en teologiese werk oor al die dekades heen in hierdie woorde klop. Dis asof talle van sy sleutel oortuigings, talle van sy diepste passies, talle episodes uit sy persoonlike inspanning en stryd hierin saamgebundel word. Feitlik elke woord en uitdrukking roep herinneringe op aan insidente, publikasies, voordragte, getuienisse.
’N TIPIES GEREFORMEERDE AKSENT? – OOR CALVYN SE “EN OOK GEHOOR”
Tegelykertyd sal baie egter ook die tipies gereformeerde motiewe in hierdie woorde herken. Dis gepas dat die Ring van Kaap die Goeie Hoop die Gedenklesing op Hervormingsondag reël, want Jonker was met hart en siel Gereformeerd en sy lewenslange werk in kerk en teologie deurdrenk van gereformeerde oortuigings – soos ook hier. In hierdie woorde hoor ’n mens ook vir Calvyn, die Hervormer uit Genève wie se 500-jarige herdenkings volgende jaar wêreldwyd sal plaasvind.
Die Reformatoriese ekklesiologie – die siening van die kerk in die geledere van die Hervorming – was om begryplike redes van die begin af gestempel deur die uitdaging hoe hulle hulleself “kerk” kon noem in die aangesig van die groot en magtige heilsinstituut van die Rooms-Katolieke Kerk? Is hierdie sigbare instelling dan nie die een, heilige, katolieke en apostoliese kerk wat hulle in die Credo bely nie? Hoe kan hulleself dan óók kerk wees? Wat is die kerk dan? Waar is die kerk? Hoe herken ’n mens die kerk? Watter kenmerke, watter kentekens onderskei die kerk dan, sodat mense kan weet hier het ons met die ware kerk te make?
In die Lutherse leer van die kerk is dié tergende vraag beantwoord in die bekende Artikel VII van die Augsburgse Konfessie, vandag nog die gesaghebbende en dus verbindende belydenisskif vir alle Lutherse kerke en gelowiges reg oor die wêreld heen. Die kerk is waar die evangelie reg gepreek en die sakramente reg bedien word, dít is genoegsaam, satis est in teologiese vaktaal, tot vandag.4 Waar dit gebeur, is die kerk. Niks meer is nodig nie, alles anders is van minder belang, toevallig, wisselend.
Die gereformeerde tradisie stem hiermee saam – en sien ook die suiwere prediking en die bediening van die sakramente volgens die instelling van Jesus Christus as die merktekens van die kerk – maar as Calvyn sy uitvoerige bespreking van die leer van die kerk in Boek IV van sy Institusie juis met hierdie vraag begin, dan voeg hy tog merkwaardigerwys die woordjies atque audiri daarby, “en ook gehoor.” Die kerk is dáár herkenbaar waar die evangelie reg gepreek “en ook gehoor” word, en die sakramente reg bedien word.5
Dis moeilik om te weet hoe berekend dié byvoeging was en tot watter mate die formulering by hom net vanself gekom het, maar vir seker is dit kenmerkend van ’n tipiese aksent wat dwarsdeur Calvyn se eie lewe en werk herkenbaar sou wees, wat daarna die gereformeerde tradisie sou bly kenmerk en wat sonder twyfel ook in Jonker se denke van fundamentele belang sou wees. Dis asof Calvyn wil seker maak dat ons onthou dat die evangelie nie net gepreek wil wees nie, maar ook gehóór wil word, wat beteken gehoorsaam word, geleef word. Die kerk is daar herkenbaar waar die evangelie nie net gepreek nie, maar ook gehoor word.6
Dis daarom – byvoorbeeld – dat Calvyn so kenmerkend7 sou praat van ’n “dubbele genade”, naamlik regverdiging én heiliging;8 waarom hy so indringend oor die Christelike lewe sou nadink;9 waarom die vereniging met Christus vir hom so belangrik was, die afsterwe en die opstaan in ’n nuwe lewe;10 waarom hy so veel sou maak van roeping;11 waarom hy so passievol betrokke was by die openbare lewe,12 by geregtigheid,13 by diakonaat en welsyn,14 by versorging van armes en siekes,15 by onderwys en onderrig.16
Hierdie tipiese motief word goed geïllustreer deur sy bekende herinnering op sy sterfbed, dat toe hy die eerste maal in Genève aangekom het “daar net prediking was, maar geen hervorming nie”!17 Dié strewe, dat die evangelie gepreek én gehoor sal word, was die rede waarom hy dadelik belydenisskrifte vir die stad opgestel het, en ’n kerkorde om te help dat die oortuigings wat bely word ook beliggaam kan word – atque audiri.18
Dat die kerk herkenbaar is waar die evangelie nie net reg gepreek nie maar ook gehoor word, maak die vraag uiteraard net nog ingewikkelder – want hoe word dít bepaal? Waaraan sal ons dít kan sien, hoe sal ons weet wanneer dít gebeur? Met dié vraag is ’n mens in die hart van die gereformeerde worsteling om die leer van die kerk – en ook in die hart van Willie Jonker se denke.
WAARUIT BLYK DIE “EN GEHOOR”? – OOR DIE GEREFORMEERDE KERKLEER
Oor die afgelope dekades probeer Lutherane en Gereformeerdes in talle dele van die wêreld om hul eenheid met mekaar beter sigbaar te maak. Die Lutherse Wêreld Federasie en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het ’n gesamentlike kommissie wat tans voorstelle voorberei vir vorme van groter sigbare gemeenskap, communio.19
Maar wat beteken groter sigbare eenheid? Wat beteken communio? Is dit genoegsaam, satis est, dat almal oor en weer mekaar se prediking en sakramente erken, of verg sigbare eenheid en gemeenskap iets méér, atque audiri, dat dit ook sigbaar word dat ons saam die evangelie hóór en gehoor géé?20 In Europa is daar reeds ’n verreikende ooreenkoms bereik in die bekende Leuenberg-proses. Hulle gesamentlike reformatoriese siening van die kerk word verwoord in ’n dokument getitel “The Church of Jesus Christ” wat tans ook dien as vertrekpunt vir die wêreldwye gesprekke.21
Dis merkwaardig hoe die logika van “The Church of Jesus Christ” ooreenstem met die oortuigings en motiewe waarvoor Willie Jonker oor jare heen in ons eie geskiedenis gestaan en gestry het. Dit handel oor die identiteit van die kerk, oor die gestalte van die kerk en oor die roeping van die kerk – presies dié drie temas waarmee hy van die begin van sy loopbaan tot aan die einde ook besig was.
