Du Toit, A
Universiteit van Pretoria

Etiek en etos in Romeine1

ABSTRACT

Ethics and Ethos in Romans

Anticipated ethos in Romans focuses on the way in which Paul, through various ethical indicators, hoped to influence the existing life style of his addressees.The introductory verses of chapter 12 are crucial and set the tone for all his parenesis. Apart from some general directives, Paul finds it necessary to deal with certain Concrete issues. The Christians in Rome faced some uncertainties regarding right behaviour towards their Roman authorities. It also seems beyond question that there was tension between (certain) Jewish and non-Jewish Christian groups. Evidently, Paul does not concentrate on issues dividing the strong and the weak, but on the way in which they handle their differences. For this purpose, he activates several ethical indicators, inter alia accepting and respecting one another in love, the example of Jesus Christ, glorifying God, the upbuilding of the church and the reaction of outsiders. In a final section two present day issues are addressed: The need for a renewed God-orientation in the church, and the way in which the discussion on homosexuality is handled within the Dutch Reformed Church.

1. GEANTISIPEERDE ETOS IN ROMEINE

1.1 Enkele aanvanklike opmerkings

In ’n vorige artikel is gevra na die etiese rigtingwysers wat Paulus in die Romeinebrief vir sy Romeinse lesers aangedui het. In hierdie artikel word nou gevra na aanduidings in die Romeinebrief oor die konkrete lewenstyl of etos wat Paulus graag onder die Romeinse Christene gevestig sou wou sien.

Etos reflekteer onder meer die manier waarop die etiek wat ’n gemeenskap as normatief aanvaar, daardie gemeenskap se lewenspatrone vorm en omvorm. Soos reeds aan die begin verduidelik, gaan ons hier konsentreer op geantisipeerde of geprojekteerde etos, dit wil sê op die manier waarop Paulus gehoop het om deur etiese rigtingwysers die bestaande etos onder sy Romeinse lesers of hoorders te beïnvloed. Ongelukkig weet ons maar min oor die bestaande etos in die Christelike huisgemeentes in Rome aan wie Paulus sy Romeinebrief skrywe. Hoe het hierdie Christene die etiese kodes inherent aan die Christelike onderrig wat hulle ontvang het, in hulle persoonlike lewe, in hulle huisgemeentes en in hulle gemeenskap geïmplementeer? Hoe duideliker laasgenoemde profiel was, hoe beter sou ons sekere van Paulus se opmerkings kon verstaan. Aan die ander kant moet ons ook rekening hou met die algemeen-universele kenmerke van groot dele van die Romeinebrief en besef dat lank nie al Paulus se opmerkings noodwendig teen die agtergrond van spesifieke situasies binne die betrokke Christengemeenskap gelees behoort te word nie. In ons soektog na meer konkrete inligting loop ons voortdurend die gevaar om te veel in Paulus se woorde te wil inlees. Het ons nie byvoorbeeld ’n fout gemaak om uit Romeine 11:17vv af te lei dat sekere nie-Joodse gelowiges ’n hooghartige houding teenoor hulle Joodse broers en susters geopenbaar het nie?2Was Paulus se waarskuwing in hierdie verband nie dalk bloot voorkomend nie? Veronderstel die apostel se vermaning dat Christene hulle belastings aan die owerheid behoort te betaal ’n daadwerklike probleem in hierdie verband? Verder: indien wel, in watter mate reflekteer Paulus se vermanings teenoor die “sterkes” en die “swakkes” wel ’n skeefgetrekte etos wat verhoudings beduiwel het? Al hierdie voorbehoude in ag genome moet ons egter met die totale inligting wat ons beskikbaar het, tog aanvaar dat daar sekere probleme in die huisgemeentes voorgekom het. Romeine 11:17-24 en verskillende tekste wat ons later sal bespreek, maak dit byvoorbeeld uiters waarskynlik dat (van) die Christene uit die heidennasies ’n hooghartige houding teenoor hulle Joodse medegelowiges aangeneem het. Ons sal, waar van toepassing, kyk hoe Paulus se geantisipeerde etos teen die agtergrond van hierdie probleme verstaan moet word. Soos te verwagte word nie al die etiese rigtingwysers wat ons voorheen geïdentifiseer het, in die paranetiese dele van Romeine geaktiveer nie. Om reg te lewe word byvoorbeeld net in Romeine

14:17 gekonkretiseer en dan slegs op ’n ondergeskikte wyse. Paulus wil sy mede-Christene in Rome omvattend toerus om ’n voorbeeldige Christelike lewe te voer en hulle Christelike vryheid self kreatief te benut. Wanneer hy spesifieke probleme moet hanteer, haal hy net daardie etiese indikators uit sy arsenaal wat die beste op die betrokke probleme van toepassing is.

1.2 Geantisipeerde etos in Romeine 12:1-15:6 (13)3

1.2.1 Die inleiding in Romeine 12:1-2

Ferdinand Hahn karakteriseer Romeine 12:1-2 as “neben dem Doppelgebot der Liebe in Mk 12:28-34 parr ein Grundtext für die neutestamentliche Ethik” (2002: vol 2, 679). Hierin het hy volkome reg. Romeine 12:1 kwalifiseer alle Christelike etiek as ’n dankbare respons op God se goedheid. Hierdie dankbare reaksie word dan tweevoudig nader uitgespel.

Eerstens impliseer dit dat gelowiges uit dankbaarheid hulleself vir God sal “presenteer”4 as “lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”. Dít is vir Paulus godsdiens wat werklik sin maak (v 1b).5 Die merkwaardige is dat die apostel hier van kultiese terme gebruik maak, maar terselfdertyd die onderskeid tussen heilig en profaan, wat destyds in alle godsdienste so noukeurig bewaak is, deurbreek (Lohse 2004:206). Die tyd van offers wat in tempels gebring word, is verby. Die offers waarvan Paulus hier praat, word midde in die wêreld gebring. Daarom praat Käsemann in hierdie konteks van “Gottesdienst im Alltag der Welt” (Käsemann 1964). Ons kan dit ook anders formuleer: Christene moet nou van die ganse wêreld God se tempel maak. Deur hulle selfofferandes moet hulle die wêreld vir God terugverower en heilig. “Die ganze Welt ist vielmehr der Ort, an dem die Christen ihren Gottesdienst im Alltag ihres Tuns verrichten” (Lohse 2004:206). Daar is nog ’n grondliggende verskuiwing: Die tradisionele, eklektiese priesterskap is afgeskaf. Alle gelowiges word nou priesters. Soos in Hebreërs, handhaaf Paulus die algemene priesterskap van alle gelowiges.

