Harry Kuitert: Geloof as verbeelding
ABSTRACT
Harry Kuitert: Faith as Imagination
Resisting fundamentalism, Kuitert has always focused on the human side of our faith. At the same time he has always believed in a Living God outside of us, the One Who keeps us in his Hands. This faith in a Provident God, he claimed, is accessible to anyone who has eyes to see. Some of his colleagues disagreed strongly on this point and said that Kuitert was inconsistent in his thinking. Recently Kuitert has dropped all faith propositions, including the one of God as Provider. “God” became the product of our imagination. Maybe by doing this his theological position has become less inconsistent. But how much hope is to be found in faith as imagination?
1. INLEIDEND
Harry Kuitert was vir 22 jaar hoogleraar in etiek en inleiding tot die dogmatiek aan die Vrije Universiteit te Amsterdam. Hy het hom deur die jare, maar veral sedert sy emeritaat in 1989, besig gehou met die vraag waarop ons geloof betrekking het. Die ontwikkeling in sy antwoord op hierdie vraag is ’n boeiende studieveld.
2. DIE REALITEIT VAN DIE GELOOF
In verset teen dwingende fundamentalisme beklemtoon Kuitert van meet af die menslikheid van ons geloof. Hierdie geloof het egter vir hom altyd as inhoud gehad ’n lewende God wat buite en teenoor ons is.
Reeds in sy eerste boek oor die onderwerp, De realiteit van het geloof (1966), gaan dit vir Kuitert oor die verhouding tussen die daad van die geloof en die inhoud van die geloof. Hy stel dit duidelik dat ons nie waarheid kan toeken aan die inhoud van die geloof los van die menslike daad van geloof nie omdat dit sou neerkom op openbaringspositivisme wat nie pas nie by die kritiese, argumentatiewe mense van die Verligting nie. Terselfdertyd beklemtoon hy egter dat ons ook nie soos die eksistensiële teoloë slegs kan vashou aan die menslike daad van geloof nie. Dit sou weer neerkom op ’n miskenning van die eiesoortige karakter van die Werklikheid agter die inhoud van die geloof, naamlik God in sy handeling met mens en wêreld (Kuitert 1974:211; Adriaanse 2004:16 ev.).
Die wyse waarop Kuitert destyds gedink het oor die verhouding tussen fides qua en fides quae, het die kiem ingehou van ’n gedagte wat hy later verder uitgewerk en baie herhaal het (Adriaanse 2004:17). Die voorstellings van die geloof is, anders as die geloof self, kultureel bepaald, histories en dus ook veranderbaar. Die voorstellings van die geloof is nie voorgeskryf deur uiterlike gesag en dus onveranderlik, soos sommige “zeker wetende” gelowiges dink nie. Die kerk kan nie met mense maak soos wat die Gereformeerde Sinode van Assen in 1926 met Geelkerken gemaak het toe hulle hom wou laat verstaan dat hy alle Skrifgesag as sodanig verwerp as hy nie alles aanvaar omdat dit in die Bybel staan nie. Want “alle spreken over boven komt van beneden, ook als we zeggen dat het van Boven komt”.
Kuitert het die laasgenoemde stelling vir die eerste keer geformuleer in 1974 in sy boek, Zonder geloof vaart niemand wel. Meijering (2006:16) meen hy bly hierdie stelling moontlik altyd rig teenoor die min of meer fundamentalistiese ortodoksie wat mense “monddood” maak met hulle “letterknechterij”, wat alle kritiese, verifiërende gesprek by voorbaat afsny en ons kennis van God tot “versteende waarheid” maak. Alles onnodig, want ons uitsprake omtrent God is argumente wat ontstaan in die geleefde lewe en wat ander mense uitnooi om saam te dink (Kuitert en Versnel, 1993:15).
