Die Boek van die Twaalf: ’n Kort oorsig
ABSTRACT
The Book of the Twelve: A Short Survey
For the past two decades scholars have shown renewed interest in the last twelve prophetic books of the Old Testament. Several research articles and books were published, especially from the SBL seminars on the Formation of the Book of the Twelve. Many scholars agree that the Book of the Twelve must be read as an unified whole. A few questions may be posed: Do the research articles in South Africa reflect this renewed interest? Do we experience the effect of this research in the church and popular biblical publications? The author concludes that the Book of the Twelve is still neglected in South Africa, in the academic field as well as in churches. A short survey of the Twelve is presented in Afrikaans to highlight the value of recent research. The Twelve is discussed in the following sections: Early witnesses and the name “Book of the Twelve”; Socio-historical background to the Twelve; Recent research on the Twelve; Order of the books and placing in different canons; and theological message.
1. INLEIDING
In akademiese kringe was daar die afgelope dekade hernude belangstelling in die laaste twaalf boeke van die Ou Testament of Boek van die Twaalf. Sedert 1994 bestaan daar ’n spesiale werk- of seminaargroep binne die Society of Biblical Literature (SBL) wat navorsing oor die Boek van die Twaalf doen.1 Talle referate van hierdie groep is in die SBL Seminar Papers gepubliseer of saamgevoeg in publikasies oor die Twaalf 2(vgl Watts & House 1996; Nogalski & Sweeney 2000; Redditt & Schart 2003). Die kongres van die Ou-Testamentiese Werksgemeenskap in Suid-Afrika (OTWSA) in 2003 is ook aan die Boek van die Twaalf gewy met die tema “Unity and diversity in the Book of the Twelve”3. Daar is talle vrae wat in die lig hiervan gevra kan word: Weerspieël die navorsingsuitsette in Suid-Afrika hierdie hernude belangstelling in die Twaalf? Kom die Boek van die Twaalf tot sy reg in algemene populêre publikasies wat in Afrikaans gepubliseer is? Het hierdie akademiese navorsing al deurgesuur na die kerk?
Die skrywer het ’n studie gemaak van navorsingsartikels oor die Boek van die Twaalf wat die afgelope tien jaar (1995-2005) in Suid-Afrika gepubliseer is.4 Daar is talle artikels wat fokus op een (of twee) van die individuele boeke van die Twaalf, maar geen artikel wat die vorming of eenheid van die Twaalf bestudeer nie.5 In die populêre verklarende Bybels en een volume kommentare wat die afgelope tien jaar in Afrikaans gepubliseer is, is daar feitlik geen verwysings na die Boek van die Twaalf nie: Die Bybellennium (eenvolumekommentaar van Vosloo & Van Rensburg 1999)6 ; Die Bybel A-Z (Van der Watt 2003)7 ; Leefstyl-Bybel vir vroue (2003) 8; Geestelike Groei-Bybel (2004)9 ; en Die Multivertaling-Bybel (2004)10.
Die laaste vraag oor die belangrikheid van die Twaalf binne kerklike kringe is moeilik om te beantwoord. Kerke oor die hele wêreld heen gebruik die Revised Common Lectionary (Leesrooster) as riglyn vir preektekste. Twee van die individuele boeke van die Twaalf kom glad nie in hierdie Leesrooster voor nie, naamlik Obadja en Nahum (García-Treto 1996:596). Die skrywer se eie ervaring is dat daar in die afgelope tien jaar baie min oor hierdie boeke in die hoofstroom kerke van Suid-Afrika gepreek of Bybelstudies oor die inhoud daarvan opgestel is.11 In Sinodes, ringsittings en kerkvergaderings wat die skrywer die afgelope vyftien jaar binne die NG kerk bygewoon het, is daar slegs enkele kere na hierdie profetiese boeke verwys. Die een uitsondering was die hele debat rondom die historisiteit van Jona binne die NG Kerk.12 Hierdie debat het eerder op historisiteit en Skrifgesag gefokus as op die verstaan van die Twaalf. Ons kan gevolglik tot die slotsom kom dat die nuutste navorsing oor die Boek van die Twaalf net aan enkele lidmate bekend is.
Die doel van hierdie artikel is nié om ’n detail bespreking van die Boek van die Twaalf aan te bied nie. Daar word eerder gepoog om ’n algemene oorsig van die Twaalf in Afrikaans weer te gee. Dit is die wens van die skrywer dat hierdie oorsig ’n bydrae kan maak sodat meer persone bewus kan raak van onlangse navorsing oor hierdie “juweel” in die Ou Testament.
2. VROEË GETUIENIS EN DIE NAAM “BOEK VAN DIE TWAALF”
Die “Boek van die Twaalf” is die benaming vir die twaalf profetiese boeke in die Ou Testament wat strek vanaf Hosea tot Maleagi. Deur die eeue is daar op verskillende maniere na hierdie boeke verwys: Klein profete;13 Laaste profete; Boek van die Twaalf Klein Profete;14 Boek/Boekrol van die Twaalf.15 Met die benaming “Boek van die Twaalf” erken geleerdes dat hierdie boeke as ’n eenheid gelees moet word en vergelyk kan word met die ander profete boeke soos Jesaja, Jeremia en Esegiël (Petersen 2000:3-4; 2002:169-170).16
Daar is talle getuienis uit vroeëre werke wat daarop dui dat hierdie boeke as ’n eenheid beskou moet word. Die vroegste verwysing na die Twaalf as ’n eenheid vind ’n mens alreeds in Sirag 49:10 in die tweede eeu voor Christus: “May the bones of the twelve prophets send forth new light from where they lie, for they comforted the people of Jacob and delivered them with … hope”. Die Joodse historikus van die eerste eeu Flavius Josephus meld dat die Twaalf een van die twee en twintig boeke van die Bybel is (vgl Ag Ap 1.8). Op ’n soortgelyke wyse word die Twaalf ingereken as een van die vier en twintig heilige boeke wat Esra voorgelees het (2 Esd 14:41-45) (Redditt 2001:58). Daar is getuienis by Qumran dat die Twaalf op ’n enkele boekrol neergeskryf is. Qumran tekste bevestig dat die volgorde van die Twaalf in die Masoretiese teks teruggevoer kan word na ten minste 150 vC.17 Die Babiloniese Talmoed (Baba Batra 13b-15a) verskaf twee verwysings wat die eenheid van die Twaalf versterk. Eerstens word instruksies vir die kopiëring van Bybelse boeke gegee. Hiervolgens moet vier reëls oopgehou word tussen die kanoniese boeke, maar ’n uitsondering word gemaak by die individuele boeke van die Twaalf waar slegs drie reëls oopgehou moes word (13b). Tweedens word verwys na die volgorde waarin die boeke voorkom. Die Twaalf word kollektief as een boek gesien en nie twaalf boeke nie (14b). Tegniese gegewens in die Hebreeuse Bybel bevestig dat die verse van die Twaalf saamgetel is. Die Masoretiese eindnotas teen die einde van Maleagi meld nie slegs die aantal verse in Maleagi nie, maar ook die totale aantal verse in die Boek van die Twaalf.