Tweedens impliseer hierdie dankbaarheidslewe ’n dinamiese transformeringsproses waarin gelowiges hulle enersyds sal verset teen konformering met die huidige aeon en andersyds ’n “metamorfose” (vgl metamorfousthe) sal ondergaan deur die vernuwing van hulle denke (v 2a). Binne die etiese konteks van 12:1vv impliseer hierdie denkvernuwing ’n nuwe waardesisteem, een gekwalifiseer deur Christelike norme en waarvan die doel is om te bepaal wat God se wil vir hulle lewe in die konkrete omstandighede van elke dag is (v 2b).Dit is onder hierdie dankbaarheidsbanier wat al die paranese van Romeine 12-15 staan.

1.2.2 Die regte gebruik van die geestesgawes

In sy konkretisering van die Christelike lewenstyl fokus Paulus heel eerste op die binne- gemeentelike situasie en hier meer spesifiek op die aanwending van die geestesgawes.

Heel eerste “aktiveer” hy die motief van nederigheid of beskeidenheid. Ons het reeds by Romeine 11:17vv gesien dat sekere Romeinse gelowiges, waarskynlik Christene met ’n nie-Joodse agtergrond, hulleself bo ander gemeentelede verhef het. Skemer iets van dieselfde probleem deur wanneer Paulus sy instruksies oor die genadegawes inlei met die opmerking dat gelowiges hulleself nie moet oorskat nie (12:3a)? Dit wil voorkom of dit inderdaad die geval is. Het van die heidenchristene hulleself in die gemeentelike aksies op die voorgrond gedring? Wat ook al die geval was – Paulus roep ook hier op tot beskeidenheid. Die nodige beskeidenheid bestaan in hierdie geval daarin dat elkeen sal optree in ooreenstemming met die “maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het” (2:3b), wat daarop neerkom dat elkeen sal optree ooreenkomstig die aard en omvang van die geestelike toerusting wat hy of sy van God ontvang het. Dit is ook opmerklik dat Paulus hier, soos in 11:17vv, klem lê op die genade van God wat tot beskeidenheid dwing (12:3,6).

Die tweede motief wat Paulus hier laat funksioneer, is die kriterium van die belange van die gemeente. Ons het reeds in 3.2.5b van die vorige artikel gesien dat deelname aan die liggaam van Christus ’n wesenlike aspek is van gelowiges se verbondenheid aan Christus. Diens aan die liggaam van Christus word hier aangedui as ’n belangrike kriterium vir die regte beoefening van gelowiges se geestesgawes. In plaas van jouself te verhef en jou eie belange te soek, moet gelowiges vra na wat vir die gemeente tot voordeel sal strek. Vergeleke met Paulus se argument in 1 Kor 12:12-30 is sy opmerkings hier veel kompakter. Die strekking bly egter dieselfde

1.2.3 Paulus se paranese in Romeine 12:9-21 en 13:8-14

Afgesien van Romeine 12:3-8, kristalliseer Paulus se paranese in Romeine 12-15 in nog twee ander gevalle tot relatief duidelik omlynde lewensituasies. In 13:1-7 gaan dit om Christene se houding en optrede teenoor die staat, en 14:1vv fokus op intragemeentelike verskille. Maar wat van die oorblywende paranetiese dele? Oppervlakkig beskou kom dit voor of Paulus se etiese vermanings in 12:9-21 en 13:8-14 uit ’n kaleidoskoop van los opdragte bestaan wat bra willekeurig neergepen is en geen verband met mekaar vertoon of met die groot teologiese temas elders in Romeine nie. Bewys dit nie dat Dibelius per slot van sake tog reg was nie?6

So ’n konklusie sou egter nie geregverdig wees nie. In die eerste plek kwalifiseer Romeine 12:1-2, soos reeds aangetoon, al die paranese wat volg, as maniere waarop gelowiges God behoort te bedank vir sy oneindige genade. Beskou teen die agtergrond van die etiese rigtingaanduiders wat ons onder die vorige hoof bespreek het, kan die imperatiewe in Rom 12-15, en daarom ook dié in 12:9-21 en 13:8-14, beskou word as pogings om te illustreer hoe gemelde etiese direktiewe in verskillende lewensituasies behoort te funksioneer. Dit gaan hier egter nie om kasuïstiese voorskrifte wat elke vorm van konkretisering haarfyn uitspel nie. Paulus sê byvoorbeeld dat Christene vir ’n honger vyand iets moet gee om te eet (12:20). Hy skryf egter nie vir hom/haar voor om spinasie in plaas van vleis voor te sit nie. Om ’n uitspraak van Peterson (1998, 207) ietwat aan te pas: “They don’t bully believers into regiments where they find themselves marching in a moral goose-step”7. Tweedens is daar tog ’n breë voortgang in die etiese instruksies te bespeur. Alhoewel daar uitsonderings is, beweeg die vermanings oorhoofs van optredes en verhoudings teenoor mede-Christene (12:9-13) na die wyer sosiale verbande (12:14-21).

Om hierdie etiese opdragte een vir een te bespreek is hier buite die kwessie. Net enkele hoofmomente word uitgelig. Liefde is die sentrale opdrag, soos onder meer blyk uit sy prominente posisie in Romeine 12:9. Liefde teenoor en solidariteit met medegelowiges (12:10,13,15,16), maar ook liefdesbeoefening teenoor vyande (12:14,17-21) is almal illustrasies van hoe die liefdesgebod in die lewenspraktyk konkreet gemaak behoort te word. In 13:8-11 word die opdrag om jou naaste lief te hê eksplisiet vermeld as die vervulling van al die bepalings van die wet. Dit vorm vermoedelik ’n inclusio met 12:9 – waaruit opnuut duidelik word in watter mate al die etiese instruksies binne die liefdesgebod ingesluit word.

