Claassens, LJM
Universiteit van Stellenbosch

En toe laat die maan haar stem hoor: Genesis 1 en feministiese teologie1

ABSTRACT

And the Moon Spoke Up: Genesis 1 and Feminist Theology

In this essay, Genesis 1 is read in terms of the twofold task of a feminist biblical interpreter, i.e. to deconstruct harmful interpretations that uphold hierarchies with regard to race, class and gender, and to reconstruct interpretations that offer a vision of God’s relationship to the world that is committed to end oppression and injustice in a society deeply wounded. Employing insights from deconstruction and feminism, this paper utilises an intriguing rabbinic interpretation from the Talmud with regard to one of the binary oppositions in Genesis 1, i.e., the great light and the small light, or one could say, the sun and moon (Hullin 60). This midrash is used to challenge the hierarchical interpretations of the binary oppositions in this text, thereby opening up the space for alternative interpretations to emerge. Consequently, this interpretative strategy also helps us to also rethink the hierarchical nature of the other binary oppositions in Genesis 1 and its interpretations.

Sedert die vroeë jare van feministiese teologie het Genesis 1 as die inleidende hoofstuk van die Ou Testament, ’n sentrale rol gespeel. So is feministiese teoloë veral geïnteresseerd in die wyse waarop Genesis 1:26-27 mans en vrouens as gelykes voorstel wanneer die man sowel as die vrou na die beeld van God geskape word.2 Hierdie positiewe interpretasie van Genesis 1:26-27 word dikwels teenoor die hiërargiese en diepliggende patriargale siening van die verhouding tussen man en vrou in Genesis 2-3 gestel (Schuller, 1995:31-46).

Ilana Pardes (1992:30) herinner ons egter dat hierdie tipering meer kompleks is. So kritiseer sy tereg die idee dat die Priesterlike teks (Genesis 1) die “gelyke regte” weergawe is in teenstelling met die “seksistiese” weergawe van die Jahwistiese teks (Genesis 2-3). ’n Mens moet egter nie vergeet dat albei tekste tot stand gekom het binne ’n ten diepste patriargale konteks, d.w.s. ’n konteks waarin die manlike lede van die gemeenskap die posisies van mag beklee (afgelei van die Griekse woord patria, wat “vader” beteken, en arché, oftewel “regeer”). Voorts, is albe tekste deur die eeue deur ’n menigte interpreteerders gelees wat aanleiding gegee het tot interpretasies wat baie skadelik blyk te wees vir vrouens en ander groepe wat verdrukking ervaar.

Desnieteenstaande vind ’n mens egter, teen die verwagting in, dat antipatriargale perspektiewe gedeeltelik bewaar is in die kanon, in so ’n mate dat die dominante patriargale diskoers van die Bybel asook alternatiewe stemme wat ’n ander werklikheid voorhou langs mekaar bestaan (Pardes 1992:2, 4; Rutledge, 1996:96). In die interpretasieproses vandag hang dit dus af van die interpreteerder se voorverstaan van watter van hierdie elemente beklemtoon word. Die feministiese interpreteerder wat verbind is daaraan om te werk vir die gelykheid van vrouens sowel as mans binne die Christelike en Bybelse tradisie, het dus ’n dubbele taak wanneer hy/sy ’n teks soos Genesis 1 lees.3 Eerstens, ’n feministiese teologiese interpretasie van Genesis 1 wil interpretasies wat bydra tot die instandhouding van ’n wêreld waarin hiërargieë met betrekking tot ras, sosio-ekonomiese stand en geslag nie net verdra word nie, maar aktief gepropageer word, dekonstrueer. Terselfdertyd het die feministiese interpreteerder wat glo in die voortdurende invloed van die Bybel in die lewe van gelowiges ’n tweede belangrike taak, naamlik, om interpretasies van Genesis 1 wat sigself daaraan verbind om ’n visie van God se verhouding met die wêreld voor te hou en wat poog om verdrukking en onreg in ’n diep gewonde gemeenskap te beëindig te herkonstrueer.4 Dit is die doelwit van hierdie artikel om Genesis 1 in terme van albei hierdie feministiese teologiese take te lees.

1. DIE DEKONSTRUKSIE VAN BINÊRE TEENSTELLINGS IN GENESIS 1

’n Feministiese teologiese benadering tot die Bybelse teks vind ’n waardevolle bondgenoot in dekonstruksie, ’n invloedryke literêre teorie wat verbind word met die Franse filosoof Jacques Derrida. Een aspek van dekonstruksie wat veral relevant is vir ’n feministiese lees van die Bybel, hou verband met dekonstruksie se kritiek op die verdeling van die wêreld volgens ’n reeks van binêre teenstellings waar manlik/vroulik, denke/liggaam, hemel/aarde, geestelike/materiële, intellek/instink, orde/chaos, kultuur/natuur in ’n dualistiese verband geplaas word.5 Binne hierdie

dualistiese konstrukte word een lid van die bepaalde paar gewoonlik as positief of die norm beskou, terwyl daar aan die ander in ’n negatiewe lig as die afwyking gedink word. Dikwels word “manlik”, “denke”, “geestelike”, “intellek” en “kultuur” as essensieel positief beskou, terwyl “emosie”, “vroulik”, “liggaam” en “materiële” as inherente negatiewe konsepte gesien word (Rutledge 1996:13, 45-46; Clines 1995:77-106). Binêre teenstellings waarbinne een pool as positief en die ander as negatief gesien word, het noodwendig die potensiaal om in hiërargiese denkpatrone te ontwikkel, waarvolgens die positiewe lid van die teenstelling die ander subjek domineer (Rutledge 1996:45).

