Liturgie as agent in transformasie prosesse
ABSTRACT
Liturgy as an Agent in Transformation Processes
This article is in principle a practical-theological argument for a liturgical praxis which can act as a revisioning agent in processes of transformation. It stresses the important role of the litrugy in the creation and nourishment of faith-experiences as the source of renewed energy in such processes. In the liturgy new creative spaces must be developed where a new moral order and moral practices can be (re)learned. Through the formation of such new lifeworlds the litrugy can give redescriptions of hte so-called unchangeable realities in society. In the article the litrugical sources of energy is described in terms of hte experience of the praesentia dei realis, the histroy of salvation made relevant through litrugy, the subversive power of liturgy, its didactical value, the humnic forces, the role of confession, the role of services in ecumencial contexts and the creation of new forms of litrugical celebration.
Daar is dikwels ’n goeie wil tot en sterk logiese beredenering ten gunste van transformasieprosesse– dink maar aan die lang, byna uitmergelende geding rondom die eenwording van die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hoewel belydenisskrifte, goedgefundeerde kerklike uitsprake en dringende Skrifprediking die transformasieprosesse steun en nuwe denke en praktyke wil inisieer, blyk dit meesal vas te loop teen allerlei “ondergrondse” weerstande ... weerstande gevoed deur verkalkte tradisies, emosies, konvensies, ivoortorings, ensovoorts! In sulke doodloopstrate vra hierdie dringende transformasieprosesse na andersoortige energiebronne, na dinamiese visies én praktyke wat ’n transformatiewe en hoopgewende praxis kan genereer. Skrifeise en belydenisse moet daarin nie net dogmaties nuut geherdefinieer en gepreek word nie, maar aangevul word deur nuwe geloofservaringe en praktyke wat die transformasie-energie voed.
1. LITURGIE AS ’N TRANSFORMATIEWE VISIONERINGSAGENT
Dit is die uitgangspunt van hierdie artikel dat die liturgie ’n belangrike rol in die skepping en voeding van genoemde geloofservaringe kan én moet speel wat aan sulke transformasieprosesse nuwe energie kan gee. Dit sal ’n liturgie moet wees wat nie ’n blote kultiese Sondag-onderonsie is nie, maar ’n liturgie as ’n visioenêre geloofshandeling wat die formasie én karakter van die menslike lewe en menslike samelewing beslissend kan bepaal. Dit het Jörns mooi uitgedruk in sy bekende artikel lex orandi – lex credendi – lex convivendi (1988, 12-22). In 2002 het Müller aangetoon hoe verskillende liturgiese handelinge in die praktyk nuwe energiebronne word in situasies waarin nuwe morele eise gestel word (2002:29v). In ’n voordrag by die Studia Liturgica in 2005 het hy aangetoon hoe die liturgie as moreelvormende krag juis in die Apartheidsjare in Suid-Afrika gekaap is in diens van die heersende samelewingstrukture (’n verslag van hierdie liturgiese breinspoeling sal in die weergawe van die kongresreferate in 2006 verskyn). Hierdie artikel wil die prinsipiële en prakties-teologiese onderbou van genoemde standpunte gee.
In sy artikels onderstreep Müller die bydraes van onder andere Wolterstorff, Wainwright, Wannenwetsch, Hauerwas, Smit, Vosloo, en andere (2002:32v). Oor die formatiewe rol van die liturgie by Hauerwas, sien verder Siker, 1997: Daarby sou die sieninge van Brueggemann gevoeg kan word: “our practice of worship and our commitment to ethical responsibility is intentionally related to each other” (1998:3) en van Birch: “the community of faith is constituted as community of worship” en verder: “a religious ethic which is wholly abstracted from the cult is a religious ethic without historical and social substance” (1991:129 en 163; sien ook Ogletree, 1983:54v). Terrien beweer tereg dat in Israel “theology was bred in celebration. Theologia could not be separated from Theolatreia … cult was capable of stimulating a faith which in its turn could arouse agents of reform and of renaissance in almost any generation” (1978:18 ). Oor die kritiese funksie van die etiek ten opsigte van die liturgie, sien Kraus 1996:44v.
