Blydskap: ’n Antwoord op beproewings volgens Jakobus 1:2-4
ABSTRACT
Joy: An Answer to Trials According to James 1:2-4
In James 1:2 it is said: “Be glad when all trials fall upon you”. At first glance this phrase seems to be a contradiction in terms. How can one be glad when you fall under trials? One should rather be petrified. It is difficult to understand this instruction. This was the case even more for believers in the time of James. They were subdued not only to certain types of unfair practices but also to trials in general. It is argued that on grounds of semantic- and further textual considerations, the understanding of this phrase should be read against the background of a metallurgical metaphor. When ore is crushed and exposed to extensive heat, a precious metal is subsequently produced. In the same manner a person’s character is developed by trials. Therefore, according to James, trials should be welcomed as it is a chance to facilitate character development. The mere fact that character development has taken place should bring existential joy to a person.
1. DIE PROBLEEM
In Jakobus 1:2 word daar gesê: “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom” NAV. (Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sal deurgaans vir die Afrikaans gebruik word). By die eerste lees van hierdie frase lyk dit soos ’n teenstrydigheid. Hoe kan ’n mens bly wees wanneer daar beproewings oor jou kom? Beproewings gaan gewoonlik gepaard met swaarkry. Verder toets beproewings jou kragte en uithouvermoëns tot die uiterste toe. Die meeste mense is daarom gewoonlik vreesbevange in die aangesig van beproewings en die blote gedagte dat jy dit dalk nie gaan maak nie. Nogtans is die outeur van mening dat ’n mens blydskap in beproewings moet hê. Hoekom maak die outeur so ’n uitspraak? Kan dit wees dat ’n mens ’n tipe masochistiese genot uit beproewings moet kry? Blydskap en beproewings klink nie vir die moderne leser asof hulle saamhoort nie. Daarom behoort hierdie probleem van blydskap saam met beproewings meer in diepte ondersoek te word. Voordat dit gedoen word, moet verskeie onduidelikhede eers uitgeklaar word binne die konteks van Jakobus 1:2-4.
2. DIE BETEKENIS VAN DIE GRIEKSE WOORD πειϱασμόϛ IN 1:2
Eerstens moet daarop gewys word dat dieselfde Griekse woord πειϱασμόϛ gebruik word in 1:2 en in 1:12. Hierdie woorde het egter nie dieselfde verwysing nie. Kontekstueel maak dit sin om πειϱασμόϛ in 1:2 as “ beproewings” te vertaal en om dieselfde woord in 1:12 as “versoekings” te vertaal. Die redes is die volgende:
2.1 Versoekings (1:12) het ’n nouer verband met jou eie “begeertes” έπιθυμίαϛ (1:14) en kom van binne af.
2.2 Beproewings, aan die ander kant, kom van buite af. Gelowiges het die risiko om in beproewings te “val” πεϱιπέσητε. Hierdie beproewings is ’n “toets” δοϰίμιον en moet geduldig verdra word.
2.3 Die onderliggende metafoor by 1:2 en 1:12 is verskillend. Jakobus gebruik dikwels metafore om sekere aspekte van die menslike bestaan uit te druk. Die tong is soos ’n vuur (3:5). Die toegee aan versoekings is soos om deur ’n prostituut verlei te word (1:12). Daar gaan geredeneer word dat daar in 1:2 ’n metallurgiese metafoor gebruik word. Dit is nie slegs totaal anders as die metafoor wat in 1:12 gebruik word nie, maar ook is die onderliggende prosesse anders. In 1: 12 is die onderliggende proses verleiding, bevrugting en geboorte maar nie in 1:2 nie.
2.4 Die aanvaarding van πειϱασμόϛ in 1:2 as beproewings het wye ondersteuning in verskillende kommentare: Dibelius & Greeven (1981:71), Floor (1992:50), Laws (1980:51), Louw & Nida (1988: 71), Moo (2000:53), Rogers & Rogers (1998: 552) en Wolmarans (1994:71) om net ’n paar te noem.
