Nagmaalviering in die NG Kerk - tussen tradisie en vernuwing. Deel 3
ABSTRACT
The celebration of the Lord’s Supper in the Dutch Reformed Church - between tradition and renewal. Part 3
What became apparent in parts 1 and 2 of this series about the celebration of the Lord’s Supper in the Reformed tradition, the ecumenical world and the worldwide Reformed family, did not pass the General Synod of the Dutch Reformed Church unnoticed. Therefore this article will firstly look at some of the most important decisions pertaining to the Lord’s Supper that were made by the Dutch Reformed Church’s General Synod in the last decades. Secondly the similarity between the Liturgical Movement’s consensus regarding the Lord’s Supper, and the decisions of the General Synod as well as that which became apparent about the celebration of the Lord’s Supper in parts 1 and 2, will be highlighted. In spite of this consensus there is still a strange hesitation in local congregations towards the implementation of some of these decisions. The reasons for this state of affairs are explored, as well as the reasons why a more frequent celebration can be seen as an integral part of church and worship restoration. Lastly some practical guidelines that could assist in the implementation of a more frequent celebration are put on the table.
1. INLEIDING
In die vorige artikel het dit aan die lig gekom dat nuwe wyses van nagmaalviering, asook ’n meer gereelde nagmaalviering, wêreldwyd in die gereformeerde wêreld aandag geniet en ingang vind. Enkele van die praktiese reëlings rondom ’n meer gereelde nagmaalviering en nuwe wyses van viering is in deel 2 van hierdie reeks verken. Hierdie ondersoek wil nou egter dié ontwikkelinge “vertaal” met die oog op die liturgiese praktyk van die NG Kerk. Daarom word daar in hierdie artikel spesifiek gefokus op die huidige situasie met betrekking tot die viering van die nagmaal in die NG Kerk.
Dit wat in deel 1 en 2 van hierdie reeks aan die lig gekom het met betrekking tot die nagmaalviering in die gereformeerde tradisie, die ekumene en die breër gereformeerde wêreld, het die Sinodes van die NG Kerk van die afgelope paar dekades nie ongemerk verbygegaan nie. Gevolglik sal hierdie artikel eerstens kortliks wys op van die belangrikste besluite ten opsigte van die nagmaal wat alreeds deur die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is. Vervolgens sal gewys word hoe hierdie sinodale besluite, asook dit wat na vore gekom het met betrekking tot die viering van die nagmaal in die gereformeerde tradisie, strook met die konsensus binne die Liturgiese Beweging ten opsigte van die nagmaal. Ten spyte hiervan bestaan daar steeds ’n vreemde terughoudendheid in plaaslike gemeentes met betrekking tot die implementering van sommige van die besluite. Die redes hiervoor word ondersoek, asook die redes waarom ’n meer gereelde nagmaalviering ’n wesenlike deel van kerk- en erediensherstel is. Ten slotte word enkele praktiese riglyne op die tafel geplaas wat kan help met die implementering van ’n meer gereelde viering.
2. NG KERK-BESLUITE OOR DIE NAGMAAL SEDERT 1970: BEWEGING IN ’n BEPAALDE RIGTING
Die NG Kerk het sedert 1962 ’n hele aantal belangrike besluite oor die nagmaal geneem. Die besluite is in baie hoë mate in lyn met ontwikkelings in die sogenaamde Liturgiese Beweging van die 20ste eeu (sien Fenwick & Spinks 1995 vir ’n goeie oorsig oor dié beweging). Hierdie merkwaardige en geseënde beweging het veel gedoen om kerke van uiteenlopende belydenis se erediensverstaan en erediensviering nader te bring aan die beginsels en praktyke van die Nuwe Testament en die vroeë Christelike kerk. Die kern van die konsensus wat tot stand gekom het binne die beweging, is dat ’n egte Christelike erediens altyd gebou is rondom die ellips van Woord en Maaltyd.
Die volgende besluite oor die nagmaal is reeds geneem deur die Algemene Sinode:1
• Erken die ideaal van ’n meer gereelde nagmaalviering (1982, 1986).
• Aanvaar dat die normale diens (“volledige diens”) in die Christelike kerk ’n diens is wat die nagmaal insluit (1982) (vgl Handboek 1988:1).