Soos reeds aangetoon in 3.2.8 van my vorige artikel, dien die toekomsverwagting van gelowiges in 13:11-14 as ’n etiese motiveerder. Die besef van “hoe laat” dit reeds is, moet ’n dringendheid aan die optrede van die Romeinse Christene verleen. Christelike paraatheid impliseer die aflegging van die werke van die duisternis en die aantrek van die wapenrusting van die lig. In 13:14 kombineer die gereedheidsmotief met dié van Christusverbondenheid: om die wapenrusting van die lig aan te trek beteken ten diepste om jou met die Here Jesus Christus self te beklee.

1.2.4 Christene en die Romeinse staat

Ons kan nou terugkeer na Romeine 13:1-7. Hierdie gedeelte word dikwels as ’n niePauliniese interpolasie hanteer. Ons moet ongetwyfeld rekening hou met die moontlikheid van sodanige interpolasies in die Pauliniese literatuur, maar hierdie passasie is beswaarlik een daarvan (vgl die bespreking by Du Toit 1998:16-19). In sy opset om aan die Romeinse Christene leiding te gee oor hoe hulle die Christelike etiek in hulle eie leefwêreld konkreet moes maak, was dit vir Paulus op hierdie stadium noodsaaklik om ook aandag aan die belastingkwessie te gee. Friedrich cum suis (1976) het aangetoon dat die Romeinebrief geskryf is op ’n stadium toe die pynlike aangeleentheid van die betaling van direkte belasting (tributum), asook van verskillende vorms van indirekte belasting (vectigalia), ’n kritieke fase bereik het. Anti-Romeinse gevoelens het ook om ander redes hoog geloop. In sy benadering tot hierdie saak kombineer Paulus twee van die etiese rigtingwysers wat ons reeds voorheen geïdentifiseer het: Hy begin met die motief van Christelike gehoorsaamheid. Deur gehoorsaamheid aan God met gehoorsaamheid aan die staat, as instelling van God, te verbind maan die apostel sy lesers om aan die staat onderdanig te wees (13:1-6). Maar ten slotte kom hy met ’n nog hoër troef: dié van die eer aan God. Om die staat te gehoorsaam en jou belastings te betaal is ten diepste ’n manifestasie van jou respek vir die staat as God se agent; daardeur vereer jy dus God self (13:7).

1.2.5 Die hantering van spanning in ’n verdeelde gemeenskap

Baie navorsers is van mening dat die belangrikste of een van Paulus se belangrikste doelstellings met die Romeinebrief was om die Joodse en nie-Joodse Christenfaksies in Rome te verenig.8 Ek moet volstaan met die stelling dat selfs die versigtigste eksegeet dapper sou moes wees om te ontken dat Romeine 11 en 14-15 wel dui op ’n konfrontasie tussen Joodse en heidenchristene, en dat Paulus ’n ernstige poging aanwend om hierdie situasie te beredder.9

Die wortels van hierdie konfrontasie gaan – so word vermoed – terug na botsings tussen Jode en Christene op grond waarvan keiser Klaudius in 49 nC ’n edik gepromulgeer het wat talle prominente Jode gedwing het om Rome te verlaat (vgl Hand 18:2). As gevolg hiervan het die Joodse invloed in Christelike kringe in Rome afgeneem en het nie-Joodse Christene nou groter vryheid geniet het om hulle eie Christelike identiteit te ontwikkel. Dit het ’n meer liberale houding teenoor tradisionele Joodse gebruike meegebring. Toe Joodse Christene na die dood van Klaudius in 54 nC na Rome begin terugkeer, het dit op ernstige verskille uitgeloop – ’n konfrontasie wat nog nie opgelos was toe Paulus in die winter van 55-56 nC sy brief skrywe nie. Die twee groepe het nie daarin geslaag om die gaping tussen hulle te oorbrug nie óf vanweë ’n onvoldoende verstaan van die Christelike boodskap en sy etiese implikasies, óf vanweë onwilligheid om hierdie boodskap daadwerklik te implementeer.

Ons het reeds gesien dat volgens Romeine 11:17vv die heidenchristene ’n meerderwaardige houding teenoor hulle Joodse medegelowiges ingeneem het. Teenoor hierdie onchristelike houding wend Paulus die Christelike nederigheid as kriterium aan. Om die heidenchristene van die verkeerdheid van hulle houding te oortuig gaan hy terug na die bron van hulle misplaaste selfroem hulle onvoldoende begrip en waardering van die omvattendheid van God se genade wat ook vir húlle ingesluit het. Juis vanweë die grootheid van God se genade moes hulle hulle Joodse medegelowiges in diepe ootmoed aanvaar het. Solidariteit in die genade bind saam ten spyte van alle verskille. Selfverheffing skree teen die genade.10

In hoofstukke 14-15 word sekere aspekte van hierdie konflik duideliker. Die Christelike etos rondom kwessies van eet en drink en die vier van Joodse feesdae, vermoedelik veral die Sabbat, is op die spel (14:2-3,5-6,14-17,20-23). Weer eens tree sekere Christene, waarskynlik dié afkomstig uit die heidennasies, na vore as die hooghartiges wat op ander neersien (14:3,10). Hulle beskou hulleself as die “sterkes”, as die intellektueel meerderwaardiges, want hulle is op teologiese gronde daarvan oortuig dat alle Joodse voorbehoude ten opsigte van die blywende geldigheid van voedselwette en feesdae in Christus opgehef is. Die “swakkes” daarenteen sien dit anders en beskou dit as hulle plig om hulle liberale broers en susters wat die wet verbreek, hieroor aan te spreek en te veroordeel (14:3-4,10). In Paulus se worsteling om die Romeinse Christene te oortuig dat hulle die verskille op ’n waaragtig Christelike wyse moet hanteer, maak hy gebruik van verskeie etiese indikators.

Die oproep om mekaar te aanvaar speel ’n beslissende rol in sy argument. Dit verskyn alreeds in 14:1 en word herhaal in 15:7 ’n vers wat die essensie van 14:1-15:6 saamvat en die afronding van sowel die onmiddellik voorafgaande as die hele hoofargument van Romeine inlui. Die oproep in 14:1 word aan die sterkes gerig, maar indirek word die swakkes in 14:3 aangespoor om dieselfde te doen (vgl die voorbeeld van God wat ook die sterker broer “aangeneem het”). Die sterkes word in 15:1-2 direk aangespreek op hulle verpligting om die swakhede van hulle medegelowiges “te verdra”. Albei faksies word egter ingesluit in die afgeronde oproep van 15:7 om mekaar te aanvaar. Om die ander een te aanvaar, vloei ongetwyfeld voort uit die liefdesgebod waarop Paulus so prominent voorheen (Romeine 13:8-10) gefokus het. Om mekaar in liefde dwarsoor die seermaak verskille te aanvaar en so God én Jesus Christus se voorbeeld na te volg (14:3; 15:7-9), moet deel word van die Romeinse Christene se daaglikse etos. Om medeChristene wat met jou saamstem, lief te hê en te aanvaar was nie moeilik nie. Om hulle te aanvaar wat jou opponeer, toets die kwaliteit van Christelike broeder en susterliefde.