2.5 Die vreemde standpunt van Adamson (1976:52), Martin (1988:15) en Schrage (1973:15) dat πειϱασμόϛ in 1:2 na sowel beproewings as versoekings kan verwys, kan nie ernstig opgeneem word nie aangesien dit net die interpretasie kompliseer en nie die onderliggende metafoor verreken nie.
Op grond van al hierdie redes is πειϱασμόϛ in 1:2 as “beproewings” die beter keuse.
3. SINTAKTIESE ANALISE VAN JAKOBUS 1:2-4
Vir sintaktiese analise van die gedagte-opbou op mikro- en makrovlak sal die metode van De Klerk & Janse van Rensburg (2005) gebruik word. Sintakties bestaan die gedeelte uit 2 hoofsinne, wat albei deur middel van bysinne uitgebrei word. Die tweede hoofsin is neweskikkend aan die eerste.

’n Gedagtestruktuur op Makrovlak kan soos volg voorgestel word:
Opsommend: Ons het hier te doen met ’n basiese opdrag in 2a met 3 uitbreidings (2b, 3a,b en 3a,4a) wat eindig in ’n doel in 4b. Voorlopig kan die afleiding uit die voorstellings van bogenoemde strukture op mikro-en makrovlak gemaak word dat blydskap in beproewings ten doel het om volmaaktheid te bereik.
4. DIE INHOUD VAN BEPROEWINGS
Jakobus self is nie spesifiek oor die presiese inhoud van beproewings nie. Navorsers het verskillende sienings aangaande wat dit presies kan wees. Davids (1983:67) is van mening dat dit beproewings is wat met Abraham gebeur het in Genesis 22 toe hy vir Isak moes offer. Hy trek beproewings ook deur na die volk Israel in Numeri 14 se episode in die woestyn toe hulle moedeloos was en in opstand gekom het teen God en die leierskap. Hy gaan verder en maak beproewings van toepassing op sosiale, ekonomiese en politieke uitbuiting. Floor (1992:51) redeneer dat dit hoofsaaklik sosiale druk was, byvoorbeeld die onderdrukking deur grondeienaars. Johnson (1995:177) sê niks oor die moontlike inhoud van beproewings nie. Laws (1980:51) meen dat dit moontlik godsdienstige vervolging kon wees. Moo (2000:54) begin deur spesifiek te wees: dit was uitbuiting van die armes deur die rykes, godsdienstige vervolgings, ens. Hy gaan dan verder en sluit alle moontlike beproewings in as hy sê:
“James throws his net widely, including the many kinds of suffering that Christians undergo in this fallen world.”
Pretorius (1988:34) het min of meer dieselfde siening as Moo as hy sê dat beproewing die veelvuldige arsenaal van teenslae is wat die gelowige in die “gewone” lewe ondervind. Stulac (1993:36) redeneer ook dat dit beproewings van alle soorte is. Wolmarans (1994:75) is meer spesifiek deur na die konteks van Jakobus te verwys: armoede, uitbuiting deur die rykes, onbillike behandeling in howe en godsdienstige vervolging. Alles in ag genome, is dit onmoontlik om te sê wat presies hierdie “beproewings” was. Al wat gesê kan word, is dat dit moeilikhede was wat oor mense gekom het vanweë eksterne omstandighede. Daar was ’n ryke tradisie van persone wat gely het onder sulke beproewinge, byvoorbeeld Abraham, Job en die volk Israel sou ook bygevoeg kon word. Jakobus gee vir ons sekere rigtingwysers oor wat dit moontlik kon wees soos sommige kommentatore aangedui het: armoede, uitbuiting deur die rykes, godsdienstige vervolgings en om onregverdig in die howe behandel te word. Dit sal verstandig wees om die beproewings so wyd as moontlik te sien en sodoende nie eksklusief nie, maar inklusief oor moontlike beproewings te wees. Dit is duidelik uit bogenoemde bespreking dat blydskap te midde van sulke omstandighede moeilik denkbaar was. Hartseer en moedeloosheid is eerder ’n tipiese menslike reaksie.
