Janse van Rensburg, J
Universiteit van die Vrystaat

Kuns en liturgie – ’n Praktykteoretiese refleksie op die estetika-diskoers

ABSTRACT

Aesthetics and Liturgy – A Practical Theoretical Reflection on the Aesthetics Discourse

Against the back drop of a basis theory on esthetics and liturgy, this article applies the principles identified in a previous article to the practical implications within the context of the worship service. Qualitative research tests the use of a painting in a congregational setup. The results of this exercise concur with the indications of the literature study, namely that the use of art in liturgy should be welcomed, but not without the necessary care and theological responsibility.

1. INLEIDING

In ’n sekere sin was die gereformeerde kerke in Suid-Afrika aanvanklik onbewus van en later beskermend teen die effek van die liturgiese beweging aan die begin van die twintigste eeu. Dit is klaarblyklik eers ná die verskyning van die Handboek vir die Erediens in 1988 dat grondige herbesinning oor die erediens geïnisieer is (Strauss 1994:91-95). Die gevestigde liturgiese tradisies is beskerm en in stand gehou en lidmate het dit meesal so aanvaar. Aan alternatiewe vorme van aanbidding is hulle nie blootgestel nie, omdat dit so te sê “verbode” was om dienste van ander kerke by te woon. Daarom was daar ook nie ’n sterk verlange na liturgiese vernuwing nie.

Toe lidmate egter al hoe meer charismatiese en pentakostalistiese dienste saam met familie of vriende begin bywoon, het hulle bewus geword van ’n ander soort lofprysing, liturgiese orde (of gebrek daaraan) en rituele. Dit het ’n groeiende onvergenoegdheid met verstarde liturgiese gebruike te weeg gebring. Die aandrang op liturgiese vernuwing het al hoe groter geword. Strauss (1994:92- 93) meen dat die herwaardering van kuns direk met die Liturgiese Beweging verbind kan word.

’n Tweede faktor het daartoe gelei dat lidmate van gereformeerde kerke aan meer aanbiddingsmoontlikhede blootgestel is. Vroeër kon weinig lidmate van gereformeerde kerke dit bekostig om Europa te besoek. Die Middeleeuse aanbiddingswyse en die luisterryke liturgiese ruimtes in die vorm van manjifieke katedrale met ongekende rykdom en visuele beelde (ikone, skilderye, ens.) was vir hulle ontoeganklik. Wie egter die voorreg gehad het om die luister van Europa se aanbiddingsplekke te besoek, sal onmiddellik bewus word van moontlikhede wat om teologiese redes nooit in hulle verwysingsraamwerk bestaan het nie. Kuns, ikone en beelde in kerke? Mag dit wél? Hoe rym dit met die implikasies van die tweede gebod? Kan dit ooit in ’n gereformeerde aanbidding plek kry? Omdat daar al hoe meer vanuit teologiese kant oor verskeie aspekte van liturgiese vernuwing besin word, is die aangeleentheid van kuns en liturgie nou ook onafwendbaar op die gereformeerde tafel. Die rol van metafore, simbole en ander regter- breinfenomene en aktiwiteite word in resente liturgiese vakliteratuur al hoe meer beklemtoon (sien bv. Barnard en Post 2001). Die derde rede waarom die plek van visuele middele in die aanbidding al hoe meer akuut onder die aandag kom, is sekerlik die ongekende, onkeerbare en snelontwikkelende tegnologie van die visuele. Rolprente met spesiale effekte, aangehelp deur rekenaartegnologie, skep vir die postmoderne mens van die 21ste eeu ’n vreesaanjaende maar tóg fassinerende werklikheid. Phan (2003:58) noem die visuele tegnologie ’n paradigmatiese kenmerk van die postmoderne tyd. Die liturgiese konteks kan aan die suigkrag hiervan nie ontkom nie. Die paradigmaskuif weg van ’n deduktiewe na ’n induktief-hermeneutiese benadering het daartoe gelei dat aanbidders nie meer uitsluitlik wil (moet) luister nie, maar sélf wil sien en beleef (Cilliers 2004:5-6).

Dit is veral Baudrillard (1983:99,133; 1988:72) wat met sy hiperrealisme (“larger than life”, 1983:2) die invloed van televisie op die lewenstyl en kwaliteit van die mens in die proses van globalisering geïllustreer het. Tuisvideos, die tegnologie van DVD, die internet en videospeletjies plaas ons in ’n visuele kultuur (Poster 1990: 115-121; Smart 1992: 126-136).

Die postmoderne mens, dit wil sê die mens wat in die postmoderne era deur die evangelie bereik moet word (Janse van Rensburg 2002:42-44) is nou eenmaal en onherroeplik aan die visuele stimulasie uitverkoop.

2. PROBLEEMSTELLING

Die postmoderne mens, wat van Maandag tot Saterdag aan hierdie visuele wêreld blootgestel word, stap Sondagoggend die kerk binne. As die visuele nie op een of ander (verantwoordelike) wyse in die erediensliturgie voortgesit word nie, sal lidmate al hoe meer voel asof hulle ’n vreemde wêreld betree. Dit konstitueer juis een van die grootste foute wat die kerk in die fasilitering van aanbidding kan maak. As die kerk nie daarin kan slaag of daarop ingestel is om die liturgie kontekstueel te maak nie, sal dit nie alleen die erediens tot ’n vreemde en onnatuurlike ervaring verlaag nie, maar sal dit ook in terme van die lidmate se belewing van die erediens werklikheidsvreemd en irrelevant wees (Hoon 1971: 30, 41, 72; Kloppers 2003b:75).

Speelman (2001:125) gaan so ver as om ’n “omroeppastoraat” te bepleit, waarin die radio en televisie benut kan word om die kerk nader aan die mense te bring en só as verlengstuk vir die erediensliturgie te dien. Die impak van talle TV-produksie met lofprysing (“gospel”) en volwaardige eredienste is alreeds ’n gegewe, terwyl ’n verskeidenheid van rolprente oor die lewe van Christus (“The Passion of the Christ”) en die evangelies (bv. “Matthew”) die visuele ’n integrale deel van Christene se geloofsbelewing gemaak het. In talle gemeentes word gereeld snitte van rolprente oor Christus se lyding as deel van die liturgie en spesifiek die Woordverkondiging benut. Dit is dus begryplik dat Webber reeds in 1985 waargeneem het dat daar ’n terugkeer na die gebruik van kuns in aanbidding is (1985:22).

