Coertzen, P
Universiteit van Stellenbosch

Kerke en transformasie in Suid-Afrika

ABSTRACT

Churches and Transformation in South Africa

The article is an attempt to determine the church orderly position of churches in South Africa, given the right to freedom of religion, with regard to transformation as a fundamental fact in the country. This is done by determining what is meant by the term transformation and establishing the constitutional context of transformation regarding churches and their order in South Africa. It is suggested that it will be better for churches to speak of reformation rather than transformation since continuous reformation is part of being church – at least a reformed church. Before looking at the ambit and scope of everything that can be affected in churches, statements are made regarding religion, freedom of religion and the identity of the church because these factors are important guidelines for the reformation process that is needed in churches. It is concluded that given freedom of religion churches can indeed reform or deepen their religious identity and function within the boundaries of the Bill of Rights and the Constitution in a way which is in conformity with their religious identity as church of Christ. The Constitution and the Bill of Rights poses a call to churches which they should cannot ignore. Some guidelines for the way churches can go are suggested.

1.INLEIDEND

Die vraag wat hierdie artikel wil beantwoord is dié oor die kerkregtelike posisie van kerke in Suid- Afrika in die lig van transformasie as ’n grondwetlike gegewe. Die vraag sal beantwoord word in die lig van die grondwetlik gewaarborgde reg tot godsdiensvryheid. Dit word gedoen deur transformasie te omskryf en aandag te gee aan die plek van godsdiens binne die raamwerk van die Grondwet, veral dan die Handves van Regte. Voor daar gekyk word na die impak van die Grondwet (die handves van Regte) en die beleid van transformasie op kerke en hulle reg word ’n aantal stellings gemaak oor godsdiens, godsdiensvryheid en die identiteit van die kerk. Hierdie sake is almal belangrik vir die wyse waarop kerke hulle posisie behoort te bepaal. Een van die bevindings uit die navorsing is dat dit vir kerke beter sal wees om eerder te praat van reformasie as transformasie, gegewe die politieke konnotasie van transformasie. Gegewe die reg tot godsdiensvryheid is die slotsom van die artikel dat daar inderdaad vir kerke die moontlikheid is om hulle geloofsidentiteit deur voortgaande reformasie te verdiep en binne die eise van die Handves van Regte te funksioneer op ’n wyse wat in ooreenstemming is met hulle geloofsidentiteit. ’n Aantal riglyne vir hoe kerke dit kan doen, word aan die hand gedoen terwyl die vraag ook gevra word wat sal gebeur as kerke dit nie doen nie.

2. TRANSFORMASIE EN KERKE BINNE DIE GRONDWETLIKE KONTEKS

2.1 Die Grondwet van Suid-Afrika is al meer kere beskryf as ’n transformatiewe of ’n trans- formasie georiënteerde grondwet (Pieterse 2005:155). Dit is inderdaad so dat transformasie ingebed lê in die Grondwet en ook gedryf word deur die Grondwet. Dit blyk nie slegs uit die naskrif van die oorgangsrondwet van 1993 nie maar ook uit die aanhef tot die Grondwet van 1996 waarin daar ondermeer staan “ ... ons (neem) ... hierdie Grondwet aan ... ten einde ... die verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep. Die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word. Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.” Hierdie oproep tot transformasie van die land en sy mense in die Aanhef word verder uitgebou in ondermeer artikels 1, 7 en 9 van die Grondwet. In artikel 8 (2) en (3) word die reikwydte daarvan uitgebrei om tot in die sg “private sfeer” te reik deurdat die regte in die Handves van Regte onder bepaalde omstandighede tot in privaat verhoudinge kan geld (Pieterse 2005:162). In artikel 36 van die Grondwet word bepaal dat regte slegs beperk kan word deur wette wat redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. In die nuusbrief inter.con van die Konvent van Gereformeerde Kerke van Suider-Afrika, gee die redakteur dr Nico Vorster die volgende omskrywing van transformasie soos dit tans in Suid-Afrika verstaan word. Hy skryf: “The term transformation describes the process of structural change that is implemented on the political, social and economic levels of South African society in order to eradicate the social and racial inequalities of the past and establish a new society based on the foundational values of the Constitution namely human dignity, equality and freedom.”

2.2 Gegewe hierdie beskrywing en omskrywing van transformasie is dit ’n voor die hand liggende vraag hoe dit spesifiek kerke en godsdienste raak en wat hulle houding tov van gemelde transformasie behoort te wees. ’n Aantal oorweginge is ter sake.

2.3 Die Grondwet het ’n hele aantal bepalinge wat hetsy direk of indirek op godsdiens en daarmee ook op kerke, betrekking het.

a) Die Grondwet is die hoogste gesag in die Republiek van Suid-Afrika (a.2) dus ook wat betref kerke in die mate wat hulle onder die gesag van die staat val. In die Grondwet word ’n baie belangrike onderskeid gemaak tussen die staat en die organe van die staat enersyds (a.239) en instellinge van die burgerlike samelewing [a.31 (1) (b)] andersyds. Kerke is deel van die instellinge van die burgerlike samelewing. Artikel 7(2) van die Grondwet verplig die Staat om die regte in die Handves van Regte te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Hierdie opdrag aan die staat is baie belangrik vir kerke.

b) Artikel 15(1) van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg het op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Uit die aard van die saak is dit vir kerke van die allergrootste belang dat in Suid-Afrika vryheid van godsdiens op hierdie manier in die Grondwet beskerm en gewaarborg word.

