Bredenkamp, DSM
Universiteit van Pretoria

Galasiërs 5:22-23 – eksegetiese en homiletiese aantekeninge

ABSTRACT

Galatians 5:22-23 – Exegetical and Homiletical Notes

Preaching the fruit of the Spirit is often not contextual. In this article it is placed against the background of Paul’s struggle to help the churches in Galatia to recognise faith in the crucified Jesus that bear the fruit of the Spirit as the Christian identity mark. From Galatians 4:12 onwards Paul is launching a personal appeal to the Galatians to live their new life of freedom in Christ through love as it is manifested in service to each other. This is made possible by the indwelling of the Spirit. Within this framework the fruit of the Spirit should be perceived as a total packet. The sarks is the agent of self-centeredness whilst the Spirit empowers believers to love and serve the well being of the members of the faith community.

1. INLEIDING

Prediking oor die vrug van die Gees lei meermale vir predikers in die versoeking om vrylik te filosofeer oor die nege “vrugte” wat in die gelowige se persoonlike lewe te voorskyn moet tree. ’n Breë spektrum van woordeboekbetekenisse word dan gebruik om aan gelowiges ’n reeks moets en moenies wetties voor te skryf. Hierdie artikel het ten doel om predikers vanuit die konteks van Galasiërs 5 op ’n beter koers te lei.

2. DIE KONTEKS

Paulus is in ’n lewensbelangrike argument met sy gemeentes in Galasië gewikkel. Hy het verneem dat hulle terugval op die wet met veral die besnydenis as identiteitsmerker. Vir sy teenstanders is Christenwees vanselfsprekend ook Joodwees. Hiervan verskil hy natuurlik radikaal. Hy stel dit duidelik dat geloof in Christus die Gekruisigde met gepaardgaande gedrag wat die vrug van die Gees openbaar die Christen se uitstaande identiteitsmerk is.

Die Christelike beweging is besig om vanuit sy Judaïstiese bakermat te ontwikkel in ’n selfstandige godsdiens en Paulus se teologiese en etiese formuleringe in Galasiërs (een van sy vroeëre geskrifte)1 is ’n uiters belangrike mylpaal in hierdie proses. Dunn2 tipeer Galasiërs na my mening raak as

“… living theology … from the early morning of a vigorous new movement ... when basic principles were first being formulated … a cry from the heart of one at the very front of the line of Christian advance.”

Saam met Du Toit meen ek dat Galasiërs ’n egte pastorale brief is waarin die apostel as “... diep bekommerde en hoogs ontstelde geestelike vader soms hartstogtelik pleit, soms dreig, soms verwyt en in elk geval alle moontlike strategieë in die werk stel om sy geloofskinders vir die evangelie terug te wen.”3

Tradisioneel word gemeen dat hierdie brief in drie dele uiteenval: Galaliërs 1-2: outobiografies, Galasiërs 3-4: teologies en Galasiërs 5-6: paraneties. Matera4 toon egter duidelik aan dat die teologiese argument kulmineer in hoofstukke 5 en 6. Du Toit5 identifiseer twee hoofdele:

1. ’n argumentatiewe fase met die eerste argument wat draai rondom sy persoonlike geloofwaardige verhaal van sy opdrag wat hy van Christus self ontvang het (Gal 1:11-2:21) en die tweede argument om die geloofwaardigheid van Paulus se kruisevangelie soos bevestig wanneer gelowiges in Christus die Heilige Gees ontvang (Gal 3:1-4:11);

1. ’n appèllerende fase met ’n persoonlike beroep op die Galasiërs om vas te staan in hulle Christelike vryheid (Gal 4:12-5:12) en om hulle vryheid verantwoordelik te gebruik deur mekaar in liefde te dien (Gal 5:13-6:10).

