Coetzee, CFC
Noordwes-Universiteit (Potchefstroom)

Godsdiensvryheid in die lig van Artikel 36 NGB1

ABSTRACT

Freedom of religion in the light of Article 36 of the Belgic Confession

Religious freedom is a matter of great importance and concern for churches in the new South Africa. Furthermore, there is no consensus amongst theologians on what exactly the role of the government should be in this regard. In this article the relationship between church and government is discussed from a theological perspective with special reference to Article 36 of the Belgic Confession.

South Africa is a constitutional state, but ideologically it is a neutral and/or secular state. Therefore the policy of the government is one of equality of religion. The result is that the government propagates a multireligious approach in education, in the media, etc. as well as unbiblical practices like the state lottery, abortion etc. In doing so, the government promotes “idolatry and false worship” (Article 36 B C). According to Scripture and the Reformed confession, any government has a task to promote the kingdom of Christ. It is the task of the churches to witness untiring to the government in this regard.

1. INLEIDING

Die tema wat hier aan die orde kom, naamlik Godsdiensvryheid, is en bly ’n aktuele tema waaroor voortdurende besinning nodig is. In die nuwe staatkundige bedeling wat vir Suid-Afrika in 1994 aangebreek het, is dit een van die wesenlike sake waaroor daar nog nie volkome duidelikheid bestaan nie, om van eenstemmigheid nie eers te praat nie. Die onderwerp kan van verskillende kante benader word, byvoorbeeld uit ’n juridiese of konstitusionele oogpunt. Dit is die bedoeling van hierdie artikel om na Godsdiensvryheid te kyk vanuit ’n kerklik-teologiese hoek en dan in besonder die Suid-Afrikaanse situasie te beoordeel in die lig van wat in die Reformatoriese tradisie bely word oor die verhouding tussen die Kerk en die Staat. Hierdie belydenis word veral verwoord in Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561).

2. GODSDIENSVRYHEID

Coertzen (2005:1) konstateer dat vryheid vir Christene ’n fundamentele saak is. “For Christians their freedom, the freedom that forms the basis of their existence as Christians is non-negotiable”. Hy gaan voort (Coertzen 2005:1, 2) om aan te toon dat die begrip vryheid ’n sentrale begrip in die Bybel is en uiteindelik saamtrek in Christus wat die volkome vryheid bewerk. Hierdie vryheid het implikasies vir individue sowel as gemeenskappe, kerke en state, vir die natuur sowel as die kultuur (Coertzen 2005:2).

Vorster (1993:307) toon aan dat Godsdiensvryheid tans wêreldwyd beskou word as ’n basiese mensereg wat saam met ander regte beskerm moet word (vgl ook Vorster 1997:83). Hierdie stand van sake is volgens Vorster (ibid) grootliks die gevolg van die Verenigde Volke Organisasie se internasionale Deklarasie van Menseregte (1948) en verskeie besluite wat daarop rus. Coertzen (2005:6/7) verwys na Blei wat Godsdiensvryheid in terme van genoemde Deklarasie definieer en stel onder andere die volgende:

“…religious freedom has both an individual and a social side. Religious freedom is also more than just to have a religion and to keep inner convictions and feelings. Freedom of religion includes the right that everybody can express their religion and faith in worship, teaching, practice and maintaining….It also includes the fact that the religious convictions of people usually contain views of how they think society should be organized. Blei also points out the important fact that freedom of religion implies that the authorities must accept the responsibility and duty to respect and guarantee the right to freedom of religion…active engagement by the state is required in order to make religious freedom a reality to all religious people. The state should create the possibilities and facilities so that freedom can really be enjoyed and implemented”

Dit is veral hierdie laaste aspek, van die verantwoordelikheid en spesifieke rol van die owerheid, wat in hierdie artikel beoordeel word.

Vorster (1993:308/9) verwys na die standpunt van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (nou die Gereformeerde Ekumeniese Raad) oor godsdiensvryheid, waar onder andere die volgende gestel word:” … the right to religious liberty – challenging us in a religiously pluralist world to plead the cause of all persons and communities to freely choose and change their religions, to live out their beliefs freely, both privately and publicly, within the various structures of society, without infringing upon the similar rights of others” (GES 1983:151, aangehaal deur Vorster, 1993:309).

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het amptelik instemming betuig met genoemde Pastoral Statement sowel as met die “RES testimony on human rights” (vgl.GKSA1985:651; vgl. ook Coetzee 2002:201)2

Die begrip “godsdiensvryheid” word dan deur Vorster (1997:83) in teologies-etiese sin soos volg omskryf: “ … die reg en moontlikheid van godsdienste om vryelik in ’n samelewing te funksioneer volgens die eie beginsels van die betrokke godsdiens”.

In sy definiëring of omskrywing van Godsdiensvryheid, sluit Coertzen (2005:7) aan by Witte (Religion and the American Constitutional Experiment, 2000), wat onder “The Essential Rights and Liberties of Religion” die volgende verstaan: “(i) Freedom of conscience, (ii) the free exercise of religion, (iii) religious pluralism, (iv) religious equality, (v) the separation of church and state and (vi) the disestablishment of religion by the state”

In die verband van hierdie artikel is dit veral belangrik om te let op wat van Ruler (1973:137-139) in verband met “Religious pluralism”sê, naamlik dat dit ’n radikale verandering teweeg gebring het in ons siening van die staat. “In wezen verschuift er iets in het wezen van de staat als historische realiteit: de staat als staat erkent niet meer alleen God, maar ook de niet-God, het vacuum, de grote X, ‘het abstracte’ van de filosofie” (aw:138). Die vraag is of Van Ruler hiermee die gelykheid van die verskillende godsdienste voor die wet in gedagte het, of iets meer. Van Ruler is ook van mening dat hierdie verandering onvermydelik was, alhoewel hy persoonlik oortuig is dat die Reformatoriese opvatting oor die staat die grootste waarborg is vir toleransie en Vryheid (ibid)3.

Ewe-eens is dit in die verband van hierdie artikel baie belangrik om te let op die aspek van godsdiensgelykheid wat deur Witte, Coertzen en andere gesien word as ’n inherente deel van Godsdiensvryheid en saam met die ander vyf aspekte in die Amerikaanse Grondwet opgeneem is. Alhoewel Coertzen (2005:11) konstateer dat dit hier primêr gaan oor die gelykheid van die verskillende godsdienste voor die wet, sê hy verder: “… respect for autonomy, diversity and plurality in society is equally important” (ibid). Hy verwys dan onder andere na die kwessie van onderwys: “Public education must for instance be given with respect for everybody’s religious conviction while the authorities also have the duty to honour and respect the convictions of special schools in the community” (ibid).

Die basiese idee van die Suid-Afrikaanse Grondwet is juis dié van gelykheid. Hierop kom ons later terug.