Die liefdesmotief verskyn weer in 14:15, hierdie keer vanuit die perspektief van die Christenbroer en suster nie leed aan te doen nie (lupeitai). Dat Paulus hier pertinent aan die Christelike liefde dink, blyk uit sy stelling dat hy wat sy broer benadeel, nie meer “volgens die liefde wandel” nie. Wanneer die Griekse werkwoord peripateo soos hier binne ’n etiese konteks gebruik word, dui dit op ’n bepaalde lewenstyl. Paulus verwys na ’n leefstyl wat deur die liefde gekenmerk word – die liefde wat deur Christus voortgeleef is toe Hy vir sy mense aan die kruis gesterf het (v 15b). Deur so geweldig prinsipieel te wil wees dat jy jou oortuiging teen elke prys wil demonstreer en in die proses die sensitiwiteite van ander gelowiges te ignoreer, kan jou gedrag vir hulle ’n ernstige probleem word en hulle dalk selfs tot ’n val bring. So ’n optrede bots direk met die liefdesgebod. Paulus wil sy lesers/hoorders oorreed om juis die teenoorgestelde te doen. Die liefdesopdrag funksioneer weer in Romeine 15:1-2. “Om jou naaste te behaag” herinner aan Rom 13:9-10 waar Paulus die opdrag tot naasteliefde uit Lev 19:18 aanhaal (Dunn 1988:838; Schreiner 1998:746). Die liefde vra van die sterkes om die swakhede van hulle meer sensitiewe broers en susters te dra. Die liefdesopdrag kry voorrang bo die onbedagsame deurvoering van jou eie standpunt.

In die proses om sy adressante te help om die regte etos binne hierdie ongemaklike situasie te vind, bring Paulus verder ook nog die motief van Christus as Heer in die prentjie (14:4-9). Hy rig hom hier tot die swakkes wat ’n oordeel oor hulle medegelowiges uitspreek vanweë hulle liberale houding. Hy vergelyk Christus se Heerskap met dié in twee tipiese aardse huishoudings, met ander woorde twee huishoudings met hulle spesifieke eienaars en slawe. Hoe kan die slaaf van een huishouding so voorbarig wees om die optrede van ’n medeslaaf uit ’n ander huishouding te veroordeel? Elke slaaf is immers net verantwoordelikheid verskuldig teenoor sy eie werkgewer. Vandaar beweeg Paulus na die Heer-skap van Christus. Alle Christene behoort aan Jesus Christus as hulle Here. Al is daar verskille tussen hulle, moet hulle daarteen waak om die verskille tot die een en al van Christenskap te verhef. Ten opsigte van sy eie verhouding tot die Here moet elke gelowige goed seker maak dat hy of sy hulle eie standpunte kan regverdig, en moet hulle diegene wat van hulle verskil, se standpunte nie veroordeel nie, maar respekteer (v 6; vgl ook v 22-23).

Binne die ruimte van Christene se verantwoordelikheid tree die eskatologiese tema (vgl 2.8 van die vorige artikel) as vanself na vore (14:10-14). Paulus minimaliseer nie die verskille nie. Hy besef hoe belangrik hierdie saak vir die onderskeie partye is. Self ondersteun hy die posisie van die sterkes en hy maak daar geen geheim van nie (14:10,14 ).11 Maar in vergelyking met almal se persoonlike verantwoordelikheid voor die groot Regter, by wie die liefdesopdrag deurslaggewend is, verdwerg die verskille oor wat mense mag eet of drink.

Die tema van God te vereer en te dank, wat so ’n belangrike motief in Romeine is (vgl my vorige artikel) , funksioneer ook in hierdie gedeelte. Om oortuig te wees van jou eie standpunt en op grond van daardie oortuiging God te kan dank en eer, en om jou medegelowige wat ’n verskillende opinie daarop nahou en ook vry voel om God te dank en te eer, is van kritiese belang (14:6-7). Om God met ’n skoon gewete op hierdie manier te vereer is belangriker as om ’n argument te wen. Dieselfde motief verskyn weer in 15:1-6. Paulus begin deur die sterkes aan te spreek. Deur nie hulle oortuigings op die swakkes af te dwing nie maar hulle eerder te respekteer en te akkommodeer, sal hulle ooreenkomstig die liefde handel en, deur dit te doen, sal hulle dit vir albei groepe moontlik maak om hande te vat en God te prys (v 6). Hierdie tema gaan dan in 15:7-13 oor in ’n magtige magnificat. In kontras met Romeine 1:21 en 2:23-24, waar die mensdom, bestaande uit heidennasies en Jode, weier om God te eer, verenig dieselfde twee groepe nou harmonieus in ’n universele koor om God te verheerlik.

Die voorbeeld van God en veral van Jesus Christus (vgl 3.2.5d van my vorige artikel) word ook gebruik om ’n nuwe etos onder die Romeinse Christene te vestig. Terselfdertyd dien hierdie etiese rigtingwyser ook as ’n kragtige retoriese tegniek. Reeds in 14:3 word die grootmoedige voorbeeld van dié God voorgehou wat nie net die sterkes “aanneem” nie maar ook die swakkes. Jesus Christus se eie liefdesvoorbeeld wat sonder voorbehoud is, funksioneer egter veel sterker. In 14:15 word die swak broer/suster gekwalifiseer as iemand “vir wie Christus gesterf het.” Hierdie broers en susters was vir Christus so kosbaar dat Hy sy lewe gegee het om hulle te red. Sou hierdie medeChristene werklikwaar vir hulle sterker broers en susters so min werd wees dat laasgenoemde bereid sou wees om hulle te laat “verlore gaan” deur op hulle reg te staan om vryelik te eet en te drink? Indien wel, sou hulle ’n totaal ander waardesisteem openbaar as dié van Jesus Christus self. Die voorbeeld van Jesus Christus is nog meer prominent in Romeine 15:3,7-10. Hy was die kroonvoorbeeld van iemand wat ander se belange eerste gestel het (15:3). Hy het almal aanvaar tot op die punt waar Hy alles vir almal geword het, vir die Jode (lees daarby: die swakkes) sowel as vir die heidene (lees daarby: die sterkes) (15:7-9).

