Die Ou Testament en die Belydenis van
Belhar (1986)
ABSTRACT
The Old Testament and the Confession of Belhar (1986)
The use of the Old Testament in the Confession of Belhar is investigated. The fact that there are only four explicit references to the Old Testament in the Confession occurring only in the fourth article on righteousness merits such an investigation. The Old Testament does have a contribution to make on the statements of unity and reconciliation as well. Although the Confession of Belhar does not contradict the teachings of the Old Testament, it is nevertheless a pity that theological insights from the Old Testament do not feature more prominently in die Confession. The result of this investigation shows that theological insights from the Old Testament could also have been used in the other articles of the Confession to strengthen its theological value.
1. INLEIDING
Belydenisskrifte in – ten minste – die Gereformeerde tradisie is belangrike dokumente. Belydenisskrifte is die samevatting van kernwaarhede van die Bybel. Dit is ’n uitdrukking van wat binne ’n bepaalde geloofsgemeenskap of kerk geglo word. Dit verskaf ’n raamwerk vir die verstaan en toe-eiening van God se openbaring aan mense. As sodanig bind dit gelowiges selfs oor verskillende kerkgenootskappe saam tot ’n eenheid in die sin dat gelowiges op daardie punt(e) van die belydenisskrif dit met mekaar eens is, al is daar oor ander minder belangrike sake verskil van mening. Binne die Gereformeerde tradisie dus, stempel belydenisskrifte die identiteit van ’n kerk.
Die Belydenis van Belhar (1986) is een van die mees resente belydenisskrifte binne die kader van gereformeerde kerke. Die belydenis was en is ’n omstrede dokument. In privaat gesprekke, koerante, in kerklike publikasies en as deel van ’n akademiese besinning ontlok die Belydenis van Belhar steeds debat en intensiewe, soms selfs heftige, gesprek. In die gesprek wat daar tussen die verskillende lede van die familie van die NG Kerk oor die moontlikheid van kerkeenheid gevoer word, is die Belydenis van Belhar telkens ter sprake.
2. PROBLEEMSTELLING
Naudé (2003:177) maak die opmerking dat die teologiese interpretasie van die Belydenis van Belhar ’n voortdurende taak is en dat daar nog veel gedoen moet word (Botman 2001:33-42; Naudé 2003:407-420; Naudé 2004:35-53; Naudé 2004:201-209; Nel 1995:81-99). ’n Belydenisskrif binne die gereformeerde tradisie wil nie meer sê as wat die Bybel sê nie en dit spreek eintlik vanself dat die finale toets vir ’n belydenisskrif die getroue nasê van die Bybel is.’n Belydenisskrif wil niks anders wees as ’n repetitio Sacrae Scripturae nie (Botha & Naudé1998:16). Trouens, in die begeleidende brief saam met die Belydenis van Belhar word dit uitdruklik gestel “dat die enigste gesag agter so ’n belydenis en die enigste grond waarop dit uitgespreek kan word die Heilige Skrifte as die Woord van God is” (Botha & Naudé 1998:42). Belydenisskrifte word aan die Woord getoets.
Die rol en gebruik van die Nuwe Testament in die Belydenis van Belhar is al ondersoek. Daniels (2001:193-209) skryf ’n artikel oor die gebruik van die Bybel in die Belydenis van Belhar se artikel oor kerkeenheid, waarin die voorkoms en gebruik van verskillende Nuwe Testamentiese tekste kortliks bespreek word. Die vraag wat in hierdie bydra gevra word is die vraag na die rol wat die Ou Testament in die Belydenis van Belhar speel. Die vraag na die funksionering van die Ou Testament in die Belydenis van Belhar is sover vasgestel kon word, nog nie gevra nie. Hierdie artikel wil ’n bydra lewer tot die teologiese interpretasie van die Belydenis van Belhar deur spesifiek te vra na die rol wat die Ou Testament speel in die belydenis.
Is die rol wat die Ou Testament in die belydenis speel ’n probleem? Die eerste opvallende verskynsel is dat daar net na vier spesifieke teksverse uit die Ou Testament verwys word in die teks van die Belydenis van Belhar (Deut 32:4; Jes 1:16-17; Ps 146; Amos 5). Dit laat die vraag ontstaan: waarom net die vier teksverse? Waarom funksioneer die Ou Testament met die verwysing na die vier teksverse ook net in Artikel 4 van die Belydenis? Het die Ou Testament niks te sê vir die ander artikels van die Belydenis van Belhar nie, is die vraag wat homself opdwing.
