Thesnaar, CH
University of Stellenbosch

Heling en heil is nie moontlik sonder waarheid nie

ABSTRACT

Healing and salvation is not possible without truth

This research continues to contribute to healing and reconciliation in a post-Truth and Reconciliation Commission context within South-Africa, by focusing on truth as a key aspect in the healing and reconciliation process. In this regard Archbishop emeritus Desmond Tutu makes a significant point when he states “There can be no healing without truth. The Truth and Reconciliation Commission helped us to also understand truth as healing and restorative truth. This seems to support the movement towards a more relational, personal, subjective and narrative understanding of truth. The church can contribute to the process of healing and reconciliation by creating safe spaces where healing as transformative truth can help people deal with the past. This contribution wants to reconfirm the importance of the meaning of truth for healing and reconciliation in a time where truth is under pressure.

1. INLEIDING

In ’n artikel van Pott (2006:15) in die Nieuwe Rotterdamse Courant – Handelsblad (NRC) maak sy ’n stelling dat waarheid in die hedendaagse samelewing sy aantreklikheid as konstruksie verloor het. Sy verduidelik dit met die waarneming dat waarheid al hoe meer relatief word juis omdat dit toenemend aanvaarbaar is om hele en halwe onwaarhede te versprei, meer as ooit tevore in die verlede. Sy stel dit selfs sterker deur die Cambridge-filosoof Blackburn aan te haal wat glo dat grenslose relativisme besig is om handuit te ruk (Pott 2006:15).

In aansluiting hierby word waarheid toenemend gemanipuleer deur bepaalde pragmatiese skole van denke. Die filosoof Menno Liewers verduidelik dat die pragmatiese skool van die Verenigde State van Amerika (VSA) reken dat waarheid eenvoudig iets is wat werk (Etty 2006:9). Die implikasie daarvan, volgens Etty, is dat “might is right”, wat dan daarop neerkom dat diegene wat hiervan uitgaan, dink dat hulle die waarheid in pag het. In dié sin kan waarheid dus gemanipuleer word tot voordeel van sommige en tot nadeel van ander, wat dit uiters moeilik maak om te weet wanneer iets waar is al dan nie.

Vir diegene wat vashou aan die absolute waarde van waarheid is dit ook ’n bitter pil om te sluk dat waarheid verskeie kante kan hê. Wat vir een persoon waar is, kan vir ’n ander persoon onwaar of ’n halwe waarheid wees. Wat vir die een persoon trotse geskiedenis is wat vir geslagte gevier moet word omdat dit op waarheid gebaseer is, kan vir iemand anders pynlike geskiedenis van onwaarheid wees.1 Wat vir die een ’n onbetwiste feit is, kan vir die ander een ’n saak van onmoontlikheid wees, so onmoontlik dat dit nie geglo kan word nie.

In Suid-Amerika was die dekade tussen 1980 en 1990 veral gekenmerk deur 'n dringende soeke na waarheid op grond van die erge skendings van menseregte deur die militêre diktatorskappe in verskeie lande (Soza 1996:60). Mense wou angstig weet wat met hulle geliefdes gebeur het tydens die verskillende tydperke van onderdrukking.2 Selfs in die lande van die voormalige Oosblok het daar ’n duidelike behoefte aan deursigtigheid (glasnost) ontstaan, wat ten nouste met hierdie drang na waarheid saamhang.

In die negentigerjare het hierdie kragtige momentum van vryheid en waarheid oorgespoel na Suid-Afrika. Hoewel Suid-Afrikaners politieke vryheid beleef het na die beëindiging van apartheid was veral slagoffers steeds vasgevang in die emosionele pyn wat deur die menseregteskendings van die verlede veroorsaak is. Skendings soos die plotselinge verdwyning van geliefdes, marteling, gedwonge verskuiwings na ’n ander woongebied, raaiselagtige moorde en ander vorme van verontregting het in Suid-Afrika onnoemlik veel emosionele pyn veroorsaak (TRC 1998:115). Die impak van die skendings het juis die slagoffers genoop om te skreeu dat die waarheid moet uitkom al is dit hoe pynlik, sodat hulle kan begin om die pyn te verwerk en sodoende met hulle lewens kan voortgaan binne die pasgevonde vryheid. Hierdie vryheid sal eers werklik omarm kan word en vrug dra as waarheid ’n kernbestanddeel daarvan is (Soza 1996:60).

Die soeke na waarheid aangaande die apartheidsverlede in Suid-Afrika het verdere momentum gekry met die totstandkoming van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK). Volgens Jeffery (1999:7) was die doel van die WVK “… to foster reconciliation by revealing the truth about killings (and other gross violations of human rights) committed between March 1960 and May 1994.” In die lig hiervan skryf die voorsitter van die WVK, Aartsbiskop Desmond Tutu, dat geen heling moontlik kan wees sonder waarheid nie (TRC 1998:4). Waarheid word dus onomwonde beskou as ’n fundamentele voorwaarde vir die pad van heling. Vleugels (1996:223) gaan egter nog ’n stappie verder as hy beklemtoon dat egte versoening nie moontlik is sonder waarheid en regverdigheid nie. Dit het die denkers agter die WVK-proses in Suid-Afrika genoop om naas die vestiging van vryheid en die drang na waarheid, ook versoening by te voeg.3

’n Dekade na afloop van die WVK bly waarheid in Suid-Afrika onder druk. Ons beleef dit konstant in alle sfere van die samelewing, polities, ekonomies, sosiaal en selfs op religieuse gebied. Korrupsie en materialisme is deel van die werklikheid waarin ons lewe. Gegewe dié realiteit kan daar met reg gevra word of die doelwitte bereik is waarvan ons as Suid-Afrikaners in ons soeke na waarheid en versoening gedroom het. Die skeiding en ongeregtighede tussen slagoffers en oortreders het dalk eerder toegeneem as wat dit mense bymekaar gebring het. Hierdie artikel wil ’n bydrae maak om, in ’n tyd waar waarheid onder druk is, die betekenis van waarheid vir heling en versoening opnuut te bevestig.