Ek sluit my bespreking van geantisipeerde etos in die konfrontasie tussen Joodse en heidenchristene in Rome af deur nog net enkele ander etiese indikators te vermeld wat in hierdie konteks figureer. Die kriterium van die opbou van die kerk, wat so prominent in 1 Korintiërs is, kom twee keer voor (Rom 14:19-20; 15:2). Die noodsaaklikheid daarvan om rekening te hou met die reaksie van buitestanders word twee keer opgehaal (14:16,18).12 Die motief van “reg lewe” (3.2.2 van my vorige artikel) word gekonkretiseer in die stelling dat die koninkryk van God nie ’n saak van eet en drink is nie, maar van “geregtigheid” (14:17). Ook die vrede word gekonkretiseer (vgl 2.6 van my vorige artikel). Onderlinge harmonie tussen Christene word ’n duidelik sigbare manifestasie van die feit dat hulle met God versoen is en almal saam vrede met God het (14:17,19; vgl 15:13).

1.3 Geantisipeerde etos in Romeine 15:14-16:23

1.3.1 Gebed

Net twee prominente aspekte van geantisipeerde etos in hierdie afsluitende gedeelte van Romeine word uitgelig: gebed en Christelike dienswerk.

Soos ons gesien het, is gebed nie net ’n voorreg nie, maar ook ’n noodsaaklike verpligting. In Romeine 15:30-32 aktiveer Paulus hierdie verantwoordelikheid deur sy geadresseerdes te vra om in die gebed “saam” met hom te “stry” (sunagonisasthai). Vir twee sake het hy hulle ernstige voorbidding nodig: Hoe sal die nieChristelike Jode reageer op sy teenwoordigheid in Jerusalem, en sal sy kollekte vir die moedergemeente in Jerusalem aanvaarbaar wees? Die werkwoord “saamstry” dui op ’n ernstige worsteling en is ’n metafoor wat van die slagveld afkomstig is. 13Dit bevestig weer eens dat Paulus die Christelike lewe geensins as ’n sondagskoolpiekniek beskou nie. Dit is beslis ’n opwindende ervaring, maar terselfdertyd is dit ook ’n dodelike strydsituasie. Die positiewe uitkoms word egter gewaarborg deur “die God van vrede” (15:33).

1.3.2 Christelike diens

Soos ons in die eerste artikel onder punt 3.2.5 e gesien het, is Christelike dienswerk ’n integrale deel van die Christelike etiek. Een van die retoriese mikpunte van die lofbetuigings in Paulus se groetelys (Rom 16:3-16) is om Paulus se geadresseerdes in Rome aan te spoor tot aktiewe betrokkenheid by evangeliediens. Die persone wie se aktiwiteite aangeprys word, moet dien as inspirerende rolmodelle wat nageboots behoort te word.

2. TWEE LYNE DEURGETREK NA ONS HUIDIGE KERKLIKE SITUASIE

Daar is verskeie lyne wat van Paulus se etiek en etos in die Romeinebrief na vandag toe deurloop.Terselfdertyd is daar ongelooflik baie slaggate wat vermy moet word wanneer ’n mens etiese momente in die Bybel op ons eietydse, plaaslike omstandighede wil toepas. Bewus van hierdie probleme wil ek nogtans twee sake uithaal wat na my mening vir ons huidige kerklike situasie van dringende belang is. Die eerste het te make met die essensiële Godgerigtheid en Godverheerlikende verantwoordelikheid van alle kerkwees en die tweede met die hantering van die kwessie van homoseksualiteit binne die NG Kerk.

2.1 Die Godgerigte verantwoordelikheid van die kerk

Ons het uit Romeine opnuut gesien hoe alle Christen- en kerkwees Godgerig moet wees. Dit moet uitloop op die verheerliking en aanbidding van God. Toegepas op ons huidige kerklike spiritualiteit en die spesifieke situasie in baie gemeentes, vra dit ’n radikale heroriëntasie op God.

Dit ly geen twyfel dat die kruipende sekularisering wat oor die Westerse wêreld beweeg en wat ook in ons eie land al hoe merkbaarder word, ook reeds sy tol in die kerk opeis nie. Die twee meelopers van hierdie Godsverduistering is materialisme en humanisme. Die mens, sy/haar kundigheid, imponerende vermoëns, aanvoeling, voorkeure en afkeure, staan al hoe meer in die sentrum. Die natuurwetenskap word al hoe meer die maat van alle dinge. Die teologie word as irrelevant en oudmodies beskou. Binne die teologie selfs word meer en meer antimetafisies gedink. Wat die teologiese kurrikulum betref, word die Bybelwetenskappe en die studie van die grondtale al hoe meer bedreig. God en sy Woord as die finale faktor in ons lewe word ongemerk na die periferie verskuif. Al geskied dit in ’n ander vorm as wat Paulus bedoel wanneer hy praat van die skepsel wat in die plek van die Skepper vereer word (Romeine 1:25), gaan dit in wese om presies dieselfde proses. Gevolglik kwyn ware spiritualiteit – wat tog allereers op God en die Woord en nie op die self of die mens gerig is nie.