’n Mens sien heelparty van hierdie binêre teenstellings in Genesis 1, bv., lig/donker, hemel/aarde, land/see, son/maan, land diere/see diere, man/vrou. Daar word telkens gesê dat God óf albei die dele van die kontrasterende paar skep, óf skeiding bring tussen die paar vanuit sekere pre-kosmos elemente (bv. lig/donker vanuit duisternis, en water/land vanuit ’n watermassa).

Alhoewel God se algemene oordeel met betrekking tot die skeppingsorde positief is (sien die herhaling van die frase, “God het gesien dat dit goed is,” en die slotopmerking in v 31 dat “God gesien het dat dit baie goed is”), vind ’n mens elders in die Ou Testament asook in die interpretasiegeskiedenis van Genesis 1 hoe hierdie kontrasterende pare baie gou in hiërargiese interpretasies ontwikkel, waar die een lid van die binêre teenstelling as positief bejeën word en gevolglik die ander subjek oorheers.

Byvoorbeeld, met betrekking tot die land/see teenstelling word die see dikwels gesien as die waterchaos wat beheer en weg van die land gehou moet word (sien bv. die vloedwaters wat die wêreld oorweldig in Gen 6-8). Verder word water in ’n aantal tekste in die Ou Testament beskryf as ’n seemonster wat vernietig moet word (Jes 27:1; 51:9-10; Ps 74:12-14). Die metafoor van die stryd met die seemonster dien as ’n kragtige simbool van die magte van chaos wat dreig om alles wat lewe gee te vernietig.6 In terme van die lig/donker kontras word lig gereeld geassosieer met die goeie, terwyl donker as boos gesien word.7 Hierdie siening word dwarsdeur die Ou Testament aangetref – ’n goeie

voorbeeld is Jesaja se gebruik van lig en donker waar donker met sonde en vernietiging verbind word (Jes 5:20, 30; 9:2), en lig met redding (Jes 2:5; 9:2). Catharine Keller (2003:200) beskryf verder hoe die donker deur die eeue gedemoniseer is soos blyk uit die terme “white supremacy,” en “Donker Afrika” (sien ook die konnotasies van suiwer/goed/superieur met wit, en onkunde/minderwaardig/boosheid met swart).

Met betrekking tot die manlike/vroulike teenstelling vind ’n mens in die interpretasie-geskiedenis ’n magdom van hiërargiese interpretasies.8 Heelparty interpretasies deur Christen sowel as Joodse interpreteerders, wat duidelik sterk beïnvloed is deur Genesis 2-3, hou onwrikbaar vas aan die hiërargiese verhouding tussen man en vrou.9 So verander 1 Korintiërs 11:7-9 byvoorbeeld die teks in Genesis 1:27 waar die man sowel as die vrou na die beeld van God geskep is, wanneer Paulus die volgende sê in ’n argument oor die vrou wat haar hoof tydens die erediens moet bedek:

’n Man behoort nie iets op sy kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die sieraad van die man. Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.10

Ook Philo se negatiewe gevoelens oor vroue is goed gedokumenteer. Vir Philo begin alles wat verkeerd is met die skepping van die vrou. Annewies van den Hoek (2000:73-74) verduidelik dat vir Philo staan ’n vrou vir alles wat negatief is, of soos sy dit stel:“for pleasure, wickedness, defilement, corruption, unsteadiness, multiplicity, irrationality, lack of understanding and good sense, inferiority, passivity, weakness, and mortality. Not surprisingly, the male side consists of more laudable components:virtue, fairness, purity, incorruptibility, firmness, unity, reason, understanding, superiority, activity, strength, and immortality.”

Die hoogtepunt van hierdie hiërargiese interpretasies van die manlike/vroulike kontras word aangetref in die 15de eeuse dokument Malleus Maleficarum wat gebruik is om vrouens wat beskuldig is van heksery te veroordeel. Hierdie hoogs problematiese dokument gee voor dat vrouens sedert hulle skepping onvolmaakte en verleidelike wesens is wat wesentlike gevaar inhou vir mans en hulle boonop skuldig maak aan heksery – idees wat die basis gevorm het vir twee eeue van vervolging van duisende sogenaamde hekse (Kvam, et al, eds., 1999:169-172).

Iets van hierdie negatiewe ingesteldheid teenoor die vroulike is ook duidelik in die wyse waarop die seemonster, die Leviatan, in die kommentaar van die Joodse interpreteerder Rashi hanteer word. Volgens Rashi (Genesis 1:16) is die Leviatan ook geskep in terme van ’n manlike en vroulike paar. Maar aangesien die oseaan nie groot genoeg is vir albei seemonsters nie, maak God die vroulike Leviatan dood en bewaar haar as kos vir die regverdiges vir die eindtyd (Sien ook 2 Baruch 29, 4 Ezra 6:52 en Enoch 60:24).

Hierdie hiërargiese interpretasies van die binêre teenstellings in Genesis 1 reflekteer iets van die wêreld van die Bybelse skrywers en interpreteerders wat grotendeels patriargaal van aard was. Maar daar is ook ’n ander verduideliking vir die bestaan van die binêre teenstellings in Genesis 1. Hulle funksioneer as deel van ’n ordelike, goed-gestruktureerde teks waarbinne die skepping in sewe dae ’n tipe liturgiese verhaal konstitueer (sien ook die herhaling van die frases:“dit was goed,” en “dit was oggend en dit was aand”). Dit blyk dat die vorm van hierdie teks gegroei het in reaksie op die omgewing waaruit hierdie teks kom. Soos Walter Brueggemann (1997:153) dit stel:“The intent and the effect of this liturgical narrative is to enact by its very utterance a well- ordered, fully reliable, generative world for Israelites who are exiles in Babylon.” Teenoor die angs en onsekerheid wat die mense ervaar op persoonlike en nasionale vlak bied Genesis 1 ’n kontrasterende wêreld wat die eg menslike behoefte om die chaos te beheer verwoord.

