Van die Redaksie

Ontvang hiermee die tweede uitgawe van die NGTT vir 2006.

Dankie vir almal wat artikels instuur. Dankie ook aan almal wat die tydskrif getrou lees. Die NGTT wil graag die beoefening van gereformeerde teologie in Suid-Afrika dien en stimuleer deur die artikels wat geplaas word.

Op Maandag 28 Augustus 2006 is prof W D (Willie) Jonker in die Strand oorlede. Suid-Afrika en met name die NG Kerk het daarmee ’n begaafde teoloog en ’n getroue lidmaat verloor. Willie was oor baie jare ’n medewerker van die tydskrif en talle artikels uit sy pen het in die NGTT verskyn. Ons dank die Here vir die gawe van Willie Jonker en bid vir Bettie, die kinders, klein kinders en familielede die troos en bystand van die Gees van Christus toe.

Tydens die herdenkingsdiens het drie persone, prof Russel Botman, viserektor van die Universiteit van Stellenbosch; prof Fritz de Lange, rektor van die Teologiese Universiteit van Kampen en prof Bernard Combrink ’n kollega van Willie aan die Kweekskool huldebetuigings gelewer. Dit is vir die NGTT ’n voorreg om al drie hierdie redes te publiseer en die inhoud daarvan sodoende aan ’n wyer leserskring bekend te stel.

Soos jaarliks met die tweede uitgawe van die tydskrif kom ’n groot aantal van die artikels in hierdie uitgawe van die teologiese fakulteite in Pretoria en Bloemfontein. ’n Woord van dank aan die kollegas daar wat die artikels laat keur en versorg het. Dit is vir die NGTT ’n voorreg om ’n publikasieforum te wees vir kollegas en studente by die gemelde twee inrigtings. Baie dankie vir die samewerking.

P Coertzen

Stellenbosch

November 2006