Biskop Melito van Sardis (1ste eeu nC) verwys na die Twaalf as “die twaalf in een boek”. Die vroeë kerkvader Hieronimus (ca 347-420) sowel as ander kerkvaders bevestig die eenheid van die Twaalf (Nogalski 1993a:2-3; Jones 1995:3-11). ’n Mens kan sonder twyfel sê dat die Boek van die Twaalf so vroeg as die Grieks-Romeinse periode as ’n versameling van profetiese literatuur beskou is.
3. SOSIO-HISTORIESE AGTERGROND VAN DIE TWAALF
Die Twaalf dek verskeie eeue in die geskiedenis van die volk Israel, vanaf die agste tot die vierde eeu vC. Sommige van die vroegste so wel as laaste voorbeelde van profetiese literatuur kom hierin voor (vanaf Amos en Hosea tot Maleagi en Sagaria 9-14). Die Boek van die Twaalf speel af oor ’n periode van ongeveer vierhonderd jaar wat die volgende tydperke insluit: periode van die twee koninkryke (Juda en Israel); die tydperk van die Judese koninkryk (721-587/6 vC); die ballingskap en die herstel van Israel. Dit was ’n tyd van internasionale onrus waarin die Assiriese-, Babiloniese-, en Persiese Ryke ’n prominente rol gespeel het. Die lewe in beide Israel en Juda is drasties beïnvloed deur buitelandse politieke aktiwiteite. Geeneen van die sogenaamde “groot” profete kan met die historiese omvang van die Twaalf vergelyk word nie. ’n Profeteboek soos byvoorbeeld Esegiël se tydsraamwerk strek maar van ongeveer 593 tot 571 vC (Petersen
2002:171).
4. NAVORSING OOR DIE BOEK VAN DIE TWAALF18
Vir die grootste gedeelte van die negentiende- en twintigste eeu het geleerdes die Twaalf “klein” profete as twaalf individuele boeke gelees. Deur die jare is daar talle histories-kritiese navorsing oor die datering van die verskillende boeke van die Twaalf gedoen. Sommige geleerdes het selfs die datering uitgedaag wat in die opskrifte weergegee word. As daar na die histories-kritiese navorsing oor die individuele boeke gekyk word, kan ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat daar ten minste drie groepe boeke met drie verskillende historiese kontekste voorkom: (1) Hosea, Amos en Miga het in die agste eeu voor Christus ontstaan en is tydgenote van Jesaja; (2) Nahum, Habakuk en Sefanja het in die laat sewende eeu ontstaan en het dieselfde historiese konteks as Jeremia; (3) Haggai, Sagaria en Maleagi vorm ’n derde groep vergelykbaar met Jeremia 30-31, Esegiël 40-48 en Jesaja 40-55. Met dit in gedagte kan ’n mens moontlik sê dat die Boek van die Twaalf kronologies gerangskik is. Daar is egter drie boeke (Joël, Obadja en Jona) wat die hele volgorde deurmekaar krap, omdat geleerdes onseker is oor hulle datering (Gowan 1998:xii-xiii; Brueggemann 2003:210-211).
Daar was enkele geleerdes19 wat teen die einde van die negentiende eeu en begin van die twintigste eeu navorsing oor die eenheid en vorming van die Boek van die Twaalf gedoen het, maar dit is eers in die laaste jare dat hierdie navorsing stukrag gekry het. Hierdie “nuwe” navorsing is ingelei met die proefskrifte van twee doktorale studente in die VSA, Schneider (1979) en Lee (1985). Schneider (1979:38-42; 55-56; 112-114; 143-145) wys op vier stadia in die groei van die Twaalf: (1) Eerstens was daar Hosea, Amos en Miga in die tyd van koning Hiskia; (2) Daarna was dit Nahum, Habakuk en Sefanja wat tydens Josia se hervormings ontstaan het en later in die tyd van die ballingskap bygevoeg is; (3) Derdens is Joël, Obadja en Jona tydens die laat ballingskap bygevoeg; (4) Laastens Haggai, Sagaria en Maleagi wat volgens hom teen die einde van die vyfde eeu vC ontstaan het. Lee (1985) kom weer tot die gevolgtrekking dat die Boek van die Twaalf saam gebind” word deur die tema van hoop wat die slotgedeeltes van baie boeke karakteriseer.20
Schneider en Lee se proefskrifte is nie deur bekende uitgewers gepubliseer nie; gevolglik was hulle bydrae beperk. In die negentigerjare is ’n paar belangrike boeke gepubliseer wat die navorsing oor die Twaalf onherroeplik sou verander. House (1990) bestudeer die eenheid van die Twaalf en wy afsonderlike hoofstukke aan die genre, struktuur, intrige, karakters en “point of view”. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die versameling van twaalf boeke as ’n enkele literêre eenheid gelees moet word (House 1990:243-246). Nogalski (1993a; 1993b)21 publiseer ’n werk van twee volumes in die bekende BZAW reeks en kom onder andere tot die volgende gevolgtrekkings: (1) Daar was voortdurende redaksionele prosesse deur middel van trefwoorde wat ingevoeg is aan die begin en einde van individuele boeke; (2) Hy beklemtoon die bestaan van twee “voorlopers” van die Twaalf naamlik ’n Deuteronomistiese versameling (Hos, Am, Miga, Sef) en ’n post-eksiliese Haggai/Sagaria 1-8 korpus; (3) Daarna volg daar ’n byvoeging van ’n groep boeke wat ’n verband toon met Joël (Ob, Nah, Hab en Mal); (4) Laastens is die redaksionele proses afgesluit met die byvoeging van Jona en Sagaria 9-14 (Nogalski 1993a:278-280; 1993b:274-275).22 Twee geleerdes het probeer om sommige van Nogalski se gevolgtrekkings te verfyn: Jones (1995) het gaan kyk na ander tekstuele getuienisse oor die Twaalf. Hy argumenteer dat die Twaalf oorspronklik met die boek Jona geëindig het in die lig van die getuienis van die Qumran manuskrip 4QXIIa (Jones 1995:221-242).23 In vergelyking tot Nogalski glo Schart (1998a304- 30624; 1998b:26-29; 2000:42-45) dat daar meer stadia in die vorming van die Twaalf was. Eerstens beweer hy dat Hosea en Amos saamgevoeg is. Sy volgende stadium kom ooreen met Nogalski se Deuteronomistiese korpus (Hos; Am; Miga; Sef). Daarna is daar volgens Schart vier daaropvolgende stadia: (1) Nahum en Habakuk; (2) Haggai en Sagaria 1-8; (3) Joel en Obadja saam met Sagaria 9-14; en (4) Laastens die Jona-narratief en Maleagi.