Alhoewel dit belangrik is om te verstaan dat hierdie behoefte vir orde groei vanuit diepgaande pyn, moet ’n mens ook besef dat die orde, hoe aantreklik ook al in die teenwoordigheid van vrees en onsekerheid, wel die potensiaal het om destruktief van aard te wees. Gevolglik, ’n belangrik vraag wat groei uit ons nadenke oor Genesis 1 is: Hoe lyk die wêreld wat Genesis 1 vir ons voorhou? Of in terme van die beeld wat deur die rabbi’s gebruik is om God se skepping te beskryf, naamlik God wat ’n huis bou met die Torah as God se bouplan (Bereshith Rabba 1:1):11 Hoe leef ons saam in die huis wat God gebou het? Dit is so dat Genesis 1 die verhoudings tussen sy inwoners uitbeeld in terme van binêre teenstellings, maar wat sou die effek van latere interpretasies wees wat die een subjek bo die ander verhef? In die lig van die geskiedenis asook die wêreld waarin ons tans leef blyk dit dat hierdie tipe hiërargiese interpretasies wetend of onwetend ’n wêreld skep waarin die “ander” wat van die norm verskil as negatief beskou word en selfs gedemoniseer word op grond van ’n ander ras, geslag, sosio- ekonomiese klas of seksuele oriëntasie.

Dit is om hierdie rede dat dekonstruksie ’n belangrike aspek van ’n feministiese interpreteerder se verhouding tot die teks vorm. Dekonstruksie bied ’n waardevol instrument om potensieel gevaarlike interpretasies van die binêre teenstellings in Genesis 1 teen te staan deur die sentrale/marginale kontras wat deur die teks en sy interpretasies voorgehou word te kritiseer. Gevolglik, dekonstruksie poog om die waarde van die gemarginaliseerde lid binne hierdie teenstelling opnuut te deurdink deur te wys hoe die onderskeie konsepte ten nouste verbonde is (Rutledge 1996:95).

2. OM TE LUISTER NA DIE RANDFIGURE

David Rutledge (1996) se uitstekende boek oor feminisme en dekonstruksie, Reading Marginally, bied ’n goeie invalshoek op die dekonstruktiewe taak. Rutledge wys hoe die interpretatiewe logika van rabbynse midrasj, d.w.s. die Joodse literatuur en metodologie van die 1ste eeu v.C.-8ste eeu n.C. wat die Hebreeuse teks “deursoek” (dara˘s), uitlê en aktualiseer vir ’n nuwe geslag, die leser help om die “gapings” (oftewel gaps) in die teks te identifiseer wat aanleiding mag gee tot nuwe verstaans-moontlikhede.12 ’n Sentrale eienskap van midrasj is dat dit ’n speelse houding inneem teenoor die teks. Rutledge (1996:156) beskryf hierdie eienskap van midrasj as volg: “meanings are not fixed or static, but are allowed a certain looseness, the license to range over various texts and issues in a manner which redefines the rules of interpretative logic.” Hierdie manier van lees gee aanleiding tot verbeeldingryke interpretasies wat mag help om vaste skemas wat deur die teks voorgehou word te dekonstrueer. Rutledge wys op die waarde van hierdie hermeneutiek vir ’n feministiese lees van die Bybelteks:

Feminist biblical interpretation requires a leap in exegetical imagination, a hermeneutical approach which, like that of the midrashists, opens the text to new, often unexpected readings, conjuring meaning ‘to rise out of the white spaces between the letters’ of the biblical text and be shaped according to the needs of the interpretative community (Rutledge 1996:174-175).

In die res van hierdie artikel sal daar gewys word hoe een so ’n rabbynse interpretasie van die Talmoed gebruik kan word om hiërargiese interpretasies van die binêre teenstellings in Genesis 1 te dekonstrueer en wat die ruimte mag skep vir alternatiewe interpretasies om te ontwikkel.

Hierdie benadering beteken egter nie dat die rabbi’s noodwendig as feministe getipeer word nie. Daar is menigte voorbeelde waar rabbynse interpretasies ewe skadelik kan wees. Maar soos die volgende voorbeeld sal wys, is die speelse manier waarop die midrasj interpretatiewe moontlikhede (“gaps”) in die teks raaksien en wat aanleiding kan gee tot alternatiewe maniere van lees, beslis waardevol.