• Erken dat die erediens plaasvind rondom die ellips van Woord en Maaltyd.
• Erken die rykdom van die betekenis van die nagmaal.
• Aanvaar die beginsel en praktyk van kinderkommunie.
• Erken dat die presiese wyse van die viering van die nagmaal (bv die bediening in die banke of wandelende kommunie) ’n middelmatige saak is.
• Aanvaar dat die formuliere nie altyd gelees hoef te word nie.
• Aanvaar katoliek-Christelike euchariste-gebed as substituut vir die formulier.
• Beklemtoon die voorbereiding van die gemeente vir ’n meer gereelde nagmaalviering.
Met die aanvaarding van dié besluite het die NG Kerk inderdaad ook bevestig dat hy sy gereformeerde identiteit nie sektaries (dit wil sê primêr teenoor ander Christelike kerke) wil verstaan nie, maar - in lyn met Calvyn se intensie - vanuit sy gereformeerde identiteit deel wil wees van die breër Protestantisme en die breër Christelike kerk. Dit is nie ’n vanselfsprekende keuse nie - daar is gereformeerde kerke wat kies om hulleself anders op te stel.
3. DIE KONSENSUS IN DIE LITURGIESE BEWEGING OOR DIE NAGMAAL
Hoe lyk die konsensus van die Liturgiese Beweging in verband met die nagmaal? ’n Mens sou dit in ’n paar punte kon opsom:2
• Daar is ’n wye erkenning dat die nagmaal in die hart van die Christelike erediens lê en dat dit saam met die lees en verkondiging van die Woord die twee vaste punte van ’n Christelike erediens vorm.
• Daar is heelwat geskryf oor die ryke betekenis van die nagmaal.3 Ons sou met reg kon sê dat feitlik die volle waarheid van die evangelie op die een of ander manier vanuit die nagmaal verduidelik sou kon word. Van die meer gesaghebbende opsommings van die betekenis van die nagmaal is sekerlik die vyf punte wat genoem word in die BEM-dokument van die Faith and Order-kommissie, naamlik danksegging aan die Vader, herinnering aan Christus, die aanroeping van die Gees, die gemeenskap van die gelowiges en die eskatologiese maaltyd van die koninkryk (sien BEM 1988). Binne hierdie ryker betekenis van die nagmaal is daar in besonder twee aspekte wat baie sterk op die voorgrond gekom het:
• Die nagmaal as danksegging (euchariste) aan die drie-enige God vir sy gawes van die skepping en van die verlossing. Daar is getuienis dat ’n uitgebreide dankgebed van baie vroeg af ’n vaste deel van die nagmaalviering van die kerk was.4
• Die nagmaal as die fees van die opgestane Christus. Die lewende Christus is werklik teenwoordig by ons in en deur die nagmaal (oor die hoe van die teenwoordigheid is daar wel meningsverskil; oor die dat nie). Hy hou met ons gemeenskap en deel die gawes van sy sterwe en opstanding aan ons uit. Hierdie beklemtoning van die opgestane Christus staan teenoor ’n nagmaal-viering waarin daar ’n té sterk en eensydige bewustheid van Christus se kruisdood en offer is.
• Die erediens behoort ’n lewensveranderende byeenkoms te wees waar gelowiges God ontmoet en deur Hom geïnspireer, toegerus en vernuwe word vir hulle werk in die wêreld. So is die erediens nie alleen die primêre leerskool vir ons geloof nie, maar ook die plek waar ons moreel gevorm word vir die nuwe lewenstyl wat van ons gevra word. Die gesegde lex orandi, lex credendi, lex vivendi gee op ’n besondere manier uitdrukking aan hierdie onlosmaaklike verband tussen erediens, geloof en lewe.
Ten spyte van hierdie ekumeniese konsensus én die besluite wat alreeds deur die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is, het van hierdie ontwikkelinge en aanbevelings nog weinig ingang gevind in die liturgie van plaaslike gemeentes. Vervolgens meer oor die redes vir hierdie terughoudendheid.