Bogenoemde geleerdes het die “nuwe” navorsing ingelei. In die afgelope jare is talle boeke en artikels gepubliseer wat op hierdie navorsing bou. Die meeste van die artikels is referate wat by die SBL Seminaar gelewer is (vgl bydraes van geleerdes soos Bosshard-Nepustil; Conrad; Curtis; Fuller; Petersen; Redditt; Rendtorff; Sweeney; Watts; e a).
In die lig van bogenoemde bespreking kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word: (1) Daar is genoeg getuienis wat daarop dui dat die Twaalf as koherente geheel gelees moet word in aanvulling tot die lees van die individuele boeke; (2) Die Boek van die Twaalf het in verskillende stadia gegroei. Ongelukkig verskil geleerdes steeds oor die afbakening van hierdie stadia. Uit die navorsing kan ons wel sê dat daar ten minste twee of meer “voorlopers” tot die boek van die Twaalf was. Die plasing van die boeke Joël, Obadja en Jona lei tot die meeste vrae by geleerdes. (3) Die oorspronklike volgorde van die Twaalf is steeds onseker.25 (4) Die groei van die Boek van die Twaalf kan nie losgemaak word van die groei in ander “versamelings” in die Bybel nie (bv Vroeë profete, Jesaja, Psalmboek, ens) (Redditt 2003:25-26).
4.1 Kritiese stemme teenoor nuwe navorsing
Ten spyte van ’n groot mate van konsensus onder geleerdes is daar ook navorsers wat hierdie konsensus uitdaag. Die belangrikste verteenwoordiger van hierdie kritiese stem is die Joodse geleerde Ehud Ben Zvi. Ben Zvi (1996:125-156) daag die “skrywer/redaktor”- of “produksie- gesentreerde” benaderings uit en steun ’n “gehoor”- of “resepsie-gesentreerde” benadering. Hy glo nie dat die Twaalf oorspronklik as ’n eenheid bedoel is nie. Ben Zvi reken dat navorsers wat die Twaalf as ’n koherente geheel bestudeer verskillende betekenisse in die teks sal vind as hulle wat fokus op die individuele boeke. Ben Zvi (1996:131-138) verskaf onder andere die volgende redes: (1) Versamelings van ongelyksoortige werke of bloemlesings het in Israel bestaan (bv die boek Spreuke); (2) Latere gemeenskappe (van Qumran tot die rabbi’s tot die Masorete) het die Twaalf as ’n versameling boeke gelees en nie noodwendig as ’n literêre geheel nie; (3) Die gebrek aan ’n vaste orde by die eerste ses boeke ondermyn die argument van ’n enkele literêre- en teologiese werk; (4) Die opskrifte en titels by elke boek tipeer hulle apart. Volgens Ben Zvi bestaan die laaste twaalf boeke uit ’n los versameling profetiese geskrifte met toevallige tematiese ooreenkomste,26 maar sonder ’n vaste redaksionele proses. ’n Metodologiese vraag wat na aanleiding van Ben Zvi se standpunt gevra kan word, is: Kan ’n mens werklik tussen die skrywer/redaktor en die leser/ontvanger onderskei? In baie gevalle word die eerste lesers en ander ontvangers van die teks self outeurs en redaktors (vgl Sweeney 2000:51).
Die gevaar bestaan altyd dat enige standpunt verabsoluteer kan word en dat navorsers ten alle koste probeer om hulle standpunt te verdedig. Ben Zvi lewer ’n belangrike bydrae deurdat hy ons bedag maak om nie die “nuwe” navorsing ten opsigte van die eenheid van die Twaalf oor te beklemtoon nie. In hierdie verband help Petersen (2000:3-4) ons ook met sy standpunt wat waarskynlik ’n middeweg tussen Nogalski en Ben-Zvi probeer vind. Hy wys daarop dat die benaming “boek” in die moderne samelewing ’n spesifieke betekenis het. Die Twaalf verwys nêrens na die versameling as ’n “boek” (םפד) of as ’n “rol” (מנלח) nie. Petersen (2000:10) glo dat ’n mens moet praat van ’n “boekrol” of eerder ’n “thematized anthology”27 , omdat die frase “dag van die Here” wel ’n sentrale tema in die Twaalf vorm. Petersen het ’n geldige standpunt, maar waarskynlik moet ’n mens eerder kyk na die spesifieke betekenis van ’n term of naam. Indien die naam “Boek van die Twaalf” gebruik word, word dit verskillend verstaan as ’n boek wat deur een skrywer in een spesifieke konteks met een sentrale storielyn geskryf is. Indien ons die term “boek Jeremia” gebruik kan ons die term “Boek van die Twaalf” gebruik. Die meeste van die sogeaamde groot profete boeke is ook nie deur een outeur met een vaste storielyn geskryf nie.28
5. VOLGORDE VAN DIE BOEKE EN PLASING BINNE VERSKILLENDE KANONS
5.1 Drie moontlike beginsels ten opsigte van volgorde
Daar is verskeie vrae oor die beginsels wat gebruik is vir die bestaande orde van die twaalf boeke. Die eerste moontlike beginsel is dié van kronologiese rangskikking. Ons het reeds daarop gewys dat histories-kritiese navorsing talle onbeantwoorde vrae oor die spesifieke datering van die verskillende boeke uitwys. Petersen (2002:173) stel die volgende kronologiese volgorde van die boeke voor: Amos; Hosea; Miga; Sefanja; Nahum; Habakuk; Obadja; Haggai; Sagaria; Maleagi. Die datering van die boeke Joël en Jona is volgens hom onseker. Die beginsel van kronologiese rangskikking bied ongelukkig nie ’n verklaring vir die huidige orde van die boeke in die Hebreeuse- en Christelike kanons nie. Gevolglik moet daar gekyk word na getuienis van alternatiewe volgordes. Die Septuagint (LXX) se volgorde van die eerste ses boeke verskil van die Hebreeuse kanon: Hosea; Amos; Miga; Joël; Obadja; Jona.29 Hierdie volgorde reflekteer in ’n groter mate die kronologie van die boeke, veral die eerste drie boeke. Hierdie beginsel word egter ter syde gestel met die daaropvolgende boeke. Die Hebreeus/Christelike kanon sowel as die Septuagint se getuienis wys daarop dat die kronologiese beginsel nie geldig is nie (Sweeney 2000:55, 62; Petersen 2002:172).