5. DIE REDE VIR BLYDSKAP IN BEPROEWINGS
Vervolgens sal daar gekyk word na die rede hoekom ’n mens blydskap onder beproewings moet hê. Die logika hiervan is om tot ’n beter verstaan te kom van die mensbeeld wat Jakobus in 1:2-4 het. Dit sal hopelik lei na die “hoe” van beproewings en die verband wat blydskap daarmee het. Navorsers het hoofsaaklik drie standpunte oor die “hoekom” of motief vir blydskap onder beproewings:
• Die een groep is van mening dat blydskap in 1:2 verbind moet word met die eskatologiese gebeurtenis by die wederkoms. Die gelowige sal dan beloon word vir die feit dat hy/sy uitgehou het. Hierdie standpunt sien blydskap hoofsaaklik as ’n toekomstige gebeurtenis Adamson (1976:75) en Davids (1983:68).
• ’n Ander groep sien blydskap as die gevolg van die wete dat jou karakter ontwikkel het vanweë die beproewings wat jou oorgekom het. Volgens hierdie standpunt het beproewings ’n eksistensiële waarde en ’n helende effek om ’n volmaakte karakter te ontwikkel Laws (1980:51); Martin (1982:21); Moo (2000:54) en Mussner (1967:62-67).
• ’n Derde groep koppel nie “blydskap” aan ’n spesifieke gebeurtenis nie, maar is van mening dat blydskap ’n algemene verskynsel van die vroeë Christendom was Johnson (1995:177) en Stulac (1993:36).
5.1 Blydskap as algemene vroeë Christelike verskynsel
Hierdie verskillende standpunte oor die “hoekom” van blydskap onder beproewings hou meer in as wat op die oppervlakte na vore kom. Dit is moeilik om ’n keuse te maak aangesien al drie meriete het. Indien daar eliminasie moet plaasvind, moet gesê word dat die derde moontlikheid te algemeen is. Johnson en Stulac fokus nie genoegsaam op die konteks van Jakobus as bewys dat ’n mens blydskap in beproewings moet hê nie. Johnson haal dertien verskillende “ander” tekste van die Nuwe Testament aan, maar geen van Jakobus nie. Stulac haal nie Jakobus aan nie en ook nie die Nuwe Testament nie. Hulle standpunt kan dus nie aanvaar word nie.
5.2 Blydskap in eskatologiese sin by die eindoordeel
Die eerste standpunt (eskatologiese blydskap ) het groot Nuwe Testamentiese en intratekstuele ondersteuning. Intratekstueel beteken binne Jakobus self. Dit is algemene kennis dat die spoedige wederkoms van Christus, die gepaardgaande oordeel, wat óf beloning óf straf sou bring, ’n leitmotiv binne die vroeë Christelike literatuur was. Die Openbaring van Johannes is ’n duidelike voorbeeld hiervan. Daar is ook heelwat intratekstuele bewyse dat Jakobus die spoedige wederkoms van Christus verwag het. Jakobus meld dat die Here se wederkoms “het naby gekom” ήϒϓιϰε is in 5:8. Verder staan die regter by die deur (5:9). Nogtans vermeld Davids (1983:39) die volgende aangaande Jakobus:
“Eschatology is not the burden of the book, it is the context of the book”.
Moo (2000:30) sê die volgende:
“Though future eschatology is the dominant perspective in James, the present eschatological nature of Christian existence is not ignored” en “It is within this tension of this ‘already and not yet’ that we must interpret and apply James’s ethical teaching”.