In 1965 begin publiseer hy saam met ’n paar kollegas ’n reeks klein geskrifte onder die titel “Die stryd om die kerk”. Dis bedoel as teologie vir gemeentes, gerig aan “elke ouderling en meelewende lidmaat wat in die kerk belangstel” – maar die reekstitel maak duidelik dat veel op die spel staan. Die heel eerste een is van Jonker self, Aandag vir die kerk. “Elke ernstige poging om na die getuienis van die Skrif oor die kerk te luister,” skryf hy, “bring ’n mens haas vanself in die omgewing van die insig van die Kerkhervormers in die wese van die kerk,” maar presies daarin word duidelik voor watter verleidinge die NGK te staan gekom het, hoofsaaklik vanweë die invloed van 19e-eeuse strominge. Hy illustreer hierdie spanning tussen Skrif en Hervorming aan die een kant en die 19e-eeuse ontwikkelinge aan die ander kant aan die hand van drie temas, te wete die verhouding tussen Christus en sy kerk, die gestalte van die kerk in die wêreld en die roeping van die kerk22 – kortom, presies dieselfde logika as in “The Church of Jesus Christ.”
Die belydenis van die kerk
Die diepste aard van die kerk is geleë in die onverbreeklike eenheid tussen Christus en sy kerk, skryf Jonker. Dit is wat die Skrif leer en dis wat die Hervorming begryp en bely het. Die kerk behoort aan God, die kerk behoort aan Jesus Christus. Wie oor die kerk wil dink en praat moet vanuit Christus dink, uit die verkiesende genade van die Drie-enige God wat uit die ganse menslike geslag ’n volk roep en red.
Dit is egter nie hoe tans – dis 1965 - allerweë oor die kerk gedink word nie. Onder die invloed van geestesstrominge sedert die Verligting, waar onder ook die Piëtisme, en vanaf die 19e eeu veral die liberalisme, sien talle mense in Protestantse kringe die kerk vandag bloot “as die produk van die vrywillige saamkom van ’n aantal indiwiduele Christene. Die kerk het ’n vereniging, ’n genootskap geword soos enige ander menslike genootskap. Die indiwiduele gelowige gaan aan die kerk vooraf. Die geloof is die persoonlike saak van mense afsonderlik.” Die kerk is die gevolg van mense se vrywillige keuse of hulle met ander saam wil aanbid, of nie.23
Deur die jare sou hierdie fundamentele verskil in opvatting van wat die kerk is, Jonker besig hou. Ook in die Leuenberg-ekklesiologie is dit die diepste punt van gemeenskap tussen gelowiges, dat hulle sáám hoor wat die Skrifte leer oor die kerk, dat hulle daarom sáám bely, met die belydenisskrifte van die tyd van die Hervorming, wat die grondslag, die fondament, die diepste aard van die kerk is, naamlik dat dit nié maar bloot die resultaat van menslike besluit en vrye keuse is nie.
Talle van die kerklike en teologiese debatte wat Jonker in die openbaar sou voer, sou wentel rondom hierdie mees basiese uitgangspunt van die Reformatoriese leer van die kerk.
As die Belydenis van Belhar se openingsinne doelbewus hierdie grondslag van die gereformeerde belydenisskrifte en die vroeg-kerklike belydenisse aanhaal, is dit hoegenaamd nie onskuldig en vanselfsprekend nie. “Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe. Ons glo aan die een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.”24
Reeds in hierdie oënskynlik eenvoudige belydenis aangaande die kerk is “die stryd om die kerk” ter sprake wat Jonker sy lewe lank gestry het. Die eerste aanduiding dat die kerk ook “gehoor” het, is as die kerk in reaksie op die gepredikte evangelie bely dat die kerk self aan God behoort en daarom veel méér is as bloot die produk van ons eie besluite, behoeftes en belange.
Die gestalte van die kerk
Die diepgrypende konsekwensies van hierdie fundamentele meningsverskil oor die aard van die kerk word dramaties sigbaar as gevra word na die sigbare gestalte van die kerk in die wêreld.
Indien dit waar is dat die sigbare kerk maar van menslike oorsprong is, maak dit nie veel saak in watter vorm die kerk homself inrig nie. Dit hang dan maar af van die vraag wat vir die meerderheid van die lede die doeltreffendste voorkom. Inderdaad, die hele uiterlike “verskyningsvorm” van die kerk is dan ’n relatiewe saak waaraan nie te veel aandag gewy behoort te word nie. Die kerk mag homself dan bestuur of inrig soos enige ander menslike vereniging. Geen wonder dat die negentiende eeu daarom soveel ruimte gebied het vir die verbreiding van kollegialistiese opvattings oor die kerkregering nie, want die sigbare kerk is verstaan as ’n collegium of vereniging waarvan die bestuur uiteindelik berus, nie by Christus nie, maar by die wil van die lede wat demokraties oor hulleself beskik.25
In hierdie woorde weerklink etlike van die sleutel vrae en temas waarmee Jonker hom in die sestiger-jare telkens weer besig hou: Maak dit saak hoe die kerk homself inrig? Is vrae van die orde van die kerk, die vorm, die sigbare gestalte, die organisasie, die struktuur, die model teologiese vrae, of nie? Is enige soort gestalte aanvaarbaar, is dit arbitrêr en relatief, of is daar grense wat nie oorgesteek durf word nie, wanneer wat “kerk” genoem word nie meer langer “kerk” is nie, omdat die orde van die kerk die boodskap van die kerk weerspreek en verloën? Word die sigbare gestalte van die kerk bepaal deur die meerderheid van die lede, deur opnames, en meningspeilings, en populêre voorkeure? Is doeltreffendheid die kriterium om aan te wend as oor die sigbare gestalte van die kerk besluit moet word, kriteria soos sukses, aanvaarbaarheid, behoeftes, effektiwiteit, getalle, groei, tydsgees? Is die kerk ’n soort vereniging van mense met gemeenskaplike visies en missies, waarin vrae van effektiewe bestuur en geslaagde leierskap gevolglik die eintlik belangrike riglyne word? Word die sigbare gestalte van die kerk ten beste gedien as dit volgens die beste beskikbare politiese prosedures, soos die demokrasie, of volgens die heersende bestuurstegnieke en leierskapstyle ingerig word?