c) In artikel 9(3) van die Grondwet word bepaal dat die staat nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand mag diskrimineer onder meer op grond van godsdiens nie. Geen persoon mag ook regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op grond van onder meer, godsdiens nie (art 9(4)); tensy vasgestel word dat die diskriminasie billik is (art 9(5)). Vir kerke is dit belangrik dat artikel 9 (3) ook godsdiens noem as een van die gronde waarop die owerheid nie regstreek of onregstreeks teen iemand mag diskrimineer nie.

d) Die Grondwet bepaal ook dat persone verbonde aan ’n bepaalde kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskap nie die reg ontneem mag word om:

(i) saam met ander lede van van sodanige gemeenskap ’n bepaalde kultuur te geniet, ’n godsdiens te beoefen en taal te gebruik nie [a.31(1) (a)]

(ii)om kultuur-, godsdiens – en taalinstellings tot stand te bring, daarby aan te sluit en dit te onderhou nie [a. 31 (1) (b)].

e) Die Handves van Regte of te wel Menseregteakte in die Grondwet bind die staat [a.8(1)], die organe van die staat [a. 8(1)], enige natuurlike persoon asook regspersone soos bv kerke [a.8 (2)] binne die gesagsgebied van die Grondwet. Dit beteken onder meer dat kerke in Suid-Afrika nie maar die Handves van Regte kan ignoreer asof dit niks met hulle te doen het nie.

f) Artikel 36 van die Grondwet, die sg “Beperking van Regte”-klousule maak dit moontlik vir die staat sowel as en enige instelling van die burgerlike samelewing om sekere regte, vervat in die Handves van Regte te beperk mits dit gebeur in ooreenstemming met die vereistes van die Grondwet. Die Grondwet skryf sekere prosedures voor waarvolgens regte beperk kan word in sowel die staat as in die burgerlike samelewing.

(i) Regte kan intern, deur die Grondwet self beperk word deurdat die grondwet-artikel wat dit verskans, dit (i) kwalifiseer (a. 17-regte mag bv slegs vreedsaam en ongewapen uitgeoefen word) of aan ’n verdere beperkende bepaling onderhewig stel (die a.16(1)-reg op vryheid van uitdrukking sluit bv ingevolge a. 126 (2), nie beskerming van sogenaamde “haatspraak” in nie). Regte kan ook ekstern, deur algemeen geldende regsreëls anders as grondwetbepalings, beperk word mits sodanige beperking (i) redelik is en regverdigbaar in ’n oop demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid en (ii) aan sekere proporsionaliteitsvereistes voldoen (a. 36 (1).

(ii) Instellings van die burgerlike samelewing (soos bv kerke) kan deur die formulering van interne grondwette, statute, kerkordes, bepalinge en reglemente die beperkingsmoontlikhede wat die Grondwet bied, benut om elkeen van die bepalinge van die Handves van Regte te interpreteer of te herinterpreteer binne die konteks van die interne grondwet van die instelling. In die geval van kerke sal dit neerkom op ’n interpretasie of herinterpretasie na aanleiding van die geloofsaard van die kerk soos dit onder meer neerslag vind in die belydenis en orde van ’n kerk. So ’n herinterpreasie sal, veral waar dit op beperking van die regte van die Handves van Regte deur ’n kerk, in die lig van art 36, telkens baie goed gemotiveer moet kan word met in agneming van die geloofsaard van die kerk. Sodanige beperking sal ook moet voldoen aan die vereistes gestel in art 36 (vgl Du Plessis 1999:204-206).

3. KERKLIK-TEOLOGIESE VEREISTES VIR DIE POSISIONERING VAN KERKE BINNE ’n KONTEKS VAN TRANSFORMASIE

3.1 Kerk en staat

Omdat godsdiensvryheid altyd binne ’n bepaalde verhouding tussen die kerk en die staat geskied, is dit nodig om iets meer te sê oor die verhouding tussen kerk en staat ten einde kerke se posisie in die lig van transformasie te verstaan. Die staat is wat die kerk betref een van meer naasliggende groothede waarmee die enige kerk te doen kan kry – ander sou bv huwelike, gesinne, korporasies, sosiale instellinge, ens wees. Die staat is egter die belangrikste grootheid in eie reg (Van der Vyver 2004: 35vv) waarmee die kerk te doen kan kry omdat die staat alle ander groothede in ’n same- lewing, waar onder kerke en godsdienste, omvat en koördineer onder meer deur sy wetgewing en beleide . Wat christelike kerke betref is die staat ook ’n goddelik ingestelde instelling, of anders gestel, ’n instrument van die heerskappy van die Here Jesus Christus of, nog anders gesê, die groot menslike verteenwoodiger van Christus se heerskappy oor die ganse skepping. Dit is ook die rede waarom kerke na aanleiding van Romeine 13:6 bely dat die owerhede dienaaars van God is wat besig is om hulle opdrag uit te voer. Wat kerke betref is die sentrum van hulle eie bestaan terselfdertyd ook die finale gesag oor die staat. – Jesus Christus die Here! Dit beteken egter nie dat die staat homself verstaan soos die kerk hom verstaan nie en ook nie dat die staat die kerk verstaan soos die kerk homself verstaan nie nl as ’n “broederlike Christokrasie” (Barth,sj,686). Die gevaar vir die kerk is altyd dat hy homself kan begin verstaan soos die staat hom verstaan: as ’n gewone vereniging of korporasie van mense, weliswaar met ’n besondere vereniging in die persoon wat hulle Christus noem; ’n blote vereniging van mense wat sekere handelinge in die Naam van Christus verrig – ’n blote sosiologiese instelling met ’n besondere doelstelling. Die kerk mag nooit hierdie siening oor haar aanvaar of daarin berus nie. Dit mag nooit gebeur dat die reg van die staat– die ius circa sacra - die reg in die kerk – die ius in sacra – word nie. Die kerk kan nie die staat verbied om hom so te verstaan nie maar moet aan sy eie kerklike identiteit uitdrukking gee in belydenis en orde. Dit is juis een van die groot winspunte van godsdiensvryheid dat hierdie reg op selfuitdrukking vir kerke konstitusioneel gewaarborg word en dat daar aan kerke die ruimte gebied word om hulle geloofsaard te verwoord en uit te leef. Verder verplig die Grondwet ook die staat en sy organe om die regte vervat in die Handves van Regte te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Hier word dus ’n baie groot ruimte aan kerke en godsdienste in SA gebied om hulle eie geloofsaard te vestig en uit te leef binne die raamwerk van die Grondwet van die land. In sommige gevalle sal dit vir kerke nodig wees om hulle eie orde te reformeer ten einde dit meer in lyn te bring met hulle geloofsidentiteit. Dit gebeur helaas te veel dat kerke vir hulleself ’n orde formuleer sonder om hulle geloofsidentiteit in ag te neem en hulle daaroor te verantwoord. Dit gebeur ongelukkig ook te veel dat kerke op onverantwoorde wyse die inhoud van owerheidswette sien as die bron vir hulle eie orde.