Hierby kom in die kerk nog ’n bykomende faktor. In sy insnydende analise van die kerklike situasie in Amerika beweer Eugene Peterson dat die kerklike toneel in Amerika oorheers word deur “konsumerisme”14. Hierdie “konsumerisme” beteken dat op kerklike “kliënte” en hulle behoeftes, wat uiteraard deur húlle smake en voorkeure bepaal word, gekonsentreer word. Sodoende word evangeliedienaars gedegradeer tot bemarkers wat hulle kliënte deur middel van allerlei foefies moet werf en tevrede hou. Kom ons stel hom heel kortliks aan die woord:

The world of religionCreates a huge market for meeting all the needs that didn’t get met in the shopping mall. Pastors are conspicuous in this religious marketplace and are expected to come up with the products that give customer satisfaction. Since the needs seem legitimate enough, we easily slip into the routines of merchandising moral advice and religious comfort. Before long we find that we are program directors in a flourishing business. We spend our time figuring ways to attractively display god-products .... Before we realize what has happened, the mystery and love and majesty of God ... are obliterated by the noise and frenzy of the religious marketplace ... But then who is there who will say the name of God in such a way that the community can see him for who he is, our towering Lord and Savior ... If we all get caught up in running the store, who will be the pastor? (Peterson 1998:261)

Dit is nie meer ’n vraag of ons ook reeds op hierdie pad is nie. Die enigste vraag is hoe ver en of ons betyds tot ons sinne gaan kom. Mense wat die kerk verlaat, die krimping van lidmaatgetalle, afskaling van gemeentes en predikantposte, “oop” gemeentegrense wat lidmate laat “rond-shop” om te kyk waar die beste aan hulle smake en voorkeure voldoen word, speel nog verder mee om hierdie konsumerisme te bevorder. Dominees moet bo alles gawe, gewilde persone wees. Eredienste moet ten alle koste aantreklik en interessant wees. Lidmate moet teen elke prys behou word.

Peterson wys daarop dat intimiteit en transendensie twee van die mees basiese behoeftes van menswees is (1998:244-245). Daarmee neem hy die wekroep van die vroeë Karl Barth op. Mense se diepste behoefte is God. Die kerk moet allereers Godgerig wees. Só en net so word mense se diepste lewenshonger versadig. Juis só kom ook ware mensgerigtheid tot sy reg. Dit beteken dat evangeliedienaars allereers “mense van God” moet wees en aan ander iets van die teenwoordigheid van God moet oordra. Die heel eerste vereiste vir ’n ware evangeliedienaar is dat hy of sy in ’n lewende, persoonlike verhouding tot God sal staan. Die ware toets is nie ons gaafheid of gewildheid, of ons byderwetsheid nie. Dit gaan ook nie daarom dat ons die nuutste kwinkslae of sportgebeure of ons gemeentelede se verjaarsdae haarfyn sal ken, of op hoogte sal wees van die jongste rekenaarontwikkelings of bemarkingstrategieë nie.

Ons het reeds die profane wêreld se fassinering met tegnieke en tegnologie (selfone, antwoordmasjiene, rekenaars, statistieke, truprojektors, dataprojektors, gesprekstegnieke, groepsdinamiek, ensovoorts.) en sy entoesiasme vir aksie (almal moet geaktiveer word en ons leraars moet die toon aangee) volledig geïnternaliseer15– dis ongelooflik hoe vol ons predikante se dagboeke is! Die beslissende vraag is egter: In hoe ’n mate kan ons lidmate nog in en deur ons optrede iets van die mistieke kontak met God aanvoel? Hoeveel ervaar hulle daarvan in ons eredienste? Getuig ons kanselgebede van die besef dat ons voor God staan? Is die belewenis van God se teenwoordigheid en sy lewensveranderende spreke nie veel belangriker as die voortdurende soeke na nuwe liedere, nuwe liturgieë en befaamde sprekers nie?

Ons verstaan van wat ’n sinvolle bediening inhou, vereis ’n radikale transformasie. Soms lyk dit of ons meen hoe besiger ons is, hoe beter doen ons ons werk. Vir ’n kwaliteitbediening sal ons egter veel minder moet rondhardloop en gate toestop en veel meer tyd moet gee vir die luister na God se wil vir ons tyd, vir diepgaande studie van die Bybel (insluitend die lees van werklik sinvolle literatuur), vir die biddende opsoek van God se teenwoordigheid. Gemeentelede moet as

‘t ware onbewustelik ervaar dat ons in God se teenwoordigheid was. Kortom, ons sal die Maria- rol moet herontdek sodat ons uiteindelik die Marta-rol sinvoller kan vervul.

Dit is hartverskeurend hoe vlak baie predikante se prediking geword het. Sodra ons ’n mooi skema of ’n treffende sedelessie gekry het, wat ons nog boonop met behulp van PowerPoint- aanbieding en ’n dataprojektor aantrekliker kan maak, meen ons ons het ons deel gedoen. Van ’n werklike geestesworsteling om vanuit die grondteks en met behulp van deeglike kommentare die Bybelteks in sy diepte te begryp en so die ernstige vrae en lewenshonger van ons mense aan te spreek, is daar min sprake. Trouens dit lyk of kommentare en goeie teologiese werke amper nie meer in aanvraag is nie.Dit is net ware Godgerigtheid, Bybelgerigtheid, aanbiddingsgerigtheid en, van daar uit, ’n begrypende, liefdevolle mensgerigtheid wat ’n spiritualiteit sal skep wat fundamenteel magneties van aard sal wees en mense na die kerk sal terugbring. Tereg sê Peterson: “Isaiah has far more to teach us about spirituality than Carl Jung” (1998:250).

Die bedoeling van hierdie betoog is geensins om die ander wetenskappe en die waardevolle hulpmiddels wat vandag tot ons beskikking staan, af te kraak nie. Hierdie fasiliteite moet egter met soberheid en oorleg aangewend word sodat hulpmiddels nie die hoofsaak word nie. Dit bly die kerk en die teologie se voorreg om juis oor God, en selfs namens God te praat, en alle ander dinge in perspektief tot God te plaas. Wanneer ons hierdie proprium prysgee, het ons ons bestaansreg verbeur en verdien ons om as irrelevant opsy geskuif te word.

2.2 Die huidige kerklike verdeeldheid en spanning rondom homoseksualiteit

Die huidige debat rondom homoseksualiteit het ’n diep verdeeldheid in NG geledere veroorsaak, net soos in baie kerke wêreldwyd. Ek wil nie hier op die meriete van die botsende standpunte ingaan nie, maar op die manier waarop hierdie verskille hanteer word. Ons kan in hierdie verband heelwat leer van die manier waarop Paulus die verdeeldheid tussen die “sterk” en die “swak” gelowiges in Rome hanteer het.

Dit was duidelik vir hom belangriker om leiding te gee ten opsigte van die manier waarop die Romeinse gelowiges hulle verskille hanteer het, as om die een of ander standpunt as reg of verkeerd te bewys al laat hy blyk waar sy simpatie lê. Die strydpunte is vir hom geensins onbelangrik nie, maar die behoud van ’n waarlik Christelike etos midde in hierdie stryd is vir hom veel belangriker.