Die Babiloniese Talmoed vertel die volgende interessante verhaal na aanleiding van een van die binêre teenstellings in Genesis 1 – die groot en die klein lig, of ’n mens sou kon sê, die son en die maan. Hierdie storie het die eerste keer my aandag getrek in ’n artikel deur Susan Shapiro, “‘And God Created Woman’:Reading the Bible Otherwise,” (2003) wat wys hoe Emanuel Levinas (1994:116) hierdie verhaal in verband bring met sy nadenke oor Israel en die nasies. Op verbeeldingryke wyse vertel hierdie midrasj die verhaal van die maan wat nie gelukkig is met die feit dat sy die mindere lid van die twee groot ligte is nie. Daar is verskillende weergawes van hierdie storie – elk met ’n effens ander perspektief op dieselfde konflik,13 maar veral die weergawe in Hullin 60 bied ’n interessante voorbeeld van waar die hiërargiese dualisme wat teenwoordig is in Genesis 1 krities deurdink word:

R. Simeon b. Pazzi pointed out a contradiction [between verses]. One verse says, And God made the two great lights, and immediately the verse continues, The greater light ... and the lesser light. The moon said unto the Holy One, blessed be He, “Sovereign of the Universe! Is it possible for two kings to wear one crown?” He answered, “Go then and make thyself smaller”. “Sovereign of the Universe!” cried the moon, “because I have suggested that which is proper must I then make myself smaller?” He replied, “Go, and thou wilt rule by day en by night.” “But what is the value of this?” cried the moon. “Of what use is a lamp in broad daylight?” He replied. “Go. Israel shall reckon by thee the days and the years.” “But it is impossible,” said the moon, “to do without the son for the reckoning van die seasons, as it is written, And let them be for signs, and for seasons, and for days and for years.” “Go. The righteous shall be named after thee as we find, Jacob the Small, Samuel the Small, David the Small.” On seeing that it would not be consoled, the Holy One, blessed be He, said, “Bring an atonement for Me for making the moon smaller.” This is what was meant by R. Simeon b. Lakish when he declared, “Why is it that the he-goat offered on the new moon is distinguished in that there is written concerning it unto the Lord? Because the Holy One, blessed be He, said, ‘Let this he-goat be an atonement for Me for making the moon smaller’”( b. Hullin 60b).

In hierdie midrasj identifiseer die rabbi’s ’n interpretatiewe gaping in die teks, oftewel ’n teenstelling tussen die feit dat die son en maan albei groot ligte genoem word, asook die verwysing dat die een lig groter en die ander lig kleiner is. In antwoord op hierdie onduidelikheid vertel die rabbi’s ’n storie wat verduidelik hoekom daar ’n hiërargiese verhouding tussen son en maan bestaan. Die midrasj sê dat aangesien maan haar14 verhouding met son bevraagteken het, God vir

maan gevolglik aangesê het om haarself kleiner te gaan maak. Alhoewel dit eers blyk asof maan gestraf word omdat sy dit durf waag om teë te praat, bied die weergawe in Hullin 60 ’n aantal tekens van teenstand waarvolgens onregverdige ongelykhede teengestaan word deur diegene wat die meeste geraak word. ’n Mens sien hoe die mindere lid van die dualistiese paar die onregverdige hiërargiese verhouding waarvan sy deel uitmaak, kritiseer, gevolg deur ’n verrassende antwoord van God. Die volgende punte is belangrik vir ons bespreking:

Eerstens, dit is belangrik om raak te sien dat dit die gemarginaliseerde lid van die hiërargiese verhouding is wat haar stem laat hoor en meedeel hoe die hiërargiese interpretasie van die binêre teenstellings in Genesis 1 haar beïnvloed. Passievol bevraagteken sy die regverdigheid van die hiërargiese verhouding tussen haarself en son. Maan se waagmoed om haar stem te laat hoor dien as inspirasie vir ander benadeelde persone wat hulself in hiërargiese verhoudings bevind. Verder, haar voorbeeld is ’n herinnering aan die belangrikheid daarvan om die stemme van die gemarginaliseerdes of randfigure te hoor; om ruimte te skep vir diegene wat nie in situasies van mag is nie. Tweedens, die midrasj bied ’n waardevolle perspektief op God. ’n Mens vind hier ’n beeld van ’n God wat lyding raaksien, wat Homself bemoei met die onderdruktes, en wat ’n poging aanwend om die verontregtes te troos. Drie keer neem God stappe om maan te verseker dat sy waarde het, en wanneer God sien dat maan nie getroos kan word nie, vra God om vergifnis vir sy aandeel in die formasie van ’n hiërargiese verhouding waarbinne die een lid voordeel trek ten koste van die ander. Levinas wys daarop dat hierdie interpretasie groei uit ’n onduidelikheid in die teks van Num 28:15 הוהיל חאטחל wat of gelees kan word as “’n sondeoffer tot eer van die Here” of “’n sondeoffer vir die Here se ontwil.” Die midrasj probeer sin maak van die verregaande idee dat ’n bok as sondeoffer gebring word om te dien as versoening vir God asof God ’n sonde sou begaan het (Levinas 1994:116). Dit is werklik merkwaardig dat God dit in hierdie verhaal nodig vind om ’n soenoffer te bring. Derdens, maan se reaksie op God se voorstel dat sy die wyse sal wees waarop tyd gemeet word, is belangrik. Haar reaksie wys dat sy erken dat daar ’n integrale onderlinge verhouding tussen die twee lede van die dualistiese verhouding bestaan. Tyd word gemeet deur middel van die verhouding tussen maan en son. Maan se insig help ons om ook ander maniere raak te sien waarop die dualistiese konstrukte onderling aan mekaar verbonde is. Soos David Rutledge dit stel:

The ‘trace’ of Other in defining Self is necessary condition of selfhood, just as the ‘trace’ of Self is essential to the recognition van die Other as such. Man and woman, black and white, identity and difference, good and evil, life and death, being and nothingness – the ‘trace’ of each term in its binary opposite means that rather than being radically opposed, each is in fact bound up in the other’s identity at the deepest level (Rutledge 1996:75).