Vir Jonker – soos vir Calvyn en die gereformeerde belydenistradisie, tot by die Teologiese Verklaring van Barmen in die Nazi-tyd – is alles op die spel in hierdie vrae. Natuurlik is daar groot speelruimte in hierdie vrae rondom die sigbare gestalte van die kerk van Jesus Christus. Reeds by Calvyn is die ruimte wat gelaat word merkwaardig, wanneer hy skryf oor plaaslike gestaltes van die kerk, oor die ampte, oor die inkleding van die erediens, selfs oor leerstellige meningsverskille.26 Dis immers kenmerkend van die gereformeerde tradisie, vanaf Calvyn self al, dat daar ’n groot rykdom van belydenisskrifte ontstaan, oraloor en telkens weer. Daar is geen korpus van belydenisskrifte wat vir almal geld nie, inteendeel. Die aard van die gereformeerde belydenisskrifte is immers dat dit histories is, kontekstueel, ontlok deur spesifieke uitdagings – om dan geleidelik wyer ingang te vind omdat ander ook daarin die evangelie vir hul oomblik herken en toeëien, of nié.27
In die vroeë uitgawes van die Institusie dien Calvyn se invloedryke klein manifes oor Christelike vryheid juis as inleiding wanneer hy die inrigting van die kerk en die lewe in die samelewing beskryf.28 Hy pleit vir besondere groot vryheid in hierdie sake – maar wys dan daarop, in sy “hoor” van wat die Skrifte leer, dat daar tog wel grense is aan die vryheid. Daar kom telkens weer oomblikke van waarheid in die kerk, wanneer sake wat onder normale omstandighede om ‘t ewe is, die sogenaamde adiafora, dalk die evangelie kan begin weerspreek, die getuienis van die kerk kan skaad, verdelend kan begin werk. Die kerk benodig die onderskeidingsvermoë om sulke oomblikke te kan herken, ten einde te kan weet dat die waarheid en geloofwaardigheid van die evangelie nou self op die spel staan, wanneer die adiafora nie langer adiafora is nie, onskuldig nie langer onskuldig nie, wanneer die gestalte van die kerk ’n saak van waar of vals word, van trou of ontrou aan die evangelie.29
Ook Jonker dink na oor dié grense aan die vryheid wat beoefen kan word en die vraag wanneer die sigbare gestalte van die kerk begin blyke gee dat ons die evangelie dalk wel nog preek maar nie langer meer “hoor” nie. Van sy invloedrykste werk word in dié vroeë jare van sy bediening en later tydens sy rol as aktuarius geskryf, oor vrae rondom die gestalte van die kerk. “En as jou broeder sondig ...” (1957) dink oor die noodsaak van tug om die heiligheid van die kerk te probeer beskerm in die geledere van ’n volkskerk.30 Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal (1962), ten spyte van die oninspirerende titel is ’n dramatiese klein strydskrif wat die historiese gestalte van die kerk toets aan die teologiese oortuigings van die Skrif en Belydenisskrifte.31 Sy intreerede by UNISA as professor in kerkgeskiedenis en kerkreg, Om die regering van Christus in sy kerk (1965) werk hierdie oortuigings op ongeëwenaarde wyse uit, en beïnvloed oor dekades daarna nog die denke in plaaslike kerklike kringe, tot wanneer die VGKSA se nuwe kerkorde in die 90er jare opgestel word. Die titel vat presies saam waarom dit vir hom gaan.32
Hy sluit onder andere ook aan by Barmen. Presies dit was immers destyds die aanspraak van die Barmen Verklaring. Deur gelowiges van Joodse afstamming uit die ampte van die kerk uit te sluit, is die grense van wat moontlik was in die kerk van Jesus Christus oorskry. Daarteen moes bely word – dat Jesus Christus die Heer is van die kerk, en dat sy Woord alleen bepaal wie aan die kerk behoort, en wie nie. Hier skuil die grootste versoeking vir die Protestantisme van sy dag, volgens Jonker, as Christus nie in sy kerk regeer nie, maar die wil en behoeftes van mense. ’n Groter misverstand aan die kant van die kerk is moeilik denkbaar. Dit kan alleen gebeur “vanuit ’n teologiese insinking waarin die wese van die kerk totaal misken word,” soos wanneer “die leer van die volksoewereiniteit op die kerk oorgedra word” en die kerk “as vrye assosiasie van eendersgesinde individue misverstaan word, waar die wil van die meerderheid eenvoudig geld.”
So ’n versoeking, so ’n misverstand, so ’n teologiese insinking kan alleen teengestaan word deur “’n teologiese terugkeer tot die Skrif,” waarin die evangelie opnuut weer ook gehóór word, soos in die Duitse Kerkstryd, wat hy beskryf as “’n kragtige Bybelse reaksie teen hierdie soort kerkreg.”33 Die orde van die kerk moet vloei uit die kerk se belydenis, nie vanuit die wil van lidmate of die belange van enige kulturele of volksgroep nie.
Hierdie versoeking en hierdie misverstand is sedert die 19e eeu egter binne die Protestantisme so wyd verbrei dat ons so gewoond geraak het aan wat nie in die kerk durf bestaan nie, dat ons dit as die normale aanvaar, eenvoudig daarvan uitgaan dat dit nie eintlik anders kan nie, en selfs teoloë dit regverdig en rasionaliseer. Reeds in Aandag vir die kerk beskryf Jonker dié toestand in die kerk, soos dikwels daarna weer, deur die jare. Dit word naamlik moontlik om “kerklike verskeurdheid” maklik goed te praat.
Indien dit waar is dat die sigbare kerk ’n menslike maaksel is wat ingerig word na die smaak en wil van die lede, dan is dit onontwykbaar dat die sigbare kerk uiteen sal val in talle afsonderlike kerkgenootskappe. Wat maak die uitwendige vorm nou ook eintlik verskil aan die inwendige, onsigbare eenheid? Die gevolg van hierdie standpunt was die aanvaarding van die gedagte van die legitieme pluraliteit van kerke, dikwels genoem die pluriformiteit van die kerk. Daarmee is dan bedoel dat daar natuurlik net één onsigbare kerk is, maar dat dié een kerk homself openbaar in ’n veelheid van genootskappe wat verskillend is in die verskillende tye, lande, volkere en by verskillende mense ... Dat die verskeurdheid van die kerk sonde is, word dan nie meer gevoel nie en die wesenlike verskille tussen die verskillende konfessionele groepe word vervlak tot verskille in vorm (pluriformiteit). In grootse ruimhartigheid dink niemand daaraan om ander mense die goeie reg te ontsê om op hulle eie wyse en plek hulle eie genootskap in die lewe te roep as ’n volkome legitieme moontlikheid van kerk-wees, naas die kerk waaraan ’n mens self behoort nie.34
Kortom, die sigbare gestalte en orde van die kerk word bepaal deur ’n houding van ons-gun-aan-die-ander-wat-ons-ook-het-maar-op-hulle-eie-plek-en-hulle-eie-manier.
