Meiring, PGJ
Universiteit van Pretoria

Max Warren en sy sewe reëls vir ’n dialoog tussen Christene en nie- Christene.

ABSTRACT

Max Warren and His Seven Rules for Dialogue Between Christians and non- Christians

In 2004 the centenary of Max Warren, one of the greatest all round Christian leaders and missionary thinkers of his time, was celebrated. In South Africa, too, Warren’s life and work had great impact. The author indicates how Warren’s thinking about the dialogue between Christians and non-Christians in the 1960s can serve us today in a country where this dialogue has become a matter of extreme importance. Warren’s seven principles for dialogue – and their relevance for our day – are re-examined. The principles are: acceptance of our common humanity, the principle of divine omnipresence, accepting the best in other religions, identification, courtesy, interpretation, and expectancy.

1. BY DIE EEUFEES VAN ’N MERKWAARDIGE MAN

Die Max Warren-eeufees is pas verby. Gedurende 2004 is in die Anglikaanse gemeenskap wêreldwyd – en veral in sendingkringe – die reuse bydrae van Warren, wat in 1904 gebore is, met groot dank in herinnering geroep. Daar was genoeg rede voor, want vandag nog – drie dekades ná die dood van Warren – word die rol wat hy op talle terreine gespeel het, as jare lange algemene sekretaris van die Church Missionary Society, as senior kerkleier in Engeland én as missioloog, hoog aangeslaan. Max Warren se biograaf FW Dillistone vertel hoe Warren jare gelede, toe hy die nuus van die dood van die bekende Amerikaanse sendingleier John R Mott ontvang het, in sy dagboek opgemerk het: “It is not unfair to link him (Mott) with St. Paul, Xavier and Carey as one of the few men who have caught the imagination of the Christian world from the point of view of the missionary enterprise”. By die afsterwe van Max Warren in 1977 het Dillistone dit onthou en daarby aangesluit: “I dare to think that Max has the right to be accorded the fifth place in that succession. I regard him as the greatest all- round Christian leader of my generation … This man came nearer to my own conception of what constitutes a saint than any other I have known” (Dillistone 1980: 6). In sy “Obituary” in die Londense Times is met eweveel waardering na Warren se rol in die jare na die Tweede Wêreldoorlog verwys:

“In many respects he was a prophet. He saw clearly the change in relationships that would become necessary between Church and Mission in the aftermath of the Second World war, and he did as much as anyone to prepare church people in Europe and America for the various revolutions, political, social, economic, and educational that were to have their way in Asia and Africa. He is believed to have refused the offer of more than bishoprics during his career, saying that he could contribute more usefully to the church the work he was doing at the CMS (Times, 25 August 1977).Ook in Suid-Afrika het Warren groot invloed uitgeoefen deur sy boeke wat wyd gelees en waardeer is, maar veral ook deur ’n lesingtoer wat hy in 1965 op uitnodiging van die aartsbiskop van Kaapstad en die biskoppe van Grahamstad en Pretoria in die land onderneem het. Die lesings is later as boek uitgegee (Interpreting the Cross). Albei professore in sendingwetenskap aan die Kweekskool op Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria, WJ van der Merwe en HDA du Toit het in hulle handboeke vir die sendingwetenskap – wat albei in 1967 verskyn het - met dankbaarheid van Warren se insigte gebruik gemaak. In 1968 het PGJ Meiring met ’n doktorale proefskrif oor Max Warren as sendingwetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria gepromoveer. Toe David Bosch se magistrale Transforming Mission. Paradigm Shifts in Theology of Mission in 1991 gepubliseer is, het dit as geen verrassing gekom dat Bosch heel dikwels Warren se gedagtes met instemming aanhaal en meer as een keer daarby aansluit nie (Bosch 1991: 6, 258, 286vv, 299, 308, 338, 484, 505vv, 518).

2. WIE WAS MAX WARREN?

Max Warren het uit ’n stoere sendingfamilie gekom. Sy vader en moeder was sendelinge, so ook sy oom, sy broer en later ook sy eie kinders. Hy is op 13 Augustus 1904 in Dublin, Ierland, gebore terwyl sy ouers op tuisverlof was. As drie maande oue seuntjie is hy saam met hulle terug na Indië, waar hy die eerste agt jaar van sy lewe deurgebring het. Ter wille van sy skoolopleiding moes die jong Max terug Engeland toe, waar hy ná sy matriekeksamen, as student te Cambridge (Jesus College en Riddley Hall) ingeskryf het. In 1927 het hy as sendeling in diens van die Church Missionary Society (CMS) na Nigerië vertrek. Hy het skaars ’n jaar in Afrika gewerk toe ’n groot teenslag hom getref het: tuberkulose in ’n ernstige graad. Terug in Engeland was hy drie jaar lank bedlêend en het hy ook een van sy oë as gevolg van die siekte verloor. Hy het egter geweier om moed te verloor en toe hy uiteindelik genoeg herstel het (1932), het hy ’n pos as deken van die St John’s-kerk, Boscombe, in Bournemouth aanvaar. In 1936 is hy as vikaris van die Holy Trinity- kerk in Cambridge bevestig. In 1942 is hy as algemene sekretaris van die CMS benoem. Die pos is aanvanklik eers vir Stephen Neill aangebied, maar Neill het nie kans gesien om sy gemeente in Indië in die middel van die Tweede Wêreldoorlog in die steek te laat nie (Dillistone 1980: 11vv).