Ten slotte, die verhaal van maan wat haar stem laat hoor, nooi ons uit om te reflekteer oor die aard van mag. In ’n artikel oor die verskillende weergawes van hierdie midrasj, bied Barbara Ellison Rosenblit (1995:101-105) ’n moderne midrasj wat deur hierdie interessante verhaal geïnspireer is. In haar weergawe waarin Rosenblit son met die manlike, en maan met die vroulike assosieer, stel sy God se gesprek met die son na sy versoek toegestaan is wat hom die magtiger lid maak voor:

“But,” God continued, “you have shown poor judgment in your request. For great power contains within it the seeds of damage and destruction.”“You, my son, now so great and glorious, will be blamed for famine, for your piercing and endless heat will parch the earth. Your fiery rays will burn the skin of those exposed, and you will cause cancers to erupt on human flesh. Your strong rays will burn out the eyes of those who stare at you. No one will ever gaze at you ... no one will look at you.”The son gulped, but his rays already had begun to grow longer and stronger. “Your sister, the moon, will be smaller en less powerful, as you requested, but she will comfort all who gaze upon her. Hounds will bay in song as she lights the darkness. Poets and lovers will be moved to rapture by her hazy afterglow. Moonstruck will become a synonym for dazzled by the wonders of love, while sunstroke will come to mean dehydration, followed by death” (Rosenblit 1995:105).

Rosenblitt se verbeeldingryke moderne midrasj bied ’n goeie voorbeeld van ’n poging om die waarde van die marginale figuur binne ’n dualistiese konstruk te herdink. Haar verhaal maak ’n verdere belangrike punt oor die inherente invloed van mag. Interessant genoeg, Levinas se gebruik van die oorspronklike midrasj hou verband met sy doelstelling om Israel se identiteit te deurdink – Israel wat sigself amper altyd in ’n weerlose situasie bevind waar hulle moet oorleef in ’n wêreld waar ander die mag het. Inderdaad, deur die eeue heen, bevind die Jode hulself gereeld in situasies van onderdrukking en ly hulle onder magtige nasies. Levinas, wat Israel met die maan identifiseer en verder ook met die vroulike, meen dat dit nodig is om hiërargiese verhoudinge in stand te hou met die doel om oorlog te vermy. Vanuit maan se perspektief, sê Levinas (1994:117) die volgende: “Hierarchy is necessary, but I [the Moon] already sees that it is necessarily unjust” (sien ook Shapiro 2003:182). Levinas gebruik die midrasj aangaande die maan om die realiteit te onderstreep dat Israel grootliks haarself in ’n marginale situasie bevind. Levinas vind egter troos in die hoop van wat hy noem: “the greatness of smallness.”15

Wanneer Levinas se gedagtes in verband gebring word met ander hiërargiese verhoudings blyk dit duidelik hoe kompleks sake is.16 Daar is ’n spanning tussen die realiteit van die wêreld waarin ons leef en wat ’n mens hoop die wêreld kan wees. Dit is belangrik om te verstaan dat hiërargieë nie noodwendig regverdig of voor die hand liggend is nie.17

3. BINÊRE TEENSTELLINGS IN GENESIS 1 HERBESKOU

Die midrasj van die maan wat haar stem laat hoor daag ons uit om die hiërargiese aard van die ander binêre teenstellings in Genesis 1 en sy interpretasies weer te deurdink – ’n beskouing wat verband hou met onlangse interpretasies van Genesis 1 waarvolgens teoloë die chaos in Genesis 1 opnuut weer in oënskou neem.18 Veral die donker en die water, wat tradisioneel as negatief beskou is as deel van die chaos wat uitgewis moet word, geniet nuwe aandag. Soos James Barr (1998:63) dit stel: “The chaos could not easily be eliminated, after all, because it was needed:needed as the source for the darkness and the waters that appear in the core of the seven-day story.”19 Water word dus vanuit die waterchaos geneem en geïntegreer in die land/see sisteem. Ook nag word uit die donkerte wat deel van die oerchaos vorm, geneem en opgeneem in die dag/nag sisteem wat ’n integrale deel van die skepping vorm. Albei hierdie voorbeelde sê iets van die inherente onderlinge verbondenheid van die betrokke dualistiese konstrukte. Dit is verder belangrik om raak te sien dat God sowel die donker as die water ’n naam gee wat albei as ’n wesenlike deel van God se skepping bevestig (vv 5, 10) (Lönig en Zenger 2000:20).

In ’n poging om binêre teenstellings waar die een lid meer waardevol as die ander geskat word te deurbreek is dit noodsaaklik om ’n hernude waardering vir die lid van die dualistiese konstruk wat tipies geminag is te ontwikkel. Dit beteken dat ’n mens die idee dat water die absolute chaos is wat vernietig moet word, in heroorweging moet neem, en water eerder sien as noodsaaklik vir die skepping se bestaan. Iets hiervan word reeds aangetref in die Ou Testament wanneer die Bybelskrywers, selfs al vrees hulle die waterchaos, besef dat die afwesigheid van water gelyk gestel word aan woestyn, onvrugbaarheid en die dood (Eks 17; Num 20:5; 21:5; Hos 2:3; Ps 63:1; Jer 14:3-6; Jes 40:17). Ook die waarde van die donker moet in heroorweging geneem word. Nag beteken dat mense hulle broodnodige rus kan geniet. Soos Psalm 104:20-23 dit stel:

As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos. Die leeus brul op soek na prooi:hulle vra hulle kos van God. As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke. Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.

Keller verwoord iets van hierdie hernude waardering vir die “negatiewe” aspekte van die binêre teenstellings in Genesis 1. Met verwysing tot die voorbeeld van die donker sê sy dat ons moet leer om meer grasieus in die donker te beweeg:

Might we begin to ‘discover beauty in shadows’? Genesis oscillates between its days en its nights. Shadows penetrate the morning; rays of son lick the evening. Clouds give us cover. We have so much to renegotiate (Keller 2003:212).

