Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

“Geseënd en gewyd” – Handoplegging en bevestiging by Calvyn, asook in die gereformeerde tradisie ná hom

ABSTRACT

“Blessed and Consecrated” – The laying on of hands and ordination in the thought of John Calvin and the reformed tradition after him

The article is about ordaining in Reformed Churches. It starts of with a few examples of how the office of the minister and the act of ordainment is viewed in reformed theology and church practice. Then it goes on to analyse what John Calvin said about it – the fact that he was prepared to call it a third sacrament. The article continues to look at the views of church politicians after Calvin as well as some Reformed church orders since the sixteenth century right up to our own day. The conclusion is that it can be worth the while for reformed theology to again listen to the largely unknown and therefore unappreciated thoughts of John Calvin on the ordaining of ministers.

1. INLEIDEND

1.1 Verskillende redes kan aangevoer word waarom dit in ons dag nodig geword het om weer aandag te gee aan die handelinge van handoplegging en bevestiging in die kerk. Vir kerke van gereformeerde belydenis kan dit ook verhelderend wees om wéér bewus te raak van wat Calvyn werklik oor hierdie handelinge gedink en geskryf het en wat daarvan geword het by daardie kerke en teoloë wat in die verlengde van sy teologie gedink en geleef het en nog steeds wil leef en dink.

1.2 Die woorde “geseënd en gewyd” in die titel van die artikel is ’n aanhaling uit wat Calvyn skryf in Institusie 4,3,16 om die belang en betekenis van bevestiging en handoplegging in sy eie denke te beklemtoon – ’n betekenis en belangrikheid wat gerus weer teruggebring kan word in ons eie dag. Die versigtige handhawing van bevestiging en handoplegging behoort ook vir ons – net soos dit vir Calvyn was – as beginsel te dien. Die bevestiging van ’n predikant te same met die oplegging van hande is immers ’n middel om die aansien van die bedieningsamp – wat klaarblyklik aan die afneem is soos ons in die volgende paragraaf sal sien – weer by mense in te skerp en ook om diegene wat georden word daaraan te herinner dat hulle deur hulle ordening nie langer aan hulleself behoort nie maar aan die diens van God en sy kerk toegesê is.

1.3 Die opset van die artikel is om te kyk na wat Calvyn oor die bevestiging en handoplegging, of te wel die ordening van leraars, gesê het en wat daarvan geword het in latere gereformeerde kerkordes en die denke van gereformeerde kerkregtelikes om dan ten slotte enkele gevolgtrekkings te maak.

2. ENKELE REDES WAAROM DIT NOODSAAKLIK IS OM WEER NA TE DINK OOR DIE ORDENING VAN PREDIKANTE

2.1 Daar is vandag ’n heeltemal ander beskouing oor die predikant as wat daar vroeër in gereformeerde teologie was. Die amp van predikant word in ons dag nie baie hoog geag deur sommige teoloë en teologieë nie. Dit het begin met sekere eksponente van die gemeentebou- teologie wat doelbewus gekies het vir ’n sg liggaamsmodel van die kerk waarin die lidmate ’n groter rol speel teenoor die sg uitgediende model van herder–kudde waar die predikant die verteenwoordiger van die Groot Herder sou wees teenoor die kudde, die gemeente. Wanneer Theo Witkamp in 2003 skryf oor die veranderinge en breuke in die praktiese teologie van ons dag is die opskrif van sy artikel De wending naar het subject in de praktische theologie. Die wending behels dat daar van ’n hermeneutiese metode gebruik gemaak word wat, a la Don Browning, werk met die metode praxis-na-teorie-na-praxis. In die proses word daar wel gevra na die waarheidsin van die tradisie maar uiteindelik word die spits gesoek in die nuwe praksis wat meer adekwaat is, wat sowel die huidige situasie as die tradisie betref. Die hele teologie moet eintlik as praktiese teologie gesien word wat nie net deskriptief is nie maar veral ook strategies (Witkamp 2003:75) van aard is. Wat die implikasies van hierdie subjektivering vir die predikant is, blyk uit die volgende aanhaling:

“Ook de dominee is niet meer automatisch representant van de traditie, in ieder geval niet van een ongebroken traditie. Hij is zelf ook een mens die zijn eigen plaats in Gods wereld moet zoeken. Hij kent zelf dezelfde onzekerheden waaraan elk mens lijdt. Hij wordt zo veel meer tot tijdgenoot. Hij merkt van de kansel af te moeten komen om bij de mensen te kunnen zijn. Ook zij stapt niet zomaar in het christelijk verhaal. Ook zij kan het niet garanderen. Zij is niet eerst dominee, maar eerst mens. En als mens is zij allereerst vragende mens, bewust of onbewust, en zo leeft zij in haar eigen leven het leven van elke mens. Maar zij doet dat door wakker te worden voor haar verlangen, het verlangen naar de waarheid, naar werkelijkheid en een zinvol bestaan. Zij doet dat door te zoeken naar transcendentie en open te staan voor de mogelijkheid dat in het gewone het bijzondere oplicht. Zij houdt zich open voor de verhulde ontmoetingen met God. Het gaat dan niet om de instemming met een bepaalde godsleer, hoe waar die ook mag zijn, maar om de openheid voor de mogelijkheid dat God ons in de wisselende situaties van ons leven werkelijk ontmoeten wil” (Witkamp 2003:79).

2.2 Die werksposisie van ’n predikant word ook meer kere in ons dag heeltemal anders gesien as wat gereformeerde teologie dit deur die eeue heen gesien het. Die werk van ’n leraar word doodgewoon as die van ’n werknemer teenoor ’n werkgewer, die kerkraad of die kerkverband gesien; ’n verhouding wat in terme van die Arbeidswet van die land gereël moet word. Van begrip vir ’n roeping, innerlik sowel as deur die kerk is daar weinig sprake net soos wat daar min ruimte is vir die siening dat die leraar eintlik in diens van God is en dat die kerk aan hom/haar die ruimte en ondersteuning bied om sy/haar roeping deur God na te kom (Coertzen 2003).