3. ARTIKEL 36 NGB

Die Bybelse verkondiging oor die amp en taak van die owerheid en die verhouding tussen die kerk en die owerheid, word deur ’n groot aantal kerkgemeenskappe uit die Reformatoriese tradisie in Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) bely. Vir die doeleindes van ons onderwerp is veral dié deel van die artikel van belang wat soos volg lui:

Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. (Die volgende gedeelte is veral belangrik en terselfdertyd ook die omstrede deel van die artikel). En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.

Agtergrond

Wat die Nederlandse Geloofsbelydenis self betref, is dit belangrik om te onthou dat dit geskryf is in die tyd van die Roomse Inkwisisie. Vanweë die gevaar van vervolging, moes Guido de Bres anoniem bly by die skryf daarvan. Saam met die belydenis het ook ’n brief aan die koning verskyn, asook ’n skrywe aan die laer owerheid. Albei hierdie skrywes het die bedoeling gehad om te bewys dat die Gereformeerde Reformasie niks met die rewolusionêre beweging van die Wederdopers te doen gehad het nie, dat hulle lojaal teenoor die owerheid gestaan het en van laasgenoemde verwag het om sy plig ten opsigte van die ware kerkdiens na die eis van God se Woord na behore en ten volle te vervul (Van Itterzon 1971:63; vgl. ook Coetzee 2002:199). Die brief van De Bres herinner op sy beurt sterk aan die skrywe van Calvyn aan die Franse koning, ter motivering van sy Institusie.

Calvyn oor die verhouding Kerk en staat

Die uiteensetting van Calvyn in sy Institusie, boek 4, hoofstuk 20 oor die burgerlike owerheid kan dan ook in ’n groot mate as die uitgangspunt vir Artikel 36 beskou word. So verklaar Calvyn in Inst. 4.20.2:

“… so lank ons onder mense verkeer, is hierdie regering bestem om die uiterlike godsdiens te koester en te beskerm; die gesonde leer van godsvrug en die toestand van die kerk te beskerm; ons lewe na die gemeenskap van mense te skik; ons sedes volgens burgerlike geregtigheid te vorm, ons met mekaar te versoen en die gemeenskaplike vrede en rus te voed.”4

En in Inst.4.20.3 vervolg hy:

“Burgerlike regering is immers nie slegs daarop gerig … om mense asem te laat haal, te laat eet, drink en hulle te onderhou nie, hoewel dit beslis al hierdie dinge insluit wanneer dit bydra om alle mense saam te laat leef; ek herhaal: dit dien nie slegs hiervoor nie, maar ook dat afgodery, geen heiligskennis teen God se Naam, geen laster teen sy waarheid en ander ergernisse teen die godsdiens in die openbaar sou ontstaan en onder die volk uitgestrooi word nie; dat die openbare rus nie versteur word nie; dat elkeen dit wat aan hom behoort, veilig en ongeskonde mag behou; dat mense onderling ongestoord handel mag dryf en dat eerbaarheid en selfbeheersing onder hulle geëerbiedig mag word. Kortom: dat ’n openbare beeld van hulle godsdiens onder Christene moet bestaan en beleefdheid onder mense onder mekaar. ... Wanneer ek ’n burgerlike orde goedkeur wat daarop toegespits is om te voorkom dat die ware godsdiens wat in die wet van God saamgevat is, openlik en deur openbare heiligskennis ongestraf geskend en verontreinig word, laat ek mense hier nie meer toe om na eie goeddunke wette oor die godsdiens en die aanbidding van God te maak as tevore nie.5

Calvyn toon verder uit die Skrif aan hoe belangrik en hoog die owerheidsamp deur God gesien word. Met verwysing na Psalm 2:12 (“en kus die Seun in onderworpenheid”, 1936 beryming) sê hy byvoorbeeld (Inst. 4.20.5; OC II, 1096) dat die Here die vorste en konings nie beveel om hulle heerskappy te laat vaar en na ’n privaat lewe terug te keer nie, maar Hy beveel hulle om die mag waarmee hulle toegerus is, aan Christus te onderwerp sodat Hy alleen bo hulle almal kan uittroon.

Hy verwys ook na die opdrag in 1 Tim. 2:2 dat daar gebid moet word vir konings en almal wat hooggeplaas is, “sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (OAV) en dan vervolg hy (Inst. 4.20.6):

“Owerhede moet daarom gedurig (aan hulle roeping) dink omdat dit vir hulle ’n geweldige prikkel is om hulle tot plig op te wek, en omdat dit sonderlinge vertroosting vir hulle kan bied om die probleme van hulle amp wat beslis baie swaar is, te verlig. Hoeveel onkreukbaarheid, insig, beleefdheid, selfbeheersing en beywering vir onskuld moet diegene hulle immers self oplê wat weet dat hulle as dienaars van God se geregtigheid aangestel is? Met watter vertroue sal hulle onregverdigheid op hulle regbanke toelaat wanneer hulle hoor dat dit die troon van die lewende God is? Met watter moedswilligheid sal hulle ’n onregverdige vonnis uitspreek met ’n mond wat hulle weet, as ’n instrument vir die waarheid van God bestem is? Sal hulle met ’n skoon gewete besluite onderteken met die hand waarvan hulle weet dat dit bestem is om die handelinge van God te onderskryf? Kortom: as hulle in gedagte hou dat hulle plaasvervangers van God is, moet hulle met alle sorgsaamheid, deeglikheid en ywer waak om vir mense ’n beeld van Goddelike voorsienigheid, bewaring, goedheid, welwillendheid en geregtigheid weer te gee.6

Dit is veral belangrik om daarop te let dat Calvyn op grond van die Skrif daarvan oortuig is dat die owerheidsamp hom uitstrek oor altwee tafels van die wet (Inst. 4.20.9). Selfs die filosowe van ouds was dit eens dat wette verkeerd is as hulle God se reg verontagsaam en slegs mense se belange ter harte neem (ibid). “Daarom is dit billik dat hulle (die owerheid – C F C C) werk daarvan maak om God se eer te beskerm en staande te hou omdat hulle sy plaasvervangers is en omdat hulle deur sy weldadigheid regeer” (ibid).7 Calvyn (Inst. 4.20.9) verklaar dat hierdie waarheid die dwaasheid aan die kaak stel van mense wat wil hê dat owerhede hulle slegs op die regspraak tussen mense moet toespits sonder om hulle oor God te bekommer. “Net asof God owerhede in sy Naam aangestel het om geskille op aarde te besleg, maar dit wat inderdaad by verre van die grootste belang was, agterweë gelaat het, naamlik dat Hy suiwer volgens die gebod van sy wet gedien moes word.8

Wat die tweede tafel van die wet betref, verwys Calvyn(Inst. 4.20.9) onder andere na Jeremia 22:3, Psalm 82:3 en Deutetonomium 1:16, 17 waar die volgende sake onder andere as plig van die owerheid genoem word: om reg en geregtigheid te doen; om die vreemdeling die weduwee en die weeskind nie te bedroef nie; om nie onskuldige bloed te vergiet nie; om die hulpelose en behoeftige mens te verlos; om in die regspraak geen persoon aan te neem nie; om na klein sowel as groot te luister en geen mens te vrees nie omdat dit God se regspraak is. Owerhede word dus as beskermers en regters aangestel met die oog op openbare onskuld, beskeidenheid, eerbaarheid en rustigheid. Hulle enigste belangstelling moet wees om vir die algemene welvaart en vrede van almal te sorg. “Misdadigers se grille kan ook slegs in bedwang gehou word as dit met strengheid en strawwe aan bande gelê word” (ibid)9. Daarom het die owerheid ook die reg om selfs die doodstraf toe te pas (Inst. 4.20.10).