Dit is dus belangrik om te verstaan dat die dualistiese konstrukte heelwat meer kompleks is as bloot teenoorgestelde punte van die spektrum waar hulle tipies aangetref word. Keller (2003:211- 212) sê die volgende oor die onderskeie aspekte van die dualistiese konstrukte: “both radiate into the variegated difference of our disturbed en divided species. Along the full spectrum of luminosities, the multicolors of beauty might become visible – translucent, never transparent to each other. Self-difference iterates through endless interdependencies.”

In die lig hiervan is dit belangrik om raak te sien dat elke dualistiese konstruk in Genesis 1 ’n spektrum van assosiasies bevat wat van negatief tot positief strek. Hierdie perspektief behoort ’n mens te help om essensialistiese kategorieë en skadelike stereotipes te deurbreek om sodoende ’n hernude waardering vir die tussenin-ruimte te verkry.20

Om ’n nuwe waardering vir die negatiewe pool van die binêre teenstelling te ontwikkel beteken egter nie dat ’n mens die chaos moet romantiseer nie. Met verwysing tot water, die aanslag van die orkane genaamd Katrina, Rita en Wilma wat die kus van die VSA onlangs verwoes het, en met brutale krag eiendom en lewens meegesleur het, het dit weer gewys watter ongelooflike skade water kan aanrig. ’n Mens moet dus verstaan dat daar ’n verskeidenheid konnotasies op die water/land spektrum is. Daar is grade van water en dit is nodig dat mense ’n onderskeidingsvermoë ontwikkel om te bepaal wat skadelik is al dan nie.

Ten slotte, dit is die hoop dat ’n groter onderskeidingsvermoë ook van toepassing sal wees op ander dualistiese konstrukte in Genesis 1, soos ook die man/vrou verhouding. Dit sal beteken dat meer mense verby stereotipes en die valse kontras dat vrouens wesenlik sleg en mans wesenlik goed is, sal beweeg, maar eerder die vermoë ontwikkel om die volle spektrum op die manlike/vroulike kontinuum in te neem sodat mans en vrouens as individue gesien word. Dit sal verder impliseer dat mense ’n premie plaas op waardes soos respek vir mekaar, ’n waardering vir onderlinge verskille asook ’n besef van die wyse waarop man en vrou onderlinge verbonde is aan mekaar. In die lig hiervan is dit nie moeilik om die parallelle met betrekking tot die ander hiërargiese verhoudings wat deel vorm van ons wêreld vandag raak te sien nie. ’n Mens kan inderdaad soortgelyke argumente maak in terme van ras en seksuele oriëntasie. Dit is my hoop dat mense vandag ook in die geval van ras en seksuele oriëntasie nie die slagoffer sal word van simplistiese binêre teenstellings waarvolgens stereotipes ’n mens se oordeel van indiwidue kleur nie. Mag ons die wysheid hê om die waarde van elke individuele persoon te besef.

4. ONS GEMEENTES AS ’N GASVRYE TUISTE

In ons gemeentes vandag is daar tekens van die diep wonde met betrekking tot die verhoudings tussen mense van verskillende rasse, geslagte, sosio-ekonomiese en etniese groeperinge. ’n Mens hoop dat soos Genesis 1 die Babiloniese ballinge die belofte en die hoop gebied het, dat daar uit die realiteit van chaos en pyn, ’n nuwe wêreld kan groei, ’n “huis” waarin die verskillende inwoners saam kan woon, ook ons daarna sal streef om ons gemeentes ’n gasvrye tuiste te maak waar almal tuis voel.21

Hierdie versugting sal die manier waarop ons preek, onderrig en leef in ons onderskeie gemeentes verseker beïnvloed. Deur prediking en deur onderrig kan ons help om ’n gasvrye ruimte te skep waar alle tipes mense tuis voel. Dit beteken egter dat predikante en ander kerkleiers ons gemeentes moet help om anders te dink oor God en die ander met wie ons hierdie wêreld deel. Dit kan geskied deur Bybelinterpretasies wat pynlike stereotipes ondersteun te kritiseer en te dekonstrueer. Ons preke en Bybelstudies kan dit ten doel stel om aan ons gemeentes die waarde van diversiteit en die Christelike roeping tot ’n lewe in gemeenskap te kommunikeer. En soos dit belangrik is om ons gemeentes te help om die gemarginaliseerde stemme in die Bybelse teks te hoor, so kan ons ook lidmate help om aandag te skenk aan daardie stemme in die gemeenskap wie se stemme uitgedoof word of misgekyk word – die stemme van hulle wat ly, wat sleg behandel word en waarop neergesien word. Sodoende word ons deelnemers aan ’n proses wat help om die koninkryk van God ’n werklikheid in die hier en nou te maak.

BIBLIOGRAFIE

Barr, James. “Was Everything that God Created Really Good? A Question in the First Verse of the Bible.” God in the Fray:A Tribute to Walter Brueggemann. Tod Linafelt en Timothy K. Beal (red.). Minneapolis: Fortress, 1998, 55-65.

Bloch, Renée. “Midrash.” Vol. 1 of Approaches to Ancient Judaism:Theory and Practice. Edited by William Scott Green. Translated Mary Howard Callaway. Brown Judaic Studies. 5 vols. Missoula, Mont.:Scholars Press for Brown University, 1978, 29-50.

Brown, William P. The Ethos of the Cosmos:The Genesis of Moral Imagination in the Bible. Grand Rapids, MI:Wm Eerdmans, 1999.