By Tracy (1994:9) kom daar egter ’n kontrasterende fenomeen by. Hy meen dat die tegnologiese visuele middele die kuns gemarginaliseer het. Die navorser se betrokkenheid by die kunswêreld bevestig hierdie oortuiging. Kuns het die belang van ’n klein elitegroep geword. Die meerderheid van die bevolking se kunsgevoel word deur afdrukke van kunswerke of rekenaargemanupileerde skilderye tevrede gestel, waar dit dienstig gemaak word om leë huis- en kantoormure te vul, teen ’n baie goedkoper prys natuurlik. Verder word die visuele honger gestil deur die skrikwekkende hiperrealistiese rekenaar-gemanupileerde tegnologie in videospeletjies en rolprente soos “The Matrix”. Die vraag ontstaan dus of die kerk se herontdekking van die kuns as kommunikasiemedium vir liturgiese doeleindes nie ook, soos in die Middeleeue, tot die bevordering van goeie kuns aanleiding kan gee nie.

Wat Louw (2000:30-34) oor globalisering, ekonomie en die internet skryf, is ook hier van toepassing. Hy pleit vir ’n “critical engagement” in plaas van ’n hermeneutiek van agterdog. Eerder as om die wêreld en werklikheid van die visuele tegnologie te ontken, te bestry of te ignoreer, sal die kerk eenvoudig hierop moet reageer. Kritiese refleksie veronderstel egter dat die navorsing tóg ook met jaloesie sal waak oor die mees fundamentele beginsel van die gereformeerde liturgie, naamlik die sentraliteit van die Woord. Is daar nie ’n gevaar dat die visuele op die lang duur die sentraliteit van die Woord kan verdring of kan kortwiek nie? Hoewel Marcel Barnard (2001:123) meen dat daar geen rede is om hiervoor te vrees nie, is dit egter nie so ’n eenvoudige saak nie, soos reeds uit die basisteoretiese diskoers geblyk het.

3. HIPOTESES

Die aard van die probleemstelling presipiteer ’n aantal navorsingsvermoedens, wat soos volg geformuleer kan word.

3.1 Die gebruik van kuns in die gereformeerde aanbidding is nie noodwendig ’n terugkeer na die Roomse liturgie nie en ook nie noodwendig ’n bedreiging vir die gereformeerde karakter van die erediens nie.

3.2 Die gebruik van kuns in die gereformeerde erediens vra deeglike besinning en beplanning.

3.3 Kuns as visuele kommunikasiemedium bied talle moontlikhede om die lidmate se liturgiese belewing te versterk, sonder dat dit noodwendig die Woordkarakter van die gereformeerde liturgie in gedrang hoef te bring.

3.4 Daar is waarskynlik ’n hele aantal teologiese en praktiese gevare verbonde aan die liturgiese inkorporering van kuns.

4. METODOLOGIE

Die navorsing steun grootliks op literatuur wat die gereformeerde karakter van die erediens omvattend en genoegsaam omskryf het. Hoewel daar soms redelike verskille is oor wat ’n gereformeerde liturgie is en hoe liturgiese vernuwing binne ’n gereformeerde spiritualiteit kan figureer (cf. Janse van Rensburg 2004), is daar in die algemeen redelike konsensus oor die aard van ’n gereformeerde erediens. Sonder om dit alles weer uitvoerig te bespreek, word hierdie gemene basis as uitgangspunt geneem.

Die navorsing maak ook van ’n uitgebreide literatuurstudie gebruik, hoewel daar ongelukkig nog nie veel oor estetika, kuns en liturgie gepubliseer is nie, veral nie vanuit gereformeerde kring nie. Die navorser het ook ’n uitgebreide reis deur Europa onderneem om ’n verskeidenheid katedrale en kunsgalerye te besoek. Hierdie waarneming word aangevul deur literatuur uit die kunsgeskiedenis.

Die navorsing bevat laastens ook ’n kwalitatiewe komponent. Die navorser (wat ook ’n skilder is) het met sy terugkeer na Suid-Afrika en onder inspirasie van kunstenaars soos Carravagio en Rembrandt ’n skildery van die graftoneel gemaak waar Maria, die moeder van Jesus van die gestorwe liggaam van Christus afskeid neem, ondersteun deur Johannes. Die navorser beplan om die skildery voor in die portaal van die gemeente waar hy predikant is, te plaas, sodat lidmate dit sal sien wanneer hulle die kerk vir die erediens betree.

Aanvanklik was die gedagte dat dit tydens Paasfees uitgestal sou word, maar aangesien daar nie op die Saterdag na Goeie Vrydag ’n erediens is nie en dit onvanpas sou wees om ’n graftoneel op Paassondag uit te stal, is besluit om dit tydens ’n nagmaalgeleentheid te gebruik. Die tema van dienagmaal en die skildery is dan: “Dit is my liggaam, vir jou”! Die navorser beplan om deur middel van ’n vraelys die lidmate se ervaring van die gebruik van ’n skildery tydens ’n erediens te toets.

5. NAVORSINGSDOELWITTE

Die doel van die navorsing is om kuns en liturgie as ’n subtema van liturgiese vernuwing, wat in die Suid-Afrikaanse liturgiese konteks nog nie genoeg aandag gekry het nie, op ’n verantwoordelike wyse teologies te verreken. Dit is makliker om die aangeleentheid te ontduik as om na antwoorde te soek. Volstruispolitiek loop egter die gevaar om die gereformeerde liturgie van betekenisvolle vernuwing te beroof. Die navorsing wil egter juis ook teen ’n ongebreidelde en ondeurdagte gebruik van kuns in liturgie wal gooi. Dit word dus in die vooruitsig gestel dat enkele merkers vir die gebruik van kuns in die liturgie uit die navorsing sal kulmineer.