2. SOEKE NA DIE BETEKENIS VAN WAARHEID

Waarheid is een van die mees komplekse konstrukte om te beskryf. So ver terug soos Aristoteles worstel denkers al met die konsep van waarheid. Aristoteles beskou waarheid as “the agreement or correspondence between a proposition and an existing state of affairs ...” (McGrath 1996:647). Aristoteles se klare definisie is egter beperkend. Dit is duidelik dat nie alle waarheid só begrond kan word nie. Selfs die filosofie kon deur die eeue nie daarin slaag om die begrip “waarheid” toereikend te omskryf nie (Fire 1982:34). Ook die teologie worstel opnuut om waarheid teologies te verstaan (McGrat 1996:648).

In die stryd om te bepaal hoe waarheid in terme van die betekeniswaarde daarvan vir die Suid-Afrikaanse konteks geïnterpreteer moet word, moet daar kennis geneem word van die strome van denke wat die teologiese verstaan van waarheid beïnvloed het. In dié verband is daar twee groot strome van denke wat veral die Europese denke gevoed het, en in ’n sin mettertyd die hele Westerse wêreld; eerstens, die filosofiese of klassieke antieke denke wat veral in Griekeland en Rome ontstaan het en tweedens, die geskiedenis van Israel wat gegrond is in die Bybel en die lewende herinnering aan die geskiedenis van die Christelike kerk (Newbigin 1995:2).

2.1 Die Grieke se verstaan van waarheid

Die Grieke het waarheid verstaan vanuit die betekenis van die naamwoord άληθειά. Hierdie naamwoord beteken basies om iets te klassifiseer, om iets duidelik te maak en om iets aan die lig te bring wat versteek was. Die betekenis van άληθειά in die klassieke Grieks word daarom deur Brown (1978:874) omskryf as “unhiddeness or unveiling”.4 Na aanleiding hiervan het die Grieke waarheid verstaan as ’n denkoefening om iets duidelik en deursigtig te maak. Volgens Soza (1996:60) manifesteer dit in “… bringing out the meaning as clearly as possible, without distortions or perversions.” Dit was dus belangrik om ten alle koste die waarheid te weet en te ken, sodat die mens vastigheid kan ervaar in die wêreld waarin hulle leef. Veral in ’n wêreld waar alles nie altyd sin maak en dinge nie altyd met mekaar korreleer nie. Die feit dat die waarheid geken kan word, bring vir die mens stabiliteit, sekerheid en beheer, wat dui op sin en betekenis binne die konteks waarin hulle leef.

Hiermee saam het die Grieke ook ’n ander perspektief op die waarheid gehad, naamlik die sogenaamde nie-temporele verstaan. Hiervolgens is waarheid nie iets wat gebeur nie, maar iets wat reeds bestaan, dit is tydloos en verhewe bo die temporele en materiële wêreld (Brown, 1978:875). Dit wat vas bly staan, is dus waar, terwyl dit wat verganklik is waarheid verberg. Om dus te kan ken moet daar verby die verganklike beweeg word en die waarheid uit die dinamika van die geskiedenis onttrek word. In dié sin is die waarheid net bereikbaar en verstaanbaar as die objek wat geken moet word van sy historiese realiteit bevry kan word. Die oomblik as dit gebeur, ontdek die mens dat ware kennis, suiwer en volmaakte objektiewe kennis is.

Waarheid is vir die Grieke ook ’n epistemologiese vraagstuk, veral omdat hulle bepaal dat waarheid geken kan word. Trouens, hierdie standpunt van die Grieke het ’n groot invloed gehad en selfs die kern gevorm waarop die konsep van kennis in die Weste ontwikkel het. Die feit dat waarheid geken kan word, kom daarop neer dat iets net waar kan wees wanneer dit bewys kan word. Met ander woorde, iets word as waar beskou wanneer dit op stellings of feite gebaseer kan word.

In sy magistrale onderneming om ’n sintese tussen die Griekse denke en die Christelike geloof te bewerkstellig, het Thomas van Aquinas reeds in 1257 ’n onderskeid gemaak tussen dit wat net deur die rede geken kan word en dit wat net deur die geloof, op grond van openbaring, geken kan word (Newbigin 1995:18). Hierdie onderskeid was die begin van die stryd tussen geloof en rede en was verantwoordelik vir die vorm van die Christelike denke wat eeue lank in die Westerse wêreld gangbaar was.

Die Verligting het ’n definitiewe invloed gehad op die verstaan van waarheid in die Westerse teologiese denke. Bosch (1991:343) beweer “The matrix of the Enlightenment theological thinking was woven together with the trends of individualism, selfrighteousness, rationalism and neo-pelagianism.” Vanweë die invloed van die Verligting het teoloë dus vir dekades op ’n nuwe wyse geworstel met die waarheidsvraag en wat dit impliseer. Hierdie invloed kom daarop neer dat religieuse kennis beskou moet word as ’n tipe empiriese hipotese wat net deur die feite bevestig of verwerp kan word. Dit is ’n tipiese positivistiese opvatting. Hierdie beskouing van kennis en waarheid het aan ons ’n ahistoriese en onveranderbare beeld van God nagelaat. Dit het verder geloof tot ’n tipe gnosis gereduseer en teologie tot ’n tipe oefening van ortodoksie.