Die standpunte van Davids en Moo word ondersteun. Jakobus bevat wel eskatologiese verwysings soos in 5: 8-9, maar dit is op die agtergrond. Jakobus handel eerder oor praktiese lewenswysheid in verskillende omstandighede. Die volgende perikope is voorbeelde daarvan 1: 12-18; 1:19-27; 2:1-13; 2: 14-26 en 3: 1-12. Eskatologiese verwysings in Jakobus, soos 5:8-9, word gebruik as aansporing tot ’n korrekte lewenswyse. In laasgenoemde geval word die rykes vermaan om hulle werkers regverdig te behandel, anders sal hulle gestraf word tydens die wederkoms.
5.3 Blydskap omdat jou karakter ontwikkel het
Die enigste opsie wat oorbly is die tweede een. Blydskap is die gevolg van die wete dat jou karakter ontwikkel het. Die onmiddellike konteks (1:2-4) sal gebruik word om hierdie stelling te bewys. Daar is ’n paar eienaardighede in 1:2-4 wat opvallend is.
Die eerste is dat daar ’n proses beskryf word. Hierdie proses is soos die skakels van ’n ketting wat op mekaar volg. Die proses begin met ’n “toets” δοϰίμιον. Beproewings is ’n toets. Indien die toets geslaag word, lei dit tot “lydsaamheid” ύπομονή. Hierdie volgehoue “lydsaamheid” ύπομονή lei weer tot “volmaakte werk” έϱϒοντέλέιον
Die tweede eienaardigheid is dat “volmaakte werk” nêrens beskryf word as ’n deug soos wat ons sou verwag nie. Dit is ’n teksfraktuur en moet ondersoek word.
Dit kom voor asof die konteks blydskap met hierdie volmaakte karakter verbind. Uit die voorstelling van die gedagtestruktuur op makrovlak blyk dit dat die opdrag in 2a “My broers, julle moet baie bly wees” die doel in 4b het “ sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming”.
Blydskap, so kom dit voor, is die gevolg van die wete dat jou karakter in beproewings deur ’n sekere proses gegaan het. Lydsaamheid is nie net aangeleer nie, daar is ook volhard in lydsaamheid. Volgehoue lydsaamheid lei weer tot volmaaktheid. Verskeie navorsers is dit eens dat hierdie proses eintlik handel oor “hoe” om ’n volmaakte karakter te ontwikkel: Davids (1983:69), Laws (1980:62), Mitton (1966:45) en Wolmarans (1991:1119). .
Hierdie ontwikkelde karakter is nie alledaags nie. Dit is onderworpe aan intense toetsing soos later beredeneer sal word. Hierdie volmaakte karakter kan egter “nou” bereik word indien ’n persoon volgehoue lydsaamheid of geduld onder beproewings openbaar. Dit het weer eksistensiële blydskap tot gevolg. Die standpunt van eskatologiese blydskap by die wederkoms van Christus is dus nie van toepassing op dié gedeelte nie. Dit is eerder ’n blydskap vanweë die feit dat jou karakter “nou” ontwikkel het.
Dit bring ons by ’n nuwe vraag wat beantwoord moet word: “Hoe” werk die proses om ’n volmaakte karakter te ontwikkel?
6. DIE BEREIKING VAN ’N VOLMAAKTE KARAKTER
Dit is duidelik uit die konteks dat ’n volmaakte karakter nie maklik bereik word nie. Dit kom slegs deur ’n proses. Soos reeds gestel is, gebruik Jakobus ’n verskeidenheid woorde om hierdie proses te beskryf, δοϰίμιον “toets” is die eerste woord wat aan die orde van die dag is om die ontwikkeling van ’n mens se karakter te beskryf.