Samevattend: die liturgie is een van die vormgewende transformasiekragte in die samelewing wat bestudeer moet word in samehang met ander vormgewende kragte in die samelewing. Liturgie is dan nie maar net die bestudering van die gelowige respons op die openbaring van God nie; dit is nie net responsief nie maar konstruktief en transformatief deurdat dit ’n alternatiewe sosiale verbeelding voed – ’n verbeelding wat alternatiewe lewenswêrelde oophou en daardeur transformasieprosesse inisieer en aan die gang hou in situasies en diskussies wat dreig om vaste loop in genoemde verkalkingsprosesse. Dit is ’n liturgie wat wegkom van ’n eenrigting vrome aanbidding wat té maklik en oorgerus die wêreld verlaat of dit laat soos dit “nou een maal maar is”. Dit is ’n liturgie wat die las van ’n geskiedenis van verdeeldheid en veronregting opneem, die etiese slaankrag van die erediens nie onder ’n maatemmer verberg nie, Dan word dit ’n liturgie wat
’n weg, ’n uit-weg aandui én open, deur genoemde alternatiewe wêreld te beskrywe – wat daartoe toegang verleen, geloofsoë open en energiegelaaide hoop genereer. So ’n liturgie wil God se heilsteenwoordigheid telkens opnuut inkarneer en herbevestig – want God maak in Sy inkarnasie lewensruimtes oop waarin transformasieprosesse kan gedy.
Brueggemann beklemtoon die vermoë van die liturgie om die werklikheid te herbeskryf en nuwe lewenswêrelde te bemiddel as “the formation of a viable lifeworld (which) happens through the work of the cult” en as “the process of worldconstruction, in Israel and elsewhere, is a liturgical process” (1988, 8 & 30). In aansluiting by Ricoeur beskryf hy die kreatiewe funksie van liturgiese taal: “alongside language which describes what is, there is a language that evokes what is not …. this language has a creative function” (1988, 17; sien ook Thiselton, 1992, 318v oor taal en wêreldvorming). Die boek van Atkins Memory and Liturgy (2003) wat onlangs verskyn het, lê ’n duidelike aksent op hierdie pastorale betekenis van die liturgie.
2. DIE ENERGIEPUNTE VAN DIE LITURGIE
Waaruit put die liturgie sy vermoë en krag om so wêreldveranderend te funksioneer? Ons meen dit lê onder andere in die volgende:
2.1 Die liturgie as erkenning van en respons op die teenwoordigheid van die handelende God
Die belewing van die praesentia dei realis is die hart van die erediens. Hiermee stem alle liturgiese tradisies saam (sien uitvoerig Barnard, 1981:388v, Noordmans, 1939:68v en Brunner 1954:135v). Trouens die hele erediens is ’n doksologiese aangrype deur en viering van hierdie Teenwoordigheid. Die krag van die liturgie om geloofsvormend, hoopgewend, transformerend te werk, lê in die aktiewe inbraak en deurbraak van die lewende God in en deur die erediens. Die vergadering van die gemeente met die een, unieke lewende God gee aan die erediens ’n besondere kwaliteit wat ons gebrokenheid transformeer met ’n visie van heelheid wat anderkant menslike en liturgiese vermoëns lê. Dit is per slot van sake ’n gawe, ’n wonder bewerk deur die teenwoordige God deur sy Gees. Die liturgie heel en transformeer nie ’n stukkende wêreld nie: God doen dit. Wanneer die gemeente as Kahal Jahwe, as ekklesia saamkom in antwoord op God se roepstem, word die diepste waarheid van die evangelie beliggaam. Heelmaking van die kerk kom alleen van die heilige God. Liturgie moet die vroedvrou wees van hierdie goddelike transformatiewe aksie wat deur Woordverkondiging, doopwater en brood soos ons dit herinner aan Hom wat sy lewe vir sy kerk gegee het. Daarsonder verloor die liturgie sy transformerende energie en vitaliteit. In die liturgie gaan die handeling van God vooraf aan die menslike, wat aan se handeling diensbaar moet bly.
Die lewe en wandel voor die aangesig van God in die erediens het implikasies vir die daaglikse liturgie as ’n wandel coram Deo (vgl. die bundel Woord teen die Lig III/4, 1996:15). In die liturgie word die geloof meer as net ’n kennis van God (vgl. Heidelbergse Kategismus). Liturgie as praesentia dei lei tot ’n modus vivendi et convivendi. Deur die liturgie kry die transformatiewe energie van God se magswerking gestalte onder mense. In die Naam van hierdie handelende God maak die liturgiese doksologie die nuwe wêreld van God beskikbaar. In die liturgie word God se soewereine kragwerking gemobiliseer in die rigting van transformerende morele optrede en ’n aktiewe soeke na reg en geregtigheid. So word die doksologie in die liturgie ’n stuk morele pedagogiek (sien Brueggemann, 2003:70). Daardeur kom alternatiewe wêreldveranderende en selfs subversiewe aksies los in die geloofsgemeenskap. So begin die liturgie ’n lewe oopbreek anderkant die kontingente Sondagleefwêreld, dikwels so vol gelaai met liturgiese kitsch en middelklas spiritualiteit. Die ontmoeting met die lewende God breek deur die rituele vullings wat ontwerp word om aan populêre smaak te voldoen.