4. ’n VREEMDE TERUGHOUDENDHEID BY DIE IMPLEMENTERING VAN DIE BESLUITE
Hoewel die Algemene Sinode goeie besluite oor die nagmaal geneem het, was daar tog in heelwat gemeentes ’n terughoudendheid ten opsigte van die implementering van die besluite.5 Dit is veral verbasend dat die opening wat gebied is ten opsigte van ’n meer gereelde viering van die nagmaal nie met groter entoesiasme aangegryp is nie. In heelwat gemeentes is die nagmaalviering wel uitgebrei na die Christelike feesdae en hier en daar het gemeentes hulle nagmaalvierings vermeerder na ses of agt keer per jaar. Daar is na ons wete baie min gemeentes in die NG Kerk wat ’n weeklikse viering van die nagmaal het.
Dit is belangrik dat ons sal vra waar hierdie terughoudendheid vandaan kom. Dit kan na alle waarskynlikheid aan een of meer van drie redes toegeskryf word.
• Die eerste rede het te doen met praktiese oorwegings, veral wat tydsduur betref. Ons almal weet dat die tradisionele nagmaaldiens in die NG Kerk (as die formulier ten volle gelees word) goed ’n twintig tot dertig minute by die gewone erediens bygelas het. Baie gemeentes het geoordeel dat hulle lidmate nie gereed is vir so ’n langer erediens elke Sondag nie.
• Daar is ’n tweede stel redes wat te doen het met onuitgesproke vrese oor wat ’n weeklikse nagmaalviering aan die totale ervaring van die erediens kan doen. By heelwat mense is daar tog ’n vrees dat ’n weeklikse nagmaalviering die plek van en fokus op die prediking kan bedreig. Hoewel ons redelik seker is dat dit nie hoef te gebeur nie, kan ’n mens die vrees begryp. ’n Tweede vrees, meen ons, het te doen met die besonder gewyde en somber atmosfeer wat meestal by ons nagmaalvierings heers (Bosch 1999). Dit is asof ons intuïtief weet dat iets verkeerd gaan loop as hierdie somber atmosfeer elke Sondag in die diens aanwesig gaan wees. Iemand het die skeptiese opmerking hieroor gemaak dat min mense lus het om elke week ’n begrafnis by te woon (Holper 1994:70). Ook hierdie huiwering het nie met die nagmaal as sodanig te doen nie, maar eerder met ’n beperkte (en verkeerde) verstaan van Christus se teenwoordigheid in die nagmaal.
• Daar is nog ’n derde rede wat genoem moet word. Ons is van oordeel dat die gemiddelde lidmaat en predikant van die NG Kerk die sakramente veel laer waardeer as wat ons dit behoort te doen. Dit is ’n bekende feit dat die meeste gereformeerde kerke in hulle sakramentsbeskouing meer Zwingliaans as Calvinisties is. Vir Zwingli was die sakramente blote tekens wat ten taak het om ons aan ’n hoër geestelike werklikheid te herinner. Vir Calvyn was die sakramente veel meer as dit. Die sakramente was, saam met die Woordverkondiging, heilsmiddele waarin Christus op die een of ander manier werklik teenwoordig was en waardeur Hy self tot by ons en in ons gekom het (vgl Reid 1984; Institusie Deel IV, hfst 17 en 18). Hoewel Calvyn, anders as Luther, nie oor die hoe van Christus se teenwoordigheid in die sakrament wou spekuleer nie, was hy nie minder as Luther en die Katolieke oortuig van die feit dat Christus in die sakrament teenwoordig is nie.
Enige verandering in die nagmaalpraktyk - soos ’n beweging in die rigting van ’n weeklikse viering van die nagmaal - sal gepaard moet gaan met ’n gesprek oor hoe ons werklik dink oor wat in die nagmaal gebeur. Wanneer ons vervolgens pleit vir nagmaalherstel is dit gegrond in die oortuiging dat Christus self die nagmaal aangewys het as ’n fees waar Hy op ’n werklike en persoonlike by ons teenwoordig is, waar Hy deur die brood en wyn Homself opnuut met ons verenig en Homself en al sy gawes opnuut aan ons gee. Die nagmaal is natuurlik ook ’n teken. Maar ons glo dat dit veel meer is as net ’n teken. Ons glo dat in die nagmaal God self na en tot in sy kinders kom. Daarom kan die kerk en haar lidmate veel baat by ’n meer gereelde nagmaal.