3.2 Godsdiens

Oor godsdiens is daar baie uiteenlopende menings. Vir sommige is godsdiens net ’n private aangeleentheid. Vir ander is dit ’n ideologiese uitdrukking van groepsidentiteit met baie sosiale en politieke krag. In die verlede is godsdiens al dikwels aangewend om egoïsme, oorlog, menseslagtings, koloniale uitbuiting en geweld te regverdig. Dit kan nie gesê word dat godsdiens alleen verantwoordelik is vir al die geweld en ellende wat die wêreld al gesien het nie en nie ook die adviseurs van konings wat heiliges en martelare in die tronk laat gooi het, of die regters wat hekse teen die advies van geestelikes in verhoor het, of diegene wat slawewette geskryf het of die regsgeleerdes wat regverdiginge opgestel het vir die verdeling van lande tussen koloniale moonthede nie, of die burokrasieë wat die beleide en wette van ’n Hitler, ’n Pappa Doc, ’n Stalin en ’n MaoTsetung toegepas het (Stackhouse 2005:26-27) asook talle ander wat genoem sou kon word. Wat mens se beskouing oor godsdiens ook al is, of waarvoor dit alles verantwoordelik gehou kan word, dit kan nooit ontken word nie: “Religion is high voltage; it can energize much or electrocute many.” (Stackhouse 2005:270).

Baie pogings is ook al aangewend om godsdiens te omskryf of te definieer (sien Stackhouse 2005:27; Blei 2003:1). ’n Baie goeie omskrywing word deur John Witte gegee: “religion ... embraces all beliefs and actions that concern the ultimate origin, meaning, and purpose of life, existence. It involves the responses of the human heart, soul, mind, conscience, intuition, and reason to revelation, to transcendent values, to what Rudolph Otto once called the ‘idea of the holy’” (Witte 2000:230). Hy gaan dan voort om in navolging van Leonard Swidler (Religious Liberty and Human Rights in Nations and Religions, Philidelphia:PA, 1986) sy omskrywing met die volgende te verfyn: “ ... religion embraces a creed, a cult, a code of conduct, and a confessional community. A creed defines the accepted cadre of beliefs and values concerning the ultimate origin, meaning and purpose of life. A cult defines the appropriate rituals, liturgies, and patterns of worship and devotion that give expression to those beliefs. A code of conduct defines the appropriate individual and social habits of those who profess the creed and practice the cult. A confessional community defines the group of individuals who embrace and live out the creed, the cult and the code of conduct, both on their own and with fellow believers” (Witte 2000:230). Hier is dus sprake van ’n belydenis, ’n kultus, ’n kode vir optrede en ’n belydenisgemeenskap as kernelemente van enige godsdiens.

3.3 Godsdiensvryheid?

Net soos die geval met godsdiens is daar ook ’n wye verskeidenheid van menings oor wat godsdiensvryheid behels (sien o.m Vermeulen & Kanne 2004:76-77; Sap 2004:114-117; Blei 2003:2-3 and Van Drimmelen sa:199).

’n Redelik algemeen aanvaarde omskrywing is die van die Universele Deklarasie van Menseregte (1948) wat in art 18 soos volg lees: “Everyone has the right to freedom of thought, conscience, and religion; this right includes freedom to change his religion or belief, and freedom, either alone or in community with others and in public or private to manifest his religion or belief in teaching, practice, worship, and observance” (Van der Vyver 1996; Religious Perspectives XXIV). Artikel 9 van die Europese Konvensie vir die Beskerming van Menseregte en Vryhede, met sy byna indentiese eweknieë in die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte (1966) en die Amerikaanse Konvent van Menseregte (1969): lees soos volg: (1) “Everyone has the freedom of thought, conscience, and religion; this right includes the freedom to change his religion or belief and freedom either alone or in community with others and in public or private, to manifest his religion or belief, in worship, teaching practice, and observance.” (2) Freedom to manifest ones’s religion or beliefs shall be subject only to such limitations as are prescribed by law and are necessary in a democratic society in the interest of public safety, for the protection of public order, health or morals, or for the protection of the rights and freedoms of others.” (Van der Vyver 1996, Legal Perspectives, 26).