Du Plooy (1992:764) wys ook daarop dat Calvyn aan die owerheid ’n positiewe taak toeken in die bevordering van die koninkryk van God.

Dit is sonder meer duidelik dat die gedagtes van Calvyn wel deeglik teruggevind kan word in Artikel 36 NGB. “De Bres laat in artikel 36 tot in details merken een leerling en volgeling van Calvijn te zijn” (Verboom 1999:277).

“Hoewel de term zelf niet gebruikt wordt, is in alles duidelik dat de overheid gezien wordt als Gods dienares (Rom 13:4 diakonos Theou). God regeert door de overheid. Dat is het theocratisch uitgangspunt van De Bres. De overheid regeert bij de gratie Gods. Ze is aan God verantwoording schuldig. Dat “geloven wij”, zegt De Bres in de eerste zin (nous croyons). Ook al gedraagt een bepaalde overheid zich niet als Gods dienares, zoals de Romeinse keizer ten tijde van Paulus, zij is het toch (de jure). Heel het belijden aangaande de overheid in artikel 36 staat onder dit prolegomenon van het geloof. Calvijn had het De Bres …voorgezegd” (Verboom 1999:277; vgl ook Polman sj DL II:302, 304/5).

Vorster (1993:310) wys ook op die wye invloed van Calvyn se denke in die sestiende eeu en veral sy invloed op De Bres. “De Bres het Calvyn se beskouing in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis weergegee” (Vorster 1993:311).

Verandering in formulering

Vorster (1993:312-314) vestig ook die aandag op die kritiek wat deur die loop van die tyd teen Artikel 36 ingebring is en studie en ontwikkeling wat by verskeie kerk-gemeenskappe gelei het tot ’n herformulering van die omstrede deel van die artikel wat handel oor die uitroeiing van die afgodery en valse godsdiens en die vernietiging van die ryk van die Antichris. Van belang is veral die besluit wat in 1905 deur die Gereformeerde Kerken in Nederland (GKN) geneem is, naamlik om die volgende gedeelte in die artikel te skrap: “… om alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig” (Vgl Vorster, 1993:313). Die volgende gedeelte is dus nie geskrap nie: “die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel”. Die GKN wou in hierdie besluitneming aan die een kant waak teen ’n staatskerk of staatsreligie, maar terselfdertyd nie die gedagte van ’n neutrale staat onderskryf nie (Vorster 1993:312). “Hierdie standpuntinname berus op die Bybelse standpunt dat die owerheid ’n instelling van God is” (ibid).

In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) is aan die formulering van Artikel 36 aandag gegee na aanleiding van ’n beswaarskrif wat teen die Afrikaanse vertaling ingedien is (vgl. Acta, GKSA 1973:191). Die beswaarskrif is uiteindelik gehandhaaf en in 1979 is ’n hervertaling aanvaar wat soos volg lui (Acta, GKSA 1979:478): “En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook om die heilige woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig ...” Die klem val in hierdie hervertaling op die woord “sodoende”. “Hiervolgens is dit dus die taak van die owerheid om ruimte te skep vir die kerk om kerk te wees en vir die gelowige om gelowige te wees” (Vorster 1993:313).

Ook in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is die artikel in 1958 gewysig en word dit in bogenoemde betekenis verklaar. “Dit is dus nie die taak van die owerheid om dit alles te doen nie, maar wanneer die owerheid sorg dat die kerk die ruimte het om ongehinderd die evangelieboodskap te verkondig, sal afgodery en valse godsdiens as gevolg daarvan teengegaan word, die ryk van die Antichris vernietig word en die koninkryk van Jesus Christus bevorder word” (Heyns 1992:399).

In 1999 het Dr K Van der Zwaag aan die Vrije Universiteit in Amsterdam gepromoveer met ’n proefskrif oor die herformulering van Artikel 36. Dit titel lui: “ONVERKORT OF GEKORTWIEKT? Artikel 36 van de Nederlandse Geloofsbelijdenis en de spanning tussen overheid en religie. Een systematisch-historische interpretatie van een ‘omstreden’ geloofsartikel” Ten opsigte van Artikel 36 stel Van der Zwaag (1999:18) onder andere die volgende: “Artikel 36 kunnen we als een theocratische visie op de overheid beschouwen. Theocratie (letterlik: Godsregering) vatten we op als een norm die Gods Woord stelt voor geheel het leven, inclusief de samenleving”. En wat sy studie oor hierdie onderwerp betref, verklaar hy (Van der Zwaag 1999:20): :”We menen dat bezinning op de norm van Gods Woord voor de samenleving, al dan niet vanuit het geloofsperspektief van artikel 36, een bijdrage kan leveren aan het streven om de overheid en de politiek (opnieuw) te binden aan christelijke waarden en normen”.

Volgens Van der Zwaag (1999:93) ken die verteenwoordigers van die sestiende eeuse Reformasie aan die owerheid ’n positiewe taak toe insake die handhawing en beskerming van die ‘ware’ godsdiens. “De kerk diende te zorgen voor de verkondiging van het Evangelie, de overheid was verantwoordelijk voor het scheppen van gunstige voorwaarden waarbinnen de kerk haar taak kon vervullen. De actieve rol die de overheid werd toebedeeld, hield enerzijds in bescherming van de kerk van de Reformatie en handhaving van de orthodox-christelijke leer, anderzijds het weren van alle uitinge van valse godsdienst, voorzover die zich op het publieke terrein uitten” (Van der Zwaag 1999:93/4). In die lig van hierdie stelling deur Van der Zwaag is dit dus ’n foutiewe interpretasie van Artikel 36 om te beweer (soos. o.a. Smit 1991:9 Vorster 1993:314, 1997:88, Coertzen 2005 en andere) dat die staat slegs op ’n neutrale manier aan die kerk ruimte moet bied vir die Woordbediening. In hierdie verband is die interpretasie van Fourie (1991:37-38) meer korrek.

Van der Zwaag (1999:95) beklemtoon dat die taak van die owerheid beperk was tot die publieke terrein en dat die vryheid van gewete ook in die sestiende eeu as ’n onvervreembare reg van die individu gesien is.

Die volgende konklusie van Van der Zwaag (p. 132) is ook van belang: “Het geloofsartikel spreekt in algemene termen over de overheid en laat de norm van Gods Woord als richtingevend voor de overheid niet afhangen van de concrete omstandigheden of (on)mogelijkheden”.