6. KUNS, LITURGIE EN DIE TWEEDE GEBOD.

Die gebruik van kuns in die liturgie roep natuurlik die hele beeldestryd in die kerkgeskiedenis op en staan in die skaduwee van interpretasies van die Tweede Gebod. Calvyn (Instutusie Boek 1, hoofstuk XI, par. 13:101) betoog dat die kerk in die eerste vyfhonderd jaar in die afwesigheid van beelde gefloreer het. Hy meen, met ’n beroep op 1 Johannes 5:21, dat nie net die beeldediens nie, maar die beelde sélf as afgode verwerp moet word. Daarbenewens is geen ander beelde in die kerk nodig nie behalwe dié wat God sélf gegee het, naamlik die doop en nagmaal.

’n Mens verskil moeilik van Calvyn, maar ongelukkig is sy motivering in hierdie geval nie oortuigend of deurslaggewend nie. Calvyn neem byvoorbeeld nie in aanmerking nie dat die verbondsark en die tempel ryk aan beelde en versierings was. Die engele op die deksel van die verbondsark moes juis ’n visuele voorstelling gee van die heiligheid van God.

Weliswaar het die liturgiese diens in die tempelkultus met die hemelvaart van Jesus Christus in absolute vervulling gegaan (Hebr.9:24). Die punt is egter dat die aanbiddingsbeginsels wat vir die ou verbond gegeld het, nie opgeskort is nie. Die handelinge van die tempeldiens, byvoorbeeld die besnydenis, reinigingsrituele, die offerandes, en so meer, kan geen plek in ’n Nuwe Testamentiese aanbiddingsgebeure kry nie. Maar die beginsels bly steeds geldig. Daarom beklee die genadeverkondiging en reiniging deur die offerande van Jesus, die Lam van God, ’n prominente plek in die nuwe verbond. So ook die verbondswet as onmisbare deel van ’n gereinigde lewenswandel en die offergawe as simbool van die offer van ons hele lewe aan God se diens.

Daarbenewens lê Heyns (1986:364-365) klem op die volledige menslike natuur van Jesus Christus wat as regverdiging vir kunsvoorstellings van die Seun van die Mens mag dien. Immers, voorstellings probeer nie die werklikheid weergee nie, maar wys heen na die transendente werklikheid wat dit verteenwoordig. Die navorser vereenselwig hom met hierdie uitgangspunt.

7. KUNS IN LITURGIESE KONTEKS

Dit is bekend dat Calvyn teen allerlei liturgiese tendense en gebruike gewaarsku het wat die sentraliteit van die Woord verdring en aan die Roomse misliturgie ’n nuwe houvas kon gee. Kerse en kore (wat beide as visuele kunsvorm beskou kan word) was dus taboe.

Calvyn se waarskuwing om nie na die Ou Testamentiese offerdiens of die Roomse mis terug te keer nie, geld nog steeds vandag en ’n waarskuwing in hierdie verband durf nie as ’n vorm van nieu-Calvinisme afgemaak te word nie. Die gesprek mag egter nie dáár stol nie. Vanuit ’n Metodistiese agtergrond is die bydrae van Paul Hoon betekenisvol en uiters belangrik. Daarom word ruim plek aan sy standpunt afgestaan. Hy waarsku teen die estetiese verabsolutering in die liturgie en die korrupterende effek wat dit op die karakter van aanbidding kan hê (Hoon 1971:63). Wanneer estetisisme, soos hy dit noem, in die erediens outonoom figureer, kaap dit die Christelike liturgie vir sy eie selfverheerliking. Dit lei daartoe dat kuns waardeer en verheerlik word, en nie meer God nie. Só word die doel van liturgie verongeluk en word kuns dan dienstig gemaak om God net as “mooi” te beleef en nie ook as heilig nie. God wat glimlag is dan esteties meer aanvaarbaar as God wat handel (Hoon 1971:69). Natuurlik is die idee van ’n glimlaggende God nie verkeerd nie (vergelyk ook Cilliers se verwysing na ’n skildery van die laggende Christus,

2002:22), maar wanneer die estetisisme nie ruimte laat vir die besef dat God ook heilig is nie, staan kuns in ernstige konkurrensie met die liturgie. Só ’n godsbeeld is oneg, “And worship whose forms offend may more authentically enable man to meet God than worship which only gives pleasure” (Hoon 1971:70).

Verabsolutering van kuns vind plaas wanneer die aandag van die gemeente op die skone van die kuns gevestig word, in plaas daarvan dat kuns dienstig aan die liturgie word, naamlik om die aandag op God te rig. Dit gebeur wanneer die kunstenaar en sy mooi stem of mooi skildery die aandag en lof kry, in plaas daarvan dat dit die gemeente help om God te verheerlik.

Natuurlik verteenwoordig dit ’n radikale dwaling wanneer kuns die liturgiese doel mis en selfs ondergrawe. Maar ook hier geld die beginsel: abuses non tollit usum (“Die misbruik hef die gebruik nie op nie”). Hoon (1971:65-67) meen tereg dat dit die vrees vir estetisisme was wat die Protestantse kerke gemotiveer het om die rug op kuns as liturgiese hulpmiddel te keer. Dit het daartoe gelei dat die mens se natuur as homo esteticus ontken is. Lidmate is eenvoudig gedwing om alleen op hulle intellek (linkerbreinfunksionering) staat te maak ten einde die liturgiese proses te deurleef of te oorleef. Die gevolg van hierdie miskenning was dat kuns in die golf van vernuwing op ’n ondeurdagte en onverantwoordelike wyse al hoe meer in die aanbidding ingetrek is, omdat die mens se regterhemisfeerfunksionering eenvoudig nie ontken kan word nie (Webber

1985:89). Die ondeurdagte wyse waarop kuns in die vernuwingsbeweging in die liturgie ingevoer is, het nie alleen katastrofale gevolge nie, maar bedreig ook die verantwoordelike gebruik daarvan.