Dit is verder nodig om te beklemtoon dat die teologie van Galasiërs gestempel word deur die betrokkenes se belewenis van ’n eskatologiese oorgang. Daar is ’n bewuste wete dat die tyd wat hulle beleef, ’n draaipunt in die geskiedenis is, vanweë die openbaring van God se eskatologiese doel met die mensdom. Die volheid van die tyd – die tyd wat God daarvoor bepaal, het aangebreek (4:4).6

3. “CHRISTUS HET ONS VRYGEMAAK OM WERKLIK VRY TE WEES”

Bogemelde uitroep in hoofstuk 5:1 is uiters belangrik vir die verstaan van die hele hoofstuk, want dit vat in een sin die volle indikatief en imperatief van die evangelie van verlossing saam.7 Deur die genadewerk van Christus is gelowiges nie meer verslaaf deur die wet of deur die sonde nie (indikatief), en dit bepaal dan nou die doel, plan en rigting (imperatief) van hulle lewe.8 Veral binne die appèllerende fase van Paulus se brief kom die vryheidsgedagte sterk na vore.

Vers 1 se uitsonderlike formulering het een oogmerk: om die gelowiges duidelik te laat verstaan waar hulle nuutgevonde vryheid vandaan kom en dat dit so kosbaar en waardevol is dat dit ten alle koste behou, in stand gehou, uitgeoefen en geniet moet word, met ander woorde uitgeleef moet word. Dit bevestig ook dat dit ’n bevryding van iets is (’n slawejuk) en terselfdertyd ’n bevryding tot iets is (’n lewe van Christelike diens). Verderaan in die hoofstuk sal Paulus laasgenoemde, veral met betrekking tot liefde, duideliker uitspel. Hier beklemtoon hy net (in vers 6) dat die bevryde lewe ’n lewe van geloof in Jesus Christus is waarvan liefde wat in dade sigbaar word, die belangrikste is. Witherington stel dit so: “Faith is energized, flesh is put on bare bones believing, by loving actions.”9

4. BEHEERS DEUR DIE GEES

In 5:13-18 plaas Paulus die beheersing deur die Gees skerp teenoor sondige begeertes. Vryheid om mekaar in liefde te dien word nou duidelik gekoppel aan die wandel in, of beheersing deur, die Gees. Die begrip “wandel” is ’n Joodse beskrywing van ’n lewenswyse en -gedrag en is ’n berekende eggo van die Ou Testamentiese uitdrukking: “wandel in die wet” (Eks 16:4; Lev 18:4; Jer 44:23; Eseg 5:6-7).10 Hy kontrasteer die beheersing deur die Gees met die begeertes van die vlees. Sarks dui op 1) menslikheid: dus swak, verganklik en verdorwe deur sonde; 2) die mens wat hom skaar aan die kant van die bose magte; en 3) die heilshistoriese era voor Christus se koms wat gekenmerk word deur verslawing aan die vlees, die wet en elemente van hierdie wêreld.11

Paulus is nie so naïef om te sê dat die sarks geen uitwerking meer het op Christene nie: “Paul accepts that flesh and Spirit are in actual conflict with each other. Believers were not to live in a fool’s paradise. They were already free and delivered from the present evil age, but the present evil age had not yet been removed from the world in which they lived.”12

Tog is dit so dat, in hierdie kontras tussen die etiek van die Gees teenoor die etiek van die vlees, die volledige meerderwaardigheid van eersgenoemde duidelik blyk. Paulus het in die werk van die Heilige Gees ’n magtige “wapen” in sy arsenaal13 waaroor sy teenstanders nie beskik nie. Wanneer die Heilige Gees gelowiges se etiese lewe beheer, is die uitwerking daarvan soveel groter as wanneer iemand slegs maar in eie krag die Wet probeer hou.

5. DIE VRUG VAN DIE GEES

In 5:19-26 brei Paulus uit op sy standpunt in 5:13-18 omtrent die gelowige se lewenswyse. Hy beskryf nou lewensgedrag deur twee gekatalogiseerde lyste te gebruik, eerstens “die praktyke van die sondige natuur” en tweedens “die vrug van die Gees”. Sy oogmerk met die opneem van hierdie lyste is tweeledig: Eerstens om sy lesers te laat besef dat libertinisme, wat fokus op vryheid as ’n verskoning om sonde te doen (vers 13), negatiewe gevolge het. Tweedens wil hy hulle laat besef dat diens aan mekaar in liefde (vers 13) en beheersing deur die Gees (vers 16) betekenisvolle positiewe resultate oplewer. Die lyste aksentueer sy twee konklusies: Eerstens dat die “wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte gekruisig” (vers 24) en kan nie ’n libertynse lewe lei nie. Tweedens “(ons) lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (vers 25).