Die moontlike agtergrond hiervan is die vuur van die goud- of silwersmid. In Spreuke 27:21a in die LXX staan:
“ ’n toets vir silwer en goud is branding”
δοϰίμιον άϱϒυϱώ·χαί·χϱυσώ·πύϱωσιϛ
Hieruit kan ons aflei dat gouderts sowel as silwererts onderwerp was aan uiterste toetsing. Hoekom? sal ’n mens vra. Die antwoord is om ontslae te raak van onsuiwerhede sodat net die suiwer metaal oorbly. Jakobus en sy lesers moes hierdie proses geken het waar erts aan ekstreme hitte blootgestel is om van onsuiwerhede ontslae te raak. Slegs dan kon die metaal gebruik word om gereedskap soos grawe, wapens soos swaarde en kosbare juwele te vervaardig. Indien die voorafgaande smelting goed was, dan sou die vervaardigde produk ook van ’n goeie gehalte wees. Omgekeerd, indien die smelting in die vuuroond nie behoorlik gedoen is nie, dan sou die eindproduk ook nie van goeie gehalte gewees het nie. Mynbou en die daaropvolgende prosessering van edelmetale was welbekend in die Joodse sowel as Grieks-Romeinse kulture (Hornblower & Spawforth 2002:965, 984).
Edgar (2001:24-26) beredeneer die moontlikheid van ’n verband tussen Jakobus en Sirag. Hy is nie heeltemal oortuig dat daar wel ’n verband bestaan nie. Die volgende teks uit Sirag, wat nie deur Edgar gebruik word nie, wys wel op ’n korrelasie tussen Sirag en Jakobus.
In Sirag 2:5 staan daar:
“Goud word getoets in vuur en die aanvaarde mense in die oond van vernedering.”
έν·πυϱι·δοϰιμάζεται·χϱυσόϛ·ϰαι·άνθϱωποι·ϛεϰτοι·έν·ϰαμινώ·ταπεινωσεωϛ
Die laaste aanhaling toon ’n direkte verband tussen die toetsing van goud en die toetsing van ’n mens se karakter. Soos wat goud (erts) getoets word in ’n vuur en gesuiwer word, net so word ’n mens se karakter getoets in vernedering. Jakobus het dieselfde siening. Dit beteken eenvoudig: soos wat ’n stuk gouderts onderwerp word aan intense hitte in ’n vuuroond en daarna ’n suiwer metaal na vore kom, op dieselfde manier word ’n mens se karakter getoets deur beproewings. Daarna bly die gesuiwerde karakter oor. Ons kan dit ’n metafoor noem. ’n Mens se karakter word vergelyk met gouderts en die toetsing deur ’n vuuroond word vergelyk met beproewings wat oor jou kom. Soos wat ’n vuur metaalerts toets en suiwer en slegs die egte metaal agterlaat, netso word ’n mens se karakter getoets deur beproewings en gesuiwer van onsuiwerhede. Die proses is egter nog nie afgehandel vanweë blote toetsing nie, aangesien die toetsing ’n gevolg moet hê . Dit is naamlik νπομνη “lydsaamheid” wat bereik moet word. Lydsaamheid het verskeie Afrikaanse
sinonieme: geduld, standvastigheid en deursettingsvermoë. Volgens Liddel & Scott (1978:845) beteken dit letterlik: “that what remains behind”. Dus kan ons sê dat die produk, of dit nou ’n persoon se karakter is, of goud is, nou suiwerder is as wat dit voorheen was.
Die byvoeglike naamwoord όλόϰληϱοϛ “een in al sy dele” sal in ’n metallurgiese milieu beteken: “om dieselfde kwaliteit regdeur te besit” (Wolmarans 1994:69). Dieselfde kan ook van εν·μηδενι·λειπόμενοι·“sonder enige tekortkominge” gesê word. Die kwaliteit van die metaal is nou regdeur vasgestel. Daar is geen onsuiwerhede meer wat die metaal kan verswak nie. “Volmaaktheid” τελειοϛ is nou bereik. Die mensbeeld van Jakobus 1:2-4 is dus dat die mens soos ’n stuk metaalerts is. Hierdie metaalerts bevat natuurlik allerhande onsuiwerhede. Daar moet van onsuiwerhede deur intense hitte (vuur) ontslae geraak word. Vir Jakobus is hierdie vuur die beproewings waaraan mense onderwerp word. Beproewings behoort te lei tot lydsaamheid en volharding in lydsaamheid moet weer omgesit word in ’n volmaakte werk. Daarmee sê Jakobus eintlik vir sy lesers:
“julle moet net so word, moenie oorweldig word deur beproewings nie. Byt vas, ontwikkel lydsaamheid, word uiteindelik ’n volmaakte werk. Dan sal julle blydskap hê”.