Warren se aanstelling, as betreklik onbekende jong teoloog, was in alle opsigte ’n sukses. Hy het om hom ’n aantal kollegas versamel – Neill, Norman Goodall, Douglas Webster, David Paton, John Taylor, Kenneth Cragg en talle ander – wat saam met hom oor die nuwe rol van die kerk en die sending in die naoorlogse wêreld kon dink. Hy het op uitgebreide reise vertrek na Afrika, Amerika en die Ooste. Sy vriendskap met die Duitser, Walter Freytag, en die kontakte wat hy met ander kontinentale teoloë opgebou het – Karl Hartenstein, Hendrik Kraemer, JC Hoekendijk, J van den Berg, Erik Nielson en Bengt Sundkler – het stimulerend op Warren ingewerk. Op ekumeniese gebied – veral binne die destydse Internasionale Sendingraad – het hy ’n ewe groot rol gespeel. Gedurende dié jare het talle boeke van hom verskyn en het sy CMS Newsletter wat maandeliks uitgestuur is, tot een van die mees bekende en gewaardeerde sendingtydskrifte van sy tyd gegroei, wat nie net in kerklike kringe nie maar dikwels ook in die Britse parlement aangehaal is (Meiring 1968; 8vv, 466vv).

Na sy aftrede by die CMS is hy as kanunnik en later as deken van Westminster Abbey in Londen aangestel, waar hy onvermoeid met sy skryfwerk voortgegaan het. In 1973 het hy na ’n ernstige siekbed na Sussex verhuis, waar hy die laaste jare van sy lewe deurgebring het. In dié jare het hy sy outobiografie Crowded Canvas geskryf, wat ’n besondere interessante dokument is, waarin nie net die lewe en werk van ’n man nie, maar ’n hele tydperk in die geskiedenis van die kerk en die sending onder die loep geneem word. Op sending-teologiese gebied het Warren diep spore getrap. Sy eskatologiese fundering van die sending wat hy in sy The Truth of Vision (1948) uitgebou het, het wye aandag getrek, soos ook sy frisse uiteensetting van die omvattende sendingtaak van die kerk in die naoorlogse tyd. As liefhebber van die geskiedenis – die kerkgeskiedenis én die sekulêre geskiedenis – het hy baie gedoen om sy lesers te help om die breë gang van die geskiedenis en die uitwerking daarvan op die kerk en die sending te verstaan. Hy was ’n oortuigde “evangelical”, maar hy het nooit sy verbondenheid met die ander strominge in die Anglikaanse gemeenskap en ook in wyer kerklike kringe verloor nie. Oor die rol van die kerk in die sending en oor die belangrikheid van die ekumeniese beweging kon hy nie uitgepraat raak nie – al het hy ernstige bedenkinge oor die destydse samesmelting tussen die Internasionale Sendingraad en die Wêreldraad van Kerke (WRK) gehad.

In hierdie artikel wil ek egter die aandag vra vir wat Max Warren oor die dialoog tussen Christene en aanhangers van ander godsdienste geskryf het. Na dertig jaar is sy sewe reëls vir ’n dialoog nog net so aktueel en interessant – en kan Christene in Suid-Afrika waar ons al meer van die belangrikheid van goeie verhoudings en ook indringende gesprekke met aanhangers van ander geloofsgemeenskappe in ons land bewus word, baie van die Anglikaanse sendingkundige leer.

3. MAX WARREN SE SEWE REËLS VIR ’N DIALOOG TUSSEN CHRISTENE EN NIE- CHRISTENE.

In die sestiger jare van die vorige eeu is met erns oor die begrip van ’n dialoog – oor die moontlikheid en ook die wysheid daarvan – gedebatteer. Dit moes kom, want reeds by die Internasionale Sendingraad se vergadering te Tambaram (1938) het Hendrik Kraemer op die “komende dialoog” tussen Christene en aanhangers van die ander wêreldgodsdienste gewys. Na 1945, toe die wêreld uit die puin van die Tweede Wêreldoorlog opgestaan het, toe verhoudings tussen die Weste en die Ooste, die Ou en Nuwe Wêreld, nuwe eise aan die kerke gestel het, het een teoloog na die ander Kraemer se wekroep opgeneem, totdat in die laat vyftiger jare van die dialoog as die ”modewoord van die tyd” gepraat is. Hewige debatte het gevolg. Vir ekumeniese Christene was die dialoog ’n sine qua non, veral ná die Nieu Delhi-vergadering van die Wêreldraad van Kerke (1967) waar afgevaardigdes vir 15 dae lank oor die noodsaaklikheid van die dialoog en die implikasies daarvan vir ons tyd gekonfereer het. Vir baie evangeliese Christene was die dialoog egter ’n groot gevaar, die uitverkoop van die evangelie van Christus, wat ten alle koste bestry moes word. Vir die Nederlandse teoloog Zuidema was die dialoog, soos dit by Nieu Delhi aangeprys is, ’n “heillose weg”, die “einde van alle missionêre prediking en activiteit” (1965: 81vv).

In die debat was Warren se bydrae wesenlik. Met dringende erns het hy vir ’n dialoog gepleit, maar met ewe veel erns verklaar dat ’n egte dialoog nie die uniekheid van die evangelie van Jesus Christus in gevaar durf stel nie, dat dialoog nooit op sinkretisme mag uitloop nie. Sy openbare debat met John Hick waarin hy Hick se universalistiese standpunt weerlê het, het destyds groot aandag getrek (Dillistone, 1980: 203, 239-242). In veral twee van sy publikasies het Warren sy beskouings oor die dialoog uiteengesit. In sy boek Perspective in Mission (1964) het hy die stof wat hy tydens ’n lesingtoer in Skandinawië gehou, weergegee. Die sewe-deling wat hieronder gebruik word, om Warren se gedagtes te sistematiseer, kom uit sy tweede publikasie The relationship between Christianity and other world religions (1966). Die onderwerp het Warren egter bly interesseer en in méér van sy geskrifte word dit aangeraak. In sy heel laaste publikasie, I believe in the Great Commission (1976) – wat ’n jaar voor sy dood gepubliseer is - is die onderwerp vir oulaas nog aan die orde. Die dialoog-debat het in die laaste dekades van die twintigste eeu, lank ná die dood van Warren, voortgeduur. Talle teoloë het voortgegaan om daaroor na te dink. By konsultasies van die WRK was dit keer op keer op die agenda – al dringender en dringender (vgl. Bosch 1991: 484, 487). Uiteindelik is by die vergadering van die Commission on World Evangelism and Mission by San Antonio duidelike besluite oor dialoog – en die verhouding tussen dialoog en sending – geneem, besluite waarna in die volgende bladsye verwys sal word. Die vraag na die verhouding tussen Christene en mense wat aan ander godsdienste behoort, het onherroeplik op die tafel van elke gelowige beland. Dit alles het David Bosch in 1991 laat opmerk:

‘More than has ever been the case since Constantine’s victory over Maxentius at the Milvian Bridge in AD 312, Christian theology is a theology of dialogue. It needs dialogue for its own sake … One-way, monological travel is out, as is militancy in any form (1991: 483).

Dit pas ons om by die eeufees van Warren sy eie deurslaggewende bydrae tot die debat aan die orde te stel. Die sewe beginsels wat hy destyds geformuleer in The relationship between Christianity and other world religions geformuleer het, is vandag nog van wesenlike belang. (Vir die doeleindes van hierdie artikel het ek die volgorde van punte 6 en 7 omgeruil.)

3.1 Die eerste beginsel: ons gemeenskaplike mensheid

Wanneer Christene met mense van ander gelowe in gesprek tree, gaan dit om mense wat mense ontmoet, nie godsdienste of sisteme wat in abstracto met mekaar in verhouding tree nie. Soos vir sy twee groot voorgangers Hendrik Kraemer en William Temple, was dit vir Warren van uiterste belang:

“Christianity cannot have any relationship with other religions. No more can Hinduism or Buddhism or Islam. To think that they can have such a relationship is a purely academic exercise which very soon leads to that preposterous parody of real life – the study of comparative religion … What you can get is men of religion meeting one another and seeking to discover what it is that their respective religions mean to them” (1966:5, vgl 1976:162).

Saam met ons om die tafel sit mense net soos ons, mense wat deur God gemaak is en sy beeld vertoon. Ons het dieselfde herkoms en ook dieselfde verlange in ons harte. Vir Warren was Paulus se woorde aan die Ateners van deurslaggewende belang: “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak … God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand 17:26vv). Ons dra sáám aan ons skuld. Ons mag ook sáám deel hê aan die verlossing wat Christus vir ons gesamentlik verwerf het. “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek deur Jesus Christus” (Rom 3:23vv).

Gesoute sendelinge vanuit alle wêrelddele het wat Warren hierbo gesê het, beaam – ook vanuit Suid-Afrika. ’n Egte dialoog begin wanneer jy jou gespreksgenote as medemense raaksien en aanvaar, wanneer jy bereid is om hulle as vriende te benader. Twintig jaar nadat Warren sy beginsels uiteengesit het, het die missioloog Chris Greyling wat sy spore as sendeling onder Moslems in Suid-Afrika verdien het, dieselfde gedagte beklemtoon. In sy hoofstuk in die sendinghandboek wat destyds vir studente in die N G Kerkfamilie (Reflecting on Mission in the African context, 1987) geskryf is, het hy daarop gewys dat die Christelike getuienis teenoor Moslems op twee skynbaar botsende benaderings rus: Jy moet eers vergeet dat hulle Moslems is. Hulle is mense, soos ons. En dan moet jy onthou dat hulle Moslems is. “We must learn to treat Muslims as people loved by God. They have their crises and problems like all other people. We must rejoice with them in their times of joy – birthdays, engagements, marriages, when children pass an examination or attain a degree. We must invite them to share our times of joy. We must visit them and pray with them in their times of sickness, crisis and pain” (1987: 146).

3.2 Die tweede beginsel: die alomteenwoordigheid van God

Warren se tweede fundamentele beginsel vir ’n dialoog is die bewussyn van die alomteenwoordigheid van God. Lank voordat ons op die toneel aankom, was God reeds daar. Lank voordat ons ’n dialoog begin, was God reeds besig om deur sy Gees die terrein voor te berei:

“When I go to meet the man of another faith I find that God is there to meet me. For He is at work already. I can never anticipate God. I may become his fellow-worker and by my faithful interpretation unveil the hidden Presence. But even if that should be my privilege my own face will shine with the reflection of His glory, I, as well as the other man, am the benefited. God is the benefactor. That is a truth for my humbling, and for my very great encouragement as an interpreter” (1964: 37).

Die gedagte dat God altyd die eerste inisiatief neem, is iets wat in talle van Warren se geskrifte na vore kom. Reeds in 1957 in Challenge and Response, ’n reeks sendingkundige studies, skryf hy:

“As God has moved first in regard to the evangelist so it will be assured that God moved first with regard to those to whom the evangelist goes. That assumption carries with it the certainty that in any situation and in any company in which the evangelist finds himself God will have got there first. God is always the first pioneer” (1957: 55).