Medema (1997:15) het met die stelling dat die krisis van die Weste alles te doen het met waarheid, juis die kompleksiteit van die vraag na die verstaan van waarheid geaksentueer. Vir die modernisme, wat sterk wortels het in die Griekse verstaan van waarheid, is dit duidelik dat kennis net waar en seker kan wees as dit objektief is. Dit verklaar die kousaal-oorsaaklike denke binne die modernisme wat alles wil verklaar om sodoende ’n oorsaak of rede te soek vir ’n bepaalde gevolg. Binne die modernisme bly God die objek, wat dus die pilaar is waarop die waarheid gegrond word. Hierdie metafisiese denksisteem, gewortel in die Griekse denke waarbinne die modernisme die waarheid verstaan het, het in ’n postmoderne tyd ’n radikale teenreaksie aangaande die verstaan van waarheid opgeroep (Rossouw 1963:176). So beweer Medema (1997:42) “... we denken dat onze ouders en grootouders zichzelf voor de gek hebben gehouden door te denken dat het zo was.”

In hierdie teenreaksie teen die premodernisme en modernisme se verstaan van waarheid vind die postmoderne mens dit moeilik om waarheid te verstaan. Waarheid is vir hulle onbekend. Waarheid word verstaan as: Ek het my eie waarheid - Jy het jou eie waarheid. Daar is dus geen bevoordeling nie. Dit handel suiwer oor mekaar se menslikheid. Die probleem van postmoderne mense is nie dat hulle nie glo nie, maar juis dat hulle alles “glo”. Vir die postmoderne mens bestaan daar dus geen absolute waarheid nie. Dit is ook duidelik dat geen konsensus moontlik kan wees nie. Die postmoderne mens dink dus aangaande die waarheid soos volg: “Dat streven zèlf staat ter discussie, en meer nog ‘de’ waarheid als doel van dat streven” (Derkse 1993:82).

2.2 Joods-Ou-Testamentiese verstaan van die waarheid

Die Joods-Ou-Testamentiese benadering bring ’n totaal ander verstaan van die waarheid aan die lig. Die Hebreeuse woord vir waarheid is ’emet. Volgens Pannenberg (1970:227) beteken ’emet “not on hand once and for all as a timeless, binding state of affairs. Rather, “’emet” must occur again and again ... Thus, in the Isrealistic sense, truth is reality (which) is regarded as history ... not something that in some way or another lies under or behind things, and is discovered by penetrating into their interior depth, rather, truth is that which will show itself in the future.”5 Pannenberg (1970:227) verduidelik verder dat waarheid in die Ou Testament verstaan moet word in die lig van “the truth of God (that) must prove itself anew.”

Hierdie Joods-Ou-Testamentiese beeld van waarheid is sonder meer bevrydend. Die woord ’emet kan ook verder omskryf word as: waarheid, getrouheid, stabiliteit, betroubaarheid en iets waarop ’n mens kan staatmaak. In hierdie sin beteken waarheid iets waarin vertroue gestel kan word. Waarheid in die Ou Testament is dus nie gebaseer op iets abstraks of teoreties nie, maar gegrond op die trou van God. Dit impliseer dat die mens ’n greep kan kry op waarheid omdat ’n mens daarin kan glo en daarmee kan leef.

Andersyds moet die historiese karakter in ag geneem word by die verstaan van waarheid. Tereg beweer Soza (1996:62): “Truth is not something pre-existent - already a complete datum, rather it is something which continues to gestate, is ‘done’ or enacted, and occurs again and again.” Hiervolgens is dit duidelik dat waarheid nie tot ’n abstrakte en teoretiese konsep beperk kan word nie. Veral nie soos Plato dit in ’n soort tydlose ekstra-historiese terrein wou lokaliseer nie (Brown 1978:881).

Deurgaans is dit in die Bybel duidelik dat waarheid nooit onafhanklik is van die geskiedenis of van ’n bepaalde geskiedkundige gebeurtenis nie, maar inteendeel daarin ingebed is. In dié sin is waarheid altyd dit wat gedoen is, dit wat waar word. Juis om hierdie rede openbaar die God van Israel sy waarheid nie net in woorde nie, maar ook in dade, en word die waarheid in die praktyk bewys in die ervarings van sy mense.6 In Psalm 25:10 beskryf die psalmis dit duidelik dat die soeke na waarheid ’n pad is waarop die mens moet loop, ’n wyse is waarop die mens moet optree en dat dit alles handel oor ’n manier van doen. Die mens wat op pad is, sou verder uitgebou kon word deur die beeld van ’n pelgrim op reis na die waarheid. Hoe verder die pelgrim op die reistog vorder, hoe meer word die waarheid aan hom/haar geopenbaar. Die waarheid word nie net meer en meer geopenbaar op die reistog nie, maar ook weer en weer.

In aansluiting hierby vorm die gemeenskapskarakter van die ’emet-begrip ’n wesenlike dimensie daarvan (Firet 1982:36). Die pelgrim is dus nie net meer op reis na die waarheid nie, maar op reis binne die gemeenskap waar daar vir mekaar omgegee word. Ons sou ’n sterk saak kon uitmaak dat dit verwys na die geloofsgemeenskap. Dít sou egter ook meer omvattend verstaan kon word. Die belangrike beginsel is egter dat waarheid in die Ou Testament nie los verstaan kan word van ’n netwerk van verbondsverhoudinge nie. Dit is in die verbondsverhoudinge waar waarheid ingebed lê (Rossouw 1982:103). God openbaar sy waarheid aan die mense deur sy verbondsdade. Dit bevestig die eksistensiële belewing van waarheid in die Ou Testament. In die lig hiervan is die verbond nie ’n kontrak met ’n stel geskrewe reëls nie, maar gaan dit eerder oor ’n onderlinge verstandhouding wat op vertroue berus (Vriezen 1966:3, 168-169). Dit handel dus oor ’n versekering van trou dat mense aan mekaar verbind is met wedersydse verantwoordelikhede. Dit maak mense aanspreeklik teenoor mekaar en daarom het ons ook aansprake op mekaar. Waarheid volgens die Joods-Ou-Testamentiese beskouing is duidelik ’n relasionele en kwalitatiewe begrip.