In die Suid-Afrikaanse Grondwet word vryheid van godsdiens, oortuiging en mening in art 15 (1) in die volgende woorde omskryf: “Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.” Art 15 (2) maak voorsiening vir die beoefening van godsdiens by staats- of staatsondersteunde instellings onder bepaalde voorwaardes terwyl art 15 (3) voorsiening maak vir wetgewing wat spesifieke soorte godsdienstige huwelike kan erken onderhewig aan sekere voorwaardes.

In sy poging om die wesenlike regte en vryhede van godsdiens te peil, onderskei Witte die volgende as wesenlike elemente van godsdiensvryheid:

i. vryheid van gewete;

i. die vry beoefening van godsdiens;

i. die erkenning van godsdiens pluralisme; (iv) godsdiens gelykheid;

i. die skeiding van kerk en staat en

i. die nie–vestiging van enige godsdiens deur die staat (Witte 2000:37).

Dit is inderdaad handige onderskeidinge wat help om te verstaan wat godsdiensvryheid alles behels. Uit die aard van die saak is die omskrywing van godsdiensregte in Grondwette en Internasionale Deklarasies ook baie fundamenteel vir die verstaan van godsdiensvryheid.

Die Kerk se identiteit

Die volgende Skrifduidinge (Wolf 1960:466) betreffende die kerk behoort steeds in gedagte gehou te word indien die kerk as ’n belydenis, kultiese, ordelike en belydende gemeenskap verwesenlik wil word ten einde godsdiensvryheid optimaal te kan eis en gebruik

Die koninkryk van God. Die koninkryk van God vorm die primêre konteks vir die bestaan van die kerk – die kerk is deel van die koninkryk van God. Die Nederlandse teoloog Herman Ridderbos noem die koninkryk van God die mees teosentriese begrip wat die Skrif bied vir ons verstaan van die skepping, die mens, die wêreld, huidige en toekomstige tye (Ridderbos 1978:1). Die koninkryk van God en die koninklike heerskappy van die Here Jesus Christus omvat die ganse skepping. Waar die koningskap van Christus erken word, word daar iets van die koninkryk sigbaar; individue raak bevry en die hele patroon van hulle lewe verander (Ridderbos 1960:303). Die staat (enige staat en alle state) is ook deel van die koninkryk van God en hoewel ’n staat dikwels nie die soewereinitiet van God erken nie bly dit desnieteenstaande ’n dienaar van God tot die beswil van mense (Rom 13:4,6) en die Koninkryk van God as sodanig.

Die kerk. Binne die omvattende koninkryk van God is daar diegene wat deur die verkondigng en aanvaarding van die evangelie tot ’n eenheid vergader word - ’n belydenismatige, kultiese, ordelike en belydende gemeenskap – die kerk (cf. Ridderbos 1972:296-308). Dit kan gesê word dat die kerk ’n gemeenskap van mense is wat georganiseer is en moet word betreffende hulle belydenis, hulle aanbidding, hullle onderrig, dissipline, pastoraat, diakonaat, sending, sosiale roeping, ensovoorts. In al hierdie opsigte is die kerk ’n beeld van die koninkryk van God wat terselfdertyd heenwys na die koninkryk en is dit ook die plek waar die koninkryk in hierdie wêreld tot openbaring kom, vertoon word (Heyns 1977:23-26; Van Ruler 1978:64).

Jesus Christus. Baie belangrik vir die kerk én vir godsdiensvryheid van kerke is die feit dat Jesus Christus die enigste Here en hoof van die kerk is. Hy is die primêre subjek in sy verhouding tot die kerk wat dan die sekondêre subjek is. In die kerk moet dit altyd gaan om ’n christologiesekklesiologiese verhouding (Barth sj, 678-679) Hierdie waarheid word op verskillende plekke in die Skrif geleer onder meer in Efesiërs 1:20-23. Christus is die Hoof van die hele skepping en na sy opwekking uit die dood is Hy gegee as die hoof van die kerk. Hierdie hoofskap van Christus verwys na Sy leierskap en regering van die kerk (Du Plessis 1962:71-72). Dat die kerk in Efesiërs 1:2 beskryf word as “ ... die volheid van Hom wat alles in almal vervul” bring ’n baie belangrike kenmerk van die Chritus se hoofskap oor die kerk asook van die uniekheid van die kerk na vore “volheid” verwys nl. na die gebied waaroor die hoofskap van Christus “volkome” uitgeoefen word (Berkhof 1962:154). Die kerk is die liggaam van Christus en as die “volheid” van Hom beteken dit die kerk is die gebied waar daar volledige gehoorsaamheid is, of behoort te wees, aan Hom die Here en die Hoof (Du Plessis 1962:76).

Die Woord, die Heilige Gees en die dienste. Christus regeer sy Kerk deur die Woord, Die Heilige Gees en die dienste/ampte wat Hy gegee het. Ook dit is ’n unieke kenmerk van die kerk. Die verkondiging van die Woord in ’n verskeidenheid van vorme soos die prediking, onderrig, dade van barmhartigheid, profetiese getuienis, versorging en bemoediging kan ewe eens gesien word as die unieke taak van die kerk, beide die lede en die ampsdraers. In die Woord hoor die kerk die stem van die Here deur die kuriologiese werk van die Heilige Gees (Versteeg 1971:211-213). Die kerk hoor die Here se stem vir die tyd waarin dit leef en deur die roeping en werk van die ampsdraers in en die lede van sy liggaam sien Christus om na sy liggaam. Die ampsdraers moet die lede van die liggaam toerus – voed, dissiplineer, stimuleer en ko-ordineer vir hulle taak binne die kerk maar ook binne die groter koninkryk van God. Die ampte moet die liggaam saambind en lei om as die liggaam van Christus in die wêreld te funksioneer (Roberts 1963:140).