In die lig van hierdie wesenlike gevare konkludeer Hoon (1971:67) egter: “Nevertheless, liturgical thinking in many free churches is failing to distinguish between the contribution which art as function can make to worship and the substantive corruption which art, as a way of experiencing reality and as an autonomous statement of the nature of reality, projects into worship”.

In hierdie opsig wil Hoon (1971:64) van liturgiese kuns praat. Dit gaan dus nie maar net om kuns met ’n godsdienstige of Bybelse strekking wat in die liturgie ingevoer word nie, maar om kuns wat liturgies funksioneel is. Funksionele elemente sluit die volgende in: kerugmaties (wat aan die konfronterende karakter van die Woordbediening gestalte gee), sakramenteel (in die metaforiese sin van die word), koinoniaal (ter versterking van die belewing van die gemeenskap van die gelowiges) en narratief (as anamnese). Webber lê veral en gedurig op die narratief klem (1985:95). Dit open nie alleen die deur vir die erkenning van narratiewe prediking nie, maar lê meteens ook die verband tussen prediking en kuns. Liturgiese kuns kan dus nie slegs esteties diensbaar wees as versiering nie. Dit moet ’n visuele vertelling wees van wat die Woord kommunikeer. Die wonderlike skilderye in die liturgiese ruim van Europese katedrale is hiervan

’n sprekende voorbeeld. Toe die Woord nog grootliks vir lidmate ontoeganklik was, het die visuele inbeelding van manjifieke en magistrale skilderye die verhaal van Christus se geboorte, wonderwerke, lyding, sterwe en opstandig vertel. Sodoende is die aanbidder se gees tot God verhef. Daarmee is die tema van die historiese konteks van liturgiese kuns aan die orde gestel. ’n Mens kan selfs wonder of die uitbeelding van Bybelse narratiewe in kuns nie ook in ons dag nodig geword het om lidmate te stimuleer om in die Skrif die verhale te gaan lees nie. Immers, talle lidmate lees nie meer die Bybel nie maar verkies om kort dagstukkies te lees.

8. KUNS EN LITURGIE IN HISTORIESE KONTEKS

’n Besoek aan ’n Europese of Russiese katedraal kan vir enige Christen ’n oorweldigende ervaring wees. Webber (1985:173) verwys na sy ervaring van oorbluftheid tydens ’n besoek aan die Holy Trinity katedraal in Moskou. Insgelyks sal die oorweldigende emosies wat ek sélf tydens my Europese besoek aan ’n groot verskeidenheid katedrale beleef het, my altyd bybly.

Maar Webber vertel in die daaropvolgende bladsye ook van ’n besoek aan ’n klein kerkie wat deur soberheid en ’n afwesigheid van glorie en weelde gekenmerk is. Sy ervaring van aanbidding, vertel hy, was nie in die sober liturgiese ruimte van ’n klein kerkie minder intens as in die Holy Trinity Katedraal nie.

Webber verbind die twee liturgiese ruimtes aan die Roomse en Ortodokse tradisie enersyds en die Protestantse tradisie andersyds. Of dit wél ’n werklikheidsgetroue verdeling is, kan betwyfel word aangesien kerke in Suid-Afrika in die Protestantse tradisie ook van luister en weelde getuig, weliswaar minder uitspattig en meer sober as in die Europese katedrale. Met verwysing na Luther en Calvyn se uiteenlopende uitgangspunte oor aanbidding, kom Webber (1985:177) tot die gevolgtrekking dat die ortodokse tradisie in die kontemporêre vernuwingsbeweging gefasiliteer is deur Luther se beskouing dat enige iets wat nie deur die Skrif verbied is nie en liturgies- funksioneel is, in die aanbidding gebruik kan word. Die Protestantse tradisie van verset teen simbole, rituele en kuns kan weer terugherlei word na Calvyn se vertrekpunt dat alles wat nie uitdruklik deur die Skrif as vereistes vir aanbidding gestel word nie, ontoelaatbaar is.

Hoewel daar dus nie in die Calvinistiese tradisie enige fundering vir die gebruik van kuns in aanbidding gevind kan word nie, kan die behoefte aan en die ontwikkeling van ’n liturgiese kunsgevoel nie langer ontken of gekeer word nie (Webber 1985:183). Vir ons diskussie is dit natuurlik belangrik om vas te stel of daar bewyse vir die gebruik van voorwerpe in die aanbiddingskultus van die vroeë Christelike kerk bestaan.

Marcel Barnard (2001:117-122) neem sy uitgangspunt in die skepping en beredeneer vanuit die tweede gebod dat daar ’n ambivalensie is tussen die verbod om van God afbeeldinge te maak omdat Hy die onsienlike is, en die talle metaforiese beelde wat God van Homself in sy Woord aan ons voorhou. Hy verwerp dan Van der Leeuw se standpunt dat alle beelde ’n oortreding van die tweede gebod is. Beelde en rituele is in sy denkraamwerk daarom nie verwerplik of liturgies onbruikbaar nie. Inteendeel, dit vind ’n anker in die Ou Testamentiese tempeldiens. Dit is juis die ooreenkoms tussen die ordelike karakter van kuns en die ordeningshandeling van God in die skepping wat aan die gebruik van kuns ’n skeppings- en dus ’n Ou Testamentiese fundering gee (Webber 1985:183)..

In dieselfde trant is White (1984:148) van mening dat die vrees vir afgodery nie die vroeë Christelike kerk verhinder het om voorwerpe vir liturgiese doeleindes aan te wend nie. Die eerste Christene is deur hulle kennis en belewing van die transendensie van God verhinder om die goddelike met die liturgiese voorwerpe te identifiseer of te verwar. Voorwerpe vir aanbidding het dus nooit voorwerpe van aanbidding geword nie. Só was daar dan geen werklike gevaar van afgodery nie, meen White.