2.3 ’n Derde rede waarom dit belangrik is om na te dink oor die betekenis en plek van bevestiging/ordening in die kerk is die neiging by gemeentes en selfs ook by predikante om die funksie van ’n predikant heeltemal te onderskat en selfs te negeer. In die amptelike aankondiging van ’n NG gemeente op 15 Februarie 2004 is die volgende te lees: “... ek (het) die voorreg gehad om my kinders te doop. Ek het hulle gedoop as hulle pa, nie as dominee nie. Wat ’n wonderlike voorreg. Daar het ek net geweet dat dit ’n voorreg is wat elke ouer behoort te hê. Ek het daarna gaan kyk of daar iets in die Bybel is wat dit verhoed – maar niks. Ek het twee briewe aan die sinode geskryf waarin ek gevra het hulle moet op die saak ingaan en geen reaksie gekry nie. Die tyd is nou ryp en dit is binne die konteks van die gemeente waar die ouer die kind kan doop. Daar is maar geen verskil in die doop nie, want dit is nie ons wat die doop geldig maak nie, maar God en die water is die simbool daarvan. Daarom het ons die saak met die kerkraad bespreek en elke ouer wat self die handeling wil waarneem kan van nou af, per briefie, dit vra van die kerkraad. Indien nie, doop ons as leraars self.” (Aankondiginge van ’n NG Gemeente,15 Februarie 2004).

2.4 ’n Vierde baie belangrike rede vir nadenke oor die saak van bevestiging/ordening in gereformeerde kerke is dat dit iets is wat tot dusver eintlik baie min aandag gekry het in gereformeerde ampsteologie. Wie gereformeerde teoloë se verklarings van kerkordes lees, sal nie vreeslik baie oor bevestiging en/of ordening kry nie. Aan hierdie verskynsel word aandag gegee in paragraaf 4. In hulle werke word ook eintlik glad nie verwys na wat Calvyn regtig hieroor gesê het nie. Die meeste van die latere gereformeerde kerkordes wat geraadpleeg is, bevat eintlik ook net ’n inskrywing dat ’n persoon “bevestig” moet word voor hy of sy in ’n amp mag dien. Dit is omtrent net in die Engelse Kerkorde van die Christian Reformed Church of North America (CRCNA) dat daar van “ordain” gepraat word – dit is asof die begrip ordening heeltemal uit die gereformeerde woordeskat verdwyn het. Hoewel Calvyn self in die Institusie praat van “ordonnent” (Frans 1541), en “ordinant” (Latyn 1559) en dit ook in engels vertaal word as “ordain”, word dit byvoorbeeld in die Afrikaanse weergawe vertaal as “bevestig” (vgl Calvyn Inst, IV 5.5 (1541 en 1559); McNeil, IV, 5,5; Simpson IV, 5,5). Bouwman, ’n baie bekende en invloedryke gereformeerde kerkregtelike is van mening dat die openbare bevestiging iets is wat onder bepaalde omstandighede soos byvoorbeeld vervolging en verhindering deur die owerheid, goedskiks gelaat sou kon word. Onder normale omstandighede egter is bevestiging die eindstadium van die roeping en moet dit volgens Bouwman onderhou word (Bouwman 1970: 408). In 1988 verskyn daar, hoofsaaklik in Afrikaans, die boek Gereformeerde Ampsbediening onder redaksie van PJ Rossouw. Die boek is ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse teologiese literatuur en tog word daar in die hele boek niks gesê oor die bevestiging of ordinering van ampsdraers nie. Dit is asof bevestiging en handoplegging iets is wat nie meer figureer in teologiese nadenke nie – in elk geval nie in die Suid-Afrika van 1988 nie.

Dit alles bevestig net die feit dat die ordening – die bevestiging en handoplegging van predikante – nie die aandag kry wat dit toekom in gereformeerde kerkreg en kerkregering nie.

3. BEVESTIGING EN HANDOPLEGGING IN DIE DENKE VAN CALVYN

3.1 Daar kan beswaarlik oor bevestiging gepraat word sonder om aan die daad van handoplegging aandag te gee. Die aanwysing of aanstelling van ’n persoon in ’n bepaalde amp gaan in die Skrif dikwels met handoplegging gepaard. Vir die kerk van Christus deur die eeue was handoplegging nog altyd ’n vanselfsprekendheid hoewel dit dikwels ook kontroversieel was in byvoorbeeld vrae oor wat presies gebeur met handoplegging, of dit bloot net ’n simbool is en of dit ’n sakramentele karakter het. Geringer vrae gaan oor sake soos wie almal aan die handoplegging moet deelneem en of dit net eenmalig moet gebeur, ensovoorts.

3.2 Die vroeë kerk het in navolging van 1 Timoteus 4:14 die oplegging van hande as ’n simboliese daad gesien waardeur dit duidelik geword het dat ’n betrokke persoon ’n geroepene van die Here is, dat hy die ampsgawe ontvang het en dat hy deur die oplegging van hande in die diens van die gemeente oorgedra is. Dit is ewe eens gesien as ’n plegtige verklaring van God se kant af aan die gemeente dat die gekosene wettig deur God geroep is en as dienskneg van die Here beskou moet word. Die ampsdraer self is deur die oplegging van hande as ’t ware vermaan om sy gawes te ontwikkel en tot eer van God en die welsyn van die gemeente te gebruik (Bouwman 1971:410).

3.3 Van hierdie verstaan van handoplegging in die vroeë kerk het die Rooms Katolieke Kerk ’n sakrament gemaak (Trente, sess. 23 in Bouwman 1971:410), ’n standpunt wat vandag nog geld. Kanon 1008 van die Codex Iuris Canonoci 1983 lees: “By divine institution, some among Christ’s faithful are, through the sacrament of order, marked with an indelible character and are thus constituted sacred ministers; thereby they are consecrated and deputed so that, each according to his own grade, they fulfil, in the person of Christ the Head, the offices of teaching, sanctifying and ruling, and so they nourish the people of God.” Hieroor skryf Geisinger soos volg: “Sacred ministry was intended by Jesus Christ, and the Church has traditionally recognized ordination to ministry as being one of the seven sacraments instituted by Christ for the good of his Church. ... Ordination is one of the three sacraments which bestow an indelible character on the recipient” (Robert & Geisinger 2000:1193).