5. DIE NAGMAALVIERING AS ’n WESENLIKE DEEL VAN EREDIENSHERSTEL EN KERKHERSTEL
Dit is interessant en betekenisvol dat tot hier die gesprek oor die nagmaal in hoë mate los van die gesprek oor kerkvernuwing gevoer is. Die meeste mense in die kerk het nie verwag dat die skuiwe ten opsigte van nagmaalviering ’n groot verskil gaan maak aan die kwaliteit van ons gemeentelike lewe nie. Die vernuwende besluite rondom die nagmaal is eerder gemotiveer deur gehoorsaamheid aan die Skrif of die tradisie. Die waarheid is dat min mense verwag het dat ’n nuwe manier van nagmaalviering kerkherstel of gemeentevernuwing sou kon bring.
Die gesprek oor kerkvernuwing was in die meeste gevalle ’n heel ander gesprek. Baie mense het vernuwing gesoek deur die prediking of ’n klem op sending en evangelisasie of deur die vernuwing van ’n ander bedieningspraktyk soos kleingroepe. In heelwat gemeentes is probeer om erediensvernuwing te verkry deur vernuwing in die sang, byvoorbeeld ’n redelik uitgebreide “lof-en aanbiddingsessie” aan die begin van die diens.
Daar is goeie redes waarom die twee gesprekke nou dringend nader na mekaar getrek behoort te word. Daar is ’n groeiende erkenning dat ons baie moeilik werklike kerkherstel gaan kry sonder ’n herstel van die erediens (vgl o a Keck 1993:23-42). Hoewel ons saamstem daaroor dat die vernuwing veel wyer moet loop as net in die erediens, weet ons ook dat ’n sinvolle erediens waar mense die ervaring het dat hulle God ontmoet en werklike lewenshulp ontvang, in die hart van standhoudende kerkvernuwing sal moet lê.
Ons pleit vir ’n gereelde (weeklikse) viering van die nagmaal in die normale oggenddiens van die gemeente omdat ons van oortuiging is dat dit nie alleen eie is aan ons gereformeerde tradisie nie, maar ons ook op ten minste drie vlakke sou kon help:
• Van die mees algemene kritiek wat tans gehoor word ten opsigte van gereformeerde eredienste is dat dit te eensydig rasioneel of serebraal is. Die gedagte is nie dat die rasionele kant weggeneem moet word nie, maar dat dit gebalanseer moet word (en dat die effek daarvan selfs so versterk kan word) deur meer aandag te gee aan byvoorbeeld rituele, simbole en aan die affektiewe kant van die erediens. Met die oog hierop word daar tans in heelwat gemeentes baie moeite gedoen met die inrigting van die gebou (bv meer simbole), die ontwerp van nuwe rituele en ’n sterker fokus op emosie en ervaring. Meer aandag aan die sang (onder meer die lof-en aanbiddingsessies waarna reeds verwys is) is ’n doelbewuste poging om nie alleen groter gemeentelike deelname te kry nie, maar ook om meer ervaring en emosie in die diens in te bring. Hoewel geen van hierdie pogings sonder meriete is nie, mag ’n gereelde nagmaalviering dalk die heel sinvolste manier wees om die meer rasionele preek aan te vul met simboliek en ritueel.6
• As ’n mens een enkele faktor moet aanwys wat die mees bepalende invloed op mense se ervaring van die erediens het, is dit sekerlik hulle bewustheid van die teenwoordigheid van God self in die diens. Dat ons hier nie praat oor ’n vanselfsprekendheid of ’n eenvoudige saak nie, weet ons uit ondervinding. Dit is nie verniet dat daar soms sinies na die erediens verwys word as die herdenking van God se afwesigheid nie. Dit is ons oortuiging (en die ervaring van baie mense) dat ’n sinvolle nagmaalviering veel kan doen om mense te help om meer bewus te wees vanGod se werklike teenwoordigheid in die erediens. Die voorwaarde hiervoor is egter dat die primêre fokus van die nagmaal nie die gekruisigde en sterwende Christus sal wees nie, maar dat ons ook sal weet dat die gekruisigde Heer opgestaan het en leef en dat Hy self deur sy Gees die vrug van sy soenverdienste aan ons kom uitdeel.