In aansluiting hierby word die Bybelse verstaan van waarheid verder uitgebou deur die Nuwe Testament. Waarheid in die Nuwe Testament kan dus nie losgemaak word van die konkrete gebeure in die geskiedenis van die volk van God nie.7 Dit is juis in hierdie historiese handelinge en dade van God waarin die mens God se waarheid ontmoet.

3. TEOLOGIESE REFLEKSIE OP WAARHEID

Gegewe die diskussie tot op hede is dit wesenlik om te begryp dat waarheid teologies verstaan sal moet word ten einde die betekenis daarvan vir die Christelike geloof skerp in die oog te kry.8 As daar dus van die veronderstelling uitgegaan word dat waarheid meer behels as informasie, eksakte presiesheid en ware feite, kan onomwonde met Smit (1995:6) saamgestem word dat waarheid ook persoonlik, menslik, subjektief, perspektief-tekenend, narratief, dialogies en sosiaal, is. Op grond hiervan verwoord Smit ’n uiters belangrike dimensie van waarheid: “The truth is always more than our truth, more than we currently know or see. We need others in order to hear their experience of the truth and attempt to make this our own” (Smit 1995:6). Dit lei tot ’n nuwe verstaan van die betekenis van waarheid. Hierdie nuwe verstaan gaan van die veronderstelling uit dat waarheid, en veral religieuse waarheid, nie verstaan kan word vanuit ’n suiwer objektiewe en positivistiese denkwyse nie.

Bybelse waarheid word ten nouste aan die openbaring van God sélf gekoppel en wel in die woorde van Jesus in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” Gekoppel aan die taak van Jesus op aarde en sy passie om uit te reik na mense in gebroke verhoudinge, kry die waarheid in Jesus Christus ’n sterk geloofwaardigheidskarakter. Vir Christus is die verhouding wat Hy met mense het van besondere belang, veral die verhoudinge wat Hy met diegene het wat gebroke is, uitgeskuif is uit die gemeenskap, die siekes, ensovoorts. Hiervolgens is dit duidelik dat waarheid nie anders gesien kan word as dat dit ’n kwalitatiewe begrip is nie. In terme van die openbaring van God kry die waarheid ook ’n sterk betroubaarheidskarakter. Die waarheid is betroubaar, en trou impliseer ’n verhouding, meer spesifiek vertrouensverhoudings tussen mense (Van der Walt, 1996:23; Du Toit 1997:21).

Rossouw (1982:104) maak ’n duidelike saak uit dat die verbond primêr ’n spreekverbond is. In terme hiervan “geskied die gemeenskaplike lewensoriënterende ontsluiting van die werklikheid in die konkrete, tussenmenslike gesprek.” Dit dui daarop dat dit in die verbond moet gaan oor die mededeling van mense se omgang met die konkrete werklikheid. Wanneer mense daarom in ’n verbondsverhouding die waarheid met mekaar deel (bv deur verhale), gaan dit om baie meer as die blote oordra van kennis en feite. Trouens die naakte feite is te abstrak en sodoende kom die werklikheid kaal daarvan af (Rossouw 1982:104). Rossouw (1982:105) stel dit so: “Die waarheid is altyd geklee - tekstiel, teks en konteks. Die waarheid is ’n samehang waarin die uitgerafelde drade van geïsoleerde feite verweef is tot ’n patroon. Tot die waarheid behoort naamlik die sin van feitlike gegewens, d.w.s. die belang of die waarde wat sulke gegewens het vir die mens wat lewensoriënterend daarmee gemoeid is.” Anders gestel, beteken dit om ’n konteks so ter sprake te bring dat die sin van die feite in hulle tersaaklikheid verstaan word. In dié sin is waarheid vrugbaar en gee dit aanleiding tot ’n toepaslike gesindheid en ’n toereikende handeling. Daarom sou ons tereg kon sê wanneer waarheid meegedeel word is dit kwalitatief, eksistensieel, kontekstueel en relasioneel.9 Die uitdaging is juis om religieuse waarheid, asook die waarheid van menslike verhale in terme van minder objektiewe en absolute kriteria te evalueer.10

Om te bepaal of die storie waar is al dan nie, sal dus van die opdrag en doel afhang wat die persoon wat die storie vertel in gedagte gehad het. As die doelstellings dus duidelik uitgeklaar is voor die opdrag of storie aangepak is, sal dit eenvoudig wees om die uitkoms van die opdrag of storie daaraan te meet. Om religie dus te verstaan, is dit nodig om duidelike doelstellings te formuleer wat sal help om dit te evalueer en te bepaal of dit waar is (Brockelman 1992:143). Hierdie doelstellings moet so geformuleer word dat dit spesifiek vir die religieuse verstaan van die waarheid geld. Die belangrike is hier dat doelstellings vir religieuse verstaan nie net geleë is in die voorafkennis van die feite van die wêreld nie, maar dat dit juis in aksie en doen is waarin ons religieuse verstaan vind. In dié sin is dit duidelik dat waarheid nie net gevind kan word in die rede nie; dit is wesenlik ingebed in die storie en die samehang daarvan. Verder vind hierdie verhaal juis plaas binne die trouverbond en die gemeenskap van die gelowiges. Binne hierdie konteks kan waarheid alleen in liefde gespreek word.