3.4 Calvyn skryf op baie plekke in die Institusie oor ordinering en die oplegging van hande. Wat betref bevestiging of ordinering is daar Institusie 4,3,16 (ordinering as sodanig); 4,4,12 (’n rite vir alle tye); 4,4,14 (prosedure by ordinering); 4,5,5 (misbruike by ordinering); 4,17,39 (die bedoeling van ordinering); 4,19,29 (ordinering van priesters). Oor die oplegging van hande skryf hy o.m. in 4,14,20; 4,3,16; 4,19, 28 en 4,19,31.

3.4.1 In Institusie 4,3,16 het Calvyn dit oor die bevestigings- of ordineringseremonie as sodanig. Hy toon aan dat die apostels altyd van handoplegging gebruik gemaak het wanneer hulle iemand in ’n bedieningsamp toegelaat het. Dit is ’n seremonie wat sy oorsprong aan oud-Israel ontleen het. “Wanneer hulle wou hê dat iets geseën en gewyd moes wees het hulle dit as ’t ware voor God se oë gestel deur hulle hande daarop te lê. ... Die apostels het daarom deur handoplegging aangetoon dat hulle iemand vir God aanbied wat hulle in die bedieningsamp inwy. Hulle het dit nogtans ook gebruik oor mense aan wie hulle die sigbare genadegawe van God se Gees verleen het.” Die handoplegging was vir die apostels ’n plegtige seremonie wanneer iemand tot die kerklike bedieningsamp geroep is. “So het hulle hul herders en leraars, so het hulle hulle diakens bevestig.” In hierdie paragraaf redeneer Calvyn ook dat hoewel daar nie ’n spesifieke voorskrif tot handoplegging in die Skrif is nie, hy tog die voorskrif daartoe vind in die feit dat die apostels dit voortdurend toegepas het, “daarom behoort die versigtige handhawing daarvan vir ons as beginsel te dien”. Handoplegging is volgens hom voordelig omdat dit ’n middel is om die aansien van die bedieningsamp by die mense in te skerp en andersyds omdat dit die een wat georden word, vermaan dat hy nie langer aan homself behoort nie, maar tot die diens van God en die kerk toegesê is.

3.4.2 In Institusie 4,5,5, staan Calvyn baie sterk daarop dat ’n presbiter wat aangewys word altyd ’n bepaalde funksie moet hê om te vervul – ’n presbiter om die kerk te regeer en ’n diaken om die dankoffers in te samel.

3.4.3 In Boek 4 hoofstuk 14 het Calvyn dit oor die sakramente. In paragraaf 20 van die betrokke hoofstuk het hy dit dan oor die sakramente in die Ou Testament en dié in die Nuwe Testament. Van Christus se tyd af sê hy dan, is al die sakramente van die Ou Testament afgeskaf “en slegs twee sakramente is ingestel, naamlik die doop en die nagmaal van die Here en hiervan maak die Christelike kerk tans nog gebruik.” En dan vervolg Calvyn: “Ek praat nou van daardie sakramente wat ingestel is om in die hele kerk gebruik te word. Handoplegging waarvolgens bedienaars in hulle amp bevestig word, tel ek nie onder die gewone sakramente nie hoewel dit nie teen my sin is dat dit ook ’n sakrament genoem word nie.” Hier kom dus ’n aspek met betrekking tot die bevestiging of ordinering van ’n ampsdraer by Calvyn na vore – nl sy bereidheid om bevestiging en handoplegging ’n derde sakrament te noem – wat in die latere gereformeerde kerkreg en kerkregering omtrent heeltemal verdwyn het.

3.4.4 In Institusie 4,19,28 het Calvyn dit oor die sg meerdere ordes van die RKK, dit wil sê die subdiakens, die diakens en die sacerdotes of te wel die priesters of presbiter, wat volgens Rome een saak is. Die taak van die priester of presbiter is “ ... om die offer van die liggaam en die bloed van Christus op die altaar te verrig, gebede te doen en die gawes van God te seën (Decr Grat 1.25.1(Friedberg 1:90)). Calvyn se beswaar is dat hierdie standpunt oor priester en presbiter nie ’n enkele lettertjie uit die Woord van God het nie. Iemand wat homself priester noem om offers van versoening te bring, verontreg Christus aangesien Hy deur die Vader met ’n eed as priester bestem en geheilig is volgens die orde van Melgisedek, sonder einde en sonder opvolger. Christus het een maal ’n soenoffer van ewige versoening gebring; nou het Hy die heiligdom van die hemel betree en tree Hy vir ons in. In Hom is ons almal priesters, maar met die oog op lof en danksegging, en kortom, met die oog daarop om onsself en alles wat aan ons behoort, aan God te bring. Dit was uniek aan Hom alleen dat Hy deur sy offer God versoen en die sondes uitgewis het. E van der Borght wys daarop dat in vergelyking met die eerste uitgawe van die Institusie die tema van die priesterskap van die gelowiges in latere uitgawes na die agtergrond skuif. In 1536 is die priesterskap van die gelowiges vir Calvyn ’n voertuig om die pad na God oop te breek vir almal, teenoor Rome wat met die priesterklas die toegang tot God wou monopoliseer. Na 1543 val hierdie beklemtoning by Calvyn weg. Klaarblyklik het Calvyn onder die invloed van Bucer besef dat die Dopers die priesterskap van die gelowiges wou gebruik om elke afsonderlike amp te verwerp (Van der Borght 2000:174-175) Hierdie verskuiwing moet heelwaarskynlik ook gesien word teen die agtergrond van die hoë waarde wat Calvyn op die ordening van die amp geplaas het. Nadat die priester- of presbiterskap soos verstaan deur die RKK afgewys het, skryf hy oor die “ware amp van presbiter” en dat hy dit wat deur Christus se mond by ons aanbeveel is, met graagte as ’n sakrament erken. “Dit is trouens ten eerste ’n seremonie wat aan die Skrif ontleen is, en ten tweede getuig Paulus dat dit nie sinloos en oorbodig is nie, maar ’n betroubare teken van geestelike genade (1 Tim 4:14 in die kantlyn). Dat ek dit nie as ’n derde sakrament onder die ander twee gestel het nie, is daaraan te wyte dat dit nie ’n gewone en gemeenskaplike sakrament onder alle gelowiges is nie, maar gerig is op die verrigting van ’n besondere seremonie.” En dan vervolg Calvyn met woorde waaruit die hoë waarde van die ordinering binne die reformatoriese kerke volgens hom blyk: “Christus het trouens beveel dat hulle as uitdelers van sy evangelie en sy verborgenhede bestem is, maar nie dat hulle as offeraars ingehuldig moet word nie. Hy het hulle beveel om die evangelie te verkondig en sy kudde te laat wei, en nie dat hulle offers moet bring nie. Hy het hulle die genade van die Heilige Gees beloof, nie om versoening vir ons sondes te doen nie, maar om die regering van die kerk na behore waar te neem en te onderhou.”