Veral gereformeerdes behoort die krag van so ’n verstaan van die nagmaal te kan waardeer. Die kern van ’n gereformeerde verstaan van die evangelie is dat ons glo in die lewende Christus, die gekruisigde en opgestane Heer, wat te alle tye Self by ons teenwoordig is deur die Heilige Gees en wat deurentyd besig is om sy werk onder ons te doen en sy koninkryk te laat kom. Die nagmaal is dan die geleentheid waar ons weekliks herinner word aan die werklikheid van Christus se opstanding en verseker word van die voortgang van sy werk.
• ’n Gereelde viering van die nagmaal na die Woordbediening kan ons met nog ’n probleem help. Dit is bekend dat die gemiddelde Protestantse erediens mense nie altyd genoegsaam begelei met die toe-eiening van die geloofsgoed waaroor in die diens (veral onder die prediking) gepraat word nie. Predikers word dikwels verlei om te dink dat as hulle oor die heil gepraat en dit vir mense probeer verduidelik het, die toe-eiening daarvan eintlik ’n vanselfsprekendheid is. Die ervaring leer egter dat dit ongelukkig nie die geval is nie. Sonder om af te doen aan die heilsbemiddelende karakter van die prediking self, moet erken word dat die gelowige ontvangs of toe-eiening van die heil dikwels ’n tweede saak (met sy eie problematiek) is na die hoor of selfs die verstaan daarvan. Die Reformatore se beklemtoning van die pastoraat (dit is wat die tug in wese is) gee blyke daarvan dat hulle dit verstaan het. In die pastoraat (wat na die diens plaasgevind het, dikwels by mense se huise) kan verder gepraat word oor sake wat ons daarvan weerhou om die heil in ons lewe te ontvang. In sekere evangeliese kringe word probeer om die probleem van toe-eiening op te los deur ’n sogenaamde “altar call” gedurende die diens. Dit is ons oortuiging dat die Woord en die sakrament komplementerende heilsmiddele is wat bedoel is om saam gebruik te word. ’n Nagmaalviering na die preek is die logiese en ideale manier om gelowiges te help om die heil waarvan hulle in die Woordbediening gehoor het, te ontvang, toe te eien en so tot diep binne-in hulle hart en lewe te laat kom. Die reël is dat al die beloftes waarvan die Woord praat, week na week saamgebundel word, na ons gebring en aan ons gegee in die brood en die wyn. As ons dit gelowig ontvang en dit eet en drink, word dit ons eie en word ons opnuut met Christus self verenig.
Die nagmaal kan ons help om te verstaan dat die evangelie nie net gedagtes, idees, woorde en beloftes is nie, maar dat die Here self konkreet, fisiek na ons kom en Homself en sy gawes aan ons gee. Agter dit sit die oortuiging van die kerk en die gereformeerde vaders dat die sakramente een van die maniere is waarop God self onderneem het om na ons te kom.
6. DIE IMPLEMENTERING VAN ’n WEEKLIKSE NAGMAALVIERING: ’n PROSES
Ons sal ’n fout maak as ons dink dat ons kerkvernuwing kan bewerk deur ’n besluit te neem om eenvoudig alle gemeentes te druk in die rigting van ’n weeklikse viering van die nagmaal. Ons almal weet dat die evangelie nie so meganies werk nie. ’n Oorhaastige implementering van ’n weeklikse viering van die nagmaal sonder oorleg of voorbereiding sal waarskynlik min verskil maak aan die geestelike kwaliteit van ons gemeentes. Net soos met die Woord is dit ongelukkig so dat mense nie ’n aangebore waardering vir die sakrament het nie en dat die sakrament - so glo ons as gereformeerdes - ook nie vanself werk nie. As ons die Woord kan banaliseer deur gewoond te raak daaraan, kan ons dit ook met die sakrament doen. Ons moet aanvaar dat mense opgevoed en geleer sal moet word om die sakramente na reg te waardeer.
In hierdie leerproses sal aan die volgende sake aandag gegee moet word:
• Ons sal geleenthede moet vind (in die prediking, groepbyeenkomste, geskrifte, gesprekke) om ’n hoër waardering van die nagmaal by mense te vestig. Sonder dat ons praat hieroor en die skuif aan mense verduidelik, gaan ons ’n nuwe praktyk moeilik gevestig kry. Gereformeerde kerke is nou eenmaal kerke waarin ver-duideliking en verstaan ’n belangrike rol speel.