Dis geen wonder, sê Jonker, dat die 19e eeu ook die eeu sou word van “die vermenigvuldiging van die kerk” nie. Dat die kerke wat uit die Hervorming voortgekom het “op allerlei manier onderling verdeeld geraak het en hulleself in nasionale landskerke gaan konsolideer het, was nie (Calvyn) se bedoeling nie en ook nie sy skuld nie.” Oor Calvyn se passie vir die sigbare eenheid van die kerk bestaan daar geen twyfel hoegenaamd nie. Wat in die praktyk anders ontwikkel het, “moet aanvaar word as ’n verskeurdheid van die één ware kerk wat nie moet wees nie, en nie as ’n legitieme veelheid van kerke nie.”35
Natuurlik vra sigbare eenheid nie eenvormigheid nie. Die wonderbare verskeidenheid waarvan die Skrif getuig dien juis die eenheid van die kerk. Die “natuurlike verskille tussen mense,” ook die “verskeidenheid van volksverband, afkoms of sosiale status” word nie in die kerk opgehef nie, maar “die verskeidenheid mag nie op sodanige wyse waardeer word dat dit die onderlinge gemeenskap in die kerk bedreig nie.” So bly die belydenis ’n self-kritiese belydenis. “Wat hom as kerk aandien, staan op aarde voortdurend onder die vraag na die egtheid daarvan.”
Wat hom in die praktyk openbaar as ’n verskeurdheid wat saamhang met doodgewone vleeslikheid, hardkoppigheid, menslike gegriefdheid, vooroordeel en dergelike dinge meer, is ten diepste ’n bewys daarvan dat die Woord van God nie ten volle gehoor is en in al sy waarheid aanvaar is nie. 36
Die sondige verskeurdheid moet bely word as skuld.37 Dis omdat die kerk nie uit sy eie waarheid geleef het nie dat die verskeurdheid ingetree het. Terselfdertyd word die belydenis egter ’n oproep tot bekering en vernuwing. gereformeerde kerke word geroep om blywend te reformeer, in hulle gehoor-gee aan die Woord van God. Gelowiges durf hulle nie by die verskeurdheid van die kerk neerlê asof dit ’n normale toestand is nie.
Hulle moet naarstiglik daarna strewe om hulle eenheid wat in Christus gegee is, ook in die sigbare te bely en te belewe, en so saam te voeg wat tot die ware kerk behoort.38
Na gereformeerde oortuiging geskied dit deur die beoefening van kerkverband, soos wat hulle die veelvuldige gegewens van die Skrif hieroor gehoor en verstaan het.
Ons gereformeerde voorouers het die Skrif goed begryp toe hulle in hierdie opsig gespreek het van die kerkverband, want in die gereformeerde kerkverband vind die gemeenskap tussen plaaslike kerke die kanale vir ’n ordelike uitdrukking. 39
Waar die evangelie ook gehóór word, bestaan hieroor geen vrye keuse nie.
In elk geval is dit ontoelaatbaar om sommer te sê dat kerkverband nie nodig is, as die lede van die kerk dit nie begeer nie. Kerkverband rus nie op die wil van die lede nie – dit sou reine kollegialisme wees – maar op die eenheid van die kerk in Christus, sy Hoof. Al die lede van die liggaam het mekaar nodig, of hulle dit wil weet of nie (vgl. 1 Kor. 12:21!). Gewone onwil om gemeenskap te hê met ál die broeders en susters kan nooit as ’n teologiese motief geld waarom die gereformeerde opvatting van die noodsaaklikheid van die kerkverband teëgestaan word nie. Dit is veral natuurlik onhoudbaar indien die noodsaaklikheid van die kerkverband wél aanvaar word waar dit plaaslike kerke uit dieselfde volksgroep geld, maar van die hand gewys word waar dit kerke van ander volks- of kultuurgroepe geld. Dan word dit immers duidelik dat dit nie prinsipiële besware teen die kerkverband as sodanig is wat geld nie, maar onteologiese oorwegings.40
Kortom, in die blywende strewe om die sigbare gestalte van die kerk beter te laat getuig van die diepste aard van die kerk, lê ’n tweede antwoord op die vraag hoe dit herkenbaar word dat die evangelie ook gehóór word. Hierdie strewe sluit onder andere in dat sigbare onderlinge verband gesoek en beoefen word, sodat die verskeidenheid van natuurlike en kulturele gawes nie in werklikheid skeiding en sondige verskeurdheid meebring nie.
In die Leuenberg-ekklesiologie en in die strewe van die Lutherse en Gereformeerde wêreldliggame na meer sigbare vorme van gemeenskap vandag, gaan dit om presies dieselfde uitdagings en vrae, om die oortuiging dat die belydenis dat die kerk aan Jesus Christus behoort sigbaar sal word ook in ons konkrete historiese gestaltes, en dat ons sigbare en geleefde eenheid die natuurlike en kulturele verskeidenheid behoort te “transendeer”, maar daarom ook om die skuldbelydenis dat ons in die Protestantisme toegelaat het dat talle “nie-leerstellige faktore” in werklikheid swaarder weeg, wat Jonker die “onteologiese oorwegings” noem, totdat dit vir ons die normale toestand en die vanselfsprekende geword het.41
In stede van vra hoe ons die eenheid wat ons reeds in Christus is sigbaar kan gestalte gee sodat die wêreld kan glo, vra talle verwonderd waarom sigbare eenheid hoegenaamd nodig is? Juis dié vraag verraai dat die evangelie dalk wel verkondig, maar nie gehoor word nie.