Die opbou van die gelowiges. Dit is die taak van die kerk om die gelowige op te bou beide in ’n kwantitatiewe en kwalitatiewe sin. Kwantitatief deur die boodskap van die koninkryk, die Evangelie van Jesus Christus aan alle mense te verkondig en hulle tot die aanvaarding van die hoofskap van Christus te roep en te lei, hulle te leer wat dit beteken om ’n lid van die koninkryk van God te wees. Kwalitatief deur hulle te help om al hoe meer te word wat hulle in Christus is, om dieper en dieper in Hom in te groei totdat hulle kom tot die mate van die volle grootte van Christus; om al hoe meer die woning van die Heilige Gees te word, die Heilige Gees wie se kuriologiese werk dit is om Christus die Here te laat wees (Coertzen 2004:112-118).

Die kerk moet ook steeds in gedagte hou dat sy bestaan tussen die indikatief en imperatief van dit wat sy in Christus is en dit waartoe sy steeds geroep word om te wees. In Christus is die kerk bv heilig maar dit word steeds ook geroep om heilig te wees (Coertzen,2004,118-121).

Die vermelde karakteristieke van die kerk is sekerlik nie die enigstes nie, ander sou ook geïdentifiseer kon word. Die gemeldes is egter baie belangrik indien ’n kerk haar uniekheid in haar eie regering, haar deelname aan die samelewing en haar verhouding tot die staat asook haar deelname aan die regsverkeer van die land wil realiseer. Dit is veral in haar verhouding tot die staat dat die kerk baie seker moet wees van haar identiteit juis omdat dit so maklik kan gebeur dat die kerk haarself kan begin sien soos die staat haar sien en nie in terme van haar eie identiteit nie. Daarom is dit baie belangrik dat die kerk in ’n konteks van transformasie haar deeglik moet vergewis van haar identiteit en haar gewaarborgde reg tot godsdiensvryheid soos vergestalt in die Handves van Regte.

4. TRANSFORMASIE OF REFORMASIE? DIE OMVANG EN OPGAAF VIR KERKE

4.1 ’n Wye verskeidenheid menseregte kom in die Grondwet aan die orde (Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika,1996; Currie & De Waal 2005; Du Plessis 1997:457-465). Die Handves van Regte begin deur die beskerming van die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid te bevestig (art 7 (1)). Die Handves is van toepassing op die totale reg en bind beide natuurlike sowel as regspersone (a. 8 (1) en (2); Die regte gaan oor gelykheid en dat nog die staat of enige ander persoon direk of indirek onbillik teen ’n ander pesoon mag diskrimineer op gronde van ras, geslag, swangerskap, huwelikstaat, entniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal of geboorte nie (a 9 (1 – 4). Art 10 verskans elkeen se ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word (a 10). Elke persoon het ’n reg op lewe (a.11). Artikel 12 beskerm die vryheid en sekerheid van die persoon. Volgens art 13 mag niemand aan slawerny, knegskap of dwangarbeid onderwerp word nie. Artikel 14 bepaal persone se reg tot privaatheid terwyl artikel 15(1) elkeen se reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening vaslê. Artikel 15 (2) laat toe vir die beoefening van godsdiens by staats- of staatsondersteunde instellings mits aan sekere voorwaardes voldoen word terwyl art 15 (3) wetgewing toelaat vir die erkenning van huwelike volgens sekere tradisies, stelsels van godsdiens-, persone-, of familiereg mits sodanige wetgewing versoenbaar is met die Grondwet. Artikel 16 beskerm die reg tot vryheid van uitdrukking; artikel 17 die reg op vergadering, betoging, linievorming en petisie en artikel 18 die reg op vryheid van assosiasie. Artikel 19 gaan oor politieke regte, artikel 20 oor burgerskap en artikel 21 oor die vryheid van beweging en verblyf. Artikel 22 het dit oor vryheid van bedryf, beroep en professie en artikel 23 oor arbeidsverhoudinge. In artikels 24 en 25 word die reg op die omgewing en eiendom gestel terwyl die sosio-ekonomiese regte van behuising, gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekerheid in arts 26 en 27 aan die orde kom. Kinderregte en onderwys word onderskeidelik in arts 28 en 29 gereël. Artikel 30 het dit oor taal- en kultuurregte terwyl art 31 die regte van kultuur-, gosdiens- taalgemeenskappe reël. Die reg op die toegang tot inligting, op regverdige administratiewe prosedures en die reg op die toegang tot howe word in arts 32 tot 34 vasgelê. Die regte van gearresteerdes, aangehoudenes en beskuldigde persone kom in art 35 aan die orde. Art 36 bepaal die beperking van regte terwyl art 37 die omstandighede tov noodstoestande reël.

4.2 In die Handves van Regte kan daar in breë ’n onderskeid gemaak word tussen enersyds die fundamentele regte van gelykheid, menswaardigheid en nie-diskriminasie en andersyds die sg gemeenskapsregte soos vryheid van assosiasie, die vryheid tov van kultuur, godsdiens en taal en die vryhede van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (Report: Exclusionary Policies 2006:3). Dit kom daarop neer dat godsdiensregte inderdaad ook groepsregte kan wees en as sodanig is dit baie belangrik vir kerke.