• Daar sal dringend aandag gegee moet word aan die tydsduur van die nagmaal-viering. As die nagmaalviering meer direk aan die Woordverkondiging gekoppel word, is die lees van die uitgebreide formulier - wat heelwat tyd geneem het - oorbodig (dit kan nog by spesiale geleenthede gebruik word).7 Die ervaring leer dat ’n beter en uitgebreider uitdelingsisteem ook heelwat tyd kan bespaar. Daar is ’n redelike mate van konsensus dat die wesenlike momente van die nagmaalviering bestaan in die gebed (epiklese, dankgebed en gebed vir die wêreld), die instelling met die vaste instellingswoorde uit die Nuwe Testament en dan die kommunie.
• Groter variasie wat betref die wyse van kommunie kan heelwat help met ’n nuwe waardering van die sakrament. Daar is meer teoloë wat meen dat iets van die simboliek van die nagmaal verlore gaan as lidmate eenvoudig in hulle banke bedien word met die tekens. Die opstaan en opkom na die tafel vertel iets van ons aktiewe, gelowige ontvangs van die tekens. Ons kon in die gereformeerde tradisie ten minste vier wyses van kommunie terugvind:
• die gemeente kom in groepe by die tafel aansit;
• die gemeente kom op na die tafel en ontvang die tekens staande of knielende (ook genoem die wandelende kommunie);
• die gemeente kom in een of meer groepe rondom die tafel (in ’n kring of halfmaan) staan en gee die tekens vir mekaar aan;
• die gemeente ontvang die tekens in die banke. Dit is belangrik om te verstaan dat laasgenoemde praktyk geensins die ideaal is nie en meestal gevolg word bloot vanweë praktiese oorwegings.
Ons sou wou pleit dat gemeentes aangemoedig word om nie altyd die nagmaal op presies dieselfde manier te vier nie. ’n Mens sou sonder veel moeite aan spesifieke geleenthede of tye in die jaar kon dink waar een van bogenoemde metode te verkies is bo die ander.8
• Dit is ook belangrik om daarop te let dat gereformeerde kerke nog altyd die presiese hoe van die viering van die nagmaal as ’n saak van middelmatigheid beskou het. Of mense vorentoe kom of in die banke bly sit, of wyn of druiwesap gebruik word, of mense die tekens apart of saam gebruik, en of die brood in die wyn gedoop of apart gebruik word, is alles sake waarin ’n groot mate van vryheid aan plaaslike gemeentes toegeken word.
• Die verband tussen Woordverkondiging en sakrament moet te alle tye gehandhaaf word. ’n Hoër waardering vir die sakrament mag nie lei tot ’n devaluering van die Woordverkondiging nie. In hierdie opsig is die oorgang van die prediking na die sakramentsviering uiters belangrik. Die sakramentsviering sou telkens ingelei kon word met ’n sin of vyf waarin die beloftes van die teks van die dag “oorgedra” word op die brood en die wyn.
• Die vraag of die nagmaal ook in kleiner groepe gevier kan word, is ’n moeiliker vraag. Daar is ’n tradisie wat sê dat die karakter van die nagmaal as dié eenheidsfees van die kerk in die gedrang kom as dit ook by kleiner byeenkomste in die gemeente gevier word. Aan die ander kant leer die praktyk dat mense ten beste gehelp word om die nagmaal te waardeer juis wanneer hulle dit in ’n kleiner intieme groep kan meemaak. Ons sou die viering van die nagmaal in kleiner byeenkomste van die gemeente (waarin daar ook ruimte vir Woordbediening en aanbidding is) wou aanbeveel as ’n oorgangsmaatreël in die tyd waarin ons ons gemeentes probeer help om die sakramentsviering nuut te waardeer.