Marcel Barnard (2001:118) wil ook nie deur ’n vrees vir Roomse beelde-aanbieding oorheers word nie. Die geskiedenis toon dat daar in die kerk altyd van representatiewe simbole soos die kruis gebruik gemaak is. Natuurlik veronderstel dit nie ’n gevoelloosheid teenoor die beeldestryd tussen die stormers en die aanbidders nie. Die dwaling wat deur die gebruik van ikone in stand gehou is, bly ’n reële en skrikwekkende werklikheid. Dit was nie nodig om die ikone te wy nie, aangesien die tema wat deur die ikone voorgestel is, aan die ikone ’n natuurlike wyding verleen het. So het die ikone ’n aanbiddingswaardige heiligheid ontvang. Aan die ander kant meen Barnard (2001:120) dat die Westerse teologie nie werklik hierdie beeldestryd ken nie en dus nie oormatig sensitief vir die liturgiese benutting van beelde en skilderye, simbole en rituele hoef te wees nie.

9. KUNS EN LITURGIE IN GEREFORMEERDE KONTEKS

Die navorser gaan uit van sy reeds gestelde standpunt (Janse van Rensburg 2004:47-50) dat ’n gereformeerde liturgiese tradisie nie sonder meer met ’n gereformeerde liturgie en spiritualiteit gelyk gestel kan word nie. Wat as liturgiese gebruike in die historiese ontwikkeling van die gereformeerde erediens gestalte gekry het, is kosbare erfgoed maar dit is nie onveranderlike groothede nie. Getz (197436-37) onderskei tussen funksie en vorm in die Skrif. Die funksie of beginsels is konstantes, maar die Skrif bied nie vaste vorme vir alle tye en kulture nie (Sien ook Vos 1997:29). Ek wil dieselfde beginsel hier toepas. Die liturgiese tradisie is die vorm waarin die gereformeerde vaders aanbidding in die verlede gegiet het. Dit was dienstig en kosbaar vir ’n bepaalde periode en die funksie (gereformeerde spiritualiteit) daarvan moet ten alle koste behou en voortgesit word. Dit kan egter nie beteken dat die liturgiese vorm vir alle tye vas en onveranderlik moet wees nie. Toegepas op die onderhawige diskoers, sal ons moet sê dat die afwesigheid van kuns in die gereformeerde tradisie ons nie daarvan mag weerhou om in ’n nuwe kulturele konteks die wenslikheid daarvan vir die erediens te ondersoek en op verantwoordelike wyse aan te wend nie. Die handhawing van die funksie van ’n gereformeerde liturgie sal egter vereis dat aan die gereformeerde spiritualiteit, soos weerspieël in die sentraliteit van die Skrif, die erediens as verbondsontmoeting en die vier Sola’s, geen afbreek gedoen word in die benutting van kuns in die erediens nie.

10. PRAKTIESE OORWEGINGS

Benewens die gereformeerde vereistes vir die erediens is daar ook ’n aantal praktiese oorwegings wat in die lig van die basisteoretiese besinning in aanmerking geneem sal moet word:

10.1 Die plek en wyse van benutting van kuns in die erediens moet met groot verantwoordelikheid en omsigtigheid beplan en uitgevoer word. As kunswerke gebruik word, moet besluit word waar die beste plek is om dit te gebruik. In die algemeen sou die liturgiese ruimte die mees vanselfsprekende plek wees. Die neiging om op grond van ’n gereformeerde tradisie die liturgiese ruimte teen liturgiese voorwerpe te wil beskerm omdat dit die aandag van die Woord kan aftrek, moet verreken maar nie verabsoluteer word nie. Immers, kanselklede het lankal nie meer net ’n teksverwysing nie. Uitbeeldings in die vorm van kruise, sterre, duiwe, beker en druiwe het reeds ’n algemene verskynsel op kanselklede geword. Daar kan dus in beginsel nie beswaar wees teen die benutting van kuns in die liturgiese ruimte nie. Daar skuil egter tog wél ’n gevaar. As die betrokke kunswerk om die een of ander rede vir lidmate aanstoot gee of ’n probleem is, kan dit die vermoë om vrymoedig en ongehinderd te aanbid, vir daardie lidmate uiters bemoeilik. Daarom is dit raadsaam om eers die aanvaarding van die kunswerk as sodanig te toets voordat dit op so ’n prominente plek as die liturgiese ruim (bv. teen die kanselmuur) geplaas word. Dit is uiters noodsaaklik dat die kerkraad en gemeente in hierdie opsig saam moet beweeg.