Brueggemann, Walter. Theology of the Old Testament:Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis:Fortress, 1997.

Caputo, John D (red). Deconstruction in a Nutshell:A Conversation With Jacques Derrida. Perspectives in Continental Philosophy. New York:Fordham University Press, 1997.

Clines, David. “Ethics as Deconstructing, and the Ethics of Deconstructing.” The Bible in Ethics:The Second Sheffield Colloquium. John W. Rogerson et al (red.). Sheffield, England:Sheffield Academic Press, 1995, 77-106.

D’Angelo, Mary Rose. “The Garden: Once and Not Again: Traditional Interpretations of Genesis 1:26-27 and 1 Corinthians 11:7-12.” Genesis 1-3 in the History of Exegesis:Intrigue in the Garden. Gregory Allen Robbins (ed.). Lewiston:The Edwin Mellen Press, 1988, 1-41.

Ginzberg, Louis. Legends of the Jews. Philadelphia: The Jewish Publication Society, 1992.

Hampson, Daphne. Theology and Feminism. Great Britain: Basil Blackwell, 1990.

Hoek, Annewies van den. “Endowed With Reason or Glued to the Senses:Philo’s Thoughts on Adam en Eve.” The Creation of Man and Woman:Interpretations of the Biblical Narratives in Jewish and Christian Traditions. Gerard P. Luttikhuizen (red.). Leiden: Brill, 2000, 63-75.

Keller, Catherine. Face of the Deep:A Theology of Becoming. London:Routledge, 2003.

Kugel, James. “Two Introductions to Midrash.” Prooftexts 3 (1983): 131-155.

Kvam, Kristen E.,et. al (red.), Jewish, Christian and Muslim Readings on Genesis en Gender (Bloomington: Indiana University Press, 1999).

Lapsley, Jacqueline E. Whispering the Word:Hearing Women’s Stories in the Old Testament. Louisville, KY:Westminster John Knox, 2005.

Levinas, Emmanuel. “Judaism and Kenosis.” In the Time of the Nations. Michael B. Smith (trans.). Bloomington: Indiana University Press, 1994, 114-132.

Lönig, Karl en Zenger, Erich. To Begin with God Created. Collegeville, MN: The Liturgical Press, 2000. Pardes, Ilana. Countertraditions in the Bible:A Feminist Approach. Cambridge, Mass.: Harvard University Press, 1992.

Rosenblit, Barbara Ellison. “Midrash On The Moon:In A Different Light.” Response (Winter 1995):101-105.

Rutledge, David. Reading Marginally:Feminism, Deconstruction and the Bible. Leiden: E. J. Brill, 1996.

Sakenfeld, Katharine Doob. Just Wives? Stories of Power en Survival in the Old Testament and Today. Louisville, KY: Westminster John Knox, 2003.

Schuller, Eileen. “Feminism and Biblical Hermeneutics:Genesis 1-3 as a Test Case.” Gender, Genre en Religion:Feminist Reflections. Morny Joy & Eva K. Neumaier-Dargyay (red). Waterloo, Ont : Wilfrid Laurier University Press, 1995, 31-46.

Shapiro, Susan E. “‘And God Created Woman’:Reading the Bible Otherwise.” Levinas and Biblical Studies. Tamara Cohn Eskenazi et al (red.). Semeia Studies 43. Atlanta:Society of Biblical Literature, 2003, 159-195.

Sherwood, Yvonne en Hart, Kevin (red.), Derrida en Religion:Other Testaments. New York: Routledge, 2005.

Teugels, L. “The Creation of the Human in Rabbinic Literature.” The Creation of Man and Woman:Interpretations of the Biblical Narratives in Jewish and Christian Traditions. Gerard P.Luttikhuizen (red.). Leiden: Brill, 2000, 107-127.

Trible, Phyllis. God and the Rhetoric of Sexuality. Overtures to Biblical Theology. Philadelphia: Fortress, 1978.

Van Wijk-Bos, Johanna W. H. Reimagining God:The Case for Scriptural Diversity. Louisville, KY.: Westminster John Knox, 1995.

TREFWOORDE

Feminisme, Dekonstruksie, Midrasj, Bybelinterpretasie, Genesis 1

KEY WORDS

Feminism, Deconstruction, Midrash, Biblical Interpretation, Genesis 1

Prof Julie Claassens

Richmond Baptist Seminary

Richmond, Virginia,

VSA

jclaassens@btsr.edu

1 Hierdie artikel het oorspronklik verskyn onder die titel, “And the Moon Spoke Up:Genesis 1 and Feminist Theology,” Review and Expositor 103/2 (2006) en is met toestemming vertaal deur die outeur.

2 Phyllis Trible gebruik bv. die beeld van man en vrou wat beide in God se beeld geskape is in Gen 1:26-27 as ’n hermeneutiese invalshoek om ’n positiewe interpretasie van Genesis 2-3 voor te stel wat, as dit bevry word van eeue se patriargale en seksistiese interpretasie, veral vir vrouens waardevol kan wees (1978:12-23, 72-105).

3 Daar is meerdere voorbeelde van hierdie benadering tot die Bybelse teks. Benewens die werke wat reeds genoem is, sien ook die werk van Katharine Doob Sakenfeld (2003); Jacqueline E. Lapsley (2005); Johanna W. H. Van Wijk-Bos (1995). Die werk van hierdie teoloë bied ’n skerp kontras met feministiese interpreteerders wat ontken dat die Bybel steeds waarde het vir vrouens vandag. Hierdie interpreteerders beskou hulself as post-Christen feministe wat die godsdiens van die vaders agtergelaat het. Vir ’n oorskou van hierdie perspektief sien Daphne Hampson (1990).