Daar is dus verskeie motiverings wat ’n ondersoek na die funksionering van die Ou Testament in die Belydenis van Belhar die moeite werd maak. Eerstens noodsaak die voortdurende teologiese interpretasie van die Belydenis so ’n ondersoek. Tweedens regverdig die feit dat daar na net vier spesifieke teksverse in die Ou Testament verwys word, ’n nadere ondersoek. Derdens is dit opvallend dat daar net in een artikel van die Belydenis na die Ou Testament verwys word. ’n Vierde en laaste motivering is dat daar na aanleiding van ’n tydgenootlike kerklike dokument (Kerk en Samelewing) ’n publikasie verskyn het wat spesifiek gevra het na die rol en bydra van die Ou Testament in die betrokke dokument (Verhoef 1987).
Die metodologiese weg wat gekies is om die probleemstelling te beantwoord, is om eers kortliks te kyk na die historiese omstandighede wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Belydenis. Dan word die teks van die Belydenis te ondersoek en ’n peiling te maak van die funksionering van die Ou Testament in die Belydenis. Die uitgangspunt is dus dat die nagaan van die historiese situasie ’n hulpmiddel is om ’n teks uit daardie historiese omstandigheid te verklaar en te begryp. Maar, ’n begrip en verstaan van ’n teks gebeur ook net as die teks self noukeurig gelees word. Die ondersoek sal gerig word na eksplisiete en implisiete verwysings en/of toespelings op die Ou Testament in die Belydenis. Na aanleiding van die ondersoek kan daar dan tot ’n gevolgtrekking gekom word.
3. ’N OORSIG OOR DIE HISTORIESE OMSTANDIGHEDE AANLEIDEND TOT DIE ONSTAAN VAN DIE BELYDENIS VAN BELHAR
Die historiese gebeure wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Belydenis van Belhar is al nagevors en in verskillende publikasies weergegee (Durand 1984:39-48; Botha & Naudé 1998:23-37; Daniels 2001:195-196; Adonis 2006:234-239). Daarom word hier volstaan met ’n oorsigtelike beeld wat die situasie van die tagtigerjare van die vorige eeu tog enigsins sal inkleur sonder om daarmee voor te gee dat dit ’n volledige beeld van die geskiedenis van die ontstaan van die Belydenis van Belhar wil weergee.
Polities gesien was die tagtigerjare van die vorige eeu turbulente jare gewees. Die aanloop tot die onstuimigheid van die tyd kan terug gevoer word na die jeugopstande van dertig jaar gelede in Junie 1976 in Soweto. Sedert die tyd is die politieke toneel in Suid-Afrika al hoe meer gekenmerk deur swart protespolitiek. ’n Hele reeks organisasies is op die been gebring (South African Students’ Organization, Black Peoples Convention, South African Students’ Movement, National Youth Organization, Black Allied Workers Union, Union of Black Journalists, Azanian People’s Organization, Congress of South African Students, United Democratic Front) wat die politieke druk om radikale politieke verandering aansienlik verhoog het. Dit was ook die tyd van toenemende terroristiese aktiwiteite soos bomontpoffings wat nie net geboue vernietig het nie maar ook mettertyd menselewens geëis het. Massa optrede deur stakings (“we shall vote with our feet”) het die ekonomie ontwrig. Saam hiermee was dit ook ’n tyd van eskalerende politieke en ekonomiese isolasie van die res van die wêreld.
Die kerk bestaan nie buite die breë gemeenskap nie. Die politieke klimaat in die land het die kerklike lewe ingrypend beïnvloed, te meer so omdat die politieke beleid van die destydse regering bekend as apartheid, nie net ’n politieke beleid was nie. Dit was ’n politieke beleid wat met teologiese argumente deur die kerk voorsien was. Op die manier het ’n politieke beleid teologiese, Bybelse, kerklike sanksie verkry. Dit was verder ’n beleid wat in sy toepassing die konkrete lewe van duisende lidmate van die kerk intens geraak het. Dat die kerk dus sou reageer op die beleid en die effek daarvan op lidmate is vanselfsprekend. Verskillende publikasies wat onmiddellik voor die Belydenis van Belhar verskyn is getuie van die troebel tye wat ook die kerk intens raak: ’n bundel opstelle onder die titel Stormkompas verskyn in 1981, die sogenaamde Hervormingsdaggetuienis van ’n aantal teoloë word op 30 Oktober 1980 gepubliseer en in 1982 verskyn die Brief van 123. Dit is publikasies binne die kader van die NG Kerk-familie. Op die breër kerklike terrein was daar ook verskillende publikasies wat die teologiese onhoudbaarheid van apartheid skerp belig het (De Gruchy J & Villa-Vicencio 1983).