Dit is begryplik dat die huidige debat rondom homo-erotisisme diepgaande emosies losmaak. Die heftigheid van die gesprekvoering is daarom verstaanbaar. Wat egter nie Christelik aanvaarbaar is nie, is die dikwels liefdelose wyse waarop teenstanders oor en weer belaglik of verdag gemaak word. Voorstanders van die meer tradisionele standpunt is geneig om die ander party van ’n miskenning van die klinkklare getuienis van die Bybel te beskuldig. Liberalisme, verwerping van die Bybel, humanisme, postmodernisme is maar enkele van die etikette wat omgehang word. Soos ons gesien het, lê Paulus in Rom 14-15 geweldige klem op die wedersydse aanvaarding van mekaar, ook van mekaar se integriteit. Veroordeling is volgens hom nie die Christelike weg nie, maar respek vir mekaar se persoon en standpunte. Dit is daarom ook net so verkeerd van persone wat die nietradisionele standpunt verdedig, om hulle opponente as liefdeloos, fundamentalisties, bekrompe en wetties af te maak. Hierdie soort oor en weer etikettering hoort nie in ’n kerklike debat nie.

Terselfdertyd moet ’n groot wanpersepsie reggestel word: Ook teoloë wat die teenoorgestelde standpunt handhaaf, maak erns met die Bybel. Die stryd gaan nie om die erkenning of miskenning van die gesag van die Bybel nie, maar oor hoe die Bybel se gesag in hierdie geval geïnterpreteer moet word. Dit is opmerklik hoe Paulus in die stryd tussen die twee groepe in Rome telkens weer op die absolute noodsaaklikheid van die Christelike liefde terugkom. Hierdie mees basiese etiese vereistes ontbreek ongelukkig in baie van die bydraes tot die huidige kerklike debat, en dikwels ook in verwysings na homoseksuele persone. In ons ywer vir ’n sekere standpunt gee ons nie om mense te laat seerkry nie. Vanaf kansels word smalend oor homoseksuele persone en hulle sondigheid gefulmineer. Die betrokke predikers is blykbaar so beïndruk met hulle eie vreesloosheid en “profetiese roeping” dat hulle nie vir ’n oomblik daaraan dink hoe homoseksuele Christene en hulle dierbares onder die veroordeling ineenkrimp nie. Dit is uiters belangrik om raak te sien dat die liefde tot medebroers en susters en die eenheid en opbou van die kerk vir Paulus hier veel belangriker is as die deurvoering van standpunte. Sonder prysgawe van sy eie standpunt sou hy sekerlik wou beklemtoon dat ’n pastorale, liefdevolle benadering die grondtoon van ons gesprek moet bepaal.

’n Ander opvallende kenmerk van die kerklike debat is hoe seker veral diegene wat die tradisionele standpunt huldig, van hulle saak is. Dit lyk soms of ons onvoorwaardelik meen dat ons die volle waarheid in pag het en werklik nie vir een oomblik bereid is om te oorweeg of die ander kant dalk ook ’n waarheidsmoment beet het nie. Wanneer Paulus sy geadresseerdes aanmoedig om seker te maak dat hulle standpunt goed verantwoord is, sluit dit tog seker die openheid in om ook na die ander kant te luister en hulle nie summier te verketter nie. Kritiese vrae soos: Was Paulus inderdaad bewus van die verskynsel van kern-homoseksualiteit? En, indien nie, hoe moet ons sy uitsprake in Romeine 1:26-27 hermeneuties na vandag se situasie oordra?, kan nie ligtelik afgemaak word nie.

Dit is verder opvallend hoe ernstig Paulus sy Romeinse Christene se menswees respekteer. Word homoseksuele Christene se menswees genoeg gerespekteer as daar meer oor hulle as met hulle gesprek gevoer word? Aan die ander kant mag die Christelike etos ook weer nie bepaal word deur diegene wat self eksistensieel in hierdie saak betrokke is nie, maar in gesprek met hulle moet ’n Christelik verantwoorde standpunt gevind word.

Soos ons gesien het, was die indruk wat kerkmense se optrede op die buitewêreld maak, ook ’n faktor waarmee Christene volgens Paulus rekening moet hou. Ek is bevrees dat diegene wat in hierdie debat betrokke is, hulleself sal moet afvra of hulle manier van optrede nie die evangelie en die beeld van die kerk geweldige skade aandoen nie. Die kerk sal ongetwyfeld ook moet besin oor prosedures waarop sensitiewe sake soos hierdie waardiger hanteer kan word.

Die nagenoeg roekelose manier waarop soms van meer “progressiewe” kant aangedring word op die konsekwente deurvoering van standpunte sonder inagneming van die sensitiwiteite van duisende gelowiges wat anders voel, strook ook weer nie met Paulus se hantering van die konflik in Rome nie. Al stem Paulus met die sogenaamde sterkes saam, moedig hy hulle nêrens aan om op hulle “regte” te staan en hulle posisie ten koste van die ander party af te dwing nie. Inteendeel, hy moedig hulle aan om ter wille van hulle medebroers en susters juis nie hulleself te behaag nie, maar die voorbeeld van Jesus Christus te volg wat ook nie Homself behaag het nie. Aan die ander kant sê hy ook weer nêrens dat hulle hulle standpunte sonder meer moet prysgee nie.

Wat ons huidige debat betref, sou dit dus sekerlik nie impliseer dat standpunte opgeskort moet word nie. Die gesprek moet in alle opregtheid en in die gees van wedersydse respek, liefde en openheid voortgaan. Die inagneming van die sensitiwiteite van andersdenkende medegelowiges sal egter ook ’n belangrike rol moet speel. Wie sy of haar standpunt teen elke prys wil deurdruk, sal Paulus se vermaning baie ernstig in ag moet neem.