In sy hoofbeskrywing van die geloof, Wat heet geloven? (1977), noem Kuitert die voorstellinge van die geloofstradisie dan ook “zoekontwerp”. Ons geloofsvoorstellings is die ontwerp waarmee opeenvolgende geslagte op soek gaan na God in hul ervaringswerklikheid. Waar die soekontwerp klop met die algemene ervaring van die werklikheid, word God gevind. Daar slaag die ontwerp die toets van die ervaring en word dit as betroubaar bevind. Waar die geloofsvoorstellings van die soekontwerp nie geverifieer word deur die menslike ervaring nie, kan dit laat vaar word. Soos toe die soekontwerp van die destydse vrugbaarheidskultus ontmasker is met die uitvinding van kunsmis.
In sy rekordverkoper, Het algemeen betwijfeld christelijk geloof (1992) het Kuitert probeer aantoon dat bepaalde Christelike geloofsvoorstellings onbetroubaar geword het omdat dit “deur die tyd ingehaal is”, byvoorbeeld die voorstellings van die inkarnasie, hemelvaart, en Drie- eenheid. Hy het hierdie voorstellinge met ’n “opgewekte toon” afgestroop van die tradisie, want hy was oortuig dat dit nie die eintlike geloof skaad nie, maar bevorder (Adriaanse 2004:23). Die eintlike vorm van die geloof, die oergeloof of basic trust in die Transendente waarmee alle mense lewe en waardeur hulle tot sichere Schritte in staat is (Kuitert 1977:83), is immers ongeskonde onder die kultureel bepaalde “aankleding” van die soekontwerp.
Kuitert was van meet af vas oortuig dat niemand van hierdie basiese geloof ontslae kan raak nie. Die mens is “ongeneeslijk religieus” (Kuitert 1992:86). Iemand kan dalk nog voorgee om die rug op God te draai, maar ten diepste is almal onseker van hulle bestaan en wy hulle hul as teenvoeter oral en altyd toe aan dit wat bo hulleself uitgaan (Kuitert 1994:199). Sonder geloof vaar niemand goed nie.
3. DIE VOORSTELLING VAN ’N VOORSIENIGE SKEPPER
Vanuit ’n “menslik aanvaarbare” vertrekpunt vir die beskrywing van die geloof, naamlik die mens se religieusiteit as teenvoeter vir die verpletterende ervaring van die leegte, het Kuitert die Christelike geloofsinhoud gereduseer tot God as die voorsienige Skepper wat ons in sy Hande hou. Hy het aanspraak gemaak op die algemene insigtelikheid van hierdie geloofsvoorstelling. Sy kollegas het dit egter bevraagteken.
Die aanname dat dit nie so dom is om die algemene verskynsel van religieusiteit te verklaar met die verwysing na so iets soos God nie, was deurslaggewend vir Kuitert se teologie in die vroeëre stadium (Van der Walt 1998:184). Waar kom die mens se onuitroeibare religieuse aanleg immers vandaan? Daar kon vir Kuitert net een antwoord wees: Die mens het as skepsel sy grond nie in homself nie, maar in die Skepper. Hierdie brug tussen die algemene oergeloof en die besondere geloof in die Skepper, was veral moontlik as gevolg van Kuitert se oortuiging dat God se transendensie die veiligste is by die voorstelling van die Skepper as persoonagtige wese (Kuitert 1992:53). In terme van sy verduideliking van hoe geloof en ontwerp werk, was Kuitert se argument dat die basies gelowige mens wat ontwerpend op soek na God gegaan het, Hom vind in die kern van die Christelike tradisie as die voorsienige Skepper. Elke verhaal, elke beeld en teks in ons tradisie wil volgens hom bevestig dat God vertrou kan word, dat ons binne sy reikwydte is. Dit is die tema van sy boek, Zeker weten (1994). Jy moet maar net die werklikheid ’n kans gee om na jou toe te kom. Jy moet net ingestem bly op die verskyning van God en sy heil in die ervaring van mens en wêreld. Die grond wat houvas bied is naby.