Enige besinning oor Artikel 36 en die verhouding van kerk en staat moet deeglik kennis neem van die resultate van Van der Zwaag se studie. Die belangrikste relevante eindkonklusies waartoe hy kom, kan soos volg opgesom word (vgl. Van der Zwaag 1999:534-539):

• Artikel 36 is ’n konfessionele uitspraak oor die amp van die owerheid.

• Die uitdrukking “teen te gaan en uit te roei” is in die geskiedenis ten onregte uitgelê as

• ’n gewelddadige onderdrukking of selfs eliminering van andersdenkendes deur die sterk arm van die owerheid (vgl. hier onder andere Smit 1991:9). Hierteenoor is die beginsel van vryheid van gewete juis in die sestiende eeu sterk beklemtoon.

• Die sinsnede oor die teëgaan en uit roei van afgodery en valse godsdiens geld slegs vir die publieke domein van die samelewing. Dwang in sake van geloof en godsdiens is geag as ongeoorloof en sinloos.

• Artikel 36 vorm ’n essensiële bestanddeel van ’n gereformeerde visie op die owerheid.

• Luther en Melanchton het reeds die eerste boustene gelê. Volgens hierdie visie word die twee ryke van wêreldlike en geestelike regering nou met mekaar verbind en word die owerheid as die “hoedster” van albei tafels van die wet van God gesien.

• Die amp van die owerheid omvat sowel die tydelike orde (politia) as die heilige kerkdiens (diens van die Woord) en die roeping tot die teëgaan en uitroei van afgodery en valse godsdiens kan nie hiervan uitgesonder word nie.

• Artikel 36 verteenwoordig nadruklik ’n teokratiese beginsel, naamlik die Godsregering oor alle dinge, wat as die enige geldende norm vir die samelewing gestel word. Hierdie norm word in Artikel 36 tot uitdrukking gebring ongeag die vraag of dit in die praktyk realiseerbaar is. Dit het alles te doen met die geloofskarakter van die belydenis.

• Die genoemde Teokratiese beginsel impliseer ’n noue samewerking tussen kerk en staat, wat die een gemeenskaplike grondslag behoort te besit in die Skrif en die daarop- gebaseerde belydenisskrifte.

• Die prysgawe van die beginsel onderliggend aan artikel 36 vanweë die onrealiseerbare daarvan, is moreel onaanvaarbaar.

• Die aktualisering van artikel 36 in hierdie tyd van sekularisasie en godsdienstige en lewensbeskoulike pluralisme, is geleë in ’n hernude oriëntasie op die Heilige Skrif.

• Dit is noodsaaklik dat duidelik omskryf word wat die teokratiese prinsipes inhou in die

• konteks van ’n samelewing wat gekenmerk word deur pluralisme en grondwetlikegelykstelling van godsdiens en lewensbeskouing.10

Sover die magistrale studie van Van der Zwaag. Samevattend kan gestel word, sowel wat hierdie studie betref, asook die herformulerings en hervertalings waarna hierbo verwys is, dat die beginsel nooit prysgegee is dat die owerheid die taak het om die Woordbediening te beskerm, die evangelie orals te laat verkondig en die Koninkryk van Jesus Christus te bevorder nie. Dit geld ook vir die kritici van die omstrede deel van artikel 36.

Daar bestaan grootliks eenstemmigheid onder teoloë in die Calvinisties-reformatoriese tradisie dat die owerheid ’n taak het om die Koninkryk van God te bevorder. So stel Du Plooy (1992:768) onder andere: “Is die bevordering van die koninkryk van Jesus Christus slegs die gevolg van die beskerming van die kerk, of is dit ook ’n bepaalde taak en verantwoordelikheid van die owerheid? Uit ons uiteensetting … behoort dit duidelik te wees dat die bevordering van die koninkryk van Jesus Christus sonder twyfel die eintlike taak van die owerheid is. Alles trek uiteindelik daarin saam”.

Hierdie beginsel word onder andere ook in besluite van die GKSA gehandhaaf: “Die GKSA huldig die standpunt (Acta 1970:407) dat, aangesien die koninkryk van God met die koms van Christus aangebreek het (Mark. 1:15), daar aanvaar kan word dat God ook van die owerheid die bevordering van sy koninkryk eis” (Coetzee 2002:200; vgl. ook van Bruggen 1980:188). “… sinoniem met die koms van die koninkryk en die heerskappy van Christus as Hoof van kerk en wêreld is die feit en die eis van reg en geregtigheid in God se nuwe skepping in Christus – waaraan die kerk met sy plaaslike en algemene aard en die staatsowerheid met sy mag oor ’n bepaalde groep onderdane in ’n spesifieke grondgebied diensbaar moet wees” (Du Plooy 1991:112). Die Skrif en die belydenis leer nie so iets soos ’n “neutrale owerheid” nie. “In het neutrum loert het nihil” (Verboom 1999:286 met verwysing na Van Ruler). Die gebooie van God moet ook deur die owerheid gehou en toegepas word (Deut. 8:19-20; 16:18-20) en dan nie slegs díe van die Tweede tafel nie maar ook díe van die Eerste (Coetzee 2002:200; vgl. Acta, GKSA 1970:406).

4. DIE SUID-AFRIKAANSE SITUASIE

Dit is belangrik om daarop te let dat Christen Staatshoofde soos S J P Kruger en H F Verwoerd die verhouding tussen die kerk en die staat gesien en probeer orden het in die lig van wat in artikel 36 bely word (vgl. Coetzee 2002:198/9)11.

Sedertdien het die situasie in Suid-Afrika en die standpunt van die Staatshoof en owerheid radikaal verander. Die owerheid huldig nie meer die oortuigings van staatshoofde soos Kruger en Verwoerd nie. En wat die staatsvorm betref, het Suid-Afrika juridies oorgegaan van ’n “Christelik-Nasionale staat” na ’n regstaat (Vorster 1999:95). Ideologies het Suid-Afrika oorgegaan na ’n sekulêre of neutrale staat.12

Onder ’n regstaat word verstaan dat die Parlement nie op ’n pragmatiese wyse wette maak op die basis van die eise van die praktyk volgens norme wat vir daardie situasie alleen bestaan nie, maar volgens ’n vooraf vasgestelde beginselbasis. Hierdie beginselbasis word dan vervat in ’n handves van menseregte waaraan wetgewing moet voldoen. ’n Onafhanklike konstitusionele hof word dan bemagtig om alle wetgewing aan die hand van die beginsels van die handves te toets (vgl. Vorster 1997:80). In ’n regstaat is die Grondwet dus die hoogste gesag. Dit beteken dat grondwetlike waardes voorkeur geniet bo godsdienstige en kulturele waardes indien die verskillende waardes sou bots (Vorster 2000:127).