Dit is veral Terrien wat liturgie en kultus beskrywe vanuit die respons op die teenwoordigheid van God. Vir hom is liturgie gebou op die “centrality of the theology of presence and the integral mutuality of cultus and faith” en “response to preserce in the awareness of love is the foundation of ethics. Behaviour is not motivated by obedience to ‘ordinances’ and ‘statutes’. Rather it is the response to presence which determines this obedience” (1978:4 en 288). Van Israel sê hy op p. 336 “The response to presence became the springboard of their ethics”. In dieselfde sin praat Janzen van “living in a constant awareness and recognition of God’s hallowing presence” (1994:107) en Arens wat liturgie sien as “innere Erregung, die der Menschen in der Begegnung mit der Herrlichkeit Gottes empfindet, die ihm zugleich als ein tremendum und fascinosum darstellt” (1961:12). Ook Birch praat van “ a morality which arises in response to the experience of the presence and activity of God” en verder “in the encounter with God the community understands itself to have been transformed, and some of its stories seek to effect the same transformative power in those encountering the stories” (1991:39 & 56). In die volgende onderafdeling gaan dit juis om die dinamiese verband tussen liturgie en die verhale van die heilshandelende God.
2.2 Liturgie as die aktualiserings van die heil en die heilsgeskiedenis
In die liturgie is die hele doksologie, die aanbidding van God in woordverkondiging, belydenis en gebede, sakramentsviering en liedere alles response op die teenwoordigheid van God en sy groot heilsdade in die geskiedenis: praesentia dei en actio dei is ten nouste verbonde in die erediens (sien Barnard, 1981:427v). In sowel die Ou as die Nuwe Testament is die kultus ingebed in en gedra deur die verhale van God se heilshandeling (sien veral Eks 20:1 en Hand 2:11). Liturgie is by uitstek (par excellence) die “geheue” van die geloofsge meenskap. Dit is die orgaan waardeur die gebeure waarop die geloof gegrond is telkens opnuut vasgegryp word: so word die heilsgebeure van die verlede opnuut beskikbaar gestel in die hede, word in elke onderdeel van die liturgie ’n aspek van die allesomvattende heil gevier, tasbaar teenwoordig gestel. So word die transformatiewe krag van die Evangelie in die lewe van die kerk ingedra. Dit help die geloofsgemeenskap om so sy identiteit te vier; tegelyk bemagtig dit die gemeenskap om sy toekoms narratief te bedink en uit die verte te “sien en daaroor te juig” (vergelyk Heb 11:13). Dit gee nuwe lewensperspektief in situasies van onsekerheid, grensoorgange, dikwels gelaai met stryd, brute geweld, chaos, ens. Omdat die hoop op transformasie vanuit die verhale eskatologies bepaal is, is dit meer as blote ontwikkeling, gaan dit sosiale programme van transformasie vóóraf. Dit word immers liturgies gestu vanuit die kragwerking van God in Christus Jesus (vgl. die Christologiese fundering van hierdie kragwerking in die gemeente volgens Ef 1:18-21). Hierdie verhale as “reservoirs of meaning” (Birch, 1991:71v wy ’n hele hoofstuk hieraan) het juis die liturgie nodig om betekenis daaraan te gee. Dit is juis die hermeneutiese funksie van die liturgie om die heilsbetekenis van die heilsgebeure uit te lig. So word in die liturgie die viering van die gebeure tot energiebronne van transformasie en werk hulle via die liturgie karaktervormend, gee hulle identiteit aan die geloofsgemeenskap. Deur ’n liturgie wat leef van die oorvertel van hierdie verhale word die gemeente ’n kreatiewe morele agent in die samelewing, word dit die voertuig wat die transformerende krag en heerskappy van God liturgies in alle lewensverbande indra. Sonder die herinnerende viering daarvan in die erediens verloor hierdie verhale dikwels hulle werklike betekenis vir die daaglikse lewe van die geloofsgemeenskap. In die samespel van goddelike heilshandeling en liturgiese viering van dié heil lê die krag van die liturgie om lewensrealiteite aan te spreek en te transformeer. Liturgiese inoefening in die herinnering, waarvan doksologie en dogma getuig, bly ’n alles belangrike lewensaar van die gemeente as draer van die omvattende heil vir die wêreld.