Hierdie sekerheid omtrent God “wat altyd eerste daar is”, is vir Warren een van die fondament- stene van die Christelike teologie. Dis niks anders nie as wat die ouer teoloë met die “prevenience of grace” bedoel het (1957: 55). Dis ook die basis van die Christelike geskiedenisbeskouing, van die Bybelse eskatologie. Dis juis omdat God die groot Pionier is, dat sending moontlik is. Dit is, volgens Warren, wat Paulus in sy boodskap aan die mense van Listra deurgegee het, dat God Homself “nie onbetuig gelaat het nie” (Hand.14:17). Lank voor Paulus in die stad aangekom het, was God reeds daar. En vir die Ateners, se hy: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende God’. Nouja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Hand 17:22vv). Vir Paulus was dit sy groot roeping: “to present Christ as the fulfilment of the Gentile’s hope, as he was surely, for Paul, the Messiah of Israel’s expectation” (1966: 16). Paulus se taak was – soos dit die taak van elke sendeling op aarde is – om die Christus wat reeds dáár is, aan mense voor te stel, wetende dat die testimonium internum Spiritus waarop ons staatmaak, ook vir ons gespreksgenote beskore is.

Dit maak dat ons die dialoog met “an air of expectancy” kan aandurf, in die wete dat ons nie alleen met ons gespreksgenoot aan tafel sit nie. Die Here het lank tevore reeds vir ons die plek berei. Dis waarom ons daar is! Hy lei ons gedagtes, Hy gee ons die woorde wat ons nodig het.

Dertig jaar later sou David Bosch die woorde met instemming aanhaal. Onder die agt “perspektiewe op die dialoog” wat hy in sy Transforming Mission behandel, stel hy dit met verwysing na Warren, as sy perspektief nommer drie:

“… (D)ialogue (and, for that matter, mission) is only possible if we proceed from the belief that … we are not moving into a void, that we go expecting to meet the God who has preceded us and has been preparing people within the context of their own cultures and convictions … God has already removed the barriers; his Spirit is constantly at work in ways that pass human understanding … We do not have him in our pocket, so to speak, and do not just “take him” to others; he accompanies us and also comes toward us (1991: 484)

3.3 Die derde beginsel: die “beste” in ander godsdienste

As die tweede beginsel ons erns is, as ons werklik onder die indruk daarvan is dat God vóór ons daar is, dat Hy hom nie aan ons gespreksgenote “onbetuig gelaat het nie”, dat ons vonkies van sy lig in ons gespreksgenoot se godsdiens aantref, impliseer dit dat ons dat ons hom – en sy diepste oortuigings - met groot respek sal bejeën. Ons sal ons skoene van ons voete moet trek, want dit is vir hom heilige grond.

Dit bring mee dat ons ons deur die “beste” in die ander godsdiens sal laat lei, nie die “slegste” nie. Ons sal eerstens na die goeie en egte in ons gespreksgenoot se geloofsbelewenis moet vra, nie na die negatiewe nie. Dit gebeur te maklik dat ons ons in die ander se swak punte verlekker, in die negatiewe persepsies wat ons van die ander het. Die versoeking is groot om die beste van die Christendom met die slegste van die ander godsdiens te vergelyk, of om karikature van die ander op te stel – karikature wat soos strooipoppe maklik afgeskiet kan word. Dis nie net verkeerd nie, dit werk nie, was Warren se standpunt. Vir sommige Christene is dit ’n riskante saak: durf jy die goeie in die ander geloof te soek en te waardeer? Is dit nie ontrou aan die evangelie nie? Warren was van die teendeel oortuig:

“We may be sure that He (God) will not contradict himself. We may be sure that nothing that we may discover will put a veil of covering over the face of Jesus so that the glory of God there revealed will be obscured. But we may well discover truth about God expressed in a different ideom of experience from our own. Only as we are really prepared to meet God in and through some other experience than our own, can we hope to approach the man of another religion than our own, that with him we may go on to discover more of the unsearchable riches of Christ” (Warren, 1960: 16).

Eers wanneer ons met erns na die goeie, na die waarheidselemente in ander godsdienste gevra het, kan ons ook die groot verskille, die onwaarhede, op die tafel plaas.

”… the new and, I believe, the truer method of encounter … will not whittle away real differences and produce some agreed confession of Faith based on the lowest common multiple. Far from that, this approach … is calculated to show what are the genuine differences and just how important the may be” (Warren, 1966: 15).

Die dialoog is nie ’n verbloemde poging tot sinkretisme nie. Op geen manier wou Warren die uniekheid van Christus in gevaar stel nie. Daaroor is die Bybel te duidelik: “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun nie het nie, het die lewe nie” (1 Joh 5:12). “Let no one underestimate the enormous difference between possessing and not possessing the life of the Son of God” (Warren 1966: 15). Daarom rus die verligting op ons om nádat ons met groot belangstelling en empatie na die beste wat jou gespreksgenoot kon bied geluister het, ons die geleentheid moet aangryp om op ons beurt die evangelie van Jesus Christus – die volle waarheid van God – aan hom deur te gee. En, om wanneer die tyd ryp is, ook die onwaarhede waarmee hy leef, aan die kaak te stel.

3.4 Die vierde beginsel: identifikasie

Die vierde beginsel vra waarskynlik die heel meeste van die gespreksgenote: die gewilligeid om met die ander te identifiseer, om jou so ver as moontlik in die ander persoon se lewe en omstandighede in te leef. Dit vra van jou dat jy “die taal van sy hart” sal leer verstaan. Dit kom nie vanself nie: dit vra verbeeldingskrag, uithouvermoë, nederigheid en baie liefde. Warren was lief om na die voorbeeld van die profeet Esegiël te verwys, die profeet wat na die ballinge in Babel gestuur is met ’n allerbelangrike boodskap van die Here. Al kan ’n mens Esegiël nie in die moderne sin van die word as ’n “sendeling” tipeer nie – hy is immers as profeet na sy eie mense gestuur – is die wyse waarop die Here hom vir sy verkondigingstaak voorberei het, vir elke verkondiger van die evangelie van groot belang. Voordat die profeet gestuur is om te praat, moes hy eers ervaar én leer om te luister – en dit is ’n les wat elke sendeling in ons dag ernstig moet opneem.