Die aanleidende oorsaak vir die Belydenis van Belhar word nie net in ’n toenemend verslegtende politieke toestand in Suid-Afrika gesoek nie maar ook in ekumeniese verband. In 1982 vergader die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottawa, Kanada. By die vergadering word die NG Kerk se amptelike standpunt oor apartheid deur ’n gereformeerde ekumeniese liggaam tot kettery verklaar (Durand 1984:123-124; Botha & Naudé 1998:33-34; Strauss
2004:103-106; Botman 2006:240). By die vergadering is daar ook besluit om ’n staat van belydenis (status confessionis) oor die situasie in Suid-Afrika af te kondig, ’n besluit wat later dieselfde jaar deur die sinode van die destydse NG Sendingkerk ook aanvaar is as besluit van die sinode. Op voorstel van prof Gustav Bam moes die sinode sy geloof in die sake wat hy afwys in ’n belydenis verwoord. Immers, wanneer die kerk hom in ’n status confessionis bevind, moet die woord wat die kerk op hierdie plek spreek, die status en karakter van belydenis hê (Botha & Naudé 1998:35). ’n Kommissie word benoem om die belydenis te formuleer en op Maandag 4 Oktober
1982 konstitueer die kommissie en twee dae later op 6 Oktober 1982 word ’n Konsepbelydenis aanvaar. Nadat die Konsepbelydenis vir die volgende vier jaar in gemeentes en ringe van die kerk bespreek is, word dit op 26 September 1986 as belydenisskrif van die NG Sendingkerk aanvaar (Daniels 2001:196; Botha & Naudé 1998:38-39).
Uit hierdie kort en baie oorsigtelike weergawe van die situasie waarbinne die Belydenis van Belhar ontstaan het, is dit duidelik dat dit omstandighede binne ’n abnormale, polities onstabiele en kerklike onstuimige tyd was. Hierdie indruk word bevestig deur die begeleidende brief saam met die Belydenis: “Ons is daarvan bewus dat so ’n daad van belydenis nie ligtelik gedoen word nie, maar slegs as geoordeel word dat die hart van die evangelie self op die spel staan en bedreig word. Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie in ons land en veral die NG Kerk- familie tans so ’n beslissing. Ons doen hierdie belydenis dus nie as ’n teologiese gespreksbydrae of as ’n nuwe samevatting van al ons geloofsgoedere nie, maar as ’n kreet uit die hart, as ’n dwang wat ons opgelê is om die evangelie ontwil in die lig van die oomblik waarin ons staan” (Botha & Naudé 1998:41).
4. HOE FUNKSIONEER DIE OU TESTAMENT IN DIE BELYDENIS VAN BELHAR?
4.1 Die inhoud van die Belydenis
Die Belydenis van Belhar bestaan uit vyf artikels waarin drie sake aan die orde gestel word. Artikel
1 begin die Belydenis met ’n trinitariese geloofsverklaring tipies in die genre van ’n geloofsbelydenis: “Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees...” Artikel 2 handel dan oor die eenheid van die kerk van Jesus Christus, “ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk”. Artikel 3 handel oor “die boodskap van versoening in deur Jesus Christus”; artikel 4 handel oor God “wat Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring ...” Met artikel 5 sluit die Belydenis af met ’n oproep aan die kerk “om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste Hoof ...” Die Belydenis sluit dan weer met ’n trinitariese lofprysing.
4.2 Hoe funksioneer die Ou Testament in artikel 2 oor die eenheid van die kerk?
Belangrike teksverse uit die Nuwe Testament waarin die eenheid van die kerk en van gelowiges onderling beklemtoon word, word in die kantlyn van die Belydenis genoem. Dit is opvallend dat teksverse waarna verwys word in die meerderheid van gevalle eerder korpusse van tekste is eerder as enkele teksverse. Artikel 2 wil dus niks meer wees as ’n nasê van insigte uit die Nuwe Testament oor die eenheid van die kerk nie. Geen teks uit die Ou Testament word direk aangehaal of na verwys in die artikel nie. Daar is dus geen eksplisiete verwysing na die Ou Testament nie.
Die vraag is nou of die Ou Testament nie tog ook ’n woordjie mee te spreek het in die verband nie. Alhoewel daar geen eksplisiete verwysings na die Ou Testament is nie, is daar tog implisiete verwysings. Gelowiges vind hulle eenheid onder andere in hulle gemeenskaplike verbintenis aan die “een God en Vader”. Gelowiges in die Ou Testament se identiteit is presies hierdeur ook gestempel. Sentraal vir die geloof van Ou Testamentiese gelowiges was hulle oortuiging dat daar maar een God is aan wie hulle verbind is teenoor ’n wêreld van politeïsme. Deuteronomium 6:4 is in hierdie opsig van buitengewone belang: “Luister Israel, die Here is ons God. Hy is die enigste Here”. Dit is niks minder as ’n “geloofsbelydenis” van Israel wat hier uitgespreek word nie.