Wat die kwessie van ’n sekulêre of neutrale staat betref, stel Vorster (1997:83) die volgende: “In die aanhef van die 1996-Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is twee sake opvallend. Eerstens is daar ’n gebrek aan ’n duidelike belydenis van die drie-enige God as die gewer van gesag en die feit dat die owerheid as gesagsdraer ten diepste aan God verantwoording verskuldig is. Met hierdie weglating is doelbewus gekies vir die konsep van ’n sekulêre staat. Daarmee word bedoel dat die staat lewensbeskoulik neutraal is en nie ’n bepaalde ideologie of godsdiens as basis het nie. Die vraag is egter of so ’n grondwet neutraal kan wees. Alhoewel daar nie ’n duidelike keuse gemaak word nie, moet die een of ander lewensbeskouing as voorveronderstelling latent teenwoordig wees. Sekularisme is ’n lewensbeskouing op sigself en met die weglating van die belydenis van God Drie-enig is by implikasie gekies vir sekularisme”.

In hierdie verband wys Van der Westhuizen (1994:5) daarop dat ’n neutrale owerheid of ’n ongekerstende owerheid vir Calvyn en sy tydgenote ondenkbaar en onaanvaarbaar was. Ook die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (AKLAS) van die Sinode van Suid-Transvaal van die N G Kerk wys sodanige staatsvorm af omdat dit die eer van God aantas (1995:9).

Die Grondwet en godsdiensvryheid

Wat die nuwe grondwetlike bedeling sedert 1994 betref, word die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening in die 1996-Grondwet omskryf in hoofstuk 2 onder die opskrif “Handves van Regte, Artikel 15”, waar dit soos volg geformuleer is:

15(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

15(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied mits

a) Daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;

b) Dit op billike grondslag gemaak is;

c) Bywoning daarvan vry en vrywillig is.

In Artikel 31(1) van die Grondwet word voorsiening gemaak dat persone wat aan ’n spesifieke kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, nie die reg ontsê mag word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hulle kultuur te geniet, hulle godsdiens te beoefen en hulle taal te gebruik nie; ook nie die reg ontsê mag word om kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

Artikel 29(3) bepaal wat die onderwys betref dat ouers op grond van godsdienstige oortuigings private onderwysinrigtings kan oprig.

Problematiek

Daar is in die algemeen eenstemmigheid dat die regstaat en die Grondwet wat in 1994 in Suid- Afrika tot stand gekom het, aan die kerk die ruimte en die geleenthede bied om sy roeping te vervul (Coetzee 2002:203). Coertzen (2001:7) bestempel die geloofsvryheid wat in die Grondwet gewaarborg word as ’n kosbare reg wat deur die kerke gekoester en benut moet word. Hy wys dan ook op die roeping van die kerke om hulle te beywer dat die vryheid neerslag sal vind in al die tersaaklike wette van die land (ibid).

Volgens N Vorster (2000:127) perk die Handves van Regte die mag van die owerheid in, sodat die kerk nou ’n regskanaal het waarop hy hom kan beroep. Hy is oortuig dat ’n regstaat wat fundamentele regte erken aan die kerk ’n besondere geleentheid bied om sy roeping met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid uit te leef (2000:131).

Die saak is egter myns insiens nie so eenvoudig nie. Hierbo is reeds daarop gewys dat Suid- Afrika nie net juridies ’n regstaat geword het nie, maar ideologies ’n sekulêre of neutrale staat. Dit is juis hierdie toedrag van sake wat wesenlike probleme skep vir kerke uit die Reformatoriese tradisie wanneer besin word oor godsdiensvryheid in die lig van Artikel 36 NGB. Dit is naamlik so dat daar in die optrede van die owerheid dikwels ’n spanning bemerk kan word tussen die Grondwetlike verskansing van godsdiensvryheid en die ideologiese beleidstoepassing. Sodoende word die juridies- gewaarborgde vryheid dikwels bedreig en selfs weggeneem.

Ons vind ’n duidelike voorbeeld van hierdie spanning onder andere in uitsprake en besluite rakende die onderwys, soos in die besluite dat die P U vir C H O as Christelike Universiteit ophou bestaan en dat die Christelike aard en karakter nie meer beskerm word nie. Wat die onderwys, veral in skole betref, skryf Dr Izak Burger in ’n ope brief aan die destydse minister onder andere die volgende (Rapport, 14 Okt 2001:17):

“Ons glo kerk en staat het elk ’n rol in die gemeenskap. Ons glo ons kan mekaar help om ’n groter vaderland te skep. Maar ons glo die rolle kan nooit vermeng word nie. U beleid oor godsdiensonderrig op skool erken die ryke verskeidenheid van ons godsdienserfenis, maar dit oortree die grondslag van ons grondwet deurdat dit geen keusevryheid laat vir onderwys uit ’n perspektief gegrond op ’n godsdiensstelsel nie. ’n Vooraanstaande opvoedkundige sê: ‘Die leerplan dwing leerders om ’n staatsontwerpte (New Age) mengsel van alle godsdienste te aanvaar en te bely’. Ons kan dit nie aanvaar nie en sal dit teenstaan. Ons sien dit as ’n opsetlike aanval op die Christelike godsdiens …U sê dat u beleid op die waardes van die grondwet gegrond is. Maar die grondwet beklemtoon die vryheid van keuse. Dit lyk of u alles in u vermoë doen om daardie reg by ons skole uit te wis”.

Wat die saak van onderwys betref, is die opmerkings van Malherbe (2005:15-18) van wesenlike belang. Hy stel onder andere die volgende: “Die beleid oor godsdiens in skole wat in 2003 deur die Departement van Onderwys afgekondig is, is ’n voorbeeld van wat gebeur as wêreldbeskouings in botsing kom. Omdat die beleid op ’n bepaalde wêreldbeskouing berus, maak dit in meer as een opsig inbreuk op die reg op godsdiensvryheid. Ek het by meer as een geleentheid verduidelik dat die beleid ongrondwetlik is, maar aangesien elemente van die beleid toenemend in leerplanne opduik, is verdere kommentaar nie onvanpas nie” (Malherbe 2005:15). Malherbe wys daarop (2005:16/17) dat die beginsel van neutraliteit onaanvaarbaar is en dat die onderwysbeleid gebaseer is op ’n humanistiese vertrekpunt. Uiteindelik stel hy (Malherbe 2005:17/18) die volgende: “In die lig daarvan dat die beleid ’n humanistiese, staatsbepaalde perspektief op die studie van godsdiens afdwing, wat lynreg indruis teen talle se geloofsopvattings, maak dit inbreuk op die reg op godsdiensvryheid op ’n manier wat beswaarlik ingevolge artikel 36 (van die Grondwet – C F C C) geregverdig kan word. Die staat handhaaf met hierdie beleid nie meer net ’n gesonde betrokkenheid wat ruimte skep vir die uitlewing van die reg op godsdiensvryheid nie. Die staat steek met hierdie beleid ’n lyn oor wat vreemd aandoen in ’n oop en demokratiese samelewing en tuishoort in sisteme waar denkkontrole nagestreef word. Die beleid behoort terstond geskrap en uit die leerplanne verwyder te word”.