3.4.5 In Institusie 4,19,31 het Calvyn dit teen die gebruik van olie by die salwing van priesters in die RKK. Dan het hy dit oor die handoplegging waaroor hy skryf: “.. hoewel ek toegee dat dit in ware en wettige bevestigings ’n sakrament is, ontken ek dat dit ’n plek het in hierdie fabel wanneer hulle Christus se bevel nie gehoorsaam nie en hulle ook nie die doel in aanmerking neem waarheen die belofte ons behoort te lei nie.”

3.5 Tot sover die standpunt van Calvyn oor bevestiging en handoplegging. In ’n studie uit 1964 Le ministère pastoral dans l’Institution Chretienne de Calvin à la lumière du troisième sacrement het, L Schümmer onder meer tot die gevolgtrekking gekom dat Calvyn ordinering wel deeglik as ’n derde sakrament gesien het wat slegs vir herders of te wel predikante geld. Hy herhaal hierdie standpunt in ’n artikel Le ministère pastoral dans l’Institution Chrétienne de Calvin in La Revue Reformée 45 (1994 5, 9-47, aangehaal uit Van der Borght 2000: 179). Schümmer het selfs nog verder gegaan en dit gestel dat die ordinering met handoplegging by predikante ’n merkteken meebring wat weliswaar nie magies-materieel van aard is nie maar spiritueel. Van der Borght is versigter – hy meen Calvyn self was terughoudend om ordening in alle opsigte ’n sakrament te noem. Calvyn het wel die moontlikheid oopgelaat dat aan ordinering sakramentele betekenis toegeken kan word.

4. BEVESTIGING EN HANDOPLEGGING IN DIE DENKE VAN KERKREGTELIKES IN GEREFORMEERDE KERKE

Hoe dit ook al sy, terwyl Calvyn bereid was om onder bepaalde omstandighede bevestiging/ordinering as ’n sakrament te tipeer, was dit ’n standpunt wat nie eintlik navolging in gereformeerde geledere na hom gevind het nie. By weinig gereformeerde kerkregtelikes uit die Nederlandse en aanverwante teologiese wêreld word hierdie standpunt van Calvyn hoegenaamd vermeld afgesien van die feit dat daar weggeskram word van die begrip ordinering en dat daar eintlik deurgaans net van bevestiging gepraat word. Daar is ook gereformeerde kerkregtelikes by wie mens dit eintlik nie sal verwag nie wat bevestiging en handoplegging nie as noodsaaklik beskou nie.

Hoewel Voetius gemeen het dat handoplegging by die bevestiging/ordinering van ’n leraar goed is, het hy dit hoegenaamd nie as ’n verpligting of ’n noodsaaklikheid gesien nie (Voetius, Politica Ecclesiastica III:452,575 en 579 in Bouwman 1970:411). Dit is in hierdie verband tog veelseggend dat in sy vertaalde werk Beginselen van Gereformeerd Kerkrecht Voetius op die vraag “Hoe vele zaken worden vereischt tot een wettige beroeping, voor zoover die de uitwendige bewilliging en toestemming der gemeente betreft?” antwoord dat twee sake nodige is t.w.: “Verkiezing en verordineering tot het predik-ambt.” Hy gee egter glad nie verder aandag aan die “verordineering” nie terwyl hy uitvoerig skryf oor die verkiesing. (Voetius 1888:28-29).

Vir H Bouwman is die bevestiging die sluitstuk van die beroeping of te wel roeping van die betrokkene . Hy sien dit bloot net as die verbintenis tussen die leraar en die gemeente by welke geleentheid die amptelike pligte van die leraar aan hom/haar voorgehou word en hy/sy deur gebede aan God toebeveel word (Bouwman 1970:408). Van die diepe betekenis wat Calvyn daaraan toegeken het, kom daar eintlik weinig tereg. Bouwman is ook van mening dat die openbare bevestiging iets is wat onder bepaalde omstandighede soos byvoorbeeld vervolging en verhindering deur die owerheid, goedskiks gelaat sou kon word. Onder normale omstandighede egter is bevestiging die eindstadium van die roeping en moet dit volgens Bouwman onderhou word (Bouwman 1970:408). Vir Joh. Jansen is die bevestiging nogal baie saaklik “slechts de openlijke insetting in en aanvaarding van het ambt in het midden der gemeente, die met behoorlijke stipulatiën en afvragingen, vermaningen en gebed en oplegging der handen plaats heft”. Hiermee neem hy sterk standpunt in teen die RKK wat die ordening as ’n sakrament sien wat op ’n besondere wyse ’n ampsgees of ampsgawes meedeel waardeur ’n persoon vanuit die lekestand tot die geestelike stand oorgeplaas word (Jansen 1952:28). Terwyl D Nauta baie maak van die roeping en beroeping van die ampsdraer is dit opvallend dat hy baie min maak van die bevestiging. Wat hy sê kom daarop neer dat die gemeente die ampsdraers wat aan hulle voorgestel word as sodanig moet aanvaar en bejeën. Die bevestiging moet met gebruikmaking van die formulier plaasvind en dit moet in ’n kerkdiens plaasvind in die teenwoordigheid van die gemeente waar die betrokkene voor God in sy/haar dienswerk ingelei word (Nauta 1971:51&57). Th. L Haitjema skryf uitvoerig oor die ampte in sy boek Nederlands Hervormd Kerkrecht en tog is dit opvallend dat hy in die proses eintlik omtrent niks skryf oor die bevestiging van ampsdraers nie (Haitjema 1951:148-168). Vir JPE Kleynhans in Suid-Afrika is die bevestiging in ’n gemeente “die openlike aanvaarding van die amp in ’n nuwe gemeente”. Dit is “slegs die afsondering tot ’n bepaalde taak of ’n besondere werkterrein ...” “Selfs ook waar dit met oplegging van hande geskied word daardeur nie enige ampsgawes meegedeel nie. As sodanig behoort dit nie tot die wese van die ampsdiens nie en sou ’n leraar ook daarsonder met sy bediening kon begin.” (Kleynhans 1984:43&44). AD Pont lê ook baie meer klem op die wettige roeping eerder as op die bevestiging van ’n predikant “Daardie roeping, sowel die innerlike roeping deur God self as die uiterlike roeping deur die bevoegde vergaderings van die ampte, maak die amp regmatig en so het die amp ’n ius divinum, want die amp rus op God se verklaarde wil soos in die Skrif uiteengesit. Vir die regmatige ampsbediening vereis die hervormde vaders nie alleen die kerklike ondersoek (proponentseksamen) nie, maar ook die wettige beroep deur die kerkraad met die goedkeuring van die gemeente . Die hervormde vaders het met nadruk telkens gestel dat die beroep tot die dienswerk (en alles wat daarmee saamgaan) van die dienaar van die Woord ’n wettige ampsdraer maak.” (Pont 1981:205)