’n Tweede moontlike beginsel is die ordening op grond van temas of teologiese inhoud. House (1990:71-110; 1998:347-348; 2000:128-145) glo dat die Twaalf georden is volgens sekere teologiese temas. Hy stel voor dat die twaalf boeke soos volg ingedeel kan word: sonde (Hosea tot Miga); straf (Nahum tot Sefanja); herstel (Haggai tot Maleagi). House se teologiese verdeling maak sin, maar is te veel “geforseer” binne ’n vaste teologiese skema. As ’n mens die individuele boeke bestudeer kom jy agter dat daar in die meeste boeke elemente van sonde, straf en herstel is.30 Buiten House se standpunt is daar moontlik ander tematiese faktore wat die volgorde beïnvloed het. Die Septuagint se volgorde van Hosea, Amos en Miga beklemtoon God se oordeel oor die Noordryk terwyl Joël, Obadja, Jona en Nahum verwys na die nasies. Daar is ook ’n moontlikheid dat Maleagi teen die einde gerangskik is sodat temas wat by Hosea in die begin voorkom weer herhaal word. Albei boeke roep die volk op tot bekering en gehoorsaamheid aan die verbond (Sweeney 2000:62-63; Watts 2000:209-217). Verskeie ander standpunte oor moontlike tematiese ordening kan genoem word, maar dit bied nog nie genoegsame getuienis nie. Daar kan wel met sekerheid gesê word dat die teologiese tema “dag van die Here” soos ’n goue draad deur die Twaalf heen loop (vgl 6.1). Hierdie tema bied ’n verklaring vir die eenheid van die Twaalf, maar ongelukkig nie vir die spesifieke volgorde van die boeke nie.
’n Laaste moontlike beginsel is op grond van die taal en styl van die boeke. Soortgelyke frases (trefwoorde) teen die einde van een boek en aan die begin van ’n ander kon moontlik aanleiding gegee het tot ’n spesifieke volgorde. Byvoorbeeld in Joël 4:16 (3:16) en Amos 1:2 staan die volgende woorde: “En die Here brul uit Sion en uit Jerusalem verhef Hy sy stem”. Hierdie ooreenkoms kon aanleiding gegee het tot die redaktor se plasing van die Amos na afloop van Joël. Teen die einde van Haggai kom daar ’n verwysing na perde en hulle ruiters voor (Hag 2:22) terwyl daar in die eerste visioen van Sagaria (Sag 1:7-17) verwys word na die perde met verskillende kleure (Nogalski 1993a:20-57; Redditt 2001:52-57; Petersen 2002:173). Hierdie beginsel van trefwoorde en taalgebruik bied waarskynlik ’n meer aanvaarbare of selfs die enigste aanvaarbare verklaring vir die huidige volgorde.
5.2 Twaalf boeke?
Ons et reeds daarop gewys dat die Boek van die Twaalf waarskynlik verskeie redaksies ondergaan het.31 Die vrae ontstaan: Hoekom is daar spesifiek twaalf boeke? Het dit enige simboliese waarde? Sommige navorsers glo dat Maleagi nie oorspronklik ’n aparte boek was nie weens die volgende redes: (1) Die woord משא (Godspraak) kom in die opskrif (Mal 1:1) sowel as in opskrifte by Sagaria 9:1 en 12:1 voor;32 (2) Die Hebreeuse woord wat as die eienaam Maleagi vertaal word, kan ook as “my boodskapper” vertaal word (vgl vertaling van Mal 3:1 en Septuagint vertaling van Mal 1:1) (3) Die opskrif verskaf geen historiese detail van ’n profeet Maleagi nie (Petersen 2002:209-210; Collins 2004:411).
Maleagi is moontlik aan die begin saam met die boek Sagaria gelees. Die skrywer glo egter dat Maleagi as aparte boek beskou moet word. Deur die eeue heen het die Hebreeus/Christelike kanon en die Septuagint dit as twaalfde boek of slot van die Boek van die Twaalf gesien. Die finale samesteller/s het spesifiek twaalf boeke gevorm aangesien dié getal ’n belangrike simboliese waarde in die Bybel het (Collins 1993:60; Hill 1998:12-14).
5.3 Plasing binne verskillende kanon
Die plasing van die Boek van die Twaalf as geheel verskil by die Hebreeuse33 - en Christelike kanons. In die Christelike kanon vorm die Boek van die Twaalf die slot van die Ou Testament omdat die profete teen die einde geplaas word. Die Hebreeuse kanon plaas die Twaalf teen die einde van die tweede deel (Profete) met die Geskrifte34 wat daarop volg. Die Hebreeuse kanon eindig gevolglik met ’n oproep tot die post-eksiliese gemeenskap om terug te keer na Juda en in die Jerusalem tempel te aanbid. Die Christelike kanon eindig met ’n bevestiging dat die profeet Elia sal terugkeer vóór die dag van die Here om families te versoen.35 Die Hebreeuse kanon focus op ’n plek en die Christelike kanon fokus op verhoudinge. Elke Bybelleser moet besef dat die spesifieke plasing van die Twaalf ’n mens se siening van die manier waarop die Ou Testament eindig, beïnvloed (Rendtorff 2000:86; Petersen 2002:174; Collins 2004:423).
6. TEOLOGIESE KENMERKE
Die redaksie-historiese navorsing het uitgewys dat daar veral drie invloede op die teologie van die redaktor/s was wat die Twaalf saamgestel het: Deuteronomistiese invloed, kultiese invloed (bv Eks 34:6-7) en teologie van die boek Joël. Die vraag is: Sê dit vir ons genoeg oor die teologie van die Twaalf? Baie studies oor die Boek van die Twaalf is gewy aan die verstaan van die verskillende redaksionele lae agter die teks, die literêre eenheid van die Twaalf en die manier hoe hierdie segmente aan mekaar gekoppel word (vgl deel 4). In die proses is vrae rondom die teologiese koherensie van die Twaalf (of die gebrek daaraan) afgeskeep. Ons het reeds vir mekaar gesê dat die Boek van die Twaalf in die Hebreeuse- en Christelike kanons nie kronologiese gerangskik is nie. Dit wil sê beskrywings van God, Israel en die nasies het ’n belangrike rol in die samestelling van die Twaalf gespeel (House 2000:125-127).
6.1 Eskatologie en die dag van die Here
Die “dag van die Here” kan as sentrale tema van die Twaalf beskou word. Al die individuele boeke behalwe Nahum en Jona verwys direk hierna. Nahum verwys wel na die komende goddelike oordeel (Collins 2004:422). Die spesifieke frase “dag van die Here” (יוויהוה) kom vyftien keer in die Ou Testament voor en dertien keer in die Boek van die Twaalf.36 Hierdie frase is egter nie al wat na die toekomstige dag van die Here verwys nie. Daar is talle ander woorde en frases wat dieselfde betekenis oordra, onder ander “dag van die oordeel van die Here”, “op daardie dag” en “in daardie dae” (Nogalski 2003:193-195).