4.3 Die Report on Exclusionary Policies (2006,5) wys daarop dat die gesag van die staat om in te gryp in die ordereëlings van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe wat deur hulle konstitusies sekere regte wil beskerm, bevorder of verryk dikwels meer omskrewe moet wees as in die geval van bv. handels-, arbeids- en profesionele verenigings.

Benewens die opgaaf aan kerke om deeglik kennis te neem van die inhoud en implikasies van die Handves van Regte, en uit die aard van die saak alle wetgewing wat daaruit voortvloei, sal kerke hulle ook deeglik moet vergewis van hulle eie identiteit en hoe hierdie identiteit veral neerslag vind in hulle kerkordes, bepalinge, reglemente en besluite wat hulle neem.

4.4 Wanneer kerke hulle bestaande kerkordes, bepalinge, reglemente en besluite evalueer in die lig van die vereistes van die Grondwet, veral die Handves van Regte maar veral ook in die lig van hulle geloofsaard en geloofsidentiteit, kan die volgende riglyne in gedagte gehou word. (Sien: Report, Exclusionary Policies 2006):

(i) die regte wat die kerk as ’n geloofsgemeenskap wil beskerm of wat vir die kerk van besondere belang is moet geïdentifiseer word. Mens dink hier aan regte soos lidmaatsregte, die reg om ampsdraers in ooreenstemming met bepaalde vereistes te verkies; die reg om die diensverhouding met leraars en ook ander werknemers op ’n eiesoortige wyse te reël; die reg tot ’n eiesoortige teologiese opleiding; sekere regte wat betrekking het op tugondersoeke en ander prosedures in die kerk, ensovoorts.

(ii) die grondwetlike reg wat deur die bestaande of voorgenome besluit van die kerk beperk word of kan word ingevolge die neergelegde prosedures moet ewe eens duidelik geïdentifiseer word.

In hierdie proses behoort die volgende ’n rol te speel:

(a) Alternatiewe maniere om dieselfde doelwit te bereik moet oorweeg word en indien moontlik gebruik word.

(b) Die alternatief wat dieselfde doel verwesenlik moet aanvaar word sonder ’n onredelike of onbillike beperking van regte.

(c) Redes moet gegee word waarom ’n spesifieke metode of manier aangewend is en waarom ander alternatiewe nie gebruik is nie (Report:Exclusionary Policies, 40).

(d) Dit moet oorweeg word of daar redelike stappe geneem is om die nadeel verbonde aan die beperkte reg aan te spreek en om diversiteit, substantiewe gelykheid en respek vir menswaardigheid te akkommodeer.

(e) Daar moet ook ’n evaluering gemaak word van die omvang van kerke se interaksie met die breër gemeenskap en of dit beperk is tot die eksklusiewe diens aan die lede van die kerk. (Report:Exculsionary Policies 2006:41-42).

(f) Dit kom daarop neer dat die volgende oorweeg moet word (i) Val die besondere assosiatiewe reg waarop die kerk haar beroep binne die bepalinge van art 18 (die reg opvryheid van assosiasie); art 30 (die reg om die taal of kultuur van eie keuse te gebruik) of art 31 (die regte van kultuur-, godsdiens- en taakgemeenskappe) van die Grondwet of enige ander reg wat assosiatiewe/ gemeenskapsregte behels soos bv die reg tot regverdige arbeidspraktyke; (ii) Maak die beperking van ’n bepaalde assosiatiewe reg/regte inbreuk op enige ander bepaling van die Handves van Regte? En (iii) indien wel, is dit redelik en regverdigbaar in die lig van art 36 van die Grondwet gegewe die vereiste vir ’n oop en demokratiese samelewing. (Report:Exclusionary Policies,2006,28).

(g) Kerke moet ook steeds onthou dat in sake van gelykheidsregspraak in Suid-Afrika diskriminasie veronderstel word wanneer daar van differensiasie sprake is op ’n verbode grond – byvoorbeeld die gevalle vermeld in art 9 (3) van die Grondwet. In sodanige gevalle verskuif die onus na die respondent om aan te toon dat die diskriminasie nie onregverdig was nie (Report:Exclusionary Policies 2006:33). Dit kan dus net tot die voordeel van kerke wees om hulle vooraf reeds te vergewis van die redes waarom hulle sekere besluite, reëls en regulasies het waardeur mense daarvan weerhou word om sekere regte uit te oefen in die kerk soos bv waarom sekere mense nie alle lidmaatsregte kan uitoefen of waarom mense nie altyd hulle lidmaatsregte in die kerk van hulle keuse kan uitoefen nie, waarom die partye in ’n tugondersoek nie geregtig is op regsverteen- woordiging nie; waarom sekere mense nie ampsdraers in die kerk kan wees nie en waarom die gewone arbeidsreg nie altyd in die kerk van toepassing kan wees nie, ensovoorts (sien Kerkorde van die NG Kerk 2004).

(h) Dit kan ook net voordelig vir kerke wees om hulle eie kerkordes, bepalinge, reglemente en besluite te vergelyk met die van soortgelyke kerke in ander demokrasieë ten einde vas te stel of vergelykbare reëlings in die ander kerke binne die vereistes van hulle Grondwette bestaan.