Die naaste aan nuwe denke oor die ordinering van ampte met handoplegging word gevind by die Christian Reformed Church of North America wat sterk klem lê op die simboliese aard van handoplegging. In 1973 vind hulle dit nog glad nie noodsaaklik nie en besluit hulle sinode “The laying on of hands is the church’s way of symbolizing its ordination of a minister of the Word. The ceremony of the laying on of hands is not a sacrament but a symbolic act by which the Church may publicly confirm its call and appointment to particular ministries. As such it is usefull but not essential.” In 2001 lui hulle besluit: “The laying on of hands is the ceremony by which the church symbolizes and enacts the relationships of ordination. By this ceremony, the leader on whose head hands are laid is symbolically offered to Christ, included in the succession of leaders of the church stretching back to the apostles and given the power of the Spirit. Since by the laying on of hands the church recognizes pastoral leadership as such and not a specific ofice or role, this ceremony is appropriate for all church offices.”

5. BEVESTIGING EN HANDOPLEGGING IN GEREFORMEERDE KERKORDES 1559-2003

Dit is ter sake om te vra wat in gereformeerde kerkordes van bevestiging en handoplegging geword het.

5.1 In die Ordonnances Ecclésiastiques van 1561 is die artikel oor bevestiging dieselfde as wat dit was in die Kerkorde van 1541. Dit lees soos volg:

“Omdat ten opsigte van hierdie saak (die bevestiging) die gebruike van die verlede in ’n groot mate vanweë bygelowigheid verkeerd verstaan word, sal, vanweë die swakheid van die tyd die volgende voldoende moet wees: Een van die dienaars sal die dienswerk, waarin die kandidaat bevestig sal word, uiteensit en hom vermaan om dit te doen en dan ’n gebed én voorbede doen dat die Here hom die genade sal skenk om sy diens goed te doen” (Ordonnances Ecclésiastiques 1561, art 14).

Dit is opvallend dat Calvyn hier as gevolg van bygelowigheid wat daartoe lei dat die saak verkeerd verstaan word en vanweë die swakheid van die tyd volstaan met net dit wat in artikel 14 verwoord is. Sy eie teologiese oortuiging in verband met die bevestiging en handoplegging voer hy nie in die praktyk van die kerk in Genève deur nie hoewel dit tog wil klink of dit net onder die oppervlak lê.

5.2 Nogal in teenstelling met dit wat ons in die Ordonnances Ecclésiastiques lees is die praktyk van die Franse kerk. In artikel 8 van die Discipline Ecclésiastiques (1559) staan daar:

“Dat diegene wat beroep word die belydenis van geloof sal onderteken, wat bepaal is sowel by die kerke waar hulle beroep is as ander, waarheen hulle gestuur sal word. Die beroep moet deur gebede bevestig word en deur die oplegging van hande deur dienaars (van die Woord), egter sonder enige bygelowigheid” (Discipline Ecclésiastiques 1559, art 8).

Die oplegging van hande word hier eksplisiet genoem maar dan tog met die waarskuwing dat dit nie met bygelowigheid gepaard moet gaan nie.

5.3 In die Acta van die Nederlandse Kerke onder die Kruis wat in 1568 by Wezel vergader het, lees ons in artikel 12 die volgende:

“En vooreerst is geheel noodig, dat niemand tot de kerkedienst en eenige andere kerkelijke bediening in die gemeente worde toegelaten, zonder wettige roeping, verkiezing, toestemming, behoorlijk examen, of onderzoek en wettige orde.”

Hierop lees ons dan in artikel 21 die volgende baie interessante inskrywing:

“Als nu de dienaren alzoo onderzocht en van het volk goedgekeurd zijn, oordeelen wij, dat men hen of met openbare gebeden, of met oplegging der handen, (hetwelk wij in de vrijheid der kerken laten) voor de geheele volgens de wijze der Apostelen in de dienst zal bevestigen. Deze bevestiging zal geschieden of van den dienaar derzelve gemeente, zoo er een is, of anders van den naburigen predikant, wiens gezag in de verkiezing en onderzoeking gebruikt is geweest.”

Die merkwaardige hier is, anders as in die Kerkordes van Genève of Frankryk, dat dit toegelaat word dat die bevestiging óf net met gebede óf ook met die oplegging van hande kan plaasvind en dat die kerke hierin ’n vryheid het om te besluit. Amper nog meer merkwaardig in die sin van die inhoud wat dit aan die bevestiging verleen, is wat dan in artikel 22 volg:

“Doch deze bevestiging zal niet geschieden, voor dat de beroepen dienaar in het gezigt der geheele gemeente, zich heiliglijk aan den predikant, die hem de hande zal opleggen, verbindt, dat hij zijne dienste zal beoogen en betrachten de verbreiding van der eer Gods, de zuivere bediening Zijns Woords en de stichting Zijne gemeente. Dat hij de getuigenissen des Heilige Geestes niet zal buigen tot zijne bijzondere begeerlijkheden noch in het allerminste afwijken om gunst, om geld, om vrees voor de waarheid. Dat hij ook die kerkelijke ordonnantiën, welke tot goede orde en rust der gemeente behooren, godvruchtig zal onderhouden, en ten laaste, dat hij naar zijn vermogen zijn ambt zal waarnemen in vermanen, bestraffen en vertroosten, waar het noodig zal zijn, uitsluitende alle gunst en aanzien der personen” (Acta,Wezel,1568, arts 12,21,22).