Die boek van die Twaalf getuig die volgende oor die “dag van die Here”: Dag van aanbidding (Hos 9:5; Sef 1:7); Dag van oordeel en verskrikking (Am 5:18-20); Dag van vernietiging van Israel (Mig 2:4; Hab 3:16; Sef 1:9; Mal 4:1); Dag van vernietiging van ander nasies (Ob 15); Dag van kosmiese chaos (Joël 2:31); Dag van vrede en voorspoed (Hos 2:18; Joël 4:18 [3:18]37 ; Am 9:13-15; ens); Dag waarop nuwe Dawidiese koning of messias na vore sal tree (Am 9:11; Hag 2:23; Sag 3:8-10); Dag waarop die skepping hervorm sal word (Sag 14:6-7); Dag wat voorafgegaan word deur verskyning van profeet Elia en hereniging van families (Mal 3:23 [4:5]) (Hiers 1992:82-83; Petersen 2002:211).
Bogenoemde elemente dui daarop dat daar nie ’n eenvormige perspektief op die dag van die Here is nie. Somtyds vind ’n mens verskillende perspektiewe in een boek soos byvoorbeeld in die boek Joël. In die eerste hoofstukke (Joël 1-2) word daar op Israel gefokus, terwyl Joel 4 (3) die dag beskryf in terme van goddelike oordeel teen Israel se vyande. In die middel van Joël (3:1-5 [2:28- 32]) word die dag van die Here getipeer as ’n groot kosmiese gebeurtenis wat mense van alle ouderdomme sal beïnvloed. (Rendtorff 2000:78-80; 86). In die algemeen kan ons wel sê dat by die ouer profete dit beskryf word as ’n dag waarop God sy volk gaan straf; by die latere profete is dit ’n dag waarop die Here sy volk gaan bevry en die vyande van sy volk gaan straf.
Daar is ’n deurlopende eskatologiese toon in die Twaalf, ’n groeiende verwagting oor die toekoms. Die outeurs/redaktors glo dat die toekoms beter sal wees as die huidige omstandighede. Hierdie feit word geïllustreer met die finale redigering en invoeging van Maleagi 3:22-24 (4:4-6). Dit is betekenisvol dat die Twaalf eindig met die voorspelling oor die koms van Elia vóór die groot en verskriklike dag van die Here. Die eskatologiese fokus van die Twaalf word sterker beklemtoon in die Christelike kanon waar die Boek van die Twaalf direk opgevolg word deur die Nuwe Testament (Rendtorff 2000:86; Collins 2004:423).
6.2 Sonde, oordeel en herstel
House (1990:71-110; 2000:128-145) reken dat die Twaalf in drie breë teologiese temas ingedeel kan word: sonde, oordeel en herstel. Hy beskryf dit soos volg: (1) Hosea tot Miga: Israel ly vanweë hulle ontrouheid. Hierdie ses boeke beklemtoon die feit dat God die volk waarsku oor die komende straf van sonde; (2) Nahum tot Sefanja: Hierdie drie boeke beweeg verder as die beskrywing van sonde en bedreiging van straf na spesifieke bedreiginge oor die dag van die Here. Jahwe word as ’n regter beskryf en alle nasies sal vernietig word vanweë hulle sondes. Almal word vernietig behalwe ’n oorblyfsel van getroues; (3) Haggai tot Maleagi: Die laaste drie boeke kyk verder as die oordeel na’n blink toekoms. Hulle wys op God se transformasie van oordeel na glorie. Die tempel, stad en volk word herstel. God word beskryf as ’n God wat bereid is om te vergewe en te herstel.
Ons het reeds ’n paar opmerkings oor House se bydrae gemaak (vgl 5.1). Die belangrikste bydrae van House lê daarin dat sonde, straf en herstel sentrale teologiese temas in die Twaalf is soos in talle ander profetiese boeke. Die Twaalf staan gevolglik nie los van die ander boeke in die kanon nie.
6.3 Ander belangrike teologiese temas en/of skemas
Daar is reeds sekere kerntemas in die Twaalf bespreek, maar dit is nie waar dit eindig nie. Sommige geleerdes probeer juis om die teologiese kontraste in die Twaalf te beklemtoon. Gowan (1998) bespreek al die profetiese boeke onder die titel “Theology of the prophetic books: The death and resurrection of Israel.” Die meerderheid boeke van die Twaalf word in deel een onder die tema “dood” bespreek (Gowan 1998:24-142). Van die Boek van die Twaalf word slegs Haggai, Sagaria, Maleagi en Joël onder die tema “opstanding” geklassifiseer (Gowan 1998:162-187). Clements (1977:42-55) beskryf op verskillende maniere hierdie duidelike kontraste: oordeel en rampe gevolg deur hoop en herstel; dood en hergeboorte; goddelike oordeel en verlossing.
Daar is talle ander teologiese temas wat na vore tree soos byvoorbeeld gehoorsaamheid en bekering; Goddelike liefde, getrouheid en geduld; vergifnis; oordeel of wraak op Israel en Juda se vyande; en die tema van land.38 Die meeste van hierdie temas kan ook nie los van mekaar gesien word nie, byvoorbeeld bekering en verlossing in die lig van die Dag van die Here (Rendtorff 2000:86).
Ten slotte kan ’n mens daarop wys dat die beskrywing van God in die Twaalf nie betekenisvol verskil van vroeëre boeke of frases soos Eksodus 34:6-7 nie.39 God het baie karaktereienskappe en bly konsekwent deur die hele Ou Testament heen. God is een, maar nie beperk in sy “persoonlikheid” nie (House 2000:145). Die Boek van die Twaalf bied ons die totale prent van God. ’n God wat liefde en oordeel uitstraal, ’n God van geregtigheid én vergifnis. Talle metafore of beelde vir God word ook in die Twaalf gebruik: God as huweliksmaat, vader, regter, geneesheer, skepper, heerser, herder en bevryder.