In aansluiting daarby skryf Smit (1995:6): “According to the Christian gospel it only becomes possible for this truth - about who we really are, about our pasts, about the suffering we have inflicted upon others and the guilt we have brought upon ourselves - not to become unbearable, not in fact to become something that we must push aside, repress, avoid or deny, when we acknowledge the more comprehensive truth of the love, mercy, forgiveness and acceptance of God.” Dít is sonder twyfel die hart van die evangelie. God het in Christus die wêreld met Homself versoen. Wanneer Christus in Johannes 8:32 stel dat die waarheid vry maak, doen Hy dit teen hierdie agtergrond. Die waarheid bevry ons nie net in ons verhouding met God nie, maar ook in ons verhoudinge met mekaar. As die voorbeeld van Jesus Christus (naamlik dat Hy juis in genade uitgereik het na die goddeloses, onregverdiges, skuldiges en na sy vyande toe) die mens oproep tot die herstel van verhoudinge, dan impliseer dit die noodsaaklikheid om die waarheid aangaande die verbrokkeling van verhoudinge bekend te maak, sodat versoening kan intree. Na die mate dat mense hulle eksistensiële belewing van die verhouding kommunikeer, sal hierdie waarheid verandering en bevryding bring. Dit is dus wesenlik om te besef dat die waarheid ons nie in ’n doodloopstraat inlei nie, maar ons juis op die weg plaas waarop ons reistog kan voortgaan. In hierdie aktuele en hoopvolle sin is die waarheid bevrydend en toekomsskeppend.

4. HELENDE AS TRANSFORMERENDE WAARHEID

In die soeke na helende en transformerende waarheid help die WVK se verstaan dat versoening sonder waarheid onmoontlik is (TRC 1998:306) ons in dié verband. Die soeke van die Kommissie na die betekenis van waarheid moet verstaan word teen die agtergrond dat waarheid verskillend verstaan word en vir die slagoffer en vir die oortreder verskillende betekenisse het. Die slagoffers wou ten alle koste die waarheid aangaande die verlede te wete kom sodat hulle daarmee kon vrede maak en met hulle lewe in die nuut gevonde vryheid kon voortgaan. Die oortreders weer, wou seker maak dat die waarheid aangaande die verlede selektief (indien enigsins) aan die lig kom, sodat hulle nie as die (oorsaak en) skuldiges beskou sou word nie. Wat duidelik was, is dat die Kommissie die waarheid te alle tye sensitief sou moes hanteer. Meiring (1999:376) wys op die belangrikheid hiervan: “Would that not be the case, the nation could bleed to death. But if it did indeed happen, it would lead to a national catharsis and peace and reconciliation.” Diep onder die indruk van die sensitiwiteit vir waarheid het die WVK juis gepoog om waarheid so breed moontlik te omskryf, naamlik: feitlike en forensiese waarheid, persoonlike en narratiewe waarheid, sosiale of dialogiese waarheid en helende en herstellende waarheid (TRC 1998:110).

Dit is veral die verstaan dat waarheid oor ’n helende en herstellende komponent beskik wat van groot waarde is. Die Kommissie het besef dat feitelike en objektiewe waarheid alleen nie genoegsaam sal wees om te verseker dat menseregteskendings nie herhaal sal kan word nie of dat dit genesing tot gevolg sou hê nie. In die lig hiervan het die Kommissie ’n saak uitgemaak vir die belang van helende waarheid, wat dan soos volg verstaan word: “... the kind of truth that places facts and what they mean within the context of human relationships - both amongst citizens and between the state and its citizens” (TRC 1998:114).

Wat sonder meer duidelik is, is dat die WVK daarmee radikaal wegbeweeg het van die eng, suiwer wetlike, juridiese, objektiewe, bewysbare karakter van die waarheid as die enigste manier waarop daar na die waarheid gekyk kan word. Hierdeur erken hulle dat elke individu se storie aangaande die apartheidsverlede belangrik is vir heling om plaas te vind. Die krag van storievertelling is volgens Louw (1998:9) geleë in die “embodied truth”. Hy verduidelik dit soos volg: “Therefore, storytelling is a way of exposing oneself and revealing one’s basic attitude and aptitude. It brings one into contact with one’s own identity and fundamental being qualities”. In dié verband is die stories wat slagoffers en oortreders vertel aangaande hulle verstaan van die waarheid altyd kontekstueel, subjektief, eksperimenteel en daarom eksistensieel. Krog (1998:89) beskryf die omvattende verstaan van waarheid vir die proses van heling en versoening so aangrypend: “Out of this must now be taken: The truth? It must be so. The truth is validated by the majority, they say. Or you bring your own version of the truth to the merciless arena of the past - only in this way does the past become thinkable, the world become habitable. And if you believe your own version, your own lie - because as narrators we all give ourselves permission to believe our own versions - how can it be said that you are being misleading?”

Hoewel die Kommissie ons help met die term helende en herstellende waarheid het die Kommissie meer klem gelê op helende waarheid as op herstellende waarheid. Die vraag “herstel na wat” of “na watter waarheid” is fundamenteel vir die helingsproses in Suid-Afrika. Herstel skep die aanname dat ons moet terug beweeg na ’n bewysbare, eksakte, ware weergawe van die waarheid. Die vraag is net of dit wel moontlik is? Waarborg herstel van die eksakte waarheid van die verlede enigsins vrede, heling, geregtigheid en dies meer? Ek wil eerder pleit vir ’n proses wat ons help om ’n helende en transformatiewe waarheid saam te ontdek wat gebaseer is op die verstaan van waarheid as persoonlik, menslik, subjektief, perspektief-tekenend, narratief, dialogies en sosiaal.