Die lewe, getuienis en diens van die kerk
Sowel Calvyn, die gereformeerde tradisie, die Leuenberg-proses, asook Jonker, gee egter ook nog ’n derde antwoord op die vraag waaruit die “en ook gehoor” sal blyk. Leuenberg praat van die lewe, die getuienis en die diens van die kerk, waaruit ook sigbaar word dat die evangelie gehoor word. Jonker praat in Aandag vir die kerk van die “roeping” van die kerk.42
Dwarsdeur sy hele bediening en werk het hy egter oor dieselfde saak op talle maniere nagedink en gepraat. In Op weg met die teologie beskryf hy Calvyn se omvattende visie van die eer van God, die verlossing van die ganse skepping en die heiliging van die lewe.43 In Christus die Middelaar eindig hy met ’n hoofstuk oor die verwerkliking van die versoening in die geskiedenis.44 In Die Gees van Christus bespreek hy die Heilige Gees en die nuwe lewe as heiliging indringend en eindig hy met ’n hoofstuk oor die reikwydte van die werk van die Gees.45
In sy huldiging aan Berkouwer, “Dogmatiek en Heilige Skrif,” herinner hy daaraan dat Berkouwer meermale vir Bavinck instemmend aangehaal het dat in tye van dooie ortodoksie, ondanks alle erkenning van die Skrifgesag, die teenstand teen die Woord tog net so sterk aanwesig kan wees as in ander tye. Dit beteken vir Berkouwer dat ware erkenning van die Skrifgesag nog iets anders is as bloot ’n saak van korrekte belydenis, as vroom en ernstig bely dát die Skrif gesaghebbend is. “Ware erkenning van die Skrifgesag ... is ’n dáád van gehoorsame onderwerping, prakties en eenvoudig.” Nie hulle wat met groot erns beroepe op die Skrif en Skrifgedeeltes doen, is altyd ook dié wat die Skrif “hoor” nie.46
In sy huldiging aan Durand, “’n Nuwe Weg,” beskryf hy hom as “’n bybelse teoloog,”47 en wel in die sin wat Durand die hoor van die Woord uitwerk in sy proefskrif Heilsgeskiedenis en die dialektiek van syn en denke.48 Vir hom maak Durand se omgang met die Skrif hom tot klassieke voorbeeld van ’n gereformeerde teoloog. “Wat anders maak ’n mens Gereformeerd, as die passie vir die luister na die Skrif as die betroubare Woord van God wat in alle dinge gesag oor ons het en elke gedagte gevange wil neem tot gehoorsaamheid aan Christus? Juis as ’n gereformeerde teoloog wil Durand dus besig wees met die aktuele vrae van ons tyd. Wat is meer Gereformeerd as die hartstog vir die heerskappy van Christus oor elke ‘duimbreed van ons werklikheid’?”49
Vir ons studente verduidelik Jonker die hoor van die Woord in die volheid van die lewe in sy Die Bybel en Gods wil vir ons lewe.50 Vir die kerk skryf hy ’n studiestuk wat lank en wyd nog gelees sou word en in die ekumene vrug sou dra, oor Die Reformatoriese sola scriptura en die Skrifberoep in etiese vrae.51 In sy talle preke, waarvan slegs weinige gepubliseer word, weerklink die bybelse roeping dat die evangelie só gehoor sal word dat dit hande en voete sal kry, soos in Die liefde van Christus dring ons.52 In sy jarelange meditasies Saterdae in die openbare pers help oriënteer hy landswyd tallose lesers rondom alledaagse lewensvrae vanuit die Woord.53
Hy skryf uitstekende akademiese bydraes oor etiese temas waarin die hóór van die evangelie uitgedaag word deur ander lojaliteite, soos oor selfliefde en selfhandhawing;54 oor die Heilige Skrif en sosiale etiek by Calvyn;55 oor die vraag of daar ’n soort kritiese verwantskap bestaan tussen Calvyn se pneumatologie en dié van die Anabaptiste, wat te make het met die “brandende vuur van ’n visioen” vir ’n samelewing waarin geregtigheid woon;56 oor die belang van die Ou Testament vir die dogmatiek, omdat dit die kerk se oë open vir die belangrikheid van die aarde en die lewe.57 In ’n opstel van baanbrekersbelang verduidelik hy die redes vir die aktualiteit van die sosiale etiek vandag, juis ook vir die kerk wat in die tradisie van Calvyn wil leef en die Woord wil hóór.58
Talle male lewer hy bydraes oor die sendingtaak van die kerk, oor evangelisasie, oor getuienis, oor die aktualiteit van die sending vandag, oor die verkondiging van die evangelie.59 Hy dink telkens na oor die moderne tyd met sy veranderende uitdagings en hoe kerke en bekende teologiese figure op hierdie uitdagings reageer – op maniere wat ewegoed in Leuenberg se “The Church of Jesus Christ” kon verskyn het, waar ook indringende besprekings gewy word aan die uitdagings wat pluralistiese, sekulêre, demokratiese samelewings aan die kerk se getuienis rig.60
Hierdie derde reaksie op die vraag waarin sigbaar word dat die evangelie nie net gepreek nie, maar ook daadwerklik gehoor word, word goed verwoord in die titel wat Flip Theron en Johann Kinghorn gee aan sy huldigingsbundel met sy 60ste verjaardag, Koninkryk, kerk en kosmos. In hulle woorde, “As instrument van die koninkryk staan die kerk ook in diens van die kosmos. Op watter wyse hierdie diens kan geskied sonder dat kerk en teologie maar net dienstig word aan die wêreld, is ’n saak waarmee hy voortdurend worstel.”61 Die wyse waarna hy soek, is die hoor van en die gehoor gee aan die Woord.
Op kenmerkende en aangrypende wyse beskryf hy hierdie weg as hy in 1986 die geestelike onderhoud tydens die NGK se Algemene Sinode waarneem oor “Die taak van die NG Kerk vandag in diens van die koninkryk.” Waaruit word die kerk sigbaar, herkenbaar? As die kerk deur die Gees van Christus bevry word om in diens van die koninkryk konkreet in die wêreld te kan lewe, te kan getuig, te kan dien, te kan navolg, te kan liefhê – sodat die wêreld kan glo.62
GEREFORMEERD? – OOR DIE GELOOFWAARDIGHEID VAN DIE KERK
Kortom, die Reformatoriese siening van die kerk kan saamgevat word in dieselfde drie motiewe wat ons by Calvyn aantref, in die gereformeerde tradisie, in die Leuenberg-ekklesiologie – en ook in die denke en lewe van Willie Jonker. Die kerk hoor die evangelie as hy bely dat hy nie aan homself behoort nie, maar aan Jesus Christus, as hy daarna strewe om hierdie belydenis ook in sy eie konkrete gestalte en orde sigbaar en herkenbaar te maak, en as hy hierdie belydenis prakties uitleef deur woord en daad in diens van die koninkryk.
Dit roep egter oombliklik ’n laaste motief na vore, eweneens van sleutelbelang van Calvyn tot by Jonker, te wete die geloofwaardigheid van die kerk. Dis naamlik moontlik dat die kerk in die maniere waarop homself sien, homself orden en homself uitleef die waarheid aangaande die kerk kan verloën, kan misverstaan, prysgee, kan verruil.