7. SLOT: SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKINGS
In die lig van bogenoemde bespreking kan ’n paar samevattende gevolgtrekkings gemaak word:
(1) Vir jare is die laaste twaalf profete van die Ou Testament binne die akademiese navorsing en binne die kerk afgeskeep. Hierdie profeteboeke is as “klein profete” beskou in teenstelling met die sogenaamde “groot profete” soos Jesaja, Jeremia en Esegiël. Hierdie artikel argumenteer dat die Boek van die Twaalf as ’n juweel binne die Ou Testament gereken kan word. Talle akademiese navorsers uit die buiteland het hierdie juweel die afgelope jare ontdek en ons gehelp om die geheel van die Twaalf te bestudeer. Ongelukkig word die effek van hierdie buitelandse navorsing nog nie weerspieël in akademiese en populêre literatuur wat die afgelope jare in Suid-Afrika gepubliseer is nie. Die invloed van onlangse navorsing het ook nog nie die kerklike lidmate in Suid-Afrika bereik nie (vgl bespreking by Deel 1).
(2) In die verlede is meer klem gelê op die lees van die individuele boeke in die Twaalf. Oor die afgelope dekade het talle navorsers die bestudering van die Twaalf as ’n eenheid probeer bevorder. ’n Mens kan die vraag vra: Wat is die voordele om die Twaalf as ’n geheel te lees?
• Eerstens dwing dit ’n mens om die voortdurende redaksionele prosesse te erken. Dit herinner ons aan die persone wat die boek gevorm het vanaf die eerste mondelinge oorleweringe tot die finale vorm van die teks.
• Tweedens help dit ’n mens om die kanoniese proses beter te verstaan. Byvoorbeeld die Twaalf is moontlik geredigeer teen die agtergrond van die Deuteronomistiese geskiedenis as ’n afsluiting van die Wet en die Profete. Daar is ook ’n sterk moontlikheid dat die Twaalf saam met die Jesaja-korpus tot stand gekom het.40
• Laastens moet ons erken dat die Twaalf as ’n geheel groter is as die somtotaal van sy onderskeie boeke. As dit as ’n deurlopende narratief gelees word, bied dit ’n profetiese perspektief op die geskiedenis wat langs die Deuteronomistiese geskiedwerk, Kronieke en Esra/Nehemia staan (Redditt 2000:33).
(3) Die eenheid van die Twaalf is belangrik, maar dit moet ook nie ten koste van die spesifieke beklemtonings binne elke boek geskied nie. Collins (2004:422) skryf die volgende hieroor: “There are, then, some indications of thoughtful arrangement in the book of the Twelve, but the book remains a collection of writings that originated over several centuries, and its unity should not be exaggerated.” Navorsing oor die eenheid van die Twaalf staan nie teenoor navorsing oor die individuele boeke nie. Die nuwe navorsing help ons om ’n beter prentjie van die Twaalf as geheel sowel as die individuele boeke van die Twaalf te kry. ’n Geleerde soos byvoorbeeld House (1990; 1998; 2000) strewe na ’n gebalanseerde beskouing van die Twaalf. Hy vra na die histories-kritiese verstaan van elke boek binne die Twaalf, maar erken ook dat in die oordra van die tradisie en kanonvorming hierdie onderskeie boeke tot ’n koherente geheel saamgevoeg is.
(4) Die bestudering van die Twaalf kan ons daarvan verlos om slegs ’n eensydige beeld van God te vorm. In die verlede is dikwels net op een aspek of een karaktertrek van God gefokus. In die Twaalf leer ons vir God in al sy fasette ken, byvoorbeeld God as regter wat geregtigheid laat geskied én God as verlosser wat hoop en vergifnis vir sy volk bring.
(5) Die Twaalf help ons om die sosio-historiese omstandighede van eeue in Israel se geskiedenis te verstaan. Die Boek van die Twaalf speel af oor ’n periode van ongeveer vierhonderd jaar. Geeneen van die sogenaamde “groot” profete kan met die historiese omvang van die Twaalf vergelyk word nie.
(6) Die laaste drie boeke van die Twaalf (Hag; Sag en Mal) het in die heropboufase van Israel se geskiedenis ontstaan. Hierdie boeke is vir ons vandag in Suid-Afrika baie betekenisvol, omdat ons tans ’n heropbou fase beleef.
Die bestudering van die Boek van die Twaalf kan nie afgeskeep word nie. Hierdie boek as geheel sowel as die individuele boeke is ’n juweel wat die kerk in Suid-Afrika kan help om God beter te verstaan en haar roeping in Suid-Afrika beter uit te leef.
BIBLIOGRAFIE
Ashby, GW 2003. The prophets versus sacrifice? With special reference to the twelve. OTE 16/3, 561-572.
Ben Zvi, E 1996. Twelve prophetic books or ‘The Twelve’: A few preliminary considerations, in Watts, J W & House, P R (eds), Forming prophetic literature: Essays on Isaiah and the Twelve in Honor of John D. W. Watts (JSOTSupp 235), 125-156. Sheffield: Sheffield Academic Press.
Bosshard-Nepustil, E 1997. Rezpetion von Jesaja 1-39 im Zwölfprophetenbuch: Untersuchungen zur literarischen Verbindung von Prophetbüchern in balylonischen und persischer Zeit. Fribourg: Universitätsverlag. (OBO 154.)
Bosman, JP 2004. The paradoxical presence of Exodus 34:6-7 in the Book of the Twelve. Scriptura 87, 233-243.
Braaten, LJ 2003. Hosea’s land theme in the Book of the Twelve, in Reddit & Schart, 104-132.
Brueggemann, W 2003. An introduction to the Old Testament: The canon and Christian imagination. Louisville: Westminster John Knox Press.
Budde, K 1922. Eine folgenschwere Redaktion des Zwölfprophetenbuchs. ZAW 39, 218-229.
Clements, RE 1977. Patterns in the prophetic canon, in Coats, G W & Long, B O (eds), Canon and Authority: Essays in Old Testament Religion and Theology, 42-55. Philadelphia: Fortress Press.
Collins, T 1993. The mantle of Elijah: The redaction criticism of the prophetical books. Sheffield: JSOT Press. (The Biblical Seminar 20.)
Collins, JJ 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press. Conrad, EW 2003. Forming the Twelve, forming canon, in Reddit & Schart,90-103.
Fuller, R 1996. The form and formation of the Book of the Twelve: The evidence from the Judean desert, in Watts & House, 86-101.
Fuller, R 1999. The text of the twelve minor prophets. CR:BS 7, 81-95.
Geestelike Groei-Bybel. 2004. Wellington: Lux Verbi.BM.
García-Treto, FO 1996. The book of Nahum, in Keck, LE et al (eds), The New Interpreter’s Bible Vol 7, 592- 619. Nashville: Abingdon Press.
Gowan, DE 1998. Theology of the prophetic books: The death and resurrection of Israel. Louisville: Westminster John Knox Press.
Hiers, RH 1992. s v Day of the Lord. ABD 2, 82-83.
Hill, AE 1998. Malachi. New York: Doubleday. (AB25D.)
House, PR 1990. The unity of the Twelve. Sheffield: Almond Press. (Bible and Literature Series 27.)