’n Dekade na die WVK- proses is dit duidelik dat dit aan die een kant enorme geleenthede geskep het om die proses van versoening en heling deur waarheid te kon uitbou op konkrete wyses. Aan die ander kant het daar na afloop van die WVK- proses min gebeur om heling en versoening te bewerkstellig en bly dit ’n groot uitdaging. Majiza (1999:167) maak ’n sterk argument uit dat die kerke in Suid-Afrika ’n groot rol in dié verband te speel het. Hy stel dit soos volg:

“After the closure of the TRC it is their (faith communities’) responsibility to continue to listen to people’s stories and to exercise pastoral care in order that healing of memories may take place. It is fitting that this kind of work be continued by religious communities. Each may effect reconciliation according to its own particular rituals, practices and forms of confronting those things which have created barriers within and between communities and families. While there will be indeed a great need for trauma counselling with psychological expertise, there will also be a need to mobilise traditional restorative methods so as to integrate those who feel alienated. Here is where faith communities can play an important role.”

Vir die kerk om aan hierdie uitdaging gehoor te gee is geen maklike taak nie. Die realiteit is dat die Kommissie nie noodwendig daarin geslaag om waarheid te herstel of die lewe van mense te herstel nie. Tien jaar na die WVK- proses is dit duidelik dat mense nog steeds nie genees is van die impak van die verlede nie. Slagoffers en oortreders is ook nie nader aan mekaar as in die verlede nie. Die verlede word nog gebruik om mekaar te verdeel.

Teen die agtergrond van my redenasie om waarheid te verstaan as persoonlik, menslik, subjektief, perspektief-tekenend, narratief, dialogies en sosiaal wil ek graag argumenteer dat die konsep heling en transformerende waarheid eerder vervang moet word met heling as transformerende waarheid. Om dit te verduidelik wil ek juis argumenteer dat heil die konsep van trasformatiewe waarheid operasionaliseer. Volgens Louw (1997:78) staan heil en lewe in ’n noue verband met mekaar. Hy verduidelik dat heil in die Ou Testament verstaan moet word as reddende handelinge wat ruimte vir die mens maak om nuut te kan lewe. In die Nuwe Testament beteken heil om op grond van die genade van God ’n aandeel te verkry in die nuwe lewe, as gawe van God. Heil is dus ’n aanduiding van die nuwe toestand van vrede en versoening as gevolg van die vryspraak en die toe-eiening daarvan deur die geloof. Die heil is egter omvattend en sluit ook die kosmiese dimensie van herstel en genesing in (Louw 1997:78).

Die Duitse teoloog Reiss (1987:217) verduidelik dat daar ’n spanning bestaan tussen heil en heling. Dit is nie identies nie en daarom kan ons dit binne die eskatologiese spanning van die alreeds en die nog nie as twee perspektiewe op die konsekwensie van die Ryk van God verstaan. Heil, as die verlossende, vernuwende, regverdigmakende en heiligmakende dimensie van die Ryk van God en heling, as die herstellende, genesende en destruksie-teëwerkende kragveld van die Ryk van God.

Die kerk as geloofsgemeenskap is inderdaad die aangewese draers van die heils- en helingsboodskap in ’n post-WVK periode. Die kerke in Suid-Afrika beskik nie net oor ’n goeie infrastruktuur om mense op grondvlak appellerend aan te spreek nie; die kerk is ook geroepe om die daad by die woord te voeg, dit wil sê om die boodskap wat uitgedra word op alle moontlike maniere op die grondvlak van mense se alledaagse lewe te konkretiseer. Die WVK self het herhaaldelik ’n beroep op geloofgemeenskappe gedoen om in die proses van versoening in hierdie land daadwerklik betrokke te raak.

Midde-in die proses van heil en heling staan die waarheid wat elke mens kan vry maak van sy of haar pyn aangaande die verlede. Die essensie is dat hierdie proses op die grondvlak sal geskied waar gelowiges die waarheid met mekaar kan deel en sodoende tot versoening kan bydra. Die pastoraat is die aangewese diensarm van die kerk wat ’n unieke bydrae kan lewer in die fasilitering van die kommunikasie van die waarheid in die helingsproses in Suid-Afrika. Dit is juis die Woord van God wat die pastoraat bemagtig wanneer Jesus Christus verklaar dat Hy juis na hierdie wêreld toe gekom het om aangaande die heil - waarheid te getuig (Joh 18:37). Firet (1982:34) bevestig die belang van die pastoraat om betrokke te wees in die openbaarmaking van die waarheid: “Het komen van God in zijn woord houdt in dat de waarheid openbaar wordt, en het pastoraal optreden, dat van dat komen van God intermediar is, heeft dus alles met het openbaar worden van de waarheid te maken.”

5. GEVOLGTREKKING

Binne die realiteit van Suid-Afrika, ’n dekade na die WVK-proses, is heling en versoening tussen oortreders en slagoffers ’n doelwit waarna konstant gestrewe moet word. ’n Oop en eerlike kyk na die waarheid aangaande die verlede is essensieel vir beide partye. Dit vra egter ’n ander verstaan na waarheid. Smit (1999:9) bevestig dit soos volg: “Dis nie brute feite wat tot versoening lei nie, maar die waarheid. En dié is altyd veel groter, ingewikkelder, en meer menslik as net die saaklike feite. Selfs in die omgang met die mees voor die hand liggende feite en die mees vanselfsprekende statistieke behoort Christene die liefde-van-nóg-’n-keer-luister aan die dag te lê.”