Katalogusse van deugde en ondeugde was baie populêr in Paulus se tyd. Dit het sy oorsprong by Plato gehad, maar Aristoteles het verder gegaan en op ’n sistematiese wyse die kerndeugde uiteengesit. Kry Paulus dit by die Stoïsyne, of dalk by die “Twee-weë”-tradisie soos wat dit in die Koemraangeskrifte voorkom? Longenecker gaan deeglik hierop in en kom tot die gevolgtrekking dat Paulus sy katalogusse “... modelled after the Hellenistic ‘catalogue’ genre and not a Jewish

‘Two Ways’ tradition ... The duality of Paul’s catalogue ... results, it appears, not from a Jewish ‘Two Ways’ tradition but from the apostle’s own ethical dualism of ‘the flesh’ versus ‘the Spirit.’”14 Ek kan nie akkoord gaan met Betz15dat ’n opvallende kenmerk van Paulus se deug- en ondeuglyste is dat hy geen poging aanwend om ’n spesifieke Christelike kleur daaraan te gee nie.

Paulus het die stof tot sy beskikking sy eie gemaak. Hy het ’n unieke visie op die lewe binne die Christelike gemeenskap in gedagte wanneer hy hierdie lyste saamstel en benut. In hierdie visie speel beheersing deur die Gees; die vryheid in Christus; die voorbeeld van Christus en liefdesdiens so ’n groot rol dat sy etiek tot ’n groot mate onderskei kan word van die heidense gemeenskapsetiek én die etos van die Joodse gemeenskap.16

Dit sal growwe arrogansie wees om te veronderstel dat Christene unieke morele waardes het. Wat wel uniek is, is die raamwerk waarbinne en waarvan uit die Christelike etiek spruit: bevryding in Christus en beheersing deur die Gees. In ’n ontleding van ondeugde en deugde moet dié raamwerk nie uit die oog verloor word nie: Paulus roep die Galasiërs op om hulle deur die Gees in die ware vryheidslewe te laat lei. Hierdie perikoop word dus omraam deur die gedagte van ’n lewe deur die Gees wat bevryde gelowiges beheers, lei en hulle gedrag bepaal.

Dit is nodig om ’n paar opmerkings oor die ondeugde te maak. Daar is ’n spesifieke ordening in hierdie verse. Die eerste drie ondeugde dui op seksuele sondes; die volgende twee op godsdienstige sondes; die volgende agt op sosiale sondes binne die geloofsgemeenskap en die laaste twee op sosiale sondes binne die breër gemeenskap. Maar ’n mens moet ook nie uit die oog verloor dat Paulus self die lys nie as volledig nie, maar net as verteenwoordigend beskou van sondes waartoe die beheersing deur die sarks aanleiding gee.17 Groep een, twee en vier van Paulus se lys verwys na dit wat in die afgodsdiens, volgens Joodse persepsie, plaasgevind het. Hiermee wil Paulus vir die gelowiges duidelik laat verstaan dat, beheers deur die Gees, hulle in staat is om die versoekinge van die sosiale milieu waaruit hulle gekom het te weerstaan.