Kuitert het gemeen dat hy op hierdie manier ’n weergawe van die geloof in God bereik het waarvan die sekerheid vir enige iemand met “common sense” beskikbaar is. Sy redenering was egter inkonsekwent. Die agnostiese historikus, Henk Versnel, het hom in ’n debat in die Amsterdamse Westerkerk daarop gewys. Jy kan nie sommer so met die voorstellings van die algemene voorsienigheidsgeloof in ’n openbare debat tree en verwag dat alle mense dit so vanselfsprekend soos jy sal vind nie. Jy het immers jou voorsienigheidsgeloof op presies dieselfde gesonde verstandsgronde bereik as waarop jy byvoorbeeld die tweenatureleer as onsinnig beskou. Erken liewer jou geloof as private logika, as willekeurig en selektief, ’n produk wat bly binne die geheiligde grense van die Christelike tradisie (Kuitert en Versnel 1993:38).
Verskeie Nederlandse teoloë het hiermee saamgestem. Meijering (1996:53) het gesê wie argumentatief by die skeppingsopenbaring begin, het wesenlik reeds ’n vermoede na Wie hy soek. Theo de Boer (1994:156) het gemeen Kuitert se stap kom neer op sirkelredenering; niks wat hy met argumente aanwys, styg uit bo ’n bevestiging van wat hy nog altyd geglo het nie. Bram van de Beek (1992:314) het gesê Kuitert se poging om die geloof in God aan te bied as algemeen verstaanbaar, mis die doel. Niemand word oortuig om in God te glo wat nie reeds in Hom glo nie.
4. GELOOF AS ONTROERING
Vanuit die beskouing van geloof as religie, laat Kuitert intussen alle voorstellinge van die geloof vaar – ook dié van God as voorsienige. God is nou ’n produk van ons verbeelding. Hierdeur het Kuitert waarskynlik ’n meer konsekwente teologiese posisie bereik.
Terwyl Kuitert die Christelike geloofsvoorstellings gereduseer het, het hy bly glo in God as ’n werklikheid buite ons. De Boer (1994:161) het opgemerk dat hy geen teoloog ken “die zo fier en met opgeheven hoofd het Opperwezen tegemoet denkt”.
Dit het intussen verander. In sy jongste boeke (Kuitert 2000; 2003; 2004; 2005), funksioneer die onderskeiding tussen geloof en geloofsvoorstellings anders. Kuitert hanteer nou, soos Van den Brom (2004:47) dit stel, ’n “antirealistiese interpretasieskema vir teologiese en religieuse uitsprake”.
Jare lank, sê Kuitert, het hy die Christelike leerstellinge gesien as soekontwerp waarmee jy op pad kan gaan om God te vind, maar hy het nêrens gekom nie. Dít verstaan hy egter nou, want die voorstellinge van die geloof is beeldvorming, dit is verbeelding van ervaringe wat onder woorde gebring is en nie verwysinge na ’n werklikheid buite die soekontwerp nie. Wie die geloofsvoorstellings sien as verwysinge na realiteite, vind niks (Kuitert 2003:90). “God” is ’n sentrale begrip binne die menslike soekontwerp. Die begrip bring maar net die besef onder woorde van menslike beperkthede, van dit wat nie vasgevat kan word nie, naamlik die ervaring van transendensie .
Onder die “aankleding” van die soekontwerp vind jy nou by Kuitert nie meer “God beyond God” (Tillich), die werklikheid van God waarop ons basiese “oergeloof” gerig is nie. Jy vind die naakte oergeloof, ’n ontroering, ’n vermoede wat teweeg gebring is deur die “swygende heelal” en die verwoording daarvan deur ander (Kuitert 2003:185). Dit wil byna voorkom of Kuitert direk antwoord op die vroeëre kritiek teen sy maklike brug tussen oergeloof en die Christelike geloof in die voorsienige God. Hy sê:Niemand word oortuig om in God te glo by wie God nie reeds in die hoof en hart sit nie. Jy het reeds van Hom geweet, anders kon jy nie sy stempel op jou ervaringe afdruk nie. Sy oplossing:Hou God liewer in die verbeelding, in ’n ander wêreld as dié van kennis, anders kom daar net narigheid van. Geen mens gaan tog by Vermeer se melkmeisje sy melk haal nie. Ons gaan soek die skildery op om ander redes, om die ontroering, om te sien wat die skilder “gesien” het. Moenie ’n inligtingswinkel van die Christelike religie maak nie (Kuitert 2005:75-76).