10.2 Die aard van estetika as interpretasie moet deeglik in die benutting van kuns verreken word. In die basisteoretiese gedeelte is daar reeds verwys na die invloed van postmoderne filosowe soos Derrida en Adorno wat in die strewe na ’n ondergrawing van een waarheid en een norm vir almal, die een geldige interpretasie van die werklikheid deur die estetika wil dekonstrueer. Waar hierdie postmoderne invloed reeds op die kerk, teologie en liturgie ’n invloed het, sal die liturgiese uitkomste aansienlik anders wees. As die liturg ’n postmoderne oriëntasie het, sal ’n wye interpretasiemoontlikheid in liturgiese kuns toegelaat word. Dan word dit aan die waarnemer/aanbidder oorgelaat om sélf te bepaal wat die boodskap van die betrokke kunswerk is. Teenoor so ’n induktief-hermeneutiese benadering staan ’n meer deduktiewe benadering, waarin kuns dienstig gemaak word aan ’n baie spesifieke en beperkte boodskap wat nie vir ander interpretasies vatbaar is nie. Dit is vanselfsprekend dat abstrakte kuns in ’n hermeneutiese benadering meer geredelik aanvaar sal word as in ’n deduktiewe benadering tot die benutting van kuns. Natuurlik hoef ’n deduktiewe benadering nie teenoor ’n induktiewe benadering te staan nie. Dit sal egter impliseer dat die estetiese beginsel van interpretasie in ’n induktiewe benadering nie ongebreideld gehandhaaf kan word nie. Immers, dan kan enige iets in die kunswerk ingelees word. Só word die kreatiewe aspek van sowel die liturg as die lidmate oorspan en die sentraliteit van die Godsopenbaring in gevaar gestel. In die bespreking van Cilliers se standpunt in die basis-teoretiese studie is reeds op hierdie gevaar gewys. Die hoë graad van individuele voorkeur vir en persepsie van kuns moet gedurig in gedagte gehou word. Dit impliseer onder andere dat die beoordeling van ’n kunswerk met die oog op liturgiese gebruik ander vereistes sal stel as die kritiese evaluering van kunswerk in die historiese-estetiese sin van die word (Danto 1992:39-42). As kuns die mees individuele ekspressie van die mees individuele emosie is (sien Doherty 2005:58-59), sal dit ook beteken dat die aanvaarbaarheid van kuns van lidmaat tot lidmaat mag verskil. Hier kan dit nie gaan om die meerderheid se voorkeure nie. Immers, as één lidmaat in sy of haar aanbidding deur die kuns in die erediens afgesit word, sal die kerk die gebruik daarvan in sy geheel of die bepaalde aanwending daarvan in besonder moet heroorweeg. ’n Geval is aan die navorser bekend van lidmate wat in ’n sekere gemeente in Bloemfontein geweier het om die erediens by te woon solank ’n sekere kunswerk (Jesus wat die voete van sy dissipels was) in die liturgiese ruim van die kerk vertoon word. Dit is duidelik dat die betrokke kunswerk baie sterk afwysende emosies by die waarnemer gepresipiteer het. Natuurlik kan emosie, in die positiewe vorm van plesier of die negatiewe vorm van pyn, nie selfstandig as kriterium vir die estetika geld nie, maar Groce (1922:75-77) erken dat emosie saam met ander kriteria tog wél ’n rol speel. Geen kunswerk is dit werd dat mense in hulle aanbidding verhinder mag word nie. Pastorale sensitiwiteit is dus van die uiterste belang waar sterk afwysende emosies deur ’n kunswerk opgewek word. Aan die ander kant sal dieselfde beginsel ook impliseer dat die doel van liturgiese kuns nie slegs kan wees om te plesier of genot te verskaf nie. Liturgiese kuns kan ook skok en gevoelens van ongemak veroorsaak sonder dat dit noodwendig die kunswerk liturgies onbruikbaar hoef te maak. Hoon (1971:70) vind juis die funksionaliteit van kuns in die effek wat dit op die aanbidder het. Kuns wat aanstoot gee kan dus soms meer effektief wees om ’n liturgiese doel te bereik as kuns wat streel.

10.4 Elektroniese media (bv. ’n dataprojektor) maak dit moontlik om beeldmateriaal op ’n skerm te gooi terwyl daar gesing of gepreek word. Nie alle lidmate beleef dit egter positief nie. In dieselfde gemeente as waarna in die vorige punt verwys is, het lidmate tydens ’n gemeentekonferensie getuig dat hulle dit sinneloos en steurend vind as daar allerlei natuurtonele (hoe mooi ook al) op die skerm gegooi word wat op geen wyse met die inhoud van die sang of Skriflesing verband hou nie. Tydens die predikantekonferensie in 2005 te Bloemfontein is die sang (wat andersins aangrypend was) met ’n aanhoudende projeksie van skilderye en ander beeldmateriaal op die skerm langs die woorde van die liedere geprojekteer. Die konsentrasie op die betekenis van die woorde en die spiritualiteit wat dit veronderstel was om te presipiteer, is in die ervaring van die navorser geweld deur hierdie beeldmateriaal aangedoen. Jy kon nie help om na die geprojekteerde beeld te kyk nie. Soms het dit jou opgeval dat dit ’n mooi of minder mooi skildery is, sodat die konsentrasie op die woordbetekenis in die sang uiters bemoeilik is. Waar kunsbeelde so gebruik word, is dit nie dienstig aan die liturgiese doel nie en moet dit liefs gelaat of anders aangewend word

10.5 Die historiese, sosiale en gereformeerde konteks van die gemeente moet deeglik in die beplanning en gebruik van kuns in die erediens in aanmerking geneem word. ’n Stedelike gemeente mag dalk (maar ook nie noodwendig nie) makliker met sekere kunsbeelde vrede hê. Daarenteen sal ’n boeregemeenskap in die platteland met ’n sterk nasionalistiese tradisie waarskynlik heftig reageer teen ’n skildery van ’n swart gekruisigde Christus op ’n heuwel in Soweto, al sou die estetiese (interpretatiewe) intensie duidelik wees. Dieselfde sou kon gesê word van ’n onlangse skildery van Christus wat aan VIGS ly, kompleet met sere aan sy lyf, om Jesus se solidariteit met dié wat aan VIGS ly, te illustreer. In die basisteoretiese deel is reeds aangetoon dat die estetiese (interpretasie van die werklikheid) nie ten koste van die liturgiese doel oorspan mag word nie. Dit mag dus goeie estetika wees, maar slegte liturgie. Uit voorafgaande is dit duidelik dat die estetika nie in ’n vakuum beoefen mag word nie. Sistemiese verbande sal verreken moet word. Redfern (1986:23) stel dit duidelik: “Yet, it is a common experience, and one that might be thought important in education, that a good many art works enlarge and ellumine our understanding of all sorts of issues – social, moral, political, psychological, etc.”

11. KWALITATIEWE ONDERSOEK

11.1 Die gemeente

The Dutch Reformed Church Andrew Murray is ’n klein Engelstalige multikulturele gemeente van die NG Kerk in Bloemfontein. Die gemeente het ’n honderd lidmate met enkele besoekers wat gereeld die eredienste bywoon. Demografies is die lidmate se gemiddelde ouderdom ongeveer 60 jaar met weinig jong mense en minder as 25 klein kinders. Geografies strek die gemeentegrense oor die hele Bloemfontein en betrek alle woonbuurtes.

11.2 Die skildery

Die skildery (Bylaag 1) is geïnspireer deur ’n skildery van die Franse skilder Champagne en twee ander skilderye van Carravagio. By die aanskoue van die skildery van Champagne in die Louvre (Parys) het dit by die navorser ’n besondere indruk gelaat van die liggaam van Christus wat vir ons gebreek is, tot ’n volkome vergifnis van ons sonde (instellingswoorde by die nagmaal). Sou dieselfde reaksie deur die navorser se skildery by lidmate gepresipiteer word? Daar is besluit om die skildery nie in die liturgiese ruim te plaas nie, maar voor in die portaal waar lidmate die kerk binnekom.