Behalwe vir wat hierbo oor die onderwys gesê is, kan verder gestel word dat die godsdiensgelykheid wat in ideologiese sin in die praktyk geïmplementeer word tussen die Christelike godsdiens en ander godsdienste, byvoorbeeld in uitsendings oor Radio en Televisie, die “Teokratiese” beginsel wat in Artikel 36 NGB bely word direk in gedrang bring. Ook in etiese sake soos dobbelary, aborsie, ens. kom daar van die kant van die owerheid niks tereg van die beginsel dat hy dienaar van God is en geroep word om aan die Koninkryk van God diensbaar te wees nie. Kerklike getuienis op grond van die Skrif het tot sover op dowe ore geval.

Sowel J M Vorster (1997:88; vgl. ook 1993:314) as N Vorster (1999:80-82; 2000:122) is van mening dat die huidige Grondwet en staatsbestel voldoende ruimte bied vir die uitlewing van Artikel 36. Dit is wel so dat die kerk die ruimte en vryheid het om die evangelie te verkondig, in die sin van Woordbediening op Sondae. In dié opsig word “die heilige Woordbediening” beskerm. Myns insiens kan en moet hierdie begrip egter in wyer sin verstaan word. Hierbo is daarom daarop gewys dat die owerheid inderdaad ook hierdie ruimte weer inperk op terreine soos die onderwys en in etiese sake. Terselfdertyd word in die huidige staatsbestel ook die “afgodery en valse godsdiens” beskerm, bevoorreg en bevorder, direk in stryd met wat in Artikel 36 as taak van die owerheid bely word. Vervul die owerheid sy roeping om die Koninkryk van God te bevorder as hy terselfdertyd ook godsdienste en magte wat juis die koninkryk van God beveg, bevorder?

Dit lyk inderdaad of Vorster (2000:120) die rol van die owerheid in diens van die koninkryk wil beperk tot die handhawing van reg en orde. So ’n standpunt hou nie rekening met die volle draagwydte van Artikel 36 nie. Netso lyk dit asof J M Vorster (1993:315) slegs sake in gedagte het wat die tweede Tafel van die Wet raak, en ewe-eens nie rekening hou met die volle draagwydte van Artikel 36 nie. Tog verklaar hy (Vorster 1993:320) dat die toepassing van godsdiensvryheid nie ’n reduksie van die geloofsleer en die Bybelse openbaring mag meebring nie.

5. KONKLUSIE EN TOEPASSING.

By wyse van konklusie en toepassing moet die volgende gestel word:

• Daar hoef geen spanning te wees tussen Godsdiensvryheid, gesien in die lig van Artikel

• 36 NGB, en godsdiensgelykheid, in die sin van gelykheid voor die wet (juridies) nie.

• Godsdiensgelykheid in ideologiese (en teologiese) sin bring egter die Skriftuurlike beginsel soos verwoord in Artikel 36 in die gedrang.

• Die feit dat Suid-Afrika juridies ’n regstaat is, waar die hoogste gesag berus by die Grondwet en die Handves van regte, maar terselfdertyd ideologies ’n sekulêre en/of neutrale staat is, stel kerke van Gereformeerde belydenis voor ernstige probleme sover dit die uitlewing en toepassing van Artikel 36 betref.

In die lig van die beginsels van Artikel 36 en die Suid-Afrikaanse situasie wat hierbo gestel is, kan die vraag gevra word of hierdie belydenisartikel nog relevant is en toegepas kan word. Fourie (2005:12) is van mening dat dit nie kan gebeur nie. Landman (2005:11) meen dat die omstrede deel van die artikel wat (volgens Landman) van die owerheid verwag om afgodery te weer en valse godsdienste uit te roei, in die lig van die Grondwet van Suid-Afrika (1996) problematies is. Hy stel verder: “Calvyn se siening dat die owerheid (as regimen politicum) God se plaasvervangende gesante op aarde is, geld nie binne ons grondwetlike konteks nie” (Landman 2005:11) In hierdie verband kan ook verwys word na Raath (1997:6-8). Nadat hy op die verskillende besware vanuit die neutraliteitsdogma teen Artikel 36 ingegaan het, stel hy dit as sy oortuiging dat die belydenis nie aangepas mag word of toegelaat word dat ons Skrifbelydenis deur politieke magte bepaal word nie.

Dit is reeds gestel (vgl. die konklusies van Van der Zwaag waarna hierbo verwys is) dat die vraag nie is of Artikel 36 realiseerbaar is nie. Ons het hier inderdaad met ’n geloofsbelydenis te doen, ’n artikel waarin ’n belangrike Skrifwaarheid deur die kerk onder leiding van die Heilige Gees geformuleer is (homologia). Vanuit hierdie perspektief is die standpunt van Fourie (2005) onaanvaarbaar wanneer hy sê: “Dis duidelik dat die NGB tot stand gekom het in ’n konteks wat lankal reeds deur die moderne staatkunde en die instellings van die regstaat agterhaal is, en dat ons (gelukkig) bevry is van die ban van die staatsgodsdienstige model van waaruit dit gebore is. En daarom sal ’n korrekte hermeneutiese interpretasie van die teks van Art 36 ons tot die geseënde ontdekking bring dat ons die Artikel maar rustig kan lees en kan laat vir wat dit is: ’n interessante historiese teks uit ’n interessante historiese tydperk”. Hierdie standpunt van Fourie weerspieël ’n opvatting oor die belydenis wat radikaal verskil van die gereformeerde standpunt.

Soos in die geval van ander geloofsartikels, byvoorbeeld oor die eienskappe en merktekens van die ware Kerk (Nicea, Art. 27-29 NGB, ens), is daar inderdaad verskille tussen dit wat bely word en wat in die praktyk gedoen en gesien word. Die geloof (leer) word nie uitgeleef in die lewe nie.

Roeping

Die is juis die roeping van die kerk om dit wat geglo en bely word, steeds meer te realiseer. Ons mag die “Teokratiese droom” (Verboom 1999:291/2) nooit prysgee nie. Met die oog op die uitvoering van hierdie roeping in die toepassing van Artikel 36, kan die volgende gestel word:

• In die verhouding tot die owerheid moet die kerk getrou bly aan sy wese as instelling van God, volk van God, unieke geloofsgemeenskap (Vorster 1984:3-6). Hierdie totale andersheid van die kerk moet duidelik blyk uit die optrede en getuienis, ook teenoor die owerheid.

• Artikel 36 NGB moet in sy volle draagwydte gehandhaaf word.

• Indringende gesprek met en getuienis teenoor die owerheid moet as ’n saak van erns en dringendheid hanteer word (vgl in hierdie verband ook Du Plooy 1991:117). In hierdie opsig kan miskien begin word om met behulp van die “Parlementêre lessenaar” gereelde gesprekke te hê met lede van die Parlement uit alle partye, wat belydende Christene is.

• ’n Ander kanaal wat moontlik gevolg kan word, is die sogenaamde “Artikel 185- kommissie” vir die beskerming van godsdiens-, taal- en kultuurregte. Die gesprekke en getuienis moet ten doel hê om die beginsels van Artikel 36 tuis te bring en die owerheid te wys op die plek, taak en roeping van die owerheid volgens die Woord van God en die belydenis, die verhouding tussen die Kerk en die Owerheid, ens.(vgl. ook Du Plooy 1992:768).