House, PR 1998. Old Testament theology. Downers Grove: Inter-Varsity Press.
House, PR 2000. The character of God in die Book of the Twelve, in Nogalski, J D & Sweeney, M A (eds), 125-
145.
Jones, BA 1995. The formation of the Book of the Twelve: A study in text and canon. Atlanta: Scholars Press. (SBL Dissertation Series 149.)
Lee, AY 1985. Canonical unity of the Minor Prophets. Ph D dissertation, Baylor University.
Leefstyl-Bybel vir vroue. 2003. Wellington: Lux Verbi.BM.
Multivertaling Bybel. 2004. Vereeniging: CUM.
Nogalski, JD 1993a. Literary precursors to the Book of the Twelve. Berlin: Walter de Gruyter. (BZAW 217.)
Nogalski, JD 1993b. Redactional processes in the Book of the Twelve. Berlin: Walter de Gruyter. (BZAW 218.)
Nogalski, JD 2003. The day(s) of YHWH in the Book of the Twelve, in Redditt & Schart, 192-213.
Nogalski, JD & Sweeney, MA (eds) 2000. Reading and hearing the Book of the Twelve. Atlanta: SBL. Petersen, DL 2000. A Book of the Twelve?, in Nogalski & Sweeney, 1-10.
Petersen, DL 2002. The prophetic literature: An introduction. Louisville: Westminster John Knox Press.
Redditt, PL 2000. The production and reading of the Book of the Twelve, in Nogalski & Sweeney, 11-33.
Redditt, PL 2001. Recent research on the Book of the Twelve as one book. CR:BS 47-80.
Redditt, PL 2003. The formation of the Book of the Twelve: A review of recent research, in Redditt & Schart,1-26.
Redditt, PL & Schart, A (eds) 2003. Thematic threads in the Book of the Twelve. Berlin: Walter de Gruyter.
Rendtorff, R 2000. How to read the Book of the Twelve as a theological unity, in Nogalski & Sweeney, 75-87.
Rogerson, JW 1982. s v Dodekapropheton. TRE 9, 18-20.
Schart, A 1998a. Die Entstehung des Zwölfprophetenbuchs: Neubearbeitung von Amos im Rahmen schriftenübergreifender Redaktionsprozesse. Berlin: De Gruyter. (BZAW 260.)
Schart, A 1998b. Zur Redaktionsgeschichte des Zwölfprophetenbuchs. Verkündigung und Forschung 43/2, 13- 33.
Schart, A 2000. Reconstructing the redaction history of the Twelve prophets: Problems and models, in Nogalski & Sweeney, 34-48.
Schneider, DA 1979. Unity of the Book of the Twelve. Ph D dissertation, Yale University.
Steck, OH 1991. Der Abschluss der Prophetie im Alten Testament: Ein Versuch zur Frage der Vorgeschichte des Kanons. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag. (BTS 17.)
Sweeney, MA 2000. Sequence and interpretation in the Book of the Twelve, in Nogalski & Sweeney, 49-64. Van der Watt, J (red) 2003. Die Bybel A-Z. Vereeniging: CUM.
Vosloo, W & Van Rensburg, FJ (reds) 1999. Die Bybellennium Eenvolumekommentaar: Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing. Vereeniging: CUM.
Watts, JDW 2000. A frame for the Book of the Twelve: Hosea 1-3 and Malachi, in Nogalski & Sweeney, 209- 217.
Watts, JW & House, PR (eds) 1996. Forming prophetic literature: Essays on Isaiah and the Twelve in honor of John D. W. Watts. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSOTSup 235.)
Wolfe, RE 1935. The editing of the Book of the Twelve. ZAW 53, 90-129.
TREFWOORDE
Boek van die Twaalf. Twaalf profete. Klein profete. Hosea-Maleagi. Profetiese literatuur
KEY WORDS
Book of the Twelve, Twelve prophets, Minor prophets, Hoseah-Malachi, Prophetic literature
1 Die groep se eerste byeenkoms was by die SBL Annual Meeting in Chicago. Aan die begin het die navorsingsgroep bekend gestaan as “Book of the Twelve Consultation” en later “Formation of the Book of the Twelve Seminar” (Jones 1995:x).
2 In hierdie artikel word die woord “Twaalf” as sinoniem vir “Boek van die Twaalf” gebruik.
3 2-4 Sept 2003 in Bloemfontein.
4 Navorsingsartikels (1995-Junie 2005) van die volgende 7 geakkrediteerde teologiese tydskrifte wat in Suid- Afrika gepubliseer word, is nagegaan: Acta Theologica; Hervormde Teologiese Studies; In die Skriflig; Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif; Old Testament Essays; Scriptura; Skrif en Kerk / Verbum et Ecclesia
5 Die meeste artikels fokus op een van die individuele boeke in die Twaalf. In bv Old Testament Essays lyk die verspreiding van artikels soos volg (1995-2005): Hos (4); Joël (0); Am (7); Ob (2); Jona (6); Miga (7); Nah (4); Hab (5); Sef (1); Hag (3); Sag (3); Mal (2). Daar is slegs 2 artikels waarin die woorde “Book of the Twelve” (Bosman 2004:233-243) of “the twelve” (Ashby 2003:561-572) in die opskrifte voorkom.
6 Geen verwysing na die Boek van die Twaalf, nie eers in die lys van vaktaal terminologie of indeks van aktuele temas nie.
7 Slegs ’n enkele paragraaf wat oor die “Klein Profete” handel met ’n enkele sin wat verwys na die Boek van die Twaalf Profete (2004:505). Selfs in die woordelys en indeks vind ’n mens geen verwysing na die Boek van die Twaalf nie.
8 Geen verwysing na die Boek van die Twaalf; ook nie by die woordelys, kitsnaslaangids of rubriekindeks nie. Daar is wel ’n hele aantal mini-Bybelstudies oor die “Klein Profete”, maar weer eens word die naam Boek van die Twaalf glad nie gebruik nie. By die bespreking van die individuele boeke (2003:1056-1184) word daar glad nie na die nuwe navorsing oor die Twaalf verwys nie; wel ’n kort verwysing na die sogenaamde Klein Profete (2003:1175).
9 Geen verwysing na Twaalf nie, selfs nie eers by Woordelys nie.
10 Geen verwysing na Boek van die Twaalf in kort opsomming voor elke boek nie (bv Hosea in perspektief).
11 Daar is ’n informele steekproef gedoen by teologiese studente wat kursusse oor die Boek van die Twaalf deurloop het. Studente kon net enkele preke en Bybelstudies waar die Boek van die Twaalf gebruik is, onthou. Die meeste van hierdie studente het gekom uit die volgende drie hoofstroom kerke: Metodiste Kerk, NG Kerk en VG Kerk.