Dalk die eerste voordrag wat Jonker op Stellenbosch vir studente gehou het – in September 1971, by die CSV op Bainskloof – was oor “waaragtigheid.”63 Daarna sou hy baie hieroor bly praat en skryf – by die Suid Afrikaanse Missiologiese Vereniging in 1979 oor die “geloofwaardigheid van die kerk”;64 tydens die geestelike onderhoud van die NG Kerk se Wes-Kaapse Sinode in 1983 oor “die geestelike toestand van die NG Kerk”;65 in die feesbundel ter herdenking van die 125-jarige bestaan van die Teologiese Seminarium in Stellenbosch in 1984, wat afsluit met die bede: “Mag dit so wees dat daar oor vyf en twintig jaar gesê sal kan word dat die teologie wat aan die Kweekskool op Stellenbosch beoefen is getrag het, al was dit dan in swakheid, om aan die Woord van God getrou te bly en die kerk met die waarheid te dien.”66
Dis sy passie sedert sy eerste publikasie, die proefskrif oor die kerk in die nuwere Rooms-Katolieke denke. Dit loop uit op die insig dat die Katolieke Kerk die “histories-geworde kerk” en dus die “sigbaarheid” van die kerk “verselfstandig” teenoor Christus en dit daarom “normloos en selfstandig” maak, eenvoudig wat histories gegroei het “apologeties inbind,” dit aanvaar en verdedig, sodat dit nie meer moontlik is om” voluit dogmaties” en dus self-krities oor die kerk te praat nie. Dit eindig daarom met die bede: “Mag Christus self sy Kerk dit op die hart bind dat Hy bo alle dinge aan die Kerk as Hoof gegee is, en mag die verheerlikte Hoof sy verskeurde Kerk weer lei na ’n verstaan van die eenheid van die één liggaam, en ’n sigbare uitlewing daarvan in gehoorsaamheid aan Hom!” (sy eie kursivering).67
Dis die dryfveer agter sy laaste groot publikasie, die terugblik van Selfs die kerk kan verander.68 Dit kan gelees word as sy persoonlike worsteling om die waaragtigheid en geloofwaardigheid van die kerk. Deur die jare het dieselfde versoeking van verskillende fronte gedreig, in verskillende gedaantes, maar verborge daar agter tog telkens weer dieselfde verleiding, om in geloof en belydenis, in sigbare gestalte en strukture, in lewe en openbare strewes nié getrou en herkenbaar kerk van Christus te wees nie. Tot kort voor publikasie wou hy die boek “Kla jou moeder aan” noem, na aanleiding van Hosea 2:1, maar natuurlik ook in direkte navolging van Calvyn. As Calvyn hierdie Boek IV van die Institusie oor die kerk begin, verduidelik hy hoe die kerk ons almal se moeder is, sonder wie ons nie kan nie, van wie ons onsself nooit kan afskei of losmaak of wegskeur nie, omdat daar geen ander kerk as dié een kerk, ons moeder, is nie, maar dat ons juis daarom gevra word om blywend self-krities na onsself te kyk, en te vra of ons die sakramente inderdaad bedien soos wat Christus ons beveel het, en of ons die evangelie inderdaad preek én hoor as die Woord van die lewende Christus self.69 Dit was eers kort voor publikasie dat tekens van hoop Jonker op die meer optimistiese titel sou laat besluit.
In dalk sy laaste akademiese artikel oor “Kragvelde binne die kerk” (1998) bied hy vir oulaas ’n sleutel tot sy eie lewe en denke. Van vroeg af, sê hy, het drie kragvelde binne die NGK gestry om die hart van dié Kerk, te wete ’n gereformeerde karakter, ’n volksverbondenheid en ’n evangelikaliese (evangelical)spiritualiteit. Vir die grootste deel van die vorige eeu was die NGK in die praktyk ’n volkskerk, en is predikante wat die gereformeerde karakter van die kerk wou bevorder volgens “die oer-gereformeerde beginsels van die Dordtse kerkorde”, sodat “dit noodsaaklik is dat gemeentes van verskillende volks- en kulturele groepe in één kerkverband saamgesnoer behoort te word” as dissidente beskou en as polities gediskrediteer. Na die veranderinge op die openbare terreine het die evangelikaliese (evangelical) spiritualiteit om begryplike redes sterker geword en allerweë gewild en invloedryk. Hierin word die rype vrug van die 19e eeu en die liberale siening van enkelinge wat self vrye keuses maak en hulle eie self-vervulling soek, soos en saam met wie hulle wil, nou voluit sigbaar. Of die volksverbondenheid dalk ook nog weer in die NGK gaan terugkeer as ’n kragveld kon hy nie toe al voorspel nie, maar dit kan dalk maklik weer gebeur, oordeel hy. Slegs die tyd sou leer of die gereformeerde karakter van die NGK weer ’n “innerlike dinamiek” sou kon openbaar.70
Kortom. ’n Kerk is nie Gereformeerd omdat hy die woord in sy naam dra en homself so beskryf nie, maar op grond van sy ekklesiologie: hoe oor die kerk gedink en bely word, hoe die kerk homself sigbaar orden en gestalte gee, hoe die kerk in die wêreld leef, getuig en dien, sy prioriteite, strewes, lojaliteite, hoop, gebede.
Teen dié agtergrond verkry elke uitdrukking in die aanvanklike aanhalings hulle diepe betekenis in Jonker se lewe en werk. Die kerk ken geen ander relevansie as om sy taak as verkondiger van die evangelie met woord en daad met die grootste nougesetheid te behartig nie. Dis in sy verkondiging en uitlewing van die evangelie dat die kerk uitermate relevant is, vir alle tye, en dis die blywende roeping van die kerk om sy eie aard as lewende gemeente van Christus so sigbaar te maak in die samelewing dat mense die relevansie van die boodskap en van die lewensgemeenskap van die kerk sal kan sien. Die enigste pad daarheen is die weg van opregte Christelike dissipelskap, en dié is meer as net handhawing van die goeie leer, dis ook navolging en oorgawe, aan God en die mense. Die belydenis dat die kerk aan Christus en aan God behoort, moet ook die bestaan, vorm en struktuur van die kerk as gemeenskap stempel. Daarom bly die enigste taak van die kerk om voortdurend goed na die boodskap van die evangelie te luister, dit te verkondig en uit te leef as bevrydende woord ook vir daardie spesifieke omstandighede. Daarvoor is die kerk se eie grootste behoefte van geestelike aard, naamlik om terug te keer na die mees elementêre waarheid aangaande homself.
In die boek oor die relevansie beskryf hy die sekulêre gees van die tyd as een van “verstikkende ongeïnteresseerdheid” in die kerk en sy boodskap. Mense is nie teen die kerk nie, hulle gee eenvoudig nie om nie. Die kerk tel nie meer vir hulle nie, hulle verwag niks meer van die kerk nie. Kan dit wees dat van die wortels vir dié houding geleë mag wees in ’n “verstikkende ongeïnteresseerdheid” in die kerk sélf in sy eie aard, in sy eie gestalte en sy eie roeping? Kan dit wees dat mense nie meer iets van die kerk verwag nie, omdat die kerk self nie meer iets van die kerk verwag nie, maar die kerk van Jesus Christus verruil het vir sosiale instellinge wat ons wel nog “kerk” noem, selfs “gereformeerde” kerk, maar wat dit nie meer sigbaar is nie? Kan dit wees dat ons eie gebrek aan geloofwaardigheid en waaragtigheid daartoe bygedra het dat enige verwagting van die kerk en sy boodskap in die wêreld begin kwyn het?
As Jonker op hierdie Hervormingsondag hier was, sou hy vir seker met ’n bede gesluit het, dat die Gees van die Here ons tog sal vry maak.