• Die kerke moet onvermoeid (en desnoods met beroep op die Konstitusionele hof) aandring op die erkenning en toepassing van die Grondwetlike regte oor Godsdiensvryheid, waar hierdie regte bedreig of benadeel word deur die ideologies- gedrewe beleid van godsdiensgelykheid, sekularisme ens. (vgl die standpunt van Malherbe hierbo dat die huidige onderwysbeleid ongrondwetlik is).

• Die gebed vir die owerheid volgens 1 Timoteus 2 mag nooit verstom nie. Daar is nie ’n meer kritiese optrede teenoor die owerheid moontlik nie (Koopmans 1939:262).

BIBLIOGRAFIE

BURGER, I. 2001. Ons leer nie ons kinders volgens die Boek van Asmal nie (Ope brief aan Asmal). Rapport, 31(41):17, Okt. 14.

CALVINI OPERA OMNIA, i.e., Ioannis Calvini Opera Quae Supersunt Omnia, Vol. I-LIX. Ediderunt G[W]. Baum, E. Cunitz & E. Reuss, Vol I-LIX, in Corpus Reformatorum, Vol. XXIX-LXXXVII. Brunsvigae/Berolini, C.A. Schwetschke et filium, 1863-1900. [=CO 1-59.]

CALVYN, J. 1992. Institusie van die Christelike godsdiens. 4 bde. Deur H.W. Simpson met medewerking van C.M.M. Brink. Potchefstroom : CJBF.

COERTZEN, P. 2001. Geloofsvryheid is ’n kosbare reg…en ’n groot verantwoordelikheid. Die Kerkbode, 8:7, Aug. 3.

COERTZEN, P. 2005. Christian freedom and freedom of religion with reference to the South African constitution 1996. Voordrag gelewer by IRTI, Seoul, 5-10 Julie.

COETZEE, C.F.C. 2002. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die verhouding tot die owerheid: geleenthede en knelpunte. Ned Geref teologiese tydskrif, 43(1&2):197-206, Junie.

DU PLESSIS, J.A. 1935. Kerk en staat. (In Federasie van die Calvinistiese Studenteverenigings in Suid- Afrika. Koers in die krisis. Stellenbosch: Pro-Ecclesia Drukkery, p111-121.)

DU PLOOY, A.le R. 1991. Enkele bakens in die verhouding tussen kerk en staat met die oog op die ontstaan van ’n nuwe Suid-Afrikaanse staat. (In Helberg, J.L., Lion-Cachet, F.N., Spoelstra, B. & Van Rooy, H.F., reds. Kerkwees as getuienis in Suid-Afrika vandag. Potchefstroom : Potchefstroomse Teologiese Publikasies. p. 104-126.)

DU PLOOY, A.le R. 1992. Calvyn oor die koninkryk van God en die staat. Hervormde teologiese studies, 48(3-4):759-771, Sept-Nov.

FOURIE, P. 2005. Godsdiensvryheid in die ban van NGB Art 36 : seën of vloek ? Referaat gelewer by ’n Kerk- Staat konferensie aangebied deur die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, 25-27 Oktober 2005

FOURIE, W.F. 1991. Art. 36 en godsdiensvryheid. Die Kerkblad :37, Junie 19.

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA. 1970. Handelinge van die sewe-en-dertigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom. 497 p.

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA. 1973. Handelinge van die agt-en-dertigste sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom. 612 p.

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA. 1979. Handelinge van die veertigste sinode. Potchefstroom. 663 p.

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA. 1985. Handelinge van die twee en veertigste nasionale sinode. Potchefstroom. 832 p.

HEYNS, J.A. 1992. Inleiding to die dogmatiek: aan die hand van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Halfway House : NG Kerkboekhandel. 413 p.

KOOPMANS, J. 1939. De Nederlandsche Geloofsbelijdenis. Amsterdam : Holland.

LANDMAN, Ch. 2005. Die beskerming en beperking van regte met betrekking tot godsdiensinstellinge: probleme en moontlikhede. Toespraak gelewer by ’n kerk-staat-konferensie van die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Stellenbosch, 26 Oktober 2005.

MALHERBE, R. 2005. Enkele kwelvrae oor die grondwetlike beskerming van die reg op godsdiensvryheid. Referaat gelewer by ’n Kerk-Staat konferensie aangebied deur die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, 25-27 Oktober 2005.

NEDERDUITS GEREFORMEERDE KERK VAN SUID-TRANSVAAL, SINODE. 1995. Ons behoort ons te beywer vir ’n Christelike staat: meeste burgers van SA is aanhangers van Christelike geloof. Die Kerkbode, 156(16):9.

POLMAN, A.D.R. s.j. Woord en belijdenis: eenvoudige verklaring van de Nederlandse Geloofsbelijdenis. Deel II. Franeker : Wever.

RAATH, A.W.G. 1997. Kan ons nog Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelijdenis handhaaf ? Die Hervormer, 90(2):6,8, Apr. 15.

SMIT, N. 1991. Art 36 van die NGB en godsdiensvryheid: opgeneem uit die rubriek ‘Die kerk vandag’ in die Transvaler van 15 April 1991. Die Kerkblad :9, Mei 22.

VAN BRUGGEN, J. 1980. Het amen der kerk: de Nedelandse Geloofsbelijdenis toegelicht. Amsterdam : Ton Bolland. 199 p.

VAN DER WESTHUIZEN, H.G. 1994. Aanvaarding van neutrale owerheid by kerkhervormers ’n onmoontlikheid. Die Hervomer, 87(15):5.

VAN DER ZWAAG, K. 1999. Onverkort of gekortwiekt ?: artikel 36 van de Nederlandse Geloofsbelijdenis en de spanning tussen overheid en religie, een systematisch-historische interpretatie van een ‘omstreden’ geloofsartikel. Heerenveen : Groen. 617 p.

VAN ITTERZON, G.P. 1971. Belijn belijden. Kampen : Kok.

VAN RULER, A.A. 1973. Theologisch Werk. Nijkerk. G.F. Callenbach.

VERBOOM, W. 1999. Kostbaar belijden: de theologie van de Nederlandse Geloofsbelijdenis met preekschetsen. Zoetermeer : Boekencentrum. 382 p.

VERWOERD, H.F. 1959. Rede van Sy Edele die Eerste Mininster. (In Du Toit, S., Coetzee, P. J., Bingle, H.J.J. & Venter, H., reds. Eeufees te Rustenburg. Potchefstroom : Algemene Sinode, Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. p. 92-104.)

VORSTER, J.M. 1984. Die roeping van die kerk in die Suid-Afrikaanse problematiek. (In Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO, F (194):1-24, Feb. )

VORSTER, J.M. 1993. Godsdiensvryheid in ’n toekomstige Suid-Afrika in die lig van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. In die Skriflig, 27(3):307-321, Sept.