12 Vgl beskrywingspunt in die Agenda van die Sinode van NG Kerk in SA (Wes- en Suid-Kaapland) wat gehou is vanaf 18-25 Oktober 1995 (bl 213).
13 Rogerson (1982:18) wys daarop dat die uitdrukking “klein profete” teruggevoer kan word na die Latynse woorde prophetae minores wat deur Augustinus gebruik is.
14 Dit is die benaming wat Collins (2004:422) in sy nuutste inleiding tot die Hebreeuse Bybel gebruik.
15 In die Duitse literatuur word meestal die woorde “Dodekapropheton” of “Zwölfprophetenbuch” gebruik.
16 Jeremia is die langste met 116 bladsye in die MT, terwyl Esegiël die korste is (95 bl). Die Boek van die Twaalf staan in die middel met 96 bladsye (Petersen 2000:5; 2002:169).
17 Die teks van 4QXIIa is wel ’n uitsondering op hierdie reël waar Jona waarskynlik die laaste boek van die Twaalf is (Fuller 1996:96; 1999:83-84).
18 Vir ’n meer breedvoerige bespreking van navorsing oor die Twaalf vergelyk Nogalski (1993a:3-12); Jones (1995:13-42); Redditt (2000:11-33; 2001:47-80; 2003:1-26).
19 Budde (1922:218-229) kom tot die gevolgtrekking dat die unieke vorm van die Twaalf die resultaat was van ’n sistematiese redaksie wat die “menslike woorde” wou illumineer om sodoende ’n boek van goddelike woorde te vorm. Wolfe (1935:90-129) was een van die eerste geleerdes wat gefokus het op die verskillende redaksionele lae van die Twaalf. In sy “strata hipotese” wys hy op 13 redaksies, onder andere die “Dag van die Here redaktor”. Redditt (2003:2) wys ook op die redaksie-historiese bydraes van twee ouer Duitse geleerdes, naamlik Ewald (1868) en Steuernagel (1912). Hulle het nie soseer klem gelê op die Twaalf nie, maar hulle bevindings gepubliseer in ’n boek oor die profete (Ewald) en ’n inleiding van die OT (Steuernagel).
20 Vgl Hos 14:1-8; Am 9:11-15; Miga 7:8-20; Joël 4:16-21; Ob 17-21; Sef 3:8-20.
21 Nogalski was ’n student van Steck wat ook ’n belangrike bydrae met betrekking tot die Twaalf gelewer het. Steck (1991) het onder andere die redaksie van die Twaalf met dié van Jesaja vergelyk.
22 Daar is nog ’n invloedryke werk in 1993 deur Collins gepubliseer wat nie slegs op die Twaalf fokus nie, maar die redaksiekritiek van al die profetiese boeke bespreek
23 Fragmente van 8 verskillende boekrolle van die Twaalf is in Qumran grot 4 gevind. Die oudste van die boekrolle 4QXIIa (ca 150 vC) bevat dele van die boeke Sagaria, Maleagi en Jona (Jones 1995:6; Fuller 1999:83-86).
24 Hierdie is die publikasie van Schart se Habilitationsschrift wat alreeds in 1996 by Marburg verwerf is.
25 Vgl bespreking in Deel 5.
26 Ben Zvi (1996:139-142) neem byvoorbeeld vir Obadja as toetsgeval waarin hy die werk van Nogalski kritiseer. Hy verwys onder andere na die 5 trefwoorde wat Nogalski vind in ‘n vergelyking tussen Obadja 15-21 en Miga 1:1-7. Volgens Ben Zvi kom hierdie 5 woorde redelik algemeen voor en kan ‘n mens geen bewyse uit hierdie vergelyking aflei nie.
27 ’n Moontlike tog lomp Afrikaanse vertaling is “getematiseerde bloemlesing”.
28 Vgl die volgende opmerking van Conrad (2003:101): “Reading a prophetic book in its final form is reading it as a collection of materials arranged as a compilational whole – as a collage.”
29 Buiten die volgordes by die MT en die LXX is daar ook nog die volgende 3 ander volgordes deur 2 pseudepigrafiese geskrifte en ’n Qumran manuskrip: (1) Volgorde voorgestel deur The Martyrdom and Ascension of Isaiah 4.22; (2) Volgorde voorgestel deur The Lives of the Prophets; (3) Volgorde voorgestel deur die Qumran manuskrip 4QXIIa (Ben Zvi 1996:134). Die volgorde van 4QXIIa is waarskynlik van bogenoemde drie die betekenisvolste vir die bestudering van die Twaalf. Dit kom ooreen met dié van die LXX behalwe dat die boek Jona ná Maleagi volg (Jones 1995:223).
30 Vgl ook die bespreking van House se bydrae by afdeling 6.2.
31 Jones (1995:226-227) meld die ontwikkeling van die Twaalf op grond van getuienis uit verskillende manuskripte. Hy wys daarop dat daar eers ’n “Boek van Nege” was waarna Joël en Obadja bygevoeg is. Volgens Jones is die boek Jona laaste bygevoeg
32 Collins (2004:411) skryf die volgende hieroor: “All the material in Zechariah 9-14 and Malachi may be regarded as a collection of anonymous oracles that was appended to the collection of Minor Prophets, although the chapters conventionally attributed to Malachi are more coherent than Zechariah 9-14”.
33 ’n Mens sou ook kon praat van Joodse kanon. In hierdie artikel word die woord “Hebreeuse kanon” gebruik.
34 Die Psalms is die eerste boek en 2 Kronieke die laaste boek van die Geskrifte.
35 Beide die kanons verwys in Maleagi 3:22-24 (4:4-6) na Moses en Elia. Hierdeur word die eerste twee dele van die Hebreeuse kanon met mekaar verbind, naamlik die Wet (Moses) en die Profete (Eilia) (Rendtorff 2000:86).
36 Joël 1:15; 2:1, 11; 3:4 (2:31); 4:14 (3:14); Am 5:18, 20; Ob 15; Sef 1:7, 14 (x2); Mal 3:23.
37 Die verwysing in die Hebreeuse Masoretiese teks (MT) word eerste geplaas met die Afrikaanse verwysing tussen hakies. Vgl ook vorige voetnotas
38 Vgl Braaten (2003:104-132). Braaten toon onder andere aan dat die woord “land” ’n inclusio vorm deurdat dit in Hos 1:2 en Mal 3:24 (4:6) voorkom.
39 Vgl artikel van Bosman (2004:233-243) oor die gebruik van Eks 34:6-7 in die Twaalf.
40 Vgl die bydraes van Steck (1991:196-198) en Bosshard-Nepustil (1997).