Davids (1983:69) is die eerste een wat die woord “metafoor” gebruik het om die verhouding tussen die toetsing van ’n mens se karakter deur beproewings en metaalerts wat deur vuur getoets word, te beskryf. Wolmarans (1991 en 1994) gebruik weer die begrip “metallurgiese metafoor” om die proses te beskryf. Hy het ’n paar bruikbare insigte daarby gevoeg (1991:1114). Sy grafiese voorstelling daarvan lyk soos volg: (My eie vertaling)
METALLURGIE | MENSLIKE GEDRAG | |
VOORWERP BEPROEWINGS GEVOLG | Onsuiwer metaal Suiwering deur vuur Gesuiwerde en duursame metaal | Onsuiwer geloof Suiwering deur beproewings Gesuiwerde en duursame geloof |
Die tekortkoming van bogenoemde skema van Wolmarans (1991) is dat hy nie die sintuiglike gevolge van beproewings op die menslike gedrag vermeld nie. Volgens Jordaan & Jordaan (1989:583) is blydskap ’n tipiese sintuiglike gevolg na aanleiding van ’n bepaalde betekenisvolle stimilussituasie. Dit (sintuiglike gevolge) is natuurlik nie van toepassing op metale nie aangesien metale nie sintuie het nie. In die geval van menslike gedrag is dit “blydskap”. Hierdie blydskap kom na vore vanweë die feit dat jou karakter ontwikkel het. In sy opvolgende navorsing het Wolmarans (1994:75) die idee van sintuiglike betrokkenheid in beproewings breedvoerig ontwikkel. Hy meld wat die moontlike uitkoms van die onsuksesvolle hantering van beproewings is. Hier word die gevolg duidelik beskryf in verhouding tot die sintuie. Beproewings, indien dit nie geslaagd hanteer word nie, lei tot moedeloosheid. Hierdie is presies die teenoorgestelde van “blydskap”. Wolmarans (1994) maak egter nie ’n grafiese voorstelling van sy gedagtes nie. Die onderstaande grafiese voorstelling is my poging en neem dit wat tot dusver beredeneer is in ag. Dit neem die metallurgiese metafoor en brei dit uit:
DEFINISIE | METALLURGIE | MENSLIKE GEDRAG |
VOORWERP | Onsuiwer metaal | Onsuiwer karakter |
BEPROEWINGS | Onderwerping aan vuur | Onderwerping aan moeilike omstandighede |
INHOUD VAN BEPROEWINGS | Onderwerping aan vuur, die doen van werk waarvoor dit vervaardig is | Sosiale onreg,vervolgings, uitbuiting, ensovoorts. |
DOEL | Om van onsuiwerhede ontslae te raak | Om ’n volmaakte karakter te ontwikkel |
GEVOLG | Verfynde en kosbare metaal | Verfynde en kosbare karakter |
SINTUIGLIKE GEVOLGE | Geen –metaal | Blydskap |
PERSONIFIKASIE | Graaf, swaard en juwele | Abraham, Job, Israel,ensovoorts. |
SLAAG/BELONING | Bruikbaarheid | Eksistensiële blydskap |
NIE SLAAG NIE/ STRAF | Smelting, weggooi. | Moedeloosheid |
7. GEVOLGTREKKING
Dit is aan die begin gestel dat Jakobus ’n teenstelling in 1:2 “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom”, gebruik. Hierdie teenstelling maak oënskynlik nie sin nie. Sintakties en kontekstueel is daar beredeneer dat blydskap verbind kan word met die bereiking van’n volmaakte karakter. “Hoe” dit gebeur, is aangetoon vanuit die agtergrond van die metallurgie. Jakobus se mensbeeld is dat ’n mens soos ’n stuk metaalerts is. Hy pleit daarvoor dat beproewings jou karakter soos intense vuur behoort te suiwer. Beproewings kan ook moedeloosheid tot gevolg hê. Jakobus moedig sy lesers aan om eerder deur beproewings ’n volmaakte werk te word. Dan sal hulle alle rede hê om blydskap te ervaar aangesien hulle karakter beter en suiwerder as voorheen is. Davids (1983) het hierdie metafoor eerste raakgesien, Wolmarans (1991 en 1994) het die metafoor uitgebrei. Hierdie is ’n poging om die metafoor verder te ontwikkel deur dit kontekstueel verder te begrond deur onder andere ’n grafiese voorstelling. Moontlik open dit die deur tot verdere verfyning en ontwikkeling.