As ons terugdink aan sy boek, De realiteit van het geloof (1966), waar hy uitgewys het dat Bultmann inkonsekwent was, val dit op dat Kuitert nou juis doelbewus konsekwent wil wees. Bultmann was inkonsekwent deur die boodskap aangaande Jesus as mitologie te beskou, sonder om dieselfde te doen wat betref die boodskap aangaande God. Kuitert het hierdie stap nou geneem. Vroeër was dit vir hom nog te moeilik. Hy het sy verbeelding gesuiwer van elke voorstelling wat betrekking sou hê op ’n realiteit buite ons mense en ons wêreld (Meijering 2006:12, 20).
Ons sien dit helder in sy hantering van die Christologie. In sy boek, Jezus: nalatenschap van het Christendom (1998), het hy geargumenteer dat die klassieke Christologie vir Jesus opgehemel het tot ’n stralekrans-Jesus, asof Hy God sou vervang, terwyl Jesus net die etniese beperking op die Joodse geloof wou ophef.
In Hetzelfde anders zien (2005), word dit wesenlik anders. Die verhaal van Jesus is nou hergeïnterpreteerde verbeelding, deur die evangelies toegewikkel in die geloofsverpakking van beskikbare eretitels, en deur opeenvolgende generasies gebruik op telkens nuwe maniere. Die kerkvaders het byvoorbeeld van Jesus God-op-aarde gemaak met behulp van die titel “Seun van God”, ’n titel wat vroeër reeds vir Adam én Israel gebruik is. Vandag neem sekulêre Europeane nogmaals op eie gesag hierdie voorstelling in besit:Jesus as die vonkie God in elke mens. So kan Jesus hergebruik word om uit te druk hoe ons onsself sien en wat ons byvoorbeeld van Mandela dink (Kuitert 2005:111-113).
Vroeër was Jesus dus nog die openbaring van God, die Een wat die God van Israel goed wou “uitlê” of algemeen toeganklik maak. Jesus was ons “eye-opener” (Kuitert 1992:132). Maar nou gebruik ons Hom net vir iets wat ons eintlik self ook kan doen. Ons besit immers reeds die oergeloof, die ontroering, die diepe verbeelding oor ’n volkome transendente “boven”. En vir hierdie algemene religieusiteit het ons Jesus nie meer nodig nie - ook geen heilige plek, ritus of ampsdraer nie.
5. SLOTOPMERKINGS: BOVEN EN BENEDEN
’n Mens sou kon vra of verbeelding ’n goeie beskrywing van die Christelike geloof bied.
Kuitert het ’n hoë God oor Wie ons niks met sekerheid kan sê nie (Van de Beek 1999:16). God is verby die menslike denkvermoë, heeltemal versteek in die transendensie. Kuitert was dus inkonsekwent toe hy vroeër die (algemeen ervaarde) oergeloof uitgewerk het as die (besondere) geloof in die voorsienige Skepper wat Hom in hierdie werklikheid aan die mens te kenne gee. Hy het hom formeel teen die besondere ervaring van God verset, terwyl dit eintlik van fundamentele belang was vir sy teologie.