In die Authorised Version word Esegiël 3:15 vertaal as: ”I came to them of the captivity … and I sat where thay sat, and remained astonished among them for seven days”. Die Revised Standard Version vertaal dit effe anders: “I came to them of the captivity … and I sat there overwhelmed among them for seven days”. Die beklemtoning verskil, sê Warren: eersgenoemde vertaling beklemtoon Esegiël se “entering into the experience of the exiles”, terwyl laasgenoemde “the ‘overwhelming’ character of what the prophet experienced by joining these exiles where they were”, benadruk (Warren, 1960: 60vv).

Albei beklemtonings is belangrik: ons moet, eerstens, mense ontmoet waar hulle is, ons moet “sit waar hulle sit”. Ons moet hul situasie – hul vreugde en hul pyn – leer verstaan, en óók verstaan hoe dié ervarings hul standpunte en oortuigings beïnvloed (Warren, 1960: 17). “You and I cannot bring men to Christ by whistling to them at a distance. We have to go and meet them, as God does, and psychologically speaking this means coming to them imaginatively where they imagine themselves to be” (Warren, 1955: 31). Die tweede beklemtoning is egter net so belangrik: dat ons “verstom” word, dat ons onsself sprakeloos bevind, sprakeloos omdat ons dit so moeilik vind om die ander werklik te verstaan, omdat hulle nood so groot is, omdat ons so sukkel om die verlossing van Christus vir hulle duidelik te maak, omdat ons woordeskat te kort skiet. Maar ook sprakeloos omdat ons ervaar dat God reeds daar is, dat Hy reeds in die situasie sy stem laat hoor (Warren, 1960: 17).

Om so te identifiseer, vra baie. Om ’n getuie van Jesus te wees, was nog nooit goedkoop nie. Daar is ’n prys voor te betaal. Van Paulus het dit gevra dat hy vir die Jode soos ’n Jood moes word, vir die wat sonder die wet was soos een sonder die wet, “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red”(1 Kor 9:22). Maar daar is ’n nog dieper voorbeeld van wat identifikasie werklik beteken: Toe God sy Seun na die wêreld gestuur het, het Jesus – met respek gesê – nie soos ’n satelliet op ’n veilige afstand om die aarde gesweef en van ver af sy boodskap gekaats nie. God het ’n mens geword, ons vlees en bloed aangeneem, ons lewens met ons gedeel, ons dood sy dood gemaak om sy liefde aan ons te demonstreer en ons ’n nuwe lewe – die ewige lewe – te gee.

Deur die loop van die eeue was daar talle begenadigde getuies van Jesus wat dié weg gevolg het, wat op voetspoor van die Here Jesus op die pad van identifikasie gestap het. Warren het met groot waardering die voorbeeld van Charles de Foucauld aangehaal, die Franse priester wat sy lewe daaraan gewy het om die armste onder die armes in ’n Moslemgemeenskap te dien. Hy het jare lank onder die Tuaregs in die Sahara gewoon en gewerk en uiteindelik ook (in 1916) onder hulle sy lewe verloor – maar deur sy voorbeeld het hy ’n vlammetjie aan die brand gesteek wat talle “little brothers of Jesus” die wêreld in gestuur het. ’n Christen, het de Foucauld geskryf, moet present wees onder mense, “with a presence willed and intended as a witness to the love of Christ” (aangehaal deur Warren, 1960: 74). Daar was ook ander wat die geheim verstaan het en op Foucauld se voetspoor gevolg het. In die sestiger jare van die vorige eeu, toe Warren aan die skryf was, het die talle Katolieke priesters en Protestantse predikante as priester-arbeiders in fabrieke oral oor Europa gaan werk. Ook in Suid- Afrika was daar getuies van Christus wat die dure les van identifikasie geleer het. In sy outobiografie vertel Warren hoe hy tydens sy besoek aan Suid-Afrika onder die indruk gekom het van mense wat veel meer as hyself ervaar wat dit beteken om in ’n baie moeilike situasie die kruis van Christus op hulle te neem en die waardes van die kruis uit te leef (Warren, 1974: 236 ).

3.5 Die vyfde beginsel: beleefdheid en beskeidenheid.

’n Mens kan nie by ’n dialoog betrokke raak, het Warren gesê, as jy dit nie in die gesindheid van nederigheid en beskeidenheid doen nie. Daar is niks wat ’n gesprek so gou laat sneuwel as ’n houding van arrogansie, van ’n “luister na my, ék weet beter as jy houding” nie. Warren was gefassineer met Paulus se gesprek met die Korintiërs – wat in baie opsigte ’n moeilike en spanningsvolle gesprek was – wat hy só begin: “In die Naam van Christus wat nederig en vriendelik is, vra ek julle …”(1 Kor 10:1). Warren het Matthew Arnold se vertaling van die teks verkies: “the courtesy and sweet reasonableness of Christ”- en dit as die dubbele sleutel vir ’n ware dialoog aangedui. So ’n houding is die teenoorgestelde van enige meerderwaardigheidsgevoel, van die hooghartige afkraak van ander standpunte.