11.3 Die vraelys

Die doel van die kwalitatiewe ondersoek was hoofsaaklik om die effek van ’n skildery op lidmate se liturgiese belewenis te bepaal. Hoewel van ’n vraelys gebruik gemaak is, is die stellings ontwerp om gesindheid en reaksie van die waarnemers te toets. As sodanig voldoen dit aan die vereiste vir kwalitatiewe navorsing terwyl dit ook aan die beginsel van estetika as die handeling van interpretasie reg wil laat geskied. Die vraelys (Bylaag 2) wat tydens ’n bepaalde erediens aan lidmate uitgedeel is om hulle reaksie op die skildery van die gestorwe liggaam van Christus te toets, is in lyn met hierdie doel opgestel. Daar is vier stellings waarop lidmate met ’n moontlikheid van vyf keuses kon reageer. Die vier stellings was soos volg:

11.3.1 The painting of the burial of Christ made the impression of the sacrifice of his body and blood for me more real.

11.3.2 The painting made me uncomfortable.

11.3.3 The painting supported the theme of the sermon: This is my body.

11.3.4 Art could sometimes have a place in liturgy.

Die vyf keusemoontlikhede (sien Bylaag 2) is ontwerp om aan die lidmaat die wydste moontlike respons te bied wat sy/haar individuele ervaring by die aanskoue van die skildery sou reflekteer. Vyf en twintig vraelyste is vir die doel van die navorsing gebruik.

11.4 Die resultate

11.4.1 Stelling een

Op die eerste stelling het 17 respondente met beslistheid (definitely true) geantwoord. Dit verteenwoordig 68% wat deur die skildery beslis ’n meer realistiese begrip van die offer van Christus beleef het. Daarbenewens het nog 5 (20%) respondente redelik instemmend op die eerste stelling gereageer (true to some extent). Daar was een respondent (4%) wat op die stelling negatief gereageer het (not true) terwyl 2 (8%) respondente verklaar het dat die skildery geen effek op hulle gehad het nie.

11.4. Stelling 2

Die tweede stelling wou toets of die skildery van Christus se gestorwe liggaam die waarnemer ongemaklik laat voel het, ongeag of die ongemak deur die semi-naaktheid en gebrokenheid van die liggaam veroorsaak is of deur die feit dat dit die liggaam van Christus voorgestel het . By ses respondente (24%) het die skildery beslis ongemak veroorsaak. Een van hierdie respondente het die ongemak as “hartseer” (“sad”) gekwalifiseer. Nog sewe (28%) het in ’n mate ongemak beleef. Tien respondente (40%) het nie enige ongemak by aanskoue van die skildery beleef nie, terwyl nog 2 (8%) verklaar het dat hulle nie regtig ongemaklik gevoel het nie.

11.4.3 Stelling 3

Die grootste meerderheid van respondente, naamlik 17 (68%) was van mening dat die skildery die tema van die preek (Dit is my liggaam, vir jou) versterk het. Nog 5 (20%) het gemeen dat dit in ’n mate die preek versterk het terwyl 3 (12%) respondente gemeen het dat dit nie regtig ’n bydrae tot die prediking gelewer het nie.

11.4.4 Stelling 4

Slegs een persoon (4%) was van mening dat kuns nie regtig ’n plek in die erediens het nie. Ses (24%) meen dat die stelling in ’n mate waar is. ’n Oorweldigende meerderheid van 18 (72%) was oortuig dat kuns wél soms in die erediens ’n plek behoort te hê.

11.5 Bespreking van die gegewens

As al die gegewens gesamentlik geïnterpreteer word, is dit duidelik dat daar in die algemeen ’n positiewe respons op sowel die betrokke skildery as die gebruik van kuns in die algemeen in die erediens was. Dit is egter ook duidelik dat persoonlike ervaring, soos aanvanklik vermoed is, verskillend is en wissel van matig ongemaklik tot redelik sterk afwysend. Hoewel hierdie komponent verreweg in die minderheid is, moet onthou word dat ons hier nie van koue statistieke praat nie, maar van erediensaanbidders. Die kwalitatiewe ondersoek bevestig die vermoede dat ’n onoordeelkundige hantering van kuns ’n betekenisvolle invloed op lidmate se aanbidding mag hê. Wat in statistieke uitgedruk word, kan egter nie so maklik in praktiese interpretasie omgesit word nie. Beteken dit dat, omdat ’n sekere persentasie (al is dit hoe klein) ongemak beleef of selfs negatiewe ervarings oor ’n betrokke skildery het, dit glad nie gebruik mag word nie? Ons kan maar net antwoord dat dit van skildery tot skildery sal afhang, terwyl die spiritualiteit van die betrokke lidmate wat met die skildery(e) probleme het sowel as die gemeentelike konteks en die hantering van die aangeleentheid deur die kerkraad alles veranderlikes sal wees wat behoort te bepaal of daar met die gebruik van skilderye in die algemeen of ’n bepaalde skildery in die besonder voortgegaan sal word. In elk geval het die kwalitatiewe ondersoek aangetoon dat nie almal ewe positief oor die gebruik van kuns is nie en dat dit nie so eenvoudig is as om op die ingewing van die oomblik en unilateraal (die liturg alleen) te besluit om van kuns gebruik te maak nie. Danto (1994:42) meen tereg dat kunsbeoordeling nie net ’n individuele aksie kan wees nie, maar ’n gesamentlik proses van beoordeling deur ’n groep individue met geen vaste affiliasie nie, wat genoeg van kuns en kunsgeskiedenis weet om ’n beoordeling te kan maak. Groter omsigtigheid behoort dus aan die dag gelê te word as wat tans die geval blyk te wees. Kloppers (2003a:80) se waarskuwing moet ernstig opgeneem word: “Kreatiewe geloofskommunikasie in die praktyk moet inderdaad noukeurig bedink en beoefen word”.