Intussen het hy meer konsekwent geword. Hy begin steeds by die algemene ervaring, by die ontroering wanneer transendensie ervaar word. Maar nou het hy suinig geword met woorde oor God (Brinkman 2004:34). Hy praat nou net oor die ontroering self, wat gebeur in “a split of time”, in ’n flitsende, mistieke eschaton-ervaring in die tyd (Kuitert 1997:71). Hy bly nou konsekwent by die oergeloof. Brinkman (2004:41) verwys na die prysenswaardige intensie hiervan. Kuitert wou nog altyd die Transendente vry hou van aantasting deur menslike voorstellinge, van ’n oppervlakkige “jezulogie”, en veral van die “claim” van God. Dit lyk of God nou by hom opgeneem is in die menslike verbeelding, maar soos Brinkman sê, “dan niet als pretentieuze extrapolatie, als verlengstuk, maar als klemmende vraag die van de stilte uitgaat en van de medemens, soms zelfs als mes op de keel, als onderste steen die eens boven moet komen.”
Wie egter oortuig is dat die geloof self die enigste vertrekpunt bied vir die beskrywing van ons geloof, hoef nie by die algemeen menslike ervaring te begin nie, maar kan begin met die besondere ervaring dat God Hom juis “beneden”, in die werklikheid, in die geskiedenis aan ons bekend gemaak het. Die voorstellinge wat ons in die Bybelse verhale oor Jesus kry, verwys wel na ’n realiteit, naamlik die realiteit van die Opgestane, die beslissende openbaring van God aan ons (Meijering 2006:45 ev). Hierdie verhale is beslis nie sonder die verbeelding van mense wat vroeër geleef het, in die sin van uitbeelding, nie. Anders sou die verhale almal in dieselfde vorm opgeteken wees. Maar ons aanvaar tog nie die verbeeldingsvorme nie. Ons aanvaar die getuienisse omtrent Jesus se verskyninge. Ons glo in die Iemand wat Hom in die menslike verhale, ongeag die vorm daarvan, laat ken. Juis daarom is die verhale vir ons so kosbaar.
Ons sal nie algemeen insigtelike argumente vind om ongelowiges te oorreed tot die geloof in God nie. Ons kan dus, in plaas van apologetiese strategieë, die teologie eerder hou by die taak om die interne logika van die Christelike geloof uit te lê, die verhaal só te vertel dat gelowiges die God, die Christus in Wie hulle glo, erken (Placher, 1989:119). Hierdie geloof kan immers ook nie weerlê word nie.
Dit gaan dus uiteindelik wel in die geloof om die hart wat geraak word. Maar dit is Iemand wat ons harte raak. Ons ontvang die sekerheid van die geloof nie “openbaringspositivisties” nie, maar in die ontmoeting met die Ander wat ons aanspreek deur die verhale van die Skrif en die tradisie. Juis daarom kan ons dit nie in ons greep kry nie, kan ons nie daarmee ’n sterk, dwingende, “zeker wetende” posisie in die wereld gaan inneem, vry van angs vir onsekerheid nie.
BIBLIOGRAFIE
Adriaanse, H J 2004. “Om de realiteit van het geloof”, in M Brinkman en H Vijver, Harry Kuitert:zijn God. Ten Have, Kampen, 15-23
Brinkman, M E 2004. “Kuitert:zijn God”, in M Brinkman en H Vijver, Harry Kuitert:zijn God. Ten Have, Kampen, 33-41
De Boer, T 1994. “Pascal, Kuitert en de redenen van het hart, of de deconstructie van ‘God’”, in E van Leeuwen (red), Ethiek tussen hemel en aarde. Essays over de theologie en ethiek van H. M. Kuitert. Ten Have, Baarn, 154-169
De Boer, T 2004. “Two oneliners”, in M Brinkman en H Vijver, Harry Kuitert:zijn God. Ten Have, Kampen, 24-32
Kuitert, H M 1974. Zonder geloof vaart niemand wel. Een plaatsbepaling van Christendom en kerk. Ten Have, Baarn.
Kuitert, H M 1977. Wat heet geloven? Structuur en herkomst van de christelijke geloofsuitspraken. Ten Have, Baarn.