4.5 Prakties kom dit daarop neer dat kerke eerstens moet bepaal of daar in terme van hulle kerkorde, reglemente, bepalinge en besluite sprake kan wees van diskriminasie of differensiasie. Tweedens moet hulle bepaal of die diskriminasie/differensiasie onbillik is. Derdens – indien hulle vasstel daar wel in bepaalde gevalle diskriminasie/differensiasie is - moet hulle kan aantoon dat sodanige diskriminasie /differensiasie nie onregverdig is nie omdat dit op die legitieme geloofsidentiteit van die betrokke kerk gegrond is – met ander woorde daar kan ’n beroep op godsdiensvryheid gemaak word. Dit kan beteken dat hoewel dit kan voorkom asof die diskriminasie/differensiasie onbillik is in terme van die Grondwet kan dit tog op grond van die legitieme geloofsidentiteit van die kerk gesien word as noodsaaklik om daardie geloofsidentiteit te beskerm. Dit kan beteken dat ’n kerk wel beperkende besluite en reëls kan hê vir lidmaatskap, toelating tot die ampte, die hou van tugondersoeke, appelle en geskilbeslegting; arbeidsverhoudinge in die kerk, ensovoorts, want al hierdie besluite, reëls en regulasies kan nodig wees vir kerke om hulle geloofsidentiteit te beskerm. Beperkende maatreëls in ’n kerk kan byvoorbeeld ook nodig wees om die kerk te beskerm teen wat genoem word oorname of te wel “capturing”. Oorname kan bv plaasvind wanneer nuwe lede, bestaande lede of buite partye optree om die doel, karakter en funksionering van ’n kerk fundamenteel te verander. Dit kan selfs van so ’n aard raak dat die wesenlike bestaan van ’n kerk in gedrang kan kom – insluitende ook die fisiese en geestelike eiendom van ’n kerk (Woolman 2006:423-424).

4.6 Feit is dat daar ruimte bestaan in die Grondwet vir kerke om deel te neem aan die grondwetlike prosesse in Suid-Afrika sonder om daardeur hulle geloofsidentieit prys te gee, inteendeel dit kan juis gebeur met ’n versterking van hulle geloofsidentiteit. Die Grondwet bied aan kerke die geleentheid om hulle geloofsidentiteit duideliker in hulle orde te artikuleer deur te reformeer.

5. TEN SLOTTE

In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat kerke, gegewe hulle verhouding tot die staat nie verandering kan of behoort te vermy nie maar dan nie noodwendig in die sin van transformasie soos deur die owerheid bedoel nie maar in die sin van voortgaande reformasie – ’n roeping wat gereformeerde kerke altyd het. Die vraag moet inderdaad gevra word of kerke in Suid-Afrika moet transformeer en of dit nie veel meer in lyn met die aard van kerke is om voortdurend te reformeer nie. Kerke in Suid-Afrika vorm deel van die staatsgebied van die Republiek van Suid-Afrika en is as sodanig eerbied verskuldig aan die owerheid van die land en gehoorsaamheid aan die wette van die land. Die Grondwet van 1996 bied egter aan kerke die geleentheid om te reformeer binne die raamwerk van wat die Grondwet daarstel. In die geval van kerke is dit die raamwerk van godsdiensvryheid wat deur die Grondwet (a 15) gewaarborg word; die reg om in terme van a.31 godsdiensgemeenskappe daar te stel en dit te onderhou; en die reg om na aanleiding van hulle interne orde in lyn met hulle geloofsaard aanspraak te maak op die beperking van regte in terme van art 36 van die Grondwet. Hierdie raamwerk behels egter ook sekere veronderstellinge en vereistes vir kerke. Indien kerke nie aandag gee aan die geleentheid tot reformasie met die gepaardgaande vereistes en veronderstellinge nie kan hulle vind dat hulle ’n besondere geleentheid verspeel het.

Aan die einde van Oktober 2005 het ’n konferensie oor Kerk-Staat – Godsdiensvryheid gevra dat ’n aangewese komitee werkgroepe moet saamstel om aan die verskillende aspekte van die Handves van Regte aandag te gee in vergelyking met die kerkordes van kerke sodat kerke van advies bedien kan word wat hulle te doen staan in die lig van die nuwe Grondwetlike bedeling in Suid-Afrika. Daar is al ver gevorder met die aanwys van sameroepers en die saamstel van die werkgroepe. Die gedagte is dat die werkgroepe gedurende die derde kwartaal van 2006 sal begin werk om dan aan die einde van 2007 by ’n volgende konferensie hulle resultate te kom aanbied. Daarna is dit vir kerke om in die lig van die resultate na hulle kerkordes te kyk en indien nodig veranderinge aan te bring – te reformeer in terme van hulle geloofsidentiteit en hulle gewaarborgde reg tot godsdiensvryheid!

BIBLIOGRAFIE

Barth, K sj, Church Dogmatics, vol IV, part 2. T & T Clark, Edinburgh.

Berkhof, H 1962. Tweërlei Ekklesiologie. In Kerk en Theologie nr 13.

Blei, K 2002. Freedom of Religion and Belief: Europe’s Story. Koninklijke Van Gorcum BV, Postbus 43, 9400 Assen, Nederland.

Coertzen, P 2004. Decently and in Order. A Theological reflection on the Order for and the Order in the Church. Peeters, Leuven.

Coertzen, P 2003. Kerkorde of Arbeidswet: Die posisie van predikante en ander persone wat in die NG Kerk werk. In NGTT, Deel 44 nrs. 3&4, Sept-Des 2003

Coertzen, P 2005. Kerk en Staat. Die Optimum Verhouding vir Godsdiensvryheid. In NGTT, Sept-Des 2005.