Hier word baie duidelik ’n besondere inhoud aan die bevestiging van ’n leraar gegee.

5.4 ’n Baie meer saaklike geluid en die afwysing van die noodsaaklikheid van handoplegging word by Emden in 1571 gehoor as daar in artikel 16 van daardie Kerkorde staan:

“De dienaaren des Woords zullen geëxamineerd, dat is, onderzocht worden, van degenen daarvan zij verkoren worden. Is het dat hun leer en leven voor goed bekend wordt, zo zullen zij met gebeden daartoe dienende en oplegging der handen (doch zonder superstitie en noodzakelijkheid) bevestigd worden”(Emden,1571,artikel16).

5.5 Die Kerkorde van Dordrecht 1578 het in artikel 5 die volgende inskrywing oor die bevestiging van leraars:

“Daarna zullen zij van een dienaar in hun dienst met bewilliging en beantwoording der navolgende stukken, bevestigd worden. Ten eerste. Of zij gevoelen, dat zij van God en zijn gemeente wettelijk tot deze dienst beroepen zijn? Ten tweede. Of zij de Heilige Bijbelse Schrift voor het enige Woord Gods en de volkomen leer der zaligheid houden, en alle ketterijen, daartegen strijdende, verwerpen? Ten laatste dezer leer getrouwelijk te bedienen en met een vroom leven te versieren bereid zijn? Idem,zo zij iets doen, dat strafbaar is, of zij zichzelf aan de Christelijke vermaning. Of zij hun dienst naar de regelonderwerpen? Dit gedaan zijnde, zullen zij met oplegging der handen, waar het met stichting geschieden kan, of anders met het geven der rechterhand der gemeenschap tot de dienst der kerken aangenomen worden, en met den gebede Gode bevolen. Waarna ook de gemeente kortelijk haars ambts tot de dienaar vermaand worden zal” (Acta, Dordrecht,1571,art 5).

Klaarblyklik wil Dordt 1578 dat die bevestiging van leraars met groot gewydheid gepaard sal gaan. Dit is interessant dat die oplegging van hande ook vervang kan word met die gee van die regterhand van gemeenskap.

5.6 Die “Kerken-Orde van De Synode Nationaal van 1618-1619” lees in artikel 4 soos volg oor die beroeping van predikante:

“De wettelijke beroeping dergenen, die te voren in den dienst niet geweest zijn, zoowel in de steden als ten platten lande, bestaat: Ten eerste, in de verkiezing, dewelke na voorgaande vasten en bidden geschieden zal door den kerkeraad en de diakenen, en dat niet zonder goede correspondentie met de Christelijke overheid ter plaatse respectievelijk en voorweten of advies van de classe, waar ’t zelve tot nogtoe gebruikelijk is geweest. Ten andere, in de examinatie of onderzoeking beide der leer en des levens, dewelke staan zal bij de classe, ten overstaan van de gedeputeerden der synode, of eenige derzelve. Ten derde in de Approbatie en goedkenning van de overheid en daarna ook van de lidmaten der Gereformeerde gemeente van de plaats, wanneer de naam des dienaars, den tijd van veertien dagen in de kerken verkondigd zijnde, geen hindernis daartegen komt. Ten laatste, in de openlijke bevestiging voor de gemeente, dewelke met behoorlijke stipulatiën en afvragingen, vermaningen en gebed en oplegging der handen van den dienaar, die de bevestiging doet (of eenigen anderen, waar meer dienaren zijn) toegaan zal naar het formulier daarvan zijnde. Welverstaande,dat de oplegging der handen zal mogen gedaan worden in de classicale vergadering aan den nieuwen gepromoveerden dienaar, die gezonden wordt in de kerken onder het kruis” (Kerken –Orde van Dordt, 1618 en 1619, artikel 4)

Hoewel Dordt 1618-1619 duidelik meer saaklik is as Dordt 1578 handhaaf dit steeds die bevestiging met handoplegging. Interessant en veelseggend is die rol van die owerheid in die hele beroepingsproses.

5.7 Na die Sinode van Dordt (1618-1619) het daar nie weer ’n Nasionale Sinode in Nederland vergader tot in die negentiende eeu nie. In 1816 is die Algemeen Regelement voor het bestuur der Hervormde kerk in het Koninkrijk der Nederlanden vasgestel en uitgevaardig. Dit was ’n Reglement vir die bestuur van die Hervormde Kerk in die Koninkryk van Nederland “vervaardigd door de consulerende commissie voor de zaken der Hervormde kerk” (Algemeen Reglement,1816, aanhef). Oor die toelating van leraars tot die bediening lees ons in artikel 24 die volgende: “Het Sijnode maakt in het bijzonder bepalingen omtrent de wijze van admissie en de examina van hen, die tot leeren bestemd zijn ten einde van derzelver kunde en geschiktheid volkomen te doen blijken” (Algemeen Reglement,1816, art 24).

Dit getuig van ’n saaklike en kliniese reëling deur die owerheid gemaak oor die toelating van leraars tot die bediening.

5.8 In van die nuwer kerkordes in die geledere van gereformeerde kerke lees ons die volgende oor die bevestiging van leraars.

5.8.1 In die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (2004) lees Artikel 4 soos volg: “Niemand mag in die kerk van Christus in een van die besondere ampte dien sonder dat hy/sy

• op ’n wettige wyse beroep of verkies is;

• die nodige approbasie verkry het, en

• bevestig is (NGK Kerkorde 2002, art 3, p2).