Die gedagte van God as Vader kommunikeer die idee van God as die oorsprong of begin van Israel as volk van God. Israel is volk van God omdat God Israel tot volk van God gemaak het. In Deut 32:6 word dit duidelik verwoord: “Is die Here nie jou Vader, jou Skepper nie? Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring”. Die metafoor vader druk nie net ’n verhouding van oorsprong uit nie, dit druk ook ’n durende verhouding tussen God en sy volk uit. Dit is nie net die aanvang van die verhouding nie, maar ook die voortgang van die verhouding wat ter sprake kom. Juis die oortuiging dat die Here die oorsprong en begin van Israel se bestaan as volk van God is, is die waarborg van die voortgang van die verhouding (Snyman 1998:47-53). Die een volk van God het sy ontstaan en voortbestaan aan die een God te danke.
Die uitdrukking “volk van God” word drie keer in artikel 2 teëgekom. Die uitdrukking word in die Belydenis waarskynlik in sy Nuwe Testamentiese konteks aangehaal maar die uitdrukking is ’n konsep wat sy wortels in die Ou Testament het. Om die kerk volk van God te noem is ’n metafoor wat dikwels in die Nuwe Testament voorkom en is gewoonlik ’n aanduiding van mense wat in ’n besondere verhouding met God staan. In die Ou Testament was Israel die volk van God, maar nou in die nuwe bedeling van Jesus Christus is die kerk volk van God (Ladd 1975:537-538; Guthrie 1981:706-707, 778).
In die Ou Testament kom die uitdrukking “volk van die Here/Jahwe” talle kere voor en funksioneer dit as ’n belangrike teologiese term om die identiteit van die geloofsgemeenskap van Israel te definieer (Rendtorff 2005:35, 636). Dit is die Here wat aan Abraham die belofte maak dat Hy hom tot ’n volk sou maak. Die woord ‘am in Hebreeus druk veral familie en bloedverwantskap uit. In die teologiese betekenis van die begrip druk die term “volk van Jahwe” dan ook verwantskap uit – die volk is verwant aan Jahwe wat beteken hulle behoort aan Jahwe. Dit is dus
’n begrip wat die noue verhouding tussen Jahwe en sy volk uit druk. ’n “Familienzugehörigkeit” of ’n “Verwandtschaftszugehörigkeit” is terme wat in die Duitse literatuur aangetref word om die begrip mee te verduidelik (THAT:303-304). Vir Vriezen (1966:403-404) beteken die aanduiding van Israel as volk van God dat dit primêr ’n godsdienstige gemeenskap is waarin geloof die basis vir Israel se heilsverwagting is en dat Israel as geloofsgemeenskap kon bly voortbestaan selfs toe hulle bestaan as volk tot ’n einde gekom het. Hierdie teologiese insigte uit die Ou Testament pas in by die aksent wat in artikel 2 gelê word op die eenheid van kerk as geloofsgemeenskap. Let op, die Here skep nie verskillende volke vir Hom in die bedeling van die Ou Testament nie. Daar is maar net die een volk van Jahwe in die Ou Testament.
Teenoor ’n nasionalistiese eksklusiwiteit wat in sommige gedeeltes van die Ou Testament aangetref word (Esra, Nehemia) is daar in die Ou Testament tog ook ’n merkwaardige openheid teenoor mense uit ander kulture. In Eks 12:38 is daar melding van baie ander mense van ander afkoms wat nie Israeliete was nie wat ook die groot heilsgebeure van die verlossing uit Egipte meegemaak het. In die boek Rut word Rut as vrou en Moabiet probleemloos opgeneem in die gemeenskap van Israel – en dan is sy nog boonop verwant aan die groot koning Dawid.
4.3 Hoe funksioneer die Ou Testament in artikel 3 oor die tema van versoening?
Artikel 3 van die Belydenis van Belhar het versoening as tema. Klassieke versoeningstekste uit Nuwe Testament is aan die orde (2 Kor 5:17-21; Matt 5:13-16; Ef 4:17-6:23; Rom 6; verskillende tekste uit Kolossense). Die vertrekpunt en die eindpunt van die betrokke artikel is die versoening in en deur Jesus Christus, maar die klem val op die kerk wat “getuies van die nuwe hemel en aarde” is en wat moet leef in “’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring”.