Oor die karaktervormende krag van verhale, sien veral die werke van Hauerwas, byvoorbeeld 1983:116v; 1981:53v. Siker gaan volledig op Hauerwas se bydrae in en skryf dan verder oor Israel “as a storied and remembered people … by recalling the story of Israel ... the Christian community recalls and reconstitutes its own identity as God’s people ... in that sense, rehearsing the biblical story becomes an act of remembering of ... reconstructing Christian identity” (1997:100v; sien ook Birch, 1991:53v oor “Narrative Theology and Ethics of Story”). Oor die erediens as “vehicle of memory in the community of faith” sien verdere Birch 1991:129v en 1989:20-47; en veral Atkins, 2003:25v). Verder oor karaktervorming en morele identiteit sien Birch en Rasmussen1976: 90v. Ook Janzen wys hoe etos gevorm word deur karakter en karakter deur storie: “ethic is rooted in story” en: “stories operate on an ethically prior and more primary level ... whereas law operates on a secondary or subservient level (1994:64). Verhale het hierdie transformatiewe krag in en via die kultus, deurdat dit nuwe lewensruimtes en nuwe lewensuitsigte open (sien hieroor Wilder, 1983:353v en Clines, 1978: 117v).
Hoe vind kragontsluiting van die narratiewe potensiaal tot karaktervormende energie in die liturgie plaas? Die liturgiese vertelling van en die herhalende inoefening in die kultiese viering van die heilsverhale uit die verlede maak as ’t ware die herinnerde werklikheid opnuut beskikbaar in die hede. En dit maak ’n nuwe verbintenis daaraan moontlik in die liturgievierende geloofsgemeenskap. So is die liturgiese viering van die herinnerde heilsverhale tegelyk ’n nuwe heraktualisering daarvan. Van die herinnering aan die groot heilsdade van God leef ook die kultiese feeste van Israel en dien hulle as konsentrasiepunte in die kultiese herinneringe. In die kultus word byvoorbeeld die kernherinneringe (“core memory”) van Israel, naamlik die eksodus en die inbesitname van die land ingebed in die daaglikse lewe van die gelowiges en dien dit as bevryding uit die doodloopstrate van ballingskap, ens (vgl. Jes 26:1). In die kultiese gebruik daarvan word die vertellinge dus meer as blote verslag van gebeure.
Anderson beweer: “in the worship the story was retold with a contemporaneous ring, so that it touched the concerns of people in their present situation” (1983: 58v). Ook J Bright beklemtoon die “cultic recitation …. of stories whereby ... the ethos of Israel (was shaped) in a very significant way” (1973:199). Oor hierdie aktualiserende krag van liturgiese herinnering sien vêrdere Terrien: “the historical past is made present through the ritual act ... a technique by which an event is symbolically, hence actually repeated, while a hope is enacted in a mimetic form ahead of its fulfilment ... the worshippers receive a new existence. They are recreated” (1978: 16 en 19). Ook Janzen sê: “stories act as forms of rehearsal ... acts of recommitment” (1994:62v) en Brueggemann: “the moment of retelling is the moment of dramatic actualisation” (1988:35). Oor die rol van die commemoratio in die liturgie, sien Lammens in sy geheel.
Die liturgie funksioneer dus hermeneuties as dit ’n vars, nuwe, verbeeldingryke transformasiekragtige heraktualisering van die ou teks in ’n nuwe konteks vergestalt. Liturgiese herinnering aan die heilsgeskiedenis, aan die verbond waarin dogma en wet funksioneer kry in die nuwe konteks ’n betekenisverbreding en –verdieping en word daardeur ’n instrument waardeur nuwe lewensperspektiewe en –ruimtes geopen word. In die liturgiese hermeneuse word die oordenkinge dus letterlik oordinkinge. Dit is juis hierdie “surplus van betekenis” wat lewenskragtig en transformerend werk; daardeur vind ’n “reappropriation” in die sin van Ricoeur plaas. Uit hierdie aktualiserende surplus van betekenis moet ook nuwe psalmberymings en geestelike liedere put.
Brueggemann is aan die hand van Ricoeur ’n eksponent van hierdie liturgiese “reappro- priation” as hy skryf: “the liturgic message is rooted in a memory, but it is the fresh announcement itself which causes kings te celebrate … in the moment of the announcement old claims are made present realities ... are made available” (1988:36).
2.3 Liturgie as subversiewe krag
In so ’n liturgie coram deo en liturgie as die viering van God se heilsdade uit die verlede wat liturgies heraktualiseer en bevestig word, word ’n krag tot sosiale bevryding gebore. Dit is nie bloot herhalende beskrywinge en reportage oor die heil nie, maar is ’n liturgie wat die verbeelding en geestelike energie voed. Daarom is liturgie altyd óók protesterende en profetiese liturgie wat wegvreet aan die verkalkte ou orde en selfversekerde, dikwels geslote sisteme. Liturgiese vertelling skep ’n gemeenskap van karakter, maar ook ’n gemeenskap vervul met ’n onstuitbare hoop – die hoop van God se met vreugde vrygelate kinders (sien Moltmann se Joy, veral 50v). Die kultus wil God se alternatiewe wêreld nie net aankondig nie, maar dit ook bewerk. Deur die verkondiging van die Woord, deur die liedere en gebede word geestelike, ekonomiese en politieke kragte ontsluit. Daarin word drome gedroom wat nie weer gestil kan word deur sogenaamde werklikhede nie. Dit is drome wat aanhaak by die doksologie wat God se nuwe wêreld beskikbaar maak: ’n wêreld van versoening, vrede, meelewing en mee- lyding, waarin gesoek word na reg en geregtigheid (sien Miga 6:8). So ’n liturgie is nie ’n vae uitnodiging tot die “rus van die eeue gesus” nie, maar is ’n gevaarlike, subversiewe, rewolusionêre en wêreldveranderende liturgie. Dit is ’n liturgie wat die uithouvermoë van die geloof, die volharding voed – maar ook ’n liturgie wat onrustig maak, wat gelowiges laat verlang na die nuwe skepping, na nuwe sosiale en medemenslike omgewings (sien Rom 8:21 en 2 Kor 5:17). Dit het ons reeds spesifiek uitgewerk en opsigte van die prediking (sien Burger, Müller en Smit in Woord teen die Lig, Bande III/1, III/3 en III/5).