5.8.2 Die Kerkorde (1997) van die VGK het by artikel 6.4 die volgende inskrywing: “Aangesien die ampsdraers diens lewer in en aan die gemeente, besluit die gemeente self wie hierdie ampte moet vervul.” Die Kerkorde, Bepalinge en Reglemente (2000) van die Streeksinode Kaapland van die VGK lees by Bepaling 16 soos volg: “16.1 Die beroeping en verkiesing tot die vervulling van die amp word deur die Kerkraad in medewerking met die gemeente uitgebring, met approbasie deur die gemeente en die Ring volgens die Bepalinge en Reglemente deur die Streeksinode neergelê. 16.2 Die bevestiging vind in die erediens plaas met gebruikmaking van die formulier vir die doel vasgestel”

5.8.3 In die KO van die NGKA lees ons – art. 5.1 (2003): “Niemand kan in enige van die besondere ampte dien sonder dat hy daartoe op wettige wyse beroep of verkies is en, nadat die nodige goedkeuring verkry is, in sy amp bevestig is nie (Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kerkorde, 2003, art 5.1).

5.8.4 En in die KO van die RCA (1989) lees ons “No office Bearer shall serve in any office in the church, unless he is duly, in accordance with the rules of the church, called thereto and inducted therein.” (Church Order (Constitution) of the Reformed Church in Africa,1989, article 7).

5.8.5 Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het die volgende reëling: “Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie” (Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika,1979, artikel 3).

5.8.6 Die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika het nog weer die volgende: “Dienaars van die Woord is deur God geroep, deur die Kerk tot die evangeliebediening toegelaat en in die amp bevestig. Die voorreg van Woordverkondiging en sakramentsbediening is aan hierdie diens verbonde.” Ordereëling 2.1.4.1 lees: “Bevestiging in die amp vind altyd in ’n erediens plaas met gebruikmaking van die formulier” (Kerkorde van die Nederduitsche Hervormde Kerk van Afrika, Ordereël 2.1 en 2.1.4.1).

5.8.7 Die Kerkorde van die voormalige Gereformeerde Kerken in Nederland het in artikel 3 gelees: “Niemand zal in de kerk enig ambt vervullen zonder daartoe op wettige wijze geroepen en daarin bevestigd te zijn” (Kerkorde soos aangehaal deur Nauta 1971)

5.8.8 Die Verenigde Protestantse Kerk in Nederland bepaal in sy nuwe Kerkorde van 2003 die volgende “Een ambt in de Kerk kan uitsluitend worde vervuld door hen die daartoe naar de orde van de kerk geroepen zijn, belijdenis van het geloof hebben afgelegd en in het ambt bevestigd zijn, onder aanroeping van de Geest (Kerkorde, en Ordinanties, 2003, art V, 5).

5.8.9 Die Christian Reformed Church of North America se Kerkorde art 3c lees: “Only those who have been officially called and ordained or installed shall hold and exercise office in the church” (Church Order of the Christian Reformed Church in North America,1994, article 3c).

Daar is weinig kerke wat nie iets oor bevestiging of ordening in hulle kerkordes het nie en tog blyk dit dat daar genoeg rede is vir kerke van gereformeerde belydenis en kerkregering om aan hierdie saak ernstige aandag te gee.

6. TEN SLOTTE

6.1 Die betekenis van die diens van ’n predikant en die rol wat bevestiging en handoplegging in daardie diens speel, het in die huidige gereformeerde kerkregering baie afgeswak geraak. Verskillende manifestasies van daardie afswakking is in hierdie artikel aangetoon. Dit is ’n saak wat baie ernstige aandag nodig het.

6.2 Dit is baie moeilik om ’n enkele historiese rede vir hierdie afswakking te vind. In Johannes Calvyn se eie kerkregtelike denke het sy bereidheid om dit ’n derde sakrament te noem, ten einde die belang daarvan te beklemtoon, nie weer in gereformeerde kerkregering gefigureer nie. Calvyn self was nie bereid om dit ’n kerkregtelike reëling in Genève te maak nie. Die saak van bevestiging en handoplegging kom egter feitlik in alle gereformeerde kerkordes tot by Dordt 1618/1619 in ’n mindere of meerdere mate voor. Dit is egter opvallend dat daar steeds gewaarsku word dat die handeling van handoplegging nie tot bygelowigheid moet lei nie. Dit word selfs voorgestel dat dit met die gee van die regterhand as gebaar van gemeenskap vervang kan word.

6.3 Vir redes wat tot dusver nog nie duidelik vasgestel kon word nie tree daar sedert die negentiende eeu tot vandag toe ’n baie sterk versaakliking in, in wat gereformeerde kerkordes en ook kerkregtelikes oor handoplegging en bevestiging skryf. Dit is amper asof dit ’n meganies- kliniese handeling word. Van “geseënd en gewyd” kom helaas weinig oor in wat geskryf word, as daar nog geskryf word!

6.4 Hierdie toedrag van sake dra klaarblyklik by tot die situasie waarmee ons vandag sit, naamlik dat die leraarsamp nie meer geag word vir wat dit werklik is nie. Dit kom voor of daar weinig respek en begrip is vir die diens van ’n predikant as ’n geseënde en gewyde diens, iets wat op ’n besondere wyse in die ordening van ’n leraar, met ander woorde in die bevestiging en handoplegging, versimboliseer word. Die denke van Calvyn oor hierdie saak en die neerslag daarvan in die gereformeerde kerkordes van die sestiende en sewentiende eeu, al is dit nie alles wat Calvyn oor hierdie saak gesê het nie, kan ons dalk help om ’n klaarblyklike gebrek in ons teologie weer reg te stel.

BIBLIOGRAFIE

Aankondiginge van NG Gemeente Witbank-Klipfontein, Sondag 15 Februarie 2004.

Wezel 1568. Acta of Handelingen der Verzameling der Nederlandsche Kerken onder het Kruis, die in en buiten Nederland allezins zijn verstrooid, gehouden te Wezel, 3 November 1568. In: Pont AD 1981. Die Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg. HAUM, Kaapstad,Pretoria.

Dordrecht, 1578, Acta van de Nationale Synode der Nederlands, Duitse en Waalse kerken, zowel inlandse als uitlandse, begonnen te Dordtrecht de 2e Junie, en geëindigd de 18e van dezelfde maand in het jaar 1578. In: Pont, AD 1981. Die Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg. HAUM, Kaapstad, Pretoria.