Die derde groep van Paulus se ondeuglys (vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns) het daarenteen die interne geloofs gemeenskap verhoudings in die oog. Beoordeel aan die groot getal in dié groep, lyk dit of die grootste klem hierop val. In hierdie negatiewe prentjie val die klem op daardie gemeenskapsoptrede wat die harmonie versteur; wat eie belang bo dié van die groep stel; wat die groep verdeel en skeuring veroorsaak.18 Hierdie optredes is heeltemal in stryd met wat tipies is van ’n hegte familie – waar van die familielede met reg verwag kan word om saam te werk om die harmonie te bevorder en die respek van die gemeenskap te behou. Dit gaan oor die eie identiteit van die binnegroep wat hulle uniek maak én onderskei van die buitegroepe. Daarom is die oogmerk van hierdie ondeuglys om die teenpool van vryheid tot liefdesdiens skerp in die kollig te plaas. Paulus vertel vir die Galasiërs wie en wat hulle is deur eers uit te wys wie en wat hulle nie moet wees nie. Dit plaas die deugdelys in skerper reliëf.

Ten opsigte van die vrug van die Gees, is die gebruik van die begrip karpos opvallend. Dit is dus deugde wat so direk aan die leiding van die Gees gekoppel kan word as wat ’n vrug aan die vrugteboom gekoppel is. Sonder die boom is daar geen vrugte nie. En uiteraard is die soort vrug daardie spesifieke vrugteboom se vrug – dit is dus nie net deugde wat pas by die Gees nie, maar wat uit Hom voortspruit. Treffend is die beeld om duidelik te maak dat die vrugvorming deur die krag van die Gees is en nie die gevolg van ’n intense nakoming van ’n wettiese kode nie – dit is die natuurlike oes van ’n lewe beheers en gelei deur die Gees. Die gelowige is self aktief betrokke by die dra van hierdie vrug, maar tog slaag die beeld daarin om iets te laat sigbaar word van die geweldige betekenis van goddelike bemagtiging om so te kan vrug dra.19 Uit die enkelvoud kan afgelei word dat Paulus nie die begrippe in hierdie lys los van mekaar wil sien nie, maar eerder as ’n eenheid. Die gelowige, wat wandel onder leiding van die Gees, se lewe openbaar een omvattende vrug en dit kan beskryf word as die lys van deugde in totaal. Daarom behoort daar nie te veel gemaak te word van die begrippe afsonderlik nie.20 Terwyl Paulus elders die gawes van die Gees individualiseer, sien hy die vrug weer eerder as een groot geheel. Hierdie eenheid in die vrug impliseer ook dat dit in sy geheel tot uiting behoort te kom in elke individuele Christen se lewe, een omvattende vrug van Geestesbeheerstheid. Terwyl die laaste drie begrippe kenmerkende Griekse deugde was,21 is daar vir die eerste ses slegs parallelle elders in die Nuwe Testament, veral in die Pauliniese corpus (vgl 2 Kor 6:6; 1 Tim 4:12; 6:11; 2 Tim 2:22; 2 Pet 1:5-7).22

Die konteks binne en oogmerk waarmee Paulus die begrippe gebruik, bevestig dat dit vir hom meer om die verhoudings- en binnegemeenskaplike aard daarvan gaan. Die terme wat hy gebruik, is nie primêr innerlike persoonlike karaktertrekke nie, maar sosiale of gemeenskapseienskappe. Enkele opmerkings oor die individuele begrippe kan nogtans toeligtend van pas wees:

• Uit die aard van die saak sou ’n mens verwag dat Paulus hierdie lys begin met liefde. Hy het immers reeds in verse 6, 13 en 14 dit as die kenmerkende eienskap van die bevryde geloofsgemeenskap aangestip.

• Vreugde – Die tipiese Pauliniese nuansering is die soort vreugde wat gegenereer word deur die inwoning van die Gees.

• Vrede – Dit is veel meer gegrond in die Hebreeuse shalom as in die Griekse en in besonder Stoïsynse gemoedsrus of kalmte. Met ander woorde eerder ’n persoonlike vrede binne gesonde verhoudinge.23

• Geduld, vriendelikheid – mense wie se harte en hande oop is vir ander is altyd geduldig en vriendelik.24

• Goedhartigheid – Dit word slegs deur Paulus gebruik as ’n sinoniem vir “vriendelikheid”.25

• Getrouheid – die konteks noop ons om eerder te dink aan getrouheid as geloof. Vanuit Christus se bereidheid om Homself op te offer, spruit die gelowige se getrouheid.