Weer eens is daar geen eksplisiete verwysing na die Ou Testament nie. Daar is ook nie opvallende toespelings op Ou Testamentiese begrippe of temas wat in die aangehaalde Nuwe Testamentiese tekste voorkom nie. Is daar moontlik ander implisiete verwysings na die Ou Testament? Daar is min twyfel daaroor dat die tema van versoening ’n prominente tema in die Ou Testament is. Die plek waar versoening en vergiffenis beleef word, is veral in die kultus van Israel.
Daar is deur Ou Testamentici geargumenteer dat die boek Levitikus die sentrum of middelpunt van die Pentateug vorm (Rendtorff 2003:252-258). Smith (1997:305-306) sien ’n chiastiese opbou in die geheel van die Pentateug met die boek Levitikus as sentrum. Zenger (1996:37) het in sy boek oor die Inleiding tot die Ou Testament tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Volgens Zenger korreleer Genesis met Deuteronomium (die belofte van die land en die reëlings vir die lewe in die land word gegee; seën vir die seuns van Israel en die seën van die stamme van Israel; die dood en begrafnis van Jakob en Moses onderskeidelik); Eksodus en Numeri korreleer (Israel op reis in beide boeke, pasga, manna, water uit die rots) en dit maak die boek Levitikus die sentrum van die Pentateug as die boek wat die grondwet van die heilige volk van God genoem kan word.
In die sentrum van die sentrum staan Levitikus 16 (Rendtorff 2003:256-257), die hoofstuk wat by uitstek oor versoening handel. Levitikus 16 gee die reëlings vir die Groot Versoendag. Die plek wat die reëlings vir die geleentheid in die geheel van die Pentateug inneem is aanduiding genoeg van die belangrikheid van versoening in die Ou Testament. Dit is ’n buitengewone belangrike geleentheid wat net een keer per jaar gebeur. Die geweldige detail van reëlings wat gegee word is
’n aanduiding van die erns waarmee sonde en daarmee saam ook die noodsaak van versoening beskou word. Die ritueel van versoening is gerig op die behoud van mense. Immers, die diere wat geoffer word, geld as plaasvervangers vir mense. Die sonde van mense word oorgedra op die sondebok. Daarom speel bloed so ’n belangrike rol by die offers van die Ou Testament. Bloed word gesien as die setel en draer van lewe. Die bloed van die diere wat geoffer word, verteenwoordig dus eintlik die lewe van die volk vir wie daar geoffer word. Uiteindelik is die hele ritueel van versoening met al sy detail bepalings gerig op die herstel van die verhouding tussen God en sy volk. Die doel van versoening is die herstel van die verhouding tussen God en mens. Brueggemann (1997:666) maak in die verband die opmerking dat “Yahweh has granted Israel a reliable, authorised device whereby Israel can be restored to the full relationship with Yahweh. It is the same claim that the early church makes for Jesus, that Jesus is God’s new ‘sacrifice for atonement’ (Rom 3:25)”.
Versoening tussen mense is in die Ou Testament ook ’n belangrike tema. Dit is opvallend hoeveel van die bepalings in die Pentateug gerig is op die herstel van goeie verhoudings tussen mense (Eks 21:33-36; 22:1-4). Volgens Brueggemann (1997:697) bind die Tora Israel aan Jahwe deur hulle liefde vir God en hulle liefde vir die naaste. Groot dele van die wysheidsliteratuur (Spr 12:18; 15:1; 16:6) handel ook oor die handhaaf en die herstel van verhoudings tussen mense. Dit is die wysheidsleraars wat Israel leer om met grasie teenoor medemense op te tree (Brueggemann 1997:698).
Genesis 33 is ’n klassieke versoeningsteks waar die klem val op die verhouding tussen mense wat herstel word. Genesis 33 vertel die verhaal van die herontmoeting van Jakob en Esau, die tweeling wat in onenigheid uit mekaar is. So ’n situasie van twee broers, ’n tweeling, wat in verwydering, uitbuiting en bevoorregting van mekaar vervreemd geraak het, roep as ’t ware om versoening. Dit gebeur dan ook in Genesis 33. Ons lees hoe die twee broers mekaar huilend om die hals val – versoening is nie net moontlik nie, dit is iets wat konkreet gebeur.