Dordtrecht, 1618 en 168. Kerken –Orde van de Synode Nationaal 1618 en 1619, artikel 4. In: Pont, AD 1981. Die Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg. HAUM, Kaapstad,Pretoria.

Emden,1571, Acta of handelingen der verzameling van de Nederlandse kerken onder het kruis zitten, en in Duitsland en Oost-Friesland verstrooid zijn, gehouden te Emden, de 4de Oktober 1571. In: Pont, AD 1981. Die Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg. HAUM, Kaapstad, Pretoria.

Baptism, Eucharist and Ministry. Faith and Order Paper no III. World Council of Churches,Geneva, 1982.

Beal, JP, Coriden, JA, Green, TJ 2000. New Commentary on the Code of Canon Law. Commissioned by the Canon Law Society of America. Paulist Press, New York.

Bouwman, H 1970. Gereformeerd Kerkrecht dl I. J H Kok, Kampen.

Calvin, Jean1560. Institution de la Religion Chrestienne. Nouvellement mise en quatre Livres: et Distinguée par Chapitres, en orde et metode bien propre: augmentée aussi de tel accroissement, qu’on la peut Presque estimer un livre nouveau. A Geneve, chez Jean Crespin M.D.LX. In: Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia. Ediderunt Guilielmus Baum, Eduardus Cunitz, Eduardus Reuss theologi Argentoratenses, Vol II. Brunsvigae, Apud C.A. Schetscke et Filium (M. Bruhn.) 1865. Corpus Reformatorum Volumen XXXI.

Calvino, Ioanne 1559 Institutio Christianae Religionis. In libros quator nunc primum digesta certisque distincta capitibus ad aptissimam methodum. Aucta etiam tam magna accesione ut propemodum opus novum haberi posit. In: Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia. Ediderunt Guilielmus Baum, Eduardus Cunitz, Eduardus Reuss theologi Argentoratenses. Volumen I. Brunsvigae Apud C.A. Schwetschke et Filium. (m Bruhn), 1863. Corpus Reformatorum Volumen XXIX.

Christian Reformed Church in North America, Church Order, Rules for Synodical Procedure. CRCPublications, Grand Rapids.

The Code of Canon Law, 1983. In English translation. Prepared by the Canon Law Society of Great Britain and Ireland in association with the Canon Law Society of Australia and New Zealand and the Canadian Canon Law Society. Collins.

Coertzen,P 2003. Kerkorde of Arbeidswet: die posisie van predikante en ander persone wat in die NG Kerk werk. NGTT deel 44, nommers 3 en 4, September & Desember 2003, pp 248-257.

Discipline Ecclésiastiques, 1559. In Pont, AD 1981. HAUM, Kaapstad, Pretoria

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1979, Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika soos gewysig deur verskillende sinodes. Calvyn Jubileum Boekefonds, Administratiewe Buro, Potchefstroom.

Haitjema,Th L 1951. Nederlands Hervormd Kerkrecht. G F Callenbach N.V., Nijkerk.

Jansen, Joh 1952. Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken. J H Kok, Kampen.

Kleynhans, EPJ 1984. Gereformeerde Kerkreg, deel 2: Kerk en Amp. NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

McNeil, John T (red); Ford, Lewis Battles (vertaler) 1950. Calvin: Institutes of the Christian Religion. In two vvolumes Vol XXI, Books III.XX to IV.XX). The Westminster press, Philadelphia.

Nauta, D 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. J H Kok, Kampen.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2002, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike riglyne en Funksionele Belsuite soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2002. Lux Verbi.BM, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 2003, Kerkorde in: Agenda en Handelinge van die elfde gewone vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika gehou te bKroonstad op Woensdag 7 Mei 2003 en volgende dae.

Nederduitsche Hervormde Kerk van Afrika, 1997, Kerkorde van die Nederduitsche Hervormde Kerk vanAfrika. Pretoria.

Ordonnances Ecclésiastique van Gèneve 1561. In Pont, AD 1981. Die Historiese Agtergronde van Kerklike Reg,HAUM Uitgewery, Pretoria, Kaapstad.

Pont, AD 1981. Die Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg. HAUM, Pretoria, Kaapstad.

De Protestanse Kerk in Nederland, 2003, Kerkorde en Ordinanties van de Protestantse Kerk in Nederland inclusief de overgangsbepalingen. Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.

Reformed Church in Africa, 1989, Church Order (Constitution) of the Reformed Church in Africa. Durban.

Robert, J & Geisinger, S J 2000. Orders. In: Beal e.a.(Red), New Commentary of the Code of Canon Law. Paulist Press, New York.

Rossouw, PJ (red) 1988. Gereformeerde Ampsbediening. NG Kerkboekhandel (EDMS) BPK, Pretoria.

Simpson, (vertaler), 1991, Institusie van die Christelike Godsdiens deur die Skrywer Johannes Calvyn dl IV.CJBF, Potchefstroom.

Van der Borght, Ed. AJG 2000. Het Ambt Her-dacht. De Gereformeerde Ambtstheologie in het licht van het rapport Baptism, Eucharist, and Ministry (Lima 1982) van de theologische commissie Faith and Order van de Wereld raad van Kerken. Meinema, Zoetermeer.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika,1997, Kerkorde en Reglemente van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Soos aangeneem en gewysig deur die tweede Algemene Sinode, Bloemfontein.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 2000, Kerkorde, Bepalinge en Reglemente, Streeksinode Kaapland. Hersien te Belhar, September 2000.

Voetius, G 1888. Beginselen van Grereformeerd Kerkrecht. (Omgeszet in ons Hollands door den Wel-eerw.

Zeer gel Heer Dr Geesink. P F D’ Huij, Middelburg

Witkamp, T 2003. De wending naar het subject in de praktische theologie. In: Wessel Stoker & Henk C van der Sar 2003. Heroriëntatie in de Theologie. Kok, Kampen.

TREFWOORDE

Calvyn, Ordening, Handoplegging, Gereformeerde kerke, Kerkregering

KEY WORDS

Calvin, Ordain, Laying on of hands, Reformed Churches, Church government.

Prof P Coertzen

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

pc@sun.ac.za