Daar is egter ’n nog groter roekeloosheid – dié van diegene wat die media voer met spekulasies dat die NG Kerk kan skeur. Hierdie persone skep net verdere psigose. Van ’n ware bewoënheid oor die kerk is daar nie veel te bespeur nie. Hierdie gesindheid is in elke geval nie dié van ’n Paulus wat in Romeine 14:1-15:6 die opbou van die kerk beklemtoon het en sy bes gedoen het om Joodse en heidenchristene in ’n harmonieuse eenheid saam te snoer nie. Wat hy hier geskryf het, was vir hom veel meer as blote lippetaal. Volgens Rom 15:25-31 en Handelinge (vgl Hand 20:22-24; 21:27vv) het hy ter wille van die eenheid van die kerk sy lewe gewaag toe hy met sy kollekte vir die Jerusalemgemeente die gevaarvolle reis na Jerusalem aangepak het (Bornkamm 1969:106-

107). Hierdie is ook nie die gesindheid van ’n Johannes Calvyn wat homself bereid verklaar het om sewe seë te oorkruis ter wille van die eenheid van die kerk nie.

Om saam te vat: Die huidige debat sal moet afkoel tot op ’n kalmer, redeliker, meer Christenwaardige vlak. Ons mag nie toelaat dat heftige uitsprake in die media die kerk op ’n oorhaastige en emosionele sleeptou neem nie. Paulus gee vir ons in sy hantering van die konflik in Rome baie belangrike riglyne: die liefde, die respekteer van mekaar se integriteit, die kritiese ondersoek van ons eie standpunte, die waarlik eerlike, oop luister na ander, die inagneming van mense wat seerkry, die rekening hou met die opbou en die eenheid van die kerk. Ek glo dat ons deur gebed, luister na mekaar, en veral deur die stille werking van die Heilige Gees, wel die regte weg sal vind – al mag dit tyd neem.

BIBLIOGRAFIE

Bornkamm, G 1969. Paulus. Urban Bücher 119D. Stuttgart-Berlin-Köln- Mainz: Kohlhammer.

Du Toit, AB 1998. The function and value of studying the New Testament milieu in Du Toit, AB (ed). Guide to the New Testament. Vol II: The New Testament milieu. Halfway House: Orion, 3-31.

Friedrich, J, Pöhlmann, W & Stuhlmacher, P 1976. Zur historischen Situation und Intention von Röm 13, 1-7. ZThK 73, 131-166.

Hahn, F 2002. Theologie des Neuen Testaments I-II. Tübingen: Mohr (Paul Siebeck).

Lippert, P 1968. Leben als Zeugnis. Die werbende Kraft christlicher Lebensführung nach dem Kirchenverständnis neutestamentlicher Briefe. SBM 4. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.

Moulton, JH & Milligan, G (1930) 1972 The vocabulary of the Greek Testament illustrated from the papyri and other non-literary sources. S l: Hodder & Stoughton.

Peterson, EH 1998. Living the message. London: Marshall Pickering.

Schrage, W 1961. Die konkreten Einzelgebote in der paulinischen Paränese. Ein Beitrag zur neutestamentlichen Ethik. Gütersloh: Gerd Mohn.

Schreiner, TR 1998. Romans. BECNT. Grand Rapids: Baker Books.

Wenschkewitz, H 1932. Die Spiritualisierung der Kultusbegriffe Tempel, Priester und Opfer im Neuen Testament. Angelos 4, 70-230.

TREFWOORDE
Etos, Paranese, Owerheid, Binne-kerklike verhoudings, Homoseksualiteit

KEY WORDS
Ethos, Paranesis, Political authorities, Intra-ecclesiastical relationships, Homosexuality

Prof Andrie du Toit
Fakulteit Teologie
Universiteit van Pretoria
0002 PRETORIA
andriedt@icon.co.za

1 Afrikaanse verwerking, in die lig van ons plaaslike situasie, uit ’n artikel wat in ’n bundel onder redakteurskap van prof Jan van der Watt onder die titel “Identity, ethics and ethos in the New Testament” gaan verskyn

2 Vgl die opmerkings in hierdie verband onder punt 3.2.9 van my vorige artikel.

3 Die posisie van Romeine 15:7-13 is ambivalent aangesien dit enersyds die voorafgaande argument oor die “sterkes” en die “swakkes” saamvat en afrond, maar andersyds ook die hele hoofargument van die Romeinebrief afsluit.

4 Die Griekse werkwoord is paristemi en dui op ’n beskikbaar-stel om gebruik te word deur God. Dieselfde werkwoord word ook in Romeine 6 gebruik van die Christensoldaat en die Christenslaaf wat vir sy/haar Heer beskikbaar moet wees.

5 Vgl die studie van Wenschkewitz 1932 oor die vergeesteliking van die offer in die Nuwe Testament.

6 Vgl 3.1 van my vorige artikel.

7 Schrage onderskei Jesus se etiese opdragte duidelik van kasuïstiek (1961:68-69). Hy vergelyk byvoorbeeld Paulus se sober opmerking in 1 Korintiërs 7:5 oor seksuele onthouding “net vir ’n bepaalde tyd” met rabbynse bepalings wat spesifieke tydperke voorskryf en in die proses differensieer tussen tora- studente en handarbeiders.

8 Schreiner (1998, 19) beskou dit selfs as die huidige meerderheidsposisie

9 Paulus spreek in Romeine 11 (sekere) heidenchristene aan oor hulle verwaande houding teenoor hulle Joodse mede-gelowiges. In hoofstukke 14-15, waar dit om die “sterkes” en die “swakkes” gaan, trek hy egter geen “etniese” skeidslyne nie. Dit is dus nie vanselfsprekend dat die “sterkes” (grootliks) met die heidenchristene sou saamval en omgekeerd nie. Dit bly egter die mees waarskynlike gevolgtrekking, aangesien ons ook by die “sterkes” aanduidings van hooghartigheid kry en dit begryplik sou wees as Joodse Christene, vanuit hulle Joodse verlede, huiwerig was ten opsigte van bepaalde eetkonvensies en feesdae.

10 Ons het reeds gesien hoe Romeine 12:3-8 hierby aansluit alhoewel ons slegs kan vermoed dat dit om dieselfde rolbekleërs gaan.

11 Vgl ook die “ons”-formulering in 15:1

12 Hierdie motief speel ’n belangrike rol in die Nuwe Testament. Kyk hieroor onder meer Lippert 1968.

13 Moulton & Milligan 1972 s. v. agonizomai, sunagonizomai.

14 ’n Gerieflike toegang tot sy analises kan gevind word in Peterson 1998 waarin uittreksels uit sy verskeie publikasies in dagboekvorm verskyn.

15 Vgl Peterson 1998:246.