4 Rutledge (1996:13, 90) meen dat die doelstellings van feministiese teologie ook strek om ander groepe in te sluit wie se ervaring van verdrukking binne hierargiese strukture net so dringend aandag verdien as dié van vrouens.

5 Vir ’n goeie inleiding tot die werk van Jacques Derrida en die implikasies van dekonstruksie vir die studie van godsdiens en die Bybel, sien John D. Caputo (red) (1997), en Yvonne Sherwood & Kevin Hart (reds) (2005).

6 Catherine Keller (2003:28-35) identifiseer vroulike assosiasies met die waterchaos, bv., in die vorm van Tiamat wat deur Marduk vermoor word, en wie se liggaam as die materiaal vir die vorming van die kosmos gebruik word.

7 Sien Gen 1:4 waar God se oordeel dat die geskape werklikheid goed is, slegs na die lig blyk te verwys. James Barr (1998:60-61) vra die volgende vraag in hierdie verband:“When it was said that all that God make was good, did this mean that the entire universe, as created, was good, or only that the structure as set up by God was good – good in that it controlled and limited those elements that were not directly brought into existence by him?” Maar soos Barr tereg uitwys, elders in die Ou Testament vind ’n mens ’n ander prentjie. In Jes 45:7 word daar gesê dat God beide die donker en die lig skep.

8 Vir ’n wonderlike versameling van Joodse, Christelike en Moslem interpretasies van Genesis 1-3 sien Kristen E. Kvam, et. al (eds.), (1999).

9 Dit is wel so dat die verwerping van die vrou as gevolg van haar vroulike natuur of haar tweederangse plek in die skeppingsorde, en die beklemtoning van haar liggaamlike aard teenoor die manlike wat met die spirituele geassosieer is, nie so duidelik teenwoordig in die rabbiniese literatuur as in Joods- Hellenistiese en patristiese tekste nie (Teugels, 2000:127).

10 Sien ook Ef 5:21-33 en 1 Tim 2:8-15. Vir ’n goeie bespreking van die verhouding tussen Gen 1:26-27 en 1 Kor 11:7-12 sien Mary Rose D’Angelo, 1988.

11 Sien die onlangse gebruik van hierdie beeld deur Lönig en Zenger, 2000:105-117.

12 Midrasj kan verder beskryf word in terme van die rabbiniese leesstrategie wat ’n Bybelse teks verklaar met behulp van paralleltekste (“interpreting Scripture by means of Scripture”). Verder, midrasj hou sigself besig met die probleme in die teks, soos ’n woord wat nie in die konteks pas nie, ’n ongewone woord of spelling van ’n woord, of Bybelse tradisies wat mekaar weerspreek. James Kugel (1983:145) gebruik die volgende voorbeeld om hierdie konsep te verduidelik:“the text’s irregularity is the grain of sand which so irritates the midrashic oyster that he constructs a pearl around it.” Sien ook Renée Bloch (1978:29-50).

13 Ginzberg 1992:1:23-24; Pirkê de Rabbi Eliezer 6 (trans. Gerald Friedlander).

14 Dit blyk dat daar ’n verband tussen die maan en die vroulike, en die son en die manlike is, veral in lig van die oertipiese assosiasies met hierdie entiteite (sien bv. Diana in the Romeinse mitologie met haar Griekse eweknie Artemis. Sien ook Levinas (1994:117) se gebruik van hierdie assosiasie in verband met bogenoemde midrasj). Selfs al erken ’n mens nie hierdie verband nie, op ’n heel basiese vlak bied die son/maan hierargie ’n voorbeeld van ’n hierargiese ongelykheid wat ook waar is van ander hierargiese dualistiese verhoudings.

15 Levinas (1994:117) stel dit as volg:“rather than commanding a punishment unjustly imposed, perhaps what the voice of God proposed was the greatness of smallness – of humility, of the abnegation of might.”

16 Sien Shapiro (2003:159-195) se in-diepte bespreking van die wyse waarop Levinas dink oor die verhouding tussen man en vrou.

17 Die problematiese aard van hierdie saak is duidelik in lig van die komplekse konteks van die Midde Ooste vandag waar Israel haarself tans in ’n posisie van mag bevind.

18 Sien die werk van Catharine Keller (2003) wat die diepgaande vrees vir die chaos aanspreek – iets wat sy “tehomaphobia” noem. In haar ondersoek aangaande die ontwikkeling van die teologiese beginsel, creatio ex nihilio, d.w.s. die idee dat God uit niks geskep het, beweeg sy in die rigting van ’n creatio ex profundis, d.w.s. die teologiese beginsel dat God vanuit die chaos geskep het. Sien ook Brown (1999:36-42).

19 Brown (1999:41) toon aan dat die water glad nie as chaos uitgebeeld word nie, maar dat die water eerder in ’n positiewe lig bejeën word en uitgebeeld word as ’n aktiewe deelnemer in die proses van God se skepping.

20 Brown (1999:48) beskryf die onderskeie dele van die skepping as volg:“the cosmic domains are separate and equal, yet adjacent and interdependent.”

21 Keller (2003:160, 191, 195) herinner ons daaraan dat ons verlange na ’n tuiste altyd in ’n proses van ontwikkeling is. Dit is verder belangrik om te onthou dat hierdie verlange nooit geskei moet word van die strewe vir reg en geregtigheid nie. Soos sy dit stel:“Genesis must be thought in proximity of Exodus” (p. 191).