Nederigheid, nie hoogmoed nie, het Warren verklaar, is dié kenmerk van die evangelie- verkondiger, van die persoon wat soos Jesus bereid is om sy eie heerlikheid en eer af te lê wille van dié wat hy met die evangelie wil bereik. Dit vra baie. Vir Jesus het dit sy kruis gekos. Maar so hoort dit ook:

“The cross was not a symbol of imperial domination, but of the imperium of sacrifice. The Christian faith has nothing to lose by suffering. In and through suffering it can perhaps speak home to the hearts and minds of suffering mankind better than in any other way” (1959a: 10)

Warren was nie die enigste om hieroor te praat nie. Sy tydgenote Cragg (1969: 5), Newbigin (1969: 5) en Margull (1974: 410vv) het by hom aangesluit. Broosheid (vulnerability) was volgens laasgenoemde die heel beste term om die kerk in sy ontmoeting met ander godsdienste te beskryf. Dit was ook die taal van Bosch, wat as sy vierde beginsel stel dat dialoog en ook sending nie anders kan as om in gesindheid van nederigheid beoefen te word nie (1991: 484v). Jare tevore, in sy Heil vir die wêreld (1979) het Bosch al hieroor nagedink, oor hoe moeilik dit vir ’n Christen is om laag te buig en om in nederigheid te dien, om jouself in belang van die evangelie te “kruisig”:

“Die kruis is die waarmerk van die kerk, soos dit van Jesus was. Die merke van die spykerswas die bewys van sy identiteit. Op grond daarvan het die dissipels geglo (Joh 20:20). In die geval van die kerk sal dit eweneens ook op grond van die merke van die kruis wees, dat die wêreld sal glo (1979: 247).

3.6 Die sesde beginsel: interpretasie

Die sesde beginsel is dié van interpretasie. Warren het die woord interpretasie bo verkondiging verkies, want die interpreteerder moet nie net die boodskap wat hy bring verstaan nie, maar ook verstaan hoe sy hoorders die woorde wat hy kies, vanuit hulle omstandighede sal interpreteer. Kommunikasie is ’n tweerigting-gesprek waarby ekspressie en resepsie ewe belangrik is. As die hoorder nie regtig hoor en verstaan wat ons sê nie, is ons gesprek nutteloos. Daarby moet ook gesê word dat om ’n getuie te wees nie ’n ligte of oppervlakkige saak is nie. Dit raak jou as persoon, dit raak jou eie ervaring.

“To witness has been the spectator of some event, the recipient of some experience. He has not himself done something, but something has happened to him. To this he bears witness. About this he gives testimony” (1964: 42).

’n Getuie staan “tussen in”, tussen die gebeure waarvan hy vertel en die hoorders aan wie hy daarvan vertel – wie hulle ook al mag wees: regters, vreemdelinge, vriende, bure, familie, mense van ander gelowe. Deur “tussen in” te staan, word jy ’n interpreteerder. Kenneth Cragg, met wie Warren jare lank gekorrespondeer het, het vanuit sy ervaring as Moslemsendeling die selfde gedagte beklemtoon:

“The amazing reality behind and within the Christian mission in the world is this task of interpretation.Our duty is to carry over the Word which God has uttered, to be translators of His speech in language, the ideom and the minds of ordinary men. Our words are to be servants of His word, our lives of His life, our persons of His Person. Men are to take from us their knowledge of Himself. There is this sequence: “Thou in Me and I in them”, with the purpose “that the world may know that Thou hast sent me” (Craag, 1956: 273v).

Hoe belangrik die taal is waarin ons getuig, het Warren dikwels benadruk. Hy het graag daarop gewys dat dit vir die prediking van die evangelie in die Weste van wesenlike belang was dat die Christelike geloof wyd aanvaar is vóórdat die verskillende tale van Europa hul vaste vorm gekry het. Woorde het betekenisse gekry wat dwarsdeur Europa as gemeenskaplik en Christelik herkenbaar was. Daarteenoor het die vernaamste tale van Asië en Afrika eeue vóórdat hulle deur Christelike idees beïnvloed kon word, tot ontwikkeling gekom. Dit vorm vandag nog ’n voortdurende bron van wanbegrip. Die teologiese woordeskat van die Islam in sy Arabiese vorm, maak byvoorbeeld ’n besliste hinderpaal vir die verstaan van die evangelie uit. En in primitiewe dele van die wêreld waar tale nog nie ’n vaste vorm het nie, is denkpatrone wel so stereotiep dat dit besonder moeilik is om woorde vir Christelike begrippe te vind.

Net so belangrik, indien nie nog belangriker nie, is dit om die evangelie in die “taal van mense se harte” te bring. Dis nie net nodig om woorde en idiome te begryp nie, maar om ’n aanvoeling te hê vir die kultuur en konteks waarbinne jou gespreksgenote lewe, wat hul lewensprobleme en hul godsdienstige ervarings is. Hoe verduidelik ’n mens die Woord van die Here aan hulle op so’n wyse dat dit vir hulle sin maak, dat dit in hul lewensomstandighede ’n bevrydende woord spreek? Vir die interpreteerder is dit belangrik wat hy sê, maar dikwels óók wat hy nie sê nie. Jou woorde kan ’n verskil maak – maar jou dade, jou gesindheid, jou voorbeeld en jou liefde, nog meer.

3.7 Die sewende beginsel: ’n lewende verwagting

Iemand wat met ander om ’n tafel gaan sit, verwag dat iets gaan gebeur. Inligting gaan deurgegee word, probleme gaan saam gepak word, oplossings gesoek word, verhoudings gaan groei. Dis waarom die gespreksgenote dáár is. So gaan ons ook, sê Warren, wanneer ons mense van ander godsdienste om ’n tafel ontmoet, met afwagting. Iets gaan gebeur! In die eerste plek kan ek verwag om meer van my gespreksgenoot te leer. My Moslem-gespreksgenoot is nie ’n tema wat ek gaan ondersoek nie. Hy is nie ’n museumstuk of ’n toeristeposkaart nie, maar ’n mens, soos jy en ek. En hoe beter ek hom leer ken, hoe meer verras hy my. Hy leer my nie net hoe om hom beter te verstaan nie – uit ons gesprek leer ek al meer van myself.