BIBLIOGRAFIE
Adamson, J.B. 1976. The Epistle of James. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans.
Davids, P.H. 1983. The Epistle of James. A Commentary on the Greek Text. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans.
De Klerk, B.J. & Janse van Rensburg, J.J. 2005. Preekgeboorte. ’n Handleiding vir Gereformeerde Eksegese en Prediking. Toegepas op 1 Petrus 2:11-12, 18-25. Potchefstroom: Potchefstroom Teologiese Publikasies.
Dibelius, M. & Greeven, H. (editor) 1981. James. (Translated from German by M.A Williams.) Philadelphia: Fortress Press.
Edgar, D.H. 2001. Has God not Chosen the Poor? Sheffield: Sheffield Academic Press.
Floor, L. 1992. Jakobus. Brief van een Broeder. Kampen: J.H. Kok.
Hornblower, S. & Spawforth, A. 2002. The Oxford Classical Dictionary. The Ultimate Reference Work on The Classical World. Oxford: Oxford University Press.
Johnson, L.T. 1995. The Letter of James. New York: Doubleday.
Jordaan, J. & Jordaan, W. 1989. Mens in Konteks. Johannesburg: Lexikon Uitgewers.
Laws, S. 1980. A Commentary on The Epistle of James. London: Adam & Charles Black.
Liddel, H.G. & Scott, R. 1978. An Intermediate Greek-English Lexicon. London: The Clarendon Press
Louw, J.P. & Nida, E.A. (editors) 1988. Greek English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. (Two Volumes). New York United Bible Societies.
Martin, R.P. 1988. James.Waco, Texas: Word Books.
Mitton, C.L. 1966. The Epistle of James. Edinburgh: Marshall, Morgan & Scott.
Moo, D.J. 2000. The Letter of James. Leicester, England: Wm. B Eerdmans.
Mussner, F. 1967. Der Jakobusbrief. Freiburg; Basel; Wien: Herder.
Pretorius, E.A.C. 1988. Die Brief van Jakobus. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Rahlfs, A. 1971. Septuagint. Volume 2. Stuttgart: Wurtembergische Bibleanstalt.
Rogers, C.L. & Rogers, C.L. III. 1998. The New Linguistic and Exegetical Key to the Greek New Testament. Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House.
Sirach (= Sapienta Jesus Filii Sirach) Teks in Rahlfs (1971: 345-376).
Schrage, W. 1973. Der Erste Petrusbrief. In Balz, H & Schrage, W. Die “Katholischen” Briefe. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, pp. 5-85.
Stulac, G.M. 1993. James. Leicester: Intervarsity Press.
Wolmarans, J.L.P. 1991. Making sense out of Suffering. James 1:2-4. Hervormde Teologiese Studies 47/4:1109-1121. .
Wolmarans, J.L.P. 1994. ’n Semiotiese Analise van die Jakobusproloog. Ongepubliseerde Ph.D. proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.
TREFWOORDE
Beproewings, Versoekings, Mikro- en makrogedagtestruktuur, Eksistensiële blydskap, Metallurgiese metafoor, Sintuiglike gevolg
KEY WORDS
Trials Temptations, Micro- and macro thought structure, Existential joy, Metallurgical metaphor, Sensual result