7. KONKLUSIE
Aan die einde van hierdie reeks oor die gereformeerde nagmaal behoort dit nou vir lesers moontlik te wees om die huidige nagmaalviering in die NG Kerk, nie alleen binne sy historiese en ekumeniese konteks te waardeer nie, maar ook as onontbeerlike rolspeler in vernuwing en herstel. ’n Weeklikse, of ten minste meer gereelde nagmaalviering, was Calvyn se ideaal. Variasies ten opsigte van die wyse van viering is wenslik, veral in ’n oorgangsfase (na ’n meer gereelde viering). Indien die implementering van ’n meer gereelde viering met die nodige omsigtigheid geskied, sal dit enersyds beteken dat die NG Kerk op liturgiese gebied nader beweeg aan ander Christelike kerke en die eenheid van die liggaam van Christus só dien. Andersyds sal dit ’n poging tot kerken erediensherstel wees, deur dit te gebruik wat ons eie gereformeerde tradisie ons bied - die nagmaal.
“Dit is my liggaam; dit is vir jülle. Gebruik dit tot my gedagtenis” (1 Kor 11:24b).
BIBLIOGRAFIE
Acta Synodi van die NG Kerk 1962, 1966, 1970, 1974, 1978, 1982, 1986, 1990, 1994 en 1998.
Barnard, A C 1981. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Boendermaker, J 1998. Maaltijd van de Heer: oecomenisch-protestant, in Oskamp, P & Schuman, N (reds). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Meinema: Zoetermeer.
Bosch, R A 1999. Rouwsluier over de Tafel van de Heer? Over de herkomst van de avondsmaalviering op de Goede Vrijdag. Eredienstvaardig 15/1, 7-11.
Burger, C W B 1995. Gemeentes in transito: Vernuwingsgeleenthede in ’n oorgangstyd. Kaapstad: Lux Verbi
Calvyn, J 1991. Institusie van die Christelike Godsdiens Deel 4. Vertaal deur H W Simpson. Potchefstroom: CJBF.
Davies, H 1993. Bread of life & cup of joy. Michigan: Eerdmans
Dix, G 1947. The shape of the liturgy. Westminster: Dacre Press.
Fenwick, J & Spinks, B 1995. Worship in transition. Edinburgh: T & T Clark Handboek vir die erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1988. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Heyns, M et al (reds). Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die Leesrooster vir lidmate. Stellenbosch: Buvton. Holper, J F 1994. As often as you eat this bread and drink the cup. Interpretation 68:1, 61-73.
Keck, L E 1993. The church confident. Nashville: Abingdon.
Reid, J K S (red) 1984. Calvin: Theological treatises. Library of Christian Classics: Ichthus Edition. Philadelphia: The Westminster Press.
Wegman, H A J 1991. Riten en mythen. Liturgie in de geschiedenis van het christendom. Kampen: Uitgeverij Kok.
Welker, M 2000. What happens in holy communion? Michigan: Eerdmans
World Council of Churches 1982. Baptism, Eucharist and Ministry. Faith and Order Paper no 111. Genève.
1 Sien Acta Synodi van die NG Kerk 1962, 1966, 1970, 1974, 1978, 1982, 1986, 1990, 1994 en 1998. By elkeen van hierdie vergaderings van die Algemene Sinode van die NG Kerk het óf die wyse van nagmaalviering óf die frekwensie van die nagmaal aan die orde gekom.
2 Sien o m Davies (1993) vir ’n goeie bespreking van die groeiende ekumeniese konsensus oor die nagmaal
3 Van die beter en meer betroubare bronne hieroor is waarskynlik Michael Welker se What happens in Holy Communion?
4 Vgl bv die Groot Euchariste-gebed van Justinus uit sy Apologie (153AD), ’n gebed uit die Didachè en die gebed in die Apostoliese Tradisie van Hippolitus (Boendermaker 1998:232; Dix 1947:36; Wegman 1991:84-85).
5 ’n Stimulerende artikel in hierdie verband is dié van Frederick Holper (1994) met die titel “As often as you eat this bread and drink the cup”. Hoewel sommige van sy bevindinge aanvegbaar is, kan sy interessante sisteembenadering van die gemeentelike erediens help om ’n mens se eie aanvoelings oor die erediens beter te verstaan.
6 In die publikasie Gemeentes in transito (1995:86-91) is meer uitvoerig oor hierdie saak geskryf.
7 Vgl ook 4.2 in deel 2 van hierdie reeks.
8 Vgl hier gerus die groot hoeveelheid voorstelle vir verskillende wyses van nagmaalviering in die Buvton-publikasie, Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die Leesrooster vir lidmate.