• Nederigheid – Dit verwys na ’n persoon wat so in beheer van sy eie emosies is, dat hy kan kies om konsidererend en nederig teenoor ander op te tree.

• Selfbeheersing – Uit die posisie wat dié deug in die lys inneem kan afgelei word dat dit, naas liefde, as die belangrikste samevatting van die Pauliniese Christelike etiek gesien kan word. Die afleiding kan moontlik gemaak word dat Paulus die Galasiërs wil oortuig dat die innerlike dissipline wat van die Gees uitgaan, sinoniem is met die vryheid waartoe die Galasiërs geroep is. Die selfbeheersing is dus inderwaarheid geestesbeheersing.26

Samevattend: Die teenstelling tussen pneuma en sarks, soos dit tot uitdrukking kom in hierdie katalogusse, maak dus baie duidelik dat laasgenoemde die antigemeenskaplike magte simboliseer wat sowel die gemeenskap as onderlinge hulpvaardigheid en eenheid ondergrawe. Die sarks is die agent van selfgesentreerdheid; verbreker van bande; skepper van afstand tussen mense en die bron van die drang om jou mening op ander af te dwing. Daarteenoor staan die pneuma vir die krag van gehegtheid, gemeenskap, wedersydse bevoordeling, mekaar se laste dra, diens aan ander en die beoefening van egte Christelike liefde.

6. HOMILETIESE RIGLYNE

Geen ander waarde word in die Westerse samelewing hoër aangeslaan as vryheid nie, maar dit dui gewoonlik op vryheid om individuele regte uit te oefen. Paulus dink egter aan die voordele wat Christene verkry danksy die bevryding in Jesus Christus. Die vryheidsbegrip druk uit, nie wat die gelowige is nie, maar Wie s’n. Die vryheid in Christus gaan dus gepaard met die teenwoordigheid van die Gees in ’n mens se lewe en die dra van die vrug wat daaruit voortvloei. “Freedom from sin, not to sin … freedom to serve others, not freedom from others.”27 In ’n preek van Molly Marshall28 wys sy op die chaos wat gevolg het op die bevryding van die Oosbloklande in die negentigerjare van die vorige eeu: “Freedom is a most elusive concept for human beings. It is the longing of all persons, yet when gained or celebrated at the expense of others, its value is questionable.” Gelowiges wat sukkel om die implikasies van hulle vryheid in Christus uit te werk, kan rustig konsentreer op die fasette om vrug te dra in die Gees. Bevryding beteken inderwaarheid om ’n nuwe sterker vorm van slawerny en gebondenheid te aanvaar: “In being joined to Christ, one is irrevocably joined to other members in Christ’s body. This form of ‘enslavement’ may require of us more investment in the lives of our brothers and sisters than we had calculated.” Daarom behoort enige boodskap oor die vrug van die Gees te fokus op die onderlinge medemenslikheid van die geloofsgemeenskap. Christelike lewe is nie ’n vae abstrakte begrip nie. Dit het te doen met die werklike spanning en stres, maar ook die unieke geleenthede van die alledaagse lewe.

Om onder die beheersing van die Gees te lewe, is ’n lewenswyse wat in jou duur verworwe vryheid bewustelik gekies word. Voortdurend moet ’n mens sulke keuses ten opsigte van jou lewe maak. Dit is nie ’n oppervlakkige keuse oor ’n leefstyl nie, maar grondliggende lewenskeuses waarvan die gevolge ingrypend is: “More than merely a matter of outward style, this way of life provides continuity, guidance, and assistance for the task of coping with the daily struggle against evil.”29

BIBLIOGRAFIE

Betz, HD 1979. Galatians. Philadelphia: Fortress.

Bredenkamp, DSM 2001. Enkrateia in die Pauliniese hoofbriewe. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Universiteit van Pretoria.

Buckel, J 1993. Free to Love. Paul’s Defense of Christian Liberty in Galatians (Louvain Theological& Pastoral Monographs no 15). Louvain: Peeters.