2.4 Die didaktiese betekenis van die liturgie, met besondere verwysing na die wet
Die heilsverhale kry deur die liturgiese oorvertelling daarvan ’n betekenisdraende en dus lerende kant, ’n stuk liturgiese pedagogiek; terg sê Anderson: “History is recounted in order to teach people the meaning of their history ... to show God’s faithfulness” (1983:54; sien verder Terrien,
1978:310-314 oor “faith as an instrument of knowledge as well as a modus vivendi”.) Die wet speel in die liturgie hierin ’n sterk formatiewe rol: as lewensreël van die geloof is dit juis onlosmaaklik verwortel in die heilshandelinge van God in die geskiedenis (Eks 20:1, sien verder Eks 19:3-8 en 24:3-8 oor die liturgiese omraming van die gebod). Die gebod is eties gefundeer in die geloofs- en verbondsverhaal van God se genadige en reddende heilsdaad – daarom word in die liturgiese doksologie en pedagogiek die dikwels verwronge verhouding tussen wet en evangelie (veral in die prediking) weer reggetrek. Deur die formatiewe verbondsverhale in die liturgie oor en oor te vertel in loflied, gebed maar ook in die verkondiging van die gebod en in skuldbelydenis word gelowiges in die hede gehelp tot ’n telkens nuwe en vars geloofsverbintenis met die God van die geskie- denis. Die formatiewe en pedagogiese betekenis van die wet kry juis sy krag deur die verbinding daar- van met die liturgiese doksologie. Liturgies word die geloofsgemeenskap deur die wet én skuld- belydenis gehelp om ’n belydenisgemeenskap te wees én te bly: ’n gemeenskap van karakter, ’n gedis- siplineerde gemeenskap. Om op te tree soos mense wat gewortel is in die heilsverhaal, lewend daaruit coram Deo, in die aangesig van ’n heilige God. Die liturgiese gebruik van die wet en skuldbelydenis help met die totstandkoming en onderhouding van die geestelike dissiplines, so essensieel vir gesonde geloofsbeoefening. Die funksie van die wet in die liturgie lê dus nie in die aflees van ’n stel morele kodes nie, maar in die vorming, dissiplinering en aan die gang hou van hierdie gemeenskap van karakter: dit herinner nie net aan ’n sekere verbondsidentiteit nie, maar wil dit telkens bestendig laat voortduur in die liturgiese oproep tot daadkragtige gehoorsaamheid en roepingsbewustheid (sien o.a. Janzen oor “ethic as an effort to become holy in limitation of God’s holiness” 1994:106: LG Jones beklemtoon die rol van “pedagogies of discipleship” wat versoenend werk in sulke social contexts and localities” (1995:2, 121v; sien oor roeping hele bundel Woord teen die Lig 2003 III/6).
Oor die verband tussen wet en verhaal sien Janzen: “law and law codes are firmly embedded in Israel’s story account of her faith and interpreted by the framework of meaning inherent in that story” (1994:79); ook Brueggemann: “the ground for the world of imperatives is found in the credo recital of mighty deeds” (1998:79; ook Von Rad, 1966:1-78 en Gottwald, 1979:102v oor die rol van “recital”). Oor die verband tussen die wet en die verband met die heilige God, sien Birch: “Because Israels’ law is an attempt to give concrete expression to the covenant relationship to Jahweh it requires both the remembrance and the celebration in worship of that relationship and its history, and it requires the embodiment of that relationship in concrete social structures” (1991:162). In sy aksent op die verbondsetiek van Israel praat Brueggemann dan van ’n “pedagogy of doxology, narrative and commandment” (2003:70). Oor liturgie as die “formation and maintenance of a particular community of character” sien Birch, 1976:165 (sien ook sy 1989:20v en Childs, 1962:52-54 en in die algemeen die genoemde werke van Hauerwas).