KEY WORDS
Willie Jonker, Calvin, Reformed doctrine of the church, Ecclesiology, Leuenberg
TREFWOORDE
Willie Jonker, Calvyn, Gereformeerde leer van die kerk, Ekklesiologie, Leuenberg
KONTAK BESONDERHEDE
1 Hierdie bydrae gaan terug op die Derde W.D. Jonker Gedenklesing van die N.G. Ring van Kaap die Goeie Hoop wat op Hervormingsondag 26 Oktober 2008 in die N.G. Gemeente Tafelberg, Kaapstad, gehou is. Tydens hierdie geleentheid is ‘n nuwe publikasie van Jonker bekend gestel, te wete Die relevansie van die kerk. Teologiese reaksies op die betekenis van die kerk in die wêreld, Wellington: Bybel-Media, 2008. Dit is ‘n manuskrip wat Jonker reeds in 1987 voltooi het, maar wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Dit sluit ook “aanvullende perspektiewe” in van Nico Koopman, Christo Lombard en Piet Naudé, op versoek van die uitgewer geskryf na aanleiding van en in reaksie op die manuskrip van Jonker.
2 W.D. Jonker, Die relevansie van die kerk, Wellington: Bybel-Media, 2008, 153-154, 161. Vir ‘n interpretasie van die tydsgees uit dieselfde periode, sien W.D. Jonker, “Op die breuklyn,” in Op die breuklyn, red. D.J. Louw, Kaapstad: NGKU. 1985, 5-19.
3 W.D. Jonker, Die relevansie van die kerk, 5.
4 “It is also taught among us that one holy Christian church will be and remain forever. This is the assembly of all believers among whom the Gospel is preached in its purity and the holy sacraments are administered according to the Gospel. For it is sufficient (satis est) for the true unity of the Christian church that the Gospel be preached in conformity with a pure understanding of it and that the sacraments be administered in accordance with the divine Word. It is not necessary for the true unity of the Christian church that ceremonies, instituted by men, should be observed uniformly in all places. It is as Paul says in Eph. 4:4, 5, ‘There is one body and one Spirit, just as you were called to the one hope that belongs to your call, one Lord, one faith, one baptism,’” The Augsburg Confession, Article VII. Vir die teks self, sien J.H. Leith (ed.), Creeds of the Churches, Atlanta: John Knox Press, 1982, 63-106; vir inleiding en bespreking, byvoorbeeld G. Gassmann & S. Hendrix, Introduction to the Lutheran Confessions, Minneapolis: Fortress, 1999.
5 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book IV, 1/9.
6 Sien byvoorbeeld reeds so vroeg as J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book I, 9/2, waar hy, in ander verbande, op kenmerkende wyse hierdie tipe uitdrukking ook gebruik.
7 Vir uitvoeriger dokumentasie en bespreking van die volgende, sien D.J. Smit, “Views on Calvin’s ethics: Reading Calvin in the South African context,” Reformed World Vol 57/4, 306-344.
8 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book III, 11-18; sien byvoorbeeld ook Jonker se bespreking in Die Gees van Christus, Pretoria: NGKB, 1981, 62-67, 178-210.
9 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book III, 6-10; sien ook die talle opstelle van Jonker oor Calvyn en die etiek.
10 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book III, 3/8ff; sien die proefskrif onder Jonker se studieleiding voltooi deur G.J. Retief, Die verhouding tussen mortificatio en vivificatio in die leer van die heiliging by Johannes Calvyn, Stellenbosch: Ongepubliseerde doktorale verhandeling, 1984.
11J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book III, 24/8; vir besprekings, sien byvoorbeeld D.J. Schuurman, Vocation. Discerning our callings in life, Grand Rapids, MI: Wm. B. Eerdmans, 2004; ook A. McGrath, “Calvin and the Christian Calling,” First Things, June 1999.
12 Sien byvoorbeeld die opspraakwekkende, hoewel omstrede werk van Ernst Troeltsch oor die openbare invloed van Calvyn se erfenis, byvoorbeeld in Engels in sy Protestantism and Progress, London: Williams and Norgate, 1912, asook sy The Social Teaching of the Christian Churches, Vol II, London: George Allen & Unwin Ltd., 1949, 576-690.
13 Sien byvoorbeeld die bekende werk van N. Wolterstorff, waar onder Until justice and peace embrace, Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1983.
14 Sien byvoorbeeld E.A. McKee, Diakonia in the classical reformed tradition and today, Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1989.
15 Sien R.M. Kingdon, “Calvinism and social welfare,” Calvin Theological Journal Vol 17, 1982, 212-230.
16 Sien reeds R.S. Wallace, Calvin, Geneva, and the Reformation, Grand Rapids, Mi: Baker, 1988, veral 97ev.
17 J. Dillenberger (ed.), John Calvin. Selections from his writings, Garden City, NY: Doubleday, 1971, 41.
18 Sien byvoorbeeld die verskillende dokumente van Calvyn oor die sigbare gestalte van die kerk, met inleidende kommentaar, versamel in E. Busch et al (Hrsg.), Gestalt und Ordnung der Kirche. Calvin Studienausgabe Band 2, Neukirchen: Neukirchener Verlag, 1997.
19 Die sogenaamde Gesamentlike Kommissie van die LWF en WARK vergader sedert 2006 jaarliks en behoort teen die volgende volle vergaderings van die twee liggame te rapporteer met aanbevelings vir meer sigbare vorme van konkrete communio tussen Lutherse en Gereformeerde Kerke wêreldwyd. Tussentydse persverklarings oor die vordering is op die web beskikbaar vir die vergaderings van Utrecht (2006), Windhoek (2007) en Buenos Aires (2008).
20 Teoloë en kerkleiers vanuit alle tradisies dink tans na oor die sogenaamde communio ekklesiologie, sien byvoorbeeld die Presbiteriaan Joseph Small se “What is communion and when is it full?,” Reformed World Vol 56/2, 2006, 154-169 en die Lutherse Robert Jenson se “The church as communion,” in The Catholicity of the Reformation, eds. C.E. Braaten & R.W. Jenson, Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1-12; maar ook die werk van die mees prominente Katolieke en Ortodokse ekklesioloë oor die afgelope dekades.
21 In 1973 het talle leidende Lutherse en Gereformeerde Kerke in Europa die sogenaamde Leuenberg Ooreenkoms onderteken. Nog ander het hulle later darby aangesluit. Sedert 2003 staan hierdie samewerking bekend as die Gemeenskap van Protestantse Kerke van Europa. Deur die jare is verskeie baie belangrike studiestukke gepubliseer, waar onder die studiestukk oor die kerk, bekend as “The Church of Jesus Christ” (1995) wat soms beskryf word as die eerste werklik indringende en gesaghebbende ekklesiologie binne Protestantse geledere sedert die Hervorming.
22 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk. Die stryd om die kerk, Nr 1, Potchefstroom: Die Evangelis, 1965.
23 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 8-9..
24 Sien die bespreking in W.D. Jonker, Bevrydende waarheid, Wellington: Hugenote-Uitgewers, 1994; ook J.G. Botha & P.J. Naudé, Op weg met Belhar. Goeie nuus vir gister, vandag en môre, Pretoria: Van Schaik, 1998.
25 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 25.
26 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book IV, 1-2.