Currie, Ian & De Waal, Johan 2005. The Bill of Rights Handbook. Fifth Edition. In association with Lawyersfor Human Rights and the Law Society of South Africa. Juta & Co.

Du Plessis, IJ 1962. Christus as Hoof van kerk en kosmos. Proefskrif, Kampen.

Du Plessis, Lourens M 1997. Religious Human Rights in South Africa. In Van der Vyver, J D & Witte J, 1997.Religious Human Rights in Global Perspective. Legal Perspectives. Marthinus Nijhoff Publishers: The Hague, Boston, London.

Du Plessis, Lourens M 1999. Inleiding tot die Reg (derde uitgawe). Juta en Kie, Beperk.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, Wet 108 van 1996.

Heyns, JA 1977. Die Kerk. NG Kerkboekhandel:Pretoria.

Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike Riglyne en Funksionele

Besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode van 2004. Lux Verbi.BM.

Landman, Ch 2006. Die menslike samelewingsleer as konteks vir gesonde kerk-staat-verhoudinge. Ongepubliseerde voordrag.

Pieterse, M 2005. What do we mean when we talk about transformative constitutionalism? In: Sa Publiekreg, vol 20 nr 1, 2005.

Report Human Rights Commission of South Africa, 2006, Report: Public Inquiry Exclusionary Policies of Voluntary Associations: Constitutional Considerations. South African Human Rights Commission. Web site: www.sahrc.org.za

Ridderbos, H 1960. Commentaar op het Nieuwe Testament: Kolossenzen. J H Kok: Kampen.

Ridderbos, H 1972. De Komst van het Koninkrijk: Jesus’ prediking volgens de Synoptische Evangeliën. J H Kok: Kampen.

Ridderbos, H 1978. Studies in Scripture and its authority. Grand Rapids: Eerdmans.

Roberts, JH 1963. Die opbou van die Kerk volgens die Efese-brief. Groningen: VRB.

Sap, JW 2004. Kerk en Staat vanuit het Staatsrecht. Meer respect voor de publieke dimensie van godsdienst.In: Van Drimmelen, LC en Van der Ploeg, TJ 2004. Kerk en Recht. Lemma: Utrecht

Stackhouse, Max L 2005. Why Human Rights Needs God: A Christian Perspective. In: Elizabeth M. Bucar & Barbra Barnett, 2005. Does Human Rights Need God? William B. Eerdmans Publishing Company: Grand Rapids, Michigan/Cambridge, U.K.

State vs Makwanyane

Van der Vyver, JD & Witte, J (eds) 1996. Religious Human Rights in Global Perspective, Legal Perspectives. Marthinus Nijhoff Publishers: The Hague, Boston, London.

Van der Vyver, JD & Witte, J (eds) 1996. Religious Human Rights in Global Perspective, ReligiousPerspectives. Marthinus Nijhoff Publishers: The Hague, Boston, London.

Van der Vyver 1996. Introduction Legal Dimensions of Religious Human Rights: Constitutional Texts. In Van der Vyver, JD & Witte, J (eds) 1997. Religious Human Rights in Global Perspective, Legal Perspectives. Marthinus Nijhoff Publishers: The Hague, Boston, London.

Van der Vyver, JD 1999. Constitutional Perspectives on Church-State Relations in South Africa. Brigham Young University Law Review, Volume 1999, number 2. J Reuben Clark Law School.

Van der Vyver, JD 2004. Leuven Lectures on Religious Institutions, Religious Communities and Rights.Peeters: Leuven

Van Drimmelen, LC sj. Kerk en Staat. In Van’t Spijker, W & Van Drimmelen, LC sj. Inleiding tot de Studie van het Kerkrecht. JH Kok: Kampen.

Van Ruler, AA 1978. De Kerk is ook doel in zichzelf. In Verwachting en Voltooiing. GF Callenbach: Nijkerk.

Vermeulen, BP 2004. Kerk en Staat en de Mensenrechten. In: Van Drimmelen LC & Van der Ploeg, TJ 2004. Kerk en Recht. Lemma: Utrecht.

Versteeg, J 1971. Christus en de Geest: Een exegetisch ondersoek naar de verhouding van de opgestane Christus en de Geest van God volgens de brieven van Paulus. JH Kok: Kampen.

Vorster, N 2005. Transformation in the South African society. Editorial, inter.con 2.

Vorster, N 2005. Transformation in South Africa and the Kingdom of God. Rekenaarkopie van ’n artikel wat verskyn het in die Hervormde Teologiese Studies, Junie 2005.

Witte, John 2000. Religion and the American Constitutional Experiment. Essential Rights and Liberties.Westview Press.

Wolf, E 1960. Ordnung der Kirche. Lehr und Handbuch des Kirchenrechts auf ökumenischer Basis. Vittorio Klostermann: Frankfurt am Main.

Woolman, S 2005. Association. In: Currie, Ian & De Waal, Johan 2005. The Bill of Rights Handbook. Fifth Edition. In association with Lawyers for Human Rights and the Law Society of South Africa. Juta & Co.

TREFWOORDE

Kerkreg, Kerk, Transformasie, Grondwet, Handves van regte

KEY WORDS

Church, Law Church, Transformation, Constitution, Bill of Rights

Prof P Coertzen

Fakulteit Teologie

Universiteit van Stellenbosch

pc@sun.ac.za