VORSTER, J.M. 1997. Teologies-etiese perspektiewe op die 1996 –Grondwet van die Republiek van Suid- Afrika. In die Skriflig, 31(1-2):79-91.

VORSTER, N. 1999. Kerk en owerheid binne ’n regstaat: die roeping van die kerk met betrekking tot die Suid- Afrikaanse owerheid. Potchefstroom : PU vir CHO. (Skripsie-M.Th.)

VORSTER, N. 2000. Kerk en owerheid binne ’n regstaat: die profetiese roeping van die kerk met betrekking tot die Suid-Afrikaanse owerheid. In die Skriflig, 34(1):109-134.

TREFWOORDE

Godsdiensvryheid, Godsdiensgelykheid, Owerheid, Kerk, Artikel 36, NGB.

KEY WORDS

Religious freedom, Equality of religion, State, Church, Belgic Confession article 36.

1 Referaat gelewer tydens ’n konferensie oor die verhouding tussen Kerk en Staat, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, 25 tot 27 Oktober 2005.

2 Die Nederduits Gereformeerde Kerk sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is tans nog lede van die GER terwyl die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hulle lidmaatskap in 1988 beëindig het en tans slegs waarnemerstatus het.

3 Verboom (1999:286) gaan meer breedvoerig in op die “Teokratiese” standpunt van Van Ruler.

4 “At huic destinatum est, quamdiu inter homines agemus, externum Dei cultum fovere et tueri, sanam pietatis doctrinam et ecclesiae statum defendere, vitam nostram ad hominum societatem componere, ad civilem iustitiam mores nostros formare, nos inter nos conciliare, communem pacem ac tranquilitatem alere” (CO II, 1094).

5 “Non enim...huc spectat duntaxat ut spirent homines, edant, bibant, foveantur (quamquam haec certe omnia complectitur, dum efficit ut simul vivant), non tamen inquam, huc spectat solum: sed ne idololatria, ne in Dei nomen sacrilegia, ne adversus eius veritatem blasphemiae aliaeque religionis offensiones publice emergant ac in populum spargantur; ne publica quies perturbetur; ut suum cuique salvum sit et incolume; ut innoxia inter se commercia homines agitent;; ut honestas et modestia inter ipsos colatur. Denique, ut inter Christianos publica religionis facies exsistat, inter homines constet humanitas. ...Siquidem nihilo hic magis quam antea leges de religione ac Dei cultu hominibus suo arbitrio ferre permitto, quum politicam ordinationem probo, quae in hoc incumbit, ne vera religio, quae Dei lege continetur, palam publicisque sacrilegiis impune violetur ac conspurcetur” (CO II, 1094).

6 “Quae cogitatio magistratus ipsos assidue exercere debet, quando ingentem illis stimulum addere, quo ad officium excitentur, et singularem consolationem afferre potest, qua muneris sui difficultates, quae multae certe et graves sunt, leniant. Quantum enim integritatis, prudentiae, mansuetudinis, continentiae, innocentiae studium sibi ipsis imperare debent, qui divinae iustitiae ministros se constitutos esse norunt? Qua fiducia iniquitatem in tribunal suum admittent, quod Dei viventis thronum esse audiunt? Qua audacia iniustam sententiam pronuntiabunt, eo ore quod divinae veritati designatum esse organum intelligunt? Qua conscientia in impia decreta subscribent, ea manu quam ad perscribenda Dei acta sciunt ordinatam? In summa, si se Dei vicarios esse meminerint, omni cura, sedulitate, industria invigilent oportet, quo hominibus quandam divinae providentiae, custodiae, bonitatis, benevolentiae, iustitiae imaginem in se repraesentent” (CO II, 1096).

7 “sicuti aequum est tuendo et asserendo eius honori impendere, cuius vicarii sunt et cuius beneficio imperant” (CO II, 1099).

8 “Quasi vero praefectos Deus suo nomine constituerit, qui terrenas controversias deciderent; quod vero longe gravioris momenti erat praetermiserit, ut ipse pure coleretur ex legis suae praescripto” (CO II, 1099).

9 “nec contineri sceleratorum hominum libido, nisi severitate ac poenarum animadversione, potest” (CO II, 1100).

10 Die laaste twee konklusies beklemtoon myns insiens in besonder die aktualiteit van Van der Zwaag se studie vir ons tyd en omstandighede.

11 Die volgende aanhaling uit ’n toespraak van Dr H F Verwoerd, toon duidelik sy siening van wat godsdiensvryheid beteken soos gesien van die kant van die staat: “Maar dit is nie alleen so dat die Staat endie Volk, die Kerk en die godsdiens ken en erken nie. Ook op ander meer tasbare maniere blyk dit, naamlik in die wetgewing en in die gedrag vandie land waar die Staat die vryheid van die godsdiens nie alleen erken nie, maar waar hy hom bemoei om dit vir die Kerke moontlik te maak om die godsdiens uit te lewe. Hy meng hom nie in die vrye reg van die Kerke in nie, behalwe vir die handhawing van wet en orde wat sy plig is. Hy moedig die Kerk aan op elke manier tot sy beskikking om die geleentheid tot bediening van die Woord te benut....Ons tref dit selfs aan waat die Staat te doen het met diegene wat in sy ampsdiens is. In die verdedigingsmag word byvoorbeeld die kerklike bearbeiding bevorder ...”(Verwoerd 1959:95). Ook wat ’n saak soos die Onderwys betref, het Verwoerd ’n Koninkryksperspektief gehad. “Op die terrein van die onderwys is dit ook Kerk en Staat wat hulle pligte het. Die Staat moet die geleenthede skep. Die opleiding van onderwysers moet moontlik gemaak word. Die Staat moet die kind desnoods na die skoolbanke dwing, tot op ’n leeftyd wanneer hy so goed moontlik toegerus die lewe mag ingaan. Dit is ’n taak wat die Staat teen ’n bedrag van miljoene ponde moet onderneem. Dit is egter ’n taak waarin ’n geestelike funksie verrig moet word. Die Staat kan dit nie na behore vervul sonder dat die hand van die Kerk bykom nie, sonder dat die godsdiens die hoë rol speel wat hy in die onderwys behoort te speel nie...Karaktervorming van die mens eis besieling deur die ideale wat die godsdiens en die Kerk stel, en wat alomvattend is soos die Bybel self” (Verwoerd 1959:96/7). Wat die standpunt van S J P Kruger betref, vgl. Du Plessis 1935:120, 121; Coetzee 2002:198

12 Daar is diegene wat meen dat ons nie van ’n sekulêre staat kan praat nie, omdat die owerheid en die Grondwet wel erns maak met godsdiens. Coertzen wil daarom slegs praat van ’n neutrale staat.Raath (1997:6) praat weer net van ’n sekulêre staat. Daar is egter ook diegene wat die woorde “sekulêr” en “neutraal” as sinonieme of wisselvorme gebruik, bv Vorster 1997:83. Dit is steeds nodig dat daar duidelikheid gekry word oor die terminologie wat gebruik word (vgl. Coetzee 2002:201).