2.5 Die lied as transformasie-agent
In hierdie onderafdeling gaan dit nie om die rol van die sogenaamde “kerklied” in die liturgie in die algemeen nie, maar spesifiek oor die rol van die lied in die transformasieprosesse. Net soos in die liturgiese Woordverkondiging, skuld- en geloofsbelydenis, wet en gebede gaan dit in die lied om ’n diep-eksistensiële belewing van die handelende teenwoordigheid van die lewende God. In die lied het ons theologia en theolatreia ineengestrengel (wat Anderson noem “theology in song” in 1983:13, 39v). Inderdaad troon God op die liedere van die geloofsgemeenskap (Ps 25:2). In die lied word die hele spektrum van menslike ervarings voor en met God metafories-poëties uitgedruk- en juis in hierdie metaforiese taalgebruik in die lied lê die kreatiewe en transformatiewe krag daarvan in die liturgie. Wat Anderson sê van die Psalms is ewe waar van kerkliedere: “They press human language to its poetic limits in order to give expression to the depth dimension of human life in all its joy and agony, its splendour and misery, its wonder and frustatration” (1983:35). Op hierdie wyse praat die lied nie alleen van geloofswaarhede nie, vier dit nie alleen die credo nie, maar doen dit dinge. Dit bring die teologie liturgies op gereedheidsgrondslag: waarin die dikwels prosaïese dogmatiek en etiek tot handelende geloofspoëtiek geaktiveer word (vgl. Ef 2:10). Liedere hunker nie alleen na verandering nie, maar sit transformasieprosesse aan die gang en hou dit aan die gang sodat ook in die nag pelgrimsliedere gesing kan word (Ps 25). Die lied laat die geloof nie net volhard nie, maar laat dit volhardend bid én stry! Want die lied as gesonge credo herinner nie net aan God se wonderdade in die verlede nie, is nie net gesonge gebede in die hede nie, maar drome wat God se nuwe wêreld inlui. In die lied van Miriam in Eksodus 15:21 beweeg Israel van slawerny na bevryding, gelegitimeer deur God se magsdaad van bevryding; in Jesaja 40:9 en 52:7 word die ou storie van die uittog uit Egipte tot ’n lied van ’n nuwe eksodus – en tuiskoms. In die Magnificat sing Maria van God se nuwe wêreld wat ’n ou gevestigde sosiale lewensorde aan skerwe laat spat (Luk 1:46-55). Dit loop deur in die liedere van die Hervorming (sien Ps 46, 68, lied ), in die “Negro spirituals” en die liedere van die “struggle” tydperk in Suid-Afrika. Dit is liedere wat opstaan vir God se alternatiewe wêreld – en daarom opstandig word (dink maar aan lied 602: “ek sien ’n nuwe hemel kom”). God se bevryding word in die lied nie net betuig nie, in die lied word energie ontsluit, al lewe die geloof in donker dieptes, van die woestyn en die nag (Ps 23). Al singende word ons kinders van die liturgie, herbore en gedoop in Gods nuwe wêreld. Dit word liedere gebore in onderdrukking wat uitbars in die liturgie as “dangerous whispers in the night”. Al singend word die gemeente kinders van die liturgie, herbore en gedoop om toe te tree tot Gods nuwe wêreld, onstuitbaar onderweg daarheen.
2.6 Die rol van skuldbelydenis en versoening en transformasieprosesse
Alle versoeningsaksies, individueel of tussen groepe, het te make met ’n proses van mortifikasie, waarin die negatiewe stories geartikuleer en in herinnering geroep moet word voordat dit genesing en versoening kan bring (vgl. Smit in Botman, To remember, 96v). Soos in Psalm 51 moet die sondes by die naam genoem word voordat die belofte van vergewing vasgegryp kan word en dan liturgies gevier kan word. Dit is natuurlik alleen God wat die hart (en ’n gemeenskap) kan reinig van skuld, maar skuldbelydenis het die veilige plekke (die vroeër genoemde “localities” en “spaces” van Jones) nodig waar dit binne die op versoening gerigte geloofsgemeenskap bely kan word. Binne so ’n gemeenskap word nuwe rituele van versoening gebore: vergelyk maar hoe die ou verdelende rituele van Geloftedag algaande in die nuwe Suid-Afrika vervang is met rituele van Versoeningsdag.