Maar die verrassing lê nog dieper. Hoe meer ons praat hoe meer leer ek van God ken, hoe meer leer ek die ou waarhede van die Bybel op ’n nuwe manier verstaan. Een van die grootste verrassings van die dialoog is dat ek al geselsende meer en meer bewus word van die werk van die Heilige Gees. Lesslie Newbigin, nog een van Warren se tydgenote, was lief om in dié verband na Petrus se ontmoeting met Kornelius, die Romeinse offisier, te verwys (Hand 10). Wie het dié dag die meeste geleer, het Newbigin gevra, Kornelius of Petrus? Die Heilige Gees het die dag nie net ’n afspraak met die heidense kaptein van die Italiese regiment gehad nie, maar ook met Petrus, die apostel van Jesus Christus. As Kornelius se lewe verander is, was dit net so (miskien nog meer!) waar van Petrus (Newbigin 1995: 182).

Die Nederlandse missioloog Jo Verkuyl, wat jare lank as sendeling in Indonesië gewerk het, was lief om na dié verrassende aspek van die dialoog te verwys: “Het gaat er om, dat wij in onze dialoog samen met onze partner betrokken raken in Gods dialoog met ons en onze partner, waarin Hij ons en onze partner tot luisteren en antwoorden beweegd” (1975: 439, vgl ook Crafford, 1996: 233). Dan groei die dialoog tot ’n trialoog!

Ons hoop en verwagting aan die gesprekstafel het egter nóg ’n dieper dimensie: God is in beheer van die wêreld. Hy is besig om in die geskiedenis sy heilsplan uit te werk, om die aarde op die wederkoms van sy Seun voor te berei. Alle drade van die geskiedenis, alles wat elke dag met ons gebeur, loop saam na daardie dag, na die dag van sy koms. Ook die klein draadjies van my gesprek met my buurman. Ons sit nie toevallig en gesels nie, dis deel van God se groot plan. Die oortuiging dat ons getuienistaak en ons verwagting van die wederkoms van Christus – die missiologie en die eskatologie – onherroeplik aan mekaar verbonde is, lê diep in Warren se denke, dit sorg vir een van die leit-motiewe in sy teologie. Reeds in sy Truth of Vision, een van sy vroegste publikasies (1948), het hy geskryf:

“I am sure of this; that any effective prosecution of the Church’s primary task of evangelism in the world must depend upon the nature of its hope. What is more, the nature of that hope will largely determine the character of that evangelism”(1948: 57).

Omdat Christus aan die kruis gesterf het, het ons die reg om ’n hoopvolle gesprek met ons bure aan te knoop. Die feit dat Hy opgestaan het en opgevaar het, dat ons in die verwagting van sy wederkoms leef, gee sin aan al ons moeisame pogings om ons geloof met ander te deel. Dialoog– soos alle sendingwerk – is hoop in aksie!

4. SLOT: NEDERIGHEID ÉN OORTUIGING

Tot sover, wat Max Warren oor die dialoog geskryf het. Dat ons na al die jare baie van hom kan leer, ook wat die broodnodige gesprek in ons land tussen Christene en mense vanuit die ander geloofsgemeenskappe betref, is gewis. Dit beteken egter nie dat geen kritiek teen hom ingebring sou kon word nie. Warren was ’n kind van sy tyd, wat antwoorde op die groot vrae van sy tyd probeer gee het – antwoorde wat nie altyd op die probleme waarmee ons te make het pas nie. Hy was ’n tipiese Anglikaan, gebore en getoë in die inkarnasie-teologie van sy kerk, wat veroorsaak het dat hy na die oordeel van sommige te maklik oor die beginsel van identifikasie – en die implikasies daarvan in ons lewens – geskryf het. Warren het nooit voorgegee om ’n deurwinterde eksegeet te wees nie – en teen sekere van sy eksegetiese standpuntstellings sou óók vrae gevra kon word. Toe hy, saam met van sy ekumeniese kollegas, hul eerste gedagtes oor die dialoog begin neerskryf het, was daar vanuit verskillende oorde felle kritiek, soos dié van Zuidema waarna hierbo verwys is.

Maar van één saak sou sy tydgenote Warren nie kon beskuldig nie: dat hy in sy entoesiasme oor die dialoog die evangelie ontrou geword het, dat hy sy geloof uitverkoop het. Soos talle van sy tydgenote en dié wat na hom gekom het, het Warren van die standpunt uitgegaan dat ’n ware dialoog ’n diep verbintenis met Jesus Christus veronderstel (vgl 3.2 hierbo). Soos die riglyne wat die WRK vir die dialoog opgestel het (1979), dit benadruk het: “Dialogue means witnessing to our deepest convictions, whilst listening to those of others” (aangehaal uit Bosch 1991: 484). Op sy beurt sou David Bosch hierby aansluit – dis trouens sy perspektief nommer twee:

“...(T)rue dialogue presupposes commitment. It does not imply sacrificing one’s own position – it would then be superfluous. An ‘unprejudiced’ approach is not merely impossible but would actually subvert dialogue: (1991: 484).

’n Interessante kanttekening wat by die dialoogdebat van die sestiger jare gemaak kan word, is dat die Nuwe Testamentikus EP Groenewald op eksegetiese gronde reeds in 1963 ’n saak daarvoor uitgemaak het dat die kerk nie vir die dialoog hoef terug te deins nie. Inteendeel, die woord dialegesthai, het hy verduidelik, is die mees gebruikte werkwoord om Paulus se eie verkondigingsmetode aan te dui. En dan voeg hy by: “Dit sal stellig lonend wees om in die sendingarbeid en evangelisasie die dialegesthai as verkondigingsmetode doelbewus te beoefen“ (Groenewald, 1963: 326).