Daar is egter twee aksente in die verhaal wat ons begrip van versoening verruim. Die eerste aksent word in die vorige hoofstuk gevind. Voor Jakob se ontmoeting met Esau is daar eers ’n ander ontmoeting waarvan in Genesis 32 vertel word – Jakob se gestoei met die misterieuse figuur by die Jabbokdrif wat toe later blyk God te wees. Jakob se ontmoeting met God maak versoening met Esau moontlik. Egte versoening beteken allereers versoening met God. Die tweede aksent is ook belangrik. Genesis 33 sê ook dat versoening tussen mense broos is. Jakob en Esau, die tweeling, wat eers vervreemd en vyandig teenoor mekaar was, versoen. Tog gaan woon hulle nie saam nie. Versoening tussen mense bly broos, dis onaf, onvolmaak.
Die gebrek aan enige verwysings na die Ou Testament verswak die getuienis van artikel 3 van die Belydenis van Belhar oor die sentrale belangrikheid van versoening. Positief gestel: die verwysing na en selfs die inkorporering van aksente uit die Ou Testament oor die saak van versoening sou die getuienis van die Belydenis van Belhar net soveel sterker gemaak het.
4.4 Hoe funksioneer die Ou Testament in artikel 4 oor geregtigheid?
Daar is verwysings na vyftien teksverse in artikel 4 van die Belydenis van Belhar. Ses van die vyftien teksverse (40% dus) kom uit die Evangelie van Lukas met die res van die Nuwe Testamentiese teksverse uit Johannes (een keer); Romeine (een keer); Efesiërs (een keer) en Jakobus (twee keer). Daar word vier keer verwys na teksverse uit die Ou Testament – die enigste artikel in die Belydenis wat eksplisiete verwysings na Ou Testamentiese teksverse bevat. Benewens die eksplisiete verwysings na die Ou Testament, is daar ook verskillende implisiete verwysings na en toespelings op die Ou Testament. Begrippe soos vrede, onreg, noodlydende, arme, verontregte, verdrukte, gevangene, blinde, vreemdeling, weeskinders, weduwee, goddelose, ongeregtigheid, geregtigheid is alles begrippe wat tipies in die Ou Testament gevind word.
Die eerste teksvers waarna verwys word uit die Ou Testament, kom uit die boek Deuteronomium. Deuteronomium is by uitstek ’n teologiese boek. Rendtorff (1986:155) merk op dat daar geen ander boek in die Ou Testament is wat so ’n oorsig bied van Israel se geloof in die een God en die verhouding wat geld tussen die God en die volk wat Hy uitgekies het nie. Deuteronomium 32:4 is die teksvers wat aangehaal word uit die sogenaamde Lied van Moses as deel van Moses se laaste woorde aan die Israeliete. Vers 4 is ’n lofuiting aan die Here waar Hy geloof word as die Rots, “alles wat Hy doen is regverdig, Hy is die getroue God, sonder onreg. Hy is regverdig en betroubaar”. Die bedoeling met die verwysing is duidelik: die God wat “geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring” is self in sy wese die regverdige, getroue en betroubare God. Binne die boek Deuteronomium is daar talle vermanings en oproepe aan die volk van God om iets van die wese van God te reflekteer in hulle optrede teenoor mekaar en veral teenoor die vreemdeling, want so word dit telkemale gemotiveer: die volk self was ’n vreemdeling in Egipte. Vreemdelinge en weduwees – die kwesbare lede in die gemeenskap wat maklik die prooi van uitbuiting en verontregting kan word – moet met respek behandel word op ’n sorgsame wyse. Wanneer daar geoes word moet daar so geoes word dat daar vir die vreemdelinge en die weduwees iets oorbly vir hulle om te neem (Deut 24:19-22).
Die tweede teksvers uit die Ou Testament waarna verwys word is Jesaja 1:16-17. Die twee teksverse en ook die verwysing na Amos 5 is twee van talle teksverse (Jes 58:1-12; Hos 4:1-3; Miga 2-4; Sag 7:7-10; Mal 3:5) in die corpus propheticum wat God se sorg en besorgdheid oor weerlose en kwesbare persone in die samelewing uitdruk en daarmee saam die eis tot geregtigheid in die samelewing. Die aksent in die profetiese literatuur val nie uit die lug nie, maar is diep ingebed in die Pentateug en in Jahwe se verlossingshandelinge met sy volk. Dit is immers Jahwe wat die ellende van sy volk gesien, hulle lyding ter harte geneem het (Eks 3:7-8) en toe reddend ingegryp het.