2.7 Die rol van eredienste in ekumeniese konteks
Liturgie as die viering van die heilsgebeure waarop dit gegrond is (sien 2.2 bo) naamlik die één evangelie van die één Here het in die geskiedenis nie alleen op verskillende maniere uitdrukking gevind nie – maar ook op tragiese wyse tot verdeling, selfs rondom die tafel gelei (vgl. Wepener 2002:141v). Die kerk is één, bely die één vaste fondament in lied, gebed, getuienis – en tog is dit verdeeld: dit is ons ekumeniese rykdom, en ons ekumeniese tragedie. Daarom is eredienste in ekumeniese konteks so nodig want dit vier saam die een gebeure waarop die kerk gebou is, ’n gebeure wat suiwerder onthou en meer outentiek gevier kan word in ’n erediens wat die hele liggaam van Christus verteenwoordig. Elke viering van die heil wat slegs ’n gedeelte van die liggaam van Christus betrek, is ’n gedeeltelike en beperkte respons op die volheid van die heil. So ’n erediens in ekumeniese konteks is op sigself ’n daad van transformasie en versoening en ’n deurbraak in die teologie – wat só dikwels ontwikkel is om verdelinge te regverdig en te behou – dink maar aan ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis van die teologie. Sulke eredienste is ’n belangrike deel van die noodsaaklike ekumeniese pelgrimstog in die rigting van groter eenwording tussen kerke. Om op hierdie pad met ál sy historiese, kulturele, emosionele en teologiese (sic!) verkalkinge te vorder het ons behoefte aan die groter fisieke nabyheid en geestelike intimiteit en vertroue wat in sulke ekumeniese ruimtes geskep word – en waarin ondersteuning van mekaar nuwe energiebronne open. In dit alles moet ons die eskatologiese onderbou van die erediens nie onderskat nie – dit maak ruimtes oop vir die wonderwerke van die Heilige Gees in ’n verdeelde wêreld (sien oor liturgie in ekumeniese konteks veral Crawford, Best, 1994, 79v).
2.8 Die skepping van nuwe vorme van liturgiese viering
Die genoemde werking van die Heilige Gees kan die kerk in ’n plurale en verdeelde wêreld lei tot nuwe vorme van aanbidding, van nuwe openheid vir die teenwoordigheid van God in die lewe van gelowiges en van gemeenskappe. Die liturgie kan nuwe energie ontwikkel wanneer dit op kreatiewe wyse nuwe sosiale kontekste betree. Ek dink hier aan die transformatiewe energie wat liturgiese vieringe kan vrystel in sosiale kontekste buite die tradisionele kerklike versamelinge wat ook aan “onkonvensionele” gelowiges en nie-Christene liturgiese vieringe en rituele bied wat hulle kan help om lewensin te vind. Mense in verskeie situasies van grenservaringe, byvoorbeeld by geboorte, huwelike, in siekte en begrafnis het ’n behoefte aan rituele wat die nabyheid en seën van God aan hulle in sulke situasies toesê. Naas die verbond met Abraham is daar ook die verbond met Noag wat niemand en niks uitsluit van hierdie genadige toesegging van God nie (sien Gen 9:9v). Ek dink aan die ontwikkeling van nuwe rituele van genesing as tekens van die koninkryk (vgl Matt 4:23, Luk 4:18), Die liturgie moet die werklikheid van siekte in ’n gematerialiseerde wêreld weer herintegreer in die erediens. Meer nog: in ’n gebroke wêreld is die vergadering van die gemeenskap van geloof ’n liturgiese teken wat heenwys na die heelheid rondom die tafel van die Here – waar gebreekte brood en vergote wyn ’n visie en ’n hoop van genesing genereer wat anderkant ons menslike vermoëns lê: ’n gawe, ’n wonderwerk bewerk deur die teenwoordigheid van God.
Ten slotte: Die erediens kan nie samelewings transformeer en versoen nie; dit kan nie verdeelde kerke herenig nie. God alleen kan dit doen: as Hy in ’n gebroke wêreld met ons die brood van die lewe breek en ons dorstige siele voed. Die liturgie is die noodsaaklike vroedvrou by hierdie Goddelike liturgiese handeling wat alle transformasieprosesse energie gee. God se handeling sluit ons handeling in die liturgie nie uit nie, maar juis in. Dit is die blywende geheim van die liturgie as morele agent in transformasieprosesse.
BIBLIOGRAFIE
Atkins, A 2003. Memory and Liturgy. The Place of Memory in the Composition and Practice of Liturgy. Aldershot: Ashgate.
Arens, A 1961. Die Psalmen im Gottesdienst der Alten Bundes. Trier: Paulinus.
Barnard, AC 1981. Die Erediens. Pretoria: NGKerk Boekhandel.
Birch, BC 1989. “Memory in Congregational Life” in: Congregations: Their Power to Form and Transform (ed C Ellis Nelson). Atlanta: John Knox, 20 – 47.
Birch, BC 1991. Let Justice roll Down. The Old Testament, Ethics and Christian Life. Louisvale: Westminster.
Birch, BC, Rasmussen, L 1976. Bible and Ethics in the Christian Life.