Kuitert, H M 1988. Filosofie van de theologie. Martinus Nijhoff, Leiden.
Kuitert, HM 1991. “Het geloven waard. Een intellectuele verantwoording van het geloof in de christelijke traditie”, in M A Maurice en S J Noorda (reds.), De onzekere zekerheid des geloofs. Meinema, Zoetermeer, 99-125
Kuitert, H M 1992. Het algemeen betwijfeld Christelijk geloof - een herziening. Ten Have, Baarn.
Kuitert, H M 1994. Zeker weten. Voor wie geen grond meer onder de voeten voelt. Ten Have, Baarn.
Kuitert, H M 1997. Aan God doen. Een vingerwijzing. Ten Have, Baarn
Kuitert, H M 1998. Jezus:nalatenschap van het christendom. Schets voor een christologie. Ten Have, Baarn
Kuitert, H M 1999. “Wat was er niet toen Jezus er nog niet was?” in H M Kuitert, A van de Beek e.a., Jezus bij hoog en bij laag. De christologie van Van de Beek en Kuitert. Kok, Kampen, 51-59
Kuitert, H M 2000. Over religie. Aan de liefhebbers onder haar beoefenaars. Ten Have, Baarn
Kuitert, H M 2003. Voor een tijd een plaats van god. Een karakteristiek van de mens. Ten Have, Baarn
Kuitert, H M 2004. Schiften. Wat er in de christelijke geloofswereld toe doet en wat niet. Ten Have, Baarn
Kuitert, H M 2005. Hetzelfde anders zien. Het christelijk geloof als verbeelding. Ten Have, Kampen
Kuitert, H M en Versnel, H S 1993. Het kan nog erger. Een discussie over thema’s uit ‘Het algemeen betwijfeld christelijk geloof ’, Ten Have, Baarn
Meijering, E P 1996. “Reductie of herinterpretatie?”, in G W Neven en R van Riessen (reds), Eenvoud bij H M Kuitert. Analise en kritiek. Ten Have, Baarn, 13-34
Meijering, E 2006. Wat verbeelden we ons wel? Overwegingen bij Harry Kuitert, Meinema Zoetermeer
Montsma, J A 1994. “Minder weten, anders geloven volgens H M Kuitert”, in C Govaart, Heeft Kuitert gelijk. Geloven na de deconstructie. Ambo, Baarn, 19-31.
Placher, W C 1989. “Postliberal theology”, in D F Ford (ed), The modern Theologians. An introduction to Christian Theology in the Twentieth Century, Volume II, Basil Blackwell, Oxford, 115-126
Van de Beek, A 1992. “De mens het beeld van God – of omgekeerd?”, in Kerk en Theologie 43(4), 310-321
Van de Beek, A 1999. “De verre of de nabije God?”, in H M Kuitert, A van de Beek e.a., Jezus bij hoog en bij laag. De christologie van Van de Beek en Kuitert. Kok, Kampen, 13-24.
Van den Brom, L 2004. “Kuitert:een echt dolerend theoloog!”, in Brinkman, M en Vijver, H, Harry Kuitert:zijn God. Ten Have, Kampen, 42-51
Van der Walt, P J 1997. Openbaring en ervaring. ’n Ondersoek na H M Kuitert se verantwoording van die geloof in die Christelike tradisie. D Th Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch
Van der Walt, P J 1998. “Bybel en geloof. Help Kuitert se “democratisering van de zekerheid” ons?, in Ned Geref Teologiese Tydskrif (39/3), 182-189
TREFWOORDE
Definisie van geloof ,Begronding van die geloof, Geloofsvoorstellinge en werklikheid, Sekerheid van die geloof, Geloof as daad en die inhoud van die geloof, Geloof en verbeelding
KEY WORDS
Definition of faith, Foundation of faith, Images of faith and reality, Certainty of faith, Faith as act and the content of faith, Faith and imagination