Met reg kan gevra word wat die waarde van so ’n kwalitatiewe ondersoek is as slegs een gemeente as respondent gekies word. Dit moet daarom duidelik gestel word dat die waarde van hierdie kwalitatiewe steekproef nie aangebied word as maatstaf waarvolgens afleidings vir die hele NG Kerk gemaak kan word nie. Die kwalitatiewe steekproef wil slegs aandui hoedat interpretasie van kuns in die erediens verskillende emosies losmaak en kan wissel van intens tot onaangeraak. As sodanig beklemtoon die kwalitatiewe steekproef dus slegs dat die benutting van kuns nie ongekompliseerd is nie en ook nie as towermiddel vir die fasilitering van belewing gebruik kan word nie.

12. SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING

Al sal die wesensaard van kuns altyd veroorsaak dat dit inherent ’n liturgiese bedreiging is, en al is dit byna onmoontlik om hierdie inherente selfverheerlikende karakter van kuns te sublimeer of te oorwin, kan die dienstigheid van kuns aan die liturgie nie sonder meer weggedink word nie. Maar dan moet die kuns dienstig wees, dit wil sê, sigself aan die liturgie onderwerp: Hoon (1971:69) som dit soos volg op: “If art will subordinate its vision of Reality as Beauty to the Christian vision of God as the Holy; if art will address man not with pleasure but with that judgement and mercy that beget salvation, if art will let its love of the vitalities of existence be chastened with the paschal Life of the Gospel, then aestheticism is no problem.”

BIBLIOGRAFIE

Barnard, M 2001. Zien. In: Barnard, M. en Post, P. Ritueel bestek. Zoetermeer: Meinema

Baudrillard, J 1983. Simulations. New York: Semiotext(e).

Baudrillard, J 1988. The ecstacy of communication. New York: Semiotext(e).

Bernstein, JM 1992. The fate of art. Aesthetic Alienation from Kant to Derrida and Adorno. Cambridge: Polity Press.

Calvyn, J 1964. Institutes of the Christian Religion. Grand Rapids, Michigan: Wm.B. Eerdmans Publishing Company. Vertaling deur Henry Beveridge.

Cilliers, J 2004. Fides Quarens Imaginem. Estetika as uitbeelding van die publieke kerk: Liturgie op soek na beelde. Praktiese Teologie in S.A. 19(1):1-18.

Danto, AC 1992. Beyond the Brillo Box. New York: The Noonday Press. Doherty, MS 2005. Ideas into images. In: American Artist, April:58-59. Getz, G 1974.Sharpening the Focus of the Church. Chicago: Moody Press.

Groce, B 1922. Aesthetic as science of expression and general linguistic. London: MacMillan & Co. Ltd.

Heyns, JA 1986. Teologiese Etiek I. Pretoria: N.G.Kerkboekhandel.

Hoon, PW 1971. The Integrity of Worship. Ecumenical and Pastoral Studies in Liturgical Theology. Nashville: Abingdon Press.

Janse van Rensburg, J 2002. Die postmoderne mens aan wie die evangelie verkondig moet word. Praktiese Teologie in S.A. 17(2):39-60.

Janse van Rensburg, J 2004. Liturgiese vernuwing en gereformeerde spiritualiteit. Acta Theologica

Kloppers, E 2003. Noem my jou metafore. Metaforiese taal as geloofstaal. Literátor 24(1):69-81.

Kloppers, E 2003a. Verkondiging deur musiek: ’n aspek van kreatiewe geloofskommunikasie. Hervormde Teologiese Studies 59(1):65-84.

Louw, DJ 2000. The challenge of a global economy and of the internet to pastorial ministry: care for the living human web. Practcal Theology in S.A. 15(1): 30-52.

Phan, PC 2003. Liturgical Inculturation: Unity in Diversity in the Postmodern Age. In: Pecklers, S.J. (ed.) Liturgy in a Postmodedrn World. London: Continuum.

Poster, M 1990. The mode of information: poststructuralism and social context. Cambridge: Polity. Smart, B 1992. Modern Conditions, postmodern controversies. London: Routledge.

Strauss, MU 1994. Die inrigting van die erediens in ’n makrogemeente binne ’n gereformeerde liturgiese tradisie. Bloemfontein: Ongepubliseerde doktorale proefskrif.

Speelman, WM 2001. Televisie en liturgie. In: Barnard, M. en Post, P. Ritueel bestek. Zoetermeer: Meinema.

Tracy, D 1994. On naming the present. New York: SCM Press.

Vos, C.J.A. & Pieterse, HJC 1997. Hoe lieflik is u woning. Pretoria: N.G.Kerkboekhandel.

Webber, RE 1985. Worship is a verb. Waco, Texas: Word Books Publishers.

White, JF 1984. Introduction to Christian Worship. Nashville: Abingdon Press.

BYLAAG 1

BYLAAG 2

Questionaire on the use of a painting as liturgical instrument

Prof J Janse van Rensburg is busy with research on the use of art in worship. Would you please fill in the form below to reflect your response and emotion on viewing the painting as you have entered the church? Please give your honest response. The form is anonymous. Please note that the questionnaire is not about the esthetical value of the painting, but rather the religious response (or lack thereof) that it precipitates. Thank you for your co-operation.

Please mark one of the following on all the questions.

THE PAINTING OF THE BURIAL OF CHRIST MADE THE IMPRESSION OF THE SACRIFICE OF HIS BODY AND BLOOD FOR ME MORE REAL.

Definitely True

True to some extent

Not really true

Not true

It had no effect on me.

THE PAINTING MADE ME UNCOMFORTABLE.

Definitely True

True to some extent

Not really true

Not true

It had no effect on me.

THE PAINTING SUPPORTED THE THEME OF THE SERMON: THIS IS MY BODY

Definitely True

True to some extent

Not really true

Not true

It had no effect on me.

ART COULD SOMETIMES HAVE A PLACE IN LITURGY.

Definitely True

True to some extent

Not really true

Not true

Not true at all.

TREFWOORDE

Kuns, estetika, erediens, liturgie

KEY WORDS

Art, aesthetics, worship, liturgy,

Prof J Janse van Rensburg
Fakulteit Teologie
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein

jjvanr@yebo.co.za

Image49464.PNG