Dit is kardinaal dat hierdie waarheid nie gekaap sal word deur die rasionele en logiese denksisteme wat gegrond is in die Grieks-Westerse metafisika nie. Blote feite en naakte statistieke dien nie altyd die waarheid nie. Daar kan maklik met feite omgegaan word wat nie reg laat geskied aan die waarheid nie. Waarheid is meer as net dit wat bewysbaar is of net deur daadwerklike getuienis bepaal kan word. Waarheid moet meer omvattend verstaan word, sodat ook aan die subjektiewe karakter daarvan reg kan geskied. Villa-Vicencio (1995:114) beskryf ’n omvattende verstaan van waarheid soos volg: “The truth of the matter is, however, that we do not destroy the reality of the past. The unremembered past endures. This is that past of the truth that each section of society is required to face. It can do so thoughtfully and carefully or risk the possibility that it will erupt in an uncontrollable manner. Suppressed and forgotten truth is part of the inclusive truth which must be uncovered if a polarised society is to be united in the healing process.”

Die omvattende verstaan van waarheid funksioneer as ’n lewende en dinamiese realiteit binne elke mens se eksistensiële leefwêreld. Teologies word dit ondersteun met die klem op die Christelike waarheid wat gegrond is in die mens se verhouding met God en daarom met ander. Die basis hiervan is die verbondsverhouding en die getrouheid van God in terme van sy beloftes (Vriezen 1966:3, 168-169). Die pleidooi is dat daar vir die Christelike geloof nie anders na die waarheid gekyk kan word as deur die paradigma van die Bybelse verstaan daarvan nie. Dit impliseer dat waarheid ’n proses van insig en verstaan is wat kreatief en kontekstueel plaasvind binne ’n netwerk van verhoudinge (gemeenskap van die gelowiges). Die waarheid van God se Woord is relasioneel van aard. Die Woord van God handel juis oor God se ewige verbondstrou. Hierin word die waarheid van God se historiese en eskatologiese verlossing gevind. In dié sin verwys die Christelike waarheid na die trou van God, soos wat dit sigbaar word in die verbondsverhouding van God met mense deur die inkarnasie van Christus. Die soeke na waarheid word dus ’n lewensproses waarbinne die eksistensiële waarheid beliggaam word.

Helende en herstellende waarheid staan sentraal in die proses om in die post-WVK periode in Suid-Afrika die gebroke verhoudinge tussen slagoffers en oortreders te herstel. Die begrip herstellende waarheid is egter beperkend. ’n Dekade na die WVK- proses is dit duidelik dat heling eerder sal moet geskied deur transformatiewe waarheid wat daarop gerig is om verhoudinge binne Suid-Afrika te transformeer en sodoende heling te bewerkstellig. Dit is die heil wat die transformatiewe waarheid operasionaliseer. Dit bevestig onomwonde die belang van die kerk as geloofsgemeenskap in die soeke na versoening en heling.

BIBLIOGRAFIE

Hirsi Ali, A 2006. De velen kante van de waarheid. In NRC Handelsblad 21 April 2006, bl. 7.

Barth, K 1980. The Doctrine of Reconciliation. Church Dogmatics, 1V/1. Edinburgh: T & T Clarke.

Blenkinsopp, J 1997. Memory, Tradition, and the construction of the past in ancient Israel. Biblical Theology Bulletin. 27: 76 - 82.

Bosch, D J 1991. Transforming Mission. New York: Orbis Books.

Brockelman, P 1992. The Inside Story. A Narrative Approach to Religious Understanding and Truth. New York: State University Press of New York.

Brown, C (ed) 1978. The New International Dictionary of the New Testament. Exeter: Paternoster.

Derkse, W F C M 1993. Anselmus’ rectitudo: de pluriforme maar eenvoudige waarheid van een Benedictijn. In: Derkse, W F C M (red). Verandert Waarheid? Kampen: Kok Agora.

Du Toit, C W 1996. Research and Truth? Adjustments in Systematic Theology in the Light of Changing Contexts. Scriptura, 4:363 - 382.

Du Toit, C W 1996. Dealing with the Past. In: Botman, HR & Petersen, R M (ed). To Remember and To Heal. Wynberg: Human en Rousseau : 118 - 130.

Du Toit, P J 1997. Storievertelling binne die konteks van die Waarheids- en versoeningskommissie. ’n Pastorale evaluering. B-Th Skripsie Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Du Toit, C W 1997. The end of truth? Hervormde Teologiese Studies, 53 (4) : 939 - 955.

Etty, E 2006: Communicatie en journalistiek. In NRC Handelsblad 25 April 2006, bl. 9

Firet, J 1982. Het agogisch moment in het pastoraal optreden. Kampen: Kok.

Jeffery, A 1999. The Truth about the Truth Commission. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

Kayser, U 1998. Creating the Past - Improvising the Present. Cape Town: Honours thesis, Centre for African Studies, University of Cape Town, Cape Town.

Kittel, G (ed) 1976. Theological Dictionary of the New Testament, Vol. 1. Grand Rapids: Eerdmans.

Krog, A 1998. Country of my Skull. Cape Town: Random House.

Louw, D J 1997. Pastoral care in an African context. A systematic model and contextual approach. Missionalia, 25(3) : 392 - 407.

Louw, D J 1997. Normativity and social change as a challenge to Practical Theology. Towards a reconstruction model for Southern Africa. Journal of Theology for Southern Africa, 97 : 16 - 29.