Dunn, JDG 1993. The Theology of Paul’s Letter to the Galatians. Cambridge: University Press.

Du Toit, AB 1990. Analise van die Opbou, Argumentasiegang en Pragmatiek van die Galatebrief: ’n Eerste Oriëntering, in Skrif en Kerk 11.2:155-165.

Du Toit, AB 1991. Analise van die Opbou, Argumentasiegang en Pragmatiek van die Galatebrief: ’n Meer Gedetailleerde Oorsig, in Skrif en Kerk 12.2:214-241.

Esler, PF 1998. Galatians (New Testament Readings). London: Routledge.

Fee, GD 1994. Freedom and the Life of Obedience (Galatians 5:1-6:18), in Review & Expositor 91.2:201-217.

Longenecker, RN 1990. Galatians (World Biblical Commentary, vol 41). Dallas: Word Books.

Loubser, GMH 2004. Ethics in the New Creation: A Celebration of Freedom. A Perspective from Paul’s Letter to the Galatians. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Universiteit van Pretoria.

Loubser, GMH 2005. Paul’s Ethic of Freedom: No Flash in the Galatian Pan, in Neotestamentica 39.2:313- 338.

Marshal, MT 1994. Galatians 5:1, 13-14: Free Yet Enslaved, in Review and Expositor 91:233-238.

Matera, FJ 1988. The Culmination of Paul’s Argument to the Galatians: Gal 5.1-6.17, in Journal for the Study of the New Testament 32:79-91.

Porter, SE & Stamps, DL (eds) 1999. The Rhetorical Interpretation of Scripture. Essays from the 1996 Malibu Conference (Journal for the Study of the New Testament, Supplement Series 180) Sheffield: Academic Press.

Radl, W 1985. Der Galaterbrief (Stuttgarter Kleiner Kommentar, Neues Testament 9), Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.

Russell, W 1995. The Apostle Paul’s Redemptive-Historical Argumentation in Galatians 5:13-26, in The Westminster Theological Journal 57.2:333-357.

Van der Watt, J & Joubert, S 1997. Die Boodskap. Die Nuwe Testament in Hedendaagse Afrikaans. Vereeniging: CUM.

Witherington, B lll 1998. Grace in Galatians. A Commentary on St Paul’s Letter to the Galatians. Grand Rapids: Eerdmans.

1 Ek dateer Galasiërs rondom 50nC. Vir meer besonderhede sien Bredenkamp (2001:149 ev).

2 Dunn (1993:1,2,13).

3 Du Toit (1990:158). Paulus maak basies van die Hellenistiese briefvorm gebruik, maar pas dit aan om sy eie oogmerke te dien. Stanley Porter vat die debat oor Paulus se retoriek vir my gevoel reg saam wanneer hy sê: “I am compelled to conclude that we cannot find Paul the ancient rhetorician in the letters, primarily because Paul was a letter writer. To be a letter writer was to be doing something different than being a speechmaker in the Greco-Roman world” (Porter & Stamps 1999:248).

4 Matera (1988:79). Vgl ook, onder andere, Fee (1994:201).

5 Du Toit (1990:159 ev en 1991:215).

6 Dunn (1993:46).

7 Loubser (2005:322). Vgl ook Buckel (1993:189 ev).

8 Betz (1979:256).

9 1998:370.

10 Witherington (1998:393).

11 Loubser (2004:96-122).

12 Loubser (2005:256).

13 Du Toit (1991:234).

14 (1990:249-252).

15 Betz (1979:281-3).

16 Witherington (1998:405).

17 Witherington (1998:397 ev).

18 Esler (1998:226 ev).

19 Russell (1995:353).

20 Radl (1985:83).

21 Vgl Bredenkamp (2001) hoofstuk 2.

22 Witherington (1998:407).

23 Witherington (1998:409).

24 Vgl Van der Watt (1997:618).

25 Witherington (1998:410).

26 Bredenkamp (2001:188).

27 Witherington (1998:386).

28 Marshall (1994:233-6).

29 Betz (1979:277).