Wat wél waar is, is dat van die onontwykbare – en ook noodsaaklike – spanning wat daar tussen sending en dialoog bestaan, min in Warren se beskouings tereg kom. Want uiteindelik bly die vraag, in die woorde van Bosch (wat dit as sy laaste perspektief op die saak stel): “How do we maintain the tension between being both missionary and dialogical? How do we combine faith in God as revealed uniquely in Jesus Christ with the confession that God has not left himself without a witness?” (1991: 488). Verskillende antwoorde is deur die jare hierop gegee. Tydens die Tweede Vatikaanse Konsilie het dit ter sprake gekom. By verskillende vergaderings van die WRK is daaroor gedebatteer. By die San Antonio-kongres van die Commission for World Evangelism and Mission is ná ’n lang bespreking besluit dat die spanning nie opgehef kan – of moet – word nie, dat dit ’n kreatiewe en noodsaaklike spanning is. Die twee oortuigings is naas mekaar geplaas:

“We cannot point to any other way of salvation than Jesus Christ; at the same time we cannot set limits to the saving power of God (WCC 1990:32) … We appreciate this tension, and do not attempt to resolve it” (WCC 1990: 33).

Uiteindelik pas dit ons om erken dat ons nie al die antwoorde het nie. Maar dit verswak nie ons roeping om ons met volle oorgawe op die avontuurlike weg van sowel sending as dialoog te begeef nie. Op die pad waarop die Gees ons neem wag talle risiko’s, maar net soveel verrassings. Dis ’n weg waarop ons ons met nederigheid én afwagting begeef. “Bold humility, or a humble boldness”, is wat ons op ons reis nodig het, was Bosch lief om te sê (1991: 489).

In aansluiting hierby het Bosch die essensiële lewenshouding van ’n getuie van Jesus Christus soos volg getipeer. By die herdenking van die honderdste geboortedag van Max Warren sou ’n mens nie ’n meer raak beskrywing van sy lewe en werk kon gee as dit nie. Dit is waarvoor die Anglikaanse missioloog, die jare lange sekretaris van die Church Misisonary Society gestaan het. Dit is die boodskap wat hy uitgestraal het:

“We know only in part, but we do know. And we believe that the faith that we profess is both true and just, and should be proclaimed. We do this, however, not as judges nor as lawyers, but as witnesses; not as soldiers, but as envoys of peace; not as high-pressure salesmen, but as ambassadors of the Servant Lord” (1991: 489).

BIBLIOGRAFIE

Bosch, David, J 1979. Heil vir die wereld. Pretoria: NGKB

Bosch, David, J 1991. Transforming Mission. Paradigm Shifts in Theology of Mision. Maryknoll:Orbis

Crafford, D 1996. “Teologie van die godsdienste” in Meiring, Piet (ed): Suid-Afrika, land van baie godsdienste. Pretoria: Kagiso

Gragg, Kenneth 1956: The Call of the Minaret. Londen: Oxford University Press

Gragg, Kenneth 1959. Sandals at the mosque: Christian Presence amid Islam. New York:Oxford University Press

Dillistone, FW 1980. Into all the World. A Biography of Max Warren. Londen: Hodder and Stoughton

Du Toit, HDA 1967: Die kerstening van die Bantoe. Pretoria: NGKB

Greyling, CJA 1987: “Communicating to Muslim” in Pretorius, HL (ed): Reflecting on Mission in the African context. Bloemfontein: Pro Christo

Groenewald, EP 1963: “Die tweespraak as verkondigingsmetode by Paulus”, in NGTT, Maart 1963, 326vv

Kreamer, H 1939/1947. The Christian Message in a Non-Christian World. Londen: Edinburgh House Press

Margull, Hans, J 1974. “Verwundbarkeit: Bemerkungen zum Dialog”, Evangelische Theologie (vol 34) pp 410vv

Meiring PGJ 1968. Max Warren as Sendingwetenskaplike. Ongepubliseerde D D-tesis, Universiteit van Pretoria.

Meiring PGJ (red) 1996. Suid-Afrika, land van baie godsienste. Pretoria: Kagiso

Meiring PGJ 2002. Christen in ’n land van baie godsdienste. Wellington: Lux Verbi-BM Newbigin, Lessie 1969. The finality of Christ. Londen: SCM

Newbigin, Lessie 1995. The Open Secret. Londen: SPCK (hersiene druk)

Van der Merwe, WJ 1967. Gesante om Christus wil. Kaapstad: NGKU

Verkuyl, J 1975. Inleiding in de nieuwere Zendingswetenschap. Kampen: Kok

Warren, MAC 1948. The Truth of Vision. Londen: Hodder and Stoughton

Warren, MAC 1955. The Christian Imperative. Londen: Hodder and Stoughton

Warren, MAC 1959. Challenge and Response. Londen: SPCK

Warren, MAC 1959a. “General Introduction” in verskeie volumes van die Christian Presence Series. Londen: SCM

Warren, MAC 1964. Perspective in Mission. Londen: Hodder and Stoughton

Warren, MAC 1966. Interpreting the Cross. Londen: SCM

Warren, MAC 1966a. The Relationship between Christianity and other World Religions. Londen: Westminster Abbey Lent Lecture.

Warren, MAC 1974. Crowded Canvas. Some experiences of a life-time. Londen: Hodder and Stoughton

Warren, MAC 1976. I believe in the Great Commission. Londen: Hodder and Stoughton. World Council of Churches 1990: The San Antonio Report. Geneve: WCC

Zuidema, SU 1956: De Christus der Schriften en Oecumenische Theologie. Amsterdam: Buijten en Schipperheijn

TREFWOORDE

Sendingteologie Sendingmetodiek Dialoog Suid-Afrika Max Warren

KEY WORDS

Mission Theology Missionary methods Dialogue South Africa Max Warren

Prof PGJ Meiring
Fakulteit Teologie

Universiteit van Pretoria

0002 PRETORIA

pmeiring@ccnet.up.ac.za