Daar word ook na Psalm 146 verwys as Skriftuurlike steun vir die stelling “dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid ...”. Psalm 146 is ’n kragtige Psalm wat dit duidelik sê dat die God wat die hemel en die aarde gemaak het Hom oor verdrukte, honger, gevange en blinde mense ontferm. Mense kan nie vertrou word vir redding nie (Ps 146:3-4) daarom kan mense hulle hoop net op God vestig (Ps 146:5). Dit is merkwaardig dat die meerderheid van die Psalms klaagpsalms is. Dit is dus mense wat in hulle nood hulle alleen op God kan beroep en inderdaad dan ook hulle nood voor Hom uitkreet. Dit is jammer dat daar nie verwysings na tekste uit die wysheidsliteratuur is nie aangesien dié korpus van literatuur ook bekend is vir die aandag aan weerloses en hulpbehoewendes in die samelewing. Dit is nie ’n oordrywing of skeeftrekking van minstens ’n aksent in die Ou Testamentiese openbaring van God dat Hy “op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is” nie (Artikel 4).
4.5 Hoe funksioneer die Ou Testament in Artikel 5?
Artikel 5 is die slotartikel van die Belydenis van Belhar en is ’n oproep aan die kerk tot “gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste Hoof...”, met verwysings na tekste uit Efesiërs, Handelinge en 1 Petrus, maar sonder enige verwysing na die Ou Testament. Gehoorsaamheid is in die Ou Testament ’n sentrale verbondsbegrip wat prominent in veral die Pentateug maar ook in die res van die Ou Testament voorkom. Dit is jammer dat die insig uit die Ou Testament hier ontbreek.
5. GEVOLGTREKKINGS EN SLOT
Voordat daar tot die spesifieke gevolgtrekkings van die ondersoek gekom word, net eers ’n algemene opmerking oor die volgorde van die drie temas wat aan die orde kom in die belydenis. Die vraag is of eenheid (wat in artikel 2 onder die loep kom) nie die gevolg is van versoening (artikel 3) nie? Indien die standpunt geldig sou wees, sou dit beteken dat dit teologies miskien beter sou wees om artikel 3 oor versoening eers aan die orde te laat kom en dat dit wat oor eenheid bely word volg op die artikel oor versoening. Iets hiervan lê al klaar in die belydenis want artikel 2 oor eenheid begin met “die versoeningswerk van Christus”.
Die ondersoek na die funksionering van die Ou Testament in die Belydenis van Belhar het gelei tot die volgende gevolgtrekkings:
• Die waarneming is gemaak dat die Belydenis min verwysings na die Ou Testament bevat. Waarom is daar so min verwysings na die Ou Testament? Daar is minstens twee moontlike antwoorde op die vraag. Die kort tydsverloop tussen die aanwys van ’n kommissie belas met die opstel van die belydenis en die kommissie se verslag voor die sinode van 1982 is die een antwoord. Die inkleur van die historiese agtergrond aanleidend tot die Belydenis van Belhar het aangetoon dat daar net sowat twee dae verloop het tussen die aanwys van die kommissie en die dien van die verslag van die kommissie voor die sinode. Die tweede deel van die antwoord lê in die persone wat die in die kommissie gedien het. Name word nie genoem nie, maar waarskynlik was daar nie Ou Testamentici of persone met ’n spesifieke belangstelling in die Ou Testament lid van die kommissie nie. Gevolglik het insigte uit die Ou Testament agterweë gebly.
• Die ondersoek kon niks in die belydenis vind wat in teenspraak met die Ou Testament is nie. Die temas van eenheid, versoening en geregtigheid is temas wat in die Ou Testament ook voorkom met ’n eie beklemtoning en inhoud, maar niks daarvan is in stryd met wat die Belydenis van Belhar bely nie. Dit is ten slotte tog ook opmerklik dat alhoewel daar net vier direkte Skrifverwysings uit die Ou Testament is, die vier teksverse verteenwoordigend is van die driedeling van Wet, Profete en Geskrifte in die Ou Testament.
• Dit is jammer dat teologiese insigte uit die Ou Testament nie meer prominent funksioneer in die belydenis nie. Die groter inkorporering van insigte uit die Ou Testament kon die Belydenis van Belhar teologies net nog sterker gemaak het.
BIBLIOGRAFIE
Adonis, JC 2006. The history of Belhar. NGTT 47(1&2), 234-239.
Bosch, DJ, König, A & Nicol, W (reds) 1982. Perspektief op die Ope Brief. Kaapstad: Human & Rousseau.
Botha, J & Naudé P 1998. Op pad met Belhar. Goeie nuus vir gister, vandag en môre! Pretoria: JL van Schaik.
Botman, R 2001. Belhar and the white Dutch Reformed Church: Changes in the DRC 1974-1990. Scriptura 76, 33-42.
Botman, HR 2006. Barmen to Belhar: A contemporary confessing journey. NGTT 47 (1&2), 240-249.
Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress.
Cloete, GD & Smit DJ (reds) 1984. ’n Oomblik van Waarheid. Opstelle rondom die NG Sendingkerk se afkondiging van ’n status confessionis en die opstel van ’n konsepbelydenis. Kaapstad: Tafelberg.
Daniels, A 2001. Bybelgebruik in die Belharbelydenis se artikel oor ‘eenheid’. Scriptura 77, 193-209.
De Gruchy, J & Villa-Vicencio C (eds) 1983. Apartheid is a heresy. Cape Town: David Philip.
Durand, JJF 1984. ’n Belydenis – was dit werklik nodig? In Cloete, G D & Smit D J (reds) ’n Oomblik van Waarheid. Opstelle rondom die NG Sendingkerk se afkondiging van ’n status confessionis en die opstel van ’n konsepbelydenis. Kaapstad: Tafelberg, 39-48.
Durand, JJF 1984. Belhar – krisispunt vir die NG Kerke, in Cloete, G D & Smit D J (reds) ’n Oomblik van Waarheid. Opstelle rondom die NG Sendingkerk se afkondiging van ’n status confessionis en die opstel van ’n konsepbelydenis. Kaapstad: Tafelberg, 123-134.
Guthrie, D 1981. New Testament Theology. Illinois: Inter-Varsity Press.
Jenni, E & Westermann C 1976. Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament. Band II. München: Chr Kaiser.
Kerk en Samelewing – ’n Getuienis van die Ned Geref Kerk. Bloemfontein: NG Sendingpers.
Ladd, G E 1975. A Theology of the New Testament. Michigan: Wm B Eerdmans.
Naudé, P 2003. The theological coherence between the Belhar confession and some antecedent church witnesses in the period 1948-1982. Verbum et Ecclesia 24(1), 156-179.
Naudé, P 2003. “A gift from heaven” – the reception of the Belhar Confession in the period 1982-2000 and its ecumenical significance today. NGTT 44(3&4), 407-420.
Naudé, P 2004. Confessing the one faith: Theological resonance between the Creed of Nicea (325 AD) and the Confession of Belhar (1982 AD). Scriptura 85, 35-53.
Naudé, P 2004. Can our creeds speak a gendered Truth? A feminist reading of the Nicene Creed and the Belhar Confession. Scriptura 86, 201-209.
Nel, A 1995. Is die Belharbelydenis ’n belydenisskrif? In Lombard, C & Hunter J H (reds) Kom ons word een. Namibiese bydraes tot kerkeenwording in die “NGK familie”. Windhoek:EIN Publications, 81-99.
Rendtorff, R 1986. The Old Testament – An Introduction. Philadelphia: Fortress Press.
Rendtorff, R 2003. Leviticus 16 als Mitte der Tora. Biblical Interpretation 11, 252-258.
Rendtorff, R 2005. The Canonical Hebrew Bible. A Theology of the Old Testament. Leiden: Deo Publishing
Smith, MS 1997. The Pilgramage Pattern in Exodus. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSOT SS 239)
Smith, NJ, O’Brien Geldehuys, FE & Meiring, P (reds) 1981. Stormkompas. Opstelle op soek na ’n suiwer koers van die jare tagtig. Kaapstad: Tafelberg.
Snyman, SD 1998. “U is tog ons vader!” - Oor die vaderskap van God in die Ou Testament, NGTT XXXIX (1&2), Maart en Junie, 47-53.
Strauss, PJ 2004. Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en ’n status confessionis. ’n Vergelyking tussen die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak, in Tolmie, D F (red) Die Woord verwoord. Artikels oor die Teologie. Bloemfontein:Universiteit van die Vrystaat. Acta Theologica Supplementum 6.
Verhoef, PA 1987. Kerk en Samelewing: Wat sê die Ou Testament? Kaapstad: NG Kerk Uigewers.
Vriezen, Th C 1966. Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament. Wageningen: H. Veenman en Zonen. Derde druk, opnieuw herzien en uitgebreid.
Zenger, E 1996. Die Tora/ der Pentateuch als ganzes, in Zenger, E (Hrsg) 1996. Einleitung in das Alte Testament. 2. Auflage. Stuttgart: Kohlhammer, 34-75.
Zenger, E (Hrsg) 1996. Einleitung in das Alte Testament. 2. Auflage. Stuttgart: Kohlhammer.
TREFWOORDE
Belydenis van Belhar Gereformeerde belydenisskrifte Gebruik van die Ou Testament Hermeneutiek.
KEY WORDS
Confession of Belhar Reformed confessions of faith Use of the Old Testament Hermeneutics