27 Sien D.J. Smit, “’Bevrydende waarheid?’ – Nagedink oor die aard van die Gereformeerde belydenis,” Acta Theologica Jrg. 26/1, 2006, 134-158.
28 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book III, 18.
29 Vir sy worsteling oor die ware en die valse kerk, sien J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book IV, 1-2, en verder.
30 W.D. Jonker, “En as jou broeder sondig ...”, Kaapstad: NGKU, 1957.
31 W.D. Jonker, Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal, Potchefstroom: Studie-groep Kerk en Wêreld, 1962.
32 W.D. Jonker, Om die regering van Christus in sy kerk, Pretoria: Unisa, 1965.
33 W.D. Jonker, Om die regering van Christus in sy kerk, 15-24.
34 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 25-26.
35 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 28-30.
36 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 39.
37 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 40.
38 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 40.
39 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 47.
40 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 46.
41 “Therefore Christians and churches are faced with the task to make it possible that the gift of God can be experienced by the shaping of their lives, in transcending national, racial, social, cultural and gender-specific boundaries,” The Church of Jesus Christ, Chapter 1, par. 2.3 oor die kenmerke van die kerk; vir die uitdrukking “onteologiese oorwegings” by Jonker, Aandag vir die kerk, 46.
42 W.D. Jonker, Aandag vir die kerk, 47-58.
43 W.D. Jonker & J.A. Heyns, Op weg met die teologie, Pretoria: NGKB, 1974.
44 W.D. Jonker, Christus die Middelaar, Pretoria: NGKB, 1977.
45 W.D. Jonker, Die Gees van Christus, Pretoria: NGKB, 1981, 248-272.
46 W.D. Jonker, “Dogmatiek en Heilige Skrif,” in Septuagesimo Anno, red. J. Bakker, Kampen: Kok, 86-111, verwysing op bladsy 93.
47 W.D. Jonker, “’n Nuwe weg,” in J.J.F. Durand, Teks binne konteks, Bellville:UWK, 1986, 7-12.
48Thomas Aquinas en die teologie sedert die Aufklärung, Stellenbosch: ongepubliseerde doktorale proefskrif, 1973.
49 W.D. Jonker, “’n Nuwe weg,” 11.
50 W.D. Jonker, Die Bybel en Gods wil vir ons lewe, Kaapstad: NGKU, 1974.
51 W.D. Jonker, Die Reformatoriese sola scriptura en die Skrifberoep in etiese vrae, Kaapstad: NGKU, 1980.
52 W.D. Jonker, Die liefde van Christus dring ons, Pretoria: NGKB, 1976; sien egter ook die drie bundels preke, almal saam met sy kollega en vriend P.F. Theron, Vreemde gemeenskap, Pretoria: NGKB, 1979; Vreemde geregtigheid, Kaapstad: Lux Verbi, 1983; Vreemde bevryding, Kaapstad: Lux Verbi, 1993.
53 Sien byvoorbeeld die gepubliseerde bundels met enkele uitgesoekte meditasies uit hierdie rubriek, W.D. Jonker, Die hand wat my vashou, Kaapstad: Lux Verbi, 1987 en Soms kom dit later, Kaapstad: NGKU, 1982.
54 W.D. Jonker, “Selfliefde en selfhandhawing,” Die Kerkbode, 14 en 21 Augustus 1974.
55 W.D. Jonker, “Heilige Skrif en sosiale etiek by Calvyn,” Bulletin van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die bevordering van Christelike Wetenskap, Desember 1973, Nr. 39, 31-37.
56 W.D. Jonker, “Kritiese verwantskap? Opmerkings oor die verhouding van die pneumatologie van Calvyn tot dié van die Anabaptiste,” in Calvyn aktueel, red. E. Brown, Kaapstad: NGKU, 1982,
57 W.D. Jonker, “Die Ou Testament in die teologie,” in Die Ou Testament vandag, reds. D.H. Odendaal, B.A. Müller & H.J.B. Combrink, Kaapstad: NGKU, 1979,
58 W.D. Jonker, “Die aktualiteit van die sosiale etiek,” in Sol Iustitiae, reds. P.A. Verhoef, D.W. de Villiers & J.L. de Villiers, Kaapstad: NGKU, 1973,
59 Sien byvoorbeeld W.D. Jonker, “Die toekoms van die sending,” Sendingsketse, Pretoria: Sinodale Sendingkommissie NGK Transvaal, 1961; “Die aktualiteit van die sending vandag,” ‘n toespraak op 4 Mei 1978, sien Die Sendingblad Mei 1978; “Die aktualiteit van die sending,” 'n voordrag tydens die Sendingkonferensie van die Algemene Sinode van die NGK in Oktober 1978; oor die jare het hy tallose akademiese en meer populêre geskrifte oor hierdie temas geskryf.
60 Sien byvoorbeeld net sy gereelde bydraes oor nuwe teologiese werk in die NGTT, waar onder “Teilhard de Chardin en die teologie van ons tyd” (1972), ”’n Reeks aktuele publikasies” (1972), “Die weg van die dogmatiek” (1974), “’n Eietydse geloofsleer” (1975), “Some remarks on the interpretation of Karl Barth” (1988), “Spiritualiteit en Godsverduistering” (1992), “Opmerkings oor Alister McGrath se ‘Christian Theology’” (1996); of sy bydraes saam met sy gedoktoreerdes, waar onder byvoorbeeld Koornhof (1987), Steenkamp (1987) en Naudé (1988).
61 P.F.Theron & J. Kinghorn (reds.), Koninkryk, kerk en kosmos, Bloemfontein: Sendingpers, 1989, voorwoord.
62 W.D. Jonker, “Die taak van die Ned. Geref. Kerk vandag in diens van die koninkryk,” Handelinge van die Algemene Sinode van die Ned. Geref. Kerk, 1986, Bylae 2.1, 740-742.
63 W.D. Jonker, “Waaragtigheid,” ongepubliseerde voordrag op 4 September 1971.
64 W.D. Jonker, “The credibility of the church,” Missionalia Vol 7, Nr. 3, Oct. 1979, 114-127.
65 W.D. Jonker, “Die geestelike toestand van die Ned. Geref. Kerk,” Handelinge van die Sinode van die Ned. Geref. Kerk van Wes-Kaapland, 1983, Bylae E2, 368-375.
66 W.D. Jonker, “Op die breuklyn,” in Op die breuklyn, D.J. Louw (red.), 18-19.
67 W.D. Jonker, Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke teologie, Kampen: Kok, 1955, 216.
68 W.D. Jonker, Selfs die kerk kan verander, Kaapstad: Tafelberg, 1998.
69 J. Calvin, Institutes of the Christian Religion (1559), Book IV, 1-3.
70 W.D. Jonker, “Kragvelde binne die kerk,” Aambeeld Vol 26/1, 1998, 11-14.