Botman, HR 1996. To Remember and to Heal. Theological and Psychological Reflections on Truth and Reconciliation. Cape Town: Human and Rousseau.
Bright, J 1973. “The Apodictic Prohibition: Some Observations” in: JBL 92/1973, 185 – 204.
Brunner, P 1954. “Zur Lehre vom Gottesdienst der in Namen Jesu versammelten Gemeinde” in: Leitourgia Bd I. Kassel: Joh Stauda, 83 – 364.
Brueggemann, W 1980. “Psalms and the Life of Faith” in: JSOT 17/1980, 14 – 33.
Brueggemann, W 1988. Israel’s Praise. Doxology against Idolotry and Ideology. Philadelphia: Fortress.
Brueggemann, W 2003. “Ancient Utterance and Contemporary Healing” In” Just Preaching: Prophetic Voices for Economic Justice (ed A Reisner). St Louis: Chalice, 67 – 75.
Burger, CW, Müller, BA, Smit, DJ 1988. Riglyne vir Prediking oor Christelike Deugde: Woord teen die Lig III/4. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, CW, Müller, BA, Smit,DJ 1990. Riglyne vir Prediking oor Vrede: Woord teen die Lig III/1. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, CW, Müller, BA, Smit, DJ 1991. Riglyne vir Prediking oor die Wandel met God: Woord teen die Lig III/2. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, CW, Müller, BA, Smit, DJ 1993, Riglyne vir die Prediking oor Regverdiging en Reg, Woord teen die Lig III\3. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, CW, Müller, BA, Smit, DJ. 1997. Riglyne vir Prediking oor die Eenheid van die Kerk, Woord teen die Lig III/5. Kaapstad: Lux Verbi.
Burger, CW, Müller, BA, Smit, DJ. 2003. Riglyne vir die Prediking oor Roeping, Woord teen die Lig III/6. Kaapstad: Lux Verbi.
Childs,B 1962. Memory and Tradition in Israel. London: SCM.
Clines, DJA 1978. The Theme of the Pentateuch. Sheffield: JSOT Press.
Crawford, J, Best, TF 1994. “Praise the Lord with the Lyre…and the Gamelin. Towards Koinonia in Worship” in :The Ecumenical Press 46/1994, 78 – 96.
Gottwald, NK 1979. The Tribes of Jahweh. Maryknoll: Orbis.
Hauerwas, S 1981. A Community of Character. Towards a Constructive Social Ethic. Notre Dame: Univ of Notre Dame.
Hauerwas, S 1983. The Peacable Kingdom. A Primer in Christian Ethics. Notre Dame: Univ of Notre Dame.
Janzen, W 1994. Old Testament Ethics. A Paradigmatic Approach. Louisvale: Westminster.
Jones, LG 1995. Embodying Forgiveness Eerdmans: Grand Rapids.
Jörns, K-P 1988. “Lex orandi - lex credendi – lexconvivendi” in: Der Lebensweg des Gottesdienstes München: Kaiser, 12-22.
Kraus, HJ 1996. Worship in Israel. A Cultic History of the Old Testament. Richmond: John Knox.
Lammens, GN 1968. Tot Zijn Gedachtenis: Het commemoratieve aspect van de Avondmaalsviering. Kampen: Kok.
Moltman, J 1973. Theology and Joy. London: SCM.
Noordmans, O 1939. Liturgiek. Amsterdam:Holland.
Ogletree, TW 1983. The Use of the Bible in Christian Ethics. Philadelphia: Fortress.
Siker, JS 1997. Scripture and Ethics. Twentieth Century Portraits. Oxford: Oxf Univ Press.
Smit, D 1996. “Confession-Guild-Truth-and-Forgiveness in the Christian Tradition” in: Botman, HR, To Remember and to Heal, 96-117.
Terrien, SL 1978. The Elusive Presence. Towards a New Biblical Theology. San Francisco: Harper and Row.
Thiselton, AC. 1992. The New Horizons in Hermeneutics. Transforming Biblical Reading. Grand Rapids: Zondervan.
Von Rad, G. 1966. “The Formcritical Probem of the Hexateuch” in: The Problem of the Hexateuch and other Essays. New York:Mcgrawhill, 1-78.
Wepener, C 2002. “Still ‘because the weakness of some’? A descriptive exploration of the Lord’s Supper in South Africa, 1948-2002” in: Jaarboek voor Liturgie-onderzoek, 18/2002, 139-158.
Wilder, AN 1983. “Story and Storyworld” in: Interpretation 37/1983, 353 –
TREFWOORDE
Liturgie. Morele vorming. Transformasie. Geloofsenergie. Ekumene. Nuwe vorme van viering
KEY WORDS
Liturgy,Moral formation,Transformation,Vitality of faith,Ecumenical contents, New forms of celebration