Louw, D J 1997. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Kaapstad: Lux Verbi.

Louw, D J 1997. Dispositional ethics in practical theology and the quest for forgiveness in the South African context of transformation and change. Lesing gelewer by die “International Academy for Practical Theology” 22 - 24 April.

Louw, D J 1999. Pastoraat as vertolking: Metaforiese teologie binne die konteks van ’n pastorale hermeneutiek. Hervormde Teologiese Studies, 55 (2 & 3) : 334 - 359.

Majiza, C 1999. Hearing the Truth. In: Cochrane, J, de Gruchy, J & Martin, S (ed), Facing the Truth. Cape Town: David Philip: 167 - 169.

McGrath, A E 1996. A Passion for Truth. Lester: Apollos.

Medema, H P 1997. Water, Wijn & Waarheid. Vaassen: Medema.

Meiring, P 1999. Chronicle of the Truth Commission. Vanderbijlpark: Carpe Diem.

Newbigin, L 1995. Proper Confidence. Grand Rapids: Eerdmans.

Pannenberg, W 1970. Basic Questions in Theology. Philadelphia: Fortress.

Pott, H 2006: Waarheid is een aantrekkelijke constructie – meer niet. In NRC Handelsblad, 1 April 2006, bl.15

Reiss, R 1987: Sehnsucht nach Leben. Gőttingen: Vanderhoeck & Ruprecht

Rossouw, H W 1963. Klaarheid en Interpretasie. Amsterdam: Amsterdam Drukkerij en Uitgeverij.

Rossouw, H W 1982. Waarheid en siekte. In: De Villiers, D W en Antonissen, J A S (ed). Dominee en dokter by die siekbed. Kaapstad: NGKU: 79 - 107.

Smit, D J 1995. The Truth and Reconciliation Commission - Tentative Religious and Theological Perspectives. Journal of Theology for Southern Africa, nr. 3 - 16.

Smit, D J 1999. Feite en waarheid. Die Burger, 8 Mei, bl. 9.

Soza, 1996. The Church: A Witness to the Truth On the Way to Freedom. In: Impunity: An Ethical Perspectiv : 60-71

Truth and Reconciliation Commission of South Africa Report. 1998. Cape Town: Truth & Reconciliation Commission, Vol. 1.

Truth and Reconciliation Commission of South Africa Report. 1998. Cape Town: Truth & Reconciliation Commission, Vol. 5.

Van der Walt, B J & Van der Walt, T 1996. Die Waarheids- en Versoeningskommissie. In: Instituut vir Reformatoriese Studie. Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Studiestuk no. 342.

Villa-Vicencio, C 1995. Telling One Another Stories: Towards a Theology of Reconciliation. In: Villa-Vicencio, C & Niehaus, C (ed). Many Cultures, One Nation. Cape Town: Human & Rousseau.

Vleugels, J 1996. Ruanda: vergeving na volkenmoord? In: Burggraeve, R en De Tavernier, J (red). Terugkeer van de wraak? Averbode: Gooi en Sticht.

Vriezen, C 1987. Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament. Wageningen, Veenman & Zonen B V.

TREFWOORDE

Waarheid, Helende en transformatiewe waarheid, Heling, Heil, Versoening

KEY WORDS

Truth, Healing and transformative truth, Healing, Salvation, Reconciliation,

KONTAK BESONDERHEDE

Dr Christo Thesnaar

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

Privaatsak X1

7602 MATIELAND

Tel: 084 573 4322

E-pos: cht@sun.ac.za

1 Die kontroversiële politikus van Nederland Ayaan Hirsi Ali (2006:7) worstel juis met die waarheid nadat daar vrae ontstaan het oor haar immigrasiedokumente en hulle nie haar weergawe van die waarheid wou aanvaar nie.

2 Lees meer oor die verhaal van die moeders wat nog soek na die waarheid aangaande hulle kinders wat verdwyn het onder die diktatorskap in Argentinië by http://en.wikipedia.org/wiki/mothers_of_the_Plaza_de_Mayo

3 Vergelyk B.J.en T van der Walt (1996:8-14) vir voorbeelde van waarheidskommissies in ander lande.

4 Kittel (1976:238) omskryf die betekenis van “άληθειά” as 'n “full or real state of affairs.” Hy gaan voort deur dit verder soos volg te omskryf: “As a judicial language the “άληθειά” is the actual state of affairs to be maintained against different statements, so historians use it to denote real events as distinct from myths, and philosophers to indicate real being in the absolute sense.”

5 Vergelyk Firet (1982:36 e.v.)

6 “Similarly, men express their daily witness to their neighbour and their verbal and commercial transactions. It is not surprising, then, to find at times what would nowadays be called an existential view of truth in the Old Testament” (Brown 1978:882).

7 Vergelyk Barth, KD 1V/1, bl. 233. Hier lê Barth klem op die groot God van Israel wat in die geskiedenis gehandel het en nog steeds handel.

8 Vergelyk die treffende verduideliking by Rossouw (1982:105): “Waarheid is 'n proses van toe-eiening, van vertroud raak met die onthulde sin, van inoefening in die waarheid.”

9 Sien Brockelman (1992:143) aangaande die belang van kontekstualiteit.

10 Brockelman (1992:146) verskaf sommige spesifieke evalueringskriteria. Hy stel dit soos volg: “... these are in fact some of the ways through which we actually do weigh and assess the degree of truth which a particular religious understanding of life embodies.” In die bladsye wat volg bespreek hy die kriteria, naamlik: “Disclosiveness, adequacy, comprehensiveness, ultimacy, demand, existential effectiveness, interpretive utility, coherence, survivability and ethical and critical sense.”